Saartjie se wedstryd
Bettie Naudé
Dokter Jan Baumann se groot dubbelverdiepinghuis teen die heuwel het ’n pragtige uitsig oor die vallei. Op ’n helder, sonnige dag kan ’n mens vanuit Saartjie se venster op die boonste verdieping Johannesburg se wolkekrabbers sien. Lynnekom word as ’n voorstad van Johannesburg beskou, maar dit is ’n stil plekkie met ’n tipies plattelandse atmosfeer. Al die inwoners ken mekaar en kom goed oor die weg. Op die oomblik is die hele vallei in ’n sagte, rooi skynsel gehul. Dit is skemer – ’n tyd van vrede. Maar skielik word die stilte verbreek deur ’n klavier wat hard in dokter Baumann se huis gespeel word. ’n Opgewekte deuntjie weerklink deur die buurt. Dan begin iemand sing. Dis ’n pragtige, suiwer stem. Menige inwoner se voete begin op maat van die vrolike musiek tik. Hulle glimlag en sê met ’n teer kyk in die oë: “Die Saartjie … Ai, dié Saartjie …”
Die Saartjie-reeks
1. Saartjie
2. Saartjie se vakansie
3. Saartjie se geheim
4. Saartjie se donkie
5. Saartjie se nuwe maat
6. Saartjie se slim plan
7. Saartjie se papegaai
8. Saartjie se held
9. Saartjie se geveg
10. Saartjie se skatte
11. Saartjie se kliek
12. Saartjie se kêrel
13. Saartjie se dapper daad
14. Saartjie se piekniek
15. Saartjie se prys
16. Saartjie se moleste
17. Saartjie se boetie
18. Saartjie se gevaar
19. Saartjie se verjaarsdag
20. Saartjie se drome
21. Saartjie se sirkus
22. Saartjie se boetie
23. Saartjie se wedstryd
24. Saartjie se afskeid
Inhoud
Hoofstuk 1
Saartjie se poets
Hoofstuk 2
Die geveg
Hoofstuk 3
Saartjie se gevangene
Hoofstuk 4
Die man in swart
Hoofstuk 5
Die bal
Hoofstuk 6
Die wedstryd
1
Saartjie se poets
Dokter Baumann se groot dubbelverdiepinghuis is teen ’n heuwel gebou en het ’n pragtige uitsig oor Lynnekom, een van Johannesburg se landelike voorstede. Die vyftienjarige Saartjie Baumann se kamer is op die boonste verdieping. Op ’n helder dag kan sy Johannesburg se wolkekrabbers van haar venster af ver op die horison sien. Saans lyk die stad se liggies soos duisende vuurvliegies op ’n donker fluweellap. Maar dit is nou nog vroeg in die middag. Saartjie sit in haar kamer by haar skryftafel en doen huiswerk. Sy het dadelik ná ete daarmee begin. Saartjie beskik oor daardie ongewone kombinasie van donker krulhare en helderblou oë. Sy het ’n effense wipneus en ’n paar sproete wat haar ekstra oulik laat lyk. Al Lynnekom se seuns sê Saartjie is mooi. Maar hulle sê ook sy is ’n geitjie. Sy dink altyd sy kan alles beter as die seuns doen. Lynnekom se rabbedoe is besig om ’n Engelse opstel te skryf. Die onderwerp is maar vervelig, veral vir iemand wat so ’n geweldige verbeelding het soos sy. Die graadneges moet oor “A day at the zoo” skryf. Saartjie wou eers skryf oor ’n bende rowers wat op die dieretuin toesak, almal daar die skrik op die lyf jaag en dan die geld by die kaartjieskantoor en die kafee steel. Maar nadat sy ’n rukkie gesit en dink het, het sy hierdie idee eerder laat vaar. As rowers geld wil hê, sal hulle mos ’n bank beroof en nie ’n dieretuin nie. En in elk geval, die kinders se Engelse onderwyseres is taamlik verbeeldingloos. Sy sal nie van so ’n soort opstel hou nie. Sy soek maar net die gewone, vervelige
ou goed wat hulle al hoeveel keer in die laerskool kwytgeraak het oor hierdie onderwerp wat al so holrug gery is. Saartjie skryf dit nou maar so vir die juffrou. Sy vertel verveeld van die verskillende diere wat hulle op hierdie “lovely and sunny day at the zoo” gesien het en hoe hulle heerlike koeldrank gedrink en later moeg geword het, en toe “in the shade of a beautiful old tree” gaan sit en rus het. Nadat hulle gerus het, het hulle opgestaan en verder gaan kyk na diere wat hulle nog nie gesien het nie, skryf sy. Saartjie is moeg van die onsin wat sy skryf en sluit die opstel af:
As the sun set in the west we wearily wound our way homewards. It was the end of a perfect day at the zoo.
Sy skuif haar opstelboek met ’n sug van verligting eenkant toe. Dit is uiteindelik klaar. Nou sit en dink sy aan die netbalseisoen wat oor ’n paar dae in alle erns begin. Saartjie is as kaptein gekies en sy dink hulle gaan vanjaar baie goed in die wedstryde teen die ander skole vaar. Die kaptein moet self ’n span saamstel om in die eerste wedstryd te speel. Saartjie het vir elke plek op die baan ’n goeie speler, maar vir een het sy twee moontlikhede. Dit is nogal moeilik om te besluit wie van die twee om te kies. Die posisie van senter is uiters belangrik. Die speler moet vinnig kan help met die aanval en weer vinnig kan terugval om te help verdedig as dinge verkeerd loop. Wat die keuse tussen die twee meisies, wat albei omtrent ewe goed in hierdie belangrike posisie is, so moeilik maak, is die feit dat die een, Lina Rens, een van boesemvriendinne is. Saartjie en Lina en Anna Strydom, ’n meisie wat langsaan die Baumanns woon, is al maats vandat hulle nog sommer baie klein was. Hier in Lynnekom se
laerskool het ’n onderwyseres hulle drie in graad vier die Drie Musketiers gedoop omdat hulle sulke goeie maats was en alles gedurig saam gedoen het. Die graadviertjies het natuurlik niks geweet van die beroemde Franse roman waarin drie mans die Drie Musketiers genoem is nie en hulle het Saartjie, Anna en Lina van toe af sommer die Drie Muskiete genoem. En deur die jare het die drie hierdie naam behou. Vandag is hulle al graadneges aan die beroemde Hoërskool Saamwerk in die stad en hulle is nog steeds gedurig bymekaar. Maar nou moet Saartjie besluit vir wie om in haar netbalspan plek te gee – vir Lina of die ander meisie, Magriet Roux. Saartjie voel daar is nie veel te kies tussen die twee nie, maar sy is skrikkerig dat as sy vir Lina kies, ’n klomp van die katterige meisies by die skool sal sê dit is net omdat hulle sulke goeie vriendinne is. En Saartjie wil tog nie hê hulle moet dink sy is ’n slegte kaptein nie. Saartjie besluit om Anna te bel en haar raad te vra. Anna is effens geset en speel nie self netbal nie, maar sy het verlede seisoen al die wedstryde bygewoon waarin Saartjie en Lina gespeel het. Anna weet alles van netbal af. Saartjie dink sy sal miskien raad kan gee. Ná ete, voor Saartjie met haar huiswerk begin het, het sy eers haar skoolklere uitgetrek en toe ’n denimkniebroek, ’n rooi T-hemp en sandale aangetrek. Dit is mos lekker gemaklike klere om sommer in rond te slof. Saartjie gaan vinnig by haar kamer uit. Sy wil vir Anna bel. Al woon Anna net langsaan haar, hou die meisies nogal daarvan om mekaar te bel en dan lang rukke oor die telefoon met mekaar te ginnegaap. Die huis is stil. Saartjie se pa is by sy spreekkamer in die stad en haar ma is ook stad toe om inkopies te gaan doen. Haar ouer broer, Kris, wat een-en-twintig is, is ’n universiteitstudent wat feitlik nooit bedags by die huis is nie. Sy weet nie waar haar jonger boetie, die negejarige Apie, is nie. Sy vermoed hy is seker weer by sy maat, Bennie. Hulle is mos gedurig bymekaar. Saartjie kom by die trap af. By die tiende trap van onder af gaan staan sy stil. Sy kyk na die matjie in die voorportaal. Haar rekord is op die oomblik die tiende trap. Sy het hiervandaan tot onder op die matjie gespring. Sy wou die elfde trap al aangedurf het, maar haar ouers het haar gewaarsku daar
gaan groot moeilikheid wees as hulle haar vang dat sy weer so hier by die trap afspring. Dit is glo gevaarlik. Volgens haar pa kan sy haar nek breek. Saartjie kyk peinsend na die trap voor haar. Dan gee sy vasberade een tree terug. Sy staan nou op die elfde trap. As sy hiervandaan tot op die matjie daar ver onder kan spring sonder om aan ’n trap te raak, sal sy op haar eie rekord verbeter. Met ’n tipiese gebaar vee Saartjie met die agterkant van haar hand ’n weerbarstige krul van haar voorkop af weg. Sy wonder of sy moet probeer. Haar ouers is nie hier nie en ook nie haar twee broers nie. Hoe sal iemand ooit weet sy het dit gewaag om weer hier by die trap af te spring? Dit is mos nou ’n gulde geleentheid. Saartjie staan en staar so diep ingedagte na die trap voor haar dat sy nie agterkom die voordeur gaan oop en Apie kom in nie. Haar boetie leun teen die deur se kosyn en kyk op na Saartjie. Sy het hom nog steeds nie gesien nie. Apie het ’n koddige sproetgesig met hare wat penorent op sy kop staan. Sy twee voortande skitter in hul afwesigheid. Hy het hulle verloor toe hy een middag volgens hom uit ’n boom geval het. Hy het egter ook ’n prag van ’n blouoog gehad en sy gesin was seker hy het baklei, maar hy het volgehou dat hy uit ’n boom geval het en niks kon hom van sy storie laat afsien nie. Die knaap leun nou gemaklik teen die kosyn. Sy tongpunt wip in en uit by die gaping waar sy voortande moes gewees het. Saartjie het net mooi besluit sy gaan probeer om haar eie rekord te slaan, ’n paar trappe terugtree, momentum kry, op die elfde trap vastrap en dan spring, toe Apie lui sê: “Haai!” Saartjie kyk vinnig op. Sy het haar nou boeglam geskrik. “Hoekom bekruip jy ’n mens so?” vra sy toe sy beheer oor haar stembande kry. “Ek het jou g’n bekruip nie,” sê Apie vies. “Wat doen jy, hè?”
“Ek doen niks. Ek staan sommer net hier.” “Ek weet hoekom,” sê Apie, en sy oë is nou op skrefies. “Jy wil weer daar by die trap afspring. Het jy nie gehoor wat Ma en Pa gesê het nie? Hulle slag jou lewendig af.” Saartjie kyk na Apie. Die outjie staan en maak nou sisgeluide deur die opening tussen sy voortande. Hulle twee baklei baie – sy beskou hom as ’n laspos en hy dink alle meisies is simpel – maar hulle hou nogtans van mekaar. Soos Apie eendag gesê het: “Ons baklei baie, maar ons staan saam teen die wêreld.” “Wie’t gesê ek wil spring?” vra Saartjie en kyk vies na haar boetie. Hy het alles kom bederf. Sy sal nie nou kan probeer om haar rekord te breek nie. “Ek’s nie blind nie,” sê Apie en maak weer ’n paar sisgeluide deur die opening waar sy voortande moes gewees het. “Ek kan mos sien jy was reg om te spring.” Saartjie antwoord hom nie. Sy stap trots by die trap af. Sy sal nou maar vergeet van haar rekord. Dit is te gevaarlik om voor Apie by die trap af te spring. Sy glo nie hy sal haar sommer gaan verklik nie, maar hy mag nie iets hê wat hy soos ’n swaard bo haar kop kan hou nie. Sy ken haar boetie. Die oomblik as daar iets is wat hy baie graag wil hê, sal hy haar afpers. En as hy hom dalk regtig vir haar vervies, sal hy haar sommer uit leedvermaak gaan verklik. Nee, sy sal nie voor hom by die trap afspring nie. Toe Apie sien Saartjie gaan dit nie doen nie, mompel hy vermakerig: “Bang, nè?” Dan stap hy sitkamer toe en tel die foon op. Teen die tyd dat Saartjie daar kom, is hy al besig om ’n nommer te skakel. “Ek wou gebel het,” sê sy vies. “Haai, rêrig?” Apie se hele sproetgesig trek op ’n plooi soos hy grinnik. “Ag, siestoggies. Is dit nou nie jammertjies nie?” Saartjie kyk vies na hom.
“Laat ek eerste bel!” sê sy ferm. “Wie was eerste hier by die foon, hè?” vra Apie bars en wikkel sy sproetneus om haar goed te laat verstaan hy is nou omgekrap. “Jy of ek?” “Goed, sê maar jy was eerste hier,” erken Saartjie, “maar as jy langer as ’n minuut praat, is daar groot moeilikheid.” “Behoort die foon miskien aan jou, hè?” wil die outjie nou weet. Saartjie bly maar eerder stil, voor sy haar bloedig vervies. Die telefoon lui aan die ander kant en terwyl Apie wag dat iemand antwoord, gluur hy sy suster woes aan. Saartjie begin net hoop dat wie Apie ook al bel nie daar is nie en dat hy die foon dan sal neersit, toe haar boetie skielik begin praat. “Hallo,” sê Apie. “Wie’s dit?” Hy luister en sê dan: “Dis ek hier, Tannie – Apie, Apie Baumann. Is Bennie miskien daar?” Saartjie sug en gaan sit in ’n gemakstoel. Sy hoop Bennie is nie by die huis nie. As hy en Apie eers begin gesels, hou hulle lank met hul bogstories aan. Ongelukkig vir Saartjie is Bennie daar. “Haai, Ben ou Pen,” sê Apie laggend, “dis Aap ou Skaap hier.” Saartjie sug. Sy wonder hoe lank die gesprek gaan aanhou. Sover Saartjie kan uitmaak, stry die seuns nou oor of Bennie by die huis was toe Apie vanmiddag by hom kom kuier het of nie. Sy vermoed Bennie sê hy was. Apie sê egter hy was nie. “Nee, man, ek sê nie jy lieg nie,” sê Apie, “kos lieg is nie ’n mooi woord nie. Ek sê jy skiet spek, kos ek het properlies orals daar by jou huis na jou gesoek.” Saartjie maak haar oë toe en byt op haar tande. O, Apie se taal! As hul ouers hom nou moet hoor, sal hy in groot moeilikheid wees. Die kos wat hy op so ’n snaakse manier gebruik, beteken natuurlik nie kos soos
wat mens kan eet nie. Nee, dit is die Engelse woord “because” wat eers afgekort is tot “’cause” en toe het Apie dit sommer ’n Afrikaanse kos gemaak. Dit klink asof die twee seuns nou ooreenkom om nie te baklei oor of Bennie by die huis was toe Apie daar opgedaag het nie. Saartjie hoor Apie sê: “Orraait, sê dan maar jy was in die hoenderhok.” Dit is ’n paar oomblikke stil, dan sê hy: “Ek sê mos nou ek glo jou. Vergeet daarvan. Wat doen jy?” Dit is weer stil terwyl Bennie vir Apie vertel wat hy aanvang. Dit moet iets wees wat Apie ook graag wil doen, want hy sê nou: “Raait, ek is nou daar – dan help ek jou die hoenders vang en vlooie van die goed aftrek. Oukei, baai!” Apie sit die foon opgewonde neer. Saartjie glimlag tevrede. Gelukkig het Apie darem nie te lank oor die foon gepraat nie. Met nog ’n “Oukei, baai!” aan haar en ’n “Moenie dink die foon behoort aan jou nie!” is hy daar weg. Saartjie kan haar nie iets ergers voorstel as om hoenders te vang en te ontvlooi nie, maar Apie is hoog in sy skik. Hy is seker hy en Bennie gaan baie pret hê. Saartjie hoor die voordeur toeklap en dan hoe Apie in die tuinpaadjie afhardloop na die hek toe. Sy tel die foon op en bel Anna se nommer. Terwyl die telefoon lui en sy wag dat iemand moet antwoord, besluit sy om ’n bietjie met Anna gek te skeer. Saartjie is baie talentvol. Sy sing pragtig, speel skitterend klavier (sy het al baie goue medaljes by kunswedstryde gewen) – en sy kan mense ook uitstekend naaap. Sy besluit nou om juffrou Vermeulen, hul Afrikaanse onderwyseres, na te maak. Die juffrou is ’n nukkerige oujongnooi en Anna was vanoggend in die moeilikheid by haar omdat sy soveel van die voorsetsels in ’n grammatikaoefening verkeerd ingevul het. Die kinders noem juffrou Vermeulen Ou Moesie, want sy het ’n moesie op haar ken wat lyk asof dit al hoe groter word as sy kwaad is.
Sy was woedend vir Anna en het gesê haar kennis van voorsetsels is net mooi ’n ronde nul. As strafwerk moes Anna toe vanmiddag die oefening twee keer netjies uitskryf en natuurlik die regte voorsetsels gebruik. Dit is seker wat sy nou besig is om te doen, dink Saartjie. Iemand antwoord die foon. Dit is Anna wat vra wie praat. Saartjie glimlag en kug effens. Ou Moesie kug mos altyd ook eers so voor sy begin praat. “Is dit Anna Strydom?” vra Saartjie met ’n hoë, skril stem. Anna herken die stem sommer dadelik. Dit is mos Ou Moesie! Maar net om seker te maak, vra Anna: “Ja, dis ek. Wie praat nou?” “Juffrou Vermeulen,” sê Saartjie en boots die onderwyseres se stem perfek na. Anna aarsel net ’n oomblik, dan sê sy vinnig: “Middag, Juffrou.” “Middag, Anna.” Saartjie kug weer effens. “Het jy al daardie strafwerk vir my gedoen?” “Ek is nou net daarmee besig, Juffrou,” sê Anna. “Ek is nog nie heeltemal klaar nie.” Saartjie byt haar onderlip vir ’n oomblik styf vas om nie hardop te lag nie. Dan sê sy, en klink nou nog meer soos Ou Moesie: “Hmm, wel, ek het besluit jou sotlikheid met die invul van die voorsetsels verdien ’n groter straf as om die oefening net twee keer uit te skryf. Sulke sotlikheid steek my dwars in die krop!” As Anna miskien aan die begin ’n bietjie agterdogtig was oor of dit regtig juffrou Vermeulen is wat praat – sy was natuurlik glad nie, want sy het gans te groot geskrik – dan sou sy nie nou meer getwyfel het nie. Sy sou haar kop op ’n blok sit dat dit wel Ou Moesie is wat praat. Die juffrou is mos baie lief vir die woord “sotlikheid” en sy gebruik dit gereeld in die klas. “Het jy my gehoor, Anna?” “Ja, Juffrou,” sê Anna gedwee. “Nou goed, in plaas van die oefening twee keer uit te skryf, gaan jy dit vir my
vier keer doen. Is dit duidelik?” Hierdie “Is dit duidelik?” is ook tipies van juffrou Vermeulen. “Ja, Juffrou,” sê Anna en sug swaar, “dis duidelik.” “Toe-toe, gaan spring aan die werk.” Saartjie wou nou vir Anna sê wie dit is wat eintlik met haar praat, dan lekker lag en met Anna oor die netbalprobleem gesels, maar sy besluit skielik om dit nie te doen nie. Laat Anna maar nog so ’n paar minute lank dink Ou Moesie het regtig vir haar ekstra werk gegee. Saartjie sal ná die oproep na die Strydoms se huis toe loop en Anna uit haar lyding gaan verlos. “Reg, ek sal nou dadelik begin, Juffrou.” “Nou toe, doen dit dan.” “Ja, Juffrou. Middag, Juffrou,” sê Anna gedwee en sit die telefoon neer. Saartjie bars uit van die lag. Sy het Anna darem lekker gevang. Sy gaan nou langsaan toe om te kyk hoe vies haar vriendin is. Sy wil vir Anna sê dit was ’n poets voor sy met die ekstra werk begin. Dit sal darem te wreed wees om haar arme vriendin dit onnodig te laat doen. Saartjie loop by die huis uit en vinnig met die tuinpaadjie af na die Baumanns se voorhekkie toe. Net buite die hekkie is die sypaadjie aan weerskante vir omtrent dertig tree met betonblokke geplavei. Die munisipaliteit het dit omtrent vyf jaar gelede as ’n eksperiment gedoen en toe net so gelos. Saartjie het haarself destyds belowe om nooit, so lank soos sy lewe, op die betonblokke te loop nie. Sy sal altyd van die een blok na die ander spring – en om dinge nog ingewikkelder te maak, sal sy teruggaan en weer van voor af begin as haar voet aan een van die gleuwe tussen die betonblokke raak. Nie sy of enigiemand anders kon toe – en nou nog! – verstaan hoe Saartjie so iets aan haarself kon doen nie.
Sy wou later ophou en van die belaglike springery vergeet, maar sy kon nooit sover kom nie. Sy is altyd bang daar sal dan iets vreesliks met haar gebeur. Hoekom weet nugter alleen, maar Saartjie het nogtans so gevoel. Deesdae probeer sy nie eens meer om die onsinnige gewoonte te los nie. Sy begin dink sy sal selfs op haar troudag as sy in haar pragtige wit rok by die huis uitkom om kerk toe te gaan, nog van die een blok na die ander spring. Saartjie kyk nou vies na die blokke. Sy sug, vee die weerbarstige krul wat op haar voorkop hang met die agterkant van haar hand weg en begin dan spring. Sy wip versigtig van die een blok na die ander en sorg dat haar voete in die middel van elke blok te lande kom. Saartjie bly ver van die gleuwe af weg. Sy wil tog nie aan een raak en dan weer van voor af moet begin nie. Sy wil gaan kyk hoe vies Anna is oor die ekstra strafwerk wat Ou Moesie vir haar gegee het. Sonder enige voorvalle – sonder om een keer aan ’n enkele gleuf te raak – kom Saartjie aan die einde van die plaveisel. Dan hardloop sy vinnig na Anna se huis toe. Sy is reg om, soos Apie sou sê, haar properlies dood te lag. Saartjie stap met die tuinpaadjie op na Anna se huis toe en hoor dan skielik: “Haai, Saartjie! Waarheen gaan jy?” Sy kyk rond en sien Anna se sewejarige sussie agter ’n roosbedding op die grasperk sit. Muggie is ’n koddige skepseltjie wat die wêreld vir die Drie Muskiete baie moeilik maak. Sy wil altyd oral saam met hulle gaan. En as hulle haar nie wil toelaat om dit te doen nie, sit sy so ’n keel op dat ’n mens se oortromme wil bars. Lina het al meer as een keer gesê sy dink Muggie het ’n blikkeel. “Ek gaan na Anna toe,” sê Saartjie. Muggie het haar lappop, Trienkie, in haar arms. “Nou gaan dan maar,” sê die kleintjie en waai haar hand soos ’n prinses wat ’n onderdaan goedgunstiglik toestemming gee om ’n vertrek te verlaat. “Dankie,” sê Saartjie sarkasties. “Waarvoor?” vra Muggie agterdogtig en loer deur skrefiesoë na Saartjie.
“Omdat jy gesê het ek kan maar na Anna toe gaan.” “O.” “Ja, jy het my mos toestemming gegee.” Muggie kyk aandagtig na Saartjie. Sy is nie seker of Saartjie met haar die gek probeer skeer nie. “Nou toe, loop dan. Anna is in haar kamer.” “Dankie,” sê Saartjie weer en is vinnig daar weg. Sy is maar bly Muggie en haar lappop kom nie saam nie. Saartjie stap by die huis in en gaan reguit na Anna se kamer toe. “Haai,” groet sy. “Haai jouself,” groet Anna op die tipies Lynnekomse manier terug. Anna en Saartjie is ewe oud. Hulle is al maats vandat hulle mekaar die eerste keer uit hul babawaentjies beloer het. Hulle het mekaar eers aangegluur, maar toe het albei begin lag en hul handjies na mekaar uitgesteek. Van daardie dag af is hulle onafskeidbaar. Lina en haar ouers het in graad vier hier in Lynnekom kom bly en die drie was dadelik beste vriendinne. Anna se goedige, ronde gesig lyk bekommerd. Sy sug swaar. “Wat makeer?” vra Saartjie ewe onskuldig. Arme Anna sit by haar werkstafel. Saartjie hoop maar net sy het nie al met die ekstra strafwerk begin nie. Anna staar ’n rukkie voor haar uit. Dan sug sy weer swaar. “Jy wonder seker hoekom ek so treurig lyk, nè?” Saartjie het nie juis gewonder nie, want sy weet mos, maar sy knik nogtans haar kop. “Wel, ek sal jou sê,” gaan Anna verder. “Ek sit netnou nog hier met Ou Moesie
se strafwerk en toe lui die foon. Toe antwoord ek en dis vir my – en raai wie’t my gebel?” “Nee, ek weet nie. Wie?” Saartjie se oë is groot. “Ou Moesie!” “Nee!” “Ja!” “Wat wou sy hê?” Anna sug weer swaar en sê: “Sy het my sowaar gebel om te sê sy’t oor alles gedink en besluit die strafwerk wat sy my vanoggend in die klas gegee het, is nie genoeg nie. Sy sê toe ek moet daardie oefening nou vier keer uitskryf en nie net twee keer nie.” Nou vra Anna asof sy dit self nie kan glo nie: “Kan jy dit glo, Saartjie?” Saartjie se oë is groot en sy byt op haar onderlip om nie hardop te lag nie. Dan sê sy kastig verbaas: “Ek kan dit sowaar nie glo nie, Anna.” “Ek sê jou, dis wat gebeur het,” antwoord Anna. “Ek sal nou dadelik moet begin, anders kry ek sowaar nooit vandag klaar nie.” “Hoeveel het jy al gedoen?” vra Saartjie. “Ek is klaar met die strafwerk wat sy vanoggend vir my gegee het. Ek het die oefening twee keer uitgeskryf, maar nou moet ek dit nóg twee keer doen.” Anna trek haar oefeningboek nader. “Ek sal nou dadelik moet begin,” sê sy weer. Skielik bars Saartjie uit van die lag. Sy lag so lekker dat sy eintlik haar maag vashou. Anna kyk verbaas na haar. “Wat’s dit met jou?” vra sy.
“Is jy seker dit was Ou Moesie wat jou gebel het?” vra Saartjie laggend. “Natuurlik was dit sy. Ek ken haar stem en haar manier van praat. Sy het gesê sulke sotlikheid steek haar dwars in die krop. En jy weet mos dit is ’n sin wat sy baie gebruik.” “Ek weet, ja,” sê Saartjie en sluk haar lag. “O wel, as jy so seker is dit was Ou Moesie wat jou gebel het, moet jy maar met jou strafwerk begin.” Anna is nou agterdogtig. Hoekom vra Saartjie of sy seker is dis Ou Moesie wat gebel het? “As dit nie Moesie was nie,” vra Anna, “wie was dit dan?” “Wie dink jy was dit?” vra Saartjie en glimlag breed. Anna onthou skielik dat Saartjie mense so skitterend naboots. “Saartjie,” sê sy en begin ook lag, “dit was jy!” “Ja, dit was!” Saartjie lag nou weer. Anna is so verlig dat sy nie die ekstra werk hoef te doen nie dat sy glad nie vir Saartjie kwaad is nie. Sy dink haar vriendin het die juffrou briljant nageaap. Eendag, natuurlik wanneer Ou Moesie nie daar is nie, moet Saartjie dit voor die hele klas doen. Die kinders sal hulle doodlag! Die meisies sit en skater nog so lekker oor die poets wat Saartjie vir Anna gebak het toe Muggie by die oop venster verskyn. “Hoekom lag julle so, hè?” vra sy en loer agterdogtig na hulle. “Dit het niks met jou te doen nie,” sê Anna. “Hoekom wil jy weet?” “Ek wil ook lag,” sê Muggie sedig en kyk af na die lappop in haar arms. “Ek en Trienkie wil ook lekker lag.” “Julle sal nie dink dis snaaks nie,” sê Saartjie. “Hoe weet jy, hè?” wil die koddige Muggie weet. “Vertel hoekom julle lag, dan sal julle sien!”
Saartjie vertel grinnikend vir Muggie hoe sy Anna ’n streep getrek het. Toe sy klaar is, vra Muggie: “Is dit al?” “Ja, dis al,” sê Saartjie. Muggie staan en kyk ’n oomblik na die twee giggelende meisies. Dan gee sy ’n droë laggie en sê: “Nou het ek ook gelag, maar ek dink julle’s simpel om oor so ’n lawwe ding te lag.” Die kleintjie stap met haar pop in haar arms weg van die venster af. Sy gaan weer na daardie plekkie agter die roosbedding op die grasperk toe om te kyk hoe die miere werk. Sy dink duidelik die twee ouers meisies is sommer laf. “Wel, ek het nou niks meer strafwerk of huiswerk nie,” sê Anna nadat sy en Saartjie weer lekker gelag het omdat Muggie nie gelag het nie. “So, wat gaan ons doen?” “Voor ons besluit, is daar iets waaroor ek met jou wil praat,” sê Saartjie. “Wat’s dit?” vra Anna. “Onthou net, dis baie vertroulik, hoor. Jy moet vir niemand sê ek het met jou daaroor gepraat nie, veral nie vir Lina nie.” Anna knik haar kop om te wys sy sal niks vir niemand sê nie. Sy is nou nuuskierig. Sy wonder hoekom hul beste vriendin, Lina, niks hiervan mag weet nie. “Wat is dit?” fluister Anna en skuif nader aan Saartjie. “Soos jy weet, het ons twee weke gelede al met netbal begin. Ons speel volgende week ons eerste wedstryd,” sê Saartjie. Sy praat nou ook in ’n sagte fluisterstem. Terwyl die twee hier in Anna se kamer met hul koppe teen mekaar sit en fluister, lyk dit amper asof hulle skurke is wat beplan om ’n belangrike gebou in die lug op te blaas. “Ek weet, ja,” fluister Anna. “Julle het vanjaar ’n goeie span.”
“Maar daar’s een ding wat my hinder,” sê Saartjie. “Ek is nie seker wat ek moet doen nie.” “Wat hinder jou?” fluister Anna en skuif nog nader aan haar vriendin. “Soos jy weet, is Lina...” Maar net toe Saartjie haar naam noem, swaai die deur oop en hul vriendin kom by die kamer in. “Haai, julle twee,” sê Lina opgewek, “waaroor gesels julle?” Saartjie en Anna kyk verskrik na mekaar. “Ons het nie eintlik gesels nie,” sê Saartjie. “Dis snaaks,” sê Lina en frons. “Ek het ’n rukkie voor die deur gestaan omdat ek nie seker was of Anna hier in die kamer is nie. En toe het ek julle twee hoor praat. Toe weet ek mos julle is hier en kom in.” “Het jy gehoor waaroor ons praat?” vra Saartjie benoud. “Nee, julle’t gefluister, so ek het nie eens probeer luister nie. Toe ek julle stemme hoor, het ek die deur dadelik oopgemaak en ingekom.” Saartjie en Anna lyk verlig. “Maar waaroor het julle gepraat?” vra Lina en kyk nuuskierig na hulle. “Was dit iets interessants?” “Aag, nee wat,” sê Saartjie en glimlag verleë, “ons het maar sommer net gesels, jy weet.” “Ja, maar waaroor?” Lina is nou regtig nuuskierig. Dit lyk mos asof hulle iets vir haar wil wegsteek. “Ons het sommer oor vanjaar se netbal gepraat,” sê Anna. “Ek het vir Saartjie gesê ek dink ons gaan ’n goeie span hê.” “Ek dink ook so,” stem Lina saam, maar sy glo duidelik nie dit is al waaroor hulle gesels het nie. Lina is ’n langbeenmeisie met twee vlegsels wat op haar rug hang. Sy is ook
vyftien, net so oud soos Saartjie en Anna. Om te keer dat Lina weer vra waaroor hulle gesels het, verander Saartjie die onderwerp vinnig en sê: “Lina, jy sal jou doodlag. Kom ek vertel jou bietjie van die streep wat ek Anna getrek het.” Lina gaan sit-lê op die bed en Saartjie vertel hoe sy Ou Moesie nageboots en Anna uitgevang het. Lina dink ook die poetsbakkery was kostelik en lag lekker daaroor. “Jy’s darem maar ’n bobbejaan, Anna,” sê sy. “Saartjie sou my nooit so gevang het nie.” “Dis wat jy dink,” sê Anna vies. Saartjie is verlig dat Lina nie gehoor het sy het haar naam genoem nie. Anna weet natuurlik nog glad nie wat Saartjie wou gesê het nie. Sy weet net dit is iets in verband met Lina en netbal. Sy is nuuskierig, maar sy sal maar tot later moet wag om uit te vind wat Saartjie pla. Lina sê sy is klaar met haar huiswerk en die drie vra amper gelyktydig: “So, wat gaan ons vanmiddag doen?” “Kom ons gaan spruit toe,” sê Saartjie en haar oë vonkel ondeund. “Om wat op aarde te doen?” vra Anna. “Ek het Galpil-hulle in die bus hoor sê hulle gaan vanmiddag daar kleilat speel. Kom ons gaan kyk bietjie.” Anna en Lina is heel ingenome met Saartjie se voorstel. Hulle sal graag wil gaan kyk hoe Galpil en sy vriende kleilat speel. ’n Mens weet nooit wat gebeur nie. Miskien kan hulle meisies saamspeel – of nog beter, as hulle eers mooi gekyk het hoe ’n mens met ’n kleilat gooi, kan hulle die seuns dalk tot ’n geveg uitdaag.
2
Die geveg
Die Drie Muskiete stap laggend en sorgvry by die huis uit. Almal se huiswerk is gedoen en selfs Anna se strafwerk is klaar. Hulle is nog nie halfpad na die hek toe nie toe hulle skielik ’n skril stemmetjie hoor: “Haai! Waarnatoe gaan julle?” Die drie vriendinne kyk met ’n moedelose uitdrukking op hul gesigte na mekaar. Hulle het skoon vergeet Muggie is hier in die tuin rond, anders sou hulle by die agterste hekkie uitgegaan het. “O gonna,” sê Saartjie, “nou is daar weer moeilikheid in die land.” Hulle ken Muggie mos. As hulle haar nie wil saamneem nie, gaan sy so ’n keel opsit dat die hele Lynnekom aangehardloop sal kom om te sien wat aangaan. En hoe kan hulle haar saamvat? Dis mos gevaarlik as die seuns so wild met kleilatte speel. Saartjie-hulle kan nie eens vir Muggie weghardloop nie. Sy het rats verby hulle geskiet met Trienkie wat doef-doef teen haar bene swaai en staan nou op die sypaadjie voor hulle. Muggie hyg ’n bietjie van die hardloop. Sy kyk agterdogtig na die Drie Muskiete en vra: “Waarnatoe gaan julle, hè?” “Dit het niks met jou te doen nie,” snou Anna haar toe. “Dis wat jy dink. Ma’s nie hier nie en Ma het gesê jy moet na my kyk,” kap Muggie terug. “Ek het nooit gehoor Ma sê so nie,” sê Anna. “Jy is groot genoeg om na jouself te kyk.”
“Ons gaan net ’n entjie stap,” probeer Saartjie maak asof hulle nêrens besonders heen op pad is nie. “Wel, ek gaan saam,” sê Muggie beslis. “Ek is ook lus om ’n entjie te gaan stap.” Die Drie Muskiete kyk moedeloos na mekaar. Hulle is glad nie lus om Muggie saam met hulle te vat nie. Sy sal net al hul pret bederf. “En as ons jou nie wil saamneem nie – wat dan?” vra Saartjie. “Dan gaan ek skree en skree en skree!” Dit is presies wat die drie nie wil hê nie. “Wees nou redelik, Muggie,” sê Lina. “Wat’s dit?” vra die kleintjie agterdogtig. Lina is nie lus om te verduidelik wat “redelik” beteken nie. Dit sal tog ook nie help nie. Die groter meisies kan sien Muggie is vasberade om saam met hulle te gaan. Anna het drie rand by haar en besluit om haar sussie te probeer omkoop. Miskien sal sy bereid wees om by die huis te bly as hulle vir haar lekkers gee. “Hoor gou hier, sussie,” sê Anna vriendelik en glimlag breed. Nou is Muggie eers agterdogtig. “Wat?” vra die kleintjie en loer uit die hoek van haar oog na Anna. “Wat, hè?” “Sal jy hou van drie rand se lekkers?” vra Anna en glimlag nog steeds vriendelik. Muggie dink ’n paar oomblikke ernstig hieroor na. Dan sê sy met ’n slim uitdrukking op haar gesig: “Drie rand se lekkers sal lekker wees, maar vyf rand se lekkers sal nog lekkerder wees.” “Wel, ek het nie vyf rand nie,” sê Anna kortaf en voeg dan saaklik by: “As jy nie saam met ons gaan nie en jy bly soet hier by die huis en jy tjank nie, sal ons vir jou drie rand se lekkers gee.”
Muggie dink weer ’n paar oomblikke ernstig na. Dan sê sy ook saaklik: “Maak dit vyf rand se lekkers, dan bly ek by die huis.” Saartjie, Anna en Lina kyk na mekaar. Hulle is vies. Muggie waag dit sowaar om hulle af te pers. Die kleintjie hou hulle belangstellend dop en sê dan weer: “Ek soek vyf rand se lekkers – drie rand s’n vir my en twee rand s’n vir Trienkie.” Anna vra wat Saartjie en Lina dink. Het een van hulle miskien nog twee rand sodat hulle vir Muggie vyf rand se lekkers kan gee om van haar ontslae te raak? “Ek het niks geld nie,” sê Lina. “Ek ook nie,” sê Saartjie. “Ek’s platsak.” Hulle kan nie vir Muggie vyf rand se lekkers gee nie, al wil hulle ook. “Jy’t nou gehoor,” sê Anna en draai na Muggie toe. “Ons het net drie rand. Wil jy dit hê of nie?” Muggie is teen hierdie tyd al baie lus vir lekkers en sy besluit om die aanbod maar te aanvaar. Hulle het nie meer as drie rand nie, en soos sy die grootmense al baie keer hoor sê het: ’n mens kan nie bloed uit ’n klip tap nie. “Goed,” sê Muggie, “ek vat nou drie rand se lekkers, maar dan moet julle vir my nog twee rand s’n gee sodra julle weer geld het.” “Sy gaan wraggies eendag ’n professionele afperser word,” sê Saartjie. “Wat is dit?” vra Muggie. “Julle moenie lelike goed van my sê nie, anders los ek die drie rand en gaan saam met julle.” Die Drie Muskiete wil baie graag gaan kyk hoe die seuns kleilat speel en of hulle dalk ook kan saamspeel. Hulle besluit om nou vir Muggie drie rand se lekkers te gee en dan later vir haar nog twee rand s’n te koop. “Goed,” sê Anna, wat die hele tyd namens hulle onderhandel het, “ons sal nou gou vir jou drie rand se lekkers gaan koop en dan skuld ons jou nog twee rand s’n.”
“Reg,” sê Muggie op haar beurt weer saaklik. “Ek wil drie stokkielekkers hê.” “Nou kom ons gaan koop haar stokkielekkers,” sê Anna. “Ons moet gou maak,” sê Saartjie, “anders is ons te laat en mis al die pret.” Die Drie Muskiete stap net by Muggie verby toe sy sê: “Haai! Wag ’n bietjie!” “Wat’s dit nou weer?” vra Anna vies. “Julle gaan nie al drie nie!” Muggie kyk vermakerig na hulle. “Hoekom nie?” vra Lina. “Want netnou kom julle nie terug nie,” sê die kleintjie. “Iemand moet hier by my wag.” Saartjie, Anna en Lina het nie tyd om nog langer met Muggie te stry nie. Anna sê vererg: “Ek sal gou gaan,” en sy is daar weg. Saartjie en Lina staan en wag. Hulle praat die hele tyd nie ’n woord nie. Die meisies gluur net vies na Muggie, wat nou vrolik babbel oor hoe lekker die stokkielekkers gaan wees. Toe Anna terugkom en die stokkielekkers vir haar gee, sê Muggie: “Dankie, dis gaaf van julle,” en voeg dan by: “Maar moenie vergeet julle skuld my nog twee rand s’n nie.” Sy gaan sit en kyk weer hoe die miere werk terwyl sy aan ’n stokkielekker suig. Die Drie Muskiete stap vinnig deur die veld na die spruit ’n entjie buite Lynnekom. Hulle besluit om nie sommer reguit na Galpil toe te stap en te vra of hulle saam kleilat kan speel nie, want hulle weet hy sal weier. “Ons kruip weg agter die bome en kyk eers goed hoe hulle speel,” sê Saartjie, “dan kry ons latte en klei, en ons val hulle aan.” Galpil is die voorbok onder Lynnekom se seuns, veral as dit by kattekwaad kom. Sy volle naam is Lodewyk le Fras de Waal, maar niemand noem hom ooit so nie.
Almal ken hom sommer net as Galpil. Hy en sy twee boesemvriende, Gert en Piet, is al van hul laerskooldae af hier in Lynnekom saam met Saartjie-hulle in die klas. Saartjie was eenkeer – dit was maar net ’n paar dae – Galpil se meisie. Die verhouding het nie lank gehou nie, want sy wou nie ’n kêrel hê wat ’n ieder en elk as “ou perd” of “pêrre” aanspreek nie. Galpil kon of wou maar nie van hierdie slegte gewoonte afsien nie. Die drie vriendinne skuil agter die bome naby die spruit en beweeg vinnig van die een boom na die ander tot waar die seuns lag en gesels. Daar is agt seuns en hulle het net mooi kante gekies toe die meisies daar aankom. Die seuns neem posisie in. Vier hurk agter rotse baie naby aan waar Saartjiehulle wegkruip. Die ander vier gaan skuil agter ’n groot hoop tuinafval wat iemand hier by die spruit kom weggooi het. Die seuns het almal latte en het gesorg dat hulle baie ammunisie het. Hulle “koeëls” is klei wat hulle met hul hande gedruk het totdat die stukkies so rond soos albasters is. Die Drie Muskiete hou die geveg dop. Dit lyk nogal maklik om met ’n kleilat te gooi. Die klei word aan die punt van die lat gesit, dan word die lat hard vorentoe geswaai en die stukkie klei skiet deur die lug. Hierdie kleikoeëls vlieg heen en weer deur die lug, maar niemand word raakgegooi nie. “Hulle is gans te versigtig,” sê Saartjie vir haar vriendinne. “Dit lyk my hulle’s bang om mekaar seer te maak.” Ná die eerste sarsie, wat net ’n vermorsing van ammunisie was, besluit Galpil ook die seuns is heeltemal te versigtig. Sy manne is te goed agter die rotse weggesteek en die ander klomp kruip te goed agter die tuinafval weg. “Bring julle latte en ’n klomp ammunisie,” sê Galpil. “Ons gaan nou ordentlik aanval.”
Die klompie klouter oor die rotse. Die ander groep het ook besluit om aan te val. Gebukkend, met hul kleilatte gereed, beweeg die twee groepe nou versigtig nader aan mekaar. As hulle besluit hulle is naby genoeg, gaan hulle lostrek. Saartjie sien elke seun het vir homself twee latte gesny. Daar lê nog ’n klomp latte agter die rotse en daar is ook ’n skoendoos wat nog amper vol kleikoeëls is. “Dis ons kans, ouens,” sê die rabbedoe opgewonde vir Anna en Lina. Sy wink vir hulle om haar te volg. Die drie meisies beweeg weer versigtig van die een boom na die ander, dan hardloop hulle oor die laaste oop stukkie grond en val plat agter die rotse. Die seuns het hulle nie gesien nie. Saartjie, Anna en Lina laai hul “latgewere” giggelend. Elkeen het nou ’n stukkie klei aan die punt van ’n lat. “Ek tel drie, dan gooi ons,” sê Saartjie. Die meisies mik na Galpil se groep wat nog versigtig al gebukkende na die ander groep toe beweeg. “Een!” Die meisies staan reg en hulle trek hul arms met die latte terug. “Twee!” Galpil sê net hees vir sy manskappe: “Gooi!” toe sê Saartjie vir haar vriendinne: “Drie!” Die drie stukkies klei fluit deur die lug. Saartjie en Lina s’n tref Galpil – een teen die agterkop en die ander een teen die rug. Anna s’n is mis. Galpil het ook net gegooi – natuurlik na die groep voor hom wat ook begin gooi het. “Jissou!” sê Galpil en vryf met sy een hand die plek agter sy kop waar Saartjie hom gepiets het en met sy ander hand die plek op sy rug waar Lina hom getref het. Die plekke brand. Galpil wonder ’n oomblik hoe die groep seuns voor hom
dit reggekry het om hom van agter af beet te kry, maar dan vergeet hy weer daarvan. Hulle veg nou vir ’n vale. Stukkies klei skiet deur die lug soos die twee groepe mekaar aanval. Saartjie-hulle takel albei groepe van agter die rotse. Die drie meisies gooi nogal raak. Galpil wonder weer hoe die ouens voor hom dit regkry om hom so van agter af te peper, maar hy is so besig met die geveg dat hy nie tyd het om dit te probeer uitpluis nie. Saartjie korrel. Sy het ’n ekstra groot kleikoeël aan die punt van haar lat. Sy mik na Galpil se rug en trek los. Die klei klits hom agter die kop – en die resultaat is nog beter as wat dit sou gewees het as dit hom teen die rug getref het. Galpil bulder: “Jislaaik! Eina!” Dit brand geweldig en is so seer dat hy sy kleilat sommer laat val. Hy vryf die plek agter sy kop met albei hande. Hierdie hou kon sowaar nie van die seuns voor hom af gekom het nie. Daarvan is hy oortuig. Galpil swaai om. Saartjie-hulle koes weg agter die rotse. Die seuns het nou opgehou gooi. Dit is asof hulle besef Galpil het erg seergekry. Die meisies loer agter die rotse uit. Hulle is dik van die lag. Galpil gluur woes na sy drie manskappe en bulder: “Een van julle – die een wat die hele tyd agter my is – is so ’n aap om my die hele tyd raak te gooi! Wie’s dit, hè?” Galpil staan met gebalde vuiste en dit lyk asof hy sommer nou dadelik met die skuldige wil afreken. Gert en die seun aan Galpil se ander kant sê nou hulle was die hele tyd effens voor Galpil. Hulle kon hom onmoontlik raakgegooi het, selfs per ongeluk. “Dan is dit jy, Piet!” Galpil kyk kwaai na Piet, ’n lang, skraal seun wat so lui is dat hy selfs met ’n lui stem praat. Piet praat nou ’n bietjie vinniger as gewoonlik omdat hy so vals beskuldig word. “Moenie nonsens praat nie. Waar sal ek jou nou gooi? Ek’s hier agter julle en ek het ook ’n paar skote in die rug gekry. Wie’t my dan gegooi, hè?” Terwyl Galpil en sy manne staan en praat oor hierdie “snaakse ding” soos Galpil
dit nou noem, staan en hou hul teenstanders hulle dop. “Is julle bang? Gee julle oor?” skree die leier van die groep. Galpil kyk fronsend na sy manne. Hy glo wat Piet sê. Die “ou perd” sal hom nie aspris van agter af gooi nie en Piet is ook te goed met ’n kleilat om dit per ongeluk te doen. Verder is Piet self ook ’n paar keer van agter af raakgegooi. Het die ouens daar voor hulle dalk ’n nuwe manier uitgevind om met ’n kleilat te gooi sodat die kleikoeël deur die lug sing, dan vinnig val, ’n draai maak en hul teenstanders van agter af tref? Nee, dit is mos onmoontlik. “Ons is nie bang nie en ons gee nie oor nie!” skree Galpil. “Hier’s net iets snaaks aan die gang.” “Wat’s snaaks? Julle is bang, nè?” “Nee, ons is nie. Wag net ’n bietjie.” Terwyl die ander groep wag dat die geveg weer begin, bespreek Galpil-hulle die “snaakse ding”. Gert sê nou hy is nie van agter af raakgegooi nie, maar ’n stukkie klei het ’n paar keer langs sy ore verby gesuis. Hy het so in die hitte van die geveg teen die ouens voor hom ook vlugtig gewonder waar daardie skote vandaan kom. “Ek weet wat gaan aan!” sê Galpil skielik. “Wat?” wil sy vriende weet. “Hier’s g’n iets snaaks aan die gang nie.” “Nie?” vra Piet met sy lui stem. “Hoe kry die ouens voor ons dit dan reg om ons agter teen die kop of die rug te vang?” “Dis nie hulle wat ons van agter af peper nie,” sê Galpil. “Daar moet iemand anders agter ons wees wat ons gooi.” Dit maak vir die ander ook sin. Die vier draai soos een man om en kyk na die rotse waar hulle die orige kleilatte gelos het. Saartjie-hulle duik net betyds weg. Hulle kon elke woord van die seuns se
gesprek hoor en is so dik van die lag dat hulle hard op hul lippe moet byt om nie te lag nie. Die seuns sien niks, maar Galpil mompel: “Ek wed julle daar’s ouens wat daar wegkruip. Kom ons gaan kyk.” Net dan skree die leier van die opposisie hulle is moeg om so stil te staan en niks te doen nie en voeg by: “Gaan julle nog speel, of is julle bang?” “Ons is nie bang nie!” skree Galpil vies terug. “Ons begin nou-nou weer.” Hy moet eers die geheim oplos van die skote wat hom so aanhoudend en hard agter die kop en rug tref. Die seuns kom aangestap na die rotse waar die meisies wegkruip. Saartjie, Anna en Lina sit reg met hul latte en stukkies klei aan die punte. “Sodra hulle naby genoeg is dat ons nie kan misgooi nie,” sê Saartjie opgewonde, “spring ons op en trek los.” Galpil-hulle kom niksvermoedend nader. Toe hulle naby genoeg is, spring Saartjie op en skree: “Gooi, ouens!” Die meisies trek los. Die kleikoeëls reën op die verbaasde seuns neer. “Gonna!” sê Piet verbaas en ’n kleikoeël tref hom hard op sy bors. Galpil kry een teen die voorkop. Die meisies laai vinnig en gooi net so vinnig. Galpil-hulle word so onverwags gevang dat hulle nie eens tyd het om klei aan die punte van hul kleilatte te sit nie. Hulle staan ’n oomblik verbaas en blaas dan die aftog. Hulle hardloop weg na hul teenstanders wat verstom toekyk. Saartjie, Anna en Lina staan nou regop en skater soos hulle lag. “Kom uit daar agter die rotse!” skree Galpil. “Ons sal nie!” skree Saartjie terug. Net toe sy dit skree, gooi Anna en Lina weer. ’n Kleikoeël tref die ander seuns se leier. “Jissie!” skree hy en vryf sy bors. “Nou sukkel julle met ons ook, nè? Ons sal julle wys!”
Die twee groepe seuns gaan nou behoorlik teen Saartjie-hulle saamstaan. Daardie astrante meisies moet op hul plek gesit word. “Ons is veilig terwyl ons hier agter die rotse is,” sê Saartjie laggend. “Hou net aan met gooi!” Die meisies hou aan – en hulle gooi vinnig en sekuur. Die klomp seuns gooi nou almal saam terug. Die kleikoeëls fluit oor die meisies se koppe en hulle word nie een getref nie. Hulle is veilig agter die rotse. Toe die soveelste seer hou Galpil teen die voorkop vang, gee hy ’n brul van pyn en skree: “Ons moet hulle stormloop! Ons sal hulle nooit raakgooi terwyl hulle daar agter die rotse is nie.” Die ander seuns stem almal volkome saam met Galpil. Hulle moet koes-koes maar vinnig nader hardloop, die meisies daar uit hul skuilplek boender en hulle dan met die kleilatte bestook tot hulle pimpel en pers is. Toe Saartjie die seuns so gebukkend sien aangehardloop kom, besef sy die meisies verkeer nou in gevaar. Sy dink vinnig. Hulle het pret gehad, maar dit sal nie meer lekker wees as die seuns hulle hier uitjaag nie. Nee, besluit sy wyslik, hulle moet so vinnig moontlik so ’n groot afstand moontlik tussen hulle en die seuns kry. “Gooi weg die latte en hardloop!” roep Saartjie benoud. Anna en Lina wag nie vir ’n tweede uitnodiging nie. Die meisies vlieg soos blits om en laat spaander na die bome. “Daar trek hulle! Gooi! Gooi!” skree Galpil hees. “Hardloop gebukkend!” skree Saartjie. Sy het mos gesien die seuns doen dit. Dan is dit moeiliker om raakgegooi te word. “Eina!” skree Saartjie skielik. Sjoe! Sy vryf haar sitvlak sommer so in die hardloop. ’n Stukkie klei het haar met mening getref. Toe die meisies by die bome kom, is hulle veilig. Hulle hardloop nou laggend met die voetpaadjie langs deur die bos. Die seuns het opgehou om hulle te jaag.
Die kleikoeëls het verby hul ore gefluit, maar Anna en Lina glad nie getref nie. Net Saartjie het seergekry. Sy vryf haar sitvlak terwyl hulle by die plaat bome uitkom en deur die veld terug Lynnekom toe stap. “Heng, maar dit brand,” sê sy. Die meisies is hoog in hul skik. Hulle het die seuns ’n lekker streep getrek. Galpil was heeltemal dronkgeslaan oor hoe die kleikoeëls hom van agter af kon tref terwyl die seuns wat gooi voor hom is. Die Drie Muskiete loop laggend en geselsend huis toe. Hulle het die middag terdeë geniet. Lina draai eerste af na haar huis toe. Anna en Saartjie stap verder. Hulle is net ’n entjie van Lina af toe Anna vlugtig oor haar skouer kyk om seker te maak hul vriendin is ver genoeg om hulle nie te kan hoor nie en vra: “Wat wou jy vroeër vir my van Lina gesê het, Saartjie? Ek dink dit het iets met netbal te doen.” Voor Saartjie antwoord, kyk sy ook oor haar skouer of Lina hulle nie miskien nog kan hoor nie. Hul vriendin het egter al om die hoek van die straat verdwyn. “Soos jy weet,” sê Saartjie dan fronsend, “speel ons een van die dae ons eerste netbalwedstryd en ek moet die span kies, want ek’s die kaptein.” Anna knik om vir Saartjie te wys sy weet dit. “Wel, ek het vir elke plek ’n goeie speler, maar vir die belangrike posisie van senter het ek nie een nie, maar twee!” Saartjie draai haar kop en kyk na Anna. Dan vra sy: “Weet jy wie is hulle?” “Natuurlik,” sê Anna. “Lina en daardie koshuismeisie, Magriet Roux. Die meisies by die skool praat almal oor hierdie probleem. Hulle wonder wie jy gaan kies.” “Dis presies wat ek ook wonder,” sê Saartjie. “Dis my groot probleem. Ek dink hulle is omtrent ewe goed. So wie moet ek nou as die span se senter kies?” Anna se voorkop is gefrons terwyl sy ernstig oor hierdie vraag nadink. “As ek Lina kies,” sê Saartjie peinsend, “sal al die meisies, veral die
koshuisklomp, sê dis omdat ons vriendinne is. En as ek Magriet kies, sal Lina weer omgekrap wees. Jy weet mos Lina is partykeer ’n verkeerde entjie mens.” Anna knik om te wys sy stem saam dat Lina soms maar moeilik is. “Jy’t sowaar ’n probleem, Saartjie,” sê sy nadat hulle ’n entjie in stilte gestap het, “dis nie altemit nie, maar weet jy wat sal ek doen as ek jy is?” “Wat, Anna?” “Ek sal my nie nou al daaroor bekommer nie. Julle gaan nog ten minste twee keer oefen voor jy die span vir die eerste wedstryd moet kies. Hou Lina en Magriet goed dop. Miskien verbeter die een nog so baie dat almal sal kan sien jy’s heeltemal regverdig deur die een te kies wat dan die beste is. Dan sal niemand mos iets kan sê of ’n vinger na jou kan wys nie.” “Maar sê nou nie een verbeter genoeg dat sy definitief beter as die ander een speel nie? Sê nou al twee speel ewe goed tot ek uiteindelik die span moet kies? Wat dan?” “Dan het jy sowaar ’n groot probleem, Saartjie. Maar as ek jy is, sal ek nie nou al op my senuwees raak nie.” Saartjie besluit om na Anna se goeie raad te luister. Dit help nie om haar nou al te bekommer oor wie sy as senter gaan kies nie. Miskien gebeur daar in elk geval nog iets voor sy moet kies en dan was sy die hele tyd verniet so bekommerd. Die twee vriendinne gesels en lag nou weer heerlik oor die verbaasde uitdrukking op Galpil se gesig toe hulle hom so lekker van agter met die kleilatte gepiets het en hy die affêre nie kon verstaan nie. Muggie staan by die voorhekkie toe hulle by die Strydoms se huis kom. “Waar was julle?” vra sy agterdogtig. “Dit het niks met jou te doen nie,” snou Anna haar toe. “Oukei,” sê Muggie en kyk ewe onskuldig na haar suster, “maar jy hoef nie so snaaks te wees nie. Ek vra net omdat hier kinders was wat na Saartjie gesoek het.”
“Na my?” vra Saartjie en frons. “Wie was dit?” “Drie meisies. Hulle het nie vir my hulle name gesê nie. Hulle was by jou huis, Saartjie, maar daar was niemand daar nie. Toe kom kyk hulle of jy miskien hier by Anna is. Ek het vir hulle gesê julle was hier, maar toe is julle en Lina weg – ek weet nie waarnatoe nie.” “En toe?” “En toe het hulle ook geloop – ek weet ook nie waarnatoe nie.” Die twee groot meisies kyk na mekaar. Hulle wonder wie op aarde die drie meisies was wat na Saartjie kom soek het. Dan trek die rabbedoe haar skouers op en sê: “Ons sal wel later uitvind wie dit was en wat hulle wou hê. Hulle sal weer kom.” “Hulle het gesê hulle sal jou maar môre by die skool sien.” Saartjie kyk ingedagte na Muggie. Sonder om daaroor te dink of te besef sy doen dit, vee sy met die agterkant van haar hand ’n krul van haar voorkop af weg. “Jy ken mos al Hoërskool Saamwerk se kinders wat hier rond bly, Muggie,” sê sy. “Hoekom ken jy daai drie dan nie?” “Omdat hulle nie van Lynnekom af is nie,” sê Muggie en dan voeg sy by: “Ek dink hulle het met ’n bus gekom. Ek onthou nou hulle het iets gesê van as hulle vinnig loop, kan hulle dieselfde bus weer terug kry.” Saartjie en Anna kyk na mekaar. Hulle is skoon dronkgeslaan. Watter meisies by die skool het die hele ent met die bus Lynnekom toe gery om Saartjie te kom sien – en wat presies wou hulle gehad het? “Aag wat,” sê Saartjie en trek haar skouers weer op, “ons sal wel môre by die skool uitvind.” Dit help nie om die hele tyd te wonder wie dit was en wat hulle wou gehad het nie. Dit is net tydmors. Toe Saartjie huis toe stap, skree Muggie agter haar aan: “Moenie vergeet julle skuld my nog twee rand nie!”
Saartjie antwoord nie. Dié Muggie is sowaar ’n afperser, dink sy. Wanneer sy by die betonblokke op die sypaadjie kom, moet Saartjie natuurlik weer begin spring. Sy sug swaar. Dit is laat en sy weet haar ouers is al by die huis. Haar ma skep seker nou al op vir ete en daar gaan moeilikheid wees as sy laat is. Sy sal vinnig moet spring. Saartjie wip ligvoets van die een blok na die ander. Sy is so haastig dat sy nie elke slag in die middel van ’n blok land nie. Sy beweeg al nader en nader aan die gleuwe. Sy is net ’n paar tree van die hekkie af toe dit gebeur. Haar regtersandaal se punt raak aan ’n gleuf. Saartjie kyk moedeloos af. Sy is so haastig. Niemand sal mos weet as sy haar voet net effens skuif sodat die punt nie meer aan die gleuf raak nie. Maar dan besluit Saartjie sy sal niemand behalwe net haarself kul as sy dit doen nie. Hierdie springery is ’n selfopgelegde taak en al is dit belaglik, moet sy daarmee aanhou en nie kul nie. Sy sal maar weer van voor af moet begin. Sy draai met ’n swaar sug om en hardloop terug na waar die blokke begin. Saartjie spring nou weer, maar dié keer doen sy dit stadig en versigtig. Sy bly ver van die gleuwe af weg, want sy wil nie weer aan een raak nie. Sy sal sowaar skree van moedeloosheid as sy nog ’n keer van voor af moet begin. Die rabbedoe kom gelukkig sonder enige verdere voorvalle by die hekkie uit. Sy hardloop met die tuinpaadjie op en is soos ’n warrelwind by die huis in. “Hallo!” groet sy haar ouers en Apie wat in die sitkamer gesels. Sy is nie in die moeilikheid nie. Hulle sit gelukkig nog nie aan die etenstafel nie. Saartjie hardloop by die trap op, was haar hande en kam haar hare, en kom dan ook af sitkamer toe. “Wat dink jy hiervan?” vra haar ma en wys vir Saartjie ’n bronsbeeldjie. “Ek het dit vanmiddag by ’n vendusie gekoop. Is dit nie pragtig nie?” Dit is ’n beeldjie van ’n Sjinees wat met gekruiste bene sit.
“Dis pragtig, Mamma,” sê Saartjie. “Vra jou ma bietjie hoeveel dit gekos het,” sê haar pa droogweg. “Ag, ou man,” sê mevrou Baumann, “driehonderd en vyftig rand is nie te veel vir so ’n kosbare beeldjie nie. Ek was gelukkig om dit vir so min op te raap. Die mense wat daar was, het nie besef hoe waardevol dit is nie. Dis hoekom ek dit so goedkoop gekry het. Gelukkig was die man in swart net te laat, anders...” “Watse man in swart, Mamma?” onderbreek Saartjie. Dit klink vir haar so geheimsinnig soos ’n speurverhaal se titel. “Ek gaan eers gou opskep, dan vertel ek vir jou die hele storie,” sê haar ma. “Maar ek waarsku jou, jou pa en Apie dink dit was alles net my verbeelding.” Toe die gesin aan tafel sit en dokter Baumann die seën gevra het, sê Saartjie: “Mamma, vertel nou asseblief vir my van die man in swart.” Mevrou Baumann is ’n ywerige versamelaar van oudhede en sy gaan nogal na baie vendusies toe. Sy vertel nou hoe sy die pragtige bronsbeeldjie daardie middag by ’n vendusie raakgesien het. Sy wou dit dadelik hê en het gewonder of die driehonderd en vyftig rand in haar beursie genoeg sou wees daarvoor. “Ek het so ’n bietjie rondgekyk na al die ander mense wat daar was en toe effens meer gerus gevoel. Dit het nie gelyk of enigiemand juis in die beeldjie belangstel nie.” “Hoe kan Ma sommer net so sien niemand wil dit koop nie? Dis mos onmoontlik.” “Nee, dit is nie,” sê mevrou Baumann laggend. “Ek kan aan die glans in mense se oë sien of hulle versamelaars is of nie.” Dit klink vir Saartjie effens vergesog, maar sy wil nie nou vra watter glans haar ma in versamelaars se oë kan sien nie. Sy wil van die man in swart hoor. Mevrou Baumann vertel verder. Die oomblik toe sy seker was daar is niemand met daardie spesiale glans in die oë wanneer hulle na die beeldjie kyk nie, het sy sommer baie beter gevoel. Toe die afslaer die bronsbeeldjie uiteindelik optel, het sy vinnig nader gestaan.
Iemand het vyftig rand gebie. Mevrou Baumann was heeltemal gerus. Sy kon sien niemand stel juis in die beeldjie belang nie. Maar die bieëry het nogtans opgegaan tot by tweehonderd rand. Toe maak sy haar eerste bod – tweehonderd en vyftig rand. Die afslaer wou die beeldjie net aan haar toestaan toe ’n ander vrou driehonderd rand bie. “Ek het ’n bietjie bekommerd begin raak,” sê mevrou Baumann, “maar toe kyk ek goed na die vrou, en gelukkig was daardie glans nie in haar oë nie. Sy was definitief nie ’n versamelaar van oudhede nie. Sy wou die beeldjie sommer net gehad het, maar sy sou nie veel hoër bie nie. Ek het in elk geval gehoop sy sou nie, want ek het mos net driehonderd en vyftig rand gehad.” “En toe – wat gebeur toe, Mamma?” vra Saartjie terwyl haar ma ’n hap kos vat. Sy wil nou weet van die man in swart. Haar ma kou eers klaar en dan sê sy: “Ek bie toe driehonderd en vyftig rand en hou my asem op. Die ander vrou het niks gesê nie – en skielik was die bronsbeeldjie myne!” Mevrou Baumann eet eers weer en Saartjie wonder wanneer die man in swart dan sy verskyning gemaak het. “Maar wat dan van die man in swart, Mamma?” “Ek gril nou nog as ek aan hom dink,” sê haar ma. En mevrou Baumann vertel verder. Sy het glo net die driehonderd en vyftig rand betaal en die bronsbeeldjie gevat toe ’n man vinnig daar aangestap kom. Hy was pikswart aangetrek en het ’n swart hoed opgehad. Toe hy sien sy het die beeldjie, het hy reguit na haar toe gestap. “Hy het sy hoed effens gelig en reguit na my gekyk en toe sê hy: ‘Mevrou, ek het gekom om hierdie beeldjie te koop, maar daar was ’n verkeersknoop op pad hierheen en dit lyk my ek is nou te laat.’ ‘Ja, jy is,’ het ek gesê en die beeldjie dadelik in my handsak gesit. Ek het nie van sy oë gehou nie.” “Was die glans nie daar nie, Mamma?” vra Saartjie.
“Nee.” Mevrou Baumann byt effens op haar onderlip. “Daardie glans wat ’n mens in ’n ware versamelaar van oudhede se oë sien, was nie daar nie. Sy oë was wreed.” Saartjie se ma vertel verder die man het haar toe gevra hoeveel sy vir die beeldjie betaal het. Toe sy hom sê, het hy aangebied om dit te verdubbel. Hy sou haar sewehonderd rand daarvoor gee. “En jou ma het dit sowaar van die hand gewys,” sê Saartjie se pa en skud sy kop asof hy dit eenvoudig nie kan verstaan nie. “Ek het glad nie belanggestel om die bronsbeeldjie te verkoop nie en ek het dit ook vir die man gesê,” sê haar ma dan. “Hy het die hele tyd met sy wrede oë na my gestaan en kyk – en toe ek in my motor klim, het ek gesien hy stap vinnig na syne toe en klim in. Ek is amper seker hy het my agtervolg om uit te vind waar ek bly.” “Het jy sy motor in jou truspieëltjie gesien, vroutjie?” vra Saartjie se pa. “Nee, ek het nie, want daar was baie verkeer op die pad. Maar ek kon vóél hy agtervolg my.” Dokter Baumann skud net sy kop en mompel vir Saartjie en Apie dat hul ma darem ’n geweldige verbeelding het. “Hoekom dink Mamma het die man in swart Mamma agtervolg?” vra Saartjie. “Om uit te vind waar ek woon sodat hy – of miskien sy bende – die beeldjie kan kom steel,” sê haar ma beslis. Dit is ’n paar oomblikke stil in die eetkamer terwyl almal oor hierdie ontstellende bewering nadink.
3
Saartjie se gevangene
Saartjie se ouer broer, Kris, kom eers later by die huis. Hy het natuurlik ná die dag se lesings eers by sy meisie, Isabel, gaan kuier. Mevrou Baumann wys vir hom ook die pragtige bronsbeeldjie en vertel weer van die vreemde man in swart. Kris dink net soos sy pa sy moes die man se aanbod van sewehonderd rand aanvaar het. “Dit sou ’n honderd persent wins gewees het, Ma,” sê hy. “As ’n mens oudhede versamel, stel jy nie in wins belang nie,” kondig Martha Baumann beslis aan. Die gesin praat weer oor die man in swart – die man met die wrede oë. Almal probeer mevrou Baumann oortuig sy het haar verbeel hy agtervolg haar. “Toemaar,” sê sy, “julle sal sien – daai man gaan een van die dae hier opdaag. Hou maar net julle oë oop.” Voor Saartjie die aand aan die slaap raak, dink sy nog lank aan die man in swart. Sy wonder of haar ma reg is en of hy hier by die huis gaan probeer inbreek om die bronsbeeldjie te steel. Sy hoop net sy is nie hier as dit gebeur nie. Sy hou niks van mense met wrede oë nie. Toe die bus van Lynnekom af die volgende oggend by die skoolhek stilhou – die Drie Muskiete het Galpil en die ander seuns die hele tyd oor die kleilatepisode geterg – staan en wag daar drie koshuismeisies. Saartjie weet sommer dadelik dit is die meisies wat haar gister kom soek het, en sy is heeltemal reg.
“Ons was gistermiddag by jou huis,” sê die een, “maar jy was ongelukkig nie daar nie.” Saartjie wonder weer wat op aarde so belangrik is dat hulle met die bus Lynnekom toe gery het om haar te kom sien. “Ek het gehoor julle was daar,” sê sy en kyk belangstellend na hulle. Sy ken die meisies nie eintlik nie. Hulle is ook in graad nege, maar nie in haar klas nie. Saartjie ken die meisies ook nie omdat hulle nie netbal speel nie. Sy ken natuurlik al die netbalspelers. Verder is die koshuiskinders en dagskoliere nie juis goeie vriende nie. Die dagskoliere voel die koshuisgangers dink te veel van hulleself en die koshuisgangers glo op hul beurt weer die dagskoliere het te ’n hoë dunk van hulleself. “Wat is dit?” vra Saartjie. “Waaroor wou julle my gesien het?” Die drie koshuismeisies kyk vlugtig na mekaar. Dan kyk hulle weer na Saartjie, Anna en Lina, en die een sê vir Saartjie: “As jy nie omgee nie, wil ons graag alleen met jou praat.” Saartjie wil net sê sy en Anna en Lina is al baie jare lank beste vriendinne wat nie geheime vir mekaar het nie en dat die meisies maar voor Anna en Lina kan praat toe sy haar bedink. Dit tref haar skielik dat Magriet Roux mos ook in die koshuis is. Miskien wil hulle met haar oor die netbalspan praat. Dan kan Lina mos nie by wees nie. “Stap julle maar solank,” sê Saartjie vir haar vriendinne. Dit is beter as Anna saam met Lina gaan, anders sal Lina mos agterdogtig word. Sonder om teë te praat, loop Anna en Lina vinnig deur die hek in skool toe. Hulle weet mos Saartjie sal later vir hulle alles vertel. Saartjie is nou alleen saam met die drie koshuismeisies. “Nou toe? Wat is dit?” vra sy. Die meisies vertel vir Saartjie hoekom hulle gistermiddag ná studietyd toestemming gevra het om met die bus Lynnekom toe te gaan. Hulle wou met haar oor Magriet Roux praat.
Saartjie knik haar kop. Sy was reg. Sy het sommer geweet dit moes daaroor gewees het. Die drie meisies vertel nou hulle en Magriet is kamermaats. Volgens hulle is sy vreeslik senuweeagtig en hulle kry haar baie jammer. Sy is verskriklik bekommerd oor die netbal, want sy het haar hart daarop gesit om vir Saartjie se A-span te speel. Magriet se pa en ma was glo in hul jong dae uitstekend in sport. Haar pa het vir die Westelike Provinsie rugby gespeel en haar ma was ’n Springbok-tennisspeler. Hulle gaan spesiaal Johannesburg toe kom om hul dogter se eerste wedstryd vir die A-span te sien. Saartjie luister aandagtig. Toe die koshuismeisies klaar van Magriet vertel het, vra sy: “Wat het dit alles met my te doen?” Die meisies kyk weer vlugtig na mekaar en dan sê die een wat die meeste praatwerk doen: “Hier by Saamwerk kies die netbalspan se kaptein die span wat sy wil hê vir die eerste wedstryd.” “Dis reg, ja,” sê Saartjie. “En jy is kaptein. So, jy kies die span.” “Weer reg,” sê Saartjie saaklik. “Dan kan jy vir Magriet kies.” “Ek kan, ja,” sê Saartjie, “en ek sal – as sy die beste speler vir ’n sekere posisie is.” “Is sy die beste?” Nou aarsel Saartjie. Sy weet nie of Magriet die beste is nie. Magriet en Lina vaar al twee uitstekend as senter. “Ek weet nog nie,” erken Saartjie. “Ek sal ’n dag of twee voor die eerste wedstryd besluit.” “Hoekom dan eers?” vra die een koshuismeisie. “Ons wil graag vir arme Magriet
sê ons het met jou gepraat en sy’t niks om oor bekommerd te wees nie – jy gaan haar definitief in die span sit. Dan sal sy nie meer so ’n senuweewrak wees nie.” “Sy’s belaglik,” sê Saartjie ferm. “Sê vir haar sy neem dit alles gans te ernstig op. Dis mos nie so erg as sy nie die span haal nie.” “Vir haar is dit. Jy ken haar nie soos ons haar ken nie, Saartjie. Dis vir Magriet ’n saak van lewe en dood.” Saartjie mompel weer dit is belaglik om so ’n houding te hê en dat Magriet die storie heeltemal te ernstig opneem. “Sy wil nou al vir haar ouers skryf en sê hulle moet liewer nie die dag Johannesburg toe kom nie,” sê die een koshuismeisie. “Sy sê hulle gaan bitter teleurgesteld wees as hulle kom en sy – so ’n beroemde sportman en -vrou se dogter – speel nie eens vir die A-span nie.” “Wel, ek kan haar nie help nie,” sê Saartjie. “Ek weet nie hoekom julle dié goed vir my vertel nie. Ek moet my plig doen en die beste moontlike span kies. Ek kan my nie aan allerhande ander goed steur nie.” “Ook nie aan die feit dat een speler ’n boesemvriendin van jou is nie?” vra ’n koshuismeisie nou reguit. Saartjie kyk vies na haar. “Ek laat my nie deur vriendskap beïnvloed as ek die span kies nie,” sê sy kortaf. Die koshuismeisies is nogal slim. Hulle paai Saartjie gou deur te sê hulle bedoel nie sy sal ’n vriendin van haar bo iemand anders kies nie. Nee, hulle weet mos Saartjie is nie so onregverdig nie. Maar ás Saartjie miskien ’n vriendin van haar kies en daar is ’n ander speler wat net so goed soos die vriendin is, dan sal die kinders dalk daaroor skinder. “Jy weet mos hoe katterig meisies kan wees.” Nou neem die spraaksaamste van die drie koshuismeisies oor en vra Saartjie reguit om vir hulle ’n guns te doen.
“Watse guns?” vra Saartjie agterdogtig. “As Magriet as senter net so goed is soos ’n ander speler – ons wil nie name noem nie – sal jy groot asseblief vir Magriet kies noudat jy weet hoe ’n soort meisie sy is en hoe sy haar bekommer?” Dit is natuurlik dieselfde probleem waaroor Saartjie al so baie nagedink het. Wat gaan sy doen as Lina en Magriet wys hulle is albei ewe goed? Wie gaan sy dan kies? Lina of Magriet? Saartjie wonder nou weer wat haar te doen staan. Moet sy dit wat die meisies haar van Magriet vertel het in gedagte hou wanneer sy besluit wie om vir die span te kies? Maar dit is mos belaglik om so desperaat te wees om die span te haal. Dis glad nie sportief nie. Nou begin wonder Saartjie ook of Lina sportief genoeg sal wees om haar besluit te aanvaar as sy miskien nie die span haal nie. Soos sy vir Anna gesê het – Lina kan partykeer maar ’n snaakse entjie mens wees. Maar, besluit Saartjie weer, sy gaan nie nou al haar kop breek om die probleem te probeer oplos nie. Sy sal maar wag en kyk wat gebeur. “Ek kan nie nou al sê wie ek gaan kies nie,” sê Saartjie beslis. “En ek kan ook nie belowe ek sal wat julle vir my gesê het in aanmerking neem wanneer ek my span kies nie. Dis vir my belaglik dat Magriet die ding so ernstig opneem.” Die drie koshuismeisies moet maar tevrede wees met Saartjie se besluit. Daar is niks verder wat hulle kan sê nie en die klok lui ook nou. Die een mompel nogtans toe hulle wegstap dat dit darem snaaks sal wees – meer as snaaks – as Saartjie haar vriendin in plaas van Magriet kies. In die klas fluister Anna en Lina albei gelyktydig: “Wat wou hulle gehad het?” Saartjie fluister net terug dat sy hulle later sal sê. En dit is natuurlik nóg ’n probleem. Saartjie wil nie hê Lina moet weet wat aangaan nie. Sy sal vir Lina moet sê die drie koshuiskinders het sommer oor iets onbelangriks met haar gesels. En dan moet sy maar hoop Lina glo dit. Ja-nee, Saartjie sug swaar, dis nie kinderspeletjies om kaptein van ’n netbalspan te wees nie.
Anna en Lina kry teen pouse eers kans om Saartjie by te dam en haar te vra wat die drie meisies wou hê. “Ag, hulle wou sommer oor iets gesels,” sê Saartjie kastig ongeërg. “Dit was niks belangriks nie.” Terwyl Lina wegkyk, knipoog Saartjie vinnig vir Anna. Anna besef dadelik die koshuismeisies het met Saartjie gepraat oor wie sy gaan kies – Lina of Magriet? Sy probeer om Saartjie te help deur oor iets anders te praat. Maar Lina is nie dom nie. Sy kom dadelik agter Saartjie probeer iets wegsteek. “Wat is die iets waaroor hulle wou gesels?” vra Lina nou. Sy ignoreer Anna se skielike gebabbel oor hoe ’n mooi sonnige dag dit is en hoe lekker dit hierbuite in die ope lug is. “Dit was sommer oor netbal,” sê Saartjie en probeer haar bes om ongeërg te lyk. Sy begin nou ook praat oor die sonnige dag en hoe heerlik dit is om op so ’n mooi dag buite te wees. Lina sê net veelseggend: “Ek sien.” Sy is nie ’n bobbejaan nie. Sy weet mos die meisies wonder almal of Saartjie vir haar of vir Magriet Roux gaan kies. Die drie meisies het seker daaroor met Saartjie gepraat. Lina wonder self ook wat Saartjie gaan doen. Die netbaloefening daardie middag maak Saartjie se probleem glad nie makliker nie. Lina en Magriet speel albei ’n barshou. Wanneer Lina vir die A-span speel, vaar sy beter as Magriet, maar wanneer Magriet weer die A-span se senter is, vaar sy die beste. Die meisies langs die kantlyn hou die tweestryd tussen Lina en Magriet dop. Almal wonder wie die A-span se senter gaan wees en hoe Saartjie gaan besluit wie om te kies. Albei meisies speel ewe goed. Wat anders as hul spel gaan die kaptein dan in aanmerking neem? Ja-nee, almal gaan voor die kennisgewingbord saamdrom wanneer die span se name opgeplak word. Dit gaan baie interessant wees om te sien wie Saartjie kies. Dié middag by die huis doen Saartjie haar huiswerk eers klaar en gaan kyk dan of haar netbal nie ná verlede seisoen dalk in die groot linnekas in die voorportaal
beland het nie. Sy wil die bal hê om mee te oefen. Saartjie speel hulpdoel en sy het glad nie vanmiddag met die oefening so goed gevaar nie. Sy het ’n hele paar keer misgegooi – en dit mag nie gebeur nie. Sy moet sorg dat sy versigtig mik en die bal dan netjies deur die ring hoog boaan die paal gooi. Die net onder die ring moet skaars beweeg wanneer die bal daardeur glip. Saartjie se ouer broer, Kris, het verlede seisoen vir haar ’n doelpaal in die agterplaas opgesit. Dit is ’n houtpaal met ’n ysterring bo-aan. Saartjie het elke dag daar gaan oefen en toe so verbeter dat almal haar as een van die beste skooldoele in Gauteng beskou het. Nou voel Saartjie dat dit ná die somermaande waarin hulle natuurlik nie netbal gespeel het nie, weer tyd is om te begin oefen. Sy het gehoor daar gaan vanjaar ’n Gauteng-span gekies word wat teen die Noordelike Provinsie gaan speel. Sy is vasberade om ’n plek in die Gauteng-span te kry. Sy wil só goed speel dat as mense in die toekoms daarvan praat, hulle dit Saartjie se wedstryd moet noem. Die groot linnekas in die voorportaal is in die muur ingebou. Mevrou Baumann bêre sommer allerhande rommel daarin. Saartjie kom by die trap af om in die kas te kyk of haar netbal daar is. Sy sien haar ma het die bronsbeeldjie uitgestal op die spieëlrak wat teen die voorportaal se een muur vasgeskroef is. Saartjie glimlag. Haar ma dink die man in swart gaan die beeldjie kom steel, maar sy sit dit sowaar hier waar enigeen wat die voordeur oopmaak, dit sal sien. Die man hoef omtrent net vyf tree by die deur in te stap, dan kan hy die beeldjie vat, dit in sy sak steek en weer uitloop. Mevrou Baumann het die beeldjie natuurlik hier neergesit omdat dit so mooi vertoon as ’n mens inkom. Die spieëlrak is ook een van haar oudhede en Saartjie moet erken die beeldjie lyk nogal pragtig daarop. Sy hoop maar net die man in swart met die wrede oë het haar ma nie regtig agtervolg nie. As hy dit gedoen het en die beeldjie wil kom steel, sal hy dit maklik regkry. Maar Saartjie besluit dit het niks met haar te doen nie. Haar ma is uit en sy sal
kwaad wees as sy terugkom en agterkom Saartjie het die beeldjie op ’n ander plek gesit. Saartjie gaan haal die linnekas se sleutel waar dit agter die kombuisdeur hang. Daar is niemand anders in die huis nie. Sy is alleen. In die voorportaal sluit sy die linnekas oop en stap in. Die kas is so groot dat dit amper soos ’n klein vertrekkie is. Saartjie soek oral rond, maar sy kry nie die netbal nie. Sy kom by die kas uit en staan fronsend voor die oop deur. Sy wonder wat sy met die netbal gedoen het. Haar hande is vol stof soos sy in die kas rondgesoek het. Sy vee ’n weerbarstige krul weg en los ’n stofstreep oor haar voorkop. Saartjie besluit om bo-op die kas in haar kamer te gaan kyk. Dalk het sy die bal aan die einde van die laasjaar se netbalseisoen daar gebêre. Sy hardloop by die trap op. Sy is so haastig dat sy vergeet om die kas se deur weer toe te maak, dit te sluit en die sleutel in die kombuis te gaan ophang. In haar kamer klim Saartjie op ’n stoel en kyk bo-op haar kas, maar die bal is ook nie daar nie. Sy sit nou op haar bed en staar mismoedig voor haar uit. Sy wonder skielik of Apie die bal nie miskien gedeps het nie. Hulle het mos ook nou met rugby begin, en al is die netbal rond, speel hy en sy maats dalk elke middag daarmee rugby. Saartjie wonder net waar sy die knaap nou in die hande kan kry toe sy die voorhekkie hoor oopgaan. Sy spring op. Miskien is dit Apie. Sy wil sommer hier van haar venster af vir hom skree sy weet hy het haar netbal gevat en sy wil dit dadelik terughê. Saartjie kyk by die venster uit, maar dit is nie Apie wat met die tuinpaadjie na die huis toe aangestap kom nie. Dit is ’n vreemde man. Sy ken hom glad nie. Skielik ril Saartjie se hele lyf van skok. Dit is die man in swart! Hy dra ’n swart pak klere en het ’n swart hoed op sy kop. Dit is die man van wie haar ma gepraat het – die man met die wrede oë.
Sy hoed is diep oor sy kop getrek en hy is natuurlik te ver van Saartjie af dat sy kan sien hoe sy oë lyk, maar sy is seker hulle is wreed. Dit lyk vir haar asof hy kort-kort vinnig oor sy skouer loer om seker te maak niemand sien hom nie. Hy stap vinnig na die huis toe. “O gonna!” sê Saartjie toe sy hom nie meer kan sien nie. Wat gaan sy doen? “Kophou!” mompel sy by haarself. “Moenie paniekerig raak nie.” Dan hoor sy die man aan die voordeur klop. Hy klop nie baie hard nie. Hy wil natuurlik seker maak daar is niemand hier nie, dink Saartjie. Skielik onthou sy dat die bronsbeeldjie op die spieëlrak staan. As die man die voordeur oopmaak, sal hy dit dadelik daar sien. Hy sal dit gryp, in sy sak steek en wegstap – en hoe gaan sy hom kan keer? Saartjie weet nie wat om te doen nie. Sy loop op haar tone tot by haar oop kamerdeur en luister om te hoor wat die man in swart doen. Dan hoor Saartjie hoe hy die voordeur stadig en versigtig oopmaak. Sy loop suutjies tot waar die trap begin en loer oor die veiligheidsmuurtjie van die trapportaal. Saartjie se oë is groot en haar hart bons so hard teen haar ribbes dat sy amper seker is die man in swart kan dit hoor. Hy is nou in die huis en staan en rondkyk. Dan sien hy die bronsbeeldjie op die spieëlrak. Hy gee vinnig ’n paar treë deur die voorportaal, tel die beeldjie op en kyk daarna. Saartjie staan met gebalde vuiste. Sy moet iets doen, maar wat? Hy gaan die beeldjie seker enige oomblik in sy sak steek. Sy kan dit nie toelaat nie, al maak hy haar ook dood. Sy sluip vinnig, maar nog steeds op haar tone sodat die man haar nie moet hoor nie, by die trap af. Sy is nou op die tiende trap van onder af. Die man in swart se rug is na haar toe gedraai. Hy staan en kyk nog steeds diep ingedagte na die beeldjie.
Saartjie wonder. Moet sy hiervandaan op sy rug spring en hom onderstebo stamp? Dit sal so onverwags wees dat hy hom lam sal skrik en die beeldjie sal los. Dan kan sy dit gryp, vinnig by die huis uithardloop en so hard soos sy kan om hulp skree. Sy het mos al van die tiende trap af tot heel onder gespring. Dit is haar nuwe rekord. Sy is seker sy sal dit weer kan regkry. Saartjie kom net effens regop om ’n geweldige sprong tot op die niksvermoedende man in swart se rug te gee toe sy skielik aan ’n beter plan dink. Sy gaan seker maak die man kan onmoontlik ontsnap. Sy gaan hom vang en die polisie dan bel om hom te kom haal. Net toe sy wou spring, het Saartjie gesien sy het vergeet om die linnekas se deur toe te maak ná sy die netbal daarin gesoek het. Die sleutel is ook nog in die deur. En soos die geluk dit wil hê, staan die man in swart feitlik voor die oop deur. Een harde stamp en hy is in die kas. Dan moet sy die deur net toeklap en sluit – en daar sit hy. Sy hoef nie eens haastig te wees om die polisie te bel nie. Die man sal nooit uit daardie stewige ingeboude kas kan kom nie. Saartjie lek oor haar droë lippe. Sy vee met die agterkant van haar hand ’n weerbarstige krul van haar voorkop af weg. Sy moet die man net nie mis of te sag stamp nie. Dit lyk asof hy nou gaan omdraai. Dis nou die oomblik vir aksie. Saartjie skiet soos ’n pyl uit ’n boog by die trap af. Die man swaai om. Daar is ’n verbaasde uitdrukking op sy gesig – dan is Saartjie op hom en sy stamp so hard sy kan. Die man steier terug en val by die linnekas in. Saartjie stamp die deur toe en draai die sleutel in die slot. Die man in swart is vas! Saartjie trek die sleutel uit die deur en druk dit in haar kniebroek se sak. Dan leun sy teen die deur en hyg na asem. Haar hart klop hard en vinnig. Sy hoor hoe die man in die linnekas ook hyg. Die harde, onverwagte stamp het amper sy wind uitgeslaan. Maar dan bulder die man in swart skielik: “Wie het my hier ingestamp?”
Saartjie het teen die deur geleun en sy wip nou soos sy skrik. Sy spring van die deur af weg. “Hoekom het jy dit gedoen?” brul die man weer. “Is jy van jou sinne beroof?” “Jy’s vas!” skree Saartjie. “Jy’s vas!” skree sy weer. “Jy wou mos my ma se beeldjie steel!” Terwyl Saartjie praat, beweeg sy agteruit totdat sy by die voordeur is. Sy hoor die man in swart sê hy wou nie die beeldjie steel nie, maar sy steur haar nie daaraan nie. Hy sal natuurlik nou so sê, maar dit help nie. Sy het hom op heterdaad betrap. Hy het die beeldjie selfs nog daar by hom in die kas. Die man in die kas praat en protesteer aanhoudend, maar Saartjie luister nie eens nie. Sy kan in elk geval nie uitmaak wat hy sê nie. Sy maak die voordeur agter haar toe en hardloop vinnig by die tuinpaadjie af. Sy weet by wie haar ma gaan tee drink het. Saartjie gaan haar nou daar haal en dan sal hulle die polisie ontbied. Sy is hoog in haar skik. Sy gaan Lynnekom en die hele skool se heldin wees as die mense hoor hoe sy die gevaarlike man in swart uitoorlê het en gesorg het dat hy agter tralies beland. By die hekkie loop sy haar vas in Apie en sy maat, Bennie. Sy is haastig, maar het nog nie vergeet van die bal wat verdwyn het nie. “Waar’s my netbal?” vra sy vinnig. “Hoe moet ek weet?” brom Apie, maar die manier waarop hy vinnig na Bennie kyk en die manier waarop Bennie ook vinnig na hom kyk, wys sommer dadelik vir Saartjie haar boetie is skuldig. Apie weet waar die bal is. Hy het dit gevat. Saartjie het egter nie nou tyd om die knaap onder kruisverhoor te neem nie. Sy is seker hy en Bennie het rugby met die netbal gespeel en dit toe by Bennie se huis laat lê, maar sy sal hom later moet uitvra. Sy is bang die man in swart versmoor in die linnekas of skop dit dalk stukkend om te kan ontsnap. Saartjie besluit om vir Apie en Bennie te sê wat sy gedoen het. Dan moet hulle voor die kas se deur gaan waghou. As die man mense hoor praat, sal hy hopelik
nie probeer om die deur oop te breek nie. Nou vertel Saartjie vinnig vir die twee verbaasde seuns hoe sy die man in swart op heterdaad betrap en in die linnekas toegesluit het. “Jissie,” sê Apie beïndruk, “dis nogal nie sleg nie.” Hy kyk met heldeverering in sy oë na sy suster. Hy is nou amper spyt dat hy met die netbal gedoen het wat hy daarmee gedoen het. Hy hoop maar sy sal nooit die waarheid uitvind nie. Die twee seuns is baie ingenome met die opdrag wat Saartjie vir hulle gee. Apie sê hy sal hulle pa se byl vat en vir Bennie een van Kris se hokkiestokke gee en dan sal hulle in die voorportaal gaan waghou. “As die ou dit waag om uit die kas te probeer breek,” sê Apie bloeddorstig, “kap ek sowaar sy kop af!” “Ná ek hom eers met die hokkiestok laaits out geslaan het,” sê Bennie ewe bloeddorstig. Saartjie lag. Die man in swart sal dit nie waag om die linnekas se deur oop te breek as hy hoor hoe die twee barbare in die portaal staan en praat oor wat hulle gaan doen as hy sy kop daar uitsteek nie. Die twee seuns storm met bloedstollende oorlogskrete by die Baumanns se huis in om te gaan wagstaan. Toe Saartjie by die voorhekkie kom, kyk sy vies na die betonblokke op die sypaadjie. Sy is ontsettend haastig, maar sy sal nogtans moet spring. Saartjie wip vinnig van die een blok na die ander. Sy sorg dat sy ver van die gleuwe af wegbly. Sy wil tog nie nou aan ’n gleuf raak en weer van voor af moet begin nie. Dit sal te vreeslik wees. Netnou versmoor die man in swart daar in die linnekas – of erger nog, netnou probeer hy ontsnap en dan voer Apie en Bennie hul bloeddorstige dreigemente uit! Saartjie kom aan die einde van die plaveisel sonder om aan ’n gleuf te raak. Sy hardloop in volle vaart tot by die pastorie net langs die kerk in die hoofstraat. Sy het mos gehoor haar ma sê sy gaan vanmiddag by mevrou Dominee tee drink.
Toe Saartjie die pastorie se voorhekkie oopstoot, voel sy skielik huiwerig. Sy dra soos gewoonlik weer ’n kniebroek en T-hemp, en mevrou Dominee het eendag met geligte wenkbroue gesê sy hou niks daarvan as meisies so “onelegant” aantrek nie. Maar daar is niks wat Saartjie nou daaraan kan doen nie. Mevrou Dominee moet haar wenkbroue maar weer lig. Sy moet vir haar ma gaan vertel wat gebeur het. Saartjie hoor stemme in die tuin en kyk na die groot boom waar dit vandaan kom. Onder die boom sit ’n hele paar dames en luister na mevrou Dominee wat voor hulle staan. Saartjie skrik. Sy het gedink net haar ma het vanmiddag hier by die pastorie kom tee drink, maar sy was verkeerd. Dit is ’n vrouevergadering. Die rabbedoe vee met die agterkant van haar hand ’n weerbarstige krul van haar voorkop af weg. Sy staan net ’n oomblik lank besluiteloos. Dan stap sy vasberade na die groep toe. Die vrou wat langs Saartjie se ma sit, sien die meisie vinnig oor die grasperk aangestap kom. Sy draai haar kop en fluister vir mevrou Baumann: “Hier kom jou dogter.” Mevrou Baumann draai haar kop en sien Saartjie. Ai, dié Saartjie tog, dink sy en sug. Wat op aarde wil die kind hier hê? En sy weet mos goed mevrou Dominee hou niks van meisies wat kniebroeke en T-hemde dra nie. Die vrouens sien nou almal vir Saartjie en hulle staar haar aan. Party kyk afkeurend na Saartjie se kniebroek. Ander glimlag weer goedig en sê sag: “Ai, dié Saartjie tog.” Hulle wonder wat sy wil hê. Almal in Lynnekom weet teen hierdie tyd al daar gebeur altyd iets waar Saartjie is. Mevrou Dominee praat ernstig oor ’n fondsinsameling vir mense wat deur die een of ander ramp getref is toe sy agterkom die dames se onverdeelde aandag is nie meer by haar nie. Sy draai haar kop om te sien waarna almal kyk. En toe sien sy Saartjie vinnig aangestap kom. Die predikantsvrou se wenkbroue skiet die hoogte in en sy kyk gesteurd na Saartjie. Dat die meisiekind sowaar die vermetelheid het om in ’n kniebroek hier op te daag – en dit nadat sy wat mevrou Dominee is, al meer as
een keer haar afkeer van sulke drag uitgespreek het. Saartjie voel verbouereerd. Sy glimlag floutjies. Dan sê sy: “Middag… middag, Tannies.” Net ’n paar vrouens groet haar terug. Dié wat nog nie hul wenkbroue gelig het nie, doen dit nou. Hulle het gesien mevrou Dominee doen dit – en sy neem mos altyd die leiding. “Wat is dit, Saartjie?” vra mevrou Baumann en kyk met ’n sagte glans in haar oë na haar dogter. “Mamma... daardie man in swart... daardie boef van wie Mamma gepraat het... Ek het hom gevang!” “Wat?” Mevrou Baumann spring op. “Ja, Mamma – ek het hom in die linnekas toegesluit.” Die vrouens snak almal na asem. Wat het Lynnekom se rabbedoe nou weer aangevang?
4
Die man in swart
Mevrou Baumann lyk bleek. Sy vertel vinnig vir die ander vrouens van die man in swart met die wrede oë wat by die vendusie opgedaag en haar toe agtervolg het. Hy het nou sowaar gekom om die bronsbeeldjie te steel! Al die vrouens praat feitlik gelyk en vra Saartjie hoe dit dan gekom het dat sy die man in die linnekas toegesluit het. Hulle bestook haar so met vrae dat Saartjie verward raak. Mevrou Dominee neem nou weer die leiding. Die meisie se nuus is so skokkend dat sy besluit het die rampfonds moet eers ’n bietjie wag. “Stilte, asseblief,” sê die predikantsvrou en lig haar hand. Die dames word stil. “Vertel vir ons,” sê mevrou Dominee, wat nou nie meer so afkeurend na Saartjie se kniebroek kyk nie, “hoe jy die dief by die linnekas ingekry het.” Saartjie vertel dadelik hoe sy die man in swart in die voorportaal met die beeldjie in sy hand gesien het. Die linnekas was gelukkig oop. Sy het toe vinnig by die trap afgespring en die man gestamp sodat hy by die kas in val. Daarna het sy hom toegesluit. “Maar Mamma,” sê Saartjie dan, “ons moet die polisie laat kom. Netnou versmoor die man daar in die kas en gaan dood of iets.” Almal praat nou weer gelyk en almal dink Saartjie is reg. Iets moet gedoen word – en gou ook – anders beswyk die man dalk in die linnekas. Mevrou Dominee neem nou weer die leiding. “Ons moet dadelik die polisie ontbied,” sê sy. “Ons bel hulle nie; ons gaan verwittig hulle persoonlik, en dan
gaan ons na die Baumanns se huis toe.” Saartjie het nie verwag al die vrouens sou saamgaan nie, maar dit lyk asof hulle baie gretig is om dit te doen. Hier is mos nou aksie en avontuur! Almal het van die fondinsameling vir die rampgeteisterdes vergeet. Die polisiekantoor is net langs die kerk, aan die ander kant van die pastorie. Die optog vrouens beweeg vinnig na die polisiestasie toe. Saartjie loop heel voor saam met haar ma en mevrou Dominee. Die ander dames kom in ’n bondel agter hulle aan. Die sersant sien die vrouens deur die venster toe hulle by die hekkie inkom. Sy oë rek groot. Hy wonder wat op aarde hulle wil hê. Die aanklagkantoor waar hy ’n entjie van die toonbank af agter ’n lessenaar sit, is maar klein en nie al die vrouens kan inkom nie. Party staan nou maar by die deur en inloer. Ander gaan haastig buite om en kyk deur die venster. “Wat kan ek vir julle dames doen?” vra die sersant. Hy staan nou agter die toonbank. “Saartjie het ’n dief gevang,” sê mevrou Dominee en kyk trots na die meisie asof sy Saartjie gehelp het om dit te doen. Haar wenkbroue is nie meer vraagtekens nie. Dit lyk asof sy, voorlopig altans, vergeet het Saartjie dra ’n kniebroek. “Sowaar?” sê die sersant. Hy streel sy dik snor, kyk na Saartjie en vra: “En wie is die dief?” Saartjie lek haar droë lippe gou met die punt van haar tong nat en sê dan: “Ek weet nie wat’s sy naam nie. Dis die man in swart.” “Die man in swart?” Die sersant lyk verbaas. Hy het nog nooit van so ’n boef gehoor nie, behalwe miskien in speurverhale. “Ek kan alles verduidelik.” sê mevrou Baumann. “Ek sal bly wees, Mevrou,” sê die sersant. Hy trek ’n dik skryfboek nader en tel
sy pen op. O gonna, dink Saartjie. As die sersant alles wil neerskryf wat haar ma vir hom vertel, gaan dit mos ure lank neem – en teen daardie tyd is die man in die kas sowaar al so dood soos ’n mossie. Mevrou Baumann sê dit nou ook vir die sersant. “Ons moet gou maak,” sê sy, “voor die man in die kas versmoor.” “’n Man in ’n kas?” Die sersant lyk nou agterdogtig. ’n Man in swart wat in ’n kas toegesluit is? Hy wonder of die dames miskien probeer gekskeer. Mevrou Baumann vertel nou kortliks wat alles gebeur het – hoe sy die beeldjie gekoop het en hoe ’n man wat in swart geklee was (hy het selfs ook ’n swart hoed opgehad) die beeldjie feitlik ten alle koste wou hê en hoe sy seker is hy het haar toe agtervolg om uit te vind waar sy woon. En nou het daardie einste man vanmiddag by die Baumanns se huis ingestap. Saartjie het hom op heterdaad betrap en in die linnekas toegesluit. “As ons nie nou gou maak nie, gaan hy in die kas versmoor,” sluit mevrou Baumann af. Die sersant staan vinnig op van die hoë stoeltjie agter die toonbank. Hy sal maar later die verklarings neerskryf. Hy moet die dief nou eers gaan haal en agter slot en grendel kry. “Wie het die kas se sleutel?” vra hy. “Ek, Sersant,” sê Saartjie. “Gee dit vir my.” Saartjie vroetel in haar kniebroek se sak, haal die sleutel uit en gee dit vir hom. “Ek’s binne ’n paar minute daar met die vangwa en ’n paar manskappe,” sê die sersant saaklik. Die vrouens is dadelik daar weg. Hulle stap vinnig na die Baumanns se huis teen die heuwel. Dit is gelukkig nie ver nie. Hulle wil daar wees en sien hoe die
polisie die man in swart uit die kas haal. In die hoofstraat sluit ’n hele klomp ander vrouens, mans en kinders by die optog aan. Almal wil weet wat aangaan en almal gaan saam om te kyk. Daar was lank laas soveel opwinding hier in Lynnekom. Saartjie en haar ma en mevrou Dominee loop nog steeds heel voor. Die rabbedoe vertel nou sy het vir Apie en Bennie aangesê om in die voorportaal wag te staan. Die optog is binne ’n paar minute by die Baumanns se dubbelverdiepinghuis. Saartjie het natuurlik eers weer gou van die een betonblok na die ander gewip. Die Lynnekommers steur hulle nie daaraan nie. Hulle weet mos Saartjie het hierdie belaglike taak om die een of ander onverklaarbare en onsinnige rede op haar geneem, en dat sy nou al baie jare lank elke keer so van die een blok na die ander spring. Dit is vir hulle glad nie meer vreemd nie. Toe die groep by die tuinpaadjie opstap, hoor hulle Apie hard skree: “Jy lieg! Hoekom erken jy nie jy lieg nie?!” Mevrou Dominee se wenkbroue word weer vraagtekens. “Abraham se taal is baie kras,” sê sy. “Ek sal met hom daaroor praat,” sê mevrou Baumann gedwee. “Ek wonder op wie skree hy so?” Sy lyk bekommerd. Hulle stap vinniger. Apie en Bennie hoor die mense by die voordeur en kom maak vir hulle oop. “Heng!” sê Apie verbaas toe hy almal in die tuin sien. “Daar’s nie so baie van julle nodig om die ou uit die kas te kom haal nie. Ons het hom al mak gemaak, ek en Ben ou Pen. Hy praat amper nie eens meer nie.” “Hoe het julle hom mak gemaak?” vra sy ma en lyk bekommerd. Apie het ’n byl in sy hand en Bennie ’n hokkiestok. “Bennie het so af en toe hard met die hokkiestok teen die deur geslaan en dan het ek die ou gewaarsku as hy iets snaaks probeer, kap ek sy kop met die byl af.”
Mevrou Dominee se wenkbroue bly nou sommer hoog op haar voorkop. “Moenie sulke wrede dinge sê nie, Apie,” sê sy ma. “Die arme man smag seker al na vars lug. Die polisie sal nou hier wees om hom weg te neem.” “Hoekom het jy so op hom geskree toe ons hier aangekom het?” vra Saartjie. “Wat het ek geskree?” “Dat hy nie moet lie-…” Saartjie sien hoe mevrou Dominee se wenkbroue weer opskiet en sê: “Dat hy nie moet jok nie.” Apie en Bennie grinnik geamuseerd. Dan sê Apie: “Dis oor daai ou in die kas ons probeer wysmaak hy’s nie ’n dief nie en hy wou niks steel nie. Hy sê hy’s kastig ’n predikant.” Die twee seuns lag lekker. Hulle is nie so onnosel om dit te glo nie. “’n Predikant?” vra mevrou Dominee verbaas. “Ja, Tannie. Hy het aangehou om dit te sê, maar ek het vir hom gesê hy moenie lie-... ek bedoel, hy moenie jok nie.” “En nou sê hy dit nie meer nie?” vra mevrou Baumann. Sy lyk nog bleker as vroeër. “Nee, hy praat nou net in so ’n sagte stemmetjie. Mens kan amper nie meer hoor wat hy sê nie.” “Het hy nie... het hy nie gesê wat sy naam is nie?” vra mevrou Dominee. Sy lyk ook skielik asvaal en hou aan die stoeppilaar vas sodat sy nie moet val nie. Saartjie kom agter die ander vrouens op die stoep wat gehoor het wat Apie sê, lyk ook bleek. Sy wonder wat almal makeer. Apie staan met ’n gefronste voorkop. “Die ou het sy naam ’n hele paar keer gesê,” sê hy dan, “maar ek kan nie onthou wat dit is nie. Hy’t gesê hy’s ’n dominee iemand. Kan jy onthou, Ben ou Pen?” Nee, skud Bennie sy kop, hy onthou ook nie. Al wat hy onthou, is dat dit ’n
snaakse soort naam was. Hy sê: “Ons het nie eintlik geluister nie, want ons het mos geweet die ou dinges, Tannie weet, jok.” “Is... is die snaakse naam miskien... dominee Bermahuizer?” vra die predikantsvrou nou. Apie en Bennie kyk met groot oë na mekaar. Dan sê Apie: “Dis reg, Tannie. Dit klink soos die naam wat hy die hele tyd gesê het.” Mevrou Dominee knip haar oë styf toe en leun teen die pilaar. Dit lyk amper asof sy wil flou word. Saartjie se ma wieg effens op haar voete. Dit lyk asof sy ook wil flou word. Die ander vrouens op die stoep kyk met verskrikte oë na mekaar. “Wat... wat is dit, Mamma?” vra Saartjie benoud. “Die nuwe... die nuwe hulppredikant wat gister gekom het om ons dominee by te staan, se van is Bermahuizer!” “En hy het vanmiddag vir my man gesê,” vervolg mevrou Dominee, “hy gaan ’n bietjie in Lynnekom rondstap en by huise aanklop om met die mense kennis te maak.” Saartjie knip haar oë nou ook styf toe. Dit voel skielik asof sy ook gaan flou word. Sy sou natuurlik dadelik geweet het die man wat sy by die hekkie sien inkom het, is ’n dominee as dit nie was vir haar ma se dramatiese beskrywing van ’n man in swart wat haar agtervolg het om uit te vind waar sy woon nie. Maar miskien is dit nie die jong hulppredikant nie. Miskien ís dit die man in swart. Hy het mos na die bronsbeeldjie gestaan en kyk toe sy hom by die kas instamp. Hoekom sou ’n predikant so iets gedoen het? Saartjie sug swaar. Sy is bevrees ’n predikant sou. Daar is mos niks mee verkeerd om te kyk na iets wat pragtig is en jou aandag trek nie. Die vangwa hou met skreeuende remme voor die deur stil, en die sersant en drie manskappe spring uit. Die sersant sê in ’n bulderende stem hulle sou al vroeër hier gewees het, maar
die vangwa wou nie vat nie. Hy het die linnekas se sleutel in sy hand. “Waar is die kas?” vra hy. Mevrou Baumann stap bewerig by die huis in om vir hom te wys terwyl sy in ’n fyn stemmetjie sê: “Miskien... miskien is die man nie ’n dief nie... Miskien was daar ’n effense misverstand.” “Hoe verstaan ek dit dan nou?” vra die sersant. “Mevrou het my mos die hele storie vertel.” Die polisie, mevrou Dominee, ’n paar van die ander vrouens en Saartjie, Apie en Bennie gaan by die voordeur in. Die een konstabel maak die deur toe. Hulle wil nie te veel mense hierbinne hê nie. “Dit is miskien die verkeerde man wat in die kas is,” probeer mevrou Baumann verduidelik. En dan hoor almal ’n sagte stem uit die kas roep: “Help! Help my!” Die sersant stap dadelik nader met die sleutel. Apie met die byl en Bennie met die hokkiestok is skoon in die polisie se pad, so graag wil hulle help. Die seuns is reg om te kap en te slaan as die dief hulle probeer moeilikheid gee. Hulle verstaan glad nie hoekom Saartjie en die vrouens so bleek en verskrik lyk nie. Die sersant sluit die deur oop en die man in swart strompel uit. Hy snak na asem. Hy het duidelik amper in die kas versmoor. Daar is ’n oomblik lank doodse stilte in die voorportaal. Dan sê mevrou Dominee snakkend: “Dominee! Dominee Bermahuizer!” Haar bene swik onder haar en sy sak flou op die vloer neer. “Wat op aarde gaan aan?” bulder die sersant en kyk na Saartjie se ma. “Is dit die man in swart, die man wat Mevrou agtervolg het omdat hy die beeldjie wou hê?” Mevrou Baumann sluk swaar, dan sê sy: “Nee, dit... dit is ons nuwe hulppredikant, dominee Bermahuizer.” “O wêreld,” sê die sersant. Hy lig sy pet en vee met sy hand oor sy bleskop.
Die sersant laat die hulppredikant in ’n gemakstoel in die sitkamer sit terwyl die drie konstabels mevrou Dominee na die rusbank toe dra en haar versigtig daarop neerlê. “Sê gou vir Lizzie sy moet tee maak, Saartjie,” sê mevrou Baumann en wys nou sy is ’n dokter se vrou. Sy hou vlugsout onder mevrou Dominee se neus en die statige ou dame kom stadigaan by. Die jong predikantjie haal nog steeds diep asem en sy oë is toe. Hy sit-lê nou in die gemakstoel. Apie en Bennie kyk met groot oë na mekaar. Die man wat hulle gedink het ’n dief is wat Apie se ma se beeldjie wou steel, is sowaar ’n dominee. Maar Saartjie se flater is niks in vergelyking met wat hulle alles vir die man deur die kas se deur geskree het nie. Sê nou hy maak sy oë oop en sien hulle met ’n byl en hokkiestok in die hande? Nee, hulle moet weg wees. Apie beduie met sy kop Bennie moet kom. Sonder dat die ander dit agterkom, sluip die twee stilletjies by die sitkamer en dan agter by die huis uit. Teen die tyd dat mevrou Dominee regop kom en vir die soveelste keer “Goeie genade!” sê, kom Lizzie, die huishulp wat al jare by die Baumanns werk, met ’n skinkbord by die sitkamer in. Mevrou Baumann gee vir mevrou Dominee en die polisie tee. Die jong hulppredikant maak sy oë nou stadig oop en sit regop. Hy kry ook tee – sterk tee met baie suiker. Saartjie drink feitlik nooit tee nie (sy hou baie meer van koeldrank), maar daar is ’n ekstra koppie geskink en sy besluit om dit maar te drink. Sy voel sy het dit nodig. Die meisie en die drie konstabels staan en tee drink. Die sersant, mevrou Dominee, die jong predikant en mevrou Baumann sit en drink. Buite staan en wag daar nog ’n groep Lynnekommers. Hulle wonder wat aangaan en hoekom die polisie dan nie met die dief uitkom nie. In die sitkamer is dit stil terwyl almal tee drink. Saartjie loer so af en toe na die
jong predikant. Hy is nogal ’n aantreklike man. Hy lyk wel ’n bietjie bleek, maar hy het ligte hare en helderblou oë. Toe dominee Bermahuizer sy tee klaar gedrink het en sy koppie neersit, is dit die teken vir die ander om hul koppies ook neer te sit. “Nou ja,” sê die sersant en maak keel skoon, “laat ek alles hoor.” Die sersant kyk na die jong man. Hy moet praat en vertel wat gebeur het. “Wel, Sersant,” sê die predikant en glimlag effens, “ek weet nie of ek hier in ’n malhuis beland het, of wat nie. Ek is dominee Bermahuizer, Lynnekom se nuwe hulppredikant. Ek het sommer ’n bietjie rondgestap om met mense kennis te maak. Toe kom ek hier by hierdie huis en klop aan die deur. Niemand het geantwoord nie en toe besluit ek om in te loer en te sien of hier nie miskien iemand is nie. Ek het gedink wie ook al hier bly, het my miskien nie hoor klop nie.” Almal luister aandagtig na die predikantjie. Hy vertel nou hy stel baie in oudhede belang, en net toe hy sy kop weer wou terugtrek en die deur wou toemaak, het hy die beeldjie op die spieëlrak gesien. Hy het sommer dadelik geweet dit is iets kosbaars. Toe besluit hy om dit ’n bietjie van nader te bekyk. “En terwyl ek die beeldjie nog so staan en bewonder, het iemand my uit die bloute bevlieg, my by die kas ingestamp, die deur toegemaak en dit gesluit. Die een se stem het na ’n jong meisie s’n geklink, maar nugter alleen weet hoekom sy dit gedoen het.” Toe die jongman dit sê, kyk hy reguit na Saartjie. Sy bloos bloedrooi en stamel dan: “Dis... dis ek wat Dominee gestamp het, maar ... maar ek het nie geweet dis ’n dominee wat ek stamp nie. Ek bedoel...” “Ek dink dit sal beter wees as ek verduidelik,” help mevrou Baumann haar dogter uit die verknorsing. Sy vertel van alles wat gebeur het en hoe dit heeltemal verstaanbaar is dat Saartjie so ’n fout kon begaan het. Haar ma het mos gepraat van ’n man in swart en Saartjie het nie van die nuwe hulppredikant geweet nie. Toe sy die man sien wat swart klere aanhet en boonop ook na die beeldjie kyk, was sy nogal dapper
om hom te vang en by die kas in te stamp. Saartjie se ma glimlag ná haar lang verduideliking en vra reguit vir die predikant: “Dink jy nie ook so nie, Dominee?” Die jongman glimlag en sê: “Beslis, Mevrou. Dit wás dapper van haar. Ek verstaan nou heeltemal. Maar wie was die ander twee barbare wat daar by die deur waggehou het?” “Dit was my seun, Apie, en ’n maat van hom, Bennie.” “Gaan hulle Sondagskool toe, Mevrou?” vra die jongman vriendelik. “Natuurlik, Dominee.” “Ek sien,” antwoord hy en glimlag veelseggend. Saartjie wonder watter lelike woorde die twee knape alles gebruik het. “Ek dink hulle was nogal jammer dat ek nie daar uit die kas probeer kom het nie,” sê die dominee nou laggend. “Die een het my uitgedaag om te probeer en gesê hy sal my kop met een harde hou afkap. Die ander een het gesê voor sy maat my kop laat waai, sal hy my eers pimpel en pers met ’n hokkiestok slaan totdat ek soos ’n verkleurmannetjie lyk. Hulle is nogal twee bloeddorstige outjies.” Mevrou Baumann weet nie wat om te sê nie en laat sak haar kop in skaamte. Saartjie moet haar inhou om nie te begin lag nie. Die sersant sê as niemand teen iemand ’n saak wil maak nie, weet hy nie hoekom hy nog hier sit en niks doen nie. Hy het baie werk by die polisiekantoor. Hy sal die mense in die tuin en buite op die sypaadjie ook sommer verwilder en vir hulle sê dit was alles ’n misverstand. Saartjie vra die predikant om verskoning en hy sê vriendelik hy neem haar glad nie kwalik vir wat gebeur het nie. En so eindig alles darem op die ou end heel goed. Die storie van die misverstand by die Baumanns se huis versprei natuurlik soos ’n veldbrand en Lynnekom se mense lag lekker oor die petalje. Meer as een sê
glimlaggend: “Ai, dié Saartjie tog.” Dié aand lag dokter Baumann ook heerlik oor die hele affêre. Niemand neem Saartjie kwalik nie. Sy was in werklikheid baie dapper. Ná ete sit mevrou Baumann en brei. Haar man lees koerant en Apie doen huiswerk. Saartjie probeer om ’n span saam te stel wat sowel Lina as Magriet insluit, maar dit is moeilik, want een van hulle moet dan in een van die ander meisies se plek speel, en die ander is beter as die twee in hul onderskeie posisies op die baan. Kris is nog nie by die huis nie. Hy is natuurlik weer by sy meisie, Isabel. Mevrou Baumann frons effens en dan sê sy: “Daar is een ding van vanmiddag se petalje wat ek nog nie verstaan nie.” “Wat’s dit, vroutjie?” vra haar man. Saartjie en Apie kyk nou ook op van waar hulle by die tafel sit en skryf. “Hoe is dit dat die linnekas so gerieflik oopgestaan het met die sleutel in die deur? Daardie kas is feitlik nooit oop nie en die sleutel hang mos altyd agter die kombuisdeur.” “Dis maklik om dit te verduidelik, Mamma,” sê Saartjie en vertel dan hoe sy haar netbal in die linnekas gesoek en toe vergeet het om dit weer toe te maak. Haar ma is nou heeltemal tevrede. “En het jy die netbal toe gekry?” vra mevrou Baumann. “Nee, Mamma,” sê Saartjie en kyk reguit na Apie wat oorkant haar by die tafel sit, “ek het dit nie gekry nie.” Apie hou niks van hierdie gesprek nie. Hy kyk glad nie na Saartjie nie. Sy hele sproetgesig is op ’n plooi soos hy kastig sit en somme doen. Hy mompel: “Dié goed maak my deurmekaar.” “Watse goed?” wil Saartjie weet. “Die somme, natuurlik,” sê Apie en kyk op.
Saartjie sit met haar rug na haar ouers se gemakstoele. Sy vang nou Apie se oog en trek vir hom skewemond. Dan fluister Saartjie: “Waar is my netbal?” Apie frons en sê: “Hè?” Sy vorm die woorde weer met haar mond sonder dat sy enige klanke maak. Dié keer verstaan die outjie die vraag dadelik, maar hy hou hom dom. Hy skud sy kop vinnig om te wys hy het haar vraag nie verstaan nie en dan laat hy sy kop weer sak en maak asof hy kastig met sy somme aangaan. Apie gaan nou sowaar nie weer opkyk nie. Saartjie kyk peinsend na hom. Sy is nou bekommerd oor haar netbal. Sy is seker hy het dit gevat, maar as hy dit nie verloor het of so iets nie, sou hy mos al vir haar gesê het waar dit is en dat hy dit môre vir haar sal teruggee. Sy wonder wat haar boetie daarmee gemaak het. So gou as wat sy hom alleen kry, gaan sy hom kortvat en dwing om vir haar te sê wat hy aangevang het. Saartjie kry die aand nie kans om Apie alleen voor stok te kry nie en ook nie die volgende oggend voor skool nie. Hy is sommer vroeg al weg uit die huis. Dit lyk vir haar of hy haar doelbewus vermy en dit laat haar nog meer bekommerd voel oor haar netbal. Sy wonder wat op aarde hy met die ding aangevang het. Toe sy die middag by die huis kom, is Apie ook nie daar nie. Haar ma sê hy het net vinnig geëet en is daarna uit. Saartjie is nou doodseker Apie vermy haar omdat hy haar netbal sonder haar toestemming gevat het en die ding seker verloor of beskadig het. Hy is natuurlik te bang om dit te erken. Dit maak Saartjie baie vies. Sy moet oefen – en waar gaan sy nou ’n ander netbal in die hande kry? Saartjie besluit om Apie te gaan soek. Sy wil haar netbal terughê. Hy moet vir haar sê wat hy met die ding gedoen het. Saartjie gaan haal eers vir Anna en dan stap hulle twee na Lina toe. Anna en Lina gaan haar help om Apie te soek. Sy vertel hulle van die netbal wat verdwyn
het en van haar vermoede dat haar boetie dit nie net gevat het om mee te speel nie, maar dat hy dit verloor of beskadig, of dalk weggegee het. “Apie het mos nie ’n meisie nie,” sê Lina laggend. “Vir wie op aarde sou hy die bal gegee het?” “Ek weet nie,” sê Saartjie. “Maar ek gaan vandag nog uitvind wat daarvan geword het.” Die meisies besluit om eerste na Bennie se huis toe te gaan. Hy is mos Apie se beste maat en Saartjie se boetie is tien teen een by hom. Die Drie Muskiete loop al geselsende. Saartjie vertel nou vir haar vriendinne van die voorval met die jong dominee. Anna en Lina was ook tussen die mense wat voor die Baumanns se huis gewag het tot die sersant vir hulle gesê het hulle kan maar huis toe gaan, dit was alles net ’n misverstand. “Weet jy hoeveel stertjies het daai storie al bygekry?” vra Lina vir Saartjie. “Ek het gehoor jy’t die predikant eers met ’n stoel oor die kop geslaan en hom toe by die kas ingesleep.” Ja-nee, dit gebeur maar altyd. Mense las allerhande dinge by as hulle ’n storie oorvertel. Toe die meisies by Bennie-hulle se huis kom, stap hulle na die voordeur toe. Saartjie klop. Ná ’n rukkie maak Bennie die deur oop. “Wat wil julle hè?” vra die outjie en kyk agterdogtig na hulle. “My ma is nie hier nie.” “Ons wil nie jou ma hê nie,” sê Saartjie. “Ons soek vir Apie. Is hy hier?” Bennie skud sy kop heftig om hulle goed te laat verstaan Saartjie se boetie is nie hier nie. Dan voeg hy ook by dat hy Apie ná skool nog nie met ’n oog gesien het nie. Die drie meisies kyk vinnig na mekaar. Hulle is nie seker of Bennie die waarheid praat nie. Hy kyk met ’n onskuldige gesig na hulle. Die knapie lyk asof botter
nie in sy mond sal smelt nie. Saartjie-hulle moet Bennie maar glo, of hulle nou wil of nie. Hulle kan mos nie sommer by die huis instap en oral begin rondsoek nie. “As jy vir Apie sien,” sê Saartjie vies, “sê vir hom ek soek hom, en ek gaan aanhou soek tot ek hom kry.” “Ek sal hom sê,” antwoord Bennie gedwee. Die meisies stap dan maar weer daar weg. “Bennie weet van alles,” sê Anna. “Anders sou hy dadelik wou geweet het wat aan die gang is en hoekom ons Apie soek. Hy’s ’n nuuskierige agie. Hy sou ons met vrae bestook het.” Saartjie en Lina stem saam met Anna. Die Drie Muskiete weet nie eintlik waar om nou nog verder na Apie te soek nie. Hulle voel ook dit gaan net tydmors wees. Hulle is seker die outjie kruip daar in Bennie-hulle se huis weg en het elke woord gehoor toe hulle met sy maat gestaan en praat het. Die meisies loop Galpil en sy twee boesemvriende, Gert en Piet, in die hoofstraat raak. “Haai!” groet die seuns. “Haai julleself!” groet die meisies op die tipies Lynnekomse manier terug. “Het julle dalk vir Apie gesien?” vra Saartjie. Saartjie-hulle kan sommer dadelik sien Galpil gaan hom probeer snaaks hou. Hy krap met sy hand deur sy ongekamde boskasie en maak sy hare nog meer deurmekaar. Dan trek hy sy gesig asof hy baie diep nadink oor hierdie lewensbelangrike vraag wat Saartjie hom gevra het. Galpil draai na Gert en Piet en vra met ’n ernstige stem: “Het ons pêrre vir Apie gesien?”
Sy vriende is net so laf soos Galpil. Gert en Piet maak nou dieselfde gebare as wat hy gemaak het. Hulle krap hul deurmekaar hare ook nog meer deurmekaar en trek ook gesigte om kamtig te wys hoe ernstig hulle oor hierdie vraag nadink. Dan sê Piet met ’n sedige uitdrukking: “Sê nou maar net ons het hom gesien? Hoekom wil sy weet of ons hom gesien het?” Hy wys met ’n vuil duim na Saartjie. Piet het met Galpil gepraat. Galpil draai nou na Saartjie toe en herhaal ewe ernstig: “Saartjie, ou perd, Piet wil weet hoekom jy wil weet of ons jou boetie gesien het.” Saartjie vee met die agterkant van haar hand ’n weerbarstige krul van haar voorkop af weg. Dan sê sy kil: “Probeer julle miskien snaaks wees, hè?” Die drie seuns kyk nou verbaas na mekaar asof hulle glad nie kan verstaan hoe sy so iets kan vra nie. “Mag ek die meisiekind namens ons drie pêrre antwoord?” vra Galpil vir sy twee vriende. “Jy mag, ou perd,” sê Piet. Dan kyk hy na Gert en voeg by: “Ek aanvaar ek praat nou namens jou ook, ou perd.” Gert mompel Piet mag dit maar aanvaar. “Dankie vir julle pêrre se vertroue in my,” sê Galpil plegtig en buig so effens vir die twee. Gert en Piet maak ook ’n buiginkie en sê saam: “Nie te danke nie, ou perd.” Saartjie, Anna en Lina sukkel om nie hardop vir die seuns se koddige gebare en sêgoed te lag nie. “Julle is lekker simpel,” sê Saartjie. “Sulke onvriendelike woorde,” sê Galpil en sit sy hand dramaties op sy hart, “grief ons diep, bitter diep.” Gert en Piet sit hul hande nou ook op hul harte om te wys hoe diep sulke woorde hulle grief. Voor Saartjie kan sê hulle moet ophou met die lawwigheid, sê Galpil uit die
hoogte: “Maar laat ek die stelling dat ons probeer om snaaks te wees nou eers die nek inslaan. Hierdie ou tranedal van ons is vol probleme en hartseer en...” “Ag, bly stil, Galpil!” val Saartjie hom streng in die rede. Sy het nie nou tyd om na sy snert te luister nie. “Het julle vir Apie gesien of nie?’’ Die drie seuns kyk nou weer kastig verbaas na mekaar. Dit lyk of hulle weer van voor af met dieselfde belaglike gewonder gaan begin. “Kom ons loop,” sê Lina. “Hulle het nie vir Apie gesien nie. Hulle mors net ons tyd deur te probeer snaaks wees.” Saartjie en Anna stem saam met Lina. Die meisies stap vinnig weg. Galpil skree agter hulle aan: “Ons het nie vir Apie gesien nie, maar wil julle kom kleilat speel?” “Ons het nie tyd nie!” skree Saartjie oor haar skouer. Die drie meisies soek nog ’n rukkie na Apie, maar word dan moeg daarvoor en besluit om op te hou. Saartjie sê sy sal haar boetie wel vanaand in die hande kry. Hy moet tog huis toe kom om te eet. Hulle stap na Anna se huis toe. Wanneer hulle die voorhekkie oopstoot, hoor hulle iemand met ’n bal op die grasperk langs die huis speel. Hulle stap vinnig nader en loer om die huis se hoek. Die meisies kyk verbaas na mekaar. Muggie speel op die grasperk met ’n groot, ronde bal. Dit is ’n netbal. Sy gooi die bal voor haar uit, dan hardloop sy en vang dit laggend voor sy die bal weer voor haar uitgooi en vang. Die Drie Muskiete kyk na mekaar en frons. Waar op aarde kry Muggie die bal?
5
Die bal
“Haai!” roep Saartjie-hulle vriendelik terwyl hulle oor die grasperk na Muggie toe stap. Anna se sussie kyk verbaas na hulle. Dan raap sy die bal vinnig van die grasperk af op en hou dit met albei hande agter haar rug. “Haai julleself,” sê sy nou en gee ’n verbouereerde laggie. “Waar kry jy daardie bal, Muggie?” vra Anna. “Watter bal?” Die kleintjie kyk kastig onskuldig rond of sy die ding waarvan hulle praat, kan sien. “Moenie probeer snaaks wees nie,” sê Anna streng. “Die bal wat jy daar agter jou rug hou – waar kry jy dit?” Muggie voel nou vies. As hulle lelik wil wees, kan sy mos ook lelik wees. “Wat het dit met julle te doen, hè?” vra sy. “Dis my bal.” Die Drie Muskiete kyk na mekaar. Dieselfde gedagte flits deur al drie se breine. Dit is Saartjie se bal wat Muggie daar agter haar rug hou. Hulle is seker daarvan, maar hulle besef ook dat as hulle die kleintjie sover wil kry om vir hulle te vertel hoe sy dit in die hande gekry het, hulle haar nie moet kwaad maak nie. Anders word die klein snip net koppig en dan sal hulle niks uit haar kan kry nie. “Laat ons ook ’n bietjie met die bal speel,” sê Saartjie met ’n vriendelike glimlag.
Muggie aarsel ’n oomblik. Sy kyk agterdogtig na hulle en sê dan: “Goed, maar ek speel saam, hoor.” Sy bring die bal agter haar rug uit en gooi dit na Saartjie toe. Die vier meisies staan nou in ’n kring en gooi die bal vir mekaar. Elke keer as Saartjie die bal in die hande kry, kyk sy eers gou daarna. Toe sy die bal die derde keer kry, sien sy waarna sy gesoek het. Naby die klep waar die bal opgepomp word, is ’n effense skraap. ’n Mens moet goed kyk om dit te kry, maar as jy weet waarna jy soek, sien jy dit duidelik. Die skraap is van verlede seisoen toe Saartjie die bal per ongeluk deur haar pa se studeerkamervenster gegooi het. Sy onthou nog sy het die skraap met naellak behandel. Dit is definitief haar bal. Daarvan is sy seker. Maar hoe het Muggie dit in die hande gekry? Nadat die meisies die bal ’n ruk lank so vir mekaar gegooi het – die Drie Muskiete was maar verveeld met die simpel speletjie, maar Muggie het dit baie geniet – stel Saartjie voor dat hulle ’n bietjie moet rus. Hulle gaan sit op die bankie onder die groot boom. Muggie het die bal nou weer en sit daarmee op haar skoot. Saartjie, Lina en Anna kyk na mekaar. Hulle moet taktvol te werk gaan. “Heng, maar dis ’n mooi bal,” sê Saartjie. “Ja-nee, dit is,” sê Lina glimlaggend. “Ek sal sowaar nie omgee om so een te hê nie. Waar kry jy dit, Muggie?” Lina vra die vraag met ’n onskuldige, amper traak-my-nieagtige houding, asof sy nie juis omgee of Muggie haar gaan antwoord of nie. Muggie is nou glad nie meer so agterdogtig nie. Saartjie, Anna en Lina is vandag baie vriendelik en stel vir ’n verandering in haar belang. Muggie hou daarvan dat hulle haar beny omdat sy so ’n mooi bal het. “Ek sal julle sê waar ek dit gekry net, maar julle moenie vir iemand sê nie, hoor.”
Die Drie Muskiete knik vinnig. Hulle sal vir niemand sê nie. Hulle skuif bietjie nader aan Muggie om haar goed te kan hoor. “Ek het gesê ek sal vir niemand sê nie – en as julle naby is, sal ek nie met die bal speel nie,” sê Muggie. Saartjie, Anna en Lina kyk verbaas na mekaar. “Maar hoekom het jy so gesê?” vra Anna. “Omdat die een by wie ek die bal gekry het, gesê het ek moet hom eers belowe ek sal nie die bal vir een van julle wys nie – en ook nie met die ding speel as julle hier rond is nie. As ek hom dit nie eers belowe het nie, sou ek die bal nie vir so goedkoop gekry het nie.” “Wie het die bal aan jou verkoop?” vra Saartjie en glimlag op haar vriendelikste vir Muggie. “Julle moenie sê ek het vir julle gesê nie,” fluister die kleintjie. “Dit was Apie.” Die ouer meisies kyk na mekaar en knik hul koppe. Dit is presies wat hulle verwag het. “Hoeveel het jy vir die bal betaal?” vra Anna. “Veertig rand.” “En waar het jy die geld vandaan gekry?” wil Anna nou weet. “Ek het nie vir hom die hele veertig rand gelyk gegee nie,” sê Muggie. “Hy het gesê hy vertrou my en ek kan dit op... op dinges koop.” “Op rekening,” sê Saartjie. “Dis reg, ja. Dis die woord wat hy gebruik het. Ek kry mos tien rand sakgeld ’n week. Ek het toe vir hom die tien rand gegee wat ek gehad het en as ek nou weer my sakgeld kry, moet ek dit weer vir hom gee, en dan nog twee keer daarna, dan is dit veertig rand.” Saartjie is woedend, maar natuurlik nie vir Muggie nie. Muggie het mos nie
geweet dit is Saartjie se bal wat sy by Apie koop nie – maar Apie het dit goed geweet. Wag maar, vanaand gaan sy wat Saartjie is, hom in die hande kry. Die Drie Muskiete speel nog ’n rukkie saam met Muggie. Saartjie sê nie vir die kleintjie dit is haar bal en dat Apie nie die reg gehad het om dit te verkoop nie. Sy wil haar netbal natuurlik terughê, maar Apie sal dinge self met Muggie moet regmaak. Later groet Saartjie. Sy moet nog gaan huiswerk doen. Haar ma is by die huis en sê sy het Apie nog nie weer vanmiddag gesien nie. Saartjie besluit om nie vir haar ma te vertel wat Apie gedoen het nie. Sy sal self met hom afreken. As hy haar bal nie vir haar terugkry nie, gaan sy beslis verdere stappe teen hom doen. Sy glimlag effens hier waar sy nou in haar kamer sit. Sy hou van die frase “verdere stappe doen”. Apie sal miskien nie verstaan wat presies dit beteken nie, maar hy gaan hom boeglam skrik as sy daardie frase gebruik. Saartjie se huiswerk is uiteindelik klaar en nou sit en wag sy maar geduldig in haar kamer. Apie moet tog huis toe kom vir ete. Die son het net mooi in die weste gesak toe Saartjie hoor hoe iemand die tuinhekkie oopstoot. Sy spring gou op en loer van agter die gordyn by die venster uit. Ja-nee, dit is Apie. Die outjie se hare is deurmekaar en sy hemp hang voor en agter by sy broek uit. Sy sokkies lê op sy skoene. Haar boetie kyk eers versigtig oral in die tuin rond. Saartjie weet sommer dadelik hy maak seker dat sy hom nie dalk daar iewers inwag nie. Dan kyk hy op na haar kamervenster. Sy koes verder agter die gordyn in sodat hy haar nie kan sien nie. Apie besluit dit is veilig en stap aan huis toe. Saartjie spits haar ore. Sy hoor hoe hy die voordeur saggies oopmaak en dan op sy tone by die trap opkom. Apie se kamer is op die boonste verdieping, langs hare. Saartjie glimlag. Sy weet wat sy plan is. Hy wil na sy kamer toe sluip en daar bly tot hulle ma hom vir ete roep. Hy dink Saartjie sal nie aan die etenstafel oor die bal lol nie. En ná ete sal hy weer ’n plan maak sodat sy hom nie alleen kan kry om hom in ’n hoek te dryf
nie. Min weet hy sy weet nie net hy het die bal gevat nie, maar ook wat hy daarmee gedoen het. “Vandag is ek en jy aanmekaar, Apie,” fluister Saartjie sag. Sy draai haar kop effens om beter te kan hoor. Haar boetie is nou al by die trap op en kom versigtig na sy kamer toe aangestap. Maar om daar te kom, moet hy eers verby hare stap. Saartjie loop nou suutjies op haar tone tot by die deur. Sy neem die knop in haar hand. Toe sy hoor Apie is nou net mooi voor haar deur, maak sy dit oop. Haar boetie staan gebukkend op sy tone. Hy hoor die deur oopgaan en draai sy kop vinnig en – o gonna, daar staan Saartjie! Apie se oë is groot. Hy staan nog steeds so gebukkend en op sy tone. Dan gee hy ’n flou glimlaggie en sê: “Haai.” Saartjie groet hom nie. Sy staar net strak na hom. Dit laat Apie nog meer verbouereerd voel. Hy kom regop, grinnik verbouereerd en sê: “Gaan net gou na my kamer toe, jy weet. Ek het iets daar vergeet.” Hy wil net aanstap – nou trots en regop – toe Saartjie sê: “Apie.” Hy kyk weer na haar. “Ja?” “Kom hier!” Apie lyk effens verbaas. Hy sluk en mompel dan: “Maar ek is mos hier.” “Kom hier by my kamer in. Ek wil met jou praat!” Saartjie kyk kwaai na hom. Apie sug swaar. Sy gaan hom nou natuurlik weer oor die bal uitvra. Hy hoop maar net sy vind nooit uit wat hy met die dekselse ding gedoen het nie. In haar kamer gaan sit Saartjie op die bed en Apie val op die stoel by haar skryftafel neer. Hy staar kastig ingedagte by die venster uit. Saartjie kyk hom stip aan.
Die broer en suster sit ’n hele paar oomblikke lank so doodstil. Dan begin Apie ongemaklik voel. Hy kyk na Saartjie en sê vies: “Wat wil jy hê?” Hy wikkel sy sproetneus op en af om te wys hy is omgekrap en maak sisgeluide deur die opening waar sy twee voortande skitter in hul afwesigheid. Toemaar, dink Saartjie, jy sal so mak soos ’n lammetjie wees wanneer ek met jou klaar is. Dan sê sy hardop: “Ek wil met jou praat.” “Nou praat dan.” “Wat het jy met my netbal gedoen?” Apie sis gou weer deur die opening waar sy twee voortande moes gewees het, maar nie is nie. Dan sien hy hierdie geluide, wat eintlik moet wys hoe woedend hy is omdat sy hom so vals beskuldig, het hoegenaamd geen uitwerking op Saartjie nie en hou op daarmee. “Hoekom sê jy ek het iets met jou netbal gedoen?” vra hy nou ’n teenvraag. “Omdat ek weet jy het,” sê Saartjie sag maar beslis. Apie loer nou na haar. Sy ogies is op skrefies. Jissie, dink hy, weet sy sowaar ek het die netbal aan Muggie verkoop? “Wie sê ek weet iets van jou simpel bal af?” vra hy dan. “Ek sê so,” sê Saartjie, en haar stem is nog steeds sag maar beslis. “Waar’s jou bewyse, hè?” vra Apie nou vies. Hy hou van die woord “bewyse” en herhaal die vraag: “Waar’s jou bewyse?” “Ek het nie bewyse nodig nie,” sê Saartjie. “Ek weet jy het my netbal gevat en ek weet ook wat jy daarmee gedoen het.” Apie raak bekommerd. Hy kan sien sy suster wil hom in ’n hoek dryf.
“Orraait,” sê hy en maak eers weer ’n paar sisgeluide om darem net te wys hy is nie bang nie, “sê nou, speel-speel, ek het die netbal gevat. Wat het ek dan kastig met die ding gedoen?” Apie kyk uitdagend na sy suster. Dan sê Saartjie: “Jy het dit verkoop.” Sy sê dit so sag dat hy nie seker is of hy haar reg gehoor het nie. “Hè?” vra hy. “Ek sê jy het die netbal verkoop,” sê sy nou harder. Dié keer het Apie haar duidelik gehoor. “O gonna,” brom hy. Dan kyk hy na haar en vra: “Hoe weet jy dit, hè? En waar’s jou bewyse?” “Ek stel nie in bewyse belang nie, Apie. Ek weet jy het dit gedoen. Muggie het my gesê. Jy’t die bal aan haar verkoop.” Apie se wind is nou skoon uit sy seile. Hy besef dit sal nie meer help om teë te praat of op bewyse aan te dring nie. Saartjie weet alles. Hy mompel iets van meisies wat snaaks is – “snaakse goeters wat mens nie kan vertrou nie”. Muggie het hom kastig belowe sy sal nie dat Saartjie, Anna of Lina die bal sien nie! “So, erken jy alles?” vra Saartjie nou. “Ja,” mompel Apie. Wat help dit om dit te ontken? Muggie het dan vir Saartjie vertel. Apie wonder wat Saartjie gaan doen noudat hy skuld erken het. Sy is seker baie vies. Hy sê vinnig: “Orraait, ek’s jammer ek het die bal verkoop, maar ek was bankrot en ek en Bennie was lus vir lekkers en Muggie wou die bal baie graag hê. Sy het toe vir ons tien rand gegee en nou skuld sy my nog dertig.” “Ek weet, Apie.”
“Orraait, ek weet jy weet, maar ek sê maar net. En ek sal jou sê wat ek gaan doen om dinge reg te maak.” “Nou toe sê, laat ek hoor,” sê Saartjie droogweg. “Ek sal vir Muggie sê sy moet die dertig rand wat sy my nog skuld vir jou gee. Hoe’s daai vir jou?” Apie maak hierdie aanbod asof hy Saartjie ’n yslike groot guns bewys. “O nee, mannetjie,” sê sy egter, “jy gaan nie so maklik loskom nie. Ek wil daai bal hê. Ek wil dit nie verkoop nie, definitief nie vir net dertig rand nie. Ek wil hier in die agterplaas begin oefen. Jy moet die bal vir my terugkry – vandag nog.” Apie kyk verslae na sy suster. “Hoe kan ek die ding terugkry?” vra hy. “Ek het nie tien rand om vir Muggie terug te gee nie en jy weet mos hoe snaaks is daai meisiekind. Al het ek ook die geld gehad, sal sy sommer net aspris wees en sê sy wil dit nie hê nie, sy wil die bal hou.” Saartjie weet hoe snaaks Muggie partykeer kan wees. Sy is seker die kleintjie sal nie die bal vir Apie teruggee nie – in elk geval nie teen dieselfde prys as wat sy daarvoor betaal het nie. Daarvoor is Muggie gans te slim. “Luister, Apie,” sê Saartjie saaklik en staan op, “jy gaan nou dadelik na Muggie toe en jy koop die bal terug, hoor jy my? Al moet jy ook jou volgende vyf of ses weke se sakgeld vir haar gee. As jy dit nie doen nie, gaan ek verdere stappe doen.” Apie kyk geskok na haar, dan sê hy: “Wat’s dit?” “Wat’s wat?” “Die dinges – die verdere stappe.” “Dis iets waarvan jy niks gaan hou nie,” sê Saartjie. “So, jy beter nou dadelik gaan kyk wat jy met Muggie kan reël.”
Apie sit ’n oomblik hieroor en dink. Die verdere stappe is seker dat Saartjie vir hul ouers gaan vertel en sommer ook vir sy laerskool se hoof – en wie weet, dalk doen sy selfs nóg verdere stappe en vertel vir die kwaai polisiesersant wat hy aangevang het. Apie is lelik benoud. Hy besluit dit sal die beste wees om maar te gaan probeer om die bal terug te kry. “Orraait,” sê hy, “maar jy sê nie ’n woord vir iemand nie, gehoor!” Net om darem vir haar te wys hy is nie ’n bangbroek nie en dat sy nie met hom moet sukkel nie, maak hy weer ’n paar sisgeluide deur die opening waar sy twee voortande so skitter in hul afwesigheid terwyl hy sy sproetneus op en af wikkel. “Toe, maak gou,” sê Saartjie net. “Ek wil my netbal binne ’n halfuur hier hê, anders doen ek verdere stappe.” Apie maak hom vinnig uit die voete. Die onderhandeling met Muggie is lank en moeilik. Op die ou end moet Apie voor Anna belowe hy sal vir Muggie drie weke se sakgeld gee. Eers toe is sy bereid om die bal vir hom terug te gee. Op pad huis toe loop Apie en uitwerk hoeveel die hele storie hom nou eintlik gekos het. Muggie het vir hom tien rand gegee waarmee hy en Bennie lekkers gekoop het. Die dertig rand wat sy hom nog geskuld het, het nou natuurlik verval. Sy skuld hom niks meer nie, maar hy skuld haar ’n hele drie weke se sakgeld. Hy kry ook tien rand ’n week, wat beteken hy skuld die meisie dertig rand, wat vir hom ’n fortuin is. Apie is baie omgekrap. “Dit sal jou leer,” sê Saartjie net laggend toe hy vir haar alles vertel, “om nooit weer iets wat nie aan jou behoort nie, te vat en te gaan verkoop nie.” Apie het sy les geleer. Hy sal dit beslis nooit weer waag nie. Die volgende dag is daar groot nuus vir die skool se netbalspelers. Die onderwyseres wat in beheer van al die netbalspanne is, sit ’n kennisgewing
op wat sê al die meisies wat netbal speel moet lang pouse in die saal vergader. Terwyl hulle in die saal wag, wonder almal wat Ou Henkie – dit is juffrou Henkel se bynaam – vir hulle wil vertel. Sy kom in en gaan staan op die verhoog. Die meisies is dadelik tjoepstil. Dan sê die juffrou: “Ek het twee afkondigings om te maak. Ons wedstryde teen ander skole begin volgende Dinsdagmiddag. Dit beteken die verskillende spankapteins moet hul spanne se name Maandagoggend voor skool by die sekretaresse indien. Sy sal die spanlyste tik en dit voor lang pouse op die kennisgewingbord plak. Dan kan julle sien wie speel en wie nie.” Daar is ’n gegons van stemme soos hierdie aankondiging bespreek word. Almal is opgewonde dat die netbalseisoen nou uiteindelik begin. Saartjie wonder teen wie haar span eerste gaan speel. Dis nou al Donderdag. Sy het nie meer lank tyd om te besluit wie sy as senter gaan kies nie – Magriet of Lina. Daar is nog net vanmiddag se oefening. Die juffrou lig haar hand vir stilte en die gebabbel bedaar. “Die ander afkondiging,” sê sy, “is dat die Gautengse Netbalvereniging besluit het om Saterdag oor ’n week drie interprovinsiale wedstryde in Pretoria teen die Noordelike Provinsie te speel. Daar sal drie spanne vir Gauteng gekies word: ’n junior span, ’n middelspan en ’n senior span. Die junior span sal meisies uit graad agt wees, die middelspan meisies uit graad nege en tien en die senior span sal bestaan uit meisies in graad elf en matrieks.” Saartjie is dadelik vasberade om vir haar ’n plek in die middelspan los te speel. Sy móét eenvoudig vir haar provinsie speel! Juffrou Henkel vertel nou dat die drie Gautengse spanne volgende week al gekies word. Beamptes van die Gautengse Netbalvereniging sal Dinsdagmiddag by al die eerste wedstryde teenwoordig wees. Hulle sal die name neerskryf van meisies in die verskillende skole wat goed speel in hul onderskeie posisies. Hierdie name word dan voorgelê aan die keurders wat sal besluit wie in die drie Gautengse spanne teen die Noordelike Provinsie gaan speel. “Dit beteken julle sal volgende Dinsdagmiddag alles moet uithaal om vir die keurders te wys hoe goed julle is,” sê die onderwyseres en glimlag. “Onthou, dit
sal vir ons skool ’n groot eer wees as ’n hele paar van ons spelers die Gautengse spanne haal.” Die res van die oggend gee Saartjie nie eintlik aandag aan haar skoolwerk nie. Sy sit en droom. Sy sien in haar verbeelding hoe sy elke keer die bal kry en dit dan netjies deur die ring bo-aan die paal laat wip om vir haar span nog ’n punt aan te teken. Sy gooi nie een keer mis nie en word nie net vir die Gautengse middelspan gekies nie, maar sowaar ook as die kaptein aangewys. Dan droom Saartjie nog verder van die wedstryd in Pretoria teen die Noordelike Provinsie. Daar is sy natuurlik ook weer die heldin van die wedstryd, en sy gooi soveel skitterende doele dat die mense jare later nog steeds daarvan gaan praat as Saartjie se wedstryd. Dié middag oefen die meisies almal baie hard, veral Lina en Magriet. Die twee doen alles in hul vermoë, want hulle weet dit is hul laaste kans om ’n plek in die span te kry. En weer eens speel hulle omtrent ewe goed. Dit is regtig vir Saartjie ’n probleem om tussen die twee te kies. Albei meisies is nou natuurlik nog meer vasberade as vroeër om die span te haal, want hulle wil mos vir die mense van die Netbalvereniging wat die wedstryd gaan bywoon, wys hoe goed hulle is sodat hulle ’n kans kan hê om vir Gauteng gekies te word. Behalwe die probleem oor of sy vir Lina of Magriet moet kies, het Saartjie ná die oefening nog ’n ander probleem ook. Sy self speel glad nie te goed nie – nie naastenby so uitstekend soos verlede jaar nie. Sy het twintig kanse gekry om doele te skiet, maar dit was twaalf keer mis en die meeste doele was nogal vanuit maklike posisies. Saartjie besluit sy gaan die middag sommer lank by hul huis in die agterplaas oefen. Toe die meisies ná netbal met die bus huis toe ry, is Lina besonder stil. Saartjie het ook nie veel te sê nie. Die enigste een wat aanhoudend babbel, is Anna. Maar later word sy ook stil. Sy brom dat haar eie stem nou op haar senuwees werk en sit en staar dan ook maar stil by die venster uit. Die bus is al naby Lynnekom toe Lina skielik sê: “So, wat gaan jy doen, Saartjie?”
“Hoe bedoel jy, wat gaan ek doen?” “Jy weet goed wat ek bedoel. Gaan ék Dinsdagmiddag senter wees, of Magriet?” Dit is ’n direkte vraag waarop Lina duidelik ’n direkte antwoord verwag. Saartjie aarsel ’n paar oomblikke en dan sê sy: “Ek weet nog nie, Lina. Ek moet eers nog goed oor die saak dink.” “Ek weet nie waaroor jy nog moet dink nie,” sê Lina. “Ons het mos ons laaste oefening voor die wedstryd gehad. As jy ’n goeie kaptein is, behoort jy nou te weet wie’s die beste speler in daardie posisie – ek of Magriet.” “Wel, dan is ek seker nie ’n goeie kaptein nie,” sê Saartjie, “want ek weet nie wie die beste is nie.” Lina lyk vies. Saartjie en Anna was reg toe hulle gesê het sy kan soms maar ’n snaakse entjie mens wees. Saartjie oefen die middag lank met haar netbal. Sy voel verlig. Sy doel nou baie beter as vroeër by die oefening. Sy is seker as sy môre ook oefen en verder oor die naweek en dan weer Maandagmiddag, sal sy teen Dinsdag met die wedstryd net so goed soos verlede seisoen kan doele gooi. Dié aand aan die etenstafel sê mevrou Baumann laggend: “Julle het mos almal gesê ek het my verbeel toe ek vir julle gesê het die man in swart het my gevolg omdat hy wou uitvind waar ek woon omdat hy die bronsbeeldjie wou hê. Wel, hier is nou ’n brief van hom.” Sy gee die brief vir dokter Baumann en hy lees dit hardop voor vir Saartjie, Apie en Kris, wat vir ’n verandering tuis en nie by sy meisie, Isabel, eet nie. Die man skryf in die brief hy was die dag by die vendusie in swart aangetrek en hy hoop mevrou Baumann onthou hom nog. Hy het te laat daar aangekom om die beeldjie te koop. Hy het haar toe ’n aanbod daarvoor gemaak, maar sy wou dit nie verkoop nie. Hy skryf verder hy hoop sy sal hom verskoon dat hy die vermetelheid gehad het om haar te agtervolg, maar hy wou uitvind waar sy woon sodat hy haar weer ’n aanbod kan maak as sy vrou se toestand nie verbeter nie en sy die beeldjie nog
so graag wil hê. Die man sê sy vrou versamel oudhede en is bedlêend. Hy wil haar laaste jare so gelukkig moontlik maak. Sy het gehoor daardie besonderse bronsbeeldjie sou die dag by die vendusie verkoop word en hy het toe gegaan om dit vir haar te kry, maar hy was ongelukkig te laat. Sy vrou se gesondheid het intussen egter drasties versleg en die dokters sê sy gaan nie meer lank lewe nie. Die man smeek mevrou Baumann nou om die beeldjie asseblief tog aan hom te verkoop. Sy vrou wil dit so graag vir haar versameling hê. Hy is nog steeds bereid om die bedrag wat Martha Baumann daarvoor betaal het, te verdubbel. Toe dokter Baumann die brief klaar gelees het, is dit ’n paar oomblikke lank stil in die kamer. Dan sê mevrou Baumann: “Ek het geweet hy versamel nie oudhede nie, want hy’t nie daardie spesiale glans in sy oë gehad nie.” “Mamma het gesê daar was ’n wrede glans in sy oë,” herinner Saartjie haar ma, “maar die brief klink nie asof dit deur so iemand geskryf is nie.” “Miskien nie,” sê haar ma net droogweg, “maar dit het vir my gelyk asof hy ’n wrede glans in sy oë het.” “Hoe weet hy wat Ma se naam is?” wil Apie nou weet. “Wel, hy het my mos gevolg, gesien waar ek woon en toe seker by iemand hier in Lynnekom uitgevind wie hier bly.” Die Baumann-gesin is weer ’n rukkie stil, en dan vra dokter Baumann: “Wat gaan jy doen, vroutjie?” “Ek weet nie. As dit alles waar is, kry ek die vrou wat bedlêend is baie jammer. Dit moet vreeslik wees om ’n versamelaar te wees, iets bitter graag te wil hê en dit nie te kan kry nie – veral as jy weet jy gaan nie meer lank lewe nie. Ek dink ek moet op die saak ingaan.” “Miskien is dit alles leuens,” sê dokter Baumann. “Miskien is die vrou nie regtig siek of selfs ’n versamelaar van oudhede nie. Hulle is dalk twee bedrieërs wat
die beeldjie wil hê sodat hulle dit teen ’n groot wins kan verkoop.” “Ek weet die man is nie ’n versamelaar nie,” sê mevrou Baumann. “En ek sal sommer dadelik kan sien of die vrou een is of nie.” “Hoe, Mamma?” vra Saartjie laggend. “Aan die glans in haar oë?” Mevrou Baumann knik en sê sy gaan vir die bedlêende vrou kuier. As alles wat die man geskryf het waar is, sal sy die beeldjie verkoop, boonop teen dieselfde prys wat sy daarvoor betaal het. Saartjie se ma wil dit nie op haar gewete hê dat sy iemand se laaste tydjie hier op aarde ongelukkig gemaak het nie. Kris sê hy sal sy ma neem, ingeval die brief net ’n set is en die man met die wrede oë miskien moeilikheid wil maak. Dié aand lê Saartjie tot laat in haar bed en dink oor haar probleem –Lina of Magriet? As sy Lina kies, sal almal katterig wees en sê dis net omdat sy en Lina sulke groot vriendinne is. As sy Magriet kies, sal Lina weer bitter sleg voel en seker maande lank nie met haar praat nie. Dit is ’n baie moeilike besluit en die een gedagte maal oor en oor soos ’n refrein deur Saartjie se kop: Lina of Magriet... Lina of Magriet...
6
Die wedstryd
Die volgende middag ná skool vertel Saartjie se ma haar wat by die man in swart se huis gebeur het. Die brief was wel waar. “Toe ek die maer vroutjie in die groot bed sien, het ek besef sy’s ernstig siek. Ek het sommer dadelik geweet die brief het die waarheid gepraat.” “Mamma het natuurlik die glans in die tannie se oë gesien,” sê Saartjie en glimlag. “Dis reg, my kind. Ek kon duidelik sien sy is ’n ware versamelaar van oudhede.” “Wat het Mamma toe gedoen?” “Ek het die beeldjie vir haar gegee.” “Het sy daarvoor betaal?” “Nee, ek wou nie geld daarvoor hê nie – nie eens dit wat ek daarvoor betaal het nie. Maar sy en haar man het my toe oorreed om ook ’n geskenk van hulle te aanvaar. Hulle het vir my ’n pragtige porseleinbakkie gegee – ’n kosbare versamelstuk. Die bakkie is deur koningin Marie Antoinette in haar kasteel in Frankryk gebruik.” “Ek dog die man het sulke wrede oë?” vra Saartjie met ’n onskuldige uitdrukking op haar gesig. “En nou klink dit dan vir my asof hy so gaaf is.” “Hy is gaaf,” sê mevrou Baumann, “hy én sy vrou. Miskien het die lig daar by die vendusie net verkeerd op sy oë geval, en hulle toe vir my wreed laat lyk.”
“Ja, dis seker maar so, Mamma.” “Ja, seker.” Mevrou Baumann erken natuurlik nie sy het die man heeltemal verkeerd opgesom nie. Saartjie het haar trotse koppigheid by haar ma geërf. Ná Saartjie die middag weer lank oor die probleem van Lina of Magriet nagedink het, besluit sy uiteindelik wat sy gaan doen. Dit help nie om te lank oor iets te wonder en tot die einde so besluiteloos te wees nie. Saartjie is nou vasberade – sy gaan Magriet by die span insluit, en nie vir Lina nie. Sy besluit nie so omdat sy bang is die meisies sal sê sy het haar vriendin voorgetrek as sy Lina kies nie. Sy besluit ook nie so omdat die drie koshuismeisies haar vertel het hoe vreeslik dit vir Magriet sal wees as sy nie gekies word nie en hoe teleurgesteld haar ouers sal wees nie. Nee, Saartjie beoordeel die saak op meriete. Sy dink terug aan die afgelope netbaloefeninge en kom tot die gevolgtrekking dat Lina en Magriet albei skitterende senters is, maar dat Magriet tog effens beter is. Magriet speel nie so individualisties soos Lina nie. Saartjie het die gevoel dat Magriet beter as Lina by die span as ’n geheel inpas en ’n beter skakel tussen die verdedigende en aanvallende vleuel vorm. As Lina vir haar wil kwaad wees, dan moet sy maar. Dit sal ook ’n goeie toets wees om te sien of sy en Anna en Lina nog in die toekoms sulke hegte vriendinne gaan wees. Wanneer Lina hoor sy is nie gekies nie, sal sy bitter teleurgesteld wees, en dit is heeltemal natuurlik. Maar as sy so vies is dat sy haar onsportief gedra en nie meer met Saartjie wil praat en ook nie vir Magriet wil gelukwens nie, dan voel Saartjie sy en Lina kan sowaar nie meer vriende wees nie. Saartjie gaan vertel vir Anna alles van die man in swart – en ook dat sy besluit het om Magriet vir die netbalspan te kies en hoe sy oor sake met Lina voel. As Lina haar lelik opruk oor alles, sal hulle nie meer sulke groot vriendinne kan wees nie.
Anna dink ’n rukkie hieroor na en sê dan sy stem volkome met Saartjie saam. Lina is wel soms ’n moeilike entjie mens, maar as sy Saartjie se besluit nie sportief gaan aanvaar nie, voel Anna ook sy kan nie meer met Lina vriende wees nie. Die twee meisies stap na Lina se huis toe om vir haar die nuus te gaan gee en te sien hoe sy daarop reageer. Soos Saartjie sê, dit sal darem nie regverdig wees as Lina eers wanneer die span op die kennisgewingbord verskyn, agterkom sy is nie gekies nie. Die twee kry Lina in die tuin waar sy by ’n tafeltjie onder ’n boom sit en huiswerk doen. “Haai!” groet Lina vriendelik toe sy hulle gewaar. “Haai jouself,” groet hulle twee op die tipies Lynnekomse manier terug. Dan sê Saartjie laggend: “Weet jy nie dis môre Saterdag nie? Hoekom doen jy nou al jou huiswerk?” “Ag, sommer. Dan is al die aaklige goed oor en klaar.” Saartjie en Anna gaan sit by Lina en sy stoot haar boeke eenkant toe. Die Drie Muskiete gesels ’n rukkie sommer net oor koeitjies en kalfies. Dan sê Saartjie: “Ek is so opgewonde oor ons eerste netbalwedstryd. Ek wens dis al Dinsdag.” Skielik is daar ’n ongemaklike stilte. Voor Lina miskien weer kan vra of sy nou al besluit het wie die senter gaan wees, sê Saartjie: “Jy weet, Lina, ek het baie mooi oor die span se samestelling gedink.” “Ja?” Lina lyk effens bleek. “Ek het nou finaal besluit wie in Dinsdagmiddag se span gaan wees. Die name sal op die kennisgewingbord kom.” “Ek sien,” sê Lina net. “Ek het lank en ernstig oor die posisie van senter gedink. Ek moes natuurlik vergeet van die feit dat jy een van my beste vriendinne is. Ek moes kies volgens
hoe jy en Magriet gespeel het terwyl ons geoefen het en probeer uitwerk wie van julle die beste by die span sal inpas.” Lina sê niks nie. Sy kyk net met groot oë na Saartjie. Saartjie sluk. Sy vee met die agterkant van haar hand ’n krul van haar voorkop af weg en dan gaan sy aan: “Soos ek sê, ná ek baie lank oor die saak gedink het, het ek besluit daar is nie veel verskil tussen jou en Magriet se spel nie – julle is omtrent ewe goed – maar Magriet pas effens beter by die span in.” Noudat Saartjie dit gesê het, is dit so stil in die tuin dat ’n mens net die sonbesies hoor. Lina kyk stip voor haar uit. Dan sê sy skor: “Beteken dit jy’t vir Magriet gekies, so ek gaan nie speel nie?” “Ja, dis wat dit beteken,” sê Saartjie sag. Sy en Anna kyk vinnig na mekaar. Lina is bleek. Die nuus is duidelik vir haar ’n geweldige skok en teleurstelling. Maar Anna en Saartjie het dit natuurlik verwag. Hulle wonder wat haar verdere reaksie nou gaan wees. Lina kyk nog ’n rukkie so stip voor haar uit, dan trek sy haar skouers op en sê: “Wel, as dit so moet wees, dan moet dit so wees. As jy dink sy’s ’n beter speler as ek, dan kan ek niks daaraan doen nie, Saartjie.” Lina glimlag skielik en sê: “Maar ek gaan aanhou probeer om die span te haal. Magriet is mos nie vir die hele seisoen gekies nie.” “Natuurlik nie,” sê Saartjie. “Miskien speel jy in die volgende wedstryd.” “Nou hoekom lyk julle twee dan so treurig?” vra Lina en glimlag weer. “Ek het sommer toe julle hier aankom, gesien julle’t slegte nuus vir my.” “Jy gee nie om dat jy nie speel nie?” vra Anna. “Natuurlik gee ek om!” sê Lina. “Ek sou baie graag Dinsdag wou gespeel het, maar ek is nie gekies nie en dis mos die einde van die saak. Ek sal Magriet Maandagoggend gelukwens – en Dinsdagmiddag sal ek by die baan wees om vir
julle te skree, Saartjie.” Saartjie en Anna glimlag van oor tot oor. Hulle is hoog in hul skik. Lina is hul vriendin en sy sal dit vir altyd bly. Sy is glad nie so ’n verkeerde entjie mens soos hulle gedink het nie. Maandagoggend met lang pouse is die spanne soos belowe op die kennisgewingbord opgeplak en die kinders drom voor die bord saam. Almal wens Magriet geluk dat sy ’n plek in Saartjie se A-span gekry het, en Lina klop haar met ’n glimlag op die skouer. Die drie koshuismeisies wat met Saartjie oor Magriet gepraat het, kom sê vir haar dankie. Die rabbedoe is sommer kortaf met hulle. Sy verseker hulle die enigste rede hoekom sy Magriet gekies het, is dat sy op die oomblik beter as Lina by die span inpas. Saartjie het Magriet bloot op meriete gekies, en dit het niks te doen gehad met die feit dat hulle met haar kom praat het nie. Die eerste wedstryd die Dinsdagmiddag is teen ’n groot Afrikaanse skool in die suidelike voorstede – Hoërskool Handhawer. Hulle het gewoonlik sterk netbalspanne. “Ouens, ons sal ons storie moet ken as ons hulle wil wen,” sê Saartjie vir haar spanmaats voor die kennisgewingbord. Dié middag oefen Saartjie weer lank by die doelpaal in die agterplaas. Lina en Anna kom haar help. Saartjie skiet doele na die ring bo-aan die paal en dan gooi hulle twee die bal weer terug na haar toe. Saartjie is ontevrede. Sy gooi nog te veel mis. Sy moet só goed gooi dat as sy die bal in die hande kry en lostrek, almal sommer sal weet dit gaan ’n doel wees. Sy moet nooit misgooi nie. Dit is waarna sy strewe. Die volgende oggend gaan Saartjie opgewonde skool toe. Sy het haar netbalklere en tekkies in haar boeksak. Dit is ’n tuiswedstryd. Die meisies gaan net ná skool verklee en dan solank ’n bietjie litte losmaak op die baan terwyl hulle vir hul teenstanders wag. Saartjie en Anna voel jammer vir Lina. Sy gesels saam met hulle oor vanmiddag
se wedstryd teen die sterk Hoërskool Handhawer, maar hulle kan sien sy is baie afgehaal dat sy nie kan speel nie. Later sê sy: “Julle weet, my ma was vanoggend so teleurgesteld. Ek het vergeet om vir haar te sê ek het nie plek gekry in vanmiddag se span nie. Sy het my netbalklere al netjies gewas en in my kamer neergesit. Toe moes ek vir haar sê ek bring die klere nie saam skool toe nie, want ek speel nie.” “Toemaar, Lina,” sê Saartjie en druk haar vriendin se skouer bemoedigend, “ek is seker jy gaan dié seisoen nog baie wedstryde speel.” “Ek hoop so,” sê Lina net. Pouse gebeur daar iets wat die meisies in Saartjie se netbalspan ontstel. Die meisies oefen ’n bietjie en een van hul spanlede, Lanie van Wyk, spring om die bal te vang, maar sy land verkeerd op haar een voet en verstuit haar enkel. Saartjie se span wonder wat hulle gaan doen. Lanie is hul hulpdoelverdediger. Juffrou Henkel kyk na die enkel en draai dit styf met ’n verband vas. Saartjie is ook in die siekekamer. Sy is baie bekommerd. Wanneer die onderwyseres klaar is met Lanie, draai sy na Saartjie en sê: “Ek is bevrees Lanie sal nie vanmiddag kan speel nie.” “O gonna, Juffrou! Wat gaan ons nou doen?” Die meisie wat in die B-span hulpdoelverdediger is, is nie juis ’n goeie speler nie. Saartjie weet dit, en die juffrou ook. Maar dan kry Saartjie ’n blink idee. “Juffrou,” sê sy opgewonde, “weet Juffrou wie dink ek sal uitstekend wees, al het sy nog nooit in daardie posisie gespeel nie?” “Wie, Saartjie?” “Lina Rens! Sy is lank en vinnig, sy spring goed en sy vang die bal omtrent altyd raak.” “Ek dink jy’s reg, Saartjie,” sê die onderwyseres en glimlag. “Gebruik haar in
Lanie se plek.” Lina gaan sowaar ’n kans kry om te speel. Maar dan dink Saartjie weer aan iets en sê teleurgesteld: “O gonna, Juffrou.” “Wat is dit nou weer, Saartjie?” “Lina het nie haar netbalklere gebring nie. Sy sou mos nie speel nie, so toe los sy dit by die huis.” Die juffrou dink ’n paar oomblikke hieroor na en dan sê sy: “Ek het die laaste periode vry. Ek sal vir die hoof vra of ek Lina dan gou met my motor Lynnekom toe kan vat om haar klere te gaan haal. Ek is seker hy sal sy toestemming gee.” “Sjoe, dankie, Juffrou.” Saartjie is vinnig daar uit om vir Lina die goeie nuus te gaan vertel. Lina is hoog in haar skik. Sy sê nou ook sy het al baie keer op die baan gewonder het of sy nie miskien verdediger moet speel nie. Dit lyk vir haar lekker om elke slag hoog te spring en die bal uit die ander span se doel se hande te neem en haar eie span dan weer vinnig op die aanval te sit. Die laaste periode laat juffrou Henkel vir Lina roep en hulle ry om Lina se netbalklere te gaan haal. Die meisies is net mooi in die kleedkamer besig om te verklee toe die twee terugkom. Almal skerts en lag omdat hulle so opgewonde is. Juffrou Henkel sê: “Mooi speel vandag. Onthou, ons wil vanjaar die beker wen! En onthou ook – dié wat vanmiddag goed vaar, het ’n goeie kans om Saterdag vir Gauteng te speel.” “Toemaar, Juffrou,” sê Saartjie vol selfvertroue, “ons sal die Handhawers vandag laat les opsê.” Maar dit is toe nie maklik soos Saartjie gedink het om daardie sterk span op hul plek te sit nie. Hoërskool Handhawer se meisies val sommer uit die staanspoor kwaai aan. Binne ’n paar minute het hul hoofdoel die bal. Sy mik en die bal trek netjies deur
die doelring. Handhawer is voor met 1 – 0. Die besoekers is dadelik weer op die aanval. Kort voor lank het hulle nog ’n paar doele, en die telling is nou 6 – 0 in hul guns. Die toeskouers langs die kantlyn is teleurgesteld, maar skree hard om Saamwerk se meisies aan te moedig. Toe Saartjie vooraan haar span op die baan gedraf het, het sy twee vreemde vrouens gesien wat by juffrou Henkel staan en gesels. Dit is seker die Netbalvereniging se twee verteenwoordigers. Saartjie sien hulle sit nou op stoele langs die baan. Gonna, dink sy, soos ek en my span vandag speel, sal nie een van ons name eens aan die keurkomitee voorgelê word nie. Lina pas nie dadelik goed in die nuwe posisie aan nie en die Handhawers se hulpdoel kry ’n hele paar kanse om punte aan te teken. Nog vier doele is geslaagd. Maar Lina begin nou daaraan gewoond raak om verdediger te speel en haal alles uit. Sy spring al beter en hoër en neem die bal een keer feitlik uit Handhawer se lang hulpdoel se hande. Lina skiet die bal met ’n vinnige, kort aangee na die vleuel, wat dit vir Magriet op senter gooi. Magriet gee ’n lang aangee na Saartjie wat in die doelkring is en uitstekend raakvang. Sy mik na die doelring en gooi – maar dis mis, al was sy in so ’n maklike posisie. Handhawer loop met tien doele teenoor nul voor. En dit is ook met rustyd die telling. In die tweede helfte kom Saartjie en haar span baie beter op stryk. Lina speel nou haar hart uit en die Handhawer-meisies kan die bal glad nie verby haar by hul doele kry nie. Die spel is net ’n paar minute aan die gang toe Saartjie die bal weer in die doelkring kry. Sy is in ’n moeilike posisie en die toeskouers is doodstil toe sy na die ring bo-aan die paal mik. Almal hou asem op. Saartjie trek los. Die bal trek met ’n sierlike boog deur die lug en dit is in! Handhawer is nou met tien doele teen een voor.
Dis nie lank nie, of die bal word danksy Magriet se pragtige spel op senter afgevat, en Saartjie kry weer besit daarvan. Sy waag weer ’n doelgooi en dit is weer in. Saartjie se span speel skielik ’n barshou danksy drie sterre – Lina op hulpdoelverdediger, Magriet op senter en Saartjie op hulpdoel. Kort voor lank is die twee spanne gelykop. Lina verdedig pragtig. Handhawer se meisies kan eenvoudig net nie verby haar kom nie. En as sy die bal by hulle afgeneem het, skiet sy dit vinnig na Magriet, wat dit op haar beurt aangee tot dit by Saartjie kom, wat die een doel na die ander gooi. Feitlik elke keer wat sy kans kry om na die ring aan die doelpaal te mik, is dit ’n kolskoot, en die hoofdoel teken ook ’n hele paar doele aan. Toe die eindfluitjie blaas, is die telling 22 – 10 in Saamwerk se guns. “Mooi gespeel, meisies!” sê juffrou Henkel en sy glimlag van oor tot oor. Die toeskouers wens Saartjie-hulle geluk. Almal is in hul noppies met die span se vertoning, almal behalwe die Handhawer-meisies natuurlik. Hulle glimlag en wens Saamwerk se span geluk met hul stewige oorwinning, maar lyk nogtans ’n bietjie bekaf. Handhawer het so goed begin dat hulle gedink het hulle gaan sommer maklik wen, maar toe kry hulle sowaar ’n pak slae. Die twee dames van die Netbalvereniging wens Saartjie se span ook geluk. Saartjie glimlag vriendelik en vra dan of sy nie gou vir die dames ’n koppie tee kan gaan maak nie. Saartjie voel dit maak mos ’n goeie indruk. Sy hoop van harte hulle gaan haar naam aan die keurders voorlê! Maar ongelukkig het die dames nie tyd om tee te drink nie. Hulle moet nog twee ander wedstryde by ander skole gaan bywoon. Saartjie ontmoet ook Magriet se ouers. Hulle is baie gaaf en Saartjie is seker daarvan hulle sou glad nie so teleurgesteld gewees het soos daardie drie koshuismeisies voorgegee het as Magriet nie die span gehaal het nie. Maar alles het toe uiteindelik goed afgeloop. Lina en Magriet het mos albei gespeel – en al twee het besonder goed gevaar. Al het almal Saartjie gelukgewens, voel sy self tog nie tevrede met haar
vertoning nie. Sy het die bal vyftien keer deur die doelring gegooi, maar sy het altesaam twintig kanse gehad. Vyf doele was mis – en daarvan hou Saartjie net mooi niks nie. Die bal moes ál twintig keer deur die doelring gegly het! In die bus babbel en gesels die Drie Musiekte onophoudelik. “Ek sê vir julle,” sê Anna, “as julle aanhou speel soos vandag, wen julle sowaar vanjaar die beker.” Saartjie en Lina stem saam. Hulle dink ook hulle het ’n goeie kans om dit vanjaar te verower. “Ons moet net nie soos speel soos in vandag se wedstryd se eerste helfte nie,” sê Saartjie laggend. “Dit was vreeslik. Ons kon niks reg doen nie.” “Ek was so ongemaklik in daardie verdedigingsposisie,” sê Lina, “dat ek eers nie mooi geweet het waar ek was nie. Maar gelukkig het dit later reggekom.” “Dit het sommer honderd persent reggekom,” sê Saartjie laggend. “As jy so aanhou speel, hoef jy nooit weer bang te wees jy sal nie plek in die span kry nie.” “Maar wat van Lanie?” vra Lina. “Dit sal ten minste ’n paar weke vat voor haar enkel regkom,” sê Saartjie, “en dan sal sy na die B-span toe moet gaan. Soos jy vandag gespeel het, sal arme Lanie jou nie uit die span kan lig nie.” Lina glimlag. Sy is baie tevrede met haar spel. Sy glo ook sy sal die hele seisoen vir die span as hulpdoelverdediger kan speel – en sy hou nou meer van hierdie posisie as dié van senter. Magriet kan met plesier maar aanhou senter speel. Die drie vriendinne gesels oor die wedstryd in Pretoria tussen Gauteng en die Noordelike Provinsie. Hulle wonder wanneer hulle sal hoor wie vir die span gekies is. “Seker môre of op die laatste oormôre,” sê Saartjie. “Onthou, die wedstryd is Saterdagoggend. Dit is vandag al Dinsdag. Hulle moet die meisies wat gekies is betyds laat weet sodat hulle alles kan regkry.”
Anna en Lina dink die keurders sal vanaand al, wanneer hulle al die name van die meisies wat vandag goed gespeel het voor hulle het, besluit wie om vir die drie spanne te kies. “Ek wed julle, môre hoor julle ouens julle speel al twee vir Gauteng,” sê Anna, “en onthou net, ek gaan Saterdag saam Pretoria toe.” Saartjie en Lina voel albei ’n rilling van opwinding langs hul ruggrate by die gedagte dat hulle moontlik gekies gaan word, maar hulle bly beskeie. “Aag, mens weet nooit nie,” sê Saartjie. “Miskien is daar ander meisies wat baie beter as ons is,” voeg Lina by. “Toemaar, julle sal sien,” hou Anna vol. “Wag maar tot môre.” Maar die volgende dag hoor hulle niks nie. Die meisies gaan vra die oggend kort-kort vir Ou Henkie of sy nog nie iets gehoor het nie. Sy skud net elke keer haar kop. Sy sê later hulle moenie so ongeduldig wees nie. Sy sal hulle laat weet sodra sy nuus kry. Maar dit lyk vir die meisies asof die juffrou ook ongeduldig is, want sy sê meer as een keer: “Snaaks dat hulle my nog nie gebel het nie. Hulle moes darem nou al die spanne gekies het.” Daar is die hele Woensdag by die skool nog geen nuus nie. Laat die middag blaai Saartjie stadig deur haar pa se koerant, maar daar is ook niks oor die drie Gautengse spanne wat Saterdag teen die Noordelike Provinsie netbal gaan speel nie. Toe Apie uitvind hoekom Saartjie so bekommerd lyk en so doelloos deur die huis en die tuin dwaal terwyl sy wag vir nuus van juffrou Henkel af, koggel hy sy suster en sê die keurders sal simpel wees as hulle haar kies om vir Gauteng te speel. Saartjie vererg haar en gaan sit alleen in haar kamer. Hierdie gewag maak haar senuwees gedaan. Vroeg die volgende oggend wag die meisies juffrou Henkel voor die personeelkamer in. Toe sy opdaag, dam hulle haar dadelik by: “Môre, Juffrou! Het Juffrou nog niks gehoor nie?”
“Nog niks nie,” sê sy en lyk bekommerd. Die meisies raak stil. Hulle lyk almal teleurgesteld. Dan sê Saartjie: “Beteken dit miskien nie een van ons is vir die span gekies nie, Juffrou?” “Ek weet nie,” sê die onderwyseres. “Miskien is dit die geval. Maar as ons skool nie eens een speler in die drie spanne het nie, dan moet daar darem ongelooflike goeie spelers in die ander skole wees, hoor!” Juffrou Henkel belowe weer dat sy die meisies sal laat weet sodra sy iets hoor – en daarmee moet hulle maar tevrede wees. Die oggend sleep maar traag verby vir die netbalspelers. Dit is nou al die periode net voor lang pouse en hulle het nog steeds niks van juffrou Henkel gehoor nie – natuurlik omdat sy self ook nog niks weet nie. Saartjie voel mismoedig. Sy is nou oortuig die keurders het nie eens een enkele speler van Hoërskool Saamwerk gekies nie. Dit is die Engelse periode en die kinders mag nie ’n woord Afrikaans praat nie, selfs al gesels hulle ook met mekaar. Anna sit langs Saartjie en Lina sit net voor hulle. Saartjie sê mismoedig vir die twee: “It looks like we’ve had it.” Hulle weet wat Saartjie bedoel. Hulle knik hul koppe om te wys hulle stem saam. Lina en Anna dink ook “they’ve had it”. Nie een speler uit hul skool is vir die Gautengse spanne gekies nie – hulle is nou oortuig daarvan. Skielik bulder Galpil, wat heel agter in die klas sit: “Miss, de red light’s on!” Teen die muur bokant die klaskamer se deur is daar ’n toestel met ’n rooi liggie. Elke klas in die skool het so een. Dit is deel van die interkomstelsel waarmee die hoof vanuit sy kantoor met ’n klas of die hele skool kan praat. As die rooi liggie aan is, weet die leerders en die onderwyser die hoof gaan nou iets sê. Die kinders sit doodstil en dan kom die hoof se stem oor die luidspreker: “Ek praat nou met die hele skool. Juffrou Henkel het my gevra om af te kondig dat al die netbalspelers pouse in die saal moet vergader. Sy het iets belangriks om aan hulle mee te deel.”
Saartjie se hart klop vinnig en haar oë is groot. Sy onthou darem dat sy in die Engelse klas is en sê pittig: “This is it, guys, this is it!” En Saartjie is heeltemal reg. Pouse word die meisies doodstil in die saal toe juffrou Henkel op die verhoog gaan staan. Almal weet sy het intussen gehoor wie vir die Gautengse spanne gekies is. “Ek wed julle ouens julle het dit al twee gemaak,” sê Anna vir Saartjie en Lina. Die twee antwoord nie. Hulle sit en hou net styf duim vas. Anna doen presies dieselfde. Juffrou Henkel glimlag en sê dan: “Meisies, ’n groot eer het ons skool te beurt geval. Ses van ons netbalspelers is gekies om Saterdag vir Gauteng teen die Noordelike Provinsie te speel. Ek verneem Saamwerk is die skool met die meeste verteenwoordigers in die Gautengse spanne.” Die meisies klap hande en juig. Almal is hoog in hul noppies oor hierdie groot eer, maar hulle brand van nuuskierigheid om te weet wie die gelukkige ses is. “Vir die senior span,” gaan die juffrou voort en ’n mens kan nou ’n speld in die saal hoor val, “is twee van ons spelers gekies. Hulle is Wilma Viljoen en Shona Smith.” Wilma en Shona is albei matriekmeisies en baie gewilde prefekte. Hulle word hard toegejuig en die kinders wat naby Wilma en Shona sit, klop die twee nou hard op die rug en wens hulle geluk. Juffrou Henkel hou haar hand in die lug vir stilte en die kinders bedaar dadelik weer. “Nou,” mompel Saartjie. “Nou kom dit.” Maar dit kom nie. Om die een of ander rede gaan juffrou Henkel van die senior span na die juniors toe. Sy laat die middelspan eers uit. Daar is een speler, ’n graadaggie, vir die junior span gekies. Almal juig en wens die meisie geluk.
Saartjie se kop werk vinnig. Daar is twee meisies vir die senior span gekies en een vir die junior span – maar ’n totaal van ses meisies van hulle skool gaan vir Gauteng speel. Dit beteken drie van die meisies kom uit haar span! Saartjie se oë glinster. Sy vee met die agterkant van haar hand ’n weerbarstige krul van haar voorkop af weg. Sy moet tog sekerlik een van die drie wees. “Vir die middelspan,” sê juffrou Henkel nou, “het ons ’n rekord behaal deur drie verteenwoordigers in die span te kry. Lina Rens is gekies as hulpdoelverdediger, Magriet Roux as senter en Saartjie Baumann as hulpdoel.” Hierdie aankondiging word met geweldige toejuiging begroet. Almal het geweet hoe moeilik dit vir Saartjie was om tussen Magriet en Lina te kies – en hier is albei nou sowaar in die Gautengse span. Saartjie het die span natuurlik ook gehaal, maar almal het dit verwag. “Wat het ek julle gesê?” sê Anna opgewonde en klop Saartjie en Lina hard op die rug. “Daar is nog iets wat ek wil sê,” kondig die onderwyseres laggend aan en die lawaai en gebabbel bedaar. “Nog ’n groot eer wat ons skool te beurt geval het, is die volgende...” Die meisies sit gespanne en wag dat Ou Henkie hulle moet vertel wat hierdie verdere eer is. Die juffrou glimlag en laat hulle ’n oomblik so gespanne sit. Dan sê sy: “Die besonderse eer is dat die middelspan se kaptein een van ons spelers is, naamlik Saartjie Baumann!” Die seuns buite op die speelterrein wonder wat in die saal aangaan dat die meisies so opgewonde is. Hulle skree en juig so hard dat ’n mens hulle wie weet waar kan hoor. Almal drom nou om Saartjie saam om haar hard op die rug te klop of haar ’n drukkie te gee om haar geluk te wens. Saartjie sê net glimlaggend: “Dankie... dankie...” Sy probeer maak asof sy gewoond is aan so iets – asof sy van die begin af geweet het sy sal nie net gekies word nie, maar boonop ook die kaptein wees. Hierdie Donderdag is ’n onvergeetlike dag in Saartjie se lewe. Toe die seuns en die paar meisies wat nie in die saal was nie die nuus hoor, wens hulle almal haar
ook hartlik geluk. Sy sê later laggend vir Anna en Lina haar hand en skouers is seer van al die geskud en geklop. Galpil en sy vriende staan ook nader om Saartjie geluk te wens. Galpil sê net kort en bondig: “Geluk, ou perd.” Ja-nee, dit is ’n wonderlike dag vir Saartjie, maar Saterdag gaan selfs nog meer opwindend wees. Saartjie wys dié dag haar gelyke as doelgooier is seker nêrens in ons hele land te vinde nie. Sy speel skitterend en is duidelik ’n gebore kaptein. Die meisies van die ander skole wat in die span speel, ken haar nie, maar dit maak nie saak nie. Hulle leer haar in die bus op pad Pretoria toe ken en hou dadelik baie van haar. Sy spreek hulle in die kleedkamer toe en daarna hou hulle nog meer van haar. Hulle sal hierdie Saartjie Baumann deur dik en dun volg. Toe hulle op die baan draf met Saartjie vooraan, is haar span so besiel dat hulle voel niks kan hulle vandag keer om te wen nie. En dit is ook wat gebeur. Niks kan hulle keer nie. Die Gautengse meisies speel skitterend en Saartjie bly aan die voorpunt. Dit is net die een doel ná die ander en die Noordelike Provinsie se spelers is later moeg en moedeloos. Hulle het nog nooit ’n span soos hierdie een van Saartjie teëgekom nie. Die Gautengers speel vinnig en pragtig saam, hulle hanteer die bal behendig en het ’n hulpdoel wat nie een keer misgooi nie. Ja, nie een enkele keer nie, Al vyf-en-veertig Saartjie se doelgooie was kolskote. Dit is hoekom die koerante foto’s van haar in aksie plaas en almal so ’n bohaai oor haar en die wedstryd maak. Een koerant sê selfs hulle dink Saartjie het ’n wêreldrekord aangeteken. Gauteng klop die Noordelike Provinsie 45 – 0 en Saartjie was vir al vyf-enveertig doele verantwoordelik! Ja-nee, hierdie wedstryd tussen Gauteng en Noordelike Provinsie is inderdaad Saartjie se wedstryd.
Saartjie geniet die bohaai oor haar skitterende spel geweldig, al maak sy asof sy haar nie juis daaraan steur nie. Sy sê die hele tyd nederig: “Aag, dit was sommer niks. Ek was maar net gelukkig.” Die ander meisies stem natuurlik glad nie saam nie. Niemand behalwe Saartjie sou dit kon regkry nie. Die enigste mens wat met Saartjie saamstem dat haar prestasie “sommer niks” is nie en dat enigeen dit kan regkry, is natuurlik haar boetie, Apie. Hy mompel dat netbal ’n simpel spul is en dat sy suster glad nie so watwonders is nie. Maar Saartjie steur haar niks hieraan nie. Sy weet mos sy het haarself bewys en ’n droomwedstryd gespeel.
Die einde
Uitgegee in 2008 deur Human & Rousseau, ’n druknaam van NB-Uitgewers, Heerengracht 40, Kaapstad
Kopiereg © 2008 NB-Uitgewers
Oorspronklik uitgegee as Saartjie se wedstryd (Afrikaanse Pers-Boekhandel, 1958)
Derde uitgawe, eerste druk
Alle regte voorbehou Geen gedeelte van hierdie boek mag sonder die skriftelike verlof van die uitgewer gereproduseer of in enige vorm of deur enige elektroniese of meganiese middel weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, skyf- of bandopname, of deur enige ander stelsel vir inligtingsbewaring of -ontsluiting
ISBN: 978-0-7981-4790-3 EPUB: 978-0-7981-5405-5