Die lang pad van Stoffel Mathysen
Christiaan Bakkes
Human & Rousseau
Aan Brent Pirow John en Ingrid Ferguson en mnr. David Jenkins
1
My naam is Stoffel Mathysen. Deur my eie toedoen het ek alles verloor. Ek besluit toe om weg te loop. Ek het my reis in Kaapstad begin. Twee weke voor my vertrek het ek by my vriend Bok gebly en soos gewoonlik as ons bymekaar is, het dit rof gegaan. Ons het tot die vroeë môre-ure in kroeë en nagklubs rondgelê en met die skuim gemeng. Toe ek uiteindelik besluit om my voorneme uit te voer en die pad te vat, het Bok my van sy huis in Drieankerbaai na Langebaan geneem. Dit was begin Maart en koud en bewolk. Vir ’n paar dae lank het ek sonder rigting tussen Langebaan en die Weskuspark rondgedwaal. Ek was terneergedruk en onseker. Nou was dit finaal, te laat om om te draai. Ek het gesmag om terug te draai, terug te keer na my ou lewe: my familie, vriende en na Marissa. Maar alles het onherroeplik verander en ek het geweet daar is geen terugkeer nie. Die grou weer het bygedra tot my somber gemoedstoestand. Teen die middag van die tweede dag begin die son deur die wolke breek. Ek kry rigting en ek stap, Velddrif se koers in. Die afgelope maande van niksdoen en frustrasie het my vet en lui gemaak. Ek het troos in kafeekos en bier gesoek. My rugsak en stewels is nog nuut en skaaf my. Na ’n ruk blaas en sweet ek. Dit neem lank voor iemand my oplaai. By Lambertsbaai draai ek binneland toe. Ek wil die Sederberge gaan uitklim. Ek wil kyk of ek in my huidige toestand nog deur die Wolfbergskeure kan kom. Die paar dae in die Sederberge doen my goed. Ek kom met min moeite deur die skeure en die fisieke oefening maak my lyf weer gewoond aan inspanning. Vanaf Clanwilliam kry ek ’n geleentheid saam met ’n diamantdelwer tot by Garies. Ek stap die grootste deel van die pad tussen Garies en Kamieskroon. Dis droog. Blomtyd lê nog ver. Vanaf Kamieskroon na Springbok ry ek saam met ’n
pakkamer-voorman. Hy nooi my uit om ’n paar dae by hom te bly. Ek aanvaar sy uitnodiging en maak van die geleentheid gebruik om die blase wat my nuwe stewels veroorsaak het, te dokter. Ons gaan speel elke aand snoeker in die Springbok Hotel. Ek speel nie meer so goed soos vantevore nie, maar is tevrede om ’n paar balle te sink voordat hy my wen. Voorheen was hy ’n luitenant in die weermag se pantserkorps en het ’n tenk aangevoer. Tot hulle hom nie meer nodig had nie. Hy haat sy huidige lot as pakkamervoorman. Ons kuier tot laat elke aand in die hotel. Teen die Vrydag bied hy aan om my na my vriend Nakkie op Port Nolloth te neem. Nakkie is my en Bok se ander groot maat. Die pakkamervoorman laai my af by Port Nolloth se hotel. Daar vertel iemand my dat Nakkie eintlik in McDougalbaai bly, so drie kilometer met die kus langs. Ek stap soontoe. By McDougalbaai moet iemand my nog verduidelik waar sy woonstel is. “Hoe lykit, my Tjaina?” roep Nakkie uit toe hy my sien aankom. Ons val mekaar om die nek. Agter hom kom sy vrou met hul dogtertjie op die heup uitgestap.
2
Dit was laat in ons standerdsewejaar dat ek een Vrydagmiddag in die agterplaas ’n vriend van my se been flenters geskiet het met ’n tuisgemaakte bom. Maandag word dit voor die hele skool afgekondig. Lekker vir my. Die skoliere word gewaarsku om nie met plofstowwe en chemikalieë te speel nie. Daarna word ek na die skoolhoof se kantoor ontbied. By die kantoor wag Nakkie en Bok alreeds voor die deur. Hulle is Vrydag gevang stokkiesdraai. Ons kry elk ses houe met ’n rottang. Toe ons uitstap, is daar respek vir my in Bok en Nakkie se houding. Die feit dat ek mense se bene afskiet, het my aansien in hul oë laat kry. Ons stap na die kleedkamer toe en vergelyk die blou hale oor ons boude. Net daar sluit ons ’n verbond. Fok skool. Skool is sommer kak. Daardie middag onttrek ons ons aan die skool se waterpolospan, onder groot protes van ons spanmaats en ten spyte van dreigemente van ons afrigter. Ons sluit aan by ’n buitemuurse waterpoloklub en kry plek in die B-span. Spoedig speel ons wedstryde teen myners op die Oos-Rand, spanne van weermageenhede en studente. Ons is skoolseuns wat teen groot manne speel. Ons raak fiks en taai. Teen die einde van standerd nege is ons ’n hegte, onoorwinlike driemanskap. Na skool gaan doen ek my eie ding. Bok studeer argitektuur en breek vroueharte. Hy vestig hom as argitek in die Kaap en verskyn elke week met ’n ander meisie aan sy arm. Nakkie doen sy diensplig en word ’n valskermsoldaat. Hy is vir agtien maande in Angola en is nie heeltemal dieselfde toe hy terugkom nie. Na sy diensplig verwerf hy sy industriële duiklisensie en word ’n diamantduiker in Port Nolloth. Toe ek ’n paar jaar gelede saam met Nakkie vakansie hou in Knysna, vertel sy meisie ons op ’n dag dat sy swanger is. Hulle is ’n maand later getroud. Vir die volgende twee weke kuier ek saam met Nakkie en die diamantduikers van Port Nolloth. Ek gaan saam uit op die bote en sien hoe manne gruis van die seebodem pomp. Dit word gesif totdat die diamante tussen die fyn gruis verskyn.
As die see rof is, gaan vang die manne snoek of kuier hulle in die kroeg. Dit is harde manne wat harde werk doen. Almal lyk dieselfde. Lang hare en baarde. Wolmusse en truie teen die Weskus-koue. Daar word kwaai gedrink. Almal het ongeneeslik diamantkoors. Almal hoop vir die jackpot, die dag wanneer jy ’n diamantpyp onder die see raak pomp. Dit is die dag wanneer jy ophou duik. Dan pak jy jou goed, roep Port Nolloth en die Weskus vaarwel toe en gaan vestig jou op ’n rustige vissersdorpie, maak ’n seekosrestaurant of ’n viswinkel oop en begin ’n normale bestaan voer. Vir die oorgrote meerderheid is dit ’n dag wat nooit kom nie. Een oggend vroeg kom Nakkie se duikmakkers hom haal. Die see het kalmeer en hulle moet gaan duik. Ons groet en hy spring agterop die bakkie op pad kaai toe. Later neem sy vrou my na die taxi-staanplek. Ek klim op ’n minibus en sit my reis voort.
3
Die minibus neem my van Port Nolloth na Steinkopf. Dis die laaste dorp voordat ’n mens die Namibiese grens bereik. Ek laai my rugsak op my rug en stap in die rigting van die N7. Ek is nou gretig om die grens oor te steek – stof van my voete . . . Ek kan al klaar voel dat die stap en klim van die afgelope weke en die swemmery in Port Nolloth se koue Weskus-see my liggaam goed gedoen het. Ek voel asof ek my stamina begin terugkry. Van seelug en son is my gesig nie meer bleek nie. Ek kyk af na my bene en sien die spiere begin weer vorm kry en bult. By die N7-aansluiting staan ’n ryloper langs sy rugsak. Ek is nie lus om saam met iemand anders te reis nie. Hierdie reis moet ek alleen onderneem. Die ryloper is geklee in ’n neon-oranje sweetpakbroek, ’n pienk T-hemp met ’n visnetfrokkie bo-oor. Hy het ringe in albei ore. Onder sy teruggestote tartanpetjie is sy hare borselkop geskeer. Sy gesig helder op toe hy my sien. “Ek is bly om jou te sien,” praat hy in Engels met ’n Australiese of Nieu-Seelandse aksent. “Ek staan nou al van sonop langs die pad en niemand wil my oplaai nie.” “Ek wonder hoekom?” sê ek in Afrikaans. “Ek is op pad Namibië toe. Waarheen gaan jy?” “Ook op pad Namibië toe.” “Dan kan ons saamreis. Ek is nou al ’n maand lank in Afrika, die meeste van die tyd in Kaapstad. Ek is op pad Nairobi toe. Ek moet oor drie maande daar wees. Ek is eintlik ’n bietjie verlore. Ek sukkel verskriklik om ’n geleentheid te kry. Die mense hier rond laai my nie eintlik op nie. My naam is Anthony,” rammel hy af. Ek steek my hand uit. “Aangenaam. My naam is Stoffel. As in dust. Waar kom jy vandaan, Anthony?” “Australië. New South Wales, Australië. En waarvandaan is jy?”
“Suid-Afrika. Transvaal, Suid-Afrika.” Hy kyk my aan. “Mag ek vra wat jou oorgekom het?” Ongeërg vertel ek hom. Ek sien hoe sy mond oopval. Soos ek aangaan, rek sy oë groter en hy skud sy kop ongelowig. “Nog nooit in my lewe het ek iemand ontmoet wat so iets oorgekom het nie.” Skielik kyk hy my aan asof ’n idee by hom opgekom het. “Hoor hier, ek het ’n videokamera in my rugsak. Kan ek jou asseblief verfilm terwyl jy jou storie weer vertel. Dis my eerste keer in Afrika en ek is heeltemal ongewoond aan sulke dinge. As jy nie omgee nie.” “Nee wat, ek glo nie ek gee om nie. Verfilm maar,” sê ek droogweg en voor die videokamera vertel ek my storie. Ons sit langs die pad en wag vir motors om verby te kom. Die pad is stil en ek wonder of ek ooit ’n geleentheid gaan kry saam met iemand wat soos ’n nar aangetrek is. Hy lyk egter na ’n heel aangename ou en hy vertel my watter wonderlike land Suid-Afrika is. Dis ook nie te lank nie voordat ’n meubelwa stop. Die bestuurder is op pad Lüderitz toe. Anthony sê ja, hy wil soontoe. Ek besluit Lüderitz is te ver uit my pad. Ek sal saamry tot op Keetmanshoop en van daar koers kry Windhoek toe. Die meubelwa is gelaai met bale seewier. Ek maak my tuis op ’n baal naby die oop skuifdeur. Anthony kruip agterin die trok, strek hom uit, haal ’n draagbare kassetspeler uit, sit die oorfone aan, maak sy oë toe en raak verlore in sy musiek. Die trok ry baie stadig en ek kyk uit na die Richtersveld wat verbyskuif. By Noordoewer verlaat ons Suid-Afrika. Ons steek die Gariep oor. By Vioolsdrif toon ons ons paspoorte aan die Namibiese doeaneowerhede. Daar is ’n winkel en ons koop kos. Die bestuurder vertel my dat die bale op pad is na ’n fabriek in Lüderitz vir die maak van jellie. Die trok verlaat Vioolsdrif. Die Namibiese landskap is hier net so dor en verlate as suid van die Gariep. Anthony leen my sy kassetspeler en ek luister na die klankbaan van die bekroonde film Pulp Fiction terwyl Anthony ’n woordeboek bestudeer. Later haal ek die oorfone af en ons begin gesels.
Anthony Breslin is ’n akteur. Hy het al kleiner rolle vir Australiese televisie vertolk, maar hy sê hy verkies teater. En al is Shakespeare-dramas sy voorkeur, is die geleentheid daarvoor in Australië beperk. Om geld te verdien, tree hy op as manlike ontkleedanser in nagklubs. Sy arms wat by sy helder T-hempie uitsteek, is gespierd en sy skouers is breed. Dit betaal goed, sê hy. Maar, laggend – hy sou eerder die hoofrol in ’n Hamlet-produksie wou vertolk! “Ek bied my ontkleevertoning so tong in die kies aan soos moontlik. Ek dryf die spot met die ontkleebedryf, die gehoor en myself. Ek was nogal besig in Kaapstad. Daar is blykbaar aanvraag voor.” Die trok ry teen ’n slakkepas oor die verlate klipwoestyn van Namibië. ’n Laatmiddag-donderstorm trek oor en dit reën by die skuifdeur van die transportwa in. Ek vind Anthony goeie geselskap. Ons praat oor films, musiek en boeke. Ten spyte van sy uitspattige kleredrag is hy hoogs intelligent. Onder normale omstandighede sou ons seker nooit aanklank gevind het nie. Dis skielik lekker om nie alleen te wees nie. Anthony sê hy is ook dankbaar om saam met iemand te reis. Hy was eensaam en verlore langs ’n verlate pad in ’n vreemde land. Dis donker toe die trok in Keetmanshoop aankom. Ek besluit om saam te ry Lüderitz toe. Ek geniet die rit in die trok en ek is buitendien nie haastig nie. Die vragwa draai wes na Lüderitz. Die maan kom op oor die veld en alles om ons is verlig tot ’n dowwe grys. Ek begin om “And the band played Waltzing Matilda” te sing. Dis die enigste Australiese lied wat ek ken. Dis ’n lang en tragiese ballade oor ’n jong man wat tydens die Eerste Wêreldoorlog vanuit Australië na Turkye gestuur word. Hy neem deel aan die rampspoedige landing aan Suvlabaai tydens die aanval op Gallipoli. Sy makkers word om hom afgemaai. Hy verloor sy bene in ’n bomaanval en word saam met die ander verwondes en verminktes teruggestuur Australië toe, waar hy nooit weer met sy rugsak deur die wildernis kan loop nie. In die donker transportwa kan ek aan Anthony se stem hoor dat hy skielik huis toe verlang. Hy kan nie glo hy hoor ’n eg Australiese volkslied uit ’n Afrikaner se mond nie. Na ’n ruk se stilte in die trok vra ek vir Anthony om vir my ’n stuk uit Hamlet voor te dra. Hy dink vir ’n ruk en begin met die gesprek tussen Hamlet en sy
moeder. Gertrude het pas met Claudius getrou. Hamlet wil by sy moeder weet hoe op aarde sy so kort na sy vader se dood met Claudius, Hamlet se oom en die nuwe koning van Denemarke, kon trou. Anthony vra my om Afrikaanse liedjies te sing. Ek begin met “Jantjie van die Berge” van Koos du Plessis en daarna sing ek “Sprokie van ’n Stadskind”. Anthony volg met ’n stuk uit King Lear. Ek sing “Groete aan Mannetjies Roux”. Anthony doen Julius Caesar. So gaan ons deur die nag voort. My Afrikaanse liedjies raak na ’n ruk op en ek sing Ierse liedjies, Neil Young en Tom Waits. Anthony doen Macbeth, Cymbeline en Othello. En dan vra ek Anthony daarna. Sonder om lank te dink, doen hy wat ek vra, die Saint Crispian’s Day-toespraak – ’n stuk wat my ten diepste raak.
“What’s he that wishes so? My Cousin Westmoreland? – No, my fair cousin: If we are marked to die, we are enough To do our country loss; and if to live, The fewer men, the greater share of honour God’s will! I pray thee, wish not one man more.”
Ek lê terug teen die seegrasbaal en maak my oë toe. Ek voel hoendervleis op my arms en bene. Anthony se stem rol en styg dramaties soos Koning Hendrik V sy gedemoraliseerde handjievol soldate moed inpraat op die vooraand van die slag van Agincourt teen die Franse oormag. Ek berei my voor vir die klimaks en val in saam met Anthony.
“And Crispian, Crispian shall ne’er go by From this day to the ending of the world, But we in it shall be ed We few, we happy few, we band of brothers. For he to-day that sheds his blood with we Shall be my brother; be he ne’er so vile, This day shall gentle his condition: And gentlemen in England, now a-bed, Shall think themselves accursed they were not here, And hold their manhoods cheap, whiles any speaks That fought with us upon Saint Crispian’s Day.”
Dis stil in die trok. Buite skyn die maan oor die woestyn. “We few, we happy few, we band of brothers”, herhaal ek vir myself. Daar was ’n tyd, nie te lank gelede nie, toe ek ook lid was van so ’n dapper klein broederskap.
4
Die Bel Jet Ranger word sigbaar bokant die boomtoppe. Sy motore sing en sy skroewe kletter. Vir sekondes hang dit in die lug voordat dit weer agter die boomtoppe verdwyn. Dan verskyn dit weer en vlieg in die rigting waar ons in die skadu van ’n sekelbosruigte staan. Louw ontvang ’n boodskap oor die tweerigtingradio en knik. “Maak reg. Hy kom.” Deur ’n gaping in die ry vaalbome, so veertig meter voor ons, bars ’n olifantbul deur die bosse, voortvlugtend vir die helikopter wat hom van bo af karring. Ek verlaat die skadu van die sekelbos en stap hom tegemoet. Die vlieënier sien my en breek weg. Die olifantbul peil reg op my af. Hy ken die klank van die helikopter en weet wat dit beteken. Mis en urine loop in ’n ononderbroke stroom agter by hom uit soos die vrees hom beetpak. Hy het my nog nie gesien nie. Die afstand tussen ons verminder snel. Koel en berekend skat ek die afstand soos hy nader kom. Dertig meter, vyf-en-twintig meter. Ek raak bewus van Louw en Mick wat agter my posisie inneem. Die helikopter sirkel nou links agter die olifant. Ek haal my geweer oor. Twintig meter. Ek lig die geweerkolf teen my skouer en druk dit vas. My wangbeen rus gemaklik op die hout. In die visier toring die olifant nou voor my. Die korrel rus op die plooi net onder sy oë, amper op die brug van sy neus. Vyftien meter. Die olifant kom wiegend nader. Sy ore wapper soos vlae agter hom. My hand sluit om die pistoolgreep van die geweer. My wysvinger druk die sneller af. In sy poging om van die helikopter te ontvlug, het die olifant met sy beperkte sig nie ons drie wat voor hom ingetree het, gewaar nie. Toe my geweer knal, is dit te laat. Die 500-grein monolitiese geelkoper-458-koeël dring deur sy skedel en vernietig sy brein. Die olifant tuimel aarde toe soos ’n reuse-nat lap. Ek herlaai en hardloop om hom en kniel by sy agterkop. Ek mik na waar die skedel en die werwels bymekaarkom en trek die sneller vir ’n tweede keer. ’n Fonteintjie donkerrooi
bloed spuit uit die koeëlgat en ek weet dat die tweede skoot net ’n formaliteit was. “Die tweede een is op pad! Kom!” waarsku Louw. Hy gryp my aan die skouer en druk my voor hom en Mick uit in die rigting van waar die helikopter ’n tweede olifant, nog verskuil in die bosse, aankeer. “Staan net hier vas. Hy kom!” beveel Louw en sy woorde is skaars uit toe ’n jong vaalboom knak en die olifant voor ons verskyn. Hy moet ons verwag het, want hy stuit en swenk weg om tussen ons en die helikopter uit te glip. My koeël deurdring sy kop net onder die oog. Sy ontsnappingspoging word verydel en hy bring ’n paar vaalbome saam met hom grond toe. Ek hardloop nader, doen die dril van die tweede skoot, druk my vinger in sy oog om te toets vir reflekse. Tevrede staan ek terug en ontlaai my geweer. Die helikopter vlieg weg om landingsplek te gaan soek. Louw en Mick stap nader. Deur die bosse hoor ek die trokke van die grondspan wat nader ry om die olifante te kom afslag. Louw en Mick klop my op die skouer en skud my hand. Ek het die toets geslaag. Dit het egter nie van die begin af so goed gegaan nie. Die vorige dag is ek vir die eerste keer getoets. My skoot op die eerste olifant was te hoog. Hy het gestop en soos ’n vuisvoos bokser gesteier. My volgende twee skote het geensins indruk gemaak nie en die olifant het net kop onderstebo daar gestaan totdat Mick en Louw elkeen nog ’n skoot gevuur en hy inmekaar gesak het. Met die tweede olifant het ek weer te hoog geskiet. ’n Frontale kopskoot op ’n olifant is moeilik. Sy brein is omtrent dieselfde grootte en vorm as dié van ’n rugbybal en lê in lyn met die nekwerwels aan die agterkant van die skedel. Die hoë voorkop van ’n olifant bestaan uit poreuse skedel wat dien as ’n verkoelingsisteem vir die brein. Onervare ouens maak gereeld die fout om ’n olifant te hoog te skiet. Met die tweede olifant het die koeël darem nader aan die olifant se brein verbygegaan om hom sy ewewig te laat verloor en hy het geval. Ek het nader gehardloop om hom die doodskoot te gee, toe hy voor my begin opstaan. Ek het nog drie skote kort na mekaar geskiet en toe was hy stil. My baas Mick was nie tevrede nie en het gesê ek moet vandag weer skiet. Dit was ’n lang nag, alleen in my grasdakrondawel. Ek het olifantkoppe vanuit elke aansig uit fotoboeke bestudeer. Ek het met ’n ongelaaide geweer droë rondtes
gevuur en geoefen om snel te herlaai. In die nanagure het ek op my bed rondgerol. Vanoggend was ek moeg en gespanne. Ek sou eers die middag skiet en het my die oggend met papierwerk probeer besig hou. Die rit deur die veld met Mick en Louw was uitgerek en niemand het veel gepraat nie. By die afgespreekte plek, op ’n voorbrand, het die grondspan gewag. Die helikopter was klaar in die lug op soek na olifante. Die vlieënier het vir Louw geradio en ons drie is te voet die veld in. My hart het in my borskas gehamer. Louw het deurentyd met die helikopter kontak gemaak. By ’n ruigte sekelbosse het hy my beveel om reg te staan. Die helikopter het heen en weer voor ons bo die boomtoppe gevlieg. En ineens was ek kalm en ek het geweet: hierdie keer sal dit slaag. Hierdie bloedige ritueel maak deel uit van die jaarlikse olifantuitdunningsprogram. Dit is die finale toets voordat ’n nuutaangestelde staptoerveldwagter toegelaat word om wildernisstaptoere te lei. Hy moet kan toon hoe hy onder druk reageer. “Dit was baie goed,” sê Mick. Louw kyk op sy horlosie. “Ek dink ons moet terugkom by die kamp. Die vure brand seker al.” Om ’n rooibosvuur, met ’n bier in die hand, staan ek tussen Mick en Louw en ander veldwagters. Ons bespreek die dag se gebeure. ’n Ent weg braai twee Shangaan-veldwagters rooibok oor die kole. Staptoerveldwagters wat nie op staptoer is nie, is hier om die nuweling te verwelkom. Sommige het hul Shangaan-assistentveldwagters saamgebring en het ver gery om die geleentheid by te woon. Van hulle het saam met my studeer en ander het ek op ander wildreservate leer ken. Die meeste is egter vreemdelinge. Jong manne geklee in verbleikte kakie-uniforms. Hulle stel hulself voor en verwelkom my, wens my geluk met my olifante. ’n Groot Shangaan met ’n breë bors en ’n wolkop staan nader. “Laat ek jou voorstel,” sê Mick. “Dit is Filliosse Mula. Hy is jou assistent. Hy werk al twintig jaar in die Wildtuin en is totaal vreesloos. Hy is baie hardkoppig en soms moeilik om te beheer.” Filliosse kyk my stip aan terwyl Mick praat. Toe Mick stilbly, steek Filliosse sy hand uit. Ek kan verstaan toe hy op Shangaan met my praat.
“Ons sal saamstap, jong man.”
Dis die droom van baie avontuurlustige jong mans om veldwagter te wees. Vir my was die elite van hierdie veldwagterskorps altyd die staptoerveldwagters. Hulle was die vergestalting van vryheid en avontuurlikheid, van gevaarlik lewe. Om te kon stap oor die wye vlaktes en boswêreld van die Laeveld en telkens gevaarlike diersoorte teen te kom; om jou boskennis uit te brei en mense van die natuur te vertel. Van vroeg af het ek myself voorgeneem dis wat ek wil wees: ’n staptoerveldwagter. Na skool het ek vir ’n jaar rondgeval en toe ingeskryf vir ’n diploma in natuurbewaring. Vir ’n stadseun soos ek het dit ’n nuwe wêreld oopgemaak. My ouers was skepties oor my studievermoë. Was my ganse skoolloopbaan nie ’n stryd nie? Hulle het asem opgehou toe ek handboeke huis toe bring oor vakke waarin ek absoluut hopeloos was op skool. Maar anders as die vervelige biologie- en wetenskaphandboeke van my skooldae het hierdie nuwe plantkunde-, dierkunde- en ekologiehandboeke ’n onderliggende boodskap gehad: avontuur. Ek het dus skouer aan die wiel gesit en al my vakke in die vereiste tyd voltooi. My derde jaar was ’n praktiese indiensopleidingsjaar. Ek was leerlingveldwagter. Aanvanklik kon ek nie werk kry nie. Dat ek nog nie diensplig voltooi het nie, het my gepootjie. Uiteindelik het ’n organisasie met ’n reeks wildplase in die NoordTransvaal my aangestel. Dit was ’n wonderlike tyd. My oë het oopgegaan vir die natuur om my. Dit was harde werk. Padbou, draad span, patrollie loop, probleemplante uitkap. Jag en jagters vergesel. Ek het al beter geleer skiet – sebras, wildebeeste, koedoes, rooibokke, vlakvarke. Ek het die bome en grasse en voëls van Noord-Transvaal leer ken. Die hoogtepunt van daardie jaar was toe ek gestuur word om ’n luiperd te gaan vastrek wat beeste op nabygeleë plase vang. Ek het ’n vanghok gaan stel, dit goed gekamoefleer en ’n ent daarvandaan kamp opgeslaan. Drie dae later het ek ’n luiperdwyfie in die hok gehad. Ek het haar ver weggevat na ’n wildplaas en daar vrygelaat. Die prag van die dier het my diep beïndruk. Ek het teruggekeer en die hok vir ’n tweede keer gestel. Nog drie dae later het ek ’n bruin hiëna
gevang. Dié het ek ook op die wildplaas gaan loslaat. Aan die einde van daardie jaar moes ek vir twee jaar weermag toe. Eers was ek teensinnig. Maar wat kon ek doen? Almal moes gaan. Bo almal se verwagting is ek na my basiese opleiding gekeur vir die junior leierskursus. Na ’n jaar se opleiding is ek as tweede luitenant na die operasionele gebied gestuur. Toe my dienstydperk verstryk, was ek lief vir die soldatelewe. Om na ’n lang en uitputtende patrollie terug te kom na die geselskap van makkers in die offisiersmenasie was altyd vir my spesiaal. Na ons militêre diens het ek en ’n medeoffisier in die Wes-Caprivi agtergebly. Ons het aangesluit by Namibië se Departement van Natuurbewaring en met teenstroper-operasies begin. Ons het Boesman-oudsoldate gewerf, opgelei en as teenstropereenhede aangewend. Vir ’n jaar lank het ons oorlog gemaak teen mense wat onwettig olifante jag vir hulle ivoor. Die opwinding van rivier- en voetpatrollies op die spoor van stroperbendes was groot en die uiteindelike sukses wanneer ons hulle in die bos in ’n hinderlaag betrap. Maar ek wou Krugerwildtuin toe. In hierdie tyd het ek aansoeke gerig, maar ek is elke keer afgekeur. Ek het besluit om terug te gaan na Suid-Afrika. Na ’n jaar in die Caprivi het ek my vriende gegroet en weer begin werk op wildplase in die Noord-Transvaal. Dit was egter nie meer dieselfde nie. Die wildernis van die Caprivi met sy vloedvlaktes en sy groot troppe wild het in my lyf kom lê. Ek het verlang en toe ek na ’n onderhoud weer eens ’n pos in die Wildtuin misloop, het die frustrasie hoog geloop. Maar daarmee saam die vasberadenheid. Ek het uiteindelik aansoek gedoen as gids en veldwagter in ’n groot wildreservaat wat aan die Wildtuin gegrens het. Hier moes ek ryk, verveelde buitelandse toeriste te voet of met ’n Land Rover grootwild wys. Dit was nie vir my die ideale situasie nie, maar nou was ek nader aan die vuur en ek het bly aansoek doen. En uiteindelik het die owerhede besluit dat ek nou groot en ervare genoeg is om by hulle aan te sluit. Hulle het laat weet dat ek op Skukuza moes aanmeld. My vreugde het geen perke geken nie.
Toe die rooibosvuur se kole dof begin gloei, die rooibokvleis opgeëet is en die veldwagters na hul bakkies toe begin aanstap, kom Mick by my staan en plaas iets in my hand.
“Dra dit met trots,” sê hy, “jy verdien dit.” Hy stap weg in die nag. Ek maak my hand oop en kyk. Die geelkoperkenteken glim dof in die laaste lig van die vuur. Ek moet dit saam met my uniform dra. In groen letters staan daarop geskryf: Veldwagter.
5
Ek word wakker op my seegrasbaal. Die trok skommel steeds voort. Die dag het goud gebreek oor die woestyn. Vir ’n rukkie lê ek en kyk na die duine wat voor die oop skuifdeur verbydryf. Ek haal my beursie uit my hempsak en vou dit oop. Binne-in vasgespeld is die geelkoperplaatjie met groen letters op. ’n Gevoel van matelose verlies kom oor my. Anthony Breslin begin roer op sy baal. Hy lig sy kop en knip sy oë. “Is ons amper daar?” vra hy. “Breslin,” sê ek, “jy is eintlik olraait. As ons in Lüderitz kom, koop ek vir jou ’n bier.” “Ek drink nie bier nie. Ek rook net boom.” Die vragmotor trek Lüderitz binne en ek en Anthony spring af by die Zum Sperrgebiet Hotel. Ons gaan binne en sit aan vir ’n hartlike ontbyt teen ’n redelike prys. Vir die personeel en gaste moes ons na ’n eienaardige paar gelyk het, een in ’n helderkleurige uitrusting en die ander in kakie. Vir die res van die dag drentel ons deur die strate van Lüderitz en besoek besienswaardighede. Dit neem nie lank nie. Ons gaan na die openbare kampplek op ’n klein skiereiland in die baai en rol ons slaapsakke uit aan die voet van die monument vir Adolf Lüderitz, die handelsreisiger uit Bremen, op wie se aandrang Von Bismarck uiteindelik die hawe by Angra Pequena in die naam van Duitsland geannekseer het. Ons besluit om die volgende dag besoek af te lê by Kolmanskop, die spookdorp in die woestyn wat deur diamantdelwers gebou en uiteindelik agtergelaat is. Daarna wil ons terug Keetmanshoop toe ryloop. Anthony wil die Visrivier-skeurvallei verken. Ek wil noord. Windhoek toe.
Om my bak die woestyn in ’n ongenaakbare hitte. Dit is namiddag. Die vel op my bene is rooi geskroei. My hoed is skamele verweer teen die son. Noord en
suid van my strek die teerpad loodreguit en eindeloos. Daar is nie ’n skadukol in sig nie. Ek sit kop onderstebo op my rugsak langs die pad. In die verte hoor ek ’n voertuig. Vol verwagting spring ek op. Die klank kom nader. Die spikkeltjie op die teerpad word groter – ’n Mercedes. Ek steek my duim uit. Op ’n afstand sien ek dis net die bestuurder in die kar. Baie plek vir my en my pak. Die voertuig het ’n Windhoek-registrasienommer. Die blonde man agter die stuurwiel draai sy kop nie eers effens in my rigting nie en jaag verby. “Ag, gaan kak, man!” vloek ek die voertuig agterna. Gistermiddag het ’n meubelwa vir my en Anthony Breslin op Keetmans afgelaai. Anthony het amper onmiddellik ’n geleentheid Ai-Ais toe gekry. Ek het met die hoofpad verby die dorp gestap in ’n noordelike rigting. Aan die ander kant het ek gewag. Die paar karre wat verbygekom het, het beswaarlik van my notisie geneem. Ek het daar gestaan tot sononder. Toe het ek terug dorp toe gestap. In die verlate woonwapark het ek my op ’n grasperk tuisgemaak. In die nag het dit begin reën. Toe ek wakker skrik, was my slaapsak al klaar halfnat. Ek het alles opgeraap en in die ablusieblok ingetrek. Daar het ek gewag dat dit moet ophou reën. Slaap het nie weer gekom nie en vir die res van die nag het ek op en af deur die ablusieblokke geloop en vir myself in die spieëls gestaar. In die vroeë môre-ure het ek my derde warm stort geneem en teen halfvyf het ek my pak op my rug gelaai, die dorp uitgestap en langs die pad gaan staan. Die enkele motors wat verbygery het, het my geïgnoreer. Teen sewe-uur het ’n plaasboer in sy bakkie stilgehou. “Kom kyk na die kokerbome op my plaas.” Ons is na sy plaas toe, dertig kilometer buite die dorp. Daar het ons rondgeloop en hy het aan my verduidelik dat die kokerbome op sy plaas baie groter en indrukwekkender is as die kokerbome in die kokerboomwoud nader aan die dorp. Ek het hom geglo. Hy het my kom aflaai langs die grootpad. Waar ek nog steeds staan. Omtrent elke uur kom daar ’n kar verby, gewoonlik met genoeg plek vir my en my rugsak. Maar nie een stop nie. In die verte kom weer ’n voertuig aan. Dit word ’n bakkie. Die man trek van die pad af. Pine Pienaar is met sy bruin vrou en hulle kind op pad Gobabis toe en ry deur Windhoek. Ek kan agterop klim, sê hy, maar waarsku dat hy nie haastig is nie. Ek laat my nie twee keer nooi nie. Hy maak vir my plek agterop tussen sy
bagasie. Nou is ek weer op koers Windhoek toe. Daar wil ek twee dinge doen. Vir werk gaan soek en vir Katrina opspoor. Dis na middernag toe Pine Pienaar my by ’n woonwapark buite Windhoek aflaai. Ek is doodmoeg. Ek betaal by die ingang vir kampplek en stap in die rigting wat die hekwag my beduie. Iewers vanuit een van die hutte hoor ek musiek en mense wat sing en lag. Iemand hou groot partytjie. Ek is te moeg om my daaraan te steur. Ek soek vir my ’n graskolletjie uit en rol my slaapsak oop. Ek slaap dadelik. ’n Skok ruk deur my bene en my voete voel asof hulle vergruis word. Verward sit ek regop. ’n Minibus vol singende Duitsers ry in die rigting van die uitgangshek. Hulle het bo-oor my voete gery. Ek wil opspring en agterna hardloop, maar my voete is te seer. Ek weet nie of hulle gebreek is nie. Ek sit my tone en wikkel en dit voel asof alles nog funksioneer. Na ’n lang ruk, nadat ek redelik seker is my voete is nie gebreek nie, is die minibus reeds ver weg. Ek skuif my slaapsak verder van die pad af en slaap weer. Dis Sondagoggend in Windhoek en die strate is doodstil. Ek soek na Katrina. In haar laaste brief aan my, ’n jaar gelede, het sy geskryf dat sy dansklasse gee. Ek besluit om uit te vind waar die teater in Windhoek is en haar dan van daar te probeer opspoor. ’n Sekuriteitswag by ’n bank is baie behulpsaam en verlaat ’n kort rukkie sy pos om my die Nasionale Teater ’n paar blokke weg uit die hoofstraat te gaan wys. My voete pyn nog van die vorige nag. Die teateropsigter is egter kerk toe en ek sê ek sal later terugkom. Ek dwaal deur die strate van Windhoek. Dis ’n moderne stad met moderne geboue – banke, hotelle, inkopiesentrums. Alles lyk goed versorg. Ek sien selfs ’n Spur. Ek loop na die ou Duitse fort, die Alte Feste. Dis tans ’n museum van die stryd wat die mense van Namibië teen Kolonialisme en blanke onderdrukking gevoer het. Dit vertel van Hendrik Witbooi van die Namas en van Samuel Maherero wat hul teen die Duitsers verset het en ook van die Swapohelde wat teen die Suid-Afrikaners geveg het. ’n Paar uur later stap ek terug na die Nasionale Teater en klop by die opsigter aan. Hy is egter nog nie terug nie. Ek is honger en onthou die Spur in die hoofstraat. Ek stap met die trappe op en gaan die dofverligte restaurant binne. ’n Kelnerin
neem my na ’n klein tafeltjie aan die agterkant. Ek volg haar tussen die rye tafels deur. “Stoffel!” Ek ken dadelik die stem agter my. Ek draai om. Katrina is klein en slank en haar welige krulhare is in ’n poniestert vasgebind. Sy glimlag verras. Sy dra die kenmerkende uniform van die Spur-kelnerin. “Katrina, ek soek my dood na jou.” Die volgende oomblik slaan sy haar arms om my nek en ek lig haar van haar voete af. Die restaurantgangers kyk van hul Sondagmaal af op. “Dis olraait, Susie, ek sal hom bedien,” roep Katrina vir die kelnerin wat by my tafel staan en wag. “Het jy vir my plek?” “Natuurlik.” Toe ek en Bok en Nakkie op ons wildste was, het ons saam met Katrina en haar vriendinne uitgehang. Ons was almal nog studente en ons het mekaar toevallig op ’n partytjie ontmoet. Daarna het ons saam begin weggaan oor naweke. Plaas toe of bos toe. Die foto’s in ons albums vertel van jongmense met wilde lang hare agterop bakkies, met koelbokse vol bier en blêrende musiek. Katrina was in daardie dae Bok se meisie. Ek en Bok het een nag laat met dronk lywe by Katrina en haar vriendinne se woonstelvenster in Sunnyside probeer inklouter. Daardie nag het Bok twee verdiepings ver geval. Katrina-hulle het nie eers wakker geword nie. Bok het vir twee weke mank geloop. Uiteindelik het elkeen maar sy eie pad gegaan, maar ons het nog kontak behou. Katrina het rondgetrek en haar bestaan as danseres gemaak. Sy het ’n keer of wat vir my kom kuier in die Krugerwildtuin. Sy is toe Windhoek toe as dansinstruktrise. Toe sy van my teenspoed te hore gekom het, het sy dadelik geskryf. Sy is die enigste persoon in Windhoek wat ek ken en die toevallige manier waarop ons mekaar raakgeloop het, verstom ons albei.
Terwyl Katrina haar skof by die Spur klaarmaak, gaan ek terug woonwapark toe om my rugsak te gaan haal. Ons gaan saam na haar woonstel toe. Dis ’n klein plekkie met een slaapkamer en ’n dubbelbedmatras op die vloer. Die mure is vol plakkate van dansproduksies waaraan sy deelgeneem het. Orals op stoele lê kostuums, leotards en vere rond. Katrina vertel my van haar lewe. Dit is duidelik dat sy meer as dansinstruktrise is. Sy is so pas bevorder tot hoof van die dansdepartement van die Uitvoerende Kunste-fakulteit by die Universiteit van Namibië. Verder gee sy dansklasse by laerskole en hoërskole in Katatura en Khomasdal. Sy tree op in dansproduksies by die Nasionale Teater. In haar vrye tyd is sy kelnerin in die Spur. “Ek is so bly jy het gekom,” sê sy. “Ek is doodgewerk en wou al lankal wegbreek. Gee my ’n kans om my dinge af te handel in die week. Dan gaan swerf ek en jy ’n bietjie rond.” “Dis goed so,” sê ek. “Ek wil self die week ’n bietjie rondvra na werksgeleenthede. En sodra jy dan reg is, Katrientjie, vat ons die pad.” Die aand gaan ek en Katrina uiteet. Ons kuier weer soos oudae en hand om die lyf stap ons teen laatnag terug woonstel toe. Ons lag oor ’n keer wat ek haar moes huis toe dra omdat sy te veel tequila gedrink het. In haar woonstel val ons op haar dubbelbedmatras neer. Dis toe net daar wat die lus die oorhand oor my kry Ek skuif agter haar rug in, vee haar donker krulhare uit haar nek weg en soen haar. Sy wip om en sit regop, haar wysvinger waarskuwend omhoog. “Nee, Stoffel. Lê stil!” Sy draai haar rug op my en slaap. Verleë draai ek om en probeer ook slaap.
Nege-uur Maandagoggend stap ek by die Natuurbewaringshoofkantoor in. Ek word verwys na die kantoor van die Adjunkdirekteur. Hy onthou my nog van die dae toe ek veldwagter in die Caprivi was. Hy het gehoor wat met my gebeur het en vra my uit. Ek verstrek die rede vir my besoek en hy dink vir ’n oomblik na. “Jong,” begin hy, “vir ’n Suid-Afrikaner of enige buitelander om nou werk te kry
in regeringsorganisasies in Namibië is uiters moeilik. Die beleid is om poste met landsburgers te vul. Ons kan altyd motiveer dat jy voorheen by ons in diens was, maar selfs dan is niks gewaarborg nie.” “Is u nie bewus van enige ander moontlikhede nie, ’n privaat onderneming wat dalk iemand soek?” vra ek. “Wag. Daar is iets.” Hy maak ’n laai oop en begin in lêers rond te krap. Hy haal ’n getikte foliovel uit en lees dit. Dan kyk hy op. “Ek is ’n paar weke gelede genader deur ’n internasionale organisasie wat verskeie natuurbewaringsprojekte in Namibië aan die gang het. Kaokoveld, Boesmanland, Caprivi. Hulle het ’n opgeleide persoon vir die Caprivi gesoek. Jy ken die Caprivi mos goed. Ek weet nie of hulle al iemand gekry het nie. Hoekom bel jy nie hierdie nommer nie?” Hy skryf ’n nommer op ’n kaartjie. “Vra om met meneer Horace McAllistair te praat. Neem al jou dokumente na hom toe. Dalk kan hy jou help.” Vanaf Katrina se woonstel bel ek die nommer. Meneer McAllistair is bereid om my die volgende oggend om tienuur te woord te staan. Ons spreek af om mekaar by ’n kafeetjie in die hoofstraat te ontmoet. Ek sit die telefoon neer en lê terug op Katrina se matras. My kop werk oortyd. Die Caprivi. Stel jou voor ek werk weer in die Caprivi, in die Caprivi langs die Kwandorivier. Dis te goed om waar te wees. Horace McAllistair. Almal wat te doen het met natuurbewaring in Suider-Afrika weet wie Horace McAllistair is. Ek sal hom môre dadelik herken, want ek het sy foto al dikwels in natuurbewaringstydskrifte gesien. Dit is alombekend dat hy ’n groot bydrae gelewer het om die olifante en swartrenosters van die Kaokoveld van uitwissing te red. Hy het daardie verlate woestynstreek deurkruis en die plaaslike gemeenskap van die waarde van die unieke olifant- en renosterbevolking in hulle gebied oortuig. Daarna het hy veldwagters gewerf uit daardie gemeenskappe wat onder die vaandel van die stamowerhede die wild oppas. Sy bewaringsmetodes is as rewolusionêr beskou en het vrugte afgewerp. Hy betrek die plaaslike gemeenskap by die bewaring van die natuurlewe en laat hulle daarby baat vind. Sê nou net hy het vir my werk! Sê nou net!
Ek sit oorkant Horace McAllistair by ’n klein tafeltjie buite Schnijder se kafee. Sy staalblou oë flits heen en weer oor my diensrekord. Hy steun. “Hmm. Indrukwekkend.” Ja, indrukwekkend totdat ek kak aangejaag het. Moet jy dit nie ook teen my hou nie, dink ek. Horace McAllistair lees nou deur die getuigskrifte wat ek voor hom neergesit net. “Hmm,” sê hy weer. Hy kyk op na my. “Jy is net die man wat ek soek.” Het ek reg gehoor? Hy sug. “Maar ek is bevrees jy is ’n week te laat. Ek het ’n oop pos in die Caprivi gehad. Ek moes dit dringend vul. My beste kandidaat was ’n Amerikaner met ’n graad in plantkunde. Ek het hom verlede week aangestel. Ek is baie jammer.” My teleurstelling wys ek nie vir hom nie. Ek glimlag. “Nee, dis niks. Ek het toevallig gehoor van die pos en maar net ’n kans gevat.” ’n Week te laat. Hel. Dit was so amper of ek het weer ’n werk gehad. In die Caprivi en boonop nog vir Horace McAllistair. Dit was te goed om waar te wees. “Kyk,” sê Horace McAllistair, “ek kan nou niks vir jou doen nie. Daar is geen vakante poste nie. My internasionale donateurs is ook besig om hul fondse te besnoei en die Namibiese regering raak al hoe meer onwillig om werkspermitte aan buitelanders toe te staan.” “Ek verstaan, meneer McAllistair.” “Maar met jou kwalifikasies en ondervinding kan ek jou baie goed gebruik in my projek in die toekoms. Wat is jou planne vorentoe?”
“Wel, ek gaan nog vir ’n tyd lank deur Namibië reis en rondvra vir werk. Dan gaan ek verder noord.” Hy knik. “As jy nog oor ’n maand in die noordweste van Namibië is, kan ons mekaar dalk op ’n plek ontmoet. Ek moet ’n besoek aan die Kaokoveld gaan aflê en ek sou jou graag wou wys wat ons daar doen.” “Ek weet nie of ek dan nog in Namibië sal wees nie. Maar ek sal die Kaokoveld baie graag wil besoek.” “As jy oor ’n maand nog in die omtrek is, bel my, dan kan ons dalk êrens ontmoet.” “Dankie, meneer McAllistair.” “Noem my Horace.” Nadat hy weg is, neem ek my voor om oor ’n maand saam met Horace McAllistair Kaokoveld toe te gaan. Al sou hy nie vir my werk hê nie, sou ek graag my kontak met hom wou versterk. Teen Woensdagmiddag is Katrina se sake in Windhoek afgehandel. Sy pak vinnig haar rugsak en sluit haar woonstel. Ons het besluit om na Sossusvlei in die hartjie van die Namib te ryloop. Ons wil die sandduine gaan uitklim. Die duine by Sossusvlei is blykbaar van die wêreld se hoogstes. Ons stap met die hoofstraat af totdat ’n huurmotor ons oplaai en buite die dorp aflaai. Daar wag ons nie lank nie voordat ’n boer ons oplaai en tot by Mariental neem. Sedert Katrientjie se afwysing die eerste aand het ek nie weer probeer toenadering soek nie. Haar houding teenoor my het glad nie verander nie. Sy was nog net so warm en stralend soos altyd. Sy het maar net toe die reëls neergelê. Dis reeds laatmiddag toe ons ’n geleentheid agterop nog ’n boer se bakkie kry vanaf Mariental tot op die klein dorpie Maltahöhe. Die eerste skof van ons reis verloop vlot. Teen die laaste lig klim ons af by Maltahöhe se klein hotelletjie.
Daar drink ons ’n bier en bestel ’n ete. Later beduie die bestuurderes ons die pad na die kampeerterrein. Dis niks meer as ’n oop stuk grond nie. Tussen die duwweltjies en onder die sterre rol ons ons slaapsakke uit. Toe die dag breek, stap ek en Katrina by die dorp uit met die grondpad langs na Sesriem. By ’n brug oor die droë rivierloop sit ons en wag. Katrina is baie musikaal en sy probeer my touwys maak op ’n bekfluitjie wat iemand my saamgegee het. Ek is egter hopeloos. Ek probeer “Red River Valley” speel, maar die klanke wat uitkom, is ver verwyderd van die werklike deuntjie. Die musieklesse is rede tot groot vermaak en dit help om die tyd te verwyl. Ek bêre die bekfluitjie en ons sit op die brug en gesels. Die son begin bak en die grondpad is doodstil. Ek raak rusteloos en begin op en af oor die brug stap. Katrina lees ’n boek. Teen middag het daar nog nie ’n kar verbygekom nie. “Katrina,” sê ek oplaas. “Ons gaan moeilik regkom. Kom ons stap terug dorp toe en gaan vra of iemand nie van ’n geleentheid weet nie.” Terug op die dorp by die motorhawe loop ons vir Mannetjie Kruger en sy span Nama-padwerkers raak. Hy is ’n kort, ronde mannetjie en kyk ons agterdogtig aan. Hy is half verbaas toe ek met hom Afrikaans praat. “Ja, ek ry in daardie rigting. Maar eers laat môremiddag se kant. As julle dan nog hier is, kan julle agterop my trok spring.” Hy wys na ’n wit Bedfordvragmotor wat die Namas besig is om te laai. Ek en Katrina stap met ons rugsakke na die hotel. Ons sit ons pakke neer op die stoep en ek stap na die kroeg en bestel twee Tafel-lagers. Daar is ’n paar blankes in die kroeg en hulle praat Afrikaans en Duits. Dis ’n tipiese plattelandse hotelkroeg. Teen die muur pryk ’n opgestopte koedoekop, ’n groot kleurfoto van Sossusvlei se sandduine en ’n geraamde afskrif van die “Südwest Lied”, die ou Suidwes-Afrika-volkslied. Ek stap uit met die koue lagers na waar Katrina op die ruim stoep by ’n tafel sit. Ek merk dat daar ’n tweede kroeg aan die verste punt van die stoep is. ’n Bakkie vol Damaras stop voor die hotel en klim uit. Hulle beweeg in die rigting van die kroeg waaruit ek so pas gestap het. Die hoofkelner, ’n Nama, kom uit en keer hulle. Hy beduie na die kroeg aan die einde van die stoep. “Die Damaras en Namas drink daar. Hierdie is die Boere se kroeg.”
“Wat bedoel jy?” vra die voorste Damara verontwaardig. Dis duidelik dat hy nie van hier kom nie. “Daar bestaan nie meer so iets soos die Boere se kroeg en die Damaras se kroeg nie. Dit is die Demokratiese Republiek van Namibië.” Die Nama-kelner verduidelik geduldig. “As jy vandag moeilikheid op Maltahöhe wil hê, dan moet jy in die Boere se kroeg gaan drink.” Buite bak die son en vir ’n oomblik oorweeg die groep Damaras om weg te ry, maar dan kry hul dors die oorhand en hulle stap brommend by die ander kroeg in. Ek en Katrina kyk onderlangs vir mekaar. Na vyf jaar van Namibiese onafhanklikheid het daar op Maltahöhe nie veel verander nie. Ons bestel ’n tweede rondte en geniet die koelte van die stoep. Niemand in die hotel weet van iemand wat op pad is Sesriem toe nie. Die kliprantjie buite die dorp sidder en dans in die hitte. ’n Ford F 250 stop buite die hotel. ’n Man met ’n leerbroek en kruisbande klim uit, kom by die stoeptrap op, groet ons in Duits en verdwyn in die Boerekroeg. Ek en Katrina sit ons gesprek voort en drink ons bier klaar. Die man met die leerbroek kom uitgestap met ’n krat bier. Hy stop by ons en beduie in Duits en gebroke Afrikaans dat ons saam met hom moet kom. Ons dra ons rugsakke na sy Ford toe. Daar is gereedskaptrommels, pyp en draad agterop sy bakkie en sy hande is skurf. Ons ry saam met hom tot by sy huis. Hans Stahl bly in ’n klein huisie aan die rand van die dorp. Sy voorstoep kyk uit oor die kliprantjies. Toe hy voor sy huis stop, wag ’n Nama-vrou op ’n bankie by die deur. Hans sluit die voordeur oop en nooi ons in. Die huisie is vol ou meubels en matte, maar skoon en netjies. Die voorhuis hang vol jagfoto’s van Hans, waar hy met sy geweer by platgetrekte koedoes, gemsbokke en springbokke sit. Hy pak die bier in die vrieskas in die kombuis. Die Nama-vrou bring ’n houtbord met rogbrood, kaas en salami uit en nooi ons om op die voorstoep te kom sit. Sy stel haarself voor as Lena. Ons gaan sit op verbleikte ou bamboesstoele. ’n Groot paar koedoehorings is aan die stoepmuur vasgespyker. Hans kom uitgestap met vier koue Windhoek-lagers en sit een op die tafel voor elkeen neer. Hy lig sy bierbottel. “Prost.” Ons lig ons bottels en drink. Hans het sewe jaar gelede sy vrou en kinders in Frankfurt agtergelaat en Namibië toe gekom. Hy het hom in Maltahöhe kom vestig en is nou die dorp se
nutsman. In sy vrye tyd ry hy Namibië plat met sy Ford en jag hy in die woestyn. Lena het by hom begin werk as huisbediende en spoedig was sy meer as dit. Hy praat hoofsaaklik Duits, maar met Lena se hulp en na ’n paar biere gesels ons aanmekaar. Die son sak en die kliprantjies om ons word rooi. Die bier laat my ontspan en ons eet brood en kaas. Ek en Hans ruil jagverhale uit. Katrina vertel van dansproduksies. Sy is oorwerk en ek sien dat sy ook ontspan. Elke nou en dan flikker haar groot bruin oë na my kant toe en dan glimlag ons vir mekaar. Aand word nag en daar word Afrikaanse, Duitse en Nama-liedjies gesing. Hans is uitgehonger vir geselskap en elke nou en dan gooi hy sy kop terug, lag uitbundig en klap sy hande. Ek kan my voorstel dat hy nie baie vriende onder die dorpenaars het nie. Ek vra nie uit oor sy vrou en kinders in Frankfurt nie. Dis laat toe ons ophou kuier. Hans wys ons die badkamer en neem ons na ’n slaapkamer met ’n dubbelbed. Hy en Lena verdwyn in ’n ander slaapkamer en trek die deur toe. Katrina gaan bad en ek staan buite en kyk na die sterre. Katrina maak klaar in die badkamer en ek spring onder ’n warm stort in. Dis ’n lafenis. Katrina sit op die bed toe ek die kamer inkom. Sy het ’n lang T-hemp aan. Haar hare is los en sy kyk my van onder haar krulle aan. Ek gaan sit by haar. Sy begin oor my kaal bolyf streel. “Ek hou van ’n man met littekens,” sê sy. “Ek dink ek oordoen dit so ’n ietwat,” sê ek. “Ek dink dis sexy.” “Ek is nie trots daarop nie, Katrina.” Sy streel die knoetserige litteken wat oor my regterskouer strek. Met haar voorvinger trek sy ’n lyn oor die beskadigde weefsel, waar my bisepspier eens op ’n tyd was. Haar hand volg die litteken tot waar dit by my voorarm stop. Sy rus haar hand op myne. Met haar ander hand streel sy oor my linkerboarm. Haar hand raak aan my kunsvoorarm. Sy streel die sintetiese materiaal asof dit vlees en bloed is. Sy hou die vlekvryestaalhaak, wat my linkerhand vervang, vas. “Ek dink dis baie sexy,” fluister sy. Sy laat die band van my kunsarm, wat agter
my rug oor my regterskouer vasgegespe is, van my rug afgly. Dan haal sy my kunsarm af sodat die kort stompie onder my linkerelmboog oop sit. Sy skuif die kunsarm eenkant toe en dit val van die bed af. “Stoffel, dis nie reg om met ’n mens se vriende te vry nie.” “Ek en jy sal altyd vriende wees, Katrina,” sê ek hees. Sy trek my na haar toe en hou my vas. Haar mond is nat en sag. Haar liggaam is warm.
6
James Mathebula, my kok en kampopsigter, maak keel skoon. Hy gooi warm water in die emaljewasbak op die staander buite my tent. “Auxeni, James,” mompel ek en sit regop in my kampbed. “Auxeni,” groet hy terug. Ek gaap, rek my uit en kyk op my horlosie. Vieruur in die oggend. Ek staan op en was my gesig. Dis nog stikdonker en James het ’n lantern langs die wasbakstaander neergesit. Ek stap terug in die tent in en begin aan te trek: ’n kakiekortbroek en groen boshemp met Parkeraad-epoulette op die skouers. Dis nie standaarduniform nie en die grootbase op Skukuza sal frons as hulle my so sien. Maar hulle kom in elk geval so min in die veld dat ek my nie aan hulle steur nie. Ek trek my stewels en kamaste oor wolkouse aan en gespe my lyfband om my middel vas. Dis ’n dik leerband waaraan ’n waterbottel, ’n mes en ’n rewolwerholster kan hang. Ek neem my .44 Magnum-rewolwer van die tafeltjie langs my bed, gaan hom na (hy bly altyd gelaai) en druk hom in die holster. Daarna vat ek my .458 Brno-geweer, trek die slot oop en maak seker dis gelaai. Ek neem vyf addisionele rondtes van die tafeltjie af en druk dit in die leerogies aan my lyfband. Ek druk my boshoed in my lyfband en hang my verkyker om my nek. Toe ek by die tent uitstap, lê die eerste rooi van die nuwe dag agter die Lebomboberg in die ooste. Langs die kampvuurtjie op gloeiende kole staan ’n ketel koffie en op die tafeltjie het James bekers, melk, suiker en beskuit uitgesit. Ek skink my eerste koppie koffie en gaan sit op ’n kampstoel by die vuur en tuur uit oor die donker bosveld. Ek luister. Ver na die suide weerklink ’n enkele brul uit die donker op. ’n Mannetjie wat alleen loop. Byna onmiddellik antwoord twee leeus saam, nader aan die kamp na die suidooste toe. Daar’s die trop nou. Ek skat hulle so drie kilometer weg. ’n Stil, groot figuur sluit uit die donker by my aan. Dis Filliosse, my Shangaan-
assistent, geklee in ’n groen oorpak en boshoed, met sy geweer oor sy skouer en die mediese sak op sy rug. Hy luister ook. Die leeus brul weer. “Hulle is op die Guwenispruit. Dis naby, ons sal hulle kry,” sê hy in Shangaan en skink vir hom koffie in. Die staptoerlede sluit stuk-stuk by die vuur aan en skink vir hulle koffie. Hulle is vol afwagting. Hulle het ook die leeus gehoor. Dit word nou vinnig lig. Dit is die eerste dag van die staptoer. Die stappers praat gedemp met mekaar. Hulle is onseker oor wat om te verwag. Party twyfel aan hul fiksheid, ander wonder hoe hul sal optree in geval van ’n konfrontasie met wilde diere. Die vrouens sit stil om die vuur. Die mans probeer hul onsekerheid agter bravade verskuil. Toe hulle klaar koffie gedrink het, is dit lig genoeg om te stap. Ons verlaat die kamp in enkel gelid. Direk agter my loop Filliosse, met die agt staptoerlede agterna. Gisteraand om die kampvuur het ek aan die stappers verduidelik waarom Filliosse agter my loop: In die bos kom gevaar meestal van voor. As iets mý onderstebo loop, is Filliosse nog daar om die staptoerlede te beskerm. Dis ’n koel oggend en ek rek my treë. Oor ’n halfuur gaan die son oor die Lebombo’s verskyn en dadelik begin bak. Dan wil ek reeds op die leeus se spoor wees. Klein troppe sebras en wildebeeste hardloop uit ons pad uit en hou ons van ’n afstand dop. ’n Ent weg bekyk ’n kameelperdbul ons uit die hoogte. Dit het die vorige nag liggies gereën en die nat gras deurweek my stewels. Ek stop vir ’n oomblik om vir die stappers twee reuse-ooruile uit te wys wat in ’n njalaboom hul tuisgemaak het na ’n lang nag se jag. Net soos Filliosse voorspel het, kry ons die leeuspore op die Guwenispruit. Daar is drie volwasse wyfies, ’n paar groot welpe en vier jong welpies. Ek en Filliosse hurk by die spore. Hulle is omtrent ’n uur voor ons. Dis nog nie te warm nie en hulle sal nog ’n ruk loop voordat hulle vir die dag sal rus. Ek wys die spore aan die staptoerlede en verduidelik dat ons hulle gaan volg. Dit kan ’n lang dag word en ek wil ’n bietjie aanstoot voor dit te warm word. Ek toets die wind. Die leeus loop suid met die spruit langs. Daar stoot ’n ligte suidoostebriesie. Hulle sal ons nie ruik nie. Op die klam grond is die spore maklik sigbaar. Filliosse is ’n ervare spoorsnyer. Ek leer nog. Spoorsny is spanwerk. Ons los mekaar af. Eers loop Filliosse op die
spoor en ek hou die bosse voor ons dop. Dan sny ek spoor. Ek moet veel meer konsentreer as Filliosse en neem langer, maar hy loop geduldig agter my, sy oë soekend na leeus voor ons. Die leeus is duidelik nie haastig nie. Hul spore kronkel heen en weer oor albei oewers van die droë rivierloop. Telkens wyk hulle af, maar bly rofweg in lyn met die spruit. Enkele steen-bokkies wip voor ons uit, maar verder is die veld stil. Die Laeveldse somerhitte neem toe en ek voel hoe die sweet by my rug begin afloop. Agter Filliosse blaas en steun die stappers. Filliosse kry die plek waar hulle eerste gaan lê het. Die welpies word nou moeg. In ’n oop turfkol kan ek net-net die dowwe kolle sien waar hulle gerus het. ’n Paar graspolle is ook platgestoot. Hulle het sekerlik aangestoot na die fontein in die rivierbedding waarvan ek en Filliosse albei weet. Hulle kan dus nie meer ver wees nie. Ons hoor die leeus voor ons hulle sien. ’n Dowwe gegrom uit ’n rosyntjiebos links voor ons. In een beweging laat gly ons ons geweers van ons skouers af en haal oor. Ons lê aan op die rosyntjiebos. Die staptoerlede is ineens weer die ene konsentrasie. Die grom word dreigender, aangevul deur nog twee leeus aan albei kante van die rosyntjiebos. Skielik, regs van die rosyntjiebos, so twintig meter voor ons, verskyn ’n leeuwyfie bokant die gras. Sy stoot haar rewolusies op en haar gegrom kom diep uit haar keel. Haar ore is plat teen haar kop en haar stert slaan die grond soos ’n seekoeisambok. Ek en Filliosse staan skouer aan skouer. ’n Ander leeuwyfie aan die linkerkant van die rosyntjiebos verskyn nou met dieselfde dreigende houding. Net die leeuwyfie in die rosyntjiebos bly nog onsigbaar. Ek begin saggies met die stappers praat. “Staan net vas agter my en Filliosse. Moenie beweeg nie. Doen net wat ek sê.” Agter die rosyntjiebos verloor die welpe moed en spring uit die lang gras op. Hulle hardloop in verskillende rigtings weg. Skielik ontplof die rosyntjiebos en ’n leeuwyfie storm brullend op ons af. “Voertsek!” beveel ek. “Jou moerskont!” brul Filliosse se diep stem hier langs my.
Tien meter weg steek sy vas en skiet grond met haar voorpote op. Dan spring sy linksom en hardloop met ’n draai om die een wyfie en sluit by die welpe aan. Dit is die teken vir die ander twee om weg te breek en hulle spring ook om. Op ’n afstand staan hulle ons hygend en dophou. Steeds waaksaam lei ek en Filliosse die mense ’n ent weg. Toe ons seker is dis veilig, ontlaai ons ons gewere en kyk na mekaar. Filliosse se groot liggaam begin skud soos hy diep uit sy maag lag, sy oë op skrefies met wit tande wat blink. In my bloedstroom bruis die adrenalien en my ore sing, ’n Onbeskryflike gevoel. Glimlaggend kyk ek om na die staptoerlede. Grootoog en met oop monde staan hulle daar. “Wel, hoe was dit?” “Fantasties,” sê een verwonderd. “Fantasties.” In die volgende dae wys ek vir die stappers nog leeus en olifante te voet. Ons sien sebras, wildebeeste, rooibokke, koedoes en kameelperde. Ek probeer hulle leer van die natuur. Ek wys vir hulle roofvoëls. Ek vang vir hulle ’n likkewaan en hou dit vas sodat elkeen daaraan kan voel. Die mees bevredigende sy van ’n staptoerveldwagter se werk is om te sien hoe ’n nuwe wêreld vir mense oopgaan. Na die staptoer moet ek Skukuza toe. Dit is einde van die maand en ek moet maandverslae en logstate gaan ingee. Ook voorrade aankoop. En dan wil die hoof van wildernisstaptoere my sien. Wat is dit nóú weer? wonder ek. Toe ek die volgende oggend in Mick se kantoor instap, kan ’n mens my deur ’n ring trek – my kakie-uniform gestryk, my lyfbandgespe en veldwagtersbalkie blink gepoleer, my kouse opgetrek tot onder my knieë en my skoene gepoets. “Sit,” sê Mick ernstig. Ek gaan sit en wag vir hom om te begin. “Klagtes, Stoffel. Al weer klagtes oor jou.” Hy bly lank stil om sy woorde te laat insink. “Jy het besope op die bestuursvergadering se afsluitingspartytjie aangekom en vuil grappe begin vertel vir almal om te hoor. Die Parkhoof se vrou en ’n paar ander vroue het beswaar gemaak.” Ek probeer iets sê, maar Mick lig sy hand op en stop my.
“Wag, ek is nog nie klaar nie. Die skoolhoof het kom kla. Om eenuur verlede Vrydagnag het jy by die laerskoolkoshuis ingesluip en die onderwyseres aan diens by haar kamer uitgesmokkel.” Hoe weet hulle dit? wonder ek. My brein werk oortyd en ek begin ongemaklik in my stoel rondskuif. Mick verskaf die antwoord. “’n Leerling het jou gesien. Kort voor dagbreek het verskeie leerlinge gesien hoe jy haar weer by die skoolhek aflaai.” Mick bly ’n oomblik stil en gaan dan weer aan. “Die verkeersbeampte het jou laas week tussen Skukuza en Satara gestop toe jy 90 kilometer per uur gery het terwyl die amptelike spoedperk 65 is. Dis nou al die derde keer hierdie jaar. Al hierdie klagtes het by die Parkhoof uitgekom en hy het vir my gesê om met jou te praat. Die grootbase se geduld raak op.” Ek vererg my ineens. “Mick,” sê ek. “Hier is verlede maand se maandverslag. As jy dit lees, of enige van my ander maandverslae, sal jy sien dat ek nie na ’n staptoer, soos ek geregtig is, by die huis sit nie. Ek het verlede maand direk na ’n staptoer vir Louw ’n patrollie op die Mosambiek-grens gaan doen. Ek het gaan help om renosters te vang by Krokodilbrug. Ek het ’n windpomp gaan trek en gediens by Milaleni. Ek het elke naweek diens gedoen by Orpenhek. As ek reg onthou, het ek verlede maand slegs twee dae afgeneem. As wildernisstaptoere verby is, gaan soek ek by die afdelingsveldwagters werk. Tel dit vir niks? Ek sien niks verkeerd daarmee om in my vrye tyd ’n bietjie uit te breek nie.” Mick probeer kalm bly, maar ek kan sien sy bloeddruk stoot op. “Daar is niks fout daarmee om ’n bietjie uit te breek nie. Die probleem met jou is, jy maak amok. Jy oortree reëls. Jy vergeet dat mense stilte en rustigheid in die Krugerwildtuin kom soek. Skoolkinders hardloop na hul ouers toe wat senior personeellede is en vertel hulle dat ’n staptoerveldwagter hul onderwyseres in die nag kom ontvoer. Jy word gebrandmerk as ’n moeilikheidmaker. Jy is veronderstel om die naam van die Nasionale Parkeraad en die staptoerafdeling hoog te hou.” “Net ’n oomblik, Mick. Wat van al die briewe wat jy en die Parkhoof ontvang
van tevrede staptoerlede wat juis vertel hoe ek die Park se naam hoog hou?” Mick slaan met sy plat hand op die lessenaar. “Dis nie ter sprake hier nie!” bars hy uit. “Ek is nie hier om met jou ’n argument aan te knoop nie. Ek is hier om vir jou te vertel wat goed is vir jou. Jou privaat lewe is besig om in te meng met jou beroep. Jou lewenswyse pas op hierdie oomblik nie die beeld van ’n staptoerveldwagter in die Nasionale Krugerwildtuin nie. Die Parkeraad, die Direkteure en die Parkhoof soek soet seuns. Jy is roekeloos en luidrugtig. Almal sien jou as jy naweke met jou bakkie deur Skukuza jaag. Verlaat die Wildtuin as jy oor naweke wil gaan uitbreek.” Hy kyk my stip aan. Dan tel hy sy pen op en verwyder die doppie. Hy kyk na ’n dokument voor hom. “Dis al. Dankie.” Ek staan op. Hy kyk nie op toe ek omdraai en deur toe stap nie. Ek maak die deur oop om uit te gaan. “Stoffel.” Ek draai om. “Kom drink ’n bier by my na werk. Dan gooi ons ’n vleisie op die kole.” “Dankie, Mick. Ek wil net eers by die onderwyseres gaan hoor of sy ook in die moeilikheid is. Sien jou later.” Ek hoor Mick lag toe ek die deur toetrek.
7
Hans Stahl laai vir my en Katrina teen dagbreek op die brug af. Ons wag heeldag. Teen vieruur die middag stop Mannetjie Kruger se wit Bedford en ek kan nog steeds nie “Red River Valley” speel nie. Ons spring agterop en is weer op pad. Ons ry deur ’n pragtige woestynlandskap. Ons kom teen sononder op Sesriem aan en kamp onder ’n kameeldoringboom. In die volgende dae loop ek en Katrina lang ente deur die woestyn. Ons gaan swem in die bruin poele van die Sesriem Canyon. Ons bewonder die sonsondergange wat hier in die woestyn elke aand anders is. Ons raak bevriend met twee toergidse en hul gee ons ’n geleentheid Sossusvlei toe. Dis sestig kilometer ver en ons ry vroeg een oggend. Ons ry verby troppe springbokke en gemsbokke. Die sandduine is appelkooskleurig in die oggendson. Ons klim teen die duine uit, bewonder die uitsig en jaag mekaar soos kinders rond. Ons raak uitgekuier by Sesriem en Sossusvlei en ryloop Swakopmund toe. Ons bespreek plek in ’n goedkoop kamer by Jay Jay se herberg. Daar is ’n vakansieatmosfeer in Swakopmund en ons ontmoet reisigers en rylopers. Bedags lê ons op die strand en swem in die koue Atlantiese Oseaan en snags swerf ons van biersaal tot biersaal. In een plek sing ek ’n Duitse krygsliedjie wat my pa my geleer het toe ek klein was en ek word luid toegejuig deur ’n groep bejaarde Duitse toeriste. Hulle koop vir ons ’n rondte Apfelschnapps. In ’n diskoteek staan en vry ek en Katrina op die dansvloer, elk met ’n bier in die hand. In ’n ander kroeg speel die kroegman Jethro Tull. Ons kom selde voor drie-uur soggens in die bed. Na tien dae op die pad saam met Katrina kom ons moeg en vuil in Windhoek aan. Katrina moet terug werk toe en ek moet verder vlug. Ons spandeer ons laaste aand saam en ons gaan eet in die Spur. Ons lag en gesels oor die afgelope dae en ons weet nie wanneer ons mekaar weer sal sien nie. Toe sy my die volgende oggend buite Windhoek op die pad na Okahandja aflaai, is haar oë sag.
“Toe nou, Katrientjie, jy gaan nie nou op my staan en verlief raak nie. Daarvoor ken ons mekaar te goed.” “Ha, ek op jou verlief raak! Jy is seker van jou kop af, Stoffel Mathysen!” Op Okahandja laai die hoeveelste plaasboer my agterop sy bakkie. Na tien kilometer besluit hy ek is olraait en laat my voor by hom sit. Ons begin gesels. Ek het eintlik ’n geleentheid net tot in Otjiwarongo gesoek. Ek is op pad Etoshapanwildtuin toe. Op die ou end ry ek saam met hom verby Otjiwarongo, deur Otavi en bly vir vier dae op sy plaas. Ek vertel hom my storie. Ons gesels bos, jag en natuur. Hy is besig om bosindringing op sy plaas te bekamp en terwyl ons kap en saag, identifiseer ek vir hom twintig van die bekendste bosveldbome. Die laaste middag gee hy vir my sy geweer. “Ou maat, gaan skiet vir my ’n koedoe.” Soos dit maar gaan, sien ek nie ’n teken van ’n koedoe daardie middag nie. Alec Williamson, die plaasboer, laai my by die Numatoni-ingang van Etosha af. “Geen rylopers in Etosha,” roep die hekwag toe Alec wegry. Ek stap na hom toe. “Is Wouter Hugo en Gerhard van Wyk nog veldwagters in die wildtuin?” vra ek. “Ja.” “Het hulle mense vir die naweek? Is hulle al getroud?” Die Ovambo-hekwag dink vir ’n oomblik na. “Gerhard is, maar Wouter nie.” “Kan ek asseblief met die volgende motor wat ingaan net gou vir hulle gaan groet?” “Goed ja.” Hier vat ek ’n kans. Ses jaar gelede, toe ek veldwagter in die Caprivi was, het Gerhard en Wouter daardeur gereis om hul boot op die Kwando te toets. Hulle het ’n naweek by my gebly. ’n Maand daarna het ek vir ’n naweek by hulle in
Etosha gaan kuier. Sedertdien het ons mekaar nooit weer gesien nie. “Hier kom Stoffel Mathysen,” roep Gerhard deur die kombuisvenster van Wouter se huis. Hulle sit om die kombuistafel, elk met ’n bier in die hand. Hulle beplan hul potjie vir vanaand. Toe ek ses jaar gelede van hulle afskeid geneem het, het hulle om die kombuistafel gesit, bier in die hand, besig om ’n potjie te beplan. Wouter staan nie op nie. “Stoffel, daar’s koue bier in die yskas. Kry sommer vir my ook een.” “Wouter, het jy vir my slaapplek?” “Stoffel, kom ons bespreek dit oor ’n bier.” Vir die volgende drie weke word daar renosters gevang in Etosha saam met Wouter, Gerhard en die wildvangspan. Baie van die Ovambo’s en Herero’s van die wildvangspan onthou my nog van ses jaar terug toe ons saam renosters gevang het in die Wes-Caprivi. In daardie tyd het ek nog twee arms gehad en hulle vra my na my kunsarm en staalhaak. Ek vertel. “Ha tatata!” is die gebruiklike opmerking. Wouter, Gerhard en die wildvangspan onder leiding van ’n behendige jong veearts ken hulle werk. Ek neem deel waar ek kan. In een stadium draf ek en Kashupi, een van die mees ervare renostervangers, vir vyftien kilometer op ’n renoster se spoor, terwyl Gerhard met die vangvoertuig, ’n omgeboude Ford F 250, volg. Die helikopter word geradio en dit vlieg in. Die veearts verdoof die renoster vanuit die lug met ’n pylgeweer. Wouter en die res van die vangspan volg met ’n vragmotor waarop ’n metaalrenosterkrat is. Dinge verloop vlot. Met ’n kraan word die renosterkrat in posisie geplaas, terwyl Wouter besonderhede van die renoster se horinglengte en skouerhoogte neem. ’n Ovambo met ’n emmer water staan by om die slapende renoster koel te hou. ’n Tou word met ’n glipknoop om die renoster se nek gebind en deur ’n gat aan die agterkant van die krat gevoer. Dan word dit vasgebind aan die buffer van die vangkar, met Gerhard agter die stuur. Die wildvangspan neem posisie in en die veearts dien die wekmiddel toe met ’n inspuiting. ’n Minuut en ’n half later skrik die renoster wakker. Gerhard ry met die vangkar agteruit, die vangspan stoot teen sy agterstewe, die renoster is in sy krat en die skuifdeur word toegemaak.
Daar word ses swartrenosters oor die lengte en breedte van die Etosha gevang. Die veearts sê my aan om sy Land Cruiser te bestuur, terwyl hy die renosters uit die helikopter pyl. Om met my kunsarm deur die bosse te bestuur en ratte te verwissel, vind ek maklik. In ’n stadium doen ek saam met Wouter diens by die renosterhouhokke. Ons moet renosters van een hok na ’n ander lok wanneer ons kos en water gee en hokke skoonmaak. ’n Swartrenoster in ’n houhok is nie ’n gelukkige dier nie en hy gee sy misnoeë te kenne deur hekke en houtpale aan flenters te stamp. Vroeg een môre op pad na die houhokke slaan ’n renostertrok met sy waardevolle vrag om. Die drywer en sy helpers is erg beseer. Met die eerstehulptoerusting in my rugsak verbind ons hulle voordat iemand hulle kliniek toe jaag. Die swartrenoster is ongedeerd. Hy staan en blaas en stamp in die verwronge, onderstebo krat. Ons spook heeloggend om hom te bevry. Eindelik kry ons die deur oop. Die renoster draf uit, stop, staar rond, loop die naaste mopaniebos storm en vermorsel dit. Daarna verdwyn hy in die bosse in. Wouter Hugo is ’n groot man in sy veertigs. Sy beste eienskap is sy bedaardheid. Wanneer dinge skeefloop, wanneer gemoedere opvlam onder die wildvangers in die hitte van die oomblik, tree hy met ’n effense glimlag na vore en bring sake op sy kalm manier tot bedaring. Die renostervangs eindig op Otjivasando aan die wesgrens van Etosha. Die houhokke is daar geplaas. ’n Studentemaat, Alwyn Engelbrecht, is veldwagter op Otjivasando en Gerhard en Wouter laat my by hom agter. Ek en Alwyn gaan kuier die naweek op sy neef se plaas in die Ugabriviervallei. Met ons terugkeer op Otjivasando wag daar ’n radioboodskap vir my van Horace McAllistair. Hy het te hore gekom dat ek in Etosha is. Hy kom my oor drie dae haal vir ’n week lange besoek aan die Kaokoveld. Ek sê vir Alwyn: “Wie weet, een van die dae is ek en jy bure.” “Wie weet,” sê Alwyn. Horace McAllistair kry my by Otjivasando. By die droë loop van die Otjivasandorivier sluit ons aan by die Ombonderivier. Hierdie riviere vloei net tydens die reënseisoen. Reuse-anabome en kameeldorings groei langs die rivieroewers. Orals is tekens van olifante wat in die sand van die rivierbedding vir water gegrawe het. ’n Paar koedoes en kameelperde hardloop voor ons uit. Ons ry deur die indrukwekkende Kowareb Schlucht. Kalksteenkranse toring
bokant ons uit. Hier word die Ombonderivier die Hoanib. In die volgende paar dae ry ons deur valleie, oor vlaktes en oor berge. Dit was ’n goeie reënjaar en die gras staan hoog op vlaktes wat gewoonlik dor is. Grasveld word afgewissel met mopaniestruikveld. Ons klim koppe en kyk uit oor ’n eindelose landskap. Ek sien voëlsoorte wat nêrens anders as hier voorkom nie. ’n Trop van meer as seshonderd springbokke hardloop pronkend by ons verby. Een aand met sononder verskyn drie olifantbulle aan die rand van ’n fontein naby ons kamp. Horace stel my voor aan Damara-, Herero- en Himba-veldwagters. Hulle word deur die hoofman, sy raad en die gemeenskap self aangestel om die wild op te pas. Die Himbas beïndruk my die meeste: ’n pastorale volk wat met hulle vee oor hierdie onherbergsame landskap agter water en weiding aan trek. Vir hulle het die tyd stilgestaan. Hulle leefwyse en kleredrag het in duisend jaar nie verander nie. Ons reis eindig by Horace se permanente basis in die hartjie van die wildernis. Die laaste aand om die kampvuur praat hy reguit met my. “Ek kon jou in die afgelope paar dae nie alles wys nie. Maar ek dink jy kan ’n idee vorm van die area en van die wyse waarop ek te werk gaan. Ek soek iemand wat veldwagters kan oplei. Ek wil iemand hê wat kan help met die jagseisoen. Ek wil iemand hê wat boskampe kan bou en staptoerveldwagters kan oplei, iemand wat olifante, renosters en ander wild doeltreffend kan monitor. Sou jy belangstel in so iets?” Terwyl ek na Horace luister, sien ek hoedat ek inpas in so ’n rol. Ek probeer hard om nie oorgretig te klink nie. “Ek stel belang, ja.” “Wel, hier is die feite. Ek sal so ’n pos moet skep. Dit hang van baie dinge af. My borge moet instem om geld vir so ’n pos opsy te sit. Dit behels toerusting, ’n voertuig, salarisse. Dit raak al hoe moeiliker om internasionale finansiële steun te kry. Soos jy weet, staan die Namibiese regering al hoe moeiliker werkspermitte aan buitelanders toe. Om hierdie probleme uit te stryk, kan enigiets van ses maande tot ’n jaar neem.” “Horace, ek is besig om oral werk te soek. Hierdie is beslis die aantreklikste
aanbod wat ek nog gekry het.” Ek vertel hom nie dat dit die enigste aanbod is wat ek nog gekry het nie. “Ses maande tot ’n jaar is ’n lang tyd. Ek kan dalk elders iets vind. Een of ander tyd moet ek weer begin geld verdien.” “Hoe kan ek jou kontak?” “Ek is van tyd tot tyd met my broer in verbinding. Ek sal jou sy adres gee.” Die volgende middag laai Horace McAllistair my met my rugsak tien kilometer buite Khorigas op die Outjo-pad af. “Ek sal jou familie kontak sodra ek iets reggekry het. Dit gaan egter nie maklik wees nie en jy moet nie te veel verwagtinge koester nie. Ek belowe niks, maar ek gaan hard probeer.” “Dankie, Horace. Ek gaan intussen aanhou werk soek.” Hy trek weg en draai suid, Swakopmund toe. Ek staan langs die pad en wag vir ’n geleentheid. Horace se Land Rover is nou net ’n stofstreep in die verte. Dit sal ’n ideale werk wees, dink ek. In die woestyn, stoksielalleen. Weg van starende oë en die alewige vrae. Alleen in die wildernis. Saam met die springbokke en die olifante en die Himbas, vir wie dit nie ’n duit skeel wat in my verlede gebeur het nie. Elke nag kamp ek onder ’n ander kameeldoring of mopani met net die wye veld om my. Dit sal wonderlik wees. Maar dis tentatief. Indien Horace dit sou regkry, weet ek nie waar ek sal wees oor ses maande of oor ’n jaar nie. Waarskynlik op ’n plek waar niemand my kan kontak nie. Of dalk het ek al ’n ander werk. Vervlaks! Kon hy nie maar die werk vir my gegee het nie? Stoffel, dit is wat ek wil hê jy moet doen. Hier’s jou bakkie en daar’s jou tent. Weg is jy. Hoekom kan alles nie net so eenvoudig gewees het nie? Ek sal self probeer kontak maak oor ses maande. Waar ek ook al is. ’n Bakkie vol Herero’s laai my op en neem my Outjo toe. Die nag slaap ek in die woonwapark. Die volgende dag laai ’n boer met sy bakkie my op en neem my verby Otjiwarongo na sy plaas toe. Daar merk ons beeste vir die slagpale. Die gebied het nou verander tot dorre doringbosveld. Teen laatmiddag laai die boer my op Grootfontein af. Daar is bakkies en bussies wat almal Rundu en selfs Katima Mulilo toe gaan. Die bestuurders vra egter almal geld. Ek is verontwaardig. Dis die eerste keer van ek begin ryloop het dat iemand my geld
vra. Ek wys hulle van die hand. Ek het toe nog nie besef dat om vir jou saamrygeleenthede vorentoe te betaal die norm sou word nie. Ek staan heelnag langs die pad aan die rand van Grootfontein. Dis yskoud. Teen vroegaand reeds kom daar nie meer karre verby nie. ’n Paar mense stap verby en vra my uit. “Caprivi toe. Ek het ’n vriend daar.” Ek skraap ’n paar stukkies hout bymekaar en maak ’n vuurtjie. Dit is nou erg koud. Ek kook water vir koffie. Twee Ovambo-polisiekonstabels stop hul patrollievoertuig en vra my uit. Ek bied vir hulle koffie aan. Hulle aanvaar my uitnodiging en sit ’n ruk voor die vuurtjie. Hulle vertrek en keer ’n halfuur later met ’n bondeltjie kameeldoringhout terug. Daarna sit hulle die nagpatrollie voort. Dit moet tussen twee- en drie-uur gewees het dat ’n dronk man strompelend straatop in my rigting beweeg. Dit lyk asof hy ’n Afrikaner kan wees. Hy dra velskoene en sy kakiekouse is tot onder sy knieë opgetrek. Hy het ’n kortbroek en ’n geruite kortmouhemp aan. Hy is kort en vet. Oënskynlik onbewus van die koue kom hy kop onderstebo aan. Ek staar in die vuur. Ek het nie nou lus vir ’n dronk ou nie. Hy stop langs my waar ek kruisbeen sit. Hy kyk af na my en haal swaar asem, asof die tog van die kroeg af vir hom baie vermoeiend was. Ek moet seker maar vir hom ook verlore gelyk het daar in die stowwerige straat langs my vuurtjie. Hy draai sy kop skuins en mik met sy wysvinger na my kunsarm. “Lyk my jy’t groter probleme as ek, ou maat,” sê hy. Ek vererg my en ignoreer hom. Hy merk dit op en vat liggies aan my skouer. “Jammer, jammer, ek grap maar net,” sug hy. Sonder om na my te kyk, stap hy in die rigting van ’n systraatjie. Ek is dadelik spyt oor my onbeskoftheid en roep agter hom aan. “Haai, ek maak koffie. Wil jy hê?” Met ’n steun plof hy sy dik lyf voor die vuur neer. Ons stel onsself voor en ek maak koffie. Ons begin gesels. Attie van Niekerk was ’n hyskraanoperateur op die spoorweë voor sy hartaanval drie jaar gelede. Hy moes ’n dubbele hartomleiding ondergaan. Kort daarna het
die spoorweë hom op vervroegde pensioen geplaas. Sy vrou van vyf-en-twintig jaar het haar goed gepak en by ’n welgestelde boer buite die dorp ingetrek. Sy seun, wat in Otjiwarongo bly, ry by sy huis verby om vir sy ma en haar ryk boer buite die dorp te gaan kuier. Hy stop nie om sy pa te kom groet nie. Sy dogter kom kuier darem nog af en toe. Die NG dominee het hom oor Attie ontferm en hom as koster aangestel. “Toe ek vanmiddag my pos gaan haal, is daar ’n dagvaarding vir ’n egskeiding van my vrou se prokureur. Sy bly vyftien kilometer buite die dorp en sal nie self vir my kom sê nie. En dit na vyf-en-twintig jaar.” Hy staar in die vuur. “Ek is toe vanaand kroeg toe om dit te gaan vier. Ek mag nie eintlik drink nie.” Nou is dit my beurt om my verhaal te vertel. Ons simpatiseer opreg met mekaar. Dit verdryf ons al twee se eensaamheid so ietwat. Ons sit in stilte om die vuur. Die twee verloorders. Dan staan hy op. “Verskoon my ’n oomblik. Ek is nou weer terug.” Hy verdwyn in ’n systraatjie en kom ’n kwartier later met ’n kiaathoutkoffietafel in sy arms terug. ’n Pragtige meubelstuk. “Dit is my vrou s’n.” Hy slaan dit op die grond voor my stukkend. Eers breek twee pote af. Hy slaan weer. ’n Derde poot breek af en die blad spat in twee. Hy raap die stukke op en pak dit op die vuur. Toe Attie met eerste lig huis toe stap om te gaan slaap, brand my vuurtjie se vlamme nog hoog en helder. Teen sonop is ek moeg gewag. ’n Minibus stop oorkant die straat by die vulstasie. Ek swaai my rugsak oor een skouer en stap oor die straat. “Hoeveel vra jy vir ’n rit tot by Kongola?” vra ek die Lozi agter die stuur. “Wel, dis honderd Namibiese dollar tot in Katima.” Hy dink ’n oomblik na. “Kom ons maak dit vyf-en-sewentig.” Dis seker nie te sleg vir seshonderd-en-vyftig kilometer nie, dink ek. Ek tel note uit en spring aan boord. Die dorre doringbosveld verdwyn geleidelik en ’n breëblaar-sandveldlandskap
neem sy plek in, soos die minibus noordoos ry. Dit is ’n landskap wat ek leer liefkry het as veldwagter in die Caprivi. Ek betree nou die hoër reënvalstreke van Namibië. Daar is vir my ’n sonderlinge atmosfeer in hierdie sandwoude. Vir my het dit die essensie van Afrika geword. Dit het iets te doen met die gespikkelde sonlig deur die blaredak op die woudvloer. Ek begin die boomspesies herken: valsmopanie, mukwe, mangeti, zambezi, kiaat. Die herinneringe stroom terug. ’n Warm middag aan die rand van ’n omuramba iewers in die Caprivi. Alles is doodstil. Dan kraak ’n tak. ’n Olifant trompetter in die oorkantste omuramba. Toe die minibus stop om brandstof in Rundu in te gooi, slaap ek. Die minibus steek die breë Okavangorivier oor by die Baganibrug. Nou is ek terug in bekende terrein, die Wes-Caprivi. Ek hou my oë oop vir olifante tussen die bome. Dis nou nog tweehonderd kilometer tot by Kongolabrug en ek geniet elke oomblik van die rit. Dis asof ek elke boom en omuramba onthou. Plek-plek steek die gepunte grasdakkies van Boesman-nedersettings uit. Ons ry verby die ou militêre basisse soos Omega en Chetto. Ek dink ver terug. By daardie reuse-valsmopani het ek en Simon dikwels ontmoet na patrollies. Op die westelike oewer van die Kwandorivier by Kongolabrug laai die bussie my af. ’n Bospaadjie kronkel noord op die rand van die vloedvlakte. Dis laatmiddag en die son skyn deur die blare. ’n Vreedsaamheid spoel deur my gemoed. Êrens oor die vloedvlaktes in die rivier proes en blaas ’n trop seekoeie. Tyd het stilgestaan in die Caprivi. Dis soos gister. Ek lig my rugsak en begin deur die woud aanstap. ’n Wit bakkie met Boesmans op kom van voor af aangery. Hulle hou stil. Sommige van die Boesmans herken my. “Stoffel!” Ek kan dit beswaarlik glo. Ek sien lede van my ou teenstropereenheid onder hulle. Ek glimlag breed. “Kupinga, Kakweche! Hoe gaan dit?” Hulle spring van die bakkie af en kom skud my hand. Hulle staar verwonderd na my kunsarm. “Ons het gehoor. Simon het ons vertel.” Opgewonde bespreek hulle my kunsarm onder mekaar. Sommige waag dit om aan die staalhaak te vat en vra uit hoe dit werk. Ek verduidelik en demonstreer. ’n Seningrige, sproetgesigman met roesrooi hare het intussen agter die stuur van die bakkie uitgeklim. Ons stap deur die kring Boesmans na mekaar toe, skud
hand en omhels. “Spring in,” sê Simon. “Ons gaan laai gou die Boesmans af, dan ry ons huis toe. Ons het baie om oor te gesels.”
8
Ek en Simon was tweede luitenante in die Suid-Afrikaanse Weermag. Ons was gestasioneer op ’n klein militêre basis aan die oewers van die Kwandorivier teen die Angolagrens. Teen die tyd dat ons diensplig verby was, was die Caprivi in ons bloed. Ons het by Natuurbewaring aansoek gedoen om werk. Ons is aangestel om teenstropereenhede op te lei en aan te voer in die Wes-Caprivi. Tydens die Bosoorlog was daar sekere bewaringsgesinde bevelvoerders wat hul bes gedoen het om onwettige jag in die Caprivi te bestry. Met die onttrekking van die Suid-Afrikaanse magte het onwettige ivoorjag toegeneem vanuit die Oos-Caprivi, Botswana, Angola en Zambië. Die Wes-Caprivi se eienaardige ligging het daarvan die ideale teiken gemaak en die Natuurbewaringsowerhede was gretig om mense met militêre ondervinding aan te stel. Ek en Simon het elk ses Barakwena-Boesmans gewerf. Ons het hulle toegerus met oorpakke, uniforms, stewels, waterbottels en semioutomatiese LM-4geweers en hulle opgelei tot ’n gedugte teenstropereenheid. Simon en sy span sou suid van die Witpad, tot teen die Botswanagrens opereer, en ek noord van die Witpad tot teen die Angola-kaplyn. Ons patrollies was sistematies en gekontroleerd, goed gekoördineer. Telkens sou ons kragte saamsnoer in probleemareas. Ons het elk ’n platboomskuit met ’n dertig perdekrag Yamaha-buiteboordenjin gehad. Dit was ou militêre toerusting wat agtergebly het. Hiermee het ons die ingewikkelde Kwandorivier-sisteem met sy kanale, hoefystermere en vloedvlaktes gepatrolleer. Ons het observasieposte op eilande gevestig en snags tussen palms en geel melkhoutbome gekamp. Ons bootpatrollies het ons verby groot troppe seekoeie en geheimsinnige sitatungas in die papirusruigtes geneem. Op die sandbanke het ons op rooiborsbyevreter-kolonies afgekom. Vir maande het ek en Simon die omurambas en die ruigtes van die Wes-Caprivi gepatrolleer. Aanvanklik was dit frustrerend. Die bos was bestrooi met olifantkarkasse waarvan net die ivoor uitgeslag was. Die voetspore daaromheen het skynbaar na nêrens gelei. Ons het ons patrollies verskerp en die Boesmans
hard gedruk. Daar is myle te voet deur die bos afgelê en snags op die spoor van jagterbendes geslaap. Soms was ons vir dae sonder kos. Ons was fiks en taai en deur die son verbrand. Mettertyd het die spore varser begin word. Nou kon ek en Simon dit ook in die sagte sand onderskei. Tot dusver het ons net die Boesmans se woord aanvaar. Stelselmatig het die strop begin nouer trek. Dit was laatmiddag toe ons op die olifantkarkas afkom. Die spore was duidelik. Toe ons deur die ruigtes nader, het die swaar vlerkslag van honderde vlugtende aasvoëls die stilte verbreek. “Hierdie een is gistermiddag geskiet,” het die Boesmans ons meegedeel. Die enigste rede hoekom die aasvoëls al daar was, is omdat die jagters, nadat hulle die tande verwyder het, ook vleis uit die rug gesny en sodoende die harde vel vir die aasvoëls verwyder het. Gewoonlik neem dit ’n paar dae van ontbinding voordat die aasvoëls deur die vel kan pik. Vyf pare mensspore lei van die karkas af weg. Die Boesmans wys vir ons watter twee het die tande gedra. Dié spore is dieper as die ander s’n, sê hulle. Ek kan die verskil nie uitmaak nie. Die donker haal ons in. Ons slaap die nag op die spoor. Ons maak elk ’n holtetjie in die sand vir ons heupe en lê met ons gewere in ons arms. Na ’n uur en ’n half se spoorsny die volgende môre kom ons op die bende se kampplek af. Vyf grasbeddens om ’n smeulende vuurtjie. In ’n Zambezikiaatboom se mik is daar ’n pot, waterkanne en streepsakke. Aan die takke hang stukke vleis. Ons wag. Hulle sal terugkom. Ons was vier stuks op die ekspedisie: Ek en Simon en twee Boesmans. In ’n halfsirkel lê ons die hinderlaag om die kamp. Ons versteek onsself in die bosse. Die wildpaadjies wat na die kamp toe lei, hou ons oop. Ons weet nie vanuit watter rigting hulle gaan terugkeer nie. Vanuit die gaatjievisier van my geweer het ek ’n goeie uitsig op die kamp. Kom, julle bliksems. Dan wys ons vandag vir julle ’n ding. Heeldag lê ons plat op ons mae. Telkens kyk ek in die rigting van Simon en die Boesmans. Ek kan hulle net-net deur die bosse sien. Ek lê so stil dat die koningsblou sysies vlak voor my neus in die takke van die struike kom rondwip. Hulle draai hul koppies en kyk my met kraalogies aan. Dan fladder hulle grond
toe en begin saadjies oppik. Intussen skuif die son agter die boomtoppe in en die laatmiddagvrede daal oor die wildernis. ’n Rooibekfisant vlieg uit die blare op. Yaya, die Boesman, trek my aandag. Hy beduie in die rigting van die kamp. Donker figure verskyn uit die skadu. Simon se groen oë flits in my rigting. Ek knik. My hart begin in my bors hamer en my maag trek op ’n knop. Ek glip die veiligheidsknip van my geweer af en spring op. “Staan stil!” roep ek uit en met my geweer op hulle gerig, stap ek met lang treë op hulle af. Daar heers ’n oomblik van verwarring onder hulle. Oë rek en monde val oop en dan vlug hulle halsoorkop die bosse in. Een probeer links verbyhardloop, maar Simon staan voor hom op en stamp hom met die dwarskant van die geweer grond toe en druk die geweerloop in sy gesig. Pleitend gee hy oor. Ek en die Boesmans sit die ander vier agterna. Ons is fiks, maar ek sien gou dat ons hulle nie gaan vang nie. Vrees dryf hulle aan. Hulle laat val hul gewere en hardloop uit hul skoene uit. Ek steek vas en lê aan tussen die skouerblaaie van die vlugtende stroper voor my. Vir ’n oomblik rus die korrel sekuur op sy rug. Dan pluk ek die geweerloop op en vuur ’n sarsie tussen die takke bo hom in. Blare en takkies reën op hom neer en ek sien hoe hy deur die bome swenk, kleiner word en eindelik verdwyn. Die Boesmans het ook die jaagtog gewonne gegee. Ek stuur hulle om die gewere te gaan haal wat die stropers laat val het. Ek stap terug na Simon toe. Hy het sy stroper aan die kraag beet en forseer hom op sy knieë. Die operasie het nie so vlot verloop soos ons beplan het nie, maar ons het darem een gevang en die ander se gewere buitgemaak. Binne die volgende vier-en-twintig uur arresteer die natuurbewaarders van die Oos-Caprivi nog twee verdagtes met behulp van die inligting wat ons verkry het uit die een gevangene en die registrasienommers van die gewere. Die ander twee lede het vermoedelik die grens oorgesteek na Zambië toe.
Ek en Simon sit in sy ruim grasdakhuis en bier drink. Die omstandighede is nou soveel anders as ses jaar gelede. Hy is intussen getroud met ’n oulike Engelse meisie. Sy is doodtevrede om saam met hom in die wildernis te bly en ry een
keer per week Katima Mulilo toe om inkopies te gaan doen. Ná onafhanklikheid het die Natuurbewaringsdepartement dinge vir Simon moeilik begin maak omdat hy nie ’n Namibiese burger is nie. ’n Jaar nadat ek uit die Caprivi weg is, het hy uit sy pos bedank. My verbasing is groot toe hy my meedeel dat hy nou Horace McAllistair se projekbestuurder in die Wes-Caprivi is. Toe hy Natuurbewaring verlaat, het die Boesmans ook bedank. Hulle is nou Simon se gemeenskapsveldwagters. Hy skud sy kop. “Stoffel, jy is ’n week te laat. Toe Horace my vertel dat jy aansoek gedoen het, kon ek my hare uit my kop trek. Dae tevore het hy ’n Yankee in die Oos-Caprivi aangestel. Dis ’n goeie ou, maar Yankees verstaan nie Afrika soos ek en jy nie.” “Hy het gepraat van ’n moontlikheid in die Kaokoveld.” “Ek weet hy wil jou baie graag daar hê, maar dinge is nie meer so maklik nie. Die regering raak al hoe meer hardegat om buitelanders aan te stel.” “Solank jy hom net elke nou en dan aan my bestaan kan herinner, sal ek dit waardeer.” Gedurende die volgende paar dae loop ek en Simon en die Boesmans deur die bos. Ons loop deur bekende omurambas en beleef die ou dae. Wanneer Simon in die kantoor agter sy rekenaar besig is, loop ek alleen oor die vloedvlaktes van die Kwando. Daar is vreemde gevoelens in my binneste. Ek sien seekoeie, koedoes, rietbokke en lechwes. In ’n stadium kry ek vars leeuspore in die sagte sand en voel weerloos sonder ’n vuurwapen. Laatmiddae gaan ry ons lang ente. Een middag kry ons ’n mooi teeltrop olifante in ’n omuramba, ’n luiperdmannetjie in ’n jakkalsbessieboom en tweehonderd buffels. Onwettige jag en wildstropery bly ’n probleem in die Wes-Caprivi. Die Unitavegters in Angola het beheer verloor. Alles aan hulle kant van die kaplyn is uitgeskiet. Nou steek hulle die kaplyn oor en skiet na willekeur alles wat voorkom. Unita se logistieke toevoer is tot niet en die soldate in die suidooste van Angola moet nou van die land af leef. Die teenstropereenheid van Natuurbewaring verras ’n klomp Unita-soldate in ’n kamp in die Caprivi terwyl ek by Simon kuier. Die soldate glip terug oor die grens. Hulle laat die karkasse van ses rooibokke, twee koedoes en ’n eland agter.
Simon hanteer sy eie teenstroperaktiwiteite onder die Barakwena-Boesmangemeenskap volgens ’n heel nuwe benadering. Op ’n middag tel Simon en die gemeenskapsnatuurbewaarders ’n spoor op van ’n groep Boesmans wat ’n gekweste sebra agtervolg. Hulle steek die Botswana-kaplyn oor. ’n Paar honderd tree in Botswana trek hulle die sebra plat en slag hom af. Ons kom op die oorblyfsels af: kop, pote en binnegoed. Die Boesmans volg die spoor terug oor die kaplyn, reguit na ’n Boesman-nedersetting. Daar praat Kupinga met hulle. Hy weet hulle het ’n sebra geskiet. As hy nou die gewere by hulle kon kry, sou niemand in hegtenis geneem word nie. Twee Boesmans beken skuld en bring ’n geroeste Rl-geweer te voorskyn. Simon konfiskeer dit onmiddellik. Een minder sebra in die Caprivi, maar ook een minder onwettige vuurwapen in die WesCaprivi. En niemand is kwaad nie. Simon hoop hy kry al die vuurwapens voordat al die wild uitgeskiet is. My besoek aan Simon en sy vrou in die Caprivi kom tot ’n einde. Die drie van ons gaan saam Katima toe en gaan kuier by die Guinea Fowl Inn op die oewer van die Zambezi. Daarna gaan eet ons by die gholfklub. Ons slaap oor by vriende van Simon. Die volgende oggend laai Simon my by die Sesheke-grenspos tussen Namibië en Zambië af. Ek belowe om van my te laat hoor. Simon gee vir my die name van twee Suid-Afrikaners wat ’n visvangkamp naby die Ngonyewaterval het, so ’n honderd kilometer van die grenspos af. Ek besluit om daarheen te gaan.
9
Ek gaan nou die onbekende binne. In vele opsigte is sekere dele van Namibië soos Suid-Afrika en ek voel tuis daar. Die Duitse en Suid-Afrikaanse stempel is nog duidelik op Namibië afgedruk. Dit beteken goeie paaie, Westerse fasiliteite, winkels en banke met flink diens. In Namibië is daar ook baie mense wat ek reeds ken: Simon, Wouter, Gerhard, Katrina. Namibië se onherbergsame woestyne en lae bevolkingsdigtheid maak daarvan ’n ongetemde land. Sy klein dorpies is egter gerieflike verversingsposte tussen groot en ongerepte wildernisse soos die Kaokoveld, Damaraland, Boesmanland en die Caprivi. Toe ek die grenspos oorsteek na Zambië is die verskil opvallend: armoede en verval is duidelik merkbaar. Op die kaart sien ek dat die suidwestelike distrik van Zambië die mins ontwikkelde is. Ek besluit om van daar af te begin. Ek stap deur Sesheke aan die oewers van die Zambezi. Die geboue is leë skelette. Onder ’n valsmopanieboom langs die pad sit ek en wag vir ’n geleentheid. Ek wil noord gaan met die westelike oewer van die Zambezi langs. Ek wag vyf uur langs die pad. Kindertjies speel om my en verbygangers staar my aan. ’n Verflenterde kortwielbasis-Land Rover kom aan en stop langs my. Dit is vol duike en daar is omtrent nie meer verf aan die bakwerk nie. Onder die enjinkap klink die enjin redelik moeg. Ek tel drie mense voorin en omtrent tien agterop, bagasie uitgesluit. En nou stop dit om my op te laai. Die bestuurder klim uit en skree ’n paar bevele. Twee seuns spring af en laai my rugsak op. Die bestuurder jaag een van die insittendes voor uit en wink vir my om in die kajuit te kom sit. Die ander asier voorin hou die deur glimlaggend vir my oop. My rugsak word eienaardig gebalanseer bo-op ’n hoop bagasie. Die seuns bind dit vas met toue en gaan sit bo-op. Die Land Rover kraak en steun onder die gewig. Die bestuurder vra my of ek geld wil ruil. Ek gee hom vyftig Namibiese dollars en hy tel ’n dik pak Zambiese kwachas uit. Dan beduie hy na twee plastiekkanne vol petrol tussen my bene. Die een het ’n pypie in wat by die deur uit onder die enjinkap in verdwyn. As die een leeg is, moet ek die pyp na die ander kan toe omruil. Interessante petroltenk, dink ek. Baie veilig. Die bestuurder maak twee
bottels Mosi-lager met sy tande oop en gee my een. Die asier aan die ander kant van my drink blykbaar nie. Hy is ’n skoongesig jong swart man met ’n vriendelike glimlag en ’n strooihoed op. Met ’n ruk trek die Land Rover weg. Dit bokspring oor die sinkplaatpad en die bestuurder sit voet in die hoek. My Mosi-lager skuim by die bottel uit en drup oor my skoot. Die brandstof in die kanne wat ek tussen my bene vasknyp, spat oor my voete. Agterop lag en sing die asiers. As die Land Rover nou rol, is daar nie ’n manier hoe ek lewend hier sal uitkom nie. Ek sit terug en begin die rit geniet. Mosi-lager smaak goed. Die Land Rover ry deur ’n pragtige landskap. Deur die kiaatwoude blink die Zambezirivier. Ek sien groot beboste eilande in die breë rivier. Plek-plek is daar grasdakgehuggies in die bos. Ek sien plekke waar olifanttroppe die pad oorgesteek het om in die rivier te gaan drink. Hul groot spore en misbolle lê op die wit pad. Ek voel tuis. Die kanne loop baie vinnig leeg. Die bestuurder hou stil; klim uit en pluk ’n jerriekan agter tussen die mense uit en hervul die plastiekhouers. Tydens hierdie pouse rek ek en die vriendelike man met die strooihoed ons bene. Die son sak. Die rivier weerkaats die skemerlig tussen die bome. Vanuit die rigting van grasdakhutte klink die ritmiese tromme op. Ek kyk na die kaart: suidwestelike distrik, Barotseland. Die gebied van die Balozi-mense, Livingstone se Afrika. Dis sterk skemer toe ek die bordjie sien wat die pad na die Suid-Afrikaners se visvangkamp aandui. Ek vra die bestuurder om te stop. Hy beveel die seuns om my rugsak los te maak. Die man met die strooihoed stop ’n papiertjie in my hand en sê in Engels: “Ek bly in Mongu. As jy ooit daar verbyreis, kom by my langs.” Ek bedank hom en die bestuurder. Die mense agterop wuif vir my toe die Land Rover wegtrek. Die spontane gasvryheid van die mense van Zambië sou my in die volgende dae nooit teleurstel nie. Ek lees die gekrap op die papiertjie in my hand: pastoor Alex Kwalombota. Dis donker toe ek begin aanstap. Die wit pad het effe weggedraai van die rivier af en ek is nie seker hoe lank die sandpaadjie is wat my by die visvangkamp gaan uitbring nie. Dit voel lank. Ek stap in duisternis deur die bos. Met groot oë soek ek vir olifante in die donker. ’n Mens is aansienlik banger sonder ’n geweer. Eindelik hoor ek die gedreun van ’n kragopwekker in die verte. Dit word harder
namate ek aanstap. Ek stap in ’n donker tentkamp in. Ek sien ’n dowwe lig brand vanuit ’n grasafdak met ’n breë stoep. ’n Jong man sit agter ’n kroegtoonbank. Hy kyk verbaas op. “Nou het ek alles gesien.” Ek is vuil en stowwerig en ruik na petrol. Ek stel myself voor. André van der Merwe is ’n fris kêrel van om en by my ouderdom. Hy stap na die yskas toe en haal twee Castle-lagers uit. Hy maak dit oop en gee my een. Ons word dadelik vriende. “Nou wat bring jou hiernatoe, Stoffel?” vra André. “Ek soek werk.” Op daardie oomblik kom ’n jong man met donker krulhare en ’n pragtige jong meisie onder die afdak ingestap. Hulle word gevolg deur ’n man met verbleikte boshemp, kortbroek en plakkies. “Laat ek jou voorstel,” sê André. Hy beduie eers na die man en meisie en dan na die agterste man. “Dit is Omri en Karen en dis Jerrie. Hulle werk hier saam met my.” Ons skud hand en nog bier word uitgehaal. André druk ’n kasset in die musieksentrum agter die toonbank en in die Afrika-nag op die oewers van die Zambezi sing die Eagles “Take it easy”. Ek vra André uit. Ek wil weet hoe hy dit reggekry het om ’n konsessie hier te kry. André en sy broer Dawid bestuur die kamp en bied visvangsafari’s en witwaterbootritte aan. Hulle het ook die reg verkry om wildbesigtigingsritte en staptoere in die aangrensende Sioma Ngwezi Nasionale Park te doen. “Ons het goeie navorsing gedoen,” begin André. “Suidwestelike Zambië staan bekend as Barotseland. Die Lozi hier is baie getrou aan hul koning, die litunga. Ons het reguit na hom in Mongu gegaan met ’n voorlegging. Ons het aan hom gesê dat ons toerisme in Barotseland wil bevorder. Hy het dit aan sy khuta, of raad, voorgelê en dit is aanvaar. Die koning se gesag word egter nie deur die sentrale regering in Lusaka erken nie. Ons moes eers daar verbykom. Ons is met ons voorlegging en ons skriftelike toestemming van die litunga Lusaka toe. Daar
het hulle ons duidelik laat verstaan dat die koning se toestemming niks beteken nie, maar dat dit ’n goeie idee is om toerisme in die suidwestelike distrikte, die regering se naam vir Barotseland, te vestig. Hoewel hulle volhou dat hulle nie die litunga se gesag aanvaar nie, weet ons en hulle dat byna ’n kwart van Zambië se bevolking aan hom lojaal is. Daarom is hulle versigtig om hom heeltemal te ignoreer. Dis hoe ons ingekom het. Ons betaal ’n jaarlikse heffing. Ons neem plaaslike inwoners in diens en ons is ook besig om veldwagters op die koning se versoek op te lei om die Sioma Ngwezi te patrolleer.” Hy neem ’n sluk bier. “Ons is nog maar in die beginstadium en sukkel nog. Die bou van die kamp het meer gekos as wat ons bereken het. Dan moet ons nog bemarking doen. My broer is juis nou in Amerika om borge te soek.” André se gesig helder skielik op en hy kyk na Omri en Jerrie. “Luister, ouens, noudat Stoffel hier is, het ons genoeg mense om die witwaters by die valle te gaan aandurf.” Omri en Jerrie dink dis ’n blink gedagte. Ek het skynbaar nie ’n sê in die saak nie en stem maar saam. Witwater, Wolfbergskeure . . . “Jy moet net nie ’n gat in die boot druk met daardie ysterklou van jou nie. Sal jy kan roei?” vra hy terloops. “Natuurlik sal ek kan roei. Lyk dit vir jou asof ek net een arm het?” Almal lag. Die Eagles sing nou “New kid in town”. Ek en Omri en Karen begin gesels terwyl André en Jerrie planne maak vir môre. Omri en Karen kom uit Israel. Omri was ’n diepseeduiker in die Israeli-vloot. Hy en Karen was met vakansie in Afrika toe hulle André in Katima raakloop. André het hulle na sy kamp toe genooi. Dit was ses maande gelede. Omri doen nou instandhoudingswerk om die kamp, kweek groente en versorg die bote en visgerei. Karen is in beheer van die kombuis. Jerrie is ’n oud-Rhodesiër en lei die staptoere en wildernisritte. Hulle wil hoor waar ek vandaan kom en André klink dadelik geïnteresseerd. Ons kuier tot diep in die nag. Die Eagles speel uit met “Peaceful, Easy Feeling” en André wys my ’n leë tent met ’n kampbed waar ek kan slaap.
Ek is vroeg op die volgende môre en nadat ek gestort het, stap ek deur die kamp. Ek sien nou eers hoe pragtig die plek is. Die tente is bedek met rietskerms en staan onder reusekiaatbome. Die kroegafdak en eetkamer kyk uit oor ’n wit strand wat in die donker water van die Zambezi verdwyn. Aan albei kante van die strand is daar twee hoë sandsteenbanke. Die oorkantste oewer is steil en bebos. Ek gaan stap ’n ent langs die rivier en toe ek terugkom, roep Karen my vanuit die eetkamer om te kom eet. Die ander het reeds klaar aangesit. Opgewonde bespreek almal die dag se witwaterekspedisie. Na ontbyt laai ons ’n afgeblaasde rubberboot agterop die vyftontrok. Die toerusting sluit ’n pomp, houtspane, reddingsbaadjies en harde hoede in. Ons spring op die trok en André bestuur. Dis ’n rit van sowat ses kilometer noord langs die rivieroewer tot by die waterval. Die Zambezirivier dam op teen ’n breë sandsteenbank voordat dit oor ’n gebroke terras stort om die Ngonyewaterval te vorm. Die val is omtrent twintig meter hoog. Op die rand van die afgrond het verskeie beboste eilande gevorm met hoë palmbome. Die water stort oor die afgrond in ’n nou skeurvallei af. Aan die voet van die waterval loop die stroomversnellings deur hoë wande. Dis hierdie witwaters wat ons vandag aandurf. Die Ngonyewaterval is omtrent driehonderd kilometer stroomop van die Victoriawaterval. Hoewel nie naastenby so hoog soos die Vicval nie, is dit nietemin baie indrukwekkend. Wat dit egter opwindend maak, is dat baie min mense daarvan weet. Dis in ’n afgeleë, onbekende deel van Zambië. Die Victoriawaterval is een van die grootste toeriste-aantreklikhede in die ganse Afrika. Aan sy Zimbabwe-oewer staan luukse hotelle, restaurante en kampeerplekke. Daagliks beweeg honderde toeriste daardeur. Om daardie rede het ek besluit dat die Victoriawaterval nie deel van my roeteplan gaan uitmaak nie. Nou het ek die geleentheid om een van die min mense te wees wat ’n onbekende waterval se stroomversnellings gaan aandurf. Ek voel soos die ontdekkingsreisiger wat ek altyd wou wees. Ons pomp die rubberboot op. André en Jerrie dra dit oor die klipbanke na ’n baai aan die westelike oewer van die waterval. Die onstuimige groen-en-wit water bruis en maal en my hart begin in afwagting klop. Hoekom geniet ek sulke avonture so? André het ’n witwater-instrukteurskursus gedoen by Vicval. Sorgvuldig demonstreer hy nou aan ons hoe om te stuur en te roei; hoe om die golwe en die stroomversnellings tegemoet te gaan. Hy help vir my en vir Karen
met ons reddingsbaadjies. Ons sit ons hoede op en neem die roeispane. My vlekvryestaal-kunshand lyk min of meer soos ’n gebuigde skerppuntknyptang, net langer. Die basis van die knyptang se twee knypers is van mekaar weggebuig om ’n ring te vorm. Onder die ring, waar die kunshand in die kunsarmgedeelte pas, steek ’n staalhefboom uit wat amper soos ’n duim lyk. Aan hierdie “duim” is ’n dun staalkabel vas. Hierdie kabel loop langs die kunsarm op in ’n seilharnas wat oor my regterskouer pas. Wanneer ek my skouer en rugspiere span, trek die kabel en die hefboom die knyptang oop. Tussen die duim en die oopgetrekte ringgedeelte van die hand is daar dik gomlastiekrekke wat nou om die basis van die knyptang pas. Hierdie rekke bied die weerstand wat die knyptang stewig laat knyp. Ek knyp die roeispaan vas in my kunshand. Dit sit stewig. Ons laat die boot te water en klim aan boord. In die stil water van die baai oefen ons om te roei en om op André se bevele te reageer. Karen roei nie. Sy sit op die vloer van die boot as asier. Ons haak ons voete aan die bande aan die binnekant van die boot. Ek, Omri, Jerrie en André kyk na mekaar en knik. Soos een man roei ons uit die stil baai die kolkende watermassa in. Die rubberbootjie word van een golf na die ander geslinger en in die bruisende stroomversnellings ingesleur. Ons roei soos besetenes. André roep bevele uit. Water spat oor die boeg van die boot. Dan word ons deur ’n golf geskouer en die boot wil kantel. Ons gooi ons gewig teen die golf in en herwin wonderbaarlik ons ewewig. Ek en André jil ekstaties. Ons grynslag vir mekaar, weet ons is twee van ’n soort. Voor ons doem ’n groot wit golf in die middel van die stroomversnelling op. “Vat hom reg van voor af, anders gaan hy ons rol! Kry die boeg in lyn!” beveel André. Ons spook met die roeispane om die boot in lyn te kry, maar tevergeefs. Die wilde water suig ons in en ons tref die golf dwars. Vir my voel dit asof die boot heel uit die water gelig word. Die boot draai gat oor kop en ons tuimel terug, die wit waters in. Ek verloor my greep aan die boot en word die bruisende watermassa ingesuig. Teen ’n hoë snelheid sleur die water my mee. Skerp rotspunte flits rakelings by my verby. Die krag van die water ruk die spaan uit my ysterklou. Dit voel soos ’n ewigheid. Die lug in my longe word minder.
Dan raak die water kalmer en neem ’n donkergroen kleur aan. Ek skop verbete na bo. Daar is geen suurstof in my longe meer oor nie. Bo my sien ek sontrale deur die wateroppervlak breek, maar dis nog ’n ent boontoe. Ek raak benoud. Met my een arm en my bene beur ek boontoe en bars deur die water die helder daglig in. Ek kyk om my rond. Die boot is onderstebo, en dryf stroomaf. Die ander hang aan die toue langs die boot. Op André se bevel word die boot regop geswaai. André klim in en gryp vir Jerrie aan sy reddingsbaadjie. Met Jerrie in die boot help hulle vir Karen in. Omri stoot van agter af en gly self in die boot. Ek word in ’n kalm baai ingespoel. Om my is die water diep en koud en bo my hang druppende takke. My voete raak nie die bodem nie. ’n Onheilsgevoel spoel oor my. Ek wag ’n kans af. Dit kom nie. Die volgende oomblik is die boot by my en Omri pluk my aan my reddingsbaadjie se kraag die water uit. Ons sien my spaan ’n ent weg in die water en dit word herwin. Die stroomversnellings word nou aansienlik kalmer en die res van die vaart word ’n plesierrit. Ons roei by ’n sandbank in en meer vas. Vir ’n ruk sit ons op die sandbank en elkeen vertel van sy ondervinding toe die boot omslaan. Daarna stap ons met ’n wal uit en bevind ons aan die bopunt van die waterval op die oostelike oewer. Ek kan nou sien dat die waterval in ’n halfsirkel lê. Ons keer terug boot toe, trek ons harde hoede en ons reddingsbaadjies aan en pak die laaste stroomversnellings aan. Die rivier is ons die keer genadig en ons slaan nie weer om nie. Terug by die kamp word daar vir die res van die dag vleis gebraai, bier gedrink en musiek geluister. Dit raak jolig. André nooi my om te bly so lank as wat ek wil. Hulle verwag volgende naweek gaste en dan moet ons weer die witwaters in. Ek is altyd gewillig. Later die aand kom Jerrie by my. “Ek moet môre veld toe. Ek is besig om ’n boskamp te bou in die Sioma Ngwezi. Wil jy saamkom?” Ek laat my nie twee keer nooi nie. Dis eers teen laatmiddag die volgende dag dat ek en Jerrie wegkom. Die oggend sit ek en André in sy kantoor. Hy kan my werk aanbied en maaltye en verblyf. Hy kan my nie ’n salaris betaal nie. Om met toeriste te werk sonder betaling is te veel gevra. Ek besluit om nog ’n ruk te bly en dan verder te reis. “Ons sal jou goed kan aanwend, maar ons sukkel nog om aan die gang te kom.
Miskien kan ek jou oor ’n jaar iets beters aanbied.” Ek en Jerrie ry met sy ou Land Rover deur die bos. Die Sioma Ngwezi lê in die suidwestelike hoek van Zambië teen die Angola-grens. Die park gaan al jare gebuk onder onbeheerste stropery. Die vorige president van Zambië, Kenneth Kaunda, het die gebied beskikbaar gestel as ’n opleidingsgebied vir die People’s Liberation Army of Namibia tydens hulle stryd teen Suid-Afrika. Die soldate moes vir hulleself sorg en het vryelik gejag. Suid-Afrikaanse magte het van tyd tot tyd hierdie PLAN-basisse aangeval. Unita-magte het weer die Kwando oorgesteek om olifante hier te kom jag om hul oorlogspoging aan die gang te hou. ’n Ligte reënbui val soos ons deur die veld ry. Dit skep ’n vreedsame atmosfeer in die skemer. Behalwe ’n paar steenbokkies sien ons baie min wild. Ons kom na donker in die reën by die kamp aan. Jong Lozi-mans kom ons in die donker tegemoet en help ons om ons goed na die tent toe te dra. Die neerhalende manier waarop Jerrie met hulle praat, staan my nie aan nie en my houding verkoel teenoor hom. Ek is egter sy gas en ek bly maar stil. Die volgende môre is ek vroeg op. Dit is nog mistig en bewolk. Ek gaan stap in die veld. Ek stap by jakkalsbessiebome, hardekool, worsbome en die grootste melkhoutbessies verby wat ek nog ooit gesien het. Plek-plek herinner die veld aan die Caprivi, maar dan is dit weer heel anders. Op die klam grond sien ek die vars spore van ’n sivetkat, ’n luiperd en ’n trop swartwitpense. Orals is daar daeoudtekens van olifante. Ek verras twee troppies rooibokke. Die wild is tog hier. Mettertyd trek dit oop en word dit sonnig. Terug in die kamp is Jerrie en die span Lozi’s besig om ’n putlatrine te grawe en ’n veldstort op te rig. Toe ek aangestap kom, laat Jerrie die span gaan en begin om vir ons koffie te maak. Hy verduidelik dat die jong manne wat die kamp bou, besig is met opleiding as ’n teenstropereenheid. André en Dawid probeer nog om vir hulle gewere te bekom. Intussen dril Jerrie hulle in die middae. Ek vra oor Jerrie se militêre agtergrond. Geen. Hy sê hy was te jonk vir die Rhodesiese bosoorlog en die Suid-Afrikaanse magte het hom nooit opgeroep nie. Later die middag kyk ek hoe Jerrie sy manne dril en sy gebrek aan militêre opleiding is ooglopend. Die volgende dag gaan stap ek en hy ’n lang ent deur die veld. Hy dra ’n 30 06 en behalwe my knipmes en Bic-aansteker, dra ons geen kampeertoerusting nie.
Ons stap verby ’n klein troppie sebras en drie kameelperde. Sonder om ’n woord te sê, besluit ons om die nag in die veld te slaap. Teen laatmiddag sak daar weer ’n reënbui uit, maar ons ignoreer dit. Teen skemeraand kom ons by ’n verlate pan in die bos aan. Ons stapel ’n groot hoop brandhout opmekaar en maak vuur onder ’n jakkalsbessie. Die reën hou op en dit word ’n pragtige nag. Behalwe die witkoluiltjies en die skopsuiltjies se roep, is die nag stil. Ek probeer om op Jerrie se golflengte te kom, maar slaag nie. Hy het ’n ingewikkelde persoonlikheid en een of ander ertjie oor iets. Dalk voel hy bedreig deur my vriendskap met André en deur die feit dat ek werk kom soek het. Dis nietemin ’n lieflike nag en ek sing ’n paar kampvuurliedjies. Elke nou en dan sleep ek of Jerrie nog stompe nader en die vlamme brand gesellig. Op die klam grond langs die vuur slaap ek rustig. Aan die einde van die week kom ek en Jerrie terug na André se kamp toe. Laatmiddag kom die gaste ook aan. Hulle is Amerikaanse jongmense wat vrywilligerwerk doen vir die Verenigde Volkere-projekte in Katimo Mulilo. Hulle kom aangery agterop ’n bakkie van ’n meisie wat ’n kamp bestuur op Impalila-eiland by die samevloeiing van die Zambezi- en die Choberiviere, waar Botswana, Namibië, Zimbabwe en Zambië bymekaarkom. Sy en André is vriende. Karen is bly dat daar jongmense in die kamp is en ons kuier lekker in die kroeg. Ons dans op die musiek van die Eagles, Creedence Clearwater Revival en The Police. Sonder om ’n woord te sê, klim Jerrie in sy Land Rover en ry in die nag terug na sy boskamp. Dis ’n sonnige Saterdagoggend toe ons weer die witwaters aanpak. Hierdie keer is André in sy eenmankano en hy laat vir Omri in bevel van die rubberboot. Karen het by die kamp gebly. Dit is ek en Omri, Lynn, die meisie van Impalila, George, Caitlin en Marie, die drie Amerikaners, in die boot. Ons stoei met die stroomversnellings en die groot wit golf doem weer voor ons op. Ons roei verbete om die boeg in lyn te kry, maar tevergeefs. Die golf dop die boot weer om. Hierdie keer gryp ek betyds ’n tou raak en bly by die boot. Die woeste water maal en suig en ek moet styf vashou. Die water ruk my plakkies van my voete af. Ek sien hoe Marie ook aan die boot hang. Haar oë is groot en haar gesig bleek. Daar is paniek in haar stem. “Ek verdrink. Help my!”
“Nee, man, jy verdrink nie. Jy hou dan nog aan die boot vas. Hou net styf vas en geniet die rit!” Omri roep na my van die ander kant van die boot. Hy en Caitlin hou nog vas, maar Lynn en George is nêrens te sien nie. Ek sien hoe André met sy kano deur die stroomversnellings glip. Dan sien ek vir Lynn stroomaf dobber. André vaar verby en Lynn gryp die stert van sy kano en hou vas. Omri laat weet dat ek moet help om die boot regop te kry en ek skuif oor na sy kant toe. Ons dop die boot terug. Omri wip oor die rand die boot in. Hy help eers vir Marie en Caitlin in. Die spaan is nog in my klou, maar die water is besig om my kunsarm los te wikkel. “Omri, gryp my arm. Ek is besig om hom te verloor!” Hy lag en lig my kunsarm, wat nou nog net aan die band oor my skouer hang, uit die water. Ek gly oor die kant van die boot in. Marie het haar spaan verloor en sit bleek en verwese in die boot. “Ek weet nie of ek dit geniet het nie,” sê sy. Intussen het George se kop ver stroomaf bo die water verskyn. Ek en Omri en Caitlin roei hard om by hom uit te kom. André, met Lynn wat nog aan sy stert hang, sny voor ons in vir George tegemoet. George se oë is so groot soos pierings. Hy omhels die kano met al twee arms en weier om weer te laat los. André beduie vir ons om aan wal te gaan op ’n nabygeleë sandbank onder die waterval. Ons roei soontoe. Ou George strompel op die sandbank uit, dankbaar vir grond onder sy voete. Hy en Marie is stil en bleek. Caitlin en Lynn lyk opgewonde. Hulle het dit geniet. Ons hergroepeer. Daar is nog een stroomversnelling voor ons by die oorkantste oewer is waar ons teen die waterval gaan uitklim. Ons laat die boot te water en roei die witwater in. Ons kantel nie weer nie en gaan ’n ent verder aan wal om teen die waterval uit te klim. Op die rand van die waterval begin ek en Caitlin gesels. Sy is ’n mooi meisie met swart hare en groen oë. Toe die boot omdop, was sy baie kalm en ek het dit bewonder. Nou vra sy my hoe ek my arm verloor het en dit pla my nie om haar te vertel nie. Ek sien simpatie in haar oë. Dit word tyd om die laaste stroomversnelling te pak. Dit vloei weg van die waterval, deur steil sandsteenwande, voordat die rivier verbreed en sy egalige
vloei hervat. Ons kantel nie weer nie en ek en Omri klop mekaar op die skouer. Ek hou van hom. Op pad terug kamp toe sit ek en Omri en George op die trok se dak. George het sy kleur en sy tong teruggekry en vertel vir ons hoe hy dog sy laaste dag breek aan toe dit vir hom voel of die witwater hom nie weer gaan uitspoeg nie. Ek en Omri lag en klop hom ook op die skouer. Deur die luik in die dak sien ek die ander in die kajuit onder ons. André bestuur en die meisies sit langs hom. Ook hulle gesels opgewonde. ’n Mens maak vinnig vriende wanneer gevaar saam trotseer word. Ons bring die res van die dag op die wit strand aan die oewer van die Zambezi deur. Die witwaters van die Ngonyewaterval was tot dusver een van die hoogtepunte van my reis. Daardie aand dans André met Lynn, Omri met Karen, George met Marie en ek met Caitlin! Ons kuier tot laat en sing en gesels oor diep dinge. Môre vertrek die gaste weer terug Katima Mulilo toe. Die grootste deel van die Sondag verwyl ons luilekker op die stoep van die kroeg. Ek en Caitlin het goeie vriende geword. Oor twee maande gaan sy terug Amerika toe om verder te studeer. Teen laatmiddag neem ons afskeid. Toe almal in Lynn se bakkie klim, kom Caitlin na my toe. Sy vat aan my geskende lyf en sê: “Jy is meer as man.” Ek voel skielik trane agter my oë brand en ek druk haar styf teen my vas. Dit is die mooiste kompliment wat iemand nog ooit vir my gegee het. Sy spring agterop die bakkie en wuif toe Lynn wegtrek. Totsiens, Caitlin O’Connell. Ek sal jou nooit vergeet nie.
10
Ek lê op my kampbed in die tent. Buite in die bos kondig die rooibekfisante die koms van die nuwe dag aan. In die oorkantste tent lê André nog en slaap. Vandag moet ek vort. Ek dink aan hoe voorspoedig ek tot dusver gereis het. Die welwillendheid en gasvryheid wat ek van ou bekendes én vreemdelinge ontvang het. Ek hoop dit bly so. Ek sien die hervatting van my reis vandag as ’n nuwe fase. Tot nou toe was die weldoeners op my pad hoofsaaklik bekendes: veldwagters, boere, ou vriende. Vorentoe sou ek meer aangewese wees op die plaaslike gemeenskap. Hoe sou hulle optree teenoor my? Ek is ’n Afrikaner. Apartheid lê nog vars in die geheue van Afrika. Ek staan op en stap rivier toe. Ek gaan sit op ’n klip en kyk hoe die son deur die bome opkom aan die oorkantste oewer. ’n Visarend se roep weerklink oor die water. “Freedom’s just another word for nothing left to lose,” neurie ek Kris Kristofferson se liedjie. Skielik is ek opgewek en lus vir die reis. Dit word laatoggend om die ontbyttafel. Dis asof André, Omri en Karen traag is om my te laat gaan. Toe ek my rugsak opsit, pas dit gemaklik, soos ’n ou vriend. Ek en André skud hand. Dan ek en Omri. “Maak seker dat jy weer hier verbykom,” sê hy. Karen gee my ’n druk en ’n soen. Dan stop André ’n Castle-lager in my rugsak. Ek vat die pad met die rivieroewer langs noord. Ek stap die ses kilometer na die waterval vinnig af. By die waterval sit ek op ’n klip onder ’n boom en drink die bier. Vir oulaas bewonder ek die waterval. Die kans dat ’n voertuig my op hierdie verlate pad gaan oplaai, is skraal. Ek besluit om aan te stap tot ek moeg word en dan in die veld te slaap. Dit skeel my nie hoe ver ek kom en waar ek slaap nie. Die pad volg die vloei van die Zambezirivier. Onder die kiaatbome staan grasdakgehuggies. Die son skuif oor die heuwel en ek stap voort. ’n Vrou by ’n vuur langs haar hut roep my nader en bied ’n beker soet tee aan. Tussen die hoenders en kinders en bokke drink ek gretig, terwyl die vrou tevrede toekyk. Sy
probeer met my kommunikeer in Lozi. Ek herken ’n paar Sotho-woorde in haar sinne en ek praat in gebrekkige Sotho terug. Ons praat half by mekaar verby maar dit maak nie saak nie. Ek stap voort. Dit word laatmiddag en my pak word swaar en my voete begin sleep. Mense en beeste kom van voor af aan. Almal kyk my belangstellend aan. Van tyd tot tyd kom stap mense saam met my en vra my uit. Waar kom ek vandaan en waarheen is ek op pad? Ek is self nie so seker van die antwoorde nie. Toe die son die boomtoppe in die weste begin raak, kom ’n jong man uit ’n kraal my tegemoetgedraf. Hy is tengerig gebou en kondig aan: “Jy moet jou rugsak vir my gee.” Ek kyk hom vraend aan. “Ek is Eddie Matsane. Jy is moeg en ek moet jou rugsak dra,” dring hy aan. Ek probeer verduidelik dat ek piekfyn is, maar hy wil niks hoor nie. Ek wil nie sy gevoelens seermaak nie en haal my rugsak af. Gemaklik swaai hy die rugsak op sy skouers. Dis omtrent net so groot soos hy, maar hy stap met ’n gemaklike pas langs my. Dis ’n verligting om sonder ’n rugsak te stap. Eddie Matsane gesels opgewek. “Twee kilometer vorentoe is die Sioma Katolieke Sendingstasie. Ek ken die Vader daar. Jy moet vanaand daar slaap.” Eddie Matsane klop aan die deur van die personeelkwartiere van die Sioma Katolieke Sendingstasie. Twee bejaarde mans verskyn in die donker gang. “Goeienaand, Vader. My naam is Stoffel Mathysen en ek soek slaapplek vir die nag.” Vader Theophilus en Broeder Hugh is twee Ierse Katolieke sendelinge wat al jare lank sendingwerk in suidwestelike Zambië doen. Ek word ’n warm aandete aangebied. Aan die muur van die eetsaal hang swart-wit groepfoto’s van mans in monnikegewaad voor klimopbedekte katedraalmure iewers in Ierland. Ek soek ’n veel jonger Vader Theophilus tussen die gesigte uit. Ek word ’n slaapkamer gewys en dan die badkamer. Vir die eerste keer in ’n lang ruk neem ek ’n warm bad. Broeder Hugh nooi my om saam met hulle ’n video te kom kyk en ons drink Mosi-lager. Die video is The Prince of Tides met Nick Nolte en Barbra Streisand. Die twee sendelinge woon in eenvoudige, maar gerieflike
omstandighede. Hulle is al meer as dertig jaar op Sioma. Hulle dae word nou min. Broeder Hugh deel my mee dat hul voorradevragmotor môre Mongu toe vertrek. Ek kan saamry as ek wil. Teen tienuur die aand skakel iemand die kragopwekker af en ons kyk nie die video klaar nie. Ek het vandag amper twintig kilometer gestap en ek slaap vas. Weer eens het die Voorsienigheid gesorg. Die volgende môre staan die vragmotor onder die groot wildevyeboom in die vervalle binnehof van die sendingstasie. Ek groet vir Vader Theophilus en vir Broeder Hugh. Eddie Matsane kom ook by en ek bedank hom weer vir sy hulp. Die bestuurder beduie vir my om voor te kom sit. Eddie en ander manne help om my rugsak agterop te gooi. Die vragmotor trek weg. Ons ry nou in ’n noord-noordwestelike rigting al met die oewer van die rivier langs. Die son glinster op die rivier. Die trok skud oor die sinkplaatpad. Ek voel vars en uitgerus. Opgewek gaan ek verder die onbekende in. By Kalongola moet ons die Zambezirivier met ’n pont oorsteek. Daar het egter ’n vragmotor in die riviersand voor die pont vasgeval en ons word opgehou. Ek dwaal rond tussen die stalletjies van die mark op die rivieroewer. Allerhande goed word verkoop: balpuntpenne, kamme, lekkers en gedroogde vis. Ek koop vir my varsgebakte brood en ’n Coke. Ek moet die bottel terugbring as ek klaar is. Mense staar na my en ander kom vra my uit. Soos orals verkyk hulle hul aan my kunsarm. Dit neem heeldag vir die ander trok om uit die sand los te kom. Net voor sononder bestyg ons vragmotor die pont. Ek gaan aan boord saam met ander mense. Stadig trek die pont van die wal af weg. Die Zambezi is baie breed hier. Stroomaf sien ek ’n paar seekoeie wat hul koppe bo die water uitsteek. Dis skemer toe die trok van die oorkantste oewer wegtrek. Vanaf Kalongola ry ons na Senanga. Voordat die nag daal, merk ek dat ons nou oor wye vloedvlaktes ry. Na Senanga is die volgende dorp Mongu, hoofstad van Barotseland. Om halfelf die aand trek die vragmotor die stowwerige hoofstraat van Mongu binne. Ek klim af by ’n sjebien. In my hand het ek die papiertjie wat pastoor Alex Kwalombota vir my gegee het. Die eerste groepie mense wat ek vra, ken hom en weet waar hy woon. Hulle beduie my die rigting. Ek stap deur strate van diep sand. Die assteenhuis waarheen die mense my beduie het, is donker. Ek
klop aan die deur. Dit neem lank voor die deur op ’n skrefie oopgemaak word. Die gesig van ’n jong meisie loer uit. Haar oë is groot en onseker. “Ek soek vir Alex Kwalombota.” Sy maak die deur toe en ek wag. Alex Kwalombota, die jong man met die strooihoed in die ou Land Rover, vee die slaap uit sy oë toe hy die deur oopmaak. “Stoffel, kom in. Baie welkom.” Hy glimlag vriendelik. “Wag, ek dra gou vir jou ’n matras in die sitkamer in. Jy is seker baie moeg.” Ek staan in sy sitkamer. Dit is vol ou goedkoop meubels. Aan die mure hang godsdienstige prente en slagspreuke. Op ’n lessenaar in een hoek staan ’n rekenaar en stapels boeke. Alex kom terug met ’n matras, lakens en komberse. Hy maak vir my ’n bed op en sê vir die jong meisietjie om vir my tee te maak. Sy het intussen nog kerse opgesteek. Ek lig hom vlugtig in oor my reis sedert ek hom laas gesien het. Met ’n buiging van die knie en kop omlaag, oorhandig die meisie my tee. Dit smaak heerlik. Alex sê dat ons môre sal praat, sê goeienag en verdwyn in die donker huis. Die meisie loop agterna. Ek het skaars uitgetrek of die muskiete pak om my saam. Die huis is bedompig. Ek haal ’n muskietring uit my rugsak, steek dit aan en maak dit staan langs my matras. Kort voor lank slaap ek vas. Om die ontbyttafel die volgende oggend leer ek vir Alex en sy familie beter ken. Sy vrou, Brenda, is ’n onderwyseres. Hulle het twee klein seuntjies. Die meisie wat gisteraand die deur oopgemaak het, is Alex se niggie, Gertrude. Sy versorg die twee seuntjies as Brenda skoolhou. Sy sit ’n pot mieliepap, ’n beker melk, suiker en botter op ’n sytafeltjie neer, kniel en klap haar hande liggies teen mekaar en kondig aan dat die ontbyt gereed is. Mongu is Alex se tuisdorp. As jong seun is hy tot die Christelike geloof bekeer en het besluit om die evangelie te gaan verkondig in afgeleë dele van Barotseland. Hy het groot afstande te voet afgelê om gemeenskappe te bereik. Hy het roem verwerf as ’n toegewyde prediker en is genader deur ’n kerkgroep in Lusaka om hul kerk te kom lei. Hy het soontoe verhuis. Daar het hy vir Brenda ontmoet. Hulle is getroud en drie seuntjies is gebore. Hy was egter heeltyd bewus van die armoede en nood in Mongu en Barotseland en het geroepe gevoel om terug te keer.
Kort na Alex en Brenda se terugkeer na Mongu is hul jongste seuntjie aan malaria dood. Alex sê hy sal nooit ophou treur nie. Hy is geweldig liefderik teenoor sy kinders. ’n Ander sy van Alex sou in die volgende dae sterk na vore kom. Hy is politikus en ’n vurige Lozi-nasionalis. Dit is hierdie sy van hom wat daartoe gelei het dat hy kort na sy terugkeer uit Lusaka verkies is tot raadslid van die litunga, of koning van Barotseland se raad. Hy was pas drie-en-dertig. Onwetend het ek die gas geword van ’n gesiene man. In die volgende paar dae sou ek belangrike insigte kry in die politieke omstandighede van Zambië en Barotseland. Na ontbyt sê Alex: “Ek het baie om jou te wys.” Ons stap uit in die sanderige strate van Mongu. Die dorp is geleë op die rand van ’n vloedvlakte wat strek sover as die oog kan sien. Normaalweg is dit ’n waterryke gebied, maar vanjaar was ’n swak reënjaar en die gras op die vloedvlaktes is geel en verdor. Alex bly in een van die meer gegoede dele van Mongu, maar steeds is sy huis van ongepleisterde assteen, met ’n sinkplaatdak sonder plafon. Sy huis staan uit bo die krotte. Onder op die vloedvlakte staan ’n klompie riet-, gras- en matjieshutte opmekaar. Alex volg my blik. “Ons sal later soontoe gaan.” By ’n taxihalte klim ons op ’n minibus en verlaat die dorp. Tien kilometer vorentoe stop ons by ’n kleiner dorpie. “Dis Limulunga, my eintlike geboorteplek,” sê Alex. “Dit is ook die somerverblyf van die litunga en die plek waar die jaarlikse Kuombokaseremonie plaasvind. Hierdie jaar was die water te laag en daar was geen Kuomboka nie.” Die vloedwaters uit die hooglande van Angola bereik eers die vloedvlaktes van die Zambezi hier teen Meimaand. As die riviere en vloedvlaktes vol loop, vergader honderde vlotte en bote op die water by Limulunga. Die Balozi is afhanklik van die riviere en vleilande. Hulle maak grotendeels ’n bestaan uit visvang en bewerk hulle landerye op die vrugbare vloedvlaktes. Die koms van die water is rede tot blydskap en dankbaarheid. Duisende mense van oor die hele Barotseland versamel aan die begin van Junie by Limulungu vir die seremonie.
’n Luisterryke verbyvaart van vlotte vind plaas. Die hoogtepunt is wanneer die koning sy verskyning op die koninklike bark maak. Dis ’n langwerpige boot, helderrooi-en-wit geverf, aangedryf deur negentig roeiers in tradisionele drag, met die koning op ’n troon in die middel, onder ’n tent. Die Kuomboka sou nou plaasgevind het terwyl ek in Mongu is. Maar hierdie jaar het die water weggebly. Alex wys my die koning se somertuiste. Dis ’n dubbelverdiepinghuis. Die tuin is verwaarloos. Die koning is tans by sy wintertuiste op die vloedvlakte. Ons loop oor die straat na ’n klein museum. By die ingang is daar ’n groot landkaart teen die muur. Dit toon die huidige grense van Zambië se suidwestelike distrik en dan wys dit die oorspronklike Barotseland waarop die litunga steeds aanspraak maak. Ek sien dat die ou Barotseland dele van Suidoos-Angola insluit asook die Caprivi-strook. “Die Caprivi is ’n kolonialistiese skepping,” verduidelik Alex. “Dis nie geografies deel van Namibië nie. Hoofman Mamili van die Oos-Caprivi is ’n onderdaan van die litunga. Om die waarheid te sê, hy is aangestel deur die koning. In die gees is die Balozi van die Caprivi een met ons. Hulle is ons mense.” Die museumuitstalling stel die verskillende aspekte van die Lozi se leefwyse ten toon. Daar is ’n interessante uitstalling oor medisyne, toordokters en heksery. Die middelpunt van die museum is ’n reuse-skaalmodel wat onmiddellik my aandag trek. Die model beeld die deursnee van ’n riviersisteem baie realisties uit. Daar is die hoofstroom in die middel van die vloedvlakte en ’n paar systrome. Aan albei kante is oewers en bosveld. Op hierdie rivierlandskap word elke aspek van die Lozi se daaglikse leefwyse uitgebeeld met geverfde kleifiguurtjies. Die hutjies en krale is van gras en takkies gebou. Daar word vroue uitgebeeld wat koring stamp en bier brou. Danse, ’n huwelik en ’n inisiasieseremonie vind plaas tussen die bome op die oewer. ’n Beeswagter jaag sy kleibeeste water toe. Op die vloedvlakte ploeg ’n man sy lande en jagters met assegaaie en honde jaag ’n rietbok uit die gras op. Op die rivier vang mense met mekoro’s en nette vis, terwyl ’n kleiseekoei hul op ’n afstand dophou. Dis ’n indrukwekkende uitstalling. Alex is trots dat die Lozi-gemeenskap met die beperkte middele tot hul beskikking die museum tot stand gebring het. In die bussie terug Mongu toe, vertel Alex my meer van die geskiedenis van Barotseland. Hy is veral trots op die feit dat dr. David Livingstone sendingstasies in Barotseland gestig het nadat hy by Robert Moffat op Kuruman weg is.
Livingstone het toestemming gekry van die litunga van daardie tyd, Lewanika, om ’n sendingstasie by Zambezi te begin. Later het dit uitgebrei na die uithoeke van Barotseland. Toe Livingstone vort is op sy ontdekkingsreise, het ander sendelinge uit Skotland gekom om die evangelie in Barotseland te verkondig. Wat vir my nog interessanter is, is dat Shaka Zulu se skrikbewind in Zoeloeland, lank voor Livingstone se koms, ’n groot rol gespeel het in die geskiedenis van Barotseland. ’n Sothosprekende hoofman van Shaka met die naam van Sebetwane het, soos ander indoenas, besluit om weg te breek van Shaka se tirannie. Sebetwane het op die westelike grens van Zoeloeland in die voetheuwels van die Drakensberg gebly. Hy het met sy mense noordwes gevlug, die berge oorgesteek, oor die hoëveld en al met die rand van die Kalahariwoestyn opgetrek. Toe hy die waterryke land van die Balozi bereik, het hy besluit dat dit die plek is waar hy hom wil vestig. Hy moes egter eers afreken met die Balozi en hul litunga. Sebetwane was geskool in die legendariese “horings van die bul”-krygstaktiek van Shaka. Die rewolusionêre kort steekassegaai, groot beesvelskild en gedissiplineerde krygers het hom onoorwonne gemaak. Die Balozi is beslissend verslaan. Die litunga kon egter daarin slaag om met ’n groep van sy mense in Angola in te vlug en daar in ballingskap te lewe. Die res van die Lozi is aan Sebetwane onderwerp. Na die besetting het Sebetwane ook Shaka se regeringsmetodes toegepas. Die ou manne en ou vroue is om die lewe gebring. Die jong vroue is as eggenote en bywywe aan die krygers gegee. Die jong manne en seuns is opgelei as soldate in Sebetwane se impi’s. Hierdie laaste maatreël sou uiteindelilk lei tot die ondergang van die Mokololo, soos Sebetwane se mense bekend gestaan het. Sebetwane se krygers se koppe was kaal geskeer en “kololo” is die Sothowoord vir ’n ronde granietkoppie of rots. Vandaar die naam Mokololo. Vir veertig jaar het Sebetwane en ’n opvolger oor Barotseland regeer. Lojale Lozi-krygers het begin dros na hul koning in ballingskap en daar is die jong manne opgelei. Hierdie versetpoging het deur die jare gegroei en is haarfyn beplan. Die Mokololo het intussen lui en vet geword en is uiteindelik in twee bloedige gevegte met hul eie krygstaktiek verslaan. Die litunga kon na veertig jaar as heerser na sy land terugkeer. Terug in Mongu gaan ek die middag saam met Alex huisbesoek doen by ’n huis
waar daar dood in die familie is. Die huis is vol mense toe ons daar aankom. Onder ’n boom in die tuin sit ’n klompie ou manne met wit koppe en kieries. Op ’n stoep sit ’n groep vroue op die sementvloer. Alex laat my by ’n groep mans in die voorhuis, terwyl hy met die familie van die gestorwene gaan praat. Die gesprek van die mans in die voorhuis het niks met die dood in die familie te doen nie. Hulle praat politiek en gemoedere loop hoog. Ek sit en luister met my gebrekkige kennis van Sotho. Barotseland is nie deel van Zambië nie en daar moet weggebreek word, sê een. Die grense van die huidige Zambië is bepaal deur Cecil John Rhodes wat Afrika van noord tot suid ’n Britse kolonie wou maak, sê ’n ander. Etniese grense en stamgebiede is nie in ag geneem nie. Toe Kaunda aan bewind gekom het, het hy Zambië ’n eenpartystaat gemaak om die koning van Barotseland se gesag te ondermyn. Een nasie se voet! Barotseland staan alleen. Kaunda het met opset gedisinvesteer in Barotseland omdat hy geweet het die Balozi staan by hul koning en aanvaar nie sy gesag nie. Ja, en Kaunda is nie eers in Zambië gebore nie! Hy is van Malawi. Chiluba is nie veel beter nie. Hy wil oorlog hê met Barotseland! Op hierdie oomblik kom Alex terug. Hy staan langs my en luister vir ’n oomblik na die gesprek en dan begin hy aan my verduidelik. Chiluba het ’n bankrotstaat by Kaunda geërf. Hy het Zambië ’n veelpartystaat gemaak en dis deur die Balozi met blydskap begroet. Moontlik sou die litunga se gesag uiteindelik aanvaar word. Hulle het ’n brief aan Chiluba gerig oor die Balozi se onafhanklikheid, maar sy antwoord was ondubbelsinnig: daar sal niks van kom nie. Hy sal rebelsheid straf deur troepe na Mongu te stuur om die koning in hegtenis te neem. Chiluba se antwoord het soos ’n veldbrand deur Barotseland getrek. Twintigduisend man het met kieries, assegaaie, ou .303’s en haelgewere na Limulunga opgeruk om die koning te beskerm. Kom, Chiluba, bring jou troepe, het die khuta geantwoord. Chiluba kon nie burgeroorlog bekostig nie en het nie reageer nie. Die situasie bly dus onopgelos. In die volgende paar dae loop ek en Alex deur die strate van Mongu. Kinders hardloop voor ons uit en roep “Mokoa, Mokoa!” (Wit man, wit man!) Alex raas met hulle. Hy neem my na die nuwe hawe waar daar vissersbote van alle groottes en soorte vasgemeer lê langs ’n netwerk van kanale en systrome. Ons stap deur ’n doolhof van riet- en grashutte. Die toestande is haglik. Moord,
roof en prostitusie vier hoogty in hierdie deel van die dorp. ’n Groot getal mense hier is HIV-positief. Ons stap verby ’n rietskerm van waar die mooiste musiek kom. Alex beduie vir my om saam te kom en ons stap agter die skerm in. Op ’n vuur staan ’n konka vol Muhango-bier en prut. In die sand onder die skaduwee van ’n boom en teen die muur van ’n hut sit mans en vrouens rond in groepies. By elke groepie word ’n pot bier rondgestuur. Almal is in verskillende stadiums van dronkenskap. Die jong mans staan en tokkel op die langste xilofoon wat ek nog gesien het. Dis gemaak uit gekerfde houtblokkies en kalbasse van verskillende groottes. Dit word met boombas aanmekaargehou. Ek verwonder my oor die suiwer klanke wat uit so ’n kru-vervaardigde instrument kom. Alex meng vryelik met die mense. Hulle koester geen vyandigheid teenoor hom omdat hy een van die meer gegoede lede van die gemeenskap is nie. Ek kan sien dat hy baie werk tussen hierdie mense moet gedoen het, want hulle tree met respek en dankbaarheid teenoor hom op. Hy hurk by ’n ou man en wissel ’n paar woorde. Dan gaan hy na die musikante, neem ’n paar stokkies by ’n speler wat vir hom plek maak en val met sy eie weergawe van die ritmiese melodie in. Ons gaan na die hospitaal van Mongu en Alex wys my die bed waarop sy kindjie gesterf het. Hy tel die dogtertjie wat nou daar lê op en druk haar sagkens teen hom vas en wieg haar. Alex is vol deernis vir sy mense om hom. Ek kan sien dat die hospitaalpersoneel hul uiterste probeer om ’n higiëniese standaard te handhaaf. Maar dit gaan broekskeur. Daar is nie lopende water nie. ’n Ou waterlorrie bring daagliks water van die rivier af. Dan moet dit eers gekook word. Mediese toerusting is verouderd, medisyne is skaars en linne is gelap en voos. “Wat is dan fout?” vra ek vir Alex. “Die geld filtreer nie van die hoë regeringskringe af na die mense wat dit werklik nodig het nie. Korrupsie. Die hoë regeringsamptenare leef in weelde,” antwoord hy met ’n sweempie bitterheid in sy stem. Een middag stap ek en Alex verby ’n stalletjie waar ’n groep jongmense staan. Ek het nie gehoor wat gesê is nie, maar skielik swaai Alex om en begin ’n jong man in Lozi uittrap. Verneder voor sy vriende begin die man teëpraat. Ek het nie ’n idee wat aangaan nie. Die volgende oomblik gryp Alex die jong man aan sy kraag en gee hom ’n oorveeg dat hy teen die stalletjie steier. Die man buk om ’n halwe baksteen op te tel, maar Alex kom hom weer by met ’n rughand.
“Dis nie ’n misdaad om ’n wit man te wees nie,” skree Alex woedend in Engels. Hy laat die man agter waar hy verdwaas langs die stalletjie hurk. Sy vriende staan afsydig en toekyk. Alex wil nie veel uitbrei oor wat gesê is nie. Dit was blykbaar ’n opmerking oor seks met ’n wit man wat die jong man teenoor sy vriendin gemaak het. Ons loop ver voor Alex afkoel. Hy verduidelik dat ek baie aandag trek, want in Mongu is die mense nie gewoond aan ’n wit man wat op straat loop nie. “Die enigste wit mense wat hierdie mense sien, is dié wat van tyd tot tyd met hul vierwielaangedrewe voertuie hier deurry.” En dis waar. Ek het nog nie ’n enkele blanke in Mongu se strate gesien nie. Soms sit ek en Alex en Brenda in die voorhuis en gesels. Dan kom Gertrude uit die kombuis, hurk en klap haar hande liggies teen mekaar en kondig in ’n sagte stem aan dat die aandete gereed is. Die twee klein seuntjies klouter oor hulle pa. Alex wys hulle nooit weg nie. Dit is op sulke aande dat ek vir Brenda en Alex van my wêreld vertel. Ek praat van die Krugerwildtuin en van die NoordTransvaal en van my ouerhuis in Pretoria. Om die tafel een aand, terwyl ons rys, kapenta en kool eet, sê Alex: “Ek wil jou môre aan ’n vriend van my gaan voorstel. Hy mag dalk geïnteresseerd wees in jou.” Dr. Manguelwa Inamboa Manguelwa se huis is aansienlik luukser as Alex Kwalombota s’n. Hy moet iemand wees met aansien in Mongu. Hy en Alex groet mekaar met die gebruiklike ligte handeklap. Ek word voorgestel en ons skud hande. Sy vrou bring vir ons koeldrank in die voorhuis. Hy en Alex gesels oor ’n paar algemene sake voordat Alex hom van my agtergrond vertel. Dr. Manguelwa luister belangstellend. “Het jy enige veeartsenykundige ondervinding?” vra hy. Ek vertel hom dat ek betrokke was by die monitering van die miltsiekteepidemie in die sentrale dele van die Krugerwildtuin in 1993. Hy knik. “Ek is hoof van die Veeartsenydepartement se tsetsevlieg-beheerspan. Ek moet volgende week ’n opleidingskursus in die Kafue Nasionale Park gaan aanbied. Ek sal dit waardeer as jy kan saamkom en met die kursuslede kan praat.”
“Ja, maar ek weet nie veel nie. Ek was maar net een van die moniteringspan saam met veeartsenykundige tegnici.” “Enigiets wat jy ons kan vertel, sal van waarde wees. Die mense is honger vir inligting.” “Dit sal ’n plesier wees om saam te kom. Baie dankie,” sê ek. “Nee, glo my, jy kan ons help. Ek ry Sondag om sake daar te gaan voorberei. Dit sal tien dae duur. Dan moet ek deur Lusaka toe. Jy kan dan ook sommer saamry.”
11
Sondagoggend verlaat ek en dr. Manguelwa Inamboa Manguelwa die dorp Mongu. Ek en Alex groet. Vir Brenda koop ek sjokolade teen ’n geweldige hoë prys en lekkers vir die kinders, ’n klein vergoeding vir hul gasvryheid. Ek en Manguelwa ry in sy vierwielaangedrewe Toyota Hilux-bakkie in ’n oostelike rigting. Om ons staan die breëblaarwoudlande in herfskleure. Op die horison is die rook van ’n veldbrand. Hierdie tyd van die jaar brand Afrika maar oral. Manguelwa het in Lusaka gekwalifiseer en vir jare in Kenia gewerk. Hy lig my in oor tsetsevliegbeheer in Zambië. Daar word alleenlik beheer toegepas in die veeteeltareas. In nasionale parke en wildernisgebiede word die tsetsevlieg alleen gelaat. Kursusse word in Kafue Nasionale Park gedoen omdat daar baie tsetsevlieë is, vir praktiese demonstrasies. Ons draai in by Kaoma vir ’n laat ontbyt. Teen middag gaan ons by ’n voertuigbeheerpunt die Kafue Nasionale Park binne. Dadelik sien ek troppe rooibokke langs die pad staan. Om ons is die rook van veldvure in die lug. Ons draai af op ’n gruispad en trek in by die Chungakampplek op die oewers van die Kafuerivier. Die Kafue is ’n breë rivier, op plekke so groot soos die Okavango en die Zambezi. Manguelwa het die Chungakamp bespreek vir die kursusleiers. Die kursuslede sou in die Chunga-natuurlewebestuurskollege ’n paar kilometers stroomop bly. Hy begin met voorbereidings vir die kursus. Ek gaan loop ’n ent in die rivieroewerbos en sien bobbejane en ’n groot bosbokram. Rivierop hoor ek seekoeie en ’n visarend. Toe ek terugkom by die kamp het van die ander kursusleiers opgedaag. Ek ontmoet nog twee bioloë, dokters Wilfred Tembo en Lewis Nayini en ’n paar tegnici. Hem Takersi is ’n Indiër uit Zimbabwe wat in raadgewende hoedanigheid saam met dr. Manguelwa werk. Die kursuslede sal môre met ’n vragmotor opdaag. Chunga is ’n ou maar gerieflike kamp en baie mooi geleë. Die kok maak vir ons
pap en beesvleisbredie en ons sit onder ’n grasafdak en eet. Dr. Lewis Nayini behoort aan die Angoni-stam. Die Angoni se gebied sluit Noord-Zambië, Malawi en suidelike Tanzanië in. Weer eens herinner dit aan Shaka se invloed in ander dele van Afrika. Nadat Shaka die gedugte Zwide gedood en sy twee generaals, Soshangane en Zwangendaba, verslaan het, het Soshangane noordoos gevlug na die huidige Mosambiek. Daar het hy die Tsongasprekende stamme verslaan en ingelyf. Kort voor lank was hy heerser oor ’n groot groep mense wat hulself die “AmaShangan” genoem het – mense van Soshangane. Filliosse Mula en James Mathebula, my staptoermakkers in die Krugerwildtuin, is lede van hierdie trotse stam. Zwangendaba het veel verder noord getrek en die Angoni-ryk gevestig, so groot dat dit deur latere koloniale magte verdeel is. Die Angoni het hulle aan die begin van hierdie eeu verset teen Duitse heerskappy in Tanganjika. Hulle is met Duitse onwrikbaarheid en gevorderde Westerse wapentuig verslaan. Lewis merk op dat almal wat van Shaka af weggevlug het, groot heersers en helde elders in Afrika geword het: Zwangendaba, Soshangane en Sebetwana. Ek voeg een by, een wat magtiger as al die ander was. Hy was ’n kleinseun van Zwide en eertydse vertroueling van Shaka: Mzilikazi, “Die groot pad”, seun van Khumalo, koning van die Matebele. Dit word ’n aand van geskiedenis praat op die oewers van die Kafue. Hier sluit mý geskiedenis ook aan. Toe Mzilikazi Zoeloeland verlaat, het hy Tswanastamme uit die Noord-Transvaal verdryf. Hierdie stamme het die Kalahariwoestyn in gevlug en hulle afstammelinge is vandag die inwoners van Botswana. Mzilikazi self het nie lank in die Noord-Transvaal gebly nie. Daar het ’n nuwe groep mense hulle verskyning gemaak. Toe Mzilikazi se Matabeles Hendrik Potgieter se Trekkerlaer aanval by Vegkop, het al twee kante dit as ’n oorwinning beskou. Die Matabeles is met swaar lewensverlies van die waens af teruggedryf, maar hulle het weggekom met die meeste van Potgieter se beeste. ’n Groot prys vir hulle koning. Potgieter was gestrand en moes osse vir sy waens in die Kaapkolonie gaan haal. Dit het hom maande lank opgehou en toe hy eindelik weer kon trek, was hy uit op vergelding.
Toe die Matabeles die Boere weer raakloop, was hulle nie bestand teen Potgieter se ruiters wat die krygers vanuit die saal platgeskiet het nie. Mzilikazi het self die agterhoede gedek toe die Matabeles oor die Limpoporivier verdryf is. Dit is welbekend dat Potgieter sy veldtog net teen die Matabele-krygers geloods het. Vrouens en kinders is gespaar en is toegelaat om die Limpopo oor te steek. Dit is meer as wat van Mzilikazi gesê kon word in sy veldtogte teen ander stamme. Miskien is dit die rede waarom Mzilikazi later jare Boerejagters toegelaat het om olifante in sy Matabeleland noord van die Limpopo te kom skiet. Dit was drie van hierdie Boerejagters, Jan Viljoen, Petrus Jacobs en Okkert Oosthuizen, wat die eerste blankes geword het om wat vandag bekend staan as die Victoriawaterval, te sien. Hierdie manne het hulle nie veel aan die val gesteur nie. Hulle het dit oor hulle gestopte pype bestudeer en daarna aangery agter ivoordraers aan. Hulle kon dit nie aanteken nie, want al drie was ongeletterd. Doktor David Livingstone sou later die titel van “ontdekker” van die Victoriaval vir homself toe-eien. Na ’n laaste koppie tee kondig dr. Manguelwa aan dat môre ’n lang dag is en dat hy gaan slaap. Almal stem saam. Ek kry ’n grasdakrondawel van my eie. Die volgende môre na ontbyt hou dr. Manguelwa en sy span hulle met verdere voorbereidings besig. Die vragmotor vol studente sal eers in die loop van die oggend aankom. Ek verskoon myself en gaan verken die oewers van die Kafuerivier. Ek bekruip ’n trop seekoeie in die vlak water en kan ’n redelike foto van hulle neem met my vyftig-millimeter-lens. Ek loop aan langs die water en sien reusekrokodille langs die kant. Hulle gly die rivier in met my aankoms. Ek tel vlakvarke en meer as ’n honderd puku’s op die vloedvlaktes. ’n Puku is ’n boksoort verwant aan die waterbok, maar die grootte van ’n rietbok met ’n vaalrooi kleur. Daar is min van hulle suid van die Zambezi. Ek loop deur rivieroewerbos van worsbome, jakkalsbessies en geelmelkhoute. Voor my sien ek ’n olifantbul wat rustig aanstap terwyl hy blare stroop en in sy mond stop. Ek toets die wind en volg hom op ’n afstand. Ek voel weer soos ’n staptoerveldwagter. Ek loop ver in die veld en kom eers die middag se kant terug. By die kampplek het die kursusgangers opgedaag. Manguelwa is besig om die program te bespreek. Môre begin die lesings. Die Chunga-kollege vir Natuurlewebestuur moet eens op ’n tyd ’n statige plek
gewees het, met lesinglokale, kantore, koshuise en werkswinkels. Nou is dit ’n murasie wat besig is om sy stryd teen die bos te verloor. Daar is nog ’n paar funksionele klaskamers en vervalle blyplek vir die studente. Twee kokke maak pap en bredie op ’n oop vuur buite die plek wat eens op ’n tyd ’n kombuis was. In ’n vervalle ou klaskamer bied Manguelwa en sy span hulle lesings baie professioneel en verstaanbaar aan. Die kursuslede het pas met tsetsebestryding begin en van die lesings is baie basies. Hem Takersi haal ’n rugsakspuitkan uitmekaar en verduidelik die funksie van elke werkende deel. Dan verlaat ons die klaskamer en hy verduidelik hoe daar aan die skadukante van bome en stompe gespuit moet word. In die middae gaan ons uit veld toe en demonstreer hulle die verskillende metodes van tsetsevliegbeheer. Die blou-en-swart materiaalteiken blyk ’n baie effektiewe beheermetode te wees. Die materiaal word volgens sekere spesifikasies in die veld op ’n raam gespan. Die kleure trek die tsetse aan. Die materiaal is met ’n gifstof behandel wat dan die vlieg doodmaak. Metodes van elektriese tsetsevliegbeheer word met ’n karbattery gedemonstreer. Alle aspekte van tsetsevliegbeheer, ook die sosiale aspek, kry aandag. In baie dele van Zambië sien die inwoners die beheermetodes as heksery en toordery. In hierdie areas moet uitgebreide voorligting gedoen word. Dr. Manguelwa en sy span is baie noukeurig in die aanbieding van die kursus. Met die beperkte middele tot hulle beskikking is die organisasie goed. Die kursusgangers eet goed en leef in relatiewe gerief in die vervalle slaapkwartiere. Skryfbehoeftes en relevante leesstof word voorsien. Die plek is vervalle en die toerusting verouderd, maar die aanbieding van ’n hoë professionele standaard. In die loop van die kursus kry ek twee spreekbeurte. Eers gee ek ’n algemene praatjie oor die Krugerwildtuin. Die gewone ou storie: sy geskiedenis, geologie, veldtipes, klimaat en reënval. Soogdierspesies en getalle, voëls en reptiele, navorsing, natuurbestuur, olifantuitdunning en wildernisstaptoere. Die kursusleiers en studente skryf alles wat ek sê omtrent woord vir woord neer, of luister aandagtig. My volgende praatjie handel oor die bestryding en monitering van miltsiekte in die Krugerwildtuin. Ek verduidelik die hele proses. Hoe die krippe by die windpompe met formalien ontsmet word. Hoe ons met bakkies ry op elke pad en voorbrand op soek na aasvoëls. Wanneer ons aasvoëls gewaar, verlaat die span
die voertuig en begin na ’n karkas soek. Aasvoëls is soms baie misleidend en so ’n soektog te voet kan soms ’n hele oggend in beslag neem. Wanneer die span die karkas vind, word bloedsmere en weefselmonsters geneem en al die besonderhede gedokumenteer. In die 1993-epidemie was dit hoofsaaklik buffels en koedoes wat geaffekteer is, maar later is rooibokke en kameelperd-, leeu- en hiënakarkasse ook gevind. Ek vertel hulle hoe iets anders soms voor ons by die karkasse uitgekom het en hoe ons leeus van die karkasse af moes jaag. Ek het gereeld, rewolwer in die hand, leeus dopgehou terwyl ’n kollega die bloedsmere neem en besonderhede neerskryf. Daarna word die karkas met takke en stompe toegepak en verbrand, om te probeer verhoed dat die siekte verder versprei. Dit neem soms drie dae om ’n groot buffelbul te verbrand. Die epidemie steek gewoonlik sy kop uit aan die einde van die droë seisoen voor die eerste reëns. Dit word warm en die diere se weerstand neem af. Die veld is droog en in ’n swak toestand. Na die eerste reën neem die epidemie weer af. Dis ’n inheemse siekte en deel van die ekologie. Dit moet nie vernietig word nie. Elke uitbraak moet net beheer en gemonitor word. Dis ’n warm, vuil en uitputtende werk. Die bloedsmere, weefselmonsters en besonderhede word dan in ’n veldlaboratorium geanaliseer. Tydens die 1993epidemie was die veldlaboratorium in die spaarkamer van my huis by Orpenkamp. Wat ek die kursuslede nie vertel nie, is dat ek en my wildtuinkollegas na ’n lang dag in die veld by my huis bymekaargekom het om te braai, bier te drink en tot laat in die nag te kuier, terwyl ons luister na Bachman Turner Overdrive, AC/DC, Thin Lizzy en Deep Purple. Die miltsiekte-epidemie het so lank aangehou dat toeriste en die kampbestuurder van Orpen ’n klag van rusverstoring ingedien het by die Parkhoof. Ek was weer op die rooi tapyt voor Mick. Die kursuslede klap hande aan die einde van elkeen van my praatjies. Dr. Manguelwa staan op en bedank my vir my goeie aanbieding. Ek neem my plek agter in die klas in langs Hem Takersi en hy komplimenteer my. My praatjie was rêrig niks besonders nie. In die middae na lesings spring ek en Manguelwa, Hem, Lewis en Wilfred in Hem se Land Cruiser-stasiewa. Die kursuslede klim op die trok en ry agterna. Ons gaan almal op ’n wildbesigtigingsrit. Ek sien vir die eerste keer nuwe spesies, soos groot troppe mofhartebees, defassa-waterbok en geelbobbejane.
My opgewondenheid is aansteeklik en ek sien hoe Hem se oë oopgaan vir die natuurlewe om hom. Die Defassa-waterbok lyk donkerder as die gewone waterbok. Hy het ook nie ’n kring op sy gat nie, maar ’n asimmetriese wit kol. ’n Paar jaar terug het die Nasionale Parkeraad probeer om mofhartebeeste vanuit Malawi in die Krugerwildtuin te hervestig. Dit was net gedeeltelik suksesvol. Baie mense bevraagteken ook of hulle ooit daar voorgekom het. Ek het hulle nooit daar gesien nie. Op ons ritte deur die Kafue kry ons ook teeltroppe olifante en buffels. Toe ons een aand na donker terugkeer kamp toe, kry ons twee ystervarke in die pad. Een middag ry ons na die brug oor die Kafuerivier wat in die tagtigerjare deur die Chinese gebou is. Ons ry oor die brug. Die kampong wat die Chinese ingenieurs gebou het, val my dadelik op. Dit bestaan hoofsaaklik uit sinkplaat, maar die boustyl is onmiskenbaar Oosters. Bo die deure van sekere geboue is groot rooi borde met Chinese skrif op. In die binnehof is ’n teerblad gegooi en ’n korfbalbaan opgerig. Die Chinese het hulle self gefortifiseer teen Afrika se wilde diere en inboorlinge met ’n hoë versperring van skerpgemaakte bamboes en metaalpenne. Dis asof iemand ’n agterstraat van Hongkong of Sjanghai gevat het en in die middel van die Zambiese wildernis neergesit het. Daardie aand kry hulle ’n klein kragopwekker aan die gang en ons kyk video’s. Eers kyk ons na ’n video oor luiperds wat in Londolozi in die Oos-Transvaal gemaak is. Daarna kyk ons na ’n Amerikaanse aksieprent met die naam Delta Force. Die hoofakteur is Chuck Norris, ’n gewese skopbokskampioen. Dis ’n klomp snert en ek gaan slaap. Ek het toe nie besef dat ek Chuck Norris se naam nog baie op my pad gaan hoor nie. Die malaria trek my plat twee dae voor ons uit Kafue vertrek. Teen laatmiddag begin ek olik voel en weet dadelik wat dit is. Ek het al twee keer vantevore malaria gehad en weet wat kom. Hierdie is net die begin. Van nou af sal dit in felheid toeneem. Ek drink nie profilakse nie en het die nuutste behandeling, Halfan, in my rugsak. Ek besluit om eers ’n ruk te wag voor ek dit neem en gaan slaap vroeg. Die kouekoorsaanvalle pak my beet en gelukkig is daar ekstra komberse in die rondawel. Toe ek die volgende môre opstaan, is my slaapsak, matras en komberse deurweek van die sweet. Ek neem nie aan die laaste dag se lesings deel nie. Ek sit in die son by ’n tafeltjie en skryf briewe en kyk uit oor die Kafuerivier en die veld. In ’n stadium raak ek aan die slaap. Toe ek wakker
skrik, staan ’n bosbokram my van enkele meter af en dophou. Die laaste nag in Kafue is hel. Die koue- en hittekoorsaanvalle volg kort op mekaar. Die volgende môre is ek baie swak. Ek ry saam met dr. Manguelwa en Hem Takersi Lusaka toe. Bewend groet ek die ander en klim in die kar. Vir oulaas hardloop ’n trop buffels voor ons oor die pad. Die teerpad Lusaka toe is vol slaggate. Ek sit voor langs Hem. Die stamperige rit maak my net sieker en ek vra Hem om te stop. Ek klim uit en bring op. Ek besluit om die behandeling te begin. “Dr. Manguelwa,” sê ek, “dis die eerste keer dat ek hierdie behandeling gaan gebruik. Ek weet nie wat die newe-effekte is nie. Indien ek my bewussyn verloor en noodbehandeling moet ondergaan, is daar spuitnaalde en spuite in my rugsak. Net jy of Hem mag my inspuit met my eie naalde. Ek soek nie vigs nie.” “Moenie bekommerd wees nie, Stoffel. By my en Hem is jy in goeie hande.” Ek verloor nie my bewussyn nie en die eerste pille van die behandeling laat my dadelik beter voel. Eindelik rys die geboue van Lusaka uit die stowwerige vlaktes op. Die enigste plek met verblyf wat my sak pas, is die YMCA. Dr. Manguelwa en Hem Takersi bespreek vir my ’n kamer en help my met my bagasie. Die klein Hem swoeg onder my rugsak. Die gange is vol swart prostitute wat tydelik skuiling soek teen die harde lewe wat die strate van Lusaka hulle bied. Die matrone sluit vir my ’n kamertjie oop. Daar is twee enkelbeddens, ’n hangkas en ’n tafeltjie. Daar staan twee emmers waswater langs die bed en ’n bottel drinkwater op die tafel. Die matrone wys my die badkamer. Jammer, geen lopende water, sê sy. Hem en Manguelwa gaan ry ’n draai. Met die twee emmers water was ek die Kafue-stof af en kruip tussen die verslete lakens in. Die middagwinterson skyn gesellig by die venstertjie in. My uitsig is ’n stowwerige agterplaas en ’n rooi baksteenmuur. Manguelwa en Hem kom terug met ’n bottel koue Coke en ’n pakkie samoesas. Hulle sit vir ’n rukkie langs my bed. Hulle besorgdheid ontroer my. Zambië lyk my na ’n land vol goedhartige mense. Miskien het dit iets met die armoede te doen. Ek bedank hulle weer vir die wonderlike tyd in die Kafue. “Stoffel, ek verseker jou ons het meer by jou geleer as jy by ons,” sê Hem. Ons neem afskeid
en nog twee nuwe vriende verdwyn uit my lewe. Vir drie dae lê ek in die mistroostige YMCA en worstel met die malaria. Tussen koorsaanvalle lees ek ’n slapbandboek wat André van der Merwe vir my geleen het. Soms lê ek en dink en verlang na my ma en my mense en die lewe wat ek moes agterlaat. Dan kom die gevoel van verlies weer sterk in my op. Elke nou en dan kom kyk die matrone of alles nog wel is. ’n Paar prostitute loer oor haar skouer. Ek dink terug aan die laaste keer dat ek malaria gehad het twee jaar gelede op Orpen in die Krugerwildtuin. Dit was ernstig. Die koorsaanvalle het saamgegaan met hallusinasies, verlies van bewussyn en diarree. Maar daar was ek toe nie so eensaam nie. Tanya was darem daar. Vir die eerste keer in ’n lang tyd dink ek aan Tanya en skielik verlang ek.
12
Tanya Murdoch het uit Ottowa, Kanada, gekom om as ’n finalejaarstudent in natuurwetenskappe ’n kursus in die Krugerwildtuin te doen. Ons het op ’n braai op Skukuza ontmoet en ek het haar genooi om vir ’n week by my op Orpen te kom kuier. Sy het vir drie maande gebly. Sy was ’n avontuurlike meisie met lang heuningblonde hare, groen oë en ’n stralende glimlag, altyd vol lewenslus. Sy het saam met my op staptoer gegaan en orals waar ek in die veld moes werk, was sy by. Sy wou soveel moontlik oor die veld by my leer en ek het weer aandagtig na haar verhale oor Kanada geluister. In my vrye tyd het ons die Wildtuin platgery en koppies geklim. Haar entoesiasme oor die natuur en diere was aansteeklik. Vroegaand as ons op ’n koppie die sonsondergang oor ’n rivier bewonder, het ek vir haar gesing terwyl ons mekaar vashou. Haar hare het na die veld geruik. Dit het gevoel of ek haar al jare ken. Tanya was anders as ander meisies. Meisies was aanvanklik aangetrokke tot my uitbundige lewenslus en my minagting vir reëls en regulasies en norme. Hulle het my gesien as ’n uitdaging, iemand om te verander. Die verhoudings het gewoonlik in frustrasie geëindig. Ek was later net ’n verleentheid vir hulle. Tanya het my gesterk in my kwaad. Sy wou langs my staan op die rand van die afgrond en saam met my spring. Vir drie maande het ek ’n spanmaat gehad. Ons kon nie genoeg van mekaar kry nie. Ons het op elke moontlike plek gevry. In die rivieroewerbos van die Timbavati, op Masalakop, agterop my bakkie by Red Gorten-watergat met ’n teeltrop olifante om ons, voor my hoëtroustel op die voorkamervloer van my huis. ’n Paar weke voor haar terugkeer na Kanada is ek en Filliosse Mula deur Louw, die veldwagter van Nwanetsi, weggeroep om ’n teenstroperpatrollie op die Mosambiekgrens te gaan doen. Ons het sestig kilometer met kos en water op die rug en geweer in die hand oor die ruwe terrein van die Lebomboberge gestap. Op die oewer van die
Olifantsrivier het ek en Filliosse vyf vermeende Mosambiekse stropers vasgekeer en in hegtenis geneem. Ons moes te voet terug na die optelpunt by Pumbepan, want ek kon nie radioverbinding met Louw maak nie. Terug by die huis op Orpen, waar Tanya gewag het, het ek van malaria inmekaar gesak. Sy het my in die bed gesit en met my bakkie Hoedspruit toe gejaag om medisyne te gaan haal. Tydens die koorsaanvalle het sy my met ’n nat handdoek afgevee en as ek kouekoors gekry het, het sy langs my ingekruip en my warm gehou. Ons beplande vakansie na die Natalse Noordkus was na die maan. Sy het nie gekla nie hoewel ek geweet het hoe graag sy die kus wou sien. Teen die tyd dat sy moes terugkeer Kanada toe, was ek op die been. Na ’n paar dae by my broer in die stad het ek haar op die lughawe gaan afsien en nooit weer gesien nie. ’n Paar maande na haar vertrek ontvang ek ’n pakkie in die pos. ’n Stel Kanadese kalfsleer-cowboy-stewels.
Dis op ’n Sondag dat ek sterk genoeg voel om op te staan. Die YMCA is ver van die middestad van Lusaka af geleë. Ek voel nog swak en stap stadig deur die vuil en stowwerige strate. Om my is alles vervalle. Ek is honger en soek na ’n plek waar ek ’n behoorlike maaltyd kan eet. Onverwags sien ek ’n Holiday Inn voor my. Dit is besig om opgeknap te word. Binne die hotel se grond is ’n restaurant en ek stap nader. Vir die eerste keer sedert ek Windhoek verlaat het, sit ek weer in ’n luukse restaurant. Daar is ’n televisiestel in die hoek en Nieu-Seeland het pas teen Skotland begin rugby speel. In my omswerwinge het ek skoon vergeet van die Wêreldbeker-rugby. Vanjaar is die eerste keer dat Suid-Afrika toegelaat word om te speel. Die toernooi vind plaas in Suid-Afrika. Ek bestel ’n bord kos met ’n groot biefstuk en lemoensap. Die All Blacks speel ’n barshou in die eerste helfte en die Skotte is in die moeilikheid. Fitzpatrick voer sy Nieu-Seelanders goed aan. ’n Jong Maori, Jonah Lomu, hardloop sirkels om die Skotte terwyl ’n blonde seun, Mehrtens, se skopskoen die Kiwi’s se reeds hoë puntetal laat styg. Na my bord kos is ek so opgewonde oor die wedstryd dat ek die malariabehandeling verontagsaam en ’n Mosi-lager bestel. In die tweede helfte kom die Skotse karakter na vore. Soos tydens die veldslae van Modderrivier en
Magersfontein teen die Boere begin hulle in die skadu van ’n nederlaag verbete terugveg. Die veteraan Skotse kaptein, Gavin Hastings, spoor sy manne aan. Geleidelik verminder die Skotte die Kiwi’s se groot voorsprong. In die laaste minute van die wedstryd skree ek kliphard vir die Skotte. Die meeste mense in die restaurant kyk nie na die wedstryd nie en die ander is All Blackondersteuners. Die Skotte veg enduit. Maar Nieu-Seeland se voorsprong is te groot en die oorwinning is hulle s’n. ’n Opwindende wedstryd en kaptein Hastings se laaste, in ’n lang, harde rugbyloopbaan. Die volgende dag bel ek my broer van Lusaka se poskantoor. Ek is byna platsak. Hy moet geld Malawi toe telegrafeer. Ons word afgesny net toe hy my begin uitkak oor ek nie van my laat hoor nie. Vir die res van die dag loop ek deur die strate van Lusaka. In die vlooimark wat bekend staan as Soweto, vergader ’n groep vuil seuntjies om my. Hulle pomp mekaar in die ribbes met die elmboog en beduie grootoog na my. “Chuck Norris! Chuck Norris!” My rooi hare, wat ek gewoonlik kort dra, het nou al welig gegroei. In die YMCA het ek my baard ’n bietjie met my naaldwerkskêrtjie bygekom. Vir die kinders het ek nou die vuilbaardvoorkoms wat die rooikop Chuck Norris in sy films voorhou. Chuck Norris-video’s is populêr in Zambië. Miskien het hulle rêrig gedink ek is hy. Zambië het ’n hoë inflasiekoers. Vir die eerste keer is ek hier op myself aangewese en kan ek dit nie bekostig nie. Die laaste vier dae in Lusaka het my meer gekos as die vier weke saam met André van der Merwe, Alex Kwalombota en dr. Manguelwa. Ek spandeer my laaste nag in die YMCA in Lusaka. Met ’n swaar gelaaide rugsak stap ek die volgende môre die Tanzaniese ambassade binne en koop ’n visum vir Tanzanië. Daarna neem ’n huurmotor my uit die stad op die grootpad na die ooste. ’n Ou tweetontrokkie neem my nog ’n vyftig kilometer verder en draai weg. Ek klim af. ’n Groot vragmotor met ’n klomp mans en vrouens en kinders staan ’n ent met die pad af. Ek stap daarheen en die drywer beduie dat ek moet klim. Ek maak my gemaklik op ’n krat voor in die bak. Die ander mense agterop groet my vriendelik. Die vragmotor trek weg. Ek voel nog swakkerig, maar dis lekker om weer buite te wees met die son op
my gesig en die wind deur my hare. Om ons lê die droë breëblaarbosveld van Zambië. Die trok stop telkens om mense op en af te laai. Die drywer eis dan geld by mense en ek wonder hoeveel hierdie rit my gaan kos. Ons ry teen die noordgrens van die Laer Zambezi Nasionale Park verby, maar sien geen wild nie. Ons ry deur die dorpie Rufunsa. Die landskap is nou heuwelagtig en bebos, maar vanjaar was ’n droë jaar in Zambië. Voor ons die brug oor die Luangwarivier oorsteek, stop die vragmotor. Die meeste mense klim hier af. Die drywer eis geld by almal. Ek haal my beursie uit, maar hy ignoreer my. Teen laaste lig ry ons oor die Luangwarivier. Die maan kom vroeg op oor die veld en dit word koel. Ek maak my rugsak oop en haal my baadjie uit. Nou is dit net ek en twee ou mans met wit koppe agterop die vragmotor. Hulle kyk na my kunsarm en een kom help my om my rugsak weer toe te maak. Aand word nag soos die vragmotor deur die heuwellandskap ry. Vuurtjies brand gesellig voor grasdakhuisies langs die pad en dit maak my net meer bewus van die kruipende koue. Die staalbak van die vragmotor vererger dit. Naderhand sny die koue deur my baadjie. Die twee witkoppe hurk in langbroeke en verslete hemde oorkant my, skynbaar ongeraak deur die koue. Ek voel of ek verkluim, maar is te trots om my slaapsak uit te haal. Ek voel ook skuldig. Die twee ou mans het niks om hulle mee warm te hou nie, terwyl ek ’n donsslaapsak in my rugsak het. Ek vryf verwoed oor my kaal bene. Toe die vragmotor deur Petauke ry, kry die koue die oorhand oor my trots en skuldgevoel. Ek maak my rugsak oop en ruk my slaapsak uit, maar dit haak iewers vas. Die twee ou mans spring op om my te kom help. Hulle maak my slaapsak oop en wikkel my daarmee toe, ten spyte van my protestasies. Daarna maak hulle my rugsak toe en plaas dit as ’n rugleuning tussen my en die staalwand van die bak. Ek bedank hulle en skaam my dood. Hier word ek, ’n taai jong man, in ’n warm slaapsak toegewikkel deur twee verweerde ou mans met geskeurde katoenhemde op die koudste nag van my reis tot dusver. Ek is dankbaar niemand anders is daar om dit te sien nie. Intussen jaag die trok voort in ’n noordoostelike rigting. By Katete stop die vragmotor. Die bestuurder klim uit en sê dat hy nou hier suid draai. Mosambiek toe. Die twee ou mans is al klaar besig om my rugsak af te
laai. Ek wikkel uit my slaapsak uit en die een ou man oorhandig die sak na die ander wat afgeklim het. Ek spring grond toe. In die koue maanlig staan ’n paar vervalle geboutjies. Die een ou man het my lywige rugsak oor sy skouer, die ander hou my slaapsak vas. Nie een van hulle praat Engels nie, maar beduie vir my om hulle te volg. Ons stap na ’n murasie oor die pad. Die stowwerige vloer is gepak met mense wat oormekaar lê en slaap. Die twee witkoppe kry vir my en my pak ’n plekkie op die vloer. Weer eens wikkel hulle my toe in my slaapsak. Ek stop hulle en trek my baadjie uit, die enigste warm ding behalwe my slaapsak. Ek gee dit vir die een ou man. Hulle is oorweldig deur dankbaarheid en gaan ywerig voort om my toe te wikkel. Die dag breek koud en flou. Die ou mans help my om my rugsak te pak en die een trek my baadjie uit en gee dit terug. Hulle beduie na ’n geboutjie wat oorkant die pad staan. Hotel California Rest House. Ons stap daarheen en ek koop vir ons stomende tee in groot plastiekbekers en broodrolletjies. Dis verkwikkend. ’n Bakkie stop en voor ek my weer kom kry, is ek en my rugsak aan boord en op pad na Chipata en die Malawiese grens. My twee bejaarde weldoeners wuif my agterna. Ek ken nie eers hulle name nie.
13
Ek verlaat Zambië anderkant die dorpie Chipata. By die grenspos ruil ek my orige Zambiese kwacha vir Malawiese kwacha. Die oggend is sonnig en dis ’n verligting na die vorige nag se koue. Ek stap die afstand vanaf die grenspos na die dorpie Mchinji. Ek het al so baie goeie dinge van Malawi gehoor en sien uit om dit te verken. Ek beplan om van die suidpunt van die meer noord te reis na Tanzanië. Buite Mchinji laai ’n tweetontrokkie my op en neem my heelpad na Lilongwe. Die bestuurder laai my by die vlooimark in die ou gedeelte van die dorp af. Ek bespreek ’n kamer by een van die goedkoper herberge langs die vlooimark. Ek eet ’n bord slap tjips en drink ’n Carlsberg-bier. Malawi is aansienlik goedkoper as Zambië. ’n Vrou neem my na my kamer. ’n Groep aantreklike swart prostitute stap verby ons in die gang en elkeen gee my hulle verleidelikste glimlag. Ek sluit my rugsak in my kamer toe en stap deur Lilongwe op soek na die poskantoor. Iemand beduie my die pad en ek stap oor die brug van die Lilongwerivier. By die poskantoor wag daar ’n telegram van my broer. Die geld sal oor twee of drie weke by die Kommersiële Bank van Malawi wees. Ek gaan vind uit waar die bank is en dwaal daarna in die vlooimark rond. Teen laatmiddag gaan ek terug na my kamer en bestel ’n paar biere en nog ’n bord skyfies. Die vrou bring dit vir my kamer toe. Ek sit op my bed. Ek eet, drink en lees André se slapbandboek klaar. Die volgende oggend verlaat ek Lilongwe te voet in ’n suidelike rigting. ’n Hele ent buite die dorp stop ’n sedanmotor van die Franse ambassade. ’n Jong Fransman is aan die stuur. Sy naam is Phillipe. Hy is besig met sy militêre diensplig by die Franse ambassade in Lilongwe. “As jy diensplig in die buiteland doen, is die tydperk korter,” sê hy. In die burgerlike lewe is hy ’n onderwyser en ’n tromspeler in ’n punk rock-groep. Die groep noem hulself die Dharma Bums – die titel van een van Kerouac se romans. Ek en Phillipe ry met ’n teerpad wat teen die Mosambiek-grens langs loop. Hy
wys my dat al die winkeltjies en stalletjies aan die Mosambiek-kant in puin lê. Dit is as gevolg van die burgeroor Mosambiek, sê hy. Soos ons aanry, vertel ek hom my storie en van my reis. Phillipe neem my na die dorpie Liwonde op die oewers van die Shirerivier. By ’n eetplekkie wat uitkyk oor die breë rivier, koop hy vir ons elk ’n bord hoender en rys en Carlsberg-bier. Daarmee saam kom ’n klein botteltjie met ’n venynige peri-peri-sous. Phillipe gee my die name van ’n paar mooi plekke om te sien langs die meer. Ek bedank hom vir die ete. Toe hy opstaan en hande skud, sê hy aan my: “Ek speel in die orkes, maar jy is ’n ware Dharma Bum.” Ek loop die res van die dag in die dorp rond. Ek doen navraag oor ’n besoek aan die nabygeleë Liwonde Nasionale Park. Die ingangsfooi is te hoog. Die dorpie bied nie veel nie, maar die Shirerivier is baie mooi. Teen laatmiddag maak ek vir my ’n kamp op die oewer aan die rand van die dorp. Ek koop vir my ’n paar biere by ’n nabygeleë kroeg en staar uit oor die water. Naby my slaap ’n trop seekoeie halflyf in die water en uitgeholde boomstompkano’s vaar verby en gooi visnette uit. Ek slaap die nag met seekoeie wat om my in die riete wei. Die volgende oggend vat ek die pad na Mangochi. Dit loop parallel met die Shirerivier in ’n noordelike rigting. Die Shirerivier mond uit in die Malombemeer en dié mond weer uit aan die suidpunt van die Malawimeer. Dis ’n vars oggend en word ’n lekker dag. Ek stap padlangs en gaan by stalletjies aan. Daar is baie mense langs die pad en almal is vriendelik. Die bier is goedkoop. Mens moet net die bottel weer by die stalletjie inhandig. Dis nie moeilik om ’n geleentheid te kry nie en as ek moeg word, steek ek net my duim uit vir die eerste bakkie wat verbykom. Die bakkies is almal oorvol, maar stop altyd. Die meeste van die bestuurders vra geld, maar nie veel nie. By die volgende gehuggie klim ek af, drink ’n koue bier en stap aan. Ek voel opgewek en kommervry. Die gruis kners onder my voete en ek rek my treë. My bene is bruingebrand en gespierd. Ek sing hardop al die Afrikaanse liedjies wat ek ken. “Sprokie vir ’n stadskind”, “Kinders van die wind”, “Bloedstraat”, “Liza se klavier”. Die Malawiërs op my pad kyk op en glimlag vir die afarmtroebadoer met die rooi-en-swart rugsak. Ek drink ’n bier in Mangochi en draai af na Monkey Bay. Ek kry vinnig ’n geleentheid wat my tot by die Cape Maclear-afdraai in die Malawimeer Nasionale Park neem. By die afdraaipad is daar rye stalletjies wat plaaslike handwerk verkoop. Langs die pad staan drie rylopers: ’n Engelsman met ’n
poniestert, ’n oulike donkerkopmeisie en ’n pragtige blondekop. Hulle stel hulle voor as llliana, Joanna en Martin. Hulle wag vir die bus om hulle na Cape Maclear te neem. Ek wag saam. Die bus laai ons op en neem ons oor die berge na Cape Maclear. Dit lyk soos ’n vissersdorpie in die skadu van die berge op die oewer van die meer. Twee eilande lê ’n ent van die strand af. Martin sê die meisies kan nie buite slaap nie en hulle gaan verblyf soek. Ek gaan soek vir my kampplek op die strand. ’n Langbeen jong Malawiër sluit by my aan en stel homself voor as Patrick en vra of ek dagga wil hê. Ek sê ek soek ’n veilige kampplek op die strand en hy beduie ek moet hom volg. Onder ’n vyeboom wat uitkyk oor die meer gaan hy staan. Hy wys na een van die palmblaarhutte. “Daar bly my familie. As jy hier bly, sal jou goed veilig wees. Kan ek nou vir jou dagga bring?” “Wys my liewers ’n plek waar ek ’n koue bier kan kry.” Patrick roep na ’n klein seuntjie wat voor die hut sit en beveel hom om my rugsak op te pas. Hy beduie my om saam te kom. Ons stap strandlangs verby boomstompkano’s en mans wat visnette regmaak. Ons kom by ’n vervalle baksteengebou met ’n breë stoep wat uitkyk oor ’n wye strand. “Mr Stevens se herberg,” sê Patrick. Op die strand lê pragtige meisies bostukloos of in bikini’s in die son en bak. Lang bene en lang, blonde hare net waar jy kyk. Op die strand en op die stoep sit groepies jongmense rond en drink bier en gesels. Patrick glimlag en knipoog. Ons klap ons palms teen mekaar. Ek koop vir ons elk ’n bier. Hy drink klaar en sê: “Moenie bekommerd wees oor jou rugsak nie. As jy dagga wil hê, vra my enige tyd.” Hy staan op en verdwyn. Ek stap op die strand verby groepies mense en kyk dinge uit. Meisies kyk op en glimlag. Ek besluit om ’n ruk hier te bly. Ek sien weer die Engelse wat ek by die afdraai ontmoet het en ons spreek af om later ’n bier saam te drink. Toe ek verby ’n groepie mense stap, roep iemand my naam. Ek swaai om. ’n Frisgeboude ou met ’n borselkop staan uit die groep uit op. Dis Anthony Breslin. Ons bulder ’n groet en val mekaar om die nek, asof ons ou vriende is wat mekaar in jare nie gesien het nie. “Wil jy nie ’n bier saam met my drink nie?” vra ek.
Anthony gee ’n skewebeklaggie. “Hel, nee, man. Hier is genoeg dwelms. Kom ontmoet my vriende. Ek het hulle almal van jou vertel.” Anthony het ’n paar dae tevore vanuit Zimbabwe aangekom. Hy het ’n paar van die mense op pad ontmoet en die ander hier op Cape Maclear se strand. Dis hoofsaaklik jongmense van Australië, Nieu-Seeland en Engeland. Dan is daar een of twee van Swede en Spanje en ’n Engelssprekende Suid-Afrikaner, ’n groenteboer uit die Vallei van ’n Duisend Heuwels in Natal. Hy verduidelik dat hy ’n goeie oes gehad het en besluit het om in Malawi te kom vakansie hou. Die Engelse wat ek by die afdraaipad ontmoet het, sluit ook by ons aan. Op Cape Maclear maak mens vinnig vriende. Ons kuier heeldag op die strand. Toe die son sak, sluit ’n groep van die plaaslike seuns by ons aan. Hulle maak vuur en begin rys in ’n pot kook en vis op ’n rooster braai. Hulle verkoop dagga aan dié wat wil hê en daar word vryelik gerook. Almal ken mekaar net op hulle voorname. Ek gesels met Rebecca, ’n plaasmeisie uit die noorde van Australië. Haar pa besit ’n groot beesplaas. Ek ontmoet vir Nicola, ’n verpleegster uit Auckland, Nieu-Seeland. Joanna, die meisie van die afdraaipad, is ’n ouditeur in Surrey, Engeland, en ek probeer met haar ook gesels, maar Martin, haar kêrel met die poniestert, hou haar met ’n valkoog dop. “Haai, Stoffel!” sê John, die Natalse groenteboer. “Suid-Afrika speel môre in die halfeindstryd in Durban teen Frankryk. Daar is ’n televisiestel by Club Makokola, ’n ent hiervandaan. Ons gaan almal kyk. Kom jy saam?” Later die aand beweeg ons met die strand langs na ’n ander taverne. In werklikheid is dit niks meer as ’n rietskerm met ’n palmafdak en ’n yskas nie. Daar sluit ons groepie by ’n groter groep mense aan wat in die sand rondsit. Almal is dronk of gerook. Die eienaar van die plek is ook ’n Suid-Afrikaner, ’n oudpolisieman uit Natal. Dis saam met hom dat ons môre sal ry om rugby te gaan kyk. Oor die kassetspeler in die hoek speel The Pogues se “The wild cats of Kilkenny”. Hierdie vermenging van Ierse tradisionele musiek en punk rock sou ek voortaan altyd met die Malawimeer assosieer. Toe die musiek stil word, begin ’n takhaar in een hoek ’n Bob Dylan-liedjie op ’n kitaar speel. Almal klap hande toe hy klaar is. “Anthony!” roep ek na waar hy en Rebecca teen ’n stomp sit. “Saint Crispian’s day.” Anthony staan slingerend op en dis moeilik om te sê of
hy toneel speel.
“What’s he that wishes so? My cousin Stoffel? – No my fair cousin If we are marked to die, we are enough To do our country loss; and if to live, The fewer men, the greater share of honour God’s will! I pray thee, wish not one man more.”
Hy lewer ’n perfekte vertolking van ’n koning onder die invloed van ’n sterk middel vir wie die slagveld van môre nie ’n duit skeel nie. Almal lê soos hulle lag. Hy word toegejuig toe hy afsluit. Later die nag toe die party begin afloop, roep Anthony van sy stomp af: “Stoffel!” “Ja!” “And the band played Waltzing Matilda!” Terwyl ek sing, word die mense al hoe stiller. Later is dit net my stem en die golwe op die meer. Toe ek klaar is, sien ek hoe Rebecca ’n traan wegvee. Ek sou nog baie meisies se harte week maak met hierdie liedjie. Na ’n oomblik se stilte klap almal hande. Toe die eerste rooidag in die ooste verskyn, stap ek terug na die vyeboom waar ek my goed gelos het. Patrick slaap in my slaapsak, met my rugsak as ’n kussing. So sou ek hom elke vroegmôre vind, besig om my goed op te pas. Ek maak hom wakker. Hy staan op en ek kruip in die slaapsak in. Hy begin vuur maak en sit kort voor lank ’n beker tee langs my neer. Ek slaap totdat die son my uit my slaapsak bak. Ek staan op en stap water toe,
duik in die meer. Dis heerlik verfrissend. Ek was en trek my kunsarm en skoon klere aan. Ek stap na die herberg wat Patrick gister vir my gewys het. Dis nog stil daar. Ek bestel ’n bord slap tjips, gebakte eiers en ’n koue bier. Stadigaan begin laas nag se mense verskyn. Illiana kom aangestap met haar strandsak, sit ’n rukkie by my en gesels en gaan lê dan op die strand. Bob van Australië kom sit by my en bestel ook ontbyt. Dan sluit Daniel, die Engelse takhaar wat gisteraand Bob Dylan-liedjies gesing het, ook aan. Volgende kom Anthony, John van Natal en Rebecca, die plaasmeisie, aansit. Anthony het hulle vertel hoe ek my arm verloor het en almal behandel my met ’n sekere bewondering. Ek dink nie hulle glo heeltemal vir Anthony nie en wil dit self uit my mond hoor, maar is te skaam om te vra. Ek bly maar stil. Ons getalle word vinnig aangevul en ons is weer volle sterkte. Vroeg word die eerste rondtes gekoop en die partytjie vat vlam. Die plaaslike daggahandelaars staan diskreet nader en die rokers doen die nodige aankope. Teen middag se kant beweeg ons strand langs oor na die Suid-Afrikaner se plek. Ons koop elk ’n paar biere vir die pad en almal spring agterop sy bakkie. Ek en John klim voor by hom in. Nou is ons drie Suid-Afrikaners saam. Twee van Natal en een van Transvaal. Gerald Rossouw was ’n polisieman in die Babanango-omgewing. Hy vertel dat hy as ekstra gebruik is tydens die verfilming van die rolprent Zulu Dawn, waarin Peter O’Toole die hoofrol vertolk het. “Daar is vier plekke waar jy my kan sien. Op een plek lê ek met ’n assegaai deur my bors op die voorgrond van ’n aanstormende Zoeloe-impi. Dit het ’n hele oggend geneem om my te grimeer. Ek sê vir jou dis ’n skrikwekkende ervaring as so ’n impi op jou afstorm. Nou weet ek hoe die soldate tydens die werklike slagveld moet gevoel het. Omdat ek ’n polisieman was, is ek soontoe gestuur om ’n ogie te hou oor dinge as daar onluste sou uitbreek.” Ek en Gerald en John kliek dadelik. Dit is maar so as jy landgenote is tussen vreemdelinge. Agterop die bakkie gaan die Australiërs, Nieu-Seelanders en Engelse net so jolig te kere. Die Springbokke behaal ’n naelskraapse oorwinning oor die Hane en dring deur na die eindstryd. Die meisies hou my geamuseerd dop soos ek my span in Afrikaans ondersteun. Ek en John en Gerald val mekaar om die nek toe die
eindfluitjie blaas. Ons kom lank na donker terug op Cape Maclear en sit die feestelikheid saam met die tuisblyers voort. In die vroeë môre-ure boender ek weer vir Patrick uit my slaapsak uit. Die volgende dag speel Nieu-Seeland teen Engeland om te bepaal wie SuidAfrika gaan aanvat in die Wêreldbeker-eindstryd. Die Australiërs, Kiwi’s en Engelse gaan weer om rugby te kyk. Ek en John besluit om Mangochi toe te ryloop. Ek wil my laaste reisigerstjeks in kontant gaan omsit. Ons word vergesel deur Ussa, ’n meisie uit Dresden, Oos-Duitsland. Van Mangochi wil sy verder suid, om eindelik Kaapstad te bereik. Op pad terug lê ek en John die laaste agtien kilometer deur die berge te voet af. Hoewel hy ’n Suid-Afrikaner is, het John die maniere van ’n eksentrieke Engelse landheer. Hy het ’n dubbelloop-van, Carrol-Wilcox, en eindig elke sin met “old chap” of “old man”. Hy doen dit tong in die kies. Ek en hy en Gerald het klaar afgespreek om die eindstryd van die rugby saam in Lilongwe te gaan kyk. Die volgende paar dae lê ons op die strand. Ek en ’n paar van die meer avontuurlike jongmense gaan klim die berge om Cape Maclear. Ons kuier die nagte om by Mr Stevens se herberg en Gerald se plek. Sporty, die witkopnagwag by Mr Stevens, het vir jare op die myne in Johannesburg gewerk en ek en hy praat Fanakalô. Wit en swart staan nader en luister na die vreemde taal waarin ons kommunikeer. Die volgende middag kom haal Sporty my vir ete by sy huis. Sy vrou maak vir ons hoender, vis en rys en ons sit en eet op ’n matjie agter sy hut. Een nag om die vuur kondig Anthony aan dat hy die volgende dag vertrek. Dit ruk ons almal bietjie terug na die werklikheid. Die feestelikhede kan nie vir ewig aanhou nie. Ek en Anthony, John Carrol-Wilcox, Rebecca, Bob, Paul, Pete en Nicola stap vir oulaas op die strand. Op ’n stil plek weg van die geraas drink ons ’n heildronk op vriendskap. Daardie nag drink Anthony ’n bier saam met my. Die volgende môre was hy weg.
14
Sedert my aankoms op Cape Maclear kom Patrick se kleinboetie, Felix, elke dag by my aan. Vir sestig kwacha sal hy my met sy pa se kano na die eiland toe oorvat. Hy sal ’n duikbril en snorkel saamvat, dan kan ek tussen die rotse langs die eiland gaan snorkel en na die verskillende visse kyk. Hy sal dan ook vir my ’n ete voorberei terwyl ek duik. Vandag stem ek in en teen halfnege het Felix alles gereed en hy roei my in die kano oor na die eiland toe. Dis ’n tweekilometervaart en die kano wieg gevaarlik, maar klein Felix is ’n goeie bootsman. Dis ’n mooi eiland met hoë rotswande en groot kremetartbome. Felix meer vas en begin dadelik om ’n vuur te maak op die strand. Ek neem die duikbril en snorkel en swem tussen die rotse in. Honderde klein vissies van alle kleure en vorms swem na my toe en onder die water word dit ’n ware skouspel. Ek swem rond en verken die rotsagtige oewer van die eiland. Dan klim ek uit en sit vir ’n rukkie in die son by Felix se vuur. Hy is baie in sy skik dat hy vandag toergids is en roep uitbundig na die ouer seuns wat in hulle kano’s by ons verbyvaar. Keer op keer gaan ek terug in die water om tussen die visse rond te swem. Ek geniet die dag. Felix kook rys in ’n pot en braai vis. Die eiland met sy rotswande en plantegroei lyk interessant en ek besluit om ’n bietjie te gaan verken voor ete. Ek stap teen ’n voetpaadjie op wat tussen die rotse doodloop. Ek raak ergerlik toe ek sien dat baie mense wat al voorheen hier gekamp het, nie hul rommel verwyder het nie. Ek spring van rots tot rots al hoe hoër teen die eiland uit. Die uitsig oor die meer na die vasteland is mooi. Van die strand af roep Felix my dat die kos gereed is en ek begin oor die rotse terugkeer. Ek spring oor ’n rotsskeur en toe ek grondvat aan die ander kant gly my kaal voete al twee onder my uit. Instinktief sit ek my enigste hand uit om my val te keer. My gewrig swik en ek val met my hele liggaam se gewig op my kneukels. Ek hoor sommer hoe my handbeentjies breek en versplinter. Ek rol
holderstebolder by die afgrond af en kom in ’n hoop tussen gras en klippe aan die voet van die rotswand te lande. Toe ek regop sit, is my hand onbruikbaar en erg pynlik. Toe ek onder by Felix kom, het ek ook nie meer ’n eetlus nie. Die teleurstelling wys op sy gesig en deur knersende tande vertel ek hom wat gebeur het. Hy eet van die kos en gee die res vir die visse. Die kanovaart terug word hel. Die pyn klop deur my hand. Terug by my rugsak vra ek Felix en Patrick om verbande en ’n plastiekspalk uit my mediese sak te haal. Ek sluk ’n paar pynpille, knyp die verbande onder my arm vas en gaan soek vir Nicola, die verpleegster, om my te verbind. Op die strand kry ek net vir Illiana waar sy op haar gebruiklike plek lê en sonbaai. Sy weet niks van spalke en verbind nie en ek en sy improviseer saam. Solank die gewrig net nie buig nie. Daarna stap ek na Mr Stevens toe om ’n bier te gaan kry. Ek knyp die bier in my ysterklou vas en drink dit deur ’n strooitjie. Die bier en die pynpille het ’n verdowende effek. Daardie nag kuier ek nie baie lekker saam met John, Gerald en die ander nie. Toe ek die volgende oggend wakker word, het ek diarree. Daar’s sekere dinge wat mens nie met ’n kunsarm kan doen nie. Gat afvee is een. Om dit met ’n gespalkte, baie pynlike regterhand te probeer doen, is ook onmoontlik. Dié môre is ek onaanvaarbaar vir almal wat leef om my. Ek los die situasie tydelik op deur die grootste deel van die dag eenkant in die vlakwater van die meer te baai. My hand is baie seer en my maag erg omgekrap. Ek kan myself beswaarlik aantrek. Om my rugsak in en uit te probeer pak, is ’n tydsame en pynlike operasie. Ek besluit dat hierdie twee terugslae my nie gaan onderkry nie. Teen die einde van die dag sluk ek Imodium en pynpille en gaan drink ’n bier by Mr Stevens. Ek gesels met ’n paar nuwe aankomelinge en met Sporty. Daarna versit ek na Gerald se plek en sien die bekendes daar. Die aand word koud en die pynpille se werking neem af. Die omgekrapte maag bedaar so effe. Ek gaan sit om ’n tafel vol mense alreeds in ’n gevorderde gerookte toestand. Ten spyte van die pyn gesels ek en drink bier. Lisa is ’n plomp Amerikaanse meisie, ’n vryskutjoernalis uit Cleveland, Ohio. Ons het twee aande tevore ontmoet en ’n geselskap aangeknoop. Soos die koue
toeneem, skuif ons nader aan mekaar. Die pyn in my hand en op my maag word erger. Ek begin myself baie jammer kry. Lisa kyk lank na my. Dan praat sy. “Weet jy wat jy nodig het?” “Wat?” “’n Sagte bed en ’n warm lyf. Ek bly in ’n gerieflike kamer net hier om die hoek.” Sonder om ’n woord verder te praat, staan ek en sy op en verdwyn in die nag. Vyfuur die volgende oggend sluip ek uit haar kamer en gaan terug na waar Patrick my goed bewaak. Daar maak hy vir my tee en pak my rugsak. Vandag vertrek ek en John en Gerald en ’n paar ander na Lilongwe. Ek haal ’n leersakkie, wat om my middel vasgegespe is, af en gee dit vir Patrick as ’n afskeidsgeskenk. Sy oë straal toe hy dit om sy lyf vasmaak. “Nou is ek ’n ryk man,” sê hy. By Gerald se plek klim ek en John, Paul en Sammy, Martin en Jan Petersen, ’n Sweed, agterop sy bakkie. Illiana en Joanna spring voor by hom in. Ons ry na Lilongwe deur Salima. Vandag is weer koud en my hand pyn. Ek byt op my tande en ignoreer dit. Gerald se meisie, Rosie, bestuur ’n gesellige herberg in Lilongwe en ons almal bespreek plek. Daardie nag spandeer ek op die toilet. My situasie word onhoudbaar. Dis Saterdag en die Wêreldbeker-eindstryd tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland. In die halfeindstryd het die All Blacks Engeland verpletterend verslaan. Jonah Lomu het keer op keer deur die Engelse verdediging gebreek om punte aan te teken. Die man is onstuitbaar. Die Suid-Afrikaners sal moet sterk staan vandag. Ek berei goed voor vir die wedstryd en sluk ’n hand vol pynpille en Imodium. Ons ry saam met Gerald na die huis van die voorsitter van Lilongwe se rugbyklub. Hy het ’n kroeg agter sy huis met ’n televisie en satellietskottel. Hy het geweet daar gaan rylopers en reisigers opdaag. Vir hulle het hy nog ’n televisiestel onder ’n boom langs die kroeg uitgedra. Daar braai ’n bok op ’n spit en bier word teen ’n hoë prys verkoop. Daar is baie Suid-Afrikaners en oudRhodesiërs wat in Lilongwe bly, asook Portugese en Lebanese. Almal praat opgewonde oor die rugby en daar heers ’n feestelike atmosfeer. My eerste bier werk saam met die pille en die pyn word tydelik gestil. Ek het ’n nuwe Suid-
Afrikaanse vlag uit my rugsak gediep en knyp dit in my ysterklou vas. Ek en John en Jan Petersen, die Sweed, staan buite rond. Jan Petersen sê hy ken net yshokkie en vra my om die spel aan hom te verduidelik. Ons neem plekke in voor die televisiestelle. Vandag in Suid-Afrika is dit ’n groot dag. Die wedstryd word voorafgegaan deur ’n luisterryke vertoning in tradisionele kostuums van al die lande wat aan die Wêreldbeker deelneem. Zoeloekrygers stel Suid-Afrika voor. Die twee spanne, Suid-Afrika en NieuSeeland, verskyn op die veld. President Nelson Mandela stap uit op die veld in die nommersestrui wat Springbok-kaptein François Pienaar hom gegee het na Suid-Afrika se oorwinning teen Australië vroeër in die toernooi. In die paviljoene staan ’n honderdduisend mense op en juig hom toe. In Suid-Afrika sien die res van die land se mense dit oor die televisie. Die ou man slaag daarin om sy landgenote vir ’n dag lank te versoen. Sy grootste politieke sukses nog. In Lilongwe staan ’n paar Suid-Afrikaners op en juig saam. Ek en John CarrolWilcox kap bierbottels teen mekaar. Die wedstryd is ’n harde een. Al twee spanne verdedig verbete en daar is min beweging. Sodra die Kiwi’s se troefkaart, Jonah Lomu, die bal vat, is die Bokke se James Small op hom. Die wedstryd wipplank in albei spanne se guns. Die verdediging van albei spanne is so ondeurdringbaar dat al die punte met die skopskoen aangeteken word. Toe amptelike speeltyd oor is, loop die twee spanne gelykop. Die skeidsregter staan addisionele speeltyd toe. In die agterplaas van die bestuurder van Lilongwe se rugbyklub heers daar chaos. Plaaslikes en swerwers drom saam om die televisiestelle. Daar word geskree en gejuig en aangemoedig. Drank vloei vryelik en almal is dronk. Ek hardloop tussen die twee televisiestelle en waai die vlag, my pyn en ellende vergete. Jan Petersen vra my wat in die wedstryd aangaan. “Sharrap en kyk die fokken game!” antwoord ek. Suid-Afrika wen die Wêreldbeker-eindstryd. Ek en John en Gerald en die ander val mekaar om die nekke. Nog biere word uitgedeel. Toe almal tot bedaring kom, oorhandig ek my vlag aan die voorsitter van die Lilongwe Rugbyklub. Daardie nag kak en kots ek my longe uit. Die volgende môre lê ek uitgeput en moedeloos op die bedjie in ’n agterkamer van Gerald en Rosie se herberg. Die medisyne is uitgewerk en net ’n seer hand, ’n omgekrapte maag en ’n babelas bly oor. Boonop is ek nou werklik platsak.
Skielik voel ek baie eensaam. Ek weet nie presies wat ek hier maak nie. Ek verlang na die Krugerwildtuin en my vriende daar. Ek verlang na my ma se huis in Pretoria. Ek wens alles was nog dieselfde. Hoekom? begin ek myself nou vra. Hoekom het ek alles wat goed was, tot niet gemaak? Hoekom doen ek die dinge wat ek doen? Hoekom lewe ek roekeloos? Hoekom is ek altyd op soek na opwinding? Altyd rusteloos? My ouers het my nie so grootgemaak nie. Vir die eerste keer sedert my reis begin het, dink ek aan terugkeer. Huis toe gaan. Maar waarnatoe? Na skaamte en skande. Ek het nie ’n huis nie. Ek het nou iemand nodig om mee te praat. John Carrol-Wilcox kom die kamer ingestap. Sy vakansie is verby. In sy arms het hy pakkies en aandenkings wat hy op die mark gekoop het. Vanmiddag vertrek sy vlug terug na Suid-Afrika waar hy sal voortgaan met sy florerende boerdery in die heuwels van Natal. Hy val op sy bed neer. “Hoe gaan dit met jou, ou maat?” vra hy. “John, het jy ’n tydjie?” “Natuurlik.” Ek begin hom my storie vertel.
15
My laaste maande in die Krugerwildtuin was goeie tye. Ten spyte daarvan dat my hoofde hulle wenkbroue gelig het vir my onverskillige privaat lewe, moes almal toegee dat ek goeie werk doen. Vanoor die hele land het tevrede kliënte briewe aan die Nasionale Parkeraad geskryf en my geprys oor die wonderlike wilderniservaring wat ek tydens die staptoer aanbied. Hulle noem hoe veilig hulle saam met my in die veld voel. Die afdelingsveldwagters het aan my hoofde kom rapporteer dat hulle altyd op my kon staatmaak om hulle met allerhande take te help na staptoere. Gerugte het begin deurkom dat ek op die kortlys is vir bevordering na afdelingsveldwagter. Twee insidente in my laaste jaar in die Wildtuin gee vir my die reputasie van ’n cowboy. Om ’n cowboy te wees, is gevaarlik. As alles met jou goed gaan, dink almal, insluitende jyself, dat jy baie oulik is. Jy word populêr onder jou kollegas en dit versterk hierdie beeld. Jy word hoogmoedig. Jy voel die meisies se oë op jou breë skouers, bruingebrande bene en kakie-uniform wanneer jy deur ’n besige ruskamp stap en jy stoot jou bors ’n bietjie verder uit. Wanneer ’n cowboy kak aanjaag, is dit egter ’n heel ander storie. Die eerste insident vind plaas een middag op die laaste dag van ’n staptoer. Ons stap oor ’n basaltvlakte deur ’n knoppiesdoringruigte. Dit was ’n suksesvolle staptoer. Ons het twee troppe leeus opgespoor, ’n luiperd in ’n boom verras, ’n groot trop buffels raakgeloop en ’n swartrenosterkoei en kalf gekry. Ons het besluit om die middag vir olifante te soek. Ons gaan probeer om dit ’n “groot vyf”-staptoer te maak. Filliosse het pas ’n olifantbul se spoor raakgesien, of ons hoor ’n tak breek iewers in die ruigte voor ons. Ek en Filliosse toets die wind, knik vir mekaar en beduie vir die stappers om ons te volg. Die bos maak oop en vyftig meter voor ons verskyn ’n olifant. Dis ’n ou bul. Mens kan sien dis ’n bakleier. Sy een oor hang slap oor sy regteroog waar ’n hou van ’n ander bul se tand die kraakbeen beskadig het. Sy ander oor is geskeur en vol gate. Sy linkertand is stomp
afgebreek en die ivoor is spierwit op die breuk. Dit het nie lank terug gebeur nie en moet nog pynlik wees. Ek beduie aan my mense om stil te staan. Die olifant stroop ’n paar knoppiesdoringblare af en kou tydsaam. Hy draai weg van ons en begin rustig aan te stap. Ek ontspan en beduie vir ’n stapper dat dit in orde is om ’n foto te neem. Dit is ’n tipiese vroegwintermiddag. Die son hang laag en gooi oranje strale deur die takke. Stof hang swaar oor die veld en ek ruik die droë gras. Ek verlustig my in die oomblik en is bly die staptoersessie is amper oor. Ek besluit om die naweek ’n bietjie af te vat en ’n potjie te gaan maak saam met die manne op Skukuza. ’n Kamera gaan af agter my en ’n stapper probeer ’n hoes demp en slaag nie. Die olifantbul swaai verwoed om en storm kop omlaag op ons groepie af. Soos honderde male tevore swaai ek en Filliosse ons gewere van ons skouers af en haal oor. Blote roetine. Filliosse beweeg sy forse gestalte voor die stappers in en ek stap die olifant tegemoet. Dit is ’n prosedure wat ek en Filliosse al baie herhaal het. Ek verwyder myself van die groep en beweeg in die aankomende dier se rigting. Filliosse dek my rug. Sou die dier om een of ander rede by my uitkom, gebeur dit buite bereik van die stappers en dan kan Filliosse die werk klaarmaak. Dit het egter nog nooit gebeur nie. Gewoonlik beveel ek die olifant om te voertsek. Hy reageer dan dadelik, steek vas, skud sy kop om sy misnoeë te kenne te gee, draai om en stap verontwaardig weg. Vanmiddag is dit anders. Na my derde voertsek het die ou bul nog nie gaan staan nie. Steeds kop omlaag pyl hy net vinniger op my af. Ek lê aan en die korrel rus tussen sy oë. Ek wil hom nie skiet nie. Ek is nou al twee jaar lank staptoerveldwagter en hoef nog nie iets te geskiet het nie. Ek wil hê dit moet so bly. Die afstand tussen ons verklein nou drasties. Van agter my vloek Filliosse die olifant een stryk deur. Met my wangbeen teen die geweerkolf en die korrel op die eerste plooi onder sy oë, smeek ek die olifant. “Draai. Jou bliksem. Draai. ‘Seblief!” Steeds kom hy nader. Al hoe vinniger. My hand maak toe om die pistoolgreep van die geweer. Tien meter. Nege meter. Agt meter. My voorvinger druk die sneller af. Miskien was die hoek te skerp omdat die olifant so naby was, of miskien het ek
my vorige ondervindings vergeet, maar iets loop verkeerd en die skoot mis die brein. Miskien is ek net ’n swak skut. Die trefkrag van die koeël stuit die olifant in sy spore en hy gaan sit amper op sy agterstewe. Soos iets wat te laat agtergekom het dat hy ’n fout begaan het, trompetter hy, draai in sy spore om en hardloop die bosse in. Fok! Nou’s ek in die moeilikheid! sê ek vir myself. “Filliosse, pas die mense op!” Ek spring weg en sit die vlugtende olifant agterna wat al klaar besig is om in die eerste knoppiesdoringruigtes te verdwyn. Die son het so pas agter die horison gesak. Laat dit nie van Stoffel Mathysen gesê word dat hy ’n olifant kwes en laat wegkom nie. Ek bly op die olifant se hakke. Ek móét hom stop. Ek probeer nou wat onder veldwagters bekend staan as ’n Portugese breinskoot. Ek probeer sy stuitjie afskiet. My eerste skoot is onsuksesvol. Die olifant trek net sy gat in en hardloop vinniger. My tweede skoot is ook onsuksesvol, maar nou begin die olifant sy kop te draai om vas te stel wat dit is wat hom so van agter af pla. Toe hy sy kop die derde keer draai, kry ek ’n skoot in agter sy oor. Hy strompel een keer en gaan staan. Hy staan kop onderstebo. Hygend en verdwaas. Ek hardloop links om en dien die doodskoot toe. Nog ’n onskuldige bosreus tuimel aarde toe. Hoewel ek verslag moes doen oor die gebeurtenis aan Mick, was ek nie in groot moeilikheid nie. Ek is oor die vingers getik omdat ek glo te naby aan die olifant was. Hulle gaan egter van die standpunt uit dat ’n staptoerveldwagter alles in sy vermoë moet doen om sy mense te beskerm. ’n Menselewe is meer werd as die lewe van ’n olifant. Ek is geprys dat ek nie toegelaat het dat die olifant wegkom nadat my aanvanklike skoot hom gekwes het nie. Tydens wildernisstaptoere in die Krugerwildtuin word daar jaarliks gemiddeld een of twee diere geskiet. Dit is gewoonlik olifante, buffels of seekoeie in die droë jare. Daar is al selfs enkele witrenosters en een leeu geskiet. Ek was half jammer dat ek nie meer ’n skoon rekord op staptoer het nie, maar verder het ek nie veel slaap daaroor verloor nie. Dit was nog te vroeg om die gevaarligte te sien. Die tweede insident was rede tot groot vermaak onder my kollegas en het vir my meer as een bynaam besorg. Ekself het later daaroor gelag, maar dit kon baie
maklik anders verloop het. In plaas daarvan dat hierdie voorval my respek geleer het, het dit die idee by my laat posvat dat ek onsterflik is. Niks kan my seermaak nie. Ek is ’n cowboy. Teen hierdie tyd het ek al ’n hele string drinkebroers in die Wildtuin gehad. Hulle het gewissel van staptoerveldwagters, natuurlewenavorsers en studente. Ons het elke funksie op Skukuza as verskoning gebruik om bymekaar te kom. Bestuursvergaderings, potjiekoskompetisies en verjaarsdae was genoeg rede om vir ’n naweek geil te kuier. Voor die onheilighede wat tydens hierdie partytjies gepleeg is op die lappe kon kom, verdwyn ons almal na ons onderskeie buiteposte oor die lengte en breedte van die Wildtuin, totdat die Skukuza-stof gaan lê. Ons was almal toegewyde hedoniste – werk hard, speel hard, was ons beleid. Dit was na so ’n langnaweek se kuier dat ek van Skukuza af moes terug na my huis op Orpen, om vir ’n staptoer voor te berei. Die kortpad tussen Orpen en Skukuza was met die Wildtuin se wesgrens langs. Die staptoer begin eers Maandagmiddag, maar ek is Sondagoggend met ’n swaar babelas daar weg. Ek het geweet ek gaan die hele Sondag en ’n deel van Maandag nodig hê om van die naweek, wat al Woensdagaand begin het, se feesvieringe te herstel. Ek laat my vriende agter waar hulle uitgestrek lê oor rusbanke of op die vloer van ’n voorhuis, bestrooi met leë bierblikkies en drankbottels. Op pad uit gryp ek ’n koue Coke uit die yswater van ’n koelboks en ’n tjop van die vorige aand se braai van die rooster af. Ek klim in my bakkie en pak die voorbrand langs die Wildtuin se westelike heining aan, Orpen toe. Dit het goed gereën die afgelope paar dae en die pad is sleg verspoel. My benewelde toestand verbeter nie die situasie nie en twintig kilometer noord van Skukuza kry ek dit reg om my bakkie te laat vassit in ’n uitgespoelde drif. Dit is nog sestig kilometer Orpen toe. Ek besluit om maar terug te stap Skukuza toe en my vriende te gaan uitboender sodat hulle my kan kom uitsleep. Ek gespe my .44-rewolwer om my middel vas en begin terugstap. In daardie tyd was daar nog ’n heining tussen die Krugerwildtuin en die privaat wildtuine wes daarvan. Ten spyte van die babelas begin ek die stappie te geniet en begin spoedig sweet in die oggendson. Die beste manier om die naweek uit die sisteem te kry, is ’n lekker stywe roetemars. Ek begin sing en dink aan al die meisies wat weggekom het.
Drie kilometer op my pad terug staan ’n ruie boskasie. ’n Olifant het ’n paar dae gelede ’n treurboswilg hier omgestoot en dit het in die mik van ’n huilboon gaan lê. Die twee bome is inmekaar verstrengel en die gras staan hoog daarom. Ek bekyk die ruigte in die verbygaan en merk niks ongewoons nie. Ek stap verby. Agter my breek takke en iets bars deur die bos. Reg op my af. Nou gebeur alles in vertraagde aksie. Ek is linkshandig. My rewolwer dra ek op my regterheup, met sy greep na voor. Ek trek my rewolwer uit my gordel en swaai om. Die ruigte skud en sidder, maar het nog nie sy gevaarlike geheim uit sy skadu’s openbaar nie. Maar dat ek in die moeilikheid is, weet ek. My rewolwer is ’n enkelaksie. Ek moet die hamer met my duim oorhaal voor ek kan skiet. My voorvinger vind die sneller, my duim vind die hamer. Ek weet ek is te laat. Uit die ruigte, skaars vier meter van my af, bars ’n buffel. Dis eienaardig in watter detail mens dinge oplet in die halfsekonde voordat ’n buffel jou onderstebo loop. Dit was nog ’n jong dier. Volgroeid, maar nog nie so swaar in die lyf nie. Die horings was ook nog nie ten volle ontwikkel nie. In die gleuf by die basis van die horings het daar nog hare gegroei. Met ouderdom, soos die horings swaarder word, verdwyn die hare tussen die twee knoetserige keratienmassas wat die buffel se skedel so goed beskerm. ’n Aanstormende buffel se oë is rooi. Sy ooglede is gesper en mens sien die wit van sy oogballe. Daar is fyn druppeltjies vog op die punt van sy breë neus. Slym loop uit sy neusgate. Sy onderlip is teruggetrek en die geel voortande op sy onderkaak is ontbloot. ’n Onaardse brul-skree kom diep vanuit sy binneste. My duim vries op die ongespande hamer van my rewolwer. Ek verstewig my houvas om die Amerikaanse okkerneuthout van die rewolwergreep. En wag vir die oomblik van impak. Ervare veldwagters en jagters het my vertel dat ’n buffel sy kop laat sak en jou met sy horings haak as hy op jou is. Dit veroorsaak dat jou liggaam oopgeskeur en jy deur die lug geslinger word. Wanneer jy daarna grondvat, is jy so erg beseer dat dit vir die buffel maklik is om jou te vermorsel waar jy hulpeloos op die grond lê. Hierdie buffel was nog jonk en seker ongeskoold in die krygskuns. Hy loop my soos ’n stormram onderstebo. Sy voorkop tref my onder die kennebak en ek trek deur die lug teen die grensheining vas. Die heining gee ’n ent mee en skiet my
terug na die buffel. Sy horings vang my vol op die bors. Die volgende oomblik lê ek op die grond met my kop tussen die drade. Die buffel se kop is omlaag en dit voel of hy my ribbekas inmekaar druk. Met sy een horing probeer hy my karnuffel, maar hy slaag nie daarin om die horingpunt tussen my ribbe in te druk nie. Dit gee my ’n oomblik om te dink. As ek my rewolwer se loop teen sy kop druk en die sneller trek, kan die koeël se terugslag my dalk tref. Die buffel sal ook bo-op my inmekaar sak en ek sal vasgepen wees as die leeus en hiënas later kom. Ek druk die loop teen die dier se breë nek. Ek haal die hamer oor en trek die sneller. Ek onthou nie dat ek die skoot hoor afgaan het nie. Ek sien hoe ’n rooi gat die grootte van ’n twintigsentstuk in die swart huid van die buffel gepons word. Hy bokspring een keer, trap my rakelings mis en toe is hy weg. So skielik soos hy gekom het. Alleen lê ek in die veld, kop tussen die drade, rewolwer in die hand met ’n stofwolk wat om my neerdaal. Die veld is doodstil. Ek wikkel my kop uit die drade en sit regop. Nou bevoel ek my lyf vir skade. Ek voel geen pyn nie. My ore sing van die hou onder my kennebak. Bloed tap van my ken af oor my hemp. Die doringdraad het die rugkant van my hemp flenters geskeur. My babelas is weg. Ek staan op en stof my af, druk my rewolwer terug in sy holster. My hoed lê etlike meters aan die ander kant van die heining in die Sabie Sand-wildtuin. Ek los hom daar. Ek het nog ver om te stap en die son begin genadeloos bak. Ek sit my terugtog voort. ’n Paar kilometers verder begin die pyn. Ure later strompel ek Skukuza binne. Veldwagters wat die volgende dag die buffel se spoor gevat het, het hom gekry waar hy drie kilometer verder weens bloedverlies inmekaar gesak het. Almal het hierdie voorval baie vermaaklik gevind. “So iets sal ook net met Mathysen gebeur” en “Wat gaan Mathysen volgende aanvang?”, is stellings wat gemaak is, en vrae wat gevra is. Daar was ook bewondering. By ten minste een geleentheid het die hoofveldwagter vir besoekende natuurbewaringstudente gesê, toe iemand hom vra waarna hy in ’n veldwagter soek: “Iemand wat ’n buffel met ’n rewolwer van sy lyf kan afhou en daarna twintig kilometer huis toe kan stap.” Ek kon die bewondering in die oë van die ontvangs- en verkoopsdames op Skukuza en
Satara sien. Die respek en goedige geskerts van my kollegas het ek terdeë geniet. Ek was ’n legende. Die Wildtuin se stoute, goue seun. ’n Beeld wat my goed gepas het. ’n Beeld wat ek ten volle uitgeleef het. Ek was die haan op partytjies. Een van die manne. Oor en oor moes ek my buffelstorie saans om die kampvuur op staptoere vertel en het in die bewondering gebaai. Ek was onoorwinlik. Onsterflik. Niks kon my seermaak nie. Die grootpad na die finale ramp was gebaan. In my laaste drie maande ontmoet ek vir Marissa. Het sy vroeër gekom, het sy my dalk nog van myself gered. Een nag, nadat haar suiplap van ’n nikswerd man haar die hoeveelste keer geslaan het, het sy haar twee klein seuntjies in die kar gelaai en in die Wildtuin by familie kom wegkruip. Ons ontmoet een aand op ’n partytjie op Skukuza. Die volgende dag vertrek ek en ’n klomp vriende Mosambiek toe vir ’n week se visvang. Sy belemmer my hele visvangvakansie. Hoewel ek ’n koningsvis vanaf die rotse uittrek (Mathysen doen dit al weer), kan ek haar nie uit my gedagtes kry nie. My vriende kan nie die kloutjie by die oor bring oor Mathysen nie homself is nie. Sy is die pragtigste vrou wat ek nog gesien het. Terug in die Wildtuin moet ek op Krokodilbrug gaan instaan. Die afdelingsveldwagter gaan weg vir sy Desember-vakansie. Marissa en haar twee seuntjies kom kuier. Laatmiddae loop ons hand in hand in die veld. Die twee seuntjies trippel sorgeloos om ons. Ons het net oë vir mekaar. Ek en sy. In die warm aande, nadat die seuntjies slaap, sit ons op die mat in die veldwagter se huis en musiek luister, terwyl ons mekaar vashou en diep in mekaar se oë kyk. In daardie tyd hou die Krugerwildtuin se militêre eenheid ’n medaljeparade. Vier jaar na my militêre diens moet ek ’n medalje gaan ontvang vir my aandeel in Suid-Afrika se grensoorlog. Ek diep my uniform tussen die motbolletjies uit my trommel op. Dit pas nog soos die dag toe ek dit die laaste keer uitgetrek het. Ek is trots op die feit dat ek nie my liggaam laat agteruitgaan het nie. Ek laat my uniform was en stryk. Ek vorm my swart baret met sy jakkalskopembleem in die gebruiklike krinkelsnit van die Inligtingskorps. Ek heg my luitenantpips aan die epoulette op my uniformhemp en my regimentskentekens aan die skouers. In my negeseremoniële-drag – wit kamaste, kotslappie en krismisbelt in die eenheid se kleure – lyk ek imposant en paraat. Marissa help my met die laaste afrondings
aan die uniform en straal op na my. Na twee dae se parade-inoefening, ontvang luitenant Christoffel De Villiers Mathysen die Suider-Afrika-medalje vir Militêre Diens buite sy land se grense saam met verskeie offisiere, onderoffisiere en manskappe, op Skukuza se rugbyveld. Op die paviljoen sit vriende en kollegas, my pa, broers en swaer en Marissa met haar seuntjies. Toe ons afmarsjeer, stap sy na my toe en soen my. Die einde van die jaar staan nader en die vakansieatmosfeer heers in die warm, stomende Laeveld. Deur die weke patrolleer ek die rietruigtes van die Krokodilrivier. Naweke glip ek Skukuza toe na my vriende, die feestelikhede en Marissa. Ek vier Kersfees saam met haar en haar familie op Skukuza. Haar hartseer oor haar gebroke huwelik en onseker toekoms skemer plek-plek deur, maar my sorgvrye geaardheid laat haar ontspan. Moet nie die lewe te ernstig opneem nie, herinner ek haar. Oujaarsaand is ’n spoggeleentheid op Skukuza en ’n partytjie waarna die Wildtuin vir ’n hele jaar lank uitsien. Vir die jong kêrels is dit ’n geleentheid om meisies van orals af te kry en met ’n skoonheid, hetsy plaaslik of van elders, te kom spog. Die ouer personeellede is uitgevat en as mens mooi oplet, kan jy sien hoe ’n paar getroude mans die kat in die donker knyp op die halfverligte dansvloer van die gemeenskapsaal. ’n Orkes speel op die verhoog en buitekant word bier en brandewyn verkoop. ’n Reuse-rooibosvuur brand buite en dié wat wil braai, is welkom. Die swembad en tennisbaan is verlig en orals staan groepies mense of paartjies rond. Dié jaar is ek en Marissa die aantreklikste paartjie by die Oujaarsaandpartytjie. Haar lang, blonde hare tuimel wild en los oor haar kaal skouers. Haar swart minirokkie en hoëhakskoene vlei haar perfekte figuur. Hand in hand en selfversekerd stap ons tussen die skare deur. Die mans, getroud of ongetroud, jonk of oud, kan nie anders as om na Marissa te staar nie, en ek kan hulle amper hoor sê: “Mathysen, jou gelukkige bliksem.” Ek is geklee in my oudste, styfste Lee Rider-jeans, amper wit gebleik en knap om my bobene, boude en ballas. Die boonste drie knope van my donkerblou langmouhemp het ek oopgelos. Aan my voete is ’n paar egte Kanadese kalfsleercowboy-stewels wat my nog langer as my ses voet twee laat lyk. Ek voel die ander meisies se oë op my. Ek het met baie van hulle uitgegaan.
Marissa het my die vorige dag probeer leer om langarm te dans, maar nie daarin geslaag nie. Dit maak nie saak nie. Op die dansvloer het ons net oë vir mekaar. My hande is op haar ferm boude en ons heupe is teen mekaar aangedruk. Ek het nie toe die afkeurende fronse van die Parkhoof en ander ouer personeellede opgemerk nie. Ek het baie dinge nie opgemerk nie. Ek het nie besef hoeveel jaloesie, afguns en afkeuring daar dié aand in die gemeenskapsaal was nie. Dit sou ek later agterkom, in totaal ander omstandighede. Nou was ek onder die indruk dat almal dink ek is moerse oulik. Elke nou en dan laat ek Marissa by ’n hoopvolle werktuigkundige of bebrilde -klerk om mee te dans, terwyl ek ’n bier gaan kry en luidrugtig met my drinkebroers skerts. Die oomblik is myne! Ek weet nou dat daar ’n ander gas ook tussen die mense was. Toe het ek hom nie opgemerk nie, maar hy was daar. Ek was te gelukkig om aan hom te dink, te hoogmoedig, te onverskillig. Ek het ook nie gehoor toe hy diep uit sy keel uit lag, sy donker mantel oor sy skouers gooi en in die duister nag verdwyn nie. Toe die klok die twaalfde keer slaan, hou ek en Marissa mekaar vas en soen mekaar lank. Die partytjie in die gemeenskapsaal het begin afneem, maar ek en Marissa en ander jongmense sit die feestelikhede met vonkelwyn in ’n privaat huis voort. Daar word deurnag gekuier. In die voordag ry ek en Marissa uit na ’n granietkoppie buite Skukuza. Ons parkeer die bakkie op die kruin en wag vir die son om oor die eerste dag van die nuwe jaar op te kom. Ons hou mekaar vas en drink vonkelwyn uit ’n bottel. Die dag breek oor die boswêreld om ons. Die dou hang in groot blink druppels aan die gras en blare. Iewers brul ’n leeu en sy trop antwoord dadelik. Aan die voet van die koppie staan ’n troppie rooibokke en bewe in die nat, koel oggend. Met die toekoms blink en oop voor my en ’n mooi meisie aan my sy, was dit miskien my gelukkigste oomblik. Minder as twee maande later was dit alles tot niet.
Die romantiek wat deel was van wildernisstaptoere het begin afneem. Dit was nog altyd lekker om in die bos te loop, maar ek het begin moeg raak om dieselfde vrae van toeriste te beantwoord en dieselfde ou stories te vertel. Om
gasheer te speel vir oorwerkte stedelinge wat ontspanning en opwinding in die bos kom soek. Ek was nie meer lus om na ander mense se argumente en kwinkslae om die vuur te luister nie. Saans is ek vroeër tent toe en bedags het ek verder gestap en minder gesels. Was dit tyd vir iets anders? Om tot rus te kom, te trou? Die gedagte het my bang gemaak. Hoe pragtig Marissa ook was, ek kon myself nie in daardie rol sien nie. My tuiste op Orpen was aansienlik stiller as Skukuza. Maar ook daar het vriende en drinkebroers my opgesoek. Soos daardie Saterdagoggend in die laatsomer. Dit was na een van my vermoeiende staptoersessies dat Wayne en Jimmy en Jimmy se vrou, Sally, by my aangekom het. Ek het pas twee staptoere na mekaar op die Swenispruit gedoen en direk daarna ’n kollega afgelos in die Napi-wildernisgebied. Ek moes mooi trap met veeleisende toeriste. Daarna moes ek my oor twee derdes van die lengte van die Wildtuin haas om ’n vervelige vergadering op Letaba by te woon. Marissa was terug stad toe om ’n skeisaak aanhangig te maak en ek het behoefte gehad aan ’n stil, rustige naweek alleen in die huis. Wayne haal biere uit die plastiek van ’n sespak uit en gee dit aan soos hulle by die voordeur instap. Ek maak ’n bier oop en loop na die hoëtroustel en spoedig donder The Clash se “Tommy Gun” driftig deur Orpen se ruskamp. Stil naweek se moer. “Kom saam. Ons gaan wild kyk en dan eet ons ’n laatontbyt by my kamp in Timbavati.” “Wayne, my hele lewe is een lang game drive. ’n Ou raak gatvol vir wild kyk na ’n ruk.” “Ons maak dit ’n kortetjie. Dan kuier ons verder by die kamp. Daar’s genoeg koue bier.” Ek laat my ompraat en met die uitstap gryp ek my rewolwer van die tafel af. Oor die hoëtroustel hamer The Clash se “I fought the law”. Ek en Jimmy, ’n bosbouer uit Swaziland, klim voor in sy bakkie en Wayne en Sally agterop. Ons trek in ’n stofwolk by Orpen weg, die Timbavati in.
Ek roep na Sally agterop die bakkie: “Jy en Wayne kyk vir wild. Ek en Jimmy sit en kak gesels!” Jimmy lag en ons stamp ons blikkies teen mekaar. ’n Kliplikkewaan skarrel oor die pad. Jimmy slaan ankers aan en ek spring uit en sit dit agterna. Ek gryp die likkewaan net voordat hy onder ’n stomp skuiling soek. My hand sluit om sy dik nek. Laggend stap ek terug na waar die ander langs die bakkie wag. Ek hou die likkewaan langarm voor my uit. Sally kom nader om dit aan te raak. “Wag,” waarsku ek, “hy’t nog nie gekak nie.” Sally het skaars teruggetrek of die likkewaan laat loop met ’n boog bruin en wit stront. Dit mis Sally rakelings en die mans bars uit van die lag. “Nou kan jy maar aan hom vat, Sally.” Na ’n deeglike ondersoek word die arme likkewaan vrygelaat en skarrel dit die bosse in. Jimmy laat die bakkie se wiele spin dat die stof staan soos ons wegtrek. In hierdie deel van die Timbavati is daar twee gronddamme. Drinkplekke vir wild. Elkeen van hierdie damme huisves ’n krokodil. As die water laag word in een dam, trek die een krokodil oor land en besoek sy maat in die ander dam. Die bakkie stop aan die oewer van die vol dam. Aan die oorkantste wal lê ’n elfvoetkrokodil. Ek spring uit die bakkie en draf water toe. Ek roep na Wayne. “Ek koel net gou af.” “Stoffel! Moenie!” roep Wayne. “Al twee krokodille is nou hier!” “Nee, man, ek sien net een.” “Stoffel!” hoor ek vir Wayne roep toe ek met ’n boog induik. Dis ’n gewoonte wat in die Caprivi begin het. Op ’n warm dag tydens patrollie op die Kwandorivier, sou ek vinnig induik en dadelik terugwaad kant toe. Hierdie oefening het ek al in baie krokodilwaters herhaal. Selfs ’n keer of wat in die Zambezi. En ek het altyd gewonder of die dag gaan kom.
Ek draai na die wal toe en begin uit die water te stap. Ek sien my drie vriende se verstarde gesigte. Dan sien ek die geel oë deur die wateroppervlak breek. Met geweldige krag sluit die krokodil sy kake om my regterskouer. Onmiddellik swaai hy sy swaar stert en vou my dubbel. My kop verdwyn onder water. Die krokodil skud my soos ’n hond. Wayne was reg. Die eerste ding wat tot my deurdring, is dat ek nog met my voete op die modderige bodem staan. Die krokodil spook nou om my van my voete af te dwing en slaag byna daarin. Ek moet op my voete bly, besluit ek. Ek moet ook asem skep. Die krokodil is besig om my te verdrink. Ek beur teen die krag van die krokodil op en ek voel hoe my skouerspiere van die been afgestroop word. Daar is egter geen pyn nie. My kop beur bo die wateroppervlak uit en ek vat ’n teug vars lug. Om my maal die bruin waters soos die krokodil met sy stert woel. ’n Oomblik kyk ek hom in die oë. Ek kyk na my vriende op die oewer. Hulle hardloop rond, op soek na stokke en klippe om die krokodil mee af te weer. Ek moet met hulle praat. Ek draai my kop en kyk in die rigting van die oorkantste wal. Die ander krokodil het al lankal van die wal af gegly en pyl reg op my en sy maat af. Ek weet hy kom nie om my te help nie. Die krokodil aan my skouer kry weer die oorhand en vir ’n tweede keer verdwyn my kop onder water. Ek lig my voet uit die modder van die bodem en gee my eerste tree in die rigting van die oewer. Die krokodil hernu sy poging om my van my voete af te kry. Ek gee nog ’n tree nader aan die vlakker water. Ek moet met my vriende praat. Weer eens strek ek my nek bo die water uit en voel hoe vleis en senings verder van my skouerbeen afskeur. My oë vind Jimmy s’n. “My rewolwer is in die bakkie. Kyk wat jy kan doen.” Hy knik en spring na die bakkie toe. Ek kyk om. Die ander krokodil is nou baie naby en ek weet ek gaan hom nie wen nie. Ek gee nog ’n tree nader aan droë land en die krokodil vou my weer. Stadig, te stadig, sleep ek die krokodil in die vlakker waters in. Sy ystergreep aan my skouer verslap nie. Hy ruk my lyf van een kant na die ander, maar ek bly op my voete. Dit is nou makliker om my kop bo water te hou. Jimmy staan kniediep in die water. Om my tref die swaar koeëls die water. Skielik weet ek ek gaan dit maak. Dan is die tweede krokodil by my.
Ek is nou halflyf in die vlak water. Die skote klap om my. Die krokodil besef hy gaan my nie omkry nie. Hy los my skouer en swem weg. My verminkte arm reik uit en sluit om Jimmy se gewrig. “Pas op!” roep Wayne van agter Jimmy. Ek kyk om en gooi my linkerarm op. Die tweede krokodil lig homself van drie meter weg uit die water. Sy kragtige stert dryf hom aan. Sy kake omsluit my voorarm. Dit klink soos nog ’n rewolwerskoot wat afgaan toe die krokodil met die draai van sy lyf my voorarm afbyt en my boarm versplinter. Vir ’n oomblik sien ek hoe sy swaar lyf terugval in die water met my hand wat by die een kant van sy bek uitsteek. Ek val agtertoe en strompel uit op droë grond. “Dis verby met my,” sê ek. Bloed spuit orals uit. “Ons kry jou by ’n dokter,” sê Wayne en pluk sy T-hemp uit, skeur dit in twee en begin my skouer te verbind. Jimmy gooi my agterop die bakkie en gebruik sy hemp om bloed te stop. Sally klim ook op. Wayne spring agter die stuur en jaag soos ’n besetene deur die bos Orpen toe. Jimmy hou my kop op sy skoot. By Orpen storm Sally in my huis in en gryp komberse van my bed af. Sy gee dit vir Jimmy wat dit in repe skeur en orals toebind. Ek hoor die kampbestuurder se vrou sê: “O, my genade. Ek radio die ambulans.” Ek sien hoe Jimmy oor die rand van die bakkie opbring. Ek voel die son bak. My LO-broekie met sy breë pype het tot amper teen my middel opgetrek. Ek trek Jimmy se aandag. “Jimmy, trek net asseblief my broekspype af. Die son bak my knaters.” Ek hoor Jimmy lag. “Stoffel, jy gaan dit maak.” Wayne trek weg uit Orpen en jaag met die sewentigkilometerteerpad na Hoedspruit. Sally sit voor langs hom. Ek lê met my kop op Jimmy se skoot. Ek begin nou baie swak voel van bloedverlies. Elke keer dat ek my oë toemaak, klap Jimmy my deur die gesig. “Jy gaan nie slaap nie, Stoffel. Jy gaan dit maak, ou maat.” Ek wens ek kon vir iemand beskryf hoe lief ek daardie dag vir Wayne en vir Jimmy en Sally was. Ek voel hoe my kragte my verlaat en vir die eerste keer in
jare bid ek. Ek bid eintlik nie. Ek praat. Ek sê: “Here, ek weet ek het Jou al jare terug vergeet. Ek het nooit werklik geglo nie. As Jy bestaan, moenie my vandag laat doodgaan nie.” By die Hoedspruit-Bosbokrand-T-aansluiting sluit die mediese reddingsvoertuie by die bakkie aan. Op Hoedspruit Lugmagbasis wag die helikopter. Ek word oorgelaai en Nelspruit toe gevlieg. Daar word die eerste noodoperasies gedoen. Die wonde word skoongemaak en toegebind. ’n Krokodilbyt word altyd septies. Gangreen kan my my regterarm kos. Toe ek wakker word, staan my vriende van die Wildtuin en my familie om my bed. My ma huil verskriklik. My swaer is in ’n hewige argument betrokke met die dokter wat die nood-operasie gedoen het. Om my is dit chaos. ’n Veteraanveldwagter se gesig verskyn bo my. Jare terug is hy ernstig beseer in ’n krokodilaanval terwyl hy visgevang het in die Sabierivier. “Stoffel, moet niks vir die koerante sê nie.” Dis advies wat ek vergeet het. My swaer was in daardie stadium ’n nagraadse dokter besig om te spesialiseer in ortopedie. Deel van sy opleiding was by 1 Militêre Hospitaal in Pretoria. By hom is daar geen twyfel nie. 1 Mil. is die beste hospitaal met die beste spesialiste vir sulke gevalle. Die ouer dokter van Nelspruit wil my nie laat gaan nie. My pa tree tussenbeide en uiteindelik gee die dokter toe. Op voorwaarde dat ek Pretoria toe gevlieg word. In die helikopter vlieg my swaer saam met my. Sy kalm, bedaarde optrede boesem vertroue by my in. Hy is lankal deel van ons familie. Hy en my suster gaan al uit van vroeg in hulle hoërskooldae. Ek was die jonger boetie, wie se plig dit was om sy lewe hel te maak. Hy het dit alles gedwee aanvaar. Dit het nie lank geneem voordat ek hom as ’n ouer broer gesien het nie. Soos ek lê en opkyk na hom, dink ek aan die kere dat hy my uit die moeilikheid gehelp het. Die keer dat ek en Bok en Nakkie met my pa se bakkie ’n ongeluk gemaak het, was dit hy wat meer as honderd kilometer uitgery het om ons te kom insleep. My sussie was pas uit die hospitaal met die geboorte van hulle eersteling. Die helikopter land by 1 Militêre Hospitaal. Ek kan nie dadelik teater toe gaan nie. Ek het geen idee van tyd nie. Ek weet dis nou aand. Die verbande aan my arm is hard en deurweek van bloed. Ek word van my trollie af op ’n bed in ’n
saal neergelê. Ek bloei en sweet onophoudelik. Bo my bed hang ’n drup en ’n bottel bloed. Marissa verskyn van êrens af. “Dinge is nou anders, Marissa.” “Wat bedoel jy, Stoffel?” vra sy met trane wat oor haar wange stroom. “Ek het nou net een arm.” “Dit maak nie saak nie.” ’n Vriend uit die Wildtuin kom die saal binne en staan aan die voetenent van my bed. Trane stroom uit sy oë in sy baard in. Hy praat nie. Hy staan net daar en huil. Is mense dan so lief vir my? Elke halfuur kom ’n span van drie verpleegsters en ’n suster in. Pynloos lig hulle my op, verwyder die bloeddeurweekte lakens van my bed, was my lyf, smeer my met room en lê my op skoon lakens neer. Dit word ’n nag van hel vir almal teenwoordig. Die verdowingsmiddel wat hulle my inspuit om die pyn te stil, het ’n negatiewe uitwerking. Die pyn bly, maar ek hallusineer oor sandstorms en ’n dorsdood in ’n woestyn. Ek sweet verskriklik en mag nie water inneem nie. Die dors word oorweldigend. Die bloedverlies laat my niere ingee. Susters en verpleegsters skarrel om my rond. Ek word aan ’n masjien gekoppel. Marissa vee my gesig met ’n vadoek af. Dit word een van die langste nagte van my lewe. Minute word ure en ure word leeftye. Die pyn is onhoudbaar. Niemand is seker of ek die nag sal oorleef nie. Ek oorleef die nag. Dagbreek bring verligting, maar nie slaap nie. Nog steeds kan ek nie teater toe gaan nie. My bloeddruk is te laag. My pa en ma kom sit by Marissa langs my bed. Die suster vertel hulle dat dit een van die ergste nagte in haar loopbaan was. Die studenteverpleegstertjies is almal in trane. Later die dag verskyn koerantmanne in my saal. Die hospitaal se skakelbeampte het hulle ingelaat. My pa gooi wal. Sy seun gaan nie die koerant te woord staan nie. Die eerste berigte wat verskyn het, was ver verwyderd van die waarheid. Die koerantmanne hou vol. “Maar meneer, is dit nie nou ’n geleentheid dat die waarheid vertel word nie?” My pa kyk na my en ek knik. Dis ’n fout wat later teen my sou tel. Ek vertel die storie en probeer dit afmaak as iets ligteliks. Ek verwys na vorige konfrontasies
met wilde diere en lig my verbinde stompie waar my linkervoorarm was op sodat ’n fotograaf dit kan afneem. Die Nasionale Parkeraad sou my nie daarvoor vergewe nie. Hulle wou ’n amptelike verklaring publiseer. Eindelik is ek reg vir die operasietafel. Dit is die operasie wat sou bepaal of ek my regterarm gaan behou of nie. Ek neem afskeid van Marissa en my ma. Ek word op ’n trollie gelaai en by die gang afgestoot na ’n hysbak wat my ’n paar verdiepings laer na die teater neem. In die teater is my swaer deel van die span dokters wat voorberei vir die operasie. Hy kom staan by my. Ek kyk op na hom. “François, moenie laat hulle my ander arm ook vat nie. Asseblief.” Hy glimlag. “Moenie bekommerd wees nie. Ons sal nie.” Soos altyd, het my swaer sy woord gehou. Die operasie is suksesvol. Infeksie tree nie in nie. ’n Deel van my borsspier word uitgeslag om my verskeurde skouerspier te vervang. Die wond strek oor die lengte van my arm. Vel word van my bene afgehaal en oorgeplant op my arm. My verligting is groot. Ek het een beskadigde, maar funksionele arm. Die lewe kan aangaan. Daar word ’n metaalspalk aan my lyf gegespe wat my arm in die lug hou sodat die spiere kan heg. Ek mag glad nie my arm gebruik nie. Marissa verontagsaam die reëls en trek in my hospitaalkamer in. Sy doen alles vir my. Was my, voer my en vee my af. Sy slaap op ’n matrassie langs my bed en staan op vir die geringste dingetjie. Wanneer die pyn erg word, hou sy my vas. Sy raak bevriend met die susters en matrone en niemand rep ’n woord oor haar teenwoordigheid nie. Sy wen ook die harte van my familie. My familie vorm soos gewoonlik ’n verenigde front om my hospitaalbed. “Vasbyt, boet. Die goeie tye sal weer kom,” sê my oudste broer. “Oor ’n jaar of twee sal jy verbaas wees oor hoe goed dit met jou gaan.” My suster en haar twee kindertjies kom los vir Marissa af in die oggende. My toestand stabiliseer vinnig en my pa voel die tyd is ryp vir ’n ligte vermaning. “My seun. Ek weet jy is baie dapper en alles, maar gods man, dis mos net ’n poephol wat saam met krokodille swem.” Daar is smart en teleurstelling in sy stem. “Ek weet, Pa,” is al wat ek kan antwoord. My ma kom later kuier. Trane loop uit haar oë uit. “My kind. Jy moet nou rustig raak. Vir my onthalwe. Ek word nou oud. Ek sê vir jou ek kan dit nie meer vat
nie.” “Ek weet, Ma.” Ek kry my ouers baie jammer. Hulle lewe lank was hulle bekommerd oor hulle jongste seun. Net toe hulle begin ontspan oor my (die kind is gelukkig in sy werk en hy het darem nou ’n vaste meisie), toe gebeur die ergste. Nou wil hulle weer beheer van my lewe oorneem. My suster en broers sien dit raak en keer hulle weg. Een ding besef ons almal. Dinge het verander vir my. Besoekers begin instroom. Bok vlieg uit die Kaap uit. Nakkie ry van Port Nolloth af. Uit die Wildtuin stroom vriende en boodskappe van ondersteuning. Sekere prominente gesigte bly egter afwesig. Ek wag in spanning. Dan kom die boodskap. Die Parkhoof kom my môre sien. Hy en sy vrou kom besoek my. My ouers is ook teenwoordig. Marissa het gaan inkopies doen. Hy staan en toekyk hoe my swaer en ander dokters die verbande van my regterskouer verwyder en die rou wonde ondersoek. Tentatief verwyder hulle ’n paar van die metaalkrammetjies wat alles aanmekaarhou. Hulle lyk tevrede en sê die verpleegsters aan om vars verbande op te sit. Dan laat hulle ons alleen. Die Parkhoof vra baie simpatiek uit oor alles voor my ouers, maar agter sy dik brilglase vertel sy koue oë ’n ander storie en vind daar ’n woordelose gesprek tussen my en hom plaas. Ek weet presies wat hy vir my sê. Hy sê: “Jy het uiteindelik te ver gegaan. Dis verby met jou in die Wildtuin. Jy het jouself nou behoorlik in die voet geskiet. Niemand in die hele Parkeraad sal vir jou in die bres tree nie. Daarvoor het ek klaar gesorg. Ek het van die begin af nie van jou gehou nie.” Woordeloos antwoord ek terug: “Fok jou, Parkhoof. Ek sal jou ’n ding of twee wys. Nie jy of ’n duisend krokodille sal my onderkry nie.” Hy sit sy simpatieke fasade voort en vra my, hierdie keer mondelings: “Stoffel, wat is jou verwagtinge van hier af?” Ek kyk hom in die oë en antwoord reguit en nugter. “Om so gou moontlik terug te keer en my pos as staptoerveldwagter te hervat.”
Hy is stil. Hy kyk my stip aan. Sy mond is hard. “Ek verstaan.” Hy aanvaar my uitdaging. Gemoedelik draai hy na my ouers. “Die belangrikste is natuurlik dat Stoffel so gou moontlik gesond word.” Hulle draai om en stap uit. ’n Week na die ongeluk kan ek in die hospitaalgang begin rondloop. Marissa bly pal aan my sy. Die spalk aan my lyf hou steeds my arm in een posisie. Ek mag dit nog glad nie gebruik nie. Gewese nooiens bel van orals af om te kom kuier, maar die verpleegsters is kop in een mus met Marissa en dink allerhande telefoniese verskonings uit om hulle weg te hou. ’n Televisiestel en videomasjien word in my hospitaalkamer ingedra. My swaer bring vir my die video Scent of a woman. Ek en Marissa kyk dit saam. Ek vereenselwig my so met die rol wat Al Pacino vertolk, dat ek snot en trane sit en huil. Na twee weke by my in die hospitaal, moet Marissa terug Skukuza toe. Haar aansoek om ’n pos as sekretaresse daar was suksesvol. Sy moet begin werk. Vir haar begin ’n nuwe lewe. Ons neem swaar afskeid. Na haar vertrek lê ek alleen op my bed. Dis alles net ’n droom. ’n Verskriklike droom. Netnou gaan ek wakker word in my bed in my huis op Orpen. Dan gaan ek opstaan en begin voorberei vir ’n staptoer. Maar dis nie ’n droom nie. Dis die harde werklikheid, die lang pad vorentoe. Met die spalk nog aan, begin ek met ligte fisio- en arbeidsterapie. ’n Sielkundige kom besoek my ook om my uit te vra na my gemoedstoestand. Ek verseker hom alles is reg. My hospitaalkamer is op die vyfde verdieping. Die fisioterapielokale is op die grondvloer. Ek maak van die begin af ’n gewoonte om die trappe te klim. Ek gebruik nooit ’n hysbak in die tyd wat ek in die hospitaal is nie. Snags kan ek nie slaap nie. Ek drentel in die gange rond en gesels met die nagsusters. Een nag ontdek ek die saal waar die pasiënte met kopbeserings lê. Breinskade. Die suster neem my tussen die beddens deur in die donker saal. “Van hierdie pasiënte lê al vir maande, selfs jare hier. Baie herstel in ’n mate. Die tragedie is dat baie van hulle bewus is van wat om hulle aangaan, maar hulle kan nie reageer nie.”
Sy wys my ’n paar pasiënte uit. “Sit vir ’n rukkie by hulle. Praat met hulle. Hulle is baie eensaam.” Skielik tref dit my dat my probleme klein is. Ek sit lank by hulle. Ek vertel hulle wat met my gebeur het. Ek vertel hulle van die Wildtuin en die wildernis en die diere. Hulle lê stil in die donker saal en staar na die plafon en luister na elke woord wat ek sê. My arm reageer goed op die fisioterapie. Die span spesialiste onder ’n veteraandokter wat duisende jong mans, verwond in die grensoorlog, behandel het, lyk tevrede met my vordering. My spalk word verwyder. Fisioterapie word verskerp en in die arbeidsterapiesaal begin ek leer om te skryf en te teken met my regterhand. Deur Marissa wat oor naweke met my bakkie uit die Wildtuin Pretoria toe ry om te kom kuier en ander besoekende Wildtuinvriende, hoor ek dat die Parkeraad ’n eis ingesit het om my ongeskik te verklaar vir veldwagterswerk. Ek sal julle wys, julle fokkers, dink ek. Deur my eie roekelose toedoen het ek my arm verloor en my reputasie vernietig. Dit is ’n werklikheid wat ek my hele lewe saam met my sal dra. Ek wil egter niks anders as ’n veldwagter wees nie. Nou moet ek bewys dat ek net so effektief kan funksioneer as tevore. As ek ’n tweede kans gegun kan word, sal ek stap vir stap begin herbou aan die goeie naam wat ek gehad het as veldwagter voor ek my drastiese misstap begaan het. Ek sal teruggaan Krugerwildtuin toe en almal in die oë gaan kyk. Ek sal my slae vat soos ’n man. Ek sal myself verneder, maar ek moet trou bly aan my beroep en natuurbewaring aanhou dien. Dis die enigste manier hoe ek weer respek sal terugwen. Ek sál weer ’n veldwagter word. My oudste broer kom te hore van die Parkeraad se besluit. Hy en sy vennoot, Piet Doep, kom besoek my. Piet doen die praatwerk. “As jy hier uitkom, gaan terug Wildtuin toe en hoor wat hulle planne met jou is. As jy nie regkom daar nie, het ons jou nodig op die plaas.” Ek kyk na my broer en hy knik. Piet en my broer is aandeelhouers in ’n spogwildsplaas in die Noord-Transvaal. Ek word ’n werk aangebied as plaasvoorman. Ek is hulle baie dankbaar, maar ek vra myself of ek sal kan aanpas op ’n wildsplaas. Sal dit nie ’n te rustige bestaan vir my wees nie? Wel, ou maat, jy is nie eintlik in ’n posisie om kieskeurig te wees nie, sê ek vir myself. Dis dalk ’n
geleentheid wat ek nie kan bekostig om deur my vingers te laat glip nie. Of miskien is ek te trots om vir my broer te gaan werk en is dit wat my laat huiwer. My oudste broer is ’n suksesvolle beroepsman en van sy kinderdae af ’n uitblinker. Hy is nege jaar ouer as ek en hy het ’n groot aandeel in my opvoeding gehad. As klein seuntjie het ek ’n geweldige heldeverering vir hom gehad. Dit was hy wat my altyd veld toe of rugbywedstryde toe geneem het, of met my oorlog gespeel het. Dit het vroeg geblyk dat ek die familie se onderpresteerder is, wat nooit my broers en my suster se prestasies sal kan ewenaar nie. Dit het my begin pla en ek was gretig om onder hulle skadu uit te kom. Dit was een van die redes hoekom ek ’n beroep in die natuur gekies het. Ek besluit om die aanbod as ’n heel laaste uitweg te aanvaar. Ek moet eers terug Wildtuin toe. Die wonde aan my regterskouer en arm herstel nou goed en na vyf weke word ek uit die hospitaal ontslaan. Nou begin die tweede fase van my herstel. Ek word oorgeplaas na 1 Militêre Hospitaal se rehabilitasievleuel. Hier gaan ek geleer word om met een arm te funksioneer. Ek gaan leer om regshandig te word. Hier gaan hulle vir my ’n kunsarm bou. Die naweek voor ek soontoe gaan, word ek uit die hospitaal ontslaan en gaan bly by my swaer en suster en hulle kinders. Die rehabilitasiesentrum is ’n ou gebou met breë gange en groot sale. Behalwe ’n paar pasiënte is die plek leeg. Tydens die oorlogsjare moet dit ’n besige plek gewees het. Daar is ’n span toegewyde arbeidsterapeute, fisioterapeute, biokinetici en ’n jong luitenant, ’n ortopediese tegnikus wat afmetings van my stompie neem, ’n gipsafdruk maak en begin om my kunsarm te bou. Ek spandeer die oggende saam met die fisio’s wat my wonde masseer en vir my spieroefeninge gee om te doen. Deur die dae hou ek myself besig met broodborde maak in die houtwerkwinkel en leerlyfbande. Ek vind in die begin dat my regterarm swak en ongekoördineerd is. Maar met die werk wat ek doen, versterk dit stelselmatig. Voorheen het ek geskilder en geskets met my linkerhand. Dit was by my ’n geliefde stokperdjie om daaglikse tonele uit die lewe van ’n veldwagter te skets. Ek maak dit nou een van my prioriteite om met my regterhand te leer skets. Ek kom agter dat dit baie makliker is om met die verkeerde hand te skets as wat dit
is om te leer skryf. Die middae spandeer ek in die gimnasium. Ek mag nog nie my armspiere oefen nie, maar oefen my bene en my lyf. Ek begin weer te draf en ek voel hoe ek stadig sterker en fikser word. Namate die weke aanstap, word my rehabilitasie meer intensief. ’n Arbeidsterapeut begin my uitvra oor watter vaardighede noodsaaklik is in my beroep. “Om ’n vierwielaangedrewe voertuig te kan bestuur en te kan skiet.” Die ortopediese tegnikus, luitenant De la Rey, laat kom my na sy werkswinkel en meet en pas my kunsarm en doen die nodige verstellings. Na ’n week gespe hy my kunsarm om my lyf vas. Dit pas goed en nou moet ek net leer om dit te gebruik. Met die beweging van my skouerspiere maak ek die vlekvryestaaltang oop en toe. Ek sien dat die haak ontwerp is om goed raak te vat. In die houtwerkwinkel leer ek nou om my kunsarm te gebruik om blokke hout vas te knyp terwyl ek met my regterhand saag en kap en skaaf. Ek kom vinnig agter watter gespesialiseerde instrument die menslike hand is en watter voorsprong dit ons bo die diere gee. ’n Kunshand sal nooit ’n regte een kan vervang nie. Dit bly egter ’n goeie hulpmiddel. Die arbeidsterapeut reël vir bestuurslesse. Ek vind dat ek maklik ratte wissel met my staalhaak. Omdat daar geen gevoel in my kunshand is nie, moet ek egter vlugtig my oë van die pad afhaal om te sien of dit behoorlik ingehaak is by die rathefboom. Ek gaan weer vir ’n bestuurderslisensietoets en slaag sonder moeite. Hulle spesifiseer dat ek ’n knop aan my stuurwiel moet laat aanbring om dinge te vergemaklik. In die gimnasium oefen ek nou my armspiere ook. My bisepspier het baie skade opgedoen. Ek voel hoe ander spiere oorneem en kompenseer vir die beskadigde spiere. Die arbeidsterapeut bel en reël vir die gebruik van ’n skietbaan. Sy reël ook ’n baaninstrukteur. Ek moet net my eie vuurwapen en ammunisie bring. Ek besit ’n ou .303 en was gelukkig om ’n duisend militêre rondtes ’n paar jaar terug as geskenk van ’n vriend te kry. Marissa bring dit alles en my geliefde rewolwer vir my saam toe sy weer kom kuier. Ek ontmoet die baaninstrukteur, ’n sersant-majoor, een middag op die skietbaan. Hy is amper net so opgewonde soos ek. Dis vir hom ’n uitdaging om ’n man met
een arm te leer skiet. Skiet is nie die probleem nie, sê ek. Dis om vinnig te herlaai. Ons konsentreer die eerste middag daarop. Toe ons daardie middag klaar is, het ek ’n honderd rondtes geskiet en het ons twee verskillende maniere ontwikkel om te skiet en vinnig te herlaai. Ons ontmoet ’n paar middae later op die skietbaan. Hy glimlag ondeund. In sy kattebak het hy ’n R5 semioutomatiese geweer en genoeg rondtes vir ’n jong oorlog. Ons improviseer en vuur honderde rondtes af. Hy gaan lê agter die skietwal en rol ’n ou buiteband in my rigting. Toe ons klaar is daardie middag jaag ek keer op keer twee koeëls deur ’n bewegende teiken binne elf sekondes met ’n slotaksiegeweer. ’n Semioutomatiese geweer is nog makliker. In die daaropvolgende oefensessies bou ek daarop voort. Ek oefen ook met my rewolwer om akkuraat met my regterhand te skiet. Ek bly elke naweek by my suster-hulle en bestuur my bakkie deur besige verkeer. Ek draf en oefen in die gimnasium. Ek voel ek is reg vir my terugkeer na die Nasionale Krugerwildtuin.
Vyf maande na die krokodil my arm afgebyt het, meld ek met my uniform en nuwe kunsarm by Mick se kantoor aan op Skukuza. Ek het hom die vorige aand gebel en laat weet ek is op pad. Hy beduie my om die kantoordeur toe te trek. Ek gaan sit. Oor sy groot lessenaar praat hy reguit met my. “Jy het jou naam behoorlik weggegooi. Jy het al die reëls van ’n staptoerveldwagter oortree en boonop aan die koerante erken dat jy roekeloos was voordat die Parkeraad ’n amptelike verklaring kon uitreik. Die Parkeraad kan jou nie in die pad steek nie, maar ek kan jou verseker dat jy nooit weer as veldwagter hier sal werk nie. Dit wat ek jou nou vertel, is aan my gesê om aan jou te sê. Dit kom van die Parkhoof af. Hy wil jou nie hier hê nie. Jy is ’n verleentheid vir die Organisasie. Ek kan jou verseker, niemand wat saak maak hier is jou goedgesind nie. Jy het twee keuses: Eerstens. Aanvaar ongeskiktheidspensioen en gee pad. Gaan begin ’n nuwe lewe. Tweedens. As jy aandring om aan te bly, sal die Toerismedepartement aangesê word om vir jou ’n opening te soek. Waarskynlik op ’n obskure bosveldkampie waar jy toeriste op nagritte kan neem. “Stoffel. Na jou ongeluk is ek daarvan beskuldig dat ek jou te veel vryheid toegelaat het. Dat ek te sag met jou was elke keer dat jy oortree het. Ek kan nie
my nek verder vir jou uitsteek nie. Jy het vir my en jou staptoerkollegas erg teleurgestel.” Mick kyk stip na my. “Stoffel. Luister na my. Moenie verdomp hardkoppig wees nie. Verlaat die Wildtuin. Aanvaar die pensioen. Dinge sal nooit weer dieselfde vir jou hier wees nie. Ek weet. Ek praat as jou vriend.” Sonder om te huiwer, sê ek: “Mick, ek het besluit om aan te bly. Wat is die volgende stap?” Hy bly ’n lang ruk stil. Steeds kyk hy na my. “Kan jy ’n drietontrok met een arm bestuur?” vra hy. “Natuurlik kan ek ’n drietontrok met een arm bestuur.” “Hulle soek dringend na iemand om nagritte te ry op Satara. Jy moet voor vyfuur vanmiddag daar wees. Daar is sprake van ’n pos wat oopgaan vir nagritte in ’n bosveldkamp oor ’n paar weke. Ek dink jy sal dit meer geniet. Ek sal vir die Toeristedepartement sê jy stel belang.” In ’n poging om sy beeld te verbeter en om meer toeriste na die Krugerwildtuin te lok, het die Nasionale Parkeraad begin om allerhande nuwe dienste aan te bied. Luukser ruskampe is aangebou. Die rigiede regulasies is verminder. Daar is weggedoen met die ou taboe van na donker rondry en begeleide nagritte is geïmplementeer. In die nuwe eksklusiewe bosveldkampies word ’n vierwielaangedrewe bakkie omgebou sodat dit agt mense kan akkommodeer. Vir die groter ruskampe soos Skukuza, Satara en Pretoriuskop is drietontrokke omgebou wat twintig mense kan vat. So kom dit dat ek ses dae van die week vir toeriste die naglewe van die Sataraomgewing wys. Die trok vertrek ’n uur voor sononder en afhangende van wat ons teëkom, keer dit tussen nege en tien die aand terug. Die toeriste self hanteer drie sterk skietlampe vanaf hulle sitplekke agterop die bak. Die kajuit se agterste venster is verwyder en ek kommunikeer met die mense vanaf die bestuurdersitplek met ’n interkom. Sonder moeite bestuur ek die trok met een arm en gesels oor die mondstuk van die interkom. Saans wys ek vir die toeriste leeus wat hulle pense kom warm maak op die teer. Die skietlampe vind luiperds, tierboskatte, sivette, ratels en ystervarke in die bosse. Alles dinge wat mense nie maklik bedags sien nie. Die nagritte is ’n groot
sukses en ek geniet dit om weer in die veld te wees. Al is dit in drasties veranderde omstandighede. Bedags verwag hulle van my om in die kampwinkel uit te help. Die vernedering vir my om van staptoerveldwagter na winkelklerk te daal, is egter te groot en ek bly weg. Genadiglik laat die winkelbestuurder my begaan. Ek trek in ’n vervalle ou woonwa aan die rand van die ruskamp in. Bedags sonder ek my daar af en sluip net uit om in die middae hamburgers in die kiosk te gaan eet. Ek begin ’n iewe bestaan voer. Verveeldheid dryf my om te begin skilder. Op ’n massiewe doek begin ek ’n uitgebreide bosveldlandskap met ’n troppie wildebeeste, sebras en kameelperde skilder. Ek vind dit maklik met my regterhand en dit verdryf my frustrasie ietwat. My bestaan verval in ’n dodelike roetine van slaap, opstaan, skilder, hamburgers eet, nagritte. Kort voor lank wys dit aan my lyf. Ek word oorgewig en bleek. Heel anders as die lenige, bruingebrande staptoerveldwagter van ses maande tevore. Die verwaarlosing wat plaasvind, skeel my min. Aan die begin kom Marissa elke naweek kuier. Sy vestig egter goed in haar nuwe werk en begin in te skakel in Skukuza se sosiale lewe. Sy sluit aan by die gimnasium en word al hoe meer na funksies toe uitgenooi. Sy is ’n mooi vrou alleen op ’n dorpie vol aantreklike, ongetroude mans. Lojale informante kom rapporteer hoe die mans, jonk en oud, saamdrom op haar drumpel. Ek is ook nie meer die belowende jong protégé nie en daar is baie aspirante op Skukuza wat meeding om my posisie. Sondae is die enigste tyd wat ek kan wegkom. Dan klim ek in my bakkie en ry na Wayne en Jimmy se kamp toe. Daar drink ek totdat ek omval. Ek voltooi my olieverfskildery en is in my skik met die eindproduk. Nou begin ek onrustig raak. Die maande skuif aan en ek hoor niks van Mick nie. Ek sal graag wil oorskuif na ’n bosveldkamp toe. Satara se nagritte raak eentonig. Ek glo dat as ek lank genoeg nagritte doen, ek een of ander tyd in aanmerking sal kom vir ’n natuurbewaringspos. Hulle kan my nie vir ewig ignoreer nie. Deur hierdie tyd bly my staptoermakkers lojaal. Hulle kom altyd inloer om te hoor hoe dit gaan. Hulle simpatiseer wanneer hulle my frustrasie sien, maar kan nie veel daaraan doen nie. My drinkebroers handhaaf ’n laer profiel. Hulle weet
dit is nie nou goed vir hulle loopbane om met my te assosieer nie. Na my ongeluk is hulle seker gewaarsku en herinner aan die kere dat hulle saam met my moeilikheid gemaak het. Sommige van die opregte Christene in die Skukuza-gemeenskap wat in die verlede gefrons het oor my losbandigheid, maak nou hulle harte en huise vir my oop. Hoewel daar enkeles is, verlustig min mense hulle openlik in my vernedering. Die meeste van my kollegas is vriendelik, maar afsydig. Dit is egter alombekend wat die algemene houding is van die senior personeel: Mathysen het te ver gegaan. Nou is hy op sy eie. Fok hom. Die enigste senior veldwagter wat my openlik onder sy kollegas verdedig, is Louw. Was julle nie ook jonk nie? Hoeveel keer het ons nie almal ’n kans gewaag in krokodilwaters nie? het hy op verskeie geleenthede gesê. Dankie, Louw. Ek sal jou nie vergeet nie. Die eerste en enigste persoon wat met ’n potensiële oplossing na my kom, is die Krugerwildtuin se staatsveearts. Hy en sy span tegnici val onder die Veeartsenydepartement en nie onder Parkeraad nie. Hulle plig is om op die uitkyk te wees vir wildsiektes soos bek-en-klou-seer en miltsiekte. Behalwe die staptoerveldwagters is hulle die manne wat die meeste tyd in die bos deurbring. Die staatsveearts, dr. Charles Bolton, loop my een oggend op Skukuza raak en ontbied my na sy kantoor en vra my uit oor my toekomsplanne. Ek haal my skouers op. Hy moet die miltsiekte-epidemie onthou het, toe ek hom en sy tegnici bygestaan het met die opsporing, aantekening en vernietiging van karkasse, asook die ontsmetting van waterpunte. Hy kyk na my. Met sy swart hangsnor lyk hy soos ’n cowboy. “Gaan studeer,” sê hy eensklaps. “Ekskuus tog?” vra ek. “Twee van my tegnici, oom Theuns en oom Ferdie, het nog ’n paar jaar oor voor hulle aftree. As jy die Dieregesondheidsdiploma by die Technikon gaan verwerf, sal ek jou in diens neem.” Ek is oorbluf deur die onverwagse aanbod en oorweeg dit ’n tyd lank ernstig. Dit lyk vir my na die oplossing. Drie jaar op die Technikon klink na ’n logiese manier om van voor af te begin. Veral as ek die versekering het van ’n werk in
die Wildtuin daarna. My onrustigheid kry egter die oorhand en beïnvloed my finale besluit. ’n Ander, onverwante gebeurtenis val ook voor. My herontmoeting met Filliosse Mula. Die groot man gee my kunsarm net een kyk en bars in trane uit. Sy liggaam ruk van onbeheerste snikke en trane spat uit sy oë. Blykbaar het ander Shangaans hom beskuldig van toordery en moes hy na ’n toordokter gaan om gereinig te word. “Dis my skuld. Dis my skuld,” sê hy oor en oor in Shangaan. “Filliosse, moenie stront praat nie,” raas ek met hom in Afrikaans terwyl die trane oor my wange stroom.
Ek ry steeds die drietontrok en sien luiperds wat bobbejane jag en leeus wat paar. Ek kry oorgenoeg tyd om te dink. My gedagtes beweeg al hoe meer in een rigting. ’n Idee begin vorm aanneem in my kop. Hoe meer ek daaraan dink, hoe meer opgewonde raak ek. En bang. Een ding is vir my duidelik: hoewel ’n krokodil my arm afgebyt het, is ek nog presies dieselfde mens. Ek hunker steeds na avontuur en vryheid. Die Parkeraad sal van nou af my avontuurlus in alle opsigte probeer demp. Hulle sal my na ’n kampie pos wat uiteindelik my tronk sal word en daar sal hulle van my vergeet. Ek sal nog steeds in die Wildtuin werk en nog steeds in die veld kom, maar my vlerke sal geknip wees. Dan kan ek maar net sowel in die stad in ’n woonstel gaan bly. Nee. Ek verdien beter as dit. Mick bel Satara toe om my te laat weet dat daar ’n pos oopgegaan het by Mbyamithi-bosveldkamp. Ek sê vir hom dat ek dadelik afry Skukuza toe. In hierdie tyd beleef die Parkeraad ’n buitengewone krisis. Ek weet nie wat die agtergrond of die redes was nie. Ek stel ook nie belang daarin nie, maar die Parkhoof van die Krugerwildtuin word afgedank. Gestroop van sy amp, verlaat hy die Wildtuin op vervroegde pensioen. ’n Dag na sy vertrek handig ek self my bedanking in by Mick.
Die eerste persoon vir wie ek bel en van my planne vertel, is my oudste broer. “Ek is baie bly. Jy moes al lankal bedank het,” sê hy. “Sal jy my help?” “Natuurlik sal ek jou help. Wanneer sien ek jou?” “Gee my ’n paar dae. Ek wil net dinge hier afhandel.” Ek stap na Marissa se kantoor en vertel haar van my bedanking. Haar oë skiet vol trane. Ons besef al twee dat dit die einde van ons verhouding is. Ek gaan vertel vir dr. Bolton van my planne. “Kom môreoggend na my kantoor toe. Ek sal vir jou ’n getuigskrif skryf.” Ek het besluit om ’n rugsak te pak en deur Afrika te gaan ryloop op soek na werk. Veldwagterswerk. Ek wou nog altyd meer van Afrika sien. In die ou dae was dit nie moontlik vir ’n blanke Suid-Afrikaner om verder noord as die Zambezi te gaan nie. Maar met President Mandela aan bewind, is Afrika-lande besig om oral hulle deure vir Suid-Afrikaners oop te gooi. Miskien is dit nou tyd om Afrika te voet te gaan verken. Om te gaan kyk watter moontlikhede daar vir ’n afarm Suid-Afrikaanse veldwagter is. Toe ek ’n week later by my broer se kantoor instap, het hy al heelwat inligting ingesamel vir my reis. “Wat jy nodig het, is reisgeld en betroubare toerusting.” My broer is ’n veteraanvoetslaner. Hy het al aan verskeie voetslaanekspedisies deelgeneem. Om geld in te samel vir die bewaring van die swartrenoster in die Kaokoveld, was hy lid van ’n ekspedisie wat deur die noordelike Namibwoestyn gestap het. Hy was gemoeid met die beplanning en logistieke ondersteuning van ekspedisies in die Drakensberg en om die kuslyn van Suid-Afrika. Elke kans wat hy kry om uit sy kantoor te kom, benut hy om met sy rugsak in die Richtersveld te verdwyn. In hierdie ervaringsveld het hy goeie kontakte opgebou. Saans kyk ons saam na kaarte, bespreek moontlike roetes en stel ’n lys van benodigdhede op. Enige reis deur Afrika van suid na noord, moet in Kaapstad begin. Daaroor is ons dit eens. Ons kom ooreen dat ek deur Namibië gaan en
deur die Caprivi oos draai, Zambië toe. In Lusaka sal ek vir die eerste keer kontak maak met my broer en reëlings tref vir geld. Hy deel my opgewondenheid. “Ek hoop jy besef watter geleentheid hierdie is. Ek sou wat wou gee om saam te kom.” Selfs sy vriende begin opgewonde raak en kom met allerhande voorstelle en hulp vorendag – ’n tjek hier en ’n rugsak daar. ’n Gesiene Ierse sakeman wat een van my broer se eks-pedisies geborg het, skenk ’n bedrag geld vir my reis. Die voorwaarde is dat hy dit in kleiner bedrae vir my via my broer telegrafeer, soos my reis vorder. Verder soek hy ook reklame vir sy staalbesigheid, en my broer stel voor dat een van sy ekspedisiemaats Marek, wat ’n fotojoernalis is, ’n storie vir die koerante skryf en foto’s neem waarop onder meer die naam van die staalmaatskappy getoon word. Ek besluit op ’n vertrekdatum – 26 Februarie. ’n Jaar nadat die krokodil my arm afgebyt het. Desember breek aan en ek en Marissa vertrek op ons laaste vakansie saam. Ons besoek my familie in die Oos-Kaap en haar familie aan die Natalse kus. Die omstandighede is soveel anders as ’n jaar gelede, toe ons pas ontmoet het. Toe was die toekoms vol belofte. Nou is dit vol onsekerheid en hartseer oor die onvermydelike afskeid. Januarie en begin Februarie gebruik ek om my laaste sake af te handel. Ek raak rusteloos en wil op die pad kom. Nadat my broer en sy vriende en almal vir oulaas een aand saam gekuier het om van my afskeid te neem, en ek die kans gekry het om vir almal dankie te sê vir die hulp, kan ek uiteindelik op die pad kom. Ek besluit om vroeër Kaap toe te vlieg om eers by Bok te gaan kuier. Marissa en my ouers sien my af op die lughawe. In die Kaap wag Bok my in. “Magtig, Stoffel, jy het vet geword.” Ek en Bok kuier soos van ouds, praat oor ons lang verbintenis.
Een nag sit ons teen ’n muur op ’n straathoek met ’n halwe bottel whisky tussen ons. Ek kan nie onthou hoe ons daar uitgekom het nie. Ons praat oor die keer dat ons amper Bok se grys Golf teen ’n lamppaal afgeskryf het. Die keer dat ons amper met die motorfiets oor die afgrond gejaag het. Toe ons met my pa se nuwe bakkie ’n ongeluk gemaak het. Ons kroeggevegte. Ons meisies. “Dis wat ons vriende maak, Mathysen. Ek en jy en Nakkie. Die rusteloosheid. Dis in ons bloed. Wat het verander sedert ons op skool ontmoet het? Niks, sê ek vir jou. Fokkol! Ons was tóé wild en ons is nog stééds wild. Toe ek hoor die krokodil het jou arm afgebyt, het ek geweet dis jou beurt. My en Nakkie se beurt kom nog. Ons kan nie verskonings maak vir wat ons is nie, Mathysen. Ons is wat ons is.” “Wanneer eindig dit, Bok?” “Wanneer ons sterwe, Mathysen. Wanneer ons sterwe.”
16
John Carrol-Wilcox lê stil op sy bed en luister. Hy sê nie ’n woord terwyl ek praat nie. “John, ek wil weet wat dit is wat my so maak. Is dit in my gene? My voorvaders was huursoldate en Hugenote; grensboere en transportryers; Boerekrygers en stormjaers. Het dit dalk te doen met die breinoperasie wat ek as baba ondergaan het om vogophoping op my brein te dreineer? Of is ek net plein fokken mal in my kop?” John bly lank stil voor hy praat. “Stoffel, ek weet nie waarom dinge is soos dit is nie. Al wat ek kan sê, is: dit was ’n voorreg om jou te leer ken. Ek hoop dat as jy eendag terugkeer Suid-Afrika toe, ek en jy weer ’n bier saam sal drink.” John Carrol-Wilcox se vliegtuig vertrek die middag terug na Suid-Afrika. Die volgende dag neem Gerald my bank toe en my geld is inbetaal. My hand is nog seer en my maag omgekrap, maar nou is dit tyd om in die pad te val. Gerald gaan laai my af op die pad na Salima. Ek kry ’n geleentheid agterop ’n volgelaaide trok. Ek leer vinnig om ’n trok se rand met my elmboë uit te klim. Oorlewing. Die nag slaap ek in die stowwerige seerowersdorpie van Nkhotakota op die meeroewer. Nog ’n trok neem my al die pad na Nkhatabaai. ’n Halfdag se rit. Ek sit agterop en bewonder die meer, berge en natuurskoon. Op Nkhatabaai ontmoet ek ’n paar van my Cape Maclear-vriende. Ek bly vir ’n paar dae hier om my beseerde hand weer ’n herstelkans te gee, maar ek raak stadigaan gatvol vir wit strande, palmbome, blou water en Carlsberg-bier. My diarree is nou chronies en ek leef daarmee saam. Ek vind dat van my swerfgenote dit ook intussen opgedoen het. Ek besluit om ’n bietjie op die Nyikaplato te gaan rondloop, weg van die meer, die berge in. Ek verlaat Nkhatabaai en reis deur Mzuzu na Rumfi. Vanaf Rumfi
agterop ’n trok teen ’n stowwerige stamperige pas al hoe hoër die berge in. Die landskap verander dramaties. Die lug word dun en koud en my hand pyn. Ek betaal my ingangsfooi by die Nyikaplato Nasionale Park. By die hek kry ek na donker ’n geleentheid saam met ’n veldwagter tot by die ruskamp. Die nag is yskoud en ek kry plek in ’n vervalle jeugtuiste in ’n dennewoud. Dit bring my terug na my kinderdae toe ek en my pa en my broers die voetslaanpaaie van die Oos-Transvaalse bosbougebiede gestap het. Ek is alleen in die kamp en verlang. Teen dagbreek verlaat ek die dennewoud en stap uit oor ’n wye heuwelagtige grasplato met beboste klowe. Ek jaag ’n bosbok op en sien ’n troppie rietbokke. By die kantoor betaal ek ’n veldwagter en hy neem my vir twee dae te voet oor die Nyikaplato. Ek sien troppe elande, bastergemsbokke en sebras. Die snerpende koue dryf my weer uit die hooglande. Agterop ’n Deense Rooikruis-bakkie sak ek weer af na die warmer dele. Hulle laai my op ’n Sondagmiddag op Rumfi af. Daar wag ek die langste sedert ek Malawi binnegekom het. ’n Volle uur en ’n half. ’n Massiewe vragmotor met ’n sleepwa trek van die pad af. Hy dra ’n hoë vrag wat met ’n seil en net bedek is. Ek dag die bestuurder gaan my voor in die kajuit laat sit, maar daar het hy klaar asiers. Ek moet bo-op die vrag sit. Dis hel hoog. Die bestuurder en ’n asier help my op. My beseerde hand kan nog nie hard vat nie. So begin die mooiste rit van my reis. Ons ry deur ’n vallei met die onstuimige Rukurarivier langs. Om my toring hoë kranse en reënwoude. Telkens steek die pad die rivier noodgedwonge oor, oor wankelmoedige brûe. Die pas word steiler soos die trok afdaal na die laer lande en die bestuurder skakel terug na die laagste rat. Ek haak my voete in die net in, lê terug op my rugsak en bewonder die omgewing vanuit my hoë posisie. Valleie, watervalle en immergroen reënwoude skuif verby. Die middagson bak warmer soos ons afdaal. Die vragmotor ry deur ’n kloof om ’n skerp draai en skielik lê die Malawimeer weer diepblou, ver onder my. Op die newelagtige oorkantste oewer kan ek net die heuwels van Tanzanië uitmaak. Verstom deur die skoonheid om my, sit ek regop en staar sprakeloos daarna. Die wind waai deur my hare. Alle somberheid verlaat my gemoed en my gees word hoog bo die berge en woude uitgelig totdat ek ver bo die meer sweef, pyn en eensaamheid vergete. Skielik is alles weer reg.
Die lewe is mooi. Die trok bereik die meeroewer teen skemer. By die Livingstonia-afdraaipad, net suid van Khondwe, sien ek ’n bordjie wat ’n kampplek aandui. Ek beduie vir die bestuurder om te stop. Hy help my met my pak en ek klim van die trok af. Ek stap ’n kilometer tot by die meer en kom op ’n gesellige kampeerterrein af. Hier kry ek vir die eerste keer te doen met die oorlanders. Onder die bome staan omgeboude Bedfords, Unimogs, Leyland- en Mercedestrokke in allerhande kleure geverf. In die kampplek heers ’n gesellige atmosfeer met jongmense wat opgewek kosmaak om vuurtjies. Musiek en vrolike klanke kom uit ’n verligte palmblaarafdak. Binne is dit stampvol jong Engelse, Australiërs, Nieu-Seelanders en Skotte. Agter ’n toonbank word koue bier verkoop, mense lag en gesels. The Pogues speel oor die kassetspeler. ’n Paar bruingebrande langhaar-meisiekinders kyk op en glimlag toe ek my rugsak by die ingang laat val en ’n Carlsberg-groen bestel. Ek glimlag terug. Die lewe is mooi. Onder jongmense van Brittanje, Australië en Nieu-Seeland is dit geweldig populêr om in omgeboude vragmotors, toegerus met sitplekke en kamptoerusting, deur Afrika te reis. Die hoofroetes lê tussen Harare en Nairobi. Van daar word daar afgewyk om Uganda ook te besoek. Hulle besoek die groot wildtuine in Tanzanië en Kenia, die gorillas in die berge van Uganda, Malawimeer en die Victoriawaterval. Voortaan sal ek baie met hulle te doen kry. In een hoek van die taverne sit ’n groepie mense en sing. Een meisie speel kitaar. Ek vat my bier en sluit by hulle aan. Vanaand is ek lus vir sing. Daar word hoofsaaklik Bob Dylan- en Neil Young-liedjies gesing. Ek ken al die woorde en sing saam. “Don’t think twice, it’s alright”, “Girl from the north country” en “Like a hurricane”. Tydens ’n pouse, toe die liedjies begin opraak, val ek in met “And the band played Waltzing Matilda”. Die sangers kyk na mekaar en raak stil. Die meisie met die kitaar val in by die tweede vers. ’n Paar ouens begin saam te sing. Ander staan nader.
“Then a big Turkish shell knocked me arse
over head And when I awoke in me hospital bed and saw what it had done, Christ, I wished I was dead Never knew there was worse things than dying For no more I’ll go Waltzing Matilda Through the green bushes so far and near. For to hump tent and pegs A man needs both two legs No more Waltzing Matilda for me.”
Ek maak klaar en die applous is oorverdowend. ’n Meisie droog haar oë af en ’n ou stop my nog ’n bier in die hand. Dadelik is ek deel van die groep. Op hierdie aand ontmoet ek vir Allistair McKinnon. Hy het lang rooi hare en ’n ronde brilletjie. Hy kom sit langs my en praat met ’n swaar Skotse aksent. “Ek soek die woorde van daardie lied. Jy moet dit asseblief vir my neerskryf.” “Seker. Maar nie nou nie.” Allistair McKinnon is ’n Skot van die eiland Barra, in die koue Noord-Atlantiese Oseaan. Hy is ’n rekenaardeskundige en werk in Edinburgh. Hy is ook ’n Kungfu-instrukteur. Uiteindelik kom ons ooreen. Ek sal vir hom die woorde van “And the band played Waltzing Matilda” afskryf op voorwaarde dat hy vir my die woorde van William Butler Yeats se gedig “The stolen child” neerskryf. Ons besluit om die volgende dag saam die berg uit te stap en Livingstonia te besoek. Dit is winderig die nag toe ek gaan slaapplek soek op die strand. Ek rol my slaapsak uit agter ’n boomstompkano. In die nanag skud ’n hand my wakker. Ek
sit regop. Dit is Malawiese kapenta-vissermanne. Hulle wil hulle kano te water laat. Ek vee die slaap uit my oë en skuif weg van die boot af. Ek sien dat die hele strand bedrywig is met vissermanne wat hulle kano’s water toe sleep, of hulle kielnette by die lig van ’n gaslamp op die kanovloer neerlê. Die primitiewe vissersvloot roei uit op die meer en verdwyn in die donker. Na ’n ruk verskyn liggies op die water. Elke kano se bemanning steek ’n gaslamp op. Die helder lig lok skole van die klein kapenta-vissies in hulle duisende. Die vissermanne gooi hulle nette uit oor die verblinde vissies. Na ’n ontbyt van bone, eiers en tee by die palmblaartaverne pak ek en Allistair McKinnon die bergpas na Livingstonia te voet aan. Die pas kronkel teen ’n steil helling deur ’n bergwoud. Ek en Allistair is al twee fiks en stap teen ’n stywe pas. Die maande van ontbering het my lyf lenig gemaak. Die bier is addisionele voedsel en word langs die pad opgebrand. Dis nie lank voordat ons sopnat gesweet is nie. Langs ’n hoë waterval wat ver na onder in ’n bergwoud tuimel, rus ons. Ons is omring deur berge en woude. In die verte lê die meer. Na ’n klim van agtien kilometer bereik ons Livingstonia teen middag. Die sendelinge uit Skotland wat na Malawi gekom het om die evangelie onder die “barbare” te verkondig, se getalle is drasties deur malaria verminder. Aan die einde van die negentiende eeu het ’n sendeling dr. Laws ’n ekspedisie geloods om ’n malariavrye sendingstasie te stig. Die bergpas wat ek en Allistair vanoggend uitgestap het, is dieselfde pad wat deur die Laws-ekspedisie oopgekap is. Op die kruin van die berg het hy sy malariavrye sendingstasie gestig. Binne ’n jaar is ’n kerk, ’n skool en ’n hospitaal gebou. Dominees en dokters is met hulle families uit Skotland en Ierland laat kom en gou was daar ’n sendelingdorpie op die berg. ’n Katedraal is later gebou met ’n groot brandglasvenster wat dokter Livingstone uitbeeld. Van die rooi baksteengeboue dateer uit 1904. Allistair sê die plek lyk soos enige klein dorpie in die Skotse platteland. Die wit mense het al lankal padgegee en Malawi-sendelinge sit die werk voort. Teen sononder kom die maan op. Allistair McKinnon besluit om in die kliphuis oor te bly. Die kliphuis was dr. Laws se tuiste en is later omskep in ’n gastehuis. Ek besluit om in die maanlig met die bergpas af te stap. Die maanlig is helder deur die blare van die woud en dit word ’n mooi aand.
Die volgende dag bring ek in die son op die strand deur. Die stap het my goed gedoen. Die diarree is verby. Onder die verband voel my hand ook sterker. Ek kyk hoe die vissermanne hulle nette regmaak en die vorige nag se kapenta-vangs op palmblaarmatte uitlê om in die son te droog. Oral op die strand sit groepies oorlanders rond. Ek besluit dat dit my laaste dag op die meer is. Dit is nou tyd vir aanskuif Tanzanië toe. Later die dag kom Allistair McKinnon van die berg af. Ek vra hom of hy die volgende dag wil saamkom, maar hy besluit om nog langer in Malawi te vertoef. Groot troppe gespikkelde beeste loop in enkelgelid voor ons oor die strand verby en drink in die meer. Ek en Allistair skuif laatmiddag kroeg toe en bestel bier. Twee rooi Leylandoorlandtrokke trek by die kampplek in. Daar is geen toeriste agterop nie. Die bestuurders klim uit, rek bene en stap die palmblaarkroeg binne. Die kroegman groet hulle hartlik asof hy hulle gereeld sien. Hy vra uit oor hulle reis en waarheen hulle volgende op pad is. “Nairobi toe,” sê een bestuurder. “Die trokke moet gediens word en dan bring ons die volgende groep oorlanders.” Ek sien ’n moontlikheid. Ek besluit om hulle kans te gee om te rus. Dan gaan ek hulle vir ’n geleentheid vra. Hulle drink hulle bier klaar en stap na die storte toe. Ek en Allistair sit ons gesprek voort. Die kroeg loop stadigaan vol soos mense van die strand af inkom. Phil Illescey is ’n lang, skraal Engelsman met swart hare en ’n baard. Hy groet my stug en afsydig toe ek myself voorstel by hulle terugkeer. Eric Ryan is kort en fris. Hy is borselkop en sy arms is vol tatoeërings. Hy groet vriendelik en glimlag breed – een voortand is weg. “Sekerlik. Ek ry die agterste trok en jy kan saam met my inspring.” Eric is ’n Australiër. “Dit gaan jou vyftig Amerikaanse dollar kos tot in Dar es Salaam,” voeg Phil Illescey in ’n meerwaardige toon by. Sy ligblou oë is koel. Dit lyk asof hy in bevel is. “Dis geen probleem nie. Ek is dankbaar vir die geleentheid,” sê ek vriendelik.
Ja, jou fokken soutie, dink ek by myself. Ek koop vir hulle elk ’n bier. Die Australiër bedank my vriendelik. “Sien jou môre, maat,” roep hy agterna toe ek by Allistair gaan aansluit. Ek en Allistair kuier die aand saam met ’n groep Australiërs en vergeet om die woorde van die lied en die gedig vir mekaar af te skryf.
17
Dis vroegmôre toe Phil Illescey en Eric Ryan hulle Leyland-dieseltrokke aanskakel om warm te luier. Ek gooi my rugsak agterin en klim in die kajuit saam met Eric. Hy wag vir Phil om weg te trek en val dan agter hom in. Ons ry stadig deur die bome op die stofpad. Toe ons aansluit by die hoofpad, draai ons noord. Eric begin praat. “As Phil jou uitvra, sê vir hom jy het my klaar betaal. Dit kos ons niks om jou saam te vat nie. Ek sien geen rede hoekom jy vir die rit hoef te betaal nie.” Hy kyk na my en gee my sy uittand-glimlag en knipoog. Ons ry tot by Karonga. Daar stop ons om padkos te koop en met diesel vol te maak. Nou is ons op pad na die Malawi-Tanzanië-grenspos onderkant Kaporo. Reisigers wat van noord na suid reis, het my baie stories van hierdie grenspos vertel. Eric bevestig dit. Die doeanebeamptes maak ’n punt daarvan om dit moeilik te maak vir reisigers. Eric stel voor dat ons skoene, langbroeke en ons skoonste klere dra. Ek onthou verhale van vroulike swerwers wat al hulle klere moes uittrek om deursoek te word en mense wat groot bedrae omkoopgeld moes betaal. Ek is dankbaar dat ek onthou het om ’n visum in Lusaka te koop. Blykbaar kan mens nie ’n visum vir Tanzanië in Malawi kry nie. ’n Paar kilometer voor die grenspos stop Phil en Eric om hulle netjies aan te trek. Vir my is dit nie so maklik nie. Die klere vir my reis bestaan uit twee langmoukakiehemde, twee kortbroeke, ’n parka en ’n blou jean wat ek nog nie gedra het nie. Dié lê in ’n verfrommelde bondel onder in my rugsak. Teen hierdie tyd is my hemde ook al geskeur en verslete. Ek doen my bes om netjies te lyk en trek my parka bo-oor aan. Die doeanebeamptes by die Malawi-kantoor van die grenspos is gemoedelik en laat ons sonder versuim deur. Die trokke word op die brug geparkeer en ons stap by die Tanzanië-doeanepos in, elkeen met sy vriendelikste glimlag. Tien minute later stap ons met gestempelde paspoorte uit. Die beamptes was
vriendelik en flink. Die polisieman wat die trokke deursoek, lyk tevrede dat ons met niks smokkel nie en glimlag breed toe Phil vir hom ’n sespakbier as geskenk gee. Ons ry oor die brug en ek betree Tanzanië. Ek gaan sit vir ’n ruk op die dak van die trok. Ons ry deur die berge. Dis ’n digbevolkte deel van Tanzanië. Teen die berghange is daar talle gehuggies en piesangplantasies. Die Kipengereberg is vrugbaar en die oorsprong van baie riviere. Die steil kronkelpad lei deur dorpe soos Kyela, Tukuyu en Mbeya. Oral is mense. Ek was van kleins af gefassineer deur Tanzanië. As klein seuntjie het ek na dokumentêre televisieprogramme oor die Masai, die Ngorongorokrater en die Serengetivlaktes gekyk. Later het ek ’n belangstelling in argeologie en paleontologie ontwikkel en het nagelees oor die Leaky-egpaar se fossielvondste in die Olduvaikloof. Tanzanië se koloniale geskiedenis is ook merkwaardig. Veral die Oos-Afrika-veldtog tydens die Eerste Wêreldoorlog, waar die eertydse Boerekrygers, Smuts en Van Deventer, te staan gekom het teen die Duitse guerrillavegter, Von Lettow-Vorbeck. Tydens Suid-Afrika se apartheidsbewind was Julius Nyerere, Tanzanië se president, ’n vurige teenstander. Umkhonto we Sizwe en PLAN-vegters is hier opgelei. Vir ’n blanke Suid-Afrikaner soos ek was dit ondenkbaar om Tanzanië te besoek. Nou het ek die vooruitsig om hierdie land te verken. Hier wil ek ook ’n ernstige poging aanwend om werk te kry. Die dag skuif aan en ons ry nou deur ’n dorre boswêreld. Die doringbome is blaarloos en alles is stowwerig. Die luggie word skraal. Toe Eric langs die pad stop om te fluit, klim ek voor by die kajuit in. Die son sak. ’n Paar uur later kom die maan op en verlig die veld. By Iringa stop ons vir diesel en ’n koeldrank. Ek sien dat die winkels in Tanzanië baie beter toegerus is as dié in Malawi en Zambië. Hier is baie meer welvaart. Anderkant Iringa sak ons weer af in ’n bergagtige vallei. Ons ry tussen hoë berghange en verby reuse-kremetartbome in die maanlig. Later trek ons van die pad en slaap in ’n klofie langs ’n waterval. Teen dagbreek val ons weer in die pad. Ons kronkel by die bergpas af verby onstuimige bergstrome. By Mlanyani steek ons die Groot Ruaharivier oor. Nou is ons weer op gelyke grond. ’n Troppie rooibokke staan langs die pad. ’n Ent
vorentoe sien ons ’n vlakvark. Skielik is die vlakte waaroor ons ry vol olifante, kameelperde, wildebeeste en sebras. Eric verminder spoed. “Die Mikumi Nasionale Park. Ons is nou in ’n groot wildernisarea. Suid van ons lê die Selouswildtuin, een van die grootste parke in Afrika.” Orals op die vlakte staan olifante in troppe of een-een rond. Hier en daar steek ’n kameelperd se kop agter ’n bos uit. Ek het al baie gelees van hierdie wêreld. Dit was die jagvelde van Frederic Courtenay Selous en majoor “Jungle Man” Pretorius. Hulle is albei gewerf deur generaal Jan Smuts as verkenners teen die Duitse koloniale magte. Ek vertel vir Eric Ryan van Selous en Pretorius se pogings om ’n beskadigde Duitse oorlogskip, die Königsberg, in die moerassige Rufijidelta op te spoor. Hy luister aandagtig na my vertellinge. My weergawe van die gebeure is nie histories korrek nie. Ek verander die volgorde na hartelus. Ek verbind gebeurtenisse aan voorvalle wat niks met mekaar te doen het nie. Ek vul die gapings met dinge wat net in my verbeelding gebeur het. Dit maak nie saak nie, ek geniet my geskiedenisles net soveel as Eric. By Chalinze stop die trokke weer. Daar is ’n besige mark. Seuntjies met skottels vol vetkoek en samoesas drom om ons saam. Hulle sien my en roep “Chuck Norris! Chuck Norris!” Nou is dit net oor ’n honderd kilometer tot in Dar es Salaam. Dar es Salaam is ’n bedrywige stad met baie tempels en moskees. As gevolg van die hoë misdaadsyfer wil Phil nie met die trokke hier oornag nie. Ons ry deur die middestad en met die kus langs na Kunduchi. By ’n stil strand langs ’n hotel tussen ’n klomp palmbome stop die trokke. Daar staan al klaar ’n paar oorlandtrokke geparkeer en Eric en Phil groet hulle kollegas. Op die see seil ’n paar Arabiese daus verby. Die water lyk aanloklik en ek duik tussen die branders in. Ek het drie maande laas in die see geswem, aan die ander kant van die kontinent in die Atlantiese Oseaan, saam met Katrina by Swakopmund. Dit voel soos ’n jaar gelede. Eric roep van die strand af. Hy hou ’n bier omhoog. Ek stap uit die branders en sluit by Eric, Phil en die ander trokdrywers aan. Eric gee my ’n yskoue Tuskerlager. Phil se houding teenoor my het ook so ietwat verander.
“Jy is welkom as jy môre saam met ons Arusha toe wil ry,” sê Eric. Die res van die dag is ons op die strand. Die Indiese Oseaan is warm en blou. Die Arabiese daus vaar verby en die palmblare wieg in die wind. Strandaf staan ’n kennisgewing: Pasop vir rowers verby hierdie punt. Ek en Eric Ryan kuier lekker in die kajuit van die trok die volgende môre toe ons vertrek. Hy is ’n vriendelike ou met ’n maklike glimlag. Hy is Phil lllescey se leerjonge. Na vyf jaar van trokry het Phil genoeg gehad. Die volgende oorlandsafari sal sy laaste wees. Dan moet Eric by hom oorvat. Hulle sal die Leyland-trokke in Nairobi laat diens. Daarna sal Phil en Eric met een trok ’n groep oorlanders op Nairobi Lughawe optel en hulle deur Tanzanië, oor die Victoriameer na Uganda neem. Van daar weer deur Kenia en Tanzanië na Malawi, Zambië en Zimbabwe. In Harare sal hulle na ’n reis van nege weke die mense aflaai. Phil het die tipiese naafie-houding van die ou man wat besig is om die leisels oor te gee aan die nuweling. “Hoe vinniger Phil fokkof, hoe beter,” sê Eric. “Ek raak nou gatvol vir sy negatiewe houding.” Ons ry weer deur Dar es Salaam terug na Chalinze. By Chalinze draai ons noord. Ek en Eric gesels een stryk deur. Langs die pad sien ek die Masai vir die eerste keer in hulle helderrooi tradisionele gewaad. Ek voel half skuldig oor die gemaklike manier waarop ek deur Tanzanië reis. Dit gaan ook te vinnig. Ek beleef nie veel van die land en sy mense nie. Ek is egter nou gretig om by die Serengeti uit te kom. Ek neem my voor om dit vanaf Arusha weer stadiger te vat en meer te kuier. Arusha is die safarisentrum van Tanzanië. Dit is sentraal geleë binne bereik van baie wildtuine, insluitende Serengeti en Ngorongoro. Dis twee plekke wat ek nie sal misloop nie. Arusha is ook die hoofkwartier van menige jag- en fotografiese safaribesighede. Hier sal ek van deur tot deur loop en aanklop vir werk. Eric vertel my van ’n Suid-Afrikaanse familie wat ’n kampplek buite Arusha op die Masaivlaktes bestuur. “Goeie mense. Baie behulpsaam. Gaan eerste soontoe.” Ons ry verby die Tanga-afdraaipad en draai effe noordwes. Die vensters is oop en die wind waai by die kajuit in. Oor die kassetspeler sing Bruce Springsteen “Thunder Road” en “Better days”. Die oop pad, die groot trok en die goeie
geselskap laat my goed voel. Beter dae inderdaad. Soos ons in die rigting van Moshi ry, doem ’n wolkbedekte berg voor ons op. Ek en Eric slaan min ag daarop en gesels aanmekaar. Ons ry al heeldag en dit is laatmiddag van die tweede dag saam met Eric in sy trok. Eric ken teen hierdie tyd my hele storie en ek syne. Ons ry Moshi binne. Dit is bewolk en koel. Ons ry verby die monument wat opgerig is vir die Tanzaniese soldate wat Uganda binnegeval en Idi Amin se skrikbewind tot ’n val gebring het. Ons verlaat die dorp in die rigting van Arusha. ’n Gaping verskyn in die wolke. ’n Laatmiddagsonstraal verlig ’n eienaardige wolkbank bo ons. Dit neem my ’n rukkie voor ek agterkom waarna ek kyk. Die wolke lig soos ’n sluier voor my oë en die eienaardige wolkbank word ’n sneeubedekte bergpiek. “Eric. Trek bietjie van die pad af, asseblief.” Eric verminder spoed en stop. Ek klim uit. Ver bo my, kristalhelder, verskyn die piek van Kilimanjaro soos ’n visioen. Die sneeubedekte kruin glim in die laatmiddagson. Ek is sprakeloos. My wildste verwagtinge sou my nie kon voorberei vir my eerste blik op hierdie legendariese berg nie. Eric deel my bewondering. Vir ’n paar minute staan ons en staar. Dan beweeg ’n wolkbank weer voor die bergpiek in en Kilimanjaro verdwyn weer buite sig. Ons is albei stil toe ons die reis hervat. Donker haal ons in op die laaste honderd kilometer tussen Moshi en Arusha, ’n swak pad onder konstruksie. Die trok stamp en wieg en Eric begin moeg word. Ons ry boonop in die stof van Phil se trok. In Arusha is daar ’n huis waar die trokdrywers oornag. Ons is soontoe op pad. Uiteindelik ry ons Arusha binne. Dis ’n besige plek. In die grondpad op pad na die oornagplek het ’n rioolpyp gebars en ’n klein moeras gevorm. Phil slaag daarin om sy trok hopeloos te laat vasval. Ek en Eric lag en knipoog vir mekaar. Dit sal hom leer. Toe ons ’n uur later, koud, vol modder en kak, nog steeds spook om die trok uit te kry, lag ons nie meer so lekker nie. Die warm stort wat ek daardie nag in Phil en Eric se gerieflike huis neem, is een van die lekkerstes nog.
Toe Eric Ryan my die volgende môre in die besige hoofstraat van Arusha aflaai en ons hand skud, weet nie een van ons watter goeie tye ons nog saam gaan beleef nie. Sy rooi Leyland-vragmotor verdwyn straataf, op pad Nairobi toe. Met my rugsak oor een skouer geswaai, staan ek vir ’n ruk besluiteloos in die besige straat en begin dan in die eerste die beste rigting aan te stap. Amper onmiddellik loop ek in Jan Petersen vas. Ek het hom laas in Lilongwe met die Wêreldbeker-eindstryd gesien. Ons val mekaar soos ou vriende om die nek. Dis ’n koue, bewolkte oggend en ons vind die YMCA en bestel koffie en warm samoesas. Oor ons ontbyt ruil ons reisverhale uit. Jan stel meer belang in die volke en die musiek van Afrika en is nie so gretig soos ek om in die Serengeti uit te kom nie. Ek vertel hom dat ek op pad is na die Suid-Afrikaners wat ’n kampplek op die Masaivlaktes het en dat ek dit as ’n basis wil gebruik vir ’n paar dae terwyl ek werk soek. Jan wil graag tyd saam met die Masai deurbring en besluit om saam te kom. Ons drentel deur die besige strate en loop deur die mark. By die poskantoor bel ek na Suid-Afrika en praat drie minute lank met my pa. Alles gaan goed by die huis. Met ons rugsakke kry ons koers in ’n oostelike rigting. Arusha is ’n groot dorp, vol winkels en padstalletjies. Oral ry daar Land Rovers met een of ander safaribesigheid se embleem op die deur. Elke winkelvenster adverteer safari’s. Ek hou van Arusha. Aan die buitewyke laai ’n trekker met ’n sleepwa vol Masai ons op. Hulle gesels opgewek, toegewikkel in hul helderrooi komberse. Ek kyk na die stukkie papier in my hand. Die kampplek waarna Eric verwys het, is Meseranislangpark. Die trekker ry padlangs oor die wye Masaivlaktes. Oral loop die Masai of ry met fietse. Tien kilometer buite die dorp word dit vir ons duidelik waarom daar so ’n drukte is. Dis markdag. Die trekker draai van die pad af na ’n kaal stuk grond. Dit wemel van mense. Dis net rooi en geruite komberse waar mens kyk. Bokke en beeste en donkies staan in kru vendusiekrale en op die kaal grond het smouse hul ware uitgestal. Jan se gesig verhelder. Die trekker kom tot stilstand. Ek en Jan spring af en begin deur die skare te stap. Oral staan groepies “Morani”, of jong mans, rond in rooi komberse en togas.
Aan hulle sye dra hulle “simi’s” of kapmesse in leerskedes. Van hulle dra langlemassegaaie wat gebruik word om leeus mee te jag. Ander dra krom knopkieries. Sommige se koppe is kaal geskeer en ander se hare is in dun vlegsels gevleg en hang oor hulle skouers. Die jong meisies se koppe is kaal geskeer. Die boonste deel van hulle oorskulpe is deurboor en versier met indrukwekkende kraaloorbelle. Om hulle nekke is kraaljuwele. My kunsarm trek baie aandag en vinnig drom ’n groep jong manne om ons saam. In gebaretaal verduidelik ek wat my oorgekom het. Vinnig leer ek my eerste woorde in Swahili: “Mamba”. Dit beteken krokodil. ’n Paar ou mans en vrouens staan nader en die jong mans vertel hulle wat met my arm gebeur het. Almal skud hulle koppe simpatiek. ’n Ou vrou vat my regterhand vas en sê: “Pole sana. Pole sana. (Ek is so jammer.)” Ek en Jan ontdek ’n pondok wat bier verkoop. Jan is in sy element. Hy ontdek die ware Afrika. Ons drink van die bier wat gebrou word en vir my proe dit net soos die Jabula-bier wat die Shangaans in die Laeveld drink. Jan maak hom op ’n bankie tuis en begin lekker kuier. Ek het genoeg gesien en wil by die SuidAfrikaners se kampeerplek uitkom. Ek en Jan Petersen spreek tentatief af dat hy oor ’n paar dae by my sal aansluit. Ek laat die Sweed agter waar hy saam met die Masai kuier en begin padlangs aanstap.
18
Ek stap by die ingang van die Meseranislangpark in. ’n Paar Morani met assegaaie staan rond. Agter ’n toonbank sit ’n boerseun, Deon Naudé. Ek stel myself voor en sê ek soek werk. “Oom Barry is hier êrens. Stap deur kroeg toe, dan gaan roep ek hom,” sê Deon. Ek stap verby slangputte na die kroeg. Dit is leeg. Teen die mure is foto’s opgeplak van jagters by hulle trofees in die jagveld. Van die dak af hang vlae en baniere wat die Wêreldbeker-rugby herdenk. Daar is ’n groot plakkaat van François Pienaar en sy Springbok-rugbyspan. Teen die kroegmuur is geld van alle lande vasgeplak. Dit lyk soos ’n gesellige plek. “Goeiemiddag. Kan ek help?” Oom Barry Bale is ’n kort, fris man in kakieklere en ’n breërandhoed. Ons skud hand. “Oom, ek soek werk. Mense het my na oom toe verwys.” “Watter soort werk doen jy?” “Ek is ’n opgeleide veldwagter, maar het goeie jag- en safari-ondervinding. Enige werk in die bos, oom.” Oom Barry stap na die toonbank en gaan sit. Ek haal my CV uit my rugsak en gee dit vir hom. Hy blaai deur en lees die getuigskrifte. “Dis baie goeie verwysings hierdie,” sê hy. “Goed. Maak jouself tuis hier. Jy kan onder daardie afdak gaan kamp. Ek is nou besig, maar môreoggend kan ek jou na ’n paar mense toe neem.” “Baie dankie, oom.” Hy kyk my op en af.
“Ek sal vir jou van my klere moet gee. Jy kan nie só vir werk gaan soek nie.” Die res van die dag dwaal ek deur die slanghokke. Daar is ’n groot verskeidenheid spesies. Gaboen-adders, mambas en luislange. Ek gaan saam met Deon Naudé na die krokodilput, waar hy die jong krokodille muise voer. Deon was ’n polisieman in Zoeloeland. Hy en oom Barry se seun, Wade, deel ’n liefde vir slange. Hulle het besluit om Tanzanië toe te trek om ’n slangpark en kampplek te begin. Die slange is in ruim hokke met glasvensters en verhitting. Daar is moeite gedoen om elke slang se voorkeurhabitat binne sy hok na te boots, soos ’n klam, groen woudvloer vir die Gaboen-adders en growwe sand vir die horingadders. Die moeite en harde werk wat in die slangpark belê is, is duidelik. Daar is ook ’n opelugslangput waar minder giftige slange is, waar daar demonstrasies gehou word en toeriste die slange mag hanteer. Deur die dag kom en gaan groepe toeriste, maar die kampeerplek bly leeg. Die aand in die kroeg ontmoet ek die hele familie. Oom Barry se vrou, tannie Lynne, hulle seun, Wade, die held van Arusha se plaaslike rugbyspan, en sy meisie, Melinda, ’n Engelse meisie uit Kenia. Saans lyk die kroeg na ’n gunstelingplek vir plaaslike blankes van Arusha en offisiere van die nabygeleë militêre basis by Monduli. Ek ontmoet offisiere uit die weermagte van Tanzanië, Kenia en Zimbabwe. Hulle vertel my dat die basis by Monduli ’n groot opleidingsentrum was van PLAN- en MK-soldate. Ek ontmoet blanke jagters, boere en ingenieurs. Dit word ’n gesellige aand. Die volgende oggend gee oom Barry my een van sy skoon kakielangbroeke en ’n kakiehemp. Ons klim in sy oop Land Rover en ry terug oor die vlakte in die rigting van Arusha. Dis nog bewolk en winderig en ’n digte wolkbank hang oor Berg Meru se kruin. Oom Barry neem my na die voorste safarimaatskappy in Arusha. Hy beduie aan my om in die Land Rover te wag en stap by die kantoor in. ’n Paar minute later kom hy uit saam met ’n man in kakie. Ons word voorgestel en die man vra my om saam met hom te kom. Oom Barry bly by die Land Rover agter. In die kantoor word ek koffie aangebied. Agter sy lessenaar blaai die man in kakie deur my CV. Dan begin hy met my gesels. Almal stel baie belang in my wildernisstaptoer-ondervinding. Hulle gee almal te
kenne dat hulle die moontlikheid van wildernisstaptoere in hulle konsessiegebiede ondersoek. Tans spesialiseer hulle in jag- en fotografiese safari’s. Op kaarte teen die kantoormuur is hulle konsessiegebiede met ’n groen viltpen ingekleur. Dit lê alles teen of binne die grootste wildernisgebiede in Afrika. Ruaha, Selous, Tarangire en die Natronmeer. Ek sou wat wou gee om daar te kon werk. Dan kom die verduidelikings. Vanjaar was ’n stil seisoen. Geen oop poste op die oomblik. Werkspermitte is altyd ’n probleem. Maar gee vir ons ’n afskrif van jou CV. Ja, dis baie indrukwekkend. Ons sal dit op lêer hou en jou laat weet as iets opduik. Daardie oggend besoek ons vier safaribesighede. Toe ons terugkom by die slangpark, staan daar drie oorlandtrokke in die kampeerplek. Die kamp wemel van oorlanders. Oom Barry, Wade en Deon ken die trokbestuurders op hulle voorname. Die trokke gaan vir drie dae hier staan. Die toeriste gaan môre oorklim in Land Rovers wat hulle vanuit Arusha kom oplaai en Ngorongorokrater toe neem. Vanaand en oormôreaand gaan die kamp en die kroeg egter stampvol wees. “Ons sal iets moet gaan kry vir die pot, môre,” sê oom Barry. Hy stuur vir Wade om Monduli toe te ry om ’n permit by Natuurbewaring te gaan koop. Van vroegaand begin die kroeg te gons. Tannie Lynne Bale en Melinda neem bestellings en maak toebroodjies. Oom Barry sit en gesels met die trokdrywers en Wade en Deon spook om voor te bly agter die kroegtoonbank. Sonder om te dink, skuif ek agter die kroegtoonbank in en begin uithelp. Deon en Wade verwelkom my en dadelik voel ek ek behoort iewers. ’n Jong man bestel ’n Tusker-lager. Ek haal ’n koue bottel bier uit die ysbad agter die toonbank. Doodluiters maak ek dit met my staalhaak oop. Om die toonbank word dit skielik stil. Die meeste van die reisigers kom nou eers agter dat ek ’n ysterhand het en staar my aan. Ek oorhandig die jong man se bier. Ek haal nog een uit die ys. “Nog iemand vir ’n bier?” vra ek, maak dit oop met ’n knal en gee dit vir ’n gewillige klant. Skielik vat die partytjie vlam en almal bestel bier by my. Wade en Deon lag en klop my op die skouer. Iewers word die gerug versprei dat ’n krokodil my arm afgebyt het en die
buitelanders, wat nog nooit eers ’n krokodil gesien het nie, staar my ongelowig aan. Een waag dit om my direk te vra en ek vertel die storie. Ek sien bewondering in ’n paar van die meisies se oë. As julle maar net kon weet van al die kak wat daarmee saamgaan, dink ek. Vroegmôre daag ’n konvooi Land Rovers vanuit Arusha op. Die oorlanders word opgelaai en Ngorongoro toe geneem. Die trokdrywers bly agter by hulle voertuie. Ek en oom Barry en een trokdrywer klim in sy oop Land Rover en ry uit oor die Masaivlaktes. Ons ry verby ’n paar hutte in die rigting van ’n reeks koppies. Agterop die Land Rover sit Ali, oom Barry se Swahili-slagter, en Boesman, ’n Ndorobo wat oom Barry na ’n jagtog in die Aberdareberge saamgebring het. Boesman, ’n naam wat oom Barry hom gegee het, is die spoorsnyer. Hy hou oom Barry se .270 Brno vas. In ’n donga stel ons die geweer op skoot. ’n Paar Morani staan nader in hulle rooi komberse en kyk toe. John, die trokdrywer, skiet ’n paar skote om gewoond te raak aan die geweer. Ons ry verder. Aan die voet van die koppies staan ’n paar platkruin-haak-ensteek-bome. Tussen die bome wys Boesman ’n klein troppie rooibokke uit. Die ram staan half skuins na agtertoe. Oom Barry ry nader. Die rooibokke begin senuweeagtig rondtrippel. Oom Barry draai die Land Rover skuins sodat John oor die enjinkap kan aanlê en Boesman gee die geweer aan. John lê aan. Saggies verduidelik oom Barry waar om op die ram te korrel. Die res van ons sit doodstil. Die rooibokooie se moed begewe hulle en hulle draf ’n ent weg en staan dan weer. Hulle wag vir die ram om aan te sluit. Hy draf nader en gaan staan agter ’n paar ooie. John kyk op. Nou wag ons almal. Vir ’n wyle staan die rooibokke ons en dophou. ’n Ooi proes senuweeagtig en die troppie draf ’n ent weg. Hulle gaan staan omtrent tweehonderd meter weg. Die ram staan nou in die oopte en John lê weer aan. Die skoot gaan af en ’n oomblik later hoor ons die dowwe plof van die koeël wat vleis tref. Die ram val plat in die lang gras. Ali en Boesman spring van die Land Rover af en draf nader. John volg hulle. Oom Barry skakel aan en ry nader. Die skoot is deur die ribbes en aan die ander kant van die blad uit. Toe die Land Rover langs die dooie bok stop, het Ali klaar die keel afgesny. Hy en Boesman
lig die ram aan sy pote en swaai hom oor die rand, agterop die Land Rover. Soos ’n professionele jagter met sy kliënt, komplimenteer oom Barry vir John. Nie ’n slegte skoot vir tweehonderd meter nie. Vir John is dit die eerste bok wat hy skiet. Dis ’n groot ram. Die res van die oggend ry ons oor die vlaktes. Beeste en wild staan deurmekaar. Vir die eerste keer sien ek Thomsons-gaselle. Behalwe hulle horings lyk hulle baie soos springbokke. Ons ry tot op ’n koppie en staar uit oor die Masaivlaktes en verspreide koppies. ’n Trop sebras loop oor die vlakte water toe. Agter ons rys Berg Meru, ’n koniese, uitgebrande vulkaan. Aan die voet van die koppie staan ’n Masai-woning en in hulle helder komberse gaan ’n paar mense aan met hulle dagtaak. Ek besluit om môre oor hierdie vlakte te kom stap. Die middag terug by die slangpark is Deon, Wade en Melinda besig om slanghokke skoon te maak. Met ’n lang vlekvryestaalhaak lig Wade die reuseGaboen-adders uit die hok uit. ’n Masai-meisie kom aangedraf. Daar is ’n slang in hulle mielieland. Wade sit die Gaboen-adders terug nadat Deon die hok uitgevee het. “Kom ons gaan vang daai slang,” sê Wade vir my. Weer spring ons in oom Barry se Land Rover. Wade gee my ’n lang slangtang en ’n streepsak om vas te hou. Ons ry nie ver nie. In ’n mielieland staan ’n paar vroue met skoffelpikke rond. Die slang het onder ’n bos langs die mielieland ingekruip. Die vrouens wil die slang doodmaak. “Nee, wag,” sê Wade. Hy neem ’n skoffelpik en trek die takke eenkant toe. Onder die bos lê ’n groot swart slang. “’n Egiptiese kobra. Hulle is volop hier,” sê Wade terwyl hy die slang agter die nek vang met die slangtang. Hy lig dit hoog op en die slang rol homself af. Dis ’n lange. Wade sit dit in die streepsak en bind dit toe. Hy haal ’n paar duisend Tanzaniese shillings uit sy sak uit en gee dit vir een van die vroue. Wade lewer ’n diens in Masai-land. Hy verwyder slange uit mense se mielielande en huise en betaal hulle daarvoor. “In my slangpark is daar altyd plek vir nog een.” Oom Barry stel my voor aan ’n Masai wat die volgende dag saam met my oor die vlaktes kan loop. Sy naam is Noag en hy is een van die nagwagte by die
slangpark. Die volgende oggend loop ons heel eerste na sy hutte toe. Hy stel my voor aan sy ma en sy vrou en kinders. Almal is baie vriendelik. Sy ma braai vir ons mielies en sy vrou dra dikmelk aan. Dan bring hy ’n fotoalbum te voorskyn en wys my foto’s van hom en sy familie en vriende. Baie van die foto’s is by die slangpark geneem. Daar is foto’s van Noag wat ’n luislang vashou en van hom en sy medenagwagte met hulle lang assegaaie en kapmesse. Wanneer ons terug is by die slangpark, sal ek my foto’s vir hom wys. Die Masai is bekend daarvoor dat hulle ’n mengsel van dikmelk en beesbloed drink. Ek is goddank bly dat dit nie aan my voorgesit word nie. Ek eet die mielies en worstel met die dikmelk. Min het ek toe geweet dat dikmelk nog my stapelvoedsel sou word. Na ete stap ons uit oor die vlakte. Dis nog steeds bewolk en winderig. Op pad ontmoet ons Masai wat vir Noag uitvra oor my en my af arm. Hy verduidelik in sy taal van die krokodil en hulle kyk my ongelowig aan. Dis lekker om weer ver te stap en hoewel ons nie mekaar se taal verstaan nie, geniet ek Noag se geselskap. Ons stap heeldag. Op pad terug kom ons ’n stokou man teë. Hy groet vir Noag deur sy hand te vat en daarop te spoeg. Noag doen dieselfde met die ou man. Daarna vat die ou man my hand vas en spoeg daarop, hy hou sy hand uit en ek spoeg daarop. Terug by die slangpark koop ek vir my en Noag koeldrank. Ons sit saam en drink. Hy gryp my kuitspier vas en druk dit. Hy is tevrede dat ek sterk bene het en ver kan stap. Ons glimlag vir mekaar. Die oorlanders het teruggekom van Ngorongoro af en die storte is vol. Wade en Melinda is besig om die rooibok oor ’n spit te braai. Tannie Lynne maak slaai. Die nag na die wildsvleismaal raak dit weer jolig in die kroeg. Ek en Deon beman die toonbank. Nou raak ek rusteloos. Die oorlanders vertel my van hulle Ngorongoroekspedisie en ek wil self gaan kyk. Ngorongoro en Serengeti is die twee plekke wat ek my voorgeneem het om te besoek. Voor die begin van my reis het ’n Parkeraad-kollega my ook vertel van ’n oud-Krugerwildtuin-veldwagter wat in die Ngorongoro werk. Ek sal by hom probeer uitkom en hoor van werksmoontlikhede. Ek ryloop terug Arusha toe om vir my ’n safari te reël. Arusha se strate is besig.
Oral is klein safarimaatskappye wat toere na Serengeti, Ngorongoro, Tarangiri en die Manyarameer adverteer. Ek haat dit om op so ’n manier te reis, maar almal vertel dat dit baie moeilik is vir ’n ryloper om deur die Serengeti te kom. Ek het geld uitgehou om Ngorongoro en Serengeti te besoek, maar kom gou agter dat ek nie ’n Land Rover en ’n gids alleen kan bekostig nie. Mens betaal in VSA-dollars en vir ’n ryloper is dit ’n duur storie. By verskeie van die kleiner safaribesighede stel die mense voor dat ek ’n paar rylopers bymekaarmaak. ’n Groep van minstens vyf mense sal vyf-en-sestig dollar per persoon per dag beloop. Waar is Jan Petersen? Hy het gesê hy sal by die slangpark aansluit en dan kan ons saam op safari gaan. Hy kuier seker te lekker saam met die Masai. Ek sien dat ek ’n ander manier sal moet bedink om by die Serengeti uit te kom. Ek loop besluiteloos deur die strate van Arusha, my rugsak gepak en op my rug. Daar moet ’n makliker en interessanter en goedkoper manier wees. Ek stap deur die mark en kyk na die ware. Daar is Masai-skilde, -assegaaie en -kapmesse. Wat sal ek maak? Miskien moet ek terug slangpark toe. Toe ek vir oom Barry gevra het, het hy nie van iemand geweet wat in daardie rigting gaan nie, maar dalk kom daar reisigers verby wat soontoe op pad is. Intussen sal ek elke dag saam met Noag oor die vlakte gaan stap. Ek kry rigting en begin padlangs stap. Dis dertig kilometer slangpark toe en nou is ek lus vir stap. ’n Rooi Leyland-vragmotor vol oorlanders draai uit ’n systraat in die hoofstraat in. Agter die stuurwiel sit Eric Ryan. Aan die asierskant sit Phil Illescey. Ek begin hardloop. “Phil! Eric!” Voor die trok behoorlik kan versnel, hardloop ek langs die kajuit. Die nuwe inname oorlanders staar my aan. My baard en hare lê agtertoe in die wind en my verslete klere en rugsak wapper agterna. Eric en Phil sien my en slaan ankers aan in die middel van die straat. ’n Paar Land Rovers agter hulle moet skielik rem trap. Phil maak die asierskant se deur oop, vat my rugsak aan en help my in. Die deur klap toe en die trok trek weg. Eric gee my sy uittandglimlag.
“Hoe gaan dit, maat?” “Phil,” sê ek, “ek is bevrees jy is nog nie van my ontslae nie.” Phil slaan sy handpalm teen sy voorkop. “Ag nee!” In die kajuit skaterlag ons al drie. Die trok verlaat Arusha en ry na die slangpark. Terug by die slangpark verwelkom oom Barry my. “Jy kan so lank bly as wat jy wil. Jy is een van ons en jy betaal nie kampgeld nie.” Later die middag sit ek by die luislanghok. Eric en Phil kom aangestap, elk met ’n Tusker-lager. Eric het ’n ekstra een en oorhandig dit aan my. Hulle kom sit weerskante van my. “Stoffel, ons het ’n probleem,” begin Phil in sy droë Engels. “Toe ons gister hierdie groep oorlanders by Nairobi Lughawe ontmoet het, het net agtien uit die vier-en-twintig opgedaag. Nou weet ons nie wat om met al die spasie te maak nie.” Ek wil begin om iets te sê, maar Phil hou sy hand omhoog. Sy gesig is ernstig. “Wag. Dit word erger. Twaalf van die agtien mense is meisies. Ek is bevrees ek en Eric sal dit nie alleen kan behartig nie. Ons het iemand nodig om ons by te staan. Wil jy ons nie asseblief kom help wild kyk nie? Ons moet ongelukkig môre Serengeti toe.” Eric glimlag en knipoog vir my.
19
Die rooi Leyland-vragmotor staan op ’n wye vlakte. Ek lê kaalbolyf op die dak en drink aan ’n Tusker-lager. Langs my lê Susan, Jilly en Sajel in hulle bikini’s besig om in die son te bak. Susan en Jilly kon susters gewees het met hulle blonde hare en sproete. Sajel het pikswart hare en ’n goudbruin lyf. Sy loer so elke nou en dan vir my onder haar kuif en dan roer iets in my. Onder ons sit Phil en Simon in die kajuit. Agterop die trok is die ander oorlanders. Die vlakte om ons krioel van blouwildebeeste. Sover as die oog kan sien, kom hulle in stringe aan en vergader op die vlakte asof vir ’n byeenkoms. Ons is langs die oewer van die Grumetirivier in die Serengeti Nasionale Park. Die samedromming van wildebeeste oorskry my grootste verwagtinge. Ek het al baie foto’s en flieks oor die Serengeti gesien, maar niks kon my hierop voorberei nie. Die wildebeeste strek van horison tot horison, tussen hulle staan troppe sebras en gaselle rond. Langs my op die dak kliek Susan, Jilly en Sajel se kameras onophoudelik. Hulle is uitasem en hees van verwondering. As hulle na my kyk, is hulle oë groot en blink. Bliksem, hulle is oulike meisiekinders. Ek lê terug en vat ’n sluk louwarm bier. Ek voel die son op my lyf en luister na die onophoudelike gesteun van duisende wildebeeste en ruik die stof en die meisies. Die lewe is mooi. Die lewe is so mooi. Die trok het drie oggende gelede uit die slangpark vertrek op die Dodomateerpad. Ons het afgedraai op ’n grondpad en wes gery na Mto Wa Mbo. Die oorlanders was nog vars uit die buiteland en het verward rondgestaar. Die stof het hulle gepla. Soos die trok meedoënloos oor die grondpad ratel, het hulle verbete aan hulle slapbandboeke gelees en net opgekyk na Masai of volstruise op die vlakte. Dit was asof hulle onseker was of hierdie Afrika-reis die regte besluit vir ’n vakansie was. Hulle het seker ook maar gewonder oor die verslete ryloper wat hulle gidse sommerso langs die pad opgetel het. Susan, Jilly en Sajel het eerste hulle boeke neergesit en met my begin gesels. Hulle het beleefd alle vrae
oor my arm vermy, maar ek kon sien hulle brand van nuuskierigheid. Hulle sou later vir Eric en Phil vra. By die klein dorpie van Mto Wa Mbo het ek en Eric streepsakke houtskool gekoop en aan die dakrak vasgebind. Hiermee sou die oorlanders kos kook. Mto Wa Mbo lê aan die rand van die Manyarameer Nasionale Park. Hier het dokter Iain Douglas Hamilton sy studie oor olifante kom doen en een van die boeke geskryf wat my as ’n jong seun oor Afrika laat droom het. Vanaf Mto Wa Mbo het ons teen ’n bergpas uitgery op pad na Karatu. Ek, Susan, Jilly en Sajel het plek op die dak ingeneem. Op die beboste vlaktes onder ons het ek olifante uitgewys wat hulle vir rotse aangesien het en kameelperde wat hulle gedink het is bome. Bo van die dak af het hulle die ander se aandag daarop gevestig en skielik was almal bewus van die bosse en wild onder hulle. Stadig het hulle oë oopgegaan. Susan, Jilly en Sajel was duidelik beïndruk met my skerp oë. Ek het hulle vertel dat dit eens op ’n tyd my werk was om wild raak te sien. Naby die kruin van die bergpas het die trok gestop en ’n kookspan het begin toebroodjies maak. Onder ons het die blou Manyarameer gelê. Op die water het swerms flaminke en pelikane gewaad. Ek het aangehou om olifante, kameelperde en sebras op die vloedvlaktes en in die bosse aan die oorlanders uit te wys. Op hierdie manier het ons bevriend geraak. Hulle kom almal grotendeels van Nieu-Seeland, Australië, Spanje, Engeland en Skotland, en spoedig leer ek almal ken. Daardie nag kamp ons in Karatu. Kinders by die mark noem my weer Chuck Norris. Die volgende môre het ons na die ingangshek by die Ngorongorokrater gery en daar het ons onderverdeel en oorgeklim in Land Rovers. Eric sou met die trok langs die rand van die krater ry en ons by die oorstaanplek ontmoet. Ek, Phil, Susan, Jilly en Sajel het in een Land Rover gery. Met ’n kronkelpad deur die reënwoud het ons afgedaal na die kratervloer. Die Ngorongorokrater is die grootste uitgebrande vulkaan in die Ngorongorobewaringsgebied. Baie spesies kon ongestoord hier floreer. Die bestuurder van ons Land Rover neem ons op ’n toer van die wilde diere op die vloer van die krater. Ons sien ’n groot trop leeus wat aan ’n sebra vreet. Op die wit sodameer staan duisende flaminke rond. Thomsons- en Grants-gaselle,
topi en kongoni is boksoorte wat ek nie in Suid-Afrika ken nie. Ons stop by ’n seekoeigat. Buffelbulle staan in die lang gras. Teen die hang van die krater staan ’n swartrenoster. Ons kry nog ’n trop leeus en dan drie groot olifantbulle in die riete van ’n moeras. Oral ry eenderse wit Land Rovers rond en Jilly kla dat dit vir haar soos ’n dieretuin is. In ’n mate is sy reg. Die toeristeverkeer doen afbreuk aan die ervaring. Tog, vir my is dit ’n droom wat waar word om op die vloer van die Ngorongorokrater rond te ry. Ek doen navraag by ’n bakkie met veldwagters oor die oudKrugerwildtuinveldwagter wat tans hier werk. Ja. Hy bly op die rand van die krater, naby ons kampplek. Ons verlaat die krater met ’n bergpaadjie deur die reënwoud en ons sluit aan by Eric en die trok. Die ander oorlanders is voor ons daar en het klaar vuur gemaak. Dit is ysig koud op die rand van die krater. Die Land Rover se bestuurder neem my na die veldwagter se huis, maar hy is nie daar nie en ek laat ’n boodskap. By die kampplek sit almal styf teen mekaar om die vuur. Eric en Phil vra my om ’n paar van my boswedervaringe aan die oorlanders te vertel en ek doen dit graag. Later die aand kom die oud-Krugerwildtuinveldwagter by ons kampplek aan. Ons stap uit die vuurkring uit en op die rand van die Ngorongorokrater in Tanzanië, tussen ’n klomp uitlanders, praat ons Afrikaans. Die veldwagter is in diens van die Frankfortse Soölogiese Vereniging en moet verseker dat die laaste veertien swartrenosters van Ngorongoro nie uitgewis word deur stropers nie. Ons gesels lank. Ons verwys na ou vriende in die Krugerwildtuin en al twee kry bietjie heimwee. Ek vertel hom van my reis en hy luister geïnteresseerd. Hy is tegemoetkomend. Die Frankfortse Soölogiese Vereniging is in beheer van al die soogdiernavorsingsprojekte in Ngorongoro en Serengeti. Hulle hoofkwartier is by Seronera in die Serengeti. Phil het al klaar gesê dat dit ons volgende oornagplek is. Die veldwagter sê dat dit moeilik is om werkspermitte te kry, maar dat hy vir my ’n woord sal doen. Ek moet die volgende dag my besonderhede daar inhandig.
Toe ons biere klaar is en die koue erg word, skud ons hand en neem afskeid. Hy verdwyn in die donker en ek sluit by die vuur aan. Jilly en Susan maak vir my plek langs hulle. Die wind suis en ’n hiëna roep vanuit die bosse. Nigel Peoples van Nieu-Seeland nooi my om in sy tent te slaap. Die dag breek winderig en grou op die rand van die krater. Die trok luier warm en ons begin aan die ander kant af te sak. Voor ons lê die windverwaaide vlaktes van die Serengeti. ’n Trop sebras maak pad voor ons. In die verte toring Oldongo Lengai, “Die berg van God”, die enigste oorblywende aktiewe vulkaan in die Ngorongoro-bewaringsarea. Sy laaste groot uitbarsting was in 1983. Toe die son deur die wolke breek, trek die rooi Leyland-vragmotor langs die Olduvaiskeurvallei waar die Leakey-egpaar die fossieloorblyfsels van talle voormense blootgelê het. So het hulle Robert Broom en Raymond Dart se fossielvondste uit die Sterk-fonteingrotte in Suid-Afrika aangevul en na Afrika begin verwys as die wieg van die mensdom. Teen middag gaan ons die Serengeti Nasionale Park by die Naabiheuwel binne. Ek en Nigel Peoples en Gordon McReath koop ’n paar biere by die kiosk en neem plek in op die dak. Behalwe troppies topi en gaselle is die vlaktes verlate. Die oorlanders begin belangstelling verloor en gryp weer na hulle slapbandboeke. Vir die res van die dag trek net ’n paar Masai en kameelperde weer hulle aandag. Laatmiddag kom ons by Seronera aan waar ek my besonderhede en aansoek om ’n betrekking by die ontvangspersoneel van die luukse kamp los. Die kantoor van die Frankfortse Soölogiese Vereniging is reeds gesluit. ’n Paar kilometer verder span ons uit in ’n oop kol tussen die doringbome. Berugte leeuwêreld, volgens Phil. Ek, Nigel, Susan, Jilly en Sajel, en twee ander meisies, Pam en Sarah, slaan ons tente in ’n sirkel op met die openinge na binne. Die kookspan begin met aandete. Ek, Eric, Phil, Gordon en Nigel gaan sit op die vragmotor se dak en maak biere oop. Die son sak oor die doringbome. Ons kyk na die veld om ons en die bedrywighede in die kamp onder ons. Die ou gevoel van kameraderie keer terug, soos altyd wanneer ek my in die geselskap van avontuurlustige mense iewers in die wildernis bevind. Ek merk dat elkeen saam met my die oomblik so ervaar. Daardie nag loop ’n trop leeus ons kamp binne, gaan lê onder ’n doringboom
langs ons tente en begin brul. Die meisies se stemmetjies is klein deur die tentseil. “Ek wil gaan piepie,” sê Jilly van die oorkantste tent af. Na ’n rukkie vertrek die leeus en sit hulle nagtelike tog voort. Hulle brulle word sagter soos hulle deur die doringbosse aanstap. ’n Paar meisies begin verlig te giggel. Ek raak aan die slaap. Iewers in die nanag begin Nigel onbeheerst rond te ruk hier langs my. Dis stikdonker in die tent. Ek gryp my jagmes se hef vas wat ek voor slaaptyd uit my rugsak gehaal en langs my slaapsak neergesit het. Ek is dadelik wakker. Dit is bekend dat leeus al vantevore kampeerders wat nie hulle tente behoorlik toemaak nie in die nag kom uitsleep. Maar ons het ons tent behoorlik toegemaak. Ek ruik ook nie die kenmerkende leeureuk of die stank uit sy bek nie. Ek los die mes en tas na Nigel in die donker. Ek gryp ’n gewrig vas. “Nigel, is jy wakker?” “Huh?” “Nigel.” “Ja.” “Is alles reg?” “Ja. Nagmerrie. Leeus. Baie.”
Dit was laat vanoggend dat ons die troppe wildebeeste oor die vlaktes begin kry het. Eers klein troppies en later lang stringe wat in enkelgelid in dieselfde rigting beweeg. Stelselmatig word die konsentrasies groter. Nou, langs die Grumetirivier in die noordooste van die Serengetivlaktes, bevind ons onsself te midde van ’n see van wildebeeste. ’n Skouspel wat ek my hele lewe al wag om te sien. Ek kan nie help om te dink aan hoeveel dinge SuidAfrika hom self ontsê het met apartheid nie. Dit is egter geskiedenis en dit is soos dit was en ek was net soveel deel daarvan soos enige ander blanke Suid-
Afrikaner. Ek vra nie om verskoning dat ek ’n Afrikaner is nie. Ek hou my kop omhoog. Sajel loer weer vir my met haar donker oë deur haar kuif. Ek hou haar blik en glimlag. Ons begin mekaar skaamteloos met ons oë ontklee. My oë speel oor die kurwes van haar lyf. Daar is fyn swart haartjies op haar dye. Haar goudbruin lyf glim in die son. Haar houding is aanloklik en vol belofte. Skielik verbreek ek die speletjie. Ek neem ’n sluk bier en staar oor die wildebeeste. Ek grinnik by myself. My pa kry die stuipe as ek die meisie vanuit Nieu-Seeland huis toe bring. Die rooi Leyland-vragmotor begin stadig vorentoe ry deur die see van wildebeeste. Onder ons in die kajuit luister Phil en Eric oor die kassetspeler na Bruce Springsteen se “Better days”. Twee uur later bereik ons die oewers van die Victoriameer. Die trok draai suid en teen skemeraand ry ons die hawedorp van Mwanza binne. Phil parkeer die trok by die hawe en gaan tref reëlings om met die veerboot na Bukoba te gaan. Vroeër die dag het Eric my genooi om verder saam met hulle te reis. Hier bestyg die trok die veerboot, vaar oor Victoriameer en gaan aan wal by Bukoba van waar hulle Uganda sal binnegaan. Skielik twyfel ek. Ek het nog genoeg geld vir die veerboot en om rond te reis in Uganda. Hoe maklik is dit egter om geld vanaf Suid-Afrika oorgeplaas te kry? Het ek genoeg van Tanzanië gesien? Die trok ry oor die valbrug op die veerboot. Ek staan met my rugsak op die kaai. Eric en Phil verlaat die trok en stap oor die valbrug terug. Hulle verstaan. “Stoffel,” sê Phil in sy hoogdrawende Engels. “Interessante reis saam met jou, interessant.” Ons skud hand. Spontaan slaan Eric sy groot hande om my skouers en glimlag breed. “Loop mooi, ou maat. En kyk maar uit vir ons groot rooi trok. Ons ontmoet dalk weer. Daar sal altyd plek vir jou wees.” Agterop die trok bo-op die veerboot besef die oorlanders dat ek hulle verlaat. “Stoffel, jy kan ons nie nou los nie,” roep Nigel. “Wie gaan ons teen die leeus beskerm?” vra Jilly.
“Wie gaan vir ons sing?” roep Susan. Ek wuif ’n saluut. “Dit was lekker om julle te ontmoet. Ek sal julle nie vergeet nie,” roep ek terug en weet dat ek dit opreg bedoel. ’n Figuur klim by die trapleer van die trok af en draf oor die valbrug na my toe. Dit is Sajel. Haar donker oë is effe klam. Sy praat nie en hou net my hand vas. “Totsiens, Sajel,” is al wat ek sê. Dan los ek haar hand en streel liggies oor haar wang. Ek vat haar om haar middel en druk haar teen my vas. Ek glimlag vir haar, staan terug en swaai my rugsak op my rug. Ek draai om en stap van die kaai af om ’n lêplek vir die nag te gaan soek in die vuil ou hawedorp van Mwanza. Somtyds wonder mens wat beïnvloed jou besluite. Ek vertoef ’n dag op Mwanza op die oewers van Victoriameer. Ek loop deur die stowwerige strate en vind die dorp oninspirerend. Ek koop vir my ’n kaartjie op die minibus deur die Serengeti terug na Arusha. Daar sal ek my broer kontak en reël vir verdere fondse. My reis vorentoe beplan.
Vier dae later ry ek Arusha binne. Ek bespreek plek in ’n hostel en laat my rugsak daar. Ek loop uit in die strate en koop ’n paar poskaarte by ’n stalletjie. In Arusha is dit steeds bewolk. Ek gaan terug na die YMCA en bestel koffie en samoesas en sit en skryf aan familie en vriende. Toe ek opkyk, kom Allistair McKinnon by die deur ingestap. Dis ’n hartlike herontmoeting. Allistair het intussen by ’n paar Australiërs aangesluit en was saam met hulle na die eiland van Zanzibar. Hulle het pas in Arusha aangekom en soek blyplek. Ek begelei hulle na die hostel waar ek bly. Die aand gaan besoek ek en Allistair en die Australiërs die kroeë van Arusha. Die volgende dag keer ek terug na die slangpark. Allistair en sy vriende bly agter om ’n safari te reël. Hy belowe my hy sal by die slangpark verbykom. Dít het ek al vantevore gehoor. Ek volg die pad oor die Masaivlaktes en vanuit die rigting van die slangpark kom ’n groen, oop Land Rover aangery. Dis tannie Lynne Bale. Langs haar sit
Wade se meisie, Melinda. Hulle sien my en stop. Ek draf na die Land Rover. Tannie Lynne en Melinda is opgewonde. “Stoffel. Ons het ’n dringende boodskap vir jou. Jy moet dadelik by die polisiestasie op Arusha aangaan.” “Waarom? Is ek in die moeilikheid?” “Nee, man. Jou ouers het gebel. Daar is ’n man in Namibië wat vir jou ’n werk wil aanbied. Klim in. Sersant Joseph by die polisiestasie het al die besonderhede.”
20
Kort ná my vertrek uit Arusha saam met Phil en Eric het Horace McAllistair my broer se nommer wat ek maande tevore in Windhoek vir hom gegee het, geskakel. Waar kan hy my kontak? Hy het daarin geslaag om ’n pos geskep te kry in die Kaokoveld. Hy wil hê ek moet daardie pos vul. My broer het geweet dat ek ’n paar dae tevore my pa gebel en vir hom gesê het dat ek nou in Arusha is. My ma het dit op haar geneem om my op te spoor. Sy het die polisiestasie in Arusha gebel en met sersant Joseph gepraat. Mens hoor talle stories oor Tanzanië se korrupte polisiemag. Hoe hulle omkoopgeld van toeriste verkry en kop in een mus is met misdadigers wat toeriste beroof. As dit die waarheid is, is dit nie van toeing op sersant Joseph van Arusha-polisiestasie nie. Hy het simpatiek oor die telefoon na die langafstandpleidooi en verduidelikings van my ma geluister. Daarna het hy die strate van Arusha ingevaar met die doel om my op te spoor. Hy het elke kampplek en gastehuis in Arusha besoek en uiteindelik by oom Barry se slangpark buite die dorp aangekom. Hy is langer as ses voet met ’n ligbruin gelaatskleur en Nilotiese gelaatstrekke. “Die boodskap wat ek gekry het, is dat jy so vinnig moontlik terug Namibië toe moet gaan om jou werkspermitte se dokumente te voltooi.” Hy stap saam met my na waar tannie Lynne en Melinda vir my wag buite die polisiestasie. Ek skud sy hand en bedank hom innig vir sy moeite. Terug by die slangpark is Deon Naudé en Wade Bale besig om ’n luislang te help vervel op die grasperk. Wade hou die slang agter die kop vas terwyl Deon die los velle met ’n haartangetjie aftrek. Noag groet my vriendelik. Oom Barry kom uit sy kantoor en skud my hand. “Geluk, ou seun. Ek is bly jy het reggekom. Ek hoop net jy is nie te haastig om
te vertrek nie. Die kampplek is vol oorlanders hierdie naweek. Ons moet môre vir die pot gaan skiet en dan moet jy uithelp agter die kroeg.” Ek besluit om die naweek nog by die slangpark te vertoef en dan terug te ryloop na Namibië. Na ses maande op die pad het ek ook nou die stadium bereik waar ek moeg is vir ’n boemelbestaan. Nou sal ek weer met my beroep as veldwagter kan voortgaan. Dis ’n nuwe begin. Die hartseer en verlange wat ek saam met my gedra het, verdwyn en ’n warm gloed neem die plek daarvan in. Die volgende dag ry ek uit saam met oom Barry en twee oorlandtoerleiers. Ons bring heeldag in die veld deur en skiet ’n paar bokke. Toe ons by die slangpark terugkom, is Allistair McKinnon ook daar en ek vertel vir hom van die werk wat ek gekry het in Namibië. My tyd raak kort en ek en Allistair gaan stap vir oulaas saam met Noag op die Masaivlaktes. Die laaste nag in die kroeg skryf ek vir hom die woorde van “And the band played Waltzing Matilda” neer en hy vir my W.B. Yeats se “Stolen Child”. Die volgende môre neem ek afskeid van my vriende by die Meseranislangpark en pak die terugtog aan.
Dit neem my amper ’n dag om van Arusha na Moshi te ryloop. Ek koop ’n buskaartjie na Mbeya vir vroeg die volgende oggend en bespreek plek in ’n gastehuis in Moshi. Ek skryf W.B. Yeats se “Stolen Child” oor in my eie handskrif en pos dit aan my ma. Die laaste deel bly my by.
Away with us he’s going The solemn-eyed: He’ll hear no more the lowing Of the calves on the warm hillside Or the kettle on the hob Sing peace into his breast,
Or see the brown mice bob Round and round the oatmeal chest.
For he comes, the human child To the waters and the wild With a faery, hand in hand From a world more full of weeping Than he can understand.
My reis terug na Namibië verloop vlot. Ek verlaat Tanzanië en gaan Zambië by Nakonde binne. Ek ry in busse, minibusse en agterop vragmotors. Een nag agterop ’n vragmotor in noordelike Zambië slaan ek my dagboek oop in die maanlig en sien dat dit my dertigste verjaardag is. Dit is ’n nuwe begin. Ek sal my kak laat staan en my energie in my nuwe werk instort. Dit is my tweede kans. Vanaf Lusaka reis ek na Livingstone. Ek steek die grens tussen Zimbabwe en Zambië by die Victoriawaterval oor. By die kampplek loop ek rylopers raak wat ek in Malawi ontmoet het en ons spandeer ’n nag in die kroeë en eetplekke van die toeristedorp wat aan die Zimbabwe-kant van die Victoriawaterval verrys het. Ek bereik Namibië via noordelike Botswana, agterop ’n gruistrok. Ek kom toevallig in Katima Mulilo aan op dieselfde dag dat my ou vriend Simon vanuit die Wes-Caprivi in die dorp is. Teen laatmiddag ry ons saam na die Wes-Caprivi. Simon is bekommerd. Na vyf jaar in die Caprivi het die Ministerie van Binnelandse Sake besluit om nie sy werkspermit te hernu nie. “Iemand hou my nasionale dienspligtydperk in die Caprivi teen my. Die Capriviane vertrou my nie en glo ek dra kennis van wapenopslagplekke in die Wes-Caprivi.”
“Maar Simon, ek en jy weet al twee dat dit ’n klomp snert is. Dit plaas my in dieselfde situasie as jy. Daar is dan geen rede waarom hulle my werkspermit sal goedkeur nie.” “Nee, Stoffel. Dit is anders. Jy het Namibië na ’n jaar verlaat. Horace wil jou in die Kaokoveld gebruik waar niemand jou ken nie. Horace kon vir jou ’n projekbestuurderspos skep deur buitelandse borge. Jy gaan Namibiërs oplei en werksgeleenthede skep. Jy sal nie probleme hê nie.” Op pad na Simon se huis op die oewers van die Kwandorivier, vertel hy my dat sy vrou swanger is. Dit maak dinge nog moeiliker vir hulle. Horace McAllistair probeer om die Ministerie van Binnelandse Sake te oortuig om Simon se werkspermit goed te keur. Tot dusver het hulle nog nie ’n antwoord gegee nie. Na ’n goeie nagrus in Simon en sy vrou se gerieflike huis, neem hy my die volgende dag na Baganibrug op die Okavangorivier. Dertig uur later, na ’n paar baie gelukkige saamrygeleenthede, strompel ek moeg in Horace McAllistair se kamp in, in die hartjie van die woestyn. Hy kyk verbaas van sy lessenaar af op. “Magtig. Ek het jou nie so gou hier verwag nie.” Die eerste drie weke bring ek saam met Horace McAllistair deur. Hy het al klaar die vorms vir die aansoek van my werkspermit gereed en het met my ouers gepraat. My swaer François het reeds vir my ’n mediese verslag ingevul en op ’n manier kon my pa vir my ’n polisieklaring kry. Hierdie dokumente is ook al by Horace McAllistair. Hy klink optimisties. Hy neem my na al die invloedryke hoofmanne in die Kaokoveld en stel my voor aan al die gemeenskapsveldwagters en personeellede in sy diens. Ons kamp in die woestyn, en saans om die vuur vertel hy wat hy van my verwag. “My projekte is besig om uit te brei. Ek kan nie meer my volle aandag aan die gemeenskapsveldwagters in die Kaokoveld gee nie. Ek het projekte in die Caprivi en ek spandeer nou al hoe meer tyd in my kantoor om die borge tevrede te hou. Ek is bevrees ek het die gemeenskapsveldwagters in Kaokoland verwaarloos. Hulle is sonder leiding en motivering. Hulle is besig om hulle doelgerigtheid te verloor. Ek wil hê jy moet saam met hulle gaan patrolleer en kamp, hulle evalueer, hulle probleme identifiseer. Leer hulle ken en wen hulle vertroue. Hulle moet ’n doeltreffende eenheid word. Oor ses maande soek ek ’n verslag van jou waarin jy die huidige situasie evalueer en jy voorstelle maak, hoe
jy hulle gaan opgradeer.” Toe ons terug is by die kamp, neem hy my na ’n afdak waaronder ’n paar bakkies geparkeer staan. Die meeste van hulle is oud en verweer, maar een Toyota 4x4 glim blinknuut. “Hierdie bakkie kon ek aankoop vir die Kaokoveldprojek. Dis joune,” sê Horace. “Dis vanjaar se model.” Hy oorhandig die sleutels aan my. ’n Bejaarde Herero sluit by ons aan. Sy hare is wit en die plooie sny diep in sy gesig, maar sy houding is fors. Sy skouers is breed en sy arms gespierd. Horace stel hom aan my voor. “Dit is Naftalie Wakazapi. My regterhand vir jare. Min mense ken die Kaokoveld so goed soos hy. Sy pa is ’n hoofman en hyself is ’n gesiene man onder die Herero’s. Hy sal baie waardevol vir jou wees om die gebied en die mense te leer ken. As jy onseker is oor enigiets, vra net vir Naftalie. Hy is ook vlot in Afrikaans en ’n goeie tolk.” Naftalie se handdruk is ferm en sy glimlag breed. “Naftalie sal jou na die stoorkamer neem waar julle julself van kamptoerusting en gereedskap moet voorsien. As julle daarmee klaar is, kom na my kantoor,” gaan Horace voort. In die sinkstoor is Naftalie soos ’n kind wat in ’n speelgoedwinkel vrygelaat is. Hy rus die nuwe bakkie toe met waterkanne, grondseile, gereedskaptrommels, ’n graaf, ’n byl, pangas en alles wat hy dink nodig gaan wees. Deurentyd knipoog hy ondeund na my. Later, in die kantoor, hervat Horace sy gesprek. “Ek moet môre Windhoek toe en daarna Caprivi toe. Ek sal jou oor twee maande by Palmwag Ruskamp ontmoet. Dan behoort jou werkspermit afgehandel te wees.” Hy staan van sy lessenaar af op en sluit ’n langwerpige brandkluis agter hom oop. Hy haal ’n bruin koevert uit en oorhandig dit aan my. “Dit behoort genoeg geld te wees vir brandstof en kos vir twee maande.” Dan draai hy weer na die kluis. Hierdie keer bring hy ’n ou .303 en ’n doos patrone te voorskyn. Sy leeragtige gesig verkreukel in ’n glimlag. “’n Veldwagter sonder ’n roer is nie ’n veldwagter nie.”
Toe ek agter die stuurwiel van die nuwe bakkie inklim, spoel die bekende veldwagtersgevoel oor my. Stoffel Mathysen het weer ’n bakkie vol toerusting, ’n geweer agter die sitplek en ’n tenk vol diesel. Die bakkie trek weg en langs my kyk Naftalie tevrede toe hoe my staalhaak foutloos ratte verwissel. Voor ons vertrek het hy gehelp om die plastiekknop met die geelkoperklamp wat ek uit my rugsak gehaal het aan die stuurwiel vas te heg. “Dis hoog tyd dat jy hier aankom. Ek en meneer Horace raak oud. Ons het ’n jong man met ’n ysterhand nodig wat ons veldwagters weer ’n slag kan vasvat.” Ek kyk na myself in die truspieël. My hare en baard is lank en verbleik. Ek is maer en bruingebrand. My kakiehemp is vodde. Ek glimlag vir myself en dan terug na Naftalie. Voor ons strek die gruispad oor ’n eindelose struikmopanievlakte. Ver in die noorde doem ’n newelagtige bergreeks op. ’n Troppie springbokke hardloop oor die pad.
Oor die boek
My naam is Stoffel Mathysen. Deur my eie toedoen het ek alles verloor. Ek besluit toe om weg te loop.
’n Jong man wat voluit, roekeloos, met drif leef en glo dat hy onoorwinlik is. Totdat die onnoembare gebeur . . . Die verteller bied sy verhaal met nugterheid en humor en self-ironie aan; hy praat oor sy medemens met insig en deernis. Stoffel Mathysen se wedervaringe as staptoerveldwagter en sy swerftog deur Afrika sal oud en jonk boei en geen leser onaangeraak laat nie.
Oor die skrywer
Christiaan Mathys Bakkes is in 3 Augustus 1965 op Vredenburg aan die Weskus gebore. Hy matrikuleer in 1983 aan die Pro Arte-kunsskool in Pretoria. Christiaan was ’n staptoerveldwagter in die Krugerwildtuin toe hy in Februarie 1994 sy linkerarm verloor het nadat twee krokodille hom aangeval het terwyl hy in ’n dam geswem het. Nadat hy herstel het, het hy vir vyf maande deur Afrika gereis, vir drie jaar vir die WWF in die Kaokoveld in Namibië gewerk, en daarna by ’n safari-maatskappy wat ekotoere op die Skedelkus aanbied. Tans is hy gids en areabestuurder by Wilderness Safaris in Namibië. In 1998 het sy debuut, Die lang pad van Stoffel Mathysen, verskyn en daar het sedertdien reeds vyf boeke oor sy alter ego, Stoffel, se avonture verskyn. Die meeste verhale is op werklike gebeure gebaseer. Stoffel by die afdraaipad is in 2005 vir die M-Net-literêre prys vir tekste in kort formaat (kortverhale, kinder- en jeugboeke) benoem.
Ander titels deur dieselfde skrywer
Stoffel in die wildernis (2000) Skuilplek (2002) Stoffel by die afdraaipad (2004) Stoffel se veldnotas (2007) Stoffel in Afrika (2010) Stoffel op safari (2012) Bushveld and Desert: A Game Ranger’s Life (2008) Bushveld, Desert, and Dogs: a Game Ranger’s Life (2012)
Lof vir skrywer
“’n Besondere talent wat ’n unieke storie het om te vertel . . . Hier word ’n lewensgeskiedenis, ’n vormingsgeskiedenis vertel, ’n mens word onthul. In die relaas van die lang pad word ’n stuk Afrika-wêreld, ’n Afrika-avontuur, vir die leser voor oë gestel, wat sedert Stanley en Livingstone, ag, al die ou Afrikareisigers en -ontdekkers oor eeue heen, ’n magtige bekoring uitgeoefen het.” – Elize Botha
Human & Rousseau ’n druknaam van NB-Uitgewers, ’n afdeling van Media24 Boeke (Edms) Bpk, Heerengracht 40, Kaapstad www.humanrousseau.com
Kopiereg © 1998 deur Christiaan Bakkes
Alle regte voorbehou.
Geen gedeelte van hierdie elektroniese boek mag sonder die skriftelike verlof van die uitgewer gereproduseer of in enige vorm of deur enige elektroniese of meganiese middel weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, skryf- of bandopname, of deur enige ander stelsel vir inligtingsbewaring of -ontsluiting.
Bandontwerp deur Annelize van Rooyen E-boekontwerp deur Nazli Jacobs
Ook beskikbaar in druk: Eerste uitgawe in 1998
ISBN: 978-0-7981-3780-5
Epub-uitgawe: Eerste uitgawe in 2013 ISBN: 978-0-7981-6596-9 (epub)
Mobi-uitgawe: Eerste uitgawe in 2013 ISBN: 978-0-7981-6599-0 (mobi)