Titelblad
’n Uur van lig
Nina Smit
LUX VERBI
Voorwoord
Voorwoord
Karl Barth het die volgende pragtige gebed geskryf:
Here ons God, wees Uself nou hier by my sodat hierdie ’n uur van lig sal word. Laat my in u teenwoordigheid die hemel sien oopgaan, sodat ’n vonkie van u lig in my donker situasie skyn.*
Met God by jou sal dit nooit heeltemal donker om jou wees nie. As jy sy kind is, kan jy reken op sy teenwoordigheid, selfs al gaan jy by tye deur donker dieptes. Hy gee áltyd weer lig in jou donkerte – meer nog, Hy is self die Lig wat jou vanjaar deur die donker tye sal dra. Elke keer wanneer jy stil raak in sy teenwoordigheid en op Hom fokus, sal jy só ’n uur of halfuur van lig beleef.
Dit is my gebed dat hierdie dagboek vanjaar vir elke vrou wat dit lees, ’n uur van lig sal daarstel.
Die skrywer
* Aangehaal in N Smit, Die groot boek van Christelike aanhalings, p 185
Januarie: Gebed
JANUARIE: GEBED
’n Anonieme skrywer beweer: “Gebed is nie ’n towerformule om van God te kry wat óns wil hê nie, maar dis die enigste manier om te word wat God bedoel het dat ons moet wees.” Die heel beste ding wat ons mekaar aan die begin van die nuwe jaar kan toewens, is dat elkeen van ons vanjaar dié vrou sal wees wat God bedoel het dat ons sal wees; dat ons God se doel vir ons lewe sal ontdek, uitleef en elke dag meer soos Jesus sal word. Wanneer jy leer om op die regte manier te bid, kom God jou lewe op ’n ánder, meer intense manier binne, ontdek jy hoe om oom-blik vir oomblik met Hom te kommunikeer en elke sekonde van sy teenwoordigheid in jou lewe bewus te wees. Dán verander gebed jou, omdat jy leer om in ’n wêreld vol probleme met God se vreugde te leef. Nog ’n anonieme skrywer sê: “Elke dag is ’n geskenk wat deur gebed oopgemaak moet word.” As jy vanjaar daarin kan slaag om elke dag van hierdie nuwe jaar met gebed “oop te maak”, sal dit nie anders kán as om die heel beste jaar van jou lewe te wees nie.
1 Januarie – God nooi jou om te bid
1 JANUARIE
Lees: Jeremia 33:1–9
God nooi jou om te bid
So sê die Here, Hy wat die aarde gemaak het en so gevorm het dat dit nie wankel nie, wie se Naam Here is: Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie. – Jeremia 33:2–3
Dit bly maar ’n ongelooflike feit dat dié groot Skeppergod wat die wêreld gemaak het, wat die miljarde sterre geskep en in die hemelruim geplaas het, wat die olifant én die muggie gemaak het, wat vir ons ons berge, wolke en blomme gegee het – dat Hý graag wil hê dat nietige sondaarmense met Hom in gesprek sal tree. Meer nog, dat Hy ons persoonlik uitnooi om dit te doen. Ons verstaan dit nie. Dit klink net nie logies nie, maar dit bly wónderlik! Tog is die meeste mense geensins gretig om dié uitnodi-ging aan te neem nie. Ons soek eerder verskonings waarom ons nie bid nie … Indien jy ’n uitnodiging na Buckingham paleis kry as jy in Engeland toer – sou jy dit van die hand wys? Natuurlik nie! Vandag behoort jy net weer ’n slag te besef dat God jou nóói om met Hom te praat. Jy mág nie die wonderlike geleentheid laat verbygaan nie! Was jy tot nou toe te besig om te ontdek presies wat die “groot en onverstaanbare” dinge is wat God persoonlik aan jou wil openbaar? Moenie langer traag wees om God se uitnodiging te aanvaar nie – moenie langer wag om
te begin bid nie. Vra dat die Heilige Gees jou self sal leer, vir jou die regte woorde sal gee.
Heilige Gees, leer my bid, asseblief! Ek wil U graag al hoe beter leer ken en vanjaar dié vrou word wat U my gemaak het om te wees. Amen.
2 Januarie – Jesus maak gebed moontlik
2 JANUARIE
Lees: Kolossense 1:15–26
Jesus maak gebed moontlik
Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping … God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon … – Kolossense 1:15, 19
Dié God tot Wie jy bid, is heilig, groot en almagtig. Vanself sal jy nooit by Hom kan uitkom nie. Jy kan ook nie sommer in sy teenwoordigheid instorm nie. Daar is ’n Middelaar nodig tussen jou en God. Maar God is terselfdertyd ook jou hemelse Vader wat jou só liefhet dat Hy Self sorg vir ’n manier waarop sondige mensekinders met Hom kan kommunikeer. Hy stuur sy Seun na die wêreld om dit vir jou moontlik te maak om te kán bid. Alhoewel Jesus Self ten volle mens was, is Hy die beeld van God, woon God met sy volle wese in Hom. Met sy kruisdood betaal Jesus jou sondeskuld ten volle. Hy sterf in jou plek, sodat jý nou met groot vrymoedigheid in die Naam van Jesus mag bid, en as jy só bid, word God Self verheerlik en antwoord Hy jou gebede. “Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word,” beloof Jesus sy dissipels (Johannes 14:13). Jy mag dus die hele dag lank deur die tussenkoms van sy Seun met die Skepper van die heelal in gesprek wees. Maak doodseker dat jy nooit weer sal dink dat gebed sommer ’n alledaagse rympie is wat jy uit gewoonte kan aframmel nie.
Wéét dat dit ’n geskenk is wat Jesus vir jou moontlik gemaak het.
Here Jesus, ek loof U dat U dit vir my moontlik maak om te kán bid. Ek wil van nou af alles in u Naam vra, sodat God daardeur verheerlik kan word. Amen.
3 Januarie – ’n Daaglikse dissipline
3 JANUARIE
Lees: Matteus 7:7–12
’n Daaglikse dissipline
Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word … – Matteus 7:7
Jesus leer sy dissipels dat hulle maar net moet vra, en God sal vir hulle gee. Maar gebed mag nooit nét ’n vrasessie wees waarin jy vir God al die dinge vra wat jý graag wil hê nie. Dit behoort ’n daaglikse dissipline te wees waarin jy God opsoek. Jy moet elke dag ’n spe-siale tyd vir gebed opsysit. En dit gaan nie so maklik wees nie, want die duiwel gaan sy bes probeer om jou te verhinder. Daar is niks op aarde waarvoor hy so bang is as vir ’n Christen wat bid nie. Heel waarskynlik gaan jy ontdek dat hy allerhande struikelblokke in jou pad gaan plaas sodra jy jou oë toemaak om te bid. Bid dan tot hy jou laat los! Gister het jy gehoor dat God jou persoonlik uitnooi om te bid. ’n Gesprek met God vind altyd vanuit ’n verhouding plaas. ’n Mens kan immers nie met ’n vreemdeling ’n intieme gesprek aanknoop nie. Hoe beter jy egter iemand ken, hoe makliker word dit vir jou om jou hart vir hierdie persoon oop te maak. Voor jy begin bid, maak eers jou verhouding met God reg, vra Hom om jou sonde te vergewe en luister dan na sy Stem uit sy Woord. Kies God vanjaar as jou beste Vriend; deel jou vreugde, jou seerkry, jou bekommernisse en jou probleme met Hom. Nadat jy Hom geloof, geëer en gedank het vir Wie Hy is en vir wat Hy vir
jou doen, mag jy maar vra – en jy sal kry!
Here Jesus, vergewe asseblief my sonde en gee vir my die regte woorde waarmee ek met U kan praat. Amen.
4 Januarie – Volhard in gebed
4 JANUARIE
Lees: Romeine 12:9–18
Volhard in gebed
Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here. Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed. – Romeine 12:11–12
Dit is nie altyd so maklik om te bid nie. Elke mens het verskillende behoeftes en bid verskillend. Soms mag jy dalk moedeloos word wanneer jy dit nie kan regkry om jou gevoelens in woorde uit te druk wanneer jy met God wil praat nie. En dis in orde – God weet wat in jou hart aangaan. Jy hóéf ook nie soos ander mense te bid nie. Om die waarheid te sê hóéf gebed glad nie eens woorde te hê nie. Wanneer jy stil word en in aanbidding voor God kniel, is jy dalk besig om die heel beste soort gebed te bid wat daar is, dié soort gebed waarin God die meeste plesier vind. Dit is juis wanneer jy soos ’n kind met jou hemelse Vader kommunikeer dat Hy van jou liefde en omgee weet. Wanneer jy die slag régtig vashaak met jou gebede, kan jy gerus die Psalms of ander dele uit die Bybel verpersoonlik en dit dan as gebede gebruik. Wat Jesus ons omtrent gebed leer, kan in drie punte saamgevat word, skryf Philip Yancey: “Keep it honest, keep it simple and keep it up.”* Dit is allerbelangrik dat jy sal aanhou bid, ook in dié tye wanneer dit vir jou voel asof God nie na jou luister nie. Moenie dat omstandighede, ’n vol program of teleurstellings jou ooit
daarvan weerhou om te bid nie. Volhard in gebed met die vaste wete dat God jou sal hoor en antwoord.
Here, ek loof U dat ek mag weet dat U altyd na my gebede luister en hulle sal verhoor. Amen.
* P Yancey, Prayer, p 191
5 Januarie – Gebed en die Heilige Gees
5 JANUARIE
Lees: Romeine 8:26–30
Gebed en die Heilige Gees
Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. – Romeine 8:26
Baie mense het hulp nodig met gebed. Dit kom nie vir almal maklik of natuurlik nie. En ons kan dit maar nie regkry om soos Jesus te bid nie. “Ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie,” skryf Paulus tereg aan die gemeente in Rome (vgl Romeine 8:26). En God verstaan baie goed dat ons maar net mense is en dat ons Iemand nodig het wat namens ons vir God die dinge sal gaan vra wat ons werklik nodig het – nie nét die dinge wat ons graag wil hê nie. Die meeste van die gebedsversoeke waarmee ons God so toegooi, is nie nodig óf goed vir ons nie. Net soos God sy Seun stuur sodat ons kán bid, gee Hy ook vir ons ’n Helper om ons te leer bid – die Heilige Gees wat in ons woon. Dié Gees pleit vir ons met versugtinge wat nie in woorde omgesit kan word nie. God kyk na ons harte wanneer ons bid. Ons gesindheid is vir Hom belangriker as die woorde waarmee ons ons gebede inklee. Die Heilige Gees wil jou ook leer bid. Meer nog, Hy bid reeds vir jou. Hy neem dié dinge wat jy werklik nodig het direk na God se genadetroon en sy gebede is altyd in ooreenstemming met God se wil.
Heilige Gees, sal U my asseblief self leer bid. Dankie dat U nog méér as dit doen: dat U vír my bid, volgens die wil van God; dat U Self my gebede na God neem. Amen.
6 Januarie – As jy sukkel om te bid
6 JANUARIE
Lees: Psalm 103:8–18
As jy sukkel om te bid
Soos ’n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien. Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is. – Psalm 103:13–14
God ken ons deur en deur. Hy het ons immers gemaak. Daarom dra Hy ook kennis van die feit dat ons almal by tye gebedsukkelaars is. Baie min mense is gemaklik daarmee om in die openbaar te bid. Ons vergelyk ons gebede met dié van ander, ons is bang dat ons woorde sal opraak, ons bloos en stamel wanneer ons gevra word om te bid. Ook wanneer ons alleen in ons binnekamers is, herhaal ons meestal elke dag dieselfde gewoontegebede. Die enigste raad vir mense wat sukkel om te bid, is dat jy méér sal bid. Soos alle ander dinge, verbeter jou gebedsvaardighede hoe meer jy hulle gebruik. Dit is geen wonder nie dat Paulus die gemeente van Tessalonika aanraai om gedurig te bid (vgl 1 Tessalonisense 5:17). “As jy nie kan bid soos jy graag wil nie, bid soos jy kan. God weet presies wat jy bedoel,” skryf Vince Havner.* Jesus het Self gesê dat jou Vader wéét wat jy nodig het, nog voordat jy dit van Hom vra (vgl Matteus 6:8). Maak nie saak as jy sukkel om te bid nie. Die enigste voorwaarde is dat jou gebede opreg moet wees, dat jy werklik die dinge sal
bedoel wat jy vir God sê of aan Hom belowe. Dit maak ook nie saak wat jou gebedshouding is of watter woorde jy gebruik nie – solank jou gebede uit jou hart kom, sal God luister én antwoord.
Hemelse Vader, soms sukkel ek só om te bid. Dankie dat U weet waarvan ek gemaak is én weet wat ek bedoel wanneer ek bid. Amen.
* Aangehaal in J Smit, Gebed
7 Januarie – Voor jy begin bid
7 JANUARIE
Lees: Job 26:5–14
Voor jy begin bid
Dit is maar die begin van sy dade, ons hoor net die gefluister van sy woorde. Maar die volle krag van sy dade, wie kan dit verstaan? – Job 26:14
Nadat Job hoofstukke lank kla dat God hom onskuldig gestraf het, kom hy uiteindelik tot die gevolgtrekking dat ’n mens nie God se dade kan begryp nie. Dit is Hy wat die lugruim soos ’n tent oopsprei, wat die aarde deur sy krag in plek hou. Hy is verantwoordelik vir die weerpatrone en kan die fondamente van die hemel laat bewe. Hy skep die horison deur die waters te skei en skep die dag en nag … Sy skeppingskrag skep orde in die skepping en hou dit elke dag in stand. En dié wonders wat ons in die natuur kan waarneem, is maar net die begin van sy dade, die gefluister van sy woorde. Die volle krag van sy dade sal nooit deur nietige mensekinders met hul beperkte verstand verstaan kan word nie. Hoe groot is God nie! Ek hou daarvan om soms Lied 519(vers 1, 3 en 4) te lees voordat ek begin bid: Wees stil en weet: Ek is die Heer. Ek spreek, en wind en golwe bedaar,
Ek sal ook jou getrou bewaar. Wees stil en weet: Ek is die Heer. Kom bring na My jou kommer en vrees. Ek sal vir jou ’n toevlug wees. Wees stil en weet: Ek is die Heer. Bly waak en bid; volhard in geloof. Ek is by jou soos Ek beloof.*
Vader, U is soveel groter as wat ek met my verstand kan besef. Ek wil nou heeltemal stil word en weet dat U God is; dat U almagtig is en dat U altyd by my is soos U beloof. Amen.
* Liedboek van die kerk, Lied 519
8 Januarie – Die inhoud van jou gebede
8 JANUARIE
Lees: Efesiërs 3:14–21
Die inhoud van jou gebede
[Ek bid] … dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. Mag julle in staat wees om … te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. – Efesiërs 3:17–18
Paulus was iemand wat geweet het hoe om te bid. In die derde hoofstuk van sy Efesiërbrief bid hy dat God vir hulle die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Jesus deur die geloof in hul harte sal woon, dat hulle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees, maar veral dat hulle die geweldige omvang van God se liefde vir hulle sal besef en met sy volheid vervul sal word. Wanneer ek Paulus se gebede vir die Efesiërs gelees het, het dit my elke keer getref hoe selfsugtig die inhoud van my eie gebede is. Ek bid wel baie gereeld vir mense wat ek liefhet – ten minste twee keer per dag vir my familie – maar die inhoud van hierdie gebede laat veel te wense oor. Ek bid dat my kleinkinders veilig sal wees en goed sal vaar op skool, dat my seuns die regte werk sal kry en dat my siek familielede weer gesond sal word – maar nog nie eens één keer het ek vir my mense dieselfde dinge as Paulus vir die Efesiërs gevra nie. Daar en dan het ek besluit dat my gebede in die vervolg meer sal gaan oor geestelike seëninge vir my geliefdes, eerder as oor konkrete sake. Is jy nie lus om in die week wat voorlê Paulus se versoeke vir jóú mense te herhaal nie?
Here, ek bid dat U my geliefdes innerlik sterk sal maak, dat hulle in U sal glo en u liefde sal ken. Amen.
9 Januarie – Stuurwiel of noodwiel?
9 JANUARIE
Lees: 1 Tessalonisense 5:12–25
Stuurwiel of noodwiel?
Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag. – 1 Tessalonisense 5:16–18
Ek is mal oor Corrie ten Boom, die ou Hollandse dame wat ’n Duitse strafkamp oorleef het en daarna op ’n baie hoë ouderdom die wêreld deurkruis het om oor Jesus te getuig. Die dinge wat sy skryf, getuig van ’n nugter, praktiese ingesteldheid, en die beelde waarmee sy haar praatjies en boeke illustreer, is só aards en treffend dat ’n mens dit nooit weer vergeet nie. Só skryf sy dat gebed vir ons ’n stuurwiel behoort te wees en nie ’n noodwiel nie. Die oorgrote meerderheid Christene bid wel gereeld, maar dit is eers in krisistye wanneer hulle ’n “noodwiel” benodig dat hulle genoeg tyd aan gebed afstaan, dat hulle werklik met groot erns begin bid. Dit is nie soos God dit wil hê nie. Dit is sy wil dat gebed die stúúrwiel van jou lewe sal wees. Dat jy heeltemal niks sal doen, geen belangrike besluite sal neem voordat jy, soos Jesus gedoen het, éérs daaroor gebid het nie. Is gebed al die stuurwiel van jóú lewe, of bid jy net met erns wanneer jy probleme teëkom en ’n noodwiel nodig het? Volg Paulus se raad en bid van vandag af sonder ophou, bid gedurig, sodat jy die hele dag lank deur ’n koord
van gebed aan God verbind sal wees en gebed van nou af werklik die stuurwiel van jou lewe sal wees.
Hemelse Vader, vergewe my asseblief dat ek soveel meer tyd in gesprek met U deurbring as dit moeilik gaan. Help my dat my gebede nie langer die noodwiel van my lewe sal wees nie, maar die stuurwiel waarmee U dit beheer. Amen.
10 Januarie – Neem jou probleme en begeertes na God toe
10 JANUARIE
Lees: Filippense 4:4–9
Neem jou probleme en begeertes na God toe
Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God be-kend. – Filippense 4:5–6
God wil graag hoor van jou probleme – nie omdat Hy dit nodig het om hulle aan te hoor nie, maar omdat jy dit nodig het om hulle by Hom af te laai. Jy mag ook maar dié dinge wat jy graag wil hê, sowel as jou drome en ideale, met Hom deel. Jy kan enige tyd van die dag of nag met jou versoeke na God gaan, Hy is altyd gereed om na jou gebede te luister. Hy kan nie insluimer of slaap nie, skryf die psalmdigter. Hy is altyd naby jou, verseker vandag se kernvers jou. Om hierdie rede hoef jy oor niks bekommerd te wees nie, maar mag jy maar in álles jou begeertes met God deel. En, terwyl jy nog besig is om dit te doen, kan jy reeds vir Hom dankie sê dat Hy jou gebede sal verhoor. Dit is presies wat Jesus gedoen het toe Hy by die graf van Lasarus gebid het: “Ek dank U dat U My verhoor het.” En dit was vóórdat Lasarus lewendig geword het (vgl Johannes 11:41). Vra God om jou in staat te stel om Hom te dank alhoewel sy antwoord op jou gebed nog nie gerealiseer het nie, en ook ondanks die feit dat Hy jou soms mag laat wag op sy antwoord, en dat dié antwoord dalk anders mag wees as die een waarvoor jy gevra het.
Hemelse Vader, ek loof U vir die voorreg om my begeertes in gebed na U te bring. Gee my die geloof om U te dank voordat U my gebede verhoor het. Amen.
11 Januarie – Gebed verander jou
11 JANUARIE
Lees: Jakobus 4:1–10
Gebed verander jou
Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars … Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog. – Jakobus 4:8,10
Kort na sy huwelik met die Amerikaner Joy Davidson Gresham, het CS Lewis ontdek dat sy terminale beenkanker het. Elke been in haar liggaam was reeds van die kanker deurtrek, en dokters het haar net ’n paar weke gegee om te lewe. Lewis het begin om lang tye in gebed deur te bring. Hy het God gesmeek om Joy gesond te maak. Een van sy kollegas het opgemerk dat hierdie aanhoudende gebede God sekerlik van plan sou laat verander. Hierop het Lewis geantwoord: “Ek bid omdat ék gebed nodig het. Gebed verander nie vir God nie, maar dit verander mý.”* Joy se siekte is deur ’n wonder gestuit en sy en Lewis het nog drie gelukkige jare saam gehad. Wanneer jy deur ernstige gebed aan God verbind is, sal dit jou ook verander. Omdat jy so naby aan God leef, neem jy nou jou besluite anders, lewe jy op ’n ander manier as voorheen. In die vierde hoofstuk van sy brief beskryf Jakobus hoe mense lyk wat hulself en die wêreld liefhet. Hy vra gelowiges om eerder nader aan Gód te kom, en gee sy
lesers die versekering dat wanneer hulle dit doen en hul sondes bely, God ook nader aan húlle sal kom. Wanneer jy tot God nader in gebed, kom God terselfdertyd nader aan jóú, leer ken jy Hom al hoe beter en verstaan jy ook algaande presies wat Hy van sy kinders verwag.
Hemelse Vader, ek ervaar self dat gebed menselewens verander. Verander mý en wys my wat U van my verwag. Amen.
* Aangehaal uit Shadowlands, die fliek oor Lewis se lewe
12 Januarie – Vra gerus!
12 JANUARIE
Lees: Lukas 18:1–8
Vra gerus!
Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? Sal Hy hulle lank laat wag? Ek sê vir julle: Hy sal hulle help, en gou ook! – Lukas 18:7–8
Mary Slessor was ’n sendeling wat 38 jaar lank in lewensgevaarlike omstandighede in die oerwoude van Nigerië sendingwerk gedoen het. Sy skryf in haar dagboek: “My lewe is een lang, daaglikse, uurlikse rekord van beantwoorde gebede. Vir fisieke gesondheid, vir wonderbaarlike leiding, vir foute en gevare wat vermy is, vir kos wat op presies die regte oomblik voorsien is, vir álles wat nodig was in my lewe … kan ek met absolute verwondering getuig dat ek glo dat God gebede beantwoord.”* Alhoewel jy God nooit as ’n soort super-Krismisvader mag gebruik en van jou gebede lang lyste met nimmereindigende versoeke mag maak nie, mag jy wel vir God dié dinge vra wat jy regtig nodig het. Hy het immers beloof dat Hy in elkeen van jou behoeftes oorvloediglik sal voorsien. Elke Christen wat erns maak met gebed, sal kan getuig dat God antwoord wanneer ons bid; dat Hy soms ons gebede op so ’n letterlike manier beantwoord dat dit ons sprakeloos laat! Net soos die regter die lastige weduwee in vandag se Skrifgedeelte gehelp het omdat sy aangehou het met vra, kan God deur die aanhoudende gebede van sy kinders
oorreed word om aan hul versoeke te voldoen. Bid dus onophoudelik, hou gerus aan om te vra, tot God jou antwoord. Die Bybel verseker jou dát Hy sal antwoord – en gou ook!
Hemelse Vader, dankie vir u groot geduld met my; dat ek maar mag aanhou met vra, met die seker wete dat U my gebede sal beantwoord. Amen
* Aangehaal in P Farrel, A woman of influence, p 77
13 Januarie – Aanbid God
13 JANUARIE
Lees: Eksodus 4:27–31
Aanbid God
Toe hulle hoor dat die Here die nood van die Israeliete gesien het en Hom hulle lot aangetrek het, het hulle in aanbidding gebuig. – Eksodus 4:31
Moses het ’n noue ontkoming as God hom op pad na Egipte wil doodmaak omdat hy nie sy seuns besny het nie. As Moses en Aäron hierna die volk bymekaarroep en vir hul van die Here se opdrag vertel, kom hulle diep onder die indruk van hul Verbondsgod se genade vir hulle en buig hulle saam in aanbidding voor Hom. In die Ou Testament is daar telkens sprake van “in aanbidding neerbuig”. Wanneer jy bid, behoort jy God nie net te loof en te dank nie, maar Hom ook te aanbid, laag voor Hom te buig. “Aanbidding, lof en dank is drie begrippe wat in gebedstaal met mekaar verweef is,” skryf Johan Smit in sy boek Gebed. “Aanbidding bring ’n mens by die brandende doringbos … by die hemeltroon waar die serafs sing en jubel, by die berg van verheerliking, by Getsemane en Golgota, by ’n geopende graf.”* Wanneer jý kniel om God te aanbid, erken jy hoe heilig, groot en heerlik Hy is. Jy word as ’t ware oorweldig deur God se almag, soveel so dat jy nie anders kan as om voor Hom neer te buig nie. Voordat jy weer begin om God te loof en vir Hom dankie te sê, word eers stil en aanbid God vir Wie Hy is: die God van jou lewe, die Een wat jou éérste liefgehad het en jou as sy kind gekies het, die Een
wat nie gehuiwer het om sy Seun in jou plek te laat sterf nie; die Een wat in alle ewigheid by jou sal wees.
Here God, ek wil laag voor U kom neerbuig en U aanbid omdat U heilig en heerlik, groot en almagtig is. Amen.
* J Smit, Gebed, p 30–31
14 Januarie – Loof en dank God
14 JANUARIE
Lees: Psalm 116
Loof en dank God
Ek wil U loof met ’n dankoffer, ek wil die Naam van die Here aanroep. My geloftes aan die Here sal ek betaal in die teenwoordigheid van sy hele volk, in die voorhowe van die huis van die Here, binne-in jou, Jerusalem! Prys die Here! – Psalm 116:17–19
Twee van die elemente wat die meeste in gebed afgeskeep word, is lofprysing en danksegging. God wil graag hê dat sy kinders Hom sal loof en vir Hom dankie sal sê vir die genade wat Hy so oorvloe-dig oor hulle uitstort. Hier kan jy gaan kers opsteek by die psalmdigters. Die digter van Psalm 116 loof en dank God vir sy reddingsdade. Omdat God hom van die dood gered het, bring hy vir Hom ’n dankoffer in die tempel. Hy sluit dan ook die psalm af met ’n frase van lof: “Prys die Here!” “Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik,” sê Jesus in sy Bergrede (Matt 5:16). Wanneer God goed was vir jou en jou gebede verhoor het, mag jy nie nalaat om Hom te loof en te dank nie. Maar jou woorde is nie genoeg nie; jy behoort God ook te loof en vir Hom dankie te sê met die dinge wat jy vir Hom dóén. Soos die psalmdigter hier doen, kan jy gerus ook jou beloftes aan God nakom waar ander mense dit sal kan raaksien, sodat hulle ook onder die indruk van God se liefde en
trou vir jou sal kom.
Here, ek is jammer dat ek U so min loof en dank wanneer ek stil word om te bid. Ek loof U vir u liefde vir my en ek wil U dank vir al die genade wat U so ryklik oor my uitstort. Amen.
15 Januarie – As God stilbly
15 JANUARIE
Lees: Psalm 10:1, 14–18
As God stilbly
Waarom staan U so ver weg, Here? Waarom trek U U terug in tye van nood? – Psalm 10:1
Die ou kerkvaders het dikwels geskryf oor dié tye wanneer dit vir ons voel asof God nie na ons gebede luister nie; wanneer ons nie sy teenwoordigheid ervaar nie. Hulle noem hierdie tye “die donker nag van die siel”. Die donker nag van die siel het twee moontlike gevolge: dit kan jou óf depressief laat en skuldig laat voel oor jou eie stuk ongeloof, óf dit kan jou nader aan God laat beweeg, sodat jy Hom beter leer ken. Die keuse is joune! Ongelukkig is dit juis in hierdie tye wanneer jy probleme en krisisse beleef, wanneer jy God die nodigste het, wanneer Hy vir jou ver vóél. As jy weer voel asof God ver en vreemd is, kan jy gerus nadink of daar nie dalk ’n stuk ongehoorsaamheid of ’n onbelyde sonde in jou lewe is wat ’n muur tussen jou en God veroorsaak nie. As die profeet Jesaja met die volk oor hul sonde praat, sê hy: “Daarom word hierdie sonde vir julle ’n hoë stuk muur wat oorhang en dreig om te val …” (Jes 30:13). Sodra jy van so ’n “muur” in jou eie lewe bewus raak, bely hierdie sonde, sodat jy weer spontaan met God kan kommunikeer. Dis meestal nie regtig God wat stilbly nie, maar óns wat doof is, skryf Teresa van Ávila, wat self twintig jaar lank gesukkel het om te bid voordat sy as ’n
gebedsmeester uit die stryd getree het.
Here, dankie vir die stuk insig dat U wel by my is, maar dat dit my sonde is wat die muur tussen ons veroorsaak. Vergewe my asseblief, sodat die kommunikasiekanaal weer oop kan wees tussen U en my. Amen.
16 Januarie – Bid én glo
16 JANUARIE
Lees: Jakobus 1:2–8
Bid én glo
Maar ’n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos ’n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. – Jakobus 1:6
God nooi jou om te bid, Hy beloof om jou gebede te verhoor, maar daar is tog ’n voorwaarde wat Hy aan jou stel: wanneer jy bid, moet jy gelowig bid. “Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwer-king,” skryf Jakobus aan die einde van sy brief (Jak 5:16). Een van die belangrikste faktore wat verhinder dat God jou gebede verhoor, is ongeloof. Indien jy getrou bid, maar jy glo nie dat God jou gebedsversoeke sal toestaan nie, kan jy net sowel die biddery los. Iemand wat ongelowig bid, moenie dink dat hy iets van God sal ontvang nie, waarsku Jakobus in Jakobus 1:8. Maar wanneer jy bid én glo, beloof God Self dat Hy hierdie gebede sal verhoor, mits dit in ooreenstemming met sy wil is. Vir Jakobus gaan geloof en dade altyd saam. Maak dus altyd seker dat die dinge wat jy vir God doen, jou geloof sal onderstreep – dan mag jy maar vra en God sal antwoord. Dit wil egter nog nie sê dat jy alles gaan kry wat jy in geloof van God vra nie! Net soos jy nie vir jou
kinders alles gee wat hulle vra nie, gee God ook nie vir jou alles wat jý vra nie, maar Hy gee altyd vir jou die heel beste antwoord op jou gebed.
Here, ek kort nog soveel wysheid. Help my asseblief om gelowig te bid en te glo dat U my gebede sal verhoor en vir my dié dinge sal gee wat die heel beste vir my sal wees. Amen.
17 Januarie – Bid as jy hartseer is
17 JANUARIE
Lees: Psalm 39:8–14
Bid as jy hartseer is
Hoor tog my gebed, Here, luister na my hulpgeroep; moet tog nie koud staan teenoor my trane nie, want ek is net op u beskerming aangewese; U alleen sorg vir my … – Psalm 39:13
In hartseertye spandeer ons gewoonlik veel meer tyd aan gebed as wanneer dit baie goed met ons gaan. Wanneer ons in die Bybel van “gebede van trane” lees, gaan dit meestal oor die bidder se hartseer oor sy sonde. Hierdie tipe gebed maak God se hart bly omdat dit die egtheid van jou berou oor jou sonde onderstreep. Maar gebede van trane kan ook hartseer wees oor jou negatiewe fisiese omstandighede. Die tye wanneer jy baie swaar kry en dit só sleg met jou gaan dat jy soos Dawid van ouds kan getuig: “Ek is uitgeput van verdriet, ek huil die hele nag deur, ek deurweek my bed met trane” (Psalm 6:7), of soos Job kan kla: “Al wat vir my oorbly, is ’n treurlied op die lier, ’n lied van trane op die fluit” (Job 30:31). Jy mag in jou eie hartseertye doodseker daarvan wees dat God nooit onbetrokke is wanneer jy hartseer is nie. Hy treur sáám met jou; Hy huil saam soos by die graf van sy vriend Lasarus. En as jy God liefhet, het jy mos reeds tevore ervaar dat Hy weer jou trane sal afdroog; dat jou droefheid van die oomblik nie vir altyd sal aanhou nie, want, so beloof die digter van Psalm 30:6: “… sy toorn
duur net ’n oomblik, maar sy goedheid lewenslank. Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al weer.”
Here, baie dankie dat ek in hierdie hartseertyd seker mag wees dat U saam met my hartseer is, en uiteindelik weer my hartseer in vreugde sal verander. Amen.
18 Januarie – Kom tot rus!
18 JANUARIE
Lees: Lukas 21:34–38
Kom tot rus!
Maar wees waaksaam en bid altyddeur dat julle die krag kan ontvang om deur al hierdie dinge wat gaan gebeur, behoue deur te kom en om voor die Seun van die mens te verskyn. – Lukas 21:36
Jesus is hier besig om met sy dissipels te gesels oor sy wederkoms. As Hy weer kom, moet hulle gereed wees vir sy koms, sê Hy vir hulle. Die Belgiese filosoof Henry Nouwen skryf oor ’n tipe gebed wat ons in ons hedendaagse gejaagde leefwyse baie nodig het, naamlik die gebed van rus. Die letterlike vertaling van Jesus se opdrag “bid altyddeur” in ons teksgedeelte van vandag beteken eintlik “om tot rus te kom”, skryf Nouwen in sy boek Way of the Heart.* Dit wil sê dat ons, wanneer ons besig is om te bid, in God tot rus kan kom te midde van die erge stres van ons daaglikse lewe. Dat ons, wanneer ons besig is om met God te praat, maar ons spanning voor sy voete kan uitpak en die oplossing van elkeen van ons probleme rustig aan Hom kan toevertrou. Mense wat op só ’n manier bid, sal die nodige krag van God ontvang sodat hulle al hul daaglikse eise en verantwoordelikhede sal kan nakom. Een van die maniere waarop jy nou al vir Jesus se wederkoms ge-reed kan maak, is juis om volhardend te bid, om gereeld met God te praat en Jesus se
uitnodiging in Matteus 11:28 en 29 aan te neem om na Hom te kom, omdat Hy vir jou rus in jou gejaagde lewe wil waarborg. Moenie langer stres nie, kom liewer tot rus by God!
Here Jesus, ek wil nou by U tot rus kom en al die dinge wat my gespanne en bekommerd maak, vir u sagte juk en ligte las verruil. Amen.
* Aangehaal in J Smit, Gebed
19 Januarie – Bid soos God vra
19 JANUARIE
Lees: Lukas 22:39–46
Bid soos God vra
Hy het Hom toe van hulle afgesonder omtrent so ver as ’n mens met ’n klip kan gooi. Daar het Hy gekniel en gebid: “Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied!” – Lukas 22:41–42
Catherine Marshall skryf: “Die doel van gebed is om God se wil te vind en dan sy wil ons gebed te maak.”* Terwyl Hy op aarde was, was dit vir Jesus ’n prioriteit om in álles die wil van sy Vader te doen. Alhoewel Hy God Self was, was Hy ook volkome mens, sodat Hy baie bang was vir die lyding wat Hy moes deurstaan. Tog deins Hy nie daarvan terug om God se wil uit te voer nie. Selfs in Getsemane, as Hy so benoud is dat sy sweet soos bloeddruppels word wat op die grond val, bid Hy steeds dat nie sy wil nie, maar Gód se wil sal geskied. Eienaardig genoeg is God se wil hier juis nié dat Jesus se lydensbeker van Hom weggeneem sal word nie. Jesus berus in die wil van sy Vader, en Lukas vertel dat ’n engel uit die hemel hierna aan Jesus verskyn en Hom versterk het. Ná hierdie gebed waarin Hy die wil van God vooropstel, is Jesus gereed om die lydensbeker te drink, sodat óns sonde vergewe kan word. Wanneer óns bid, is dit gewoonlik om die dinge wat ons wil hê van God te vra. Indien jy jou gebedsversoeke in die vervolg so sal inkleur dat dit om God se wil
sal gaan, volg jy die voorbeeld van Jesus. Dan sal jy ook krag van God ontvang om sy wil te kan doen.
Here, wys my wat u wil vir my is, sodat u wil my gebed sal word. Amen.
* Aangehaal in J Smit, Gebed
20 Januarie – Son, staan stil!
20 JANUARIE
Lees: Josua 10:7–14
Son, staan stil!
Die son het halfpad in die hemel bly staan. Byna ’n volle dag was hy nie haastig om onder te gaan nie. So ’n dag was daar nie voorheen of daarna nie, toe die Here vir ’n mens geluister het! – Josua 10:13–14
Die Amoritiese konings wou Gibeon vernietig, maar hulle het nie rekening gehou met die hulp van die Israeliete, wat God se krag aan hul kant gehad het, nie. God gee die Amoriete in die mag van die Israeliete oor omdat Josua gebid het dat Hy hulle moes help. En eintlik vra Josua hier ’n totaal onmoontlike ding: “Son, staan stil in Gibeon, en maan, staan stil in Ajalonlaagte!” bid hy ten aanhore van die hele leër (vers 12). Ons lees dat die son stilgestaan het, dat die maan nie geroer het nie, totdat Israel sy vyande verslaan het! God gebruik hier sy volk om sy mag vir die heidene te demonstreer. Die rede vir hierdie uitsonderlike gebeurtenis word in vers 14 gegee: daar was nog nooit voorheen só ’n dag nie, “toe die Here vir ’n mens geluister het,” berig die Bybel. Dit bly vir my ’n ongelooflike feit dat die almagtige Skeppergod die gebede van ’n sondige mens op só ’n manier beantwoord dat wonders gebeur. God gee Josua die oorwinning oor sy vyande deur die son te laat stilstaan. Telkens wanneer Bybelfigure soos Moses, Josua of Gideon tekens van Hom vra, luister God na hul gebede en gee Hy wat hulle vra. God doen steeds wonders
wanneer sy kinders bid, mits ons geloof sterk genoeg is.
Hemelse Vader, ek weet dat daar niks is wat vir U onmoontlik is nie. Dankie dat U steeds in staat is om wonders te doen wanneer u kinders bid. Amen.
21 Januarie – Wagtyd
21 JANUARIE
Lees: Psalm 130
Wagtyd
Uit die dieptes roep ek na U, Here, luister tog na my, Here, hoor tog my hulpgeroep … Ek wag op die Here meer as wat die wagte op die môre wag … Wag op die Here, Israel, want by die Here is daar troue liefde … – Psalm 130:1– 2, 6–7
In hierdie psalm ervaar die psalmdigter dat sy sonde hom van God vervreem het. Vir Hom voel God ver. Maar Hy vertrou steeds dat God hom uit sy vertwyfeling kan verlos. Hy roep dus “uit die dieptes” dat die Here hom moet help en vertrou dat God se belofte – dat Hy sy kinders sal verlos – vir hom persoonlik vervul sal word. Soos wat die wagte op die mure van Jerusalem op die môre gewag het, is die bidder hier bereid om op die Here se antwoord op sy gebede te wag. Soms antwoord God dadelik jou gebede, maar ander kere verwag Hy van jou om gewillig te wees om op Hom te wag. Alhoewel wag vir die meeste mense moeilik is, veral wanneer ons soos die digter van Psalm 130 in benoudheid verkeer, vra God dat sy kinders bereid moet wees om op sy antwoord te wag wanneer ons bid. Hy beskou sý tye wanneer hy sukkel om te bid as wagtye, skryf Philip Yancey in sy boek oor gebed.* Wanneer jy dus weer bid en dit vir jou voel asof God jou nie
dadelik antwoord nie, wees bereid om op Hom te wag. Jou wagtyd op God se antwoord is altyd tot jou voordeel, omdat jy reeds seker is dat hierdie antwoord tot jou beswil sal wees.
Hemelse Vader, ek is jammer dat ek soms so ongeduldig met U is. Maak my bereid om geduldig op u antwoord op my gebede te wag. Amen.
* P Yancey, Prayer, p 205
22 Januarie – Raadpleeg God
22 JANUARIE
Lees: Josua 9:1–14
Raadpleeg God
Hulle het vir Josua gesê: “Ons wil u onderdane wees.” … Die Israeliete het na die padkos gekyk, maar nie die Here geraadpleeg nie. – Josua 9:8, 14
Wanneer die inwoners van Gibeon hoor dat Josua die stede Jerigo en Ai ingeneem het, maak hulle ’n slim plan om te verseker dat die Israeliete nie teen hulle sal veg nie. Hulle pak vir hulle verkrummelde padkos in, laai verslete wynsakke op hul donkies en trek ou klere en gelapte skoene aan. Toe hulle by Josua se kamp by Gilgal kom, vra hulle vir hom of hulle sy onderdane mag wees. Josua raadpleeg nie die Here nie, maar meen dat hulle van ver kom en stem in om nie teen hul oorlog te maak nie, net om drie dae later te hoor dat die Gibeoniete hul bure is en tussen hulle woon! Die Israeliete begaan hier ’n groot fout omdat hulle God nie ge-raadpleeg het nie, maar op hul eie oordeelsvermoë staatgemaak het. Christenskap is ’n verhouding, en in enige verhouding is kommunikasie baie belangrik. Dit is dus nodig dat ons na mekaar sal luister en mekaar sal verstaan. Indien jy in die toekoms weer ’n belangrike besluit moet neem, raadpleeg éérs vir God en vra sy raad voordat jy self enigiets aan die saak doen. Hy sal vir jou elke keer die regte leiding gee. Hy kan immers in die toekoms sien – iets wat jý
nie kan doen nie. God wil graag deel van jou besluitneming wees. En as jy Hom heel eerste raadpleeg, weet jy dat jy nie ’n fout kan maak nie.
Hemelse Vader, weerhou my daarvan om my eie oordeel te gebruik. Ek bid dat U elke keer vir my die regte leiding sal gee as ek ’n belangrike besluit moet neem. Amen.
23 Januarie – Jou wens of God se wil?
23 JANUARIE
Lees: Johannes 15:1–8
Jou wens of God se wil?
As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. – Johannes 15:7
Soms het ons ’n probleem daarmee of ons maar dié dinge wat óns wil hê van God mag vra en of ons elke keer behoort te bid dat sy wil sal geskied. Wat nou daarvan as dit wat óns graag wil hê van God se wil sou verskil? As ’n mens die Bybel lees, lyk dit asof albei gebedsversoeke in orde is. Jesus, so het ons reeds gehoor, het altyd God se wil voorop gestel, maar Hy het tog ook gevra dat die lydensbeker van Hom weggeneem sal word (vgl die dagstukkie van 19 Januarie). In vandag se kernteks sê Jesus dat almal wat in Hom bly, maar met vrymoedigheid net wat hulle wil hê van Hom mag vra, en hulle sal dit kry. Maar in 1 Johannes 5:14–15 staan daar: “En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra. En aangesien ons weet dat Hy ons gebede verhoor as ons iets só vra, weet ons ook dat ons kry wat ons van Hom vra.” “[Dit] is so goed of ons het wat ons van God vra,” lui Die Boodskap se vertaling (vers 15). Die geheim is hier dat jy in Jesus moet bly en sy woorde in jou. Indien jy só naby aan Hom leef, sal jou wil ooreenstem met syne. Maak seker dat jy in Jesus bly, dan mag jy maar vra net wat jy wil hê, met die seker wete dat God dit vir jou
sal gee.
Here Jesus, ek wil van nou af in U bly. Dankie vir u belofte dat dié dinge wat ek dan van U vra in ooreenstemming met u wil sal wees. Amen.
24 Januarie – Jesus en gebed
24 JANUARIE
Lees: Markus 1:32–39
Jesus en gebed
Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan … en daar gebid. – Markus 1:35
Hoe beter jy vir God ken, hoe makliker is dit om te bid. Jesus, wat baie naby sy hemelse Vader geleef het, was dus ’n meester van gebed. Sy dissipels het gesien dat Hy dikwels na ’n eensame plek gegaan het en daar tyd gemaak het om met sy Vader te kommunikeer. Geen wonder nie dat hulle Hom vra om hulle óók te leer om te bid. Jesus vertel hulle dat hulle wanneer hulle bid, nie ’n stortvloed woorde hoef te gebruik soos die heidene doen nie, omdat God reeds hul behoeftes ken. Dan leer Hy hulle die Ons Vader: ’n eenvoudige, kort gebed waarin al die elemente van ware gebed vasgelê word. Jesus wil steeds hê dat jy op ’n gereelde wyse en op ’n plek waar jy alleen is, met Hom sal praat en Hom sal vertel dat jy Hom liefhet. Jy hoef ook nie bekommerd te wees as jy nie so “mooi” of sulke lang gebede soos van jou vriende kan bid nie. Al wat nodig is, is dat jy voor God stil sal word en dié dinge wat in jou hart is, met Hom sal deel. Hy weet alreeds presies wat jy nodig het, nog voordat jy dit van Hom kan vra. Jy kan nou sommer saam met Fénelon bid: “O Vader, gee aan u kind wat hy self nie weet hoe hy dit van U moet bid nie. Ek waag nie om te vra nie, ek bring maar net my hart na U en maak dit oop voor
U.”*
Hemelse Vader, U weet reeds presies wat ek nodig het, daarom wil ek net weer vir U kom sê hoe lief ek U het. Amen.
* Aangehaal in J Smit, Gebed
25 Januarie – Die Ons Vader
25 JANUARIE
Lees: Matteus 6:7–13
Die Ons Vader
So moet julle bid: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose. – Matteus 6:9–13
Die meeste van ons ken die Ons Vader van kleins af uit ons kop, en juis daarom loop ons gevaar om so gewoond daaraan te raak dat ons nie meer die geweldige rykheid en diepte daarvan raaksien nie, maar dit soos ’n rympie aframmel as ons die aand te vaak is om te bid. “Die Ons Vader-gebed is deel van ons groei; byna soos ’n maatstok waaraan ons telkens ons groei meet. Hoe beter ons dit verstaan, hoe helderder dit God en onsself en ons naaste in die lig bring, hoe verder het ons gegroei,” skryf Johan Smit.* Elke keer wanneer jy persoonlik die Ons Vader bid, behoort jy ’n verdieping van jou verhouding met God te beleef, omdat dit vir jou uitspel dat die almagtige Skeppergod ook jou Vader is wat jou liefhet. Daarom moet jy vra dat sy Naam geheilig sal word, sy koninkryk sal kom en sy wil op aarde sal geskied. Hierna mag jy vra dat Hy in elkeen van jou daaglikse behoeftes sal voorsien, jou oortredinge sal vergewe en jou van die Bose sal bewaar.
Vader God, dankie dat U vir my bereikbaar is. Ek bid dat u Naam geheilig sal word, u koninkryk sal kom en u wil sal geskied; dat U in my behoeftes sal voorsien, my sonde sal vergewe en my van die Bose sal bewaar. Amen.
* J Smit, Gebed, p 231
26 Januarie – Soos jy vergewe …
26 JANUARIE
Lees: Matteus 6:14–15
Soos jy vergewe …
As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.” – Matteus 6:14–15
Die tweede laaste bede van die Ons Vader lui: “en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree” (Matteus 6:12). Jy het seker reeds ontdek dat hóé jy ook al probeer om heilig te lewe, jy dit maar net nie kan regkry nie. Dat jy elke keer maar weer na God moet gaan om Hom te vra om jou sonde te vergewe. En Hy doen dit keer op keer. Maar soms is jy van jou kant nie so gretig om iemand te vergewe wat aanmekaar dieselfde oortreding teenoor jóú begaan nie – veral nie as dit iets is waaroor hy jou al voorheen om vergifnis gevra het nie. In vandag se kernverse sê Jesus iets wat aanvanklik vir my persoonlik baie onrusbarend was: as jy ander mense vergewe, sal God dieselfde met jou doen, maar as jy weier om ander te vergewe, sal God ook nie jou sondes vergewe nie. Gelukkig het God reeds jou sondeskuld vergewe, en juis omdat jy so dankbaar daaroor is, behoort jy dit ook reg te kry om dié mense wat teenoor jou sondig, van harte te vergewe. As jy bly sukkel daarmee, vra dat God dit vir jou moontlik sal maak. Onthou net, as jy iemand klaar vergewe het, behoort jy van daardie
“skuld” teen jou te vergéét, soos God met jou skuldrekening maak.
Here, vergewe my dat ek so moeilik vergewe! Maak my so dankbaar dat U vergewensgesind is teenoor my, dat ek gewillig sal wees om ander mense van harte te vergewe. Amen.
27 Januarie – Verlos my van die Bose
27 JANUARIE
Lees: 1 Petrus 5:8–11
Verlos my van die Bose
Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. Bly standvastig in die geloof en staan hom teë. – 1 Petrus 5:8–9
Die laaste bede van die Ons Vader is: “… verlos ons van die Bose” (Matteus 6:13). Een van die hoofredes waarom Christene so sukkel om te bid, is omdat die duiwel sy bes doen om ons te verhoed om dit te doen. Hy loop inderdaad soos ’n brullende leeu rond om te kyk waar daar ’n Christen op sy knieë is wat hy kan bestorm. En jy beter vir hom ligloop, want hy is baie sterker as jý. Hy het dan selfs vir Jesus in die woestyn aangedurf. Maar Jesus het hom elke keer die loef afgesteek omdat Hy die Skrif so goed geken het (vgl Matteus 4:1–11). As jy die duiwel sonder God se krag aandurf, gaan jy niks teen hom uitrig nie. Gelukkig vir jou het Jesus die duiwel reeds aan die kruis verslaan, maar hy is steeds nie ’n katjie wat jy sonder handskoene kan aanpak nie. Iemand het die mooi vergelyking gebruik dat die duiwel soos ’n leeu agter tralies is: jy moet net nie naby genoeg aan die tralies kom dat hy jou kan bykom nie. Staan hom eerder in God se krag teë, en bly bid dat God jou van hom sal verlos. Dan sal hy uiteindelik van jou af wegvlug. En onthou dat jou Bybel steeds die
doeltreffendste wapen is wat jy teen die duiwel kan gebruik – sorg dus dat jy dit goed genoeg ken om die duiwel se versoekings te troef.
Hemelse Vader, ek bid dat U my van die Bose sal verlos. Dankie dat ek u krag tot my beskikking het om die duiwel mee teen te staan. Amen.
28 Januarie – In God se teenwoordigheid
28 JANUARIE
Lees: Deuteronomium 4:1–8
In God se teenwoordigheid
Watter groot nasie se god is so by hom soos die Here ons God by ons is elke keer as ons tot Hom bid? Watter groot nasie se voorskrifte en bepalings is so billik as hierdie wat ek vandag vir julle gee?” – Deuteronomium 4:7–8
In Moses se “afskeidspreek” vertel hy die Israeliete dat hul God met hulle sal saamgaan wanneer hulle die beloofde land intrek en hulle sal lei soos wat Hy dit in die woestyn gedoen het. Hy druk dit vir hulle op die hart dat hulle God moet gehoorsaam omdat daar geen ander nasie is met ’n God wat by hulle is elke keer as hulle tot hom bid nie. Daar is ook nie nog ’n god met sulke billike voorskrifte en bepalings soos Israel se Verbondsgod nie. Ons lewe duisende jare ná Moses. Maar ons aanbid dieselfde God van Israel. En ons God is steeds naby wanneer ons bid. Jy hoef maar net jou oë toe te maak en met Hom te praat om sy teenwoordigheid by jou te ervaar. Die Engelse vertaling van vandag se kernvers lui: “What other nation is so great as to have their gods near them the way the Lord our God is near us whenever we pray to him?” (New International Version). “Gebed hoef nie altyd mooi woorde te hê nie. Gebed is ’n lewens-wyse. Gebed is om in alle omstandighede bewus te wees van God se teenwoordigheid en om
te weet: God is vir my,” skryf Ferdinand Deist.* Wanneer jy bid, mag jy weet dat God na jou luister, dat Hyself daar by jou teenwoordig is, dat die Skepper van die heelal by jóú is!
Here God, dit laat my verstand duisel dat U by my teenwoordig is elke keer as ek bid, dat U Self na my luister. Help my om aan U gehoorsaam te wees. Amen.
* Aangehaal in J Smit, Gebed
29 Januarie – Hou jou ore oop as jy bid …
29 JANUARIE
Lees: Jesaja 50:4–11
Hou jou ore oop as jy bid …
Elke môre laat Hy my opnuut weer luister, Hy laat my luister soos ’n leerling moet luister. Die Here my God het my geleer om te luister … – Jesaja 50:4–5
“Gebed is ’n gesprek tussen twee persone wat mekaar liefhet,” skryf Rosalind Rinker,* die eerste persoon in wie se boeke ek ontdek het dat gebed nie net beteken om met God te práát nie, maar dat dit ook behels dat ons na Hom moet luister. Net soos ’n gesprek nie net deur één persoon gevoer kan word nie, kan ons ook nie werklik sinvol bid voordat ons geleer het om na God te luister nie. Die teoloog Søren Kierkegaard stem saam met Rinker: “Hoe meer ek van gebed geleer het, hoe minder het ek te sê gehad. Tot ek uiteindelik stil geword het, heeltemal stil. Eers het ek gedink bid is praat; nou het ek geleer bid is nie net stilbly nie, dis luister. Bid is nie om jouself te hoor praat nie, bid is om stil te bly en te wag tot jy God se stem hoor,” is sy bydrae.** Hoe lyk jou gebede? Is dit net jyself wat aan die woord is en ’n alleenspraak lewer waarna God moet luister, of het jy al Habakuk se geheim ontdek: “Die Here is in sy heilige tempel: almal op aarde moet in sy teenwoordigheid stil wees!” (Habakuk 2:20). Jy kan nie regtig na God luister voordat jy nie eers self stil is nie. Word dus stil voordat jy begin bid: só stil dat jy van jou eie wense en
begeertes sal vergeet en net op God sal fokus. Daar in die stilte sal jy God se Stem helder kan hoor voordat jy met Hom begin praat.
Here, ek wil nou heeltemal stil word by U. Praat asseblief met my. Amen.
* Aangehaal in J Smit, Gebed ** Aangehaal in J Smit, Gebed
30 Januarie – Die krag van gebed
30 JANUARIE
Lees: Jakobus 5:13–20
Die krag van gebed
Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking. – Jakobus 5:16
Jakobus moedig die lesers van sy brief aan om vir siekes te bid. Wanneer gelowiges bid, kom God se wonderwerkende krag in beweging en skenk Hy genesing en vergifnis. “Hoe groot is die mag van gebed! Dit is soos ’n koningin wat deurentyd vrye toegang tot die koning het, en alles verkry wat sy vra,” skryf Thérèse von Lisieux.* Indien jy ooit sou probeer om ’n afspraak by ’n aardse koning te kry (wat in elk geval baie onwaarskynlik is), sou dit ’n lang, ingewikkelde proses wees. Tog is dit die maklikste ding ter wêreld om ’n spreekbeurt by die Koning van die konings te kry. Hy is 24 uur van die dag óf nag vir jou beskikbaar; jy kan op enige plek met Hom praat en weet dat Hy daar sal wees vir jou en na jou sal luister. Jy mag ook weet dat daar by Hom vir jou altyd genade en vergifnis in oorvloed te vinde is. Daar waar God se kinders saambid, is die krag van God Self aan die werk. Presies hoe groot hierdie krag is wat jou gebed ontsluit, kan jy in Efesiërs 1:19– 20 gaan lees: “Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het …” Jy het vandag God se opstandingskrag tot jou beskikking – al wat jy hoef te doen om dit te kry, is om daarvoor te bid!
Here Jesus, dis wonderlik om te weet dat ek enige plek van die dag of nag met U kan praat. Baie dankie dat u wonderwerkende krag in beweging kom deur my gebede. Amen.
* Aangehaal in J Smit, Gebed
31 Januarie – Oneindig méér as wat jy bid of dink
31 JANUARIE
Lees: Efesiërs 3:14–21
Oneindig méér as wat jy bid of dink
Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. – Efesiërs 3:20–21
God kan nog oneindig meer doen as wat jy van Hom vra in jou gebede. Hy kan vir jou oneindig méér gee as die dinge waarvoor jy bid. Selfs meer as die dinge waarvoor jy in jou wildste verbeeldingsvlugte mag wens. God is almagtig – vir Hom is niks onmoontlik nie. En omdat Hy almagtig is, weet Hy presies wat vir jóú goed is. Hy sal dus nie die dinge vir jou gee wat jy in gebed van Hom vra as dit nie voordelig vir jou gaan wees nie. Om hierdie rede kry jy ook nie alles wat jy vra nie. Jy gee immers nie vir jóú kinders roomys of lekkergoed voor ete nie. Omdat jy nie al hul versoeke toestaan nie, beteken dit egter nie dat jy hulle nie liefhet nie, eerder die teenoorgestelde: ómdat jy hulle baie liefhet, sal jy nie toestem om vir hulle dinge te gee wat jy voor jou siel weet hulle sal benadeel nie. “Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang …” nooi die skrywer van die Hebrëerboek (Hebreërs 4:16). Jesus het sy lewe gegee om dié uitnodiging vir jou te verdien.
Moenie huiwer om die uitnodiging aan te neem nie – dit is vandag steeds aan jou persoonlike adres gerig.
Here Jesus, ek wil al die eer aan U bring omdat U soveel méér as wat ek bid of dink vir my gee wanneer ek dit in gebed van U vra. Baie dankie hiervoor! Amen.
Gebed
Gebed
Hemelse Vader, Ek loof U vir die wonder van gebed: vir die voorreg om elkeen van my wense en begeertes met groot vrymoedigheid na u genadetroon te mag bring omdat U my beloof het dat U my gebede hoor en verhoor, mits dit in ooreenstemming met u wil is. Baie dankie dat U elke oomblik van elke dag vir my beskikbaar is. Leer my om eers stil te word voordat ek met U praat om net op U te fokus en fyn te luister totdat ek u Stem kan hoor … Ek wil voor U neerbuig en U aanbid; U loof vir Wie U is en vir wat U vir my doen; U dank vir elkeen van die baie seëninge wat U so oorvloedig oor my uitstort. Ek weet dat my gesprekke met U my ver-ander sodat ek al hoe nader aan U sal kom, U al hoe beter sal leer ken, en al hoe meer soos U sal word. Dankie dat ek mag bid wanneer ek swaar kry, en as ek hartseer of bekommerd is, met die seker wete dat Ú van al my probleme weet en my daarmee sal help. Ek wil U raadpleeg voordat ek enige besluite neem en elke dag u leiding volg. Dis wonderlik om te weet dat U Self by my teenwoordig is wanneer ek kniel om te bid; dat U u opstandingskrag tot my beskikking stel en nog veel méér vir my wil gee as waarvoor ek bid of aan dink. Heilige Gees, leer U my Self om te bid soos God wil hê, en neem dan my stamelende gebede reguit na God se genadetroon toe. Amen.
Februarie: Leer om God te loof!
FEBRUARIE: LEER OM GOD TE LOOF!
Dit is God se wil dat sy kinders Hom sal loof – maar soms sukkel ons om dit reg te kry; die meeste van die tyd weet ons ook nie regtig wáárvoor ons God moet loof nie. Die Boodskap se vertaling van Psalm 102:22 lui: “Oral waar mense Hom aanbid, sal die Here geprys word.” Voordat ons nie die geheim ontdek het hóé ons die Here behoort te loof nie, sal ons bly sukkel om Hom te aanbid. En voordat ons God na behore kan prys, moet ons weet Wie Hy is en besef wat Hy vir ons doen. God openbaar Hom in sy Woord. In die Bybel kry ons verskillende name van God. Hoe meer van hierdie name ons leer ken, hoe meer raak ons bewus van die eienskappe van God en hoe beter weet ons waarvoor ons Hom kan loof. In die maand wat voorlê gaan ons tyd maak om regtig te verstaan Wie God is, opnuut ontdek wat Hy alles vir ons doen en van voor af leer om Hom daarvoor te loof.
1 Februarie – Loof God vir sy liefde
1 FEBRUARIE
Lees: 1 Johannes 4:7–21
Loof God vir sy liefde
Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes. – 1 Johannes 4:9–10
Net soos ’n swanger vrou haar baba liefhet nog vóór sy geboorte, het God ons liefgehad nog voordat Hy die wêreld gemaak het. Hy kan as ’t ware nie anders nie, want God is liefde. Selfs wanneer ons soos Israel van ouds Hom by geleentheid in die steek laat, brand sy liefdesvlam vir ons steeds so hoog dat niks dit kan uitblus nie. Liefde wek altyd wederliefde. Die inisiatief van liefde kom áltyd eerste van God. Hy het ons éérste liefgehad, skryf Johannes, en daarom het ons Hóm ook lief. En God bewys hierdie liefde deur vir ons sy enigste Seun na die wêreld te stuur om in ons plek aan die kruis te sterf, sodat ons, as ons in Hom glo, eendag vir altyd mag lewe. Die heel eerste eienskap van God waarvoor jy Hom behoort te loof is dus sy liefde vir jou. Máár hierdie liefde eis ’n verantwoordelikheid van jou: soos God jou liefhet, verwag Hy van jou om ánder mense lief te hê. Onmoontlik soos dit mag klink, sal God dit vir jou moontlik maak deur sy Gees wat in jou woon.
Here God, ek loof U vir u grenslose, onverklaarbare liefde vir my; daardie liefde wat Jesus vir my aan die kruis kom demonstreer het. Maak dit vir my moontlik om ánder mense ook so lief te hê. Amen.
2 Februarie – Dimensies van die liefde
2 FEBRUARIE
Lees: Psalm 103:8–13
Dimensies van die liefde
… so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien. So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af. – Psalm 103:11–12
God se liefde vir ons is eindeloos. Dit is so groot as die afstand tussen hemel en aarde. As bevestiging van hierdie liefde onderneem God om ons sondes van ons te verwyder so ver as wat die ooste van die weste is – weer eens ’n afstand wat nie gemeet kan word nie! Ons kan God se liefde nooit met ons menseverstand begryp nie, maar ons kán en behoort Hom te loof vir die onmeetlike dimensies van sy liefde vir ons. God se liefde vir ons is onbeperk, onvoorwaardelik en volmaak. Henri Nouwen skryf dat die volmaakte liefde van ons hemelse Vader die liefde van ’n pa en ma vir hul kinders oortref.* Ons kan aan die twee hande van God wat ons omhels, dink as ’n pa en ’n ma se hande: een vertroetel, vertroos en beur op; die ander ondersteun, moedig aan en bemagtig. Gebruik gerus Nouwen se pragtige beeld van God se liefde wanneer jy Hom vir sy liefde vir jou loof. Loof Hom dat sy liefde vir jou jou in alle omstandighede sal vertroetel, vertroos en opbeur. Prys Hom dat sy liefde jou élke dag ondersteun, aanmoedig en bemagtig. Met só ’n allesomvattende liefde wat elke dag tot jou beskikking is, hoef jy nooit weer alleen te voel nie.
Hemelse Vader, ek loof U vir u onmeetlike liefde vir my – dankie dat u liefde my elke oomblik vertroos en opbeur, dat dit my aanmoedig en ondersteun elke keer as ek dit nodig mag hê. Amen.
* H Nouwen, The Way of the Heart
3 Februarie – God se liefde in jou hart
3 FEBRUARIE
Lees: Romeine 5:1–11
God se liefde in jou hart
… en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het. – Romeine 5:5
God se liefde is nie maar net een van sy eienskappe waarvoor jy Hom behoort te loof nie. Hy wil dit ook aan jou gee. As jy in Jesus glo, ontvang jy die Heilige Gees. En saam met die Heilige Gees kom God se liefde jou lewe binne. Hierdie liefde maak dat jy algaande meer en meer soos Jesus word. Jy deel mos reeds in Jesus se heel belangrikste eienskap: sy liefde en deernis vir ander! Omdat God sy liefde deur sy Heilige Gees in jou hart uitgestort het, kan jy dit nou selfs regkry om bly te wees oor die swaarkrytye in jou lewe. Hierdie swaarkry kweek immers volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop, en hierdie hoop be-skaam nooit – juis ómdat jy met God se liefde in jou hart leef (vgl Romeine 5:3–5). As jy aan God behoort, hét jy reeds sy liefde in jou hart. Hiervoor kan jy Hom nooit genoeg loof nie. Maar hierdie liefde mag jy nie vir jouself hou nie. Jy behoort jou bes te doen om God se liefde op elke terrein van jou lewe sigbaar te laat word en dit op elke moontlike manier aan ander mense deur te gee. Loof God vir sy liefde in jou hart en vra Hom om jou te wys hoe jy hierdie liefde
kan uitleef in alles wat jy doen.
Heilige Gees, ek loof U dat U reeds God se liefde in my hart uitgestort het. Wys my hoe ek moet leef sodat ek hierdie liefde kan deurgee na elke mens met wie ek in aanraking kom. Amen.
4 Februarie – Loof God vir sy skepping
4 FEBRUARIE
Lees: Genesis 1:1–31
Loof God vir sy skepping
In die begin het God die hemel en die aarde geskep … Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. – Genesis 1:1, 31
God skep die wêreld en alles daarop uit niks. In Genesis 1 word daar sewe maal gesê dat dié dinge wat God gemaak het, goed was. Hoe meer ons na die skepping kyk en die skoonheid daarvan raaksien, hoe meer redes kry ons om God te loof. Laat God toe om met jou te praat deur die wind deur jou hare, die warmte van die son op jou vel, die reuk van kanferfoelie en katjiepiering, die kleure van blomme en die aanraking van die reën. God is in álle skoonheid teenwoordig, en jy mag nooit daaraan gewoond raak nie, maar moet Hom daglank daarvoor loof. Lees Genesis 1 aandagtig deur en loof God dan vir alles wat Hy elke skeppingsdag gemaak het. Loof Hom vir die lig, vir die see en die plantegroei. Loof Hom vir die blomme en die bome, vir die son, maan en die sterre. Loof Hom vir die visse en die voëls, vir die wilde en mak diere. Leer om elke ding wat God gemaak het, raak te sien en jou daaroor te verwonder. Die psalmdigter skryf tereg dat die hemel van die mag van God getuig; dat die uitspansel die werk van sy hande bekend maak. (vgl Psalm 19:2–3).
Here God, vandag kom loof ek U vir die skoonheid van u skepping. Vir die berge en die see, vir die wolkkleure met sonsondergang en die herfswin-gerde. Vir blomme en bome en sterre. U het die wêreld wondermooi gemaak – gee dat ek nooit aan dié skoonheid gewoond sal raak nie. Amen.
5 Februarie – Loof God dat Hy jóú gemaak het
5 FEBRUARIE
Lees: Genesis 1:27–31
Loof God dat Hy jóú gemaak het
God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep. – Genesis 1:27
Van al die dinge wat God gemaak het, span die mens egter die kroon. “Soos ’n vaardige meesterbouer het God stap vir stap die heelal gemaak: die wonders van die ruimte, die prag van die natuur, die onbegryplike fyn werking van lewe. Maar al hierdie wonderlike dinge was eintlik net die voorbereiding, die gereedmaking van die verhoog vir die verskyning van die hooffiguur in die skepping: die mens,” berig Die Bybellennium.* Wanneer God die mens skep, maak Hy vir Hom ’n verteenwoordiger op die wêreld. Hy skep die mens na sy beeld. Dit beteken dat Hy van sy eienskappe in elke mens plant. Anders as diere kan mense dink en liefhê, hulle kan praat en hul emosies verwoord. Hulle kan omgee vir mekaar, mekaar vergewe en met God in ’n verhouding staan. Hulle kan tussen reg en verkeerd onderskei. Hulle kan besluite neem en dit uitvoer. Hulle kan God se kinders wees en Hom aanbid. “Omdat God só besluit het, het Hy ons deur sy woord wat waar is, as sy kinders verwek en gebore laat word. Só het dit gekom dat ons die keur van sy hele skepping is,” skryf Jakobus tereg (Jakobus 1:18, Nuwe Lewende Vertaling). Elke
mens is uniek en elke mens is vir God waardevol. Loof God dat Hy jou so wonderlik gemaak het!
Hemelse Vader, ek loof U dat ek die keur van u skepping is. Dat U my na u beeld geskep het en vir my van u eienskappe gegee het, sodat ek kan dink en droom en U kan liefhê. Maak my elke dag méér soos U. Amen.
* FJ van Rensburg en M Nel, Die Bybellennium, p 11
6 Februarie – Loof God dat Hy jou Vader is
6 FEBRUARIE
Lees: Johannes 1:9–18
Loof God dat Hy jou Vader is
Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ’n mens of die besluit van ’n man nie, maar hulle is uit God gebore. – Johannes 1:12–13
Dat die magtige Skeppergod terselfdertyd vir ons ’n Vader wil wees, is ongelooflik. Wanneer jy in Jesus glo, gee God vir jou die rég om sy kind te wees. Vir mense wat ’n swak verhouding met hul aardse pa het, is dit moeilik om God te loof as hul hemelse Vader, omdat hulle nie regtig weet wat die eienskappe van ’n goeie pa is nie. In sy Ons Vader-gebed leer Jesus sy dissipels dat God vir elkeen van sy kinders ’n Vader wil wees; ’n Vader wat hulle liefhet en vir hulle sorg; ’n Vader wat vir hulle alles sal gee wat hulle nodig het; ’n Vader wat hulle deur en deur ken en hulle nogtans, ten spyte van hul foute, liefhet. Maar vaders het nie net hul kinders lief nie – juis ómdat hulle ons liefhet, dissiplineer hulle ons ook. Soms laat God jou swaar kry omdat Hy jou in liefde dissiplineer om jou aan Hom gehoorsaam te maak. Ervaar jy al dat God jou Vader is? Dan weet jy dat Hy vir jou sal onderneem; dat Hy presies wéét wat jy nodig het en hierdie dinge vir jou sal gee; dat Hy áltyd
daar sal wees vir jou. Loof Hom sommer nou vir sy Vaderliefde vir jou!
Hemelse Vader, ek loof U dat U vir my ’n Vader is; dat ek u kind mag wees en U mag vertrou om vir my te sorg en in elkeen van my behoeftes te voorsien. Amen.
7 Februarie – Loof God dat jy deel van sy gesin is
7 FEBRUARIE
Lees: Romeine 8:14–17
Loof God dat jy deel van sy gesin is
Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid. – Romeine 8:16–17
Kinders in ’n gesinsopset het baie voorregte wat kinders wat nie aan ’n gesin behoort nie, moet ontbeer. In ’n gesin is die kinders aan die ontvangkant van hul ouers se liefde; die ouers sorg in die meeste gevalle vir ’n dak oor hul koppe, vir kos en klere en ’n opvoeding. En hulle kan ook aanspraak maak dat hulle eendag in die erfenis wat hul ouers nalaat, sal deel. Jy is Gód se kind. Die Persoon wat jou hiervan verseker, is die Heilige Gees wat in jou woon. Jy hoef dus nooit aan jou kindskap te twyfel nie. Omdat God jou Vader is, het jy dus nóg ’n baie goeie rede waarom jy Hom behoort te loof: omdat jy sy kind is, is sy liefde joune, onderneem Hy om vir jou te sorg en is jy terselfdertyd ook sy erfgenaam! Jy deel saam met Jesus in God se goedheid en jy het die versekering dat jy eendag vir altyd sal lewe en in sy heerlikheid sal deel. Dink net: jóú hemelse Vader is die Skepper van die wêreld, die Koning van die konings, die Heerser van die heersers. Die feit dat jy deel van God se gesin is, maak van jou ’n Koningskind.
Vader God, ek loof U dat ek deel van u gesin mag wees. Dankie dat ek nie net u kind is nie, maar ook u erfgenaam wat eendag die hemel in ontvangs sal kan neem. Amen.
8 Februarie – Loof God dat Jesus vir jou gesterf het
8 FEBRUARIE
Lees: Romeine 5:1–11
Loof God dat Jesus vir jou gesterf het
Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word. – Romeine 5:8–9
Alle mense is sondig en verdien dus God se straf op sonde – die dood-straf. Maar Jesus het ons so lief dat Hy gewillig was om hierdie straf in ons plek te dra. Al wat ons hoef te doen om die straf vry te spring, is om in Hom te glo en ons sonde te bely. Mense is geneig om die detail van Jesus se lyding aan die kruis weg te dink. Self kon ek Mel Gibson se fliek oor Jesus se kruisiging nie klaar kyk nie – dit was vir my net te erg dat Hy om mý ontwil so swaar moes kry. Maar Jesus se lyding aan die kruis is ’n werklikheid. Hy het God se straf op sonde vrywillig in jou plek gedra sodat jý by God kan uitkom. Hy het die skuldbewys met sy eise teen jou tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem, skryf Paulus aan die gemeente in Kolosse (vgl Kolossense 2:14). Jesus het nie net vir jou gesterf nie, maar Hy tree op die oomblik vir jou in by
God. Hy het die mag van die dood en hel vir altyd aan die kruis oorwin. In Jesus is jy nou meer as ’n oorwinnaar! Loof God daarvoor!
Here Jesus, ek loof U dat U gewillig was om God se straf op sonde in my plek aan die kruis te dra. Amen.
9 Februarie – Loof God vir die geskenk van vergifnis
9 FEBRUARIE
Lees: Prediker 7:8–22
Loof God vir die geskenk van vergifnis
Niemand doen net goed sonder om ook verkeerd te doen nie. – Prediker 7:20 (Die Boodskap)
Geen mens is volmaak nie. Almal van ons doen verkeerde dinge. Gelukkig is God bereid om sy vergifnis aan elkeen van sy kinders te skenk wat Hom daarom vra. Ons kry hierdie vergifnis gratis, maar vir God was dit peperduur: dit het die lewe van sy Seun gekos. Om vir ons God se vergifnis te verdien, moes Jesus bereid wees om ’n pynlike kruisdood te sterf. Vergifnis is dus nóg ’n klinkklare bewys dat God jou liefhet. Dat sy liefde vir jou geen grense en sy vergifnis geen perke het nie. Daarom mag jy nooit ophou om God te loof vir die geskenk van sy vergifnis nie. Vir mense is dit haas onmoontlik om soos God te vergewe. Miskien sal ons nog soos Petrus bereid wees om iemand sewe keer te vergewe, maar by Jesus se maatstaf van sewentig maal sewe sal ons nooit kan bykom nie. Tog is dit presies wat God van jóú verlang, mits jy werklik dankbaar is vir die geskenk van vergifnis wat jy van Hom ontvang het. “Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe,” skryf Paulus aan die gemeente in Kolosse (Kolossense 3:13). As jy steeds ’n stuk bitterheid teenoor iemand anders in jou
binneste koester, sal dit vir jou onmoontlik wees om geestelik te groei. Bid dat die Heilige Gees dit vir jou moontlik sal maak om van harte te vergewe.
Hemelse Vader, ek loof U dat U weer en weer bereid is om elkeen van my vergrype te vergewe. Maak my ook bereid om ánder te vergewe. Amen.
10 Februarie – Loof God vir sy vergifnis
10 FEBRUARIE
Lees: Miga 7:18–19
Loof God vir sy vergifnis
Wie is ’n God soos U? U vergewe sonde … U bly nie vir altyd kwaad nie … Hy sal ons weer genade betoon, Hy sal ons sonde tot niet maak, U sal al hulle sondes in die diepsee gooi. – Miga 7:18–19
Dit is nooit nodig om met ’n swaar las van skuldgevoelens rond te loop as jy aan God behoort nie. Jy hoef nie, omdat Jesus reeds elke kriesel van jou sondeskuld aan die kruis vereffen het. God bied jou nou onbeperkte vergifnis aan, ook al doen jy weer en weer sonde, mits jy werklik berou oor hierdie sonde het. Jy is dus rééds vergewe vir die sonde wat jy in die verlede gedoen het, God sal die verkeerde dinge wat jy vandag doen vergewe, en ook die sonde wat jy nog gáán doen, is deur Jesus se kruisverdienste gedek. “God wil hê sy vergifnis moet wees soos die lug wat ons inasem. ’n Manier van lewe. Nie net ’n eenmalige ding nie. Nie net ’n betaal-soos-jy-sondig-kwessie nie,” skryf Stormie Omartian.* God het lank tevore reeds jóú persoonlike sonde in die diepsee gegooi en besluit om nooit weer daaraan te dink nie. Dis net jyself wat nie kan ophou wroeg daaroor nie. Aanvaar dus God se onbeperkte vergifnis en loof Hom daarvoor! Wanneer die Heilige Gees jou dan weer van ’n spesifieke sonde in jou lewe bewus maak, bely dit en laat dit staan. Dis so eenvoudig soos dit. Waak net daarteen om God se vergifnis goedkoop te maak deur opsetlik te sondig omdat jy
weet dat God jou elke keer sal vergewe.
Here, hoe wonderlik is dit nie dat U u onbeperkte vergifnis tot my beskikking stel nie. Ek wil U elke dag van my lewe daarvoor loof. Amen.
* S Omartian, Gebed wat alles verander, p 73
11 Februarie – Loof God vir die Heilige Gees
11 FEBRUARIE
Lees: Johannes 14:15–25
Loof God vir die Heilige Gees
Ek sal met die Vader praat. Hy sal vir julle ’n spesiale Helper stuur. Hierdie Helper ken net een pad en dit is die pad van die waarheid. Ek praat natuurlik van die Heilige Gees. Die Gees sal julle nooit alleen los nie, maar oral by julle wees … Hy sal nie net by julle wees nie, maar ook in julle. – Johannes 14:16–17 (Die Boodskap)
Die Heilige Gees is God Self, maar Hy is ook ’n gawe wat God na die wêreld gestuur het om vir altyd by ons te wees. Hy is inderdaad ons spesiale Helper wat ons leer bid, wat ons leer en lei, wat ons troos in hartseertye en ons van sonde oortuig. Die Heilige Gees dra nie net ons gebede tot by God nie, Hy bid Sélf vir ons. Dit is ook die Heilige Gees wat ons die sekerheid in ons harte gee dat ons werklik aan God behoort. Boonop gee die Heilige Gees vir ons die vrymoedigheid én die regte woorde om God se boodskap aan ander oor te dra. Dit is ook Hy wat mense oortuig van hul sonde en Hy wat sorg dat ons al die dinge wat Jesus ons kom leer het, goed sal onthou. Soos Jesus sy dissipels beloof het, ontvang ons vandag steeds krag wanneer die Heilige Gees ons lewe binnekom, sodat ons God se getuies op die wêreld kan wees. Loof God elke dag dat jy sy Gees in jou lewe het en bid dat jy altyd gehoorsaam sal wees aan die Stem van die Gees in jou lewe.
Heilige Gees, ek loof U dat U in my woon, dat U my Helper en Trooster is en my gebede na God neem. Lei my asseblief elke dag en maak my gehoorsaam aan U. Amen.
12 Februarie – Loof God vir sy Woord
12 FEBRUARIE
Lees: Psalm 119:11–24
Loof God vir sy Woord
U Woord is diep in die brandkluis van my hart weggebêre. Dit keer dat ek dinge doen waarvan U niks hou nie. […] U Woord maak my lewe vol blydskap; dit wys my hoe om elke dag te leef. – Psalm 119:11, 24 (Die Boodskap)
In God se Woord is sy wysheid opgeteken. Hierdie Woord is ons padkaart tot ’n gelukkige lewe. Dit spel vir ons duidelik uit watter dinge reg en watter verkeerd is; dit maak God se wil aan ons bekend en wys vir ons hoe God wil hê dat ons sal lewe. Die Bybel is ook die mees doeltreffende wapen waarmee ons die duiwel elke keer op sy plek kan sit. As jy nie tyd spandeer met God se Woord en dit leer ken en bestudeer nie, maak dit geen sin om God vir sy Woord te loof nie. Is jý al bereid om die riglyne wat in jou Bybel opgeteken is te gehoorsaam? Vergeet gerus dat sommige mense meen dat die Bybel so lank gelede geskryf is dat dit nie meer relevant is vir hedendaagse mense nie. Jou Bybel is die beste plek waar jy God se Stem persoonlik kan hoor, waar jy sy teenwoordigheid kan ervaar en kan ontdek hoe Hy wil hê jy moet leef. Die Bybel leer jou ook hoe lief God jou het. “Wanneer ons God se liefdesbrief lees, kan ons sy hart van liefde beter verstaan,” skryf Stormie Omartian.*
Moenie langer aarsel om hierdie woord diep in die brandkluis van jóú hart weg te bêre nie!
Hemelse Vader, ek loof U vir u Woord waardeur U elke dag persoonlik met my praat. Dankie dat ek deur die woorde van hierdie Woord u teenwoordigheid in my lewe kan ervaar. Amen.
* Ibid, p 93
13 Februarie – Loof God vir sy goedheid!
13 FEBRUARIE
Lees: Psalm 27:11–14
Loof God vir sy goedheid!
As ek darem nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien in die land van die lewendes nie …! – Psalm 27:13
Die wêreld waarin ons woon, is so korrup en sondig, selfs die omstandighede waarin God se kinders verkeer, is soms so negatief dat ons by tye vergeet hoe goed God vir ons is. Die Here is ’n goeie God. Hy dra sy kinders se belange op die hart. Dit is nodig dat ons Hom opnuut sal loof vir sy allesoortreffende goedheid aan ons. Wanneer ek aan God se goedheid dink, onthou ek die ou beryming van Gesang 40 wat ons graag gesing het: U goedheid Heer, kan ons nie peil nie, wie word daardeur nie diep getref! Niks anders bring vir ons die heil nie, ons wil ons hart tot U verhef. Die psalmdigters het nooit God se goedheid uit die oog verloor of opgehou om daaroor te skryf nie. “Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!” verklaar Psalm 106:1. “Kom ondervind en sien self dat die Here goed
is!” nooi Psalm 34:9. God kan álle dinge, ook pyn en lyding, vir jou uiteindelik ten goede laat meewerk. “Die Here sal vir my alles goed laat afloop,” beloof Psalm 138:8. Aan hierdie beloftes kan jy vashou in krisistye. Maak ’n gewoonte daarvan om God vir sy goedheid te loof, totdat hierdie feit dat God goed is, onlosmaaklik deel word van jou lewe.
Here, u goedheid aan my gaan my verstand te bowe. Ek kan dit nooit begryp nie, maar ek het dit al soveel keer in my lewe ervaar dat ek U graag daarvoor wil loof en prys. Amen.
14 Februarie – Loof God vir sy heiligheid
14 FEBRUARIE
Lees: 1 Petrus 1:13–16
Loof God vir sy heiligheid
Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig.” – 1 Petrus 1:15–16
Wanneer ons God aanbid, behoort ons altyd van sy absolute heiligheid bewus te wees. Hierdie heiligheid moet ook óns strewe word. Omdat elke mens as sondaar gebore word, kan ons nie vanself by God uitkom nie. Ons moet eers verander, van ons sonde ontslae raak. Jesus maak dit vir ons moontlik wanneer Hy in ons plek aan die kruis sterf. En Hy kom wys boonop vir ons met sy lewe en karak-ter presies wat heiligheid beteken. Hy was ’n mens soos ons, met één uitsondering: Hy het nie sonde gedoen nie; Hy was heilig soos sy Vader heilig is. Wanneer jy jou lewe aan God oorgee, behoort jy te verander. Nou is jy ’n nuwe mens, en jy moet in die vervolg soos ’n nuwe mens leef: jou gees en gedagtes moet nuut word. “… lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig,” skryf Paulus aan die gemeente in Efese (Efe-siërs 4:24). Dit doen jy deur Jesus se voorbeeld na te streef; deur soveel moontlik van Hom uit te vind en soveel moontlik tyd in sy teenwoordigheid deur te bring. Vra sommer nou die Heilige Gees om jou bewus te maak wanneer jy verkeerde dinge doen, en bely daardie sonde dan dadelik.
God ís getrou en regverdig, Hy sal jou sonde summier vergewe.
Hemelse Vader, ek loof U dat U bereid is om elkeen van my baie sondes te vergewe en my heilig te maak. Doen dit asseblief nou vir my. Amen.
15 Februarie – Loof God vir sy krag
15 FEBRUARIE
Lees: Efesiërs 1:15–23
Loof God vir sy krag
… en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het … – Efesiërs 1:19–20
Alle krag behoort aan God. En Hy stel hierdie lewendmakende krag beskikbaar aan élkeen wat in Hom glo. Jesus het God se krag op aarde kom demonstreer toe Hy ’n storm op die see stilgemaak het, blindes laat sien, dooies laat hoor en selfs mense uit die dood opgewek het. Paulus skryf oor God se krag in sy Efesiërbrief. Dieselfde krag werk ook in óns as ons in Jesus glo, is die slotsom waartoe hy kom. Jy kan elke dag uit die krag van God leef, omdat Hy sy krag tot jou beskikking sal stel as jy Hom vra. Paulus het hierdie geheim geken. “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee,” getuig hy in Filippense 4:13. Ook jy sal alles kan regkry as jy op God se krag steun. Met ons menslike verstand kan ons nooit God se krag ten volle begryp nie. God se werk in die natuur is maar die begin van sy krag. “Maar die volle krag van sy dade, wie kan dit verstaan?” vra Job in Job 26:14. God skenk jou sy wonderwerkende krag wanneer jy daarvoor bid. Jy mag maar bid vir die openbaring van sy krag in jou lewe. Vertrou Hom dan om hierdie krag vir jou te
gee.
Here, U weet presies hoe swak en sondig ek is. Ek loof U vir die krag wat U tot my beskikking sal stel. Gee dit asseblief vir my elke keer wanneer ek dit nodig het. Amen.
16 Februarie – Loof God omdat Hy ’n doel met jou lewe het
16 FEBRUARIE
Lees: Efesiërs 2:1–10
Loof God omdat Hy ’n doel met jou lewe het
Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het. – Efesiërs 2:10
“As jy wil weet waarom jy op dié planeet geplaas is, moet jy met God begin. Jy is deur sy doel en vir sy doel gebore. Jy is deur God en vir God geskep – en die lewe sal eers sin maak as jy dit verstaan. Net in God ontdek ons ons oorsprong, ons identiteit, ons betekenis, ons doel, ons sin en ons lotsbestel. Elke ander pad is ’n doodloopstraat,” skryf Rick Warren.* Jou hoofdoel hier op aarde is om God te dien en lief te hê, om sy koninkryk uit te brei en dié dinge te doen waarvoor Hy jou bestem het. Hy het ook ’n einddoel vir sy kinders: om eendag vir altyd in die hemel saam met Hom te leef. Dit geld vir álle Christene. God het egter ook ’n spesifieke doel vir jou persoonlik. Hy gee vir jou spesifieke gawes om jou vir hierdie spesiale doel waarvoor Hy jou op aarde geplaas het, toe te rus. Jy ontdek hierdie doel deur ’n verhouding met Jesus. Sodra jy uitgevind het wat jóú spesifieke doel is, sal jou hele lewe verander en gaan jy ontdek wat dit beteken om werklik gelukkig te wees. Bid dat God Self jou spesifieke doel
aan jou bekend sal maak.
Vader, ek loof U dat U ’n doel met my lewe het. Maak my gewillig om U lief te hê en te dien, om só te leef dat ek eendag vir altyd saam met U in die hemel sal wees. Maar help my ook om vandag nog my spesifieke doel te ontdek. Amen.
* R Warren, Die doelgerigte lewe, p 15–16
17 Februarie – Loof God omdat Hy by jou is
17 FEBRUARIE
Lees: Matteus 1:22–25
Loof God omdat Hy by jou is
Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word: “Die maagd sal swanger word en ’n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons. – Matteus 1:22–23
Met die geboorte van Jesus kom God onder mense woon. En wanneer Jesus die Heilige Gees na die wêreld stuur, ervaar elke gelowige God se teenwoordigheid. Elke mens het ’n “God-shaped vacuum” in sy lewe, skryf Pascal.* Ook al ken ons God nog nie. Hierdie hunkering kan net bevredig word deur God in ons lewe in te nooi. Dawid beskryf dit pragtig in Psalm 63:2–3: “Ek soek U, o God, my God, ek dors na U; ek smag na U soos in ’n dor en droë land … Ek wil by U in die heiligdom wees …” en in Psalm 42:2: “Soos ’n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God.” Sonder God is ’n mens se lewe uitsigloos en hét jy nie ’n toekoms nie. Maar saam met Hom weet jy dat jy nooit weer alleen sal wees nie én dat jy eendag ’n vaste adres in die hemel sal hê. As jy nog nie aan God behoort nie, moenie langer wag om jou hart en lewe aan Hom oor te gee nie. Hy is die enigste Een wat die verlange in jou hart kan stil maak en jou met Homself kan vul, sodat sy rus en vrede vir altyd jou lewe sal binnekom.
Here Jesus, ek loof U dat U God by my is en dat u Heilige Gees in my woon. Dankie dat U my nooit sal verlaat nie; dat ek my elke dag in u teenwoordigheid mag verlustig. Amen.
* Pascal
18 Februarie – Loof God omdat Hy lig is
18 FEBRUARIE
Lees: Jesaja 60:17–20
Loof God omdat Hy lig is
Bedags sal dit nie die son wees wat vir jou lig gee nie, snags sal dit nie die maan wees wat oor jou skyn nie: die Here sal vir jou ’n ewige lig wees, en jy sal roem in jou God. – Jesaja 60:19
“… God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie,” skryf Johannes tereg (1 Johannes 1:5). Wanneer ons omstandighede by tye maak dat ons in geestelike donkerte verkeer, sal God steeds vir ons ’n lig wees. As Johannes van God se nuwe wêreld vertel, skryf hy dat die nuwe Jerusalem nie die son en die maan as ligte nodig sal hê nie, want die heerlikheid van God sal dit verlig (vgl Openbaring 21:23). Omdat God lig is, roep Hy sy kinders uit die sondedonkerte van die wêreld na sy lig. Meer nog, Hy maak van ons óók ligte. Ligte vir die wêreld, sodat ons so sal kan leef dat ander mense uit ons dade ons lig sal kan sien en Hom sal verheerlik. Kan mense wat na jou leefwyse kyk al sien dat jý ’n lig vir die wêreld is en God vir jou loof? In sy Bergrede sê Jesus dat ons goeie werke vir almal sigbaar behoort te wees. Ligmense gee om vir ander, ligmense help waar hulle kan; ligmense moet ook naby die Ligbron bly, want óns lig is maar net ’n weerkaatsing van God se lig. Lewe só dat jy op hierdie wêreld ’n lig vir God sal wees en loof Hom elke dag dat Hy jou lig is.
Hemelse Vader, ek loof U dat U vir my ’n lig in donker tye is. Maak my ’n lig vir U, sodat mense wat na my lewe kyk, vir U kan verheerlik. Amen.
19 Februarie – Loof God omdat Hy jou positief laat dink
19 FEBRUARIE
Lees: Filippense 4:1–9
Loof God omdat Hy jou positief laat dink
Weet julle waaraan julle moet dink in plaas daarvan om julle te sit en bekommer? Dink aan dit wat vir God saak maak, dinge wat ordentlik en reg is, dinge waaraan God sal dink en waarvan Hy sal hou, dinge wat God sal sê goed is. Moenie julle tyd mors om aan allerhande nuttelose dinge te sit en dink nie. – Filippense 4:8 (Die Boodskap)
Ek betrap myself dikwels dat ek negatiewe dinge dink nadat ek die dag se koerant deurgelees het en my vergewis het van al die misdaad en skelmstreke wat deesdae so volop is. Boonop hou ek hierdie negatiewe gedagtes nie vir myself nie, maar deel hulle met almal wat wil luister! Maar ek besef óók dat dit presies is wat die duiwel wil hê. Negatiewe gedagtes en gesindhede het groot krag; dit kan ’n mens se hele lewe negatief beïnvloed. Die enigste manier hoe ons van hierdie negatiewe gedagtes ontslae kan raak, is om God te vra om ons te verander, om ons nuut te leer dink, sodat ons van nou af nuut kan leef. Moenie langer jou tyd mors om negatief te wees oor die toekoms of deur jou oor allerhande dinge te bekommer nie. Bespreek jou bekommernisse eerder met God en vra Hom om jou negatiewe gevoelens deur positiewes te vervang. Dink aan dié dinge wat vir Hom saak maak, waarvan Hy sal hou, wat vir Hom goed is. Dan sal Filippense 4:9 in jou lewe waar word sodat jy veilig en gelukkig by God
sal voel.
Here God, ek loof U dat U dit vir my moontlik maak om positief te dink en U vir die toekoms te vertrou. Ek weet dat mense wat op U vertrou, nooit teleurgestel sal word nie. Amen.
20 Februarie – Loof God omdat Hy vrede bring
20 FEBRUARIE
Lees: Filippense 4:1–9
Loof God omdat Hy vrede bring
Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. – Filippense 4:6–7
Daar is baie dinge om ons wat ons bang maak. As hierdie vrese te lank aanhou, verander hulle in angstigheid, en volgehoue angstigheid maak ’n mens mettertyd moedeloos en depressief. Die Bybel vertel ons egter baie duidelik wat ons met ons bekommernisse en angstigheid moet doen. As ons hulle na God neem, sal Hy hulle verruil vir sy vrede “wat alle verstand te bowe gaan,” en hierdie vrede sal oor ons harte en gedagtes die wag hou. Jy behoort te leer om God te loof die oomblik wanneer jy vrees en angs ervaar. Loof Hom omdat Hy die Koning van vrede is wat nie net vir jou vrede in jou eie lewe waarborg nie, maar dit vir jou moontlik maak om in vrede met God én ander mense te lewe. Vra Hom ook om jou te help om vrede met jou eie foute te maak en bid vir vrede oor die dinge wat in die verlede met jou gebeur het waaroor jy steeds stres. “Wanneer jy God loof ten spyte van jou angs, vrees en moedeloosheid, maak jy die kanale oop waardeur God se vrede, liefde en bemoediging deur jou vloei. Dit is die verborge krag van lofpry-sing,” skryf
Stormie Omartian.*
Vader God, ek loof U dat U die Koning van vrede is wat my onrus en angstigheid kom verruil vir u vrede en rustigheid. Help my om ’n vredemaker te wees, sodat u vrede deur my na ander sal vloei. Amen.
* S Omartian, Die gebed wat alles verander, p 190
21 Februarie – Loof God vir sy vertroosting
21 FEBRUARIE
Lees: Psalm 94:16–23
Loof God vir sy vertroosting
Toe ek gedink het my voete gly, het u troue liefde my regop gehou, Here. Toe ek met baie onrus in my binneste sit, het u vertroosting my tot rus gebring. – Psalm 94:18–19
Niemand kan deur die lewe gaan sonder om verlies te ervaar nie. En verlies en swaarkry laat ons soms ver van God voel. Eintlik behoort die teenoorgestelde waar te wees; in tye van hartseer en verlies kan jy maar net na God gaan om getroos te word. Hy is altyd daar vir jou, en daar is niemand wat jou so liefhet en so goed verstaan soos Hy nie. Selfs al word alle ánder dinge van jou weggeneem, sal jy nog steeds vir God oorhê; dit is juis dan wanneer jy gaan ontdek dat Hy genoeg is, dat jy geen ander troos benodig as juis syne nie. “Wees seker daarvan dat God kan troos soos niemand anders nie; dat Hy jou trane sal afvee, en voordat jy nog roep, sal antwoord,” skryf Adam Bartmenthlo.* Nadat jy deur God getroos is, gebeur daar iets met jou: dan word jy deur jou ervaring van verlies toegerus om ook ’n trooster vir ander te wees wat deur dieselfde trauma as jy gaan. Om iemand anders te troos wat hartseer is of ’n verlies gely het, is een van die belangrikste maniere waarop jy vir ander mense kan omgee. Loof God dat Hy altyd daar is om jou te troos, en loof Hom ook omdat Hy deur jou stuk verlies van jou ’n trooster gemaak het.
Here, ek loof U dat U my Self troos elke keer as ek hartseer is. Dankie dat U my deur my eie verliese geleer het om self ’n trooster vir ander te wees. Amen.
* A Bartmenthlo
22 Februarie – Loof God op jou siekbed
22 FEBRUARIE
Lees: Psalm 30
Loof God op jou siekbed
Ek wil u lof verkondig, Here, want U het my gered en my vyande nie laat bly wees oor my nie. Here my God, ek het na U geroep om hulp en U het my gesond gemaak. – Psalm 30:2–3
God kan alle siektes genees. Dis maklik om God vir genesing te loof, maar dit is sy wil dat ons Hom ook sal loof terwyl ons nog siek is. Toe ons seun in 2009 met kanker gediagnoseer is, het baie mense saam met ons gebid dat hy gesond moes word. En ons is baie dankbaar dat hy genees is. Maar dit gebeur nie altyd so nie. As jy daarin kan slaag om God te bly loof wanneer jy siek is, is jy ’n veel sterker getuie van sy almag as wanneer jy gesond is. Een van my vriendinne is in Februarie 2010 aan kanker oorlede. God het haar nie genees nie, maar die manier waarop sy haar siekte hanteer het, het ons sprakeloos gelaat. Sy het altyd geglimlag, was altyd positief, en het altyd aan haar geloof in en liefde vir God vasgehou. Sy was wel by tye hartseer en moedeloos, maar hierdie negatiewe gevoelens het nooit lank aangehou nie. Die laaste week van haar lewe was sy rustig en kalm. Wanneer jy siek is en nie gesond word nie, kan jy (altyd met sy krag tot jou beskikking) aanhou om God te loof omdat jy weet dat die hemel vir jou wag – en
daar sal alle swaarkry en siekte vir altyd verby wees.
Vader, ek loof U dat U alle siektes kan genees, maar ek weet dat U dit nie altyd doen nie. Maak my gewillig om U te bly loof, ook wanneer U nie my siekte gesond maak nie. Amen.
23 Februarie – Loof God vir onbeantwoorde gebede
23 FEBRUARIE
Lees: Kolossense 4:2–6
Loof God vir onbeantwoorde gebede
Volhard in die gebed! Wees daarby waaksaam en dankbaar en bid tegelykertyd ook vir ons. Bid dat God vir ons ’n deur vir die woord oopmaak sodat ons die geheimenis van Christus kan verkondig … – Kolossense 4:2–3
Ek meen dit is dr Anton Rupert wat gesê het een van die dinge waar-oor hy die blyste is, is dat God nie al sy gebede beantwoord het nie. Wanneer ’n mens lank oor ’n spesifieke saak bid en die Here antwoord nie hierdie gebed nie, voel dit soms asof Hy ver is, nie vir jou omgee nie en nie meer na jou gebede luister nie. As jy dit in so ’n situasie kan regkry om God steeds te bly loof omdat jy weet dat Hy verder as jý kan sien en glo dat Hy altyd vir jou die dinge sal gee wat die beste vir jou sal wees, ongeag van wat jy gevra het, sal jou moedeloosheid verdwyn. Dan sal jy op God se almag en sy liefde vir jou kan fokus, in plaas van op jou negatiewe omstandighede en onbeantwoorde gebede. Soms laat God jou wag op sy antwoord. Wees rustig in hierdie wagperiode en onthou altyd dat God se tydsberekening volmaak is. Dikwels gee Hy nié vir jou al die dinge wat jy vra nie, omdat Hy weet dat dit nie goed vir jou sal wees nie. As God nie jou huidige gebedsversoek toestaan nie, berus in sy antwoord. Jy sal heel waarskynlik na verloop van jare ontdek dat dit toe wel die beste antwoord vir jou was.
Vader, vandag wil ek U kom loof dat U nié altyd al my gebede verhoor nie. Dankie dat ek weet dat die antwoord wat U wel gee, altyd die heel beste een vir my sal wees. Amen.
24 Februarie – Loof God in krisistye
24 FEBRUARIE
Lees: Jakobus 1:2–8
Loof God in krisistye
My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. – Jakobus 1:2–3
Daar gebeur rampe met almal van ons wat vir ons só sleg is dat dit ons soms selfs laat twyfel of God nog by ons is; of ons steeds op sy beloftes kan vertrou. Ook in sulke krisissituasies behoort jy aan jou geloof vas te hou en in God se goedheid en liefde te bly glo. Wanneer jy ten spyte van krisisse daarin slaag om God te bly loof vir die feit dat Hy by jou is en jou altyd weer sal help, sál Hy jou ondersteun in jou krisis, jou omstandighede verander of vir jou van krag voorsien om die ramp te kan hanteer. Jakobus het ontdek dat ons gerus maar bly kan wees oor ons lewens-krisisse, want wanneer ons geloof die toets deurstaan het, is dit juis daardie stuk swaarkry wat ons in staat stel om te volhard, om meer geduld aan die dag te lê. Dit is oor en oor bewys dat lyding in ons lewe ons leer om vaster op God te vertrou, om nie langer so behep met onsself en ons selfsugtige begeertes te wees nie, maar om God se groter plan vir ons lewe raak te sien. Indien jy tydens ’n krisis in jou eie lewe ontdek dat jy nie self daardie krisis kan
oplos nie, en God se hulp vra, gaan jy uiteindelik vind dat dit juis dié krisis was wat jou geloof, geduld en liefde vir God sterker gemaak het.
Vader, ek loof U vir krisisse in my eie lewe omdat hulle my opnuut op U laat fokus het en my geloof versterk het. Amen.
25 Februarie – Loof God vir sy volmaakte wil
25 FEBRUARIE
Lees: Kolossense 1:9–14
Loof God vir sy volmaakte wil
Daarom, van die dag af dat ons dit van julle gehoor het, hou ons ook nie op om vir julle te bid nie. Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle sy wil duidelik sal laat ken … – Kolossense 1:9
Die Bybel vertel ons in duidelike taal wat God se wil vir sy kinders is: dat ons Hom en mekaar sal liefhê, dat ons in alles dankbaar behoort te wees en gedurig sal bid; dat ons Hom sal gehoorsaam en in Hom sal glo. Indien jy graag God se spesifieke wil vir jou lewe wil ken, is dit nodig dat jy, soos Paulus vir die gemeente in Kolosse gedoen het, daarvoor sal bid. Dit beteken terselfdertyd dat jy gewillig moet wees om God se wil te gehoorsaam én om jou eie wil prys te gee, indien nodig. Die Bybel beloof voorts dat ons dié dinge sal kry wat ons vra, mits dit volgens God se wil is. Jy kan dus vir spesifieke dinge bid: of jy die nuwe werksaanbod moet aanvaar, na ’n ander plek moet trek of ’n spesifieke huis moet koop. Om God se wil te doen, is nie altyd lekker of maklik nie – dit gaan heel waarskynlik opofferings of selfs lyding van jou vra, soos Jesus ontdek het toe Hy in Getsemane gebid het dat God se wil moet geskied. Maar ’n kind van God kan nooit werklik gelukkig wees buite God se wil nie. Jy kan God dus vir sy volmaakte wil loof, selfs al verskil dit soms van joune.
Hemelse Vader, ek loof U dat ek kon ontdek dat u wil vir my altyd die beste vir my is, selfs al stem dit nie altyd ooreen met my eie sin en wil nie. Amen.
26 Februarie – Loof God vir sy beskerming
26 FEBRUARIE
Lees: Psalm 91:11–16
Loof God vir sy beskerming
Hulle [God se engele] sal jou veilig in hulle hand vashou sodat jy nie seerkry nie. Jy sal nie eers jou toon teen ’n klip stukkend stamp nie …Van een ding kan jy baie seker wees: as jy op die Here vertrou en elke dag op sy hulp staatmaak, sal nie eens die grootste gevare in die lewe jou ooit onderkry nie. – Psalm 91:12–13 (Die Boodskap)
God belowe in sy Woord dat Hy sy kinders sal beskerm en Hy doen hierdie belofte gestand. Ons gesin kan getuig van minstens twee gevalle dat ons wonderbaarlik ’n ongeluk vrygespring het. Beide kere het ’n motor voor ons ’n ander motor op ’n blinde hoogte verbygesteek, en beide kere sou dit ons reg van voor getref het. Maar albei kere het my man daarin geslaag om ons motor betyds uit die pad te ruk sodat ons ongedeerd in die veld te lande gekom het. Ten tyde van die Wêreldsokkerbeker in Suid-Afrika was ons ook bekommerd of God se belofte van beskerming sou geld vir al die niksvermoedende toeriste wat ons land besoek het. Maar daar was verbasend min gevalle van misdaad en die meeste besoekers is met mooi herinneringe terug huis toe. Jy mag dus vir God loof dat Hy jou sal beskerm, dat Hy jou elke dag veilig sal bewaar sodat jy nie sal seerkry nie. Ook in gevaarsituasies kan jy op sy bewaring staatmaak. Vra Hom om hierdie bewaring elke keer as jy iewers heen gaan of as
jy in ’n motor of op ’n vliegtuig klim. Bid ook elke oggend vir bewaring deur die dag. Neem Hom dan op sy Woord en los jou bekommernis tuis.
Here, ek loof U vir die belofte dat U my sal beskerm waar ek ook al mag gaan, dat U my teen alle gevare sal bewaar. Amen.
27 Februarie – Loof God vir oorwinning oor die duiwel
27 FEBRUARIE
Lees: 1 Petrus 5:8–11
Loof God vir oorwinning oor die duiwel
Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. Bly standvastig in die geloof en staan hom teë. – 1 Petrus 5:8–9
Hier op aarde sal God se kinders altyd in ’n oorlog teen die Bose gewikkel wees. Ook jy het ’n vyand wat rondloop soos ’n brullende leeu en jou ondergang om elke hoek en draai soek. Hoe gouer jy dit besef, hoe beter sal dit vir jou wees. Hierdie vyand is die duiwel. Die slegte nuus is dat hy baie sterker as jy is. Die goeie nuus is dat jy vir God aan jou kant het, en saam met Hóm, in sy krag, sal jy altyd as oorwinnaar uit die stryd teen die duiwel tree. Hierdie oorlog waarin jy gewikkel is, is ten diepste ’n saak vir God. Hy veg vir jou en in Efesiërs 6:10–17 gee Hy ook vir jou ’n wapenrusting waarmee jy die vyand kan verslaan. Lees hierdie Skrifgedeelte noukeurig en volg Paulus se raad aan die einde: “Doen dit alles biddend …” (Efesiërs 6:18). Sonder om te bid dat God jou teen die Bose se aanslae sal beskerm, gaan jy nie ver vorder in jou stryd teen die duiwel nie. Wees ook slaggereed vir die duiwel se aanslae, want hierdie oorlog gaan duur totdat Jesus weer kom. Deur naby die Here te leef en Hom te loof omdat Hy elke keer vir jou die oorwinning in die stryd teen die Bose sal gee, kan jy die duiwel se houvas op jou
verbreek en meer as ’n oorwinnaar wees.
Hemelse Vader, ek loof U dat U elke dag by my is en my telkens as oorwinnaar in die stryd teen die Bose laat seëvier. Amen.
28 Februarie – Loof God vir sy voorsiening
28 FEBRUARIE
Lees: Genesis 22:6–14
Loof God vir sy voorsiening
Toe noem Abraham die plek: “Die Here voorsien.” Daar word nou nog gesê: “Op die berg van die Here word voorsien.” – Genesis 22:14
Wanneer God vir Abraham ’n verpletterende opdrag gee – dat hy die seun vir wie hy so lank moes wag aan Hom moet gaan offer op die berg wat Hy vir hom sal aanwys – gehoorsaam Abraham sonder ’n woord. Hy neem Isak saam met hom en vertrek na Moria. As Isak op pad vra waar die offer dan is, antwoord Abraham dat God Self die offer sal voorsien. En dit gebeur dan ook só. Die Here stuur ’n skaapram wat Abraham in die plek van sy seun kan offer. Hy wou net Abraham se gehoorsaamheid en geloof toets. Uiteindelik bring jou tragedies en verliese jou altyd nader aan God. Eers nadat Job alles verloor het, kon hy erken: “Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien …” (Job 42:5). God voorsien inderdaad wonderlik vir Job en seën hom selfs meer aan die einde van sy lewe as aan die begin. Mense is geneig om hul geld en goed op te gaar omdat niks op aarde standhoudend is nie. Máár indien jy glo dat God vir jou sal voorsien – soos Hy nog altyd in die verlede vir sy kinders gedoen het – is dit onnodig. Indien jy
Hom vertrou om vir jou in die toekoms te sorg, sal sy liefde jou dra en sal Hy in elke opsig vir jou onderneem. Ook al verloor jy alles, sal jy nog altyd vir God oorhê – en Hy is genoeg.
Here, ek loof U dat U tot nou toe nog in elkeen van my behoeftes voorsien het. Ek vertrou dat U dit ook in die toekoms sal doen. Amen.
29 Februarie – Loof God saam met jou mense
29 FEBRUARIE
Lees: 1 Johannes 4:11–21
Loof God saam met jou mense
Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik … God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom. – 1 Johannes 4:12, 16
Daar is ’n Engelse gesegde wat lui: “Families who pray together, stay together.” Dit is nie net nodig dat Christene God vír ons gesinne sal loof nie, maar ook dat ons Hom sáám met ons gesinne sal loof, dat ons gereeld as gesin bymekaar sal kom om uit die Bybel te lees en saam te bid. Wanneer ons dit doen, is daar ’n onmiddellike verbete-ring in die verhoudings in die huis. Self het ek al dikwels ontdek hoe geheg Christengesinne aan mekaar is. Die liefde tussen hulle kan aangevoel word, terwyl gesinne wat God nie ken nie, maklik verbrokkel en daar baie maal konflik tussen gesinslede is. Jou kinders moet van kleins af weet dat jy God liefhet en dien. Sorg dat daar in jóú huis afgebakende tye is wanneer jou gesin saam kan aanbid. Lees saam Bybel, bid saam en sing saam. (As julle nie so goed kan sing nie, sing dan saam met ’n CD of DVD.) Geestelike musiek verander die atmosfeer van ’n huis. Dit is ook makliker om mekaar lief te hê en te aanvaar as julle as gesin God gereeld saam loof. “As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs,” lui Psalm 127:1. Net wanneer God Self jul huisgesin “bou”, sal julle
’n gelukkige gesin wees.
Hemelse Vader, ek loof U vir my huisgesin. Maar ek wil U ook sáám met hulle loof en eer vir u goedheid en liefde aan ons. Amen.
Gebed
Gebed
Here God, ek wil U kom loof vir u onvoorwaardelike liefde vir my wat Jesus aan die kruis kom demonstreer het. Dankie dat hierdie liefde my vertroos en ondersteun. Maak dit vir my moontlik om u liefde deur te gee aan elke mens met wie ek in aanraking kom. Ek loof U vir die skoonheid van u skepping wat ek elke dag mag ervaar – laat dit vir my steeds ’n wonder bly. Dankie dat U my so wonderlik gemaak het en dat ek u beeld mag uitdra. Ek loof U dat U vir my ’n Vader is; dat ek nie net u kind is nie, maar ook u erfgenaam; dat Jesus in my plek gesterf het sodat U nou bereid is om elkeen van my sondes te vergewe. Ek loof U vir u Gees wat my help, troos en leer bid. Dankie vir u Woord wat my lewe met vreugde vul en waardeur U met my praat. Ek loof U vir u goedheid aan my, vir die feit dat U my heilig, vir u wonderwerkende krag tot my beskikking. Ek loof U omdat U ’n spesifieke doel met my lewe het – elke oomblik by my is, my positief laat dink en vir my vrede gee. Dankie dat U my in staat stel om U te bly loof ook wanneer dit nié goed gaan nie: wanneer ek siek of hartseer is, in ’n krisis verkeer en wanneer my gebede onbeantwoord bly … Ek loof U vir u beskerming en voorsiening; vir my gesin en die feit dat ons U sáám mag loof. Aan U kom al die lof toe! Amen.
Maart: Deur die bril van swaarkry
MAART: DEUR DIE BRIL VAN SWAARKRY
“Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien,” skryf Job ná sy swaarkry-ervaring (Job 42:5). Job se stuk swaarkry laat hom God op ’n nuwe manier beleef, vir die eerste keer “sien” hy God ánders; voorheen was sy geloof blote hoorsê – dit het nie eintlik vir hom so baie beteken nie, maar die swaarkry maak dat hy Hom persoonlik leer ken. Dit is juis in tye van teenspoed dat ons God op ’n ánder, meer persoonlike manier leer ken, dat ons oomblik vir oomblik met Hom in kommunikasie is en helder besef dat ons nie sonder Hom die mas kán opkom nie. Maar terselfdertyd maak die bril van swaarkry dit vir ons moontlik om God se goedheid en genade op ’n splinternuwe manier raak te sien: nie as ’n God wat ver is nie, maar as ’n God wat in ons woon, wat elke dag tot ons beskikking is en ons nooit sal verlaat nie. Mag jy na hierdie maand se dagstukke vir God glashelder kan sien wanneer jy in die vervolg weer genoodsaak word om deur jou eie bril van swaarkry na Hom te kyk.
1 Maart – Swaarkry laat jou beter sien!
1 MAART
Lees: Job 36:15–21
Swaarkry laat jou beter sien!
Maar deur hulle swaarkry, red Hy mense wat ly. Want Hy gebruik hulle lyding om hulle oë oop te maak … Wees waaksaam! Draai weg van die kwaad! God het juis swaarkry oor jou gestuur om jou weg te vat van sonde. – Job 36:15, 21 (Nuwe Lewende Vertaling)
Elihu vertel Job dat die Here sy lyding gebruik om sy oë oop te maak en hy waarsku hom om in die vervolg waaksaam te wees en die kwaad te vermy. Job sluk maar swaar aan hierdie raad. In sy eie oë verdien hy darem hoegenaamd nie dat God hom so swaar moet straf nie. Die psalmdigter stem egter saam met Elihu. In Psalm 119:71 getuig hy dat sy eie swaarkry vir hom goed was, omdat dit hom gehoorsaamheid aan God se voorskrifte geleer het. Job self kom óók tot ander insigte wanneer God hom op ’n wandeling deur sy wêreld ’n kykie in sy grootheid en almag gee. In Job 42:3 en 5 bely hy: “Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie: u wonderdade was te groot vir my, ek het dit nie verstaan nie … Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien …” Dit is juis Job se swaarkry wat hom weer by God uitbring. Lyding is baie maal vir ons óók ’n “eye-opener”! Wanneer jy swaar kry, leer jy
algaande om God te gehoorsaam, en leef jy boonop veel nader aan Hom as in dié tye wanneer alles net voor die wind gaan. As jy weer ’n swaarkrytyd beleef, vra dat God jou sal wys wat Hy jou daardeur wil leer.
Here, ek besef nou dat my lyding my nie net nader aan U bring nie, maar dat dit my oë oopmaak, sodat ek U beter kan leer ken. Amen.
2 Maart – God voorsien in jou behoeftes
2 MAART
Lees: 1 Konings 17:1–6
God voorsien in jou behoeftes
Hy [Elia] het gedoen soos die Here aan hom opgedra het. Hy het daar in Kritspruit gaan bly, anderkant die Jordaan. Die kraaie het vir hom soggens brood en vleis gebring en hulle het vir hom saans brood en vleis gebring, en hy het water uit die spruit gedrink. – 1 Konings 17:5–6
God stuur kraaie om die profeet Elia van kos te voorsien. God se hulp kom dikwels uit onverwagte oorde. Elia het seer sekerlik nie verwag dat God op so ’n vreemde manier sou sorg dat hy genoeg kos sal hê om te eet nie. Indien jy finansieel swaar trek op die oomblik, mag jy maar met vrymoedigheid bid dat God vir jou sal voorsien. Miskien gaan Hy dit ook op vreemde maniere en deur vreemde mense doen. Neil Verwey, ’n sendeling in Japan, vertel dat hulle eenkeer vir hul kleinseuns Themde wou koop, maar nie geld gehad het om daarvoor te betaal nie. In die winkel waar hulle na die T-hemde gaan kyk het, het sy vrou ’n pragtige jas aangepas, wat sy heel goed geweet het dat hulle nooit sou kon bekostig nie. Sy kry toe ’n dik rol note in een van die jassakke. Toe hulle hierdie geld aan die winkelbestuurder oorhandig, het hy vir hulle ’n beloning gegee wat oorgenoeg was om vir die kleinseuns se T-hemde te betaal.
Vertrou God om te alle tye vir jou te sorg. Hy onderneem om in elke behoefte van sy kinders te voorsien. “En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus,” beloof Paulus die gemeente in Filippi (Filippense 4:19). Hy wil dit vandag ook vir jou doen.
Here, ek loof U dat U nog altyd in elkeen van my behoeftes voorsien het. Amen.
3 Maart – Saam met Elia onder die besembos
3 MAART
Lees: 1 Konings 19:1–8
Saam met Elia onder die besembos
Elia het bang geword en ter wille van sy lewe gevlug. Toe hy by Berseba in Juda kom, het hy sy slaaf daar agtergelaat. Hy self het egter ’n dagreis ver die woestyn in gegaan. Daar het hy onder ’n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood. Hy het gesê: “Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie.” – 1 Konings 19:3–4
Elia leer maar moeilik om God voluit te vertrou. Nadat God ten tye van die hongersnood vir hom gesorg het en hy boonop die wonder beleef het dat God vuur uit die hemel gestuur het om sy offer te verbrand terwyl die Baälprofete tevergeefs na húl god geroep het (1 Konings 18), is hy al weer op moedverloor se vlakte. Hy vlug as Isebel beloof om hom dood te maak en gaan sit onder ’n besembos in die woestyn, waar hy wens om dood te gaan. Gelukkig los God hom nie daar nie. Hy stuur ’n engel om vir Elia kos te bring en hom te bemoedig. Hierna kon hy tot by die berg Horeb stap, waar God Self aan hom verskyn het. Soms voel óns ook daarna om onder ’n besembos in te kruip en vir God te sê dat ons nou genoeg gehad het. Is dit dalk vandag met jou die geval? Dit is juis nou dat jy God sal vind op die plek waar jy Hom die heel minste verwag. God wil vandag vir jou soos vir Elia kom wys dat Hy jou nie vergeet het nie, Hy wil jou
versterk sodat jy weer kans sal sien om aan te gaan.
Vader, dankie dat U my elke keer onder my geestelike besembos kom uithaal en my weer nuwe krag gee. Amen.
4 Maart – Hou moed!
4 MAART
Lees: Handelinge 27:18–26
Hou moed!
Dae lank was die son en die sterre nie te sien nie en het die geweldige wind voortgewoed. Uiteindelik het ons alle hoop laat vaar om gered te word. Nadat hulle ’n lang tyd nie meer geëet het nie, het Paulus tussen hulle gaan staan en gesê: “… selfs in hierdie omstandighede vra ek julle: Hou moed! Niemand van julle sal sy lewe verloor nie.” – Handelinge 27:20–22
’n Geweldige storm op see maak dit feitlik onvermydelik dat die skip waarmee Paulus op pad Rome toe is, sal vergaan. Die matrose gooi sommer dadelik tou op – hulle hou veertien dae lank op met eet omdat hulle alle hoop laat vaar het dat hulle sal oorleef. Maar Paulus praat hulle moed in: hulle hoef nie moed te verloor nie; die God wat hy aanbid, het hom verseker dat almal lewendig daar sal uitkom, sê hy vir hulle. En God kom die belofte na wat Hy aan Paulus gegee het: al die asiers het veilig aan land gekom, alhoewel die skip vergaan het. As daar ooit in jou eie lewe ’n “storm” woed wat jou wil laat moed opgee, selfs wanneer jy meen dat dinge nooit weer beter sal kán gaan nie, mag jy vashou aan God se beloftes in sy Woord. Hy kán en sál jou help, al laat Hy jou soms wag op uitkoms. God is ten volle in beheer van jou omstandighede. En buitendien leef jy mos met die hoop dat Jesus nou reeds besig is om jou plek in die hemel gereed te maak. Al gaan dit op aarde ook hóé sleg met jou, is die feit dat jy ’n Christen is
genoeg om jou hoop helder te hou – in álle omstandighede!
Here Jesus, dankie dat U dit vir my moontlik maak om ten spyte van my omstandighede nooit moed te verloor nie, omdat ek weet dat U vir my die hemel beloof. Amen.
5 Maart – As jy moed verloor het
5 MAART
Lees: Psalm 34
As jy moed verloor het
Dié wat swaar kry, sien op na Hom en straal van blydskap … Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses. – Psalm 34:6, 19
Gister het jy gehoor dat ’n mens nooit moed hoef te verloor as jy aan God behoort nie. Maar in die praktyk werk dit nie altyd so nie. Soms is jy sielsmoedeloos ten spyte van jou geloof, ten spyte van die feit dat jy weet dat dit onnodig is. In dié geval mag jy maar wéét dat God naby die gebrokenes is, dat Hy die moedeloses help – Hy wil dit vandag ook vir jou doen! Maar dan is dit nodig dat jy na God sal kyk, na Hom sal “opsien”, soos vandag se kernvers van jou vra. Hy maak dit selfs vir jou moontlik om ten spyte van jou swaarkry en gevoel van moedeloosheid van blydskap te straal. Paulus gee aan die gemeente in Korinte ’n onfeilbare resep teen moedeloosheid wat jy gerus kan beproef: “Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly” (2 Korintiërs 4:16–17). Wanneer die moedeloosheid jou weer wil oorval, gaan lees en herlees hierdie teksvers en neem die belofte daarin vir jou: God vernuwe jou dag vir dag; jou huidige swaarkry is maar net tydelik en eendag sal dit vir jou uitloop op
’n heerlikheid wat vir altyd sal bly!
Here God, ek loof U dat U ten spyte van my moedeloosheid naby my is. Laat my weer van blydskap straal omdat ek aan u belofte vashou dat my swaarkry eendag in heerlikheid omgesit sal word. Amen.
6 Maart – Vertel God van jou moedeloosheid
6 MAART
Lees: Psalm 142
Vertel God van jou moedeloosheid
Ek roep tot die Here; ek pleit om die Here se genade. Ek stort my klagtes uit voor Hom en vertel Hom van my kwellinge. Wanneer ek moed verloor, dan ken U my pad. – Psalm 142:2–4 (Nuwe Lewende Vertaling)
Die digter van hierdie psalm weet presies wat hy behoort te doen wanneer hy die slag moed verloor het: hy vertel vir God die redes vir sy moedeloosheid omdat hy weet dat God vir hom raad sal hê. Ook vir jou behoort dit ’n groot gerusstelling te wees dat God van jou weet, dat Hy jou pad ken wanneer jy besig is om moed te verloor. Baie maal is die beste raad teen jou eie moedeloosheid juis om ánder mense te bemoedig. Die Bybel maan ons dikwels om mekáár moed in te praat. As jy self al beleef het hoe dit voel om moedeloos te wees, kan jy moedelose mense veel beter bemoedig as iemand met wie dit nog net altyd goed gegaan het. “Praat mekaar moed in en versterk mekaar dan met hierdie woorde, soos julle trouens reeds doen,” skryf Paulus aan die gemeente in Tessalonika (1 Tessalonisense 5:11). Maar God weet nie net van jou moedeloosheid nie, Hy onderneem ook om dit weg te neem. Gaan onderstreep gerus 1 Petrus 5:10–11 in jou Bybel: “God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ’n kort rukkie gely het, self weer oprig en
julle moedig, sterk en standvastig maak. Aan Hom behoort die krag tot in ewigheid!”
Hemelse Vader, hoe goed is U nie! U weet nie net nou van my moedeloosheid nie, maar U beloof ook om my weer moedig, sterk en standvastig te maak. Doen dit asseblief. Amen.
7 Maart – Kyk na God
7 MAART
Lees: Psalm 25:12–22
Kyk na God
My oë is altyd op die Here gerig, want dit is Hy wat my voete uit die vangnet sal hou. – Psalm 25:15
Daar is ’n mooi storie van Sandy Walker, wie se man die opsiener van die vuurtoring by Robbins Reef in Amerika was. Toe haar man op ’n baie jong ouderdom oorlede is, het Sandy steeds na die vuurtoring omgesien. Van die vuurtoring af kon sy haar man se graf teen ’n berg-helling daar naby sien. Sy het elke oggend deur die patryspoort van die vuurtoring na sy graf gekyk. In ’n gesprek met ’n verslaggewer getuig sy dat sy só elke keer persoonlike inspirasie kry. Daarsonder sou sy nie so alleen met haar lewe kon aangaan nie. Die psalmdigter getuig in vandag se kernteks dat sy oë altyd op die Here gerig is. Ook die skrywer van die Hebreërbrief skryf: “Hou Hom voor oë … Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie” (Hebreërs 12:3). As ons ons oë op God gerig hou, na die ware Lig kyk wanneer daar ’n traumatiese gebeurtenis in ons lewe is, sal Hy ook vir ons elke keer die krag gee om uit te hou en aan te hou. Dis baie goeie raad om te volg as daar ’n traumatiese gebeurtenis in jou eie lewe is. Kyk na God, hou jou oë op Jesus. Hy sal vir jou die nodige krag gee om elke krisis in jou lewe te kan hanteer; saam met Hom is jy altyd méér as ’n oorwinnaar, met sy krag is jy tot alles in staat.
Here, dankie dat ek na U mag kyk wanneer daar krisisse in my eie lewe opduik met die wete dat U vir my die krag sal voorsien wat ek nodig het. Amen.
8 Maart – Soek jou hulp by die Here
8 MAART
Lees: 2 Kronieke 16:1–10
Soek jou hulp by die Here
Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou. Maar nou het jy dwaas opgetree en daarom sal jy van nou af oorlog hê. – 2 Kronieke 16:9
Koning Asa begin sy regeringstyd in Juda net reg: hy moedig die hele volk aan om op die Here te vertrou en verwyder die heidense altare. Die Here seën hom en gee hom die oorwinning oor sy vyande. Maar Asa vergeet van God se ingryping in die verlede. As koning Baesa van Israel ’n veldtog teen Juda begin, gaan soek Asa hulp by Ben-Hadad, die koning van Aram. Dit dra glad nie God se goedkeuring weg nie, en die siener Ganani dra God se boodskap onomwonde aan Asa oor: “Omdat jy op die koning van Aram vertrou het in plaas van op die Here jou God, het jy die kans verbeur om die leer van koning Aram te verwoes … Die Here kyk oor die hele aarde om hulle te help wat met hulle hele hart op Hom vertrou” (2 Kronieke 16:7, 9, Nuwe Lewende Vertaling). Hierna word Asa ernstig siek en sowaar, hy raadpleeg wéér nie vir God nie, maar wel die dokters (vgl 2 Kronieke 16:12). Koning Asa het goed begin, maar toe dinge vir hom te moeilik raak, vergeet hy van God. Wanneer dit met jóú swaar gaan, onthou God se trou van die verlede; soek jou hulp by Hóm. Hy is altyd gereed om jou te help, mits jy nie jou hulp op verkeerde plekke gaan soek nie,
maar onwrikbaar op Hom bly vertrou.
Here, ek is jammer dat ek ook soms my hulp op allerhande ander plekke soek. Leer my net weer dat U altyd slaggereed is om my te help. Amen.
9 Maart – In tye van aanvegting
9 MAART
Lees: 2 Kronieke 20:12–26
In tye van aanvegting
Ons God, sal U hulle nie straf nie, want ons het nie die krag om hierdie groot menigte wat teen ons optrek, te weerstaan nie. Ons weet nie wat om te doen nie. Ons oë is op U gerig. – 2 Kronieke 20:12
Koning Josafat van Juda, die seun van Asa, is ’n godvresende ko-ning, soos sy pa voor hom. As hy te staan kom teen die gesamentlike leërs van Ammon, Moab en Edom, besef hy maar te goed dat hy geen kans het om as oorwinnaar uit die stryd te tree nie. Anders as sy pa vóór hom, doen hy egter die regte ding: hy vra Gód om hulp: “Ons weet nie wat om te doen nie. Ons oë is op U gerig,” bid hy. En dan kry hy die boodskap van God: “Moenie moedeloos wees oor hierdie magtige leër nie, want die oorlog is nie julle s’n nie, maar God s’n” (2 Kronieke 20:15, Nuwe Lewende Vertaling). Al wat Juda hierna te doen staan, is om toe te kyk hoe God die vyandige leërs teen mekaar laat draai en mekáár laat uitwis, totdat daar nie eers een van hul manskappe oorgebly het nie. As jy in tye van aanvegting God se hulp verlang, soek jou hulp op die regte plek, soos Josafat gedoen het. Vertel die Here van jou bekommernisse, van die dinge waarvoor jy bang is. Vra dat Hy jou elke dag van jou lewe sal bystaan, vertrou dat Hy sál help in krisissituasies. Alhoewel jy bewus is van jou eie swakheid, kan jy dan maar soos koning Josafat net toekyk hoedat God vir jou veg en jou
die oorwinning gee.
Hemelse Vader, ek loof U dat U altyd daar is wanneer ek hulp nodig het. Help my asseblief ook met die krisis waarin ek op die oomblik verkeer. Amen.
10 Maart – Jy mag nie hoop verloor nie
10 MAART
Lees: Filippense 3:12–17
Jy mag nie hoop verloor nie
Nee, liewe broers en susters, ek reken self nie dat ek al is wat ek moet wees nie, maar een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God aan my wil gee omdat Jesus Christus dit vir my verdien het. – Filippense 3:13–14 (Nuwe Lewende Vertaling)
Paulus skryf aan die gemeente in Filippi dat hy die dinge vergeet wat agter hom lê en hom uitstrek na dit wat voorlê. Hy is haastig om by die wenpaal uit te kom sodat hy die hemelse prys wat Jesus reeds vir hom verdien het, in ontvangs kan neem. Dis vir my pragtig om na ’n groep kleuters te kyk wat resies hardloop. Die meeste van hulle hardloop omkyk-omkyk om te sien hoe ver hul maatjies gevorder het. Dit is dié enetjie wat voluit hardloop wat altyd die wenpaal eerste bereik. Een van die belangrikste dinge wat jou laat hoop verloor, is die herinnering aan die mislukkings in jou verlede. Dit help nie om jou lewenswedloop omkyk-omkyk te hardloop en jouself gedurig aan jou vorige mislukkings te herinner nie. Hardloop jou wedloop van vandag af voluit, met elk kriesel krag tot jou beskikking, sodat jy so gou moontlik jou hemelse prys – wat Jesus reeds vir jou verdien het – in ontvangs kan neem. Want in die hemelse
wedloop is daar nie net één eerste prys soos in aardse wedlope nie – vir élkeen wat die wedloop voltooi, is daar ’n prys. Hardloop só dat hierdie prys joune sal wees.
Here, daar is so baie dinge uit my verlede wat die vlammetjie van my hoop wil uitdoof. Ek wil nou my verlede agter my laat en na die toekoms reik, sodat ek die hemelse prys kan ontvang wat U beloof het. Amen.
11 Maart – God kan kwaad in goed verander
11 MAART
Lees: Genesis 50:14–21
God kan kwaad in goed verander
Maar Josef het hulle geantwoord: Moenie bang wees nie. Ek is nie God nie. Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat ’n groot volk nou in die lewe gebly het. – Genesis 50:19–20
Nadat Jakob in Egipte dood is, raak Josef se broers bekommerd dat hy hulle nou gaan bykom oor al die kwaad wat hulle hom in die verlede aangedoen het en smeek hulle hom weer eens om vergifnis vir die manier waarop hulle hom behandel het. Josef stel hulle dadelik gerus: hulle hoef nie bang te wees dat hy wraak gaan neem nie, omdat God die kwaad wat hulle hom aangedoen het, in iets goeds omgekeer het. As dit nie was dat hulle hom verkoop het nie, sou hy nie nou sy huidige hoë posisie in Egipte beklee het nie en sou sy volk ook nie van hongersnood gered kon word nie. Wanneer mense jou te na kom, kan God steeds dieselfde doen. Hy is almagtig en vir Hom is dit heeltemal moontlik om die negatiewe dinge wat mense jou aangedoen het, in positiewes te verander. Die psalmdigter getuig nie verniet nie: “Die Here sal vir my alles goed laat afloop” (Psalm 138:8). As jy aan God behoort, mag jy met vertroue daarop staatmaak dat God die kwaad wat ander jou aangedoen het, uiteindelik in goed sal omsit, ook al lyk dit op die oomblik vir jou heeltemal onmoontlik. Hy kan steeds die grootste enkele ramp in jou lewe
omkeer sodat dit uiteindelik tot jou beswil sal wees. Vertrou Hom daarvoor!
Here, ek weet dat U ook die kwaad in my eie lewe uiteindelik kan omkeer in iets wat vir my goed sal wees. Help my om aan hierdie belofte vas te hou. Amen.
12 Maart – Hoekom wag op die Here?
12 MAART
Lees: 2 Konings 6:17–33
Hoekom wag op die Here?
Terwyl Elisa besig was om dit te sê, kom die boodskapper daar aan met die boodskap: “Die koning sê: Die Here het al hierdie ellendes oor ons gebring! Hoekom moet ek nog langer vir die Here wag?” – 2 Konings 6:33 (Nuwe Lewende Vertaling)
Tydens die Aramese beleg van Samaria was daar ’n groot honger-snood in Israel. Dit was so erg dat ’n donkiekop ’n kilogram silwer en ’n skep duiwemis 57 gram silwer gekos het. Mense het selfs hul kinders geëet om aan die lewe te bly. Die verbitterde koning van Israel gee die Here die skuld vir die ellende waarin die volk verkeer. “Die Hére het al hierdie ellendes oor ons gebring! Hoekom moet ek nog op die Here wag?” wil hy weet. Hy neem ’n eed om die profeet Elisa te vermoor. Maar Elisa weet presies wat die koning beplan en sê vir die leiers dat hulle die deur moet sluit en die boodskapper van die koning buite moet hou. God bring nie ellendes oor sy kinders nie. Daarvoor het Hy ons te lief. Maar dát ons ellendes hier op die wêreld gaan ervaar, is ’n feit. Ons lewe immers nog in ’n onvolmaakte, sondige wêreld, waar die duiwel steeds onberekenbare skade kan aanrig. Soms blameer ons Gód vir die ellendes wat ons te beurt val. As dit weer baie sleg met jou gaan en jy God daarvoor wil blameer, weet dat Hy jou liefhet en net die goeie vir jou beplan. Wag eerder op Hom – Hy belowe om elke keer
weer vir jou uitkoms te bewerk, mits jy op Hom vertrou.
Here, baie dankie vir die versekering dat U nooit ellendes oor u kinders bring nie, maar dat U my altyd van oplossings vir hierdie ellendes sal voorsien. Amen.
13 Maart – God maak die onmoontlike moontlik
13 MAART
Lees: 2 Konings 7:1–17
God maak die onmoontlike moontlik
Die adjudant, wat die vertroueling van die koning was, het vir die man van God gesê: “Dit is onmoontlik selfs al maak die Here vensters in die hemel sodat dit nou reën.” Elisa het geantwoord: “Toe maar, jy sal dit met jou eie oë sien …” – 2 Konings 7:2
As Elisa vir die leiers die boodskap bring dat dinge drasties gaan verbeter, weier die koning se adjudant om hom te glo. Hy is baie seker van sy saak: Dit kán nie gebeur nie, sê hy vir Elisa. Selfs nie al sou die Here vensters in die hemel maak nie. Elisa bly onverstoord – hy sal dit met sy eie oë sien, vertel hy die adjudant. Wat Elisa voorspel het, gebeur inderdaad. Vier melaatses tref die Arameërs se kamp verlate aan en gaan vertel die koning daarvan. Die omstandighede in Israel verander soos handomkeer en die volgende dag is daar vir almal oorgenoeg kos om te eet. Die ongelowige adjudant word aangesê om die mense by die stadspoort te beheer, maar hy word deur die skare doodgetrap. Die woorde “absoluut onmoontlik” bestaan nie in God se woordeboek nie. God kan die onmoontlike moontlik maak. In Jeremia 32:27 is God Self aan die woord: “Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik?” wil Hy weet. Die antwoord op hierdie vraag is natuurlik: “Nee!” Jou omstandighede kan nooit so hopeloos wees dat God nie uitkoms kan gee nie. Hy
kan énige omstandighede tot jou beswil omkeer. Onthou dit wanneer jy in die toekoms weer dink dat iets nie gedoen kan word nie!
Hemelse Vader, ek aanbid U as die God wat alles kan doen, dié God vir Wie heeltemal niks onmoontlik is nie. Dankie vir al die kere dat U wonders in my eie lewe gedoen het. Amen.
14 Maart – Is jy dalk self die oorsaak?
14 MAART
Lees: Galasiërs 6:1–8
Is jy dalk self die oorsaak?
Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat ’n mens saai, dit sal hy ook oes. – Galasiërs 6:7
Gister het ons vasgestel dat ons nooit die ellende wat ons op aarde mag ervaar aan God kan toeskryf nie. Baie keer is ons egter sélf die oorsaak van hierdie ellende. “Sy eie dwaasheid bring ’n mens op die verkeerde pad en dan is hy kwaad vir die Here,” staan daar in Spreuke 19:3. In vandag se kernverse waarsku Paulus die gemeente van Galasië dat hulle hulself nie moet mislei nie. Wat ’n mens saai, dit sal jy ook oes. As jy op die akker van jou sondige natuur saai, gáán jy die dood “oes”, maar as jy op die akker van die Gees saai, sal jy van Hom die ewige lewe ontvang. Alhoewel God altyd bereid is om jou sonde te vergewe, het alle sondige praktyke uiteindelik negatiewe gevolge. God gee jou die vryheid om te kies. Indien jy kies om verkeerd te doen, mag jy Hom nie blameer vir jou negatiewe omstandighede nie. Indien jy jou man verkul, moet jy nie verbaas wees as jou huwelik op die rotse loop nie; as jy nie jou kinders dissiplineer nie, moet jy nie verwag dat hulle gehoorsaam sal wees nie; as jy te veel eet, gaan jy gewig aansit; as jy net vet vleis eet, is ’n hartaanval jou voorland. Hou dit dus altyd in gedagte dat jou dade gevolge gaan hê – en lewe in die vervolg soos die Bybel van jou vra, dan kan jy nie verkeerd gaan nie.
Here, ek is jammer dat ek al so dikwels fouteer het en dan vir U kwaad was. Vergewe my en help my om te lewe soos u Woord van my vra. Amen.
15 Maart – Is swaarkry God se straf?
15 MAART
Lees: Johannes 9:1–7
Is swaarkry God se straf?
Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s’n?” En Jesus antwoord: “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word.” – Johannes 9:2–3
As die dissipels ’n man sien wat van sy geboorte af blind is, wil hulle van Jesus weet of dit deur sy eie of sy ouers se sonde is dat hy blind gebore is. Jesus antwoord hulle dat hy blind is sodat die wonders wat God doen, in sy lewe gesien sal kan word. Hierop spoeg Hy op die grond en maak met die spoeg ’n bietjie klei aan. Toe smeer Hy die klei aan die man se oë en vra hom om hom in die bad van Siloam te gaan was. Die man het dit gedoen, en toe hy terugkom, kon hy sien. Sommige mense meen steeds dat siekte en swaarkry God se straf vir sonde is. In die Ou Testament het dit wel soms gebeur, maar nie meer nie. Jesus het God se straf vir ons sonde eens en vir altyd in ons plek met sy kruisdood betaal. Jy moet net in gedagte hou dat alhoewel Jesus die volledige prys vir jou sonde aan die kruis betaal het, God steeds dieselfde heilige God bly as in die Ou Testament. Hy kan net jou sonde vergewe as jy dit bely en dit laat staan.
Here Jesus, baie dankie dat U God se straf op my sonde aan die kruis vereffen het. Vergewe asseblief my sonde en help my om dit te laat staan. Amen.
16 Maart – Deur God gedra
16 MAART
Lees: Psalm 145
Deur God gedra
Die Here help almal op wat geval het. Hy ondersteun dié wat bedruk is. – Psalm 145:14
Ons kleinkinders val gereeld – veral as hulle nog onstewig op hul bene is. Gewoonlik gaan die vallery gepaard met ’n keelopsit – dit is nou tot hulle opgetel, getroos en hul trane afgedroog word. Dan is die val sommer gou vergete, en indien daar ’n skrapie in die proses opgedoen is, word die “eina” vir almal gewys en vir ouma gehou om gesond te soen. As ’n mens ouer word, begin jy weer val soos toe jy leer loop het! Ek het onlangs oor ’n los steen in ons kompleks gestruikel en my elmboog lelik seergemaak – ongelukkig was my man nie eens by om my op te tel nie! God beloof sy volk in Jesaja 46:3–4: “Luister na My … julle vir wie Ek gedra het van julle geboorte af, wat Ek vasgehou het vandat julle daar is. Ook tot in julle ouderdom is Ek die Here, tot in julle grysheid sal Ek julle dra. Ek het julle gemaak en Ek sal julle vashou, julle dra en julle red.” Almal van ons struikel en val by tye – figuurlik gesproke. Dan is dit goed om te weet dat God jou sal help en dat Hy onderneem om jou te dra van jou geboorte af tot jy oud is. As jy in ’n verhouding met Hom is, hoef jy nooit vir ’n valslag bang te wees nie: jy weet mos dat Hy altyd by jou is om jou op te help en te ondersteun vir die duur van
jou lewe op aarde.
Hemelse Vader, dis wonderlik om te weet dat U onderneem om my vas te hou en te dra so lank ek lewe, dat U my sal ophelp elke keer as ek geval het. Amen.
17 Maart – God weet van jou swaarkry
17 MAART
Lees: Psalm 56
God weet van jou swaarkry
Die dag as ek bang word, vertrou ek net op U … My ellende het nie ongemerk by U verbygegaan nie, U het op my trane gelet. In u boek staan hulle opgeteken. – Psalm 56:4, 9
Soos so baie kere tevore gaan die psalmdigter by God hulp soek as dit met hom sleg gaan. En in hierdie psalm maak hy ’n wonderlike ontdekking: God weet reeds van sy swaarkry, Hy het selfs elkeen van sy trane in ’n boek opgeteken! Om hierdie rede is hy nie bang nie, maar vertrou hy op God om dinge vir hom weer beter te maak. Daar kan nooit ’n ramp met jou gebeur waarvan God nie bewus is nie. Hy ken jou deur en deur, Hy weet álles van jou: of jy sit en of jy opstaan, of jy reis en of jy oorbly. Hy weet van elke woord wat jy gaan sê – Hy weet selfs wat jy dínk! Daarom mag jy die voorbeeld van die psalmdigter volg en op God vertrou as jy bang is. Meer nog, God beloof dat Hy die oorsaak van jou ellende sal wegneem en ’n einde aan jou trane sal maak: “Wie met trane saai, sal die oes met gejuig inbring. Al loop hy en huil terwyl hy die saaisak dra, hy kom juigend terug terwyl hy sy gerwe dra,” beloof Psalm 126:5–6. Ook al verdwyn jou swaarkry nie terwyl jy nog op aarde is nie, het jy die belofte in Openbaring 7:17 dat die
Lam jou herder sal wees en jou na die fonteine met die water van die lewe sal lei, waar God ééndag al die trane van jou oë sal afdroog.
Here God, ek neem U nou op u woord dat U van al my trane weet en elkeen van hulle op u eie tyd sal afdroog. Baie dankie daarvoor! Amen.
18 Maart – Meer geloof, asseblief!
18 MAART
Lees: Markus 9:14–26
Meer geloof, asseblief!
“As U tog miskien iets daaraan kan doen, kry ons jammer en help ons.” “‘As U iets kan doen,’ sê jy,” antwoord Jesus. “Vir die een wat glo, kan alles.” “Ek glo,” roep die seun se pa dadelik uit. “Help my in my ongeloof.” – Markus 9:22–24
Die storie van die pa wat sy siek kind na die dissipels gebring het, stel hulle in ’n bra swak lig. Alhoewel hulle al baie kere in die verlede met groot sukses bose geeste uitgedryf het, kan hulle dit hierdie keer nie regkry nie. Daarom wend die pa van die kind hom na Jesus. Hy is self nie seker of Jesus sy kind gesond kan maak nie: “As U tog miskien iets daaraan kan doen?” vra Hy vir Jesus. Markus vertel hoe Jesus dit sonder moeite regkry om die seun te genees. As die dissipels agterna wil weet waarom húlle misluk het, vertel Jesus hulle dat hulle geloof en gebed kort. Die meeste Christene is kenners van geloof. Ons weet ook dat geloof berge kan versit, alles kan vermag en God se hart bly maak. Tog, wanneer dit óns beurt is om in swaarkrytye in God te bly glo, faal ons byna elke keer; kyk ons soos Petrus na die hoogte van die golwe en die sterkte van die wind, in plaas van na God, en begin ons sink! Om hierdie rede is dit so maklik om jou met die versugting van die siek seun se pa te vereenselwig: al glo jy in God, soek jy hulp
op dié plekke waar jy nog ongelowig is. As jy jouself weer betrap dat jy twyfel, bid gerus om meer geloof – dit is ’n gebed wat elke keer beantwoord sal word.
Here, gee my meer geloof, en help my waar ek nog ongelowig is. Amen.
19 Maart – Maak ’n verskil in swaarkrytye
19 MAART
Lees: Ester 4:6–17
Maak ’n verskil in swaarkrytye
“As jy nóú swyg en daar kom van ’n ander kant af uitkoms en redding vir die Jode, sal jy en jou familie omkom. Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ’n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het!” – Ester 4:14
Mordegai bring vir koningin Ester allesbehalwe goeie nuus: die ko-ning het ingestem om al die Jode in sy koninkryk uit te roei. Maar Mordegai vertel Ester ook dat dit dalk juis “met die oog op ’n tyd soos hierdie” is dat God haar koningin gemaak het. As koningin is sy in ’n posisie om haar volk te kan help. Alhoewel Ester die koningin was, was sy ook ’n Jood en sou sy saam met die ander Jode doodgemaak moes word, maar ómdat sy met die koning kan praat, kon sy dalk ’n verskil maak in hierdie krisistyd. Soms beland jy in ’n situasie wat nie vir jou lekker is nie. Dink ’n bietjie daaroor of jy nie dalk, soos Ester destyds, in ’n posisie is om ’n positiewe verskil te maak aan die heersende krisis nie. Ester gryp in die situasie in en slaag daarin om die Jode te red, al moes sy éérs bereid wees om haar eie lewe op die spel te plaas. Indien jy bereid is om dieselfde te doen en soos Ester op God te vertrou om jou te help, kan Hy jou ook gebruik om ’n positiewe verskil te maak op die plek waar Hy jou geplaas het. Vertrou Hom daarvoor! Al wat Hy van jou vra, is gewilligheid om deur Hom gebruik te word.
Here, vergewe my dat ek so huiwerig is om in te gryp in ’n krisis. Maak my dapper en bereid om ’n positiewe verskil aan die situasie te maak, omdat ek weet dat U dit vir my moontlik sal maak. Amen.
20 Maart – Onverstaanbare swaarkry
20 MAART
Lees: Job 2:1–10
Onverstaanbare swaarkry
Die Here vra toe vir die Satan: “En my dienaar Job, het jy hom nou gesien? Sy gelyke kry jy nie op aarde nie: hy is vroom en opreg, hy dien My en vermy die kwaad. Hy het vroom gebly, al het jy My daartoe gebring om hom sonder rede te ruïneer.” – Job 2:3
God sê hier Self dat Job onberispelik geleef het; dat hy ten spyte van die ondenkbare rampe wat hom getref het, God nie een keer verwyt het nie. Dit gebeur baie keer dat kinders van God swaarkry, terwyl dit baie goed met mense gaan wat hulle nie aan God steur nie. Net soos geloof in God ons nie van swaarkry gaan vrywaar nie, is dit ook nie ’n gegewe dat mense wat sonder God leef wel hul verdiende loon gaan kry nie. Oënskynlik gaan dit met die meeste van hulle heel goed! Tog is die boodskap van die boek Job juis dat swaarkry ons nie van God af mag laat wegdraai nie. Soms laat God juis swaarkry in ons lewe toe om ons weer van die feit bewus te maak dat ons nie sonder Hom kán leef nie. Die enigste troos vir ’n Christen in so ’n situasie is dat God ons nooit alleen laat met ons swaarkry nie, maar dat Hy ons hande vashou te midde van lyding. Jy het boonop die versekering dat jou onverstaanbare aardse swaarkry nie vir altyd sal aanhou nie, maar dat dit vir jou eendag op die hemel self gaan uitloop.
Here, ek kan my swaarkry van die oomblik nie verstaan of verwerk nie. Dit voel vir my so onregverdig. Vergewe my en leer my net weer dat U te midde van die swaarkry by my is en my vashou. Amen.
21 Maart – Aan die ontvangkant van swaarkry
21 MAART
Lees: Job 4:1–6
Aan die ontvangkant van swaarkry
“Jy het self baie mense reggehelp en dié wat moed verloor het, het jy weer moed ingepraat. Jou woorde het dié wat struikel, opgebeur, dié wat wou val, het jy weer opgehelp. Nou het die ramp jou getref, en jy is platgeslaan … Beteken dit dan vir jou niks dat jy God gedien het nie …?” – Job 4:3–6
Elifas getuig dat Job baie mense gehelp het wat swaargekry het. Nou is hy egter sélf aan die ontvangkant van swaarkry. Snaaks genoeg vergeet Job gerieflik van die raad wat hy in die verlede aan ánder gegee het, en waag hy dit om God se handelswyse te bevraagteken. Dit is baie maal met óns ook die geval dat ons gewoond daaraan is om ander mense moed in te praat, maar as die swaarkry ons persoonlik tref, vergeet ons skoon van die goeie raad wat ons so kwistig uitgedeel het; dan is ons soos Job “verslae en gebroke”. As jy jouself in hierdie prentjie erken, volg gerus Elifas se goeie raad: glo dat God vir die mense sorg wat Hom dien. Dit is altyd ’n goeie plan om oor jou eie lewe terug te kyk en aan al daardie kere te dink toe die Here jou in die verlede gehelp het, soos die psalmdigters dikwels doen. Wanneer jy dit gedoen het, kyk op na God en vertrou Hom om jou weer ’n keer te help. Job se storie het ’n gelukkige einde en dit sal van jou ook waar wees indien jy jou persoonlike terugslae ervaar as dinge wat uiteindelik jou geloof gaan versterk en
jou nader aan God gaan bring.
Here, maak dit vir my moontlik om in swaarkrytye op U te vertrou en aan al die kere in die verlede te dink toe U my gehelp het. Doen dit asseblief nou ook. Amen.
22 Maart – Stel jou saak aan God
22 MAART
Lees: Job 5:7–11, 18–19
Stel jou saak aan God
“Die mens is vir swaarkry gebore, en sy lewe is kortstondig soos ’n vonk wat opskiet. As ek jý was, sou ek my tot God wend en my saak aan Hom voorlê.” – Job 5:7–8
Elifas waarsku Job dat élke mens vir swaarkry gebore is. Tog troos hy Job uit sy persoonlike ondervinding en gee hom goue raad: gaan na God toe en stel jou saak aan Hom, raai hy hom aan (vgl Job 5:8). Dan verduidelik hy vir Job presies hoe wonderlik God is en hoe goed Hy vir sy kinders sorg. Ook wanneer Hy ons wonde toedien, verbind Hy hulle weer. In jou persoonlike swaarkrytye is dit die heel beste om die swaarkry met God te deel, met Hom daaroor te praat. Hy is die heel beste Trooster, en alhoewel Hy jou soms laat wag op uitkoms, vra sy kinders Hom nooit tevergeefs om hulp nie. Daar is egter twee dinge wat jy behoort te weet: Jy sal God nooit kan verstaan nie. Daarvoor is Hy te groot en magtig. Op aarde is elke mens aan lyding uitgelewer; ook jy gaan dit nie vryspring nie.
Dat God nie met jou verstand raakgevat kan word nie en dat jy op aarde gaan swaarkry, is ’n gegewe, maar nou weet jy na Wie toe jy kan gaan sodat daardie swaarkry ligter kan word. Jy het boonop God se belofte dat Hy eendag in sy nuwe wêreld vir altyd ’n einde aan alle swaarkry gaan maak (vgl Openbaring 21:4).
Here, dankie dat ek my swaarkry met U mag deel en seker kan wees dat dit eendag in u nuwe wêreld vir altyd iets van die verlede sal wees. Amen.
23 Maart – Vlerke soos ’n duif
23 MAART
Lees: Psalm 55:1–12, 17–20
Vlerke soos ’n duif
Ek het gesê: “As ek maar vlerke het soos ’n duif, dan sal ek wegvlieg en rus hê!” … Verwoesting is aan die orde van die dag, verdrukking en bedrog heers in die strate … Maar ek roep tot God, en die Here sal my verlos. – Psalm 55:7, 12, 17 (Nuwe Lewende Vertaling)
In hierdie psalm vra die psalmdigter vir duifvlerke sodat hy uit sy omstandighede kan ontvlug. En die omstandighede klink nogal bekend: verwoesting is aan die orde van die dag, verdrukking en bedrog heers in die strate! Almal van ons het al by tye gewens dat ons vlerke soos ’n duif gehad het sodat ons ons negatiewe omstandighede agter ons kan laat en na ’n plek van vreugde en veiligheid kan vlug. Veral tans laat die toestande in ons eie land veel te wense oor, en soms lyk dit vir ons of dinge nooit weer beter sal gaan nie. Vir mense wat dreig om moed te verloor, is daar ’n oplossing in vandag se kernverse opgeteken: “Maar ek roep tot God en die Here sal my verlos. God sal hoor en antwoord.” As jou negatiewe omstandighede van die oomblik jou weer wil onderkry, volg gerus die raad van die psalmdigter. Dit is vandag nog net so relevant as toe hierdie psalm geskryf is. In gevaartye, moeilike tye, moedelose tye, kan jy steeds tot God roep. Hy waarborg vandag nog jou veiligheid. Alhoewel sy kinders nie van
alle rampe en teenspoed gevrywaar is nie, het ons die versekering dat God bý ons is in hierdie omstandighede en dat Hy ons uiteindelik daardeur sal dra.
Hemelse Vader, met U by my het ek nie eens duifvlerke nodig nie, ek kan maar net my kommer aan U oorgee. Dankie daarvoor! Amen.
24 Maart – Die beste plek vir jou bekommernisse
24 MAART
Lees: Psalm 55:21–24
Die beste plek vir jou bekommernisse
Gee jou kommer oor aan die Here. Hy sal vir jou sorg. Hy sal gelowiges nie teleurstel nie. – Psalm 55:23 (Nuwe Lewende Vertaling)
Wanneer ons vir ’n lang ruk ons fisiese omstandighede as negatief ervaar, is dit feitlik onvermydelik dat ons uiteindelik mismoedig en bekommerd sal raak; dat ons later selfs vir God uit die prentjie sal laat omdat ons so bang vir die toekoms is. Die meeste Christene is dan ook op die oomblik, ten spyte van hul geloof in God, steeds bekommerd oor baie dinge. Ek betrap myself die afgelope tyd dat ek tob oor die naderende ouderdom: of ons gesond sal wees, genoeg geld sal hê vir die hemelhoë mediese kostes … Of ons kinders en kleinkinders nog veilig sal wees en werk sal hê met die regstellende-aksie-monster wat om elke hoek loer … Is jy ook ’n kommerkous? Gelukkig is al die lang lyste faktore waaroor jy jou so bekommer glad nie nodig óf relevant vir Christene nie. Jy weet mos reeds waar die beste plek vir hierdie bekommernisse van jou is. “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle,” skryf Petrus (1 Petrus 5:7). Hy gee sy lesers presies dieselfde raad as vandag se kernteks. Gee sommer nou elkeen van jou bekommernisse oor aan die Here, góói hulle na sy kant toe, en bespreek hulle met Hom. Hy sal vir jou sorg. Boonop weet Hy reeds van elkeen
van hulle en Hy onderneem om jou nóóit teleur te stel nie. Vertrou Hom dus as kommer weer aan jou deur kom klop.
Hemelse Vader, dis so gerusstellend dat U kinders maar elkeen van hul bekommernisse na U kan bring met die seker wete dat U sal sorg. Ek wil dit sommer nou dadelik doen. Amen.
25 Maart – ’n Plek van veiligheid
25 MAART
Lees: Jesaja 10:1–4
’n Plek van veiligheid
Wat gaan julle doen die dag as Ek verwoesting uit ’n ver land na julle toe stuur? Na wie toe sal julle dan draai vir hulp? Waar sal julle skatte veilig wees? – Jesaja 10:3 (Nuwe Lewende Vertaling)
Israel het deur die eeue dikwels geweier om ag te slaan op God se waarskuwings. Die profeet Jesaja waarsku dat moeilike tye vir hulle wag, tye waarin hul skatte nie langer veilig sal wees nie. Daar was heel waarskynlik nog nooit ’n tyd in die geskiedenis dat ons so baie aan misdaad en geweld blootgestel is as in die laaste paar jaar nie. Baie mense verlaat die land op soek na ’n veiliger tuiste. Dié wat agterbly, voel onveilig en bestee groot bedrae geld daaraan om hul hulself en hul huise te beveilig. Die veiligheidskompleks waarin ons woon, het elke denkbare veiligheidsmeganisme: bemande hekke met kameras en kringtelevisie, ’n hoë elektriese omheining buite om, veiligheidswagte wat in die kompleks rondry … En tog het skelms al ’n paar maal daarin geslaag om ál die veiligheidsmeganismes te omseil en hier in te breek! Daar ís net nêrens meer waar ons aardse “skatte” veilig is nie. Miskien moet ons begin om op ’n ánder plek skatte bymekaar te maak; ’n plek waar hulle nie aan diewe blootgestel sal wees nie. Jesus vertel in die Bergrede
dat ons vir ons hemelse skatte moet versamel, skatte wat nie geroof kan word nie. Hou dus op om besorg te wees oor aardse besittings en begin solank om vir jou skatte in die hemel bymekaar te maak. Dis die enigste plek waar hulle – en jy – werklik veilig sal wees.
Here, vergewe my dat ek so onveilig voel en tog voortgaan om wêreldse skatte bymekaar te maak. Leer my om van nou af op dié ewigheidsdinge te konsentreer wat vir U belangrik is. Amen.
26 Maart – God seën die treurendes
26 MAART
Lees: Matteus 5:3–12
God seën die treurendes
“Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.” – Matteus 5:4
Elke mens op aarde het al met hartseer kennis gemaak. Daar is nie één van ons wat nog nie verlies ervaar of ’n dierbare verloor het nie. Maar Christene is mense wat ánders met hartseer omgaan as mense wat God nie ken nie. “Die treurendes van Matteus 5 is mense wat by Gód huil. Al huil hulle soms óór God,” skryf Johan Smit in sy boek oor die Bergrede: Jesus aan die woord.* Wanneer jy hartseer beleef, ontdek jy meermale dat jy ín hierdie hartseer vir God ontdek, dat jy Hom beter leer ken, dat Hy ’n groter werklikheid vir jou word, dat dit net Hý is wat jou op die regte ma-nier kan troos. Jy het ook die versekering dat God jou deur en deur ken, dat Hy van jou hartseer bewus is en dat Hy ook weet hoe om jou weer beter te laat voel. Die hartseer waarvan Jesus in hierdie teks praat, dui eintlik op hartseer oor sónde. Meestal is dood of verlies wat jou hartseer veroorsaak dan ook ’n indirekte gevolg van sonde. Jou hartseer maak jou dus bewus van die feit dat jy in ’n sondige wêreld leef én self sondig is. Eers wanneer jy jou sonde erken en bely, ervaar jy die helende salf van God se troos en kan jy die belofte in Openbaring 21:4 vir jou persoonlik toe-eien: Eendag in God se nuwe wêreld sal álle hartseer vir altyd verby wees. Dáár sal Hy Self jou hartseertrane vir altyd afdroog.
Here Jesus, ek loof U vir die wete dat U my eintlik seën wanneer ek hartseer is, omdat my hartseer my aan die ontvangkant van u troos plaas. Amen.
* J Smit, Jesus aan die woord, p 38
27 Maart – Swaarkry as leerproses
27 MAART
Lees: Jesaja 30:18–26
Swaarkry as leerproses
Die Here het jou brood van swaarkry laat eet en water van lyding laat drink. Maar Hy sal nog by jou wees, want Hy leer jou. Jy sal Hom met jou eie oë sien, die Een wat jou leer. – Jesaja 30:20 (Nuwe Lewende Vertaling)
Die profeet Jesaja verkondig dat God sy volk brood van swaarkry laat eet en water van lyding laat drink het sodat hulle van Hom kon leer. Tog beloof God dat Hy steeds ten spyte van hierdie lyding by sy volk sal wees. Toe dit net goed met Israel gegaan het, het hulle God telkens vir heidense afgode verruil. Dit is eers toe hulle as ballinge weggevoer is dat hulle weer aan Hom en sy beloftes begin terugdink het en gewillig was om na Hom terug te keer. God gebruik baie keer swaarkry in jou eie lewe om jou kosbare lesse te leer – lesse waarop jy dalk nie ag sou slaan in tye van voorspoed nie. Swaarkry het die manier om ’n mens God se Stem duideliker te laat hoor, sodat ons Hom op ’n nuwe manier begin raaksien en gewillig is om weer soos voorheen sy voorskrifte en gebooie te gehoorsaam. Ervaar jý dalk op die oomblik dat jy brood van swaarkry eet en water van lyding drink? Dan mag jy maar moed skep: God is steeds by jou. Hy wil jou swaarkry van die oomblik as leerproses gebruik sodat jy weer sy teenwoordigheid sal
opsoek en na Hom sal terugkeer. Hy wil hê dat jy Hom helderder as ooit tevore in jou stuk swaarkry sal raaksien.
Hemelse Vader, die lyding wat ek op die oomblik ervaar, maak my opnuut daarvan bewus dat U my daarmee kosbare lewenslesse wil leer. Maak my ontvanklik vir u Stem en help my om U raak te sien in my negatiewe omstandighede. Amen.
28 Maart – ’n God in swaarkrytye
28 MAART
Lees: Klaagliedere 3:8, 17, 21–33
’n God in swaarkrytye
Wanneer ek bid en smeek vir hulp, ignoreer Hy my gebed … Ek het al vergeet hoe dit is om gelukkig en tevrede te wees … Tog is daar een ding waarop ek kan reken en waarop ek altyd kan hoop: … Hy hou nooit op om vir ons om te gee nie. Sy liefde het geen einde nie. – Klaagliedere 3:8, 17, 21–22 (Nuwe Lewende Vertaling)
Wanneer hy die boek Klaagliedere skryf, gaan dit maar sleg met Jeremia. Hy is ’n profeet wat baie swaar gekry het omdat die mense van sy tyd hom verwerp het weens die negatiewe boodskappe wat God hom aangesê het om aan hulle deur te gee. As niemand na hom wil luister nie, voel Jeremia later asof God óók nie wil luister nie; asof Hy sy gebede ignoreer. Hierdie negatiewe gemoedstoestand laat Jeremia eensaam en verbitterd raak. Maar dan breek die wete dat God hom steeds liefhet tog deur sy depressietoestand. Hy ontdek opnuut dat God nooit opgehou het om vir hom om te gee nie; dat sy liefde vir hom eindeloos is en dat hy dus met vertroue op Hom mag bly hoop. Almal van ons beleef tye van depressie en moedeloosheid soos Jere-mia. Juis dan kom die boodskap in Klaagliedere 3 helder deur: God gee om vir jou, Hy het jou onvoorwaardelik lief, sy ontferming is elke môre nuut, daarom kan jy met vertroue vandág nog jou hoop opnuut aan Hom vasknoop en geduldig wag dat
Hy jou moet red. Hy het reeds beloof om dit te doen, en God kom altyd sy beloftes na.
Hemelse Vader, dankie dat ek seker mag wees dat U nooit ophou om vir my om te gee nie; dat u liefde vir my geen einde het nie. Luister asseblief na my gebed in hierdie swaarkrytyd. Amen.
29 Maart – Jy hoef nie langer bang te wees nie!
29 MAART
Lees: Sefanja 3:14–20
Jy hoef nie langer bang te wees nie!
“Moenie bang wees nie, Sion! Die Here jou God is by julle, Hy is ’n magtige Verlosser. Hy is buitengewoon bly oor julle. Sy liefde sal julle rustig maak. Met uitroepe van vreugde sal Hy oor julle jubel.” – Sefanja 3:16–17 (Nuwe Lewende Vertaling)
Ons lewe in tye van onrus. Ons is onrustig oor die berigte van misdaad en geweld wat ons elke dag in die koerante lees en op die nuus sien. Ons huise het ingewikkelde alarmstelsels en elektriese heinings. Veral ouer mense wil nie meer saans uitgaan nie. Self op ’n gewone daguitstappie is mense geneig om oor hul skouers te kyk of iemand hulle nie dalk agtervolg nie. Suid-Afrikaners het bang mense geword. Gelukkig is die profeet Sefanja se boodskap aan Israel stees vandag vir ons relevant. Dit is nie nódig vir God se kinders om vir alles bang te wees nie; om elke oomblik in vrees te leef nie. Ons het God elke oomblik by ons, veral in gevaartye onderneem Hy om ons te beskerm. As jy dus weer bang is, neem God op sy woord. Die groot Skeppergod wat die wêreld gemaak het en dit elke dag onderhou, gee vir jou persoonlik om, Hy is blý oor jou, sy liefde sal jou rustig maak in gevaarsituasies. Hou dus gerus op om bang te wees, weier om verder in vrees te lewe en vertrou op God. Hy is elke oomblik van die dag én nag by jou.
Here God, vergewe my dat ek die laaste tyd so in vrees lewe, dat ek so bang is vir dinge wat heel waarskynlik nooit met my gaan gebeur nie. Ek wil van nou af volkome op U vertrou en u liefde toelaat om my rustig te maak. Amen.
30 Maart – God se tugmaatreëls
30 MAART
Lees: Openbaring 3:14–22
God se tugmaatreëls
Ek bestraf en tug elkeen wat Ek liefhet. Laat dit dan vir julle erns wees en bekeer julle. – Openbaring 3:19
Swaarkry word soms as God se tug beskou. Met sy tugmaatreëls wil God die gemeente van Laodisea, wat geestelik lou geword het, te-rugwen. God straf soms sy kinders omdat Hy hulle liefhet, soos elke ouer met sy kind behoort te doen as hy sien dat die kinders dissipline nodig het. Tugmaatreëls is nodig om hulle te help om weer op die regte spoor te kom. Die woord “tug” in Hebreeus beteken eintlik “om nader aan God te kom”. Om hierdie rede is God se tug altyd ’n saak van blydskap. “Verdra die tug as opvoeding, want God behandel julle as sy kinders … Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, ’n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God,” ver-duidelik die skrywer van die Hebreërbrief (Hebreërs 12:7, 11). Deur sy tugstappe in jou eie lewe wil God jou nader aan Hom trek. Wanneer God jou tug om jou na Hom te laat terugkeer, is daardie tug gewoonlik vir jou moeilik om te verwerk, maar God doen dit juis omdat Hy jou liefhet en omdat jy sy kind is. Boonop is die uiteinde van die tughandeling altyd tot jou voordeel; dit dra die vrug van vrede in jou lewe.
Here, ek is jammer dat ek niks hou van u tugmaatreëls in my lewe nie. Ek sien nou dat U dit juis doen omdat U my liefhet en my na U wil laat terugkom. Gee asseblief die vrug van vrede in my lewe. Amen.
Gebed
Gebed
Vader, op die oomblik ervaar ek eerstehands dat swaarkry my ánders na U laat kyk – en my U soveel beter laat leer ken. Vergewe my dat ek nog so dikwels moedeloos onder die besembos vertoef. Help my om moed te hou omdat ek weet dat U altyd by my is en my beloof dat daar eendag ’n einde aan al my swaarkry sal kom. Ek wil nou op U fokus en my hulp net by U soek. Dankie dat U my vashou, dra, ophelp as ek val, en my daarvan weerhou om hoop te verloor. U keer elke keer die kwaad wat mense my wil berokken tot my beswil om; U het al soveel kere vir my gewys dat niks vir U onmoontlik is nie. Leer my net weer dat swaarkry nie u straf op sonde is nie en gee my meer geloof, sodat ek ’n verskil aan die swaarkry van ander kan maak en met u hulp selfs die onverstaanbare lyding in my eie lewe sal kan verwerk. Ek bring nou elkeen van my bekommernisse na U; ek maak staat op u troos in hartseertye. Dankie dat U vir my ’n God wil wees, dat u nooit sal ophou om my lief te hê en vir my om te gee nie. Vergewe my my heersende depressie en my vele vrese; laat u liefde my rustig maak, sodat ek net weer sal besef dat dit juis u tugmaatreëls is wat die vrug van vrede in my lewe waarborg. Ek wil nou u uitnodiging aanneem en by U tot rus kom. Amen.
April: Só lyk ’n Christen
APRIL: SÓ LYK ’N CHRISTEN
In Antiogië is Jesus se volgelinge vir die eerste keer Christene genoem. Dié mens wat die basiese beginsels van Christenskap in sy alledaagse lewe toepas, kan die wêreld verander, het Benjamin Franklin gesê. Wanneer ’n mens na iemand se optrede kyk en na die dinge luister wat hy sê (en nie sê nie!), is dit nogal nie so moeilik om vir jouself uit te maak of daardie persoon ’n Christen is of nie. Daar is sekere kenmerke wat die Bybel beweer ’n Christen behoort te hê. Hierdie maand gaan ons met hulle besig wees. Indien daar van hierdie eienskappe is wat nog in jou eie lewe ontbreek, moet jy in die maand wat voorlê werk daarvan maak, sodat jy aan die einde van die maand elkeen van die dertig kenmerke van Christene in jou eie lewe sal vertoon. Die goeie nuus is dat jy nie vir hierdie eienskappe sal hoef te werk nie – dit behoort reeds aan jou as jy in Jesus glo. Al wat jy wel moet doen, is om dit in jou eie lewe uit te bou.
1 April – Christene het God lief
1 APRIL
Lees: Markus 12:28–34
Christene het God lief
“Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.” … “En ‘om Hom lief te hê met jou hele hart en met jou hele denke en met al jou krag’ en ‘om jou naaste lief te hê soos jouself’ is van meer belang as al die brandoffers en ander diereoffers.” – Markus 12:30, 33
As jy God nie liefhet nie, kan jy onmoontlik ’n Christen wees. Wanneer Jesus deur ’n skrifgeleerde gevra word watter een van die gebooie die heel belangrikste is, sê Hy dadelik om God lief te hê is die grootste van ál die gebooie. En Hy definieer hierdie liefde tot in die fynste besonderhede: jy behoort God lief te hê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag. Hierdie liefde vir God behels volledige toewyding aan Hom. Dink mooi of jy werklik kan bely dat jy God só, met jou hele wese, liefhet. Indien nie, behoort jy jou meer daarop toe te lê om God só lief te hê dat hierdie liefde jou hele lewe sal omsluit; dat daar geen dinge in jou lewe sal wees wat vir jou belangriker is as God nie. Maar Jesus gee die skrifgeleerde nog ’n tweede antwoord: vir mense wat God liefhet, is dit vanselfsprekend om ook ánder mense lief te hê. Liefde vir God
inisieer liefde vir alle ander mense. Die liefde vir God is betekenisloos as dit nie gekroon word met liefde vir jou medemens nie,” sê Martin Buber.*
Here, ek wil U graag liefhê met my hele hart en my hele siel, my hele verstand en al my krag. Help my asseblief om élke dag aan my liefde vir U te werk. Amen.
* Aangehaal in N Smit, Die groot boek van Christelike aanhalings, p 439
2 April – Christene het mekaar lief
2 APRIL
Lees: 1 Johannes 4:14–21
Christene het mekaar lief
Laat ons mekaar liefhê omdat Hy ons eerste liefgehad het … Hierdie opdrag het ons van Hom ontvang: As ons God liefhet, moet ons ook ons broer en suster liefhê. – 1 Johannes 4:19, 21 (Nuwe Lewende Vertaling)
Mense wat bely dat hulle God liefhet, maar mekaar haat, is leuenaars, skryf Johannes onomwonde. As ons nie eens ons broers wat ons kan sien liefhet nie, is dit immers onmoontlik om God wat ons nié kan sien nie, lief te hê (vgl 1 Johannes 4:20). Die hoofrede waarom ons mekaar behoort lief te hê, is omdat Jesus ons éérste liefgehad het – toe ons nog sondaars was. Elkeen wat in ’n verhouding staan, weet dat opregte liefde gewoonlik wederliefde tot gevolg het. Wanneer jy weet dat iemand regtig lief is vir jou en jy hierdie liefde in alles wat die persoon doen en sê weerspieël kan sien, is dit feitlik vanselfsprekend dat jy hierdie persoon ook lief sal kry. Kyk maar net hoe klein kinders reageer wanneer jy hulle wys dat jy lief is vir hulle. As jy met jou kleinkinders gesels, hulle soen en vasdruk, sal hulle spontaan jou liefde begin beantwoord met nat soentjies en stralende glimlaggies en hul handjies na jou uithou sodra hulle jou sien. Alhoewel hulle nog niks van liefde verstaan nie, en hul eie liefde ook nog nie in woorde kan uitdruk nie, kan jy aan hul optrede agterkom dat hulle jou ook liefhet.
Só behoort Christene teenoor mekaar op te tree. Omdat Jesus jou eerste liefgehad het, vra Hy van jou om ander mense onvoorwaardelik lief te hê en nie jou liefde net vir ’n paar uitsoekmense opsy te sit nie.
Here Jesus, dankie dat U my liefgehad het toe ek nog ’n sondaar was. Maak dit asseblief vir my moontlik om alle ander mense lief te hê. Amen.
3 April – Christene is gehoorsaam
3 APRIL
Lees: 1 Johannes 2:1–6
Christene is gehoorsaam
Wie egter sy woord gehoorsaam, in só ’n persoon se lewe het die liefde vir God regtig sy doel bereik. Daardeur weet ons ook dat ons baie nou aan Hom verbind is. – 1 Johannes 2:5 (Nuwe Lewende Vertaling)
Die liefde wat God van sy kinders vra, is ’n liefde wat bereid is om Hom te gehoorsaam. Hierdie liefde mag nie selfsugtig wees en ons eie belang vooropstel – soos die meeste van ons doen – nie. Dit behoort ’n onderdanige liefde te wees; ’n liefde wat bereid is om ons eie begeertes tweede te laat kom, sodat God se wil in ons lewe volbring kan word. Indien jy kans sien om God se opdragte wat Hy vir jou in sy Woord uitspel na die letter te gehoorsaam, is dit ’n bewys dat jy Hom ken en liefhet. En indien jy met God se hulp daarin kan slaag om sy Woord te gehoorsaam, sal God se liefde sy doel volkome bereik in jou lewe. “Hieraan weet ons dat ons in Hom is,” skryf Johannes. “Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het” (1 Johannes 2:5–6). Om God se Woord te gehoorsaam, beteken dat jy sal leef soos Jesus geleef het … dis ’n groot mondvol hierdie; en boonop is dit feitlik gewaarborg om jou by voorbaat die handdoek te laat ingooi. Want wie van ons sal dit tog ooit kan
regkry om te leef soos Jesus? Maar God vra nooit iets van ons wat onmoontlik is nie. Sy Gees wat in jou leef, kán jou elke dag meer en meer soos Jesus maak.
Heilige Gees, ek bid dat U my absoluut gehoorsaam aan God se Woord sal maak. Maak dit ook vir my moontlik om al hoe meer soos Jesus te word. Amen.
4 April – Christene is kinders van God
4 APRIL
Lees: 1 Johannes 3:1–3
Christene is kinders van God
Kyk net hoe ’n groot liefde die Vader aan ons betoon het. Dit is dat Hý ons sy kinders noem, en ons is dit beslis ook. – 1 Johannes 3:1 (Nuwe Lewende Vertaling)
God het ons só lief dat Hy ons sy kinders noem. Alhoewel Hy die almagtige Skeppergod is wat miljoene sterrestelsels in die onmeetlike ruim van die heelal geplaas het; dié Here wat magtige bergreekse gemaak het maar ook die wêreld van die mikrokosmos, waar ons ’n mikroskoop nodig het om die organismes wat God gemaak het hoegenaamd te kan raaksien; dié God wat die hele wêreld in sy hand hou, het jóú lief. Die wonder hiervan bly onbegryplik, maar jy mag dit glo, omdat dit op soveel plekke in die Bybel vir jou uitgespel word. Maar God het jou nie net lief nie, Hy noem jou ook sy kind. Omdat Jesus die prys van jóú sonde aan die kruis betaal het, is dit nou vir jou (al bly jy steeds sondig) moontlik om God se kind te wees. En jy is nie net sy kind nie, maar ook sy erfgenaam wat eendag sal deel in sy heerlikheid. “En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid,” belowe Paulus die gemeente in Rome (Romeine 8:17). Al moet jy hier op aarde swaarkry soos Jesus ook gedoen het, wéét jy dat die hemel vir jou voorlê. Watter
wonderlike erfporsie is dit nie! Jou waarborg hiervan is die Heilige Gees wat in jou woon.
Hemelse Vader, dit is ’n onbegryplike wonder dat U my u kind noem; dat ek boonop u erfgenaam is vir wie die hemel wag! Baie dankie daarvoor! Amen.
5 April – Christene leef rein
5 APRIL
Lees: 1 Johannes 3:1–10
Christene leef rein
Almal wat uit hierdie Christusverwagting leef, hou hulleself vlekkeloos soos Hy vlekkeloos is. – 1 Johannes 3:3 (Nuwe Lewende Vertaling)
Kinders van God is mense wat rein lewe. Jy moenie dink dat jy ’n Christen kan wees terwyl jy voortgaan om soos die res van die wêreld te leef nie. Nou behoort jy die voorbeeld van Jesus na te volg. Toe Hy op aarde was, was Hy ’n volwaardige mens met net één verskil – daar was geen sonde in Hom nie. In die wêreld waarin ons leef, word reinheid nie eintlik meer hoog geag nie. Om die waarheid te sê, as iemand weier om voor die huwelik saam te slaap, word daar snaaks na so ’n persoon gekyk. Om saam te bly sonder om te trou het vandag só algemeen geword dat dit feitlik oral goedgepraat word, selfs deur sommige teoloë! ’n Mens hoef maar net jou gunstelingsepie aan te skakel om hierdie permissiwiteit tot binne-in jou eie sitkamer te bring. Ons kinders word dus van jongs af groot met die persepsie dat dit heeltemal in orde is. Nog iets waarmee ons kinders in die media gekonfronteer word, is dat dit ewe-eens in orde is om te vloek en links en regs leuens te vertel. Tog vra God steeds van sy kinders dat hulle ánders behoort te wees; dat hulle hulself vlekkeloos sal hou soos Jesus vlekkeloos is. Indien jy wil weet wat dit beteken, sal jy jou Bybel indringend moet bestudeer, sodat jy goed weet watter dinge in God se oë reg is
en watter nie. Met God se Woord as jou maatstaf is dit moontlik om rein te bly leef.
Here Jesus, maak my rein soos U rein was. Wys my wanneer ek verkeerd doen, sodat ek my sonde dadelik kan bely en laat staan; sodat ek kan leef soos U van my vra. Amen.
6 April – Christene dink anders
6 APRIL
Lees: Romeine 12:1–5
Christene dink anders
Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is. – Romeine 12:2
Wanneer ’n mens na die gesprekke van Christene luister, kom jy dadelik agter dat hulle anders dink as mense wat die Here nie ken nie. Wat ’n mens dink, kom altyd tot uiting in die dinge wat jy sê en uiteindelik ook in die dinge wat jy doen. “Wees versigtig met wat jy dink, dit word jou woorde; wees versigtig met wat jy sê dit word jou aksies, wees versigtig wat jy doen, dit word jou gewoontes, wees versigtig met jou gewoontes, dit bou jou karakter,” skryf Frank Outlaw.* Die dinge wat jy dink, speel ’n geweldig belangrike rol in jou lewe. Ook jou gedagtes moet dus aan God gehoorsaam gemaak word. Christene het derhalwe ’n dure verantwoordelikheid om te waak oor hul gedagtes. Paulus gee vir jou duidelike riglyne hieroor: “Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak,” getuig hy teenoor die gemeente in Korinte (2 Korintiërs 10:5). “Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie,” raai hy die Kolossense aan (Kolossense 3:2). Probeer dus in die vervolg jou bes om soos ’n Christen te dink. En sodra jy iets
dink wat jy goed weet verkeerd is, lê daardie gedagte aan God voor en vra Hom om jou denke te vernuwe.
Here, ek besef dat ek nog so baie sondige en verkeerde gedagtes dink. Vergewe my asseblief en help my om in die vervolg elkeen van my gedagtes eers aan u Woord te toets en dan aan U gehoorsaam te maak. Amen.
* F Outlaw
7 April – Christene is mense met gawes
7 APRIL
Lees: Romeine 12:6–8
Christene is mense met gawes
Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. As dit die gawe van profesie is, laat ons dit gebruik in ooreenstemming met die geloof wat ons bely. As dit is om te dien, laat ons dien. – Romeine 12:6–7
Aan élke Christen deel God verskillende gawes uit. Hierdie gawes verskil van mekaar: sommige van ons het die gawe om God se boodskap met ander te deel, sommiges het die gawe om ander te dien. Nóg ander het leierseienskappe wat ons met groot vrug in ons gemeente kan gebruik. Party mense se gawes is veel groter en aanskouliker as dié van ander, maar daar is niemand wat oorgeslaan is met die gawes nie. Jy het ook so ’n gawe ontvang. Die Een wat hierdie gawes uitdeel, is die Heilige Gees, en sy doel met hierdie gawes is dat God verheerlik en ander Christene gedien kan word. Jou gawe is daardie besondere taak wat God aan jou opgedra het wat jy die heel beste van almal sal kan doen. En Hy verwag van jou om jou gawe met geesdrif en gewilligheid in sy diens uit te leef. Wanneer jy gewillig is om dit te doen, seën God jou met nog méér gawes, sodat Hy jou selfs beter in sy koninkryk sal kan gebruik. Moet net nooit vergeet dat jou gawe nie iets is waarmee jy vir jouself eer moet inoes nie – jou gawe is aan jou geskenk en die eer daarvoor kom
God toe.
Heilige Gees, baie dankie vir die gawes wat U aan my gegee het. Maak my gewillig om hierdie gawes met geesdrif in u diens te gebruik en die eer daarvoor altyd aan U te gee. Amen.
8 April – Christene staan in ’n hegte verhouding met God
8 APRIL
Lees: Hosea 6:1–6
Christene staan in ’n hegte verhouding met God
“Kom ons gaan terug na die Here … Kom ons wy ons aan Hom toe, kom ons streef daarna om ons aan die Here toe te wy. Die Here sal verskyn, so seker as die son opkom, Hy sal na ons toe kom soos stortreën … – Hosea 6:1, 3
Christene is mense wat in ’n hegte verhouding met God staan. Die profeet Hosea vra die ongehoorsame volk dat hulle na die Here sal terugkeer en hulle weer aan Hom sal toewy. ’n Hegte verhouding met iemand anders veronderstel dat jy gewillig sal wees om jouself aan hierdie persoon toe te wy. Hoe groter die toewyding, hoe meer geslaag sal die verhouding wees. Om in ’n verhouding met God te staan, beteken dus dat jy Hom sal liefhê, dat jy gewillig sal wees om jou tyd, geld en kragte vir Hom aan te bied en ook dat jy bereid is om dinge vir Hom prys te gee, om Hom en sy koninkryk eerste te stel. Maar jou verhouding met God bly nutteloos as jy dit nie met jou lewe bewys nie. “Dié wat beweer dat hulle in ’n noue verbintenis met Hom leef, moet self ook leef soos Hy geleef het,” lui 1 Johannes 2:6 in die Nuwe Lewende Vertaling. “Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal,” raai Paulus die gemeente in Galasië aan (Galasiërs 5:25).
Nog ’n pluspunt van ’n hegte verhouding met God is dat Hy dan onderneem om ook in ’n hegte verhouding met jóú te staan. “Nader tot God en Hy sal tot julle nader,” beloof Jakobus (Jakobus 4:8). Leef jý al toegewy aan God?
Hemelse Vader, vergewe my my gebrek aan toewyding en help my om in die vervolg net vir U te lewe. Amen.
9 April – Christene doen God se wil
9 APRIL
Lees: Spreuke 11:30
Christene doen God se wil
Wie die wil van die Here doen, is ’n bron van lewe; die mens wat wysheid het, red lewens. – Spreuke 11:30
Wanneer God ons verander deur ons nuut te laat dink, leer ons terselfdertyd om God se wil te gehoorsaam. Die eerste ding wat jy moet doen as jy erns met God se wil wil maak, is om gewillig te wees om jou eie wil prys te gee. Die plek waar jy God se wil die duidelikste leer ken, is jou Bybel. In sy Woord stippel God sy wil op ’n duidelike, verstaanbare manier uit. Wanneer jy twyfel of ’n spesifieke ding God se wil is, kan jy maar net in jou Bybel gaan soek. Oor sommige dinge is God se wil glashelder: dit is sy wil dat alle mense in Hom moet glo; dat ons mekaar sal liefhê en sy evangelieboodskap sal uitdra. Indien jy twyfel oor ’n spesifieke onderwerp, byvoorbeeld of dit God se wil is dat jy ’n nuwe werksaanbod moet aanvaar, kan jy bid om God se leiding. Die Heilige Gees sal God se wil aan jou bekend maak. ’n Gesprek met ander Christene kan ook help om God se wil vir jou te verduidelik. God se wil is egter nie net iets wat jy moet leer ken nie, dit is ook iets wat jy moet dóén. Indien jy daartoe bereid is, kan jy die belofte in 1 Johannes 2:17 jou eie maak: “Dié wêreld én sy begeertes is aan die verbygaan. Wie die wil van
God uitvoer, leef egter vir altyd” (Nuwe Lewende Vertaling).
Hemelse Vader, vergewe my dat ek soms so traag is om u wil te doen. Ek bid dat U u wil aan my bekend sal maak in u Woord, deur u Gees en deur ander Christene. Amen.
10 April – Christene breek met die sonde
10 APRIL
Lees: 1 Johannes 5:18–21
Christene breek met die sonde
Ons weet dat iemand wat uit God gebore is, nie meer sondig nie, maar die Seun van God bewaar hom, en die duiwel kry geen houvas op hom nie. – 1 Johannes 5:18
In die Ou Testament lees ons telkemale dat God se volk sonde gedoen het. Dan moes hulle self die straf vir daardie sonde dra. Maar gelukkig leef jy ná die kruis, daarom weet jy dat Jesus reeds die straf vir jou sonde volledig aan die kruis betaal het. Hy bewaar jou sodat die duiwel vorentoe geen houvas op jou sal hê nie. Tog weet jy heel waarskynlik nog van ’n klomp verkeerde dinge wat in jou lewe oor is. Johannes skryf dat iemand wat beweer dat hy nie gesondig het nie, God tot ’n leuenaar maak. Daar is ongelukkig nie een mens op aarde wat dit kan regkry om volkome sondeloos te wees nie. Maar Christene is mense wat nie langer onder die heerskappy van sonde leef nie. ’n Christen hou nie aan om sonde te doen nie, want: “Elkeen wat aanhou sonde doen, het Hom nie gesien nie en het ook nie ’n begrip van Hom nie,” berig 1 Johannes 3:6 (Nuwe Lewende Vertaling). Indien jy wel by geleentheid weer sonde doen, het jy die belofte dat daar vir jou
altyd vergifnis by God te kry is. Al wat jy hoef te doen, is om jou sonde te bely: “Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid,” beloof Johannes (1 Johannes 1:9).
Here, baie dankie dat U elke keer bereid is om my sonde te vergewe wanneer ek dit bely. Help my asseblief om met die sonde in my lewe te breek. Amen.
11 April – Christene glo in Christus
11 APRIL
Lees: Handelinge 16:23–31
Christene glo in Christus
Toe het die bewaarder … bewend voor Paulus en Silas neergeval … en gevra: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?” Hulle antwoord hom: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.” – Handelinge 16:29– 31
As gevolg van hul geloof in Jesus word Paulus en Silas geslaan en onskuldig in die tronk gegooi. Ten spyte van hierdie onregverdige behandeling kry hulle dit steeds reg om in die tronk lofliedere tot eer van God te sing. Dan stuur God ’n aardbewing sodat die deure van die tronk oopgaan en die gevangenes se boeie losraak. Toe die tronkbewaarder dit sien, wou hy selfmoord pleeg omdat hy gedink het dat almal ontsnap het. Maar Paulus keer hom en vertel hom dat al die gevangenes steeds in die tronk is. Die tronkbewaarder kon duidelik sien dat Paulus en Silas iets gehad het wat hulle ánders gemaak het. “Wat moet ek doen om gered te word?” vra hy hulle daarop. “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word,” antwoord Paulus. Geloof in Jesus is die enigste ding wat jý nodig het om ’n Christen te word, daarom is dit ’n gegewe dat élke Christen in Jesus glo. Maar selfs jou geloof is ’n geskenk van God, want jy is nie tot geloof in staat as God nie Self geloof in
jou hart bewerk nie. Geloof maak dit vir jou moontlik om naby God te leef en op sy beloftes te vertrou. As jy in Jesus glo, beloof God jou die ewige lewe. Sónder geloof is jou lewe sinloos, maar mét geloof in Jesus maak jou hele lewe sin!
Here Jesus, baie dankie dat ek mag glo dat U die Seun van God is, en dat hierdie geloof vir my die ewige lewe moontlik maak. Amen.
12 April – Christene groei in die geloof
12 APRIL
Lees: 2 Petrus 1:3–8
Christene groei in die geloof
En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug … – 2 Petrus 1:5–6
Die enigste vereiste om ’n Christen te word, is geloof in Jesus Christus. Maar Christene mag nie dieselfde bly nie. Indien jy werklik erns maak met jou Christenskap, behoort jou geloof daagliks sterker te word. In sy tweede sendbrief gee Petrus jou ’n lysie “doendinge” wat dit vir jou moontlik sal maak om jou geloof te laat groei. Die Boodskap som hierdie verse in eenvoudige taal op: • Span jou in om altyd net te doen wat Jesus wil hê. • Saam met hierdie ywer vir die Here moet jy ook baie kennis van Hom hê. Sorg dus dat jy sy Woord goed ken. • Saam met kennis gaan selfbeheersing. Moenie toelaat dat sondige begeertes jou ooit onderkry nie. • Saam met selfbeheersing gaan standvastigheid. Hou aan om te glo in álle
omstandighede. Staan sterk! • Saam met standvastigheid gaan ’n lewe wat God verheerlik. Maak God se Naam groot in alles wat jy doen. Wat Petrus eintlik hier sê, is dat jy met jou hele lewe moet wýs dat jy ’n Christen is. Augustinus het gesê: “’n Goeie leefstyl is die kind van geloof.”* Hoe lyk dit, sien jy kans om die riglyne hierbo in jou eie lewe in te sleutel, sodat jy regtig die Christennaam werd sal wees?
Here Jesus, ek wil graag groei in my geloof, sodat dit elke dag sterker sal word. Help my om só te leef dat almal wat na my manier van lewe kyk, sal kan sien dat ek ’n Christen is. Amen.
* Augustinus
13 April – Christene het die Heilige Gees ontvang
13 APRIL
Lees: 1 Johannes 2:24–29
Christene het die Heilige Gees ontvang
Julle het immers die Heilige Gees ontvang van Hom wat in ’n hegte verhouding met julle leef; daarom het julle nie behoefte daaraan dat iemand julle onderrig nie. Want sy Gees lig julle oor alles in … – 1 Johannes 2:27–28 (Nuwe Lewende Vertaling)
Elke Christen hét die Heilige Gees in sy of haar lewe. Dit is God se geskenk wat jy in ontvangs neem sodra jy in Jesus glo. Hierdie Heilige Gees is die wonderlikste geskenk ooit, want Hy leer en lei jou élke dag, Hy leer jou bid én Hy bid Self vir jou, Hy praat met jou wanneer jy jou Bybel oopmaak en verseker jou dat jy werklik God se kind is. Dit is ook Hy wat die gawes waarvan ons in die dagstukkie van 7 April gepraat het, aan jou uitdeel. Wanneer jy die Gees van God in jou lewe het, is jy nie meer dieselfde mens as voorheen nie. Die Heilige Gees begin nou om jou gedrag te bepaal … Jy word verander om dié mens te wees wat God jou spesiaal gemaak het om te wees. Jy kry ’n hart vir ander mense en word gedring om vir hulle om te gee en hulle te help. “Die Gees van die Here my God het oor my gekom,” getuig die profeet Jesaja: “… Hy het my gestuur om dié wat moedeloos is, op te beur, om vir die gevangenes vrylating aan te kondig, … om aan te kondig dat die tyd gekom het waarop die Here genade betoon” (Jesaja 61:1–2). In die vervolg behoort jy die
Heilige Gees toe te laat om jou gedrag te bepaal.
Heilige Gees, dankie dat ek U in my lewe mag hê. Maak my gehoorsaam aan u Stem, bewus van u leiding en wys my hoe om te lewe soos God wil hê. Amen.
14 April – Christene dra die vrug van die Heilige Gees
14 APRIL
Lees: Galasiërs 5:16–22
Christene dra die vrug van die Heilige Gees
Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheer-sing. Teen sulke dinge het die wet niks nie. – Galasiërs 5:22–23
In sy brief aan die gemeente van Galasië spel Paulus dit vir hulle uit dat Christene se lewens die vrug van die Heilige Gees behoort te vertoon. In vandag se kernvers word die nege dele van die vrug van die Gees gelys. Christene moet die onvoorwaardelike liefde van Jesus in hulle lewens vertoon; behoort ’n innerlike vreugde uit te straal wat niks met hul omstandighede te doen het nie; Jesus se vrede wat alle verstand te bowe gaan in hul lewens weerspieël; altyd geduldig wees; ander mense deur die bank vriendelik behandel; goedhartig teenoor almal optree; absoluut getrou wees; ander mense eerste stel en self verantwoordelikheid neem vir hul eie optrede. Boonop kan jy nie maar op ’n paar van hierdie dele van die vrug fokus nie; álmal van hulle moet in jou lewe gesien kan word, anders gaan jy nie die paal haal nie! Jy besef seker teen hierdie tyd heel goed dat dit menslik onmoontlik is. Maar daar is hoop! Paulus gee die geheim in Galasiërs 5:16: “Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie,” skryf hy. Indien jóú lewe deur die Heilige Gees bestuur
(beheers) word, sal Hy self sy vrug in jou lewe bewerk – vra Hom om dit vir jou te doen!
Heilige Gees, ek wil nou die beheer van my lewe aan U oorgee. Sal U asseblief Self u vrug in my lewe bewerk, sodat al die dele van hierdie vrug in my lewe sigbaar sal wees. Amen.
15 April – Christene is spieëls van Christus
15 APRIL
Lees: 2 Korintiërs 3:13–17
Christene is spieëls van Christus
Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al hoe meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is. – 2 Korintiërs 3:18
Die Heilige Gees doen nog meer as om sy vrug in jou lewe te bewerk; Hy maak ook van jou ’n spieël van Christus sodat Christus se heerlikheid in jóú lewe kan weerkaats! Jy is dus ’n spieël waarin ánder mense vir Jesus behoort raak te sien. Jy behoort algaande te verander, meer en meer soos Hy te word, totdat sy eienskappe in jou lewe raakgesien sal kan word; totdat jy soos Hy dink en praat en doen. Hoe ander mense (veral die mense wat nie in Hom glo nie) vir Jesus gaan sien, hang dus af hoe kerngetrou die beeld is wat jý van Hom uitstraal. Soos die geval met die vrug van die Gees, sal jy dit net kan regkry om Jesus se heerlikheid te weerspieël as jou hele lewe onder die beheer van die Heilige Gees is. ’n Deel van hierdie spieëlopdrag is dat jy nou die evangelie behoort te verkondig. “Ons verkondig die woord in opregtheid, in verbon-denheid met Christus, in opdrag van God en in verantwoordelikheid aan God,” sluit Paulus 2 Korintiërs 2 af (vers 17). As jy ’n spieël van Christus wil wees, is dit gebiedend
noodsaaklik dat jy ’n dissipelmaker met ’n sendingvisie sal wees.
Here Jesus, vergewe my asseblief dat ek die meeste van die tyd so ’n dowwe spieël van U is. Help my om in die vervolg só te lewe dat ek u heerlikheid sal weerkaats, sodat ander mense vir U sal leer ken uit my optrede. Amen.
16 April – Christene het ’n sendingvisie
16 APRIL
Lees: Matteus 28:16–20
Christene het ’n sendingvisie
Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. – Matteus 28:19–20
Jesus se heel laaste opdrag aan sy dissipels was om sy evangelie die hele wêreld deur te verkondig en dissipels van álle mense te maak. Ná sy hemelvaart het Jesus se klompie dissipels oral waar hulle gegaan het, sy blye boodskap verkondig. Ook Paulus, wat seker die wêreld se grootste sendeling was, het sy hele lewe op die pad deurgebring om die verlossing wat Jesus bring aan mense te vertel wat nog nooit van Hom gehoor het nie. Geleerdes skat dat hy in die uitvoering van hierdie sendingopdrag sowat 24 000 kilometer tydens sy leeftyd gestap het! Hedendaagse sendelinge werk vandag steeds onder haglike omstandighede, hulle is tevrede met baie min geld, offer alles vir die Here se saak op, meestal sonder om veel sukses op hul pogings te sien. Alhoewel ons nie almal voltydse sendelinge kan wees nie, is die sendingopdrag vandag steeds aan elke Christen gerig. Jý behoort ’n sendeling met ’n sendingvisie te wees op die plek waar jy bly, in jou werkplek, in jou gemeente, en – byna die belangrikste – in jou gesin en familie. Weet almal wat jy ken al dat jy ’n Christen is? Wat doen jy om ander
mense dissipels van Jesus te maak? Indien jy nog nooit voorheen Jesus se sendingopdrag uitgevoer het nie, is dit miskien nou tyd vir jou om daarmee te begin!
Here Jesus, vergewe my dat ek tot op hede so ’n swak sendeling vir U was. Gee vir my die vermoë en die vrymoedigheid om u boodskap uit te dra. Amen.
17 April – Christene stel Jesus eerste
17 APRIL
Lees: Markus 8:34–38
Christene stel Jesus eerste
“As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou. – Markus 8:34–35
Christene is mense in wie se lewe Jesus eerste behoort te kom. Maar Jesus se volgelinge moet goed besef dat die keuse om Hom te volg, nie ’n keuse sonder ’n prys is nie. Jesus se liefde is ’n kruisliefde – dit vra van jou om bereid te wees om jou dierbares en alle ander dinge wat vir jou kosbaar is, ter wille van Hom prys te gee; om jouself te verloën, dit wil sê om sélf tweede te kom sodat Jesus die belangrikste plek in jou lewe sal inneem. Glo my, dit gaan moeilik wees, want daar is min mense wat ons so lief het soos onsself! Maar indien jy bereid is om dit te doen, is die ewige lewe joune. Jy moet ook gewillig wees om jou kruis op te neem en Hom te volg. Jesus het sy volgelinge gewaarsku dat hulle hier op aarde gaan swaarkry – en hierdie waarskuwing is ook aan jou adres gerig. “… wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou,” beloof Jesus sy dissipels (Johannes 12:25). Paulus het ook hierdie geheim geken. “… want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins,” skryf hy aan die gemeente in Filippi (Filippense 1:21). Kan jy al met eerlikheid sê dat jy Jesus so graag sal wil volg dat jy alles vir Hom sal prysgee?
Here Jesus, maak my gewillig om U in alles eerste te stel, om alles anders prys te gee, sodat ek U met volkome oorgawe kan volg. Amen.
18 April – Christene leef met blydskap
18 APRIL
Lees: Johannes 15:9–17
Christene leef met blydskap
“Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly … Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees. – Johannes 15:9, 11
Almal van ons wil graag gelukkig wees, en in die najaag van hierdie blydskap versamel ons al hoe meer dinge om ons. Maar uiterlike dinge soos geld en besittings kan uiteindelik geen ware geluk waarborg nie. Die enigste Persoon wat vir ons blywende geluk kan waarborg, is Jesus, en daarom behoort elke Christen wat in Hom glo, daagliks met blydskap te leef. Die diepgaande blydskap van Christene verskil egter hemelsbreed van die oppervlakkige blydskap van ongelowiges wat net daar is wanneer dit met hulle goed gaan. Die volkome blydskap waarvan Jesus in ons kernteks praat, is ’n blywende blydskap wat nie van uiterlike omstandighede afhanklik is nie, maar in jou geloof geanker is. Mense met hierdie soort blydskap ken die Bron van álle ware blydskap. Hulle kan dit regkry om steeds bly te wees, selfs wanneer dit nié goed gaan nie. Die psalmdigter som dit mooi op in Psalm 34:6: “Dié wat swaar kry, sien op na Hom en straal van blydskap, hulle word nie teleurgestel in hulle verwagting nie.” Vreugde is ’n deel van die vrug van die Heilige Gees. Daarom behoort jy dit reeds in jou lewe te hê. Indien jy nog nie Jesus se blydskap in jou lewe ervaar
nie, vra Hom daarvoor. Doen dan iets wat iemand ánders bly sal maak!
Here Jesus, dankie vir u borrelende blydskap wat onlosmaaklik deel van my lewe vorm. Maak dit vir my moontlik om hierdie blydskap aan ander deur te gee deur iets te doen wat hulle bly sal maak. Amen.
19 April – Christene mag met God praat
19 APRIL
Lees: Johannes 16:16–24
Christene mag met God praat
“Dít verseker Ek julle: Wat julle die Vader ook al in my Naam sal bid, sal Hy vir julle gee. Tot nou toe het julle nog nie in my Naam gebid nie. Bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.” – Johannes 16:23–24
As jy ’n Christen is, behoort dit vir jou so natuurlik te wees om te bid as om asem te haal. Gebed word dan ook dikwels geestelike asemhaling genoem. As jy nie asem kan haal nie, sal jy binne minute dood wees. Sonder voortdurende gesprek met God gaan dit ook nie vir jou lank neem om geestelik dood te wees nie. In Johannes 16 leer Jesus sy dissipels hoe om met sy Vader te praat. As hulle dinge van God in sy Naam vra, sal Hy dit vir hulle gee, beloof Hy. En in die lewe van mense wat op hierdie manier bid en dinge van God kry, is daar altyd volkome blydskap. Ongelukkig werk dit nie altyd so in die praktyk nie! Almal wat al gebid het, weet heel goed dat ons nié altyd alles wat ons van God vra, kry nie. Dit is ook nie wat Jesus hier sê nie: ons moet in sy Naam vra, is sy opdrag in vandag se kernvers. “Dit impliseer nie ’n onbeheerste vra nie, maar ’n vra volgens die wil van God,” verduidelik Die Bybellennium.* Jy het dus ’n direkte toegang tot God, omdat Jesus vir jou hierdie geweldige voorreg aan die kruis verdien het. As jy op hierdie manier dinge van God bid, vra jy dus dinge wat in ooreenstemming met
God se wil is, en dán sal Hy elkeen van jou gebedsversoeke toestaan.
Here Jesus, ek loof U dat U vir my die voorreg om in u Naam te mag bid moontlik gemaak het. Amen.
* FJ van Rensburg en M Nel, Die Bybellennium, p 1 621
20 April – Christene bly in Christus
20 APRIL
Lees: Johannes 15:1–8
Christene bly in Christus
“Julle moet in My bly en Ek in julle. ’n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie. Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.” – Johannes 15:4–5
Baie mense in Jesus se tyd was wingerdboere. Hulle sou dus Jesus se vergelyking van die wingerdstok en die lote goed kon verstaan. Christene is mense wat in Jesus moet bly indien hulle graag vir Hom vrugte wil dra. Sónder Jesus kan ons niks doen nie, sonder Hom in ons lewe sal daar ook geen vrugte wees nie. Gelukkig is die omgekeerde ook waar: dié mense wat in Hom bly, en Hy in hulle, dra baie vrugte. In Johannes 15:2 waarsku Jesus dat nuttelose lote wat nie vrug dra nie omdat hulle weier om in die wingerdstok te bly, uiteindelik afgesny en verbrand gaan word. Dié lote wat egter wel vrugte dra, word reggesnoei, sodat hulle in die vervolg nog méér vrugte sal kan dra. Indien jy graag vir God vrugte wil dra, sal jy in Jesus moet bly, in ’n hegte verhouding met Hom moet staan en die opdragte in sy Woord na moet die letter moet gehoorsaam. Maar selfs al dra jy vrugte, mag Hy jou by geleentheid met die snoeiskêr bykom sodat jy nog meer vrugte sal dra – ’n proses wat dalk nie lekker is nie, maar altyd tot jou beswil sal wees. Sorg dus dat jy vrugte dra wat
by jou bekering pas!
Here Jesus, ek wil graag in U bly, u opdragte gehoorsaam en vir U vrugte dra. Snoei my reg waar dit nodig mag wees. Amen.
21 April – Christene verwerk seerkry positief
21 APRIL
Lees: Jesaja 30:19–26
Christene verwerk seerkry positief
Jy, volk in Sion, jy wat in Jerusalem woon, jy hoef nie meer te huil nie. Die Here sal jou genadig wees as jy na Hom roep om hulp, Hy sal jou gebed verhoor sodra Hy dit hoor. – Jesaja 30:19
Die wêreld waarin ons woon, is vol pyn en hartseer, en daar is nie-mand van ons wat hierdie pyn en hartseer kan vryspring nie. Jesus het Self gewaarsku dat sy kinders in hierdie wêreld verdrukking sal ly. Tog is Christene mense wat ánders seerkry as ongelowiges omdat hulle die geheim ken hoe om hul seerkry positief te verwerk. Hulle weet immers dat God van al hul hartseer en swaarkry weet, dat die hemel op hulle wag, dat al hul trane daar vir goed afgevee sal word, omdat daar nie meer leed of smart of pyn sal wees nie. “Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly,” troos Paulus die gemeente in Korinte in húl swaarkrytyd (2 Korintiërs 4:16–17). Droog gerus af daardie trane! Vertel God van jou swaarkry; Hy sal jou genadig wees as jy na Hom roep om hulp en jou gebed verhoor sodra Hy dit hoor, belowe vandag se kernvers. Jy mag dus maar met vertroue glo dat ook jou hartseer en pyn van die oomblik eendag vir jou na ewige blydskap sal lei.
Hemelse Vader, ek loof U dat ek seker mag wees dat my seerkry en swaarkry net tot hierdie wêreld beperk is, en dat ek nou reeds mag uitsien na ’n heerlikheid by U wat vir altyd sal duur. Amen.
22 April – Christene is meer as oorwinnaars
22 APRIL
Lees: Romeine 8:31–39
Christene is meer as oorwinnaars
Daar staan immers geskrywe: “Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig, dat ons soos slagskape behandel word.” Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. – Romeine 8:36–37
In Romeine 8:35–36 gee Paulus vir die gemeente in Rome ’n lysie van al die swaarkrydinge wat ons nié van die liefde van God kan skei nie: daar is lyding, benoudheid, vervolging, honger, naaktheid, gevaar en die swaard. God waarborg vir sy kinders dat hulle wel mag swaarkry in die wêreld, dat hulle selfs in doodsgevaar mag verkeer, maar verseker hulle dat hulle in al hierdie dinge meer as oorwinnaars sal wees. Al gaan dit ook hoe moeilik met jou, mag jy vir seker weet dat al die swaarkry uiteindelik tot jou beswil sal wees. “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is,” skryf Paulus ’n paar verse vroeër (Romeine 8:28). God gee selfs vir jou die krag om die duiwel ore aan te sit en om elke keer as oorwinnaar uit die stryd teen die Bose te tree. “Julle is kragtig en die woord van God is deel van julle bestaan en julle het as oorwinnaars oor die bose uit die stryd getree,” skryf Johannes (1 Johannes 2:14, Nuwe Lewende Vertaling). As jy dus ’n Christen is, sal niks jou ooit kan onderkry nie. Onthou net altyd dat die oorwinning nie in jou eie krag gaan geskied nie, maar in die krag wat Jesus tot
jou beskikking sal stel.
Here Jesus, baie dankie dat ek met u krag in elke situasie méér as ’n oorwinnaar mag wees, en dat heeltemal niks my ooit van U liefde kan skei nie. Amen.
23 April – Christene is mense wat moed hou
23 APRIL
Lees: Johannes 16:25–33
Christene is mense wat moed hou
“Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.” – Johannes 16:33
Christene mag moed hou, selfs gedurende die heel ergste krisisse, juis omdat Jesus reeds die wêreld oorwin het. Wanneer ons die koe-rante lees en na die nuus kyk waarin daar soveel stories van geweld en misdaad is, raak ons moed inderdaad soms min … Die feit dát hulle weier om moed op te gee, is juis die karaktertrek wat Christene van ongelowiges onderskei. “Moenie moed opgee nie. Moet nooit moed opgee nie. Moet nooit, nooit, nooit moed opgee nie. Nie in die groot dinge nie, maar veral nie in die kleintjies nie,” was Churchill se raad aan die soldate tydens die Tweede Wêreldoorlog. Miskien was dit juis hierdie raad wat hulle die oorlog laat wen het! As jy ’n Christen is, het jy vir God aan jou kant: die heel beste rede waarom jy in álle omstandighede mag moed hou. Die heersende onrus in Suid-Afrika hoef ook nie jou moed te breek nie – God is steeds volkome in beheer en Hy sal self sy kinders bewaar. Dwarsdeur die Bybel is daar moedhoutekste wat Christene aanmoedig om moed te hou: “… sê vir dié wat moed verloor het: ‘Wees sterk, moenie bang wees nie, julle God is hier …” skryf die profeet Jesaja (Jesaja 35:4). “… Ek maak die moedelose weer vol moed,” beloof God aan die profeet
Jeremia (Jeremia 31:25). Leer hierdie twee teksverse uit jou kop sodat jy hulle byderhand kan hê as jy weer op moedverloor se vlakte beland!
Here, ek loof U dat ek maar in álle omstandighede moed mag hou, omdat U by my is. Ek hou vas aan U belofte dat U my weer vol moed sal maak. Doen dit asseblief vir my. Amen.
24 April – Christene is uitverkorenes
24 APRIL
Lees: Efesiërs 1:3–12
Christene is uitverkorenes
So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees. – Efesiërs 1:4–5
Hierdie bevestiging: dat God ons nog vóórdat Hy die wêreld geskep het reeds in Christus uitverkies het om sy kinders te wees, slaan my asem weg elke keer as ek dit lees. Om God se uitverkiesende genade vir sy kinders te verstaan, is onmoontlik, nie een van ons verdién immers om gered te word nie. God kies mense om aan Hom te behoort, maar nie alle mense wat Hý gekies het, kies Hóm nie. Die keuse om ’n Christen te wees, bly joune. Jy kan vir God nee sê en weier om sy genadeaanbod te aanvaar. Gelukkig hoef jy nie jou kop daaroor te breek of jy nou uitverkies is of nie. As jy ’n Christen is, mag jy doodseker daarvan wees dat jý een van God se uitverkorenes is. Dit is juis Jesus wat dit vir jou aan die kruis moontlik maak om God se kind te mag wees. Daar is duisende mense wat nog nooit die verlossingsboodskap gehoor het nie; die blote feit dat jý in ’n land woon waar jy van kleins af aan God voorgestel is en sonder enige vervolging jou geloof mag uitleef, is nog ’n bewys dat God jou verkies het. Het jy al vir God ja gesê? Dan
moet jy van nou af gaan leef soos iemand wat deur Hom uitverkies is.
Here God, ek loof U dat U my voordat U die wêreld geskep het spesiaal uitverkies het om aan U te behoort. Dankie dat ek reeds kon ja sê op u wonderlike verlossingsaanbod. Amen.
25 April – Christene is gewillig om te vergewe
25 APRIL
Lees: Matteus 6:9–15
Christene is gewillig om te vergewe
“As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.” – Matteus 6:14–15
Jesus leer sy dissipels om te bid: “… vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree” (Matteus 6:12). Direk daarna sê Hy vir hulle dat indien hulle nie bereid is om ander mense se oortredings te vergewe nie, God ook nie húl sonde sal vergewe nie. Gelukkig beteken dit nié dat God se vergifnis vir jou sonde afhanklik is van jou vergifnis van ander mense nie – in hierdie geval sal bitter min van ons vir sy vergifnis kwalifiseer! Dis mos altyd makliker om van God vergifnis te vra as om self bereid te wees om te vergewe. Maar dit is presies wat God van jóú vra. As jy al self dikwels deur God vergewe is, behoort dit nie vir jou so moeilik te wees om ander mense te vergewe nie. Indien jy steeds weier om dit te doen, sê jy eintlik met hierdie onvergewensgesindheid van jou dat jy self nie God se vergifnis nodig het nie. Jesus sê aan Petrus dat hy bereid moet wees om “sewentig maal sewe keer” te vergewe (Matteus 18:22). As Christen behoort jy gewillig te wees om ander mense wat jou te na kom, te vergewe. As jy steeds sukkel om ’n sekere mens te vergewe, vra God om dit vir jou moontlik te maak om nie net te vergewe nie,
maar ook om die dinge wat hierdie mens gedoen het, te vergeet.
Here Jesus, ek sukkel so om te vergewe – help my asseblief om te vergewe én te vergeet, soos U bereid is om met my sonde te doen. Amen.
26 April – Christene leef met wysheid
26 APRIL
Lees: Spreuke 3:13–18
Christene leef met wysheid
Dit gaan goed met die mens wat wysheid gevind het, wat insig as sy deel ontvang het, want dit bring meer winste in as silwer en lewer ’n groter opbrengs as goud … Die wysheid bring ’n ryk en ’n vol lewe. Dit is ’n bron van lewe vir wie dit aangryp, dit gaan goed met dié wat daaraan vashou. – Spreuke 3:13–14, 17–18
Wysheid is die gawe om tussen reg en verkeerd te kan onderskei. Ware wysheid kom net van God, om daardie rede behoort Christene mense te wees wat met wysheid leef. “Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig,” staan daar in Spreuke 9:10. God gee vir jou sy wysheid omdat die Heilige Gees in jou woon. Dit is Hy wat vir jou sê wanneer jy op die verkeerde pad is, net Hy wat jou in die “volle waarheid” kan lei. As jy gewillig is om op die Heilige Gees se leiding in jou lewe te reageer, kry jy daardie wysheid waarvan die Spreukeskrywer praat. Indien jy meen dat jy nog wysheid in jou lewe kortkom, verseker Jakobus jou dat jy dit met groot vrymoedigheid van God kan vra: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee,” skryf Jakobus (Jakobus 1:5). Daar is egter ’n voorwaarde by: die een wat wysheid van God vra, moet gló dat hy dit van God sal ontvang. Bid en glo dat God sy wysheid in jou lewe sal openbaar.
Here, ek kom vandag bid dat U asseblief u wysheid aan my sal gee; help my om die regte besluite te neem, om tussen reg en verkeerd te onderskei en om van nou af met wysheid te leef. Amen.
27 April – Christene wy hul lewe aan goeie dade
27 APRIL
Lees: Efesiërs 2:4–10
Christene wy hul lewe aan goeie dade
Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het. – Efesiërs 2:10
God kan alles doen, maar Hy kan niks konkreets op aarde doen sónder die hulp van sy kinders nie. Hy werk deur ons, en daarom skep Hy ons om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons gemaak het. Die kerk waaraan ons dogter behoort, was vir my ’n ware openbaring. Al die lidmate ken mekaar persoonlik en gee werklik om vir mekaar. Hulle “bless mekaar”, soos ons dogter sê. As iemand ’n seëning te beurt val, stuur hy daardie seëning aan. Met die geboorte van hul baba het gemeentelede twee weke lank élke aand vir hulle die heerlikste kos gebring. Hulle het ook ’n koevertjie met R2 500 van ’n anonieme persoon gekry op ’n tydstip toe hulle dit werklik nodig gehad het. Ek kon nie help om te dink dat in die gemeente waaraan ék behoort, daar beslis minder goeie dade gedoen word nie! Elke mens op aarde het ’n spesifieke doel waarvoor God hom of haar spesiaal geskep het. Jy ook! Indien jy nog nie weet watter “goeie werke” jy vir God moet doen nie, is dit hoog tyd dat jy sal uitvind vir watter werk God jou gemaak het, en onderneem om dit in die vervolg na die beste van jou vermoë te doen. Onthou
net dat hierdie “werk” verband sal hou met die spesifieke gawes wat jy van God ontvang het.
Here, ek wil graag in die vervolg meer tyd bestee aan die goeie dade waarvoor U my bestem het. Wys my asseblief waar U my nodig het. Amen.
28 April – Christene is dankbare mense
28 APRIL
Lees: 1 Tessalonisense 5:16–28
Christene is dankbare mense
Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag. – 1 Tessalonisense 5:18
Dankbare mense is mense wat besef dat hulle ’n gawe ontvang het, skryf ’n anonieme Nederlander. Die meeste mense is so gewoond om dinge te kry, dat hulle verleer het om dankbaar te wees (en in sommige gevalle ook om dankie te sê!). Paulus skryf aan die gemeente in Tessalonika dat God verwag dat hulle in álle omstandighede dankbaar behoort te wees – dit wil sê dat hulle ook dankbaar moet wees vir daardie dinge wat hulle liefs anders sou wou hê. In my eie lewe het ek al baie keer ondervind dat dinge wat op daardie oomblik glad nie lekker was nie, later groot vrug in my lewe gedra het. Om dankie te sê is baie min moeite, en tog laat ons dit so maklik na. Ons vergeet om dankie te sê vir mense wat vir ons iets gegee of gedoen het, en ons vergeet ook om vir Gód dankie te sê vir al sy seëninge wat Hy oor ons uitstort. Christene behoort die dankbaarste van álle mense te wees. Jy weet immers dat jou sonde vergewe is, dat God vir jou sal sorg en dat die hemel vir jou wag. Gaan sit gerus en maak ’n lysie van al die dinge waarvoor jy dankbaar is. Probeer om elke dag ’n paar nuwe dankies by jou lysie te voeg. As die lewe dan weer met sy rugkant na jou toe staan, gaan lees daardie lysie van voor tot agter en sê vir God dankie
vir elke ding daarop.
Hemelse Vader, vergewe my my ondankbaarheid. Ek staan verstom oor die lengte van my dankielysie. Baie dankie vir elke item daarop! Leer my asseblief om in álle omstandighede dankbaar te wees. Amen.
29 April – Christene het reeds die ewige lewe
29 APRIL
Lees: 1 Johannes 5:9–15
Christene het reeds die ewige lewe
En dit is die inhoud van sy getuienis: God het aan ons die ewige lewe gegee, en dié lewe bestaan in ’n hegte verhouding met sy Seun. Hy wat deel het aan die Seun, het nou reeds die ewige lewe; wie nie deel het aan die Seun van God nie, het ook nie deel aan die ewige lewe nie. – 1 Johannes 5:11–12 (Nuwe Lewende Vertaling)
Jesus Christus het werklik mens geword, skryf Johannes aan die lesers van sy brief. As mensgeworde Seun van God kom Hy na die wêreld om ons van sonde te verlos en ons met God te versoen. Almal wat in Hom glo, hét reeds die ewige lewe. Hierdie getuienis word deur die Heilige Gees Self in ons harte bevestig. Christene weet en glo dat die hemel in die toekoms op ons wag; ons glo dat Jesus reeds besig is om ons plek daar voor te berei. Maar Johannes sê iets nóg beter: die hemel is nóú reeds joune. Die voorwaarde is dat jy in Jesus sal glo en in ’n hegte verhouding met Hom sal staan, en dit is presies waarom Christenskap gaan. Die doel van die 1 Johannes-brief word in 1 Johannes 5:13 gegee: hierdie brief is spesiaal geskryf sodat alle Christene mag weet dat hulle nóú reeds deel het aan die ewige lewe. Indien jy ’n Christen is, is die ewige lewe reeds joune. Niemand
kan dit ooit weer van jou wegneem nie, jy besit dit vir altyd. Jy hoef dit ook nie te probeer verstaan nie, jy mag dit maar net in die geloof joune maak en nou reeds vir God daarvoor dankie sê.
Hemelse Vader, dankie vir die wondervoorreg om in ’n hegte verhouding met Jesus te mag leef, en seker te wees dat die ewige lewe nóú reeds myne is! Amen.
30 April – Christene mag uitsien na ’n ewigheid saam met God
30 APRIL
Lees: Openbaring 21:1–7; 22:3–5
Christene mag uitsien na ’n ewigheid saam met God
Toe het ek ’n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie.” … Daar sal nie meer nag wees nie … omdat die Here God hulle sal verlig, en hulle sal tot in alle ewigheid regeer. – Openbaring 21:3–4; 22:5
Om ’n getroue volgeling van Jesus (dus ’n Christen) te wees, beteken dat jy die belofte het dat jy eendag vir ewig saam met God in die hemel sal wees. Op die eiland Patmos ontvang Johannes ’n gesig van die nuwe hemel en die nuwe aarde wat vir al God se kinders beskore is. God woon in al sy heerlikheid saam met die gelowiges in die nuwe Jerusalem. In daardie nuwe Jerusalem sal alle negatiewe dinge wat ons op aarde ervaar het, vir altyd verby wees; ons sal nie meer hartseer wees, siek word, swaarkry of doodgaan nie. In die volmaakte saamwees met God bestaan die gevolge van die sonde nie meer nie. God belowe om álle dinge nuut te maak, die mense sowel as die skepping. Dit waarna die skepping so reikhalsend uitsien in Romeine 8:18–22 sal dan in vervulling gaan, en almal wat in Jesus glo, sal God daglank loof en prys en tot in alle ewigheid saam met Hom regeer.
Here Jesus, ek loof U dat geloof in U die hemel vir my moontlik maak. Dankie dat ek daar in alle ewigheid gelukkig saam met U sal wees. Amen.
Gebed
Gebed
Here Jesus, ek wil graag met my hele lewe bewys dat ek ’n Christen is. Maak dit vir my moontlik om U bo alles lief te hê, ander mense bo myself te stel, heilig in die wêreld te leef en absoluut gehoorsaam aan die riglyne in u Woord te wees. U maak dit vir my moontlik om God se kind en erfgenaam te mag wees, om nuut te leer dink, en om my gawes tot u eer te gebruik. Help my om al hoe nader aan U te leef, sodat my geloof al hoe sterker sal word en my verhouding met U elke dag sal verinnig. Ek wil my aan U toewy deur al hoe meer soos U te word, u wil te doen en met die sonde te breek. Dankie vir die geskenk van die Heilige Gees wat in my woon en my daagliks leer en lei. Maak my ’n helder spieël wat u heerlikheid sal weerkaats en gee vir my ’n sendingvisie sodat ek ander mense van U sal vertel. Van nou af wil ek U eerste stel en alle ander dinge ter wille van U prysgee; ek wil leef met die innerlike blydskap wat van U kom; in u Naam met God praat en in U bly. Dankie dat ek dit met u hulp sal kan regkry om my seerkry en swaarkry positief te verwerk, om in alle omstandighede meer as ’n oorwinnaar te wees en steeds moed te kan hou omdat U my spesiaal uitverkies het om U s’n te wees. Maak my gewillig om te vergewe, met wysheid te leef en my lewe toe te wy aan die goeie dade waarvoor U my gemaak het. Baie dankie dat ek reeds die ewige lewe hét en dat ek mag uitsien na ’n ewigheid saam met U. Amen.
Mei: Een Maand om te lewe
MEI: EEN MAAND OM TE LEWE
Twee Amerikaners, Kerry en Chris Shook, het ’n merkwaardige boek geskryf met die titel One Month to Live. Wanneer ’n mens weet dat jy nie die wêreld se tyd oor het nie, leef jy ánders; gaan jy die tyd wat jy oor het anders gebruik en heel waarskynlik anders optree teenoor die mense wat jy liefhet. Dan sal jy jou unieke gawes optimaal gebruik en jou bes probeer om uit te vind presies waarvoor jy hier op aarde is, berig hulle. In hierdie maand gaan ons die riglyne van One Month to Live volg en leer om te leef asof elkeen van óns net een maand oor het. In die proses gaan jy leer om jou lewe en geliefdes meer te waardeer, jou prioriteite reg te kry en jou verhouding met God te verstewig, sodat jy aan die einde van die maand veel beter toegerus sal wees om voluit te leef. Gaan jy die uitdaging aanvaar?
1 Mei – Vier riglyne vir ’n volheidslewe
1 MEI
Lees: Matteus 25:1–13
Vier riglyne vir ’n volheidslewe
“Maar die bruidegom antwoord: ‘Ek sê vir julle: Ek ken julle nie!’ Waak dan, omdat julle nie weet op watter dag en uur dit sal gebeur nie.” – Matteus 25:12– 13
Die gelykenis wat Jesus vertel het van die vyf verstandige en die vyf onverstandige meisies wat op die bruidegom gewag het, is baie be-kend. Die onverstandige meisies het die bruilof verpas omdat hulle nie gereed was vir die koms van die bruidegom nie. Daar is vier riglyne wat nagevolg moet word indien jy net ’n maand oor sou hê om te leef, skryf die Shooks: • leef met ie; • hê voluit lief; • wees in nederigheid bereid om te leer • en neem moedig afskeid.* Mense wat hierdie vier riglyne volg, behoort ernstig na te dink oor presies wát
hulle uit die lewe wil hê en dan werk te maak van die faktore wat hulle tot nou toe verhinder het om hul drome waar te maak. Die dood wag vir elkeen van ons. Daar is geen manier waarop jy dit sal kan vryspring nie. En omdat jy nie weet wanneer dié dag sal aanbreek wanneer jy gereed moet wees om die Here te ontmoet nie, sal dit goed wees om elke dag só te leef asof jy die Here binnekort verwag, sodat jy nie dalk eendag die bruilof sal verpas soos die vyf onverstandige meisies gedoen het nie. Maak solank ’n lysie van vyf dinge wat jy graag sal wil verander in jou eie lewe, kies dan een daarvan en begin sommer vandag om dit te doen.
Here, help my om elke dag só te leef asof U my vandag nog sal kom haal. Maak my gewillig om van nou af met ie te leef, voluit lief te hê, bereid te wees om te leer en moedig afskeid te neem. Amen.
* K en C Shook, One month to live, p 5
2 Mei – Leef vir vandag
2 MEI
Lees: Psalm 118:14–29
Leef vir vandag
Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees. – Psalm 118:24
Ons lewe hier op aarde is verganklik; ons dae gaan soos ’n skaduwee verby, skryf die psalmdigter in Psalm 144:4. Met die tyd wat verby is, kan ons niks doen nie, en ons kan ook nie nou al die tyd gebruik wat nog in die toekoms lê nie. Dit help dus nie om in die verlede of in die toekoms te probeer leef nie. Maar ons hét vandag. Vandag is die dag wat God spesiaal vir jou gemaak het, wat Hy tot jou beskikking stel, sodat jy die dinge kan doen wat vir jou bevredigend is, sodat jy voluit en met blydskap kan leef. Baie mense leef in die toekoms: hulle meen dat hulle “eendag” hul drome waar sal maak; dat hulle eendag om die wêreld gaan reis, meer tyd aan hul gesinne sal gee, gaan begin om hul geld te spaar. Maar vir die meeste van ons breek eendag nooit aan nie. Vandag is die enigste tyd wat aan jou behoort. Leef dus vandág voluit, maak vandag se ure vol deur te leef asof dit jou laaste dag op aarde is. Speel met jou kinders, verseker jou man van jou liefde, kuier by jou vriende, doen die dinge wat vir jou nodig én lekker is. Werk met entoesiasme, en as jy ’n krisis beleef, hou nog net vandag aan jou geloof vas. Laat God toe om jou vandag te ondersteun. Gee jou stuk seerkry vandag vir Hom om te hanteer. Hy
wil dit graag doen.
Here, dankie vir vandag. Vir ’n dag waarin ek voluit kan leef, al weet ek dat ek verganklik en my tyd op aarde beperk is. Wys my hoe ek vandag voluit op U kan vertrou. Amen.
3 Mei – Moenie tyd mors nie!
3 MEI
Lees: Kolossense 4:2–6
Moenie tyd mors nie!
Wandel in wysheid teenoor die wat buite is, en koop die tyd uit. – Kolossense 4:5 (1933–vertaling)
Maak die beste gebruik van elke geleentheid. – Kolossense 4:5
Die meeste mense is geneig om klein stukkies tyd te mors. As ek ’n halfuur voor kosmaaktyd by die huis kom, probeer ek nie eens werk nie, maar trek myself op die bank neer met ’n boek. Ek vergeet gerieflikheidshalwe dat ses halfure drie uur is – die tyd wat ek gewoonlik soggens werk. Om halfure te mors, beteken uiteindelik dat daar ’n hele paar uur per week in die slag bly. As ’n mens wéét dat jou tyd min is, sal jy heeltemal anders daarmee werk. Jy gaan dit – soos Paulus aanraai – “uitkoop”, die heel beste gebruik daarvan maak. Miskien het dit tyd geword om bestek van jou tyd op te neem. Om mooi te dink of daar nie maniere is waarop jý tyd mors nie. Besluit om eerder dié dinge te doen wat op die lange duur vir jou die meeste waarde sal hê; spandeer meer tyd saam met jou gesin, met jou Bybel, bring minder tyd voor die televisie of rekenaar deur … Bestuur jou tyd só dat jy ná jou dood iets sal nalaat wat die
wêreld vir ander mense ’n beter plek sal maak. As jy jou tyd mors, mors jy uiteindelik jou lewe, want die lewe bestaan immers uit tydsmomente. Belê in mense, doen goeie dinge vir ander, beding vir jouself rustyd, fokus op dié dinge wat ewigheidswaarde het. Besluit sommer nou wat jý gaan doen om jou tyd beter te benut.
Vader, vergewe my dat ek so maklik my tyd mors. Leer my om die tyd tot my beskikking ten beste te gebruik en om nie langer tyd te mors met dinge wat nie die moeite werd is nie. Amen.
4 Mei – Leef digby die Kragbron
4 MEI
Lees: Efesiërs 3:14–21
Leef digby die Kragbron
Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus … – Efesiërs 3:20–21
Presies hóé afhanklik ’n mens van elektriese krag is, het Suid-Afrikaners eers in 2008 besef toe ons ’n reeks kragonderbrekings gehad het. Soggens moes ons in die donker opstaan en klaarmaak vir werk, die verkeer het opgedam by verkeersligte wat nie gewerk het nie, winkels kon nie besigheid doen nie. (Vir my was dit nogal lekker om nie kos te kon kook nie!) Ons is egter nog meer afhanklik van Gód se krag in ons lewe as van elektriese krag. Sonder sy wonderwerkende krag is ons maar tot baie min in staat, maar dit is ongelooflik dat ons met sý krag tot ons beskikking letterlik álles kan regkry. Hy kan nog veel méér doen as wat ons bid of dink … Wanneer ’n herlaaibare battery pap word, moet dit by die kragbron herlaai word. Net so behoort jy jou eie krag op te skerp deur dit by God, jou Kragbron, te herlaai wanneer dit nodig word. Al wat jy hoef te doen om dit reg te kry, is om aan God verbind te bly, met Hom te kommunikeer deur Bybelstudie en gebed, jou sonde te bely sodra jy daarvan bewus raak. “Communication and confession will keep us connected to the ultimate power source,” skryf die Shooks.*
Moenie langer uitstel om dit te doen nie!
Hemelse Vader, ek wil graag digby U bly, sodat u krag deur my lewe kan vloei en ek tot álle dinge in staat sal wees. Help my om dit reg te kry. Amen.
* Ibid., p 30
5 Mei – Leef gesond
5 MEI
Lees: 1 Korintiërs 6:12–20
Leef gesond
’n Mens se liggaam is nie bedoel vir seksuele losbandigheid nie, maar is daar vir die Here, wat ook oor ons liggaam Here is … Of besef julle nie dat julle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie? … Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik. – 1 Korintiërs 6:13, 19–20
Ons liggame is belangrik vir God. Hy het ons immers gemaak, ons is tempels van Hom, skryf Paulus in 1 Korintiërs 6. Dit is dus nodig dat jy die liggaam wat jy van God ontvang het, goed sal oppas. Mense wat gesond leef, het ’n veel langer lewensverwagting as mense wat van gemorskos leef, rook en geen oefening kry nie. As jy dus weet dat jy nie lank oor het om te leef nie, gaan jy heel waarskynlik probeer om gesonder te leef as voorheen. In die media kan jy elke dag riglyne kry hoe om gesonder te leef: eet die regte kos, drink genoeg water, slaap agt uur per nag, kry genoeg oefening … Om jouself lief te hê, is net so belangrik soos om ander mense lief te hê, sê Jesus in Matteus 22:39. As jy jouself nie liefhet en jou liggaam oppas nie, sal jy dit ook nie kan regkry om ander mense lief te hê nie. Moet jouself nie langer met wêreldse maatstawwe meet nie, maar wees tevrede met hoe God jou gemaak het. Omdat sy Gees in jou leef, is dit nodig om jou liggaam op te pas en gesond te
hou. Sorg ook dat jy geestelik gesond is, dat jy beheer kan uitoefen oor jou emosies en dat jou verhoudings kerngesond is.
Hemelse Vader, dankie dat u my wonderlik gemaak het. Ek wil myself graag liefhê en my liggaam oppas omdat dit aan U behoort. Help my om in die vervolg gesonder te leef. Amen.
6 Mei – Vertrou God!
6 MEI
Lees: Jesaja 50:5–10
Vertrou God!
Dié wat in onsekerheid is en geen duidelikheid het oor sy lewe nie, moet op die Here vertrou. Hy moet op God staatmaak. – Jesaja 50:10 (Die Boodskap)
God wil hê dat ons Hom sal toelaat om ons lewe te beheer én te bestuur. In sy krag kan ons veel méér doen as wat ons dink of droom, het ons twee dae gelede gehoor. Maar dan moet ons Hom vertrou. God het ’n spesiale plan, ’n goddelike doel vir elkeen van sy kinders se lewe. Hy het ons ook met die regte gawes toegerus sodat ons hierdie doel kan verwesenlik. Dit is dus nie langer vir jou nodig om onseker en sonder duidelikheid te leef nie. Al wat jy hoef te doen, is om die talente te gebruik wat jy van God ontvang het. Sodra jy dit doen, sal jy met vreugde en vertroue kan leef. Indien jy nie meer baie tyd sou oorhê nie, sou jy tog die heel meeste van jou lewe maak. Probeer om ontslae te raak van al dié dinge wat jou hinder, neem jou vrese wat jou tot nou toe verhinder het om voluit te leef na God. En onthou: gee mens bereik sukses sonder om eers mislukkings te ervaar nie. Die geheim is om God met jou drome te vertrou en te volhard totdat hulle bewaarheid word. Besluit sommer vandag om jou vrese agter jou te sit en God vir jou toekoms te vertrou. “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting!” beloof God Self
in Jeremia 29:11. Vertrou Hom daarvoor.
Here, ek is jammer dat ek so dikwels nie vas genoeg op U vertrou nie. Dankie dat U vir my net voorspoed beplan. Amen.
7 Mei – Verwesenlik jou drome
7 MEI
Lees: Habakuk 3:16–19
Verwesenlik jou drome
Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop. – Habakuk 3:19
Daar is geen mens wat nie ’n persoonlike droom vertroetel nie. Ongelukkig is daar nie baie mense wat hierdie drome verwesenlik sien nie. Ons meen gewoonlik dat ons in die toekoms (wanneer ons nie so besig is nie of wanneer ons meer geld sal hê) hierdie drome sal waar maak. Maar dit werk nie so nie! Indien jy nie vandág begin om jou droom waar te maak nie, is die kanse goed dat dit nooit gaan gebeur nie. Miskien lyk jou spesiale droom vir jou bra onmoontlik. Maar niks is onmoontlik as jy werklik bereid is om alles in te sit om dit gedoen te kry nie. “Daar is baie drome, baie wat tot niks kom nie,” waarsku die Prediker (Prediker 5:6). Maar dit hoef nie van jou waar te wees nie. Daar is óók ’n spreekwoord wat sê: “If you can dream it, you can do it.” Maak dit van nou af jou leuse. Vergeet daarvan dat jou drome dalk onmoontlik mag wees – Martin Luther King het sekerlik so gedink, en tog is ’n deel van sý droom bewaarheid met die inhuldiging van Barack Obama, Amerika se eerste swart president. Vir God is niks onmoontlik nie, leer die Bybel. Om die waarheid te sê, Hy kan álles doen, ook daardie lang gekoesterde droom van jou waar maak.
Laat Hom toe om vir jou die krag te gee om jou droom waar te maak.
Hemelse Vader, baie dankie dat U alles kan doen – dat U ook vir my die krag kan gee om my droom waar te maak. Doen dit asseblief nou vir my. Amen.
8 Mei – Wees afhanklik
8 MEI
Lees: Efesiërs 1:15–23
Wees afhanklik
Ek bid … dat julle kan weet … hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uit-oefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het … – Efesiërs 1:18–20
Juis omdat die meeste hedendaagse mense se lewe in ’n dolle gejaag ontaard het, ontdek ons dikwels dat ons aan die einde van ons eie krag gekom het. Dit is dus van tyd tot tyd nodig dat ons geestelike batterye herlaai moet word en ons swakheid vir God se krag geruil behoort te word. Geseënd, so sê Jesus in sy Bergrede, is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is (Matteus 5:3). Die goeie nuus vir jou is dat dit nie nodig is om jou probleme en uitdagings in jou eie krag aan te pak nie. Jy mag maar jou onvermoë erken en bely dat jy absoluut van Gód se krag afhanklik is. Soms is dit nogal moeilik om te aanvaar, want ons wil almal liewer selfversorgend en ónafhanklik wees. Hoe ouer ’n mens word, hoe makliker word dit om afhanklik te leef, omdat jy elke dag met die werklikheid gekonfronteer word dat jy net nie meer oor dieselfde krag as vroeër beskik nie. Die belangrikste krag is die krag om oor te begin, skryf die Shooks.*
Bely jou sonde sodat God jou kan vergewe, erken jou mislukkings sodat jy uit hulle kan leer, en moet nooit vergeet hoe afhanklik jy van God is nie. Hy sal jou die krag gee om weer te begin.
Vader, ek wil nou my afhanklikheid van U erken en u opstandingskrag in my lewe ontplooi, sodat ek elke keer bereid sal wees om weer te begin. Amen.
* Ibid., p 57
9 Mei – Lewe in liefde
9 MEI
Lees: Efesiërs 5:1–5
Lewe in liefde
Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg. Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en om ons ontwil sy lewe as ’n offergawe gegee het … – Efesiërs 5:1–2
God ís liefde, skryf Johannes. Iemand wat nie liefhet nie, weet niks van God nie. In alles wat Hy doen, kom sy liefde vir sy kinders na vore. Hy het ons so lief dat Hy sy Seun stuur om in ons plek te sterf. Jesus is gewillig om sy Vader se opdrag te gehoorsaam en sy lewe as ’n offergawe te gee omdat Hý ons so liefhet. En ons het Hom ook lief omdat Hy ons eerste liefgehad het terwyl ons nog sondaars was. Kinders van die Vader behoort die Vader se voorbeeld te volg, skryf Paulus aan die gemeente van Efese. Net soos kinders die voorbeeld volg wat hul ouers stel, behoort ons God se liefde aan ander te demonstreer. As jy aan God behoort, sal daar liefde uit jou lewe straal. Hierdie liefdesopdrag van God Self laat jou geen keuse nie – jy móét ander mense liefhê. En jou liefde mag nie net aan daardie mense gegee word wat jou ook liefhet nie, maar dit moet juis op húlle gerig wees wat jy sukkel om lief te hê. Wanneer jy besef dat jou dae op aarde min raak, is die liefdesgebod die heel belangrikste gebod wat jy behoort uit te leef, want in hierdie gebod word al die ander gebooie saamgevat.
Here, ek behoort aan U en ek wil so graag u voorbeeld volg en in liefde lewe. Sal U my asseblief deur die werking van u Heilige Gees in my help om dit reg te kry. Amen.
10 Mei – Werk aan jou verhoudings
10 MEI
Lees: 1 Johannes 4:7–12
Werk aan jou verhoudings
Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik. – 1 Johannes 4:11–12
Dit maak nie saak hoe ryk of belangrik jy is nie; die enigste faktor wat jou op aarde werklik gelukkig kan maak, is jou verhouding met God en die mense wat jy liefhet. Mense wat nie baie tyd oor het nie, moet belê in hul verhoudings met ander mense. “Our investment in the people we care about is the only legacy that has the power to endure beyond our lifetime,” skryf die Shooks.* Indien jy erns wil maak met jou horisontale én vertikale verhou-dings, spreek dit vanself dat jy die tyd wat nog tot jou beskikking is saam met jou geliefdes sal wil deurbring en jou verhouding met God sal wil verinnig. Juis omdat almal van ons weens ons besige skedules ’n gebrek aan tyd het, het ons byna al verleer om kwaliteittyd aan mense af te staan. Begin sommer vandag om meer tyd en aandag aan jou verhoudings te spandeer. Verseker die mense om jou van jou liefde vir hulle, klaar die misverstande tussen julle op en vra hulle om jou te vergewe. Moet hulle nie langer as vanselfsprekend beskou nie, maar wees gewillig om jouself bloot te stel, om onselfsugtig lief te hê. Vertel ook vir God dat jy Hom liefhet en bely jou sonde – en wees gewillig om dit te laat staan!
Here, ek is jammer dat ek my verhoudings met ander én my verhouding met U so afskeep omdat ek so besig is. Help my om tyd te maak vir ander en vir U en in die liefde te belê. Amen.
* Ibid., p 65
11 Mei – Vergewe mekaar
11 MEI
Lees: Kolossense 3:12–17
Vergewe mekaar
Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. – Kolossense 3:13
As ’n mens nie lank oor het om te lewe nie, is een van die belangrikste dinge wat jy behoort te doen, om dié mense te vergewe teen wie jy ’n wrok koester en dié mense om vergifnis te vra wat jy op die een of ander manier benadeel het. Jesus leer ons om te bid: “Vader, vergewe ons soos ons ander vergewe.” Maar miskien moet ons eer-der probeer om te vergewe soos God óns vergewe. Die profeet Miga skryf dat God ons sonde in die diepsee gooi (vgl Miga 7:19). God se vergifnis is onvoorwaardelik en volkome. Hy is bereid om jou sonde elke keer van voor af te vergewe. Wanneer God se kinders aangesê word om te vergewe, is dit nie ’n voorstel van God se kant nie, maar ’n bevel. Kies vandag om dié mense te vergewe wat jou te na gekom het. Laat jou vergifnis onvoorwaardelik wees, soos dié van God vir jou. Uiteindelik sal jy die een wees wat die meeste daarby baat. “It is essential that we forgive for our own sakes, otherwise we will drown in bitterness,” skryf die Shooks.* Dis makliker om ander te vergewe as jy dink aan al die kere in die verlede dat God bereid was om jou te vergewe. Moenie langer uitstel om jou
vergifnis aan ander aan te bied nie.
Here, ek loof U vir al die kere dat U my vergewe het. Help my asseblief om soos U te vergewe en maak my gewillig om die gene wat ek te na gekom het, om vergifnis te vra. Amen.
* Ibid., p 76
12 Mei – Stel ander eerste
12 MEI
Lees: 1 Korintiërs10:23–33
Stel ander eerste
’n Mens moet nie sy eie voordeel soek nie, maar dié van ander. – 1 Korintiërs10:24
Elke mens is van sy geboortedag af só geprogrammeer dat ons vir ons self die heel belangrikste is. Maar God se kinders moet léér om onselfsugtig te wees en ander mense ook ’n plekkie in die son te gun. Dit is God se wil dat ons sy eer sal soek deur ons medemense te bevoordeel. In enige wenspan is dit noodsaaklik dat die spelers mekaar sal ondersteun en nie almal verskillende agendas sal hê nie. Dit geld nie net in sportkringe nie, maar in elke ander verhouding, soos die huwelik en die werkplek. Die Shooks onderskei drie faktore wat eenheid in verhoudings bedreig. Eerstens is daar onbegrip vir mekaar. Ons behoort ander mense te probeer verstaan. Aan die begin van ’n verhouding is alles positief, maar daar kom heel gou breuke in hierdie eenheid. Tweedens belemmer die “ek-eerste-gesindheid” elke verhouding. Selfsug lê aan die wortels van die meeste gebroke verhoudings. Ons moet léér om onselfsugtig te wees, om bereid te wees om die voordeel van die ander te soek, ook al sou dit beteken dat ons nie elke keer ons sin kan kry nie. Laastens behoort ons bereid te wees om mekaar te aanvaar ten spyte van ons verskille. Alle mense is immers onvolmaak en propvol foute en eers wanneer jy
bereid is om jou eie foute te erken en dié van ander oor te sien, sal jy suksesvol in jou verhoudingslewe kan wees.*
Here, ek is jammer dat ek dikwels nog so selfsugtig leef en optree. Maak my gewillig om ander mense te aanvaar en my eie foute te erken en te laat staan. Amen.
* Ibid., p 83–84
13 Mei – Leer om konflik te hanteer
13 MEI
Lees: Matteus 5:21–26
Leer om konflik te hanteer
“As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.” – Matteus 5:23–24
Sommige mense bly weg van konfliksituasies, ander dring daarop aan dat húl reëls gevolg moet word en is altyd reg in hul eie oë. Omdat alle mense verskillend is, omdat ons verskillend dink en verskillend optree, gaan ons nooit een honderd persent met mekaar saamstem nie. Om hierdie rede is konflik in verhoudings onvermydelik. Indien ons nie lank het om te lewe nie, sal ons vir seker alles insit om die heersende konflik in ons huwelik, gesin, werkplek en vrien-dekring op te los. Die beste oplossing vir konfliksituasies is om die konflik in jou lewe só te hanteer dat daar vir albei partye ’n haalbare oplossing beding sal kan word. Dit kan gedoen word as jy besef dat jou verhoudings met ander belangriker is as die konflik. Doen jou uiterste bes om vrede te maak met almal wat vir jou belangrik is en wat dalk iets teen jou mag hê. Praat oor die kwessies waaroor julle verskil en besluit saam op ’n oplossing. Dit sal nodig wees om grondreëls neer te lê: moenie dinge sê wat die ander persoon kan seermaak nie; moenie aanvallend optree nie, maar wees gewillig om te onderhandel. Die enigste haalbare
oplossing is dat jý al hoe meer soos Jesus sal optree.
Here Jesus, ek wil by U kom leer hoe om die konfliksituasies in my lewe op te los. Maak my onselfsugtig en gee my dieselfde gesindheid teenoor ander as wat U teenoor my openbaar. Amen.
14 Mei – God se handewerk
14 MEI
Lees: Efesiërs 2:1–10
God se handewerk
… want ons is God se handewerk. Hy het ons in ons verhouding met Christus Jesus só gemaak dat ons die goeie werke wat Hy vir ons bestem het, kan uitlewe. – Efesiërs 2:10 (Nuwe Lewende Vertaling)
Elke mens is ’n kunswerk, die handewerk van God Self. God gebruik ons omstandighede en ook ander mense om ons tot kunswerke te omvorm, net soos ’n kunstenaar sy gereedskap gebruik om ’n voltooide kunswerk uit ’n vormlose stuk klip te voorskyn bring. God het elkeen van ons wonderlik gemaak en vir elkeen van ons ’n spesifieke taak daargestel waarvoor Hy ons spesiaal geskep het. En God gebruik baie maal juis die negatiewe dinge in ons lewe en daardie mense van wie ons verskil en met wie ons sukkel om mee oor die weg te kom as beitels om hierdie kunswerk van Hom volmaak af te rond en te voltooi. Indien jy nie baie tyd op aarde oor sou hê nie, moet jy des te meer harder probeer om God se lewenslesse te verstaan en te leer uit dié omstandighede wat vir jou moeilik is en van die mense van wie jy nie hou nie. Deur elke konfrontasie wat vir jou moeilik en frustrerend is, wil God jou ’n spesifieke lewensles leer, sodat jy uiteindelik presies sal weet waarvoor God jou op aarde geplaas het; watter goeie werke jý vir Hom kan doen. En om jou dankbaarheid vir jou redding te demonstreer, behoort dit van nou af vir jou ’n
voorreg te wees om só te leef soos God van jou vra.
Here, wys asseblief vir my wat u spesifieke doel met my lewe is, sodat ek duidelik sal weet watter goeie werke U wil hê ek vir U moet doen. Van nou af wil ek leef soos U van my vra. Help my om dit reg te kry. Amen.
15 Mei – Wees dankbaar
15 MEI
Lees: Efesiërs 5:4–20
Wees dankbaar
… dank aan God pas by julle … Dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus. – Efesiërs 5:4, 20
As ’n mens lank lewe, moet jy oor alles dankbaar wees, skryf die Prediker (vgl Prediker 11:8). “We can only be said to be alive when our hearts are conscious of our treasures,”* skryf Thornton Wilder. Eers wanneer ons besef dat ons tyd op aarde min word, ontdek ons baie keer hoe ondankbaar ons tot dusver geleef het. Want dit bly waar dat ’n mens eers besef hoe kosbaar iets is as jy gevaar loop om dit te verloor. Dit sal goed wees as jy van meet af aan sal leer om dankbaar te wees vir daardie klein, alledaagse vreugdes wat jy so maklik as vanselfsprekend beskou: jou kinders se gladde lyfies in die bad, die goud-en-appelkooskleurige wolke met sonsondergang, ’n Beethovensimfonie, die samesyn van vriende en familie. Al hierdie dinge is skatte wat jy elke oomblik behoort te koester en met jou moet saamdra. Jy behoort ook dankbaar te wees as jy gesond is, as jy ’n dak oor jou kop het, kos in die yskas het en ’n motor het om mee te ry. Eerder as om te fokus op al die luukshede wat jy nog graag wil hê, behoort jy elke dag dankie te sê vir al die dinge wat jy reeds uit God se hand ontvang het. Maak sommer nou vir jouself ’n lysie van al die dinge waarvoor jý dankbaar is en dank God dan vir elkeen van
hulle.
Here, vergewe my dat ek so ondankbaar leef, dat ek net altyd meer wil hê en van al die skatte vergeet waarmee U my reeds geseën het. Leer my om van nou af elkeen van my seëninge te tel. Amen.
* Aangehaal in K en C Shook, One month to live, p 104
16 Mei – Kommunikasie is allerbelangriks
16 MEI
Lees: Kolossense 4:2–6
Kommunikasie is allerbelangriks
Dit moet ook altyd vir mense lekker wees om met julle te gesels. Na elke gesprek moet hulle voel dat dit die moeite werd was. So ’n ingesteldheid sal julle help om te weet in watter rigting om gesprekke te stuur en wat om volgende te sê. – Kolossense 4:6 (Die Boodskap)
Hedendaagse mense het al byna verleer om sinvol met mekaar te kommunikeer, omdat ons nie meer genoeg tyd vir mekaar maak nie. Indien jy nie meer baie tyd oor het nie, sal een van die eerste dinge wat jy sou doen, sekerlik wees om die mense om jou te vertel hoeveel jy vir hulle omgee. Dis gelukkig nie nodig om te wag tot jou tyd min is nie – jy kan sommer vandág leer om jou gevoelens in woorde om te sit en jou hart vir ander oop te maak. Sê vir jou man dat jy hom liefhet en vir jou kinders dat jy trots is op hulle, vertel jou vriende hoeveel hulle vir jou beteken. Wees altyd versigtig om nie ander mense seer te maak met jou woorde nie en luister regtig na wat ander mense vir jou wil sê. Sielkundiges beweer dat tagtig persent van alle kommunikasie nieverbaal is. Leer om mense om jou se liggaamstaal te “lees” en wys hulle sommer ook met jou glimlag en ’n drukkie dat hulle vir jou kosbaar is. Een van die belangrikste maniere waarmee jy met ander kan kommunikeer, is om tyd saam met hulle te spandeer. Maak ’n punt daarvan om weer ’n slag as familie en vriende saam te
kuier.
Hemelse Vader, ek wil van vandag af meer tyd aan ander mense afstaan sodat hulle sal kan weet hoeveel ek vir hulle omgee. Gee vir my die regte woorde om sinvol te kommunikeer met die mense na aan my. Amen.
17 Mei – Ontdek die ware jy
17 MEI
Lees: Psalm 139:13–17
Ontdek die ware jy
U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Ek wil U loof, want U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. – Psalm 139:13–14
As jy werklik wil verstaan wie jý is, moet jy eers na jou Skepper kyk. Hoe meer ons die heelal bestudeer, hoe meer besef ons presies hóé groot God is. Toe die Hubble-teleskoop vir die heel eerste keer in gebruik geneem is, kon meer as duisend voorheen onbekende sterrestelsels daardeur gesien word. Een van ons vriende wat sterrekunde bestudeer, vertel ons ’n ruk gelede dat daar so pas ontdek is dat ons maar net vyf persent van die heelal met ons beste teleskope kan sien! God is inderdaad só groot dat ons sy grootheid nie kan begryp nie! En ek en jy is die kroon van God se skepping. God het jou wonderlik gemaak, Hy het jou al gesien nog voordat jy gebore is en al jou lewensdae was in sy boek opgeskryf lank voordat jy daar was. Hy het jou na sy beeld geskep en van sy eie eienskappe in jou geplant. Hy het jou só lief dat Hy sy eie Seun prysgegee het sodat jy sy kind kan wees. Op die hele wêreld is daar maar een soos jy. Jy is vir God uniek en spesiaal. Hy is by jou lewe betrokke, jy behoort aan Hom. Gebruik dus jou Godgegewe gawes om God te eer en leef elke dag uitsluitlik vir Hom.
Here, hoe groot is U! My menseverstand kan U grootheid nie begryp nie, tog weet ek dat ek vir U kosbaar is en dat U my ongelooflik liefhet. Baie dankie daarvoor! Amen.
18 Mei – Kry koers!
18 MEI
Lees: Psalm 37:18–24
Kry koers!
Die Here bepaal die koers van die mens met wie se pad Hy tevrede is … – Psalm 37:23
Ek het vier jaar gelede vir die eerste keer in ’n motor met ’n “GPS” gery, en dit was vir my ’n openbaring. ’n Kalm stem het my skoondogter stap vir stap presies beduie hoe om reguit na ’n onbekende bestemming in die stad te ry. En na die tyd weer terug huis toe – hierdie keer in die donker! Miskien sal selfs ék met so ’n apparaat dit kan regkry om my hopelose sin vir rigting te oorkom, het ek by myself gedink. God het vir elkeen van sy kinders ’n spesifieke lewensroete uitge-stippel. As Hy met ons pad tevrede is, bepaal Hy Self die koers waarop ons moet gaan, skryf die psalmdigter in ons teksvers hierbo. Juis omdat ons mense is, raak ons dikwels die koers byster of slaan ons ons eie koers in, maar dan, met God as ons GPS stuur Hy ons elke keer weer terug na die regte koers. Hy skenk boonop aan ons gawes en ies om vir ons die regte koers aan te dui. Op hierdie manier sal Hy jou ook toerus om die heel beste van jou lewe te maak. Jou gawes is dié dinge wat jy goed kan doen, dié eienskappe wat God optimaal in sy koninkryk wil gebruik. Soms gebruik God ook probleme om jou nader aan Hom te trek en jou op die regte pad te hou.
Dit is nodig dat élke vrou haar gawes sal ontdek, haar ies sal uitleef en haar probleme met God se krag sal oplos.
Here, van nou af wil ek op u koers loop. Keer my asseblief as ek op die verkeerde pad is, en wys my elke keer weer die regte pad aan. Amen.
19 Mei – Stormtye
19 MEI
Lees: Sefanja 1:7–16
Stormtye
Dié dag is ’n dag van toorn, ’n dag van nood en benoudheid, ’n dag van storms en verwoesting, ’n dag van donkerte, van duisternis, ’n dag van wolke, van swaar onweer … – Sefanja 1:15
Die profeet Sefanja gee ’n pragtige beskrywing van die dag van die Here. Hierdie dag gaan ’n tyd van storms en verwoesting wees, beweer hy. Almal van ons beleef stormtye in ons eie lewe. Tye wanneer rampe ons tref en alles om ons verander. Iemand het gesê dat die enigste permanente ding in die lewe verandering is. Indien jy onvoorbereid is op hierdie stormtye in jou eie lewe, sal ’n ramp wat jou tref baie groter skade aanrig as wanneer jy daarop voorbereid is. Deur seker te maak dat jy aan God behoort, hoef die dag van die Here nie vir jou ’n stormtyd te wees nie, maar wel ’n dag van vreugde, wanneer Jesus jou sal kom haal om vir altyd by Hom te wees. Paulus het ’n hele paar storms op see beleef gedurende sy reise. Tydens hierdie storms het hy geleer om belangrike dinge eerste te stel en op God te vertrou. Wanneer ’n mens siek is, besef jy byvoorbeeld baie gou dat al jou geld en goed waarop jy so staatgemaak het nutteloos is, dat net God jou nou kan help. Jy het God vandag by jou in die storm nodig sodat Hy jou spesifieke storm kan stilmaak, soos Hy gedoen het toe Hy op aarde was. Met Hom in jou
lewensbootjie hoef jy nooit vir storms bang te wees nie.
Here Jesus, help my om voorbereid en gereed te wees vir u wederkoms, sodat dit my nie onverhoeds sal betrap nie. Dankie dat ek seker is dat U by my sal wees en my in elke storm sal bewaar. Amen.
20 Mei – Verander van binne na buite
20 MEI
Lees: Romeine 12:1–8
Verander van binne na buite
Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is. – Romeine 12:2
Mense wat terminaal siek is, word geforseer om teen ’n stadiger tempo te leef. Miskien sal dit goed wees om voordat jyself siek word vrywillig af te skaal, sodat jy meer tyd sal hê vir die dinge wat werklik saak maak. Dat jy meer tyd saam met jou geliefdes sal deurbring, langer stiltetyd sal hou en leer om nuut en positief te dink. Die Griekse woord wat in vandag se kernvers met “verander” vertaal is, beteken eintlik ’n totale metamorfose. Nie ’n klein verandering wat ’n mens skaars kan raaksien nie, maar ’n radikale verandering, soos dié van ’n harde bruin papie wat in ’n kleurvolle skoenlapper verander. God wil hê dat jý so nuut sal word, en dat hierdie totale verande-ring van binne na buite sal plaasvind. Jy kan begin deur weg te kyk van al die dinge wat jou gespanne maak en op God te fokus. Laat Hóm toe om jou nuut te maak, om die beheer van jou lewe oor te neem. Hy sal vir jou sy rustigheid en vrede gee, sodat jy weer ’n slag die eintlike rede waarom jy op aarde geplaas is, sal ontdek. Hy wil jou nuut leer dink, sodat jy werklik sy wil sal ken, Hom sal gehoorsaam en ook sal kan onderskei watter dinge vir Hom goed en aanneemlik is. Net dan sal
jy dit regkry om te leef soos wat Hy verlang.
Here, verander my asseblief van binne na buite; maak my radikaal nuut sodat ek anders sal dink en doen en u wil sal gehoorsaam. Amen.
21 Mei – As dit moeilik gaan
21 MEI
Lees: Johannes 16:25–33
As dit moeilik gaan
“Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.” – Johannes 16:33
Jesus vertel onomwonde vir sy dissipels dat hulle dit in die wêreld moeilik sal hê, maar Hy voeg daarby dat hulle nogtans moed kan hou, omdat Hy die wêreld reeds oorwin het. Hierdie uitspraak geld steeds vandag vir elkeen van ons. Dit is ’n gegewe dat elke mens sy porsie swaarkry in hierdie wêreld gaan kry. Wanneer hierdie rampe (wat jy eintlik te wagte behoort te wees) jou tref, neem jy God soms kwalik dat Hy die ramp toegelaat het. Jy raak kwaad en bitter, maar moeilike tye kan jou ook soms nader aan die Here trek, omdat jy besef dat jy hierdie probleme nie in jou eie krag sal kan oplos nie. Dit is juis wanneer dit baie sleg met jou gaan, dat die kwaliteit van jou geloof getoets word. Jakobus skryf dat indien jy hierdie toets deurstaan het, dit jou in staat stel om te volhard en jou tot geestelike rypheid laat kom (vgl Jakobus 1:3– 4). Wanneer daar weer rampe in jou lewe opduik, maak seker dat jy daarop voorbereid sal wees deur God as die middelpunt van jou lewe te aanvaar. Wees aan Hom toegewy in alles wat jy doen, dan sal Hy Self jou lewenspad gelyk maak, ook al loop daardie pad soms deur “donker dieptes”. Met God by jou sal jy soos Jesus die wêreld kan oorwin en uiteindelik as oorwinnaar uit die stryd
tree.
Here Jesus, dankie dat ek ten spyte van moeilike tye in my lewe mag weet dat U die wêreld reeds oorwin het, en dat ek dit in u krag ook sal kan regkry. Amen.
22 Mei – Leef met integriteit
22 MEI
Lees: Matteus 5:33–37
Leef met integriteit
“Sê net ja en gaan doen dit. Of sê nee en doen dit. As julle enigiets meer as dit sê om te wys julle praat die waarheid, doen julle verkeerd. Dan praat julle nie soos God wil hê julle moet praat nie.” – Matteus 5:37 (Die Boodskap)
Indien jy net een maand oor het om te leef, sal jy jou karakter in oënskou neem en leer uit jou foute van die verlede, skryf die Shooks.* Heel waarskynlik sal jy jou laaste tydjie met integriteit lewe. Iemand met integriteit is ’n heel mens, iemand op wie ander mense kan reken, verantwoordelik en betroubaar. Ongelukkig lyk dit asof daar nie baie van hulle in die wêreld oor is nie! Gelukkig het jý nog tyd oor om jouself te verander en dié dinge te doen wat jy beloof; om in die vervolg met wysheid en eerlikheid op te tree; om iemand te wees waarop ander kan peil trek en wat hulle onvoorwaardelik kan vertrou. Begin sommer vandag om eerlik in jou verhoudings en in jou besigheid en met jou geldsake te wees. Wees ook eerlik teenoor jouself: erken vir ’n slag jou foute, vra verskoning vir hulle en leer uit hulle. Indien jy ’n wilsbesluit neem om in die vervolg vir God en jou naaste liewer te wees, sal jy dit makliker kan regkry om op elke terrein met integriteit op te tree. Indien jy misluk, wees groot genoeg om om verskoning te vra en ook om ander te vergewe as hulle jou te na kom. Streef daarna om elke dag méér soos Jesus te word – Hy is elke keer
gewillig om jou nog ’n kans te gee as jy oor wil begin.
Here Jesus, help my om van vandag af met integriteit te leef op elke terrein van my lewe. Amen.
* K en C Shook, One month to live
23 Mei – God doen steeds wonders
23 MEI
Lees: Daniël 4:1–3
God doen steeds wonders
“Ek betuig met blydskap dat ek die tekens en wonders wat die allerhoogste God gedoen het, kon belewe. Hoe groot is sy tekens, hoe magtig sy wonders! Sy koninkryk is ’n ewige koninkryk, sy heerskappy duur van geslag tot geslag.” – Daniël 4:2–3
Dit is nogal ironies dat hierdie pragtige getuienis oor God se wonders en almag uit die mond van Nebukadnesar, ’n heidense koning, kom, terwyl God se eie volk keer op keer sy wonders as vanselfspre-kend beskou het. God kan steeds wonders doen in die lewens van sy kinders, maar soms sien ons hierdie wonders nie eens raak nie. Die Shooks identifiseer vier “padtekens” wat jou sal help om by God se wonders uit te kom:
• As jy ’n wonder in jou lewe wil sien, behoort jy by ’n eenrigtingstraat in te draai en sodoende te erken dat God die enigste Een is wat jou kan help.
• Die tweede teken wat gehoorsaam moet word, is ’n stop-teken. Soms moet jy gaan stilstaan en bestek neem van dié dinge wat jy van God ontvang het.
• Derdens moet jy ’n U-draai maak – weg van jou huidige negatiewe houding na ’n positiewe een.
• Die vierde padteken is ’n voorgeeteken. Stel ander mense eerste, al sou dit beteken dat jy self in die proses tweede moet kom.
Indien jy hierdie vier “padtekens” gehoorsaam, sal God jou Self wys dat Hy alles kan doen; dat Hy ook die skynbaar onmoontlike situasie in jou lewe met ’n wonder kan omkeer.*
Hemelse Vader, dankie dat ek seker kan wees dat U gewillig is om ook in my lewe wonders te doen. Amen.
* Ibid., p 171
24 Mei – Skep ’n blywende erfenis
24 MEI
Lees: Filippense 2:1–4
Skep ’n blywende erfenis
Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander. – Filippense 2:3–4
Elkeen van ons kry geleenthede om die mense om ons positief te beïnvloed. Die meeste mense leef egter selfgesentreerd en is net op hul eie belange ingestel. Dit is nie wat God van sy kinders verlang nie. Indien jy nie die wêreld se tyd oor het nie, sou jy tog seker probeer om minder selfsugtig te leef en meer vir ander mense oor te hê. As jy gewillig is om aan ander mense te doen soos jy wil hê hulle aan jou moet doen, volg jy die voorbeeld wat Jesus gestel het toe Hy op aarde was. Die enigste blywende erfenis wat jy op aarde kan agterlaat, het met mense te doen. As jy doodgaan, kan jy niks van die geld en goed wat vir jou nou so waardevol is met jou saamneem nie, maar die positiewe verandering wat jy in menselewens bewerk het, sal ook ná jou dood bly voortleef. Leef só dat jy ryk in God sal wees, dat jy die gawes wat jy van God ontvang het in sy koninkryk sal gebruik, dat jy die materiële dinge wat Hy jou gee tot voordeel van ander sal aanwend. Dán sal jy ’n skat in die hemel hê wat nooit sal vergaan nie. Maak ook genoeg tyd vir God en sy Woord sodat jy sy wil vir jou sal kan ken en uitvoer.
Here, ek is jammer dat ek tot nou toe so selfsugtig geleef het. Leer my om die belange van ander te bevorder sodat ek ’n blywende erfenis op die wêreld agter kan laat. Amen.
25 Mei – Saai vir die toekoms
25 MEI
Lees: Prediker 11:1–6
Saai vir die toekoms
Saai jou saad in die môre, gaan in die laatmiddag daarmee voort. Jy weet nie watter van die twee sal ’n oes lewer nie en of altwee ewe goed sal wees nie. – Prediker 11:6
Daar is ’n mooi Amerikaanse storie van ’n man wat die naam van Johnny Appleseed gekry het, omdat hy tydens sy leeftyd duisende appelsaadjies gesaai het wat eers ná sy dood groot bome was wat baie appels gedra het, waarvan baie mense na hartelus kon eet. Ons saai op aarde ook saad met alles wat ons sê en doen. Die beste ding wat ons op aarde kan “saai”, is God se boodskap; almal wat van die vrug van daardie saad eet, word deel van God se koninkryk, en sal sáám met Hom eendag vir altyd leef. Sorg dat jy persoonlik iets doen sodat daardie saad van die evangelie in ’n menselewe geplant sal kan word. Wanneer jy ontevrede is, plant jy ’n tipe saad wat vir niemand goed is nie. En elkeen van ons sal oes wat hy hier op aarde gesaai het, skryf Paulus aan die gemeente in Korinte (vgl 2 Korintiërs 9:6). Begin tuis met jou saadjies – saai saadjies van geloof by jou kinders en kleinkinders. As hulle later jou lewenslesse vir ander aangee, kom die saad by meer en meer mense uit. Prent die regte waardes by jou gesin in, dan sal hulle dit ook aan hul kinders deurgee. Só kan jy seker maak dat jou “saad” vrug sal dra wanneer jy die dag nie meer daar sal
wees nie – nes Johnny Appleseed se appelbome.
Here, help my om elke dag die regte saad te saai, saad wat vir U vrug sal dra, vrugte wat sal hou. Amen.
26 Mei – Gebruik die regte boumateriaal
26 MEI
Lees: 1 Korintiërs 3:9–16
Gebruik die regte boumateriaal
Of dit goud, silwer, edelstene, hout, gras of strooi is waarmee iemand op die fondament bou, elkeen se werk sal aan die lig kom … As iemand se bouwerk bly staan, sal hy beloon word … – 1 Korintiërs 3:12–14
Elkeen van ons kies elke dag waarmee ons ons lewens bou. Indien ’n mens nie baie tyd oor het nie, sal jy seker maak dat jý duursame boumateriaal gebruik, sodat jy iets blywends sal agterlaat wat ander mense aan jou sal herinner. Die Shooks identifiseer drie soorte boumateriaal waarmee daar bouwerke wat ná jou dood steeds daar sal wees, gebou kan word.* Die eerste een is Bybelse waardes.** God se Woord is een van die baie min dinge wat vir altyd sal bly. Indien jou waardes hiermee ooreenstem, sal hulle altyd vasstaan. Die tweede tipe boumateriaal kom tot uiting in jou karakter.*** God wil jou al hoe meer soos Jesus maak – soos ’n beeldhouer neem Hy alles weg uit jou lewe wat nie soos Jesus lyk nie. Soms gebruik die hemelse Beeldhouer die swaarkry en probleme in jou lewe as beitels om jou te vorm tot jy soos Jesus lyk en optree. Gebruik dus jou probleme as geleenthede om vaster op God te vertrou en jou geduld te leer.
Laastens gee God mense in ons lewens wat ons leer om lief te hê en ons karakters bou.**** Soos Bybelse waardes, duur jou verhoudings met ander ook vir altyd. Bou dus van nou af jóú lewe op jou oortuigings, karakter en verhoudings, dan sal dit eendag ’n blywende monument vir God wees.
Here, ek kies vandag om my lewe met u boumateriaal te bou, sodat ek al hoe meer soos Jesus sal word en ’n blywende erfenis sal nalaat. Amen.
* Ibid., p 189–192 ** Ibid., p 189 *** Ibid., p 190 **** Ibid., p 190
27 Mei – Leef volgens Bybelse beginsels
27 MEI
Lees: Spreuke 3:1–8
Leef volgens Bybelse beginsels
Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie. Vra na die wil van God in alles wat jy doen. Hy sal die regte pad vir jou wys. – Spreuke 3:5–6 (Nuwe Lewende Vertaling)
Die dinge wat ons doen, verskil dikwels radikaal van die waardes wat ons het. Wanneer niemand ons kan sien nie, tree ons soms heeltemal anders op as wanneer ons tussen bekendes is. Indien jy nie meer lank gehad het om te leef nie, sou jy sekerlik meer aandag gegee het aan die manier waarop jy leef en harder probeer het om in jou leefwyse die regte beginsels na te volg. Die meeste mense wil hul eie pad loop, hul eie tydskedule opstel, hul eie wil volg. Indien jy eerder op God sou vertrou en die rigtingwysers in sy Woord gebruik, sal dit baie beter met jou gaan. Vertrou God om jou drome waar te maak. Dit is nie nodig om jou uit te brand om dit reg te kry nie. Indien jy jou lewe aan die Here oorlaat en sy wil doen, sál Hy die regte lewenspad vir jou aandui. Dit is nooit te laat om van koers te verander nie. Laat God toe om sy wil en doel vir jou lewe uit te voer, in plaas daarvan om aan te dring op die dinge wat jý wil doen. Vertrou van vandag af volkome op Hom en dóén wat goed is, moenie langer jou eie kop volg nie. Soek sy wil in alles wat jy doen, dan sal Hy jou hartsbegeertes waar maak, jou lewensrigting
bepaal en vir jou sorg.
Hemelse Vader, vergewe my dat ek so dikwels my eie pad volg, in plaas daarvan om op U te vertrou. Wys vir my wat u wil vir my lewe is en lei my op die regte pad. Amen.
28 Mei – Doen wat jy kan
28 MEI
Lees: Prediker 9:5–10
Doen wat jy kan
Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen, want in die doderyk waarheen jy op pad is, is daar nie werk of insig of kennis of wysheid nie. – Prediker 9:10
Wanneer ons na die wêreld kyk, raak ons soms moedeloos omdat so baie dinge verkeerd loop. Ons hoor daagliks van mense wat sterf wees honger, rampe en aardbewings wat verwoesting saai, en reënwoude wat uitgekap word. En dan bly ons onbetrokke omdat ons meen dat ons nie iets daaraan kan doen nie. Helen Keller skryf: “Ek is net een, maar ek ís een. Ek kan nie alles doen nie, maar ek kan iéts doen; en al kan ek nie alles doen nie, sal ek nie weier om daardie dinge te doen wat ek kan nie.”* Indien elkeen van ons dié dinge doen wat ons kan, sal die wêreld ’n veel beter plek wees. Dis waar dat jy nie almal wat honger is kan kos gee nie, maar jy kan tot jou kerk se voedselprojek bydra. Jy kan van die klere wat jy nie meer dra nie vir mense gee wat in die winter koud kry. Jy kan bydraes gee vir mense wat vigs het en sorg dat jou huishulp en tuinwerker alles het wat hulle nodig het. Begin sommer vandag en doen alles wat jou hand vind om te doen, én doen dit met toewyding soos die Prediker vra. Wees verder gewillig om jou eie gerief prys te gee om te help, jou beursie oop te maak daarvoor en jou talente daarvoor aan te
wend.
Here, ek is een van die mense wat te min help omdat ek nie oral kan help nie. Maak my gewillig om my gerief prys te gee, om werklik vir ander om te gee en só te gee dat ek ’n positiewe verskil sal maak. Amen.
* Ibid.
29 Mei – Laat voetspore op die sand van die tyd
29 MEI
Lees: Efesiërs 2:1–10
Laat voetspore op die sand van die tyd
Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het. – Efesiërs 2:10
Daar is ’n gediggie uit my kinderjare wat so ’n groot indruk op my gemaak het toe ek dit vir die eerste keer gelees het, dat ek dit uit my kop geleer het: Lives of great men all remind us; we must make our life sublime and departing, leave behind us, footprints on the sands of time. Baie hedendaagse mense is behep daarmee om “groen” voetspore na te laat. ’n Mens kry vandag groen geboue, groen woonbuurte en selfs groen gholfbane. En dis reg so, want ons hoor al hoe meer van spesies wat uitsterf, aardverhitting en die gat in die osoonlaag wat al hoe groter word. Ons moet verder daarop fokus om ook geestelike voetspore na te laat, sodat ons ’n positiewe impak op die lewens van ander sal hê. Jy kan dit doen deur ander mense lief te hê en te vergewe; deur diensbaar te wees deur dié dinge te doen waarvoor God jou spesifiek gemaak het. Aanvaar ander mense nes hulle is en
betoon God se liefde aan hulle. Hoe duideliker jy God se liefde en genade in jou eie lewe ervaar, hoe makliker sal dit vir jou wees om blywende geestelike spore nie net op die sand van die tyd nie, maar ook in die harte van ander na te laat. Spore wat ’n impak op die lewens van ander sal hệ, lank nadat jyself nie meer daar is nie.
Here, help my om nie net groen voetspore op die wêreld na te laat nie, maar ook geestelike voetspore wat die lewens van ander kan vorm. Amen.
30 Mei – Leef met geesdrif
30 MEI
Lees: Romeine 12:9–12
Leef met geesdrif
Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here. Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed. – Romeine 12:11–12
God gee elke mens ’n ongelooflike geskenk – die geskenk van lewe. En elke mens het ’n persoonlike roeping – die rede waarom God jou op aarde geplaas het. Hierdie roeping hou gewoonlik verband met die persoonlike gawe wat jy van God ontvang het. Indien jy werklik voluit wil leef, God se geskenk ten beste wil benut, sal jy gewillig moet wees om jou gawe in ontvangs te neem, dit uit te bou en dit elke dag tot eer van God en tot diens van ander mense te gebruik. Indien jy net een maand sou oorhê om te leef, sou jy elke sekonde geniet het vir die kosbare gawe wat dit is; jy sou elke oomblik laat tel deur iets betekenisvols te doen – iets wat jou doel op aarde sal volvoer. Die brandstof wat dit vir jou moontlik sal maak om vir ’n lang tydperk daarmee vol te hou, is geesdrif, of ie. Niks wat ware betekenis het, is moontlik sonder hierdie ie nie. Dit is die dryf-krag agter alle groot kuns, alle uitsonderlike prestasies. “ion is what gives life to life,” skryf die Shooks.* En die brandstof wat hierdie ie laat floreer, is liefde: liefde vir God en liefde vir ander. Hou jou
hoop op die hemel helder, byt vas in swaarkrytye, onthou om lief te hê en bid gedurig. Maak seker dat jy nooit jou ie vir God en sy koninkryk sal laat vaar nie.
Here, vergewe my dat ek soms so ongeesdriftig, so sonder toewyding leef. Gee asseblief vir my die ie terug wat aan die begin van my liefdesverhouding met U in my gebrand het. Amen.
* Ibid., p 222
31 Mei – Lewe vir altyd
31 MEI
Lees: Openbaring 21:1–7
Lewe vir altyd
“Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. – Openbaring 21:3–4
Die meeste mense word gefassineer deur die lewe ná die dood. Alhoewel niemand werklik kan weet hoe dit sal wees nie, verkoop boeke oor die onderwerp soos soetkoek. Die meeste van ons is huiwerig om dood te gaan, alhoewel ons glo dat die hemel vir ons wag. Niemand wil hul bekende omgewing en geliefdes vrywillig agterlaat nie. Maar die dood wag vir almal van ons, ons kan die feit nie wegredeneer nie. Hierdie lewe is egter nie die einde nie. Eendag sal ons aardse lewe tot ’n einde kom en die ewige lewe vir ons begin. Die Bybel beskryf die hemel wat op God se kinders wag in aardse terme, omdat dit al is wat ons kan verstaan. Jy hoef egter nie bang te wees dat jy eendag bra vervelig vir altyd in die hemel sal hoef rond te sit nie. Die hemel sal ’n opwindende, vreugdevolle nuwe avontuur wees, jy self sal ’n nuwe, verheerlikte liggaam hê, daar sal vir altyd ’n einde kom aan dié dinge wat vir jou swaar was op aarde en God sal elke oomblik by jou wees. Maak nou reeds seker dat jy vir altyd sal lewe deur in Jesus te glo, Hom jou lewe binne te nooi en jou sonde te
bely. Moenie langer uitstel om dit te doen nie.
Here Jesus, ek sien uit na die ewige lewe, na ’n hemel waar alle swaarkry vir altyd verby sal wees en ek vir ewig gelukkig in u teenwoordigheid mag leef. Amen.
Gebed
Gebed
Hemelse Vader, ek wil graag die tyd wat ek op aarde oor het sinvol gebruik: ek wil die gawes wat ek van U gekry het, ontgin en leer hoe om U en ander nog liewer te hê. Van vandag af wil ek met ie leef bereid wees om te leer, u krag in my lewe ontplooi, elke dag voluit leef en net op U vertrou. Ek wil nie langer tyd mors met onbenullighede nie, maar my liggaam beter oppas, my drome waar maak en absoluut afhanklik van U leef. Vergewe my dat ek U en my geliefdes so dikwels afskeep omdat my tyd te beperk is, en leer my om op die regte manier te kommunikeer. Maak my bereid om ander van harte te vergewe, minder selfsugtig en met groter integriteit te leef, konflik te leer hanteer en ’n dankbaarder mens te wees. Ek wil graag u koers vir my lewe volg en gereed wees wanneer U my kom haal om vir altyd by U te wees. Verander my en maak my nuut, sodat ek nuut sal dink en leef. Dankie dat U steeds wonders doen, dat U dit vir my moontlik maak om ’n blywende erfenis vir my kinders en kleinkinders na te laat. Help my om elke dag saad te saai wat vrug sal dra vir u koninkryk en om die regte boumateriaal vir my lewe te gebruik. Ek onderneem om in die vervolg u riglyne te gehoorsaam, te doen wat ek kan en met ie vir U te leef. En ek sien reeds reikhalsend uit na die hemel wat U vir my gereedmaak. Amen.
Junie: Wysheid uit Spreuke
JUNIE: WYSHEID UIT SPREUKE
Die Spreukeboek word soms ’n bloudruk vir die lewe genoem. En dit is ná duisende jare vandag steeds net so relevant soos die dag toe dit geskryf is. Ons kry hier te make met praktiese lewensvaardighede wat ons help om die lewensvrae waarmee Christene elke dag worstel op God se manier op te los. “Dit praat oor die manier waarop ons God kan dien, hoe ons wys en verstandig kan wees in ons verhou-ding met alles en almal wat rondom ons is. Dit toon vir ons aan watter sake blywende waarheid het,” berig Die Bybellennium.* Alle ware wysheid begin met liefde vir en gehoorsaamheid aan die Here, leer die Spreukeboek jou. Sonder Hom in jou lewe sal jy tevergeefs probeer om sinvol te leef, om werklik gelukkig te wees. Hierdie maand gaan ons saam deur die Spreukeboek stap, sodat die wysheid wat in Spreuke opgeteken is, vir ons elkeen kan wys hoe om elke dag só te leef dat ons gelukkige en vervulde mense sal wees.
(Die Boodskap se vertaling van die bekende uitsprake van die Spreuke-skrywer het vir my persoonlik splinternuwe lig daarop gewerp. Hierdie vertaling word dus deurgaans gebruik in hierdie maand wat ons met die wysheid uit Spreuke besig gaan wees.)
* FJ van Rensburg en M Nel, Die Bybellennium, p 871
1 Junie – Bloudruk vir die lewe
1 JUNIE
Lees: Spreuke 1:2, 7–23
Bloudruk vir die lewe
Al die spreuke wil ons wys hoe om te leef. Dit is bedoel om mense wys en gelukkig te maak … Lewensgeluk begin by liefde vir die Here … “Luister na my woorde! Dan sal ek julle met al die spreuke wys hoe om reg te leef.” – Spreuke 1:2, 7, 23 (Die Boodskap)
Alle mense wil graag verstandig en gelukkig wees. In die Spreukeboek lê die geheim opgesluit hoe Christene voluit kan leef, daglank met wysheid kan optree, altyd gelukkig kan wees, en boonop kan leef soos God van sy kinders vra. Dit is inderdaad ’n mondvol! Miskien gaan jy – soos ek – sommer nou ontdek dat jy in die verlede glad te vinnig deur hierdie Spreukeboek gelees het en onderneem om in die toekoms ekstra fyn te let op die wysheid wat die Spreukeskrywer met jou wil deel. Eerstens behoort jy te weet dat ware geluk by liefde vir God begin. Sonder God sal jou lewe soos ’n bootjie sonder ’n stuur wees. Jy sal nie weet waarheen jy op pad is nie en ook nie hoe om by jou regte bestemming uit te kom nie. Maar mét God in jou lewe verander alles: Hy sal vir jou deur die influistering van sy Heilige Gees wys hoe om te lewe. Die Spreukeboek wil nie net vir jou ’n betroubare roetekaart daarstel waarvolgens jy moet reis nie, maar jou ook haarfyn wys wat jy moet doen as daar storms in jou lewe opduik. Maak meer tyd
vir God in jou lewe, leer om na Hom te luister, en Hy sal sorg dat jou lewe volgens plan verloop.
Hemelse Vader, baie dankie dat ek vir U in my lewe het. Wys my asseblief elke dag hoe U wil hê dat ek moet leef, en leer my u wil vir my lewe. Amen.
2 Junie – ’n Einde aan angs
2 JUNIE
Lees: Spreuke 1:33–2:9
’n Einde aan angs
“Wie die wysheid ernstig opneem, is ’n gelukkige mens. Hy sal veilig voel en geen angs vir die lewe hê nie.” … Al die spreuke sal jou leer hoe om reg op te tree … En jy sal weet hoe om met insig en begrip in elke situasie op te tree. – Spreuke 1:33; 2:8–9 (Die Boodskap)
Ek dink nogal dikwels met verwondering terug aan my grootwordjare in die klein plattelandse dorpie Clanwilliam. Ons het nooit bedags ons huis se deure gesluit nie. Ons het selfs snags in die warm somernagte op die stoep geslaap en die huis se deure oop gelos! Op die oomblik lyk dinge soveel anders. Mense lewe in veilig-heidskomplekse of agter tralies met elke denkbare alarmstelsel wat aangeskakel word as hulle weg van die huis is, en steeds is daar inbrake en geweld. Tog, as jy God ken, is dit vir jou moontlik om onbevreesd te lewe, met die seker wete dat God jou sal beskerm en bewaar. Ten spyte van die heersende misdaad sal Hy jou sy vrede en rustigheid gee. Ook in die tye wanneer God ver vóél, moet jy nie op jou emosies vertrou nie, maar behoort jy aan die beloftes in jou Bybel vas te hou. Bid dat God vandag en in die dae wat kom, vir jou sy vrede wat “alle verstand te bowe gaan” sal gee, sodat dit vir jou moontlik sal wees om nie langer in angs te leef nie. God bied jou ook die wysheid om in elke situasie
met insig en begrip op te tree. Vertrou Hom daarvoor!
Here, ek weet U is by my, maar ek word tog nog steeds bang as ek na die misdaadstatistiek kyk. Neem asseblief my angs weg en help my om in die vervolg met insig en begrip op te tree. Amen.
3 Junie – Kies ’n gelukkige lewe
3 JUNIE
Lees: Spreuke 2:1–20
Kies ’n gelukkige lewe
Jong vriend, indien jy na my wyse woorde oor die alledaagse lewe luister en my voorskrifte soos ’n kosbare skat binne-in jou bewaar, … sal jy die Here se liefde begin verstaan. Jy sal weet hoe om wys en gelukkig te leef. – Spreuke 2:1, 5 (Die Boodskap)
In die tweede Spreukehoofstuk kry ons uitstekende raad hoe om gelukkig te lewe. Daar is veral vier dinge waaraan jy aandag behoort te gee:
• Bewaar die voorskrifte wat vir jou in die Spreukeboek opgeteken is soos ’n kosbare skat in jou hart. Soek gedurig daarna, tree daarvolgens op, en jy sal die Here se liefde vir jou begin verstaan (vgl Spreuke 2:1–5).
• Kennis en insig kan jy net by die Here kry. Dit is net Hy wat jou kan leer hoe om in alle omstandighede met wysheid en begrip op te tree. Dink mooi na oor wat hier opgeteken is en pas dit dan in jou eie lewe toe (vgl Spreuke 2:6–8).
• Hierdie wysheid sal jou van verkeerde dinge weghou, jy sal begin om te let op wat jy sê en van verkeerde mense wegbly. (Spreuke 2:10–14)
• Kry vir jou vriende wat die Here liefhet, mense wat weet hoe om gelukkig te leef, en jy sal soos hulle leer om die lekker dinge van die lewe met oorgawe te geniet (vgl Spreuke 2:20–21).
Indien jy hierdie vier riglyne gehoorsaam, gaan jy inderdaad (met God se hulp natuurlik) daarin slaag om gelukkig te lewe.
Hemelse Vader, ek wil graag u wysheid in my hart skryf en in my lewe navolg, sodat ek met u hulp gelukkig sal kan leef. Help my asseblief hiermee. Amen.
4 Junie – Dink voor jy praat!
4 JUNIE
Lees: Spreuke 3:1–4
Dink voor jy praat!
Jong vriend, luister na my raad. Dink mooi oor die alledaagse lewe na. Dink wat jy op die regte oomblik moet sê en wat jy moet doen, wie en wat jy eerder moet vermy … Bind al die spreuke soos ’n kettinkie om jou nek. Skryf dit in jou hart sodat jy dit nooit vergeet nie. – Spreuke 3:1, 3 (Die Boodskap)
Die Spreukeskrywer lê klem daarop dat ons mooi moet dink vóórdat ons doen; dat ons die regte dinge op die regte tyd moet sê en dat ons ook moet besluit of daar mense en dinge is wat ons liewer behoort te vermy. Dit is voorwaar wyse raad hierdie, wat in elkeen van ons se lewe met vrug gehoorsaam kan word. Jakobus lewe lank ná die Spreukeskrywer, maar hy stem volmondig saam. Mense wat praat voordat hulle dink, beland baie maklik in die moeilikheid, waarsku hy. Dit sal ons baat as elkeen van ons eerder gewillig is om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad te word nie (vgl Jakobus 1:19). Hy gaan selfs nog verder: “As iemand dink hy is godsdienstig, maar hy hou nie sy tong in toom nie, bedrieg hy homself. Sy godsdiens is waardeloos,” sê hy ’n paar teksverse verder (Jakobus 1:26). Raak gerus ’n rukkie stil en dink na oor jou eie lewe: hoe jy optree en hoe dikwels jý praat voordat jy dink en maar nie jou tong in toom gehou kan kry nie.
Vra dan die Here om ’n wag voor jóú mond te sit en jou in die toekoms te help om éérs te dink en dán te praat!
Here, U weet hoe dikwels ek praat voordat ek nog gedink het. Help my asseblief om ’n wag voor my mond te sit en mooi te dink oor die dinge wat ek sê. Amen.
5 Junie – Vertrou op die Here met jou hele hart
5 JUNIE
Lees: Spreuke 3:5–12
Vertrou op die Here met jou hele hart
Moenie dink jy weet altyd die beste nie. Begin eerder elke dag weer van voor af om die Here lief te hê … Vertel die Here alles waaroor jy dink, alles wat jy wil doen. Dan sal jy sien hoe Hy jou help. – Spreuke 3:5–6 (Die Boodskap)
Ek het grootgeword met die 1933-vertaling van Spreuke 3:5–6: “Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.” Die meeste van ons huiwer mos maar om God in álles te vertrou. Ons probeer eers om dinge sélf reg te kry voordat ons by God om raad kom aanklop. Dis nie hoe dit werk nie, sê die Spreukeskrywer. Jy kan jouself baie moeite en probleme spaar as jy van meet af aan eerder die Here sal raadpleeg; vir Hom alles vertel wat jou pla en Hom vra om die dinge te seën wat jy graag wil regkry. Dan onderneem Hy om jou te help. In vers 8 en 9 kry jy nóg goue raad: dien die Here met jou talente en gee vir Hom sy regmatige deel van jou geld. Dan sal jy meer as genoeg hê om van te leef, en boonop sal jou lewe vol vreugde wees. As jy tot op datum nog net op jouself staatgemaak het, doen gerus ’n proefneming: vertrou van nou af op God met jou hele hart en ken Hom in alles wat jy doen. Dan sal Hy Self vir jou sukses waarborg.
Hemelse Vader, vergewe my dat ek so huiwer om U ten volle te vertrou. Ek onderneem nou om my hele lewe aan U oor te laat, U te dien met my talente en die regmatige deel van my inkomste aan U af te staan. Amen.
6 Junie – Lekker slaap!
6 JUNIE
Lees: Spreuke 3:21–26
Lekker slaap!
Jong vriend, daar is twee dinge waarsonder jy in hierdie lewe nie kan klaarkom nie. Een is ’n begeerte om reg te leef. Die ander is om te weet hoe om reg te praat en te doen. Dié twee sal jou gelukkig maak … Dan sal jy ook veilig en beskut voel. Wanneer jy gaan slaap, sal jy nie bang wees nie. Jou nagrus sal goed wees. – Spreuke 3:21–23 (Die Boodskap)
Daar is min dinge wat ’n mens so laat sukkel om te slaap soos spanning of ’n skuldige gewete. Indien jy reg leef, praat en doen, sal jy gelukkig wees, veilig en beskut voel en snags rustig kan slaap, aldus die Spreukeskrywer. In 2011 was my ma vir ’n lang ruk ernstig siek. Ons moes kort-kort Clanwilliam toe ry om haar te gaan sien. Sy het ’n ruk lank baie vinnig agteruitgegaan en vir ons gesin was dit baie traumaties om haar so te sien. Elke keer as die telefoon gelui het, het ons die ergste verwag. Ek kon later glad nie meer snags slaap nie. Ek het óf ure rondgerol voordat ek aan die slaap kon raak óf in die middel van die nag wakker geskrik en tot ligdag wakker gelê. Vandag se kernteks en ook Psalm 4:9 (“Nou sal ek onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want, Here, U alleen laat my veilig woon,”) het vir my in hierdie tyd baie beteken. Ek het doodeenvoudig in my wakkerlêtye met God begin gesels en gou ontdek dat ek daarna inderdaad weer rustig kon slaap soos vantevore. Beproef dit gerus as
jy aan slapeloosheid ly.
Here, ek bid dat U my elke aand opnuut van u teenwoordigheid in my lewe sal verseker, sodat ek veilig en rustig sal kan slaap. Amen.
7 Junie – Help dadelik!
7 JUNIE
Lees: Spreuke 3:27–35
Help dadelik!
Gee om vir die arme. As jy kan, moet jy nooit goed soos geld, klere en kos van die arme weghou nie. Help dadelik. Moenie vir jou naaste sê om liewer môre te kom as jy hom vandag al kan help nie. – Spreuke 3:27–28 (Die Boodskap)
Die Spreukeskrywer slaag telkens daarin om met sy vinger op ’n gevoelige plek vir ons almal te druk! Die meeste mense lei besige lewens. Ons hardloop van die een verpligting na die ander. Daar is hope mense om ons wat ons hulp nodig het. Ons besluit telkens om hierdie mense te help, maar so tussen ons eie vol programme deur word hierdie hulp keer op keer uitgestel – en later selfs heeltemal afgestel. Dit werk nie so nie, sê die Spreukeskrywer. Jy moet nóú help, moenie vir iemand sê om liewer môre te kom as jy hom vandag al kan help nie. Indien jy skuldig is aan hierdie praktyk van uitstel-om-te-help, onderstreep gerus vandag se kernvers in jou Bybel en skryf sommer die datum daarby wanneer jy iemand gaan help wat hulp nodig het, by die sopkombuis kan help of ’n bydrae kan gee aan mense wat swaar kry. In Jesaja 58:10–11 is daar ’n pragtige belofte vir mense wat bereid is om dadelik te help: “… as jy jou wy aan dié wat honger het, as jy voorsien in die behoeftes van dié wat in nood is, sal die lig vir jou skyn wanneer dit donker is, sal wat vir jou nag is, word soos die helder middag. Die Here sal jou altyddeur lei; selfs in dor streke sal Hy in jou behoeftes voorsien.”
Vader, maak my bereid om mense in nood vandag nog te help, en nie hierdie hulp te bly uitstel nie. Amen.
8 Junie – Dink en leef reg
8 JUNIE
Lees: Spreuke 4:20–23
Dink en leef reg
Wees versigtig wat jy dink. Jou denke kan jou lewe ingrypend beïnvloed … Let mooi op hoe jy jou lewe inrig en kyk waarheen jy stap. Jou manier van leef bepaal jou geluk! – Spreuke 4:23, 26 (Die Boodskap)
Die feit dat die dinge wat jy dink ’n baie groot invloed op jou lewe, geluk en gesondheid het, is algemene kennis. Duisende jare gelede het groot wysgere al hierdie feit erken. “’n Mens se persoonlikheid word bepaal deur die dinge waaraan jy dink; jou wese neem as ’t ware die kleur aan van dit wat in jou gedagtes leef,” skryf Marcus Aurelius.* Heel waarskynlik ken jy positiewe, gelukkige mense wat baie suksesvol is, maar ook negatiewe klakouse vir wie niks ooit reg uitwerk nie. Die verskil tussen hierdie mense is nie soseer hul talente of omstandighede nie, maar hul gedagtes. Positiewe gedagtes het positiewe resultate, en andersom. Indien jy dit kan regkry om positief te dink, gaan jy heel waarskynlik gelukkig en suksesvol wees, maar as jy negatief bly, gaan sukses en geluk jou waarskynlik bly ontwyk. Die manier waarop jy leef, het ewe-eens ’n invloed op jou geluk. As jy God liefhet en ander nie mense behandel soos jý graag behandel wil word, kan dit nie anders nie as om goed met jou te gaan. Besluit sommer nou om in die vervolg
dankbaar te leef, om niks as vanselfsprekend te aanvaar nie, om jou lewe bewustelik te geniet, om die skoonheid om jou raak te sien. Onthou net altyd dat jy alles wat jy het van God ontvang het, en gee Hom die eer daarvoor.
Here, maak elkeen van my gedagtes absoluut gehoorsaam aan U en help my om my lewe van vandag af só in te rig dat ek positief sal bly, sodat my manier van lewe my geluk sal bepaal. Amen.
* Marcus Aurelius
9 Junie – Gaan leer by die miere!
9 JUNIE
Lees: Spreuke 6:6–11
Gaan leer by die miere!
Luiaard, gaan leer by die mier hoe om te werk. Sonder ’n baas wat hom moet dryf, ’n toesighouer wat sy vordering moet dophou of ’n bestuurder wat sy program moet reël, werk hy dag en nag … Luiaard, hoe lank gaan jy nog so sit en niksdoen? – Spreuke 6:6–7, 9 (Die Boodskap)
In vandag se teksverse stuur die Spreukeskrywer sy lesers na die miere om by hulle te gaan leer hoe daar gewerk behoort te word. Miere word deur niemand aangejaag nie, hulle het nie vooropgestelde programme wat hulle moet voltooi nie, en tog is hulle van die oggend tot die aand besig om hard te werk. Hulle het boonop ’n fyn aanvoeling om die regte dinge op die regte tyd te doen. In die somer versamel hulle kos vir die winter, sodat hulle genoeg sal hê om van te leef as dit koud word. Ongelukkig is die oorgrote meerderheid mense nie so fluks soos miere nie. Ons steek maar te graag lyf weg by die werk en dink nie eens daaraan om dié dinge te doen wat nie deel van ons posbeskrywing is nie. Probeer gerus om van nou af méér as wat nodig is by jou werkplek te doen. Kom soggens ’n bietjie vroeër en loop saans ’n bietjie later. Binnekort gaan jou werksywer raakgesien en jy daarvolgens beloon word. Dan het jy inderdaad gedoen wat die Spreukeskrywer jou aanraai: jy het by die miere gaan leer!
Here, ek is jammer dat ek dikwels lyf wegsteek by die werk én by die huis. Ek wil van vandag af by die miere gaan leer hoedat U wil hê ek moet optree. Maak my fluks en gewillig om my werk na die beste van my vermoë te doen. Amen.
10 Junie – Jy het wysheid nodig
10 JUNIE
Lees: Spreuke 8:10–20
Jy het wysheid nodig
Wysheid moet gesien kan word daar waar mense moeilike situasies reg hanteer, daar waar die regte woorde op die regte oomblik gesê word. Onthou, wysheid begin by liefde vir die Here … Die wysheid verskaf die regte raad, kennis en insig vir ’n gelukkige lewe. Niemand kan sonder wysheid klaarkom nie. – Spreuke 8:12–14 (Die Boodskap)
Die woord waarop die Spreukeskrywer die meeste fokus, is wysheid. Wysheid in die Spreukeboek beteken dat ’n mens tussen reg en verkeerd kan onderskei, dat jy sal weet wat die regte ding is om te doen en wat die regte manier is om op te tree. Vandag se kernverse stel dit duidelik: dit word gesien daar waar mense moeilike situasies reg hanteer en waar die regte woorde op die regte oomblik gesê word. Wysheid gee vir jou die regte raad, kennis en insig wat jy nodig het om gelukkig te kan leef. En dan onderstreep die skrywer die hoofsaak waarom dit eintlik in die Spreukeboek gaan: wysheid begin altyd by liefde vir die Here. Dit is net Hy wat vir jou ware wysheid kan gee. Nog iemand wat spesiale klem op wysheid lê, is Jakobus. Hý verseker ons dat dié mense wat wysheid kortkom dit maar met groot vry-moedigheid van God kan vra (vgl Jakobus 1:5). En álmal van ons het wysheid nodig. Vir mense wat
om wysheid bid sonder om te twyfel dat hulle dit sal kry, skenk God daardie wysheid. En dié belofte geld vir jou ook! Indien jou eie lewe nog nie God se wysheid weerspieël nie, kan jy dit van God bid, met die seker wete dat Hy dit vir jou sal gee.
Here, vandag kom bid ek dat U vir my die nodige wysheid sal gee sodat ek sal weet hoe om in elke situasie reg op te tree. Amen.
11 Junie – Maak tyd vir God
11 JUNIE
Lees: Spreuke 9:7–12
Maak tyd vir God
Om reg te leef moet jy eers die Here liefhê. As jy die Heilige ken, verstaan jy soveel meer van ’n gelukkige lewe. As jy reg optree, word jou lewe elke dag net lekkerder, jou lewensjare net gelukkiger. – Spreuke 9:10–12 (Die Boodskap)
Jou eie ingesteldheid bepaal die kwaliteit van jou lewe. As jy bereid is om volgens die riglyne van God se wysheid (wat vir jou in die Bybel uitgespel word) te leef, sal jy vind dat die beloftes in vandag se kernverse in jou lewe sal realiseer: jou lewe gaan élke dag lekkerder word, jou lewensjare net gelukkiger. Om hierdie rede is Christene gewoonlik mense wat van geluk straal. Ongelukkig is die teenoorge-stelde óók waar: sónder God gaan geluk jou bly ontwyk, en gaan jou lewe sonder enige betekenis wees. Die Engelse vertaling van Spreuke 9:11 lui: “For by me your days will be multiplied, and years of life will be added to you” (New King James Version). Leer om die tyd tot jou beskikking op die regte manier te gebruik. Hoe meer tyd jy met jou Bybel spandeer, hoe meer wysheid gaan jy ontvang. Maak dus die beloftes in jou Bybel jou eie. Moet ook nooit vergeet dat ware wysheid by God begin nie – uit jouself is jy nie daartoe in staat nie. Maar met God se Gees in jou lewe, sal Hy jou Self leer hoe om te leef, hoe om op te tree, wat om te sê. Indien jy op hierdie manier leef, kan jou lewe nie anders as ’n fees wees nie, ook al is
jou omstandighede nie altyd ewe positief nie.
Here, dankie vir u Woord wat my leer hoe om te lewe. Ek wil genoeg tyd opsy sit om by U stil te word en my Bybel al beter te leer ken. Amen.
12 Junie – Beheer daardie praatlus!
12 JUNIE
Lees: Spreuke 10:10–19
Beheer daardie praatlus!
’n Babbelende kletskous veroorsaak sy eie ondergang. ’n Gelowige se woorde kan baie vir mense beteken. Dit is ’n onuitputlike bron van inspirasie … Skinderpraatjies is tipies van ’n dwaas. Iemand wat aanmekaar babbel, lap geheime uit en sê verkeerde dinge. Iemand wat sy praatlus beheer, is slim. – Spreuke 10:10–11, 18–19 (Die Boodskap)
Politieke figure is dikwels in die nuus omdat hulle onbesonne dinge van mekaar sê. Hoe meer ons praat, hoe makliker is dit om verkeerde dinge te sê. Vandag se kernverse het my laat koes, want ai, ek praat tog so baie en soms raak ek sulke ondeurdagte dinge kwyt! As ek maar net kan leer om minder te praat, nie ander mense in die rede te val nie en nié dinge te sê waaroor ek later spyt gaan wees nie, sal my eie lewe beslis eenvoudiger wees! Almal van ons praat by tye te veel, ons sê dinge wat ander mense seer of ongelukkig maak. Nadat ek vandag se Spreukewysheid gelees het, het ek summier besluit om in die vervolg Paulus se goue raad in Efesiërs 4:29 te volg: “As julle iets sê, moet dit iets wees wat die moeite werd is om te sê en vir ander iets beteken” (Die Boodskap). Elke mens het twee ore en één mond. Dit is omdat ons twee maal soveel moet luister as wat ons praat, lui ’n bekende gesegde. Kom ons probeer om dit in ons lewe toe te pas! Bly veral weg van skinderpraatjies, en indien jy wel iets sê,
maak seker dat jou woorde ander mense sal bemoedig en inspireer.
Here, ek het al soveel kere te veel gepraat. Help my asseblief om my praatlus te beheer en my woorde te tel, sodat ek nie ander mense met my woorde sal seermaak nie. Amen.
13 Junie – ’n Lewende hoop
13 JUNIE
Lees: Spreuke 10:20–32
’n Lewende hoop
Liefde vir die Here maak die lewe die moeite werd. Ongelowiges se lewe is kort en vol angs. Dit waarop gelowiges hoop, word waar. Daar kom niks van ongelowiges se hoop nie. – Spreuke 10:27–28 (Die Boodskap)
Die Spreukeskrywer kan die feit dat liefde vir God ons lewe die moei-te werd maak, nie genoeg beklemtoon nie. Boonop word dié dinge waarop God se kinders hoop, vir hulle waar, skryf hy in vandag se kernverse. “Ander verwag ’n hooplose einde, maar hulle wat in God glo, het eindelose hoop,” sê die Nederlander G van Beeken.* Ongelukkig deel ongelowiges nie in hierdie hoop op God nie. Om hierdie rede realiseer die dinge waaraan hulle hul hoop vasknoop gewoonlik nie. Maar hoop op God het nog nooit beskaam nie. Dit is ook ’n hoop wat niemand ooit van jou kan wegneem nie. Jeremia is dié profeet waarmee almal wat swaarkry hulle kan vereenselwig. Selfs te midde van die ergste rampe wat hom getref het, het Jeremia aan sy hoop op God vasgehou. “Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra,” getuig hy in Klaagliedere 3:25. Ook Petrus ken hierdie hoop op God. “Nou het ons ’n lewende hoop op die
onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word,” skryf hy in 1 Petrus 1:3–4. As jy in God glo, behoort hierdie hoop ook aan jóú, kan jy nou reeds jou hoop aan God vasknoop en jubel oor die onverganklike erfenis wat vir jou in die hemel wag!
Here, ek loof U dat die dinge waarop ek hoop alreeds vir my waar geword het, omdat ek seker weet dat daar vir my ’n ewige erfenis in die hemel by U wag. Amen.
* G van Beeken
14 Junie – ’n Oop hand vir ander
14 JUNIE
Lees: Spreuke 11:19–31
’n Oop hand vir ander
Wie baie vir ander gee, word al hoe ryker. Wie suinig is, word al hoe armer. Wie ander help, is self voorspoedig … Wie ander se nood raak-sien, is ’n gelukkige mens. – Spreuke 11:24–25 (Die Boodskap)
Dis saliger om te gee as om te ontvang, lui ’n bekende spreekwoord. Die Bybel is vol teksverse wat mense aanmoedig om ’n oop hand vir ander te hê. Jesus het hierdie gee-kultuur aangemoedig: As iemand net ’n beker koue water vir iemand anders gee, sal Hy sy beloning kry, beloof Hy in Matteus 10:42. Wanneer sy dissipels by Hom wil weet waar hulle kos kan kry om ’n hongerige skare te voed, sê Hy: “Gee julle vir hulle iets om te eet” (Matteus 14:16). Paulus verseker die gemeente in Korinte: “… God het die blymoedige gewer lief” (2 Korintiërs 9:7). Probeer om élke dag iets vir iemand anders te gee wat nié geld kos nie: jou tyd, jou glimlag of jou raad. As jy van iemand hoor of iemand op straat sien wat materiële dinge kortkom, moenie aarsel om te help nie. Terwyl jy besig is om aan ander te gee, kry jy nie net God se seën nie, maar dit maak jou ook gelukkig. Gee ook aan Gód sy regmatige deel van jou inkomste. In Maleagi 3:10 spoor God sy volk aan om hul volle tiendes te bring, en beloof Hy dat Hy dan die vensters van die hemel vir hulle sal oopmaak. Jy kan gerus die Spreukeskrywer
se uitdaging aanvaar: as jy baie vir ander gee, gaan jy al hoe ryker word, en gelukkig wees op die koop toe!
Here, vergewe my my inhaligheid! Gee my ’n oop hand vir ander en maak my gewillig om oorvloedig aan ander te gee. Amen.
15 Junie – Leer uit jou foute
15 JUNIE
Lees: Spreuke 12:1–11
Leer uit jou foute
Wie die lesse van die lewe ernstig opneem, is slim. Wie uit sy foute leer, leer die kuns van die lewe ken. Wie na geen raad luister nie, is dom. Die Here hou sommer baie van mense wat graag wil leer, van mense wat die regte dinge op die regte oomblik doen en sê. – Spreuke 12:1–2 (Die Boodskap)
“Geen fout is ’n fout as jy daaruit kan leer nie,” lui ’n anonieme aanhaling. Die foute wat ons deur die loop van ons lewe maak, is inderdaad ons heel beste leermeesters, en hoe groter die fout, hoe kosbaarder is die lewensles wat ons daaruit leer. Ek het byvoorbeeld een naweek my smuktassie met ál my grimering, my tandeborsel en tandepasta, en my kam, borsel en sjampoe by die huis vergeet. Nou is dit die héél eerste ding wat ek inpak as ons vir ’n naweek weggaan! Die probleem met my is egter dat ek selde dieselfde fout maak – volgende keer begaan ek weer ’n heel ánder fout! Moenie bang wees om foute te maak nie. Besluit sommer nou om uit jou foute te leer. En erken dit as jy foute maak. Moet egter nie toelaat dat al die baie foute wat jy maak jou moedeloos maak nie, want daar is immers géén mens op die wêreld wat nooit foute maak nie. Volg gerus John Maxwell, die maatskappyghoeroe se raad: “Ons leer uit ons foute. Ons kan selfs verder gaan en beweer dat niemand waarskynlik leer as hy nie foute maak nie. Die vrees dat hulle foute kan
maak, het baie mense al daarvan weerhou om bo uit te kom.”*
Vader, ek stres so baie oor al die foute wat ek maak. Help my om van nou af eerder my foute te erken en uit hulle te leer. Amen.
* Aangehaal in N Smit, Die groot boek van Christelike aanhalings, p 147
16 Junie – Bemoediging is beter as bekommernis!
16 JUNIE
Lees: Spreuke 12:17–26
Bemoediging is beter as bekommernis!
’n Gelowige se wyse woorde is soos saad wat gesaai word. Mettertyd dra dit baie vrug in ander se lewens … Bekommernis versuur jou lewe. ’n Bemoedigende woord van ’n gelowige maak jou gelukkig. – Spreuke 12:14, 25 (Die Boodskap)
Die slim mense het uitgereken dat sowat 85 persent van die dinge waaroor ons ons bekommer nooit met ons sal gebeur nie! Persoonlik het ek ontdek dat hoe ouer ’n mens word, hoe makliker bekommer jy jou – veral oor jou finansies en gesondheid as jy nou eendag werklik oud sou word. Die Spreukeskrywer slaan die spyker op die kop wanneer hy sê dat bekommernis jou lewe versuur. Jesus sê tereg in sy Bergrede dat bekommernis oor môre nie eens jou lewe met ’n enkele uur kan verleng nie. Besluit dus sommer vandag om jou bekommernisse na God te neem én hulle daar by Hom te los. Hy het immers beloof om vir jou te sorg – ook môre en oormôre. Jou hemelse Vader wéét mos presies wat jy nodig het. Indien jy jou eerder vir die koninkryk van God beywer, sal Hy vir jou alle ander dinge daarmee saam gee. Elke keer wanneer jy jouself betrap dat jy vir jou lysies maak van alles waaroor jy bekommerd is, neem ’n wilsbesluit om iemand anders te soek wat jy kan bemoedig. Wees bereid om na húl bekommernisse te luister en
raad aan te bied as hulle daarom vra. Dan sal jy inderdaad ander mense gelukkig maak.
Here, daar is nog so baie dinge waaroor ek my bekommer. Ek wil hulle almal nou na U bring met die seker wete dat U vir my sal sorg. Help my om in die vervolg eerder ánder mense wat bekommerd is, moed in te praat. Amen.
17 Junie – Vreugde soos ’n helder lig
17 JUNIE
Lees: Spreuke 13:9–21
Vreugde soos ’n helder lig
’n Gelowige se vreugde skyn soos ’n helder lig wat almal kan sien. Ongelowiges se bietjie blydskap verdwyn in die sand … Mense wat die Here verwerp se lewe is hel. Gelowiges ervaar intense geluk en voorspoed. – Spreuke 13:9, 21 (Die Boodskap)
Indien jy iemand ken wat gedurig aan die kla en kritiseer is, wat daglank met ’n lang gesig rondloop en wie se mondhoeke sommer vanself ondertoe neig, kan jy jou kop op ’n blok sit dat hierdie persoon nie ’n Christen is nie. Die teenoorgestelde is gelukkig ook waar. As jy iemand ontmoet wat van vreugde straal en met bekendes én onbekendes glimlag, is dit feitlik ’n gegewe dat hy of sy ’n Christen is. Want vreugde is ’n lewenskenmerk van Christene. Ons kan mos nie hélp om bly te wees as ons dink aan hoe goed God vir ons is nie. En hierdie innerlike vreugde wat eie aan ’n Christen is, kan niémand van ons wegneem nie, alhoewel rampe en swaarkry soms ons vreugde effens kan demp. Die psalmdigter verwonder hom aan hierdie feit: “Dié wat swaar kry, sien op na Hom en straal van blydskap, hulle word nie teleurgestel in hulle verwagting nie,” beloof Psalm 34:6. As daar weer swaarkry in jou eie lewe kom wat dreig om jou van jou innerlike vreugde te stroop, volg gerus die raad hierbo. Kyk op na God en wéét dat
niemand en niks jou van sy liefde kan skei nie, dat Hy altyd aan jou kant is en dat, ten spyte van jou swaarkry van die oomblik, die hemel eendag joune sal wees!
Hemelse Vader, dis so lekker dat my vreugde soos ’n helder lig mag skyn omdat U my God is. Dankie dat ek mag weet dat niks my ooit van u liefde kan skei nie. Amen.
18 Junie – ’n Erfenis vir jou kleinkinders
18 JUNIE
Lees: Spreuke 13:11–23
’n Erfenis vir jou kleinkinders
Iemand wat verstandig met sy geld werk se kleinkinders sal nog eendag daarvan erf. Selfs goddeloses se geld beland dikwels in die hande van gelowiges. Arm mense se grond lewer genoeg op dat hulle kan eet. Maar as wet en orde nie gehandhaaf word nie, verloor hulle selfs die bietjie wat hulle het. – Spreuke 13:22–23 (Die Boodskap)
Die Spreukeskrywer praat hier eintlik oor die materiële erfenis wat ons aan ons kinders en kleinkinders sal nalaat as ons verstandig met ons geld werk. Persoonlik verkies ek die Engelse (New International Version-) vertaling wat sê: “A good man leaves an inheritance for his children’s children …” (kursief myne). Want die geestelike erfenis wat Christenouers aan hul kinders en kleinkinders nalaat, is immers nog veel belangriker as die materiële dinge. Ons kosbaarste “besittings” is tog ons kinders en kleinkinders. “Kleinkinders verskaf hulle oupas en oumas hope geluk en vreugde. Kinders wat trots is op hulle ouers, staan sterk,” staan daar in Spreuke 17:6 (Die Boodskap). Ons kinders en kleinkinders word in ’n tydvak groot waarin bitter min mense hulle nog aan Bybelse waardes steur. Dit moet dus van jongs af aan hulle voorgehou word. Sorg dat jóú kinders en kleinkinders van kleins af die Here liefhet, dat hulle met die regte waardes grootword en dat hulle Bybelse riglyne
ken en gehoorsaam. Dan het hulle ’n veel kosbaarder erfenis van jou gekry as wat geld ooit kan wees. Dit is inderdaad waar dat baie geld maklik uit onkunde deur ’n mens se vingers kan glip! Fokus dus eerder op die geestelike dinge wat jy vir jou kinders en kleinkinders kan nalaat, wat hulle hul hele lewe sal bybly.
Here, bewaar my daarvan dat ek so sal fokus op die materiële erfenis wat ek graag aan my kinders en kleinkinders wil nalaat, dat ek hul geestelike erfenis sal afskeep. Wys my hoe om hulle vir U groot te maak. Amen.
19 Junie – Dissiplineer jou kinders!
19 JUNIE
Lees: Spreuke 13:24–25, 29:15
Dissiplineer jou kinders!
Wie nooit met sy kinders raas nie, het hulle nie werklik lief nie. Iemand wat sy kinders regtig liefhet, sal hulle kortvat as dit nodig is … Tug en dissipline help ’n kind om reg te leef. Die kind wat aan homself oorgelaat word, is ’n skandemaker. – Spreuke 13:24, 29:15 (Die Boodskap)
Nog ’n gebruik wat in baie hedendaagse ouerhuise die onderspit gedelf het, is dissipline. In vandag se samelewing maak baie kinders net soos hulle wil, sonder dat hul ouers ’n vinger lig om hulle te dissiplineer. Ek verwonder my telkens in supermarkte hoe kleutertjies gil en skree totdat hul ma’s maar oorgee en vir hulle die speelgoed of lekkers koop waaroor hulle huil. My dogter en haar man, wat albei onderwysers is, vertel dat kinders ook nie meer in skole gedissiplineer mag word nie. Die “tug” waarvan die Bybel praat, het ongelukkig ’n vloekwoord in ons samelewing geword. Geen wonder nie dat moderne kinders inderdaad “skandemakers” word, presies net soos die Spreukeskrywer eeue gelede voorspel het! “Dissipline skep nie alleen geborgenheid by kinders nie, maar dit skep ook ’n veilige ruimte waarbinne moraliteit kan groei. En moraliteit en die vorming van karakter gaan hand aan hand,” skryf Braam Hanekom.* Sónder die nodige dissipline sal kinders eenvoudig nie gelei en aangemoedig word om
verantwoordelike volwas-senes te word nie. Sodra ons ouers weer kan oorhaal om terug te keer na Bybelse riglyne waar hulle liefde aan hul kinders demonstreer deur hulle ferm te dissiplineer en hulle terselfdertyd léér hoe om reg te leef, sal daar beslis ’n positiewe verskil in ons samelewing merkbaar wees.
Here, help my asseblief om my kinders met die nodige dissipline groot te maak, sodat hulle sal weet dat ek hulle werklik liefhet. Amen.
* B en M Hanekom, Ontdek jouself voor God, p 88
20 Junie – ’n Fontein van liefde
20 JUNIE
Lees: Spreuke 14:23–30
’n Fontein van liefde
Die Here se liefde is soos ’n borrelende fontein. Dit maak van jou ’n sprankelende mens. Dit beskerm jou teen angs en spanning. – Spreuke 14:27 (Die Boodskap)
Daar is ’n fontein op my broer se plaas in die Sederberge wat selfs ten tye van die grootste droogte oorgenoeg water gee om die hele plaas te besproei. Die fontein het ook nog nooit opgedroog nie. As ek Spreuke 14:27 lees, kan ek nie help om aan hierdie fontein te dink nie. Presies só is God se liefde vir sy kinders. Dit kan nie uitgeput raak nie, dit is genoegsaam, dit gee lewe, dit laat jou sprankel en neem alle angs en spanning uit jou lewe. Daar is immers geen rede dat jy gespanne en angstig moet wees as jy weet dat daar ’n God is wat te alle tye vir jou sal sorg nie. Met God se liefde om jou elke dag te dra, is daar niks wat régtig met jou verkeerd kan gaan nie. Paulus stel dit mooi in Romeine 8:31–32: “Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?” Die borrelende fontein van God se liefde vir jou is genoeg, nee oorgenoeg vir jou héle lewe. Maar jy mag nie oor die wonder van hierdie oorvloed stilbly nie: jy
moet dit deel met elke mens wie se pad joune kruis.
Hemelse Vader, ek loof U vir u liefde vir my wat soos ’n standhoudende, borrelende fontein is. Ek wil graag vir almal hiervan vertel, sodat hulle ook in u lewende water kan deel. Amen.
21 Junie – Beplanning is noodsaaklik
21 JUNIE
Lees: Spreuke 15:22–33
Beplanning is noodsaaklik
Sonder goeie beplanning loop alle planne skeef. Goeie raad verseker sukses. … Wie wysheid verwerp, gooi sy geluk weg. Wie na goeie raad luister, verstaan die lewe soveel beter. – Spreuke 15:22, 32 (Die Boodskap)
Daar is ’n Engelse gesegde wat lui: “If you fail to plan, you plan to fail.” Ek gebruik ’n dagbeplanner waarin ek al my verpligtinge en die datums en afsprake wat ek moet onthou, neerskryf. Hoe ouer ekself en hoe korter my geheue word, hoe noodsaakliker word my dagbeplanner! Dis maklik om ’n week, ’n maand of selfs ’n jaar vooruit te beplan. Dit help ook baie om elke dag haarfyn te beplan. As jy dit doen, sal jy vind dat jy baie meer in jou dag inpas en meer uitgerig kry. Skryf elke dag alles wat jy moet doen in volgorde van belangrikheid neer, en doen dan éérste die belangrikste dinge. As jy dalk nie alles gedoen kry nie, is die belangrikste dinge darem in plek. Ek beplan ook elke Vrydag die volgende week se etes, juis omdat ek nou nie baie goed in die kombuis funksioneer nie! So kry ek dit reg om altyd die nodige bestanddele wat ek moet gebruik in voorraad te hê. In ons huis help gesinsrituele baie! My man, wat baie lief vir braai is, onderneem om vir ons Vrydae vis, Saterdae hoender en Sondae vleis te braai. Die res van die week maak ek maalvleis- of pastageregte of span ek my regterhand – my prutpot – in om sop of
maaltye klaar te toor terwyl ons slaap. Die raad van jou vriendinne kan ook baie help om dinge vir jou makliker te maak. So vrá as jy antwoorde wil hê en volg dan hul raad.
Here, dankie vir die gerief van deeglike beplanning en die goeie raad van vriende wat die lewe vir my soveel makliker maak. Amen.
22 Junie – Lê jou planne aan die Here voor
22 JUNIE
Lees: Spreuke 16:1–9
Lê jou planne aan die Here voor
’n Mens maak baie planne, maar die Here besluit of dit suksesvol sal wees of nie … Ken die Here in alles wat jy wil doen, dan sal Hy jou help om dit uit te voer … Elke mens beplan sy lewe, maar alles hang van die Here af. – Spreuke 16:1, 3, 9 (Die Boodskap)
Vir almal van ons is dit lekker en bevredigend as dié dinge waaraan ons lank beplan het, vir ons goed uitwerk. Dit is ewe-eens vir ons baie sleg as die planne waaroor ons lank gedroom het, misluk. Jy kan jouself baie mislukkings en verdriet in die toekoms spaar as jy éérs jou planne aan die Here voorlê en by Hom raad vra. God het ’n spesifieke lewensplan vir elkeen van sy kinders. Dit is immers ook Hy wat besluit of jou eie planne suksesvol sal wees of nie. Wanneer jou eie planne in ooreenstemming met Gód se plan vir jou lewe is, sal Hy Self sorg dat jou beplanning suksesvol verloop, jou planne sal uitwerk en jou drome sal waar word. “Net omdat iets nie gebeur soos wat jy beplan het nie, beteken dit nie dat jou beplanning verniet was nie,” skryf Thomas Edison, die man wat na vele mislukkings daarin geslaag het om die gloeilamp te ontwikkel.* As jy gebid het oor jou planne en jy nog steeds nie seker is of dit die Here se wil is nie, kan jy jou Christenvriende raadpleeg en hulle vra om sáám met jou te bid. Jy kan ook
na riglyne in jou Bybel gaan soek om God se wil vir jou lewe agter te kom. Dan kan jy die uitkoms met gerustheid aan God oorlaat.
Here, U weet reeds van elke plan en droom wat ek koester. Wys my asseblief watter van hulle in u raadsplan vir my inpas. Amen.
* T Edison
23 Junie – Luister na die Woord
23 JUNIE
Lees: Spreuke 16:16–27
Luister na die Woord
Wie na die Woord luister, sal die goeie van die lewe ervaar. Wie op die Here vertrou, is lewenslank gelukkig. – Spreuke 16:20 (Die Boodskap)
God se Woord is nie net ’n bron van kennis en inspirasie vir sy kinders nie, maar die mens wat na hierdie Woord luister en doen wat daarin geskryf staan, ontvang God se wysheid, wat veel beter is as blote kennis. Billy Graham het graag gesê dat wysheid vertikaal is: dit kom van bo, direk van God, terwyl kennis horisontaal is, dit kan deur enigiemand verwerf word. Elke mens wil graag gelukkig wees, maar ware geluk sal jou bly ontwyk as jy nie ’n verhouding met die Here het en op Hom vertrou nie. Jy mag egter gelukkig wees as jy in God glo, omdat jy seker is dat Hy vir jou sal onderneem. Soos jy dit in die verlede ervaar het, kan jy ook vir vandag daarop staatmaak en in die toekoms wat nog voor jou lê daarop vertrou. God is dié Een op wie jy jou lewe lank kan vertrou, getuig die profeet Jesaja tereg (vgl Jesaja 33:6). Hy het nog nooit die vertroue van sy kinders teleurgestel nie. Dit help egter nie as jy nie weet wat in God se Woord staan nie. Maak genoeg tyd om met God se Woord stil te raak, om dit indrinend te bestudeer, sodat jy die wysheid wat daarin vervat is jou eie kan maak en die persoonlike beloftes daarin
kan memoriseer en vir die res van jou lewe met jou kan saamdra.
Hemelse Vader, baie dankie vir u Woord wat my verseker dat ek lewenslank gelukkig sal wees as ek hierna luister. Dankie dat ek met alles in my op U kan vertrou. Leer my om aan u beloftes vas te hou Amen.
24 Junie – As God jou toets
24 JUNIE
Lees: Spreuke 17:1–10
As God jou toets
Soos ’n onderwyser jou kennis toets, so toets die Here ons ook. Hy wil vasstel hoe eg ons liefde vir Hom is. – Spreuke 17:3 (Die Boodskap)
Terwyl ek nog op skool was, het ek die nag voor ons Wiskunde moes skryf gewoonlik nie ’n oog toegemaak nie, en boonop kon ek in die matriekeksamen nie één enkele meetkundeprobleem regkry nie. Ek weet nou nog nie hoe ek Wiskunde deurgekom het nie! Al is ek al bykans vyftig jaar uit die skool, kry ek steeds nagmerries dat ek ’n wiskunde-eksamen moet skryf, net om te ontdek dat ek vergeet het om daarvoor te leer – óf nog erger, as ek kláár geskryf het en my antwoorde wil kontroleer, is daar net ’n wit papier waar my antwoorde ’n rukkie tevore was! Al bly eksamenskryf vir baie mense ’n nagmerrie, is dit goed en nodig, omdat dit die enigste manier is om jou kennis te toets. Soos onderwysers op skool leerders laat eksamen skryf om hul kennis te toets, toets God ook ons liefde vir Hom deur ons te laat swaarkry. “My liewe mede-Christene, wees opgewonde as julle geloof by elke geleentheid getoets word. Julle weet mos hoe goed dit vir julle geestelike lewe kan wees. Die slegte dinge wat met julle gebeur, toets of julle werklik die Here vertrou,” skryf Jakobus (Jakobus 1:2–3, Die Boodskap). As jy weer op hierdie manier deur God getoets word, weet dat hierdie negatiewe dinge juis met
jou gebeur omdat God wil weet hoe lief jy Hom het. Hoe nader jy aan Hom leef en hoe stywer jy aan Hom vashou, hoe beter gaan jy in die toets vaar.
Here, ek weet nou dat U my liefde vir U toets deur my te laat swaarkry. Help my om hierdie eksamen met vlieënde vaandels te slaag. Amen.
25 Junie – Wees ’n ware vriend
25 JUNIE
Lees: Spreuke 17:17, 18:24
Wees ’n ware vriend
Kies jou vriende versigtig. ’n Ware vriend sal jou deur dik en dun bystaan. Soos ’n goeie broer is hy altyd by jou. ’n Mooiweersvriend sal jou net ondersteun terwyl dit goed gaan … In tye van nood leer jy jou vriende ken. Sommige praat net, maar doen niks nie. Ander sal alles vir jou doen. Hulle is nader aan jou as ’n broer. – Spreuke 17:17; 18:24 (Die Boodskap)
Mense wat nie vriende het nie, is oneindig armer as hulle wat deur vriende omring word. Daar is gewoonlik baie mense van wie ons hou, tog is min van hulle ware vriende. In die Spreukeboek kan ons leer hoe om ’n ware vriend te wees. Die Spreukeskrywer maak ’n paar trefferuitsprake oor vriende wat vir jou leiding kan gee in jou eie vriendskappe en jou ook kan help om in die vervolg tussen blote kennisse en ware vriende te onderskei. Vriende moet versigtig gekies word, mekaar altyd bystaan en ondersteun, respek vir mekaar hê en mekaar help in noodsituasies. Daar is ook dinge wat vriendskappe vernietig, wat jy behoort te vermy. “Mense wat ompaaie met die waarheid loop, veroorsaak oral rusie. ’n Skindertong vernietig mooi vriendskappe,” waarsku Spreuke 16:28 (Die Boodskap). Weerstaan dus die versoeking om sappige stories oor jou vriende te versprei, al is hulle waar. Dit sal verseker jou vriendskap vernietig. Moet niks van jou
vriende sê wat jy nie voor hulle sal sê nie. Volg eerder die goue raad van Churchill: Behandel jou vriende soos jy jou skilderye behandel; plaas hulle altyd in die beste lig. Wanneer jy dit doen, sal jou vriendskappe blom en jou vriende inderdaad nader aan jou wees as ’n broer.
Hemelse Vader, ek loof U vir elkeen van my vriende wat my lewe so oneindig verryk. Maak my ’n ware vriend vir my vriende en wys my hoe ek hulle kan ondersteun en help. Amen.
26 Junie – Loop lig vir finansiële risiko’s
26 JUNIE
Lees: Spreuke 17:18–24
Loop lig vir finansiële risiko’s
Pas op vir finansiële risiko’s, vir lenings waaraan jy swaar afbetaal. Moet tog nie vir iemand borg teken nie. Dit is ’n dom ding. Jy gaan aan die kortste ent trek. – Spreuke 17:18 (Die Boodskap)
Die Spreukeboek gee ons ook oopkop finansiële raad! Tydens die resessie van 2009–2010 het baie mense vir die heel eerste keer die waarde van vandag se kernteks besef. Dit is juis omdat mense finansiële risiko’s aangegaan het dat baie van hulle nie meer hul huispaaie-mente of oortrokke rekenings kon betaal nie en in die proses alles verloor het. Baie mense koop steeds dinge wat hulle nie nodig het nie op skuld, met die gevolg dat hul skuld net ophoop. Ek het onlangs gelees dat die gemiddelde Suid-Afrikaner tagtig persent van sy salaris spandeer aan die afbetaling van sy skuld. Dit sal goed wees as almal van ons kan léér om nooit geld uit te gee wat ons nie het nie. Werk vir jou ’n begroting uit wat binne jou vermoë is. Spaar tien persent van jou geld en gee tien persent. Loop lig daarvoor om vir ander mense borg te teken en weet dat as iemand vir jou ’n ongelooflik goeie finansiële aanbod maak, jy hulle inderdaad nie moet glo nie! Knip gerus jou kredietkaart stukkend as jy nie beheer oor jou eie
spandabelrigheid het nie, leer om eers vir ’n artikel te spaar en dit dán te koop, en moenie onnodige dinge op uitverkopings koop net omdat dit goedkoper as gewoonlik is nie. Kyk in die koerante waar jy broodnodige artikels soos kos billik in die hande kan kry. Deur slim te koop, kan jy baie geld spaar.
Vader, dankie vir die geld wat U aan my toevertrou het. Leer my om nie finansiële risiko’s te loop nie en my geld verantwoordelik te spandeer. Amen.
27 Junie – Moenie skinder nie!
27 JUNIE
Lees: Spreuke 18:8–21
Moenie skinder nie!
Skinder is soos ’n stukkie sjokolade. Dit is lekker. ’n Mens kan nie ophou eet nie. Almal wil daarvan hê. Te veel maak ’n mens siek … Woorde moet tot dade lei. Baie praat sonder resultate is frustrerend.– Spreuke 18:8,20 (Die Boodskap)
Ek kon darem nie help om te lag toe ek dié stukkie wysheid hierbo lees nie. Dit is inderdaad vir sommige vroue net so moeilik om nie te skinder nie as wat dit is om op te hou sjokolade eet! Meestal troos jy jouself daaraan as jy ’n ekstra sappige skinderstorie oorvertel dat dit darem nie so erg is om iets wat nie skade kan berokken nie oor te vertel. Maar eergister het ons gelees dat skinderstories vriendskappe kan benadeel. Net soos een blokkie sjokolade jou nie gewig sal laat optel nie, mag ’n onskuldige storie dalk ook nie skade aanrig nie, maar die probleem lê by die ophou eet en die ophou vertel. As iemand wat mal is oor sjokolade eers nie één blokkie geëet het, kan sy gewoonlik nie ophou voordat die hele plak nie op is nie; net so kan iemand wat graag praat nie by onskuldige stories bly nie. Rantsoeneer dus maar jou sjokolade én jou stories oor ander. Daar is ’n onfeilbare stukkie raad wat vir beide sjokolade én skinderstories werk: die heel beste is om nie daarmee te begin nie. Die Spreukeskrywer is reg: beide sjokolade én skinder is lekker! En dit is moeilik om te stop as jy eers daarmee begin het.
Los liewer die skinderstories heeltemal. Uiteindelik sal die sjokolade veel minder skade aanrig.
Here, vergewe my dat dit vir my so lekker is om ’n storie te vertel wat my vriendinne laat regop sit! Help my om nooit weer ’n storie te vertel wat iemand anders skade kan berokken nie. Amen.
28 Junie – Los die hoogmoed!
28 JUNIE
Lees: Spreuke 18:12, 21:4
Los die hoogmoed!
Hoogmoediges se grootpraatjies help hulle niks in ’n krisis nie. Nederiges wat op die Here vertrou, word in elke nood gehelp … Dit is verkeerd om baie van jouself te dink en op ander neer te sien. Wie daarmee aanhou, kan later nie meer verander nie. – Spreuke 18:12, 21:4
Ons kan op ons televisieskerms en ook elders in die media elke dag talle voorbeelde sien van politici en ander belangrike mense wat hul eie beuel blaas en sportmanne wat ’n groot kop gekry het. Bygesê, juis aan die lewe van hierdie mense wat meen dat hulle so belangrik is, kan duidelik gesien word dat hulle nie Christene is nie. Vir hierdie mense het die Spreukeskrywer ’n waarskuwing: As jy aanhou om te veel van jouself te dink, gaan jy later nie meer kan verander nie. Maar ook belydende Christene wat sukses op hul spesifieke terrein smaak, sukkel om nederig te bly. Dit is baie beter om jou afhanklikheid van God te erken en vir Hom die eer vir jou prestasies te gee. Mense wat die Here liefhet, besef elke dag opnuut dat alles wat hulle het aan hulle gegee is, en dat hul gesondheid, sukses en ’n goeie lewenstandaard grotendeels onverdiende genade is. Indien jy een van dié mense is wat elke dag besef hoe groot God se genade oor
jou eie lewe is, kan jy die belofte in vandag se kernvers jou eie maak: “Nederiges wat op die Here vertrou, word in elke nood gehelp.” As jy op God vertrou, sal Hy jou elke keer help as jy in ’n krisis beland.
Hemelse Vader, ek is jammer as ek ook soms vergeet dat alle goeie dinge in my lewe net genade uit u hand is. Leer my om altyd vir U die eer vir my prestasies te gee. Amen.
29 Junie – Leer om te luister
29 JUNIE
Lees: Spreuke 18:13–20
Leer om te luister
Iemand wat antwoord voordat hy luister, praat die grootste onsin. Nie-mand wil hom meer enige raad vra nie … Woorde moet tot dade lei. Baie praat sonder resultate is frustrerend. Saampraat en saamdink het baie voordele. – Spreuke 18:13, 20–21 (Die Boodskap)
Dit is voorwaar ongelooflik hoe die Spreukeskrywer sy vinger so sekuur op my eie grootste swakhede kan lê! Een van die dinge waarmee ek bly sukkel, is juis om werklik na ander mense te luister vóórdat ek my eie stuiwer in die armbeurs gooi. Luistervaardigheid is ’n baie belangrike eienskap wat almal kan aanleer en wat groot dividende oplewer in die gewone lewe, in vriendskappe, in gesinne en huwelike. Die profeet Jesaja getuig dat dit die Here Self was wat hom geleer het om te luister (vgl Jesaja 50:5). Die mense wat jóú liefhet, wag dalk al lank dat jy sal leer om na hulle te luister, en werklik sal hoor wat hulle vir jou wil sê, sónder om hulle kort-kort in die rede te val. In die vervolg kan jy gerus ’n punt daarvan maak om eers te dink voor jy praat. “Denke is ’n gawe van die Here. Dit is soos ’n lig op ons pad. Dit help ons om onsself te verstaan. Dit help ons om die regte dinge te doen en te sê,” staan daar in Spreuke 20:27 (Die Boodskap). Wys in die vervolg vir mense dat hulle vir jou belangrik is deur fyn na hulle te luister – ook na die dinge wat hulle nié sê
nie deur na hul liggaamstaal op te let. En onthou tog om die mense wat met jou praat, in die oë te kyk!
Here, vergewe my dat ek so ’n swak luisteraar is en help my tog om in die vervolg éérs te dink en dán te praat. Amen.
30 Junie – Die sleutel tot geluk
30 JUNIE
Lees: Spreuke 19:20–27
Die sleutel tot geluk
Die mooiste ding wat ’n mens kan doen, is om lief te hê … Wie die Here liefhet, het die lewe. So ’n mens ken baie vreugde. Hy smaak die lewe in sy volheid. – Spreuke 19:22–23 (Die Boodskap)
Baie jare vóór Jesus het die Spreukeskrywer al die belangrikste boodskap wat Hy op aarde kom aflewer het, mooi opgesom: die mooiste ding wat ’n mens kán doen, is om lief te hê. Vir God én ander mense. Om lief te kán hê is dan ook die eienskap wat mense van diere onderskei. God maak die mens na sy beeld, met ’n ingeboude vermoë om te kan liefhê. En God koppel ook ’n belofte aan hierdie opdrag van Hom: Mense wat God liefhet en in Jesus glo, hét die ewige lewe. Vreugde is deel van ons geboortereg. Ons kan hierdie vreugde nie wegsteek nie, omdat dit eenvoudig oorborrel wanneer ons aan alles dink wat God vir ons gee en doen. Ware liefde kom tot uitdrukking in jou omgee vir ander. As jy die weerkaatsing van jou liefde in jou huweliksmaat se oë sien, wannee r jy vir die eerste keer jou eie baba in jou arms vashou, as jy jou kleinkinders se arms om jou nek voel, as jy God se liefde vir jou ervaar, wéét jy net dat God jou spesiaal gemaak het om lief te hê. Spits jou in die vervolg nog meer daarop toe om liefde te gee, om jou liefde uit te leef en God se liefde aan ander deur te gee. Daarsonder sal jy nooit
die lewe in sy volheid smaak nie.
Here Jesus, U het my kom leer om onvoorwaardelik lief te hê. Maak dit vir my moontlik om elke dag u liefdesgebod in my lewe uit te leef. Amen.
Gebed
Gebed
Here, dankie vir die wysheid in Spreuke wat my leer hoe ek moet lewe. Ek weet nou dat as ek U liefhet, ek nooit bang hoef te wees nie; dat ek bewustelik mag kies om gelukkig te wees deur u voorskrifte te gehoorsaam. Leer my asseblief om te dink voor ek praat, om met my hele hart op U te vertrou, om U met my gawes te dien, om reg te dink en reg te leef en om die mense wat my hulp nodig het, dadelik te help. Bewaar my asseblief sodat ek veilig kan leef en rustig sal slaap. Vergewe my dat ek nog so maklik lyf wegsteek – van nou af wil ek graag my werk vir U doen. Skenk my u wysheid om moeilike situasies reg te hanteer en gee vir my die kennis en insig wat ek nodig het. Ek wil meer tyd maak vir U, meer tyd met u Woord deurbring sodat ek u riglyne my eie kan maak en daarvolgens kan lewe. Help my om my praatlus hok te slaan, om nie van ander te skinder nie en gee vir my ’n oop hand vir ander. Van nou af wil ek uit my foute leer en ophou om my te bekommer. Dankie dat my vreugde soos ’n helder lig mag skyn omdat ek aan U behoort. Ek loof U dat ek u liefde soos ’n borrelende fontein in my lewe mag beleef en dat ek selfs wanneer U my geloof toets deur swaarkry steeds aan U mag vashou. Maak my ’n ware vriend vir my vriende; nederig en absoluut afhanklik van U, en leer my om na U en ander te luister – maar bo alles om onvoorwaardelik lief te hê, soos U my liefhet. Amen.
Julie: Woorde wat heelmaak
JULIE: WOORDE WAT HEELMAAK
Terwyl Hy op aarde was, het Jesus presies die regte woorde vir elke geleentheid én vir elke mens met Wie Hy in aanraking gekom het, gehad. Hy vertel mense in sy Bergrede hoe sy volgelinge moet lewe, Hy wys die skynheilige Fariseërs tereg, sy woorde genees en bemoedig mense, verál randmense wat deur ander mense oor die hoof gesien word. Meer as enigiemand voor of ná Hom het Jesus woorde wat heelmaak gespreek: woorde wat die mense van sy tyd se lewens verander het, maar meer nog, woorde wat vandag nog steeds óns lewens kan verander. As ons kan leer om hierdie heelmaakwoorde ons eie te maak, om hulle dag vir dag te herhaal, daaroor na te dink en hulle dan in ons eie lewe toe te pas, sal elkeen van ons beter dissipels wees, beter voorbereid om diens in God se koninkryk te verrig. Hierdie maand gaan ons ’n paar van Jesus se heelmaakwoorde bespreek – en in die proses probeer om sélf heel word.
1 Julie – Dis nodig om wéér gebore te word
1 JULIE
Lees: Johannes 3:1–15
Dis nodig om wéér gebore te word
Daarop sê Jesus vir hom: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” – Johannes 3:3
Nikodemus, ’n bekende Joodse leier, kom Jesus in die nag besoek, heel waarskynlik omdat hy nie saam met Hom gesien wou wees nie. Hy begin Jesus uitvra oor die wondertekens wat Hy doen, en ver-klaar dat niemand dit sou kon doen as God nie met hom is nie. Maar Jesus gee hom nie die verlangde antwoorde nie. Hy vertel hom dadelik dat hy eers weer gebore moet word as hy in God se koninkryk wil kom. Nikodemus verstaan nie en wil weet hoe dit moontlik is om twee maal gebore te word. Jesus praat hier nie van ’n letterlike fisiese geboorte nie, maar van ’n geestelike geboorte. Hy wil vir Nikodemus verduidelik dat wedergeboorte die wonder van ’n nuwe lewe behels; dat mense wat in Jesus glo, nuwe mense is. Om in God se koninkryk te kom, vra ook van jou om weer ’n slag gebore te word, om geestelik nuut te word, om ’n besliste keuse vir Jesus te maak as jy eendag in God se koninkryk wil ingaan. Jy moet persoonlik kiés om jou lewe aan God oor te gee en Hom toelaat om jou nuut te maak. Jy hoef hierdie proses nie te verstaan nie. Die Heilige Gees sal hierdie nuwe geboorte in jou lewe bewerk wanneer God in jou lewe ingryp en ’n nuwe skepsel van jou maak. Sorg
dat jou lewe élke dag getuig dat jy weer gebore is.
Here, ek weet nou dat U my wil nuut maak deur my weer gebore te laat word, sodat ek eendag u koninkryk sal beërwe. Dankie hiervoor! Amen.
2 Julie – God se liefde vir die wêreld
2 JULIE
Lees: Johannes 3:16–21
God se liefde vir die wêreld
“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.” – Johannes 3:16
Nadat Hy met hom oor die wedergeboorte gepraat het, vertel Jesus vir Nikodemus hoe lief God die wêreld het: só lief dat Hy sy enigste Seun gee, sodat elkeen wat in Hom glo, nooit verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. Hierdie teks is al so holrug gery dat dit ongelukkig baie van sy trefkrag verloor het. Heel waarskynlik het Nikodemus ook nie daardie nag die omvang van God se liefde vir mense verstaan nie. God het sondaarmense steeds so lief dat Hy nie gehuiwer het om sy enigste Seun op die altaar te plaas en Hom ’n wrede kruisdood te laat sterf om sy liefde vir sondaarmense te be-wys nie. Dalk het Nikodemus hierdie uitspraak van Jesus eers werklik verstaan daardie aand toe hy gehelp het om Jesus se bebloede lyk van die kruis af te haal en in ’n nuwe graf neer te lê … God bewys ook sy liefde vir my en jou deur Jesus in ons plek te laat sterf sodat óns eendag vir altyd kan lewe. En die enigste ding wat jy moet doen om hierdie liefde waardig te wees, is om in Jesus te glo. Indien jy dit nie doen nie, sal God se offer by jou verbygaan, sal dit vir jou waardeloos wees, sal sy liefde vermors
wees. Moenie langer huiwer om die ewige lewe wat God jou aanbied vir jou toe te eien nie.
Hemelse Vader, ek loof U dat U my só liefhet dat U vir Jesus in my plek aan die kruis laat sterf het. Dankie dat ek in Hom mag glo en dat die ewige lewe reeds myne is. Amen.
3 Julie – Hou vas aan jou geloof
3 JULIE
Lees: Markus 5:22–24, 35–43
Hou vas aan jou geloof
Jesus het egter met die een oor gehoor wat daar gesê word, en Hy sê toe vir die raadslid van die sinagoge: “Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo!” – Markus 5:36
Ek het my al talle kere verwonder aan Jesus se koelkopwoorde aan ’n pa wat pas gehoor het dat sy dogtertjie dood is. Wat sou Jaïrus van hierdie byna onsimpatieke woorde gedink het – en dít nadat Jesus dalk betyds sou wees om sy dogtertjie se lewe te red as Hy nie so lank getalm het by ’n onbekende vrou wat ’n onrein siekte gehad het nie … Maar Jesus wil Jaïrus verseker dat dit nog nie te laat is nie. Dat Hy almagtig is, dat dit nie nódig is om so ontsteld te wees nie, omdat geloof in Hom alles kan vermag. Ons lees dat Jesus saam met Jaïrus na sy huis gegaan het. Hier vertel Hy die mense wat raas en huil dat die dogtertjie nie dood is nie, maar net slaap. Hulle het Hom uitgelag omdat hulle goed geweet het dat sy dood was. Jesus stuur hulle egter weg en gaan saam met haar ouers en drie van sy dissipels na binne. Hy neem die dogtertjie se hand en beveel haar om op te staan. Toe sy opstaan en begin loop, is die rasende skare doodstil – en verstaan Jaïrus waarom dit nie vir hom nodig was om ontsteld te wees nie.
Geloof in Jesus kan steeds wonders verrig. As jy in Hom glo, hóéf jy nie ontsteld te wees nie. Selfs in die mees hopelose omstandighede sal geloof in Jesus alles weer regmaak.
Here Jesus, ek loof U dat ek nooit ontsteld hoef te wees nie, omdat ek seker weet dat as ek in U glo, U alles vir my goed sal laat uitwerk. Amen.
4 Julie – Wees afhanklik!
4 JULIE
Lees: Matteus 5:3–12
Wees afhanklik!
“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.” – Matteus 5:3
Hierdie eerste saligspreking vorm die kernwoord, die sleutelwoord vir die verstaan van Jesus se hele Bergrede, skryf Johan Smit in sy boek Trefferwoorde van Jesus. Afhanklike mense is gelukkig – die koninkryk van die hemel is hulle s’n, verklaar Jesus. Tog is afhanklikheid die laaste woord wat die meeste mense graag oor hul lewe geskryf sou wou hê. Van jongs af sukkel elke mens om ónafhanklik te wees, om self dinge gedoen te kry, om sy eie baas te wees. Om hierdie rede is die dinge wat ons onafhanklikheid kan waarborg vir ons so belangrik: geld, goed, mag en status word baie hoog geag deur die oorgrote meerderheid mense. Hierdie sug na onafhanklikheid was juis die rede waarom Eva nie na God wou luister nie en waarom sonde uiteindelik die wêreld binnegekom het. Die enigste manier hoe om hierdie saligspreking van Jesus in jou eie lewe te laat realiseer, is om sommer vroegtydig die beheer van jou lewe aan Hom oor te gee … Om gewilliglik van jou eie afhanklikheid af te sien en God toe te laat om van vandag af jou lewe te bestuur. Eers wanneer jy besef dat jy niks verdien nie, maar dat al-les wat jy van God ontvang net genade is, sal jy verstaan wat ware
afhanklikheid beteken. Net dán sal die koninkryk van die hemel eendag joune wees.
Here Jesus, ek wil regtig nie graag absoluut afhanklik wees nie – nie eens van Ú nie! Help my om my onafhanklikheid wat vir my so belangrik is vrywillig prys te gee, sodat U die beheer van my lewe kan oorneem en u koninkryk myne kan wees. Amen.
5 Julie – Sout vir die aarde en lig vir die wêreld
5 JULIE
Lees: Matteus 5:13–16
Sout vir die aarde en lig vir die wêreld
“Julle is die sout vir die aarde … Julle is die lig vir die wêreld … Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.” – Matteus 5:13–14, 16
God se kinders is tegelykertyd sout én lig vir die wêreld. Sonder sout is kos heeltemal smaakloos en sonder lig sal die wêreld maar ’n donker plek wees. Sout is ook bederfwerend – en in Jesus se tyd was daar nog nie ys- of vrieskaste nie. Sout was dus vir hulle ’n nóg groter noodsaaklikheid as vir ons. Jesus beskryf haarfyn hoe hierdie sout en lig behoort te funksioneer: die sout mag nie verslaan wees nie, dan is dit niks meer werd nie. Dit mag ook nie onsuiwer wees nie, dan sal dit ook nie werk nie. Die lig moenie weggesteek word nie, maar op ’n lampstaander geplaas word, sodat dit lig vir almal in die huis kan gee. Sorg dat jy só sal leef dat jy beide sout en lig vir die wêreld om jou sal wees. As sout behoort jy die heersende bederf in die wêreld teen te werk deur die dinge wat jy sê en doen. As lig behoort jy lig te maak in die sondeduisternis wat dreig om die wêreld oor te neem. As ek en jy ons sout- en ligroeping nakom, sal ons ’n positiewe kwaliteit gee aan die plek waar ons woon – ons is immers die mense wat van die wêreld ’n beter plek moet maak omdat ons geleef het. En, wanneer ander mense jou goeie werke sien, sal die resultaat hiervan wees dat hulle jou
Vader in die hemel sal verheerlik!
Here, maak my sout en lig vir U, sodat die wêreld ’n beter plek sal wees omdat ek geleef het. Amen.
6 Julie – Vyande moet liefgehê word
6 JULIE
Lees: Matteus 5:43–48
Vyande moet liefgehê word
“Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel.” – Matteus 5:44–45
Ons móét ons vyande liefhê en bid vir hierdie mense wat ons te na kom as ons kinders van God wil wees. Vyande is mense wat niks vir jou oorhet nie, wat nie huiwer om jou te na te kom nie, wat dinge doen wat jou benadeel, van wie jy niks hou nie. As jy hoegenaamd daarin wil slaag om hulle lief te hê, sal jy eers die onmoontlikheid van hierdie opdrag van Jesus moet erken, sal jy Hom moet vra om dit vir jou moontlik te maak. Want toe Jesus op aarde was, het Hy sy vyande liefgehad; Hy het selfs vir die mense wat Hom laat kruisig het, gebid … Dit lyk vir my as ons dit wil regkry om ons vyande lief te hê, sal ons eers moet begin om dinge vir hulle te doen – of ons nou daarvoor lus is of nie. En ons sal vir hulle moet begin bid. As ’n mens vir iemand bid, kan hy nie vir lank jou vyand bly nie, omdat gebed jou gesindheid teenoor mense verander. My man sê graag dat ons moet leer om deur die kruis van Jesus na ander mense te kyk – want dit is hoe God na óns kyk. Indien jy dit met God se hulp kan regkry, leef jy soos God se kind. En dit is net die Heilige Gees wat hierdie teennatuurlike liefde in jou hart kan uitstort – vra Hom om dit vir jou te doen (vgl Romeine 5:5).
Heilige Gees, dit is my gebed dat U God se liefde in my hart sal uitstort, sodat ek daarin sal kan slaag om my vyande lief te hê. Amen.
7 Julie – Is jou skat op die regte plek?
7 JULIE
Lees: Matteus 6:19–21
Is jou skat op die regte plek?
“Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.” – Matteus 6:19–21
Vir die meeste mense is hul aardse sekuriteite van onskatbare waarde. Hulle werk hulle gedaan om genoeg geld en goed bymekaar te maak sodat hulle verseker is dat hulle in die toekoms geen gebrek sal ly nie. Maar aardse “skatte” is dinge wat kan verweer en tot niet kan gaan, of diewe kan inbreek en dit steel, soos ons op die oomblik almal aan ons lyf ervaar! Jy kan hierdie aardse skatte van jou ook nie eendag saamneem as jy doodgaan nie. Om hierdie rede raai Jesus jou aan om liewer in hemelse skatte te belê. “Maak eerder vir julle ’n bankrekening daar by God in die hemel oop. Geen dief kan ooit daar inbreek om iets te probeer steel nie,” lui Die Boodskap se weergawe van Matteus 6:20. Dit is baie gevaarlik as jou aardse sekuriteite vir jou té belangrik word. As hulle ’n groter prioriteit in jou lewe is as God. As jou aardse koninkrykie vir jou meer werd word as Gód se koninkryk. Waar is jou skat, en wat is vir jou die belangrikste: jou aardse besittings of God? As jy liewer vir Mammon is as vir God, is jy op die verkeerde pad! Maak seker dat jy nie so geheg aan jou aardse
goed raak dat jy hulle nie langer wil gebruik om God se koninkryk uit te brei nie.
Here, dankie vir aardse sekuriteite. Gee dat hulle nooit vir my belangriker as U sal word nie. Amen.
8 Julie – Moenie bekommerd wees nie!
8 JULIE
Lees: Matteus 6:25–34
Moenie bekommerd wees nie!
“Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? – Matteus 6:25
Almal van ons het kos en klere nodig. Maar as ons ons bly bekommer oor wat ons môre sal eet en wat ons môre sal aantrek, is dit eintlik ’n mosie van wantroue in God, want Hy het mos onderneem om vir ons te sorg. Om hierdie rede maan Jesus in sy Bergrede dat sy kinders nie langer so bekommerd deur die lewe hoef te gaan nie. Die lewe is immers baie belangriker as kos en klere. En boonop sal al die onnodige bekommernis nie eens hul lewe met een enkele dag kan verleng nie. Vir dié mense wat hulle steeds bly bekommer, wys Jesus na die voëls en die veldblomme. Húlle werk nie en hulle sukkel nie om geld bymekaar te maak nie, en tog sorg God elke dag vir hulle. As Hy soveel aandag gee aan voëls en blomme, sal Hy soveel beter vir óns sorg. Waaroor bekommer jy jou op die oomblik? Gee gerus hierdie bekommernisse vir God en vra Hom om vir jou te onderneem. Stel dan God se koninkryk eerste, dan mag jy met vertroue glo dat Hy vir jou al die ánder dinge wat jy nodig mag kry, daarmee saam sal gee.
Here Jesus, ek is jammer dat ek soveel bekommernisse met my saamsleep. Ek wil hulle nou vir U kom gee. Dankie vir die versekering dat U in die toekoms vir my sal sorg, dat U vir my alles sal gee wat ek nodig mag kry. Amen.
9 Julie – Moenie bang wees nie
9 JULIE
Lees: Matteus 14:22–30
Moenie bang wees nie
Toe sy dissipels Hom op die see sien loop, het hulle groot geskrik en gesê: “Dis ’n spook!” Van angs het hulle hard begin skreeu. Maar Jesus het dadelik met hulle gepraat en gesê: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.” – Matteus 14:26–27
Jesus se dissipels het heelnag met ’n storm op see geworstel. Teen ligdag was hulle heel waarskynlik doodmoeg. En toe kom daar boonop ’n spook op die water na hulle toe aangeloop! Geen wonder nie dat hulle begin skreeu het van angs. Maar dit was toe nié ’n spook nie, maar Jesus Self. Hy stel hulle dadelik gerus deur vir hulle te sê dat dit Hy is en dat hulle dus nie hoef bang te wees nie. As hulle Jesus se stem hoor, verdwyn die dissipels se angs. Petrus is egter nog nie heeltemal seker nie. “As dit regtig U is, beveel my om op die water na u U te loop,” vra Hy. “Kom!” nooi Jesus hom. Dan gebeur daar ’n wonder … Petrus begin om op die water na Jesus te loop. Tog, as hy sien hoe sterk die wind is en wegkyk van Jesus af, twyfel hy weer terstond. As dit gebeur, begin hy sink. “Here, red my!” roep hy. Dadelik steek Jesus sy hand uit, trek hom uit die water en vra hom waarom sy geloof so klein is.
As dit moeilik gaan, reageer ons maar almal soos Petrus. Jy kan vandag steeds jou angs en vrees oorkom deur jou hand na Jesus uit te steek. Want Hy is altyd by jou: in krisistye, wanneer jy bang word, as jou geloof wankel. Hy sal jou nooit in die steek laat nie, maar jou elke keer red.
Here Jesus, ek loof U dat U altyd daar is om my hand te vat en my te help wanneer ek bang word. Amen.
10 Julie – Is jy gewillig om jouself te verloën?
10 JULIE
Lees: Markus 8:34–38
Is jy gewillig om jouself te verloën?
“As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor, maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou.” – Markus 8:34–35
Jesus was bereid om sy lewe aan die kruis vir jou af te lê. Hy sterf sodat jý kan lewe. As jy werklik erns wil maak met jou liefde vir Hóm, sal jy ook bereid moet wees om jouself te verloën, om jou persoonlike kruis op te tel en agter Hom aan te kom. Om jouself te verloën, gaan van jou vra om jouself onvoorwaardelik te gee, om nederig te wees sodat Jesus die belangrikste Persoon in jou lewe kan wees, om gewillig te wees om die dinge wat vir jou kosbaar is agter te laat ten einde vir Jesus enduit te volg. Jesus vra selfs dat sy volgelinge bereid moet wees om hul lewens te verloor vir Hom en die evangelie. In God se koninkryk moet ’n mens gee om te ontvang. Dáár word jy ryk deur van jou rykdom ontslae te raak. Dáár kry jy die lewe deur jou lewe aan die Here te wy. Want in die koninkryk van God gaan dit oor liefde. En dít is die enigste resep vir opregte Christelike liefde – net as jy gewillig is om jouself prys te gee, sal jy die lewe wen, verduidelik Johan Smit in Trefferwoorde van Jesus.* Het jý die Here al so lief dat jy bereid is om alles agter te laat sodat jy Hom kan
volg?
Here Jesus, vergewe my dat ek dikwels daarvan wegskram om myself te verloën en my kruis op te tel sodat ek U kan volg. Maak my bereid om my lewe vir U prys te gee. Amen.
* J Smit, Trefferwoorde van Jesus, p 93
11 Julie – Die één ding wat jy kortkom
11 JULIE
Lees: Markus 10:17–22
Die één ding wat jy kortkom
“Net een ding kom jy kort. Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My” – Markus 10:21
’n Ryk jongman het ’n dringende vraag vir Jesus: “Wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” As Jesus vir hom die tien gebooie aanhaal, getuig hy dat hy ál die gebooie van sy kinderdae af nakom. Hy is vol selfvertroue dat hy reeds alles doen wat die Skrif van hom vra. Maar dan lê Jesus sy vinger sekuur op die één ding wat hy nog kortkom … die één ding wat hy nie kans sien om prys te gee nie: sy besittings. “Net één ding kom jy kort,” sê Hy. “Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir die armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!” Die ryk jongman was stellig daaraan gewoond om alles te kon koop wat hy graag wou hê. Hy wou Jesus bitter graag volg, maar hy sien darem nie kans om aan Jesus se versoek te voldoen en alles te verkoop nie, want hy het baie besittings gehad. Hoe ryker ons is, hoe moeiliker is dit om Jesus te volg … Om ontslae te raak van al die baie dinge wat vir ons kosbaar is. Sou jý kans sien om van al jou goed ontslae te raak? Ek wonder of ek nie maar ook sou omdraai soos die ryk jongman nie …
Wat sal jóú antwoord wees as Jesus jou vandag versoek om van al jou sekuriteite ontslae te raak?
Here Jesus, ek wonder of my sekuriteite nie soms ook vir my belangriker as U is nie. Maak my absoluut afhanklik van U. Amen.
12 Julie – Is jy bereid om te dien?
12 JULIE
Lees: Markus 10:35–45
Is jy bereid om te dien?
“Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.” – Markus 10:45
Teen hierdie tyd beskou die dissipels vir Jesus as die langverwagte Messias, maar húlle meen dat Hy ’n aardse koning gaan wees. Jakobus en Johannes neem dus hul kans waar om Hom te vra of hulle maar die belangrikste plekke in hierdie koninkryk kan inneem: en aan sy linker- en regterhand mag sit. Dit is teleurstellend dat dit juis hierdie twee geliefde dissipels is wat so selfsugtig optree. Heel waarskynlik was Jesus Sélf ook baie teleurgesteld in hulle. Maar Hy vertel hulle dat hierdie plekke vir die mense is vir wie God dit gereed gemaak het. Dié een wat in die dissipelkring groot wil wees, is juis dié een wat bereid is om te dien, sê Hy. Dit is juis as Dienaar dat Hyself na die wêreld gekom het. Die meeste mense het ’n aangebore sug na erkenning en eer, hoe hard ons dit ook al probeer ontken. Jesus vra egter dat ons dienaars moet wees, soos Hy ’n dienaar was. Hy het spesiaal na die wêreld gekom om te dien en sy lewe as losprys vir óns te gee. Op ons beurt behoort ons bereid te wees om diensbaar te wees, om te werk sodat God se koninkryk uitgebrei kan word, om mekaar te help en mekaar lief te hê. Is jy al bereid om op hierdie manier diens te lewer, of hunker jy nog na die voorste sitplekke?
Here Jesus, dit is nie altyd lekker of maklik om diens te lewer en die minste te wees nie. Maak my asseblief gewillig en bereid om U en my naaste te dien. Amen.
13 Julie – Geloof wat berge versit
13 JULIE
Lees: Markus 11:20–25
Geloof wat berge versit
“Julle moet geloof in God hê! … Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.” – Markus 11:22, 24
Jesus wil sy dissipels met hierdie woorde leer dat geloof sentraal behoort te staan in hul lewe. Ons weet almal dat ons nie deur te bid en te glo regtig berge in die see kan laat val of vyebome kan laat verdroog nie. Die verdroogde vyeboom is maar net ’n simbool van die Jode wat Jesus verwerp het. Jesus wil sy dissipels waarsku dat mense wat God se liefde van die hand wys, uiteindelik deur Hom verwerp gaan word. Wanneer Hy hulle tot geloof oproep en beloof dat hulle alles sal kry wat hulle vra, wil Hy hulle leer dat gebed wat uit ’n persoonlike verhouding met God spruit, inderdaad wonders kan verrig. Daar is egter ’n voorwaarde: ons mag nooit selfsugtig bid nie, maar behoort altyd God se wil voorop te stel. As jy Hom liefhet, verwag God van jou om in Hom te glo. Hy stel dan ook sy krag tot jou beskikking wanneer jy bid, maar maak dit duidelik dat gebed sonder geloof kragteloos is. Gebed mag ook nooit ’n soort towerstaf wees waarmee jy God se arm kan draai om jou eie selfsugtige begeertes waar te maak nie, maar behoort ’n oop kommunikasiekanaal tussen God en sy gelowige kinders te wees.
As jy op hierdie manier bid, sal God inderdaad vir jou dié dinge gee wat jy van Hom vra.
Here, ek bid vir ’n geloof wat berge kan versit. Help my om só vas in U te glo, dat ek niks van U sal vra wat buite u wil is nie. Amen.
14 Julie – Die keiser én God se regmatige deel
14 JULIE
Lees: Markus 12:13–17
Die keiser én God se regmatige deel
“Waarom stel julle vir My ’n strik? … Gee aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.” – Markus 12:15, 17
Die Fariseërs het gereeld probeer om Jesus vas te vra, maar Hy het hulle elke keer ore aangesit. Toe hulle van Hom wou weet of dit reg is om aan die keiser belasting te betaal, het hulle heel goed geweet dat daar talle mense in die skare was wat die regering ondersteun het, maar daar was ook baie mense wat die Romeine gehaat het. Wátter antwoord Jesus ook al sou gee, sou vir sommige die verkeerde een wees. Jesus trap egter nie in hul strik nie, maar vra vir hulle ’n muntstuk. “Wie se kop en naam is hierop?” wil Hy van hulle weet. “Die keiser s’n,” antwoord hulle. “Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort en aan God wat aan God behoort,” antwoord Jesus. Hierdie antwoord neem die wind totaal uit hul seile. Ek ken niemand wat met graagte belasting betaal nie. Maar die Bybel sê onomwonde dat ons ’n verantwoordelikheid teenoor ons regering het, of ons nou met hul beleid saamstem of nie. Die owerheid is God se dienaar, dus moet jy jou belasting betaal, sodat die regering hul verpligtings kan nakom. Maar jy is veel meer aan God verskuldig as aan die regering, dus moet jy ook jou verpligtings teenoor Gód nakom deur vir Hom dankoffers te bring, sodat nie net die owerheid
nie, maar ook die kerk sy verantwoordelikheid kan nakom. God wil hê dat jy jou dankbaarheid aan Hom sal bewys met jou dankoffers. Doen jy dit al?
Here, vergewe my dat ek so langtand my belasting én my dankoffer aan U betaal. Ek wil beide U én die keiser gee wat hulle toekom. Amen.
15 Julie – Raak ontslae van daardie balk!
15 JULIE
Lees: Matteus 7:1–6
Raak ontslae van daardie balk!
“Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? … Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog uit te haal.” – Matteus 7:3– 5
Ons is baie geneig om die sonde van ander te veroordeel. Só hoort dit nie, sê Jesus. Die regte ding om te doen is om éérs van die balk in jou eie oog ontslae te raak – dan sal jy goed kan sien om die splinter in die ander persoon se oog raak te sien en dit te verwyder. Hoe lyk die gesindheid waarmee jý na ander mense kyk en die oordeel wat jy oor hulle vel? Indien jy elke keer meen dat net jy reg is en dat hulle altyd verkeerd is, het dit dalk tyd geword dat jy jouself en jou motiewe weer ’n slag in oënskyn neem. Vra dat God jou gesindheid teenoor ander mense sal verander, dat Hy vir jou op jou eie sonde sal wys sodat jy daarvoor om vergifnis kan vra. Ons is baie geneig om die “groot sondes” soos moord en diefstal en egbreek te veroordeel, en gerieflik te vergeet van die dinge wat óns verkeerd doen. Vertel jy ooit wit leuentjies? Kul jy dalk met jou inkomstebelastingopgawe? En hou jy daarvan om te skinder? Bely jou persoonlike sonde voor God. Eers dan is jy bevoeg om uitspraak oor die sonde van ander te gee.
Here, ek is jammer dat ek so baie te sê het oor die splinters in die oë van ander. Ek wil nou veel eerder met U hulp van die balk in my eie oog ontslae raak. Amen.
16 Julie – Toegangskaart vir die koninkryk
16 JULIE
Lees: Matteus 18:1–3
Toegangskaart vir die koninkryk
Hy het ’n kindjie nader geroep en hom tussen hulle laat staan en gesê: “Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie.” – Matteus 18:2–3
Die dissipels het ’n verkeerde begrip van Jesus se koninkryk gehad. Hulle het gemeen dat hulle sekerlik ’n baie belangrike plek in die koninkryk verdien omdat hulle drie jaar saam met Hom gewoon en gewerk het. “Wie is die belangrikste in die koninkryk?” wil hulle by Jesus weet. Jesus het heel goed geweet dat sy dissipels geredekawel het oor wie van húlle die belangrikste is. Om hierdie rede wil Hy vir hulle verduidelik wat nodig is om ’n plek in sy koninkryk te bekom. Hiervoor gaan haal Hy ’n kind en laat hom tussen hulle staan. Hulle sal hul gesindheid moet verander, hul hoogmoed opsy moet skuif en soos kinders word, anders gaan hulle dalk die koninkryk heeltemal misloop, waarsku Hy. Jesus se woorde laat ons dikwels op ons neuse kyk! Wat sou jý dink sou die toegangskaart vir God se koninkryk wees? Self sou ek nooit kon dink dat dit die bevel sou wees om soos ’n kind te word nie! Kinders is ongekompliseerde wesentjies. Hulle het lief sónder voorbehoud.
Hulle gee nie voor of huigel nie. Hulle glo onvoorwaardelik en boonop is hulle afhanklik van hul ouers. En dit is presies wat Jesus van sy volgelinge vra. Is jy al bereid om nederig en afhanklik te wees, om in Jesus se voetspore te stap? Dan het jy reeds die toegangskaart vir die hemel!
Here, dis vir my moeilik om soos ’n kind te word; om my afhanklikheid van U te besef en te bely. Maak my nederig en bereid om in u voetspore te volg. Amen.
17 Julie – Lewende water
17 JULIE
Lees: Johannes 4:7–15
Lewende water
“… maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.” – Johannes 4:14
By die put in Samaria vra Jesus vir ’n Samaritaanse vrou om vir Hom water te gee. Hierdie is ’n eienaardige versoek, omdat Jode glad nie met Samaritane gemeng het nie, en die vrou by die put ook nie ’n onbesproke karakter gehad het nie. Om hierdie rede wil die vrou by Jesus weet waarom Hy, ’n Jood, vir haar, ’n Samaritaanse vrou, water vra. Nou vertel Jesus haar dat indien sy geweet het Wie Hy is, Hy vir haar lewende water sou kon gee. En elkeen wat van hierdie lewende water drink, sou nooit weer dors kry nie, omdat die water wat Hy gee, ’n fontein word met water wat opborrel en vir die een wat daarvan drink, die ewige lewe gee. Die vrou versoek Hom dadelik om tog vir haar van hierdie water te gee. Met sy gesprek wys Jesus haar dat Hy alles van haar sondige verlede weet en vra dat sy haar man moet gaan haal. As die vrou die mense van haar dorpie na Jesus bring, glo baie van hulle in Hom, en kry hulle inderdaad die ewige lewe wat Jesus se lewende water hulle beloof. Jesus weet reeds alles van jou; nogtans wil Hy sy lewende water vir jou kom aanbied, sodat jy jou geestelike dors kan les en in die proses sélf ’n fontein van
lewende water vir ánder kan word.
Here Jesus, dankie vir u lewende water wat my geestelike dors vir altyd kan les en ook die ewige lewe vir my moontlik maak. Amen.
18 Julie – Brood wat lewe gee
18 JULIE
Lees: Johannes 6:26–35
Brood wat lewe gee
Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.” – Johannes 6:35
Gister het ons oor Jesus se lewende water gesels. Johannes 6 begin met die verhaal van die vermeerdering van die brood waar Hy dui-sende mense kos gegee het met vyf broodjies en twee vissies. Omdat die mense hiervan gehoor het, soek hulle nou na Jesus om sy wonders eerstehands te ervaar. Maar Hy wil hulle veel meer bied as ’n gratis ete: Hy vertel hulle dat Hý die brood van die lewe is. Wie in Hom glo, sal nooit weer honger óf dors kry nie. Brood en water is basiese lewensmiddele waarsonder ons nie kan klaarkom nie. Maar die brood en water wat ons ken, moet elke dag geëet en gedrink word, want ons raak maar weer honger en dors. Jesus gee ons nie net lewende water wat ons dors vir ewig les nie, Hy is Sélf die brood wat vir ons lewe gee. Soos ’n mens nie sonder brood en water kan klaarkom nie, kan jy ook nie regtig sonder God in jou lewe klaarkom nie. Aan die kruis is sy liggaam vir jou gebreek sodat jy vir altyd versadig kan word; vloei sy bloed sodat jy nooit weer dors hoef te wees nie. Almal wat in Hom glo, hét reeds die ewige lewe. Ons weet nou reeds dat ons eendag vir altyd saam met Hom sal lewe.
Here Jesus, ek loof U dat U die Brood is wat lewe gee – die Brood wat vir my aan die kruis gebreek is, sodat ek nooit weer honger óf dors hoef te wees nie, maar eendag vir ewig sal leef. Amen.
19 Julie – Twyfel is onnodig
19 JULIE
Lees: Lukas 7:18–23
Twyfel is onnodig
Sy antwoord aan die boodskappers was: “Gaan vertel vir Johannes wat julle gesien en gehoor het: blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig. En gelukkig is die man wat nie aan My begin twyfel nie.” – Lukas 7:22–23
Met Johannes die Doper gaan dit op die oomblik sleg, só sleg dat hy begin dink dat hy hom dalk met Jesus misgis het. Hy stuur dus van sy volgelinge na Jesus met ’n versoek: hulle moet vir Hom vra of Hy werklik die Messias is. Alhoewel Johannes die een is wat Jesus in die Jordaanrivier gedoop het en aan almal vertel het dat Hý die Lam van God is wat die sondes van die wêreld sou wegneem, twyfel hy nou self of Jesus werklik die Messias is. Jesus gee hierdie afvaardiging van Johannes nie ’n reguit antwoord nie. Hy sê dat hulle vir Johannes dié dinge moet gaan vertel wat hulle rondom hulle sien gebeur: blindes wat kan sien, lammes wat kan loop, dowes wat weer kan hoor en selfs dooies wat lewendig word. Niemand wat hierdie klinkklare bewyse gesien het, kan tog daaraan twyfel dat Jesus die Seun van God is nie. En, voeg Hy by, gelukkig is dié man wat nie aan My begin twyfel nie. Negatiewe dinge wat met jou gebeur, kan jou ook laat twyfel of God jou werklik liefhet … Indien dit gebeur, kan jy maar net aan die beloftes in jou Bybel vashou
– en só leef dat die mense uit jou optrede sal kan sien dat jy aan God behoort.
Here Jesus, vergewe my dat ek ook soms aan U twyfel. Help my om so te leef dat mense my geloof aan my dade sal kan sien. Amen.
20 Julie – Wie is Jesus vir jou?
20 JULIE
Lees: Matteus 16:13–20
Wie is Jesus vir jou?
Toe Jesus in die streke van Sesarea-Filippi kom, het Hy vir sy dissipels gevra: “Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?” Hulle antwoord: “Party sê Johannes die Doper, party Elia, party Jeremia of een van die profete.” “Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?” – Matteus 16:13, 15
Jesus wil by sy dissipels weet wie die mense sê Hy is. Party meen Hy is Johannes die Doper, ander Elia of Jeremia of een van die profete, antwoord hulle Hom. En dan vra Jesus hulle direk: “Maar wat van julle? Wie sê júlle is Ek?” Die voortvarende Petrus is soos gewoonlik eerste aan die woord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God,” antwoord hy. Hierop sê Jesus dat dit nie mense nie, maar God Self is wat dit aan hom geopenbaar het. Hy vertel Petrus dat hy die rots is waarop Hy sy kerk gaan bou, en dat Hy selfs die sleutels van die hemel aan hom sal gee. Het jy al vir jouself hierdie vraag beantwoord: Wie is Jesus vir jou? Erken en bely jy Hom al as die Seun van God, dié Here wat na die wêreld gekom het om aan ’n kruis te sterf sodat jóú sondes vergewe kan word? Indien jou antwoord op hierdie vraag “ja” is, wat doen jy sodat ander mense Jesus se heerskappy in jou lewe kan sien? Doen jy al dieselfde dinge wat Hy op aarde kom doen het? Help jy dié mense wat hulp nodig het en verkondig jy al Jesus se blye boodskap aan
dié mense met wie jy in aanraking kom?
Here Jesus, ek loof U dat U my Verlosser is, dat U heerskappy oor my lewe voer. Help my om só te lewe dat ek al hoe meer soos U sal word. Amen.
21 Julie – Sewentig maal sewe
21 JULIE
Lees: Matteus 18:21–35
Sewentig maal sewe
“Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?” Jesus antwoord hom: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie, maar selfs sewentig maal sewe keer.” – Matteus 18:21–22
Petrus wil by Jesus weet hoeveel keer hy veronderstel is om iemand te vergewe wat hom te na kom. Sal sewe keer genoeg wees? Jesus se antwoord neem die wind uit sy seile: nie sewentig keer nie, antwoord Jesus, maar sewentig maal sewe keer! Dan vertel Hy vir Petrus ’n storie om sy antwoord te verduidelik. ’n Koning vergewe ’n amptenaar wat hom ’n reusebedrag geld skuld en skeld hom die skuld kwyt. Die amptenaar loop iemand raak wat hom net ’n klein bedraggie geld skuld en dreig om hom in die tronk te gooi … As die koning daarvan hoor, laat hy die ondankbare amptenaar in die tronk gooi tot hy al sy skuld afbetaal het. Om iemand te vergewe wat jou seergemaak het, is nooit maklik nie. En hoe groter die oortreding teen jou is, hoe moeiliker is dit om hierdie persoon te vergewe. As hy boonop dieselfde vergryp sewentig maal sewe keer begaan, sal dit sowaar bomenslik wees om bereid te wees om élke keer maar weer te vergewe. En tog is dit presies wat Jesus van jou verwag: dat jy onvoorwaardelik sal vergewe. As jy weer met vergifnis sukkel, dink daaraan hoeveel keer jý
vergifnis van God vra, én dit ontvang. Dan sal dit sommer baie makliker word om die persoon wat jou te na gekom het, van harte te vergewe.
Hemelse Vader, dankie dat U elke keer maar weer bereid is om my te vergewe as ek sondig. Help my om ook bereid te wees om ander mense onvoorwaardelik te vergewe. Amen.
22 Julie – Allesinsluitende liefde
22 JULIE
Lees: Markus 12:28–34
Allesinsluitende liefde
Jesus antwoord hom: “Die eerste is: ‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here. Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’ Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ ” – Markus 12:29–31
Een van die skrifgeleerdes het gehoor dat Jesus mense se vrae beantwoord het. Hy wil nou van Hom weet wat die heel belangrikste gebod is. Jesus begin sy antwoord met woorde uit Deuteronomium 6:4: “Die Here is die enigste Here,” en dan voeg Hy nie een nie, maar twéé gebooie daarby: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, siel, verstand en al jou krag, én jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Die vraesteller stem volmondig saam: “Pragtig, Meneer!” sê hy. Om God só lief te hê en jou naaste soos jouself, is belangriker as offers. “Jy is nie ver van die koninkryk van God nie,’ sê Jesus vir hom. Jesus se antwoord is vandag steeds aan jou adres gerig. Jy moet God met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag liefhê. Jou liefde vir Hom behoort ’n allesinslui-tende liefde te wees. Boonop moet jy jou naaste net so liefhê soos wat jy jouself het. Hierdie Bybelse liefde is nie maklik nie – dit gaan van jou vra om jou liefde vir God en ander uit te leef, nie net te bely nie. En dit gaan jy nooit uit jouself regkry nie. Vra God om jou te
help om dit te doen.
Here God, ek het al soveel keer tevergeefs probeer om U bo alles lief te hê en ander mense soos myself, maar ek misluk telkens. Sal U my help om U en ander allesinsluitend lief te hê? Amen.
23 Julie – Die goeie herder
23 JULIE
Lees: Johannes 10:11–16
Die goeie herder
“’n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed. Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.” – Johannes 10:10–11
Die Israeliete was baie bekend met die beeld van skape en ’n herder. In die Ooste het die skape hul herder geken en op sy stem gereageer. Anders as die skaapwagters van ons tyd, het die herder voor sy skaaptrop uitgeloop en hul het hom gevolg omdat hulle sy stem geken het. Die herder het ook gesorg dat sy skaaptrop genoeg kos het en hulle teen gevare beskerm. Wanneer hierdie herderbeeld in die Bybel gebruik word, wil dit vir ons iets vertel van God se versorgende liefde vir sy kinders. Hy onderneem om vir ons te sorg soos ’n herder vir sy skaaptrop sorg. Die psalmdigter getuig dan ook in Psalm 23, een van die heel be-kendste psalms, dat hy niks kortkom nie omdat God sy herder is. In vandag se kernverse sê Jesus dat Hý ons herder is; dat Hy sy lewe vir ons prysgegee het. Jesus wil ook vir jou ’n Herder wees. Hy wil vir jou sorg en seker maak dat daar niks is wat jy kortkom nie. Hy ken jou en weet alles van jou af. Hy het rééds sy lewe vir jou aan die kruis afgelê, sodat God jou sonde kan vergewe en jy eendag vir altyd kan lewe. Ken jy al hierdie Herder? En is jy bereid om na sy Stem te luister en Hom te volg?
Here Jesus, dankie dat ek U as my Herder mag ken, dié Herder wat seker maak dat ek niks kortkom nie, dié Herder wat sy lewe vir my afgelê het. Ek wil U volg vir die res van my lewe. Amen.
24 Julie – Die opstanding en die lewe
24 JULIE
Lees: Johannes 11:25–32
Die opstanding en die lewe
“Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.” – Johannes 11:25–26
Op ’n dag hoor Jesus dat sy vriend Lasarus baie siek is. Sy susters vra dat Jesus sal kom help. Maar Jesus wag eers twee dae voordat Hy na Betanië vertrek. As Hy uiteindelik daar aankom, is Lasarus reeds vier dae dood. Sy susters Marta en Maria is ontroosbaar. Albei van hulle sê reguit dat hul broer nog sou geleef het as Jesus eerder opgedaag het. Maar Jesus het ’n heel ánder agenda. “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie,” sê Hy vir Marta. Om in Jesus te glo, beteken dat die mag van die dood vir altyd vir jou gebreek is. Almal wat in Hom glo, het reeds die ewige lewe, oor hulle het die dood geen mag meer nie, vir hulle is die dood net ’n oorstap na die werklike lewe by God. Om hierdie rede hoef jý nie langer vir die dood bang te wees nie. Ook vir jou wil Jesus die opstanding en die lewe wees. Hy wil jou verseker dat as jy in Hom glo, jy ná jou aardse lewe ’n ewige lewe in die hemel sal hê. En jy weet dit nog veel sekerder as Marta, want jy weet dat Jesus ná drie dae uit die graf opgestaan het en na die hemel opgevaar het, van waar Hy sal terugkom om jou te kom haal na
daar waar Hy is.
Here Jesus, dankie dat U vir my die opstanding en die lewe is, en dat ek, omdat ek in U glo, eendag vir altyd sal lewe. Amen.
25 Julie – Bereid tot voetewas
25 JULIE
Lees: Johannes 13:4–14
Bereid tot voetewas
Toe Hy hulle voete klaar gewas … het, sê Hy vir hulle: “… As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was.” – Johannes 13:12–14
Die dissipels was baie lief vir Jesus, maar by die laaste Paasmaaltyd was nie een van hulle bereid om sy voete te was nie. Hierdie voete-wasritueel is gewoonlik deur die onbelangrikste persoon in die geselskap gedoen. Omdat die meeste mense sandale gedra het en op vuil, stowwerige paaie gestap het, was hierdie voetewassery voor ete noodsaaklik. As Jesus sien dat nie een van die dissipels van plan is om die voetewasser te wees nie, staan Hy Self op, trek sy bokleed uit, maak ’n handdoek om Hom vas en begin om hul voete te was. Petrus probeer Hom keer, maar Jesus vertel hom dat as Hy nie sy voete was nie, hy nie deel aan Hom sal hê nie. Wanneer Jesus sy dissipels se voete klaar gewas het, het Hy vir hulle ’n boodskap: as Hy, wat hulle Here en Leermeester is, bereid is om húl voete te was, moet hulle sy voorbeeld volg en gewillig wees om mekáár se voete te was. “Soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen,” konstateer Hy. Soos die dissipels by die laaste Paasmaaltyd, meen ons ook dikwels dat óns te belangrik is om ander van diens te wees soos Jesus hier doen. Ons verwag veel eerder dat
mense óns moet bedien. Maar so werk dit nie in God se koninkryk nie. Hier kom die mense wat eerste wil wees dikwels laaste. Is jy al bereid om die minste te wees, om ánder mense se voete te was?
Here Jesus, maak my nederig en bereid om ander van diens te wees, en selfs hul voete te was as dit nodig sou word. Amen.
26 Julie – ’n Nuwe gebod
26 JULIE
Lees: Johannes 13:31–35
’n Nuwe gebod
“Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.” – Johannes 13:34–35
Jesus noem die opdrag dat ons mekaar moet liefhê ’n nuwe gebod, alhoewel dit reeds in die Ou Testament vir die Israeliete ingeprent is dat hulle hul naaste soos hulself behoort lief te hê (vgl Levitikus 19:18). Miskien noem Jesus dit ’n nuwe gebod omdat daar hier vir die eerste keer sprake is van ’n liefde soos dié van Jesus Self: “Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê,” sê Hy. En dan voeg Hy daarby: as hulle mekaar kan liefhê met dieselfde liefde waarmee Hy húlle liefhet, sal almal wat dit sien, wéét dat hulle sy dissipels is. Die liefde waarvan Jesus hier praat, is ’n opdrag wat deur álle gelowiges nagekom behoort te word. Dit is baie moeilik, indien nie onmoontlik nie, om soos Jesus lief te hê. Want sy liefde vir ons is ’n onvoorwaardelike liefde, ’n liefde nie ter wille van wie ons is nie, ’n liefde wat nie vra wat dit ons in die sak kan bring nie, maar ’n liefde ten spyte van die feit dat ons sondaars is en Hom keer op keer teleurstel. In sy Romeinebrief verklap Paulus wat die geheim van hierdie liefde is: “… God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het,”
getuig hy in Romeine 5:5. As jy sukkel om soos Jesus lief te hê, vra die Heilige Gees om dit vir jou moontlik te maak.
Heilige Gees, ek bid dat U die liefde van Jesus in my hart sal uitstort, sodat ek soos Hy sal kan liefhê. Amen.
27 Julie – Jesus, die weg, die waarheid en die lewe
27 JULIE
Lees: Johannes 14:1–14
Jesus, die weg, die waarheid en die lewe
Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.” – Johannes 14:6
Daar is baie godsdienste wat Jesus nie as die Seun van God erken nie. Vir hulle maak dit nie saak of mense in Jesus glo nie, net solank hulle die bestaan van ’n god erken. Jesus maak Self hierdie menings as onsin af. Daar is maar één manier om by die hemel uit te kom: “Ek is die ‘pad’ en my Vader die ‘adres’. Wie hierdie pad loop, kom by die ware lewe uit. As iemand ’n ander pad loop, sal hy nooit by my Vader uitkom nie,” lui Die Boodskap se weergawe van vandag se kernvers. Aan die kruis sluit Jesus vir jou die deur na die ewige lewe oop. Alleen deur geloof in Hom het jy die sekerheid dat jy eendag ná jou dood vir altyd by God in die hemel sal wees. Daar is dus net één manier hoe jy eendag by die regte bestemming sal kan uitkom, hoe jy seker kan wees dat jy eendag vir altyd sal lewe, en dit is om in Jesus te glo. “Hy is die vertrekpunt na die ryk van God. Hy is ook die bestemming, poort en lewe. En daar ís geen ander weg nie. Daar is geen ander lewe nie,” som Johan Smit dit op.* Maak doodseker dat jy reeds onderweg is na die hemel, dat jy die enigste weg ken, die waarheid van die kruisboodskap jou eie gemaak het en seker is van jou toekoms.
Here Jesus, U is vir my die weg na God, die enigste waarheid én die ware lewe. Ek weet dat ek net deur geloof in U by die hemel kan uitkom. Amen.
* Ibid., p 214
28 Julie – ’n Nalatenskap van vrede
28 JULIE
Lees: Johannes 14:25–31
’n Nalatenskap van vrede
“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.” – Johannes 14:27
Wanneer Jesus vir sy dissipels vertel dat Hy weggaan, is hulle baie ontsteld. Hulle sien glad nie kans om sonder Hom klaar te kom nie. Tot nou toe het hulle geglo dat hulle ’n toekoms sáám met Hom het, ’n nuwe aardse koninkryk waar almal van hulle belangrike poste sal beklee. Maar Jesus stel hulle gerus: hulle hóéf nie bang of ontsteld te wees nie, sê Hy. Hy sal vir hulle ’n ander Trooster stuur, die Heilige Gees, wat vir altyd by hulle sal wees. Wat hulle sal wys hoe om te lewe, hulle sal toerus, ondersteun en hulle sal help om sy getuies te wees. Hy belowe ook om sy vrede vir hulle na te laat. Jesus gebruik hier die Bybelse betekenis van die woord vrede. Bybelse vrede is veel meer as ’n wapenstilstand. Dit het met jou innerlike te doen, dit dui op jou verhouding met en vertroue in God, dit maak ’n heel mens van jou. Jy kan ook hierdie vrede wat Jesus vir sy dissipels beloof het in jou hart en lewe hê, omdat Hy dit reeds vir jou aan die kruis verdien het. As jy Hom liefhet, behoort jy ook ’n vredemaker te wees wat sy vrede aan ander mense sal deurgee.
Vra God om jou te help om deur jou optrede ander mense met Hom en met mekaar te versoen, soos Jesus gedoen het.
Here, ek bid dat U vir my u vrede sal gee, sodat ek te midde van die wêreld se onvrede rustig sal kan leef omdat U dit vir my moontlik maak. Amen.
29 Julie – Wingerdstok en lote
29 JULIE
Lees: Johannes 15:1–8
Wingerdstok en lote
“Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie … My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.” – Johannes 15:5, 8
Soos dit die geval was met die beeld van die herder, was die win-gerdstok ook vir die Israeliete baie bekend. By bykans elke huis was daar ’n wingerdstok. Jesus gebruik die beeld van die wingerdstok en die lote om vir sy dissipels te verduidelik dat hulle nie sónder ’n in-tieme verbintenis met Hom enige vrug kan dra nie. Dit is immers die wingerdstok wat die water en voedsel by die lote moet uitbring sodat hulle kan groei en vrugte kan voortbring. Hoe nader die lote aan die wingerdstok is, des te beter sal die druiweoes wees. Hy waarsku egter dat die lote wat nié vrugte dra nie, uitgekap en verbrand sal word. Die goeie lote wat wel vrugte dra, word reggesnoei sodat hulle nog méér vrug kan dra. Indien jy vir Jesus vrug wil dra, sal jy ook in ’n innige verhouding met Hom moet staan, sal jy Jesus se opdrag om in Hom te bly, moet nakom. Net dan sal jy dit regkry om vir Hom vrug te dra. Om in Hom te bly, beteken dat jy baie naby aan Hom sal leef, dat jy sal werk aan jou verhouding met Hom, dat jy sy woorde deel van jou lewe sal maak, Hom al hoe beter sal leer ken en gehoorsaam sal wees aan Hom. Vra Hom om dit vir jou moontlik te maak.
Here Jesus, ek wil graag baie vrug vir U dra. Help my om so naby U te bly soos die loot aan die wingerdstok, sodat my verhouding met U elke dag inniger sal word. Amen.
30 Julie – Só stuur Ek julle
30 JULIE
Lees: Johannes 20:19–22
Só stuur Ek julle
“Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook … Ontvang die Heilige Gees!” – Johannes 20:21–22
Die eerste keer toe Jesus ná sy opstanding aan sy dissipels verskyn, wys Hy vir hulle die wonde in sy hande en sy sy, sodat daar geen twyfel kan bestaan dat Hy regtig uit die dood opgestaan het nie. Hy gee hulle ook ’n opdrag: Soos sy Vader Hom gestuur het, so stuur Hy hulle ook. Jesus stuur sy dissipels die wêreld in om dieselfde werk te verrig as waarvoor Hy na die wêreld gekom het; om die blye boodskap van verlossing uit te dra. Maar hulle hoef hierdie opdrag nie in hul eie krag uit te voer nie. Nadat Hy vir hulle die opdrag gegee het, blaas Jesus op hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees” (vers 22). Die Heilige Gees sal hulle die krag gee om vreeslose getuies van Jesus in die wêreld te wees. Die dissipels kan met vertroue Jesus se opdrag uitvoer omdat die Heilige Gees hulle sal help en bystaan. Jy is óók ’n gestuurde … God stuur jou met dieselfde opdrag waarmee Hy Jesus gestuur het. Jy moet ’n getuie wees en vir ander mense van sy liefde vir hulle vertel. As gestuurde het jy reeds God se Gees ontvang, en daarom sal jy die krag kry om jou opdrag uit te voer. Geesvervulde mense deins nie terug om getuies te wees nie. Onthou altyd dat jy reeds die Heilige Gees in jou lewe hét as jy aan
God behoort. Is jy al bereid om deur Hom gebruik te word?
Heilige Gees, vul my lewe met u wonderwerkende krag, sodat ek ’n ywerige getuie vir U kan wees en u blye boodskap in die wêreld kan uitdra. Amen.
31 Julie – Hoe lief het jy die Here?
31 JULIE
Lees: Johannes 21:15–17
Hoe lief het jy die Here?
“Simon seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle hier?” “Ja, Here,” antwoord hy Hom, “U weet dat ek U liefhet.” Hy sê toe vir hom: “Laat my lammers wei … Pas my skape op … Laat my skape wei.” – Johannes 21:15–17
Petrus se reputasie tot nou toe is nie eintlik baie goed nie. Voor Jesus se kruisiging verloën hy Hom drié maal, alhoewel hy hoog en laag gesweer het dat hy Hom nooit sou verlaat nie. Ná sy opstanding gee Jesus vir Petrus nog ’n kans. Hy vra hom drie maal of hy Hom werklik liefhet. Petrus antwoord elke maal bevestigend, en na elke vraag kry hy ’n opdrag van Jesus: hy moet sy lammers laat wei, sy skape oppas en sy skape laat wei. Petrus moet sy liefde vir Jesus met sy dade bewys deur sy gemeente te versorg. Dit is interessant dat Jesus en Petrus hier twee verskillende woorde vir “liefde” gebruik. Jesus praat van agape – die opofferende liefde wat Hy vir ons het, terwyl Petrus fileo gebruik – die woord vir die liefde wat jy koester vir iemand van wie jy baie hou. Met sy derde vraag gebruik Jesus Petrus se fileo as Hy by hom wil weet of hy Hom liefhet. Petrus raak hartseer omdat dit vir hom lyk asof Jesus nie werklik glo dat hy Hom liefhet nie. “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet,” sê hy.
Hoe lief het jý die Here? Is jy al bereid om jou liefde vir Hom met jou dade te bewys deur ander mense lief te hê soos Hy van jou vra?
Here Jesus, ek skiet nog so ver tekort in die uitlewing van my liefde vir U. Help my om my liefde vir U met my dade te onderstreep. Amen.
Gebed
Gebed
Here Jesus, in die maand wat verby is, kon ek elke dag stilstaan by u helende, lewensveranderende woorde … Ek besef opnuut dat U my wil nuut maak, dat my geloof die ewige lewe vir my waarborg en my van ontsteltenis vrywaar. Maak my gewillig om sout en lig vir die wêreld te wees en my vyande lief te hê. Dankie vir die versekering dat ek nooit weer bang of bekommerd hoef te wees nie, omdat U my altyd sal help. Ek wil graag diensbaar vir U wees, ’n geloof hê wat berge sal versit en aan U gee wat U toekom. Help my om ontslae te raak van die balk in my eie oog, om weer soos ’n kind te word wat heeltemal afhanklik van U is. Dankie dat U vir my lewende water en brood wat lewe gee is, dat U my vir altyd van geestelike dors en honger sal vrywaar. Ek bely dat U die Christus, die Seun van God is. Maak dit vir my moontlik om onvoorwaardelik te vergewe en om U en ander mense met ’n allesinsluitende liefde lief te hê omdat u Gees reeds hierdie liefde in my hart uitgestort het. Here Jesus, U is vir my die opstanding en die lewe, maak my bereid om myself te verloën, om die minste te wees en ander te dien. Ek aanbid U as die weg, die waarheid en die lewe – gee vir my u vrede en help my om blywende vrugte vir U te dra. Ek wil graag u boodskap uitdra sodat ander mense sal kan sien hoe lief ek U het. Amen.
Augustus: Leer om vir jouself te bid
AUGUSTUS: LEER OM VIR JOUSELF TE BID
In Stormie Omartian se boek Die krag van ’n vrou wat bid maak sy ’n verrassende stelling: vroue bid baie makliker vir ander as vir hulself. Juis omdat hulle so besig is om te bid vir die mense wat hulle liefhet, maak hulle nie genoeg tyd om vir hul eie behoeftes by God in te tree nie. Die gevolg hiervan is dat baie vroue nie God se krag in hul eie lewens ontsluit nie.* Hoe dikwels bid jy vir jouself? Vir groei in jou eie geestelike lewe, vir ’n dieper, inniger verhouding met God? In hierdie maand is dit mý gebed dat jy sal léér hoe om vir jouself te bid; dat almal wat hierdie dagboek lees, saam sal ontdek watter dinge ons van God kan vra, wat werklik ’n positiewe geestelike impak op onsself gaan hê. Sodat almal van ons aan die einde van die maand vir die res van ons lewe by God sal intree vir ons eie persoonlike behoeftes en vir ons persoonlike geestelike groei.
* Die opskrifte van hierdie maand se dagstukke stem (met enkele uitsonderings) ooreen met die hoofstukke in Omartian se boek. Tekste en inhoud verskil egter.
1 Augustus – In die krag van God
1 AUGUSTUS
Lees: 2 Petrus 1:3–8
In die krag van God
Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag … As julle dit alles besit … sal julle met ywer en met vrug ons Here Jesus Christus beter leer ken. – 2 Petrus 1:3, 8
Voordat jy kan leer om op die regte manier vir jouself te bid, behoort jy éérs doodseker te maak dat jy reeds ’n Christen is. Jy kan slegs in die krag van God leef en bid wanneer Hy in jou lewe teenwoordig is. Die eerste vereiste vir persoonlike gebed is dus om God te ken, om deel te kry aan sy Goddelike natuur. Wanneer jy tot bekering kom, ontvang jy die Heilige Gees en word Hy outomaties deel van jou lewe, maar dit is nog nie te sê dat jy Hom die seggenskap oor jou lewe gegee het nie. Deur sy Gees in jou sal God jou leer hoe Hy wil hê dat jy moet lewe, Hy sal ook vir jou wys hoe jy moet bid en jou help om die versoekings wat die duiwel oor jou pad bring, te weerstaan. Saam met Hom kan jy in alle opsigte ’n oorwinnaar wees. Bely nou dat jy gewillig is om die beheer van jou lewe aan Hom oor te gee en hou dan vas aan Jesus se belofte in Lukas 11:13: “As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee – die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.”
Heilige Gees, ek bid dat U van vandag af die beheer van my lewe sal oorneem, en dat U my Self sal leer hoe ek vir myself kan bid. Amen.
2 Augustus – Here, trek my nader
2 AUGUSTUS
Lees: Jakobus 4:1–10
Here, trek my nader
Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug. Nader tot God en Hy sal tot julle nader. – Jakobus 4:7–8
Vanself, uit ons eie krag, sal niemand van ons by God kan uitkom nie. Hy is heilig en ons is sondig. Ons het dus ’n middelaar nodig om ons by God uit te bring. Jesus is daardie Middelaar. Aan die kruis betaal Hy ons sondeskuld ten volle, sodat elkeen wat in Hom glo, nou die vrymoedigheid het om tot God se genadetroon te nader. Dit is die Heilige Gees wat die begeerte in jou hart laat vorm aanneem om nader aan God te kom, om geestelik te groei en sterker in jou geloof te word, om God op ’n meer intense manier in jou lewe te ervaar. Net Hy kan jou diepste verlangens bevredig. Pascal skryf dat daar in elke hart ’n vakuum is in die vorm van God.* Die mens sal nooit tot rus kom tensy God alleen dié vakuum vul nie. Vir jou is dit broodnodig om die duiwel se versoekings te weerstaan, God se teenwoordigheid in jou lewe te soek en dit in gebed van God te vra. Indien jy dit doen, het jy ook die belofte dat God dit vir jou sal gee. In vandag se kernteks skryf Jakobus dat wanneer jy tot God nader, Hy ook tot jou sal nader. Hy wag reeds gretig om jou genadig te wees, staan daar in Jesaja 30:18. Moet dus nie langer uitstel om God toe te laat om jou nader aan Hom te trek nie!
Here, maak dit vir my moontlik om die duiwel te weerstaan en trek my asseblief nader aan U, sodat U die vakuum in my hart ten volle sal vul. Amen.
* Pascal oor die “God-shaped vacuum”
3 Augustus – Here, reinig my
3 AUGUSTUS
Lees: 1 Johannes 1:5–10
Here, reinig my
Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. – 1 Johannes 1:9
Alle mense is sondig van hul geboortedag af. Ook al behoort ons aan die Here, ontdek ons telkens dat ons maar nie van die sonde kan wegbly nie. Ons sug saam met Paulus in Romeine 7:19 dat ons dié dinge nalaat wat ons wil doen en dié dinge wat ons nie wíl doen nie, juis doen! Die oplossing vir die probleem is om te bid dat God die sonde in jou lewe aan jou sal uitwys, jou daarvan sal reinig en dit vir jou moontlik sal maak om in die vervolg van hierdie dinge weg te bly. Bely dan elke sonde waarvan God jou bewus maak en wys dat jy regtig berou het oor die verkeerde dinge wat jy gedoen het deur op te hou daarmee. Soms meen ons dat wanneer ons gereelde kerkgangers is en nie “groot” sondes soos moord, diefstal en egbreuk pleeg nie, ons so naby moontlik aan reg is. Ongelukkig werk dit nie so nie. In God se oë is álle sondes gelyk. As jy afgunstig, liefdeloos, egoïsties, rassisties en selfsugtig is, staan jy net so skuldig voor God soos iemand wat ’n moord gepleeg het. En dié sondes wat jy as onbenullig afmaak, vorm ’n muur tussen jou en God sodat Hy nie meer tot jou kan deurdring nie. Vra God nóú om jou te reinig van jou gewoontesondes. Hy is getrou en regverdig – Hy sal jou nie net op jou sondes wys nie, maar hulle weer
en weer vergewe.
Here, maak my bewus van my sondes, en vergewe asseblief elkeen van hulle, sodat my hart rein kan wees. Amen.
4 Augustus – Here, help my om te vergewe
4 AUGUSTUS
Lees: Matteus 6:9–15
Here, help my om te vergewe
“As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.” – Matteus 6:14–15
Stormie Omartian beweer dat onvergewensgesindheid die wortel van haat is. God vrá van ons om ander mense te vergewe met dieselfde bereidheid waarmee Hy óns sondes vergewe. “Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe,” skryf Paulus aan die gemeente in Kolosse (Kolossense 3:13). Vergifnis behoort by jou huis te begin, by die mense wat die naaste aan jou is, en dan na alle mense uit te kring. Wanneer jy ’n wrok teen iemand koester, en nie daarin kan slaag om te vergewe én te vergeet nie, sal jyself die ergste daaronder ly. Vergifnis is ’n keuse wat jy elke dag opnuut sal moet maak. En as daar regtig baie is om te vergewe, gaan jy telkens ontdek dat jou bitterheid weer na die oppervlak kom. Indien dit gebeur, bid onmiddellik dat God jou nog ’n keer sal help om te vergewe. Moontlik is dit vir jou makliker om ander mense te vergewe as om jouself te vergewe vir jou foute van die verlede. Vra God dat Hy dit ook vir jou moontlik sal maak, en wees dan nie so hard op jouself nie. Niemand van ons is volmaak
nie, en daar bestaan géén mens wat nog nooit foute begaan het nie. Onthou net dat jy slegs om God se vergifnis kan bid as jy self bereid is om te vergewe!
Here Jesus, dankie dat U gesterf het sodat my sonde vergewe kan word. Maak my asseblief bereid om ander én myself te vergewe. Amen.
5 Augustus – Here, maak my gehoorsaam
5 AUGUSTUS
Lees: Eksodus 19:1–9
Here, maak my gehoorsaam
“As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees … ’n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.” – Eksodus 19:5–6
Gehoorsaamheid is iets wat jy doen; om ’n hart te hê om gehoorsaam te wees, is iets waarvoor jy bid, skryf Stormie Omartian.* Ons weet heel goed dat God gehoorsaamheid van sy kinders vra, maar of almal van ons wel gehoorsaam is, is ’n perd van ’n ander kleur. Indien jy egter jou eie gehoorsaamheid ’n saak van gebed maak, gaan jy vind dat dit mettertyd vir jou al hoe makliker gaan word om die riglyne in God se Woord te gehoorsaam en elke dag met Hom te kommunikeer. Vra God om aan jou die areas in jou lewe uit te wys waar jy nog ongehoorsaam is en om jou te wys wat sy wil vir jou lewe is. Jy sal dit ook nie kan regkry om gehoorsaam te wees sonder die leiding van die Heilige Gees in jou lewe nie. Die riglyne in God se Woord is nie maklik om te gehoorsaam nie, maar gehoorsaamheid is altyd tot jou beswil en ook een van die heel belangrikste vereistes as jy geestelik wil groei. Een van die pluspunte van gehoorsaamheid is juis dat God sy gehoorsame kinders se gebede verhoor. “… wat ons vra, kry ons van Hom omdat ons sy gebooie gehoorsaam en doen wat Hy goedvind,” skryf
Johannes (1 Johannes 3:22). Gehoorsaamheid aan die gebooie van God is boonop die enigste manier om werklik gelukkig te wees.
Hemelse Vader, vergewe my vir al die kere dat ek in die verlede aan U ongehoorsaam was en maak dit asseblief vir my moontlik om in die vervolg absoluut gehoorsaam te wees. Amen.
* S Omartian, Die krag van ’n vrou wat bid. P 51
6 Augustus – Here, versterk my
6 AUGUSTUS
Lees: 1 Petrus 5:5–11
Here, versterk my
Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. Bly standvastig in die geloof en staan hom teë. – 1 Petrus 5:8–9
Alle tragedies wat op aarde gebeur, is indirek die werk van ons vyand, die duiwel, wat soos ’n brullende leeu rondloop op soek na sy prooi. En sy felste aanslae is spesiaal teen God se kinders gemik. Elke Christen moet goed verstaan dat ons hier op aarde in ’n geestelike oorlog gewikkel is wat ons geen kans het om te wen as ons die duiwel in ons eie krag gaan aanpak nie. Dit is nodig om Gód se krag te mobiliseer as jy as oorwinnaar uit die stryd teen Satan wil tree. Vra God om jou waaksaam en paraat te maak teen die aanslae van die duiwel. God gee wapens aan sy kinders waarmee jy die duiwel kan aandurf. Hierdie “wapenrusting” word in Efesiërs 6:10–17 uiteengesit. Een van die belangrikste wapens is God se Woord. Indien die duiwel jou probeer versoek, gebruik “die swaard van die Gees”, jou Bybel, om jouself te verdedig. Om dit te kan doen, moet jy egter jou Bybel ken. Die waarheid, God se vryspraak, evangelieverkondiging, geloof en verlossing is ander kragtige wapens. Net ná die wapenrusting van die geloof skryf Paulus in vers 18: “Doen dit alles
biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees.” Sonder gebed is jou wapenrusting nutteloos. Vra God om jou in jou stryd teen die Bose te help en om jou te versterk.
Hemelse Vader, wys my hoe om u wapenrusting op die regte manier te gebruik sodat ek in u krag die duiwel in die stof kan laat byt. Help my om dit biddend te doen en versterk my in die stryd. Amen.
7 Augustus – Here, lei my in die waarheid
7 AUGUSTUS
Lees: Johannes 8:42–47
Here, lei my in die waarheid
“Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen. Hy was van die begin af ’n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ’n leuenaar en die vader van die leuen.” – Johannes 8:44
Nog ’n truuk van die duiwel is om jou met leuens te bombardeer. Johannes skryf tereg dat hy nie aan die kant van die waarheid staan nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Hy sal dus leuens in jou gedagtes plant, soos dat God jou nie so swaar sou laat kry het as Hy regtig lief was vir jou nie; dat jy eintlik ’n nikswerd is en dat niemand vir jou omgee nie. As hierdie stellings vir jou bekend klink, wéét dat hulle leuens van die duiwel is en weier om hulle te glo. Vra dat God jou Self in die waarheid sal lei, maak jou gedagtes aan Hom gehoorsaam en hou vas aan die beloftes in sy Woord: dat Hy jou oneindig liefhet, jou nooit sal verlaat nie en dat jy vir Hom kosbaar is. Weier om langer na die negatiewe leuens van die duiwel te luister en vul jou gedagtes met die woorde uit God se Woord. Luister na geestelike musiek en versamel vir jou ’n biblioteek van geestelike boeke wat jou elke dag kan versterk. Vra God dan om jou ten goede te verander deur jou nuut te laat dink.
Here God, lei my in die waarheid dat ek nie langer die duiwel se leuens sal glo nie, maar eerder elkeen van u beloftes my eie sal maak. Amen.
8 Augustus – Here, regeer oor elke terrein van my lewe
8 AUGUSTUS
Lees: Lukas 9:23–27
Here, regeer oor elke terrein van my lewe
Later het Jesus vir die mense gesê: “Dit is baie moeilik om een van my volgelinge te wees. Om dit reg te kry, moet jy jou eie belange tweede stel. Jy moet as ’t ware jou doodsvonnis teken deur elke dag jou kruis op te tel en agter My aan te stap. As jy egter kies om vir jouself te leef, gaan jy op die ou end alles verloor. Maar as jy bereid is om alles prys te gee ter wille van my, sal jy vir altyd lewe.” – Lukas 9:23–24 (Die Boodskap)
Om Jesus te volg, beteken dat jy gewillig moet wees om jou eie doods-vonnis te teken! Dit veronderstel volkome oorgawe aan Hom. Hierdie is ’n terrein waarop alle Christene sukkel. Ons kan maar net nie sover kom om ons héle lewe aan God oor te gee nie – daar is nog te veel terreine waarop onsself nog eerste kom, te veel dinge wat ons nog self wil doen, te veel drome wat ons nog self wil waar maak, te veel besluite wat ons nog self wil neem. Baie Christene is ook bang dat God dinge van hulle sal vra wat hulle nie bereid is om te doen nie. Is jy al bereid om God te laat regeer oor élke terrein van jou lewe? Om jou geliefdes, jou verhoudings, jou besittings, jou tyd, jou ont-spanning, jou begeertes en jou gedagtes in sy hande te plaas? Indien nie, bid dat God dit vir jou moontlik sal maak om jouself te verloën, elke dag jou kruis op te neem en Hom voluit te volg op élke terrein van jou lewe.
Hemelse Vader, leer my hoe om elke area van my lewe ten volle aan U oor te gee, sodat U die Alleenheerser oor my lewe sal wees. Amen.
9 Augustus – Here, open u Woord vir my
9 AUGUSTUS
Lees: Psalm 119:129–136
Here, open u Woord vir my
Wanneer u woord vir mense oopgaan, bring dit lig; dit gee insig aan dié wat nog onervare is. – Psalm 119:130
Soms lees ’n mens jou Bybel sonder dat jy enige inspirasie daaruit put, terwyl jy ánder kere God glashelder met jou uit sy Woord hoor praat. Dit is dus nodig dat jy daagliks sal bid dat God Self sy Woord vir jou sal oopmaak, dat Hy persoonlik deur die woorde van jou Bybel met jou sal praat. Indien jy God se Stem uit sy Woord duidelik wil hoor, sal jy élke dag met hierdie Woord besig moet raak. As ons nie aanhoudend gevoed word met God se Woord nie, sal ons geestelik uithonger, skryf Stormie Omartian.* Hoe meer tyd jy met jou Bybel deurbring, hoe meer nuwe insigte sal God vir jou daarin gee. Tweedens is dit nodig om nie net jou Bybel te lees nie, maar jou te verbind om te doen wat daarin staan. As die Woord nie in jou lewe gestalte vind nie, help dit min dat jy dit gereeld lees. Jakobus skryf tereg dat as ons net na die woord luister en nie doen wat dit sê nie, ons soos iemand is wat in ’n spieël kyk en dadelik vergeet hoe hy gelyk het as hy van die spieël af weggaan (vgl Jakobus 1:24). Maak dus élke dag tyd om Bybelstudie te doen en vra God om jou te help om die riglyne in sy Woord prakties in jou eie lewe toe te pas. Laat dan toe dat die Woord jou verander en jou op jou lewenspad lei.
Here, ek loof U vir u Woord wat vir my lig bring, insig gee en my van struikeling bewaar. Help my om die riglyne van u Woord elke dag prakties uit te leef. Amen.
* Ibid., p 78
10 Augustus – Here, onderrig my
10 AUGUSTUS
Lees: Matteus 22:34–40
Here, onderrig my
Jesus antwoord hom: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’” – Matteus 22:37–39
Dit is belangrik dat jy sal weet watter dinge vir God prioriteite is. Jesus lig die twee belangrikste vereistes van die wet uit in ons kernvers: Wees lief vir God en wees lief vir ander mense. As jy gewillig is om hierdie twee kernopdragte te gehoorsaam, sal alle ander prio-riteite in jou lewe in plek val. God eis jou onverdeelde liefde en trou. Daar mag nie ander dinge in jou lewe wees wat sy regmatige, eerste plek inneem nie. Wanneer God nié eerste kom in jou lewe nie, gaan alles verkeerd loop. Neem jou van vandag af voor om sy koninkryk eerste te stel, dan sal Hy alle ander dinge vir jou daarmee saam gee. God is ’n God van orde en dit is sy wil dat alle dinge in jou lewe ook ordelik sal geskied. Om volgens die riglyne in sy Woord te leef, beteken voorts dat jy gewillig sal wees om aan Hom onderdanig te wees; om sý wil bo jou eie te stel en om sy koninkryk uit te bou. Nadat jy dit gedoen het, kan jy God vra om jou lewe te orden en jou te help om van nou af op die regte manier te lewe.
Vader, ek wil U graag liefhê met alles wat in my is en my naaste soos myself. Onderrig U my Self terwyl ek besig is om my lewe te orden, sodat ek van nou af in ooreenstemming met u wil kan leef. Amen.
11 Augustus – Here, leer my om U te loof en te aanbid
11 AUGUSTUS
Lees: Johannes 4:21–24
Here, leer my om U te loof en te aanbid
“Maar daar kom ’n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen.” – Johannes 4:23
Stormie Omartian is as kind deur haar geestelik versteurde ma mishandel. Die gevolg hiervan was dat sy as volwassene aan erge depressie gely het. Sy getuig dat die enigste ding wat haar uit haar depressietoestand kon kry, was om God te loof en te prys. Ons behoort ook te leer om God te aanbid en aan Hom die lof te bring wat Hom toekom. Aanbidding en lofprysing is belangrike komponente van geloof. Dit is moontlik om gereeld te bid, sonder dat jy ooit leer om God te aanbid en Hom te loof. Ons aanbid God vir Wie Hy is; vir sy wese, sy goedheid, grootheid, heerlikheid en almag. Lofprysing, weer, is om God te loof vir wat Hy gedoen het: dat Hy jou sonde vergeef het, vir jou sorg, so genadig teenoor jou is. Indien jy nog sukkel om God te aanbid, begin solank om Psalm 103 as jou gebed te gebruik. Hoe beter jy God se eienskappe leer ken, hoe makliker sal dit vir jou word om Hom te aanbid en te loof. Neem sommer nou ’n wilsbesluit om aanbidding en lof deel van elkeen van jou gebede te maak. Jy mag nie één dag oorslaan nie, totdat hierdie aanbidding en lof ’n onlosmaaklike deel van jou
godsdiensbeoefening geword het. Selfs wanneer dit beroerd gaan, behoort jy God steeds jou lof en aanbidding as offer aan te bied.
Here, wys my hoe U geloof en aanbid wil word. Gee ook vir my die regte woorde om dit te doen. Amen.
12 Augustus – Here, seën my werk
12 AUGUSTUS
Lees: Psalm 128
Here, seën my werk
Dit gaan goed met elkeen wat die Here dien en sy wil doen. Die vrug van jou arbeid sal jy geniet, gelukkig en voorspoedig sal jy wees. – Psalm 128:1–2
Elke mens het ’n werk om te doen: of hierdie werk nou die voorsitter van ’n groot maatskappy, ’n lid van die Parlement, ’n dokter, ’n argitek, ’n tuisteskepper of ’n skoonmaker is. Sommige mense verdien reusesalarisse met hul werk, ander (soos ma’s en vrywillige werkers) kry nie geld vir die werk wat hulle doen nie, maar put wel geweldige bevrediging daaruit. Baie mense in ons land sukkel op die oomblik om werk te kry. Indien jy wel ’n werk het, behoort jy jou werk na die beste van jou vermoë te doen. As daar teen jou gediskrimineer word, moenie moed opgee nie, maar vra God om by jou te wees. Wy jou spesifieke werk aan die Here toe en vra Hom om dit te seën. Jou werk is vir God belangrik en dit is sy wil dat jy suksesvol in jou werk sal wees. Leef jou geloof uit in jou werksituasie en bid gereeld vir jou werkgewer en die mense wat saam met jou werk. Indien jy God dien en sy wil doen, beloof die Bybel dat jy die vrug van jou arbeid sal geniet en voorspoedig sal wees. Probeer om jou werk só te doen asof jy dit vir God Self doen. Wanneer jy wel ’n goeie salaris verdien, maak seker dat jy jou salaristjek op die regte manier spandeer deur God se regmatige deel opsy te sit en ander te help wat minder het as jyself.
Here, dankie dat ek ’n vaste werk het. Help my asseblief om U te dien en my werk na die heel beste van my vermoë te doen. Seën my werk, asseblief. Amen.
13 Augustus – Here, maak my vrugbaar
13 AUGUSTUS
Lees: Johannes 15:1–8
Here, maak my vrugbaar
“’n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie. My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.” – Johannes 15:4, 8
In Johannes 15 word die beeld van ’n wingerdboerdery gebruik om die geheim van vrugdra vir God se kinders te verduidelik. God plaas sy kinders in die wêreld sodat hulle vir Hom vrug kan dra. In Johannes 15 vertel Jesus ons ook wat nodig is sodat ons hierdie vrug kan voortbring: eerstens is dit nodig om in Hom te bly. Net soos ’n wingerdtakkie nie druiwe kan dra as dit nie aan die wingerdstok verbind is nie, kan ons ook nie vir God vrugte dra as ons nie aan Jesus verbind is nie. Sonder God kan ons niks doen nie, daarom behoort ons elke dag in volkome afhanklikheid van Hom te lewe en Hom te vra om elke oomblik by ons te wees. Dan sal ons God verheerlik deur baie vrugte vir Hom te dra en sy dissipels te wees. Hoe lyk die verbintenis tussen jou en Jesus? Leef jy so naby aan Hom dat ander mense die vrug van die Heilige Gees in jou lewe kan sien? Indien nie, behoort jy weer ’n keer seker te maak dat die verbintenis tussen jou en Jesus sterk genoeg is; dat jy so naby aan Hom leef soos die wingerdtakkie aan die wingerdstok. Net dán sal daar sprake van vrugdra in jou lewe wees.
Hemelse Vader, vergewe my dat daar nog so min geestelike vrug in my lewe te siene is. Ek wil van nou af baie naby aan U leef, sodat Ú deur die vrugte in my lewe verheerlik sal word. Maak my vrugbaar, asseblief. Amen.
14 Augustus – Here, maak my rein en heilig
14 AUGUSTUS
Lees: Galasiërs 5:22–26
Here, maak my rein en heilig
Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig. Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal. – Galasiërs 5:24–25
God vra van sy kinders om rein en heilig te leef. Om rein en heilig te wees, beteken nie dat jy volmaak sal wees nie, maar wel dat jy sekere keuses in jou lewe sal moet maak: dat jy vrywillig sal kies om sekere boeke nie te lees nie, nie na sekere televisieprogramme of flieks te kyk nie, nie na sekere plekke te gaan nie en nie dié dinge te doen wat deur die Bybel as sonde bestempel word nie. Ware reinheid en heiligheid begin altyd by jou hart. Indien jy graag rein en heilig wil leef, behoort jy God op ’n ge-reelde basis te vra om dit vir jou moontlik te maak, want van nature is elke mens sondig. Elkeen van ons word met ’n sondige natuur gebore wat dit vir ons uiters moeilik maak om rein en heilig te wees. Jy moet ook gewillig wees om jou sondige natuur af te sterf, om nee te sê vir wêreldse dinge en ja te sê vir God. Dit gaan van jou vra om jou hele lewe volkome onder die beheer van die Heilige Gees te plaas, want dit is net met sy hulp en deur sy krag dat jy hoegenaamd daarin sal kan slaag om rein en heilig te wees.
Here Jesus, ek bid dat U my rein en heilig vir U sal maak; dat U my self in staat sal stel om my sondige natuur te laat staan en u Gees toe te laat om van vandag af die bestuur van my lewe oor te neem. Amen.
15 Augustus – Here, wys my die doel waarvoor U my geskep het
15 AUGUSTUS
Lees: Efesiërs 4:1–7
Here, wys my die doel waarvoor U my geskep het
Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het. Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde. – Efesiërs 4:1–2
God het elke mens met ’n spesifieke doel en roeping geskep. Voordat jy nie God se doel vir jóú lewe ontdek het nie, gaan jy nooit volkome vervulling smaak nie. Om jou doel te kan verwesenlik, het God vir jou spesifieke eienskappe en talente gegee. Indien jy nog nie sekerheid oor jou persoonlike roeping het nie, vra God om die doel waarvoor Hy jou gemaak het, vir jou te wys. “Dit maak nie saak hoe ver jy afgedwaal het van die planne en doelwitte wat God vir jou het nie, wanneer jy jou lewe oorgee aan die Here en jou absolute afhanklikheid van Hom verklaar, bou Hy vir jou ’n pad van waar jy nou is na waar jy veronderstel is om te wees,” skryf Stormie Omartian.* Om jou doel te ontdek, sal jy naby die Here moet bly en fyn na die Stem van sy Heilige Gees in jou lewe moet luister. Indien jy steeds onseker is oor jou persoonlike doel, beteken dit dat jy nog nie op die regte koers is nie. Wanneer jy wel ontdek waarvoor God jou gemaak het, sal Hy jou seën en jou sukses waarborg, mits jy op Hom bly fokus en die eer vir jou prestasies aan Hom gee. As jy gewillig is om dit te doen en God te gehoorsaam, kan Hy groot dinge deur
jou bereik.
Here, ek bid dat U vir my die spesifieke doel sal wys waarvoor U my geskep het, en dat U my spesiaal sal toerus om hierdie doel in u krag te ontdek en uit te voer. Amen.
* Ibid., p 119–120
16 Augustus – Here, lei my in my verhoudings
16 AUGUSTUS
Lees: Romeine 12:10–17
Here, lei my in my verhoudings
Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld … Wees bly saam met dié wat bly is en treur saam met dié wat treur … Wees goedgesind teenoor alle mense. – Romeine 12:10, 15, 17
Alle mense het ’n behoefte om iewers te behoort. Elkeen van ons wil weet dat daar mense is wat ons onvoorwaardelik liefhet en vir ons omgee. Ons wil graag deel wees van ’n familie- of vriendekring waar mense ons sal aanvaar soos ons is en waardeer vir wie ons is. As jy hierdie dinge in jou eie biologiese gesin gevind het, is jy baie gelukkig. Daar is egter baie Christene wat eensaam is en nie vervulling in hul persoonlike verhoudings vind nie. As dit met jou die geval is, het ek goeie nuus vir jou! Jy behoort steeds aan die huisgesin van God; almal wat in Jesus glo, is God se kinders; Hy is ons Vader, Jesus ons oudste broer en alle ander gelowiges is ons broers en susters (vgl Efesiërs 2:19). Dit is vir alle gelowiges belangrik om aan ’n gemeente te behoort. Daar kan jy jou geloof uitleef en God saam met jou medegelowiges dien. Gemeentelede behoort verantwoordelik te wees vir mekaar en bereid te wees om mekaar te dien. Dit is voorts nodig dat jy persoonlike Christenvriende sal hê met wie jy jou geloof kan deel. Bid gereeld vir jou geloofsgemeenskap asook vir jou
persoonlike Christenvriende en jou gesin. Die regte verhoudings kan jou lewe oneindig verryk. Maak dus tyd vir gemeenskap met ander gelowiges.
Hemelse Vader, baie dankie vir al die mense wat my lewe verryk. Ek bid dat U asseblief my verhoudings sal seën sodat elke verhou-ding waarby ek betrokke is, my nader aan U sal bring. Amen.
17 Augustus – Here, laat u wil in my lewe geskied
17 AUGUSTUS
Lees: Jeremia 29:10–14
Here, laat u wil in my lewe geskied
Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor. Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra. – Jeremia 29:12–13
Een van die bedes van die Ons Vader-gebed wat Jesus sy dissipels leer bid het, is dat God se wil sal geskied. Dit is net dié mense wat hul lewens volkome aan God oorgegee het wat weet wat sy wil behels. As ons naby God leef en vra dat Hy sy wil duidelik aan ons sal openbaar, volg dit vanselfsprekend dat ons gelukkig sal wees. Indien jy gewillig is om God se wil te gehoorsaam, gaan dit nie beteken dat jou lewe van nou af probleemvry sal wees nie, maar jy sal wel die sekerheid hê dat God te midde van jou probleme by jou sal wees en dat Hy jou Self deur jou krisisse sal dra. Om God se wil te gehoorsaam is nooit maklik nie. Sy gewilligheid om sy Vader se wil te volg het Jesus se kruisdood beteken, en tog was Hy steeds gehoorsaam. Wanneer jy God se wil gehoorsaam, mag dit dalk van jou vra om dinge te doen wat teen jóú wil en sin sal indruis. Gehoorsaamheid aan God se wil kom ook nooit outomaties nie. Dit is ’n keuse wat jy élke dag opnuut sal moet maak. Dit
is net God Self wat jou gewillig en bekwaam kan maak om sy wil te doen. Vra Hom om sy wil aan jou bekend te maak en wees dan gewillig om dit te gehoorsaam.
Hemelse Vader, ek vra na u wil. Maak asseblief u wil aan my bekend en help my dan om dit nougeset te gehoorsaam. Amen.
18 Augustus – Here, beskerm my
18 AUGUSTUS
Lees: Psalm 91
Here, beskerm my
As jy na die allerhoogste God toe gaan dat Hy jou moet oppas, kan jy van een ding seker wees: Die almagtige God sal jou bewaar … Hy sal jou verlos van enige gevaar wat jou lewe bedreig … Hulle [God se engele] sal jou veilig in sy hand vashou sodat jy nie seerkry nie. – Psalm 91:1, 4, 12 (Die Boodskap)
In die land waarin ons woon, word ons elke dag aan gevare blootgestel. Onlangs was daar ’n bankroof ’n klipgooi van ons huis af, vriende van ons se motor is gekaap en tydens Pinkster is motors by die kerk gesteel. Maar selfs al raak jy deel van die misdaadstatistiek van ons land, kan jy steeds op God se beskerming aanspraak maak. Christene hóéf nie bang te wees nie: ons het ’n almagtige God wat ons te alle tye sal bewaar; wat sy engele stuur om ons op te pas as ons om sy beskerming bid. As ’n mens ouer word, neem jou vrese gewoonlik toe. Ons bid elke keer voordat ons ’n ver pad aanpak. Dit het al twee maal gebeur dat iemand ’n swaar vragmotor teen ’n bult verbysteek en ons net ’n noodlottige kop-aan-kop-botsing kon vermy deur heeltemal van die pad af te ry. Elke keer was ons (en ons motor) ongedeerd. Die een keer het die byna-ongeluk gebeur op die enigste plek in ’n hele paar kilometer waar daar nie ’n diep sloot langs die pad was nie. Albei kere was dit ’n wonderwerk dat ons nie seergekry het nie. God is getrou; herinner
Hom gereeld aan sy belofte dat Hy jou sal bewaar.
Hemelse Vader, ek eien nou u belofte dat U my sal bewaar en beskerm vir my toe. Stuur asseblief u engele om my veilig te hou. Amen.
19 Augustus – Here, gee my die wysheid om reg te besluit
19 AUGUSTUS
Lees: Spreuke 2:1–11
Here, gee my die wysheid om reg te besluit
… hou jou ore oop vir die wysheid, span jou in om te verstaan. Roep insig by, vra na gesonde begrip … Dan sal jy weet hoe om die Here te dien, sal jy ontdek wat dit is om God te ken. Dit is die Here wat die wysheid gee, uit sy mond kom die kennis en die insig. – Spreuke 2:2–3, 5–6
God se kinders behoort sy wysheid en leiding op ’n daaglikse basis te soek. Dit is die teenwoordigheid van die Heilige Gees in jou lewe wat jou die onderskeidingsvermoë gee om te weet wat om te doen in ’n spesifieke situasie; wat vir jou die regte pad aanwys wanneer jy onseker is. Almal van ons twyfel by tye of ons die regte besluit neem wanneer ons ’n beroep of lewensmaat moet kies, wanneer ons ’n werksaanbod op ’n ander dorp kry of wanneer ons ’n huis moet koop. Indien jy verkeerde keuses maak, kan dit jou hele lewe vorentoe negatief beïnvloed. Die beginpunt van ware wysheid is altyd om jou lewe aan God toe te vertrou en Hom te raadpleeg: “Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig,” is die mening van die Spreukeskrywer (Spreuke 9:10). Net wanneer jy in ’n hegte verhouding met God is, stel Hy sy wysheid tot jou beskikking, maar dan moet jy Hom steeds daarom vrá. God openbaar sy wysheid deur sy Woord. Indien jy graag wysheid wil bekom, raadpleeg jou Bybel en bid
dat God jou Self wysheid sal gee.
Vader, ek bid vir U wysheid in my lewe. Wys vir my wat in u oë reg en wat verkeerd is en gee vir my die onderskeidingsvermoë om altyd die regte besluite te neem. Amen.
20 Augustus – Here, verlos my van die Bose
20 AUGUSTUS
Lees: Efesiërs 6:10–18
Here, verlos my van die Bose
Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug. – Efesiërs 6:11–12
Elke Christen is daagliks besig met ’n stryd teen die duiwel, of ons dit nou besef of nie. Die duiwel kan nooit in eie krag aangedurf word nie, daarvoor is hy veels te sterk. Gelukkig vir óns is God veel sterker as hy, en is hy reeds aan die kruis oorwin, alhoewel die finale oorwinning oor Satan eers by Jesus se wederkoms gaan plaasvind. In die tussentyd maak hy die lewe vir God se kinders baie moeilik, en dit is net God wat ons van die Bose en sy listige aanslae kan bewaar. Die duiwel is gedurig besig om sy vestings in jou lewe te probeer oprig. Jy sal hom net met God se krag kan verslaan. Maar God stel sy wapenrusting tot jou beskikking. Gaan lees vandag se Skrifgedeelte baie noukeurig deur en skryf die verskillende wapens neer waarmee jy die duiwel onskadelik kan stel. “Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig,” beloof Paulus die gemeente in Korinte (2 Korintiërs 10:4). In God se krag sal jy dit ook kan regkry om elke keer as oorwinnaar uit die stryd teen die Bose te tree.
Hemelse Vader, ek besef nou dat ek nie opgewasse is teen die Bose se aanslae nie, maar ek weet óók dat ek u wapenrusting het waarmee ek hom kan verslaan. Bewaar my asseblief van die Bose en sy versoekings. Amen.
21 Augustus – Here, red my van negatiewe emosies
21 AUGUSTUS
Lees: Filippense 4:4–9
Here, red my van negatiewe emosies
Moenie oor dinge sit en tob of jou bekommer nie. Gaan praat met God daaroor. Bespreek dit met Hom. Vertel Hom hoe jy daaroor voel … Jy sal dan verlig en tevrede voel … Hierdie wete dat Jesus by jou is, sal keer dat die bekommernisse weer met jou emosies weghardloop of dat jy jou weer van voor af begin bekommer. – Filippense 4:6–7 (Die Boodskap)
Op die oomblik gaan dit sleg met baie mense in ons land. Mense voel dikwels asof hulle alleen is en niemand werklik vir hulle omgee nie. Soms voel ons selfs asof Gód ver is en nie meer na ons gebede luister nie. Christene hoef nooit deur hul negatiewe emosies beheer te word nie. Ons kan hierdie emosies na God neem en Hom vra om ons van hulle te verlos. Indien jy deur negatiewe emosies, bekommernis of angs gepla word, kan jy jou onrus verruil vir God se vertroosting met die seker wete dat Hy jou liefhet en jou sal help, ongeag jou emosies of jou omstandighede. Vertrou Hom om vir jou te sorg, fokus op die positiewe dinge in jou lewe en dank God vir al die dinge wat Hy vir jou gee. Dankbare mense kan nie lank negatief bly nie! Wanneer jy voel dat depressie die oorhand oor jou wil kry, kry onverwyld mediese hulp. Erge depressie is nie ’n emosie nie, maar ’n siekte wat net met medikasie reggestel kan word. Dit help om God se beloftes in sy Woord te memoriseer en jou hoop
aan Hom vas te knoop. Kies in die vervolg om optimisties te wees en vra God om jou negatiewe emosies vir sy vrede en vreugde te verruil.
Vader, ek bid dat U my onrus en bekommernis met u vrede en vreugde sal omruil. Amen.
22 Augustus – Here, vertroos my
22 AUGUSTUS
Lees: 2 Korintiërs 4:7–11
Here, vertroos my
Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. – 2 Korintiërs 4:16–17
Mense wat gereeld vliegtuig ry, ervaar dikwels dat hulle in reënweer van die lughawe opstyg, maar as die vliegtuig deur die wolke breek, skyn die son steeds bokant die wolke. Net so maak God dit vir sy kinders moontlik om bo die hartseer en pyn van ons aardse lewens uit te styg tot daar waar ons sy liefde en troos vir ons kan ervaar. Daar is nie eens een mens wat deur die lewe kan gaan sonder om swaar te kry of hartseer te ervaar nie. Christene weet egter dat die hemel vir hulle wag ná die aardse swaarkry. Jy kan God vertrou om jou te troos in swaarkrytye. As jy aan Hom behoort, het jy reeds God se Gees, die Trooster wat Jesus sy kinders beloof het, wat in jou woon. Al wat jy hoef te doen as dit moeilik gaan of wanneer jy hartseer is, is om na Hom toe te gaan en Hom toe te laat om jou te troos. Pyn in jou lewe is dikwels ’n pluspunt, omdat dit jou laat besef dat jy nie sonder God kan klaarkom nie. Swaarkry laat jou boonop nader aan God leef en vaster op Hom vertrou. As jy eenmaal God se troos in jou eie lewe ervaar het, rus dit jou
boonop toe om in die vervolg ánder mense wat swaar kry of hartseer is, te vertroos.
Vader, vertroos my asseblief in hartseertye en maak dit vir my moontlik om ánder mense wat hartseer is, te vertroos. Amen.
23 Augustus – Here, laat my sterk staan teen versoekings
23 AUGUSTUS
Lees: 1 Korintiërs 10:1–17
Here, laat my sterk staan teen versoekings
Geen versoeking wat meer is as wat ’n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan. – 1 Korintiërs 10:13
Wanneer Jesus sy dissipels leer hoe om te bid, is een van die bedes: “… laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose” (Matteus 6:13). Die wêreld waarin ons woon, is vol versoekings. Toe die duiwel Jesus in die woestyn versoek het, het Hy geweier om aan die versoekings toe te gee, maar die duiwel net elke keer met wysheid uit die Skrif geantwoord. Indien jy voor versoekings te staan kom, behoort jy jou Bybel so goed te ken dat jy sal weet watter dinge reg en watter dinge verkeerd is. Jy kan enige versoeking met God se krag weerstaan. Bid dat die Here dit vir jou moontlik sal maak om versoekings te herken en te weerstaan. God beloof dat jy nie bo jou kragte versoek sal word nie, maar dat Hy saam met die versoeking vir jou uitkoms sal gee, sodat jy die versoeking sal kan weerstaan. Die mees algemene versoe-kings vandag is seksuele versoekings en liefde vir geld wat tot bedrog lei. Onthou dat die duiwel altyd op dié terreine gaan konsentreer waarvoor jy die vatbaarste is. As jy wel aan die versoeking toegee, is God elke
keer bereid om jou te vergewe. Onthou egter altyd dat alle sonde negatiewe gevolge het. Dit is dus beter om vroegtydig te bid dat God jou sal help om sterk te wees wanneer jy versoek word.
Hemelse Vader, help my om sterk te wees teen versoekings, sodat ek elkeen van hulle met u krag sal kan weerstaan. Amen.
24 Augustus – Here, genees my
24 AUGUSTUS
Lees: Jeremia 17:14, 30:17
Here, genees my
Maak Ú my gesond, Here, dan sal ek gesond wees! Bevry Ú my, dan sal ek vry wees! Dit is vir U wat ek wil loof … Ek sal jou gesond maak, jou wonde genees, sê die Here … – Jeremia 17:14, 30:17
Daar is baie min mense wat nie periodiek met siekte gekonfronteer word nie. My man is ’n hartlyer en ons seun is op 34-jarige ouderdom met kanker gediagnoseer. Op die oomblik gaan dit goed met albei, maar hierdie siektes het ons geleer om nooit ons gesondheid as vanselfsprekend te beskou nie. Ek het vier vriendinne wat kanker gehad het. Een is in Februarie 2010 oorlede en die ander drie is in remissie. Sommige siektes kom uit die bloute en ander is weer oorerflik. God kán alle siektes genees, maar Hy doen dit nie altyd nie. Soms is dit sy wil dat ons juis op ons siekbed getuies van Hom sal wees. Wanneer jy of een van jou dierbares siek word, bid dat God julle sal genees en glo dat Hy dit kan doen. Maar jy behoort ook gewillig te wees om in ooreenstemming met sy wil te bid en Hom toe te laat om die siekte op sy eie tyd en manier aan te spreek. Dit is verder nodig dat jy gesond sal leef en jou liggaam goed sal oppas om te verhoed dat jy siek word. Kry elke jaar jou griepinspuiting, laat jou kinders inent teen kindersiektes, eet gesond en kry genoeg oefening. Só sal jy jou deel doen om jou en jou gesin siektevry te hou. Bid vir mekaar
wanneer julle siek word, skryf Jakobus. Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking (vgl Jakobus 5:16).
Here, dankie dat U alle siektes gesond kan maak, en dat ek U mag vra om my en my mense van siekte te vrywaar. Amen.
25 Augustus – Here, bevry my van vrees
25 AUGUSTUS
Lees: Jesaja 41:10–13
Here, bevry my van vrees
Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou … Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie, Ék help jou. – Jesaja 41:10, 13
Die meeste mense loop met die een of ander vrees in hul binneste rond. Ek is bang vir nou plekke en my man vir hoogtes. Deesdae is ek ook bang dat daar by ons ingebreek kan word en dat ons motor gekaap kan word. Eintlik is sulke onnodige vrese ’n teken van ongeloof. Met God by jou hóéf jy nie bang te wees nie, omdat Hy in staat is om jou veilig te hou, ook te midde van gevare. Dit is nooit God se wil dat sy kinders bang mense sal wees nie. “Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing,” skryf Paulus aan Timoteus (2 Timoteus 1:7). Vertel God van al jou ongegronde vrese, en vra Hom om hulle te ruil vir sy vrede. Hoe nader jy aan God leef, hoe minder plek sal daar in jou lewe wees vir vrees. Boonop is God se liefde in staat om elke kriesel vrees te neutraliseer, omdat volmaakte liefde vrees verdryf (vgl 1 Johannes 4:18). Moenie langer met jou vrese rondloop nie, maar los hulle by God. Omdat Hy by jou is, omdat Hy jou hand sal vat, jou sal versterk, jou sal help en jou sal vashou, hoef jy nooit
weer bang te wees nie!
Hemelse Vader, ek loof U dat ek vir niks op aarde hoef bang te wees nie, omdat U elke oomblik by my is. Bevry my asseblief van al my vrese. Amen.
26 Augustus – Here, gebruik my om die lewens van ander aan te raak
26 AUGUSTUS
Lees: 1 Petrus 4:7–11
Here, gebruik my om die lewens van ander aan te raak
As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy ’n genadegawe ontvang het, die ander dien. – 1 Petrus 4:10
Stormie Omartian vertel dat sy gebid het dat haar boeke mense oor die hele wêreld sou bereik en hul lewens sou verander. Dit het inderdaad gebeur. Ek en my man kry dikwels telefoonoproepe van mense wat ons boeke lees en getuig dat hulle seën daaruit ontvang het. ’n Mens hoef egter nie boeke te skryf om mense aan te raak nie. Elke mens het ’n spesifieke talent van God gekry wat jy kan gebruik om die lewens van ander aan te raak en ten goede te verander. Gospelsangers raak mense aan met hul sang, predikante met hul prediking. Selfs al het jy net ’n glimlag om met ander te deel, kan jou vriendelikheid baie vir iemand anders beteken. As jy baie tyd het en daar eensame mense naby jou woon, kan jy hulle gerus besoek en net ’n bietjie met hulle gesels. Jy kan ook jou buurvrou saamnooi kerk of winkel toe as sy nie ’n motor het nie. Vra die Here om vir jou te wys op watter terrein jy iemand anders se lewe kan verryk deur jou talente te gebruik. Ook al kan jy niks ánders vir mense doen nie,
kan jy steeds vir hulle bid. Om die waarheid te sê, is gebed een van die heel kosbaarste dinge wat jy aan iemand anders kan gee. Besluit sommer nou wat jy vandag gaan doen om die lewe van ’n medemens aan te raak.
Here, wys my waar U my wil gebruik om die lewens van ander mense aan te raak sodat ek ’n positiewe verskil in hul lewens kan maak. Amen.
27 Augustus – Here, leer my om net woorde te sê wat lewe bring
27 AUGUSTUS
Lees: Spreuke 12:17–25
Here, leer my om net woorde te sê wat lewe bring
Party mense maak ander graag seer. Hulle woorde is soos ’n skerp mes wat alles stukkend sny. ’n Gelowige se woorde bemoedig ander en gee hulle moed vir die lewe. Mooi woorde verloor nooit hulle krag nie. Leuentaal is waardeloos. Woorde wat nie opreg is nie, beteken niks nie. – Spreuke 12:18–19 (Die Boodskap)
Dit is baie maklik om in ’n oomblik van woede mense af te breek of seer te maak met ons woorde. En woorde wat eenmaal gesê is, kan nooit weer teruggetrek word nie. Wees dus versigtig met wat jy sê en dink eers mooi voordat jy praat. Ek was al male sonder tal baie spyt oor ondeurdagte woorde wat ek impulsief kwytgeraak het. Indien jy ook iemand is wat gou en maklik praat sónder om te dink, vra dat die Here ’n wag voor jou mond sal sit. Voordat jy enigiets oor iemand anders sê, vra jou eers af of jou woorde by drie “hekke” sal deurkom: Is dit waar, is dit vriendelik en is dit nodig? Indien nie, is dit beter om liewer stil te bly! Vroue bly lief vir skinderstories. Wees altyd versigtig om nie iets oor iemand anders te sê wat jy nie voor haar sal sê nie. En onthou tog dat iemand wat oor ’n vriendin skinder, heel moontlik ook negatiewe dinge oor jóú sal sê wanneer jy nie by is nie! Die heel beste woorde wat jy met iemand kan deel, is om met hulle oor hul
geloof te praat. Vertel hulle hoe goed God vir jou is en wat Hy vir jou beteken.
Here, ek wil graag woorde gebruik wat ander mense sal opbou en bemagtig. Vergewe my asseblief vir al die kere dat ek mense met my woorde seergemaak het. Amen.
28 Augustus – Here, versterk my geloof
28 AUGUSTUS
Lees: Matteus 17:14–21
Here, versterk my geloof
“Omdat julle geloof te klein is,” sê Hy vir hulle. “Dit verseker Ek julle: As julle maar geloof het so groot soos ’n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê: ‘Gaan staan daar anderkant!’ en hy sal gaan. Niks sal vir julle onmoontlik wees nie.” – Matteus 17:20
Toe die dissipels by Jesus wou weet waarom hulle dit nie kon regkry om ’n duiwel uit ’n seun te dryf nie, sê Hy dat hul geloof te klein is. Hul geloof was nie genoeg om ’n genesing te bewerkstellig nie. Geloof is ’n geskenk van God, nie iets waaroor jy self kan besluit nie. Dit is net God Self wat dit vir jou moontlik maak om te kan glo. En jy het nie baie geloof nodig om God se hart bly te maak nie. Geloof so groot soos ’n piepklein mosterdsaadjie is genoeg om berge te versit, sê Jesus. Toe Jesus op aarde was en mense genees het, het Hy dikwels vir hulle gesê dat dit hul geloof was wat hulle gered het. Bid dat God vir jou meer geloof sal gee. As jy aan God behoort, behoort jou geloof elke dag te groei. Om jou Bybel gereeld te lees en te bid, laat jou geloof groei. Wanneer dit swaar gaan, word jou geloof getoets. Petrus skryf dat die egtheid van ons geloof getoets móét word sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by Jesus se wederkoms (vgl 1 Petrus 1:7). Bid dus dat God jou geloof so sterk sal maak dat jy hierdie
gelooftoets elke keer met vlieënde vaandels sal slaag.
Here, dankie dat dit U Self was wat geloof in my hart bewerk het. Sal U asseblief my swak geloof sterker maak en dit elke dag laat groei? Amen.
29 Augustus – Here, maak my meer soos Jesus
29 AUGUSTUS
Lees: Romeine 8:26–30
Here, maak my meer soos Jesus
Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik. – Romeine 8:29–30
Dit is God se wil dat ons lewe die beeld van sy Seun sal weerkaats; dat ons al hoe meer sal verander, totdat Jesus se eienskappe in ons lewe raakgesien sal kan word. Wanneer ons die Evangelies lees, is daar veral drie eienskappe van Jesus wat uitstaan: Jesus was liefdevol, nederig en gehoorsaam. Hy het ons só lief dat Hy gewillig was om sy lewe vir ons af te lê. Hy was so nederig dat Hy sy dissipels se voete gewas het, alhoewel Hy hul Leermeester was. Hy was ook absoluut gehoorsaam aan die opdragte van sy Vader. “Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis,” getuig Paulus in Filippense 2:8. Bid dat God jóú met sy liefde sal vul en jou nederig en gehoorsaam sal maak soos Jesus was. Vra God om jou gewillig te maak om van jou aangebore negatiewe eienskappe soos selfsug, hoogmoed en meerderwaardigheid ontslae te raak en van nou af Jesus se lig en liefde uit te straal. Probeer om in die vervolg Johannes se opdrag na te kom: “Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook
te lewe soos Jesus gelewe het” (1 Johannes 2:6).
Vader, ek wil graag meer soos Jesus word. Vul my met u liefde, maak my nederig en gehoorsaam soos Jesus was, sodat ander Hom in my optrede sal kan raaksien. Amen.
30 Augustus – Here, lig my op uit die verlede
30 AUGUSTUS
Lees: Filippense 3:7–14
Here, lig my op uit die verlede
Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waarvoor God my geroep het in Christus Jesus. – Filippense 3:13– 14
Sommige mense wroeg hul lewe lank oor die foute wat hulle in die verlede begaan het. Jy gaan nêrens in die wedloop van die lewe kom as jy steeds aanhou om gister se bagasie met jou saam te sleep nie. Bid dat God dit vir jou moontlik sal maak om, soos Paulus gedoen het, jou nie langer aan die dinge van die verlede en alles wat toe skeefgeloop het, te steur nie. Span liewer alles in om by die wenstreep te kom sodat jy die hemelse prys kan behaal waarvoor God jou spesiaal geroep het. Jesus wil jou graag vry maak van al die negatiewe dinge wat in die verlede met jou gebeur het. Hy wil elke sonde wat jy in die verlede gedoen het van harte vergewe. Al wat jy hoef te doen, is om Hom te vrá om dit vir jou te doen. Wanneer jy jou vergrype van die verlede na Hom neem, gaan jy ontdek dat Hy selfs daardie dinge positief in jou lewe vorentoe kan gebruik, deur dit vir jou moontlik te maak om ander mense wat soortgelyke ervarings gehad het, te help. Jesus wil jou nuut maak sodat jy jou verlede kan agterlaat en van nou af die
wedloop van die lewe sónder enige hindernisse sal kan hardloop.
Here Jesus, sal U my asseblief nuut maak, my help om al die negatiewe dinge uit my verlede agter my te laat en van nou af voluit vir U te leef, sodat die hemelse prys eendag myne kan wees. Amen.
31 Augustus – Here, stap saam met my
31 AUGUSTUS
Lees: 2 Korintiërs 5:1–10
Here, stap saam met my
Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar ’n tent is, afgebreek word, ons ’n vaste gebou in die hemel het. Dit is ’n woning wat nie deur mense gemaak is nie, maar deur God, en dit bly ewig staan. – 2 Korintiërs 5:1
Toe Jesus sy dissipels voor sy hemelvaart gegroet het, het Hy hulle belowe dat Hy gaan om vir hulle plek voor te berei en dat Hy eendag weer sal kom om hulle te kom haal na daar waar Hy is. Ons mag dus nou al uitsien na die heerlike toekoms wat ons eendag in die hemel sal hê. Ook al gaan dit op die oomblik bitter swaar met jou, kan die swaarkry van vandag nooit opweeg teen die heerlikheid wat eendag vir jou in die hemel wag nie. Die wêreld waarin ons leef, verander van dag tot dag, maar God en sy beloftes bly onveranderlik. Die meeste mense beoordeel die toekoms aan die hand van media-berigte. Veral in ons eie land lyk dit op die oomblik allesbehalwe belowend. Maar God is steeds in beheer. En Hy beloof die hemel vir almal wat Hom liefhet en in Jesus glo. As jy weer bekommerd raak oor die toestande rondom jou, hou gerus vas aan God se belofte van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde waar al dié dinge wat vir jou op die oomblik pynlik en moeilik is, vir altyd verby sal wees. Vra God om voor jou uit te stap tot op dié dag wanneer Jesus weer sal kom om jou te kom haal om vir altyd by Hom te wees.
Hemelse Vader, stap asseblief saam met my tot op dié dag wanneer ek vir altyd in die hemel by U sal wees. Ek loof U vir die belofte dat al my swaarkry dan vir altyd verby sal wees. Amen.
Gebed
Gebed
Hemelse Vader, vergewe my asseblief al my sondes en maak my gewillig om dié mense wat teen my oortree het én myself te vergewe. Ek wil graag absoluut gehoorsaam wees aan die riglyne in u Woord. Leer my hoe ek U en ander mense moet liefhê en leer my ook om U te loof en te aanbid elke dag van my lewe. Seën asseblief die werk waarmee ek besig is en help my om dit na die beste van my vermoë te doen. Maak my vrugbaar in u koninkryk, maak my rein en heilig sodat u Heilige Gees van nou af my lewe sal beheer. Wys my asseblief die spesifieke doel waarvoor U my geskep het en seën elkeen van my verhoudings. Laat u wil in my lewe geskied, beskerm my teen gevare en gee vir my die nodige wysheid om die regte keuses te maak en die regte besluite te neem. Verlos my asseblief van die Bose en red my van negatiewe emosies wanneer dit moeilik gaan. Vertroos my in hartseertye, laat my sterk wees teen versoekings, genees my as ek siek is en bevry my van vrees. Gebruik my om die lewens van ander mense positief aan te raak en hulle te bemagtig met my woorde. Versterk my geloof, Here, maak my meer soos Jesus en help my om nie langer oor my foute van die verlede te tob nie. Stap nou elke dag saam met my op my lewenspad tot op dié dag wanneer U my kom haal om vir altyd by U te wees. Ek vra dit in die Naam van Jesus. Amen.
September: Verlossing
SEPTEMBER: VERLOSSING
Hierdie maand gaan ons by verlossing stilstaan. “Verlossing beteken nie bloot om ’n nuwe blaadjie om te slaan nie, maar om ’n nuwe lewe te ontvang,” skryf ’n anonieme persoon. Verlossing beteken dat jy nou vry van die mag van sonde is; dat jy, as verloste sondaar, mag deel in die heerlikheid van Christus. Wanneer God jou verlos het, is jy waarlik vry. En jou verlossing is eenmalig, dit hoef nie herhaal te word nie. Verlossing is altyd God se werk, maar dit is Jesus wat dit moontlik gemaak het. Die verlossing wat Jesus vir ons aan die kruis bewerk het, is allerbelangriks vir elke kind van God. Om verlos te kán word, moet jy eers besef dát jy verlore is, dat jy verlossing nodig het. Die eerste Christene het die teken van ’n vis gebruik as geheime uitkenningsteken, omdat die Griekse woord vir vis, ichtus, se letters dieselfde is as die eerste letters van die woorde “Jesus Christus, Seun van God, ons Verlosser”. Dit is my gebed dat jy aan die einde van die maand presies sal weet wat verlossing vir jou inhou; hoe onmeetlik dit jou lewe kan vernuwe en verryk, en nuwe kwaliteit daaraan kan gee.
1 September – Wat verlossing beteken
1 SEPTEMBER
Lees: Titus 3:3–7
Wat verlossing beteken
Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming … So is ons dan deur sy genade vrygespreek en het ons erfgename geword van die ewige lewe wat ons verwag. – Titus 3:5, 7
In hierdie Skrifgedeelte gee Paulus vir Titus ’n pragtige verduideli-king van die drie dinge wat verlossing beteken: Eerstens is jy nuut gemaak en jou sonde is vergewe. Verlossing kan nooit verdien word nie. God verlos ons omdat Hy ons liefhet en ons jammer kry. Hy maak ons heeltemal oor; ons is as ’t ware ’n tweede keer gebore toe ons sy kinders geword het en in die proses is ons ou sondige mens dood en begrawe. Die tweede komponent van verlossing is dat God sy Heilige Gees aan ons gee om ons lewe van binne af nuut te maak. Verloste mense besit die Heilige Gees “met al sy krag en heerlikheid” in hul lewe. Derdens skryf God al jou vorige sondes af wanneer Hy jou verlos, sodat hulle nie langer teen jou tel nie. Nou is jy ’n (verloste) erfgenaam van God met ’n eie plek in God se splinternuwe wêreld as erfporsie.
Indien jy wil weet of jy verlos is, kan jy jouself drie dinge afvra: • Lewe jy anders as in die verlede? • Ervaar jy die krag van die Heilige Gees in jou lewe? • Het God al jou sondes vergewe?
Indien jou antwoord op al drie vrae “ja” is, hoef jy nie langer oor jou eie verlossing te wonder nie.
Here Jesus, dis wonderlik dat U my nuut gemaak en my sonde vergewe het. Help my asseblief om in die vervolg soos ’n verloste mens te lewe. Amen.
2 September – Almal is sondig!
2 SEPTEMBER
Lees: Prediker 7:15–20
Almal is sondig!
Daar is geen mens op aarde regverdig nie, niemand wat net goed doen en nie sondig nie. – Prediker 7:20
God is baie ernstig oor sonde. Omdat Hy heilig is, duld Hy nie die sonde nie, maar straf dit altyd met die dood. En alle mense ís sondig. Daar is nie eens één persoon wat regverdig gebore word nie. Een en almal van ons word “in sonde ontvang en gebore”. Die Prediker is doodreg wanneer hy beweer dat daar geen mens op aarde is wat regverdig is nie; niemand wat net goed doen en nie sondig nie. Elk-een van ons het dus verlossing en ’n Verlosser nodig. Almal van ons was eers slawe van die sonde, sê Jesus in Johannes 8:34. Verlossing uit hierdie slawerny van die sonde is niks anders as ’n wonderwerk nie. God het ons kom wys presies hoe lief Hy ons het toe Hy ons uit die sondemag kom verlos het. Verlossing vra egter bloed – daarom moes Jesus eers sterf om vir ons verlossing moontlik te maak. Net soos die offerdiere wat in die Ou Testament deur die priesters geoffer is, se bloed moes vloei voordat God die sondes van die volk kon vergewe, moes Jesus se bloed aan die kruis vloei om my en jou sondes ongedaan te maak. Hierdie offers van die Ou-Testamentiese bedeling moes telkens herhaal
word. Jy is egter met die bloed van Jesus losgekoop. Aan die kruis sterf Jesus eens en vir altyd in jou plek aan die kruis, en verseker so vir jou ’n eenmalige offer vir jou sonde wat vir áltyd sal duur.
Hemelse Vader, baie dankie dat U u Seun na die wêreld gestuur het om in my plek vir my sonde te betaal, sodat ek nou vir altyd van sonde verlos kan wees. Amen.
3 September – Deur genade verlos
3 SEPTEMBER
Lees: Romeine 3:10–24
Deur genade verlos
Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus. – Romeine 3:23–24
Ek en jy is sondaars. Dit beteken dat ons van ons geboorte af geneig is om verkeerde dinge te doen en toe te gee aan ons sinlike begeertes. Dat ons egoïsties en liefdeloos leef en meen dat óns belangriker as ander is. In hul boek Ontdek jouself voor God, gee Braam en Mariëtte Hanekom ’n treffende definisie van sonde: “Sonde maak mense seer en vernietig hulle selfs. Die verskrikking van sonde is dat dit ook nie alleen die sondaar raak nie, maar ’n uitkringende effek het. Dit is soos ’n kanker wat versprei en al meer en meer mense daarby betrek.”* Sónder verlossing, wat slegs geloof in Jesus kan bewerk, is almal van ons reguit op pad hel toe. Gelukkig bestaan daar ’n woordjie soos genade. Genade is God se onverdiende guns. Uit suiwer genade – en nié omdat ons dit verdien nie – is God bereid om ons sonde te vergewe omdat sy Seun hierdie vergifnis vir ons aan die kruis verdien het. Verloste mense is vrygekoopte mense. Mense wat hul lewe onder die beheer van die Heilige Gees stel en gehoorsaam is aan die riglyne wat God vir sy kinders in sy Woord uitspel.
Paulus waarsku die Romeine dat die loon van die sonde die dood is. Gelukkig eindig hierdie teksvers met die belofte dat die genadegawe wat God gee, die ewige lewe is. Danksy God se genade hoef jy net jou sonde te bely om vir altyd daarvan ontslae te wees (vgl Romeine 6:23).
Hemelse Vader, ek loof U vir u onverdiende genade aan my! Ek wil nou u geskenk van verlossing vir my neem. Amen.
* B en M Hanekom, Ontdek jouself voor God, p 168
4 September – Sien jou sonde raak
4 SEPTEMBER
Lees: 2 Samuel 12:1–15
Sien jou sonde raak
“Jy is die man!” sê Natan toe vir Dawid … “Waarom het jy nou die woord van die Here geminag deur so ’n verkeerde ding te doen?” … Toe sê Dawid vir Natan: “Ek het gesondig teen die Here.” – 2 Samuel 12:7, 9, 13
Koning Dawid, die “man na God se hart”, is blind vir sy eie sonde. Dit is bykans ondenkbaar dat ’n godsman soos hy owerspel kan pleeg, in die proses lieg en bedrieg en boonop Batseba se man laat doodmaak as hy hom nie kan oortuig om by haar te slaap nie. Eers as die profeet Natan hierdie sondes vir hom uitspel, ontdek Dawid hoe verkeerd hy was. Hy is darem onmiddellik bereid om sy sonde voor God te bely. En God gee hom nog ’n kans. Sy en Batseba se seuntjie sterf, maar God gee vir hulle wéér ’n seun, Salomo, wat bekend sou word as die wysste van al Israel se konings. Ons sien baie maal ook nie ons eie sonde raak nie. Ons kyk na ánder mense se sonde deur ’n vergrootglas, terwyl ons ons eie as onbelangrik beskou. Ongelukkig werk dit nie so nie. “… wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie,” waarsku Paulus die gemeente van Korinte (1 Korintiërs 10:12). Indien jy jou eie sonde besef, behoort jy Dawid se voorbeeld te volg en hierdie sonde voor God te bely. Ná Natan se besoek aan hom skryf Dawid die pragtige boetepsalm, Psalm 51, waarin hy sy sonde voor God oopsprei. Jy kan die woorde
van dié psalm met vrug gebruik om jou eie sonde te bely.
Here God, ek bid dat U my genadig sal wees en my veelvuldige sondes sal vergewe, sodat ek weer die blydskap sal ervaar van iemand wat deur U verlos is. Amen.
5 September – Jy is ’n drenkeling!
5 SEPTEMBER
Lees: Handelinge 4:8–12
Jy is ’n drenkeling!
“Hý bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie.” – Handelinge 4:12
Volmaakte mense het nie verlossing nodig nie. Net sondaars kan kwalifiseer om verlos te word. Voor dit kan gebeur, moet ons eers besef dat ons sondig is en verlossing nodig het. Moody het gesê: “Groot sondaars soos ons het ’n groot Verlosser nodig.”* In sy Pinksterpreek lê Petrus klem op die feit dat daar géén ander naam op die aarde aan mense gegee is waardeur verlossing kan plaasvind as dié van Jesus nie. In sy boek Vandag is gister se môre gebruik Johan Cilliers die beeld van ’n drenkeling om verlossing te verduidelik: “Wie verdrink, soek meer as ’n paar aanwysings wat vanaf die wal oor die kuns van swem geskree word. Wie sink, moet gered word. Vlees en gees. Huitjie en muitjie. Van jou kop tot jou tone. Net God kan ons só red. Dit het Hy deur Jesus Christus gedoen. Dis nie óns wat teen die leer van verdienste na die hemel opklim nie, dit is God wat die Reddingsboei van bo af oor ons gooi, en deur genade ons na bo trek. Dis Gód wat ons red. Dis Hy wat … Sélf in die gedaante van sy Seun kom, Sélf die stormwaters binnespring, Sélf onder die golwe verdwyn sodat ons daar uitgehaal kan
word.”** Jy kan self niks aan jou eie verlossing doen nie – behalwe om God toe te laat om jou te red deur geloof in Jesus! Moenie langer aarsel om dit te doen nie!
Here Jesus, ek loof U as die enigste Persoon deur wie ek gered kan word. Dankie dat ek nie langer hoef te sukkel om dit self reg te kry nie. Amen.
* Moody ** J Cilliers, Vandag is gister se môre, p 43
6 September – Laat staan jou sonde
6 SEPTEMBER
Lees: Johannes 5:1–14
Laat staan jou sonde
Later kry Jesus hom in die tempel en sê vir hom: “Kyk, jy is nou gesond. Moet nou nie meer sonde doen nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.” – Johannes 5:14
Nadat Jesus die lam man by Betesda genees het, waarsku Hy hom dat hy nie meer moet sondig nie. God vergewe jou sonde, maar jy mag hierdie vergifnis nóóit goedkoop maak deur telkens weer dié dinge te doen waarvoor jy reeds om vergifnis gevra het nie. Alhoewel vergifnis gratis vir jou beskikbaar is, het dit vir God die lewe van sy Seun en vir Jesus Self sy lewe gekos. Wanneer jou sonde vergewe is, behoort jy op te hou daarmee, en met ’n nuwe, sondelose lewe te begin. Dit beteken ongelukkig nie dat jy nou nooit weer sonde gaan doen nie, maar wel dat jy sal luister wanneer die Heilige Gees jou waarsku dat jy op die verkeerde pad is. Dan behoort jy weer na God toe terug te draai deur jou sondes weer eens te bely. Elke mens het troetelsondes wat ons nie graag wil laat gaan nie. Wat is joune? Is jy dalk egoïsties, selfsugtig, liefdeloos of gierig? Sulke foute behoort ’n leerskool in ons lewe te wees, skryf die Hanekoms. Ons leer onsself ken uit die foute wat ons maak.*
Hoe lyk dit: is jý al gewillig om sommer vandag ’n wilsbesluit te neem om in die vervolg die persoonlike foute wat jy hierbo geïdentifiseer het, te laat staan? Gaan sê dit dan vir God.
Vader, soos soveel keer tevore kom bely ek weer my gewoontesondes voor U. Vergewe my asseblief nóg ’n keer en maak dit vir my moontlik om uit my vorige foute te leer en daarmee op te hou. Amen.
* B en M Hanekom, Ontdek jouself voor God, p 42
7 September – Die wonder van God se vergifnis
7 SEPTEMBER
Lees: Kolossense 2:6–15
Die wonder van God se vergifnis
God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het. Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem. – Kolossense 2:13–14
Wanneer iemand ons te na kom, mag ons hierdie persoon vergewe, maar ons sukkel gewoonlik om van die vergryp teen ons te vergeet. En indien iemand herhaaldelik dieselfde dinge bly doen waarvoor ons hom reeds vergewe het, gaan ons sekerlik daardie vergifnis in heroorweging neem! Gelukkig werk God se vergifnis nie so nie. Dit is elke keer onvoorwaardelik. Boonop sien God kans om ons weer en weer te vergewe en nooit weer aan ons vorige oortredings te dink nie. Die profeet Miga beskryf sy verwondering oor die wonder van God se vergifnis in Miga 7:18–19: “Wie is ’n God soos U? U vergewe sonde, U straf nie die sonde van dié wat uit u volk oorgebly het nie. U bly nie vir altyd kwaad nie, U betoon liefde. Hy sal ons weer genade betoon, Hy sal ons sonde tot niet maak, U sal al hulle sondes in die diepsee gooi.” Jy weet reeds dat jy hierdie soort vergifnis, soos God se genade, nooit kan verdien nie. Tog kry jy dit gratis elke keer as jy God daarom vra, omdat Jesus die skuldbewys van jóú sonde reeds vir goed weggeneem het deur dit aan sy kruis te
spyker. Moenie langer wag om God se vergifnis vir jou toe te eien nie.
Here God, ek staan ook verwonderd oor U onvoorwaardelike vergifnis vir my sonde wat U elke keer bereid is om in die diepsee te gooi. Help my om soos U te kan vergewe. Amen.
8 September – Jesus, ons Middelaar
8 SEPTEMBER
Lees: Hebreërs 9:15–22
Jesus, ons Middelaar
Daarom is Hy ook die Middelaar van ’n nuwe verbond. Sy dood het plaasgevind om mense te verlos van die oortredinge wat onder die eerste verbond begaan is, sodat dié wat geroep is, die beloofde ewige erfenis kan ontvang. – Hebreërs 9:15
Die nuwe verbond in Christus word hier teenoor die ou verbond van die Levitiese priesters gestel. In die ou verbond moes die hoëpriester herhaaldelik sondevergifnis vir die volk bewerkstellig deur die hei-ligdom met die bloed van diere binne te gaan. In Jesus se nuwe verbond bewerk Hy deur sy eie bloed vir ons ’n ewige, eenmalige redding. Dit hoef dus nie oor en oor herhaal te word nie. “Jesus is van ewigheid tot ewigheid ons Verlosser,” skryf Johan Cilliers. “Alles wat ons oor Hom kan sê het te make met sy verlossingswerk.”* Ons aanbid ’n God wat altyd bereid is om ’n streep deur ons sonde te trek en ons toelaat om telkens nuut, met ’n skoon bladsy, te begin. As jy in Jesus glo, mag jy seker weet dat jou sondige verlede deur geloof in Hom uitgewis is. Hy het vir my en jou ’n volkome verlossing bewerk aan die kruis. Die Griekse woord wat in ons kernvers met “verlos” vertaal word, is gebruik vir die vrylating van ’n slaaf of iemand wat ter dood veroordeel is. Martin Luther het gesê dat Jesus met die instelling van die nagmaal eintlik ’n “testament” opgestel het. Wanneer Hy aan die kruis uitroep “Dit is volbring!”, tree hierdie testament onmiddellik in
werking. As ons Middelaar wat sy lewe vir ons prysgee, waarborg Hy só vir jou en vir my volkome vrymaking van sonde.
Hemelse Vader, dankie dat U u Seun as Offerlam gegee het om my vir altyd van sonde vry te maak. Amen.
* J Cilliers, So glo ons, p 192
9 September – Jesus, die Offerlam
9 SEPTEMBER
Lees: Romeine 3:21–26
Jesus, die Offerlam
Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe … Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo. – Romeine 3:25–26
“God het Jesus soos ’n offerlam laat slag vir al ons sondes,” lui Romeine 3:25 in Die Boodskap se vertaling. Omdat Hy óns so liefhet en nie wil hê dat ons verlore moet gaan nie, stuur God sy enigste Seun na die wêreld as Offerlam vir my en jou sonde. Al wat ons hoef te doen om verlossing te ontvang, is om in Jesus te glo. Hy het reeds aan God se eise voldoen deurdat sy bloed aan die kruis gevloei het sodat God nou gewillig is om jou sonde te vergewe. Maar Jesus doen nog veel meer: Hy is gedurig besig om vir ons sondes voor God in te tree. Alhoewel Jesus net één maal geoffer is om ons sondes weg te neem, sal Hy tog eendag weer kom. “As Hy die tweede keer verskyn, kom Hy nie in verband met sonde nie, maar om verlos-sing te bring vir dié wat Hom verwag,” getuig die Hebreërskrywer (Hebreërs 9:28). Met Jesus se wederkoms sal jou verlossing finaal afgerond word. Daarna mag jy nou al reeds reikhalsend uitsien! “Jesus se offer is die begin van ons verlossing, maar die voortgang en die
afronding daarvan word verseker deurdat Hy vir altyd lewe om vir ons by God in te tree. Dit sluit in dat Hy ons saak voortdurend voor God stel. Ons Hoëpriester het ’n permanente aanstel-ling,” skryf Andrie du Toit.*
Here Jesus, ek aanbid U as die Offerlam wat vir my sondes gesterf het, en eendag weer sal kom om my verlossing af te rond. Amen.
* A du Toit, Hebreërs vir vandag, p 123
10 September – Die geboorte van die Verlosser word aangekondig
10 SEPTEMBER
Lees: Lukas 2:8–20
Die geboorte van die Verlosser word aangekondig
Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!” – Lukas 2:10–11
Dit is ’n klein groepie skaapwagters wat besig is om in die nag hul skape op te pas wat heel eerste die aankondiging van die Verlosser wat gebore is, hoor. Hulle moes vreeslik bang gewees het toe daar skielik ’n helder lig om hulle skyn, maar die engelboodskapper stel hulle dadelik gerus: dit is nie nodig om bang te wees nie, sê hy. Die boodskap wat hy kom aflewer, is ’n goeie tyding van groot blydskap vir die hele volk. Die beloofde Verlosser waarvoor Israel so lank gewag het, is daardie nag in die stad van Dawid gebore, en hulle sal Hom in Betlehem kry waar Hy in ’n krip lê, toegedraai in doeke. Toe die engel klaar gepraat het, sluit daar ’n groot engelkoor by hom aan wat God se eer besing. Die skaapwagters is dadelik Betlehem toe, waar hulle inderdaad die kindjie in die krip en sy ouers aantref, net soos die engel gesê het. Elke Kersfees sedertdien vier óns fees oor die geboorte van die Verlosser, kom ons opnuut onder die indruk van die omvang van God se liefde vir ons; dat Hy bereid was om sy Seun prys te gee sodat óns sonde vergewe kan word. Jy hoef ook nie tot Kersfees te
wag om Hom hiervoor te loof nie – jy kan dit sommer nou doen!
Here God, ek loof en eer U dat U vir Jesus gestuur het sodat ek Hom as mý Verlosser kon leer ken. Amen.
11 September – Verlossing kom deur geloof
11 SEPTEMBER
Lees: Romeine 10:5–12
Verlossing kom deur geloof
Nee, die verlossing wat joune word deurdat jy glo – en dit is juis hierdie boodskap wat ons verkondig – is sommer hier by jou … Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. – Romeine 10:8–9 (Nuwe Lewende Vertaling)
Toe die bekende prediker en skrywer Murray Janson kort voor sy dood gevra is wat die één ding was wat sin aan sy lewe en bedie-ning gegee het, het hy dadelik geantwoord: “Dat ons in Christus vrygespreek en verlos is.” Paulus verduidelik in vandag se kernverse op ’n praktiese manier aan die gemeente in Rome hoedat hulle God se vryspraak deur die geloof kan verkry. Al wat nodig is, is om hul sonde te bely en in Jesus te glo. Dit is die enigste voorwaarde vir hul redding. Dieselfde geld vir jou: die enigste ding wat jý hoef te doen om hierdie verlossing jou eie te maak, is om vir God van elke sonde in jou lewe te vertel, dit voor Hom te bely en dan te glo dat Hy dit sal vergewe. Die blote feit dat jy in Jesus glo, dat jy glo dat Hy jou deur sy kruisdood van jou sonde verlos het, dat Hy spesiaal na die wêreld gekom het sodat almal wat in Hom glo van hul sondes verlos kan word, gee immers elke dag sin en betekenis aan jou eie lewe. Dát jy deur die tussenkoms van Jesus, God se Offerlam, van jou sonde
vrygespreek en verlos is, mag jy maar glo! Jy mag elke dag vanuit hierdie sekerheid leef.
Here Jesus, ek glo met my hele hart dat U my Verlosser is. Dankie dat ek nou die sekerheid mag hê dat U my vrygekoop het. Amen.
12 September – Verlossing en versoening
12 SEPTEMBER
Lees: Kolossense 1:14–20
Verlossing en versoening
Deur die Seun het ons die verlossing verkry, die vergewing van ons sondes … Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen. – Kolossense 1:14, 20
Alle mense is in die mag van die Bose van hul geboorteuur af. Verlossing uit ons aangebore sondige toestand word alleenlik deur Jesus se kruisdood verkry. Dit kon op geen ander manier in werking gestel word nie. Jesus moes sterf, sy bloed moes aan die kruis vloei voordat God gewillig was om my en jou sonde te vergewe. Die woord wat in vandag se kernvers met “verlossing” vertaal is, dui op die betaling van ’n som geld om iemand se vryheid te koop. Jesus betaal met sy lewe om sondaars los te koop uit die mag van die Bose. Kolossense 1:15–19 is ’n jubelende lofsang oor daardie Verlos-ser wat gewillig was om sy lewe prys te gee sodat sondaars God se kinders kan word. Hy is die beeld van God, deur Hom en vir Hom is alles geskep. Voor alles was Hy al daar en deur Hom bly alles in stand. God het met sy volle wese in Hom kom woon, skryf Paulus aan die gemeente in Kolossense. En dit is nie al nie. Jesus se kruisdood was ook vir jou. Deur sy dood versoen
Jesus jou met Homself. Hy sterf aan die kruis in jou plek, Hy dra jou sonde in sy liggaam sodat jý van sonde verlos kan word, sodat jý vrede met God kan hê en sodat jý met God versoen kan word.
Here Jesus, ek loof U dat U gewillig was om my vry te koop van sonde, dat U my met God versoen het, sodat ek nou as u verloste kind mag lewe. Amen.
13 September – ’n Verloste mens is ’n nuwe skepsel
13 SEPTEMBER
Lees: 2 Korintiërs 5:16–21
’n Verloste mens is ’n nuwe skepsel
Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toe-vertrou. – 2 Korintiërs 5:17–18
CS Lewis vertel in een van sy boeke dat God mens geword het, nie om skepsels in kinders te verander nie; nie net om beter mense van die ou soort voort te bring nie, maar om ’n heel nuwe soort mens voort te bring. In vandag se kernvers stem Paulus met hom saam: as jy aan Christus behoort, ís jy ’n nuwe mens omdat God jou deur Jesus met Homself versoen het. Ons weet reeds dat verlossing nie bloot beteken om ’n nuwe blaadjie om te slaan nie, maar dat verloste mense ’n nuwe lewe ontvang, totaal nuwe skepsels word. “Die oue is verby, die nuwe het gekom,” getuig Paulus in 2 Korintiërs 5:17. Sodra jy verlos is, sal die Heilige Gees jou wys op al die verkeerde dinge wat jy in die verlede gedoen het en van jou verwag om hulle nie meer te doen nie. Indien jy in Jesus glo, is jy reeds ’n nuwe mens. Hierdie nuwe lewe geld nou reeds hier op aarde, maar dit beteken ook dat jy eendag die ewige lewe sal ontvang. Ná jou dood sal jy vir altyd saam met God in die hemel wees. Van nou af behoort jy soos ’n nuwe mens te begin lééf deur die dinge te doen wat vir jou
in die Bybel voorgeskryf word. Sien jy kans?
Hemelse Vader, baie dankie dat U my deur Jesus met Uself versoen het, sodat ek nou ’n totaal nuwe skepsel mag wees. Help my asseblief om van nou af ook nuut te leef. Amen.
14 September – Leef soos ’n verloste!
14 SEPTEMBER
Lees: Filippense 2:12–18
Leef soos ’n verloste!
Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer. – Filippense 2:12–13
In die gemeente van Filippi was daar baie mense wat na Paulus se boodskap geluister en in Jesus geglo het. Paulus het vroeër vir ’n lang ruk tussen hulle gewerk en hulle altyd geloof vir hul gehoorsaamheid. Ná tien jaar skryf hy nou aan die gemeente dat hulle hulle daarop moet toelê om, nadat hulle tot bekering gekom het, soos verloste mense te leef. Hy gaan dan voort om hulle presies te vertel hoe hulle dit kan regkry:
• “Doen alles sonder kla of teëpraat” (vers 14).
• “Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense” (vers 15).
• “Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe uit te dra” (vers 15–16).
Hy gaan voort om die gemeente van Filippi dit op die hart te druk dat hul geloof ’n offer in diens van God is. Wanneer jy tot bekering kom, is alles nog nie afgehandel nie. God se verlossingswerk in jou is nog nie klaar nie. Nou moet jy gaan lééf soos iemand wat verlos is. Indien jy graag as ’n verloste mens wil leef, kan jy jou daarop toespits om hierdie riglyne van Paulus te gehoorsaam. Indien jy hiervoor kans sien, beloof God om jou gewillig én bekwaam te maak om sy wil uit te voer.
Here Jesus, ek bid dat U my die vermoë sal gee om in die vervolg soos U kind te leef deur met my dade te bewys dat ek aan U behoort. Maak my asseblief gewillig én bekwaam om u wil te doen. Amen.
15 September – Een met God en met mekaar
15 SEPTEMBER
Lees: Johannes 17:11, 17–23
Een met God en met mekaar
“Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.” – Johannes 17:21
Wanneer Jesus sy hoëpriesterlike gebed bid, vra Hy sy Vader om sy volgelinge één te maak, soos Hy en sy Vader Een is. In een van haar boeke spel die Amerikaanse skrywer Madeleine L’Engle die woord atonement (verlossing) as “at-one-ment”. En dit is presies wat verlossing beteken: om één met God te wees. Jesus lê klem op sy eenheid met sy Vader en vra dat ons as sy kinders ook één sal wees. Hierdie onderlinge eenheid het ’n invloed op die manier waarna ons na dinge kyk: boeke, mense, simbole. Dit beïnvloed ook die manier waarna ons na die kruis van Jesus kyk op ’n radikale manier, skryf sy.* Een met God beteken dat jy soos Jesus sal wees, net so naby God sal leef soos Hy. Maar Jesus bid ook dat Christene een met mekáár sal wees. Hierdie eenheid behoort in die dinge wat ons doen, gesien te kan word. Ander mense behoort te kan sien dat ons saamstem oor die dinge waarop dit werklik neerkom; dat ons bereid is om te vergeet van al die dinge wat ons tot nou toe uitmekaar gedryf het. Dat ons nie langer op dinge soos dogmatiese verskille sal fokus nie, maar eerder op ons eenheid in Christus sal konsentreer. Sodat ál God se kinders hier op aarde
een van denke, wil en optrede sal wees. Eers dán sal God in jou lewe verheerlik word.
Here Jesus, help my om so te leef dat ek één met U sal wees. Maak my ook bereid om een met my medegelowiges te wees en van al ons verskille te vergeet. Amen.
* M L’Engle, Glimpses of grace, p 67
16 September – Kry deel aan God se heerlikheid
16 SEPTEMBER
Lees: Johannes 17:22–26
Kry deel aan God se heerlikheid
“Die heerlikheid wat U My gegee het, het Ek ook aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees net soos Ons Een is … Vader, Ek wil graag hê dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook by My moet wees, sodat hulle my heerlikheid kan sien, die heerlikheid wat U My gegee het omdat U My al voor die skepping van die wêreld liefgehad het.” – Johannes 17:22, 24
Verlossing het nóg ’n wonderlike pluspunt. Dit beteken nie net dat God ons van ons sonde vrygemaak het nie, maar dit laat ons boonop in God se heerlikheid deel. Wanneer Hy vir sy dissipels bid, getuig Jesus dat Hy die heerlikheid wat Hy van sy Vader ontvang het, ook met sy kinders wil deel. Dit beteken dat ander mense ook in elke gelowige die teenwoordigheid van God sal kan raaksien. “Hulle is die kinders van God en juis daarin lê hulle mag en heerlikheid … ’n Christen is nie belangrik op grond van wie hy of sy is nie, maar op grond van wat God hom of haar gemaak het,” verduidelik Die Bybellennium.* Dit is ’n formidabele gedagte dat Jesus die heerlikheid wat God aan Hom gegee het, met jou wil deel nadat Hy jou van sonde verlos het! Dit gaan van jou vra om só te leef dat mense wat nie Christene is nie, in jou God se teenwoordigheid sal kan raaksien. Om te alle tye so op te tree dat jy God se riglyne in sy Woord sal gehoorsaam. Vra Hom om dit vir jou moontlik te maak.
Here Jesus, dis wonderlik dat U my nou reeds in u heerlikheid wil laat deel! Sal U my asseblief help om te leef soos U van my verlang. Amen.
* FJ van Rensburg en M Nel, Die Bybellennium, p 1 624
17 September – Jesus verlos eens en vir altyd
17 SEPTEMBER
Lees: Hebreërs 7:20–28
Jesus verlos eens en vir altyd
Omdat Jesus vir ewig bly, beklee Hý ’n priesterskap wat nie op ’n ander oorgedra word nie. Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree. – Hebreërs 7:24–25
Omdat die priesters van die Ou Testament nie by magte was om die volk effektief en eenmalig van hul sonde vry te spreek nie, was daar ’n ánder Priester nodig. ’n Middelaar wat tussen hul en God kon staan om hulle eens en vir altyd van hulle sonde vry te maak. Eers in die Nuwe Testament ontmoet ons Iemand wat by magte is om dit reg te kry. Jesus is die enigste Persoon wat hiervoor kwalifiseer. Wanneer Hy vir ons sonde aan die kruis sterf, maak Hy dit nie net vir ons moontlik om deur Hom na God te gaan nie, maar verlos Hy ons eens en vir altyd van al ons sonde. Ná sy hemelvaart gaan Hy terug na sy Vader toe, waar Hy steeds vir ons by God intree. “Christus het die pad na God eens en vir altyd oopgemaak. Geen ander priester of enige verdere verlossing is noodsaaklik nie. Omdat Hy die ewige en volmaakte Hoëpriester is wat heilig en onbevlek deur die sonde is, was dit nie vir Hom nodig om daagliks vir sy eie sonde te offer nie, en hoef sy volmaakte offer nooit herhaal te word nie,” verduidelik Die Bybellennium.*
Christus is die enigste Verlosser wie se verlossing vir altyd aanhou, skryf Malcolm Muggeridge.** As jy in Hom glo, is jou sonde vergewe – eens en vir altyd!
Here Jesus, ek loof U dat U my eens en vir altyd van my sonde verlos het. Dankie dat U steeds vir my by God intree. Amen.
* Ibid., p 2 019 ** Aangehaal in N Smit, Die groot boek van Christelike aanhalings, Volume 2, p 595
18 September – Verlostes is ambassadeurs
18 SEPTEMBER
Lees: 2 Korintiërs 5:14–21
Verlostes is ambassadeurs
Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou. Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ’n beroep op julle doen. – 2 Korintiërs 5:19–20
God verander sy sondelose Seun aan die kruis in ’n sondaar; Hy laai óns sonde op Jesus se skouers sodat ons daarvan verlos kan word. Omdat Hy gewillig was om ons sondes aan die kruis te dra, is sy offer voldoende om almal wat in Hom glo, vir altyd van hul sondejuk te bevry, genoeg om vir altyd versoening tussen ons en God te bewerk, genoeg om vir altyd vrede tussen ons en God te verseker. Hierdie boodskap is vandag aan jou persoonlik gerig. God het deur Jesus almal wat in Hom glo, met Homself versoen – ook vir jou! Aan die kruis neem Jesus al jou sondes op Hom, sodat God jou nou nie langer daarvoor verantwoordelik hou nie. God het die boodskap van versoening aan elkeen van sy kinders toevertrou, en hierdie wonderlike boodskap mag jy nie vir jouself hou nie, maar jy behoort dit uit te dra, sodat jy op jou beurt ook ’n bedienaar van die versoening kan word.
Almal wat verlos is, moet nou as God se “gesante”, sy ambassadeurs, optree, skryf Paulus in ons kernvers. Ambassadeurs is verteenwoordigers van dié mense wat hulle gestuur het. Leef só dat jy in alles wat jy doen ’n waardige ambassadeur vir God sal wees op die plek waar Hy jou geplaas het.
Here, dankie dat U my as u ambassadeur aangestel het. Maak my ’n waardige verteenwoordiger van U op die wêreld. Amen.
19 September – Jy mag nie stilbly nie!
19 SEPTEMBER
Lees: Handelinge 4:13–21
Jy mag nie stilbly nie!
Daarna het die Raad die apostels weer laat inkom en hulle beveel om glad nie verder in die Naam van Jesus iets te verkondig of te leer nie. Maar Petrus en Johannes het vir hulle gesê: “Julle moet maar self besluit wat voor God reg is: om aan júlle gehoorsaam te wees of aan God. Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.” – Handelinge 4:18–20
Jy mag die wonderlike boodskap van verlossing nie vir jouself hou nie. Ons is nooit beter as mense wat nog nie verlos is nie. Ons is en bly verloste sondaars. Ons is bedelaars wat vir ander bedelaars kan en moet gaan vertel waar ons Brood gekry het, skryf Karl Barth.* “Dit is die goeie nuus, die evangelie, God het ons sonder ’n greintjie verdienste van ons kant af verlos. Radikaal, totaal, geheel en al. Hierdie verlossingswerk het God se hart uit Hom geruk. Dit het die dood van sy Seun gekos,” is Johan Cilliers se bydrae.** Aan die kruis maak God sy Seun, wat geen sonde geken het nie, tot sonde, sodat ek en jy verlos kan word. Aan die kruis dra die sondelose Jesus die hele wêreld se sonde op sy skouers sodat God ons sonde kan vergewe, sodat ek en jy eendag vir altyd kan lewe. En daaroor mág jy nie stilbly nie. Soos Petrus en Johannes, moet die boodskap van verlossing jou dring om daaroor te praat, om dit uit te dra aan almal wat nog nie daarvan gehoor het nie. Meer nog, dit behoort vir jou
onmoontlik te wees om daaroor stil te bly! Is dit al waar van jou?
Here, vergewe my dat ek soms nog stilbly oor u boodskap. Maak dit vir my onmoontlik om daaroor te swyg. Amen.
* K Barth ** J Cilliers, Vandag is gister se môre, p 44
20 September – Jesus breek die sondemag
20 SEPTEMBER
Lees: Romeine 6:1–11
Jesus breek die sondemag
Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie. Iemand wat gesterf het, is immers vry van die mag van die sonde. – Romeine 6:6–7
Jesus het nog veel méér aan die kruis gedoen as om ons bloot van ons sondes te verlos. Hy het die mag wat sonde vanaf ons geboorte oor ons gehad het, kom verbreek; Hy het die tronkdeur van die sondesel waarin ons opgesluit was, oopgesluit. Ons is dus nou nie langer slawe van die sonde nie, maar vry mense, verlostes! Deur sy Heilige Gees wat in ons woon, is ons nou in staat om die sondige bestaan van vroeër vaarwel te roep, soos sy kinders te lewe en deur sy krag elke dag as oorwinnaars uit die stryd teen die Bose te tree. Paulus skryf tereg: “… ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe” (Galasiërs 2:19–20). As jy verlos is, is jy dood vir die sonde, maar leef jy vir God. Dit is wat verlossing vir jou gedoen het. Meer nog, as jy deur Jesus verlos is, behoort jy nie meer te leef nie, maar Jesus moet in jou leef. “Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te leef soos Jesus gelewe het,” skryf Johannes tereg (1 Johannes
2:6). Is dit al waar van jou?
Here Jesus, ek loof U dat U my verlos het uit die tronk van sonde waarin ek toegesluit was, dat U die mag wat die sonde oor my gehad het, vir altyd kom verbreek het. Help my om van nou af te leef soos U geleef het. Amen.
21 September – Kennis van die sonde
21 SEPTEMBER
Lees: Johannes 8:32–47
Kennis van die sonde
“Dít verseker Ek julle: Elkeen wat sonde doen, is ’n slaaf van die sonde … Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees … Wie ’n kind van God is, luister na die woorde van God.” – Johannes 8:34, 36, 47
In Johannes 8 word daar ’n hofsaak gehou oor die identiteit van Jesus. As mense sy woorde gehoorsaam en in Hom bly, sal hulle weet watter dinge vir God reg is en watter verkeerd, sê Hy. Die Jode verstaan Jesus weer soos gewoonlik verkeerd. Húlle meen dat Hy hier van aardse slawerny en vryheid praat, terwyl Hy geestelike vryheid bedoel. Jesus vertel hulle dat hulle net waarlik vry kan wees as die Seun hulle vrygemaak het. Jy sal egter nie weet wat jy nodig het om verlos te word van jou sonde as jy nie jou Bybel op ’n gereelde basis bestudeer nie. Jou Bybel gee vir jou die kennis van die sonde, deur jou te wys wat reg en wat verkeerd is. Jy ontdek ook dat jy nooit uit jou eie by God kan uitkom nie, omdat daar ’n onoorbrugbare afgrond tussen sondaarmense en ’n heilige God is. Hierdie afgrond kan slégs deur die kruis van Jesus oorbrug word. Eers wanneer Jesus jóú vrygemaak het deur aan jou die ewige lewe te gee, sal jy ontdek wat ware vryheid bete-ken. Hierdie vryheid is joune as jy in Hom glo. Nou is jy nie meer ’n slaaf van die sonde nie, maar ’n losgekoopte kind van God, deel van sy huisgesin vir altyd.
Here Jesus, leer my deur u Woord wat U van my verwag, sodat ek sal kan weet watter dinge vir U reg en watter verkeerd is. Dankie dat U my vrygemaak het sodat ek waarlik vry kan wees. Amen.
22 September – Sê nee vir jou sondige begeertes!
22 SEPTEMBER
Lees: Romeine 6:12–20
Sê nee vir jou sondige begeertes!
Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie … stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil. – Romeine 6:12–13
Die “begeertes” waarvan Paulus in vandag se kernvers praat, is daardie dinge wat sorg dat die sonde (ja, ook al ís jy verlos!) oor jou lewe bly baasspeel. En jy mag dit nie toelaat nie. Jy mag nie langer hierdie dinge doen wat jou natuurlike geaardheid vir jou voorskryf nie. Jy onthou mos dat jy nou bevry is uit die tronk van die sonde? Nou moet jy soos ’n vry mens leef vir die res van jou lewe. “Bevry uit die tronk van die sonde, moet jy ook nou die tronklewe en die tronksonde agter jou laat,” skryf Die Bybellennium. “Jy hoef nie meer die tronkbewaar-der te gehoorsaam nie … Waarom sou jy dit toelaat?”* Ná jou verlossing is jy nou wel nie langer ’n sondeslaaf, ’n gevangene van die sonde nie, maar dit wil ook nie sê dat dit vir jou máklik gaan wees om soos ’n verloste te leef nie. God se kinders is steeds op aarde in ’n oorlog teen die Bose gewikkel. Maar dit is gelukkig nie langer ’n hopelose oorlog nie. Met God se krag en wapenrusting (gaan lees meer daaroor in Efesiërs 6:10–17) sal jy dit kan regkry om altyd aan die wenkant te wees in hierdie oorlog; meer nog, om méér
as ’n oorwinnaar te wees deur God wat jou krag gee.
Here God, ek wil nou elke deel van my in u diens stel om u wil te doen. Help my om nee te sê vir my sondige begeertes. Amen.
* FJ van Rensburg en M Nel, Die Bybellennium, p 1 753
23 September – Vergifnis ná verlossing
23 SEPTEMBER
Lees: 1 Johannes 1:5–2:6
Vergifnis ná verlossing
As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. – 1 Johannes 1:8–9
Johannes praat hier van mense wat reeds “deel het aan Christus”, dit wil sê van verloste mense. Ten spyte van die feit dát ons verlos is, doen ons tog nog sonde. In 1 Timoteus 1:15 skryf Paulus: “Dit is ’n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste.” Hy maak hierdie uitspraak lank nádat hy tot beke-ring gekom het. Dit is ’n gegewe dat verloste mense steeds sonde doen en dus nog altyd God se vergifnis nodig het. Jou sonde ís vergewe, jou verlos-sing is volmaak, maar jy het baie werk vorentoe. Al het Jesus volkome versoening tussen jou en God bewerk en al hou Hy nou nie meer jou vorige oortredings teen jou nie, moet jy steeds jou sonde bely sodra die Heilige Gees jou daarvan bewus maak. Jesus is nog altyd die versoening vir jou sondes, staan daar in 1 Johannes 2:2. God sál steeds jou sonde vergewe, ook nadat jy verlos is, belowe ons kernvers van vandag. Almal van ons val soms terug, maar dan kan ons ons maar net weer op
God se genade beroep: Hy is getrou en regverdig om jou hierdie sonde te vergewe en jou (weer ’n keer!) van alle ongeregtigheid te reinig. Onthou om vir Hom daarvoor dankie te sê.
Hemelse Vader, baie dankie dat U ook ná my verlossing elke keer getrou en regverdig is om my sonde te vergewe en my te reinig. Amen
24 September – Tempels van die Heilige Gees
24 SEPTEMBER
Lees: 1 Korintiërs 6:15–20
Tempels van die Heilige Gees
Of besef julle nie dat julle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik. – 1 Korintiërs 6:19–20
Verloste mense behoort nie meer aan hulself nie, hulle is tempels van die Heilige Gees, skryf Paulus aan die gemeente in Korinte. Dit beteken dat Christene seksuele sondes behoort te vermy. Die meeste van die dinge wat in die Bybel as verkeerd geoormerk is, is volgens ons hedendaagse samelewing heeltemal in orde, omdat “almal” dit doen. Ons sien aand vir aand op die televisie in gesins-programme hoe sepiesterre saamwoon en saamslaap. Ons kinders word dus groot met die idee dat dit heeltemal toelaatbaar is. Selfs idee sommige predikante verklaar dat hulle niks verkeerds daarmee sien as verloofde paartjies saamwoon voordat hulle trou nie. As jy seker is van jou verlossing, is jy ’n tempel van die Heilige Gees. Deur sy Gees woon God in jou, en daarom behoort jy Hom in jou liggaam te verheerlik. “Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie? As iemand die tempel van God beskadig, sal God hom straf, want die
tempel van God is heilig, en die tempel is julle,” waarsku Paulus in 1 Korintiërs 3:16–17. Enige tipe seksuele losbandigheid is sonde teen jou eie liggaam. Bly dus weg daarvan en gebruik jou liggaam om God te verheerlik.
Hemelse Vader, ek besef nou dat my liggaam u tempel is. Help my om heilig te leef sodat ek U in my liggaam sal verheerlik. Amen.
25 September – Sekerheid van jou verlossing
25 SEPTEMBER
Lees: Romeine 8:14–17
Sekerheid van jou verlossing
Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. – Romeine 8:14–16
Jy is van jou sonde verlos. Jy wéét dat jy God se kind is. Maar tog twyfel jy nog soms; is jy nie altyd dóódseker van jou verlossing nie. Die Heilige Gees wat in jou woon, oortuig jou egter dat jy God se kind is wanneer jy twyfel. “Die Gees oortuig ons diep in ons binneste dat ons regtig God se kinders is,” lui Die Boodskap se weergawe van Romeine 8:16. Nou kan jy God voluit dien omdat jy nie langer ’n sondeslaaf is nie, maar ’n kind van die Vader wat in ’n persoonlike verhouding met Hom staan, en weet jy dat jou lewe skoon van sonde is. Die beste is dat jy nie net ’n kind van God is nie, maar ook sy erfgenaam wat eendag in sy heerlikheid gaan deel. Die Gees maak boonop God se genadetroon vir jou volkome toeganklik. “… laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ’n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water,” getuig die Hebreërskrywer (Hebreërs 10:22). Omdat jy die Heilige Gees
in jou lewe het, mag jy elke dag leef met die seker wete dat jy aan God behoort – vir altyd!
Heilige Gees, ek loof U dat U vir my geloofsekerheid gee en dit vir my moontlik maak om in ’n persoonlike verhouding met God te staan. Amen.
26 September – Almal deel in die verlossing
26 SEPTEMBER
Lees: Jesaja 51:1–11
Almal deel in die verlossing
Die redding wat Ek bring, kom baie gou, die verlossing wat Ek bewerk, is op pad … die verlossing wat Ek bewerk, sal vir altyd wees, die redding wat Ek bring, sal altyd bly … die verlossing wat Ek bewerk, sal daar wees vir elke geslag. – Jesaja 51:5–6, 8
By monde van die profeet Jesaja belowe God aan sy volk dat Hy vir hulle in die toekoms ’n verlossing sal bewerk wat vir altyd sal bly. En dan voeg Hy daarby dat hierdie verlossing vir élke geslag daar sal wees. In die Ou Testament het God Israel uitgekies as dié volk wat Hy spesiaal vir Hom opsy gesit het. Húlle moes vir die res van die destydse wêreld leer wat verlossing beteken. Maar daar was baie van hulle wat hierdie verlossing nie wou aanvaar nie. In die Nuwe Testament, as Hy Jesus na die wêreld stuur om sondaars te red, gooi God die hekke van verlossing wyd oop vir almal. Calvyn skryf: “Omdat geen mens daarvan uitgesluit is om tot God te roep nie, staan die hekke van verlossing oop vir almal. Daar is niks wat ons kan verhinder om in te gaan nie, behalwe ons eie ongeloof.”* Dit is dus net jou eie ongeloof wat jou verhinder om gered te word. Moenie langer aarsel om Jesus se uitnodiging aan te neem en in Hom te glo nie – slegs hulle wat in Hom glo, is kandidate vir verlossing omdat Hy steeds die enigste
Verlosser bly. Net Jesus kan verlossing vir jou moontlik maak; net deur sy kruisdood word dit verdien en net deur geloof in Hom kan jy verlos word. Al wat eintlik nodig is vir jou verlossing, is geloof in God.
Here Jesus, hoe goed is U dat almal in u verlossing kan deel! Dankie dat ek reeds u aanbod kon aanvaar. Amen.
* Calvyn aangehaal in skrywer
27 September – Die ewige lewe as ’n geskenk
27 SEPTEMBER
Lees: Romeine 6:19–23
Die ewige lewe as ’n geskenk
Maar nou – julle is vrygemaak van die sonde en in diens van God gestel … en die uiteinde is die ewige lewe. Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here. – Romeine 6:22–23
Slawe van die sonde is almal op pad na die dood. Want die uiteinde van ’n sondaar is altyd die ewige dood. En almal van ons is op hierdie pad onderweg voordat ons deur geloof in Jesus verlos word. As jy nog nie verlos is nie, is die ewige dood dus jou voorland! Gelukkig is verloste mense vrygemaak van die sonde en in diens van God gestel, skryf Paulus aan die gemeente in Rome. Verloste mense staan in diens van God. Hulle gehoorsaam die riglyne in God se Woord. Boonop gee God aan hulle die ewige lewe as ’n geskenk. Die goeie nuus is dat jy nie tot eendag ná jou dood hoef te wag om hierdie geskenk in ontvangs te neem nie, dit is nou reeds joune. In 1 Johannes 5:12 beloof Johannes: “Wie die Seun het, het die lewe,” maar waarsku Hy terselfdertyd: “… wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie.” As jy verlos is van die sonde, kry jy ’n hele klomp dinge daarmee saam: jy is
vrygemaak, volledig in God se diens gestel, nou is dit vir jou moontlik om heilig te lewe en die ewige lewe is rééds joune! Indien jy in Jesus glo, kan jy vandag reeds met vertroue begin om te leef soos iemand wat reeds die ewige lewe hét.
Here Jesus, U het my van die sonde vrygemaak en in diens van God gestel. Baie dankie dat ek vandag reeds u groot geskenk van die ewige lewe in ontvangs mag neem! Amen.
28 September – Vry om vrugbaar te lewe
28 SEPTEMBER
Lees: Romeine 7:1–6
Vry om vrugbaar te lewe
Deur julle verbondenheid met die liggaam van Christus het julle ge-sterwe en staan julle nie meer onder die wet nie. Julle behoort nou aan iemand anders, aan Hom wat uit die dood opgewek is. Daarom moet ons nou ’n vrugbare lewe lei in diens van God. – Romeine 7:4
Ons het reeds gehoor dat verloste mense nuwe mense is. Deur Christus is ons nou vry van die kettings van die wet, vry om nuut te leef as besitters van die ewige lewe. Vry om van nou af ’n vrugbare lewe in diens van God te lei. Paulus verduidelik hierdie vryheid van die wet deur dit met ’n huwelik te vergelyk. In hierdie huwelik is jy die vrou, terwyl die wet die man is, skryf Die Bybellennium.* Aan die begin van die huwelik word jy deur die wet gevange gehou en word jou hele lewe daardeur gereël. Net die dood kan jou vrymaak. Jesus het namens jou aan die kruis gesterf en jou so van die bande van die wet bevry. Hy het ook namens jou uit die dood opgestaan, sodat jy nou ’n nuwe, vrugbare lewe in diens van God kan lei. Van nou af behoort jy vir Hom diensbaar te wees en Hom te gehoorsaam. En nou kan jy dit met vreugde doen, nie meer omdat jy deur die wet daartoe gedwing word nie, maar uit dankbaarheid vir jou verlossing. Nou word jy deur God se liefde gedring. Vra God se Gees om jou Self te lei en jou te leer hoe jy in die
vervolg ’n vrugbare lewe in diens van God kan lei.
Here Jesus, ek loof U dat U my vrygemaak het van die wet en ’n nuwe, vrugbare lewe in diens van God vir my moontlik gemaak het. Amen.
* FJ van Rensburg en M Nel, Die Bybellennium
29 September – Verlossing bring vrede
29 SEPTEMBER
Lees: Romeine 5:1–5
Verlossing bring vrede
God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. – Romeine 5:1
Sonder verlossing kan daar geen vrede wees nie. En vrede is die heelmaakwoord in die Bybel. Vrede beteken juis die heelmaak van verhoudings: die herstel van ons verhouding met God én ander mense. “Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen,” skryf Paulus aan die gemeente in Kolosse (Kolossense 1:20). Dit is juis waarom Jesus na die wêreld toe gekom het: om ons verhouding met God heel te maak, maar ook om sy kinders se onderlinge verhoudings met mekaar te herstel. Jesus is baie ernstig hieroor: as jy op pad is om te gaan offer en jy onthou dat daar onmin tussen jou en jou broer is, los jou offer en gaan maak eers vrede met jou broer, sê Hy in Matteus 5:24. As jy deur Jesus van jou sonde verlos is, is jy van sonde vrygespreek en is jy reeds met God versoen. Dan word jou verhoudings met alle ander mense ook positief daardeur geraak. Vrede met God verseker dat jy ook in vrede met ánder sal wil leef. Nou rus die onus op jou om vrede te maak waar daar nog onvrede in jou eie persoonlike verhoudings heers. Indien jy nog van gebroke verhoudings met gesins-lede, vriende of ander mense bewus is, het dit nou vir jou tyd geword
om hierdie verhoudings heel te maak. Bid eers hieroor en gaan praat dan met die betrokke persone.
Here Jesus, dankie dat U vrede tussen my en God kom maak het. Wys my asseblief hoe ek ook my gebroke verhoudings kan heelmaak. Amen.
30 September – Van aangesig tot aangesig met die Verlosser
30 SEPTEMBER
Lees: 1 Johannes 3:1–10
Van aangesig tot aangesig met die Verlosser
Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God. Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie, maar ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees. Ons sal Hom sien soos Hy werklik is. Elkeen wat hierdie verwagting in verband met Hom koester, hou homself rein soos Jesus rein is. – 1 Johannes 3:2–3
Johannes juig oor die feit dat hy ’n kind van God is en dat Jesus gekom het om ons van sonde te red. Hy onderstreep die belofte dat God se kinders Hom eendag van aangesig tot aangesig sal kan sien. “Ons sal Hom sien soos Hy werklik is,” skryf hy in vandag se kernvers. Duisende jare vóór Johannes het Job al dieselfde gesê: “Ek weet dat my Losser leef, uiteindelik sal Hy op die aarde triomfeer! … Ek sal Hóm sien, met my eie oë sal ek Hom sien,” roep hy uit in Job 19:25 en 27. Dis ’n wonderlike belofte waaraan al God se kinders kan vashou. Eendag sal ons van aangesig tot aangesig met Jesus ons Verlosser kom; ons sal Hom sien soos Hy werklik is. Dan sal ons net soos Hy wees en in sy heerlikheid deel. Maar omdat jy hierdie verwagting koester, behoort jy hier op aarde nou reeds ’n rein, sondelose lewe te lei. Wanneer dit weer baie sleg met jóú gaan, kan jy aan die belofte vashou dat jy eendag, nadat al jou aardse swaarkry verby is, jou Verlosser van aangesig tot aangesig met jou eie oë sal kan sien. Dit is so ’n wonderlike belofte dat jy jouself nou al reeds behoort voor te berei op die blye
dag van Jesus se wederkoms.
Here Jesus, ek sien reikhalsend uit na dié dag wanneer ek U uiteindelik met my eie oë sal kan sien. Help my om heilig te leef totdat dié dag aanbreek. Amen.
Gebed
Gebed
Here Jesus, my Verlosser, ek loof U vir u onverdiende genade vir my! Ek aanbid U as die Offerlam wat bereid was om vir my sonde aan die kruis te sterf sodat ek vir altyd daarvan verlos kan word. Ek glo met my hele hart dat U my Verlosser is, dat U my met God en ander mense versoen het, sodat ek nou ’n nuwe mens kan wees wat nuut kan leef. U het my uit die tronk van sonde verlos, die mag van die sonde oor my verbreek, en vrede tussen my en God bewerkstellig. Gee vir my die ywer om u verlossingsboodskap in die wêreld uit te dra. Here God, dankie dat U u Seun na die wêreld stuur sodat almal wat in Hom glo, eens en vir altyd verlos kan word; dat U my keer op keer onvoorwaardelik vergewe en nooit weer aan my sonde dink nie. Ek wil my nou daarop toelê om te lewe soos wat U van my vra – maak my gewillig en bekwaam om u wil te doen. Ek wil graag een met U én my medegelowiges wees en van al ons onderlinge verskille vergeet. Maak my u ambassadeur in die wêreld en help my om nee te sê vir my sondige begeertes. Ek loof U dat U my vrygemaak het van die kettings van die wet en my die geskenk van die ewige lewe gegee het. Dankie vir die belofte dat ek eendag in u heerlikheid sal kan deel en U van aangesig tot aangesig sal kan sien. Amen.
Oktober: Vrae waaroor vroue wonder
OKTOBER: VRAE WAAROOR VROUE WONDER
Daar is baie verskillende vrae waaroor vroue hul koppe breek – dinge wat met ons en om ons gebeur wat ons met die beste wil in die wêreld nie kan verstaan nie. Ons begryp onder andere nie waarom God soveel negatiewe dinge in die wêreld laat gebeur nie; hoekom Hy nie altyd ons gebedsversoeke verhoor nie; en hoekom Christene swaarkry terwyl dit vir ons lyk asof dit met ongelowiges net goed gaan. Ons sou ook graag wat weet wat van dié mense word wat nooit die kans gekry het om van God te hoor nie, hoe die hemel gaan lyk, of swaarkry God se wil is en hoe ons beter met ons kinders kan kommunikeer. Mense kan God nooit volkome ken nie. Die Bybel vertel ons wel Wie God is en wat Hy doen, maar ons sal nooit genoeg van Hom weet om al ons waarom-vrae te kan beantwoord nie. Tog wil ek hier-die maand probeer om te fokus op sommige van die vrae waar-oor die oorgrote meerderheid vroue bly wonder … Dalk kan ons saam antwoorde op die meeste daarvan probeer kry.
1 Oktober – Kan ek God volkome vertrou?
1 OKTOBER
Lees: 2 Korintiërs 1:3–11
Kan ek God volkome vertrou?
Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo ons kragte gegaan, sodat ons selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het … Maar dit het gebeur, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dooies opwek tot die lewe. – 2 Korintiërs 1:8–9
Juis omdat ons so dikwels deur mense teleurgestel word, kan ons soms nie anders as om te wonder of ons wel vir Gód volkome kan vertrou nie. Die antwoord op hierdie vraag is ’n klinkklare ja! Nie één mens wat op God vertrou het, is nog ooit teleurgestel nie, leer die Bybel ons. In die Ou-Testamentiese tyd het God sy volk telkens gered as hulle in gevaarsituasies op Hom vertrou het, en vandag sal Hy steeds dieselfde vir jou doen. 2 Kronieke 16:9 stel dit treffend: “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.” Op die oomblik is God besig om na die wêreld te kyk sodat Hy sy kinders wat op Hom vertrou, kan raaksien en hulle op presies die regte tyd kan help. Ook jy kan elke dag jou vertroue in God stel met die seker wete dat Hy absoluut getrou is, dat Hy nooit jou vertroue sal teleurstel nie. Hy is en bly altyd “die Een op wie jy jou lewe lank kan vertrou” (Jesaja 33:6). En hierdie feit beklemtoon Hy deur vir jou te wys dat swaarkrytye in jou lewe juis daar is sodat jy nie langer op jouself sal
vertrou nie, maar op God.
Hemelse Vader, soms huiwer ek om U te vertrou, omdat mense my al soveel kere teleurgestel het. Ek stel nou my vertroue in U, en glo dat U my altyd sal help. Amen.
2 Oktober – Hoe kry ek dit reg om te vergewe?
2 OKTOBER
Lees: Kolossense 3:12–17
Hoe kry ek dit reg om te vergewe?
Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. – Kolossense 3:13
Niemand kan in ’n verhouding staan sónder om die een of ander tyd in ’n situasie te beland waar jy die ander persoon moet vergewe nie. Wanneer Petrus by Jesus wil weet hoeveel keer hy mense moet vergewe wat hom te na kom, antwoord Jesus “sewentig maal sewe”. Met hierdie antwoord wil Hy vir Petrus leer dat ons vergifnis vir ander soos Syne vir ons behoort te wees, dit wil sê onbeperk en sonder voorwaardes. En dit is feitlik menslik onmoontlik om op hierdie manier te vergewe. Daar is egter ’n manier hoe jy dit (altyd met God se hulp) sal kan regkry om dié mense wat jou te na kom, te vergewe, en dit is om te fokus op al die kere in die verlede dat God bereid was om jóú sonde te vergewe. Sodra jy op God se vergifnis vir jou fokus, raak dit moontlik om ander mense te vergewe uit dankbaarheid aan Hom. Jesus waarsku in Matteus 6:14–15 dat wanneer ons ons vergifnis aan ander weier, God dalk ook sy vergifnis van ons mag weerhou. Wees dus bereid om weer en weer te vergewe soos God met jou doen. Vra die Here om dit vir jou
moontlik te maak om nie net te vergewe nie, maar om ook heeltemal te vergéét wat die ander persoon jou aangedoen het. Dit is een van die gebede wat God graag sal beantwoord!
Hemelse Vader, hoe goed is U nie, dat U telkens bereid is om my sonde te vergewe! Maak my ook bereid om te vergewe én te vergeet. Amen.
3 Oktober – Is dit verkeerd om belasting te ontduik?
3 OKTOBER
Lees: Matteus 22:15–22
Is dit verkeerd om belasting te ontduik?
Jesus sê vir hulle: “Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.” – Matteus 22:21
Ek ken niémand wat tevrede is met ons hoë belastingkoers nie! Baie mense, helaas ook sommige Christene, skroom nie om met hul belastingopgawes te kierang nie. In vandag se Skrifgedeelte kom die Fariseërs na Jesus met die slinkse vraag of hulle aan die keiser belasting moet betaal, iets wat geen goeie Jood wóú doen nie. Maar Jesus laat Hom nie vasvra nie. Hy wys vir die Fariseërs ’n muntstuk en vra hulle wie se kop daarop is. “Die keiser s’n,” antwoord hulle. En dan boul Jesus hulle heeltemal uit met sy antwoord: “Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort,” sê Hy. Alhoewel ek op my tande kners as ek lees hoe sommige hoogge-plaastes in ons land met belastinggeld mors, weet ek goed dat belas-ting betaal móét word. Hoe anders sal die regering hul verpligtings kan nakom? Jesus self het ook by geleentheid belasting betaal. (Gaan lees meer hieroor in Matteus 17:17.) Die antwoord op hierdie vraag is dus óók ja. Jy sal maar moet opdok vir jou belasting, al hou jy hóé min daarvan! Jy kan egter ’n konsultant aanstel wat jou kan wys hoe jy op ’n wettige manier die minste belasting moontlik kan betaal.
Maar Jesus sê ook dat ons aan God moet gee wat aan Hóm behoort. Afgesien van jou belasting, moet jy ook ’n deel van jou geld aan God gee, sodat sy koninkryk in die wêreld uitgebrei kan word. Doen jy dit al?
Here, van nou af wil ek my belasting met ’n beter gesindheid betaal, en ook aan U u regmatige deel van my inkomste gee. Amen.
4 Oktober – Hoeveel is my tiende?
4 OKTOBER
Lees: Maleagi 3:6–12
Hoeveel is my tiende?
Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe sodat daar iets te ete in my huis kan wees, en toets My hierin, sê die Here die Almagtige. Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie. – Maleagi 3:10
Net soos die regering nie sonder ons belasting kan klaarkom nie, het die uitbreiding van God se koninkryk en die versorging van mense wat minder as ons het, ook ons geld nodig. Maar hoeveel behoort ons te gee? Baie min mense kan deesdae bekostig om ’n tiende van hul bruto inkomste af te staan. Maar dit is die maatstaf wat in die Ou Testament gegee is vir die volk se offers aan God. In die Nuwe Testament word die gee van gawes aan God as vrywillig beskou. Wat nog belangriker is as die bedrag van jou dankoffer is die gesindheid waarmee jy dit gee. Eintlik het Gód nie jou geld nodig nie – alles op aarde behoort mos reeds aan Hom. Hy wil egter weet of jou beursie al tot bekering gekom het! Hoeveel van God se geld is jy bereid om aan Hom terug te gee? Toets Hom en gee jou netto tiende. Soos ons al vele kere ervaar het, gaan jy beslis verstom wees oor die oorvloed waarmee die Here jou gaan seën indien jy bereid is om dit te doen. In 2 Korintiërs 9:6 waarsku Paulus dat dié mense wat karig saai, ook eendag karig gaan oes. Maar indien jy God met jou inkomste vertrou, gaan Hy jou verras deur vir jou alles te gee wat jy nodig mag hê.
Hemelse Vader, baie dankie dat U inderdaad elke keer die vensters van die hemel vir my oopmaak wanneer ek bereid is om my geld aan U toe te vertrou. Amen.
5 Oktober – Hoe kan ek stres hanteer?
5 OKTOBER
Lees: Filippense 4:2–9
Hoe kan ek stres hanteer?
Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. – Filippense 4:6–7
Hedendaagse vroue het veel meer verantwoordelikhede en dus veel meer stres as ooit tevore. Die gevolg hiervan is dat baie van ons gespanne, angstige wesens is wat nooit regtig tot rus kom nie. In sy Filippensebrief gee Paulus vir jou onfeilbare raad teen stres en depressie. Al wat jy hoef te doen, is om op te hou om so gespanne te wees, en eerder daardie dinge wat jou stresvlakke laat styg, met God te bespreek. Filippense 4:6 is vir my ’n ongelooflike teks: ons mag maar álles wat ons nodig het van God vra, en kan dan só seker wees dat Hy dit vir ons sal gee, mits dit in ooreenstemming met sy wil is, dat ons sommer terselfdertyd vir Hom dankie kan sê dat Hy ons gebede sal verhoor. Mense wat só glo, se stres gaan soos mis voor die son verdwyn, omdat hulle seker weet dat God sal sorg; dat Hy ten spyte van die negatiewe omstandighede van die oomblik steeds in beheer van hul lewe sal bly. As bonus vir hierdie geloofsvertroue beloof God jou sy vrede, dié vrede wat net Jesus in jou hart kan uitstort. Daar bestaan geen beter teenvoeter vir stres nie!
As jy op die oomblik uitgeput en oorlaai is, vra sommer nóú dat God jou stres vir sy vrede sal verruil. Hy wil dit graag vir jou doen!
Here Jesus, ek kom nou na U toe met my swaar streslading. Ek wil dit by u voete los. Dankie dat U vir my u vrede belowe. Amen.
6 Oktober – Is die Bybel vandag nog relevant?
6 OKTOBER
Lees: 2 Timoteus 3:14–17
Is die Bybel vandag nog relevant?
Die hele Skrif kom direk van God af. Daaruit kan ons so baie leer. Dit help ons om te wys waar mense die pad byster raak en om hulle weer reg te help. Uit die Skrif kan ons ook vir mense wys hoe God wil hê hulle moet leef. Op dié manier sal iemand wat God s’n is, weet wat God van hom verwag … – 2 Timoteus 3:16– 17 (Die Boodskap)
Daar is op die oomblik nogal heelwat teoloë wat meen dat die Bybel in ons hedendaagse opset anders gelees behoort te word. Al hoe meer mense trek ook die riglyne wat die Bybel gee in twyfel en bevraagteken Bybelse waarhede soos Jesus se opstanding. Maar ál die dinge wat in die Bybel geskryf is, met uitsondering van die seremoniële wette van die Ou Testament, geld vandag nog. In Openbaring 22:18–19 lees ons dat daar niks by die Bybel gevoeg óf weggeneem mag word nie. Jy mag dus nooit die gesag van die Bybel as Woord van God misken nie. Die Bybel kom direk van God en is vandag nog net so bindend as toe dit geskryf is. Indien jy oor enigiets twyfel, kan jy maar net jou Bybel gaan raadpleeg. Die Bybel leer jou steeds hoe God wil hê dat jy sal leef, en jy kan ook vir ander mense daaruit raad gee. Lees jou Bybel altyd biddend en vra die Heilige Gees dat Hy Self God se Woord vir jou sal oopsluit en vir jou die nodige insig sal gee
om dit te kan verstaan én dit korrek aan te wend in jou lewe.
Here, ek loof U vir my Bybel waarin U my leer hoe U wil hê ek moet leef. Maak dit vir my moontlik om die riglyne in my Bybel elke dag te gehoorsaam. Amen.
7 Oktober – Hoekom is die lewe so onregverdig?
7 OKTOBER
Lees: Romeine 9:10–18
Hoekom is die lewe so onregverdig?
Daar staan ook geskrywe: “Vir Jakob het Ek liefgehad, maar vir Esau het Ek gehaat.” … Wat moet ons hieruit aflei? Dat God onregverdig is? Beslis nie! Vir Moses het Hy gesê: “Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees, en Ek sal My ontferm oor wie Ek My wil ontferm.” – Romeine 9:13–15
Paulus skryf hier oor die uitverkiesing: daar is sommige mense wat God van geboorte af uitverkies het – vir óns klink dit bra onregverdig dat Hy vir Jakob liefgehad en vir Esau gehaat het. Almal van ons het sekerlik ook al ontdek dat die lewe self nie regverdig is nie. Sommige mense kry vreeslik swaar, terwyl ander ligvoets deur die lewe gaan en dit oënskynlik altyd met hulle goed gaan. Alhoewel die lewe sekerlik nie regverdig is nie, is Gód absoluut regverdig. In Romeine 2:11 skryf Paulus dat Hy niemand voortrek nie. Ons verstaan net nie altyd die dinge wat God met ons laat gebeur nie, omdat ons nie soos Hy in die toekoms kan sien nie. In ons oë is die kruisiging van die sondelose Jesus een van die heel onregverdigste gebeure ooit, maar God straf juis sy Seun sodat ek en jy gered kan word. God kan uiteindelik álle dinge, ook dié wat vir jou pyn en lyding beteken, tot jou beswil gebruik. Hy leer jou juis die kosbaarste lewenslesse wanneer dit nié goed met jou gaan nie. En eendag sal jy presies weet wat sy bedoeling met dié dinge was wat vir jou so onregverdig gelyk het.
Here, ek het al baie keer teen die onregverdigheid van die lewe te velde getrek. Verseker my net weer dat U regverdig is, dat U te alle tye vir my die beste wil hê en dat U my grensloos liefhet. Amen.
8 Oktober – Hoe weet ek dat ek uitverkies is?
8 OKTOBER
Lees: Efesiërs 1:3–12
Hoe weet ek dat ek uitverkies is?
So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees. Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade … – Efesiërs 1:4–6
Voordat jy begin wroeg of jý persoonlik uitverkies is, moet jy eers ’n ander vraag beantwoord: “Glo jy dat Jesus die Seun van God is wat vir jou sonde aan die kruis gesterf het?” Indien jy op hierdie vraag bevestigend kan antwoord, hoef jy nooit weer te wonder of jy uitverkies is nie, maar mag jy seker wéét dat God jou reeds voor jou geboorte uitverkies het om sy kind te wees. God laat egter die besluit aan jou oor of jy wil kies om Hom te volg en lief te hê. En “aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word,” skryf Johannes (Johannes 1:12). In Johannes 3:16 word jy ook verseker dat God jou só liefhet dat Hy sy enigste Seun gestuur het sodat jy, as een van dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. Uitverkore kinders van God het nou reeds die belofte van die ewige lewe. En hierdie kinders van God kan nooit weer verlore gaan nie. Jy ís uitverkies. God het jou uitverkies om heilig hier op aarde vir Hom te leef en heilig te wees soos Hy. Daaraan hoef jy nooit weer te twyfel nie.
Hemelse Vader, dis wonderlik dat U my reeds vóór my geboorte uitverkies het om aan U te behoort. Help my asseblief om hier op aarde heilig en onberispelik vir U te leef. Amen.
9 Oktober – Wat word van mense wat nog nooit van Jesus gehoor het nie?
9 OKTOBER
Lees: Johannes 14:1–8
Wat word van mense wat nog nooit van Jesus gehoor het nie?
Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.” – Johannes 14:6
Die Bybel leer ons dat daar net één manier is om in die hemel te kom en dit is om in Jesus, die weg, die waarheid en die lewe, te glo. Die feit dat daar miljoene mense oor die wêreld heen is wat nog nooit die kans gehad het om in Jesus te glo nie omdat hulle nog nooit van Hom gehoor het nie, is vir ons moeilik om te begryp. Ons mag egter nie dink dat God hier ’n fout gemaak het nie. Hy is eenvoudig te groot dat ons van Hom rekenskap kan eis, en ons het mos reeds gehoor dat Hy absoluut regverdig is. Nie een van ons verdien dit om gered te word nie. Ons is immers almal sondig gebore en word net deur geloof in Jesus van ons sonde verlos. Ons kan die manier waarop God optree ook nie met ons beperkte menseverstand verstaan nie. Maar die feit dat jy in ’n Christelike land grootgeword het, is louter genade. Eerder as om jou blind te staar teen die feit dat daar mense verlore gaan sonder dat hulle ’n kans gehad het om tot geloof te kom, behoort jý jou kans opnuut aan
te gryp om ’n kind van God te word. Jy kan ook bydra daartoe dat meer mense die evangelie kan hoor deur hulle van Jesus te vertel, bydraes vir sendingwerk te gee en vir sendelinge te bid.
Here, ek loof U dat ek al soveel keer die evangelie kon hoor en vir U kon “ja” sê. Maak my u getuie dat ek soveel mense moontlik van U sal vertel. Amen.
10 Oktober – Hoekom ly Christene?
10 OKTOBER
Lees: 1 Petrus 4:12–17
Hoekom ly Christene?
Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie. Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid. – 1 Petrus 4:12–13
In die Bybel lees ons dikwels van kinders van God wat baie swaar gekry het. Job se lewensverhaal is vir ons grotendeels onverstaanbaar. Hoekom laat God iemand wat so goed is, so swaarkry? Aan die einde van sy swaarkrypad ontdek Job egter dat sy swaarkry soos ’n bril was wat hom vir God laat sien het. Die eerste Christene is vir hul geloof vervolg en gemartel. Waarom, wonder ons, het God hulle nie gehelp nie? In die tyd waarin ons lewe, kry God se kinders ook dikwels swaar en wil dit vir óns lyk asof God nie in hulle lewens ingryp nie. Maar God het ’n manier om ons swaarkry te gebruik sodat ons meer en meer soos Jesus sal word. Petrus skryf in ons kernvers dat ons nie verbaas moet wees as ons op aarde swaarkry nie. Ons moet eerder blý wees oor lyding, omdat dit ons in die lyding van Jesus laat deel sodat ons kan oorloop van vreugde by sy wederkoms. God belowe ook om sy kinders ná die swaarkrytyd weer op te rig en hulle “moedig, sterk en standvastig” te maak (1 Petrus 5:10).
As dit dus weer ekstra sleg met jou gaan, kyk gerus weg van jou swaarkry en kyk na Gód wat vir jou die hemel beloof waar daar geen swaarkry meer sal wees nie.
Here, dankie dat U daar is wanneer ek swaarkry. Ek weet dat dit my in u lyding laat deel en my na die hemel laat uitsien. Amen.
11 Oktober – Hoe weet ek wat God se wil is?
11 OKTOBER
Lees: Romeine 12:1–8
Hoe weet ek wat God se wil is?
Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is. – Romeine 12:2
Soms wonder ons of daar ’n manier is waarop ons kan bepaal presies wat God se wil vir ons lewe is. Voordat God sy wil aan jou sal openbaar, moet jy éérs in die regte verhouding tot Hom staan en werklik na sy wil soek. Daar is verskillende maniere waarop God sy wil aan sy kinders openbaar: as ons ons Bybels indringend bestudeer, sal ons algaande al hoe meer besef watter tipe gedrag God van ons verwag en hoe ons moet leef om sy wil te doen. Die Heilige Gees wat in ons woon, openbaar God se wil aan ons, en deur gesprekke met ander gelowiges kan ons ook God se wil ontdek. Indien jy weer wonder wat God se wil is, maak ekstra tyd om daardie wil in sy Woord te ontdek: soos dat jy God en ander mense moet liefhê, dat jy Jesus se boodskap moet uitdra, die waarheid moet praat, nie aan die wêreld gelyk moet word nie, maar heilig moet leef. Vra dan die Heilige Gees om God se wil aan jou te openbaar, en as jy nog steeds twyfel, gaan gesels met ’n Christenvriend of vriendin en bid saam. Daar is ’n laaste vereiste: as jy werklik erns met God se wil maak, sal jy gewillig wees om jou eie wil prys te gee sodat jy sý wil kan
doen.
Heilige Gees, ek bid dat U self God se wil aan my bekend sal maak en my gewillig sal maak om dit te gehoorsaam. Amen.
12 Oktober – Is swaarkry God se wil?
12 OKTOBER
Lees: Jeremia 29:10–14
Is swaarkry God se wil?
Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting! Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor. Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra. – Jeremia 29:11–13
By monde van die profeet Jeremia beloof die Here dat Hy vir sy volk voorspoed beplan en nie teenspoed nie. Hy wil ook vir jou voor-spoed gee, en tog ervaar ons dikwels dat ons hier op aarde met teenspoed en rampe moet saamleef. Die rede hiervoor is dat ons in ’n sondige wêreld leef en dat, alhoewel Jesus die duiwel aan die kruis beslissend oorwin het, hy eers met die wederkoms finaal oorwin sal wees. Jesus het Self aan sy dissipels gesê dat hulle op die wêreld swaarkry te wagte moet wees (Johannes 16:33). Ouers tug nooit hul kinders omdat dit vir hulle lekker is nie; wel om hierdie kinders te leer. God gebruik ook soms swaarkry in jou eie lewe as tugmaatreël. “Die Here het jou honger en dors laat ly, maar Hy wou jou leer,” skryf Jesaja (Jesaja 30:20). Swaarkry as sodanig is dus nooit God se wil nie, maar Hy kan swaarkry in jou lewe gebruik om jou te leer; om jou meer gehoorsaam aan Hom te maak of jou nader aan Hom te bring. En jy weet tog reeds dat jou aardse swaarkry maar vir ’n kort rukkie duur voordat dit vir jou op die hemel sal uitloop
(2 Korintiërs 4:17).
Here, ek loof U dat U reeds besig is om vir my ’n toekoms by U te beplan. Help my om my swaarkry van die oomblik as voorbereidingskursus vir die hemel te beskou. Amen.
13 Oktober – Sal dit help om vir misdaad te bid?
13 OKTOBER
Lees: 2 Kronieke 7:12–20
Sal dit help om vir misdaad te bid?
“As Ek die hemel gesluit hou … of as Ek die sprinkaan beveel om die land kaal te vreet … en my volk … toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel.” – 2 Kronieke 7:13–14
In vandag se Skrifgedeelte waarsku God vir koning Salomo dat Hy die land en die mense sal straf as hulle nie na Hom terugdraai en hul sonde laat staan nie. In ons eie land steur baie mense hulle hoegenaamd nie meer aan die Here nie. Is dit nie dalk die rede vir die heersende geweld en misdaad nie? Soms wonder ons of dit hoegenaamd sal help om te bid vir hierdie misdaad en korrupsie. Die antwoord op hierdie vraag is natuurlik ja. Bid help altyd. Maar bid alleen sal nie genoeg wees nie. Ons sal méér moet doen as om te bid om God se beloftes waar te maak. Hoe lyk jou eie verhou-ding met die Here? Jy behoort sélf na God terug te keer en jou eie sonde te bely voordat jy vir die land en die misdaadstatistieke intree. Eers as jý dit gedoen het, sal God luister uit die hemel en jou sonde vergewe en jou land herstel. Probeer dus om van vandag af ’n daadwerklike bydrae tot vrede en versoening te lewer. Stel jouself beskikbaar om daadwerklike hulp te verleen, sodat mense nie langer sal hoef te steel om genoeg te hê om van te leef nie.
Hemelse Vader, ek wil terugkom na U toe. Vergewe asseblief my sonde en wys my waar en hoe ek ’n persoonlike bydrae kan maak sodat die misdaad in ons land minder sal word. Amen.
14 Oktober – Is ek goed genoeg?
14 OKTOBER
Lees: Jesaja 43:1–7
Is ek goed genoeg?
… Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe. – Jesaja 43:1, 4
Daar is talle mense – en die meeste van hulle is vroue – wat met ernstige selfbeeldkwessies rondloop. ’n Onlangse Amerikaanse opname het getoon dat tagtig persent van álle vroue aan ’n onnodige en ongegronde minderwaardigheidskompleks ly. Miskien is jy een van hierdie tagtig persent, en as jy aan God behoort, is dit só onnodig. Natuurlik is jy goed genoeg! God het jou na sy beeld geskep en Hy is só lief vir jou dat Hy sy enigste Seun na die wêreld gestuur het om in jou plek aan die kruis te sterf sodat jy sy kind mag wees. Hy het jou op jou naam geroep, sê ons kernvers, jy behoort aan Hom en jy is vir Hom kosbaar. As jy dus nie so mooi of begaafd is soos sommige van jou vrien-dinne nie, kan jy maar ophou om te wonder of jy goed genoeg is. As jy goed genoeg is vir God, ís jy goed genoeg! Hou op om jouself te vergelyk met jou vriende wat mooier en slimmer as jy is. Al hierdie dinge is onbelangrik in God se oë. Werk liewer aan jou eienskappe wat vir Hom waarde het: wees lief vir God en almal om jou; doen dinge wat die lewe vir ánder die moeite werd maak; wees vriendelik,
vrygewig en bereid om ander te help. Fokus in die vervolg op jou goeie eienskappe, eerder as om jou blind te staar teen dié waarmee jy ontevrede is.
Hemelse Vader, ek is jammer dat ek soms so ontevrede met my voorkoms en talente is. Dankie dat ek goed genoeg vir U is. Amen.
15 Oktober – As God in beheer is, hoekom lyk die wêreld só?
15 OKTOBER
Lees: 1 Johannes 3:17–24
As God in beheer is, hoekom lyk die wêreld só?
Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees? Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid. – 1 Johannes 3:17–18
Christene glo dat God in beheer van hul lewens én van die wêreld-geskiedenis is. Tog kan ons nie help om te wonder waarom die wêreld om ons lyk soos hy lyk nie. Hoekom doen God nie iets aan armoede en geweld, aan sosiale onreg wat so hoogty in ons land vier nie? Wat is die rede dat Hy nie ingryp en dinge beter maak nie? Die antwoord op hierdie vraag is eintlik eenvoudig: God ís almagtig, maar Hy kan niks hier op aarde doen sónder die ingryping van sy kinders nie. Hy het óns hande en voete, óns geld en gewilligheid nodig as Hy die omstandighede van die wêreld wil verander. Wat doen jy om van die wêreld ’n beter plek te maak? Miskien het jy regtig nie fisies tyd om kos te maak of sop vir mense in nood te kook nie. Maar daar is baie mense wat bereid is om dit te doen wat nie genoeg
fondse tot hul beskikking het nie. Klop by jou kerk aan en hoor waar jy kan help. Dra dan finansieel by sodat God se werk op aarde gedoen kan word. Moenie langer aarsel om God se beheer oor die wêreld op die plek waar jy woon vir ander sigbaar te maak nie.
Here, ek besef dat ek nog veels te min doen om u koninkryk op die wêreld te laat kom. Wys my waar ek ’n positiewe bydrae kan maak sodat my liefde vir U en ander daadwerklik bewys kan word. Amen.
16 Oktober – Hoe leer ek my kinders dat geld minder belangrik is?
16 OKTOBER
Lees: Matteus 6:19–24
Hoe leer ek my kinders dat geld minder belangrik is?
“Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.” – Matteus 6:19–21
Ons lewe in ’n samelewing waar daar geweldig baie klem op die materiële gelê word. Die gevolg hiervan is dat hedendaagse kinders grootword met die gedagte dat dit hul reg is om peperduur besittings te hê. My verstand staan heeltemal stil as ek na die dinge kyk wat ouers deesdae vir hul kinders koop – en dit net omdat die kinders nie teen hul vriende wil afsteek nie. Myns insiens is dit hoog tyd dat Christenouers eerder vir hul kinders moet leer dat geld en goed nié so belangrik is as wat hulle dink nie. Waak daarteen dat jou kinders van kleins af ingestel is op die belangrikheid van geld en besittings. Moenie langer vir jou kinders alles gee wat hulle wil hê nie. Sê gerus volgende keer nee as jou kinders weer op peperduur selfone, iPods, rekenaars en ontwerpers-klere aandring. Maar dan sal jy self bereid moet wees om vir hulle ’n voorbeeld te stel deur van ’n paar van jou eie luukshede af te sien, anders gaan hulle heel waarskynlik nie na jou luister nie! Leer jou kinders
eerder watter dinge werklik belangrik is. Neem hulle na ’n plakkerskamp, wys hulle hoe mense daar leef en moedig hulle aan om van hul sakgeld aan minderbevoorregtes te gee.
Here, ek is ook skuldig daaraan dat ek my kinders materialisties grootmaak. Vergewe my en help my om die regte waardes by hulle te kweek. Amen.
17 Oktober – Hoe stel ek die foute reg wat ek met my kinders gemaak het?
17 OKTOBER
Lees: Efesiërs 6:1–4
Hoe stel ek die foute reg wat ek met my kinders gemaak het?
En vaders, moenie julle kinders so behandel dat hulle opstandig word nie, maar maak hulle groot met tug en vermaning soos die Here dit wil. – Efesiërs 6:4
In die kernvers hierbo kan “vaders” deur “ouers” vervang word. Daar is vandag baie ouers wat met skuldgevoelens rondloop omdat hulle foute gemaak het met die grootmaak van hul kinders. Nie een ouer is volmaak nie, dus is dit heel waarskynlik dat jy (soos ek) ook een van hierdie ouers is. Wanneer ons dan die gevolge van hierdie foute raaksien, wonder ons of en hoe ons dit kan regstel. Sommige van hierdie foute kan wel reggestel word, ander nie. As jy bewus is van dinge wat jou kinders dalk teen jou mag hou, wees groot genoeg om hulle om verskoning te vra. Miskien het jy jou kinders moedeloos gemaak omdat jy te veel van hulle verwag het; miskien het jy een van jou kinders voorgetrek, of miskien het jy hulle gedwing om dinge te doen wat jý graag sou wou, maar nie kon nie. Probeer om elkeen van jou kinders as ’n individu te sien en moet hulle nie langer oor een kam skeer nie. Gesels met hulle oor hul drome en ideale en doen jou bes
om hulle te help om dit te verwesenlik. Onthou altyd dat die heel beste dinge wat jy jou kind kán gee, jou onvoorwaardelike liefde, jou begrip en jou tyd is. Waak daarteen om vir hulle geld en goed in ruil daarvoor aan te bied. Verseker jou kinders dat jy hulle altyd sal ondersteun en voeg dan die daad by die woord!
Here, vandag kom vra ek vir die wysheid om my kinders reg groot te maak. Help my asseblief om die foute wat ek met hulle begaan het, reg te stel. Amen.
18 Oktober – Hoe kry ek my kinders in die kerk?
18 OKTOBER
Lees: Psalm 84
Hoe kry ek my kinders in die kerk?
Dit gaan goed met mense vir wie u huis ’n tuiste is: hulle hou nie op om U te prys nie. Sela. Dit gaan goed met mense wat hulle krag in U vind en graag na u tempel toe gaan … Waarlik, één dag in u tempel is beter as duisend daarbuite. – Psalm 84:5–6, 11
Die Bybel beklemtoon die belangrikheid daarvan dat Christene ’n plek moet hê waar hulle God kan aanbid. Maar hedendaagse jongmense skroom nie om van die kerk weg te bly nie. Veral tieners wil nie geforseer word om kerk toe te gaan nie. Indien jou kinders ook traag is om kerk toe te gaan, behoort jy vir hulle te wys dat die bywoning van eredienste vir jou persoonlik ’n vreugde is. As jy van kleins af jou kinders saam kerk toe neem, en hulle nie – soos baie ouers deesdae doen – net by die kerk gaan aflaai nie, is dit onwaarskynlik dat jou kinders opsetlik uit die kerk sal wil wegbly. Gelukkig doen die meeste gemeentes baie moeite om kerkbywo-ning vir kinders lekker te maak. Gesels met jou kinders oor hul verhouding met die Here en die vreugde van gemeente-wees en bid ook dat God Self vir hulle ’n verlange na sy huis sal gee. Alhoewel dit nie wenslik is om jou kinders te forseer om kerk toe te gaan nie, kan dit soms nodig raak om hulle te dissiplineer en hulle te leer dat kerk toe gaan – net soos skool toe gaan – nie vrywillig is nie, maar wel ’n
verantwoordelikheid wat nagekom behoort te word.
Here, soms sukkel ek so om my kinders by die kerk te kry! Help my om vir hulle ’n voorbeeld te wees en hulle te wys hoe vervullend kerkbywoning vir my persoonlik is. Amen.
19 Oktober – Hoe help ek my kinders om die regte vriende te kies?
19 OKTOBER
Lees: Spreuke 18:24; 27:9, 17
Hoe help ek my kinders om die regte vriende te kies?
Maats kan jou breek, maar daar kan ook ’n vriend wees wat nader is as ’n broer … Reukolie en wierook is iets om te geniet, maar die genot van vriendskap lê in die raad wat jy kry … Yster slyp yster, vriende vorm mekaar. – Spreuke 18:24; 27:9, 17
Dit was nog nooit meer waar as tans dat maats ’n mens kan breek nie. Vir alle kinders is dit baie belangrik om dieselfde dinge as hul maats te doen; om “in” te wees by die groep. Verreweg die meeste kinders wat drink, rook of dwelms gebruik, is deur hul maats oorreed om dit te doen. Ouers behoort te besef dat verkeerde maats ’n geweldig negatiewe invloed op hul kinders kan hê. Gesels van jongs af met jou kinders oor hoe belangrik dit is om die regte vriende te hê. Doen ook jou bes om hulle by plekke (soos die jeugbyeenkomste of kampe van jou gemeente) uit te bring waar hulle die regte soort vriende kan ontmoet. Maak ook vriende met Christene wat dieselfde ouderdom kinders as joune het en nooi hulle oor sodat die kinders mekaar kan leer ken. Sorg dat jy die mense ken as jou kinders by hul vriende wil oorslaap en dat daar volwasse toesig is as hulle na ’n partytjie by vriende wil gaan. Leer jou kinders van jongs af die regte waardes, en maak dit baie duidelik watter dinge julle as ouers afkeur, dan is dit
onwaarskynlik dat hulle dinge sal doen wat julle nie sal goedkeur nie. Waak egter daarteen om hul vriende bloot op grond van hul voorkoms af te keur.
Here, ek bid dat U Self my kinders van verkeerde vriende en verkeerde gewoontes sal vrywaar. Stuur asseblief vir hulle vriende wat U liefhet en ken. Amen.
20 Oktober – Hoe help ek my kinders om hul volle potensiaal te bereik?
20 OKTOBER
Lees: 1 Kronieke 28:19–21
Hoe help ek my kinders om hul volle potensiaal te bereik?
Dawid het vir sy seun Salomo gesê: “Wees sterk, staan vas, begin die werk! Moenie bang wees nie en moenie besorg wees nie, want God die Here, my God, is by jou. Hy sal jou nie aan jouself oorlaat of jou verlaat nie, sodat jy al die werk vir die diens in sy huis kan afhandel.” – 1 Kronieke 28:20
Ouers wil graag hul heel beste vir hul kinders gee sodat hul kinders hul volle potensiaal kan bereik. Die beste manier hoe jý dit kan regkry, is om koning Dawid se voorbeeld te volg. Hy was altyd daar om sy kinders aan te moedig; hy het hulle gereeld aan God opgedra en hulle bemoedig. Toe Salomo die formidabele taak om die tempel te bou moes aanpak, het Dawid nie net die boumateriaal vir hom bymekaargemaak nie, maar hom aangemoedig om met die werk te begin, en hom verseker dat God deurentyd by hom is en dat Hy hom Self sal help om sy taak suksesvol af te handel. James Dobson, ’n Amerikaanse gesinskenner, meen dat die beste tyd om jou kinders se potensiaal te begin verwesenlik tussen die ouderdom van agt en agtien maande is!* Probeer om in hierdie tydperk elke dag daar te wees vir jou kinders
om hulle te stimuleer en aan te moedig. Wanneer hulle ouer word, maak seker dat hulle in ’n verhouding met die Here staan en geloofsekerheid het. Sorg ook dat hulle weet dat hul gawes en talente van God kom en dat hulle Hom die erkenning daarvoor behoort te gee. Moedig hulle aan om op dié terreine te presteer waarvoor hulle ’n aanleg het en bid elke dag vir elkeen van hulle.
Here, dankie vir my kinders. Gee asseblief vir my die wysheid om hul gawes van kleins af te stimuleer, sodat u plan vir hul lewe uitgevoer kan word. Amen.
* J Dobson, aangehaal in N Smit, Waar is God as ek Hom nodig het?
21 Oktober – Hoe dissiplineer ek my kinders?
21 OKTOBER
Lees: Spreuke 29:15–17
Hoe dissiplineer ek my kinders?
’n Pak slae en ’n teregwysing bring wysheid; ’n kind wat sonder dissipline grootword, steek sy moeder in die skande … Gee jou seun ’n goeie opvoeding en jy sal gerus wees oor hom; hy sal jou baie vreugde verskaf. – Spreuke 29:15, 17
Daar is net een manier hoe om kinders reg groot te maak, en dit is met behulp van die nodige liefde en dissipline. Jou kinders is in sonde gebore en hulle gaan vanselfsprekend teen ouerlike gesag rebelleer. Dit is noodsaaklik dat hulle sal weet dat daar grense is wat hulle nie mag oortree nie, en dat indien hulle dit doen, hulle gestraf gaan word. Alhoewel die meeste hedendaagse sielkundiges nie lyfstraf voorstaan nie, is ’n pak slae op sy tyd ’n uitstekende manier om kinders te leer dat hulle nie alles kan doen wat hulle wil nie. Hieroor is die Bybel baie duidelik. “Moenie huiwer om ’n kind te straf nie, want as jy hom slaan, red jy sy lewe,” lui Spreuke 23:13. Wanneer jy jou kind wel straf, behoort jy dit nooit te doen as jy baie kwaad is nie. Die pak slae behoort die laaste uitweg te wees as ánder strafmaatreëls nie werk nie. Sorg ook dat jou kind baie goed weet dat jy hom eintlik straf omdat jy hom liefhet en dat jy dit vir sy eie beswil doen. Kinders wat van jongs af gedissiplineer word, word verantwoordelike, goed aangepaste volwassenes. Voorts laat ouerlike strafmaatreëls kinders veilig en geborge voel. So moenie
huiwer om jou kinders van nou af strenger te dissiplineer as jy dit tot nou toe nie gedoen het nie.
Here, wys my asseblief hoe om my kinders vir U groot te maak deur hulle op die regte manier te dissiplineer en hulle te straf as dit nodig is. Amen.
22 Oktober – Hoe verduidelik ek die dood aan my kind?
22 OKTOBER
Lees: Johannes 11:20–27
Hoe verduidelik ek die dood aan my kind?
Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.” – Johannes 11:25–26
Wanneer ’n geliefde oupa of ouma, ’n maatjie of ’n troeteldier dood-gaan, vra kinders vir hul ouers vrae oor die dood wat ons soms sukkel om te beantwoord. Die eerste ding wat jou kinders behoort te weet, is dat hulle nooit bang hoef te wees om dood te gaan nie. Toe Hy Self dood is, het Jesus vir ons die “angel” uit die dood kom haal, skryf Paulus in 1 Korintiërs 15:54–55. Al Jesus se kinders gaan hemel toe as hulle doodgaan, waar hulle vir altyd gelukkig saam met Hom sal leef. Vir dié mense wat in Jesus glo, is die dood maar net soos ’n deur na ’n baie mooier en gelukkiger plek as dié een waar ons nou woon. Alhoewel ons liggame begrawe word, sal ons daar ander, mooier liggame kry. (Lees gerus vir jou kind Filippense 4:21.) Vertel jul kinders van Openbaring 21 se “nuwe hemel en nuwe aarde”, waar al God se kinders vir altyd saam sal bly. Hulle behoort ook te weet dat ons mekaar daar weer sal sien en herken. En al kan ons ons nie presies voorstel hoe dit gaan wees nie, sal dit nog báie mooier en lekkerder wees as wat ons ooit kon dink!
Vader, gee asseblief vir my die nodige wysheid om vir my kinders te verduidelik dat hulle nie vir die dood hoef bang te wees nie, omdat U alle vrees vir die dood kom wegneem het. Dankie dat ons nou al kan uitsien na die hemel saam met U. Amen.
23 Oktober – Sal God my kinders bewaar?
23 OKTOBER
Lees: Spreuke 20:7–11
Sal God my kinders bewaar?
Wie reg doen en eerlik lewe, met sy kinders gaan dit goed … Selfs ’n jongmens word geken aan wat hy doen, uit sy optrede blyk of hy eerlik en opreg is. – Spreuke 20:7, 11
Toe ons dogter op universiteit was, het sy naweeksaande blomme verkoop om sakgeld te verdien. Ons het nooit ’n oog toegemaak tot sy so twee-uur se kant by die huis gekom het nie. Nou kan ek regtig nie gló dat ons dit hoegenaamd toegelaat het nie, en weet ek seker dat dit net die Here is wat haar bewaar het. As jou kinders nog in die huis is, is dit makliker om te weet waar hulle op ’n gegewe oomblik is om só toesig oor hulle te hou. Maar as hulle eers uit die huis is, is dit moeiliker. Dit help egter nie om gedurig uiters bekommerd oor jou kinders te wees nie. Vra eerder dat God hulle moet bewaar en los dan jou bekommernisse by Hom. Net wanneer jy seker is dat God in beheer van jou kinders se lewe is, sal jy ophou om oor hul veiligheid te stres. Sorg dat jou kinders weet dat jy bekommerd oor hulle is en dat jy hulle elke dag aan die Here opdra en bid dat Hy hulle sal beskerm. Vra hulle ook om nie onnodige risiko’s te neem nie. In Psalm 91 belowe die Here om sy kinders te bewaar, om sy engele te stuur om hulle te alle tye te beskerm, sodat hulle nie vir enige gevaar bang hoef te wees nie. Vertrou Hom om dit vir jou kinders te doen!
Here, ek loof U dat ek my kinders aan U kan toevertrou. Beskerm hulle asseblief waar hulle ook al mag gaan, sodat hulle in alle omstandighede veilig sal wees. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.
24 Oktober – Hoe kommunikeer ek met my kinders?
24 OKTOBER
Lees: Deuteronomium 11:18–24
Hoe kommunikeer ek met my kinders?
“Hierdie woorde van die Here moet julle lewe vul. Julle moet dit as herinneringsteken vasbind aan julle hande en dit moet ’n merk op julle voorkoppe wees. Leer dit vir jou kinders deur met hulle daaroor te praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.” – Deuteronomium 11:18–19
Die meeste ouers is deesdae so besig dat hulle nie werklik moeitedoen om sinvol met hul kinders te kommunikeer nie. Dit is noodsaaklik dat ouers tyd sal máák om openhartig met hul kinders te gesels oor alles onder die son; dat ons moet uitvind watter dinge vir hulle belangrik is, hoe hulle oor die lewe dink, hoe hulle oor seksuele kwessies voel, wat hul drome is en hoe wêreldgebeure hulle raak. Die heel belangrikste is egter om met hulle te gesels oor die “woorde van die Here”, soos die opdrag in ons kernvers vra. As jou kind geloofsekerheid het en volgens die riglyne in die Bybel lewe, sal hy of sy nie ver verkeerd kan gaan nie. Antwoord dus jou kleuters se strikvrae, al maak hulle jou soms moedeloos met al die “hoekoms”. Maak elke dag ’n tydjie om vir jou kinders te vra hoe dit die betrokke dag met hulle gegaan het as hulle op skool is. Luister fyn wat hulle vir jou sê en let ook op hul liggaamstaal. Stel vir hulle wat jou eie gedrag betref ’n voorbeeld wat hulle maar kan navolg. Selfs al is hulle al getroud en uit die huis,
moet jy nog die kommunikasiekanale tussen julle oophou.
Here, dankie dat dit so lekker is om met my kinders te kommunikeer. Gee hulle die vrymoedigheid om alles met my te deel. Amen.
25 Oktober – Sal God my siekte genees?
25 OKTOBER
Lees: Johannes 11:1–7
Sal God my siekte genees?
Toe Jesus dit hoor, het Hy gesê: “Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie, maar op die openbaring van die wonderbaarlike mag van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.” – Johannes 11:4
Indien jyself of iemand wat jy liefhet op die oomblik baie siek is en jou gebede om genesing nie beantwoord word nie, mag jy wonder waarom Jesus hulle dan nie verhoor nie. Toe Jesus van sy vriend Lasarus se siekte hoor, het Hy nie dadelik na Betanië gegaan soos Lasarus se susters gevra het nie, maar twee dae getalm. In hierdie tyd is Lasarus oorlede. Jesus sê egter vir sy dissipels dat Lasarus se siekte nie op die dood sal uitloop nie, maar op die openbaring van God se mag, sodat Hy verheerlik kan word. Jesus kán alle siektes genees, joune ook, maar Hy doen dit nie altyd nie. Soms wil Hy vir jou ’n demonstrasie van sy almag gee – soos wat Hy met Lasarus se siekte gedoen het. Indien jou eie of jou geliefde se siekte nie genees word nie, mag jy seker weet dat God vir jou ’n beter plan in gedagte het: miskien wil Hy jou nader aan Hom trek met die siekte, miskien moet jy vir ander ’n voorbeeld wees, soos die geval was toe een van my vriendinne aan kanker oorlede is. As jy bid en siek bly, mag jy egter seker weet dat God bý jou is op jou siekbed en dat Hy Self jou die krag sal gee om sy getuie te wees.
Here, ek is al so lank siek, en dis moeilik om te aanvaar dat U my nie gesond maak nie. Help my om aan U te bly glo en om vir mense wat na my kyk, ’n bewys van u liefde te wees. Amen.
26 Oktober – Is dit verkeerd om Sondae te werk?
26 OKTOBER
Lees: Matteus 12:9–14
Is dit verkeerd om Sondae te werk?
“Die Seun van die mens is immers Here oor die sabbat … Wie van julle sal nie die een skaap wat hy het en wat op ’n sabbatdag in ’n sloot val, dadelik uithaal nie? Hoeveel is ’n mens nie meer werd as ’n skaap nie? Dan mag ’n mens mos op die sabbatdag goed doen.” – Matteus 12:8, 11–12
God het die sabbat as ’n rusdag en feesdag ingestel, sodat sy volk ’n spesiale dag sou hê waarop hulle kon ontspan en Hom kon dien. In Bybelse tye is daar van die Israeliete verwag om geen werk op die sabbat te verrig nie. Ongelukkig is hierdie reël vandag nie meer haalbaar nie. Ons het die “sabbat” na die Sondag verskuif om Jesus se opstanding te vier. Daar is baie mense wat hul werk sal verloor as hulle sou weier om Sondae te werk, omdat ons in ’n wêreld leef waar Sondagarbeid algemeen geword het. Jesus Self het hom nie veel gesteur aan die Fariseërs se rigiede reëls oor die sabbat nie. Hy het Self gesê dat Hy ook die Here oor die sabbat is en het nie geskroom om siek mense op die sabbat te genees nie. Waar moontlik, behoort jy te probeer om Sondae met die Here se dinge besig te wees. Maar as daar van jou verwag word om Sondae te werk, is dit in orde so. Dalk kan jy met jou werkgewer onderhandel om sommige Sondae vry te hê sodat jy by jou gemeente se programme op ’n Sondag kan inskakel.
Here, dankie vir die rusdag wat U Self ingestel het sodat ek kan rus en feesvier. Help my om Sondae op die regte manier deur te bring deur dit waar moontlik vir U opsy te sit. Amen.
27 Oktober – Hoe maak ek vrede met my verlede?
27 OKTOBER
Lees: Filippense 3:7–14
Hoe maak ek vrede met my verlede?
Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus. – Filippense 3:13–14
Paulus getuig teenoor die gemeente van Filippi hoe sy bekering sy hele lewe ingrypend verander het. Om Jesus te ken, is nou vir hom die heel belangrikste. Hy maak hom los van die dinge wat agter hom lê en span hom in om die hemelse prys te behaal waartoe God hom geroep het. Daar is baie mense wat weier om vrede te maak met hul verlede. Hulle bly stres oor negatiewe ervarings in hul verlede: hulle tob oor die foute wat hulle gemaak het of hulle is bitter oor die mense wat hulle te na gekom het, soveel só dat hulle dit nie kan regkry om met hul lewe aan te gaan nie. As jy ook sukkel om met jou verlede vrede te maak, besluit sommer nou om jou soos Paulus daarvan los te maak en jou uit te strek na wat voor jou lê. Vertel God van die foute wat jy gemaak het en vra Hom om jou te vergewe. As daar mense is wat jy te na gekom het, vra hulle om verskoning en wees bereid om dié mense te vergewe wat jou seergemaak het. Indien dit nie help nie, maak ’n afspraak met ’n Christenberader sodat jy gehelp kan word om vrede met jou verlede te maak.
Here, vergewe my asseblief al die foute wat ek in die verlede begaan het. Ek wil hulle nou agter my laat en uitreik na die toekoms saam met U. Amen.
28 Oktober – Mag ek gelukspeletjies speel?
28 OKTOBER
Lees: 1 Timoteus 6:6–10
Mag ek gelukspeletjies speel?
Die godsdiens is ’n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het … Geldgierigheid is ’n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal. – 1 Timoteus 6:6, 10
Min mense is tevrede met wat hulle het. Ons hunker altyd na méér. Op die oomblik is daar boonop baie mense wat weens die heersende resessie gevaar loop om hul huise te verloor omdat hulle nie meer genoeg geld het om hul lenings af te betaal nie. Daar is ook baie mense wat nie meer geld het om hul gesinne finansieel te versorg nie. As jy dan oor die televisie hoor dat die Lotto of Powerball se geldprys nou op honderd miljoen rand staan, is dit net menslik om die paar rand te betaal wat so ’n kaartjie kos en te droom hoe jy al jou finansiële probleme sal kan oplos as jy hierdie miljoene sou wen … Maar is dit in orde vir Christene om te dobbel? Die Bybel leer ons dat ons vir ons lewensonderhoud behoort te werk. Sommige mense praat dobbelspeletjies goed omdat daar van die geld wat ingesamel word vir liefdadigheid aangewend word. Maar dit is sekerlik nie die rede waarom mense gelukspeletjies speel nie. Voordat jy weer jou geld op ’n dobbelkaartjie uitgee, onthou dat jou geld eintlik aan God behoort en dat jy sy rentmeester
behoort te wees. Vertrou Hom eerder met jou geldprobleme en vra Hom om jou uit jou finansiële verknorsing te red.
Here, U weet dat ek soms in die versoeking is om aan ’n gelukspeletjie deel te neem. Maak my tevrede met wat ek het en help my om my finansiële verpligtings na te kom. Amen.
29 Oktober – Is daar ’n hel?
29 OKTOBER
Lees: Markus 9:42–48
Is daar ’n hel?
“En as jou oog jou van My afvallig laat word, pluk hom uit! Dit is beter dat jy met een oog die koninkryk van God ingaan as dat jy altwee oë het en in die hel gegooi word. Daar gaan die wurm nie dood nie en word die vuur nie geblus nie.” – Markus 9:47–48
Sommige hedendaagse teoloë beweer dat daar nie ’n hel is nie. As ons die Bybel lees, kan ons egter nie aan die bestaan daarvan twyfel nie. Die hel is die teenoorgestelde van die hemel; as die hemel God se woonplek is, is die hel ’n plek waar God nie teenwoordig is nie, waar die duiwel heerskappy voer. Net soos in die geval van die hemel, het niemand nog teruggekom om ons te vertel hoe die hel daar uitsien nie, maar die Bybel waarsku duidelik dat mense wat God laster en sy genade verwerp, daar sal beland. Party mense beweer dat dit net ’n gemoedstoestand gaan wees, maar as ons na die grafiese beskrywings in die Bybel kyk wat die hel as ’n plek van onblusbare vuur, intense pyn en geweldige lyding beskryf wat vir ewig sal aanhou, lyk dit nie asof dié siening haalbaar is nie. Hoe die hel ook al daar gaan uitsien, is dit vir seker nie ’n plek waar jy sal wil beland nie. Maak dus doodseker dat jy jou lewe vir God gegee het en in ’n verhouding met Hom staan. Wanneer jy sonde doen, bely jou sonde sodat God
dit kan vergewe. Vra die Heilige Gees om jou te help om heilig te lewe – dan hoef jy nooit die hel te vrees nie.
Here, dankie dat ek seker mag weet dat ek aan U behoort, en dat ek dus nooit in die hel sal beland nie, omdat U elkeen van my sondes vergewe het. Amen.
30 Oktober – Wanneer sal die wederkoms plaasvind?
30 OKTOBER
Lees: Matteus 24:36–44
Wanneer sal die wederkoms plaasvind?
“Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie … Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet watter dag julle Here kom nie … Om dieselfde rede moet julle ook altyd gereed wees, want die Seun van die mens kom op ’n uur dat julle dit nie verwag nie.” – Matteus 24:36, 42, 44
Die gelowiges in Jesus se tyd het sy koms kort ná sy kruisiging verwag, maar meer as twee duisend jaar het intussen verbygegaan … Sommige mense het met groot sekerheid voorspel dat Jesus se wederkoms op die 21ste Mei 2012 sou plaasvind. Te midde van groot belangstelling in die media het die datum egter gekom en gegaan sonder dat enigiets gebeur het. Die Bybel leer dat niémand – nie eens Jesus Self nie – die datum van die wederkoms ken nie. Net God weet wanneer dit sal gebeur. Dit sal dus totaal vrugteloos wees om ’n spesifieke datum aan die wederkoms te probeer koppel. Al wat vir ons belangrik is, is dat die wederkoms vir elkeen persoonlik sal aanbreek op die dag dat hy sterf. En dit mag vir jou miskien al môre of oormôre wees. In plaas daarvan om te bespiegel oor die presiese datum van die wederkoms, sal dit vir jou veel beter wees om elke oomblik gereed te wees vir Jesus se koms. En wees gewaarsku: die Bybel sê duidelik dat die wederkoms onverwags sal wees.
Terwyl jy op die wederkoms wag, kan jy solank aan jou eie heiligmaking werk en dan só leef dat Jesus maar vandag kan kom.
Here Jesus, ek het ook al gewonder wanneer U wederkoms sal plaasvind. Help my om so te leef dat ek elke oomblik gereed sal wees vir daardie dag wanneer U my sal kom haal om vir altyd by U te wees. Amen.
31 Oktober – Wat kan ek van die hemel verwag?
31 OKTOBER
Lees: 2 Petrus 3:12–15
Wat kan ek van die hemel verwag?
Maar ons leef in die verwagting van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers. – 2 Petrus 3:13
Almal wat in Jesus glo, weet dat hulle eendag hemel toe sal gaan. Hulle weet óók dat die hemel ’n wonderlike plek sal wees. Daar was egter nog nooit iemand wat daar was en teruggekom het nie, so ons weet nie presies hoe die hemel daar uitsien nie. Ons weet wel dat die hemel dié plek is waar God woon, en dat Jesus besig is om vir ons daar plek te berei. In Openbaring 21 gee Johannes ’n pragtige beskrywing van die nuwe hemel en die nuwe aarde wat God vir sy kinders gereedmaak. Hierdie prentjie van blink goue strate, pêrelhekke en fondamente van edelstene is egter net ’n gesig wat Johannes gesien het wat vir ons die heerlikheid van die hemel wil uitbeeld. Wat belangriker is, is dat jy nou al, terwyl jy nog leef, met verwagting na die hemel kan uitsien. God het beloof dat daar geen dood of siekte, leed, smart of pyn meer sal wees nie. Al die dinge wat vir jou die lewe op aarde moeilik gemaak het, sal in die hemel vir altyd verby wees. As jy geloofsekerheid het, gaan jy hemel toe. Alhoewel jy nie seker is hoe die hemel gaan lyk nie, sal jy daar ’n verheerlikte liggaam hê (Filippense 3:20), jy sal God altyd by jou hê en vir ewig volkome gelukkig wees saam met Hom. En, die beste van alles, jy mag
nou al na die hemel uitsien!
Here Jesus, ek loof U vir die nuwe hemel en die nuwe aarde wat U nou reeds besig is om vir my gereed te maak. Dankie dat ek nou al daarna mag uitsien. Amen.
Gebed
Gebed
Hemelse Vader, in die maand wat verby is, kon ek antwoorde op sommige van my waarom vrae kry. Ek weet nou dat ek U volkome kan vertrou, dat U my sal help om soos U te vergewe, dat ek nie met my belasting mag kul of my bydraes mag afskeep nie. Dankie vir my Bybel wat my wys hoe om te lewe. Alhoewel die lewe nie altyd regverdig is nie, weet ek dat Ú is, dat U my liefhet en my lank te-vore gekies het om u kind te wees. Dankie dat U daar is wanneer ek swaarkry, help my om aardse swaarkry te verdra en wys my wat u wil vir my lewe is. Ek loof U dat ek goed genoeg vir U is, dat U my na u beeld geskep het en dat U in beheer is, ongeag die toestand van die wêreld om my. Vader, ek bid vir my kinders. Help my om hulle te leer dat geld en goed minder belangrik is. Wys my hoe ek hulle kan inspireer om kerk toe te gaan, hoe ek die foute wat ek met hulle gemaak het kan regstel, hoe ek hulle kan help om hul volle potensiaal te bereik en hoe ek sinvol met hulle kan kommunikeer. Gee vir my die wysheid om hul strikvrae te beantwoord en bewaar hulle elke oomblik van die dag. Maak dit vir my moontlik om u getuie te wees wanneer ek siek is, help my om my Sondae vir U opsy te sit en vrede met my verlede te maak. Ek loof U dat U weer sal kom en dat ek nou al seker mag wees dat my plek in die hemel reeds vir my wag. Amen.
November: Gunstelingpsalms
NOVEMBER: GUNSTELINGPSALMS
Wanneer ons nie weet wat om te lees nie, blaai ons gewoonlik na die Psalmboek. Elke Christen het ook sy of haar gunste-lingpsalm wat oor en oor gelees word, en waaruit ons elke keer nuwe inspirasie put. Ons kry verskillende soorte liedere in die psalms, soos lofliedere, klaagliedere, historiese liedere, boeteliedere, feesliedere en dankliedere. Die psalms leen hulle by uitstek daartoe om as gebede gebruik te word. As jy nie weet wat om te bid nie, “bid” dan ’n psalm – op hierdie manier leer jy om op ’n spontane manier met God te praat en Hom by jou lewe te betrek. Die Bybellennium stel dit pragtig: “Psalms is die asemhaling van die gelowige: die intrek van die lewegewende asem van God se woord en die uitblaas van uitgediende menslike vrae, vrese en nood.”* Hierdie maand wil ek graag mý gunstelingpsalms met julle deel.
* FJ van Rensburg en M Nel, Die Bybellennium, p 753
1 November – Twee paaie
1 NOVEMBER
Lees: Psalm 1
Twee paaie
Dit gaan goed met die mens … wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink. Hy is soos ’n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak. So is die goddeloses nie. Hulle is soos kaf wat deur die wind uitmekaar gewaai word. – Psalm 1:1–4
Psalm 1 vorm die voorportaal tot die psalms, berig Die Bybellennium.* Ons kry hierin portrette van gelowiges én ongelowiges en ons leer God ken as die Een wat mense se lewensgeluk bepaal. In hierdie psalm word die lewenswyse van ’n gelowige met dié van ’n ongelowige gekonmstateer. Die mens wat God se Woord oordink en daarvolgens leef, is soos ’n vrugteboom langs ’n waterstroom wat op die regte tyd sy vrugte dra, en waarvan die blare nie verdroog nie. So iemand ervaar God se seën op alles wat hy aanpak en hy is dus voorspoedig en suksesvol. Die ongelowiges, daarenteen, is soos kaf wat deur die wind verstrooi word en wie se lewe op ondergang afstuur. Dit hang van jou af op watter een van hierdie paaie jy gaan loop. Indien jy gewillig is om jou vreugde in God se Woord te vind en op sý pad te loop, sal Hy jou voorspoedig maak. Maar indien jy weier om vir God te kies, sal jy mettertyd uitvind dat jou lewenspad op ondergang afstuur. Besluit sommer nóú om jou
lewe aan God oor te gee en sy wil en Woord te gehoorsaam.
Hemelse Vader, ek loof U dat ek reeds kon kies om op u pad te loop. Dankie dat U my voorspoedig maak in alles wat ek doen. Amen.
* Ibid., p 742
2 November – God luister na jou stem
2 NOVEMBER
Lees: Psalm 5
God luister na jou stem
U luister na my stem in die môre, Here, in die môre terwyl ek … op U wag … Omdat ek vyande het, Here, leer my tog wat reg is en help my om u wil te doen. – Psalm 5:4, 9
Psalm 5 is ’n oggendgebed waarin die psalmdigter vra dat God hom sal beskerm. Hy weet dat God betrokke is by die lewe van elkeen van sy kinders. In sy nood roep hy na die Here met die versekering dat God na sy stem sal luister en sy gebede sal beantwoord. Hy maak ook tyd om na Gód te luister deur op Hom te wag. Hy vertel God van die mense wat sy lewe versuur en hom te na kom omdat hy weet dat God onreg en kwaad haat. Jy kan ook met vertroue na God gaan wanneer jy sy hulp nodig het. Hy is altyd daar as jy op Hom wag. Soggens, wanneer jy nog vars en uitgerus is, is die beste tyd om met God te kommunikeer. Sorg dat jy élke dag tyd opsy sit om op God te wag en Hom te loof; tyd waarin Hy na jou stem kan luister en jy al jou versoeke na Hom kan bring. God wil jou leer wat reg is en jou help om sy wil te doen. Hoe nader jy aan Hom leef, hoe meer tyd jy vir Hom inruim, hoe duideliker sal jy sy teenwoordigheid in jou lewe ervaar. Hy sal jou ook help om al hoe meer volgens sy voorskrifte te leef. Soos die psalmdigter mag jy bly wees
en jubel omdat Hy jou sal beskerm as jy aan Hom behoort.
Here God, ek weet dat U na my stem luister en my beskerm as ek soggens tyd maak vir U. Dankie vir u belofte dat U my sal beskerm. Amen.
3 November – Lof aan die Skepper
3 NOVEMBER
Lees: Psalm 8
Lof aan die Skepper
Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het! … As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, … wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien? – Psalm 8:2, 4–5
Die psalmdigter besing hier die grootheid van God se skepping: die wonders van die natuur en die hemelruim waaroor Hy regeer. Selfs kinders en suigelinge sien God se grootheid raak en jubel daaroor. God het egter die mens uitgesonder om oor sy skepping te heers. Mense is die kroon van God se skepping; Hy het hulle net ’n bietjie minder as ’n hemelse wese gemaak en hulle met eer en aansien gekroon. Die digter is verwonderd oor die manier waarop God die mens begenadig – want wanneer sondaarmense en hul optrede met die wonder van God se skepping vergelyk word, kom ons keer op keer onder die indruk van hoe klein en nietig die mens werklik is. Tog het mense ’n spesiale status in God se oë. Hy is ons Vader en Hy het ons onvoorwaardelik lief. Hy het ons, net soos sy skepping, wonderlik gemaak. Jý is die kroon van God se skepping; Hy vra van jou om sy skepping te bewaar. Hy kroon jou steeds met eer en aansien, ten spyte van jou sonde. Maak seker dat jy die verantwoordelikheid teenoor die natuur wat God aan jou toegeken het,
nakom. Doen jou bes om die natuur te bewonder en te bewaar.
Here, ek wil saam met die psalmdigter erken dat u Naam wonderbaar is; dat u skepping asemrowend is. Dankie vir u genade aan my. Help my asseblief om my verantwoordelikheid teenoor u skepping getrou na te kom. Amen.
4 November – Noodroep en loflied
4 NOVEMBER
Lees: Psalm 10
Noodroep en loflied
Waarom staan U so ver weg, Here? Waarom trek U U terug in tye van nood? … En die hele tyd het U dit gesien, die lyding en verdriet. U let daarop en maak daar ’n einde aan … U het die gesmeek van die hulpeloses gehoor, Here. U gee hulle nuwe moed. U verhoor hulle gebed. – Psalm 10:1, 14, 17
In die eerste deel van hierdie psalm rig die digter ’n noodroep tot God. Vir hom voel dit asof God ver weg staan; asof Hy hom terugtrek wanneer hy Hom die nodigste het. Aan die einde van die psalm besef hy egter dat die Here die hele tyd dáár was vir hom. Dat Hy sy lyding en verdriet gesien het en daar ’n einde aan sal maak. Nou loof hy God dat Hy sy noodroep gehoor en sy gebed verhoor het. Dat Hy hom altyd nuwe moed in tye van aanvegting gee. Soms, wanneer dit baie moeilik gaan, voel dit vir ons ook asof God ver is; asof Hy Hom nie aan ons smeekgebede steur nie. Maar gelukkig kan dit nooit gebeur nie. God laat nooit sy kinders in die steek nie; Hy is ook nooit ver van ons nie. Hy luister en antwoord áltyd wanneer sy kinders na Hom roep, alhoewel Hy jou soms op sy antwoord laat wag. Jy mag dus seker wees dat wanneer jy na God roep, Hy jou sál antwoord en ’n einde aan jou lyding sal maak – mits jy Hom sal toelaat om dit op sy eie tyd en op sy eie manier te doen.
Hemelse Vader, ek is jammer dat ek ook soms vóél asof U ver van my is, asof U U terugtrek en nie na my wil luister nie. Dankie vir die versekering dat U my swaarkry raaksien, dit sal beëindig, en vir my nuwe moed sal gee. Amen.
5 November – Hoe lank nog, Here?
5 NOVEMBER
Lees: Psalm 13
Hoe lank nog, Here?
Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here? Vir altyd? Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk? Hoe lank moet ek nog my eie planne maak en my dae met kommer deurbring? Hoe lank sal die vyand my nog oorheers? – Psalm 13:2–3
Dit voel vir die psalmdigter hier ook asof die Here hom verlaat het. Hy wil by die Here weet hoe lank hierdie toestand nog gaan voortduur. Hoe lank sal die Here hom bly vergeet, hoe lank sal hy alleen moet regkom, hoe lank sal sy vyande hulle oor hom verlekker? Tog knoop hy in vers 6 sy vertroue aan God vas, ten spyte van sy negatiewe omstandighede. Hy bely dat hy steeds op die Here se troue liefde staatmaak; dat hy God loof omdat Hy hom gered het. Hy sing ’n loflied ter ere van God omdat Hy vir hom goed was. In jou persoonlike krisistye mag jy ook maar vir God vra hoe lank Hy nog van jou gaan wegkyk, en terselfdertyd weet dat God ten spyte van jou emosies steeds by jou is. Dat Hy betrokke is by jou swaarkry, maar jou miskien net ’n bietjie geduld wil leer deur jou op Hom te laat wag. Glo gerus dat Hy weer vir jou uitkoms sal gee, hou vas aan sy troue liefde en dink terug aan al die kere in die verlede toe Hy jou gehelp het. Hy sal dit weer doen – jy mag dus maar ’n loflied tot sy eer sing!
Hemelse Vader, vandag voel dit vir my ook asof U my vergeet het, asof ek in u agterkop vaskyk. Dankie dat ek weet dat dit onmoontlik is. Dat U ten spyte van my negatiewe omstandighede steeds by my is en gereed staan om my te help. Amen.
6 November – Die Here is my lewe
6 NOVEMBER
Lees: Psalm 16
Die Here is my lewe
Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af. ’n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi … U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is. – Psalm 16:5–6, 11
Psalm 16 is ’n geloofslied wat sing van die psalmdigter se kinderlike liefde vir en vertroue in God. Die digter getuig van al die goeie dinge wat die Here reeds vir hom gedoen het en onderneem opnuut om nooit met afgode om te gaan nie. Hy gee vir God die eer vir alles wat hy vermag het en getuig dat God sy lewe is, dat Hy elke dag vir hom sorg. Om hierdie rede loop sy lewe oor van vreugde. Hy erken ook dat alles wat sy lewe die moeite werd maak, van God kom, verklaar sy afhanklikheid van God, en erken God se koningskap. Op grond van sy ondervinding in die verlede, getuig hy dat God ook in die toekoms vir hom sal sorg. Almal van ons loop gevaar om aan ander mense of dinge God se regmatige plek in ons lewe af te staan. Indien jy God se vreugde in jou lewe wil ervaar, sal jy moet onderneem om Hom alleen te dien en alle ander dinge wat vir jou net so belangrik soos God geword het, te laat vaar. Net dán sal jy God se oorvloedige blydskap in jou lewe ervaar en wéét dat Hy jou lewe is.
Hemelse Vader, ek kom bely net weer dat U my lewe is; dat U vir my sorg en dat ek alles wat ek het, van U ontvang het. Skenk my u oorvloedige blydskap. Amen.
7 November – God se openbaring in die natuur en sy Woord
7 NOVEMBER
Lees: Psalm 19
God se openbaring in die natuur en sy Woord
Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend … Die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe. Die onderwysing van die Here is betroubaar: dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is … Die gebod van die Here is helder: dit gee insig. – Psalm 19:2, 8–9
Beide die natuur en die wet vertel ons meer van God. Die natuur verkondig God se majesteit en mag, terwyl God se Woord vir ons die regte lewenskoers aandui. As ons wil weet wat God se wil is, behoort ons sy Woord te lees en sy wet te gehoorsaam. God praat met sy kinders deur die natuur en deur sy Woord. In die natuur sien ons sy skeppingsmag en heerskappy, en in sy Woord ontmoet ons Hom, tree Hy in gesprek met ons en kan ons Hom op sy Woord antwoord. Die psalmdigter ondersoek homself in die lig van God se Woord en die Woord wys hom ook op die verkeerde dinge wat hy doen. Jy kan God vandag steeds in die wonders van sy skepping raaksien en Hom persoonlik met jou hoor praat in sy Woord wanneer jy jou Bybel lees. In sy Seun – die Woord wat mens geword het – leer ken jy God se liefde vir jou. En in die lig van hierdie Woord kan jy God vra om jóú woorde en gedagtes aanneemlik te
maak vir Hom.
Hemelse Vader, ek loof U vir die natuur wat van u mag getuig en vir u gebooie wat my leer hoe ek moet lewe. Dankie dat ek U beter kan leer ken in die lewe van u Seun, die Woord wat mens geword het vir my. Amen.
8 November – Verhoring van gebed
8 NOVEMBER
Lees: Psalm 22:20–29
Verhoring van gebed
En U, Here – moet tog nie so ver bly nie, Bron van my krag, help my tog gou! … U het my gebed verhoor! Ek sal tot eer van u Naam getuig in die gemeente, U in die volle vergadering prys. – Psalm 22:20, 22–23
Die psalmdigter smeek God om nie so ver van hom te bly nie, om hom gou te help, omdat sy vyande soos leeus is wat op hom afstorm. En God antwoord sy gebed: skaars drie verse verder getuig die digter dat God sy gebed verhoor het; dat hy tot eer van God sal getuig in die gemeente. Die laaste deel van die psalm is dus ’n loflied waar die psalmdigter God loof vir sy tydige hulp. God is nooit doof vir die nood van sy kinders nie. Hy het Jesus juis aan die kruis verlaat, sodat óns nooit weer sonder Hom hoef te wees nie. Al gaan dit ook hóé sleg met jou, mag jy seker weet dat God jou sal help, dat Hy jou gebede sal verhoor. Hy is jou enigste toevlug as alles teen jou draai, ook wanneer dit soms verkeerdelik vir jou vóél asof Hy ver is. Moet dus nie aarsel om tot Hom te nader en Hom te vertel van al jou ellende nie. God verhoor altyd die noodgebede van sy kinders; Hy antwoord wanneer sy kinders na Hom roep. Wanneer God jou gebede beantwoord het, skuld jy Hom ’n loflied. Jy behoort dan vir almal om jou te vertel hoe goed God vir jou was.
Hemelse Vader, ek loof U dat U my gehelp het toe dit werklik sleg met my gegaan het. Baie dankie dat U nooit doof is wanneer U kinders by U om hulp aanklop nie, maar altyd bereid is om te help. Amen.
9 November – Met Jesus as jou Herder
9 NOVEMBER
Lees: Psalm 23
Met Jesus as jou Herder
Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is. Hy gee my nuwe krag … Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig. – Psalm 23:1–4
Psalm 23 begin met ’n geloofsbelydenis: ómdat die Here sy herder is, kom die psalmdigter niks kort nie. In hierdie herderspsalm word God se versorgende liefde vir sy kinders uitgespel. Hy maak seker dat hulle alles het wat hulle nodig het; Hy versorg, lei en beskerm hulle teen alle gevare. Die psalm sluit aan by Jesus se belofte in Johannes 10, waar Hy sê dat Hy die goeie herder is wat sy skape beskerm en elke skaap op sy naam ken. Die skape ken hul herder se stem en volg Hom. Jesus is ook die hek van die skape: net deur in Hóm te glo, kan ons by die hemel uitkom. As Jesus jóú herder is, het jy ook die versekering dat jy niks sal kortkom nie, dat Hy in gevare en krisisse by jou sal wees en jou daardeur sal lei. Dan kan jy die belofte dat Hy vir jou plek in die Vaderhuis gereedmaak, vir jou toe-eien. Daar sal jy ná jou aardse lewe verby is, vir altyd saam met Hom wees. Jy mag dus nou met vertroue en rustigheid leef, mits jy ’n skaap van hierdie Herder is. Hy het jou immers só lief dat Hy sy eie lewe ter wille van jou prysgegee het. By Hom is
jy vir altyd veilig.
Here Jesus, ek aanbid U as die goeie Herder wat my ken, lei, bewaar en vir my sorg. Dankie vir die belofte dat ek ééndag vir altyd gelukkig by U sal wees. Amen.
10 November – God is in beheer
10 NOVEMBER
Lees: Psalm 29
God is in beheer
Die stem van die Here laat weerlig uitslaan. Die stem van die Here laat die woestyn bewe … Die Here heers oor die watermassas, Hy heers vir altyd as koning. Die Here gee krag aan sy volk; die Here seën sy volk met oorvloed. – Psalm 29:7–8, 10–11
Psalm 29 is ’n oproep om God te loof vir sy almag en sy Naam te eer. In die natuur kry ons ’n duidelike beeld van presies hóé magtig God is. Sy Stem laat die weerlig uitslaan en die woestyn bewe. Hy heers oor die natuur, en Hy is Koning vir altyd. Spurgeon het gesê dat ’n mens hierdie psalm eintlik tydens ’n donderstorm behoort te lees. Wanneer ’n mens so ’n storm beleef, staan jy verwonderd oor God se krag; oor die feit dat sy Stem beroering in die natuur bring. Maar God se Stem bring ook orde uit die chaos: ná die storm heers daar gewoonlik kalmte wat vir ons sê dat God krag aan sy volk gee en hulle met oorvloed seën (vgl Psalm 29:11). God hou nie net die natuur in sy hand nie, maar ook die geskiedenis: Hy is in beheer van alle dinge. Op die oomblik beleef ons ’n stormagtige stuk van ons geskiedenis. Soms lyk dit selfs vir ons asof God nie meer in beheer ís nie. Maar dit is gelukkig onmoontlik. Net soos Hy die chaos in die natuur tot rus kan bring, kan God in die chaos van jóú omstandighede ’n positiewe verandering teweeg
bring en jou met oorvloed seën. Vertrou Hom hiervoor!
Hemelse Vader, u almag en majesteit slaan my asem weg wanneer ek ’n donderstorm beleef. Dankie dat U in beheer is; dat U alle onrus in my lewe tot rus kan bring soos U dit met die storm doen. Amen.
11 November – God vergewe sonde
11 NOVEMBER
Lees: Psalm 32
God vergewe sonde
Dit gaan goed met die mens wie se oortredings nie gestraf word nie, wie se sonde vergewe word … Toe ek oor my sonde geswyg het, het my liggaam uitgeteer soos ek heeldag om hulp geroep het … Toe het ek my sonde bely, my oortreding nie weggesteek nie … en U het my skuld vergewe. – Psalm 32:1, 3, 5
In Psalm 32 bely die digter sy sonde voor God, vra hy Hom om dit te vergewe. Met die digter gaan dit baie sleg wanneer hy swyg oor sy sonde. Sodra hy egter sy sonde bely, en God dit vergewe, verander die prentjie heeltemal. Nou getuig hy dat dit met hom goed gaan, dat God vir hom ’n veilige skuilplek is wat hom teen aanvalle beskerm en hom oorwinningsliedere laat sing. God sal hom ook onderrig en vir hom die pad aandui wat hy moet volg; Hy wil hom raadgee en sy oog oor hom hou. Wanneer ’n mens nalaat om jou sonde te bely, is jy ewe-eens ongelukkig. Dit is dus raadsaam om jou sondes in oënskou te neem en elkeen van hulle voor God te bely. Wanneer jy jou sondes bely, is God getrou en regverdig om hulle te vergewe en jou van alle ongeregtigheid te reinig, beloof Johannes (1 Johannes 1:9). Jy hoef niks te doen om God se vergifnis te verdien nie, Jesus het reeds daarvoor aan die kruis betaal. Jy behoort egter gewillig te wees om hierdie sonde wat jy bely het, te laat staan. Sodra jy jou sonde bely, het jy die versekering dat
dit vergewe is. Nou mag jy jou soos die psalmdigter in God verbly en Hom loof!
Here, dankie dat Jesus reeds die losprys vir my sondes aan die kruis betaal het, sodat U nou gewillig is om elkeen van hulle te vergewe. Amen.
12 November – God sorg vir jou en vervul jou hartsbegeertes
12 NOVEMBER
Lees: Psalm 37:1–7, 23–31
God sorg vir jou en vervul jou hartsbegeertes
Wees bly in die Here, en Hy sal jou hartsbegeertes aan jou gee. Vertrou jou lewe toe aan die Here. Vertrou Hom, en Hy sal vir jou sorg. – Psalm 37:4–5 (Nuwe Lewende Vertaling)
Die digter van Psalm 37 pleit dat God hom sal red omdat hy deur ongelowiges verkleineer word, en dit vir hom lyk asof dit baie beter met húlle gaan as met hom. Hierdie psalm stel die goddelose wat sy vertroue in aardse dinge stel teenoor die gelowige wat daarop vertrou dat God sy begeertes waar sal maak en vir hom sal sorg. Dit lyk soms vir óns ook asof dit baie voorspoediger met ongelowiges as met gelowiges gaan, maar dit is net ’n aardse perspektief. Hier op aarde kry God se kinders wel swaar, maar ons het die belofte dat die hemel vir ons wag – daar waar álle swaarkry eendag iets van die verlede sal wees. Jy hoef dus nie langer so hard te baklei om bo uit te kom nie – God is reeds aan jou kant. Hy veg vir jou, en saam met Hom is jy nou reeds meer as ’n oorwinnaar. Indien jy soos die psalmdigter bereid is om volkome afhanklik van God te leef, om Hom vir al die dinge te vertrou wat jy nodig het, mag jy inderdaad – ongeag jou negatiewe omstandighede hier op aarde – rustig woon en werk met die sekerheid dat God vir jou sal onderneem. Moenie langer die suksesvolle ongelowiges beny nie – hou vas aan God se beloftes en vertrou op
Hom. Dan het jy die versekering dat Hy vir jou sal sorg en elkeen van jou hartsbegeertes waar sal maak.
Hemelse Vader, ek loof U vir die belofte dat U my hartsbegeertes waar sal maak en elke dag vir my sal sorg. Amen.
13 November – Verlange na God
13 NOVEMBER
Lees: Psalm 42
Verlange na God
Soos ’n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God. Ek dors na God, na die lewende God … Dag en nag is ek in trane, want sonder ophou sê hulle vir my: “En waar is jou God nou?” – Psalm 42:2–4
Die psalmdigter verlang na God soos ’n wildsbok na water. Dit is ’n dringende verlange – ’n wildsbok het water nodig om aan die lewe te bly. Uit die volgende paar verse blyk dit duidelik dat dit sleg met die psalmdigter gaan: hy is as banneling weggevoer of op die vlug vir sy vyande. Hy bly in trane en sy teenstanders wil by hom weet waar sy God is. Dan dink hy terug aan die verlede toe dit goed gegaan het en hy God geloof het. Hy kan nie verstaan waarom God toelaat dat dit nou so sleg met hom gaan nie. Hy is ook ver van die tempel wat deur die Israeliete as die ontmoetingsplek met God beskou is. Tog hoop hy dat God weer sy trou sal laat blyk; hy onderneem om op God te vertrou, sodat hy eendag weer vir hom ’n loflied sal kan sing. In die laaste vers van die psalm spreek hy homself aan en maan homself om op te hou kerm, en eerder vir God te loof. Wanneer dit werklik sleg gaan, het ons ’n verlange na God se teenwoordigheid. Ons smag daarna dat God ons sal help soos in die verlede. Neem gerus die psalmdigter as voorbeeld: hou aan om op God te vertrou, Hy sál sy trou laat
blyk, sodat jy in die toekoms weer vir Hom ’n loflied sal kan sing.
Here God, ek verlang na U teenwoordigheid soos ’n wildsbok na water – laat blyk weer U trou sodat ek U kan loof soos in die verlede. Amen.
14 November – God is by jou
14 NOVEMBER
Lees: Psalm 46
God is by jou
God is vir ons ’n toevlug en ’n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood. Daarom is ons nie bang nie … Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons ’n beskutting. – Psalm 46:2–3, 8
God het sy volk nog altyd gehelp en hulle teen gevare beskerm. Om hierdie rede behoort hulle vir niks bang te wees nie, selfs al ervaar hulle lewensbedreigende natuurrampe: aardbewings en waters wat druis en skuim … As gevolg van God se wonderdade in die verlede, weet hulle dat God nog steeds vir hulle ’n toevlug in nood is; Iemand wat nog altyd bereid was om hulle te help in noodsituasies, by Wie hulle veilig voel wanneer die gevaar dreig. Hierdie belofte is aan die adres van elkeen van God se kinders gerig: ook ons mag stil wees en seker wéét dat die God wat ons aanbid vir ons ’n toevlug is in gevaartye; dat Hy ons te alle tye sal be-skerm en bewaar. Om hierdie rede hoef jy nooit bang te wees nie; al gebeur wat ook al met jou, mag jy seker weet dat jy veilig is, omdat jy vir God by jou het. Wanneer jy weer in ’n gevaarsituasie verkeer, word gerus stil en dink aan Wie God is: die Almagtige Skeppergod wat jou teen élke gevaar veilig kan en sal hou. Jy hoef selfs nie langer vir die dood bang te wees nie, want Jesus het óók dit in jou plek aan die kruis oorwin.
Here Jesus, ek loof U dat U God by my is, dat U vandag nog vir my ’n toevlug en beskerming is, dat U my bewaar in gevaartye. Dankie dat ek vir niks bang hoef te wees nie, omdat U in my lewe teenwoordig is. Amen.
15 November – Here, maak my ’n nuwe mens!
15 NOVEMBER
Lees: Psalm 51
Here, maak my ’n nuwe mens!
Wis tog my sonde uit, op grond van u barmhartigheid. Was my skoon van my skuld. Reinig my van my sonde … Skep vir my ’n rein hart, o God. Gee my ’n nuwe, standvastige gees. – Psalm 51:3–4, 12 (Nuwe Lewende Vertaling)
Dawid ontdek in hierdie psalm iets wat élke Christen behoort te weet: dit is onmoontlik om in ’n hegte verhouding met God te leef en nog steeds sonde in jou lewe te vertroetel. Dit lyk asof Dawid se sonde hom nie eintlik pla vóórdat Natan dit by die naam noem nie. En dit terwyl hy dit goed vind om na ’n kaal vrou te kyk en haar te begeer, haar na sy paleis laat kom, by haar slaap en boonop haar man laat doodmaak as sy swanger raak sodat hý met haar kan trou! Sodra Dawid egter sy sonde besef, is hy onmiddellik bereid om sy sonde te bely. Hy besef dat die sonde ’n wig tussen hom en God veroorsaak het, en dat hy direk teen Gód gesondig het, daarom smeek hy God om hom te vergewe. Jy kan hierdie pragtige klassieke sondebelydenis gebruik om jou persoonlike sonde teenoor God te bely en Hom te vra om jóú ook nuut te maak. Hierdie psalm leer jou dat álmal van ons as sondaars gebore is; dat jy nooit God se vreugde in jou lewe sal ervaar of naby Hom kan leef as jy aanhou om sonde te doen nie. Volg Dawid se voorbeeld en bely jou sonde sodra jy daarvan bewus word. Anders as Dawid, weet jy dat Jesus reeds God se vergifnis vir jou aan die
kruis verdien het.
Here Jesus, vergewe asseblief my baie sondes en maak my nuut. Ek loof U dat U reeds God se vergifnis vir my aan die kruis verdien het. Amen.
16 November – Rus, veiligheid en arms vol krag
16 NOVEMBER
Lees: Psalm 62
Rus, veiligheid en arms vol krag
Net by God vind ek rus, van Hom kom my redding … Net by God vind ek rus, want op Hom vertrou ek. – Psalm 62:2, 6
Die psalmdigter is van één ding baie seker: ware rus is net by God te vinde; dit is net Hy wat kan red. Die Boodskap se weergawe van hierdie psalm is vir my besonders: “Ek is rustig wanneer ek by die Here is. Dit is Hy wat my elke keer red as ek in die moeilikheid beland … Ek het vir myself gesê: Word stil en rustig by die Here. Om by Hom te wees gee vir my hoop … Hy beskerm en red my.” Hedendaagse mense lewe teen ’n gejaagde tempo. Ons is feitlik nooit meer rustig nie, omdat ons net te veel hooi op ons vurk het en daar nie genoeg ure in ons dag is om alles klaar te kry nie. Ons lewe ook meestal in vrees, omdat daar so baie misdaad en geweld om ons is, en juis vanweë ons oorvol programme raak ons maklik moeg en moedeloos. Jy kan gerus jou knaende vrees en moegheid met God deel: “Hy is soos ’n wegkruipplek waar ek veilig is. Daarom sal niks my onderkry nie … Ek kry arms vol krag wanneer ek voor Hom staan met my probleme,” verseker Psalm 62:7–8 jou (Die Boodskap). As jy die geheime wat vir jou in Psalm 62 deurgegee word eers ontdek het, sal jy wéét waar om rus, veiligheid en arms vol krag te kry. So volg gerus die
psalmdigter se voorbeeld en word rustig by God, Hy wil jou lewe heelmaak, jou red en beskerm en vir jou al die krag gee wat jy nodig het.
Hemelse Vader, ek loof U dat U my rustig maak, dat U vir my ’n veilige wegkruipplek teen gevare bied en vir my arms vol krag gee. Amen.
17 November – Beter as die lewe
17 NOVEMBER
Lees: Psalm 63
Beter as die lewe
O God, U is my God, ek soek na U, ek smag na U; my hele liggaam verlang na U soos ’n dor land sonder water … As ek op my bed lê en aan U dink, oor U nadink in die nag, onthou ek hoe U my gehelp het. Dan wil ek sing in die skaduwee van u vleuels. – Psalm 63:2, 7–8 (Nuwe Lewende Vertaling)
Psalm 63 is heel waarskynlik tydens Dawid se verblyf in die Judawoestyn geskryf. “U liefde is beter as die lewe,” lui die opskrif van hierdie psalm waarin die digter se verlange na God pragtig verwoord word met woorde soos “soek”, “smag” en “dors”. Die psalmdigter loof God vir sy troue liefde, dit is vir hom selfs meer werd as die lewe. Hy getuig dat hy elke nag wanneer hy nadink oor God, onthou hoe Hy hom in die verlede gehelp het en hom in die skadu van sy vleuels beskerm het. Elke mens word met ’n verlange na God gebore. Dit is net wanneer jy God ontmoet en Hom in jou lewe innooi, dat jy ware gemoeds-rus en tevredenheid sal ervaar. Net die teenwoordigheid van God in jou lewe kan jou tot rus laat kom en jou ingebore soeke na Hom beëindig. Dit is gerusstellend dat God jou steeds sy rus en besker-ming wil aanbied; dat daar, digby Hom, nog altyd vir jou hulp en redding te kry is. Hy oordek jou met sy vleuels en ondersteun jou; sy regterhand hou jou staande. Daarom kan jy God gerus sáám met die psalmdigter prys!
Hemelse Vader, ek loof U omdat u liefde vir my inderdaad beter as die lewe is. Baie dankie dat ek u teenwoordigheid elke dag mag ondervind, dat U my beskerm en ondersteun. Amen.
18 November – Nou dat ek oud geword het
18 NOVEMBER
Lees: Psalm 71
Nou dat ek oud geword het
U het my van jongs af onderrig, o God, en ek getuig nou nog van u kragtige dade. Nou dat ek oud en grys geword het, moet U my tog nie alleen laat nie, o God, dat ek nog aan die geslagte wat kom, kan vertel van u werk en u mag. – Psalm 71:17–18
Hierdie psalm is die lied van ’n godvresende bejaarde wat terugkyk oor ’n lewe van toewyding aan God. Op die oomblik ervaar hy egter die vrese wat die ouderdom met hom saambring aan sy eie lyf, daarom vra hy dat God by hom sal wees en hom sal verlos. Hy getuig terselfdertyd van al die goeie dinge wat God vir hom in die verlede gedoen het, en versoek God om hom tog nie alleen te laat nou dat hy oud geword het nie. Hy onderneem ook om aan die geslagte wat kom van God se werk en verlossingsmag in sy eie lewe te vertel. Omdat ek self nie meer so jonk is nie, is hierdie psalm vir my ’n riem onder die hart. Dit verseker my dat God my van jongs af gedra het en dat Hy ook nou dat ek ouer is, steeds by my sal wees om my te help soos Hy in die verlede gedoen het. As jy self nie meer so jonk is nie, mag jy die beloftes van Psalm 71 vir jou neem: God bly by sy kinders deur die verloop van hul hele lewe. Ook wanneer jy ouer en swakker word, het jy Hom by jou om jou te help en kan jy van sy kragtige dade getuig.
Here, hoe goed is U nie, dat U my van jongs af gedra het; dat U nou dat ek oud geword het, nog steeds by my is om my te lei en te help. Amen.
19 November – Wanneer God ánders optree
19 NOVEMBER
Lees: Psalm 77
Wanneer God ánders optree
Ek het gesê: “Dit is my droefheid: dat die Allerhoogste nie optree soos Hy voorheen gedoen het nie.” Here, ek onthou wat U gedoen het, u wonderlike dade van destyds … U is die God wat wonders doen! U het u mag aan die nasies getoon. – Psalm 77:11–12, 15 (Nuwe Lewende Vertaling)
In hierdie psalm is die digter se probleem dat God volgens sý oordeel nou skielik ánders optree as in die verlede. Sy negatiewe omstandighede laat hom slapelose nagte beleef. Vir hom voel dit asof God verander het, asof Hy hom nie meer help en ondersteun soos voorheen nie. Tog, wanneer hy aan sy verlede terugdink, onthou hy al die wonders wat God in sy lewe gedoen het. Uiteindelik kom hy tot die gevolgtrekking in vers 15: “U is die God wat wonderdade doen! U het u mag onder die volke geopenbaar.” Indien jy negatiewe tye beleef; wanneer jy na God soek en Hom nie kan kry nie; as jy bid en geen antwoorde op jou gebede kry nie, mag jy óók dalk begin dink dat God anders optree, dat Hy jou nie meer liefhet of vir jou omgee nie. Indien dit ooit met jou gebeur, volg die voorbeeld van die psalmdigter: dink terug aan jou verlede en onthou al die baie kere dat God jou gehelp, in jou lewe ingegryp en jou omstandighede verander het. God is steeds tot wonders in staat. Vertrou Hom om hierdie wonders in jou eie lewe te ontplooi, sodat ander mense dit sal
raaksien en aan Hom die lof daarvoor sal gee.
Hemelse Vader, vergewe my asseblief dat my swaarkry van die oomblik my aan U liefde vir my laat twyfel het … Dankie vir die versekering dat U nog dieselfde liefdevolle Vader van die verlede is wat slaggereed is om my te help. Amen.
20 November – In God se teenwoordigheid
20 NOVEMBER
Lees: Psalm 84
In God se teenwoordigheid
Hoe lief het ek u woning, Here, Almagtige! Ek versmag van verlange na die tempel van die Here … Selfs ’n mossie het ’n nes en ’n swaeltjie ’n plek vir haar kleintjies daar by u altare … Dit gaan goed met mense vir wie u huis ’n tuiste is: hulle hou nie op om U te prys nie. – Psalm 84:2–5
In die Ou Testament was die tempel in Jerusalem die plek waarheen mense gegaan het om God te ontmoet, om in sy teenwoordigheid te verkeer. Daar, digby God, is elkeen van sy skepsels veilig en geborge. Hy sorg selfs vir die mossies en die swaeltjies. Aan die begin van hierdie psalm bieg die digter dat hy na die teenwoordigheid van God in sy lewe hunker. Daar is ook ’n belofte in die psalm ingebou: Dit gaan goed met dié mense wat naby God bly, die-gene wat Hom prys en liefhet. Hy gee vir hulle fonteine in die woestyn en seën hulle. Hy stel sy krag tot hul beskikking. Een dag in God se teenwoordigheid is inderdaad beter as duisend dae sónder Hom. In die nuwe Testament, met die uitstorting van die Heilige Gees, verander hierdie scenario. God se kinders is nou sy tempels: deur sy Heilige Gees woon Hy in elkeen van óns, sodat ons Hom nie meer in ’n gebou hoef te soek nie,
maar weet dat ons elke dag in sy teenwoordigheid kan deurbring. As jy na God verlang, kan jy net jou oë sluit en met Hom praat.
Here, dankie dat ek U nie langer in geboue hoef te gaan soek nie, maar seker weet dat U deur u Gees Self in my woon, sodat ek nou elke dag u seënende teenwoordigheid in my lewe mag ervaar. Amen.
21 November – God, jou tuiste
21 NOVEMBER
Lees: Psalm 90
God, jou tuiste
Here, U was vir ons ’n toevlug van geslag tot geslag … Ons lewe maar sewentig jaar, of, as ons baie sterk is, tagtig, en dié is vol swaarkry en leed. Dit is gou verby … Skenk ons elke dag u liefde in oorvloed, dat ons ons lewe lank mag juig en bly wees. – Psalm 90:1, 10, 14
Die Israeliete het twee woorde vir ’n woonplek, naamlik bajit, wat gewoonlik met huis vertaal word, en mahoon, wat tuiste beteken. Dit is laasgenoemde woord wat in Psalm 90:1 met “toevlug” vertaal word. God is vir sy kinders ’n toevlug; ’n ware tuiste. By Hom voel hulle veilig en geborge, ook al word hulle uitgelewer aan die swaarkry en verdriet wat deel vorm van die lewe hier op aarde. Indien dit op die oomblik met jou persoonlik baie sleg gaan, mag jy met vertroue aan die beloftes in Psalm 90 vashou: God wil vir jou ’n skuilplek wees, by Hom is jy altyd tuis en Hy waarborg jou veiligheid, ongeag jou omstandighede. Alhoewel jy nie van swaarkry en verdriet gevrywaar word nie, het jy die versekering dat Hy by jou is, dat Hy jou nooit sal verlaat nie. Hy wil jou elke oggend wanneer jy voor Hom stil word, opnuut van sy liefde en genade vir jou verseker, sodat jy, ook al gaan dit nie goed nie, steeds van vreugde sal kan sing. Hy waarborg vir jou vrede ná jou lyding en beloof om die werk van jou hande te
seën en te bevestig.
Hemelse Vader, dis wonderlik om te weet dat U vir my ’n toevlug wil wees, ’n tuiste waar ek te alle tye veilig en geborge is. Dankie dat ek op u liefde mag reken, sodat ek my lewe lank met vreugde mag leef. Amen.
22 November – God beskerm sy kinders
22 NOVEMBER
Lees: Psalm 91
God beskerm sy kinders
Hy sal jou oordek met sy vere, en onder sy vlerke sal jy skuil; sy trou sal jou beskerm soos ’n skild … Al sou duisend langs jou val, of tienduisend om jou sterf, naby jou sal dit nie kom nie … “Hy wat My liefhet, sal Ek verlos; Hy wat my Naam ken, sal Ek beskerm.” – Psalm 91:4, 7, 14 (Nuwe Lewende Vertaling)
In hierdie psalm kry God se kinders die belofte dat Hy hulle oral en onvoorwaardelik sal beskerm (vers 1–13). Die rede hiervoor word in vers 14–17 verduidelik: God beskerm ons omdat Hy ons liefhet. Die lees van hierdie psalm gee my altyd ’n heerlike gerusstelling: ek hoef vir absoluut niks bang te wees nie, omdat ek die versekering het dat God my te alle tye en teen elke denkbare tipe gevaar veilig sal hou. Dat Hy by my sal wees wanneer my lewe bedreig word, en dat hierdie net van beskerming bedags én snags duur. Die wêreld waarin ons woon, is tans gevaarliker as ooit. In hierdie land, waar ons daagliks aan misdaad en geweld blootgestel word, mag ons steeds aan God se belofte van bewaring vashou. Ook jy word elke oomblik van jou lewe deur God beskerm as jy in Hom glo. Hy stuur sy engele om jou te bewaar. Jy mag dus hierdie psalm se beloftes vir jou persoonlik toe-eien. Net soos God jou in die verlede beskerm het, onderneem Hy om dit ook in die toekoms te doen. Sy beskerming is boonop nie beperk tot sekere plekke nie – God is óral by jou, waar
jy ook al mag gaan.
Hemelse Vader, ek loof U dat ek daglank onder die sambreel van u beskerming mag leef met die seker wete dat ek niks hoef te vrees nie omdat U by my is. Amen.
23 November – Erken God se grootheid
23 NOVEMBER
Lees: Psalm 95
Erken God se grootheid
Kom laat ons ons Here eer. Laat ons lofliedere uit volle bors sing, want Hy het ons gered. Laat ons na Hom toe gaan met al die dankies wat uit die diepte van ons hart kom … Die see het Hy gemaak en soos ’n kunstenaar het Hy die aarde met sy hande gevorm … Kom ons buig voor God en erken Hom vir hoe groot Hy regtig is. – Psalm 95:1–2, 4, 6 (Die Boodskap)
Wanneer ons vroegoggend langs Struisbaai se uitgestrekte strand stap en sien hoe die son blink weerkaats in die vlakwaterspieël van die sand, hoe ’n uitbundige skool dolfyne in sierlike boë verbyswem of hoe die water na ’n onwerklike glasgroen verkleur wanneer dit bewolk is, is ons elke keer opnuut verwonderd oor die Skeppergod se grootheid. Dan trek ek Psalm 95 nader as ons klaar gestap het, en lees die verse hierbo. Ek sluit gewoonlik af met vers 6 en 7: “Kom ons kniel nederig voor die Heer wat ook vir ons gemaak het. Want Hy is ons God en ons is sy mense.” Watter wonderlik voorreg om God te mag liefhê! Om Hom as óns God te mag ken en ons elke dag in die wonders van die natuur te kan verlustig. Maak seker dat jy nooit God se skepping as vanselfspre-kend beskou of die skoonheid daarvan ignoreer nie. Laat dit eerder elke keer vir jou as ’n oproep tot aanbidding dien, ’n kans om God se grootheid en almag te erken.
Here God, hoe groot is U! As ek na die dinge kyk wat U gemaak het, kan ek nie anders as om in aanbidding voor U te kniel nie. Ek wil U loof omdat U ook vir mý wonderlik gemaak het. Dankie dat U mý God is en dat ek U mag dien en liefhê. Amen.
24 November – Dien God met blydskap
24 NOVEMBER
Lees: Psalm 100
Dien God met blydskap
Juig tot eer van die Here, almal op aarde! Dien die Here met blydskap! … Erken dat die Here God is: Hy het ons gemaak en ons is Syne, ons is sy volk, sy eie kudde. – Psalm 100:1–3
Die psalmdigter roep hier almal op aarde, maar spesifiek die volk van God, op om Hom te loof en Hom met blydskap te dien. Elke mens behoort te erken dat die Here die enigste God is; dat Hy ons gemaak het en dat ons dus aan Hom behoort. In die tweede deel van die psalm word die gemeente opgeroep om God se tempel met dankliedere en lofsange binne te gaan, om Hom te dank en sy Naam te prys. Die psalmdigter is van mening dat hierdie dank God toekom omdat Hy so goed is vir sy kinders; omdat sy troue liefde vir altyd aanhou en sy trou van geslag tot geslag strek. Jy behoort óók aan die Here. Is jý dankbaar genoeg vir alles wat God vir jou doen? As jy ’n lysie maak van al die redes waarom jy dank aan God verskuldig is, vir alles wat Hy vir jou gee en doen, sal jy besef dat jy Hom ook – sáám met die hele wêreld – met blydskap behoort te dien en behoort te erken dat Hy alleen God is. Elke Sondag het jy ’n geleentheid om saam met jou gemeente in jul kerkgebou bymekaar te kom om God te loof. Sorg dat jou plek daar nooit leeg sal wees nie!
Here God, ek wil tot U eer juig en U met blydskap dien. Baie dankie dat ek u kind is, dat U my gemaak het en ek aan U behoort. Ek wil U ook saam met die psalmdigter en Sondae saam met my medegelowiges loof vir u liefde vir my. Amen.
25 November – God se werke is groot!
25 NOVEMBER
Lees: Psalm 111
God se werke is groot!
Die werke van die Here is groot, almal wat daarin vreugde vind, dink daaroor na. Sy dade is vol majesteit en luister, sy trou staan vir altyd vas. – Psalm 111:2– 3
Psalm 111 is ’n pragtige loflied oor die werke, dade en eienskappe van die Skeppergod. Weer word mense opgeroep om God te loof, en hierdie keer gee die psalmdigter sommer sélf die redes waarom Hy God wil loof: God se werke is groot, sy dade is vol majesteit, sy getrouheid staan vir altyd vas. Dit is veral God se kinders wat aan die ontvangkant van sy trou staan, want God sorg vir en voed hulle; Hy onderhou die verbond wat Hy met hulle gesluit het. In vers 7 en 8 word God se voorskrifte aan sy volk gegee, sodat daar orde in die samelewing kan wees. Hulle is terselfdertyd ’n riglyn vir die lewens van die mense wat Hom dien, en hulle behoort gehoorsaam te word uit dankbaarheid vir God se getrouheid. Aan die einde van die psalm getuig die digter dat ware wysheid beteken om jou lewe in te rig volgens hierdie voorskrifte wat in God se Woord uiteengesit word. Jy mag nooit gewoond raak aan God se skeppingswonders in die natuur nie, maar behoort vreugde daarin te vind en gereeld daaroor na te dink. Dink aan al die eienskappe van God en dank Hom vir elkeen van hulle. Loof Hom ook dat
Hy vir jou sorg en altyd doen wat Hy beloof het. As jy waarlik gelukkig wil wees, behoort jy jou hele lewe volgens sy voorskrifte in te rig.
Here God, ek loof U vir u dade vol majesteit en luister, vir u getrouheid wat vir altyd duur. Gee vir my die wysheid om u voorskrifte na die letter na te kom en die riglyne in u Woord te gehoorsaam. Amen.
26 November – Gevare langs die pad
26 NOVEMBER
Lees: Psalm 121
Gevare langs die pad
Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Hy sal nie toelaat dat jy struikel nie; Hy wat jou beskerm, slaap nooit nie … Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan, nou en vir altyd. – Psalm 121:1–3, 8
Psalm 121 is heel waarskynlik die lied van ’n pelgrim wat op pad is na die tempel in Jerusalem. Die pad waarlangs hy moet reis, is boordensvol gevare. Wanneer hy na die berge voor hom kyk, besef hy dat daar gevare skuil, maar hy weet óók dat as hy ’n bietjie hoër kyk, God daar is om Hom te beskerm en te bewaar teen élke gevaar wat hy langs hierdie pad mag teëkom. God sal sy voet teen struike-ling bewaar en hom beskerm, en boonop is God te alle tye vir hom beskikbaar omdat Hy nooit slaap nie. Ons lewenspad is deesdae ook maar vol gevare. Soos die pelgrim van ouds mag jy seker wees dat jou hulp van God kom; dat Hy jou te alle tye sal beskerm en jou van struikeling sal bewaar, dat Hy Self oor jou sal waghou. God se kinders kan aan die belofte in Psalm 121 vashou: dat hulle bedags én snags op Hom kan vertrou om hulle veilig te hou. In gevaarsituasies mag jy dus met vertroue na God opkyk. Hy onderneem om jou deur die gevare te dra en jou te be-skerm. “Die Here hou wag oor jou, of jy kom of gaan, nou en vir altyd,” beloof vers 8
(Nuwe Lewende Vertaling).
Hemelse Vader, dis so gerusstellend om te mag weet dat U elke oomblik van die dag én nag by my is om my lewenspad saam te stap en my teen gevare te beskerm. Dankie hiervoor! Amen.
27 November – Alles tevergeefs sónder God
27 NOVEMBER
Lees: Psalm 127
Alles tevergeefs sónder God
As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs. As die Here die stad nie beskerm nie, waak dié wat dit beskerm, tevergeefs. Tevergeefs dat julle vroeg opstaan en laat gaan slaap om met moeite ’n bestaan te maak. Vir dié wat Hy liefhet, gee die Here dit in hulle slaap. – Psalm 127:1–2
Sonder God in ons lewe is alle dinge uiteindelik tevergeefs; sonder sy seën in ons lewe is alles volkome sinloos. Dit is van Hom wat al die goeie dinge kom. As Hy nie aan die stuur van ons lewe is nie, kan ons lewe op aarde nooit werklik suksesvol wees nie. Maar wanneer ons aan Hóm behoort, val alle dinge in plek. Al dié dinge waarvoor ongelowiges so hard werk, gee die Here vir sy kinders sonder enige moeite. Sonder Hom gaan ons niks regkry nie, maar sáám met Hom is ons in alle omstandighede meer as oorwinnaars. God is die Bron van alle goeie dinge in jou lewe. Dit is Hy wat jou elke dag beskerm, wat vir jou kinders gee. Van Hom kom jou gesondheid, jou vermoëns, jou lewenskrag. Absoluut álles wat jy het, kom van die Here. Jy verdien niks hiervan nie, en daarom mag jy die feit dat alles wat jy het en is bloot genade uit God se hand is, nooit uit die oog verloor nie. Lewe eerder elke dag in volkome afhanklikheid van God en dank Hom elke dag vir al die goeie dinge wat Hy so oorvloedig aan jou skenk.
Here, baie dankie vir al die goeie dinge wat U elke dag so onverdiend vir my gee. Ek weet dat ek niks sonder U kan regkry nie, maar dat ek sáám met U altyd ’n oorwinnaar sal wees. Amen.
28 November – God gee kalmte
28 NOVEMBER
Lees: Psalm 131
God gee kalmte
Ek bemoei my nie met wat vir my te groot of te moeilik is nie. Maar ek het kalmte en rus gekry, soos ’n kindjie by sy moeder rus, so is my gemoed. – Psalm 131:1– 2 (Nuwe Lewende Vertaling)
Hier teen Novembermaand as ek die streswolke bokant my kop voel saampak, en my maag bolmakiesie slaan wanneer ek aan alles dink wat nog voor die einde van die jaar gedoen moet word, gryp ek elke dag na Psalm 131. Met die lees van hierdie psalm besef ek net weer dat in die gejaagde en onrustige leefstyl waarin die meeste hedendaagse mense vasgevang is, dit net geloof in God is wat vir ons ware kalmte kan gee. Dokters het vasgestel dat die meeste siektetoestande deur stres veroorsaak word. Die slim Spreukeskrywer ken hierdie geheim reeds baie jare lank: “Innerlike kalmte bevorder die gesondheid,” skryf hy in Spreuke 14:30 (Nuwe Lewende Vertaling). Jy mag dus maar ophou om jou kop te breek oor al die dinge wat jy nie verstaan nie. As jy weer dreig om gespanne en gestres te raak, lees gerus Psalm 131 en laat die rustigheid en vertroue wat daaruit straal, God se vrede in jou laat invloei. Want met God by jou hóéf jy jou immers nie langer te bemoei met dinge wat vir jou te ingewikkeld of te veel raak nie. God wil vir jou sy rus en kalmte kom aanbied, sodat jou gemoed so tevrede en rustig sal wees soos ’n baba in die arms
van sy ma, wat wéét dat hy veilig en geborge is.
Here, dankie dat ek nou mag rustig raak digby U, met die seker wete dat ek nie langer hóéf te stres nie, omdat U u kalmte vir my wil aanbied en elkeen van my bekommernisse vir u rekening wil neem. Amen.
29 November – God weet van jou!
29 NOVEMBER
Lees: Psalm 139
God weet van jou!
Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit … U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. – Psalm 139:1–2, 16
Die pragtige Psalm 139 maak my tegelykertyd rustig én onrustig! Dit is gerusstellend dat God altyd presies weet waar sy kinders op ’n gegewe oomblik is; dat Hy ons insluit van voor en van agter en sy hand van seën oor ons hou. Tog maak die feit dat God presies weet wat ek gaan sê nog voordat ek begin praat, en Hy elkeen van my gedagtes ken, my half ongemaklik! Die tweede deel van die psalm onderstreep die wonder van God se skepping met die mens as kroon daarvan. God het ons wonderlik gemaak – hóé besonders besef ’n mens eers wanneer jy oor die werking van die menseliggaam begin oplees. God het jou spesiaal geskep sodat Hy in ’n verhouding met jou kan staan. Wanneer God weer vir jou ver voel, lees gerus Psalm 139 en weet: God ken jou deur en deur; Hy het jou onvoorwaardelik lief en Hy het ’n spesiale plan vir jou lewe wat reeds voor jou geboorte bepaal is. Bid dan die gebed aan die einde van die psalm: “Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!” (vers 23–24). Hy wil dit graag vir jou doen.
Hemelse Vader, dis wonderlik dat U alles van my weet, my deur en deur ken en altyd by my is. Dat U elke lewensdag van my reeds voor my geboorte opgeskryf het en my daagliks lei. Ek loof U hiervoor! Amen.
30 November – Op moedverloor se vlakte
30 NOVEMBER
Lees: Psalm 142 en 143
Op moedverloor se vlakte
Ek roep tot die Here; ek pleit om die Here se genade … Wanneer ek moed verloor, dan ken U my pad. – Psalm 142:2, 4 (Nuwe Lewende Vertaling)
Dit is vir my so ’n gerusstellende gedagte dat God elke oomblik presies weet wat ons omstandighede is. Hy is by ons wanneer ons op moedverloor se vlakte vertoef, ook daar ken Hy ons pad. Tans is daar meer mense as ooit tevore wat weens van negatiewe omstandighede in hul lewe besig is om moed te verloor. As dit dalk van jou waar is, is dit nou presies die regte tyd om na God se dade in die verlede te kyk, soos die psalmdigter in Psalm 143 doen. Ten spyte van die dinge wat hom moedeloos maak, strek hy steeds sy hande na God uit met die seker wete dat God hom sal help. Is daar dalk vandag dinge in jou eie lewe wat jy nie kan verstaan nie, dinge wat jou moed laat verloor? God is slaggereed om jou by te staan, soos Hy nog altyd in die verlede gedoen het. Dink nou gerus terug aan al die kere dat Hy jou te hulp gesnel en jou omstandighede ten goede verander het. Wees verseker dat sy onfeilbare liefde vir jou nog niks verander het nie. Hy wil jou nou weglei van moedverloor se vlakte en jou die pad wys wat jy moet loop wat Hý vir jou bestem het, maar daar is twee dinge wat jy moet doen: leer om sy wil te doen en laat sy Heilige Gees toe om jou te lei (Psalm 143:10).
Here, vandag roep ek na U vanuit moedverloor se vlakte. Dankie dat U die pad vorentoe ken as ek moedeloos raak; help my asseblief om u wil te doen en die leiding van u Gees te gehoorsaam. Amen.
Gebed
Gebed
Hemelse Vader, ek loof U vir die psalms waaruit ek elke dag krag en inspirasie put. Dankie dat ek reeds kon kies om op u pad te loop. Ek eer U vir die skoonheid van u skepping, vir u genade vir my en vir die feit dat U my swaarkry raaksien. Vergewe my dat ek soms voel asof U my vergeet het. Saam met die psalmdigter wil ek bely dat U my lewe is; dat ek alles wat ek het van U ontvang het, dat U my Herder is wat sorg dat ek niks kortkom nie, dat U in beheer van alle dinge is en my sonde vergewe; dat U vir my sorg en my hartsbegeertes waar sal maak. Ek verlang na u teenwoordigheid in my lewe, daarom is dit vir my ’n vreugde dat U by my is, dat U vir my ’n toevlug en ’n beskerming is. U liefde is vir my beter as die lewe, Here – selfs wanneer U ánders as in die verlede optree. Dit is vir my wonderlik om te weet dat U deur u Gees in my woon, dat U alles van my weet en my te alle tye sal beskerm. Skenk my nou u rus en kalmte, en maak my bereid om geduldig op U te wag, veral daardie tye wanneer ek moedeloos is. Ek wil U graag vir die res van my lewe met blydskap dien, erken dat U God is en dat ek aan U behoort. Sonder U maak my lewe nie sin nie, maar saam met U is ek meer as ’n oorwinnaar. Amen.
Desember: Ons fokus op Jesus
DESEMBER: ONS FOKUS OP JESUS
Desember is dié maand wanneer ons feesvier oor Jesus se geboorte – en besin oor wat Hy op aarde kom doen het. Jesus was van die begin af daar; Hy hou die heelal in stand; Hy is Een met die Vader. Hy is ook die Messias, ons Hoëpriester, die groot Profeet en Koning vir altyd. Hy is ons hoop op die heerlikheid wat die hemel vir ons moontlik maak. God praat deur Hom en Hy is die Lig vir die wêreld. As ons aan Hom behoort, is ons ook ligte wat sy lig moet weerkaats, sodat die mense wat na ons kyk, vir Hom sal kan raak-sien. Sonder Hom kan daar geen Kersfees wees nie. “Kersfees is jubeling, dankbaarheid en onthou Kersfees is Christus. Kersfees is ’n ster wat begin glinster het in Betlehem en aanhou glinster tot die Blink Môrester weer kom,” skryf IL de Villiers tereg.* In die Kersfeesmaand wat voorlê, gaan ons fokus op al die dinge wat ons van Jesus weet en ons lewens opnuut aan Hom toewy.
* IL de Villiers, In die teenwoordigheid van God, p 25
1 Desember – Jesus is by die skepping teenwoordig
1 DESEMBER
Lees: Kolossense 1:15–26
Jesus is by die skepping teenwoordig
God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie … Alles is deur Hom en vir Hom geskep. Voor alles wat Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand. – Kolossense 1:16–17
Jesus is vir ons die sigbare uitbeelding van die onsigbare God. Ons kan God nie sien nie, maar wanneer Jesus in Betlehem gebore word, kom wys Hy vir ons oor ’n tydperk van drie en dertig jaar deur sy manier van leef en deur sy woorde hoe God lyk. Niemand het God ooit gesien nie, maar deur Jesus se lewe en optrede terwyl Hy op aarde was, kan ons wel vir God leer “sien” en Hom leer “ken”. God het voorts alle dinge deur Jesus en vir Hom geskep. Jesus was dus by die skepping teenwoordig. Ook ná die skepping bly Hy daarby betrokke en hou Hy alles in stand. ’n Mens se lewe is soms soos ’n klomp los legkaartstukke waaruit jy nie sin kan maak nie. Joni Eareckson Tada skryf in een van haar boeke dat Jesus soos die buitenste rand van die legkaart is. Mits Hy daar is, val die res van die legkaart maklik in plek, maar sonder Hom is dit onmoontlik om die legkaart te bou.* Dit is Jesus wat alle dinge in plek hou – in die skepping, maar ook in jou lewe. Net
Hy kan die los legkaartstukke van jou lewe in plek laat val.
Here Jesus, ek loof U dat U vir my kom wys het hoe God lyk, dat U by die skepping teenwoordig was en dat U alle dinge in plek laat val. Ek wil nou my lewe opnuut aan U toewy. Amen.
* J Eareckson-Tada, A Step further
2 Desember – Een met die Vader
2 DESEMBER
Lees: Johannes 10:22–30
Een met die Vader
“Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. Ek en die Vader is een.” – Johannes 10:29–30
Jesus beloof dat niemand sy kinders uit sy hand kan ruk nie. Net daarna getuig Hy dat Hy en die Vader één is. Wat Jesus hier sê, is nie dat Hy en die Vader dieselfde Persoon is nie, maar wel dat hulle een in karakter is. In die Ou Testament lees ons dat niemand God kan sien en bly lewe nie. Jesus identifiseer Hom met God, maar Hy is nie die Vader Self nie, maar wel die Gestuurde van die Vader. “Hulle is een omdat hulle een wil het (hulle belange vloei saam) en omdat hulle dieselfde ding doen. Hulle dade loop parallel. Die eenheid tussen Vader en Seun is ’n eenheid van wil en dade,” verduidelik Die Bybellennium.* Hierdie eenheid tussen God en Jesus bestaan daarin dat Hy in wat Hy sê en doen die Vader weerspieël. Jy hoef dus nie langer te wonder hoe Jesus en God één kan wees nie. Jy kan maar net na sy lewe kyk en sy voorbeeld navolg, sodat jy al hoe meer soos Hy sal word. Soos wat Hy deur Jesus gewerk het, wil God nou deur jóú werk. Jy is sy gestuurde wat Jesus se blye boodskap op aarde moet aflewer en ander mense daarvan moet vertel. Soos God Jesus gestuur het, stuur Hy nou vir jóú. Jy moet
ook so leef dat Hy in jou optrede gesien kan word, soos dit die geval met Jesus was.
Here Jesus, ek is gewillig om deur U gestuur te word. Maak dit asseblief vir my moontlik om u werk op aarde te doen en u boodskap te versprei. Amen.
* FJ van Rensburg en M Nel, Die Bybellennium, p 1 606
3 Desember – Aan mense gelyk …
3 DESEMBER
Lees: Filippense 2:5–11
Aan mense gelyk …
Hy wat in die gestalte van God was, het … Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. – Filippense 2:6–7
Jesus is waarlik God. Voor Hom het almal in die hemel neergebuig, vertel die Bybel. Tog het Hy my en jou só lief dat Hy bereid is om sy hemelse heerlikheid prys te gee en aan mense gelyk te word – met één verskil, daar was geen sonde in Hom nie. God se verlossingsplan wat Hy reeds in Genesis 3 aangekondig het, lees allermins soos ’n sprokie – Jesus word in ’n vuil stal gebore, in Nasaret word hy in ’n gewone gesin groot en help hy sy pa om houtwerk te doen. Wanneer Hy God se boodskap op aarde begin aflewer, het Hy nie eens ’n huis om in te bly of enige besittings nie. Ons lees dat Hy menslike emosies gehad het: Hy was hartseer, bang, honger en dors. Aan die kruis sterf Hy ’n verskriklike dood nadat dié mense vir wie Hy spesiaal na die aarde gekom het, Hom verwerp en gemartel het. Maar dan eindig sy menswees: Hy staan op uit die dood en vaar op na die hemel, van waar Hy eendag weer sal kom om al sy kinders te kom haal om vir altyd by Hom te wees. Omdat Jesus ’n mens was soos jy, verstaan Hy jou volkome: Hy weet van al jou vrese, ken al jou sonde en het jou nogtans lief. Jy kan met groot gerustheid al jou probleme na Hom bring.
Here Jesus, U was ’n mens soos ek. Dankie dat U my menslike pyn en probleme so goed verstaan, en ek dit maar na U kan bring met die seker wete dat U my liefhet. Amen.
4 Desember – Jesus is die Messias
4 DESEMBER
Lees: Johannes 4:15–26
Jesus is die Messias
Die vrou het vir hom gesê: “Ek weet dat die Messias kom …” Toe sê Jesus vir haar: “Dit is Ek …” – Johannes 4:25–26
God het reeds honderde jare voor Jesus se geboorte sy volk beloof dat Hy eendag vir hulle ’n Messias sou stuur, Iemand wat sy volk van sonde sal verlos. Wanneer Jesus met die Samaritaanse vrou by die put gesels, word dit uit hulle gesprek duidelik dat sy al voorheen van die Messias gehoor het, en ook presies weet Wie Hy is. “Ek weet dat die Messias kom, Hy wat ook die Christus genoem word,” sê sy vir Jesus. Sy sien uit na die koms van hierdie Messias omdat sy verwag dat Hy die antwoorde op al haar vrae oor waarom die Jode en die Samaritane verskillend aanbid, sal ken. Wat sy nié weet nie, is dat sy besig is om met die Messias na wie die volk al vir so lank uitsien, te praat! Sy moes bly en verbaas gewees het toe Jesus antwoord: “Dit is Ek, Ek wat met jou praat.” Sy dra dan ook die goeie nuus aan die mense van haar dorpie oor en hulle kom kyk self en glo in Jesus. Die Hebreeuse woord Messias is dieselfde as die Griekse woord Christus. Beide beteken “gesalfde”. In die Heidelbergse kategismus staan daar dat Jesus deur God bestem en deur die Heilige Gees gesalf is as profeet, hoëpriester en koning. Hierdie drie ampte word aan elke gelowige opgedra. Soos Jesus, behoort jý ook
’n profeet, priester en koning te wees. In die volgende drie dagstukke gaan ons kyk presies wat dit beteken.
Here Jesus, leer my wat dit beteken om as Christen ’n profeet, priester en koning vir U op aarde te wees. Amen.
5 Desember – Jesus, jou Hoëpriester
5 DESEMBER
Lees: Hebreërs 4:14–5:6
Jesus, jou Hoëpriester
Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. – Hebreërs 4:15
Twee dae gelede het ons gehoor dat Jesus ’n mens soos ons was, met één verskil, Hy het geen sonde gedoen nie. Om hierdie rede is Hy ook versoek, maar Hy het nie voor daardie versoeking geswig soos óns dikwels doen nie. In die OuTestamentiese tyd was dit die werk van die hoëpriester om een maal per jaar vir die volk se sondes voor God in te tree. Hy het in die Allerheiligste ingegaan en vir die volk se sondes geoffer. Maar hy was ’n gewone sondige mens, soos ons. Hy moes dus elke jaar maar wéér vergifnis gaan vra: vir die sondes van die volk én vir sy eie sondes. Jesus, aan die ander kant, hoef net één maal versoening vir ons sonde te bewerk. Deur sy kruisdood betaal Hy elke kriesel van ons sondeskuld vir áltyd en verdien só God se vergifnis vir ons sondes in die hede, verlede én toekoms. Jy kan dus met vrymoedigheid jou sonde voor God bely omdat jou Hoëpriester reeds vir hierdie sonde vergifnis verkry het. Boonop is Hy altyd vir jou beskikbaar, want Hy tree steeds in die hemel vir jou sondes voor God in. Maar jy is ook ’n priester. Om jou priesteramp te vervul, behoort jy te onderneem om vir ander
mense voor God in te tree, om hulle aan Hom op te dra en met hulle oor Hom te praat. Sien jy kans hiervoor?
Here Jesus, ek loof U as my Hoëpriester wat by God versoening vir my sondes bewerk het. Baie dankie dat U versoening vir altyd voldoende is en vir altyd bly. Amen.
6 Desember – Jesus, die Koning van jou lewe
6 DESEMBER
Lees: Johannes 12:12–16
Jesus, die Koning van jou lewe
Hulle het palmtakke gevat en Hom tegemoet gegaan en uitgeroep: “Prys Hom! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!” en: “Die Koning van Israel!” – Johannes 12:13
Die eerste keer wanneer Jesus deur die skare wat na Hom kom luister het as “koning” erken is, is by sy intog in Jerusalem wanneer die profeet Sagaria se Messiasprofesie vervul word (vgl Sagaria 9:9). Jesus is inderdaad ’n koning, maar ’n koning wat hemelsbreed verskil van die gewone prentjie wat mense van ’n koning het. In plaas van in ’n deftige koets, ry hierdie Koning Jerusalem op ’n donkievul binne. Wanneer Pilatus Hom heelwat later onder kruisverhoor neem, erken Jesus dat Hy inderdaad ’n koning is: “Dit is soos U sê: Ek is ’n ko-ning,” antwoord Hy op Pilatus se vraag (Johannes 18:37). Jesus was glad nie die tipe koning wat die Jode in gedagte gehad het nie. Húlle het gemeen dat Hy hulle van die Romeinse oorheersing sou verlos. Die Jode verstaan ook nie dat sy koninkryk ánders is as dié van ’n aardse koning nie en daarom laat hulle Hom doodmaak. Jesus is wel ’n Koning; die grootste koning wat daar ooit was. Van Hom voorspel die profeet Jesaja: “Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk
regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, nou nou af en vir altyd” (Jesaja 9:6). Soos Jesus, is jy ook ’n koning: ’n koning wat deur God Self aange-stel is om oor sy skepping te heers, die natuur te bewaak en jou werk op aarde so goed moontlik te doen.
Here Jesus, ek aanbid U as die ewige Koning. Help my om ook ’n koning te wees deur te heers oor die werk van u hande. Amen.
7 Desember – Jesus, die Profeet
7 DESEMBER
Lees: Johannes 6:10–15
Jesus, die Profeet
Toe die mense die wonderteken sien wat Jesus gedoen het, het hulle gesê: “Hy is werklik die Profeet, die Een wat na die wêreld toe moes kom.” – Johannes 6:14
Profete was dié mense wat God spesiaal aangestel het om sy boodskap aan sy volk oor te dra. Hulle het gewoonlik hierdie boodskap begin met: “So sê die Here.” God het dan ook op verskillende maniere met hierdie profete gepraat: soms deur drome (Daniël), ander kere deur gesigte (Jesaja en Jeremia), of persoonlik, soos Hy met Abraham en Moses gedoen het. Soos die profete van die Ou Testament was Jesus óók ’n boodskapper of profeet. Hy het spesiaal na die wêreld gekom om God se verlossingsboodskap hier te kom aflewer. Maar Jesus was nie net ’n boodskapper nie, Hy was Sélf die Woord, skryf Johannes: “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid” (Johannes 1:14). In sy Pinksterpreek haal Petrus Moses se woorde uit Deuterono-mium 18:15 en 18 aan, en maak dit op Jesus van toeing: “Die Here julle God sal uit julle eie geledere vir julle ’n Profeet soos ek laat voortkom. Gehoorsaam Hom in alles wat Hy vir julle sal sê” (Handelinge 3:22). Jy is óók ’n profeet – iemand wat God se boodskap nie vir jouself mag hou nie, maar dit behoort uit te dra aan
almal met wie jy in aanraking kom. Daar is steeds miljoene mense wêreldwyd wat nog nie eens één keer van Jesus gehoor het nie. Doen jou deel en vertel ander mense van Hom.
Here Jesus, dankie dat ek God se boodskap mag uitdra omdat U gewillig was om daardie boodskap na die wêreld te bring. Maak my ’n geesdriftige getuie van U. Amen.
8 Desember – God praat deur Jesus
8 DESEMBER
Lees: Hebreërs 1:1–12
God praat deur Jesus
In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. – Hebreërs 1:1–2
In die Ou Testament praat God met sy volk deur die profete aan wie Hy sy boodskap afgelewer het. In die Nuwe Testament kom Jesus Self aan die woord. Maar nadat Jesus na die hemel opgevaar het, praat God nou met óns deur sy Seun. Die maand waarin ons God se Stem die helderste kan hoor, is sekerlik Desember, Jesus se geboortemaand. Die skrywer van die Hebreërbrief sluit by Paulus aan: vandag se Skrifgedeelte is óók ’n lofsang aan Jesus. Soos Paulus in Kolossense 1:16 skryf, stem die Hebreërskrywer saam dat God die wêreld deur Jesus geskep het. Hy is die spieëlbeeld van die Vader, God se heerlikheid straal uit Hom; Hy is die ewebeeld van God se wese en Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Maar meer nog, deur sy kruisdood reinig Hy ons van sonde. Sy troon staan vir altyd vas en sy jare het geen einde nie. Jesus is inderdaad God Self! Soos Jesus ’n spieëlbeeld van God Self is, vra die Bybel dat jy op jou beurt ’n spieëlbeeld van Jesus sal wees, dat jy elke dag meer en meer soos Hy sal word (2
Korintiërs 3:18). En hierdie heerlikheid wat ook van jóú moet uitstraal, moet elke dag méér word. “Dit doen die Here wat die Gees is,” skryf Paulus (2 Korintiërs 3:18). As jy Hom vra, sal die Heilige Gees jou verander sodat jy elke dag meer soos Jesus sal wees.
Heilige Gees, ek bid dat U my ’n spieëlbeeld van Jesus sal maak, sodat ek elke dag meer soos Hy sal lyk, praat en optree. Amen.
9 Desember – Jesus bring ’n nuwe verbond
9 DESEMBER
Lees: Hebreërs 8:5–13
Jesus bring ’n nuwe verbond
“Dít is nou die verbond wat Ek met Israel na daardie dae sal sluit, sê die Here: … Ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees … Hulle almal, klein en groot, sal My ken.” – Hebreërs 8:10–11
In Genesis 17:7 en 9 sluit God ’n verbond met Abraham: “Ek bring ’n verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte. Dit is ’n blywende verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag … Jy moet my verbond nakom …” sê Hy vir Abraham. As teken van hierdie verbond met God moes elke Hebreeuse seuntjie aan sy voorhuid besny word. Wanneer Abraham gehoorsaam is aan die verbond en die Hebreeuse seuntjies laat besny, kom die eerste gemeenskap van gelowiges tot stand. Die volk het egter nie by hul verbondsooreenkoms gehou nie, en God mettertyd verruil vir heidense afgode. Die eerste verbond het dus nie sy doel bereik nie. God maak ’n nuwe verbond moontlik deur sy Seun na die aarde te stuur. Met die koms van Jesus na die aarde bring Hy ’n nuwe verbond tot stand; nou kry álmal wat in Hom glo die kans om God se volk te wees, ook al is hulle nie van die volk van Israel nie. God neem nou die volle verantwoordelikheid vir die verbondsluiting: Hy kom sý kant van die verbond na, en deur Jesus se offer in ons plek, kom Hy ook ons verantwoordelikheid na. As ons in Jesus glo, ís ons
God se kinders en is ’n verhouding met Hom vir ons moontlik, omdat Hy ons sondes vergewe op grond van Jesus se soenverdienste.
Here Jesus, ek loof U dat U my kant van die verbond vervul het deur in my plek aan die kruis te sterf, sodat God nou bereid is om my sonde te vergewe. Amen.
10 Desember – Jesus, jou hoop op die heerlikheid
10 DESEMBER
Lees: Kolossense 1:12–29
Jesus, jou hoop op die heerlikheid
God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe seënryk en heerlik hierdie geheimenis vir die nasies is. Die inhoud daarvan is: Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid. – Kolossense 1:27
Paulus skryf aan die gemeente in Kolosse dat God ’n wonderlike geheim het wat Hy met hulle wil deel. Die inhoud van hierdie geheim is dat Jesus in elke gelowige woon, en dat Hy dit vir élkeen wat in Hom glo, moontlik maak om God se kinders te wees. Deur geloof in Hom word ons een met Jesus en sal ons eendag in sy hemelse heerlikheid deel. Hoop is ’n toekomswoord. As ons op God hoop, beteken dit dat ons vashou aan sy belofte dat die hemel eendag ons s’n sal wees. Maar hoop is nie net ’n toekomswoord nie; Paulus vertel die gemeente van Kolosse dat hoop ’n Persoon is. Jesus is nou al reeds ons hoop op die heerlikheid. Omdat jy in Hom glo, mag jy doodseker wees dat jy eendag vir altyd sal lewe. Met sy koms na die wêreld word sondaarmense met ’n heilige God versoen. Maar dit is nie al nie, Jesus maak van ons nuwe mense sodat ons nou gewillig is om mekaar te vergewe en met mekaar versoen te word. Die beste deel van die geheim is dat jy nou al reeds hierdie “hoop op die
heerlikheid” in ontvangs mag neem. Deur sy Heilige Gees woon Jesus reeds in jou. Een van sy name is Immanuel, wat God by ons beteken. As jy Hom liefhet, is God Self elke dag in jou lewe teenwoordig.
Here Jesus, dis wonderlik dat U in my is, dat U deur u Gees in my woon en dit vir my moontlik maak om eendag in u hemelse heerlikheid te deel. Amen.
11 Desember – Jesus, die Lig vir die wêreld
11 DESEMBER
Lees: Johannes 8:12–19
Jesus, die Lig vir die wêreld
Op ’n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” – Johannes 8:12
Jesus se hele lewe staan in die teken van lig. Reeds wanneer hy sy geboorte voorspel, sê die profeet Sagaria dat die Kind wat gebore sou word, soos die môreson sal opgaan en uit die hoogte op ons afstraal “om lig te bring aan dié wat in duisternis en in die skaduwee van die dood lewe” (Lukas 1:79). Met Jesus se geboorte vertel Lukas dat by die engel se verskyning die “heerlikheid van die Here” rondom die herders geskyn het (Lukas 2:9). Ook die sterrekykers het van Jesus se geboorte bewus geword toe daar ’n nuwe ster aan die hemel verskyn het en hulle ná hul besoek aan Herodes die ster gevolg het tot in Betlehem, waar dit gaan stilstaan het bo die plek waar die Kindjie was (Matteus 2:2 en 9). Lig speel altyd ’n belangrike rol in ons Kersfeesvierings: ons steek adventkerse aan, daar is Kersliggies aan die Kersboom en in die strate. Kersfees is inderdaad ’n tyd van lig omdat ons met Kersfees die koms van die Lig vir die wêreld vier. Almal wat Jesus nog nie ken, liefhet en volg nie, leef steeds in sondedonkerte. Maak hierdie Kersfees baie seker dat jý Jesus as die Lig vir die wêreld ken en dat jy met jou leefwyse hierdie lig na ánder mense sal weerkaats.
Here Jesus, dankie dat U gekom het om lig in my sondedonkerte te bring, sodat ek U hierdie Kersfees as Lig vir die wêreld kan aanbid. Maak my ook ’n lig vir U. Amen.
12 Desember – Die lig is sterker as die donker
12 DESEMBER
Lees: Johannes 1:1–12
Die lig is sterker as die donker
In Hom [Jesus] was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie … Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe. – Johannes 1:4–5, 9
In Johannes se Evangelie raak hy ook die ligtema aan. Jesus is die lig vir die mense, Hy is die ware lig wat elke mens verlig, skryf hy. En hierdie Lig was aan die kom na die wêreld toe. Dit is juis oor sy koms dat ons feesvier wanneer dit Kersfees is. Ongelukkig het nie alle mense vir Jesus aanvaar nie. Jesus vertel vir Nikodemus dat die mense die duisternis liewer as die lig gehad het, omdat hul dade sleg was (vgl Johannes 3:19). Sy eie mense, dié mense vir wie Hy eintlik na die wêreld gekom het, wou niks met Jesus te doen hê nie en het Hom uiteindelik laat kruisig. Tog is daar vandag miljoene mense dwarsdeur die wêreld wat Jesus se lig bo die duisternis gekies het. Mense wat Jesus liefhet, leef in die lig. En hierdie mense wat in Jesus se lig leef, weet watter dinge reg en watter dinge verkeerd is. Hierdie Kersfees word jy weer ’n keer voor ’n keuse gestel: kies jý vir Jesus en teen sondedonkerte, of kies jy téen die lig en vir die donker? Die keuse is altyd joune. En as jy vir Jesus gekies het, sal Hy steeds lig bring in jou omstandighede, ongeag hoe donker dit vir jóú lyk.
Here Jesus, ek loof U dat U die ware Lig is, en dat die lig wat U bring altyd sterker as die donker is. Gee asseblief vandag u lig in my lewe. Amen.
13 Desember – Jesus, jou waarborg vir die ewige lewe!
13 DESEMBER
Lees: 1 Petrus 1:3–9
Jesus, jou waarborg vir die ewige lewe!
Deur in Hom [Jesus] te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ’n onuitspreeklike en heerlike blydskap. – 1 Petrus 1:8–9
Wie in Jesus glo, hét die ewige lewe. Dit is so eenvoudig soos dit. “God het ons die ewige lewe gegee, en dié lewe is deur sy Seun. Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie,” skryf Johannes tereg (1 Johannes 5:11–12). As jy reeds glo dat Jesus die Seun van God is, as jy Hom liefhet en lewe soos Hy vra, mag jy nou al die ewige lewe in ontvangs neem. Jy hoef nie langer daarop te hóóp nie, jy het dit reeds! Nóg ’n rede om fees te vier met Kersfees! “Die ewige lewe is geopenbaar in Jesus, die eniggebore Seun van God. In ’n stal in Betlehem, op die eerste Kersnag … Dit is hiér. Ons hét dit. Het dit al vir jóú begin? Het jý dit?” vra Johan Cilliers in sy boek Glo … en lééf!* Miskien het dit in hierdie Kersmaand tyd geword dat jy hierdie vraag vir jouself beantwoord indien jy dit nog nie voorheen gedoen het nie. Het die ewige lewe al vir jou begin? Het jý dit al? En indien jy nog nie seker is dat die ewige lewe eendag joune gaan wees nie, moenie langer aarsel nie, nooi God vandag nog in jou lewe
in.
Here Jesus, ek kies U nou as die Here van my lewe. Vergewe asseblief my sonde en kom bly by my vir altyd. Dankie dat ek nou seker mag weet dat ek die ewige lewe hét. Amen.
* J Cilliers, Glo … en lééf, p 275
14 Desember – Jesus kom weer!
14 DESEMBER
Lees: Jakobus 5:7–11
Jesus kom weer!
Wag dan geduldig, broers, totdat die Here kom. Let op hoe die boer wag vir die kosbare oes wat die land oplewer … Julle moet ook geduldig wag en moed hou, want dit is nie meer lank nie, dan kom die Here. – Jakobus 5:7–8
Jesus sal eendag presies net so na die aarde terugkom as wat Hy na die hemel opgevaar het, is die boodskap wat mans in wit klere (dit dui aan dat hulle waarskynlik engele was) aan die dissipels gebring het net na Jesus se hemelvaart: “Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het,” belowe hulle (Handelinge 1:11). In ons kernvers skryf Jakobus dat Christene tot op daardie dag geduldig op Jesus se wederkoms behoort te wag, omdat dit nie meer lank sal wees voordat Hy kom nie. Hierdie woorde was vir die gelowiges van Jakobus se tyd ’n groot vertroosting omdat hulle baie swaargekry het en werklik uitgesien het na Jesus se wederkoms. Maar dis nou al meer as twee duisend jaar later en Jesus het steeds nie gekom nie. Niemand van ons weet presies wanneer dit gaan gebeur nie, maar dát dit gaan gebeur is seker. Jy mag in die wagtyd reikhalsend, met vreugde en verwagting na Jesus se wederkoms uitsien, omdat daardie koms vir jou die einde van al jou aardse swaarkry en pro-bleme sal beteken. Om hierdie rede behoort
dit ook vir jou moontlik te wees om jou swaarkry van die oomblik te verdra. Want eintlik is Jesus se wederkoms vir jou net so ver soos jou sterfdag.
Here Jesus, ek is jammer dat ek soms ongeduldig word dat U moet kom! Help my om geduldig te wag en moed te hou omdat u koms nie meer ver is nie. Amen.
15 Desember – Kom terug met Kersfees!
15 DESEMBER
Lees: Hosea 12:1–7
Kom terug met Kersfees!
Wat jy moet doen, is om na jou God toe terug te keer: jy moet Hom liefhê en sy bevele gehoorsaam, jy moet jou hoop altyd op jou God vestig. – Hosea 12:7
Omdat ons in die Kersfeesmaand veel meer op Jesus se geboorte fokus as in die res van die jaar, ontdek ons elke Desember opnuut hoe geweldig groot God se liefde vir ons is. In die tyd van die profeet Hosea het die volk afvallig van God geword. Hulle het Hom nie meer soos in die verlede met hart en siel liefgehê en gedien nie, maar Hom vir nuttelose afgode verruil. Ten spyte hiervan bly God steeds getrou aan hulle. Om hierdie rede pleit Hiskia dat die volk na God sal terugkeer, dat hulle weer hul liefde vir Hom sal herontdek, sy gebooie sal gehoorsaam en hulle hoop op Hom sal vestig. Het jou verhouding met God nie dalk ook in die afgelope tyd verflou nie? Een van die tekens hiervan is dat jy jou hoop in God verloor en moeg en moedeloos is. Wanneer jy besluit om jou verhouding met God te hernu, sal Hy elke belofte in sy Woord vir jou waar maak. Kersfees is die regte tyd om na God terug te keer. Jesus het juis na die wêreld gekom om versoening tussen jou en God te bewerk, en ómdat Hy in jou plek aan die kruis gesterf het, is God elke keer bereid om jou sonde te vergewe en jou as sy kind terug te ontvang. Moet dit nie langer uitstel nie, gebruik hierdie Kerstyd om na God terug te keer en jou lewe
opnuut vir Hom aan te bied.
Here God, ek loof U vir u liefde en vir u Seun. Ek wil graag in hierdie Kerstyd na U terugkom. Dankie dat Jesus dit vir my moontlik maak. Amen.
16 Desember – Versoeningsdag
16 DESEMBER
Lees: Handelinge 4:12
Versoeningsdag
“Hý bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie.” – Handelinge 4:12
Net deur Jesus se tussenkoms kan ons van sonde verlos word en kan daar versoening tussen ons en God bewerk word. En eers wanneer ons deur Jesus versoening ontvang het, kan ons dit regkry om dié mense en dinge wat ons van ons vrede beroof, te vergewe. Leer om verby dié dinge en mense te kyk wat jou bloed laat kook. Een van die dinge waarmee ek persoonlik die heel meeste sukkel om mee vrede te maak, is die ongelooflike manier waarop daar in ons land met geld gemors word. Miljoene rande word op weeldemotors spandeer, daar is klubs waar ’n bottel ingevoerde vonkelwyn tot R30 000 kos en partytjies van honderde duisende rande word gehou – en dít terwyl daar miljoene kinders is wat honger ly. Onlangs het ek na ’n televisieprogram gekyk waar een van ons land se superryk vroue gevra is of dit haar nie pla dat sy soveel geld spandeer terwyl daar so baie mense is wat nie kos het om te eet nie. “Dit is nie mý probleem nie,” was haar antwoord. Dit is in sulke tye dat ek swaar aan versoening sluk. Maar dát ons moet vergewe en met mekaar moet versoen, is duideliker as ooit.
Net deur in Jesus te glo, kan versoening in ons land en lewens gerealiseer word. Kon jy dit al regkry om jou eie vergrype van die verlede te bely en ander mense hul vergrype teen jou te vergewe? Indien jy sukkel, vra dat God jou hiermee sal help. By Hom is niks onmoontlik nie.
Here, ek sukkel om vrede te maak met die modus operandi in ons land. Maar U het gesterf om vir my versoening te bewerk. Help my om te vergewe. Amen.
17 Desember – Vergifnis en versoening
17 DESEMBER
Lees: 2 Korintiërs 5:14–21
Vergifnis en versoening
Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het … En Hy het vir almal gesterwe, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is. – 2 Korintiërs 5:14–15
Met Kersfees herontdek ons nie net God se liefde vir ons nie, maar ook Jesus s’n. Hy was immers bereid om die wreedste dood denk-baar in ons plek te sterf sodat ons met God versoen kan word. Gister het ons versoeningsdag gevier. Maar wat doen jy persoonlik om versoening in ons land moontlik te maak? Indien ons werklik verlang dat al die verskillende bevolkingsgroepe van ons land mét hul verskillende tradisies en bagasie van die verlede met mekaar versoen sal raak, kan ons nie net handjies gevou sit en wag dat dit moet gebeur nie. SuidAfrikaners sal bereid moet wees om mekaar te vergewe vir die vergrype van die verlede én vir die foute van die hede, anders sal versoening in Suid-Afrika net ’n vae droom bly. Dit wil vir my lyk asof die verskillende bevolkingsgroepe in ons land al hoe minder op versoening fokus. Die oorgrote meerderheid mense wat vermoënd is, wil net dinge vir hulself inpalm en dit skeel hulle min hoe dit met die res van die land se mense gaan. Voordat jy by versoening gaan uitkom, sal jy eers bereid
moet wees om ander mense te vergewe. Jy sal ook gewillig moet wees om uit te reik na ander en hul versoening te verdien. En Jesus se liefde behoort jou daartoe te dring!
Here Jesus, dankie dat u liefde vir my versoening met God moontlik maak. Help my om te vergewe sodat daar ook versoening in ons land kan kom. Amen.
18 Desember – ’n Begenadigde vrou
18 DESEMBER
Lees: Lukas 1:26–38
’n Begenadigde vrou
Toe die engel by haar kom, sê hy: “Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou … Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou. Jy sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word.” – Lukas 1:28, 30–32
Maria, die ma van Jesus, het nog altyd mense se verbeelding aange-gryp. Anders as die vroue van haar tyd, was Maria bereid om risiko’s te neem en God blindelings te vertrou, al moes haar gesonde verstand haar gewaarsku het dat sy nou dalk op ’n pad sonder omdraaikans begin loop. Ek het al dikwels gelees dat die jong Maria (sy was sowat dertien of veertien jaar oud toe die engel haar besoek het) ’n baie onwaarskynlike keuse as die moeder van die Messias was. Dit is inderdaad eienaardig dat God ’n bloedjong, onervare meisietjie uit ’n arm huis sou kies om die aardse ma van sy Seun te wees. Tog het God Maria se potensiaal raakgesien, en sy het Hom nie teleurgestel nie. Die engel wat Maria vertel dat sy ’n seun gaan hê, noem haar ’n “begenadigde”. En dit is Maria se persoonlike boodskap vir jou met hierdie Kersfees: Soos sy, is jý ook ’n begenadigde vrou. Omdat Maria kans gesien het om God te gehoorsaam, kon Jesus vir jou sonde sterf, sodat jy deur God begenadig kan
word. Is jy al bereid om vir God “ja” te sê en risiko’s te neem om sy wil te gehoorsaam?
Here Jesus, baie dankie dat U my begenadig het deur dit vir my moontlik te maak om God se kind te mag wees. Dankie dat ek vir niks bang hoef te wees nie, omdat U God met my is. Amen.
19 Desember – Die grootste geskenk
19 DESEMBER
Lees: Psalm 16
Die grootste geskenk
Alles wat die Here vir my doen, maak my vol vreugde. Hy is die grootste geskenk wat ek nog ooit gekry het … U het die mooiste dinge in die lewe vir my gegee … U gee altyd vir u kinders die heel beste. Hulle kry die heel mooiste wat die lewe aanbied by U. – Psalm 16:5–6, 11 (Die Boodskap)
Heel waarskynlik het jy vanjaar alreeds jou Kersgeskenke gekoop en dalk ook al toegedraai. Dit is altyd ’n vreugde om na al die bederfies te kyk wat jy vir jou geliefdes beplan met Kersfees. Ons kan egter so opgaan in geskenke wat met geld gekoop kan word, dat ons soms gevaar loop om Gód se geskenk, wat dite eintlike rede is waarom ons Kersfees vier, gering te skat of selfs uit die oog te verloor. Ons saamwees met Kersfees genereer altyd ’n groot stuk blydskap. Maar ons mag nooit vergeet dat die grootste blydskap net in God te vinde is nie; in die heel grootste Kersgeskenk van alle tye: sy Seun wat op daardie eerste Kersfees gebore is, sodat óns God se kinders kan word. Hierdie Kersfees behoort jy opnuut bewus te word van hierdie geskenk én van die vreugde wat ’n verhouding met Jesus in jou lewe genereer. In sy teenwoordigheid, vanuit ’n hegte verhouding met Hom, sal jy nooit jou Kersvreugde verloor nie, selfs al is jou fisiese omstandighede negatief. Knoop hierdie Kersfees jou vreugde aan God vas, glo dat Hy altyd vir jou die beste sal
gee, dat jy élke dag die heel mooiste wat die lewe aanbied uit sy hand sal ontvang.
Hemelvader, dis byna Kersfees. As ek na my geskenke kyk, herinner hulle my aan die grootste Geskenk: u Seun wat na die wêreld gekom het, sodat ek nooit weer sonder sy vreugde hoef te wees nie. Amen.
20 Desember – Jesus is God by jou
20 DESEMBER
Lees: Jesaja 7:10–14
Jesus is God by jou
“Die Here sal daarom self vir julle ’n teken gee: ’n Jong vrou sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem.” – Jesaja 7:14
As koning Agas weier om vir die profeet Jesaja ’n teken te vra, kondig Jesaja aan dat God Sélf vir hom ’n teken sal gee: ’n jong vrou sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring. Hierdie seun sal uit die geslag van Dawid wees, en hy is dus vir die volk die teken dat God sy belofte aan hulle sal hou. Boonop sal die kind wat gebore word, se naam Immanuel wees – dit beteken God by ons. Omdat Agas Hom nie genoeg vertrou nie, wil God ook aan die koning die verseke-ring gee dat die koningskap van die geslag van Dawid voortgesit sal word. Ten spyte hiervan bly Agas weier om God te vertrou. Baie jare later maak Matteus tereg hierdie profesie op Jesus, die werklike Immanuel, van toeing (vgl Matteus 1:23). Jesus is letterlik die teken van God aan sy kinders dat Hy sy belofte van ’n Messias aan sy volk nakom, en Hy is ook vir óns die versekering dat God Self na die wêreld gekom het met sy geboorte, omdat Jesus Self God is. Vir die eerste keer kan mense God nou van aangesig tot aangesig sien. In Jesus het God inderdaad tot by ons gekom. Die Matteus-evangelie word nie net met die geboorte van “Imma-nuel” begin
nie, maar dit eindig ook met Jesus se belofte aan sy dissipels dat Hy vir altyd by hulle sal wees (vgl Matteus 28:20). In hierdie Kersfeesmaand mag jy die belofte vir jouself neem: God beloof ook dat Hy vir áltyd by jou sal wees.
Here Jesus, ek aanbid U as Immanuel, God by my. Dankie vir die versekering dat ek nooit weer sónder U hoef te wees nie. Amen.
21 Desember – Vreugde oor ’n Seun wat gebore is
21 DESEMBER
Lees: Jesaja 9:1–6
Vreugde oor ’n Seun wat gebore is
U het dié wat nie meer ’n nasie was nie, baie gemaak, hulle blydskap groot gemaak. Hulle het hulle in u teenwoordigheid verbly soos mense bly is in die oestyd, soos hulle juig wanneer hulle die buit verdeel … Vir ons is ’n Seun gebore, aan ons is ’n Seun gegee … – Jesaja 9:2, 5
In Jesaja 9 voorspel die profeet Jesaja dat God se volk, wat in donkerte geleef het, ’n groot lig gesien het … God onderneem om hul land wat verwoes is, weer te herstel. Hulle het Hom verlaat, maar hulle sal hulle nou weer in sy teenwoordigheid kan verbly. Daar is weer vir hulle rede tot blydskap omdat God sal ingryp en Israel sal red. Die eintlike rede vir hierdie jubelende blydskap wat in ons kernvers beskryf word, is die geboorte van ’n Seun – ’n baie besonderse Seun. Sommige Skrifverklaarders meen dat Jesaja hier van ’n seun uit sy eie tyd praat, maar die Seun word hier met ’n hoofletter gespel, en in die Nuwe Testament word hierdie profesie op Jesus van toeing gemaak. Die verlossing wat Jesaja in die vooruitsig stel, word verbind aan ’n nuwe Dawid wat ’n ewige vredesryk tot stand sal bring. In Jesus word hierdie profesie vervul. Hy is uit die geslag van Dawid en met sy koms herstel Hy die vrede tussen God en mens. Met Kersfees is daar steeds vreugde oor die geboorte van ’n Seun, maar hierdie keer is dit die geboorte van
Gód se Seun waaroor ons juig. Jesus, wat na die wêreld gestuur is, sodat sondaarmense soos ek en jy God se kinders kan word.
Here Jesus, dankie dat ek mag deel in die vreugde van u geboorte. Dat U ook gekom het om my te red, sodat ek my in u teenwoor digheid kan verbly. Amen.
22 Desember – Jesus se nuwe name
22 DESEMBER
Lees: Jesaja 9:1–6
Jesus se nuwe name
Vir ons is ’n Seun gebore, aan ons is ’n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. – Jesaja 9:5–6
In sy voorspelling oor die Kind wat gebore gaan word, maak Jesaja twee stellings: dié kind sal ’n Koning van vrede wees wat op die troon van Dawid sal sit en oor sy koninkryk sal regeer, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed vir God se volk bring. Hierdie voorspelling pas Jesus soos ’n handskoen. Jesus is die nuwe Dawid wat ’n ewige vredesryk vir sy kinders tot stand bring. Uit Psalm 2 weet ons dat so ’n nuwe koning tydens sy kroning as Seun van God aangeneem word. By dié geleentheid kry Hy ook ’n nuwe naam. Dit is presies wat Jesaja hier beskryf: Wanneer die Messiaskoning die troon bestyg, kry Hy vier nuwe name: Wonderbare Raadsman (Hy sal geen raad van ander nodig hê nie, omdat God Self sy Raadgewer sal wees), Magtige God (die Messias-koning is God se direkte verteenwoordiger op aarde; Wie Hom sien, sien as ’t ware vir God Self), Ewige Vader (soos dit ’n koning betaam, is Hy vir sy onderdane ’n Pa wat onderneem om altyd vir hulle te sorg) en Vredevors (terwyl Hy heers, sal daar harmonie in die land wees sodat die volk hom ongehinderd sal kan dien.
God Self is die waarborg dat hierdie belofte waar sal word.*
Here Jesus, dankie dat Jesaja se belofte met u geboorte waar word, en dat U inderdaad vir mý ’n wonderlike Raadsman, ’n magtige God, ’n ewige Vader én ’n Koning van vrede is. Amen.
* FJ van Rensburg en M Nel, Die Bybellennium, p 958
23 Desember – Kersvreugde!
23 DESEMBER
Lees: Lukas 2:8–12
Kersvreugde!
Daar was skaapwagters in daardie omgewing wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het. Meteens staan daar ’n engel van die Here by hulle … Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is.” – Lukas 2:8–10
Vir ’n klompie skaapwagters wat in die nag buite Betlehem by hul skape waak, val ’n besondere ervaring te beurt. ’n Engel verskyn aan hulle met ’n goeienuusboodskap: hy bring ’n blye tyding; daar is ’n kind in Betlehem gebore, en hierdie kind sal die langverwagte Verlosser van Israel wees. Die engel praat van Jesus, Wie se geboorte lank gelede al deur die profete voorspel is. Hy is dié Kind van Wie Jesaja in Jesaja 9:5 praat: dié Kind wat vreugde gaan bring in die lewe van elke mens wat in Hom glo, oor wie sy volk so bly sal wees soos mense bly is in die oestyd. Christene mag vandag steeds met blydskap leef te midde van swaarkry en seerkry omdat ons die engel se goeie tyding van groot blydskap ons eie gemaak het. As jy vir Jesus ken en liefhet, mág jy maar altyddeur bly wees, ten spyte van jou negatiewe omstandighede van die oomblik. Jy weet immers dat dié Jesus wat in Betlehem gebore is – wie se Naam ook Immanuel, God by jou is – elke
oomblik van jou lewe by jou sal wees, dat Hy vir jou sorg en jou liefhet ten spyte van die feit dat jy sondig en onvolmaak is. Genoeg rede om vir die res van jou lewe bly te wees oor Hom!
Here Jesus, dankie dat ek vandag steeds mag deel in die engeltyding van groot blydskap; dankie dat U nog elke dag vreugde in my eie lewe bring. Amen.
24 Desember – Vrede op aarde!
24 DESEMBER
Lees: Lukas 2:8–20
Vrede op aarde!
Skielik was daar saam met die engel ’n menigte engele uit die hemel wat God prys en sê: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het!” – Lukas 2:13–14
Die meeste Suid-Afrikaners rol deesdae snags rond omdat die meerderheid van ons ons vrede verloor het. Ons lewe in angs vir ons en ons kinders se veiligheid omdat ons soveel geweld en onrus om ons ervaar. Môre is dit Kersfees – dié dag waarop Jesus twee duisend jaar gelede na die aarde gekom het om vir ons vrede te bring. Op daardie eerste Kersfees is die herders wat hul skape op die velde van Betlehem opgepas het, verras deur ’n besoek van ’n engel wat vir hulle vrede verkondig het. Die engelboodskap sluit weer eens aan by Jesaja 9, wat verkondig dat die Kind wat gebore gaan word ’n Vredevors, ’n Koning van vrede sal wees. Die geboorte van Jesus bring inderdaad vrede na die wêreld: dit versoen ons met God. Dit versoen ons ook met ánder mense. Dit is die Koning van vrede se wil dat sy kinders hier op aarde in vrede met mekaar sal lewe. Dat hierdie vrede vir altyd sal duur. Dat ons vredemakers sal wees wat vir ander mense van Hom sal vertel. Jesus kan dit inderdaad vir my en jou moontlik maak om vrede te midde van die
onvrede om ons te ervaar. As jy gewillig is om elke dag naby Hom te leef, sal sy innerlike vrede in jou lewe realiseer. Mag God se vrede wat alle verstand te bowe gaan ook hierdie Kersfees jou hart en sinne vul.
Here Jesus, ek weet dat U nie net vrede op aarde gebring het nie, maar ook vrede in my hart en lewe. Amen.
25 Desember – Hoop, vreugde én vrede!
25 DESEMBER
Lees: Romeine 15:7–13
Hoop, vreugde én vrede!
Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees. – Romeine 15:13
Elke Kersfees vier God se kinders fees oor die geboorte van die Kers-kind, Jesus, wat weer hoop gebring het vir ’n verlore wêreld. Alle gelowiges mag vanaf sy geboorte met hoop in hul harte leef, omdat ons seker weet dat God ons só liefhet dat Hy sy enigste Seun gestuur het om die ewige lewe vir ons moontlik te maak. Omdat ons in Hom glo, weet ons dat ons eendag die hemel as tuiste sal hê. Jesus ís ons Hoop op die heerlikheid, skryf Paulus aan die gemeente in Kolosse (vgl Kolossense 1:27). En wanneer Jesus gebore word, bring Hy nie net hoop met Hom saam nie, maar ook vreugde én vrede – vrede omdat ons weet in Wie ons glo en aan Wie ons ons hoop mag vas-knoop, en vreugde omdat geloof altyd vreugde in ons harte bring. Mense wat in Jesus glo, het ’n lewende hoop op ’n onverganklike erfenis wat in die hemel vir hulle in bewaring gehou word. Ook jy het ’n kaartjie hemel toe as jy in Hom glo. En hierdie geloof blaas die hoop in jou aan, maak dit al hoe sterker en vervul jou met vreugde en vrede.
Dit is my Kerswens vir jou: dat jy nie net vandag nie, maar elke dag in die jaar wat voorlê met God se hoop, vrede en vreugde vervul sal wees, en dat hierdie hoop, vrede en vreugde net al hoe groter sal word deur die krag van die Heilige Gees.
Hemelse Vader, ek loof U dat U u Seun gestuur het om ’n vlammetjie van hoop in my hart aan te steek sodat my vreugde en vrede vanjaar sal toeneem. Amen.
26 Desember – Vrede as erfporsie
26 DESEMBER
Lees: Johannes 14:15–28
Vrede as erfporsie
“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.” – Johannes 14:27
Jesus het dikwels vir sy dissipels gesê dat Hy na sy Vader sal terug-gaan. Hulle was bang en ontsteld omdat hulle sonder Hom sou moes klaarkom. Maar net voor Jesus se hemelvaart beloof Hy in sy afskeids-boodskap aan sy dissipels dat Hy hulle nie alleen sal agterlaat nie. Hy sal die Heilige Gees stuur om by hulle te bly en hulle te herinner aan alles wat Hy hulle geleer het (vgl Johannes 14:26). Hierdie Heilige Gees sal ook vir hulle ’n voorspraak by God wees; ’n advokaat wat namens hulle by God sal pleit, sodat Hy hul sondes sal vergewe. Jesus los ook vir hulle ’n spesiale erfporsie: sy vrede. Hierdie vrede is heel ánders as wêreldse vrede. Dit sal tot gevolg hê dat hulle nooit weer hoef bang te wees nie. Boonop beloof Jesus om eendag weer na die wêreld terug te kom om sy kinders te kom haal om vir altyd by Hom in die hemel te wees. Die wêreld waarin jy leef, is vol onvrede en geweld. Miskien is jy dikwels in situasies waar jy bang en alleen voel. Neem dan Jesus se erfporsie in ontvangs en laat sy vrede toe om jou vrees weg te neem. En onthou altyd: al gaan dit hier
op aarde baie sleg met jou, wag die hemel vir jou, waar jy vir altyd gelukkig saam met God sal wees.
Here Jesus, dankie vir u vrede wat U vir my agtergelaat het. Laat dit my lewe vul, sodat ek nooit weer bang sal wees nie. Amen.
27 Desember – Jesus, jou waarborg vir verlossing
27 DESEMBER
Lees: Galasiërs 4:3–7
Jesus, jou waarborg vir verlossing
Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur … om ons … los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word. En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: “Abba!” Dit beteken: Vader! – Galasiërs 4:4–6
Vir almal wat in Hom glo, maak Jesus dit moontlik om sy hemelse Vader ook hul Vader te mag noem en om boonop eendag vir altyd te mag lewe. “Die ewige lewe is geopenbaar in Jesus, die eniggebore Seun van God. In ’n stal in Betlehem op die eerste Kersdag,” skryf Johan Cilliers.* Op daardie heel eerste Kersfees stuur God sy Seun na die wêreld om ons los te koop van sonde, sodat ons as kinders van God aan-geneem kan word, verseker Paulus die gemeente in Galasië. Om dit te kon doen, kos Hom sy lewe aan die kruis. As jy in Hom glo, is Jesus jou waarborg dát jy verlos is; dat jy nou nie meer ’n slaaf van die sonde is soos tevore nie, maar wel ’n kind van God. En wanneer jy sy kind is, stuur God sy Heilige Gees om in jou te lewe, sodat hierdie Gees in jou “Abba” kan uitroep. Abba is die Aramese woord vir “liewe Pappa”. Jesus is jou waarborg dat jy verlos is, en die Heilige Gees bevestig vir jou dat jy nou vir
altyd aan God behoort en Hom nou jou “liewe Pappa” mag noem. Is jy al seker dat God jóú Vader is en dat die Heilige Gees in jou lewe?
Here Jesus, ek loof U dat U die waarborg vir my verlossing is; dat U dit vir my moontlik kom maak het om God my liewe pappa te mag noem. Amen.
* J Cilliers, Glo en leef!, p 275
28 Desember – Vrede vir die jaar wat voorlê
28 DESEMBER
Lees: Johannes 14:23–27
Vrede vir die jaar wat voorlê
“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontstel wees nie, en julle moet nie bang wees nie.” – Johannes 14:27
Kort voor sy kruisiging praat Jesus met sy dissipels oor vrede. Hy beloof om vir hulle sy vrede na te laat wanneer Hy weggaan, sodat hulle nooit weer bang hoef te wees nie. Dit is my wens dat elkeen wat hierdie dagboek lees, die vredesboodskap van die Kerstyd met hulle sal saamneem in die nuwe jaar: dat ons gewillig sal wees om die mense wat ons kwaad aangedoen het van harte te vergewe, omdat God gewillig was om óns te vergewe. Dat ons deur Jesus se oë na ander mense sal kyk en met deernis en begrip ook dié mense sal raaksien wat ons seergemaak en ons lewe in gevaar gestel het. Dat ons, ongeag wát die nuwe jaar sal bring, dit steeds sal regkry om met hoop, vrede en vreugde te leef. Dat ons teenoor ander mense sal getuig van hierdie hoop en Jesus se vrede en vreugde aan hulle sal deurgee. Dit is my gebed dat God in die jaar wat kom, sý liefde in jou hart sal uitstort deur die Heilige Gees wat Hy aan jou gegee het (vgl Romeine 5:5). Dan sal Hy, die Bron van vrede, jou deur jou geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat jou hoop al hoe sterker sal word deur die krag van die Heilig Gees, en sodat jy
elke dag met Jesus se vrede in jou hart kan leef (vgl Romeine 15:13)!
Koning van vrede, dankie dat ek elke dag met u erfenis van vrede mag saamleef. Maak my ’n vredemaker in die jaar wat kom. Amen.
29 Desember – Vra God om jou oë oop te maak
29 DESEMBER
Lees: 2 Konings 6:8–23
Vra God om jou oë oop te maak
Die môre vroeg het die slaaf van die man van God opgestaan, en toe hy uitgaan, sien hy ’n leër rondom die stad, met perde en strydwaens. “Ag, Meneer!” sê die slaaf vir Elisa, “wat gaan ons nou maak?” Hy het geantwoord: “Moenie bang wees nie, dié wat by ons is, is meer as wat hulle is.” – 2 Konings 6:15–16
Wanneer Elisa se slaaf Gehasi die Aramese leër rondom hulle sien, raak hy paniekbevange. Maar Elisa verseker hom dat dié wat by hulle is, baie meer is as die Arameërs. Toe maak die Here Gehasi se oë oop, sodat hy die vurige perde en strydwaens op die heuwels rondom hulle kon sien. As die onvrede en geweld in ons eie land jou aan God se liefde laat twyfel, vra dat Hy jou oë sal oopmaak, sodat jy ánders sal kan kyk en vir Jesus sal raaksien, sodat jy God se vrede sal ervaar. “Mag God ons help om anders te kyk na ons wêreld. Om met deernis, begrip, liefdevolle omgee en met vergewensgesindheid te kyk na die stukkende mense om ons, dié wat ons slagoffers noem en dié wat ons misdadigers noem. Dit is vanuit hierdie diepe, bomens-like vrede en liefde wat ons vreugde groei. Dis wanneer ons onsself as mede-sondaars sien dat ons kan vergewe, want ‘God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog
sondaars was.’ (Romeine 5:8) Deur Jesus Christus het ons versoe-ning ontvang, daarom verheug ons onsself in God. In Christus is ons vrygespreek,” skryf Braam en Mariëtte Hanekom.*
Vader, maak asseblief my oë oop sodat ek kan sien dat U Self in beheer van ons land en geskiedenis is. Gee ons u vrede. Amen.
* B en M Hanekom, Ontdek jouself voor God, p 187
30 Desember – Jesus sterf in jou belang
30 DESEMBER
Lees: 1 Tessalonisense 5:1–11
Jesus sterf in jou belang
Jesus het in ons belang gesterf sodat ons, of ons nog lewe of reeds dood is, saam met Hom mag lewe. Daarom, soos julle reeds doen, moet julle aanhou om mekaar moed in te praat en geestelik op te bou. – 1 Tessalonisense 5:10–11 (Nuwe Lewende Vertaling)
Dit is eers wanneer Hy aan die kruis hang dat Jesus sy eintlike werk waarvoor Hy na die wêreld toe gekom het, voltooi. Hy sterf juis omdat God sondige mensekinders wat nooit uit hul eie by Hom sou uitkom nie, so lief het dat Hy ’n plan maak om hulle by Hom uit te kry. Die Kersboodskap van God se Seun wat gebore is, word aan die kruis voltooi wanneer Jesus sterf vir my en jou sonde. Wanneer Hy die prys betaal en die straf op sonde (die dood) volledig in ons plek betaal. Omdat Hy gewillig is om dit te doen, is God nou bereid om ons sonde te vergewe. Jesus is nie net vir jou in Betlehem gebore nie, maar Hy sterf op Golgota in jou belang, sodat jý ’n kans mag hê om God se kind te wees en die sekerheid het dat jy eendag vir altyd sal lewe. Om die waarheid te sê, jy mag nóú reeds saam met Hom lewe omdat jou sonde reeds vergewe is as jy in Hom glo. Om hierdie rede is dit vir jou moontlik om met hoop in ’n deurmekaar wêreld te lewe. Al lyk dinge ook hóé sleg, weet jy mos seker dat jou swaarkry eendag iets van die
verlede sal wees en dat jy ’n heerlike toekoms saam met Jesus sal hê.
Here Jesus, ek loof U dat U gewillig was om na die wêreld te kom en in my belang aan ’n kruis te sterf, sodat ek God se kind mag wees. Amen.
31 Desember – ’n Nuwe jaar van 365 dae
31 DESEMBER
Lees: Psalm 118:19–29
’n Nuwe jaar van 365 dae
Dit is deur die Here gedoen en is ’n wonder in ons oë! Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees. – Psalm 118:23–24
Elke lewensdag is ’n wonder, iets waaroor ons behoort te juig en bly te wees. Môre is dit die eerste Januarie – die begin van ’n nuwe jaar met nuwe geleenthede, nuwe kanse, nuwe ontdekkings. Ek onthou steeds ’n gediggie uit my laerskooldae: Here hath been dawning another blue day wilt thou let it slip useless away? Hierdie einste gediggie het my geïnspireer om nie één dag onbenut verby te laat gaan nie. Dit lyk my asof dit ’n goeie nuwejaarsbesluit sal wees om elkeen van die 365 nuwe dae wat in die nuwe jaar vir jou wag, met vreugde en dankbaarheid te ontvang en met verantwoordelikheid te gebruik. Nóg ’n gediggie wat ’n diep indruk op my gemaak het, is dié ene van GL Chesterton: Here dies another day
during which I have had eyes, ears, hands and the great world around me; and with tomorrow begins another. Why am I allowed two?* Indien jy hierdie dagstuk lees, het jy heel waarskynlik al ten minste tien duisend dae uit God se hand ontvang. Hy het jou soveel méér as twee geskenk. Wat het jy met hulle gedoen? As jy maar min kan wys vir die dae wat God gemaak het, neem nou ’n wilsbesluit om in die nuwe jaar nie één dag onbenut by jou verby te laat gaan nie.
Here, ek loof U vir al die baie dae wat U my geskenk het én vir die 365 nuwe dae wat voor my lê. Leer my om bly te wees oor elkeen en elkeen optimaal te benut. Amen.
* GL Chesterton, aangehaal in P Yancey, Spirituele oorlewing, p 51
Gebed
Gebed
Here Jesus, in hierdie Kersfeesmaand kon ek opnuut ontdek Wie U vir my is. U was by die skepping teenwoordig; U wys my hoe God lyk, U is een met die Vader en tog was U aan mense gelyk – ek aanbid U as my Hoëpriester wat versoening vir my sondes bewerk; as die ewige Koning en die Koning van my lewe; as die Profeet wat God se boodskap na die wêreld bring en van my vra om daardie boodskap uit te dra. U nuwe verbond laat my toe om deel van u volk te wees. U is my hoop op die heerlikheid, die Lig vir die wêreld wat kom lig maak in my sondedonkerte. U is ook my waarborg vir die ewige lewe, en eendag sal U weer kom om my na U toe te neem. In hierdie Kerstyd wil ek myself opnuut aan U toewy. U bewerk versoening tussen my en God en ook tussen my en ander mense; maak my deel van versoening in ons land. Dankie dat ek ’n begenadigde vrou is wat u geskenk van verlossing kon ontvang. Here Jesus, U is altyd by my, ek hoef nooit weer sónder U te wees nie; ek wil juig oor u geboorte en U eer as my Raadsman, my ewige Vader en die Koning van vrede. Ek aanvaar u erfporsie van vrede met blydskap sodat ek in die jaar wat voorlê elke dag met hoop, vreugde en vrede mag leef. Wys my nou dat U steeds in beheer van die wêreld én my lewe is. Amen.
Bronnelys
BRONNELYS
Barnes, E 2005. More faith in my day. Oregon: Harvest House Publishers
Cilliers, J 1991. Glo … en lééf! Kaapstad: Lux Verbi
Cilliers, J 2010. Vandag is gister se môre. Vereeniging: CUM Boeke
De Villiers, IL 2004. In die teenwoordigheid van God. Vereeniging: CUM Boeke
Du Toit, A 2002. Hebreërs vir vandag. Vereeniging: CUM Boeke
Eareckson, Joni and Estes, Steve. 1979. A Step further. Londen: Pickering and Inglis.
Farrel, P 1996. A woman of influence. Illinois: Intervarsity Press
Hanekom, B en M 2010. Ontdek jouself voor God. Vereeniging: CUM Boeke
L’Engle, M (saam met CF Chase) 1966. Glimpses of grace. New York: HarpersCollins
Liedboek van die kerk. 2001. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers
Meiring, P (red) 2001. So glo ons. Vereeniging: CUM Boeke
Nouwen, Henry. 1999. The way of the heart. Darton, Longman and Todd: Daybreak
Omartian, S 2003. Stormie Omartian oor gebed: Die krag van ’n vrou wat bid; Wanneer gelowiges saambid en Die gebed wat alles verander. Vereeniging: CUM Boeke
Shook, K en C 2009. One month to live. Colorado Springs: Waterbrood Press
Smit, J 1993. Wandel deur die Woord. Kaapstad: Struik Christelike Boeke
Smit, J 1996. Trefferwoorde van Jesus. Kaapstad: Struik Christelike Boeke
Smit, J 2007. Gebed, ’n omvattende gids. Vereeniging: CUM Boeke
Smit, J 2010. Jesus aan die woord. Vereeniging: CUM Boeke
Smit, N 2004. Waar is God as ek Hom nodig het? Vereeniging: CUM Boeke
Smit, N 2005. Die groot boek van Christelike aanhalings. Vereeniging: CUM Boeke
Smit, N 2008. Die groot boek van Christelike aanhalings, Volume 2. Vereeniging: CUM Boeke
Van Rensburg, FJ en Nel, M 2010. Die Bybellennium. Vereeniging: CUM Boeke
Vosloo, W en Van Rensburg, FJ 1999. Die Bybellennium. Vereeniging: CUM Boeke
Warren, R 2002. Die doelgerigte lewe. Michigan: Zondervan
Wilhoit, J 2003. Jou handboek vir gebed. Kaapstad: Struik Christelike Boeke
Yancey, P 2001. Spirituele oorlewing. Vereeniging: CUM Boeke
Yancey, P 2006. Prayer. Michigan: Zondervan
Oor die boek
Oor die boek
My God gee lig as dit donker is om my. – 2 Samuel 22:29
’n Uur van lig is die geliefde skrywer Nina Smit se splinternuwe dagstukkieboek wat sy spesiaal geskryf het om haar lesers te bemoedig en te inspireer met gedagtes van hoop en sekerheid. Elke keer wanneer jy stil raak in God se teenwoordigheid en op Hom fokus, sal jy só ’n uur of halfuur van lig beleef. Met God by jou sal dit nooit heeltemal donker om jou wees nie. As jy sy kind is, kan jy reken op sy teenwoordigheid, selfs al gaan jy by tye deur donker dieptes. Hy gee áltyd weer lig in jou donkerte – meer nog, Hy is self die Lig wat jou deur donker tye dra.
Oor die skrywer
Oor die skrywer
NINA SMIT is een van Suid-Afrika se bekendste en gewildste skrywers. Sy is veral bekend vir haar inspirerende boeke vir vroue, maar het ook talle gesogte boeke vir kinders geskryf. Een van haar dagboeke is in Nederlands vertaal, en haar jeugboek Net jy en Jesus 1 het die CBSA Beste Publikasie Toekenning in 1997 ontvang. Sy is getroud met ’n predikant, Johan Smit, en die egpaar het drie kinders.
Kolofonbladsy
’n Uur van lig
Uitgegee deur Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers, ’n afdeling van Media24 Boeke (Edms) Bpk Heerengracht 40, Kaapstad 8001 www.luxverbi.co.za
Registrasienommer 1953/000037/07
Kopiereg © 2012 deur Nina Smit
Tensy anders aangedui, kom aanhalings uit die Skrif in hierdie boek uit: Die Bybel in Afrikaans (1933/1983-vertaling met herformulerings). Kopiereg © 1983, 1990 deur Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming.
Ander vertalings wat gebruik is sluit in:
Die Boodskap © 2002 deur Christelike Uitgewersmaatskappy; Die Nuwe Lewende Vertaling (NLV) © 2006 deur Christelike Uitgewersmaatskappy.
Alle regte voorbehou.
Geen gedeelte van hierdie elektroniese boek mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewer gereproduseer of in enige vorm of deur enige elektroniese of meganiese middel weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, skyf- of bandopname, of deur enige ander stelsel vir inligtingbewaring of ontsluiting.
Omslag en uitleg deur Naomi Wessels Teksversorging deur Riëtte Botma en Annake Muller eBoek ontwerp deur Full Circle
Beskikbaar in druk: Eerste uitgawe, eerste druk 2012 ISBN 978-0-7963-1660-8
Eerste ePub-uitgawe: e-ISBN 978-0-7963-1586-1
Vir navrae of bestellings skakel: 0861 668 368