Salf vir jou seerkry
Die pad van genesing ná egskeiding
Jacelize de Waal
LUX VERBI
Vir my kinders
* * *
“He found me in a desert land, in the howling void of the wilderness: He kept circling around me, He scanned me [penetratingly]. He kept me as the pupil of His eye. As an eagle that stirs up her nest, that flutters over her young, He spread abroad His wings and He took me, He bore me on His pinions. So the Lord alone led me ...” – DEUTERONOMY 32:10–12 (THE AMPLIFIED BIBLE, AANGEPAS)
Voorwoord
Ek het twee Staffordshire-terriers wat my lewe met my deel. Na my mening is hulle beslis die oulikste honde wat daar is. Nog voordat kinders op my radar verskyn het, was hulle twee reeds deel van die gesin. Soos die jare aangestap het, het hulle baie diep in my hart kom inkruip. My staffies het indirek ook ’n rol gespeel in die skryf van hierdie boek. In die woestyn waarin ek my bevind het, het ek soms vir ure aaneen met hulle gaan stap. Hulle het natuurlik glad nie omgegee nie, want ’n staffie gaan stap mos eintlik met jóú, nie andersom nie. Ons het saam sonskyn, wind en weer trotseer, maar stap is daar gestap. Soggens sou hulle die hele tyd onder my voete wees en my met lang oë dophou totdat ek genoodsaak was om my tekkies aan te trek. Dan was hulle letterlik uit hul nate van opgewondenheid. Ek dink hulle moet elke bult, bossie en reuk in ons buurt ken. Om eerlik te wees, ek was heimlik dankbaar vir hul volharding om op ’n daaglikse stappie aan te dring, want in die stilte en vars oggendlug was dit asof ek daagliks vir Jesus ontmoet het. Dit was asof Hy saam met my gestap het. Hierdie staptye het my huiltyd en bidtyd geword. In dié tye het Hy soveel waarhede in my gees kom deponeer. My gevoel is nou net een van oneindige dankbaarheid. Soms voel ek steeds heeltemal oorweldig dat my pyn en hartseer soveel vir die Almagtige Skepper van die heelal kon saak maak dat Hy my wóú genees. Ek wil dinge verstaan, en daarom het ek vir baie lank met die Here geworstel. Daar was soveel vrae. Ek sou nooit kon dink of glo dat egskeiding deel van my lewensverhaal sou uitmaak of deel van my nalentenskap aan my kinders sou wees nie. Maar God het geweet, want niks van ons pyn of seer betrap Hom onkant nie. My vrae het Hom nie ontstel nie en my worsteling nóg minder. In plaas daarvan het Hy my rustig kom leer en toerus. Hy het wonderlike mense oor my pad gestuur wat my van wyse raad bedien, baie vir my gebid en baie trane afgedroog het. Ek het ook baie oor ander mense se woestyntye gelees, en so tot die insig gekom wat God ook in hierdie tyd in my lewe kan en wil doen. Hy het baie musiek op my pad van heling gebruik, omdat
Hy weet hoe lief ek vir musiek is. En dan was daar die leringe van verskeie geestelike mentors wat oor my pad gekom en met geestelike wysheid en insig gehelp het. Maar bowenal het Hy my keer op keer teruggeneem na sy Woord. Dit het vir my soos manna in my woestyn geraak. Ek moes dit self gaan optel – elke dag. Maar dit was elke dag daar, wagtend vir my om te ontdek. Dit was altyd genoeg vir daardie dag om te kon voed, opbou en versterk. Dit was salf vir my seer en soos balsem op my plek van dood. As jy nog nie self die genesende krag van sy Woord ontdek het nie, is dit my gebed dat die boek wat jy nou in jou hande hou, jou na ’n Groter Boek – sy Woord – sal lei, sodat jy vir jouself kan ontdek wat God oor jou en jou omstandighede sê. Dit was nie vir my ’n maklike proses om my hart oop te maak en ervaringe so neer te skryf en te deel nie. Dis veral nie maklik as jy van nature ’n redelik private mens is of eerder ’n probeer-in-beheer-wees-mens wil wees nie. Maar gelukkig is ek toe sommer in die proses ook genees van die selfopgelegde druk om altyd in beheer te moet wees. Want ek weet nou hoe dit voel as jou hele lewe buite beheer is. En al wie nou in beheer van my lewe mag wees, is Jesus! Die boek het ook nie ten doel om my vuil wasgoed in die openbaar te was of enige persoon in ’n slegte lig te stel of te benadeel nie. Hierdie boek is my persoonlike reis en binne my ervaringsveld geskryf. Jou reis en jou woestyn is dalk heeltemal anders. Maar ek glo daar is sekere waarhede wat Hy vir my kom oopbreek het wat moontlik ook vir jou en jou seer waar kan wees. Jy is vir Hom oneindig kosbaar. Jou pyn is ook sy pyn en jou trane maak vir Hom saak. Hy wil jou ook genees as jy Hom net sal toelaat. Indien jy self tans deur pynlike of lewensveranderde omstandighede gaan, wil ek jou graag bemoedig met die woorde dat Jesus jou liefhet en jou wíl genees. Te midde van pynlike omstandighede en jou unieke woestyn en vallei van Akor is daar altyd ’n deur van hoop. Jesus. Ek het dit vir myself ontdek en deel dit graag met jou.
Jacelize
* * *
I am an overcomer.
* * *
“And [I] overcame him by the blood of the Lamb and by the word of [my] testimony.” – REVELATION 12:11 (AANGEPAS UIT NEW KING JAMES VERSION)
’n Lewe ... drome ... aan skerwe
* * *
“Ek het moed verloor; ek is stomgeslaan. Ek strek my hande uit na U. Ek dors na U soos ’n verdorde land. Antwoord my tog gou, Here. Want ek het moed verloor.” – PSALM 143: 4, 6–7 (NUWE LEWENDE VERTALING)
“Indeed, how can people avoid what they don’t know is going to happen?” – ECCLESIASTES 8:7 (NEW LIVING TRANSLATION BIBLE)
Ek onthou nog dat daardie spesifieke Kersdag ’n reënerige dag was. Tyd het genadiglik nou al die harde en seer kante kom sagter maak. Dit wat my egter steeds die meeste bybly, was daardie swaar gevoel in my binneste. ’n Konstante gevoel van onderliggende onrustigheid het toe al maande lank aan ’n amper dreigende paniek gegrens. Hierdie gevoel was doeltreffend gekamoefleer deur die amper geforseerdheid om te bly fokus op die sleur en die normaliteit van die gewone en alledaagse ... soos ’n gesinsvakansie. Maar alles was nie pluis nie. Ek kon net nie my vinger daarop lê nie. Ons was die oggend kerk toe. Sommer die hele familie – van klein na groot. Ingeprop in twee banke buite die klein klipkerkie se tuin. Daar was te min plek binne. Ek kan nie meer die Kersboodskap onthou nie, maar weet wel dat ek daardie spesifieke oggend die Here se teenwoordigheid tasbaar rondom my
ervaar het. Hy was in die sagte drup-drup van die reën deur die blare, in die lagie mis wat uit die kerkie se tuin opgestyg het, in die effense mosreuk van blare in my neus, in ons kindertjies se uitgelate laggies en hul opgewondenheid van nounou se presente oopmaak, in die vriendelike oor-en-weer-Kerswense tussen vreemdelinge. Hy was in die nagmaal wat ons saam as gesin voor die preekstoel gebruik het. Ons jong gesinnetjie ... knielend voor die kruis. Hy was in die salfolie op ons voorkoppe ... ons al vier afgeseël vir Hom. Hy was in die kerk se klokke wat lui en lui en lui. Ons het die middag ná die Kersete op die strand gaan stap. Ek en my man met Boeta in ’n drasakkie op sy rug en Sussie wat agterlangs saam met Tannie en Oom aangehuppel gekom het. Ten spyte van al die seën waardeur ons omring was, was dit onnatuurlik swaar tussen ons. En toe skielik uit die bloute ... sy woorde pyle wat deurboor ... “Ek wil nie meer nie. Kan nie meer nie. Daar is iemand anders. Ek voel bloot nie meer vir jou wat ’n man vir sy vrou moet voel nie. Ek wil ’n egskeiding hê.” Die intensiteit en impak van sy woorde het my na my asem laat snak. “Nee!” het ek geskreeu – hardop tussen al die mense wat ook laatmiddag gaan stap het. Ek onthou nog my seuntjie se verskrikte en geskokte gesiggie by die aanhoor van die amper dierlike kreet hier diep uit my binneste. Al wat ek in daardie stadium kon doen, was om om te draai. Ek het begin hardloop ... weg ... weg ... weg van hom ... weg van die pynlike, lewensveranderde woorde wat oor sy lippe gekom het. Ons huwelik het daardie dag gesterf, daar was net geen begrafnis nie. My lewe en die roete wat ek geglo het waarop dit was, is met geweld ontspoor en is ongevraagd en plotseling tot stilstand geruk. Elke droom wat ek sedert my kleindogtertjiedae gehad het – van my prins, ’n groot gesin en lank en gelukkig wees – het in stukke gebreek. As ek nou terugkyk, was al die tekens seker al vir so lank daar, maar ek het dit net nie herken nie. Of eerder, ek wóú dit nie raaksien nie. My man se persoonlikheidsverandering – toe reeds vir maande so duidelik – het ook tot uiting gekom in die manier hoe hy hierdie krisis hanteer het: koud, kil en klinies. En amper emosieloos. Vir hom was dit ’n lastige saketransaksie wat so gou moontlik tot voordeel van almal afgehandel moes word. Die onwerklikheid en bisarheid van die situasie het my by tye laat stik en
gedreig om my te verswelg. Daar was letterlik geen tussenfase nie; geen fase van onderhandeling, berading en gesprekke of van probeer sin maak uit die wending wat ons huwelik en lewens geneem het nie. Die een oomblik was ons nog getroud met twee kinders en was daar drome en gesprekke van nog pienkvoetjies. Die volgende oomblik het hy uit ons huis getrek en was egskeiding die woord waarmee ek gekonfronteer is. ’n Woord wat ons eens op ’n tyd vir mekaar belowe het nooit ’n opsie sou word in ons huwelik of deel van ons woordeskat sou vorm nie. Die sewentien jaar wat ons gedeel het (bykans die helfte van my lewe) is in ’n oogwink tot onverstaanbare regsterme op ’n skikkingsakte gereduseer. Ons het volgens die regsdokument “onversoenbare verskille” gehad. Ek het net nie geweet wat dit was nie. My brein het gesukkel om dit alles in te neem. Skielik het my lewe in ’n nagmerrie ontaard, met my as die hoofkarakter. En dan was daar ons twee pragtige kindertjies ... Vir ’n kleuter is egskeiding ’n vreemde en onbekende term. Nie alleen moes ek vir my dogtertjie verduidelik wat die woord beteken nie (al het ek dit eintlik self nog nie verstaan nie), maar dat dit nou ook ’n realiteit in haar lewetjie geword het. Dat dít die pad was wat haar pappa en mamma besig was om te stap. Boeta was net te klein om iets te verstaan. Sy konsep van ’n gesin was nog nie eens behoorlik gevorm nie. Maar skielik was daardie belofte nie eens meer vir hom ’n opsie nie. Ek kan onthou dat almal my in dié tyd oor die kinders uitgevra het. Hoe gaan dit met hulle? Hoe hanteer hulle die situasie? In my eie kop was ek nog nie eens daar nie. Ek erken die selfsug van my emosies, maar dit het vir my gevoel of ek nog vasgehaak het by Kersdag se gesprek op die strand – dat hy nie meer vir mý lief was nie. In die weke wat gevolg het, was dit vir my duidelik dat hierdie gevoel nie op die kinders van toeing was nie. Dit was net ék wat nie meer aanvaarbaar was nie. Die kinders se mamma was bloot nie meer deel van die pakket nie. Punt. Hoe het dit dan gewerk as ek nog steeds vir hom lief was? Hoe skakel ’n mens bloot jou gevoel, jou liefde vir jou lewensmaat – die persoon met wie jy die res van jou lewe wou deel – af? Het dit egter enigsins getel hoe ek voel? Dat ek nie wóú skei nie?
Ek het gevoel hoe ek al dieper en dieper in ’n put sak waaruit ek nie kon uitkom nie. Ek het emosionele geweld in ’n intense graad ervaar. Daar was net geen fisieke littekens wat my pyn kon verduidelik nie. Net ’n hart wat besig was om te breek. Dr. Myles Munroe, voorsitter en stigter van Bahamas Faith Ministries International, haal in sy boek, God’s Big Idea, Genesis 2:24 in die New International Version Bible aan: “For this reason a man will leave his father and mother and be united to his wife, and they will become one flesh.” Hy stel dit so goed na aanleiding van dié teks:
“‘One flesh’ is not simply the glueing of two people together, but rather the ‘fusion’ of two distinct elements into one. They become inseparable. A man and woman who have become ‘one flesh’ under God’s design for marriage cannot be separated without suffering great damage or even destruction. It would be the spiritual equivalent of having an arm or leg torn from their bodies.”
“The loss of love is a terrible thing. They lie who say that death is worse.” – COUNTEE CULLEN
“U het my die diepte ingegooi, diep in die see, en die watermassa het my omring. U het golf na golf oor my laat gaan. Ek het gedink ek het uit u gesig verdwyn, maar tog sal ek weer u heilige tempel aanskou. Die waters het my toegevou, die groot water het my omring, seegras was om my kop gedraai. Ek het afgesak tot by die fondamente van die berge, die aarde het my vir altyd toegesluit. Maar U, Here my God, het my van die dood gered. Toe ek wou vergaan, het ek aan die Here gedink, en my gebed het by U gekom, in u heilige tempel.” – JONA 2:3–7
Daardie dag het ek die volgende in my joernaal geskryf:
Here, ék is Jona! Ek het afgesak tot in die onderste dieptes van ’n watermassa ... ’n watermassa waarin ek met alles in my nie wil wees nie. Dit voel eindeloos en ek voel dat dit my gaan verswelg. Die golwe spoel my rond en ek voel magteloos. Dit voel asof ek niks van hierdie lewensveranderde oomblikke kan keer nie ... daar is seegras oor my kop gedraai. My lewe het in ’n oogwink verander. Here, ek verstaan niks hiervan nie en ek het nie antwoorde nie. Niks maak sin nie, Here. Ek voel alleen ... en so bang. As ek dink aan my lewe en my toekoms, wil paniek my oorweldig. Die pyn van my hart wat breek, is net oorweldigend. Here, sien U dit? Sien U my raak? Ek verstaan nie hoekom U dit toelaat nie, my Here my God. Ek is dan u kind Here? Luister asseblief na my angskrete, Here. U het vir die vis beveel om vir Jona op die land uit te spoeg. Asseblief Here, red my! Help ons ook! Red ons huwelik, Here!
* * *
Here, dit is nie hoe ek my lewe beplan het nie
“Die disintegrasie van ’n huwelik is nie bloot ’n enkele regsgebeurtenis nie, maar eerder ’n multifaset-proses wat meer ontwrigtend en pynliker is as enige ander emosionele krisis – insluitend die dood.” – LOS ANGELES TIMES
Dit het vir my gevoel of die lewe perfek vir almal rondom my ontvou, maar dat ek ’n gevangene binne my eie lewe en hierdie aaklige situasie was. Daar was
letterlik geen omdraaikans of uitkoms nie. In dié tyd het die beeld van ’n woestyn keer op keer by my opgekom. Dit was hoe ek my lewe en die toekoms gesien het. ’n Eindelose woestyn. En ek moes daardeur. Niemand anders kon die reis namens my aanpak nie. Ek het deur die dae gestrompel en die een fout ná die ander gemaak in ’n poging om te kon oorleef en deur die emosies te werk. Ook deur desperate pogings aan te wend om my man te probeer oortuig dat hy moes terugkom na ons toe. My familie en vriende het met opbeurende Skrifgedeeltes, gebede en ondersteunende gesprekke probeer help, maar aan die einde van sulke sessies is hulle terug na hul heel gesinne en moes ek alleen die lang nag en my koue huis trotseer, want niks van my situasie het verander nie. Hoe kon hulle in elk geval die omvang van my pyn en my absolute hulpeloosheid verstaan? Ek het na die Here gegryp en baie tyd in gebed en met sy Woord deurgebring. Aanvanklik was daar net soveel emosies en soveel geraas dat ek niks gehoor het nie. Net ’n oorweldigende stilte. Dit het my verder verwar, want ek het nie verstaan hoe God hierdie tragedie kon toelaat nie. Ek was dan sy kind. Hy is dan ’n God van liefde en ’n God van wonderwerke. Die huwelik was dan sý idee en sý instelling. Hy kon dit mos gekeer het. En hoekom juis my huwelik? Hoekom juis dít wat vir my so kosbaar was? U red ander huwelike Here. Waarom nie myne nie? Die vrae was nimmereindigend en die antwoorde het my ontwyk. Ek was deurmekaar en kwaad en so seer. Ek was amper geskok oor my eie woede teenoor God. Ek kon dit beswaarlik aan myself erken – wat nog aan iemand anders bely. Miskien is jy ook daar. Jy wil dit dalk nie erken nie, maar jy betwyfel God se goedheid vir jou of sy voorneme om vir jou te sorg en vir jou lief te wees. Vandag kan ek egter onomwonde vir jou sê dat die Here gelukkig nóóit sy kinders los nie. Selfs al het ons lankal op ons eie pogings (en Hom?) opgegee. Saggies, so saggies en teer het die Heilige Gees my kom aanraak en in my oor kom fluister. Ek lees in hierdie tyd een aand in my stiltetyd in Johannes 11 in The Amplified Bible die verhaal van Lasarus en sy twee susters, Martha en Maria. Hulle was Jesus se vriende en Hy was lief vir hulle.
“So the sisters sent to Him, saying, Lord, he whom You love [so well] is sick.” – JOHN 11:3 (THE AMPLIFIED BIBLE)
Here, ek weet U het my lief. U Woord sê dat ek die appel van u oog is. Maar ek is siek, Here. Ek het U so nodig!
“When Jesus received the message, He said, this sickness is not to end in death; but [on the contrary] it is to honor God and to promote His glory. That the Son of God may be glorfied through (by) it.” – JOHN 11:4 (THE AMPLIFIED BIBLE)
Kan dit wees dat U vir my sê waarom nie mý huwelik nie? Dat U hier besig is met iets groters, iets waarvan ek nie op hierdie stadium die omvang kan begryp nie? Is dit moontlik dat U vir my sê dat die hartseer wat ek nou ervaar, georkestreer is om glorie aan U te bring op ’n manier wat ek self nie verstaan nie?
“Now Jesus loved Martha and her sister and Lazarus. [They were His dear friends, and He held them in loving esteem.] Therefore [even] when He heard that Lazarus was sick, He still stayed two days longer in the same place where He was.” – JOHN 11:5–6 (THE AMPLIFIED BIBLE)
Sê U vir my dat U nie noodwendig nou vir my enige antwoorde gaan gee nie? Dat ek moet leer om op u karakter te vertrou? Maar ten spyte van u stilte kan ek wéét dat U my liefhet?
“For He [God] Himself has said, I will not in any way fail you, nor give you up, nor leave you without . I will not, I will not, I will not in any degree leave you helpless nor forsake you, nor let you down (relax my hold on you). Assuredly not!” – HEBREWS 13:5 (THE AMPLIFIED BIBLE)
Here, ek prys U vandag vir hierdie belofte uit u Woord. Dankie dat ek kan weet dat selfs al word u kinders op aarde verwerp en gelos en seergemaak, U ons nóóit sal los nie. U sal nooit u greep op my verslap nie. U sal my nooit hulpeloos laat nie. Dankie dat ek in die palm van u hande is, Here. Dankie dat ek veilig is en dat U vir my sorg!
Is hierdie my lewe?
* * *
“As ek vlerke soos ’n voël gehad het, het ek ver weggevlieg. Ek sal so ver wegvlug dat niemand my kan kry nie. Op ’n eensame plek sal ek haastig gaan wegkruip. Daar sal ek veilig wees teen al die mense wat niks van my hou nie.” – PSALM 55:8–9 (DIE BOODSKAP)
“No one ever told me grief felt so much like fear.” – C.S. LEWIS
Sal ek ooit daardie nag kan vergeet toe my man met sy klere en ’n paar kosbaarhede inderhaas by ons huis uitgetrek het? Hoe kry jy dit reg om sewentien jaar gou-gou in twee tasse te pak? Hoe los jy twee kinders in hul bedjies agter om dan met die resultaat van daardie keuse nooit weer net ’n gewone pappa in ons huis vir hulle te wees nie? Hoe laat jy jou vrou agter ... onemosioneel en met ’n paar laaste instruksies van hoe die swembadpomp werk? Of dalk is dit juis al manier hoe dit gedoen kan word – gejaagd, onemosioneel en deur op die praktiese te fokus. Want sodra jy moet stilstaan en dink oor dít wat besig is om te gebeur en die keuse wat uitgeoefen word, mag die impak van die besluit dalk te veel word. Dit was eenvoudig nie besig om met my te gebeur nie, het ek gedink. Maar dit
was – elke sekonde van daardie verskriklike finale nag, asook die menige nagte, weke en maande wat daarop gevolg het. Alles was ’n ongevraagde realiteit. Ek verstaan nou hoe dit voel as jy nie weet waar jou pyn eindig en waar die vrees begin nie. ’n Yskoue paniek wat sy vingers om jou hart klem en elke greintjie lewe daaruit wil pers. ’n Kosbare vriendin het in dié tyd vir my hierdie teks uit die Woord gegee:
“Fear nothing what you are about to suffer. [Dismiss your dread and your fears!] Behold, the devil is indeed about to throw some of you into prison, that you may be tested and proved and critically appraised, and for ten days you will have affliction. Be loyally faithful unto death, and I will give you the crown of life.” – REVELATION 2:10 (THE AMPLIFIED BIBLE)
Ek het toe nog net nie geweet wat presies hierdie “tronk” behels nie. Here, hoe lank is tien dae? het ek nog by myself gewonder. In die weke en maande wat gevolg het, het ek oor en oor deur al die fases van rou beweeg. Ek was vir baie lank vasgevang in die eerste fase van rou – die fase van skok en ontkenning. Gedagtes wat feitlik permanent deur my kop gemaal het, was: Dit kan tog nie my lewe wees nie. Hy gaan tot sy sinne kom. Hierdie bisarre omstandighede is nie besig om met my en die kinders te gebeur nie. Fear nothing! Hierna het die woedefase gevolg. Ek was woedend vir hom, maar ook vir almal wat rondom die situasie gestaan het. In my binneste het dit geskree: waarom, waarom, waarom, waarom, waarom? Ek verstaan nie! Waarom sommer so maklik alles weggooi wat ons saam gehad het? Ek wou niks van hierdie omstandighede gehad het nie, en nou is ’n egskeiding vir my gekies. Ek was ook woedend vir myself. Hoe mis jy dan die tekens van jou eie huwelik wat besig is om te sterf? Ek het buite beheer oor my eie lewe gevoel. Die
vernedering van die omstandighede het my laat stik. En deurentyd was die pyn so groot dat ek dit vir niemand kon beskryf nie. Fear nothing! Êrens tussendeur was daar ook ’n fase van onderhandeling. Ek sou enigiets doen om ’n rekonsiliasie te bewerkstellig. Ek was bereid om die skuld vir die gebroke huwelik in totaliteit op myself te neem – net sodat hy weer kon terugkom. Net sodat alles weer kon wees soos wat dit was. Net sodat ons weer ’n gesin kon wees. Dan was daar ook die depressiefase. Ek weet hoe dit voel om so hulpeloos te voel dat jy nie die krag het om nóg ’n dag van pyn deur te wil gaan nie. Ek weet hoe dit voel as jy net uitsien om saans in jou bed te klim sodat jy kan slaap ... om vir ’n paar uur net te kan vergeet en te kan ontsnap van die hel waarin jy jou bevind. Ek het soms bang geraak vir my eie gedagtes en gevoelens van hulpeloosheid. Ek het begin twyfel of dit enigsins die moeite werd was om aan te hou lewe. Ek was soos ’n gevangene binne my eie lewe en het net eenvoudig nie meer kans gesien vir ’n toekoms sonder my man nie. Die gat van depressie is baie diep en baie donker. Fear nothing! Ek dank die Here vir wonderlike familie en vriende wat my in hierdie tyd onophoudelik bedek het met die bloed van Jesus, met gebed en met liefde. My kinders het my ook onbewustelik deur hierdie tyd gehelp. Hul lewetjies moes noodgedwonge aangaan, al het dit gevoel asof ek self êrens ophou bestaan het. Die omsien na hul daaglikse behoeftes het my genadiglik gehelp om met tye die fokus weg van die realiteit van die situasie te neem. Die fase van aanvaarding het eers baie later gevolg. Ek moes eers ’n baie steil en nou paadjie stap voor ek daar kon uitkom. So tussendeur onthou ek my laaste woorde aan my man daardie aand toe hy uit die huis getrek het: “Ek gaan léwé.” Ek het al baie gewonder waar daardie woorde vandaan gekom het, want op daardie oomblik was “lewe” die allerlaaste emosie wat ek gevoel het. Dalk was dit uit trots, soos in ek gaan jou wys! Dalk het ek deurmekaar gepraat weens die skok, of dalk het die Here die woorde oor my lippe laat kom. Ek weet nie. Wat is daar in elk geval om te sê as jou man sy huissleutels vir jou gee en vir oulaas uit jul motorhuis ry?
Heelwat tyd het verloop voordat ek eendag toevallig hierdie woorde in Deuteronomium 30:19–20 (Nuwe Lewende Vertaling) raakgelees en weer aan my eie (profetiese?) woorde gedink het:
“Vandag gee ek aan jou die keuse tussen lewe en dood, tussen seën en vloek. Ek roep die hemel en die aarde as getuies vir die keuse wat jy maak. Mag jy tog die lewe kies sodat jy en jou nageslag mag lewe! Om vir die Here jou God lief te hê, Hom te gehoorsaam, jou aan Hom te verbind, bring vir jou die lewe.”
Ek wil glo dat die Here vir my deur hierdie Skrifgedeelte ’n eenvoudige, maar kragtige strategie – noem dit maar ’n oorlogsplan – gegee het om nie net te oorleef nie, maar wel om te kan léwé. Soos met alles by die Here, was dit egter my keuse. Dit was my keuse of ek wel hierdie oorlog wou wen. En ’n oorlog was dit beslis. Dit het my egter ’n ruk geneem om te besef dat die oorlog nie teen my man was nie, maar wel teen die vyand wat met sy sieklike taktieke en leuens my huwelik kom steel en verwoes en my gesin laat verbrokkel het. En nou was hy ook daarop uit om my en my kinders te verwoes. In Efesiërs 6:12 (Nuwe Lewende Vertaling) staan: “Want ons stryd is nie teen mense nie, maar teen bose hemelse regeerders en maghebbers, teen die geeste wat mag in hierdie donker wêreld uitoefen, teen die bose geeste in die hemelruimtes.” Volgens Deuteronomium 30:20 was dít die strategie wat vir my en my kinders die léwé sou bring:
• om die Here God lief te hê; • om aan Hom gehoorsaam te wees; en • om my aan Hom te verbind.
Die léwé waarvan God hier praat, is nie die ewige lewe van eendag nie. Dit natuurlik ook. Maar die belofte lê juis daarin dat ons te midde van ons eie oorlog en pyn hierdie oorvloedige lewe reeds nóú hier op aarde kan smaak. Dis vir ons en ons kinders beskore. Ons lees in Johannes 10:10: “Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.”
* * *
Om die Here jou God lief te hê
Natuurlik was ek vir Jesus lief, maar dit was ’n soort van akademiese liefde. Ek weet nou ek was by verre liewer vir my man. Ek het dit eers besef toe ek erns gemaak het met die eerste gebod. In Matteus 22:37 verklaar Jesus dat die eerste gebod is dat jy die Here jou God moet liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Ek het besef dat my man se mening en liefde – nie wat Jesus oor my sê en vir my voel nie – vir my vastigheid, sekuriteit en rigting gegee het. My identiteit was in groot mate opgesluit in my vrouwees vir hom. Ek was verpletter toe ek besef dat hierdie liefde wat ek vir my man gehad het nie genoeg was om ons huwelik te laat werk nie. Ek het dit by die Here gaan bely en Hom gevra om my te leer om Hom lief te hê, want ek het nie regtig geweet hoe nie. Stadig en saggies het Hy het my kom leer. Deur sy wonderlike genade en liefde vir ons, sy kinders, verwag Hy niks van ons as Hy nie alreeds daardie behoefte en die vermoë om dit uit te voer in ons harte kom lê het nie. Ons begeerte om Hom bo alles lief te hê, kom dus van Hom af. Soos daar in 1 Johannes 4:19 staan: “Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het.” Alles in die lewe het in die eerste plek hul oorsprong by God. Ook ons liefde vir
Hom. Ons ontvang dus sy liefde. Dit raak ons aan, beïnvloed ons en verander ons. Ons gee dan aan God hierdie liefde terug wat Hy in die eerste plek vir ons gegee het. Dis amper soos ’n kringloop. Die Heilige Gees gee ons die krag om die eerste gebod te vervul, bloot omdat liefde in die eerste plek God se idee was. Vra Hom om jou te leer hoe om Hom lief te hê. Hy brand om jou te leer.
* * *
Om gehoorsaam te wees aan Hom
In Johannes 2:5 staan daar: “Sy moeder sê toe vir die kelners: ‘Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle doen.’” Dit was by die bruilof in Kana toe Jesus sy eerste wonderwerk gedoen het deur water in wyn te verander. Die kelners het op Jesus se aandrang die klipkanne vol water gemaak, daarvan uitgeskep en dit na die seremoniemeester toe geneem om te proe. Daardie eerste wonderwerk kon gebeur omdat hulle aan Jesus gehoorsaam was en sy opdragte met blindelingse vertroue uitgevoer het. Nader aan my eie situasie, het ek besef dat God steeds vandag wonderwerke in ons lewens wil doen. Maar vir wonderwerke om te gebeur, vereis Hy gehoorsaamheid van ons. Ek kon nie verstaan dat die Here al my gebede en smekinge vir die ingryping in ons huwelik nie beantwoord het nie. Ek het Hom vertrou dat daar ’n wonderwerk in my en my man se lewens sou wees, maar die teenoorgestelde het gebeur. Ons is ten spyte van my gebede en smekinge, my gevas en my oorlogvoering wel geskei en hy het ’n paar maande ná ons egskeiding weer getrou. Ek het baie gesukkel om dit te verwerk en te verstaan. Vandag weet ek dat dit wel in God se hart is om in te gryp en huwelike te red – ook myne – maar dat daar in ’n huwelik twee partye se vrye wil teenwoordig is. Albei partye moet kiés om in gehoorsaamheid te loop en saam die huwelik te wil
red. Jesus sal nooit teen een party se wil ingryp as ons nie die wonderwerk wil laat gebeur nie. Hy laat altyd die keuse aan ons oor. God vereis in alles ons gehoorsaamheid.
* * *
Om verbind te bly aan Hom
“Ek is soos die druiwestok; julle is soos die takkies. Sonder die druiwestok beteken die takkies tog niks nie. Net so beteken julle ook niks sonder My nie. Leef elke oomblik van die dag in afhanklikheid van My. Ek sal dan elke oomblik by julle ook wees. So sal julle vir God ’n vrugvare lewe kan lei.” – JOHANNES 15:5 (DIE BOODSKAP)
Soos die maande en jare aangestap het ná my egskeiding en met alles wat dit meegebring het, het die Here my kom leer wat dit beteken om aan Hom verbind te bly, en dat ek Hom in alles kan vertrou. Dis ironies dat ek my aardse bruidegom moes verloor om my hemelse bruidegom te ontdek. Maar keer op keer het Hy my kom verseker dat Hy nou my man is. Om myself daagliks daaraan te herinner, het ek vir my ’n ringetjie gekoop wat ek steeds aan my ringvinger dra. My ringetjie verklaar aan die sienlike, maar ook aan die onsienlike dat ek aan die Here behoort.
“For your Maker is your Husband – the Lord of hosts is His name – and the
Holy One of Israel is your redeemer; the God of the whole earth He is called.” – ISAIAH 54:5 (THE AMPLIFIED BIBLE)
* * *
Speel die bal waar die aap dit laat val
Prof. Julie Claassens van die fakulteit teologie aan die Universiteit Stellenbosch, vertel in haar boek, Wintertye, van ’n gholfbaan in Indië wat nog uit die koloniale tydperk dateer. Deel van die ervaring om hier gholf te speel, is dat jy die baan moet deel met ’n swetterjoel ape wat in die bome rondswaai. As dit maar by die swaai aan die takke gebly het, want blykbaar is die ape se geliefkoosde tydverdryf om die spelers se gholfballe te steel en hulself jillend uit die voete te maak totdat hul dit iewers elders laat val. Nadat vele pogings aangewend is om van die lastige ape ontslae te raak, het die spelers hulle toe by die situasie aangepas deur ’n nuwe reël in te stel wat slegs vir dié besondere gholfbaan in Indië geld: Speel die bal waar die aap dit laat val. Is dit nie maar ook hoe die lewe werk nie? Ons kom voor so baie uitdagings (positief en negatief) te staan wat glad nie deel van ons oorspronklike speelplan was nie. Ons kan onsself óf verknies oor die onregverdigheid van die situasie en kwaad raak vir die simpel aap wat ons speelplan in die wiele gery het óf ons kan besluit om die situasie te aanvaar en voortgaan met die spel daar waar die aap die bal laat val het – hetsy in die water of in die sand.
* * *
’n Lewe en toekoms vol hoop
In die brief wat die profeet Jeremia aan die leiers van die ballinge gestuur het, belowe God deur sy profeet dat Hy vir hulle ’n goeie toekoms sal voorsien. Ons lees in Jeremia 29:11–13 (Nuwe Lewende Vertaling): “Ek weet wat Ek vir julle beplan het,” sê die Here. “Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê. Julle sal na My roep en kom bid. Ek sal na julle luister. As julle heelhartig na my soek, sal julle My vind.” By God is daar altyd oorvloed, goedheid, voorspoed, ’n toekoms en hoop. Wat die toekoms goed maak, is nie noodwendig dat dit altyd met ons goed sal gaan nie, maar dat God belowe dat Hy áltyd met ons sal wees. Selfs in jou eie vorm van ballingskap, in die middel van ’n vreemde land, by die aanhoor van die slegte nuus dat ’n geliefde gesterf het, dat jy jou werk verloor het of dat jou man van jou wil skei, is God daar. Hier op aarde is elkeen van ons in ’n eie “oorlog” gewikkel. Elkeen se geveg verskil net. Uit ons eie krag kan ons nie hierdie oorlog wen nie, maar wel met sy hulp! Ons lees in 1 Petrus 5:8: “Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.” En in Openbaring 5:5 lees ons: “Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die Afstammeling van Dawid, het die oorwinning behaal ...” Prys die Here dat die vyand slegs sóós ’n leeu is, maar Jesus ís die leeu van Juda. Hy het elke oorlog wat ons op aarde gaan veg en nog moet veg, reeds aan die kruis oorwin. Die oorwinning is reeds ons s’n. ’n Oorvloedige lewe is vir ons beskore. Om oorwinning en ’n oorvloedige lewe ons eie te maak, moet ons gehoorsaam wees en Hom vertrou deur vas te hou aan sy Woord. Sy beloftes werk soos salf –
die salf van Gilead – op ons plekke van dood. Ons moet net hierdie salf tyd gee om te werk sodat dit uiteindelik genesing kan bring.
How do we get to the morning, to the sunshine, to the joy? There is only one way. By waiting for it. We can’t hurry the dawn, no matter how anxiously we pace the floor or how impatiently we watch the clock. And so the question is not do we wait or not wait, because waiting is all we can do. The question is, how will we wait? Will we wait well … or will we wait poorly? – KEN GIRE
Here, leer my asseblief om U te verheerlik in hierdie periode van wag totdat die son weer in my lewe skyn. Ek kan dit nie op my eie doen nie, Vader. Vergewe my asseblief dat ek by tye net wil moed opgee en voel of ek in ’n gat kan gaan kruip en daar kan bly lê. Help my om nie so op myself en my eie pyn gefokus te wees dat ek U en dít wat U in my lewe wil kom doen, mis nie.
NOTA AAN MYSELF: Hoe om positief te wag • Vir watter drie vriendinne kan ek bid en hulle seën? • Vir watter land kan ek bid? • Oor watter ses dinge in my lewe is ek nóú mal? • Wat is my grootste drome vir my kinders? • Hoe kan ek daardie persoon seën wat my so pas in die vinnige baan verbygesteek het?
It’s a Good Thing to Hope for Help from God “I’ll never forget the trouble, the utter lostness, the taste of ashes, the poison I’ve swallowed. I it all – oh, how well I – the feeling of hitting the bottom. But there’s one other thing I , and ing, I keep a grip on hope: God’s loyal love couldn’t have run out, his merciful love couldn’t have dried up. They’re created new every morning. How great your faithfulness! I’m sticking with God (I say it over and over). He’s all I’ve got left. God proves to be good to the man who ionately waits, to the woman who diligently seeks. It’s a good thing to quietly hope, quietly hope, for help from God. It’s a good thing when you’re young to stick it out through the hard times. When life is heavy and hard to take, go off by yourself. Enter the silence. Bow in prayer. Don’t ask questions: wait for hope to appear. Don’t run from trouble. Take it full-face. The “worst” is never the worst. Why? Because the Master won’t ever walk out and fail to return. If He works severely, He also works tenderly. His stockpiles of loyal love are immense. He takes no pleasure in making life hard, in throwing roadblocks in the way. I called out your name, O God, called from the bottom of the pit. You listened when I called out, “Don’t shut your ears! Get me out of here! Save me!” You came close when I called out. You said, “it’s going to be all right.” You took my side, Master, you brought me back alive!” – LAMENTATIONS 3:19–33, 55–58 (THE MESSAGE)
Die Here het my een oggend vroeg wakker gemaak. Terwyl ek nog met toe oë tussen wakker en slaap gesluimer het, was die volgende woorde skielik klokhelder in my kop: “Ek gaan jou hande leer om oorlog te maak.” Ek moes eers die Bybel fynkam voor ek besef het dit was ook die Here se belofte aan Dawid in Psalm 18:35. Ek kan getuig dat Hy my wel geleer het, en steeds leer. Stap vir stap. Nie net hoe om te veg nie, maar ook hoe om hierdie oorlog te wen. Ek deel graag hierdie waarhede met jou ...
WAARHEID 1
God is goed
Die salf van sy karakter en sy naam
* * *
“Hy het vir hom gesê: ‘Waarom vra jy My uit oor wat goed is? Daar is net Een wat goed is’” – MATTEUS 19:17
“God is a good God. We must begin there. Though we don’t understand his actions, we can trust his heart.” – MAX LUCADO
Tot voor my egskeiding was dit vir my maklik om te glo dat God ’n goeie God is. Ek was in my laat-dertigs en tot op daardie stadium het dit eintlik nog net besonder goed met my gegaan. Ek was bevoorreg dat ek min mense wat werklik naby aan my was, aan die dood moes afstaan. Ek was met die liefde van my lewe getroud. Ons was albei suksesvol en gelukkig in ons werk en daar was nie onnodige finansiële druk nie. Ons het twee pragtige, gesonde kinders gehad met
drome van nog, ’n wonderlike familie, ’n groot vriendekring en ’n mooi huis. Ons het toe ook so pas ’n jare lange droom vervul deur ’n huisie by die see aan te skaf. Die Here was ’n belangrike deel van my lewe, want ek het kort tevore ervaar hoe Hy my deur sy genade nader aan Hom begin trek het. Dit het uiteindelik daartoe gelei dat ek my opnuut aan Hom toegewy het. Ek het sy seën in alles rondom my gesien en ervaar. Onwetend het ek myself so af en toe ’n kloppie op die skouer gegee en gedink God moet baie tevrede met my lewe wees, want alles gaan dan so goed met my. Ek moes iets reg doen dat ek so geseën word, het ek gedink ... Is dit nie maar wat die lewe in groot mate aan ons opdis nie? Dat ’n bepaalde inset ’n bepaalde uitset gaan oplewer. In oorvereenvoudigde terme is dit amper iets soos as jy hard vir jou eksamen leer, dan is jy verseker van goeie punte. Oefen hard, en jy kan die halfmarathon kafdraf. Belê in jou huwelik, dan is julle gelukkig. Leef naby God, dan pluk jy op alle gebiede die vrug van sy seën. Ek het hard gewerk om my kant van die ooreenkoms na te kom. Ek het geglo ek lewer die nodige insette sodat my lewe op dreef kon bly en ek sy seën kon aanhou verdien. Dit het alles vir my soveel sin gemaak ... tot daardie dag op die strand. Die dag toe my lewe in duie gestort het.
* * *
Straf U my, Here?
As jy met ’n lewensveranderde situasie gekonfronteer word, soos wanneer jou huweliksmaat besluit om die aftog te blaas op jul saamwees, doen jy lank en intensief selfondersoek. Die situasie sou amper vir my meer sin gemaak het as ons huwelik ongelukkig was. Maar dit was nie. Ek was eenvoudig dronkgeslaan – en platgeslaan – oor die wending wat my lewe geneem het. Goedbedoelde trooswoorde van mense, soos “bely jou aandeel in die afbreek van jul huwelik en vra dat God jou sal ophou straf”, het my in ’n spiraal van
skuldgevoelens en in ’n monumentale geloofskrisis gedompel. Ek het myself afgevra: “Here, straf U my? Ek weet ek is nie sonder sonde nie, Here, allermins! Maar hoe werk dit dan dat jou huwelik soos ’n kaartehuis inmekaar kan tuimel as jy openlik vir Jesus kies en Hom eerste in jou lewe stel? Moet U my nie dan júís beskerm en seën nie? Ek het dan so lank en intensief vir ons huwelik en gesin se herstel gebid, Here. Het my gebede dan niks beteken nie? Here, hoor U my?” Om en om het ek geredeneer in ’n poging om te probeer verstaan. Dit het alles oor mý onbevredigde behoeftes, mý pyn en die onreg wat mý aangedoen is, gegaan. My trots het vierkantig tussen my en God gestaan. Om dinge te vererger, het ek ook onwetend ’n geestelike persepsie van God gehad wat lankal onder baie Christene gehuldig word: God is ’n kwaai regter wat ons baie fyn dophou en sy kinders seën wanneer hulle goeie dinge doen en hulle straf wanneer hulle sondig. John Bryan Smith skryf in sy boek, Die goeie en mooi God, dat dié persepsie veral kort ná die 9/11-tragedie gewild onder Christene was. Twee bekende TVevangeliste het in daardie tyd aangevoer dat God Amerika, veral New York, straf vir hul sondes van homoseksualiteit, prostitusie en dwelmhandel, en dat Hy ’n nie-Christen organisasie gebruik om Amerikaners te laat wakker skrik vir hul eie sondes. Maar wat sê God se Woord oor hierdie persepsie? Smith verwys in sy boek na die gedeelte in Johannes 9:2–3 waar Jesus se dissipels Hom vra of die man wat van geboorte af blind was so is weens sy eie of sy ouers se sondes. “Jesus het geantwoord: ‘Nie hierdie man of sy ouers het gesondig nie, maar hy is blind sodat God se werke in hom sigbaar kan word’” (Nuwe Lewende Vertaling). Ons lees verder in vers 7 dat Jesus die man dan van sy blindheid genees. Hieruit kan ons dus aflei dat indien Jesus geglo het sy blinde toestand was ’n regverdige straf vir sy sonde, Hy hom nie sou genees het nie.
* * *
Dit reën oor die goeies en slegtes
In Matteus 5:45 maak Jesus dit verder duidelik met sy woorde: “Hy laat immers sy son opgaan oor slegtes en goeies. En Hy laat sy reën val op dié wat reg doen, maar ook op dié wat verkeerd doen” (Nuwe Lewende Vertaling). Jesus verwerp dus die opvatting dat ons kry wat ons verdien. Aaklige goed gebeur met kinders van die Here en wonderlike goed met ongelowiges. Ons kan dus nie na die wêreld rondom ons kyk en die aanname maak dat gelowiges geseën en ongelowiges gestraf word, of omgekeerd nie. Net soos sonskyn en reën aan gelowiges én aan ongelowiges gegee word, so seën God ons almal – ongeag of ons in Hom glo of nie. Teenspoed tref ons nie omdat God dit nie raaksien, nie omgee of nie magtig genoeg is om ons daarteen te beskerm nie. Gelowiges én ongelowiges word deur tragiese gevolge van die sonde getref. Daar staan nêrens in die Woord dat dit net goed sal gaan met God se kinders nie. Daar staan eintlik die teenoorgestelde. Ons lees in Johannes 16:33: “In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.” Ons moet dus eintlik verwag dat hartseer, pyn en swaarkry ons gaan tref terwyl ons nog op aarde is, want dit is deel van menswees. God kan dit ook positief gebruik. Dit kan ook tot ons eie groei en ontwikkeling bydra.
“... julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.” – JAKOBUS 1:2–4
* * *
Die salf van God se karakter
Die Amerikaanse psigiater M. Scott Peck (1936–2005) begin sy boek, The Road Less Traveled, met die woorde “Life is difficult”. Die lewe maak nie altyd vir ons sin nie, ons verstaan nie waarom dinge gebeur nie en dit is ook nie altyd regverdig nie. Maar ons kán te midde van die lewe se onsekerhede vashou aan God se karakter, want dit verander nooit nie. Op ’n keer het A.W. Tozer (1897–1963) geskryf: “What comes to mind when we think about God is the most important thing .” Ons persepsie van God se karakter beïnvloed die soort verhouding wat ons met Hom het. As ons dink Hy is hard en onverbiddelik, sal ons vir Hom bang wees en ’n afstand hou. Dink ons Hy is vaag en onbetrokke, sal ons daardie soort verhouding met Hom hê. En dink ons Hy is ’n kwaai regter wat ons fyn dophou, sal ons so optree dat ons sy seën waardig kan wees. Dis uiters belangrik dat ons die regte gedagtes oor God het, want dit beïnvloed en kleur ons geestelike, emosionele en fisieke verhouding met Hom. Hoe meer tyd ons in sy teenwoordigheid deurbring, hoe meer openbaar Hy die verskillende fasette van sy karakter aan ons. God se karakter is konstant, maar ons s’n nie. Ons wonder en dink, ons droom en redeneer, ons voel vandag so en môre anders. As mense het ons ’n geneigdheid om die lewe in die vlees te beleef – daar waar ons emosies ook gesetel is. ’n Belangrike les wat ek moes leer, was om op te hou vrae vra, want ek het nie die antwoorde gekry nie. Soos ons in 1 Korintiërs 13:12 lees: “Nou kyk ons nog in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is.” Dit was amper bevrydend om te besef dat ek nie alles hóéf te verstaan of uit te redeneer nie, maar dat ek net kon rus in die wete dat God in beheer is en dat, soos daar in Romeine 8:28 staan: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet”.
Ek moes leer om eerder my gedagtes te rig “op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie” (Kolossense 3:2). My bepaalde verwagtinge van en teleurstelling in God het meer oor myself gesê as wat dit enigsins iets oor God gesê het. Ek het begin verstaan dat God net goed kán wees, want dit is inherent aan sy karakter en wie Hy is. My persepsie van God se karakter is ook deeglik in my ouerhuis gevorm. Ek dank die Here vir die voorreg om te kon grootword in ’n stabiele en gesonde huisgesin waar my ouers die Here gedien het en ná meer as 40 jaar saam, steeds gelukkig getroud is. In van my donkerste tye tydens die egskeiding het hul liefde en ondersteuning my verder gehelp om te verstaan dat God net die beste vir my wil hê: “As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee – die Vader in die hemel nog baie meer!” (Lukas 11:13).
“O taste and see that the Lord is good.” – PSALM 34:8 (KING JAMES VERSION)
* * *
Die salf van die name van God
God se verskillende name het ook in hierdie tyd vir my nuwe betekenis gekry. Sy name het vir my verder al die fasette van sy karakter (én wie Hy vir my wou wees) kom onderstreep en uitlig.
Jehovah God se naam Jehovah beteken selfonderhoudend. Hy is die ewige Ék ís. Wat ook al tans met jou gebeur, ék ís is met jou. Die Alfa en die Omega. Dieselfde gister,
vandag en tot in ewigheid. Ons kan rus in sý onveranderlikheid. Hy het nog nooit iemand gefaal nie en daarom kan ons daarin rus dat Hy ons ook nie sal faal nie. Hy is ’n Verbondsgod – Hy hou sy beloftes. Ons kan op sy naam vertrou. Dit kan nooit verander nie, want God kan nie verander nie.
El-Shaddai Sy naam El-Shaddai beteken God die Almagtige (Genesis 17:1–8). God heers oor alles. Hy hou alles in stand en waak oor sy kinders. Die naam beteken ook dat God ons koester, soos ’n ma haar kind koester. Hy is eintlik al wat ons ooit nodig sal hê (the all-sufficient one). El-Shaddai doen ontsaglik meer as wat jy jou kan indink of ooit voor kan vra.
Jehovah-Jireh God se naam Jehovah-Jireh beteken Hy is my voorsiener (Genesis 22:14). Hy voorsien nie net in ons redding nie, maar ook in ons daaglikse behoeftes. Hy het op soveel verskillende maniere in my behoeftes voorsien dat dit my eenvoudig stom gelaat het. Hy het vir my kom wys dat Hy reeds die voorsiening voorberei het nog lank voordat ek die behoefte daarvoor gehad het. So het ek byvoorbeeld ’n paar jaar voor my egskeiding ’n klein onderneming van die huis af begin met die doel om so tussen die kinders se grootmaak deur ’n eie inkomste te genereer. My bedoeling was nooit om dit vreeslik uit te bou nie, maar tydens en ná die egskeiding kon ek met my bestaande en nuwe kliënte die besigheid groei om finansieel kop bo water te hou. Terselfdertyd kon ek tuis wees om vir my kinders ’n stabiele omgewing te skep.
Jehovah-Shalom Die naam Jehovah-Shalom beteken God is vrede (Jesaja 26:3). God se vrede is nie die teenoorgestelde van oorlog nie. Sy vrede beteken dat ons ondanks ons
omstandighede rus kan ervaar en dat hierdie vrede in ons kan woon. Jesus is die Prins van vrede. Net Hy kan die storm van ons gemoed stilmaak sodat ons rus en vrede kan ervaar.
Jehovah-Shammah Sy naam Jehovah-Shammah beteken God is altyd by my. Hy is altyd daar. Hy sal my nooit los of in die steek laat nie, selfs al doen mense dit. Dit is bloot wie Hy is.
Jehovah-Rapha Die naam Jehovah-Rapha beteken God is jou geneser (Jeremia 8:22). Sy helende hand versoet die bitter water van ons lewe, verlig ons beproewinge, dra ons laste en droog ons trane af. Net God kan genees, heelmaak, herstel en vernuwe.
Jehovah-Nissi Sy naam Jehovah-Nissi beteken God is jou banier (Eksodus 17:15). Dit beteken ook God is jou oorwinning oor elke vyand, jou krag in elke vrees, jou triomfantelike krygsman in elke geveg. Hy is die vlag wat in jou hart wapper, die kaptein wat jy sonder huiwering kan volg, en die naam wat jy aanroep wanneer die vyand jou bedreig. As enkelma van twee klein kindertjies kan ek saans rustig slaap omdat ek wéét Jehovah-Nissi hou oor ons wag.
El-Roi God se naam El-Roi beteken die God wat alles sien (Genesis 16). Hy is die alomteenwoordige God. Sy oë is nie toe nie. Hy sluimer of slaap nie. Hy is tot in die fynste besonderhede bewus van al ons omstandighede – al laat Hy dit in sy
soewereiniteit toe. In God se ekonomie sal dit ten goede gebruik word.
“And they who know Your name [who have experience and acquaintance with Your mercy] will lean on and confidently put their trust in You, for You, Lord, have not forsaken those who seek (inquire of and for) You [on the authority of God’s Word and the right of their necessity].” – PSALM 9:10 (THE AMPLIFIED BIBLE)
WAARHEID 2
Jesus huil saam met my
Die salf van sy vertroosting en beskerming
* * *
To everything there is a season “A time to weep, a time to mourn, a time to scatter stones, a time to refrain from embracing, a time to lose, a time for tears, a time to keep silence and a time to hate.”
– ECCLECIASTES 3:1–8 (AANGEPAS UIT THE AMPLIFIED BIBLE)
“Selfs my beste vriend het die rug op my gedraai. Ek het hom vertrou. Here, help my. Maak my gesond sodat ek kan opstaan.” – PSALM 41:10–11 (DIE BOODSKAP)
Al wat ek vir weke en weke aaneen kon doen nadat my “ou” lewe tot ’n einde
gekom het, was om te huil. Ek het bloot nie die krag of lus vir veel meer gehad as om myself in ’n hopie op te krul en oor te gee aan my eie ontsaglike hartseer en trane nie. Dit wat vir my vanselfsprekend en so oneindig belangrik was – my man en my gesin – was skielik aan stukke. Ek het gerou. Vir dit wat was en nog moes wees. Vir die verlies aan ons gesin wat my kinders nooit as heel sou ervaar nie, vir die saam oud word met my lewensmaat en vir al die drome wat deur onnodige leuens vernietig is. Vir maande aaneen het ek ’n fisieke pyn in my hart ervaar, amper soos ’n permanente beklemming op my bors. Is dít hoe dit voel wanneer jou hart breek? Egskeiding bring emosies en fasette van jou karakter en menswees na die oppervlak en in die openbaar wat nie lekker of mooi is om te aanskou nie, en wat jy self nie geweet het jy oor beskik nie. Soos ’n katalisator het al die onsuiwerhede binne my uitgespring. Ek onthou vele Vrydagmiddae se toneel wat voor my afgespeel het. Hy wat die kinders kom haal vir ’n uitstappie ... die kinders wat uit hul nate is om hul pappa te sien ... en ek, amper lomp, seer en eenkant ... uitgesluit uit ’n kring waarvan ek voorheen die middelpunt was. En dan, as ek deur die venster kyk hoe hul wegstap, moes toekyk hoe ’n ander vrou my kinders verwelkom en optel. Sy het dan die plek voor langs hom, wat mýne was, ingeneem – in die gesinsmotor wat ons skaars ’n paar maande vantevore saam uitgekies het. Dit het gevoel om soos in ’n fliek te sit en iemand anders se lewe te aanskou, behalwe dat dít nou my lewe en my realiteit was. Dit is wanneer jy jou eie potensiaal vir donkerte vierkantig in die gesig staar.
“Sometimes I guess there just aren’t enough rocks.” – WINSTON GROOM
As jy aan die ontvangkant van ’n onreg is, bestaan die versoeking om jou eie sonde te verskoon of te regverdig weens die pyn wat jou toegedien is. Maar om in integriteit verder te leef, is dit noodsaaklik om, soos Jesus in die tempel gedoen het, die tafels van jou siel om te gooi, die opgekropte emosies uit te laat en jou sonde en potensiaal vir donkerte in die oë te kyk. Skryf dit neer, praat
daaroor of skree dit uit. Bring dit aan die lig. Bely dit aan die lewende God en vra sy vergifnis. Laat dit dan agter jou en draai weg daarvan. Deur met waagmoed vas te hou aan die waarheid, word die destruktiewe mag van die vyand in jou eie lewe gebreek.
* * *
Jy mag maar huil
Wat doen jy as probleme en omstandighede jou so onverwags en erg tref dat dit voel asof jy die slegste dag van jou hele lewe beleef? Brian Zahnd beantwoord hierdie vraag in sy boek, What to Do on the Worst Day of Your Life. Hy gebruik Dawid se lewe as voorbeeld. In 1 Samuel 30:1–8 kom Dawid en sy manskappe ná twee dae weg van hul dorp af weer by Siklag aan en ontdek dat die Amalekiete intussen op ’n strooptog was, die hele dorp afgebrand en hul vroue en kinders weggevoer het. Ons lees in 1 Samuel 30:3–4: “Toe Dawid en sy manne in die afgebrande dorp kom en besef dat hulle vroue en kinders en dogters ontvoer is, het hulle in trane uitgebars en hardop gehuil. Hulle was ontroosbaar” (Die Boodskap). Hierdie manne was nie swakkelinge nie, maar selfs hulle kon hul trane nie keer nie. Hulle wou ook nie getroos word nie. God het ons as emosionele wesens na sy beeld geskape. Dit is deel van ons menslike natuur om emosies soos vreugde, hartseer, geluk, woede, jaloesie en seer te ervaar. Om jou lewe volgens geloofsbeginsels in te rig en te leef, het niks daarmee te doen dat jy nie ook emosies ervaar nie. Solank ons net nie toelaat dat ons emosies die oorhand oor ons lewe kry nie.
Wanneer die lewe pynlike slae toedien, is dit heeltemal aanvaarbaar (selfs helend) om jouself aan trane oor te gee. Ons mag maar huil. Dit is eintlik krities noodsaaklik dat ons behoorlik rou. Om hartseer en ’n periode van rou te ontken of te onderdruk, kan meebring dat selfs vreugde onderdruk word. Sonder die uiting van emosies kan ons ook nie vir God, die skepper van ons emosies, met oorgawe aanbid nie. Dawid was baie uitdrukkingsvol in sy manier van aanbidding. Hy het voor die Here gesing, geskree, gedans en gehuil. Hy was eg in sy emosies, en ook in sy aanbidding en verhouding met die Here. God het hom ’n man na sy hart genoem. Ander groot geloofshelde van die Bybel wat gehuil het, was Abraham by die afsterwe van sy vrou Sarah (Genesis 23:2); Josef by die herontmoeting van sy broers (Genesis 45:14–15); Hiskia by die aanhoor van die nuus dat hy besig was om te sterf (2 Konings 20:3) en Job te midde van sy pyn (Job 16:16). Selfs Jesus het gehuil – by die afsterwe van sy vriend Lasarus (Johannes 11:35) en in die tuin van Getsemane voor sy kruisiging.
“Tears are the material out of which heaven weaves its brightest rainbow.” – F.B. MEYER
* * *
Hoe voel God oor my pyn?
Die salf van sy vertroosting ...
Ek weet nou Jesus wil hê dat ons ons pyn en laste na Hom moet bring en dit nie self moet dra nie. Want, soos daar in Matteus 11:28–30 staan: “Kom na My toe, almal wat moeg en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir
julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.” Ek het baie troos daarin gevind dat my seer Hom nie onkant betrap het nie. Jesus verstaan ons pyn, want Hy het dit self hier op aarde beleef. Ons lees in Jesaja 53:3: “Hy was verag en deur die mense verstoot, ’n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai.” En ek weet nou Hy hou boek van elke traan wat gestort word en dat ek en my pyn vir hom belangrik is, want daar staan in Psalm 56:9: “U het my ellende raakgesien. U het my trane opgevang. U het dit opgeskryf in u boek” (Nuwe Lewende Vertaling). Verder weet ek nou Hy huil saam met my en bid vir my. “Die Gees van God help ons ook nog boonop in ons onbeholpenheid. Ons weet immers nie mooi wat en hoe ons moet bid nie. Maar die Gees self neem ons gebedsbehoeftes voor God op met versugtinge wat nie in menselike taal verwoord kan word nie” (Romeine 8:26, Nuwe Lewende Vertaling). Wanneer ons drome aan skerwe spat en om te huil al is waartoe ons fisiek in staat is, het ons God se nabyheid en vertroosting meer as ooit tevore nodig. Ons wil hê dat Hy ons trane moet kom afdroog. Dis bloot menslik om tog so gou moontlik weer te wil beter voel, oor onsself en oor ons lewe. En dit is ook die resep wat deur die wêreld aan ons voorgehou word – een van onmiddellike behoeftebevrediging. Maar dit is nie noodwendig wat God kom doen wanneer Hy ons kom troos nie. God is wel getrou om ons te kom vertroos, soos Hy ook in Jesaja 61:1–3 belowe. Maar soms vind hierdie vertroosting op ander maniere plaas as wat ons dink of verwag. Dan is dit nie noodwendig die omstandighede wat verander nie, maar wel jyself en hoe jy jou pyn binne hierdie omstandighede beleef. Terwyl jy deur jou eie seer en gebrokenheid werk en in die proses na God soek, maak jy ’n kosbare ontdekking. Jy ontdek jou intense begeerte en smagting na Hom. Jy ontdek jou totale afhanklikheid van Hom, nie net vir jou eie genesing en heelwording nie, maar ook dat alles eintlik maar oor Hom gaan. Dat Hy jou bron, jou rots, jou toevlug is ... en dat niks anders amper meer saak maak nie. Wat voorheen so vreeslik belangrik was, het sy belangrikheid verloor. Al wat nou saak maak, is om God te ken. En om naby Hom te lewe.
“No Christian should ever be intimidated by life. We should be too busy being fascinated by Jesus.” – GRAHAM COOKE
Die wonder is dan dat daar stadigaan ’n verandering intree rondom die ervaring van jou eie pyn. Nou is dit amper ’n hoopvolle pyn wat jou in staat stel om, soos Job, deur jou trane te kan sê “... though He slay me, yet will I wait for and trust in Him,” (Job 13:15, The Amplified Bible).
Robin Mark verwoord dit pragtig in sy liedjie, All Is Well, op sy CD, Year of Grace.
All is well He lowers us to raise us So we can sing His praises Whatever is His way, all is well
All is well, with my soul He is God in control I know not all His plans But I know I’m in His hands
(YEAR OF GRACE – INTEGRITY MEDIA AFRICA)
* * *
Die salf van sy beskerming
Ek is by tye met dié woorde deur mense bemoedig: “Jy is sterk genoeg om hierdie tragedie te hanteer, want God versoek jou nooit bo jou kragte nie.” Dan wou ek saamstem met Moeder Teresa wat by geleentheid gesê het: “Ek weet God sal my nie bo my kragte versoek nie, maar ek wens soms dat Hy nie soveel vertroue in my gehad het nie!” Maar gelukkig het die Heilige Gees dit ook hier vir my duidelik gemaak dat dit eintlik glad nie oor my gaan of oor my “vermoë” om hierdie seer te hanteer nie. Maar dat dit eerder alles oor God, oor sy Almag en sy karakter gaan én wat Hy oor Homself binne my situasie openbaar. God ken jou omstandighede beter as jyself. Dis nie bloot toevallig dat jy jou tans daarin bevind nie. Om die een of ander rede laat God dit toe om te gebeur. Maar Hy is steeds in beheer van die situasie, selfs al wil die vyand en die wêreld jou anders wysmaak.
“There is nothing – no circumstance, no trouble, no testing – that can ever touch me until, first of all, it has come past God and past Christ, right through to me. If it has come that far, it has come with great purpose, which I may not understand at the moment.” – ALAN REDPATH
Geen trauma is te groot vir God nie. Nie ’n egskeiding, die dood van ’n kind of die verlies aan inkomste nie. Maar laat Hy my dan alleen om hierdie geveg sonder Hom te veg? Néé! Jesus is binne my, rondom my. Hy omvou my. Hy beskerm my. Daar is dus niks wat met ons kan gebeur wat Jesus binne-in my nie kan hanteer (en oorwin) nie. Al wat ons moet doen, is om naby Hom te bly. Ek het ’n geheime wegkruipplek by Hom ontdek waar ek veilig kan voel, in sy teenwoordigheid. Die bevestiging hiervoor staan in onder meer die volgende teksverse in die Amplified Bible:
• John 14:20: “At that time (when that day comes) you will know (for yourselves) that I am in My Father, and you (are) in Me, and I (am) in you.” • Psalm 91:1: “He who dwells in the secret place of the Most High shall remain stable and fixed under the shadow of the Almighty (whose power no foe can withstand).” • Psalm 119:114: “You are my hiding place and my shield; I hope in Your word.”
* * *
Vreugde kom in die oggend
Philip Simmons, Amerikaanse skrywer en werkswinkelleier vir verskeie kerkgroepe, vertel in sy boek, Learning to Fall, die verhaal van ’n dogtertjie wat vreeslik graag een spesifieke geskenk vir haar verjaardag wou hê.
Haar maatjies en familie het rondom haar gestaan met al die geskenke wat hulle vir haar gebring het. Sy het die een pragtige geskenk ná die ander oopgemaak, maar so gou sy sien dis nie die geskenk waarop sy gehoop het nie, het sy dit eenkant gesit en nóg meer vasberade ’n volgende pakkie se papiere begin afskeur. Sy het haar neus vir al die geskenke opgetrek, want al waaraan sy kon dink was die één geskenk wat sy nie gekry het nie. ’n Storie oor ’n bedorwe brokkie? Moontlik, maar was ek soveel anders? Ek het met ’n skok besef dat ek vir baie lank baie intens op my eie hartseer en die pyn van my gebroke huwelik gefokus was. In die proses het ek al God se seën misgekyk, soos my pragtige kinders, dierbare vriende, sy wonderskone natuur, my gesondheid en die feit dat ek nog kon werk en geld verdien. Die lys is lank. Selfs wanneer jy die slegste dag van jou lewe ervaar het, is dit noodsaaklik dat daar ’n dag kom dat jy vir jouself kan sê: “Genoeg is genoeg,” en dan ’n wilsbesluit neem om jouself nie verder te bejammer of jou onnodiglik aan jou eie hartseer oor te gee nie.
“Weeping endures for the night, but joy comes in the morning.” – PSALM 30:5 (THE AMPLIFIED BIBLE)
Daar bestaan ’n toestand van ’n amper dwarstrekkerige gehuil of gekerm wat sy wortels in ongeloof en selfbejammering het. Gevaarligte moet by ons begin flikker wanneer ons hartseer of pyn ons identiteit begin beïnvloed. Selfbejammering het die vermoë om ons geloof uit te wis en ons in ’n tronk gevange te hou waaruit ons moeilik kan ontsnap. Ons kan leer uit die Israeliete se gedrag toe hulle deur die woestyn getrek en
gedurig terugverlang het na die vleispotte van Egipte. Met tye het hulle hulself vreeslik bejammer oor alles wat hulle ontneem is. So ’n gehuilery was vir God onaanvaarbaar en het sy woede laat ontvlam. Ons trane is nooit verniet nie. God belowe in Psalm 126:5: “Hulle wat met trane saai, sal met vreugde maai” (Nuwe Lewende Vertaling). Om jou tragedie in ’n triomf te verander, moet jy egter die trane agterlaat.
“Linger too long in the stench of your hurt, and you’ll smell like the toxin you despise.” – MAX LUCADO
NOTA AAN MYSELF: Maak ’n lys van God se seëninge in my lewe en sê vir Hom dankie daarvoor. • Gaan stap ver ente. • Gaan hou piekniek op ’n mooi plek. • Beteken iets vir iemand na aan my of selfs vir ’n vreemdeling. • Speel met my kinders!
WAARHEID 3
Ek is Jesus se beminde
Die salf van my identiteit in Jesus en in lof en aanbidding
* * *
“God het ons eerste liefgehad. Daarom kan ons ook nie anders as om lief te hê nie.” – 1 JOHANNES 4:19 (DIE BOODSKAP)
“He brought me to the banqueting house, and his banner over me was love [for love waved as a protecting and comforting banner over my head when I was near him].” – SONGS OF SOLOMON 2:4 (THE AMPLIFIED BIBLE)
Toe hulle kleiner was, het ek en my kinders saans wanneer ek hulle in die bed sit, ’n speletjie gespeel. Ons het mekaar vertel hoe lief ons mekaar het en mekaar die heeltyd probeer oortref met ons liefdesbetuigings. Hul beskrywings was soms iets soos: “Mamma, ek is so lief vir jou soos
driemiljoen, duisend triljoen, honderd biljoen keer maan toe en terug.” Dan sou ek hulle terg en sê dat dit eenvoudig hopeloos te min is. Ek sou dan sê: “Ek is vir julle lief soos ... ” en dan ’n stortvloed woorde en hoeveelhede in die oortreffende trap gebruik wat hulle nie eens verstaan het nie, maar hulle baie beïndruk het. Hulle was mal daaroor. En ek ook. Dis net ’n speletjie, maar die punt is dat ons as mense mos graag ons liefde aan ons geliefdes wil verwoord en dan in ruil wil hoor dat ons ook geliefd is. Ons het nodig om te hoor ons word liefgehê. Daar vind baie diep verwonding plaas wanneer jou geliefde vir jou sê hy is nie meer lief vir jou nie en hy uit vrye wil besluit om eerder sy liefde te kanaliseer na ’n ander “beter” persoon wat sy liefde waardiger is. Dit is soos om ’n verhouding of huwelik met koekbak te vergelyk. As die verhouding nie uitwerk nie of die huwelik in ’n egskeiding eindig, kan ons maar sê die koek het geflop. Nie waar nie? Die pynlike frustrasie en probleem lê daarin dat jy self soms nie weet watter bestanddele of kombinasies van bestanddele in jou resep nie gewerk het nie. En later stel niemand ook eintlik meer daarin belang nie – want die resultaat bly steeds dieselfde. Jy is steeds alleen, die enkelouer, die geskeide mens, die vrou wie se man haar gelos het ... Jou resep het geflop. Jy is dus ’n flop? Die wonde wat ons in die proses opdoen, is nie slegs wonde nie, want daar is ook ’n boodskap (wat ’n leuen is) aan die wond geheg wat die kern van jou menswees en vroulikheid binnedring. Die skade wat die pyl van verwonding berokken, word vererger deur daardie leuen wat aan die pyl vas is. In my geval het die leuen soos die volgende geklink: Jy is nie goed genoeg nie; daar is fout met jou dat jou man jou kon los; as jy dit of dat anders gedoen het, sou hy vir jou lief gebly het; en dis alles jou eie skuld. Hierdie gedagtes het my baie lank byna sonder ophou geteister. Ek het dit onwetend self verder vererger deur hierdie leuens hardop uit te spreek. Deur my onsekerhede met mense naby aan my te bespreek, het ek hierdie leuens verder versterk. Maar ek verstaan ook hoekom ek nodig gehad het om my onsekerhede met mense te bespreek. Ek wou uit hul monde hoor dat ek eintlik nog oukei is, dat ek aanvaarbaar is. Ek het nódig gehad om dit te weet en dit ook te hoor. Dit het my weer ’n mate van eiewaarde gegee. Die verligting wat ek met vriende en familie
se bevestigings, soos “daar is niks fout met jou nie” ervaar het, was egter van korte duur. Voor ek my kon kry, was ek weer vasgevang in die ou onsekerhede rondom myself, my menswees en my vrouwees. Dan het die spiraal maar weer van voor af begin. Mense se woorde en bemoediging kan ons tot by ’n punt help, maar ons kan slegs blywende genesing by God en die helende krag van sy Woord vind.
“We must not make assumptions about God’s love based on the way people love.” – DR. PAUL MEIER
Om die leuens oor my lewe te breek, was dit nodig dat ek my manier van dink verander – oor myself, maar ook oor wie God is. Ek moes my denke vernuwe. Soos daar in Romeine 12:2 staan: “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.” Al hoe ons dit kan regkry, is om ons denke met sy Woord te vernuwe. Deur die Woord en sy beloftes te bestudeer, daaroor na te dink en dit uit te spreek, hoor ons ore dit en neem ons gees dit in. Gevolglik word ons geloof gebou. Ons lees in Romeine 10:17: “Die geloof volg uit die aanhoor van die boodskap. En die aanhoor van die boodskap volg uit die prediking van die Goeie Nuus wat handel oor Christus” (Nuwe Lewende Vertaling). Om die destruktiewe gedagtepatrone oor myself te stop, was dit vir my nodig om my geloof te bou met Jesus se beloftes oor my identiteit (wie ek is). Ek moes die leuens vervang met die waarheid uit die Woord wat my identiteit in Hom verklaar. Dit was egter vir my nodig om hierdie waarhede hardop uit te spreek. Ek moes die lewe van sy Woord hardop oor myself uitspreek, want soos Spreuke 18:21 sê: “Die tong het mag oor dood en lewe” (Nuwe Lewende Vertaling). Dis ’n geestelike beginsel dat God se Woord wat in ons harte ontvang word, deur ons tong gevorm en dan met ons mond uitgespreek word. Dit het ’n geestelike krag tot gevolg wat ons geloof aktiveer. Ons lippe spreek die waarheid, ons ore hoor dit en ons gees ontvang dit. Sodoende word ons geloof gebou.
Die teenoorgestelde is egter ook waar. As ons die leuens van die vyand voortdurend oor onsself uitspreek, gee ons krag aan die vyand se woorde oor ons lewe en glo ons later hierdie leuens. Dit het die krag om ons te verwoes.
* * *
Die salf van my identiteit in Jesus
Ek het ’n lys gemaak van my identiteit in Jesus Christus en het dit daagliks oor myself uitgespreek. Slegs sy Woord het die krag om die negatiewe beeld van jouself uit te wis sodat jy jouself kan sien soos Hy jou sien. Wees gewaarsku – dis nie ’n vinnige proses nie, maar wel ’n daaglikse bewustelike poging. Soos ons in Filippense 2:13 lees: “... want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.” Die vyand wil hê ons moet die aftog blaas omdat ons nie beter voel nie, maar ons moet uithou en aanhou. God werk stadig, maar deeglik. Hy werk nie van buite af binne toe nie, maar wel van binne af na buite. Dit gebeur dus nie oornag nie. Dit is ’n proses, maar hou moed – die oorwinning is verseker.
DÍT WEET EK NOU UIT SY WOORD: Joh. 1:12; Rom. 8:16 Joh. 15:1, 5 Joh. 15:15 Joh. 15:16 Rom. 5:1 Rom. 6:7 Rom. 6:22
Ek is ’n kind van God. Ek is deel van die ware wynstok, wat ook my bron v Ek is Jesus se vriend. Ek is gekies en aangestel deur Jesus om ’n vrugbare Ek is vrygespreek van my sonde en leef in vrede me My ou self is dood en begrawe. Ek is vry van die ma Ek is voltyds in diens van God.
Rom. 8:1 Rom. 11:16 Rom. 15:7 1 Kor. 2:12 1 Kor. 6:17 1 Kor. 6:19–20 1 Kor. 12:27; Ef. 5:30, 2:19 2 Kor. 5:17 2 Kor. 5:21 Gal. 2:4 Ef. 1:3 Ef. 1:4 Ef. 2:5–6 Ef. 2:18 Kol. 2:10 Kol. 3:12 1 Tess. 5:5 2 Tim. 1:7 Heb. 2:11 Heb. 4:16 1 Pet. 2:5 1 Pet. 2:11 2 Pet. 1:4
Ek is vir altyd vry van God se oordeel. Ek is heilig en aan Hom toegewy. Jesus het my ten volle en met ope arms aanvaar. Jesus het vir my die Heilige Gees gegee wat my in s Ek is een met God deur sy Gees. Ek is teen ’n prys gekoop. Ek is nie my eie baas nie. Ek is deel van die liggaam van Christus. Ek is deel v Ek behoort aan Christus, daarom is ek ’n splinternuw Ek is God se regverdige deur Jesus Christus. Ek is vry van die wet. Ek beskik oor elke geestelike seëning wat daar is. Ek is gekies om Syne te wees nog voordat die wêrel Ek is lewend gemaak deur Jesus en sit nou ook op ’n Ek het direkte toegang tot God deur sy Gees. Ek kom niks kort op enige gebied nie, want Hy sorg God het my gekies, ek is sy spesiale mens en Hy is b Ek is ’n kind van die lig en nie die duisternis nie. Ek beskik nie oor ’n gees van vrees nie, maar wel oo Ek is deur Jesus aanvaarbaar vir God. God is nie ska Ek hoef nie bang vir God te wees nie. Ek is een van God se lewende stene en word ingebo Ek is slegs ’n besoeker aan hierdie wêreld waarin ek Ek kan aanspraak maak op sy beloftes en maak dus
* * *
Satan se strategie ontmasker
Ons is volgens 2 Korintiërs 5:17 ’n “nuwe mens”, volgens 2 Korintiërs 5:21 “vrygespreek”, volgens 1 Korintiërs 3:17 “heilig” en volgens Kolossense 1:22 “onberispelik”. As ons dan wéét wat ons identiteit in Jesus is en dit ook spréék, waarom ervaar ons dan steeds nie die oorwinning in ons dade en gedagtes nie? Ons doen en dink dan steeds dít wat ons nie wíl doen of dink nie. Ek het veral hiermee gesukkel terwyl ek hierdie boek geskryf het. Ek het myself afgevra hoe ek al hierdie waarhede kan skryf terwyl ek dit nie noodwendig elke dag in my eie lewe uitleef nie. Dit beteken mos ek het dit nog nie my eie gemaak of dit self bemeester nie. Vandag kan ek vir jou sê dat dit steeds daagliks vir my ’n uitdaging is. Nee, ek kry dit ook nie elke dag reg nie. En ja, ek val ook nog soms vir die vyand se leuens. Maar ek prys die Here dat ek al meer insig ontwikkel het om sy leuens te kan identifiseer en dan bewustelik ’n poging kan aanwend om dit te verwerp. En dankie tog dat God se genade vir ons genoeg is ... en elke dag nuut is. En dat ons maar môre weer kan probeer. Dis egter belangrik om te verstaan waarom ons so sukkel. Die rede hiervoor is dat ons mislei word. Volgens Openbaring 12:9 is Satan die groot verleier wat God se kinders wil verlei en mislei. Satan se hele strategie is op leuens en onwaarhede gegrond. In Johannes 8:44 word hy ook “die vader van die leuen” genoem. Hy wil ten alle koste verhoed dat ons die waarheid van ons identiteit in Christus moet uitleef, want hy weet dit sal vrede, vreugde en oorwinning in ons lewe bewerkstellig.
Satan se plan is eerder om oor ons gedagtewêreld te voer. Daarom bombardeer hy ons met gedagtes wat perfek met ons “ou” vleeslike lewe korreleer, sodat ons kan glo dat ons hierdie gedagtes self uitgedink het. Sy sukses lê daarin dat ons hierdie gedagtes as ons eie aanvaar, juis omdat dit vir ons so bekend is. As ’n mens nie bewus is van Satan se strategie nie, kan hy jou maklik van enigiets oortuig ... selfs van selfmoord! Maar wanneer is ons dan self verantwoordelik vir ons gedagtes? Soos daar in Romeine 6:12 staan: “Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer nie ... ” Die antwoord lê in die woord “toelaat”. Wanneer ons uit ons eie vrye wil kiés om hierdie destruktiewe gedagtes van Satan te aanvaar, dan en slegs dan word dit ons eie sondige gedagtes. As ons hierdie sondige gedagtes lank genoeg koester, sal dit later ook ons wil of vryheid van keuse beïnvloed. En dan doen ons uiteindelik die ding wat ons nie wil doen nie. Sonde. Die aanvanklike keuse is dus ons s’n, maar wat moet volg, is ook ’n ferm geloof en vaste vertroue dat Jesus bínne jou hierdie oorlog namens jou sal veg en oorwin. Jesus wag vir ons om hierdie besluit te neem – Hy sal dit nooit namens ons neem nie. En dit moet ’n wilsbesluit wees, nie ’n emosionele keuse nie. Dit was vir my ’n geweldige deurbraak op my pad na genesing toe ek besef dat ek nie een oomblik langer die destruktiewe gedagtes van die vyand hóéf te aanvaar nie. Ons is pragtige, nuwe skepsels in Jesus. Hy smag daarna dat ons Hom moet toelaat om ons lief te hê en Hy wil ons help om die pynlike verlede te oorwin.
“Every spiritual battle is won or lost at the threshold of the mind.” – LARRY CHRISTENSON
* * *
Die salf van lof en aanbidding
Nog ’n geestelike beginsel en metode wat in hierdie tyd vir my oopgebreek is om pyn te oorwin, was die krag en heling wat lof en aanbidding bied. Ons lees in Psalm 22:3 (The Amplified Bible): “But You are holy, O You Who dwell in [the holy place where] the praises of Israel [are offered].” God vertoef en openbaar Homself dáár waar geloof en geprys word. Hy belowe dat Hy dan juis dáár teenwoordig is. En waar God teenwoordig is, is daar ook ’n afwesigheid van vrees, bekommernis, hartseer en frustrasie. Dawid se lewe is ’n sprekende voorbeeld van lof en aanbidding. In die vorige hoofstuk het ons gelees van Dawid en sy manne wat by Siklag aangekom en uitgevind het dat die Amalekiete hul vroue, kinders en kosbaarste besittings weggevoer het. Ons lees in 1 Samuel 30:6: “Dawid was lelik in die nood: die manne was so verbitter oor hulle kinders dat hulle gedreig het om hom met klippe dood te gooi. Maar hy het krag gekry by die Here sy God” (Die Boodskap). Die Amplified Bible sê: “But David encouraged and strenghtened himself in the Lord his God.” Daar was niks van Dawid se omstandighede wat bemoedigend was nie, dus kon hy maklik in ’n depressie verval het. Nie net was hy beroof van sy vrou, kinders en kosbaarhede nie, maar sy manskappe het ook teen hom gedraai. Tog het Dawid gekies om hom deur die Here te laat bemoedig en versterk. Dawid het geweet dat God sy konstante is, want God verander nooit nie. Ongeag die omstandighede, is die soewereine Heerser van die heelal bo enige aardse omstandighede verhewe. Dawid het deur lof en aanbidding sy fokus vanaf sy eie omstandighede na God verskuif. Die sleutel om jou trane na triomf te verander, lê onder meer ook in lof en aanbidding. Weier om die duiwel deur jou probleme krag te gee. En hou op om jou probleme onder ’n vergrootglas te analiseer en uit alle hoeke te bekyk. Dit was maande lank my hooftydverdryf, maar dit lei net tot verdere ontmoediging. Fokus eerder op God se grootheid, sy Almag en sy krag. Praat oor en getuig van wat Hy in jou lewe doen en nog gáán doen. Sing vir Hom, dans met Hom, wees bly voor Hom! Vreugde in die Here ontsluit groot krag op geestelike gebied. “Do not sorrow, for the joy of the Lord is your strength” (Nehemiah 8:10, New King James Version).
Omdat die vyand verstaan dat daar soveel krag in vreugde lê, probeer hy voortdurend ons vreugde steel deur ons op ons omstandighede te laat fokus. Vreugde is dus nie bloot ’n positiewe, emosionele staat nie, maar is noodsaaklik vir volkome heling en herstel. Job se vriend Elihu het ook iets hiervan verstaan. In Job 35:10 herinner hy hom daaraan dat God ons selfs in die nag ’n lied laat sing. Dié woorde was vir Job ’n bemoediging, en is ook vir ons. Selfs in jou koudste en donkerste wintertyd kan God deur ’n lied vir jou hoop vir jou omstandighede gee. As jy daaraan vashou, laat dit uiteindelik die son en die somer in jou lewe deurbreek. Dit het met my gebeur. Die Here het vir my verskeie liedjies in my wintertyd gegee. Hy praat dikwels met my deur musiek. Ek onthou een spesifieke geval baie goed. Dit was op 1 September ... Lentedag. Die lang, koue wintermaande was verby en jy kon reeds nuwe blaartjies aan bome opmerk. My eksman en sy nuwe vrou is ’n paar dae tevore in die huwelik bevestig. Die oploop na hierdie gebeurtenis was vir my baie lank en swaar. Ek het vir so lank daarteen gebid en gevas en wou nooit glo dat dit uiteindelik sou gebeur nie. Daardie oggend wou ek net alleen wees en het ’n ent gaan draf. Terwyl ek hardloop en na die nuwe seisoen en nuwe lewe kyk wat besig was om rondom my te ontvou, begin Johan Vercueil se liedjie, Mooi soos blomme, oor my iPod speel:
Mooi soos blomme Want jy’s mooi soos blomme, in elke helder kleur. Die reuk van jou aroma, in elke blommegeur. En die duiwe in jou oë, wat speel, speel in die wind. Soos vir Salamo is jy vir my, my mooiste meisiekind. Kom wees veilig in my arms. Ek sal jou styf vashou.
Oor duisend male oor en oor, Ek is lief vir jou.
(SOENE VAN U MOND – BRETTIAN PRODUCTIONS)
Toe die woorde in my gees insink, het ek net geweet dat Jesus hierdie spesifieke liedjie juis daardie dag oor my kom sing het. Met ’n liedjie in die oortreffende trap – soos my en my kinders se slaaptydspeletjie – het Hy vir my kom wys hoe lief Hy my het ... duisend male oor en oor. Hy het geweet hoe nodig dit vir my was om dit te hoor. Dit was soos ’n ontploffing in my gees: ek is Jesus se beminde! Maar bowenal het Hy deur hierdie lied vir my kom sê dat dit nie net lente rondom my in die natuur is nie, maar dat ek ook nou in ’n nuwe seisoen is; dat my wintertyd en routyd iets van die verlede was en dat my eie lente ook aangebreek het.
“Here, U is my God. Ek wil U met alles in my prys. U naam wil ek altyd grootmaak. Ja, U het my baie lief. U het my uit my grootste krisis gered.” – PSALM 86:12–13 (DIE BOODSKAP)
NOTA AAN MYSELF: • Ek gáán dit maak! • Ek gáán dit maak! • Ek gáán dit maak! • Ek gáán dit maak! • Ek gáán dit maak!
WAARHEID 4
Wéét wat is die waarheid
Die salf van sy Woord
* * *
“As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.” – JOHANNES 8:31–32
“Leer my u weë, Here, sodat ek in u waarheid kan wandel.” – PSALM 86:11 (NUWE LEWENDE VERTALING)
Omdat dit vir my so ’n geweldige belangrike sleutel van oorwinning in my situasie was en steeds is, wil ek in hierdie hoofstuk verder uitbrei oor die krag en genesing wat daar in God se Woord is.
* * *
Die krag en genesing in God se Woord
Ek het vir baie lank in my lewe die Bybel net gelees omdat ek gevoel het ek moes. Dit was hoe ek grootgeword het. Ek dink ek het dit moontlik uit plig, uit skuld en uit gewoonte gelees. Maar as ek eerlik moet wees, het dit in werklikheid ’n minimale uitwerking op my gehad. Ek het geen benul gehad wat ’n Rhema-woord van God was nie. Ek het nie die beloftes van God geken nie. Ek kon dit nie in my lewe toepas nie. Ek was soos ’n bootjie wat ankerloos op ’n massiewe oseaan gedobber het. Die ergste daarvan was dat ek dit nie eens besef het nie. Ek prys die Here dat Hy my in sy groot genade nader aan Hom getrek en vir my rustig kom leer en toerus het. Hy het stelselmatig vir my ’n honger na sy Woord kom gee sodat sy Woord uiteindelik vir my “soeter as heuning” geword het (Psalm 119:103). Met sy Woord en sy beloftes het ek my gees begin volmaak. Maar ek het eers werklik tydens my egskeiding die krag en genesing wat daar in God se Woord is, begin verstaan. God is so getrou dat Hy in my swaarste van swaar tye daagliks vir my manna uit sy Woord gegee het. Dit het my die krag gegee om deur die weke en maande te kom, want ek het begin besef dat God, ten spyte van my omstandighede en daaglikse stryd, steeds in beheer was, want dit is wat sy Woord sê. Sy woorde het vir my die gesproke woord geraak – lewendig en spesifiek vir my situasie. Dit het my Gees gevoed en was soos salf vir my stukkende hart. Soos daar in Matteus 4:4 staan: “Maar Hy antwoord: ‘Daar staan geskrywe: ’n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom.’” In Lukas 7 lees ons die verhaal van die Romeinse offisier wat na Jesus toe gegaan het toe sy slaaf baie siek was. In vers 7 vra hy vir Jesus: “Sê maar net ’n woord, en my slaaf is gesond.” En in Markus 7 vanaf vers 25 lees ons van die vrou wat by Jesus gepleit het om haar dogtertjie van demone te verlos. Net soos
die Romeinse offisier, was sy ook nie ’n Jood nie, maar sy het ook geglo dat Jesus net ’n woord moes spreek en haar dogtertjie sou gesond word. In albei gevalle het genesing onmiddellik plaasgevind bloot deur ’n woord wat Jesus gespreek het. Ook omdat hulle al twee geglo het en oortuig was van die helende krag van Jesus se woorde. Hierdie selfde helende krag is vandag ook vir jou spesifieke situasie beskikbaar. God se Woord is steeds net so kragtig en outentiek soos 2 000 jaar gelede. Sy Woord en beloftes is waar en Hy wil hê dat ons Hom op sy Woord moet vat. In Jesaja 55:11 staan: “So shall My word be that goes forth out of My mouth: it shall not return to Me void [without producing any effect, useless], but it shall accomplish that which I please and purpose, and it shall prosper in the thing for which I sent it” (The Amplified Bible). Selfs net één Rhema-woord van God het die vermoë om jou hele situasie te verander. Ek kan uit dure ondervinding getuig dat terwyl ons gefokus bly op die feite van ons situasies, ons dit eenvoudig nie gaan maak nie. Dit is nodig om die wáárheid van jou situasie te weet (wat God se Woord oor die situasie sê) en dit dan daagliks te spreek, te glo en te leef. Ek moes leer dat om ’n lewe van oorwinning te leef nie noodwendig eers vir eendag bedoel is wanneer my omstandighede anders is nie, maar dat dit nóú reeds vir my beskore is – te midde van die swaar en pyn. Ons oorwinning lê in Jesus en nie in ons veranderde omstandighede nie. Spreek die oorwinning oor jou situasie uit. Soos daar in 1 Johannes 4:4 staan: “... Hy wat in julle is, is groter as die duiwel, wat in die wêreld is”. En: “Met u hulp loop ek ’n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie” (Psalm 18:30). God se Woord oor my omstandighede is die finale gesag. Kies om dit te glo. God sê self sy Woord is die wáárheid ... en die waarheid maak ons vrý. Vir my het dit beteken dat ek vry van hartseer, pyn, onsekerhede, vrese en depressie binne my situasie kan leef. En dat Hy besig was om my oorwinning te bewerkstellig. Dit is ’n gegewe, omdat sy Woord so sê.
* * *
Leer onderskei tussen die feite en die waarheid Die feite van my situasie My aardse man wil my nie meer hê nie.
My gesin is uitmekaar geskeur. My kinders word groot met die afwesigheid van ’n pa wat daa
Ek is verneder en seergemaak deur die persoon wat die naaste aan my was. Hoe kyk ek weer d
Die pyn is so groot. Dit is soms vir my te veel. Dit voel asof die omstandighede my wil versw
My menswees en hart is geskend. Dit is alles so stukkend, Here. Hoe gaan dit weer gesond wo God het nie ingegryp of my situasie verander en verhoed dat ons skei nie.
My lewe sal nooit weer dieselfde wees nie. Daar is soveel by my en my gesin gesteel. Hoe ga Ek dra nou die etiket van ’n geskeide vrou. Hoe gaan ek finansieel alleen die mas opkom?
* * *
Oorwin jou gedagtes met die waarheid
In Hoofstuk 5 het ek genoem dat ons “nuwe skepsels” is, maar ons kan steeds sondige gedagtes uit vrye keuse van Satan ontvang. Omdat ons die vermoë het om elke sondige gedagte te onderskep voordat dit ons gedagtewêreld binnedring, is dit nodig dat ons fyn moet kan onderskei of ’n gedagte wel van die vyand af kom. Ons wil inderdaad graag, soos daar in die 1953-vertaling in 2 Korintiërs 10:5 staan “elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus”, maar slaag nie altyd daarin nie. Baie van die gedagtes wat ons ontvang, is openlik van die vyand afkomstig. Ander is weer so subtiel dat dit moeilik is om te onderskei. Een van die doeltreffendste maniere om te onderskei is om die wáárheid te ken. Wanneer daar by ons ’n gedagte opkom wat die teenoorgestelde van die waarheid is, kan ons dit maklik identifiseer as ’n leuen van Satan, “die vader van die leuen”, soos dit in Johannes 8:44 beskryf word. Nog ’n metode van onderskeiding is om te besef dat jou gedagtes jou veroordeel. Romeine 8:1 sê duidelik: “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie”. Die gedagtes wat my vir so lank geteister het, was hoofsaaklik gedagtes van veroordeling, soos: ek was nie ’n goeie vrou nie ... ek moes meer van dit of minder van dat gedoen het, dan sou hy nie op ons uitgeloop het nie ... daar moet fout wees met my dat my man my los ...” Gééneen van hierdie gedagtes kom van Jesus af nie. Jesus oordeel wel ons sondes, maar sal óns nooit veroordeel nie. Ander gedagtes wat by my opgekom het, wou my woede en aggressie verskoon
of regverdig, byvoorbeeld: jy het die volste reg om kwaad te wees en woedend op te tree, want kyk net wat het hy aan jou gedoen. Hier moes ek Jakobus 1:19 onthou: “Elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie”. Sekere van my gedagtes wou my aanmoedig om die situasie op my eie, onafhanklike manier sonder die krag, hulp en insig van Jesus te hanteer. Daar was gedagtes soos: Dit help nie om te bid of te vertrou nie, want net die teenoorgestelde van dít waarvoor ek bid, gebeur dan. Hier was dit vir my nodig om die waarheid van Johannes 15:5 te onthou: “... want sonder My kan julle niks doen nie” (Nuwe Lewende Vertaling). Daar was ook baie gedagtes van hopeloosheid. Ek het soms soos ’n gevangene in my eie lewe gevoel. Ek het geworstel met gedagtes soos: ek is nêrens heen op pad nie ... die lewe gaan een lang pyniging wees ... my beste jare is verby ... Die waarheid staan egter in Jeremia 29:11 “Ek weet wat Ek vir jou beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting!”
* * *
Dawid kry ’n woord van God
Ons kan so baie van Dawid se lewe leer. Dawid kon ook nie sonder ’n woord van God voluit lewe nie. Brian Zahnd skryf verder in sy boek, What to Do on the Worst Day of Your Life, hoe Dawid besig was om te herstel van die skok en vernedering van die Slag van Siklag. In Hoofstuk 5 het ons gelees dat nadat Dawid en sy manne agtergekom het dat die Amalekiete hul vroue en kosbaarhede weggevoer het, Dawid ondanks sy omstandighede homself eerstens versterk het deur die harp te speel en God te
loof en te prys. Maar hy het verdere instruksies van God af nodig gehad. Hy het ’n woord van God nodig gehad wat vir hom die pad vorentoe sou aandui. Soos daar in 1 Samuel 30:7 staan: “Dawid het vir die priester Abjatar seun van Agimelek gesê: ‘Bring tog vir my die skouerkleed nader.’ Abjatar het die skouerkleed vir Dawid nader gebring.” In daardie tyd was die priesters die draers van die skouer-kleed. Wanneer Dawid die Here opgesoek het, het hy altyd die linneskouerkleed gedra. Hy het sy wapens en wapenrusting eenkant gesit en met nederigheid en erns God se teenwoordigheid binnegegaan. ’n Ander voorbeeld was toe Dawid die verbondsark in Jerusalem ingebring en sy koninklike klere vir ’n eenvoudige linneskouerkleed verruil het – ’n gebaar wat sy vrou, Michal, met verontwaardiging gevul het. Dawid het deur die nag gebid en gewag en geluister. En toe kom dit! Die woord van God waarop Hy gewag het. Daar staan in 1 Samuel 30:8: “Dawid het die Here geraadpleeg: ‘Moet ek hierdie bende agtervolg? Sal ek hulle inhaal?’ Die Here het hom geantwoord: ‘Ja, want jy sál hulle inhaal en jou mense red.’” God praat nie nét met ons intellek nie, maar wel ook met ons gees, want Hy is Gees, soos daar in Johannes 4:24 staan: “God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid.” God het in daardie oomblik ’n paar woorde tot Dawid se gees gespreek. Moontlik was dit net vir ’n paar sekondes, tog het Dawid voor dit God ure lank opgesoek. Dawid was gehoorsaam deur op God se raad te wag, want hy het verstaan dat hy nie sonder God se duidelike instruksies in sy pogings sou slaag nie. Hoe dikwels doen ons nie die teenoorgestelde nie? In die oomblik is dit net te moeilik, te ongemaklik of te veel moeite om vir instruksies van God af te wag. Ons volg ons eie kop en maak ons eie planne. As ons wel tyd maak om stil te word by God, hardloop ons gedagtes wye draaie met ons. Dis ook een van die vyand se taktieke om seker te maak dat ons op alles behalwe God en sy Woord fokus. En tog is dit wat God van ons verwag: dat ons Hom in nederigheid en erns sal opsoek, stil sal raak en op Hom sal wag vir sy Woord oor ons omstandighede.
God het ’n plan met jou en het ’n woord spesifiek vir jou omstandighede. Wanneer jy ontmoedig is en gereed voel om tou op te gooi, het God ’n woord vir jou. Wanneer jy bang is en paniekerig wil raak, het God ’n woord vir jou. Wanneer jou wêreld soos ’n kaartehuis inmekaar tuimel, het God ’n woord vir jou. En ook wanneer jy die moeilikste en swaarste tyd van jou lewe deurgaan en nie weet waarheen om te draai nie, het God ’n woord vir jou. Raak stil by God. Wag op Hom. En luister vir sy stil, sagte stem. God sál vir jou ’n Rhema-woord vir jou situasie gee.
“Behold, I will make my words fire in your mouth ...” – JEREMIAH 5:14 (THE AMPLIFIED BIBLE)
NOTA AAN MYSELF: • Maak ’n lys van al God se beloftes van heling uit sy Woord. Spreek dit uit en dink daaroor. • Sonder jou af met jou iPod op jou ore, maak jou oë toe en luister na musiek wat jou opbou, soos Casting Crowns se liedjie, The Voice of Truth.
The Voice of Truth But the voice of truth tells me a different story And the voice of truth says “Do not be afraid!” And the voice of truth says “This is for My glory” Out of all the voices calling out to me I will choose to listen and believe the voice of truth
(CASTING CROWNS, GIFT EDITION – SONY BMG)
WAARHEID 5
Om te vergewe maak jou vry
Die salf van vergifnis
* * *
“God’s forgiveness towards us should be our motivation to forgive.” – FLOYD MCCLUNG
In my kop het ek geweet ek moes vergewe, vryspreek, agterlaat en laat gaan. Ek het net nie geweet hóé om dit te doen nie. Hoe kom jy by daardie plek waar jy weet dat jy waarlik vergewe het? Dat die onreg nie meer saak maak of ’n uitwerking op jou het nie? Hoe gaan jy aan as die stof van jou omstandighede sy lê neem en die lewe weer sy loop neem? Mense en dinge rondom jou is nog soos dit was, maar jy – binne daardie selfde omgewing – is vir altyd anders. Nie omdat jy noodwendig anders wou wees nie. Jy probeer kop optel, ’n dapper gesig opsit en gee vir jouself futpraatjies (pep talks), maar die gat in jou hart is steeds daar. ’n Groot, gapende gat wat daar gelaat is deur iets amper soos die lewendige amputasie van ’n ledemaat. Net toe ek begin dink het ek is oor die ergste, is ek van voor af met die seer
gekonfronteer, maar nou net in nuwe permutasies: by familiebyeenkomste, vriende se kuiers, kinders se verjaardae wat kom en gaan en skolesportbyeenkomste. Die vreemdheid om nou alleen by al die geleenthede te wees ... of nóg vreemder, om hom saam met iemand anders daar te sien. Die vars rofie wat genadiglik al rondom my hart kom vorm het, is keer op keer oopgekrap. Aanvanklik het dit net begin as irritasies en verskille oor klein goedjies, soos wat ’n mens maar soms met jou kinders, vriende en familie het, maar later was daar sommer harde woorde, totdat dit binne my oorgekook het in ’n woede wat ek self nie kon begryp nie. Die kleinste voorval kon my laat uitbars. Terwyl ek my frustrasies op ander uitgehaal het (gewoonlik op diegene wat die naaste aan my was), het ek na myself geluister ... en gesidder. Ek het met soveel emosies binne myself geworstel. Van selfbejammering tot intense eensaamheid tot rebellie. Ek was kwaad ... nee, ek was woedend vir die onregverdigheid van die situasie. En ja, ek wás bitter. Ek is so dankbaar vir ’n dierbare vriendin wat eendag hard met my gepraat het. Sy het vir my uitgewys dat ek weens my eie onvergewensgesindheid en bitterheid teenoor my eksman die vyand wettige toegang tot my lewe gee om nog meer by my te kom steel – dié keer my vrede, vreugde en ook my kosbare verhouding met my naastes én met God.
* * *
Wil jy gesond word?
Kort hierna lees ek een aand in John 5:5–6 (The Amplified Bible): “There was a certain man there who had suffered with a deep-seated and lingering disorder for thirty-eight years. When Jesus noticed him lying there [helpless], knowing that he had already been a long time in that condition, He said to him, Do you want
to get well? [Are you really earnest about getting well?]” Die Here se vraag aan my was: Wou ek werklik beter word? Wou ek voortgaan om myself jammer te kry, oor die onreg van die situasie te praat en toe te laat dat hierdie terugslag nou my identiteit vorm? Wou ek voortgaan om simpatie by mense te soek en dit die sentrale punt van my bestaan en gesprekke maak? Hierop was my antwoord ’n baie besliste néé! Ek was so moeg vir dieselfde ou negatiewe gesprekke. Dit het later vir my gevoel dat my egskeiding ál was waaroor mense met my kon praat. En ek het dit toegelaat. Dit was soos ’n modderagtige slikpoel waarin ek dieper en dieper weggesak het en waaruit ek nie kon ontsnap nie. Voor ek my kon kry, was ek al weer op dieselfde ou negatiewe en destruktiewe onderwerp van “die egskeiding”. Ek het geweet dat ek gesond wou word. Ek wou nie langer toelaat dat die vyand verder van my lewensvreugde en my lewensgehalte kom steel nie. Genoeg was genoeg. Die waarheid is dat voordat ons werklik volkome gesond kán word, moet ons gesond wíl word – in liggaam, siel en gees. Ons moet so graag gesond wil word dat ons bereid is om die waarheid te hoor, te aanvaar en deel te maak van ons lewens deur dit dan ook te dóén. Die feit was dat ek my emosies en optrede van woede en onvergewensgesindheid kon regverdig totdat ek blou in die gesig was, maar dan sou ek nooit werklik vry raak en wees nie. Die vraag “hoe vergewe ek hulle, Here?” waarmee ek gesukkel het, was dus eintlik baie eenvoudig en nie noodwendig ’n super-geestelike ervaring of aangeleentheid nie. Ek moes doodeenvoudig kiés om hulle te vergewe. Ek het besef dat ek uit my eie moontlik nooit by ’n punt sou kom waar ek reg gevoel het om te vergewe nie. Vergifnis is ’n keuse, nie ’n emosie nie. Verder het ek besef dat my keuse om te vergewe dan ook die geheel sou moes aanspreek – dit wat gebeur het, maar ook vergifnis vir die nagevolge van die situasie wat nog in die toekoms voorlê. Bo en behalwe dat ek die keuse moes uitoefen om te vergewe, moes ek dit dan ook fisiek gaan leef ... elke dag. Dit was dus nie meer net genoeg om te spreek en te bid dat ek hulle vergewe nie. My woorde moes oorgaan tot aksie.
Die Here het dit toe al vir ’n geruime tyd op my hart gedruk dat ek my eksman se nuwe vrou moes nooi vir koffie en haar moes vryspreek. Ek het natuurlik gedink ek het nie die Here heeltemal reg gehoor nie. Ek? Háár vryspreek? Here, U is seker nie ernstig nie! Kort hierna was ek een oggend by een van my dogter se skoleatletiekbyeenkomste. My eksman en sy vrou was ook die oggend daar. Tot op daardie tydstip kon ek haar nog nie eens in die gesig kyk of haar teenwoordigheid in ’n geselskap erken nie. Dit was vir my makliker om haar bloot te ignoreer. Ek kon nie van hulle in die meervoud praat nie. Ek kon net nie die “hulle” of “julle” oor my lippe kry nie. In my kop het dit van hulle ’n eenheid gemaak wat teen alles binne my ingedruis het. Daardie spesifieke dag sit ek (toevallig?) langs ’n vriendin wat my opgewonde vertel hoe die Here haar kom vrymaak het van jare lange worstelinge met haar ouers, en dit bloot deur haar eenvoudige keuse om hulle te vergewe. Ek het onmiddellik geweet die Here praat met my. Net daar, voor my moed my kon begewe of my wil aan ’n verskoning kon dink, het ek opgestaan, na haar toe gestap en haar vir koffie genooi. Ek prys die Here dat Hy dit so bewerkstellig het dat ek twee dae later oorkant haar kon sit en uit my hart vir haar kon sê dat ek haar vryspreek en haar vergewe. Verder kon ek in alle eerlikheid vir haar sê dat ek hul huwelik seën. Vir hierdie gesprek het die Here my bonatuurlik kom toerus met sy vrede en ook die woorde in my mond kom lê. Die doel van die gesprek was nie om te oordeel nie, maar wel om sy vergifnis, sy lig en sy liefde oor te dra. My gebed was dat sy iets van Jesus deur ons gesprek moes ervaar. ’n Paar maande later kon ek ’n soortgelyke gesprek met my eksman hê. En weer eens het die Here deur sy genade my kom toerus met sy vrede en kalmte, asook die regte woorde. Ek is so dankbaar vir goeie vriende wat my in hierdie tyd sonder ophou met hul gebede gedra het. Hieruit het ek net weer eens geleer dat die Here ons gehoorsaamheid seën. Ons moet net in gehoorsaamheid die eerste stap neem en dit doen wat Hy op ons harte druk. Dan kom Hy met sy volmaakte volheid en doen die res. Dis moeilik om die gevoel wat ek ná hierdie gesprekke ervaar het, in woorde te omskryf. Ek het net geweet dat deur hierdie aksie iets in die geestelike dimensie
omtrent my situasie verander het. Ek was ligter, want ek was vry. Heelwat later het ek ook die veelvuldige saad geoes wat deur hierdie gesprekke gesaai is.
* * *
Bitterheid is destruktief
In Efesiërs 4:30–31 (Die Boodskap) word bitterheid heel bo-aan die lys van dinge genoem wat die Heilige Gees bedroef. Bitterheid het die potensiaal om jou van die genade van God te verwyder. Soos daar in Hebreërs 12:15 staan: “Sorg dat niemand van die genade van God afvallig word nie. Sorg dat daar nie verbittering soos ’n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie.” Bitterheid manifesteer op verskeie maniere, onder meer as woede en ’n kort humeur, hoë bloeddruk, geïrriteerdheid, slapeloosheid, ’n obsessie om die telling gelyk te maak, isolasie van ander, ’n gedurige negatiewe uitkyk op die lewe en ’n algemene gevoel van onvrede. In die Ou Testament word bitterheid met die wilde als (wormwood) vergelyk. Soos daar in Deuteronomium 29:18 staan: “ ... lest there should be among you a (poisonous) root that bears gall and wormwood ...” (The Amplified Bible). Die wortel van bitterheid lê daarin om aanstoot te neem. Wanneer jy aanstoot neem, word ’n negatiewe saad in jou hart gesaai. Wanneer jy egter vergifnis kies, bly jy in die vloei van God se genade en kan hierdie negatiewe saad volkome deur God se genade uitgewis word. Om bitterheid neer te lê is ’n uitnodiging aan die Heilige Gees om jou sy vrede, sy vreugde en sy kennis van sy wil te gee. Hoe weet ons dan dat daar geen bitterheid meer in ons hart skuil nie? Dit gebeur wanneer die begeerte by jou verdwyn om die telling gelyk te maak of om die persoon te straf. Ook wanneer jy niks meer in die hede of die toekoms wil sê of
doen om daardie persoon se reputasie te skend of negatief te beïnvloed nie. En wanneer jy vir daardie persoon se toekoms kan bid en hom of haar kan seën. Dit was werklik ook so met my. Die woede en onvrede wat ek rondom my omstandighede gehad het, het ná my gesprekke met hulle al twee eenvoudig verdwyn. Ek glo dit was omdat ek die keuse uitgeoefen het om te vergewe. My omstandighede was steeds presies dieselfde, maar die Here het my emosies op ’n bonatuurlike manier in lyn gebring met sy Gees binne my. Hierna kon ek haar groet en selfs grappies met hulle maak. Ek kon hulle ook vir my seuntjie se verjaardagpartyjie na my huis toe nooi. Ek is so dankbaar dat die Here dit in my lewe bewerkstellig het, want ek weet dat ek dit nie in my het om deur my eie pogings ooit op daardie plek te kon kom nie. Bitterheid hoort nie op die pad na herstel nie. As jy toelaat dat omstandighede jou bitter maak, veroorsaak jy vir jouself en vir die mense rondom jou net groter probleme. Neem ’n besluit en weier om wrokke te koester. Kyk vorentoe, nie agtertoe nie. God wil hê dat ons moet aangaan met ons lewe en by die vervulling van sy beloftes vir ons lewe uitkom. Die hoofrede waarom die Israeliete 40 jaar lank in die woestyn geswerf en uiteindelik daar gesterf het, was hul rebellie en bitterheid teenoor God. Ook omdat hulle afgode gedien het. Rebellie en bitterheid is twee dinge wat ons geestelike dood kan veroorsaak. Mara was die eerste plek waarheen die Here die Israeliete in die woestyn gelei het. Interessant genoeg beteken “mara” ook rebellie. Mara was drie dae se trek die woestyn in. Die Israeliete het drie dae lank niks gehad om te drink nie, en toe hulle by Mara kom, was die water bitter. Ons lees in Eksodus 15:23–24: “En hulle het in Mara gekom, maar kon die water van Mara nie drink nie, want dit was bitter. Toe murmureer die volk teen Moses en sê: Wat moet ons drink?” (1953-vertaling). Drie dae vantevore het die Israeliete nog die Here geloof en geprys vir dit wat Hy by die Rooisee vir hulle gedoen het. Binne drie dae het hul gesindheid egter verander, hul lofprysing opgedroog en het hulle begin murmureer. Dit is juis tydens die moeilike tye in ons lewe dat die Here vir ons wys wat in ons harte aangaan. Wanneer ons onder druk is, kom ons ware gesindheid na vore.
Dit was makliker vir God om die Israeliete uit Egipte te lei as wat dit was om Egipte (hul ou natuur) uit die Israeliete te kry. Die omstandighede waaraan hulle in Egipte blootgestel was, het hierdie ongerymdhede in die Israeliete se harte laat inkruip. Hulle moes eers emosies soos mismoedigheid, neerslagtigheid, hopeloosheid, wrokke, depressie en rebellie te bowe kom voordat hulle die land Kanaän kon binnegaan. Net so het ek geweet dat God besig was om aan my eie bitterheid en onvergewensgesindheid te werk. Ek moes dit eers verwerk en te bowe kom voordat ek uit die woestyn kon beweeg en my beloofde land kon binnegaan. Daardie land wat ek wéét Hy vir my (en ook vir jou) bestem en belowe het.
“Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.” – MATTEUS 6:15
* * *
Wat vergifnis nié is nie
Vergifnis is nie om te vergeet nie Om te vergewe beteken nie jy moet voorgee iemand se optrede teenoor jou het nooit plaasgevind nie. Dit beteken ook nie dat daar van jou verwag word om geheueverlies te ontwikkel en te dink dat dít wat gebeur het, moontlik nie so erg was nie. Want dit is rasionalisering of ontkenning. Vergifnis beteken om in die volle lig van die waarheid ’n besluit te neem. Jy onthou die besering, maar reageer nie meer op die pyn nie.
“Actually, forgiveness is a decision one makes because one re.” – DR. JOHN SPLINTER
Vergifnis is nie ’n gevoel nie As ek moes wag totdat ek gevoel het ek is gereed om saam met hulle te gaan koffie drink, het ek seker nou nog gewag. Om te vergewe was ’n besluit wat ek moes maak ... en daagliks moes maak.
Vergifnis is nie goedkeuring vir die optrede nie God haat sonde en keur dit nie goed nie. Net soos God ons vergewe sonder om ons sondes goed te keur, moet ons leer dat om te vergewe nie beteken ons onderskryf of keur die verkeerde dade goed nie.
Vergifnis is nie regverdiging nie Sonde kan nie regverdig word nie. God sal nooit iets wat sondig is, regverdig nie en verwag dit ook nie van ons nie.
Vergifnis is nie versoening nie Versoening vereis deelname van twee partye. Die persoon wat jy vergewe, mag moontlik kies om jou nooit weer te sien of met jou te praat nie. Of moontlik het daardie persoon wat jy vergewe, reeds gesterf. Die bitterheid en begeerte om terug seer te maak mag weg wees, maar die wens om dinge weer te herstel soos wat dit voorheen was, is moontlik nie meer so sterk nie.
Vergifnis is nie ’n abdikering van geregtigheid nie
Deur vergifnis verwys jy eintlik die geregtigheid na God toe. Ons moet besluit om die persoon te vergewe. Hoe God besluit om verder met daardie mens te werk gaan ons nie aan nie. Om geregtigheid in die hande van God te laat, maak ons vry om ons besig te hou met dít wat ons verantwoordelikheid is ... vergifnis!
“Beloved, never avenge yourselves, but leave the way open for [God’s] wrath; for it is written, Vengeance is Mine. I will repay [requite] says the Lord.” – ROMANS 12:19 (THE AMPLIFIED BIBLE)
* * *
Wat vergifnis wél is
Vergifnis is ’n versoening met jou verlede Ek het geweet daar was soveel dinge wat met die verbrokkeling van my huwelik steeds vir my onverklaarbaar was of nie sin gemaak het nie, maar deur vergifnis kon ek vrede maak met die verlede en was dit agter die rug ... waar dit hoort. Met onbeantwoorde vrae en al. Vergifnis het my losgemaak daarvan om antwoorde te probeer soek.
Vergifnis is ’n positiewe reaksie op iemand anders se probleem Om te vergewe het jy nie die persoon wat jy vergewe se samewerking nodig nie. Wat jy in werklikheid deur jou vergifnis vir daardie persoon sê, is: “Ek gaan nie eienaarskap van jou probleem neem nie.”
Deur vergifnis kon ek empatie vir my eksman se keuses hê, want ek het toe verstaan dat sy keuses uit ’n vorige seer in sy lewe kon gespruit het. Ek het egter ook besef dat ek nie meer verantwoordelik was vir sy heelwordproses of die oplos van die strydvrae in sy lewe nie.
Vergifnis is die viering van ’n nuwe lewe en toekoms Vergifnis het my woedende en selfbejammerende emosies geneutraliseer. Bitterheid kon nie langer daarin slaag om my gees te verhard of om ’n kors rondom my persoonlikheid te vorm nie. ’n Wilsbesluit, tesame met meer geestelike insig, het meegebring dat ek myself nie langer in gesprekke laat uitlok en vinnig (gewoonlik verkeerd) reageer het nie. Ek kon nou my reaksie versigtig kies. En ek was verbaas dat ek soms selfs humor in my reaksie kon inwerk. Die angel was dan ook onmiddellik uit die gesprek. Ek was vry van die bagasie van my verlede en kon met hoop en verwagting uitsien na dít wat God vir my toekoms beplan het.
Vergifnis is ’n daaglikse keuse Om te vergewe is ’n proses, nie ’n enkele gebeurtenis nie. Soos die tyd aangestap het, het die lae onvergewensgesindheid gereeld na die oppervlak gekom namate die gevolge van die egskeiding al duideliker in my en my kinders se lewens geword het. Soms was die keuse om te vergewe makliker om te maak as ander kere. Maar dit moes steeds gemaak word.
Vergifnis is selfvertroue voor God Uiteindelik moet ons net vir God tevrede stel. Hy ken ons harte deur en deur en weet of ons werklik vergewe het.
Deur te wéét dat jy sy liefde, sy aanvaarding en sy guns het, maak van jou ’n gelukkige en tevrede dissipel van Jesus. Soos daar 1 John 3:21 staan: “Dear Friends, if our hearts do not condemn us, we have confidence before God” (New International Version).
Vergifnis is om jouself te vergewe Om waarlik vry te kan wees moet jy ook jouself vergewe. As ek terugkyk oor my huwelik, is daar soveel goed wat ek nou anders sou doen. Ek weet dat ek ook weens onkunde of ’n hardheid van hart verskeie verkeerde keuses in my huwelik gemaak het. Die Here het dit vir my stuk-stuk kom uitwys en ek kon dit alles voor Hom bely. Ek weet nie of dit noodwendig die eindresultaat van die egskeiding sou verander of beïnvloed het nie, maar om waarlik vry te kon wees moes ek steeds deur al hierdie dinge werk en myself vergewe vir verkeerde optredes, verkeerde woorde en verkeerde gedagtes.
“If I keep a green bough in my heart, the singing bird will come.” – CHINESE SPREEKWOORD
NOTA AAN MYSELF (aangepas uit Kari West & Noelle Quinn se boek, When He Leaves: Help and Hope for Hurting Wives): Bid daagliks ’n gebed van vergifnis vir die persoon wat jy wil vergewe ... en ook vir jouself. Dalk wil jy hierdie aangepaste weergawe van die Ons Vader as voorbeeld gebruik. Vul die persoon wat jy kies om te vergewe se naam in die spasies in.
’n Gebed om vergifnis Liewe *** se Vader, wat in die hemel is, geheilig is u naam. Laat u koningkryk kom, laat u wil geskied in *** se lewe. Gee *** vandag sy daaglikse brood. Seën *** in sy werk, Vader! Vergewe *** se sondes en help *** om ander te vergewe wat teen hom oortree het. Moet *** nie bo sy kragte toets en versoek nie. Soos ek, is *** swak en benodig ons albei u genade. Beskerm *** teen die mag van die Bose. Mag *** vrede en vreugde vind in u koninkryk. Help my om *** se verraad te vergewe asook die pyn, frustrasie en teleurstelling wat die situasie reeds en moontlik nog in die toekoms mag teweegbring. Help my om *** te vergewe vir die bekommernisse rondom finansies en veiligheid, angs, slapelose nagte, alleenheid, verwarring en vernedering. Vergewe my asseblief vir my woede, onvergewensgesindheid en verkeerde gedagtes. Vergewe my asseblief vir my aandeel in die opbreek van ons huwelik. Ek bid dit in Jesus se kragtige naam alleen.
Amen.
WAARHEID 6
Dit gaan alles oor die kruis
Die salf van sy bloed
* * *
“Because of the sacrifice of the Messiah, His blood poured out on the altar of the Cross, we’re a free people – free of penalties and punishments chalked up by all our misdeeds. And not just barely free, either. Abundantly free!” – EPHESIANS 1:7–8 (THE MESSAGE)
Tydens ’n Paasnaweek bevind ek my toe weens ’n sameloop van omstandighede weer op dieselfde strand waar my lewensdrome en my huwelik so onverwags ’n paar jaar vantevore aan skerwe gespat het. Die feit dat ek weer in daardie geweste gekom het, veral op daardie spesifiek strand, was onbepland en blote toeval. Ek glo net die Here kan so ’n toeval bewerkstellig, want ek sou nie sommer uit vrye keuse soontoe wou teruggaan nie. Terwyl ek die oggend kaalvoet in die vlak water stap, dink ek terug aan die tyd wat verloop het sedert ek laas daar was en begin onbeskaamd huil terwyl ek loop en bid. Toe is dit asof ek van diep binne my die Here hoor sê: “You are my precious daughter and I love you with an everlasting love.” Ek het my gesig opgelig, na die branders gestaar en skielik besef wat Hy so pas vir my gesê het.
Soos die branders aanhoudend breek op hierdie strand waar my hart ook gebreek het, só is sy liefde vir my. Oneindig ... en vir altyd. En daar op die strand dring dit toe tot my deur dat ek op hierdie Goeie Vrydag ’n dubbele porsie liefde van God ontvang het. Nie net is dit die dag dat Hy sy liefde vir my kom uitstort het deur sy kosbare seun aan die kruis te offer nie, maar Hy neem my ook terug na dieselfde strand waar my aardse man ’n paar jaar tevore vir my gesê het dat hy my nie meer liefhet nie. Hy het juis dáár gekies om vir my te sê dat Hy my oneindig liefhet. Skielik was dit asof iets binne my gekliek het. God het my oneindig, nimmereindigend en intens lief. Hy het my lief met dieselfde liefde en ie waarmee Hy sy geliefde seun liefhet – omdat ek die bloed van Jesus op my dra. Soos daar in Johannes 17:23 staan: “... sodat die wêreld kan weet dat U my gestuur het en hulle liefhet net soos U My liefhet”. Jesus het daardie Goeie Vrydag op Golgota nie net vir my sondes gesterf nie, maar Hy het ook my egskeiding – met al die sonde, pyn en hartseer wat met die skeuring van ’n huwelikseenheid gepaardgaan – op Hom geneem. Sy bloed het ook vir my egskeiding gevloei. En ja, Hy het uiteindelik ook daarvoor gesterf. Maar meer as dit ... Hy het daarna opgestaan. Deur sy kruisiging en opstanding het Jesus reeds alle vorme van sonde, verwoesting en dood wat ons moontlik op aarde kan beleef, oorwin. Ook die verwoesting wat ’n egskeiding meebring ... of die dood van ’n kind ... of die verlies aan gesondheid of ’n inkomste. En omdat dit alles reeds oorwin is, juis daarom kan ons vry wees. Abundantly free!
* * *
Die krag van sy bloed
Ek het nadat ek geskei is vir die eerste keer werklik die krag van die bloed van Jesus ontdek. Toe ek nie meer langer op ’n lewensmaat kon vertrou vir finansiële voorsiening, beskerming of emosionele koestering nie, toe ek gesukkel het met onvergewensgesindheid, bitterheid en soveel ander emosies, toe ek bekommerd was oor my kinders en hulle van my moes laat weggaan, toe ek verwerp en verlate gevoel het ... tóé eers het die bloed van Jesus vir my betekenis begin kry en vir my sin gemaak. Want alles begin en eindig by die kruis. Die kruis plaas die smart waaraan ons op aarde blootgestel word in perspektief, want sonder die kruisiging sou dit alles sinnelose lyding gewees het. Maar nou kan ons met die kruis in die agtergrond die pyn van menswees beleef. Ons kan nooit na Jesus kyk en dink Hy verstaan nie ons seer nie. Inteendeel, Hy het dit self eerstehands ervaar. Nie net die fisieke pyn van ’n gebroke liggaam nie, maar ook die pyn van verwerping deur diegene wat die naaste aan Hom geleef het – sy vriende en dissipels, maar ook van God wat Hom verlaat het omdat Hy ons sondes op Hom geneem het. Die vyand het my soms probeer wysmaak dat God my oorgesien het, my verbygegaan het. Dat Hy my nie hoor nie. Maar as ek na die kruis kyk, getuig dit van ’n ander waarheid. Soos Jesus daar aan die kruis gehang het met geselhoue op sy rug, spykers deur sy hande en voete en ’n doringkroon op sy kop, skree dit eenvoudig uit dat God sy kosbaarste vir my gegee het. Sy Seun. Vir God is daar niks belangriker as die kruis van Jesus nie. As God kies om my dan nooit weer te seën of my gebede te beantwoord nie, is die kruis genoeg bewys van sy liefde vir my. Dit is as gevolg van die kruis dat ek kan wéét dat Hy my liefhet en dat ek vir Hom kosbaar is. En dat Hy my nié verbygegaan het nie.
* * *
Wat beteken sy bloed vir ons?
“For the life (the animal soul) is in the blood, and I have given it for you upon the altar to make atonement for your souls; for it is the blood that makes atonement, by reason of the life [which it represents].” – LEVITICUS 17:11 (THE AMPLIFIED BIBLE)
Sy bloed reinig ons van ons sondes Die bloed van Jesus is die kragtigste ontsmettingsmiddel wat daar is. Want soos daar in Efesiërs 1:7 staan: “Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God.” Die bloed van Jesus maak dat ek na die kruis van Jesus kan gaan en al my bitterheid, my onvergewensgesindheid en my sondes net daar kan los. Sy bloed bedek alle ongeregtigheid in my. Sy bloed was my skoon. Ter bevestiging staan daar in Hebreërs 9:22: “Byna alles word volgens die wet met bloed gereinig, en sonder die vergieting van bloed vind daar geen vergewing plaas nie.” Toe die Israeliete by Mara aankom, was hulle moeg en dors, maar die water daar was bitter. Hul rebellie en bitterheid teenoor Moses het toe ook sommer oorgekook, want hulle wou vars water hê om te drink. Moses het die probleem opgelos deur eerstens vir God aan te roep: “En hy het die Here aangeroep, en die Here het hom ’n stuk hout gewys; dit het hy in die water gegooi, en die water het soet geword” Eksodus 15:25 (1953-vertaling). Die stuk hout wat Moses in die water gegooi het, was simbolies van Jesus se kruisiging. As ons sukkel om van emosies soos bitterheid en onvergewensgesindheid ontslae te raak, kan ons na die kruis gaan. Ons kan alles wat ons onnodig saamdra of mee sukkel by Jesus se kruis los. Ons kan vra dat sy bloed dit bedek. Alleen dan sal ons water soet word.
Die vyand gaan jou keer op keer herinner aan dit wat jou seergemaak en pyn veroorsaak het. Maar ons kan hom herinner aan wat Jesus Christus vir ons aan die kruis gedoen het.
Sy bloed het ons vrygekoop Ons was eens “slawe van die sonde” (Romeine 6:20). Maar Jesus het deur sy bloed die prys vir ons betaal. En nou is ons “in diens van God” (Romeine 6:22). Ons is nou sy slawe. Waar ons voorheen sonde gedien het, is ons nou dienaars van die lewende God. Halleluja! God sal nie ’n besitting aankoop wat niks werd is nie. Toe Hy na ons gekyk het, het hy die koste bereken (sy geliefde Seun) en bepaal dat ons dit waardig is. Daarom mag ons nie toelaat dat enigiemand ons onwaardig laat voel nie.
Sy bloed bedek my verlede Daar is niks sterker as die bloed van Jesus nie. Demone moet vlug as ons die bloed van Jesus pleit. In Openbaring 12:10 staan die vyand ook bekend as die “aanklaer van ons medegelowiges”. Dit is sy geliefkoosde tydverdryf om ons te laat skuldig voel of aan te kla oor sondes uit ons verlede en ons tekortkominge aan ons uit te wys. Die vyand het my gedurig daarop gewys wat ek alles in my huwelik verkeerd gedoen het. Totdat ek besef het dat die bloed van Jesus my kragtigste wapen teen hierdie aantyging is. Ek het begin om elke jaar van my huwelik voor God te bring en Jesus se bloed daaroor te pleit – jaar vir jaar. En as ek dan weer ’n aantyging van die vyand kry, kon ek hom daarop wys dat alles reeds bedek is met die bloed van Jesus.
Deur sy bloed staan ek in ’n verbondsverhouding met God
Ek het geloof in my huweliksverbond gehad, maar selfs dit is uiteindelik verbreek en nietig verklaar. Deur Jesus se bloed aan die kruis staan ons egter in ’n verbondsverhouding met die lewende God. Dié bloedverbond is onbreekbaar en kan nooit nietig verklaar word nie. Om sonder ’n lewensmaat te wees het my geleer dat ek elke besluit en elke tree van my lewenspad nou aan Hom kan toevertrou, en dat ek kan ontspan in die wete dat ek nie meer op my eie insigte of pogings hoef staat te maak nie. Want Hy is in beheer. Ek kan dit doen op grond van die verbondsverhouding waarin ek met Hom staan omdat ek sy kind is.
Sy bloed beskerm my en my kinders Een van die swaarste dinge wat ek tydens my egskeiding moes oorkom, was om my kinders naweke en vakansies te laat weggaan. Vir ’n ma se hart is dit nie maklik nie. Hulle was nog so klein en ek wou hulle by my hou en teen die pynlike verskeuring beskerm. En tog het ek ook geweet dat ek hulle ten spyte van die bisarheid van die situasie moes laat gaan. Daar gaan nie ’n dag verby dat ek nie die bloed van Jesus oor my kinders pleit nie. Ek het besef my enigste wapen teen die vyand se taktieke is gebed en die bloed van Jesus – of hulle nou by my of wég van my was. Sy bloed is my waarborg dat my kinders veilig is. Ek kan rus in die wete dat ek hulle aan Jesus toevertrou het en dat sy bloed hulle sal beskerm.
“She fears not the snow for her family, for all her household are double clothed in scarlet.” – PROVERBS 31:21 (THE AMPLIFIED BIBLE)
As enkelouer moet ek nou ook baie dinge vrou-alleen aanpak of situasies alleen konfronteer wat voorheen nie nodig was nie. Daar is maar soms vrese, veral in
die nag wanneer jy alleen is met twee kindertjies. Maar sy bloed gee my die versekering dat ek nooit bang hoef te wees nie. Sy bloed bied beter beskerming as enige veiligheidsmaatskappy. Nou kan ek ook soos Dawid in Psalm 4:9 sê: “As ek in die aand bed toe gaan, kan ek sonder bekommernis aan die slaap raak. Ek raak dadelik aan die slaap, want by U voel ek veilig. U alleen beskerm my” (Die Boodskap).
Sy bloed maak my waardig “Wie mag die berg van die Here opgaan en wie mag in sy heiligdom gaan staan? Dié een wie se hande rein en wie se hart suiwer is, wat alle bedrog vermy en geen vals eed aflê nie” Psalm 24:3–4. Die God wat ons aanbid, is heilig. Hy laat nie enige verontreiniging in sy teenwoordigheid toe nie. Om intiem met God te kan verkeer moet ons eers skoon gewas word met die bloed van die Lam. Slegs dan is ons geregverdig (righteous) om in sy teenwoordigheid te wees. Sy bloed maak ons waardig om met vrymoedigheid voor die troon van genade te kan staan. Sy bloed kwalifiseer my om by die allerheiligste (holy of holies) te mag ingaan, selfs al het ek nog nie die Christelike lewenswandel op alle gebiede bemeester nie. Sy bloed verhoog ons status en maak dat ons aan God se regverdige en heilige standaarde kán voldoen. Met Jesus se bloed wat ons bedek, sien Hy ons as perfek. In God se oë is ons nou reeds ten volle aanvaarbaar. Hy trek ons net soos ons nou is in sy arms in. En dit is hier in sy arms waar ons verander word om meer soos Hy te word. Want soos daar in 2 Korintiërs 3:17 staan: “Hoe meer ons die Here se grootheid raaksien, hoe meer word ons lewe verander om sy ongelooflike heerlikheid te weerkaats. Dis natuurlik die Here self, hy wat Gees is, wat ons verander om al meer te lyk en leef soos Hy dit wil hê” (Die Boodskap). Die liefdevolle arms van God en sy teenwoordigheid is ons enigste hoop op verandering.
Sy bloed genees
Daar is lewe in die bloed van Jesus. Jesaja 53:5 gee ons dié versekering: “ ... deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.” Hierdie Skrifgedeelte beteken dat ons deur die wonde wat Jesus aan die kruis opgedoen het, in geloof kan aanspraak maak op die genesing van ons eie wonde – fisiek én emosioneel. Ons besit dus in werklikheid reeds hierdie genesing. Jesus het nie gesterf sodat ons Hom moet bejammer nie. In Lukas 23:28 sê Hy self: “Moenie oor My huil nie” (Die Boodskap). Die beste manier om die kruisiging te respekteer is om ons geloof te plaas in die lyding wat Hy vir ons volkome genesing moes verduur. Ons kan dit glo en die voordele van sy kruisiging en die genesing wat sy bloed meebring, in geloof vir onsself toe-eien omdat ons sy kinders is. Om my daaraan te herinner en dié genesing oor my en my kinders se lewens te roep, bid ek steeds daagliks Jesaja 53:5 oor ons.
Sy bloed gee vir my ’n nuwe visie vir myself Jesus se bloed beteken ek kan met ’n nuwe visie lewe, want alles is reeds aan die kruis volbring. Die volheid van sy godheid is reeds binne my. Niks meer moet nog gebeur nie. Nou moet ek die voordele van die kruis en sy bloed – ek is waardig, ek is skoongewas, ek is genees, ek is vry van sondes, ek is geregverdig – in geloof my eie maak en dan met ’n nuwe visie die toekoms ingaan. As ons weer na Dawid se verhaal in 1 Samuel 30:8 kyk, was God se woorde aan Dawid: “Ja, want jy sál hulle inhaal en jou mense red.” God se visie vir Dawid was een van herstel. Sy opdrag aan Dawid was om alles terug te kry wat hy verloor het. Ons beleef almal die een of ander tyd ’n Siklag: waar ons die ergste dag van ons lewe beleef en met een slag alles verloor wat vir ons eens kosbaar was. Ons kan egter daarvan oortuig wees en daaraan vashou dat God se visie vir ons is dat ons ons eie Siklag moet oorwin. Hy wil nie hê ons moet aan sy liefde vir ons twyfel nie. Hy wil hê ons moet suksesvol wees in die lewe. Hy wil ons genees en gesond hê. Daarvan getuig sy bloed en ook die beloftes in sy Woord:
• “Die Here was met Josef, sodat dit met hom goed gegaan het in die huis van sy Egiptiese meester” – Genesis 39:2 (Nuwe Lewende Vertaling). • “As jy luister na hierdie opdragte van die Here jou God wat ek vir jou gee en dit noukeurig nakom, sal die Here jou die kop maak en nie die stert nie. Jy sal altyd die leiding neem” – Deuteronomium (Nuwe Lewende Vertaling). • “Hou hierdie wetboek altyd by jou. Dink dag en nag daaroor na sodat jy alles kan doen wat daarin geskryf is. Jy sal dan sukses behaal op jou pad. Jy sal voorspoedig wees” – Josua 1:8 (Nuwe Lewende Vertaling). • “Die dief kom vir niks anders nie as om te steel, dood te maak en te vernietig. Ék het gekom sodat julle die lewe kan hê, ja, sodat julle dit oorvloedig het” – Johannes 10:10 (Nuwe Lewende Vertaling). • “Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus” – 1 Korintiërs 15:57.
Omdat ons dan kan wéét dit is in God se hart dat ons ten volle herstel en ’n lewe van oorwinning lewe, hoef ons nie vir altyd gebroke te wees nie, selfs al het ons seergekry. En al het ons foute gemaak of gefaal, is ons nie ’n mislukking nie. Selfs as ons platgeslaan word en dalk die geveg verloor het, kan ons wéét ons gaan die oorlog wen. Ons mag verliese gely het, maar ons gaan dit alles weer terugkry. Dit is wat God se Woord ons belowe. Herstel is God se plan vir sy kinders. Herstel is ook die verhaal van die evangelie.
* * *
Van donker ... na lig
Die kruisverhaal het drie tonele en hierdie drie vorm ook die sentrale tema van die evangelie. Wanneer daar tye in ons lewe is wat lyk asof alle hoop en oorwinning verlore is, hoef ons net die kruis te onthou. Wat kon meer vernietigend en verlore gelyk het as ’n bebloede liggaam aan ’n kruis? Dis dan ook die geheimenis van die kruis. Wat soos die dood lyk, word die ewige lewe, wat soos ’n vloek lyk, word verander in ’n seën en wat soos vernedering lyk, word God se grootste oorwinning. Deur ons geloof in Jesus Christus kan ons een word met sy restourasieprojek. Deur genade alleen vloei hierdie selfde opstandingskrag deur ons en mag ons ook aanspraak maak op volkome herstel en oorwinning. Ons hoef nie te weet hoe dit gaan gebeur nie. Ons hoef dit nie te voel nie, ons hoef dit nie te sien nie en dit hoef ook nie vir ons sin te maak nie. Ons kan dit net glo. Soos daar in Hebreërs 11:1 staan: “Faith is the substance of things hoped for, the evidence of things not seen” (King James Version). God gebruik donkerte as die beginpunt van nuwe lewe. Kyk ons na die natuur, sien ons dit in die skeppingsverhaal. In Genesis 1:2 lees ons dat God se gees oor die diep, donker waters gesweef het. In die diereryk en by die mens begin nuwe lewe ook in donkerte – binne ’n eierdoppie of binne die baarmoeder. Toe Jesus aan die kruis gesterf het, was die aarde in donkerte gehul. Maar in al hierdie oomblikke van donkerte was God aan die werk ... om léwé te skep. Wanneer donkerte in die vorm van verwoestende omstandighede oor ons kom, kan ons weet dat God met iets nuuts besig is; dat Hy besig is om nuwe lewe te skep. God se Gees is juis dan besig om oor ons omstandighede te sweef, want Hy wíl en gáán ons donkerte in lig omskep. Halleluja!
“Arise [from the depression and prostration in which circumstances have kept you – rise to a new life]! Shine (be radiant with the glory of the Lord), for your light has come, and the glory of the Lord has risen upon you!” – ISAIAH 60:1 (THE AMPLIFIED BIBLE)
WAARHEID 7
Om te laat gaan, te kan stáán ... en te droom
Die salf van sy rus
* * *
“Do not [earnestly] the former things; neither consider the things of old. Behold, I am doing a new thing! Now it springs forth; do you not perceive and know it and will you not give heed to it? I will even make a way in the wilderness and rivers in the desert.” – ISAIAH 43:18–19 (THE AMPLIFIED BIBLE)
“Die Here help almal wat geval het en dié wat swaarkry, tel Hy op.” – PSALM 145:14 (NUWE LEWENDE VERTALING)
Daar staan twee pragtige wilgerbome in my tuin. ’n Tyd gelede, net so voor die winter van dáárdie jaar, besluit ek dat die bome gesnoei moet word. Die dag wat die snoeiwerk sou plaasvind, kon ek nie self tuis wees om ’n ogie oor die proses te hou nie. Ek het ook nie gedink dit sou nodig wees nie, want die manne ken hul storie en my vereistes was nie baie nie. Net so ’n paar knippe en snye bolangs
om van die ergste lang takke ontslae te raak, was my instruksie aan die tuindienste. Maklik. Toe ek later tuis kom, was dit reeds te laat. Die skade was gedaan. Al wat van my twee lieflike bome oorgebly het, was kaal stamme met ’n paar stompies wat die lug in steek. Die lang takke, belaai met groenigheid, was almal iets van die verlede. Die bome is ek, dis my lewe, het ek later gedink toe ek eers tot verhaal gekom het. Kaal. Tot op die been gestroop en gesnoei. Afgeskil en uitgespoeg. Die lewe gebeur – in al sy vorme – met elkeen van ons. Daar is mooi seisoene, soos die lente en somer – seisoene van lewe en groei. En dan breek die herfs en winter skielik op ’n dag aan – daar waar ons gestroop en gesnoei word deur ongelukke, hartseer, siekte en pyn. Natuurrampe gebeur. Kinders sterf. Egskeidings vind plaas. Soms word ons verwond deur mense wat ons opsetlik seermaak. En ander kere kry ons seer deur iemand se onverskilligheid, sonder dat hulle eens bewus is van die uitwerking van hul dade op ons. Van ons seer gaan diep en ver terug in die verlede. Soms lê die pyn vlak en onlangs. Wanneer Jesus ons seer kom genees, wis dit nie die verlede uit of maak iets wat gebeur het, ongedaan nie. Maar Hy wil ons op so ’n manier kom aanraak dat dit ons reaksie op dít wat in die verlede gebeur het, verander en in die proses ook ons seer genees. Dan kan ons saamstem met wat in Romeine 8:28 staan: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.” In hierdie konteks kan ons dan die pyn van ons verlede in sy hande los en Hom vertrou dat Hy dit ten goede sal laat meewerk in ons hede en in ons toekoms. Philip Simmons, die skrywer wat ek ook in Hoofstuk 4 noem, skryf ook in Learning to Fall dat ons as mense weerloos is en maklik seerkry. As ons val, breek ons. In 2 Korintiërs 4:7 lees ons: “Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek ... ” Ons val wanneer ’n geliefde sterf of wanneer ’n verhouding of huwelik sterf. Ons het dikwels geen beheer oor óf en wánneer ons val nie. Maar as ons dan nie
die val kan keer nie, kan ons ten minste leer hóe om te val. Paulus sê ook dat wanneer ons val, ons nie die bron van krag in onsself moet soek nie, maar wel in God. Soos daar in 2 Korintiërs 4:8–9 staan: “Ek kry dikwels swaar, maar ek is nooit mismoedig nie. Ek weet nie elke dag presies wat ek moet doen nie. Tog is ek nooit radeloos nie. Ek word vervolg, maar ek weet God los my nooit alleen nie. Ek word onderstebo geloop, maar ek staan elke keer weer op” (Die Boodskap).
* * *
Om te laat gaan
Die eerste les van val is ... laat los! Ons eerste en instinktiewe reaksie wanneer ons val, is om krampagtig vas te klou. Dit kom nie natuurlik by ons om te laat los nie. Ek het bitter lank gesukkel om te laat los, want ek kon bloot nie my huwelik laat gaan nie. Ek kon myself nie losmaak van die mens met wie ek sewentien jaar van my lewe gedeel het nie. Ek het nie geweet hoe nie. Die finaliteit daarvan om te laat gaan was vir my soms net te veel. Dit het my uit beheer laat voel – al was ek lankal nie meer in beheer nie. My verstand het geweet ek moes laat gaan, maar my hart wou nie. In my gedagtes het ek bly hoor: “Laat gaan en Ek gaan jou seën.” Op daardie oomblik het ek nie besef dat dit een van die moeilikste keuses sou wees wat ek moes maak en aanhou maak nie. Nadat ek een nag weer by die Here gepleit en gehuil het vir my man se terugkeer en die herstel van ons huwelik, word ek die volgende oggend vroeg wakker met die volgende woorde helder in my kop: “En Paulus het gesê ... ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is.” Eers nadat ek dit in die Skrif gaan opsoek het, het ek besef dat dit wel Paulus se woorde aan die Filippense was (Filippense 3:13) – iets wat ek nie uit my eie sommer geweet het nie. Dit was asof ek moes besef dit was nie my eie denke nie, maar wel God wat hier met my praat.
Om te laat gaan het vir my beteken om uit te skree: “Laat u koninkryk kom; laat u wil geskied.” Om te laat gaan gaan gepaard met vrese, want jy laat gaan die gelukkige einde van jou oorspronklike droom. Om te laat gaan het niks daarmee te doen dat jy opgee of oorgee nie. Inteendeel, om te laat gaan is nie vir sissies nie. Om te laat gaan maak jou ook vry van die verlede. Dit het my vrygemaak van verwagtinge waaraan ek gevoel het ek as eggenote nie aan voldoen het nie. Dat ek nie genoeg vrou was, nie mooi genoeg of interessant genoeg of prettig genoeg was om sy aandag te behou nie. Dit het my vrygemaak van foutiewe sieninge van myself. Want nou het ek geweet wat Jesus oor my sê. Ek het geleer dat om die prentjie van ’n heel gesin te laat gaan nie beteken dat ek nou nie meer ’n nalatenskap of erfenis het om aan my kinders oor te dra nie. Net omdat die pa van die gesin homself uit die prentjie verwyder het, beteken nie daar is nie meer ’n prentjie nie. My gebed is nou eerder dat my nalatenskap aan my kinders dinge sal wees soos ’n liefdevolle, stabiele en rigtinggewende teenwoordigheid in hul lewens. En dat hulle ’n begeerte sal hê om God regtig te ken – in goeie én swaar tye. Ook dat hulle ’n vaste vertroue sal ontwikkel in die hemelse Vader wat sorg en alles weer goed maak. Om te laat gaan het ook beteken dat ek binne myself emosioneel moes afskeid neem van goeters, soos ’n vakansiehuis wat ironies genoeg aangeskaf is om onder meer goeie herinneringe as ’n gesin te hê. Ek moes myself dwing om trou- en gesinsfoto’s van my muur af te haal. Dit was ’n ontsettend pynlike ervaring, want watter troudag is nie ’n hoogtepunt in enigeen se lewe nie? In die proses het ek egter besef dat om te laat gaan nie die relevansie daarvan kan afmaak of die verlede kan uitwis nie. Die verlede was ’n werklikheid en ek was wel gelukkig. Daarvan getuig die foto’s en herinneringe. En dít sal ek vir altyd koester. Om te laat gaan het my kom vrymaak van al die swaar bagasie wat ek vir so lank met my saamgedra het. Trane kon weer plek maak vir lag. Bitterheid en ’n soeke na vergelding kon plek maak vir genade en vergifnis. ’n Depressiewe en swaar gemoed kon plek maak vir ’n ligtheid in my hart en my menswees. Ek kon partykeer selfs humor in die situasie vind. God het vir my die vermoë teruggegee
om te kan lag. Prys Hom!
“He will yet fill your mouth with laughter and your lips with shouts of joy.” – JOB 8:21 (AMERICAN STANDARD VERSION)
Deur te laat gaan kon ek ook die krampagtige en soms amper paniekerige greep verslap wat ek op my kinders gehad het. Ek kon my hand oopmaak wat hul verhouding met hul pa betref. Deur te laat gaan het my vrese wat ek rondom my kinders gehad het in vrede verander, want ek het geweet God is in beheer. Deur my “ou” lewe te laat gaan was ek skielik vry om myself weer te ontdek. Ek het weens die omstandighede wat die egskeiding meegebring het meer tyd alleen deurgebring en het hierdie tye gebruik om myself weer opnuut te leer ken. Ek het talente ontdek wat ek nooit ontwikkel het of geweet het ek oor beskik nie, soos om te skryf. Ek het begin oefen en vir myself ’n mikpunt gestel om ’n halfmarathon te voltooi. Ek het myself met ywer in my werk ingegooi. Dit het ook soveel heling bewerkstellig. In hierdie tyd is ek geseën met ’n kontrak om vir een van Suid-Afrika se topmodetydskrifte te konsulteer. God het selfs ’n sekulêre struktuur soos hierdie vrouetydskrif gebruik om my heling aan te help, my vrouwees te bevestig en my weer selfvertroue te gee.
* * *
Om te kan stáán ...
“Therefore put on God’s complete armor, that you may be able to resist and stand your ground on the evil day [of danger], and, having done all [the crisis
demands], to stand [firmly in your place].” – EPHESIANS 6:13 (THE AMPLIFIED BIBLE)
Terwyl ek hier skryf, besef ek dat Jesus wel my hande geleer het om oorlog te maak, soos Hy my belowe het (sien Hoofstuk 2). Hy het my die wapens van oorlogvoering vir my spesifieke oorlog stelselmatig kom leer en my daardeur in staat gestel om te kan stáán. Hierdie wapens wat Hy my kom leer het, is in al die vorige hoofstukke genoem: deur sy Woord te spreek, sy bloed te pleit, deur lofprysing en aanbidding, deur te kan vergewe en die verlede te laat gaan, asook deur gebed en intimiteit met Hom. En dan natuurlik ook om in liefde te loop, want liefde is een van ons grootste en belangrikste wapens in oorlogvoering. Ons dink soms dat ons voortdurend vorentoe moet beweeg om vordering te maak op die pad van heling en heiligmaking. Dit wat soms egter die moeilikste is, is om net te kan staan – om nie vorentoe of agtertoe te beweeg nie. My persoonlikheid is van so ’n aard dat ek graag aksie wil neem en dinge wil doen en uitsorteer. Ek sukkel daarmee om stil te wees en te wag. Ek het baie keer vir die Here gevra wat Hy wil hê ek in sekere situasies moet dóén. Maar God dink anders hieroor. Om net te kan bly staan en die grondgebied te kan behou wat tot op hede van die vyand verower is, is alreeds ’n oorwinning. Wat Hy dan veral in sulke tye van ons vra, is om Hom te vertrou en om sy rus in te gaan.
* * *
Wat is sy rus?
Psalm 46:10 word besonders gestel in die Amplified Bible: “Let be and be still,
and know (recognize and understand) that I am God.” “Let be” is tog om te laat los en oor te gee. Om dít wat agter ons lê, te kan laat gaan, stil te word en te wéét dat God steeds in beheer is, selfs al het ons uiterlike omstandighede nie verander nie en lyk die situasie dalk steeds onmoontlik, deurmekaar en buite beheer. Om sy rus in te gaan is ’n keuse. Vir my was dit om te kies om nie langer met fisieke oë nie, maar met geestelike oë na die situasie te kyk. Soos daar in Hebreërs 4:3 staan: “For we who have believed (adhered to and trusted in and relied on God) do enter that rest ...” (The Amplified Bible). Ons gaan sy rus binne as ons kan glo, vashou en vertrou op die beloftes wat Hy reeds vir ons kom wys en openbaar het. Ons gaan sy rus binne wanneer ons tot die besef kom dat Hy genóég is. Dit gebeur wanneer ons ophou om vereistes aan Hom te stel omdat sy teenwoordigheid en sy heerlikheid vir ons genoeg raak. Dan is dit al waarna ons smag. Dit was amper asof die Here my uitgedaag het om te toets of Hy werklik vir my genoeg is. Teoreties het ek dit geweet, maar nog nie prakties nie. Die aanslae het gekom in die vorm van ’n intense gemis van my “ou” lewe en na die mens met wie ek die helfte van my lewe gedeel het. Is God dan steeds genoeg? Wanneer ek naweke alleen moes deurbring terwyl my vriendinne met hul mans en kinders rugby kyk en gesellig voor kaggelvure kuier ... Is God dan steeds genoeg? Toe ek uitvind van die baba wat vir my eksman en sy vrou op pad is nadat ek so lank nog kinders begeer het ... Is God dan steeds genoeg? Wanneer ek sien dat my kinders alleen dinge doen terwyl hul maatjies altyd ’n pappa naby het om saam bal te skop, vis te vang of net dinge te doen ... Glo ek dan steeds God se beloftes vir hulle? Ek het op meer as een geleentheid ervaar dat God my vra: “Jacelize, glo jy werklik dat Ék vir jou genóég is?” Toe ek eers onomwonde kon antwoord: “Ja, Here, U ís genoeg,” het ek ’n ligtheid in my gees ervaar en besef watter heling Hy reeds binne my bewerkstellig het. Jehovah Shalom. God is ons rus en ons vrede. As God vir ons is, wie kan dan teen ons wees? Wees dus voorbereid vir die oorlog, want dit gaan kom. En as jy
voorbereid is, moenie bang wees om te veg nie. God is vir jou.
“My vertroue in die Here is nie afhanklik daarvan dat dit met my goed gaan nie.” – HABAKUK 3:17 (DIE BOODSKAP)
* * *
... en te droom
Ek het hierdie boek begin skryf in die jaar toe ek 40 geword het – ’n profetiese jaar en ouderdom. Aan die begin van daardie jaar gee die Here toe vir my ’n woord in Deuteronomium 8:2–6 (Die Boodskap):
“Jy moet altyd terugdink aan die 40 jaar wat verby is. Kyk altyd terug na die pad waarmee die Here jou deur die woestyn gelei het. Hy het jou swaar laat kry sodat jy nederig kon word en kon leer om sy voorskrifte te gehoorsaam. Jy was dikwels honger, maar die Here het vir jou manna gegee. Dit was iets wat jy en jou voorgeslagte nie geken het nie. So wou die Here jou leer dat ’n mens nie van brood alleen kan leef nie, maar dat die beloftes en die woorde van die Here jou ook versadig maak. In die 40 jaar wat verby is, het jou klere nie verslyt nie en het jou voete nie eens geswel van al die stap nie. Dink altyd daaraan dat die Here jou in die woestyn soos ’n kind grootgemaak en geleer het. So wou Hy jou leer om Hom lief te hê en volgens sy wil te leef.”
Om sin en ’n doel in jou seer te vind is nie maklik nie, maar met hierdie Skrifgedeelte het die Here net weer vir my beaam dat Hy wél genoeg is. Dat sy manna my wel versadig. Dat Hy sorg. Dat Hy elke oomblik en elke tree binne
my woestyn met my was. En dat ek dit wat ek geleer het nie op ’n ander plek as juis binne die woestyn sou leer nie. Dit het vir my sin vir my seer gegee. En dan is daar ook die belofte in Deuteronomium 8:7–10:
“Die Here jou God gaan jou in die goeie land inbring, ’n land van baie water, fonteine en riviere wat oral ontspring; ’n land van koring en gars, van wingerde, vyebome en granate; ’n land van olyfbome en baie heuning; ’n land waar die klippe yster is en ’n mens koper sommer uit die berg kap; ’n land waarin jy baie sal eet en versadig sal word. Wanneer dit gebeur, sal jy die Here jou God loof omdat Hy vir jou goed was en jou in ’n wonderlike land gebring het.”
Ná die woestyn is daar ’n belofte van ’n oase wat kom. ’n Land wat oorloop van melk en heuning. ’n Land waar jy alles gaan terugkry wat van jou gesteel is, en nog meer. Dit is die karakter van die God wat ons aanbid. Dat Hy dit wat die vyand vir ons skade en nadeel bedoel het, kan omdraai in seën en oorvloed, sodat ons met buit uit die trauma van ons woestyn kan wegstap. Dawid het dit ook ervaar. Ná die slag van Siklag het Dawid en sy manne die Amalekiete agternagesit. Elke kind en vrou en besitting is teruggekry ... plus al die buit van die vyand. Die Amalekiete se eie troppe vee, silwer en goud het toe alles Dawid se eiendom geword. Die situasie het ’n verrassende wending aangeneem deurdat Dawid en sy manne in werklikheid verryk is deur die trauma van Siklag. Wat ’n wonderlike God aanbid ons nie! Sy genade vir ons, sy kinders, is so groot dat Hy ons nie net ten volle wil genees nie, maar ook wil hê dat ons ons genesing en herstel moet kan vier en ’n lewe van oorwinning kan leef.
“Eye has not seen, nor ear heard, nor have entered into the heart of man the things which God has prepared for those who love Him.”
– 1 CORINTHIANS 2:9 (NEW KING JAMES VERSION)
Hier waar ek sit en skryf het ek ’n uitsig oor my tuin. En toe sien ek dit ... my wilgerbome. Daar is nie meer net kaal stompies nie, maar ook nuwe jong lote wat ver en wyd strek en oortrek is van vars, groen blare. En in hierdie blare lê daar ’n belofte opgesluit van swaar takke wat koelte kan gee. ’n Plek van rus en herlaai. ’n Plek van lewe. ’n Oase. En toe besef ek dat dit die droom (of die buit?) is wat God binne my geplaas het. God is besig om van my ’n boom te maak, ’n boom waarvan die wortels diep en stewig in vrugbare grond geanker staan. ’n Boom met sterk takke wat wind en weer kan trotseer. ’n Boom met baie jong, groen lote en blare wat groei en nuwe lewe uitskree. ’n Boom wat koelte en rus kan bied aan ander wat wil kom skuiling soek. My buit lê juis daarin dat die Here my waardig genoeg geag het om te genees sodat ek deur Hom gebruik kan word om heling elders te help bewerkstellig. Dat ek deur my eie seer – en genesing – deel kan vorm van God se plan om die aarde met sy heerlikheid en sy glorie te vul. Dís wanneer daar goedheid uit pyn kan kom. Ek prys Hom daarvoor.
“En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, ek maak alles nuut.” – OPENBARING 21:5 (1953-VERTALING)
Slot
* * *
“God doesn’t write short stories.” – BOB SORGE
Ek noem hierdie gedeelte die “slot”, maar moet glimlag, want hierdie storie het nie ’n slot nie. Dit is eerder ’n reis wat tree vir tree afgelê word. Die pad na genesing is nie ’n kitsoplossing nie. Om die seer en die pyn te oorwin is harde werk en bly ’n daaglikse keuse. En selfs dan is dit ’n moeilike en soms ’n baie alleenpad. Sommige dae is die reis en lesse makliker as ander dae. Maar gelukkig is sy genade vir ons genoeg. Ek kyk terug op die pad wat reeds agter my is en is oneindig dankbaar vir dit wat die Here my kom leer het. Daar was baie pynlike lesse wat ek nie altyd wou leer nie, maar wat ek nou besef noodsaaklik was vir my groei as mens. En ek leer en groei steeds. Die vrou wat ek voor my egskeiding was en die vrou wat ek vandag is, het twee verskillende harte. Ek lewe eenvoudiger. Ek strewe na die dinge wat daarbo is. Ek maak ander keuses. Ek is afhankliker, want ek vertrou meer as wat ek uit my eie krag probeer regkom. Ek is dankbaar vir dit wat ek het en koester en waardeer dit wat aan my toevertrou is. Al wat vir my saak maak, is om Jesus te ken en aan Hom gehoorsaam te wees. Hy het my kom leer dat Hy genoeg is, dat Hy my kan versadig – op elke gebied. Met die skryf van die boek het een van my staffies tydens ’n ongeluk sy oog
verloor. Ook hieruit het die Here vir my iets kom leer. Daar was ’n tyd in my lewe toe ek gedink het die lewe is ’n hindernisbaan en dat ’n mens net kan sê jy het suksesvol gelewe as jy al die lewe se hindernisse kan omseil en redelik onaangeraak anderkant kan uitkom. Dan het jy ’n goeie lewe gehad. So het ek altans gedink. Ek dink nou anders daaroor. Die bevordering en range wat ons in sy koninkryk verdien, lê juis in die littekens wat ons op die hindernisbaan van die lewe opdoen. Dit lê juis in ons hantering van die stampe en stote wat die lewe ons toedien. Waar my hond se linkeroog was, is daar nou net ’n litteken. Maar hy is nie eens bewus daarvan dat hy net een oog het nie. Hy bly steeds my spesiale hond met sy unieke maniertjies. Hy is mal oor stap en sal eerder bo-op my as langs my kom sit. Jou en my littekens is daar. Maar ten spyte van ons eie unieke wonde en littekens kyk God na ons en sien Hy ons as volmaak. Ons littekens moet ons net nie verhoed om steeds ’n vol lewe te lei en ons volle potensiaal te bereik nie. As jy wil moed opgee, dink weer. Onthou, die laaste bladsy van die verhaal is reeds geskryf. Mag God jou seën en jou beskerm. Mag God jou ten volle genees. Mag God se glorie deur jou littekens skyn en aan jou sy rus en vrede gee.
Jacelize
“Die Here sal vir jou ’n nuwe naam gee wat Hy self gekies het. Die Here sal jou in sy hand hou soos ’n pragtige kroon wat ’n koning op sy kop sit. Daar sal nie meer van jou gepraat word as die vrou wat geskei het nie ... Jy sal die Here se liefling genoem word. Die Here het jou lief. Hy sorg vir jou land soos ’n man vir sy vrou sorg. Die mense wat in jou woon, sal vir jou sorg ... Soos die bruidegom bly is oor sy bruid, so sal jou God oor jou bly wees.” – JESAJA 62:2–5 (DIE BOODSKAP)
Oor die boek
Op ’n reënerige Kersdag het ’n jong gesinnetjie en hul familie kerk toe gegaan. Ná die Kersete het almal op die strand gaan stap – die man met hul seuntjie op sy rug, sy vrou langs hom en hul dogtertjie wat agter hulle aangehuppel kom. Sommer so in die loop, totaal onverwags, het die man vir die vrou gesê hy wil van haar skei. En haar wêreld het in duie gestort. Jacelize de Waal is hierdie vrou, en Salf vir jou seerkry is haar verhaal. Op ’n besonderse manier neem sy die leser op haar pad van genesing. Sy vertel van die salf van genesing wat slegs Jesus Christus vir ons kan bring. So deel sy dan belangrike waarhede wat God vir haar openbaar het, met lesers. Salf vir jou seerkry sal enigeen wat dieselfde pad stap, hoop gee en bemoedig.
Oor die skrywer
JACELIZE DE WAAL het op Stellenbosch grootgeword en ’n BComm graad en ’n nagraadse diploma in reklame en bemarking behaal. Haar professionele loopbaan het in die reklamewêreld begin waarna sy by Media24 Tydskrifte aangesluit het en betrokke was by die loodsing van tydskrifte soos Idees en Tuis. Sedert 2006 bedryf sy haar eie bemarkingsagentskap. Sy is die trotse ma van ’n pragtige dogter en seun wat sy met baie hulp van familie en vriende tesame met besondere genade en guns van Bo grootmaak.
Salf vir jou seerkry
Uitgegee deur Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers, ’n afdeling van Media24 Boeke (Edms) Bpk Heerengracht 40, Kaapstad 8001 www.luxverbi.co.za
Kopiereg © 2012 deur Jacelize de Waal
Tensy anders aangedui, kom aanhalings uit die Skrif in hierdie boek uit die Bybel in Afrikaans (1983-vertaling met herformulerings). Kopiereg © 1983, 1990 deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Ander vertalings wat gebruik is: The Amplified Bible, Nuwe Lewende Vertaling (NLV), New Living translation (NLT), Die Boodskap, The Message, King James Version (KJV), New King James Version (NKJV), American Standard Version (ASV) Gebruik met toestemming.
Alle regte voorbehou.
Geen gedeelte van hierdie elektroniese boek mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewer gereproduseer of in enige vorm of deur enige elektroniese of meganiese middel weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, skyf- of bandopname, of deur enige ander stelsel vir inligtingbewaring of -ontsluiting.
Omslag en uitleg deur Eddie Lomas Teksversorging deur Lynette Blignaut en Annake Müller
Beskikbaar in druk: Eerste uitgawe, eerste druk 2012 ISBN 978-0-7963-1651-6
Eerste ePub-uitgawe: e-ISBN 978-0-7963-1578-6 Vir bestellings en navrae, skakel 0861 668 368