Die sneeuslaper
Marlene van Niekerk
Human & Rousseau
Die swanefluisteraar
’n Intreerede
Geagte Rektor, Dekaan, kollegas, vriende en familie,*
Wat doseer ’n mens as jy ’n dosent is van Skeppende Skryfkunde? Gaan dit oor die ware, oor die goeie of oor die skone? Betref dit kritiek of fantasie of geloof? Wat is die nut van die letterkunde, die waarde daarvan op die groot doek van menslike inspanninge? En miskien moet ek vra: Is ’n verhaal iets wat ’n mens kan troos? Ek wil nie voorgee dat ek op hierdie vrae die antwoorde het nie. Wat ek met u wil deel vanaand, is ’n ervaring waardeur hierdie soort vraag vir my ontersaaklik geword het. Dit betref ’n briefwisseling wat ek met ’n student gehad het – ek noem hom Kasper Olwagen – of liewer, ’n korrespondensie wat hy met my gehad het, want ek het nooit teruggeskryf nie. Miskien, het ek gedink, sal hierdie hele episode vir my duidelik word as ek die volgorde van my student se vreemde posstukke en my reaksies daarop noukeurig rekonstrueer; meer nog, as ek dit doen voor ’n kritiese gehoor. Die uurglas loop leeg, oordeel self. Ek lê die bewyse aan u voor.[1]
Die eerste stuk wat ek van Kasper in my posbus gekry het, was ’n brief, as ’n mens dit ’n brief kan noem. Sewe-en-sestig bladsye. Ek lees vir u die eerste paragraaf sodat u ’n idee kan kry van waarmee ek te doene gehad het.
Bed B Saal 1002 Intensiewe Sorgeenheid Academisch Medisch Centrum Amsterdam
24 Februarie 2002
Beste professor Van Niekerk
Soos u kan aflei uit die adres, skryf ek aan u vanuit ’n situasie van persoonlike krisis. Lyntjiespapier, lekkende balpunt, infuus in my handrug, kateter in my lelie. Ek weet seker dat so ’n brief, na al die jare wat u my gortdroë manuskripte moes lees, die laaste ding is wat u van my verwag. Ek weet ook dat u u skryfstudente by voorkeur op ’n afstand hou, omdat u in elk geval voortdurend hulle saai en kwalik verhulde ontboeseminge moet lees. Nie dat u ooit in al die jare van my studie so iets van my hoef te gevrees het nie, maar die uur van waarheid (tempus fugit!) het nou aangebreek. Ek ken u goed genoeg om te weet dat ek u nie sal verveel met wat ek op die hart het nie. Maar, soos u altyd sê, geen begeerte sonder tegniek, alle waarheid moet gebring word. Daarom sal ek – so goed en so sleg as wat hierdie genre van spontane mededeling genaamd “brief” dit toelaat – die vermanings in gedagte hou wat u altyd in u weerhaakskrif op my manuskripte neergepen het. Cut to the chase, Kasper! Maak korter sinne, Olwagen! Suggereer, moenie interpreteer nie, stick to the knitting, oriënteer jou leser in tyd en ruimte, lieg, maar moenie bedrieg nie! Teen laasgenoemde, teen ’n aanklag van bedrog, wil ek my by voorbaat verweer. Hoewel ek pas drie dae gelede bygekom het uit wat die verpleegkundiges hier as ’n “lallende delirium” beskryf, en nog steeds vir waarneming in die intensiewe sorgeenheid gehou word, het ek konkrete bewyse dat ek nie gedroom het wat met
my gebeur het nie. Ek is in die besit van die jas, die skoene, miskien die tong van iemand anders, maar laat ek u nie op die verkeerde spoor bring nie. Ek verseker u dat ek tans nie die energie het om wolhaarstories te fabriseer nie.Trouens, as my wedervaringe in Amsterdam van enige nut was, dan was dit om my te genees van my ambisie om fiksie te skryf. Hiermee gee ek dan ook kennis: ek staak die kursus. Jammer oor u kosbare tyd. Maar mag ek voorstel dat u hierdie skrywe sien as ’n vorm van skadevergoeding? Dit sal my naamlik nie verbaas as u my relaas wil aanwend vir die een of ander van u duistere doeleindes nie.
*
Kasper Olwagen – so sal ek hom noem – was dertig jaar oud toe hy hierdie brief geskryf het, reeds afgestudeer in die filosofie. ’n Skraal, bleek vent met intense oë, ’n hoë voorkop, ’n gevoelige mond. Goed versorg, sy hande veral, ’n huid gevoelig vir son en koue. Daar was iets tentatiefs aan sy bewegings, sy neusvleuels was die hele tyd in beweging asof hy die lug op die ligste sweme takseer. Hy het die indruk gewek van breekbaarheid. Sy bynaam onder sy klasmaats was Meneer Xenos. Hy was intelligent, obsessief, menssku, ’n boekwurm wat effens gelispel het wanneer hy senuagtig of opgewonde was. Daar was iets ouwêrelds aan sy manier. Vir afsprake het hy ’n onderbaadjie gedra, ’n donkerrooi strikdas, sy vulpen in die binnesak van sy baadjie. Ek onthou hoe hy dit altyd uitgehaal het om ’n nota te maak in sy klein swart boekie, talmend, asof hy eers aan sy hart wou raak. Op my aanbeveling het Meneer Xenos in die jaar 2001/2002 tydens die plaaslike somerreses drie maande lank in die buite-land deurgebring. Ek het toevallig gehoor van ’n beurs van die Stichting Literaire Activiteiten Moederstad – moederstad synde Amsterdam – ’n beurs en ’n woning beskikbaar vir ’n jong ongepubliseerde skrywer uit Suid-Afrika. Ek het gedink dis net die ding vir hierdie kandidaat. Blootstelling aan ’n stimulerende omgewing, en, daarby, druk van sy Nederlandse gashere om iets tot stand te bring. Druk van my kant af het in ieder geval geblyk volledig teenproduktief te wees. Hy was naamlik een van die studente wat maar steeds nie sy skryfprojek vir die MA-kursus kon voltooi nie, gehinder soos hy was deur langdurige skryfblokkasies. Ek het geraai dat dit ’n kwessie was van oorgevoeligheid vir kritiek, vervreemdheid van sy
leeftydsgroep, verwarring oor die Suid-Afrikaanse werklikheid, perfeksionisme, ipekonders. Hy het gely aan wat hy genoem het ’n “murmurende hart” – eerder onderdrukte libido, het ek destyds vermoed. Maar na wat met hom gebeur het, lyk my projeksies misplaas. Met hom was daar iets gaande wat buite my bevattingsvermoë lê. Die dag toe ek die brief gekry het, het ek net hierdie eerste twee paragrawe gelees en dit opsy gesit. Ek self het toe nog fiksie geskryf, was in die laaste pylvak met ’n roman, die voorfinale hersiening, rondom my die gebruiklike chaos van daardie stadium in die skryfproses – bevrore maaltye van Nice and Easy, ongewaste skottelgoed, ’n muis in die kombuis, eekhorings op die plafon, ’n oorwoekerde tuin, inflammasie in my pols van die ander muis – ek het eenvoudig nie die nut daarvan gesien om verder tyd te bestee aan ’n probleemstudent wat wil staak nie. Waarom het ek hom nie probeer oortuig om sy besluit te heroorweeg nie? Wel, ek was moeg van sukkel met Kasper Olwagen. In die vyf jaar dat hy ingeskryf was, het hy sy werk altyd laat ingelewer, oorgedetailleerde stukke, vol inligting en toeligting waarin absoluut niks gebeur het nie. “Gebruiksaanwysings!” het ek altyd op sy werk geskryf, “Skrap onnodige besonderhede.” Sy ander probleem was diepsinnigheid. Dikwels het hy die kernvraag van die etiek behandel: Wat is ’n goeie mens, hoe moet ’n goeie mens lewe? Maar dan altyd in die vorm van onverteerbare allegorieë. By elkeen van sy moralistiese sinnebeelde het ek in die kantlyn geskryf: “Skrap die idees.” Hy kon maar steeds nie ’n verhaalmatige versoening vind tussen besonderhede en betekenis nie. Kasper Olwagen is ’n filosoof, het ek gedink, nie ’n skrywer nie. Maar goed, hier was dan nou ’n brief uit Amsterdam, met ’n eerste paragraaf wat popel van aptytwekkers. Hoekom het ek nie verder gelees nie? Wel, ek was besig. Ek het ’n kaartjie in die pos gegooi: “Spoedige beterskap, dankie vir jou vermaaklike brief, ek teken jou af by die istrasie. Vriendelike groete.” Twee weke later het die brief weer onder ’n stapel papiere te voorskyn gekom, en ek het gedink, laat ek liewer hierdie dokument op lêer bewaar, mens weet nooit. En dis toe ek gate daarin pons dat my oog val op die volgende paragraaf. Ek was geïrriteer daardeur, sulke vrypostigheid vind ek onaanvaarbaar van ’n student. Luister net hierna.
Professor, ek verstaan nog nie alles wat met my gebeur het in hierdie stad nie; trouens, dit is nog steeds aan die gebeur. Ek is verbysterd soos ek hier in my hospitaalbed lê, en ek glo dat u ook verbysterd sal wees wanneer u aan die einde van hierdie brief kom, selfs al is u werksaam aan ’n institusie van hoër onderwys waar daar vir verbystering, vir vrees en fassinasie, vir ootmoed en ontsag as menslike moontlikhede, geen ruimte meer bestaan nie. Oor ’n maand keer ek terug na Suid-Afrika. By wie anders as u sou ek kon bieg oor die voorgevoel wat ek het oor my lot? Soos u weet, is ek ’n alleenloper. Alleenloper! Hoe twyfelagtig is hierdie begrip nie! Niemand is alleen nie, ’n onsigbare lint verbind ons almal en dit is net ’n kwessie van tyd voordat ons teenoor mekaar te staan kom en vra: maar ken ek jou nie van iewers vandaan nie? Toegegee, my verhouding tot u skyn daar geensins ’n voorbeeld van nie, professor. Maar mag ek tog sê dat ek u, in weerwil van u voorskriftelikheid en u afsydigheid, nog altyd as ’n soort moeder ervaar het, al loop u nie eintlik oor van die melk van medemenslikheid nie? Dit daar gelaat. Nie al u studente voel oor u soos ek nie, kan ek u verseker. Maar laat ek tot die punt kom.
Punt, watter punt, het ek gedink en verder geblaai. Drie geskrapte bladsye, elke reël versigtig deurgestreep sodat ’n mens nog alles kon lees. Toe lees ek dit natuurlik. ’n Allernoukeurigste beskrywing van die woonplek in Amsterdam wat ek vir hom help bemiddel het. Gebruiksaanwysings, het ek gedink. Ek gee net die essensie.
’n Skrywersparadys was dit. Selfs hier waar ek in die waakeenheid lê, in die sorg van Nederlandse verpleegpersoneel, kan ek my dit nog helder voorstel. Sou ek dit nog terugvind, met al my goed, soos wat ek dit agtergelaat het, skynbaar ’n ewigheid gelede? ’n Woonstel op die vierde verdieping, vlak by die Amsterdamse hawe aan die bopunt van die Geldersekade. Drie dubbele ruitjiesvensters in die woonkamer. Ou dik glas, effens verkleur, vol lugborreltjies en kwinte. Na die noordekant, ’n uitsig op die sewentiende-eeuse gewelwerk van die kade. Aan die oostekant, die eertydse dokke, waar twee heldergeel hyskrane gedurig boumateriaal aan die hys en neerlaat was. Met my verkyker (neem altyd ’n verkyker saam, het u gesê) kon ek op die kraanmaste die naam Liebherr uitmaak. Daar was twee werktafels, soos u my laat spesifiseer het op die aansoekvorm, een vir prosa teen die muur waar die rekenaar gestaan het en een
vir pöesie voor die venster. Daar was twee slaapkamers, ’n klein kajuit op die onderste verdieping, met ’n uitsig op die agterkant van die Sint Nicolaaskerk, en ’n grote op die boonste verdieping. Maar ek kon geen woord geskryf kry nie.
Dit was die bekende Olwagen-refrein. Ek het die lêer se penne deur die ponsgate in die brief gewrik, die klem vasgeklik. Na alle tromgeroffel in die openingsparagraaf, niks buitengewoons nie, ’n ruimtebeskrywing. En verbysterd? Waaroor sou hy verbysterd wees? Seker oor die enorme onverdiende voorreg om gratis en verniet drie maande lank in so ’n plek te woon. En dan kry hy homself opgeneem in die waakeenheid, welseker nie as gevolg van tremendum et fascinans nie maar as gevolg van niksdoen. Ek was kwaad, al die vorms en getuigskrifte en spesiale woordjies by my kollegas in Amsterdam om hierdie student ’n kans te gee, en dan gaan verspil hy dit. Ek het die pas geliasseerde brief van Kasper Olwagen uit die lêer geruk en dit in ’n laai geprop by die verkeersboetes, rekeninge en aanmanings. Agt maande later, terwyl ek besig was om die vertaling van my roman te hersien, het ek ’n kennisgewing van die poskantoor gekry dat daar ’n pakkie vir my aangekom het. Plaaslik, het ek op die strokie gesien. Kon nie dringend wees nie. Kasper, het ek geweet, was ondertussen terug in die land, die universiteitsistrasie het my laat weet dat hy in den lywe kom deregistreer het. Ek het gewonder wat van hom geword het, maar waarom sou ek my verder bemoei met Meneer Xenos? Hy het nie eens die ordentlikheid gehad om my te kom groet, homself te verantwoord nie. Ek het die pakkie eers afgehaal ’n week nadat die derde en finale kennisgewing gekom het. Ek onthou die dag toe ek dit gaan haal het in Die Boord se poskantoor. My pakkette, meestal van die uitgewers, is altyd professioneel verpak, met gedrukte adresbiljette. Nie hierdie een nie. Dit was toegedraai in bruinpapier, vasgebind met ’n vierkwartslag wit goiingtou en ’n klont rooi lak op die strik agter. Ek het die vulpenskrif dadelik herken. Ek het geswets. Toe ek dit oopmaak in die kombuis, het daar ’n klomp klankkassette om my voete neergekletter. Sestien TDK-kassette van sestig minute lank. En verder, ja, niks minder nie as die dummy van my toe reeds verskene roman. Ek het dit as gelukbringer aan Kasper gegee, die dag van sy vertrek na Amsterdam. ’n Handige wit modelboek, stewig gebind, tweehonderd-en-vyftig bladsye, die maksimum aantal bladsye vir ’n roman. Voorin het ek geskryf: “Aan Kasper, vir jou ingewings, vir die briewe wat die gode in die strate laat val.” Raar het hy my aangekyk nadat hy daardie inskripsie gelees
het, sy hand hier op sy hart, sy neusvleuels in beweging, asof ek hom iets met ’n klankie aan in die hand gestop het. Daar was ’n nota in die pakkie:
Beste professor Van Niekerk. Die hart bewaar sy verdriet, hier soos in Amsterdam. Ek sluit vir u ’n paar monsters in. Miskien vind u dit vermaaklik om te sien wat van u spookboek geword het, nogal gepas, vind ek; ek noem dit Die logboek van ’n swanefluisteraar (sien my brief vroeër vanjaar uit die universiteitshospitaal). Die inhoud van die geluidsbande behoort u nog meer vermaaklik te vind. Dit stel nog minder voor. Alle besonderhede is geskrap, alle idees is geskrap. Vaarwel aan die wêreld van wil en voorstelling. Vriendelike groete. Kasper.
Ek het die kassette onder my voete weggeskop op die kombuisvloer, die nota weer gelees. Swanefluisteraar? Wat in vadersnaam was ’n swanefluisteraar? Van ’n perdefluisteraar het ek al gehoor, maar ’n swanefluisteraar? Ek het kennelik nie genoeg gelees van Kasper se godvergete brief nie. Ek het die res van die bruinpapier afgeruk, my modelboek oopgemaak. Goed die helfte daarvan was volgeskryf. Ek moes my bril gaan haal, dit was klein geskryf in Olwagen se kenmerkende vulpenskrif, ellelange tabelle, kolomme met hofies: plek, tyd, en handeling,’n strikte chronologie van datums in die rye, 11 Desember 2001 tot 15 Januarie 2002. Onder “plek” was meestal ingeskryf die een of ander brug in die gragtegordel, en onder “handeling” telkens ’n paar kriptiese aantekeninge; dit het gelyk na beskrywings van ’n okkulte gedoe. Ek het die boek saamgebring, ek lees vir u ’n paar tipiese inskrywings: 11 Desember: “Brug Prinsengracht, Utrechtsestraat. Swanefluisteraar: houding besonder gedrae vandag, supplikasie met geprewel, met opgehewe hande, touleer tot aan die water, drie swane van onder die brug,” of “Brug Lauriergracht. Swanefluisteraar slaan sy oë op na die swerk, skud jas uit oor die water, murmureer onafgebroke, een swaan van onder die brug.” Tot vervelens toe: brug, gebare en swane; gebare, prewelinge, swane en brug, dieselfde frases oor en oor. Die kassette was iets anders, duidelik uit ’n onlangser periode. Hulle was gemerk
van 1 tot 16 met datums vanaf 5 Maart tot 17 Mei 2002. Ek het hulle van die vloer af opgetel en in ’n plastieksak van Woolworths gegooi. My kassetspeler was stukkend; ek kon my in ieder geval voorstel wat dit sou wees. Name van grassoorte, gesteentes, insekte. Alfabeties ingelees uit naslaanwerke. Dis soos ek Meneer Vreemdeling geken het. Dit was dan die inhoud van posstuk twee. En daar sit ek toe met my fopdosboek en die Woolworths-sak en die deurgeknipte wit goiingtou met die rooi lak in my hande. Die Olwagen mock-up van my boek was in ieder geval vir my genoeg om daardie laai waarin ek sy brief gestop het, te gaan ooptrek. Laaifluisteraar, het ek gemor, want dit wou nie oop nie, so vol rommel was dit. Die brief was heeltemal verfrommel en ek moes dit bladsy vir bladsy glad stryk voordat ek dit kon lees.
Geagte toehoorders, dis tyd vir Kasper se verhaal. Laat ek u dus vir die helderheid nog ’n keer oriënteer. Stel u voor, ’n jong man uit die swaanlose suide, ’n vreemdeling in ’n wêreldstad, ’n sukkelende skrywer, alleen, angstig, neuroties. Hy stort ineen, soos mens kan verwag. Daar lê hy in ’n vreemde hospitaal, sy tong voel dik, sy hande bewe van die medisyne wat hulle hom gee, en hy skryf vir sy dosent ’n brief oor wat kamtig met hom gebeur het. Reine fantasie? Verbloeming van die ware toedrag? Verhulde belydenis? Verfraaiing van sy eie mislukking? Maskering van sy vrese en verlangens? Watter een van hierdie dit ook al is, hy handig ’n logboek in, ’n bewysstuk wat die werklikheidsgehalte van sy verhaal moet ondersteun. Kom ons laat hom die verhoog opstel:
Dit was, professor, soos hulle hier sê, in die tyd van de donkere dagen voor de Kerst. Ek het weke lank niks anders as gebakte boontjies uit blikkies geëet nie, snags het ek nie bed toe gegaan nie, maar op die rooi rusbank voor die televisie aan die slaap geraak. Ek het nie meer uitgegaan nie. Oggende lank het ek voor die ruitjiesvenster gestaan en my kop heen en weer beweeg sodat die kade, die dokke, die straatverkeer telkens in ander verwringings aan my moes verskyn. Dan het ek geblaas op die glas, en woorde in die wasem geskryf. Skuld, boete, skade, skande. Die groot swart klokke in my toring. Die rede waarom ek nooit iets kon skryf nie. Één keer het ek geskryf: skoonheid, asem, lied – en begin huil.
Toe op ’n oggend ontwaak ek soos ’n prins in die mis. ’n Groot nagtelike mis vasgevries aan die iepe soos in ’n sprokie. Pure kantwerk in die bome weerskante van die kade. Ek het op die ruit geblaas en in die asemdamp ’n versreël geskryf wat ek iewers vandaan onthou het: “Miskien was my fluistering voor my lippe gebore.” Professor, ons is daar om aan te roep, het u altyd gesê, om op te roep, te voorskyn te roep. Waarom, as die les beliggaam word, is die meester nie by die leerling nie? Want toe ek die reël doodvee met my vingerpunt, toe staan hy opeens daar, geraam in my asemstolsel, aan die oorkant van die kade in ’n portiek, ’n man met spierwit hare en ’n sak in sy hand, en hy stap vorentoe en gaan leun oor die brugreling. Het hy iets in die water laat val? Hy het oor die reling beduie, in die rigting van die brugopening tussen kade en hawe, sy bondel langs hom op die grond. Ek het my verkyker ingestel. Hy was laat veertigs, vyftig, verrinneweer, ’n boemelaar. Die donse het uit sy jas gepeul. Sy lippe het beweeg. Ek het gekyk na waar hy kyk, na die rimpellose water onder die brugboog. Wat sou hy daar sien? Hy het regop gekom, steeds prewelend, sy hande in die lug, soos ’n dirigent voor die inval. En toe gee hy die eerste pols. En daar, van onder die brug, swem twee swane op hom af, majestueus, met getoonde nekke, asof hulle aan hom behoort. Dit was asof ek vir die eerste keer gesien het wat ’n swaan is: pluimedos van melkwit glas, ’n nek geblaas in ’n droom van vuur, ’n vaas wat vaar, dig aan sy weerkaatsing vas, ’n tweeling gemasker, bors aan bors gebind in ’n dans, ’n donker musiek in die webbe. Die swaneroeper het sy bondel losgeknoop, en ja, lees maar, daar staan presies net wat daar staan, professor, ’n touleer uitgehaal waarmee hy homself neergelaat het tot op die dek van ’n seilbootjie wat daar vasgemeer was teen die kade. ’n God in die wieg van die witbevrore môre. Op sy maag, met sy hande uitgestrek oor die water, het hy die voëls aangehaal, hulle kwaste kwispelend, hulle koppe digby syne. Orfeus aan die oewer. Dat ek met my vinger in my skamel asem skryf, een reël van ’n vergete digter, en dat dit oorspring van raam tot wal en ’n swanefluisteraar oplewer? Van sulke toeval is die hart verruk.
*
Val u daarvoor? Ék het nie. Ek kon raai wat volgende gebeur. En ek was reg. Kasper raak in die ban van die sogenaamde swanefluisteraar, overgesetsynde hy val vir sy eie fantasie oor die swanefluisteraar, en ’n storie word vir ons gebore. Hy volg hom elke dag deur die stad en word by elke brug die getuie van die boemelaar se sogenaamde swaneritueel. Die man lig sy hande soos ’n priester, hy prewel iets, ’n magiese spreuk of formule, die swane kom asof geroep, onder die brug vandaan, en die swanemeester klim langs sy touleer af en befluister hulle. En dan volg ’n asie wat ek tog nie kan nalaat om vir u te lees nie. My korrespondent skryf:
Hier kan ek u hoor dink, professor. U dink: Só gaan dit nie interessant word nie, Kasper. Jou storie bevat: 1. ’n Skrywer met skrywersblok. 2. ’n Verkyker. 3. ’n Wanaangepaste swerwer met ’n swaanfiksasie. Dit is nie genoeg materiaal nie, hier ruik mens gelykenis, jy sal jou karakters betrokke moet laat raak by mekaar, want daar is niks soos verhoudings tussen mense om sinnebeelde te kelder nie. Ek weet, beste prof, dat u, gegee u beperkinge, nie hierdie brief sal kan lees as ’n kreet van geestelike nood nie. U sal dit takseer as ’n stuk skryfwerk en klaar. Wel, gelukkig val skryf en lewe in hierdie brief volledig saam, want betrokke raak is presies wat met my gebeur het, sommer die volgende dag al, toe ek die man weer aan die oorkant van die kade gewaar. Ek het na buite gegaan en agter hom aan teen die touleer afgeklim tot op die bootjie. Wat was dit wat ek aan hom geruik het? ’n Geur van kompos? Ek het langs hom op my maag op die dek gaan lê. Die leergierige vakleerling. Sou u nie dieselfde gedoen het nie? Sou u nie probeer agterkom het wat hy daar vir die swane fluister nie? Kon dit dalk ’n teksvers wees, geskryf op die sinklyn van hulle flanke, runes van die swanediepte?
Met of sonder teksvers, geagte toehoorders, van hier af gaan die storie op loop. Kasper neem die swerwer huis toe, ja, Kasper gee die swerwer kos. ’n Jong, menssku Suid-Afrikaanse man, ’n verfynde neuroot wat bang is vir kieme, bied losies aan ’n smerige wanaangepaste vreemdeling. En in hierdie verhaal bly dit nie by losies nie, dit word verpleging. Want hierdie swanefluisteraar was nie gesond nie. En meer nog – Kasper die filosoof druk dit sy leser op die hart – hierdie pasiënt van hom was ’n onbeskrewe blad. Watter held wil nou ’n welsprekende sieke versorg? Kasper se swerwer was ’n swyger. Die man kon nie of wou nie praat nie. Sy blik was leeg en afgestomp. Hy was willoos en ief. Hy het nie eens geweet hoe om ’n badkamer te gebruik nie. Hier is die verloop:
Ek het sy smoeselige jas en die voos hemp en broek uitgetrek. Hy het geen onderklere aangehad nie, en geen sokkies onder sy stewels nie. Ek het geskrik. Hy was erg maer. Daar was ’n bruin aanpaksel om sy enkels en polse en nek. Regoor sy lyf was ’n kors waaraan rafels van sy klere vasgesit het. Saam met sy liggaamshare het dit ’n kompakte silwerige skilferlaag gevorm. Was dit die rede vir sy vreemde reuk? ’n Laag verrotte huid? In sy mik was die hare ’n dik saamgekoekte mat. Daarin was sy geslag klein weggekrompe. Sy okselhare was lank en wit. Sy toonnaels en vingernaels was uitgegroei en sleg geskeur. Ek het die paar afwashandskoene in die kombuislaai aangetrek en hom in die stortkabine op ’n bankie laat sit. Ek het sy lyf eers goed afgespons, hom toe met dettolseep ingeseep, en versigtig met ’n sagte lap begin was. Waarom het dit na ’n oortreding gevoel om die man te probeer skoon kry? Kan u dit vir my verduidelik, professor? U wat hierdie dinge so goed verstaan? Waarom het so ’n verdriet my oorval terwyl ek besig was om hierdie verrinneweerde mens te was? Ek was dankbaar oor die stoom en die water waarin my trane ongemerk vermeng kon raak. Wie was ek eintlik hier aan die was? En hoe sou ek moes volvoer wat ek hier begin het? Ek het hom opgehelp, my voorkop teen sy bors gedruk om hom regop te hou, terwyl ek hom met my lyf as stut omgedraai het in die storthok. Ek was dodelik bang, daar onder die douche, om hom van sy skil te ontdoen. Maar by die lig wat ek gehad het, sou dit dodeliker wees om nie te probeer nie, dodeliker vir hom, en nog meer dodelik vir my, begryp u?
Ek was deurnat in my klere en die badkamer was vaal van die stoom. In die spieël het ek ’n glimp opgevang van ons skimmige gestaltes, hy met sy hand op my skouer wat ek daar geplaas het ten einde sy boarm af te skrop. Het ek verlang daarna dat hy met die aanreik van ’n ledemaat of ’n verplasing van sy gewig sou aandui dat hy wil saamwerk, dat hy my wil help om hom te help? Ek het geskrik vir die effek van my ablusies. Waar die kors afgekom het, was sy vel teer, met om die midrif en op die flanke rooi opgehewe kolle, iets wat na omloop gelyk het. Of was dit gordelroos? ’n Woekerende ekseem? Psoriase? Daar was skurwe plekke aan sy arms en bene, en op ander plekke het sy vel gekneus gelyk met persrooi vlekke van onderhuidse bloeding; daar was gebarste aartjies, en riwwe waaruit etter gewel het, ’n paar slegte oop sere op sy boude en blaaie. Het ziet er niet zo best uit, het ek gesê, maar maakt u zich geen zorgen, wij komen er wel uit.
*
En wat doen Kasper vervolgens in sy sprokie, kollegas? Hy gaan koop salwe en balsems en olies by die apteek. Hy gaan na die Hema en koop nuwe wit klere, ’n nuwe jas en skoene en die voedsaamste bestanddele vir die bereiding van invalidemaaltye. En hier moet ek tog ’n opmerklike vonds noem: Kasper skryf hoe hy sy twee werktafels, die een van mymering, en die ander van wetenskap, die poësietafel en die prosatafel, teenaan mekaar stoot, dit bedek met wit handdoeke, sy leeslamp daarby opstel soos ’n teaterlig, en die swanefluisteraar nakend daarop lêmaak en hom van kop tot toon begin dokter, drie maal per dag, veertien dae agtermekaar. Ek kon nie verder lees nie. Dit was dan die derde keer dat ek die brief weggepak het. Dié keer het ek dit, saam met die wit domboek, by my lesmateriaal gebêre, want ek het begin dink dat ek dit kon gebruik om aan my ander studente die probleme van magiese realisme te verduidelik. Nie dat ek dit ooit gedoen het nie, ek was besig met ander dinge. My roman was klaar vertaal, die vertaling nagesien en goedgekeur.
Daar was ’n klein verposing in my skryfverpligtinge en ek het besluit om my huis ’n groot opruimbeurt te gee, te laat verf en te laat snoei, die eekhorings van die plafon af te kry, ’n val te stel vir die muis, my gewrig te laat herstel. En toe, omtrent ’n maand later, die opruimbeurt in volle gang, die brief so te sê vergete, die mimiekboek verder ongelees, die kassette onbeluister, kry ek die derde besending, ’n eienaardige dik koevert in my posbus. Daar staan ek tussen die verwers in hulle wit oorpakke van Wonder Wall en ek skeur die koevert oop. En toe is dit sand. ’n Bakhandvol spierwit sand wat op my skoene uitval. Ek onthou ek het teruggetree en lank na my twee swart spore op die plaveisel staan en kyk. Ek het die werksmense huis toe gestuur vir die dag. Wie anders sou vir my ’n koevert vol sand stuur as Kasper Olwagen? Ek het agterop gekyk: geen afsender, alleen ’n krabbel, met iets wat gelyk het soos ’n stokkie houtskool, die naam Dwarsrivier. Waarom Dwarsrivier? ’n Allegoriese grap? Miskien sou sy brief, wat ek in al die tyd nooit tot aan die einde gelees het nie, ’n leidraad inhou? Miskien moes ek die logboek deegliker bekyk? En dan was daar nog die onbeluisterde kassette in die Woolworths-sak in die besemkas. Ek het al Kasper se besendings bymekaar gekry op die kombuistafel. Eerste het ek die brief weer opgeneem, dit vanaf bladsy twintig, waar ek die vorige keer opgehou het, gelees. Ek som die storie vir u op. Na ’n maand se huidbehandelings was die swerwer se vel gesond, sy hare geknip, sy reuk aangenaam menslik. Maar dit was nie genoeg nie. Kasper se obsessie was om die swanefluisteraar aan die praat te kry. Want hy was jaloers op hom, jaloers op sy kuns van kommunikasie met die “voëls van die doderyk”, soos hy dit stel. Snags het hy by die slapende swerwer gewaak met sy logboek ingeval die man in sy slaap sou praat, maar al wat hy gehoor het, was die getik van die verwarmer, die geruis van die reën teen die venster, die slae van die Sint Nicolaaskerk se klok. Kasper kon die man se swye nie hanteer nie. As hy hom net eers sover kon kry om sy mond oop te maak, al was dit om aan tafel te sê, ek haal aan: “Mag ek die sout kry, asseblief”, sou hy hom kon begin uitvra oor sy swaansjarmeerdery. Die sout vra, dames en here? Ek moes glimlag, hierdie storie van Kasper het tog
nie met sulke realisme gewerk nie. Ek het toenemend die gevoel gekry dat my student besig was met ’n argument, dat hy ’n saak aan die opbou was. Want die dinge wat hy gedoen het om die man tot spreke te probeer bring, het geklink na ’n program, na ’n lydensweg met stasies, en hierdie brief was aan my gerig, aan die studentefluisteraar, as u wil. Maar ek het nooit geantwoord nie. Dis die eerste keer dat ek nou daaroor praat. Laat ek my bepaal by die storie. Hoe het Meneer Weldoener sy verdoolde gas aan die praat probeer kry? Eers het hy hom ure lank voor die televisie sitgemaak, hom probeer uitlok met beelde van gebreekte knieë in Kenia, die terreur van die lang messe in Zimbabwe, die treurende ysbere van die noordpool, die smeulende bome van die Amasone; toe dit nie werk nie, het hy hom deur die dakluik laat klim op helder nagte en vir hom die swaan en die lier uitgewys in die sterre, die trane van Orfeus in die weste; en toe dit geen effek het nie, het hy vir hom elke romantiese swanesang voorgespeel waarop hy sy hande kon lê in die biblioteek, Grieg, Sibelius, Tsjaikowski. Alles tevergeefs. Nóg die verskrikkinge van ons eie tyd, nóg die ewige signatuur van die transe, nóg die gedateerde melodieë van die Romantiek, nóg ’n glas Boergondiese wyn, niks kon hierdie boemelaar se tong losmaak nie. Kasper skryf hier, hy het oorweeg om hom na ’n psigiater te neem, of na ’n oor-, neus- en keelspesialis. Een oggend het hy self die mond ondersoek van die swanefluisteraar, om daar alleen ’n gesonde ligrooi tong aan te tref, die klepel stewig aan die riem geheg, soos hy skryf. Hy vervolg:
Ek het tot agter in sy keel gelig met die flits. Soos twee kleiner klokkies het die mangels in die huig gehang. Met die punt van my voorvinger het ek teen sy verhemelte gestryk. Die riwwe daarvan het my laat dink aan ’n harp.
Maar die harpe wou nie klink nie, in ieder geval nie in Kasper se skryfwerk nie. Wat hy geskryf het, was rye en kolomme, opnames en registrasies, hooguit in telegramstyl, ’n haas patologiese skryf-blokkasie, soveel was ten minste vir my duidelik uit die logboek. By 5 Januarie 2003 staan daar die volgende inskrywing in volsinne, die enigste blyk van selfrefleksie.
Swannyboy staan al weer doodstil agter my stoel waar ek probeer skryf, reeds ure lank, asof hy toesig hou oor my, ek maak of ek nie van hom weet nie maar ek luister, wat is dit wat ek hoor? Alleen die gedruis van die stad? Die sibilante van sy bloed? Of my bloed? Hy weet nie dat ek sy weerkaatsing kan sien in die glas van die prent teen die muur nie, ek kan sien sy lippe roer, en ek roer my pen oor die papier so goed ek kan, sinchroon met wat ek raai hy sê. Waaraan laat my pen my dink? Aan die grafietstafie in ’n weerstasie wat alle vogte en winde en wolkbewegings registreer en aanteken op ’n rol grafiekpapier.
En dan, kollegas, volg rye en rye klankkombinasies, die fonologiese patrone van Afrikaans. Sommige woordbeelde toon invloed van die Khoi-tale. Spak, grak, spal, malk, olk, skolk, en dan mrie !krie krakadouw. Sommige van hulle was lukraak bymekaar gevoeg en gerangskik in wat ek alleen maar kan noem klanklimerieke. Transkripsies van wat Kasper skynbaar gedink het die swanefluisteraar sê, of gedroom het of versin het dat hy sê, swanefluisteringe dus. En hoe klink swanetaal?
Rie mrie, rapuu, kriep, !tewiek, miruu, tohoe wa bohoe, askla mor usa, pierok griemok sklahoe.
Hoewel ek ’n liefhebber is van onsinverse, van nonsenspoësie soos die Engelse sê, en daar dikwels meer plesier aan beleef as aan die aanstellerige verhewenheid van sê “Groot Ode” van Van Wyk Louw, het ek tog nou regtig nie lus gehad om vir die gek gehou te word deur ’n psigoties geworde eksstudent met ’n moederkompleks nie. Ek het die boek toegeklap.
Kyk, professor, ’n doofstom skisofreen kan my meer van die skryfkuns leer as u! En dan bladsye vol koggelryme. Ek moes seker kon geweet het dit was nie onskuldig nie. Sowat ’n jaar later het ek die frase “tohoe wa bohoe” teëgekom in ’n boek oor die Pentateug. Dit is Hebreeus vir die woes en die leeg uit Genesis. Dit laat ek mits dese in u midde. Ek weet nou nog nie wat ek daarvan moet maak nie. Maar iets val my nou hier by wat ek, nou ja, wat iemand in my beroep liewer wil vergeet, maar wat miskien verhelderend kan wees.
Dit betref ’n voorval uit die tyd toe Kasper nog ’n ingeskrewe student was, die enigste keer dat hy my ooit durf teenspreek het. Ek het hom laat kom vir terugvoer oor sy nuutste skryfpoging. Ek wou dit vinnig afhandel. Hy het nog skaars gesit toe begin ek. Los die metafisika, Kasper, het ek gesê, los die idees, skryf wat die lesers wil hê, ’n vrugtige sepie oor jou tuisdorp, ’n verhaal oor ongewenste inkommers, bendegeweld, hondegevegte, struikrowers, smokkelhuise, selfgelukwensing, owerspel, braaivleis, familiewrok, Maggie Laubser en dweepsug. Dan noem jy dit Die verdriet van Ritselrivier. Kasper se oë was fel, sy stem was hoog toe hy begin terugpraat. En dan seker met ’n selfbalsemende gemeentelike skrywer as verteller? Die dae van gemoedelike lokale realisme is verby, vir geval u dit nie weet nie, het hy gesê, selfs al is dit opgetof met metafiksionele truuks. As ek eendag prosa sou skryf, sou dit blote straatverslae wees, sypaadjieantropologie, opgeteken vanuit ’n koelbewoë perspektief. Skoon en droog. Ek het klein borreltjies spoeg in sy mondhoeke gesien. Sy hand was onder sy baadjie in, maar hy het nie sy pen uitgehaal nie. Fiksie, het hy voortgegaan, met sy tong wat swaarder sleep as gewoonlik, fiksie kan ons nie meer troos nie. Die verskrikkinge van ons vaderland ontneem die verhalende verbeelding haar wil, haar wilskrag. Mens kan niks meer uitdink nie. Brutaliste moet ons daarom word, feiteversamelaars, nie meer storievertellers nie, eerder argivarisse van die onvoorstelbare brutaliteite van die land. Daaruit sal die leser vir sigself vrees en medelye, selfs vermaak en lering wen.
Nouja, dit was die eerste keer dat ek gedink het ek leer iets van ’n student. Ek het hom nie uitgevra oor sy standpunt nie, ek wou nie toegee dat ek beïndruk was nie. Om die waarheid te sê, ek was jaloers op wat ek herken het as die invalshoek vir ’n nuwe literêre beweging in die Afrikaanse letterkunde, wat tog so vasgeval was in avontuur en selfportret. Meneer, dit spyt my, het ek gesê, maar ek dink jy is skynheilig braaf, as ek jou so bekyk, dan sien ek nie ’n brutalis nie, ek sien ’n esteet. Ek sien nie lyste halssnoerverbrandings, kinderverkragtings, bejaardemoorde, gewapende roofvoorvalle by jou nie, ek kry lyste fauna en flora, blouknietjiesgras, smalhartjiesgras, dronkgras, pronkgras, klokkieskweek. Moet jy nie liewer sing soos jy gebek is nie? Jy lees Adorno se estetiese teorieë, ek sien nie dat jy ’n kritiese analise of ’n smaak vir satiriese of agiterende protes het met betrekking tot jou vaderland nie. Ek kyk na jou bewende neusvleuels en jou hand op jou hart en ek sien iemand wat oorweldig voel, swak voel, bang voel, alleen voel, nie iemand wat kans sou sien om ’n sestien reëls lange doodsvonnis oor homself uit te roep nie, soos wat die soseer deur jou bewonderde Osip Mandelstam gedoen het in sy gedig oor almal se geliefde Onkel Stalin. Of soos wat Breytenbach gedoen het in sy gedig vir die slagter nie. Soos wat geen digter dit vandag sal waag oor Robert Mugabe nie. Jy het ’n lui tong, Olwagen. Jy is ’n simptoom van wat aangaan met progressiewe intellektuele in hierdie land. Polities korrekte pose aan die een kant en ontvlugtingsgedrag aan die ander kant. Get a life, sou ek sê. Hy het my bly aankyk met daardie brandende blik van hom, maar ek het nie teruggekyk nie, ek het nie tyd vir dié soort gedrag by studente nie. Wees eerlik, het ek gesê, hoe wil jy vandag in hierdie land ’n sypaadjieantropoloog op enigsins interessante sypaadjies wees sonder ’n gewapende lyfwag aan jou sy? En toe ek geen reaksie kry nie: Jou soort is voëlvry verklaar in hierdie land, het ek gesê, daar is altyd iemand wat ’n strikdas nodig het by ’n varkslagtery. Ek het opgestaan daar agter my lessenaar. Hy moes my mooi verstaan. Ek wou geen ruimte laat vir misverstand nie. Meneer Olwagen, het ek gesê, wil jy weet wat ek sien as ek na jou kyk? Ek sien iemand wat homself wil verban na die grammadoelas, ja, sommer heeltemal
anderkant die buiteveld nog, alwaar hy in die skone natuur ’n argitek van die verhewigde oomblik wil wees, ’n beeldhouer in die amber van woorde. Jy wil ’n mensdier word in jou taal, soos wat ’n muskeljaatkat homself is in die ruigte. Alte fraai, hoor. Ek sien jou dictum, dit staan geskryf regoor jou imposante voorkop: Die enigste subversiewe daad wat oorgebly het in ’n vervlakte gebrutaliseerde samelewing is die kultivering van die intieme ongerief van die liriek. Waar of onwaar? Of sou jy jou escapistiese verlangens anders formuleer? Ek kon sien dat hy dit moeilik gehad het. Maar eerlik, watter dosent het nog nooit ’n student ontstel nie? Nie dat mens dit so bedoel nie, maar mens kan niks daaraan doen as ’n leerling jou as verpletterend ervaar nie. Hoe dit ook al sy, dis nie hoe ’n leraar behoort op te tree nie. Ek het na die tyd by ’n kollega te rade gegaan oor die voorval en hy het my daaraan herinner dat Kasper ’n kliënt is van ’n korporatiewe instansie, en dat ek hom voortaan as niks meer en as niks minder as dit moet behandel nie. Ek was sy kennisvennoot. As hy nie sy kursus wou voltooi nie, moes ek hom los, dis al, dis sy keuse, solank hy betaal vir dienste gelewer.
*
Waar was ek? Ek is die draad kwyt. O ja, ek was by die onsin, by die onsingedigte wat Olwagen opgeskryf het in die koggelboek. Tohoe wa bohoe. Die woes en die leeg.
Ek was by die derde posstuk, die sand in die koevert. Dwarsrivier. Ek het my atlas uitgehaal en inderdaad, daar was dit, geen allegoriese naam nie, werklik Dwarsrivier in die Sederberge, ’n plaas wat aan die Nieuwoudt-clan behoort, naaste poskantoor Clanwilliam. Ek het die skoppie en besem gevat en na buite gegaan en die sand van die tuinpad af gaan opvee en dit weer in die koevert gegooi. Vir die doeleindes van hierdie lesing het ek dit vir u hier in hierdie sandloper gesit. U verstaan die situasie. Kasper se brief uit die hospitaal was niks minder nie as ’n gebruiksaanwysing. Elke keer moes ek na hierdie brief terugkeer ten einde sin
te maak van sy daaropvolgende pakkies. Was ek gestrik in die wraakplan van ’n verontregte? Of was ek gevang deur ’n sterk verhaal? U sien, ek het die hele storie van die swanefluisteraar nog steeds nie geglo nie. U kyk my aan? U vra op watter punt sou ’n mens begin dink dat so ’n storie hoegenaamd die waarheid kon wees? Dat Kasper niks versin het nie? Dat die hele swaanbefluisteringsgedoe alles woord vir woord presies so gebeur het? Daar het ek by my kombuistafel gesit en die een na die ander koppie koffie gedrink terwyl ek Kasper se digbeskrewe bladsye omgeblaai het. Daar was ’n tandetrekkery op bladsy vyftig. Miskien had die man las van sy gebit, skryf Kasper, miskien was dit waarom hy nie wou praat nie. En toe vat hy sy loseerder na die tandarts, waar dieselfde dag nog drie tande getrek is en etlike stopsels toegedien is. En dan volg die gedeelte van die brief waar ek begin dink het dat my student inderdaad iets heel geks meegemaak het. Onwaarskynlike dinge gebeur, soos ons almal weet, veel eerder in die werklikheid as in stories.
In die nag ná die dag van die tandetrekkery, op 20 Januarie, het ek wakker geword van ’n trek in my nek. Die swanefluisteraar was voor die oop venster in sy slaapklere, sy arms in die lug. Ek het agter sy rug teen die trap afgesluip na buite. Op die grag voor my woning was daar, glo dit as u wil, nie een of twee nie, maar tientalle swane, honderde van hulle, die hele Geldersekade vol, kopspelend, kwispelend – die nekke buigend, strekkend, krommend, ’n soort skrif waarvan die wit kursiewe begin dans het in die swart ink van die grag. Van onder die brug het hulle aangeswem gekom, uit die Oosterdok het hulle aangeswerm, die lug lewend van die woergeluid van vlerke. Met hulle lang nekke in remstand het hulle klappend en spattend tussen die ander in geland. Verbysterend was dit, die steeds voller wordende vergadering van stingelende nekke, die vlerkpluime koninklik opgeset in ’n massale nagtelike pronk, die hele kadewater in beroering onder die blou ligte van die hyskrane van Liebherr. So moet dit gelyk het toe die gode die swane bymekaargejaag het om die slee van Orfeus te trek.
Professor, vra hy my hier tussen hakies, wat is tog die Afrikaans vir “a drift of swans”? ’n Drifsel, ’n swade, ’n drom? ’n Smagting, ’n sonde, ’n skande van swane?
Ek het nie weer teruggegaan na die woonstel daardie nag nie, skryf hy, ek het rondgedool in die stad, te verstom oor die swanespektakel, al my twyfels, al my voorbehoude oor hierdie swerwer summier uitgewis. Hy was ’n genie. Outisties miskien, op die manier van Rain Man, maar ’n genie. Het u dit ooit gesien? Die film met Dustin Hoffman in die hoofrol? Ek moes ’n ander houding teenoor hom vind. Maar wat moes dit wees? As vakleerling kon hy my nie aanneem nie. Ook nie as skribent van sy fluisteringe nie. En nee, ek het verstaan ek was ook nie sy redder of sy tolk nie. En ook nie sy minnaar nie, al sou dit ’n mooi einde gewees het vir my verhaal. Teen sesuur daardie oggend, moeg en koud en honger, het ek uiteindelik geweet wat ek moes doen. Waarom het dit my so lank gevat om dit te verstaan? Ek moes teruggaan na die woonstel en die ketel aansit. Om kwart voor sewe moes ek aan sy deur klop, die gordyne ooptrek en hom wakker skud aan sy skouer soos wat ek elke oggend van die verbye twee en ’n half maande gedoen het. Ek moes langs sy bed op die stoel gaan sit en in die slaperige stilte saam met hom koffie drink, terwyl ons luister hoe die stad ontwaak, die skuur van treinwiele op die spore, die toeter in die Oosterdok wat die werkdag aankondig. So moes ons daar sit, terwyl die oggendgloor die kamer vul en ’n enkele mossie in die dakgeut begin tjilp, wagtend op die stadsklokke om seweuur te slaan, altyd eerste die Oude Kerk op die Walle, en dan, na twee slae, die Zuiderkerk en dan pas die nabye galme uit die Sint Nicolaaskerk, waarvan die donker rugvinne stadig voor ons oë ingeteken word deur die lig. En dan sou ek oor my gesig voel of ek moet skeer, en uit die hoek van my oog gewaar dat hy dit ook doen, met ’n nouliks hoorbare raspergeluid. En dit alles, het ek geweet, sou ek daardie oggend vir die eerste keer kon doen sonder wroeging, omdat ek verstaan het dat ek na alles, en ten spyte van die vreemde vermoëns waaroor hy beskik het, gewoon sy vriend geword het, hierdie sonderlinge man se vriend, professor, is dit te veel gevra?
Wel geagte toehoorders, ek kan nie van u verwag dat u na die aanhoor van slegs enkele uittreksels uit hierdie brief my ontroering by hierdie asie moet deel nie. Daar aan my kombuistafel het ek toe sonder twyfel geweet hierdie storie is waar. Waar en skrynend. Want toe Kasper daardie oggend met sy nuut verworwe insig aankom in die woonstel was dit te laat: sy vriend was weg, skoonveldweg, touleer en al. En nog is dit het einde niet. Bladsy drie en sestig.
Verslae was hy, skryf Kasper, volledig verslae en ontdaan. Net toe hy uiteindelik verstaan het wat belangrik was aan die swanefluisteraar – nie sy Orfiese kunste nie, maar sy doodgewone lyflike teenwoordigheid as ’n huismaat – toe verdwyn hy. Weg, spoorloos weg. Dae aaneen soek Kasper na hom, die ganse swaneroete langs. Al die nagskuilings loop hy na, by al die welsynsverenigings doen hy navraag. Elke Daklose Krant-verkoper vra hy: Heeft u een man gezien met wit haar en een touwladder? Die hele stad strooi hy vol biljette met die opskrif: Vriend Vermist. En so, in die soektog na sy vriend, word Kasper self ’n swerwer. Dag en nag, in wind en reën, loop hy rond in die verslete jas, in die stewels van die swanefluisteraar. En hier kom dan pragtige beskrywings van Amsterdam, die weerkaatsings, die gewels, die iepe, die trams, altyd met die gedagte: ek soek nie meer na inspirasie of skrywerlike vervulling nie, ek soek na my vriend, en elke straathoek en elke weerkaatsing en elke brug spreek van my gemis. Kasper skryf, en hier dans die engele, hier word Olwagen na my mening ’n skrywer, hoe hy by elke brug waar hy die swane-fluisteraar vroeër gewaar het, getalm het en met sy hande in die lug geprewel het: Wat het ek misdaan dat ek my makker moes verloor? En dat as hierby swane verskyn het, dit bysaak was. Ek lees vir u die laaste bladsy.
Eenkeer het ek my verbeel ek sien hom, die wit kop van iemand voor my op ’n drukke sypaadjie en skielik het die gevoel my beetgepak dat ek nie moes uitroep en hom agternahardloop nie, dat as hy sou omkyk en my sien, ek verlore sou wees. Ek het die gevoel gekry dat ek self reeds lankal agtervolg word, en wel deur iemand wat dink dat hy of sy my herken. Ek het agtergekom dat ek een is van ’n stoet, ’n stille prosessie van soekers en vermistes in die stad, almal van ons aan die pols gebind aan dieselfde eindelose swart lint, almal mense wat dink dat hulle ’n weggeloopte, ’n eens verdwene persoon dalk gevind het, en bang is om dié hoop kenbaar te maak, bang om teleurgestel te word, en liewer meeloop in die troos van ’n gemeenskap van gelykgestemdes, die troos dat mens nie alleen is nie, maar dat jy behoort tot die onverbreeklikste broederskap op aarde, naamlik die broederskap van agtergeblewenes, die gemeenskap van oorlewendes, van nagelatenes.
En so, geagte toehoorders, eindig Kasper dan by die begin, in die portiek oorkant sy eie woning waar hy sy fluisteraar die eerste keer gesien het. Van honger en uitputting raak hy daar aan die slaap by ’n graad of twee onder vriespunt. Hy val in ’n koma. Die stadspolisie pik hom op en lewer hom by die hospitaal af, soos hy dit stel: Sonder naam, sonder papiere, net met my storie en my behoefte om dit te vertel aan die één persoon op aarde wat dit sou verstaan. Toe daar na nog twee maande geen vreemde pakkies meer aangekom het nie, het ek ’n nuwe kassetspeler gaan koop en Kasper se kassette ingepak en na die Sederberge gereis. Hoe dieper ek die berge in is, vanaf die Gydopas almaardeur rigting Clanwilliam, hoe meer het ek die gevoel gekry ek is op die regte spoor. Die plaas Dwarsrivier het ek maklik gevind, ek het afgepak by ’n kampeerplek met die naam Sanddrif. Die sand in Kasper se koevert was presies dieselfde as wat ek daar langs die rivier gekry het. Snags in my tent het ek die bandjies beluister, drie-en-vyftig onderskeibare voordragte. Ek het tot die slotsom gekom dat dit gedigte was, opgeneem heel digby lopende water, of in die mond van waaiende gras, asof Kasper vir sy stem ’n soort pedaalpunt wou voorsien, nie ’n forse baspedaal soos hy hoor in die orrelwerke van Bach nie, maar ritselend, kabbelend asof die tyd ’n instrument is waarop gras en water speel met transparante vingers. Met my kassetspeler het ek hele dae lank langs die rivier op en af geloop tot ek gekry het wat ek gesoek het, ’n spesifieke mineur murmeling van water oor ’n klipplaat by ’n kleinerige maalgat, en verder ’n staning riet met wit kwaste wat op ’n syerige manier geritsel het soos Chinese simbale. Dit was die bygeruise wat Kasper gekies het om sy stem te maskeer. Bleek, oorgevoelige Kasper, hoe koud sou hy nie in die winters kry in daardie barre klowe, by daardie donker stroom nie? Daar waar hy hom gebuig het na die wind, na die water met sy lied? Sou hy sy strikdas opgehang het aan ’n riet? Sy onderbaadjie aan ’n alewee, sy vulpen leeggeskud het in die sand? Hoe ek ook al luister – en dames en here, ek luister nou nog, ek sal nooit ophou luister nie – ek kan die woorde van die gedigte nie uitmaak nie. As dit woorde is, bygesê. Wat ek duidelik kan hoor, is die stewige inset van die tema, en dan die teenbeweging daarvan effens gevarieer in klinkers en die medeklinkers, gestut en opgebou deur herhalings en refreine, manjifieke edifiese van klank. Ek kan die ritmes uitmaak, die ritmewisselinge, die lengte en kadens van die reëls, hulle omkerings en verlengings en verrykings, die klimakse, die verlangsamings en die versnellings. Ook die toon en die gevoel van elke voordrag, soms elegies en gedrae, soms uitbundig, dikwels skrynend ekstaties, altyd met ’n sangerige
kwaliteit. Die argument van die klanke kan ek agterhaal, of liewer die navorsing wat via klanke gevoer word, die soeke na ontwikkelings- of variasiemoontlikhede vir die hooftema, maar nie die betekenis nie. My werk, weet ek, is vir my uitgemeet vir die res van my lewe. Ek is die eintlike dummy, sien, die mock-up professor, en die liewe here weet wie skryf in my. Iemand het my ’n tong aangesit. My verdiende loon, sou ek sê, as dit my vermiste student is, of sy vermiste vriend. Maar ek sal nie opgee nie, dis genoeg dat daar twee mense spoorloos verdwyn het. Ek sit in my jaart, en die seisoene kom en gaan oor my, ek skryf nie meer romans nie, ek sien myself as ’n vertaler. Ek bestudeer die lyste klankverbindings wat Kasper in my boek, my leë afskeidsgeskenk aan hom, opgeteken het. Ek maak met behulp daarvan die een na die ander vertaling van elkeen van sy klankgedigte. As ek een voltooi het, lees ek dit unisoon met die klankpatrone in die ooreenkomstige opname en werk daaraan totdat dit so presies as moontlik pas op sy stem. Veel gaan verlore in die proses, miskien word iets gewen. Ek skrap die adjektiewe, ek skrap die idees, ek heg die woorde net-net aan betekenis, want betekenis is bysaak. Wat belangrik is, is die materialiteit van die woorde. Hulle moet word soos sandkorrels, onverskillig van gewig, soet, wit, droë sand wat nie omgee dat mens dit deur jou vingers laat lek nie. Twee keer per jaar gaan ek na die Sederberge, na daardie maalgat, na daardie staning vleiriet, en dan lees ek my nuutste vertalings daar hardop voor, in die hoop dat die water en die rietkwaste dit sal verder fluister, miskien na hom toe sal deurfluister, as hy nog daar êrens is. Sal ek my jongste poging met u deel? Ek dra dit op aan my verlore student, die een van wie ek alles geleer het wat ’n skrywer moet wéés, wat, let wel, iets anders is as wat ’n skrywer moet skrýf.
Oggend van ’n waterfiskaal
Allagot! geglip uit die knukkels van hierdie kant se koskans- en hansmaker, wip die waterfiskaal die oggendkier in,
kaneeeeeel van verbasing op sy bors, onder sy kruidnagelkloutjies die rinkink-rulle spiksplinterspuwende Dwarsriviersand, tinktuuuuur van manelkwik geveer op sy flanke, strak in die frak die keil platgekam akkelief hy oor die akkers tot die waterkant, kyk! triljarrrrrrrrrrde klein en groot fiskale innie spiekspiegel – hokaai kohorte kansvatters – wat hy konter met pronkstand akimbo, knipstert na die kindlig in die oewerkrui, en wegstaan, kykso, eeeeene ollewagen onderbaadjie, hy is die slim en innigste godontglipper hier in die prilwilde hoogmakerson, !tewiek in sy keel sit sy roepnaam !tewiek soos ’n klok in die bergkut ketoooools van die mondsagte môre.
* Professorale intreerede gehou op 12 Augustus 2008 by die Universiteit van Stellenbosch
Die slagwerker
’n Grafrede
Ek was dood, en nou lewe ek. Ek het gehuil, en nou glimlag ek.
Die krag van die liefde het in my gekom en ek het kwaai geword soos ’n leeu, en teer soos die aandster.
Hy het gesê, jy is nie gek genoeg nie. Jy hoort nie in hierdie huis nie.
Ek het wild geword en moes vasgebind word. Hy het gesê, nog nie wild genoeg om by ons te bly nie.
Ek het deur ’n volgende laag gebreek
na ’n nuwe soort vreugde.
Hy het gesê dis nie genoeg nie. Ek het doodgegaan.
Hy het gesê, jy is ’n slim klein ventjie, vol fantasie en twyfels.
Ek het my vere uitgepluk en ’n dwaas geword. Hy het gesê, nou is jy die kersvlam van hierdie samekoms.
Maar kyk, ek is nie ’n kers nie. Ek is gebroke rook.
Hy het gesê, jy is die gids, jy moet lei. Maar ek is nie ’n meester nie. Ek het geen mag nie.
Hy het gesê jy het reeds vlerke, ek kan jou nie vlerke gee nie.
Maar ek wou sý vlerke hê, ek het gevoel na ’n kuiken wat nie kan vlieg nie.
Toe het nuwe gebeure my beveel: Moenie beweeg nie. ’n Sublieme vrygewigheid is op weg na jou.
En ’n ewige liefde het gespreek: bly by my.
Ek het gesê: ek bly by jou.
Jy is die fontein van sonlig. Ek is die wilg se skadu op die grond, syagtig sag maak jy my toiings.
Die siel in die oggend is soos donker water wat stadigaan begin te sê: ek dank jou.
En dan met sononder verander Venus langsaam in die maan en later in die grote nagtelike lug.
Dit alles kom van terugglimlag as jy na my glimlag.
Die skaakmeester swyg en versit die skaakstuk.
Dat ek deel is van die maneuvers van hierdie spel maak my wonderlik gelukkig.
*
Seergeagte medenagelatenes, mevrou Oldemarkt, veertig jaar lank het ek u broer Willem Oldemarkt geken. Die stuk wat ek sopas aangehaal het, was altyd opgeplak in sy kombuis. Dit is van die dertiende-eeuse sufimistikus Rumi en dit handel, ja oor wat? Oor rook, oor vlerke, oor skaduwee? Ek het dit nooit verstaan nie, maar sedert Willem se dood verlede week lees ek dit oor en oor. Dit is soos ’n ou kledingstuk wat deur baie dra sag en vertroud geword het, soos hierdie jas waarin ek voor u staan, en hierdie hoed, en hierdie ou bruin hemp. Hulle het almal aan Willem behoort. Tweedledee en Tweedledum was die twee van ons, het Willem altyd gesê. Die een sal gaan lê terwyl die ander nog staan. Ek dra nie self ’n horlosie nie, mevrou, u sal my moet help, asseblief, ek verstaan die aula is vir die hele middag gehuur, en ek het ruim driekwartier om te praat? Maar ek merk die kapel se klok het gaan staan op twaalfuur. ’n Rekwisiet miskien? Wel, dit is soos ek self voel hier onder die dompligte, voor die trekgordyne, op die swart marmer, ’n rekwisiet, Jacob Kippelstein van Kippelstein en Zoon, antiquair op die Spiegelgracht, gespesialiseerd in
staanhorlosies. Toesprake is nie my sterk punt nie. Ohne Schatten ist draußen die Welt. Ek is hier, soos mevrou Oldemarkt sal kan bevestig, omdat die skrywer in sy testament versoek het dat ek by sy begrafnis ’n oorsig moet gee oor sy werk. Vir sy boeke wil hy onthou word, het hy altyd gesê, want niemand sal kop of stert kan uitmaak van sy lewe nie. Nie dat ek alles verstaan het wat hy geskryf het nie, ek is ’n tegnikus, nie ’n letterkundige nie. Vir my is die inskripsies die belangrikste. “Aan my seerbeminde makker Kippelstein, die tikstaksman. In vertroue, jou vriend Willem Oldemarkt” het hy altyd voorin geskryf wanneer hy die eerste eksemplaar vir my gegee het. Maar miskien was ek nie die eerste of die enigste nie. Ons wat mekaar vanmiddag in hierdie kapel ontmoet, weet dat Willem ’n alleenloper was en sy kennisse sorgvuldig in die duister gehou het oor mekaar. Daar is miskien meerdere mense hier aanwesig wat hom, net soos ek, leer ken het as ’n gesig agter ’n verkyker. Hier om my nek is sy Zeiss waarmee hy tydens ons laaste middag saam, presies ’n week gelede, nog iemand bespied het. Dit is oor daardie middag dat ek wil vertel. Hier in my hand het ek die verhaal waaraan hy toe gewerk het. Die titel: “Die slagwerker” en tussen hakies “Swart Bladsye”, vol invoegsels en deurstrepings. Swart soos die eerste materie, het Willem altyd sy werk in wording genoem. Geen onvoltooide werk van hom mag gepubliseer word nie, het hy gestipuleer. Maar hoe kan ek hierdie storie vir myself hou? Verdreh’ dir doch den eig’nen Kopf, Mann, dink u miskien, maar na wie moet ek my anders wend? Met u permissie dus, mevrou, die tyd stap aan, laat ek begin.
*
Laas Woensdagmiddag, 3 Augustus, het ek Willem vir die laaste maal gesien. Ek was nie in ’n goeie bui nie, omgekrap van die insigte wat mens kry as jy ’n ruk lank alleen in die vreemde was. Ek het naamlik ’n paar dae vantevore teruggekeer van ’n twee en ’n half maande lange argeologiese toer op die spoor van die antieke waterklokke in die Ou Wêreld. Ek was agter met my werk en moes dringende herstelwerk aan ’n Louis XIV-kaggelrakhorlosie net so los en
oor die hele stad heen na die Jordaan sleur na Willem se nuwe woonplek wat hy tydens my vakansie sou betrek. Die vorige nag reeds het hy my wakker gebel, vergetende van die normale werksure waaraan ek my hou as ’n standaard van lewenshigiëne. Jy moet kom, Jacob, het hy gesê, ek kan hierdie nuwe verhaal nie alleen klaar skryf nie, ek voel swak. Ek was skaars binne toe Willem wegval, sonder om ook maar iets te vra oor my ervaringe in die buiteland. Toe die slagwerker self die vorige aand sy meesterwerk voltooi het, het hy gesê, moes hy en die jongman al twee bitterlik ween, maar sy, Willem, se trane was “ondergeskik” omdat hy deur ’n verkyker en oor die binnehof heen moes huil, ten einde niks van die jonge se “treurnis en ekstase” te mis nie. Stadig, stadig, het ek gesê, ek volg nie, waarvan praat jy? Al wat ek het in my lewe, het Willem gesê, terwyl hy my jas aan sy oorvol kapstok gehang het, is die klein oorwinnings van my karakters te midde van die oseane van ellende wat hulle verswelg. Al wat jy het in jou lewe is die afloer van ander lewens, het ek teen die vloerplanke gemompel. Ek moes my veters losknoop, want my voete was geswel van die ent loop van die Spiegelgracht tot in die Westerstraat, ’n kwaal wat ek opgedoen het tydens die lang rondstaan in museums tydens my reis. Voor ons ons sit kon kry weerskante van sy deurmekaar skryftafel, het Willem se voet aan die mat gehaak, en hy het my arm gegryp om nie te val nie. Kippelstein, het hy gesê, ek voel lighoofdig. Lighoofdig? het ek gevra. Noodsaaklike toerusting vir ’n skrywer, tog? Hy het gemaak of hy nie hoor nie. Ek het hom na sy stoel gelei voordat ek my plek teenoor hom ingeneem het. Hy het my aangekyk met ’n verwilderde blik. Daar was ’n spiertjie wat gespring het in sy wang. Ek het gedink hy gaan sê dat hy my gemis het, maar toe sê hy: hierdie verhaal van die slagwerker is ’n selfportret, Jacob, hoe kan ek daaraan reg laat geskied? Jy laat geskied aan enige Scheißerei, maar of dit reg is sal jy self moet beslis, het
ek gesê, waarop hy net sy wenkbroue opgetrek het. Dit was die eerste keer dat ek van die slagwerker gehoor het. Nie dat dit op sigself iets besonders was nie. Sy romans het gewemel van karakters in rare beroepe. Die waarsegger, die imker, die porseleinryer, hierdie keer was dit die slagwerker. Waarskynlik weer ’n jong man, het ek gedink, wat hom nie in die verste verte werd was nie. Ek hou nie so veel van perkussie nie, het ek gesê, gee my maar ’n meesleurende melodie. Nie so onbarmhartig nie, klokkemaker, het Willem gesê, hierdie storie van die slagwerker, as ek dit kan regkry soos wat ek daarvan droom, sal die armoire van gewone mensetaal tot splinters verpulwer. Hoeveel kere moes ek dit al aanhoor? Maar ek was heimlik verlig. As hy eers aan die gang gekom het met die sogehete verpulwering, het hy my met rus gelaat en kon ek ongestoord aangaan met my horlosies. Maar daardie middag was ons nog in die aanvangstadium van die nuwe verhaal, die “donker nag van die siel”, soos Willem dit genoem het, en dan nog met slegte wyn waarmee hy telkens my glas gevul het. Elke keer as hy met nog ’n demonstrasie van sy slagwerkerstorie gekom het, moes ek ’n sluk neem om my irritasie te verberg. Wou hy dan niks hoor van die klepsidra in die Toring van die Winde in Kyros nie, van die afbeelding van die waterklok van Al-Jazari in die Topkapi Paleismuseum in Istanbul nie? Maar hy was reeds ver heen, in sy eie wêreld, besig om iets uit te speel wat hy self nog nie verstaan het nie. Aanvanklik was dit ’n getik met ’n potlood teen sy voortande, waarby hy nie kon nalaat om te noem dat die gebit die enigste plek was waar, godbetert, ons geraamte reeds sigbaar was deur ons vleis nie. Ek het my skoene uitgetrek en teruggesit in my stoel waar ek altyd sit as ek hom moet uithoor, ’n oseaan van volgeskrewe en deurgehaalde bladsye tussen ons, kopervysels as papiergewigte op die tafel. Hy het sy manuskrip opgetel en die tafelrand vasgeklem vir die aanhef: In die eerste week in my nuwe woning, het hy begin, was ek erg van slag omdat daar elke middag om presies vyf en twintig minute oor vyf ’n gedonder op ’n tromstel losgebars het. Hy het my aangekyk met die blik van ’n veroweraar net voor die intog in ’n maagdelike gebied.
Na und, alter Hund, wou ek sê, en gaan jy dáárop die ryk van hemelse harmonie grondves? Maar ek het al geleer wanneer om te swyg. My oë het gedwaal oor die chaos in Willem se woonplek waarin soos gebruiklik daar geen duidelik onderskeibare areas was vir slaap, eet en skryf nie. Orals ongewaste glase, boeke, papiere te midde van onnoemlike hoeveelhede bric-abrac. Dit was erger as gewoonlik omdat ek weg was toe hy ingetrek het en hom nie kon help met die uitpak en ordening van sy besittings nie. Om my aandag te kry het Willem met sy liniaal teen die tafelrand gekap. Die tromspelery, het hy voortgegaan, was duidelik afgespreek met alle bewoners van die blok, met almal behalwe met hom, wat ’n nuwe intrekker was, want so ver as wat hy met sy verkyker kon inkyk in die woonkamers en kombuise wat gefront het op die binnehof, het almal, behalwe hy, te midde van die Gewalt voortgegaan met hulle avondlike bedrywighede. Niemand het eens opgekyk nie, het hy gesê. Nie mevrou Steen van den Heuvel wat teen haar eie lydsame tempo die mengsel vir haar frikkadelle op haar werksblad aan’t knie was nie, ook nie meneer Broeksma waar hy sy glasie jenewer op die uitklapdeksel van sy drankkabinet ingeskink het nie, nog minder die tweeling Hinderix en Winderix waar hulle hulle klimtolle op en af oor die balustrade laat draai het nie, nee, nie eers die reier wat snags in die beukeboom slaap, het hom aan die geraas gesteur nie. Het jou oorproppe nie gehelp nie? het ek gevra, welwetend dat Willem gely het aan tinnitus waardeur hy gevoelig was selfs vir ’n druppende kraan of ’n los dakplaat in die wind. Hy het opgestaan, die raam op die binnehof opgeskuif en my nadergewink. Hy het sy hand op my nek gesit en my vooroor gedruk oor die vensterbank. My kop het hy daar vasgehou met sy een hand, sy ander hand se duime op my ooglede totdat hy tevrede was dat ek die stilte van sy binnehof kon waardeer. Luister, het hy gesê, die veraf stadsgedruis, soos die see in ’n skulp. En toe het hy ’n dosie vuurhoutjies voor my neus geskud sodat ek die galm daarvan kon hoor rondgaan.Wonderlik, hoor jy? het hy gesê, soos ’n kug in ’n katedraal. En inderdaad, in daardie fraai binnehof met die statige beuk in sy midde, sou gereelde tromsolo’s enige regskape stadsbewoner, selfs een sonder oorgevoelige ore, tot raserny kon dryf. Weer het Willem ons glase gevul. Wat ek nie moes vra nie, het ek geweet was: hoe oud is hy, jou drummer. En “drummer” moes ek hom ook nie noem nie,
aangesien hy duidelik reeds in Willem se verbeelding omhang was met die glans van paukenis in ’n simfonieorkes. Dit was die ou storie. Ek moes dink aan die stratemaker van vier jaar vantevore. Hoe lank het Willem hom beloer, die klank van troffels nagevors, alles oor plaveiselkunde gelees? Hoe lank voordat die stratemaker dit agtergekom het en hom vervies het? Twee, drie maande? En dan die worsteling om die verhaal oor die hele gebeure te voltooi, en uiteindelik daarna weer die verhuising, waarby ek hom moes help met die inpak van sy hele boksemdais. Dit was ondertussen die vaste patroon van Willem se lewe, van my lewe met Willem, as ek dit so mag formuleer, mevrou. Elke keer moes ek hom help met die begrawe van al weer ’n verlore liefde. Ek het my nek gevryf op die plek waar hy dit vasgeklem het. Ek het lus gehad om hom eens en vir altyd reguit te vertel wat ek van alles dink. Willem het dit sien aankom, hy het gepraat voor ek iets kon sê. Moenie my storie bederf voordat jy dit gehoor het nie, het hy gesê, asseblief, hierdie een gaan oor … Ek verstaan, het ek gesê met ’n pokergesig, dit gaan oor ’n kadawer, dis weer ’n lykrede. U lyk besorg, mevrou? Dis onnodig, ek is nie hier om u broer swart te smeer nie, eerder om my eie gebreke te bely, ek vra u geduld, ek moet die agtergrond gee, anders sal u nie die verloop van daardie middag begryp nie. ’n Week lank, het Willem my vertel, het hy alle vensters afgesoek met sy verkyker – ja, beste toehoorders, met hierdie Zeiss hier om my nek, gemaak vir grootwildjagters,’n hoëtrou-instrument, minimale distorsie, kristallense – totdat hy tot die slotsom gekom het dat die slagwerker verberg moes wees agter die beuk. Vermom as ’n “munisipale boomchirurg” het hy daarom op die aangewese uur, via ’n woning op die grondverdieping toegang bekom tot die binnehof ten einde die “houplek van die jong god” te identifiseer. ’n Kykgat, het hy vertel, het hy oopgesaag in die boom, sodat hy die “perkussiewe ouvrage” vanuit sy venster kon gadeslaan “deur ’n sleutelgat van lower”. Elke aand het hy voor sy venster op die binnehof plaasgeneem en met sy verkyker deur die blare heen die jongeling dopgehou, “skraal, donkerblond, fyn besnede, met iets wat glinster in sy linkeroor”. Ek lees vir u uit die manuskrip. Sou een van die dienspersoneel my kan help met
die katederlig? O, hier is die skakelaar, dankie, mevrou Oldemarkt, u is behulpsaam. Hier volg ’n fragment oor die kuns van die tromspeler:
Met sy regtervoet op die pedaal van die bastrom het hy die grond-ritme vasgelê, ’n vinnige diskoteekslag, doef doef doef doef, en dan het hy dit ingebind met die sibilante dryfsimbaaltjie, voordat hy die ander ritmes ingelei het op die vloertom en die rototoms, totdat ook dit goed geloop het, waarna hy uiteindelik, as hy op tempo was, die pletter-simbaal, die plonssimbaal en die kopkeil vir aksent gemoker het tot sy ore begin tuit het en hy ’n paar rooi dempers aan ’n beuel om sy kop moes haak, om vir die res van die oefentyd steeds vinniger te speel totdat sy voet van die pedaal afgeglip het en die hele edifies van ritmes in elkaar gestort het, waarna hy meestal sy hemp uitgetrek het en ’n sigaret aangesteek het, om die sessie swetend en rokend op te voer tot ’n cadenza wat presies om sesuur geëindig het met kantelende simbale, ’n onstuimige bas, en ’n op en af geroffel op die tom-toms totdat die tromstokke uitmekaargespat het in ’n warreling van spaanders.
Deur die oop venster het die strawaas in die binnehof geklink, soos Willem dit hier beskryf, na “die aantog deur ’n garsland van kohorte geharnaste ridders op die hakke van die ruiter met die klapkakebeen”. Schon gut, het ek gesê sonder om ’n spier te verroer. Ek het Willem se blik op my gevoel soos hy probeer agterkom het wat ek regtig dink. Jy kyk al weer uit jou oë soos ’n leser van koffiemoer, het ek gesê, gaan voort. Hy het my aangegluur, opgemerk dat mens seker nie ’n interessanter reaksie kan verwag van ’n horlosiemaker nie. Ek moes liewer swyg, het hy gesê, tot ek die afloop van hierdie verhaal gehoor het voor ek weer met my aanmerkings oor sy oogopslag kom. Wie dink ek dan wel is ek, het hy gesê, dat ek ’n in alle vertroue meegedeelde verhaal van ’n lewenslange vriend met sulke soort dooddoeners mag kleineer? Toe haak hy af en ruk die aspan van sy kaggel uit die haardgat en gee dit ’n almagtige hou met die vuurpook asof dit ’n maanghong in ’n Zenklooster is. So, boem!
’n Grafredenaar wat met sy plat hand op die kateder slaan? Het ek u laat skrik? ’n Dooierige begrafnis, het Willem altyd gesê, sal wees soos om ’n vervelige boek te skryf oor verveling. Geen skade so te sien aan die kateder. U glimlag, mevrou Oldemarkt? Ek kan sien u deel u broer se sin vir humor. In die stilte na die slag met die vuurpook, het ek, om myself te verweer, ’n draaitjie geloop in Willem se nuwe woning, seker omtrent die twintigste nuwe plek wat hy in sy lewe betrek het. Hy was nog nie klaar uitgepak nie, het dit voorgekom, maar ek sou miskien op daardie vroeë stadium van die middag reeds moes kon vermoed dat elke ding in die oënskynlike deurmekaarspul met ’n spesifieke doel daar geplaas is. U sien, Willem het homself ’n realis genoem. Uiterste aandag het hy in sy werk bestee aan die uitbeelding van omgewing, elke besonderheid moes ’n spesifieke funksie vervul in die “totaalontwerp” en hy het elke ruimtelike meganisme sover moontlik eers self op die proef gestel voordat hy dit gefinaliseer het in die teks. Skoenmakers loop sonder skoene, het my pa altyd gesê, want van totaalontwerp was daar in sy eie daaglikse lewe geen sprake nie. U knik, mevrou Oldemarkt? U is bekend met die toneel? Potte en panne vol skimmelige water op die stoof, leë wynbottels rondom die vuilnisdrom, rolle ongeopende tydskrifte en koerante op die vloer. Op ’n kas in die kombuishoek van sy woning sy versameling olyfolieblikke van orals op die wêreldrond waar hy op sy jongdag gereis het. Elke keer as hy verhuis het, het hy hulle met hom saamgetrek, asof hulle hom moes herinner daaraan dat hy nog dieselfde man was. Waarom hulle in drie piramides opgestapel was, het ek nie gevra nie, want uit die hoek van my oog het ek gesien dat hy druk in die kantlyne van sy manuskrip aan die krabbel was, “repetisienotas”, soos hy dit genoem het. Repetisie, ’n lieflingswoord van Willem, oefening voorafgaande aan ’n première. Ek was, volgens hom, vanweë my “feillose takt”, sy “offisiële repetiteur”, waarmee hy nie alleen verwys het na my diskresie as luisteraar nie, maar ook na my “taktgevoeligheid”. Metronome herstel is naamlik wat ek in my vrye tyd doen en ek moes hom dus voorberei, maar op wat? Let op die tempo, Herr Poltergeist, tiks taks, tiks taks, hou die slag, bind die maat, vir die groter lyne sorg ék wel, het hy geroep wanneer hy sy oewerlose sinne op my losgelaat het. Volgens hom kon hy niks doen sonder my as sy “gangmaker” nie. Voorbeeldig vir sy werk, het hy gesê, is my sogenaamde perfeksionisme van die professionele uurwerker, my aandrang op funksionaliteit,
my vermeende sin vir die sinchronisering van alle onderdele gepaar aan my feillose estetika van wysterplaat en pendule. Vlei kon hy uitstekend, as hy iets van my wou hê. Vlei en spot. Liefde met gevoel, het hy dit genoem. Maar daardie middag het ek my eerlikwaar meer proefkonyn as inspirator gevoel. Ek moes koes-koes loop vanweë die stuk of ses plafonhangers in sy woonkamer, “Die Oldemarktsonnestelsels”, het hy sy mobiles genoem, “kroonlugters der ontroosbaarheid” waaraan hy elke dag elemente toegevoeg of vervang het. Albasters, kristalle, papegaaiklokkies, peule, klappers, swerfsade, teelepels. Tussen alles was gerwe kompakskywe wat ’n wemeling van ligstippels gegooi het in sy “grot van Alibaba”. Verdere onderdele vir die kroonlugters het hy opgeberg in houtkissies en tee-blikke, die inhoud netjies opgeskryf op etikette: sleutels, skroef-doppies, spykers. Willem, soos u weet, mevrou, het alles opgetel wat hy sien lê het, altyd was sy sakke te klein, sy tas te swaar. My “ensiklopedie van eenmalighede”, het hy sy versameling genoem. Alles waaraan jy raak, Kippelstein, verander jy in klokwerk, het hy dikwels gesê, en alles wat ék bymekaarsprokkel, hang ek in my “baldakyn van verlore oomblikke”. Kronos en Kairos is ons, twee gesigte van die tyd. Stel jou tog nie so aan nie, het ek altyd gesê, eerder Boruch en Zoruch, Knödel und Suppe. Die middag daar in sy nuwe huis op die Westerstraat het ek steeds meer ongemaklik gevoel. Hy het my op en af sit en bekyk terwyl ek staan en vroetel in die inhoud van een van sy teeblikke, knope van alle groottes en kleure. Of ek die res van sy verhaal wil hoor, het Willem gevra terwyl hy nog ’n aantekening gemaak het op sy Swart Bladsye. Niks minder nie as ’n voorreg sou dit wees, het ek gesê, om te hoor wat dan volgende sou gebeur met die tamboermajoorske aan die oorkant van die binnehof van onvervulde verlangens. Ek het die teeblik teruggesit op sy plek op die rak en teruggekeer na my stoel by die venster. Hy het droewig gelyk, en effens smekend. Daar was geen ander uitweg nie, ek moes dit oor my heen laat kom.
*
Elke oggend om seweuur, het Willem vertel, het die slagwerker sy appartement verlaat met ’n sak waarin hy ’n blou oorpak, sy veiligheidskoeisel, ’n konstruksiewerkershelm en ’n kosblik gepak het. En elke aand om kwart oor vyf het hy tuis gekom, ’n bier gedrink, ’n pakkie pretzels geëet en om vyf en twintig minute oor vyf agter sy tromstel gaan sit en begin oefen. Behalwe die improvisasies aan die einde van elke oefensessie was daar, sover as wat hy kon oordeel, niks aan die jong man se spel wat gedui het op enige “ritmiese ambisie” nie. Dit het hom dan ook nie verbaas toe daar skielik een middag om halfses geen geluid van die oorkant gekom het nie. Doodstil was dit, alleen die stad wat ruis in die binnehof. Willem het stil geraak, die verkyker wat op die tafel tussen ons gelê het na sy oë gebring, dit op die oorkant van die binnehof gerig, dit weer neergelê en my aangekyk. Geen geluid, Jacob, doodse stilte om halfses, het hy herhaal en my vraend aangekyk. Dit was my teken, ek moes raai wat die rede vir die stilte was. Hy is teruggebring op ’n draagbaar, neergestort van ’n hyskraan van Liebherr, het ek gewaag, le petit ange bien tombé … Willem het sy kop geskud. Nee? het ek gevra, dan seker op sy bouersvakansie. Kippelstein, jy is die mees prosaïese klopspook wat ek ken, het Willem gesê. Goed, het ek gesê, laat ek nie die klip wegrol voor die graf nie. Drie Dae Stilte. En toe? ’n Blonde herrysenis? Willem het oor sy voorhoof gevee. Vermoeid het hy die manuskrip weer nader getrek. Sy hande het gebewe, sy polse, het ek vir die eerste keer opgelet, was dun in sy ou bruin ferweelhemp, die hemp wat hy altyd aangetrek het wanneer hy ’n nuwe storie begin skryf het. U knik, mevrou Oldemarkt? U ken hierdie ou hemp? Die moue is te lank vir my. Drie dae stilte, het Willem hervat, en toe, in die laatmiddag van die vierde dag, om kwart voor ses ’n “orfiese simbaalfluistering” in die binnehof. Hy het sy
verkyker ingestel en deur die “bronswiegende beukeloof” die kamer van die slagwerker ingekyk. Nakend agter die tromme het ’n jong Asiatiese meisie gesit, “bruin soos molasse” met lang swart hare. Met ’n rooi papawer het sy oor die simbale gestryk. En op die bed, ook nakend, aangeleun teen die bedstyl, trekkend aan ’n sigaret, die slagwerker, so te sien gans versadig van “die eksesse van vleeslike liefde”. Og, Willem, het ek gesê, is dit nou nodig. Moenie my kom “og” nie, het Willem gesê, natuurlik kan ek dit anders formuleer, maar dis om jou ontwil, want behalwe deur die vensters van fiksie wat ek vir jou open, het jy geen sig op wat sodanige uitspattinge in die werklike lewe inhou nie. Nie maklik om die vriend te wees van ’n skrywer nie. Deur die vensters van die fiksie, ’n blik op die verskole dimensies van die lewe? Wat ’n skynheiligheid! Só het hy mý ook bespied met sy verkyker, dertig jaar gelede, en haarfyn geweet waarmee ek besig was voor my tafel in die ateljee op die boonste vloer van ons winkel op die Spiegelgracht. Maar dit sou die verkeerde moment wees om daarna te verwys. Ek het die etiket op die leë fles bestudeer en gesê dat ek in my lewe al minder suur Côte du Rhônewyn gedrink het. Sonder kommentaar het Willem ’n nuwe fles oopgetrek, my glas gevul en voor die venster gaan staan en op sy polshorlosie gekyk. Hoe lank moes ek nog hierna luister, het ek gewonder. Half-twee het ek gesien was dit op die vinielwandklok wat Willem veertig jaar vantevore by my gekoop het, sy enigste aankoop ooit van my, ’n troosprys aan homself omdat hy die tellurium op ’n ou ontwerp van Keppler wat hy soseer begeer het, steeds maar nie kon bekostig nie. Dit het ek hom toe ’n paar weke later, een middag toe ek klaar gewerk was, in sy woning oorkant die straat cadeau gaan gee. Eers reggemaak en onder my pa se neus afgesmokkel teen die trap. Die tellurium met sy naïewe uitbeelding van die kosmos was ’n heel besondere stuk. Willem was verruk. Met blink oë het hy na my gekyk. Ek wou nie bly vir tee nie. By die deur het hy my hand aangeraak wat ek vinnig in my jassak gestop het. Laat ek jou tog bedank, het hy sag gesê. Ek het vinnig weggegaan en ’n maand lank verskonings uitgedink om nie bo in die ateljee te werk nie. Toe ek weer op my pos durf sit, het hy reeds verhuis. Hy het ’n briefie onder die deur van die winkel gelos met die boodskap: Beste Jacob, Kom drink ’n koppie tee by my op die
Stadhouderskade nommer 108, interessante uitsig! En hier was ek weer, by die soveelste nuwe adres met ’n interessante uitsig, en dit was nie tee nie, dit was wyn, soos altyd. En soos in al Willem se woonplekke wat ek deur die jare besoek het, het die tellurium ook daardie middag in die Westerstraat ’n ereplek beklee. Dit was opgestel langs die kieriestaander op ’n halfmaantafeltjie langs die deur. Die ivore sfere van die maan en die aarde aan hulle dofmetale arms, die blaker opgepoets tot sy volle rooikoperglans, ’n nuwe kers daarin gesteek vir die son, die ratwerk aan die basis ingestel op herfs, dit was die enigste goedversorgde item in Willem se santekraam van prulle. Toe hy sien ek kyk daarna, het Willem die kers gaan aansteek, die tellurium opgewen aan sy vleuelmoer en die knip afgeskuif van die tandrat. Met ’n skok het die gevaarte op gang gekom, die planete in hul lig en skadubane. Die lig van die regte son het die kamer binnegeval deur die roerende beukelower en knipperende ligskyfies gestrooi oor die skryftafel, oor die vloer, oor die halfmaantafeltjie, oor die wange van die maan en aarde, en op die muur daaragter. Ek was vermurwe, moet ek toegee, mevrou, deur die gebaar. ’n Hommage aan ons vriendskap, het ek gedink. Wanneer hy klaar was met sy storie, sou ek hom vertel van die Hercules-waterklok wat ek gesien het in Gaza en hoeseer ek hom gemis het tydens die reis, asof ek in ’n droom was met net die helfte van myself. Sou hy ook so voel, om sonder my ’n storie te skryf, het ek gewonder, so sonder hoop of oriëntasie? Ons het glase geklink, en om vyf voor een, om presies te wees, hoofstuk twee van die slagwerker binnegegaan, soos kinders, het ek gevoel, hand aan hand op ’n voetpad in ’n bos.
*
Die slagwerker was so verlief dat hy uit sy oë nie kon kyk nie, het Willem hervat toe hy weer regoor my in sy stoel sit. Die verlorene het van plek tot plek beweeg: “met ’n sweef-en-swymelpas”, asof hy in ’n voorgeboortelike vog geswem het, sy hande “soos seesterre voor hom gestrek, tastend na die aangebedene”, sy gelaat oorspoel deur onwillekeurige trekkings. Onafgebroke het sy lippe geroer, so vol was hy van betuigings en soete onsin. Sonder ’n woord het die meisie hom aangekyk.
Twee weke lank, het Willem vertel, het die twee so te sê in die bed deurgebring. Eers teen die aand het hulle na buite gegaan vir inkope by die avondwinkel, stokbrood, lewerwors, kaas, appels, suur agurke, harings en wyn wat hulle nakend voor die oop venster uit mekaar se monde geëet en gedrink het. En dan het hulle weer in die bed getuimel om mekaar te verwen en te gebruik. En wat daarvan in die binnehof hoorbaar was, volgens Willem, was sugte en krete en hortende asemstote, met tussendeur lang alleensprake van die jong bouer, sy stem verwronge van hartstog. Nie een keer, het Willem gesê, het hy die meisie iets hoor sê nie. Oor die hele liefdestoneel, skryf hy hier, het die tromstel glimmend en onaangeroer in die hoek bly staan. Ek siteer: “Die bastrom in sy rooi formikamontuur, ’n granaat voordat hy bars, die klepsimbaal met lippe opmekaar soos dié van ’n priester voor ’n offermaagd.” Sugte en krete, hortende asemstote? Of hy nou mesjogge genoeg was om naas sy verkyker ook nog ’n afluisterapparaat te gaan aanskaf? het ek gevra. Nee, Kippelstein, het Willem gesê, alles was duidelik hoorbaar in die hofje, en die geluide het meer van hom gekom as van haar, sy was ’n “skikgodin wat die jongman gelaai het met begeerte, soos mens ’n pianola laai met ’n musiekrol”. Terugskouend kan ek sê, mevrou, dis presies hoe ek gevoel het daardie middag, soos wat die ure verbygegaan het, asof iets in my geïnvesteer word. Merk ek dieselfde ongerief by u, beste toehoorders? U vind dit sekerlik ’n ongepaste verhaal vir ’n grafrede. Het ek u toestemming om voort te gaan, mevrou Oldemarkt? Ek weet u het hom goed geken, hy het altyd gepraat van sy suster Helena wat deur sy kop kon kyk asof dit glas was, maar wat tog op sy verhale gereageer het soos ’n “duif verdryf vanonder die oorhang deur ’n lied wat iemand plotseling aanhef binnemuurs, en later weer teruggelok word deur dieselfde musiek”. Het hy u dit ooit self vertel, mevrou? Willem het ’n sigaret opgesteek en by die venster uitgekyk met die brandende vuurhoutjie in sy hand, sy oë op skrefies, en pas hervat toe sy vingerpunte begin skroei, sy blik fel, sy stem te hoog. Of ek altemit kennis dra, het hy uit die bloute gevra, selfs alleen maar boekekennis, van die verskynsel van “na-orgasmiese ontsetting”, tydens die Middeleeue bekend in die spreekwoord “omne animal post coitum triste”. Kan hy dit uitlê in leketaal, het ek gevra, en of hy verder geen Latyn meer sal
gebruik nie, aangesien ons nie almal in ’n goy gimnasium skoolgegaan het en van esoteriese dimensies van die erotiek geleer het nie. Ieder diertjie voelt sig na de paring verneukt, is wat dit beteken, het Willem gesê, maar, het hy bygevoeg, hierdie jong man, die tromspeler, het ver meer as verneuk gevoel, en of ek, Jacob Kippelstein Junior, nie hierdie selfde hiperverneukte gevoel geken het nie. Ekskuus? het ek gevra. Wel, het hy gesê, moes ek nie my lewe slyt voor die mees uitdrukkinglose gesig op aarde nie, naamlik dié van ’n wysterplaat, en is dit hoekom ek nooit my gevoelens laat blyk het nie, dalk was ek geïnfekteer deur my beroep. Hoeso geïnfekteer? het ek gevra. Nou, het Willem gesê, ’n bietjie getrek, jy weet wat ek bedoel, jy sit tog alewig met jou vingers in die tabernakel van die Tyd, maar gee sy ooit te kenne dat sy daar plesier aan beleef? Nee, haar gesig bly onaangedaan. En so ook joune. Julle is aan mekaar gewaag, jy en jou wysterplate, maar vergeet nie, dit is die tyd, die onomkeerbare tyd self wat ons noop om haar in te dam in ’n verhaal, in ’n stuk musiek, in ’n biografie, ’n heilsgeskiedenis, elke stuk met ’n begin en ’n einde, elke kunswerk ’n sluier wat ons hang oor die onuitstaanbaar sinlose deurstroming van minute, eeue, generasies. Mevrouw Oldemarkt, ek sien u skud u kop, en inderdaad, dis wat ek ook daardie middag gedoen het. Mens kon hom nie ernstig opneem wanneer hy so was nie, maar ek het wel ’n bietjie opstandig gevoel.Wat weet jy, het ek in daardie stadium gedink, van my verdriet, Willem Oldemarkt, storieverteller? Jy wou nie saam met my met vakansie gaan nie, die eerste en die laaste vakansie wat ons ooit saam sou hê nie, jy moes kamtig dringend verhuis. Dis nie fiksie nie, dit was my lewe. Mevrou, mag ek hierdie leë stoel naas u kry? Ek moet ’n oomblik sit. Waar was ek? Ek was by die uitdrukkinglose gesig van die minnares. Dit was die onbeweeglike aanskyn van die meisie wat die jongman tot raserny gedryf het, het Willem vertel. Elke keer as hy haar “bestyg” het, het hy haar gesig vasgevat tussen sy
hande en gepleit dat sy na hom moes kyk, dat sy haar liefde vir hom moes uitspreek, dat sy hom nie alleen moes laat in sy verrukking nie, dat sy saam met hom verruk moes wees. Maar met “Oosterse onthegtheid” het sy hom bly betrag. Sodat die jong man die woorde wat hy so graag wou hoor, by haar mond wou uitforseer met ’n paar flink stampe asof sy ’n pyp was waaruit hy ’n lugborrel wou kry. Maar al wat losgekom het, was sy eie trane, en elke keer wanneer hy ’n klimaks bereik het, het hy in gejammer uitgebars: hou vas my kop! hou vas my kop! asof sy brein letterlik uit sy skedelpan geblaas was, en hy begeer het dat sy geliefde “die windinge daarvan weer moes saampers in twee lobbe en dan die skedelplate en die harsingpan daaromheen moes pas soos ’n assistent in ’n laboratorium die stukke van ’n skedelmodel …” Op daardie punt kon ek my irritasie nie langer onderdruk nie en het Willem se sin vir hom klaargemaak; dit het meer sarkasties geklink as wat ek dit bedoel het: … en dat sy op die sodanig hermaakte skedel sy bouershelm moes vasgespe vir alle sekerheid, het ek gesê. Dáárvan het hy opgekyk, en toe sê hy met so ’n treurige glimlaggie: dit het heelwat fiksie gekos, Jacob, om jóú te beweeg, en nou, na meer as dertig jaar het ek jou uiteindelik sover gekry; miskien moet ek jóú die kans gee om hierdie verhaal tot aan die einde te voltooi. Sou hy dit met voorkennis gesê het? vra ek my af. As voltooier het ek myself nog nooit beskou nie, eerder as teenspeler. Ek was die spesialis in tyd en hy die spesialis van fiksie. Ek was die onverstoorbare einder waarteen hy kon skaduboks. Ons was aan mekaar gewaag, reiskamerade, kan mens sê, waarby ek die son in die oog gehou het en hy die pad, en so was ons wel ’n paar wat op hierdie ondermaanse troos en steun by mekaar kon haal. Want na so ’n sessie by Willem kon ek my met nuwe energie wy aan die sleur van my dagtaak, terwyl hy my altyd ’n week of so daarna kon inroep vir ’n hersiene weergawe van die verhaal wat in die tussentyd getemper geraak het deur respek vir die leser. ’n Goeie verhaal, Jacob, het Willem dikwels gesê, is “soos ’n appelboord wat gevind moet word in die digte newels van die taal”. Maar kan ek dit alleen vind? U moet my help. Trek aan die rieme, geselle, in een stuk moet ons hom oor die Styx roei.
*
Net toe hy begin dink het dit is die einde van die sage, het Willem vertel, was daar op ’n nag “toe die beukelower haar swoelste sug van die somer geslaak het”, drie weke na die koms van die Oosterse skoonheid, ’n wending in die affaire in slagwerkerswoning. Dit het gebeur ná ’n ure lange liefdestryd, waarvan hy die gelyke nog nooit in sy lewe meegemaak het nie, al het hy, soos ek weet, selfs by wyse van spreke die pous bespied in ’n jacuzzi vol koorknape. Op een van die digsbeskrewe bladsye kan ek vir u die volgende beskrywing van hierdie liefdesnag probeer bymekaarlees:
Dit was ’n korrupsie van die ryk der sinne. Die swetende liggame in die kerslig soos glinsterende slange in die hel. As hulle van mekaar losgekom het, was dit om te byt en slaan, waarna hulle weer verstrengel geraak het in ’n slagmeule van arms en bene sodat langsamerhand die lakens en die mure betakel geraak het met bloed. Gedurende die hele worsteling het die jongman aan sy sleutelbene geklou en gekerm dat hy sy vel van sy lyf wil afskeur.
Het hy nie verstaan nie, wou Willem van my weet, dat om liefde te vra, te veel gevra is nie? En of ek, sy dierbare vriend, my iets van die gebeure daar in die kamer aan die oorkant van die binnehof kon voorstel, en hoe ek dink dit sou afloop. Miskien sou hy vir my ’n paar nabyopnames met klankbaan moes gemaak het van hierdie sogenaamde liefdesgeskiedenis, dan sou ek kon adviseer, het ek gesê. Kippelstein, rot op, het hy geroep, was daar ooit ’n verhaal uit my pen wat nie op die werklikheid gestoel het nie? Natuurlik het ek geweet van hierdie stoel van die werklikheid en wie almal daarop gesit het. Hoe dikwels het Willem nie sonder aankondiging net stilgebly vir ’n paar weke nie? U knik, mevrou Oldemarkt? U herken dit? Daaraan het ek in ieder geval altyd geweet dat hy weer verlief was, geweet dat wanneer dit
verby was, hy dit sou begin opskryf, en my dan weer sou byhaal as getuie, nie van die verliefdheid nie, maar van die fantasie daarvan. Want nooit het daar van hierdie sogenaamde liefdes van Willem enigiets standhoudends gekom nie. Alleen die verhale het hy daarvan oorgehou. Aan húlle het hy hom vasgeklamp. Húlle was sy eintlike minnaars, skiet dit my nou te binne. In ’n “opmaat van frustrasie” het Willem vertel, het die slagwerker homself oplaas weggesleur uit die geveg met sy geliefde en op sy tromstel geval met stokke, vuiste, voete, asof dit ’n engel was wat hy wou neerworstel. Gou het al die ligte in die binnehof aangegaan. Daar was ’n geskreeu van die bure, “godverdomme” en “sodomieterop” en “ontbied die polisie”. Die geraas op die tromme het gou afgeneem, maar in die laaste slae uit die slagwerkerswoning het daar duidelik ’n ander toon geklink, het Willem vertel, die slotmate van tromspel was soos ’n gesprek tussen twee verslae stemme, sag, toegewend, aanvaardend, moeg. Willem het twee stampers uit die vysel op sy tafel gehaal en daardie slotmate van die liefdestryd vir my voorgespeel op die tafelblad. Met sy kop laag oor sy hande het hy saggies gevoelvol getrommel. En merkwaardig genoeg kon ek presies uitmaak wat hy daar geïllustreer het: Vraag, antwoord, weerwoord, sug. In die woning agter die beukeboom was daardie nag die kerse verder uitgedoof, het Willem gesê, daar was verder niks te sien nie. Dit was stil. Alleen die stad wat in die binnehof geruis het soos die see in ’n skulp.
*
Ag, mevrou Oldemarkt, u sal weet hoe dit is om agter te bly. Hy was u enigste oorlewende familielid na die dood van u vader. Hy was my enigste vriend. Nou is daar niemand in my lewe wat sulke aansprake op my sal maak nie. Nou sit ek dae lank in Willem se woning en soek sy papiere uit en al waarna ek kan luister, is die ruising van die stad in die binnehof. Die geskuur van die trams, die gesuis in die leidinge, die tik van elektriese meters, die kraak van dakgebinte, die kom en gaan van mense, laggend, pratend, al die stadsgeluide waarmee ons oud geword het. En deur dit alles heen die ruising van die beuk voor die venster, die beuk waarvan die blare nie meer vol teen mekaar aanpraat in die wind nie, maar
los raak van die takke, en neerdwarrel na waar hulle straks in winterstilte sal vermolm. Het iemand vir my ’n sakdoek? Dankie, mevrou. U knik? U wil hoor hoe dit verder gaan? Die oggend na die nagtelike uitbarsting was, volgens Willem, alles tussen die twee minnaars anders. Of liewer, die jongman se houding teenoor die meisie, sy bejeëning van haar was anders. Wanneer hulle klaar die liefde bedryf het, het hy sy kop op haar bors gesit, en vir ure so bly lê, asof in die ban van iets, iets wat nie meer aan haar behoort het nie maar nou aan hom. Weg was die koorsige, pleitende uitdrukking van vroeër, die wanhopige afhanklikheid, die dringende gerigtheid op haar gesig. Dit was vervang deur iets wat hy, Willem, alleen kon uitdruk met die woord “soewereiniteit”. Jesus, Willem, die slagwerker as kleine prins, het ek gesê, waarom kan jy dit nie hou by ’n eenvoudige bouer wat vrede gemaak het met die situasie nie? Waarom moet daar altyd iets uitsonderliks aan jou verskyn? ’n Persoon honderd maal glansryker as wat hy is? Jy wil nie verstaan nie, Jacob, het Willem gesê, dit is ’n vorm van kompensasie. Al my lesers kan hulleself daarin herken. Waarom nie jy nie? Die maak van kuns is die enigste betroubare selfvertroosting, en dit het hy pas begryp, het Willem gesê, toe die jong man eendag, nadat hy lank so met sy kop op die bors van die meisie gelê het, opgestaan en reguit na sy tromstel geloop het en op die middelste tom-tom ’n ritme uitgespeel het. Lub-dub, lub-dub, háár hartklop, ons almal se hartklop, Jacob, wat jy kan voel wanneer jy jou vingers teen jou sleutelbeen druk. Met die palm en vingers van sy regterhand het hy die slag vir my uitgespeel op die tafel.Verlies, het hy gesê, is nie iets wat versmaai moet word nie, dit is die bron waarin die konings bad. Dit is die oorsprong van alles wat ons skoonheid noem. Dit is skoonheidstroos. Hier wil ek die outeur self aan die woord laat met u permissie, mevrou, as ek nog ’n paar minute mag vra. Ek lees ’n paragraaf wat gemerk is “vir hersiening”. ’n Aanduiding dat Oldemarkt iets daarvan wou handhaaf in ’n volgende weergawe.
En so, omdat sy hom nooit geantwoord het nie, het hy haar luistervink geword, die afluisteraar van haar in en uit. Haar geluide het hy nagevors sonder dat sy iets daarvan gemerk het. Na die galm in haar nek het hy geluister as sy haar hare borsel voor die spieël, by haar klein bruin pols het hy gehoor as sy haar koffie roer by die ontbyt, aan haar kaak het hy gehang as sy gekou het op ’n korsie, by haar maag het hy kom luister ’n paar uur later. Aan die rinkeldekinkelen van haar enkelringe, aan haar voetval in die trappehuis, óp soos slae op ’n houtvis, áf soos klop op tamboeryne, aan die toonleer van haar lag, die kleure van haar sugte, aan haar ietsiebietsie slukkies as sy haar dors les aan die kraan, aan die kraak van haar twee knietjies as sy buk om haar sandaal te bind, aan die soet klein besem van haar asem as sy slaap, aan dit alles was sy oor gekluister, alles het hy opgeneem wat sy aan slagwerk afgegee het, ja, tot die klokgras van haar drome kon hy hom verbeel, die klein fuga van ’n lewerik bo ’n landery ryp graan, só was haar begeerte. Selfs haar huid was vir hom welluidend, haar heupe pure harpe om te streel.
Die volgende paragraaf is ook nog leesbaar, maar wel geskrap, ek hou dit aan u voor om te illustreer hoe elke verhaal van Oldemarkt gebou is op “nagvuil”, soos hy dit gestel het.
By die deur van die wc het hy geluister as sy pie, ja, haar stoel het hy gevolg, haar winde en haar klein gekreun, die plons van plompe meisiedrolle in die bak, en ’n vel dun foelie het hy een oggend om haar kennebak gehou toe sy moes huil en geluister hoe die trane daarop spat, wyl hy haar jammersnikke saggies naboots in sy keel en met sy vingers die druppels skelm op die bedstyl speel, elke kug het hy opgeteken in sy boek wat hy langs hul bed gehou het. Haar stem, haar stem was hom een oor, want, dit was die wonderwerk: sinds hy nie meer gepleit het vir geloftes nie het sy gemurmel soos ’n stroom, voortdurend op die randjie van gesang, en dit alles deurreën van woorde uit haar taal wat hy haar stadig maak herhaal het, die ontploffings weerskant van vokale, die woordvlees suiwer vrug, en hy ’n godsneus voor die geur, proewer van ’n uitgedinkte ding. Die prietpraat van haar klaprooskontjie het hy aangeteken, sy gesig versaligd na haar toe gekeer, tikkend met sy vingers op haar knie, of sy ’n trom was wat hy liemaak vir die knal, totdat sy ineens besef dat hy, ten spyte van sy spitse aandag, niks onthou van wat sy sê, en hom geklap het paf! deur die gesig. As slagwerk vir
hand en menswang het hy dit op sy notebalk noteer. ’n “Skelmridder” was die jong man, volgens Willem. Met die een hand het hy sy beminde aarbeie gevoer, met die ander hand haar opgeskryf. Soms het hy vir haar sketse van sy komposisie op sy tromme voorgespeel en gesê: dis jy, dis alles vir jou, ek dra dit aan jou op. Maar sy was nie geflous nie: dit gaan nie oor mý nie. Jy is verlief op jou musiek, het sy gesê. En toe, twee dae later, byna twee maande nadat sy in sy lewe gekom het, op ’n kritieke punt in sy notasie van haar lyfmusiek – toe loop sy weg. En opeens, die somer nog ruisend in die beuk, was die jongman alleen, nie net in sy bed nie, maar ook met sy komposisie, sonder model, sonder materiaal, sonder toehoorder, volledig gedroogdok.
*
Hoekom staan almal nou op? Waar gaan ons nou na toe? Het u iets gesê, mevrou? Nee, natuurlik was ons nie nugter nie! Wie kan droog bly met sulke Quatsch op ’n weeksdag? Boruch en Zoruch en die malech hamoves? Nee die wyn was op, mevrou. Dit was ’n fles jenewer. Vieruur reeds het Willem dit uitgehaal en vir ons ’n dop geskink in die glasies wat ek hom op sy vyftigste verjaarsdag gegee het. Woodstockglas, handgegraveerde spiraal om die kelk. ’n Heildronk in ’n oumanshand, vol lower- en jenewerlig. Lachai-yim! het ek geroep, op “Die slagwerker”! En … o? Ekskuus, wie vat my onder die elmboog? Word ek nou afgevoer? Deur ’n luik na die hemel wat oopskuif agter my? Moet ons nou na die graf? Onder sambrele? Dat mens oor jou eie godverdomde tombe nie eers mooiweer mag bestel nie. Nee, ek hoef geen rystoel nie, mevrou, ek kan self loop, dankie, hier agter die kis, die enigste haakse vatting waarin iemand ooit vir Willem Oldemarkt sal verpak. Ausgeputzt in Essig und Honig. Hou niemand my hande in die lug sodat die tyd stilstaan nie? Moet ek hulle self gereed hou soos ’n dirigent van die herfs? Kyk, die blare op die kis, hartens op die donker hout. Onder sy eie beuk sou ek hom eerder laat neerlê, in sy eie binnehof. Über sein Bett erhebt sich ein
Baum. Hoe kan jy iemand so laat weggaan en hoe iemand so alleen laat agterbly? Alleen met die gebakte pere? Dis wat ek vir Willem gevra het, mevrou, daardie middag op daardie punt toe hy die slagwerker se meisie in die niet laat verdwyn. Hoe moet daar anders ’n storie wees, my vriend? het hy gesê. As niemand wég gaan nie en niemand bly ágter nie, as almal gesellig by die huis gebly het om saam die pere te skil, sou die liewe Here in sy hemel nooit die Heilige Skrif kon ingegee het in sy profete nie.
*
So u sien waarop hierdie storie afstuur? Hou tog my hoed oor die papier, mevrou, sodat hierdie kosbare manuskrip nie nat word nie, mag ek nog ’n stukkie vir u lees?
Hy het die tromstel uitgebou met alles wat bespeel kon word om sy verdwene geliefde voor te stel. Sy hele kamer het hy omgebou in ’n slagwerkinstallasie, buise, glase, sade, skulpe opgehang aan toue kruis en dwars en elke dag daarin geklim soos in ’n takelwerk en dit saggies aangeraak, asof om haar, wat versink het in die kim, tog nog aan die vaar te kry na daardie eiland waar die liefde altyd duur, ’n land van somernagte, en hy die bootsman in die kraaines van verlange.
Hou my papiere vas, so, asseblief, onder die sambreel, mevrou, laat my nog ’n stukkie lees:
Hoe moes hy haar donker hare speel? Met ’n litofoon van leiklipstawe aangestryk met stukkies lood? En haar uitrek by ontwaking? Met ’n plektrum
oor ’n fietswiel wat eers vinnig en dan stadig draai? En haar glimlag as sy by die deur inkom? Met die duimsool op die soetkol van die Hång?
Weet u wat ’n Hång is, mevrou? Ek het dit ook nie geweet nie tot die middag waarop Willem my ’n afbeelding daarvan laat sien het in sy lêer. ’n Esoteriese instrument handgemaak deur ’n geselskap in Switserland. Honderde foto’s van slagwerkinstrumente was daar in sy versameling. U kyk my aan, mevrou, asof ek mal is, maar daar wag vir u ’n verrassing, soos daar een vir my gewag het. Ek het ook nie geweet waar dit alles na toe lei daardie middag toe Willem my steeds meer opgewonde sy storie vertel het nie.Volgens hom het die jong man al sy geld uitgegee, op ’n paar Zildjiansimbale, en ’n stel tromstokke en veegpeitse. Elke dag het hy dopgehou hoe die jong man met nuwe vondste by die huis kom. Drie groot toms en twee pedaalbastromme plus vyf piccolotoms het hy laat instem sodat hy ’n toondraende ostinaat kon speel by die ander ritmes. Hy het sy tegniek verbeter totdat hy al vier ledemate onafhanklik en omruilbaar kon aanwend op vier verskillende ritmes en hulle onafhanklik kon versnel en sinkopeer. Sy hele lyf het hy afgebreek en weer opgebou ten einde “’n minnaar te word wat nooit weer sal misluk nie”. ’n Speelgoedgrafie gee u in my hand, mevrou? ’n Klont nat kat-sand wat ek op die deksel moet laat plof? O yl geluid waarmee dit eindig moet! O Oldemarkt – hoe wens ek jou ’n tintklopkis met galmrand waarop ’n mens kon klippies gooi, of stel jou voor onder elke serk ’n musikant, viole, klarinette, met jou aan die fornuis op pikswart keteltromme. Die verskriklikste kombuis! Met rose en kanonne! Mein Lieber, dieser schwere Augenblick! Sal ek jou verkyker ingooi op jou kis? Jou suster hang dit terug hier om my nek. Jy mag nie na jou eie maaiers kyk nie. Daar gaan jou hoed! Hulle trek my aan my moue weg, ek sien my skoene, ek proe my snot, hulle vee my bolip af. Poeier, motballe en peperment van jou leespubliek. Hande keer my van die rand. Gefladder teen my bors, vingers van die akkordeon, wange van die bariton, die dreadlocks van die didgeridoo, almal hier vir jou vaarwel. So, was dit dan dit, mevrou, ná ’n hele lewe dan, die skrale afskeid? Langs sy gat
verbygeskuifel met ’n grafie Proud Cat, en nou moet ons terug? Vir ’n onthaal met vingerhappies? Waar was ek met die storie? Willem, met jou verhaal wat ek moet klaar vertel? Op hierdie middag waar jy in die rieme hang en straks tot onder gekatrol en toegegooi sal word, hopelik met eerliker grond? U por my in die rug, mevrou? U stuur my aan die elmboog? In by hierdie deur? Aan hierdie wit gedekte tafel? Op hierdie plastiekstoel? Ja dankie, vul my glas. Waarom kyk hulle tog so raar na my, nog nooit ’n kewer op sy rug gesien nie? ’n Grafgat vol ghitare, een ou kurper in die vywer van herinnering?
*
Gesellig hier aan tafel, nie waar nie? Beter as in daardie kapel met die weë lug van lelies. Mevrou die Suster aan my regterhand, Meneer die Uitgewer links. Oorkant my twee wat sit en lag, dink u hulle wil verder hoor, mevrou? Gesondheid in die rondheid! Wie luister nog na die tikstaksman wat mompel in sy jas? Wil u weet hoe dit verder gegaan het die middag? ’n Koekroller, beste disgenote, het Willem my in die hand gestop, daardie middag op die Westerstraat, en in die ander hand ’n fietsspeek. Met ’n koekpan op sy skoot het hy teenoor my plaasgeneem. Nou gaan ons dit saam uitsoek, Jacob, het hy gesê, ek weet by God nie hoe hierdie storie van die slagwerker moet eindig nie. Waarom wil jy dit altyd so moeilik maak? het ek gevra. Laat die meisie gewoon terugkom. ’n Goeie gesprek met haar messelaar. ’n Wandeling in die dieretuin, noedels by die Chinees. Pais en vree. Amen! Filistyn! het Willem gebulder, mens sou nie sê jou voorsate het in die woestyn agter ’n vuurkolom aangeloop nie!
Nudnik! het ek teruggebrul, die Heilige Skrif is ingegee, nie uitgedink deur ’n dibbuk nie! Nudnik, dis wat my pa hom destyds genoem het, mevrou, en dibbuk, as hy in die winkel gekom het. Dertig jaar gelede was dit, toe hy aan die oorkant gewoon het, op twee hoog. My pa het nie tyd gehad vir klante wat net kyk en niks koop nie, het my altyd bo in die studio by my werksbank kom optrommel. Kom haal die nudnik hier onder, Jacob, hy mors my tyd. Toe was, mevrou, soos u wel weet, Oldemarkt nog onbekend, nog niks gepubliseer nie. Altyd geklee in ’n wit overhemd en tweedbaadjie met leerlappe op die elmboë, ’n stropdas, nie ’n fasade waaragter mens ’n afloerder sal vermoed nie. Dan het ek hom saam met my teen die trap op geneem om hom uit my pa se pad te kry, en dan het hy die hele middag op ’n kruk naas my werkbank gesit en gekyk wat ek maak. Jou horlosies, meneer Kippelstein, het hy dan begin, is kunswerke, uur na uur sit jy hier en herstel hulle, maar die oomblik as hulle gevul is met getik is hulle minder oortuigend. Hulle geëmaljeerde gesigte, hul tandratte van koper en hulle silwer-montuur, hulle skouers van kersehout is wat tel, nie hulle funksie van die afmeet van vervlieting nie. Tik tik tik, wat is daaraan te beleef? Kom, haal af jou bril, sit neer jou tangetjie, kom drink tee by my aan die overkant. Overkant, inderdaad! Vanwaar ek hom soggens sien spioeneer het op my! Die verkyker voor sy gesig, ure aaneen voor sy venster, soos ’n bouspekulant! Weke lank het my hande gestok op my werktafel, te bang om my vergrootglas neer te sit, of op te kyk. Soos ’n stillewe het ek gevoel. En ewe roerloos het hy daar gestaan, die verkyker teen sy oë gedruk; af en toe het hy dit laat sak om die wasem van die lense te poets.Wat het hy in my gesien? Ek, klein jid klokkemaker, met keppel en haakneus,’n karikatuur uit ’n kinderboek? En hier kom staan hy waaragtig in my winkel met botter wat nie in sy mond kan smelt nie en nooi my uit! Vir tee! Wat wou hy hê van my? Mevrou, dertig jaar lank het ek probeer verstaan, by die lig wat ek gehad het. Altyd na sy stories geluister, altyd sy Swart Bladsye deurgeworstel saam met hom, wanneer hy weke aaneen in sy bruin hemp gewerk het, het ek vir hom kreplach en blintzen gevat van die kosjer delicatessen, af en toe ’n sak wasgoed na die wassery gepiekel, soms ingespring in sy kombuis en al sy skottelgoed gewas.
Tot die middag in die Westerstraat, toe het ek verstaan hy wil speel, net een keer speel met my, mevrou, as dit die woord is, speel. Dit wou hy my nog bybring. Waarom was ek so ’n stadige leerling? Nudnik, nicknack, dibbuk, kry lewe! het Willem geroep en met ’n lepel teen die koekpan geslaan. Ek het na die wandklok gewys met my koekroller. Dit word laat, ek moet gaan, het ek gesê, en my voete in my skoene in gewerk, my veters geknoop. Hy het geprotesteer. Jou hele lewe lank speel jy hersteller van uurwerke, het hy gesê, en nou wil jy opstap as éindelik iets gebeur wat die tyd laat vlieg! Bel jou byeboer, Meister Schriftsteller, bel jou verdomde orrelman of een van jou ander jeugdige lieflinge om jou akteur te wees, ek sal luister, ek sal lees, maar ek gaan nie hier teater maak saam met jou nie. Ferm woorde, inderdaad, mevrou, maar ons was wat gewoond van mekaar, na dertig jaar. Was daar ’n uitdaging in sy oog? Dit was dieselfde blik as daardie middag toe ek die tellurium vir hom gaan gee het, toe ek teen die trap afgehardloop het, toe hy gesê het hy wil nie eendag alleen doodgaan nie. Wel, mevrou, goed of sleg, ek het van hom my vriend gemaak, en hom gehou, dertig jaar lank terwyl ek sy minnaars sien kom en gaan het. Dit was ek wat moes help met die slagwerker, soos wat ek met hulle almal moes help, met die stratemaker, die dirigent, die kantor, uit die modder moes ek hulle trek en help staanmaak. Al die monumentale bemindes! Hoe het hy dit altyd gestel? Die kaliber van die minnaar kan mens slegs aflees aan die glans van die beminde. Ja, en toe begin dit. En ja, graag mevrou, gee my maar nog ’n frikkadel. En, goed, skink maar vol my glas. Hoe sê die prediker, eet, drink, laat ’n wind … Met die lepel op die pan het hy ’n ritme begin klop, ’n teenritme moes ek slaan, het hy gesê, met die fietsspeek op ’n blikbord. Die grondmaat moes ek stamp met die koekroller op die tafelpoot. Met ’n opgerolde koerant het hy in die kroonlugters geslaan, die lonte van die klappers aangesteek. Allersoetste tolle van hermaakte tyd! het hy geroep, die blou buskruitrook walmend om sy kop. Spirale van herinnering! Laat klink julle verhale! ’n Teelepel op ’n straathoek weggegooi! ’n Klokkie van ’n eensaam iemand se parkiet, ’n klippie, ’n stokkie, ’n klapper uit ’n Chinese winkel op die Zeedijk, fragmente aan my kuste uitgespoel.
Hy het die kroonlugters gestop en andersom aan die gang gesit, met klip-enstaalgetinkel. Met sy hande geroei in die hang-rommel. Hoor die tyd, Jacob, het hy geroep. Ons maak dit dík, ons maak dit bótter, ons is kaasmakers in die wei van sekondes. Die hele tyd het hy my aangehits, met ’n kierie teen my stoelpoot geslaan, my ’n vlieëplak in die hand gestop en ’n kartondoos oor die hele lengte van die kamer na my toe geskop. Herehelp, Jacob! Kry tog lewe! Verbeel jou jy doen iets waaraan jy plesiér beleef! Soos draadtrek, of bid, weet ek veel waarmee jy jouself vermaak! Mevrou, kyk hoe hang daardie ou se bek oop, sy kieste vol vingerkos. Vind hy wat ek vertel so skokkend of het hy miskien ’n soortgelyke eksperiment beleef met Willem? Op ’n ander middag, by ’n ander adres, met ander toebehore? Sit hulle my dáárom so en aangaap? Die walvisroeper? Die bottelier? Sal ek hulle deur jou verkyker bekyk, Willem? En hulle kyk my aan, sien u mevrou, die horlosiemaker wat die kluts kwyt is op sy vriend se begrafnis. Wel, sal ek hulle vertel hoe dit inmekaar steek? Ek het hulle álmal gelees die afgelope week, in daardie verstorwe appartement op die Westerstraat, mevrou, ál die stories behalwe die onderste storie in die laaste doos. Dit het hy spesiaal daar vir my weggebêre, die ou jakkals. Laat my opstaan, laat my my servet neerlê langs my bord en nog eens my glas lig.Vanaand aan u tafel, by die res van u aande aan tafel, my vriende, kan u hom gedenk. Met ’n mes teen ’n bord, met ’n vurk teen ’n glas, ’n klein perkussie wat opstyg uit die stadsgedruis, op tussen die sterre, aangevat deur die gerubyne om hul dreunsang mee op te luister. Dit was intussen kwart voor vyf daar op die Westerstraat, mevrou. Ek het die liniaal tussen my tande vasgebyt, só, soos ek nou doen met my mes, en op die tafelrand gekap in driekwartmaat, my een voet in ’n cha-cha-cha, die ander in ’n tango. En dit het na iets begin klink ook nog. Met ’n tandeborsel het Willem op ’n vislyn gestrum, dit het gedreun van ons gelag, die een het ’n plankie of ’n pyp opgeraap waar die ander dit laat val het, en verder gespeel op die porselein in die kombuisrak, kort en klein het ons die boel geslaan, die skoolklok op die pispot, die kierie teen die deur. Aksént, het Willem tussen alles deur gebulder, ek soek aksente in die paradiddel!
’n Doodskoot in die vonkgat! Hy het geknipoog na my, die oomblik afgewag, sy kop knikkend op die ritmes en die teenritmes tot hy teen die maat in twee glase kort opmekaar stukkend gesmyt het in die aspan. Die lusmakers, het hy dit genoem, wat die trilling moes invoer in die vesels, en toe het hy die spieël bokant die kaggel toegetakel met die vuurpook en ’n waterval van skerwe ontketen. Die hele woning het begin vibreer. En toe het hy al drie piramides olyfolieblikke omgeskop, en oplaas die jenewerfles aan die nek gegryp vir ’n oerknal in die vuurmaakplek. Ondertoe en boontoe het dit in die skoorsteen gegalm, ’n huis met ’n eggoput, met ’n gletser in die rookpyp, die enigste gragtehuis in die stad met so ’n klankprofiel, die enigste in die hele wêreld, ’n eerste in die geskiedenis van slagwerk-improvisasie, en onder dit alles, die fyn pedaalpunt van die tellurium tikkend op die halfmaantafel. Rodika en Dodika! het Willem geroep, speel op die trek-harmonika! En toe het ons in die rondte begin dans en hande klap, al wilder en wilder, met goed wat om ons val en breek. Saladin, het Willem geroep, kom in my arms en draai met my die hemel tegemoet! Saladin? Ken u die verwysing, mevrou? U skud u kop? U dink ek is gek? Saladin was ’n vriend van Rumi, ek het dit opgesoek in die biblioteek, my hele lewe lank sal ek die dinge bly opsoek waarop Willem die middag gesinspeel het. Wel, liewer gek as god. Uiteindelik ’n gehamer op die deur, telefoon aan die lui. Watse pokketeringherrie skop julle hier, watse sifkutkoleregekrys! Willem het die voordeur oopgemaak en ek het die telefoon opgeneem. Wat gotverdomme aan die hand was, wou hulle weet. Die opstanding! het Willem in die deur geroep. Die laaste basuin! het ek in die gehoorbuis gefluister. Saam het ons by die venster op die binnehof uitgeleun, ek met die matklopper op ’n pan en Willem met nonsensrym en kastanet. Hier, ek lees dit voor, dit staan in ’n voetnoot onderaan die Swart Bladsye.
Huakit thi mirammiti lili zimen nibni Huec ucakit hi mirammiti vargia ibnie Biddilihe inte il miken illi yeutihe Min ibidil il miken ibidil i ventura!
*
Skaterend het ons neergesak op die rusbank, skerwe spieël om ons voete. Ons het hande geskud, vier hande, oorkruis, soos kinders, mevrou, soos kinders wat aljander speel. Nie langer hierdie eensaamheid nie, Jacob, het Willem gefluister, ek het vir my ’n prosessie geskryf, wegwysers vir my sultanlose siel óp teen die vervalle trap, om ’n nuwe huis te bou. Wat sou hy tog daarmee bedoel het, mevrou? Die Oldemarkt-prosessie? Klink wel beter as die optog van uile verby sy gat wat ons sopas beleef het. Die skinker, die bakker, konings in ’n droom met klokkies op hul tone, sy nageslag. Dit kom goed met “Die slagwerker”, Jacob, het Willem gefluister, jy het my verskriklik veel gehelp, in my lewe het jy my gehelp, met elke soort werk wat ek begin het, met vensterwas, met harpspeel, met stratemaak, ek moet rus nou, die einde sal homself skryf, die nadervlug was goed, ek dank jou uit my hart der harte. Jy was my enigste vriend. Moenie die boog wegpak nie, ek is jou pyl met die vier vere. Hemel, aarde, god en sterweling. En toe het hy sy hand op my been gesit, mevrou, aan u kan ek dit wel vertel, en ek het my hand bo-op sy hand gesit, dit ’n ruk daar vasgehou, die klein droë benerige hand van Willem. Die eerste keer in my lewe dat ek iemand se hand so vasgehou het. Klein het dit gevoel, klein en krimpend en ek het gedink: ek het jou liefgehad en altyd het ek heimwee gehad na jou, want jy was altyd elders. Hy het teruggesak teen die rugleuning, sy oë toegemaak. Bleek, het ek gedink, sy gesig so maer, der arme Bub, dat hy so moes ly aan sy werk. Ek het sy hand teruggesit op sy skoot en dit gedruk, maar hy het nie teruggedruk nie. Hoe lank het ek nog by hom op die bank bly sit daar in die aangroeiende skemer, die vloer om ons besaai met die instrumente van ons konsert? Niemand, het ek gedink, wat hier sou inkom, sou verstaan wat gebeur het nie, koeëllaers in die koekblik, ’n fietsspeek in ’n kroonlugter, ’n kierie in die
louoond, jenewer in die vuurmaakplek. En op die halfmaantafeltjie die tellurium, die kersvlam wat maan en aarde in hul wenteling verlig, helderder sigbaar noudat dit donker geword het, die beskilderde plate aan die voet van die ratwerk wat aantik van l’automne na l’hiver, die versomberde gesig van die son. Kan u verstaan waarom ek dit met u moes deel? Iemand wat deur die vesels van sy ou flannelbroek, en deur sy verrimpelde vel, en deur sy oumansvlees ’n warmte gevoel sprei het in sy botte? En nie bang was nie? Vir die heel eerste keer in sy lewe nie bang was vir die nabyheid van ’n ander mens nie? Waarom draai u u gesig weg, mevrou? Hier, neem die servet. Die ligte in die binnehof het aangegaan, dit was reeds na ses, maar ek het getalm. Ek het op Willem se stoel aan sy skryftafel gaan sit en sy uitsig in my opgeneem, die binnehof, die ruisende beuk. En ineens, daar, duidelik voor my, kon ek dit sien, ’n gat in die lower! Ek het die verkyker gevat, en ingekyk in die kamer van die slagwerker: ’n bed, ’n stoel en tafel, ’n enkele prent teen die muur. Duidelik ’n jong man se woonplek. Alles netjies, die vensters dig, die bed opgemaak, geen klere oor die stoel. Die woning van iemand met somervakansie. En, ja, géén tromstel in rooi formikamontuur, geen téken van ’n klepsimbaal! Daar op die lessenaar was Willem se manuskrip, hierdie een hier in my hand. Ek het dit deurgeblaai tot by die laaste opskrif: “Eerste ontwerp vir ’n einde”. Kan ek dit vir u lees? Vir die handvol laaste gaste, met u toestemming, mevrou? Het u nog ’n oomblik tyd? Straks kan almal hulle weer begeef in ’n doodgewone jas op ’n doodgewone aand, met ’n alledaagse groet, kan hulle die swaaideur oophou vir mekaar en uitgaan in die voorspelbare straat, en ’n oomblik stilstaan op die sypaadjie, voordat hulle koers vat straatop na die tram, die bus, die trein.
*
Die slagwerker se komposisie wou nie vlot nie. Verpulwer deur sy worstelinge het hy gaan lê tussen sy klepels en stokke, in die nes van nylonsnare van die gebreekte vloerghitaar, en sy kop toegetrek.
Een oggend het hy wakker geword en geweet wat hy moes doen. Hy het al die slagwerk op ’n bakfiets gelaai en dit weggery na ’n stort-plek, alles behalwe sy ou tromstel en die partiture van sy onvoltooide komposisie. By sy terugkeer het hy sy kamer uitgevee en sy tromstel skoongemaak. En toe dit weer mooi blink was en die skroewe opgepoets en die pedaal reggemaak en die toms afgestof, het hy sy partiture gevat en die velle opgeskeur, een vir een, in klein stukkies en uit die lug laat neerreën op die slagoppervlaktes. Was dit uit gewoonte dat hy sy kop gekantel het om te luister na die val van daardie digbeskrewe stukkies papier op die simbaal? Ligter as trane was die geluid, minder as vlokke, teerder as mis, die geluid waarmee sterre weerkaats op ’n poel, die smak van motte teen ’n lantern. En hy het sy oë toegemaak en duisend en een papiere opgeskeur en opgeskeur en die stukkies laat neerfladder, en geluister. En gelei deur die fladdergang van vodjies, het hy die lied van sy verlies begin speel, sonder huiwering, saggies ononderbroke, asof die note in sy hart geskryf staan. ’n Meesterwerk wat geëindig het soos dit begin het, met vier sagte slae. En toe hy dit voltooi het, moes hy bitterlik ween, oor ’n somer wat verby was en ’n komposisie wat hy nooit weer sou herhaal nie en ’n beminde wat hy tot die einde van sy dae sou onthou.
*
Dit was amper donker toe ek die slot klaar gelees het. Op die bank was Willem aan die slaap. So klein het hy gelyk, met sy ooglede teen mekaar aangerimpel. Daar was ’n kilte wat opgeslaan het van buite af. Ek het na sy slaapkamer gegaan om ’n deken te kry. ’n Ruk lank het ek daar gestaan in daardie effens benoude slaapkamer, die beddegoed ’n kwartslag oopgeslaan, soos wat hy elke oggend daaruit opgestaan het, elke aand daarin teruggekruip het, ’n holte in die matras waar sy lyf ingepas het, die klerekas wat oopgestaan het met sy bietjie klere, die hoed wat ek hom gegee het toe hy begin bles word op veertig, aan ’n haak langs die bed – ek sit dit op as ek wil droom, het hy my ’n keer vertel, daarmee wil ek begrawe word. Daar was ’n verweerde skeerkwas op die wasbak, stapels boeke langs die bed. Dose vol manuskripte met titellyste op die deksels
geskryf. Ek het die boonste deken van die bed getrek en dit oor hom in die woonkamer gaan gooi. So vredig-moeg het hy daar gelê, ’n glimlag op sy gesig asof hy vir my wou sê: Klaar gelees daar aan my tafel in die skemer, Tweedledum? Moenie dink ek weet dit nie. En nou gaan jy nog een keer met my verkyker kyk wat jy daar aan die oorkant sien, dit weet ek ook. Ek het die deken tot onder sy ken getrek en hom op sy voorkop gesoen. Gaan die saal se ligte uit? Lei u my na buite? Maak hulle nou die deure toe hier vir die nag? U wil nog die einde hoor, mevrou? Ek het gekyk deur die verkyker. In die kamer aan die oorkant het ek iemand sien binnekom, ’n jong man van in die twintig, met ’n rugsak en ’n blou dratas van die Magic Bus. Hy was bruingebrand, ’n rooi bandana om sy nek, sy blonde hare gebleik in die son. Hy het sy rugsak afgehaal, die vensters oopgemaak, en ’n sigaret aangesteek wat hy staan en rook het voor die venster, sy lyf ontspanne, sy oë op oneindig. ’n Mooi jonge, presies soos in Willem se verhaal, ’n Ariel, met ’n goue ring in sy oor. En toe het hy die stoel nadergetrek en die prent teen die muur afgehaal, ’n plakkaat van ’n rock-orkes was dit, groot rooi letters kon ek lees boaan. The Grateful Dead. En onderaan die naam van die solis in die kollig agter die tromme, Micky Hart. Die jonge het sy rugsak oopgemaak en ’n kartonkoker uitgehaal en ’n prent daaruit getrek, dit oopgerol en weer op die stoel geklim om dit op te hang, presies op die wit vierkant waar flussies nog die beroemde drummer van The Grateful Dead opgeplak was. U wil tog wel weet wat op sy nuwe muurprent was, mevrou? Gaan u saam met my op die tram? Kan u my stripkaart stempel, asseblief? ’n Griekse strand was dit, ’n strook swart sand, ’n gleuf blou see, ’n sonskyndag. En in groot wit letters boaan: Atlantis – Versonke Stad. Oor die Amstel met die tram. Dit het ek lanklaas gedoen. Ek ken ’n skilder in ’n woonboot ’n ent hoër op, mevrou, wat sy hele lewe lank dieselfde vierkant van die rivierwater skilder. The River Below, noem hy al sy doeke.
U begryp nou wat met Willem gebeur het, mevrou? Stadig het dit tot my
deurgedring daar waar ek in sy stoel gesit het en gekyk het na die doodgewone jong man wat teruggekom het van ’n vakansie in Griekeland, teruggekom het in sy doodgewone kamer met ’n doodgewone plakkaat van ’n popster teen sy muur. Willem het aan die begin van die somer verlief geraak op sy oorkantste buurman en plotseling gaan die fraaie kêreltjie toe met vakansie. En dit was die einde van die afloerdery. En toe versin hy as kompensasie ’n verhaal. U sien dit: Nie deur ’n verkyker nie, maar deur sy verbeelding het hy daardie leë kamer volgespeel met ’n slagwerkextravaganza, ’n sampioenwolk van versinsels gevestig op gemis. ’n Plakkaat met ’n tromstel teen die muur was daartoe voldoende aanleiding. En dié verhaal, mevrou, vertel hy aan sy vriend op die laaste dag van sy lewe. Die waarheid is vreemder as fiksie, inderdaad. Eers by die huis het ek agtergekom dat ek die verkeerde jas van die kapstok gehaal het. Teen die aand van die volgende dag het ek teruggegaan om my eie jas te kry en hom daar aangetref op die bank, soos wat ek hom agtergelaat het. Ek sê u wat, kom saam met my na die Spiegelgracht? Dit kan geen kwaad doen nie. Die ergste het ons gehad, nie waar nie? Ek het koue vodka en groen olywe. Ek laat u my mooiste horlosies sien, die Comtoises, die Bornholms. En dan vertel u my van u kindertyd. Willem wou nooit oor sy moeder praat nie, wel oor sy vader wat hom geleer het om die wolke name te gee. Nou treur u? Met u kop op my bors in die tram? Laat ek my arm om u skouer sit. Wat sê u? Bietjie harder, asseblief? Dat ons nou meer dikwels alleen sal voel? U en ek? Ag, wat is “alleen”, ek is nog hier en u is nog hier. U laat my aan my moeder dink. Ek ruik nog elke dag aan haar laaste flessie parfuum. My vader het dit in sy lessenaar se laai bewaar. En ek het dit oorgeneem toe hy gesterf het, nou is dit in my laai. Chanel nommer 5. Miskien moet ek dit aan u gee. Wat is ons anders vir mekaar as bewaarders van melankoliese geure?
Die sterre skyn oor ons. Ek is die halfmaan, soos Rumi sê, opgehang bo die hek na die fees. En wat sal ons hierdie nuwe soort kyk-tram noem waarin ons nou saam reis deur die stad? Waar mense stil sit en hulle blik oor ons uitstort soos lig, soos antwoorde? U wil meer weet van my? Net een persoon wat u iets sou kon vertel, my liewe mevrou, en ons het hom vandag begrawe. Maar ek het ’n voorstel. Eintlik ’n guns wat ek u wil vra. Ek het ’n spesiale manuskrip onder in ’n doos gekry vanoggend in Willem se slaapkamer, die laaste doos wat ek uitgepak het. Die onderste manuskrip, onder al die onvoltooide manuskripte, onder “Die sneeuslaper”, onder “Die swanefluisteraar”, daar in ’n koevert, ses en dertig “Wit Bladsye”. Ek durf dit nie lees nie, die heel eerste verhaal wat hy voltooi het, dertig jaar gelede, en nooit gepubliseer het nie. Sal u dit lees, aandagtig, op ’n stoel onder my leeslamp in die studio, terwyl ek die vodka skink en die ou horlosies vir u opwen? En my dan, daarna, vertel wat daarin staan? Net kortliks, asseblief? In “Die klokkemaker”?
Die sneeuslaper
’n Veldwerkverslag
Gesprek
Gewone mense is ook eienaardig, let op die swerwer in hulle blik wat wegsluip terwyl hulle met jou praat, na die een of ander blink boskaas agter die kopbeen speurend na ’n on- of ander werklikheid, hengelend na skadu’s in ’n kuil.
Maar soms vat die boemelaar ’n ander pad, by sý oë uit, by jóúne in, denkend dat jy gister is, of môrenag, ’n woud waarin hy tussen dennenaalde en klitsgras die verlore munt, die laatvalde steek mag vind.
Verdooldheid egter, is verbode: normale mense keer vinnig na die hede terug, kyk jou nugter in die oog asof hul jou verseker: ekskuus, dit sal nie weer gebeur nie, of gooi ’n keerwal van verstandigheid om nabyheid mee te stelp, en stop in plaas daarvan per ongeluk vloekwoorde soos rose in hul gebruiklike diskoers.
Louis MacNeice (Vert. H. O.)
Helena Oldemarkt Lauriergracht 43 1016 RT Amsterdam
18 Oktober 2008
Die Direkteur Landelike Onderzoeksteam Onbehuisden Vrije Universiteit Amsterdam
Geagte professor Sprinkhuizen,
Verwys onderhoud met onbehuisde: Dienst Onderzoek en Statistiek. Amsterdam 2008.
Na etlike pogings om telefonies met u in verbinding te tree – volgens u sekretaresse is u die laaste tyd meestal in die veld om u medewerkers te monitor – neem ek die vrymoedigheid om aan u te skryf. Aangeheg vind u seleksies uit ’n geredigeerde transkripsie van ’n onderhoud, as dit die regte woord is, wat ek in die nag van 10 Julie 2008 gevoer het met iemand wat ek by gebrek aan duideliker identifikasie “die sneeuslaper” sal noem. Die gesprek het plaasgevind in die kader van die jaarlikse telling van dakloses van die Dienst Onderzoek en Statistiek in Amsterdam waarvan ek reeds etlike jare sedert die dood van my vader ’n vrywillige medewerker is. Die werk vorm deel van my proefskrifstudie oor vagrante in grootstedelike konteks onder leiding van u kollega dr. Gottlieb van Doorn, Instituut voor Nieuw Sociologisch Onderzoek, Utrecht. Die gedig van MacNeice hierbo hang geraam bo-kant Van Doorn se lessenaar. Ek wil graag op die voorhand my belang verklaar – ek doen vrywilligerwerk onder die minderbevoorregtes as ’n vorm van troos. My vader was ’n swerwer in sy laaste jare voordat ek hom laat onderbring het. En nou skyn dit, deur ’n rare sameloop, my beurt om verdwaald te wees. In een oogwink gepromoveer van veldwerker tot vagebond. Soos u sal sien uit my transkripsie, het ek my sover moontlik gehou by die handleiding en voorgeskrewe vraelys wat u vir die ondersoek ontwerp het. Hoewel ek die verlangde inligting ingesamel het, is ek nog nooit in al die jare van my onderhoude met dakloses op dergelike wyse gekonfronteer nie. Ek begryp dat u in die eerste plek ’n statistikus is, en dat u as samesteller en landelike koördineerder van die enquête, weinig te doen het met kwalititatiewe ondersoek. Aanbevelings aan die staat oor hulp aan onbehuisdes moet op harde
feite stoel. Desondanks het ek dit tog raadsaam geag om u te betrek by die verloop en die inhoudelikhede van hierdie geval. Dit betref naamlik onder andere ’n moontlik ernstige misdryf wat volgens die ondervraagde in die winter van 2007/08 sou plaasgevind het in die Witte Hartensteeg in Amsterdam. By nadere ondersoek blyk daar geen sogehete steeg in Amsterdam te wees nie. Volgens alle aanwysings is die plek waarna hy verwys het die Schapenburgerpad, ’n ongeasfalteerde tuinpad agter die P.C. Hooftstraat. Tot op datum het ek nóg die plaaslike tak van die Diens S&O, nóg die polisie ingelig oor die voorval, ’n versuim waardeur ek my miskien kan inkrimineer voor die gereg. My onmiddellike sorg is egter dat die ondervraagde my sedert die onderhoud sou begin bespied het. Hy weet wel wie ék is, en sou maklik my adres in die telefoongids kon opsoek. Tot dusver kon ek hom nie op heter daad betrap nie. Ek verstout my om by te voeg dat die oë wat ek op my voel nie dié is van ’n kwaadwillige nie, eerder dié van ’n “piereleurder”, soos hy homself genoem het, wat sy hand wil waag, al sou ek nie weet op watter soort geluk hy uit is nie. Ek is ’n enkellopende vrou op leeftyd, of ten minste, dit is hoe ek my voordien beskou het. Tans waag ek dit nie meer op straat sonder om my te verklee as tassevrou nie. Ek voel genoop om heel versigtig te wees wanneer ek my eie huis binnegaan. Hy is die soort wat soos ’n skaduwee (’n melodie? ’n geur?) langs mens heen sal glip en homself sonder jou wete sal binnelaat as jy jou rug draai. Reeds drie maande lank swerf ek in ’n staat van wat ek nie anders kan noem nie as “verhewigde bewussyn” langs alle anten-verblijfen en nagschuilingen van HVO Querido, die Leger des Heils, en die onderkomens van die Stoelenproject, maar sonder dat ek ’n enkele spoor van hom kan agterhaal. Saans sit ek in die kafee van die Volksverbond op die Haarlemmerstraat en vis tevergeefs by die volk wat daar binnekom. Ek verwag ieder moment dat hy sigself sal aandien. Ook waak ek etlike ure per dag in die Schapenburgerpad waar daar aanwysbare restante van sy winterverblyf is, maar ook daar het hy nog nooit weer sy opwagting gemaak nie. Wat sou ek doen as ek hom eendag sou raakloop? As hy hom aan my sou voordoen? Sou ek hom herken? Hoe sal ons dan met mekaar praat? Sal ons aanhou hengel na die skaduwees, of sal ons dit dié keer nader durf? Hoe sou ek my dae slyt as ek hom (sy gebare, sy klank, sy onmoontlike sprokies) nie langer mag soek, mag verwag nie?
Ek hoop dat u my vanuit u gespesialiseerde kennis en wye ervaring van raad kan bedien in hierdie bedenklike casus van oordrag tussen hulpverlener en behoewende. Ek vertrou dat u nie ingespin sal word in die web van konjeksie, valse verwysings en oëverblindery waaraan ek ten prooi geval het nie. Dit is genoeg as daar tydens hierdie enquête één deelnemer is wat in die ban geraak het van ’n opgeefsel uit die ryk der toeval.
Hoogagtend die uwe, Helena Oldemarkt (medewerker Dienst Onderzoek en Statistiek Amsterdam 2008)
Medewerkersnommer: MW 112358 Tel tuis: 020 6365538 Mobiel: 0642260320
P.S. As gevolg van ’n onverklaarbare fout in my opname-apparatuur het my eie stem op die bandjie verlore geraak. Daar is dus geen transkripsie van my eie inbreng in die gesprek nie. Voorts was ek genoop om die ondervraagde se woorde so goed en sleg soos wat ek kon, in te vul waar sy verhaal onsamehangend of sy uitspraak onduidelik was. Omdat die drie bandjies wat ek van die Dienst O&S gekry het oplaas vol was, kon ek nie die tirade vaslê waarmee die ondervraagde my vaarwel toegeroep het nie. Miskien was dit ’n verweer teen ons beider skroom. Ter insae sluit ek vir u deurlopende memoranda in van my waarnemings en oorwegings tydens die gesprek, sowel as van my gedagtes in die maande daarna, toe ek die bande herbeluister het.
Transkripsie: Die sneeuslaper.
Onderhoudteks Ams C-37 10 Julie 2008 Memoranda 11 Julie – 19 Oktober 2009
Memo 1 My Vrydagaandse uitstappie hobo-spotting, my toerusting in ’n drasak oor my skouer, effens teësinnig om buite te wees want ek is goed aan die skryf, ’n hoofstuk oor depersonalisering van die swerwer in die maatskappy. Ek tref die ondervraagde aan by die rosarium in die Vondelpark, op die bank onder een van die iepebome. Hy is in sy vroeë sestigs, golwende silwergrys hare, groenbruin oë, ongeskeer, bruingebrand op die manier van aan wind en weer blootgestelde swerwers. Ek gaan af op ongewone kadense, ’n vreemde glossolalie, die lug in die roostuin in beroering daarvan. (Spits ek nie altyd my ore in die stad vir afwykende geluide nie? ’n Gewoonte uit ’n landelike jeug, geërf van my vader, mens kon hóór as iets uit plek was in die gehug waar ek grootgeword het.) Aan sy voete ’n plastieksak met etenswaar en ’n fles waaruit hy af en toe ’n sluk neem. Sy regterskoen aan sy voet, die ander dwars voor hom as bedelbak. Verder ’n verbleikte spykerbroek,’n blou gholfpet en ’n splinternuwe wit jek met op die rug ’n advertensie van Die Goue Tulp, somervakansieaanbieding vir ’n lange week-endverblyf in ’n luukse suite (vgl. “Zwervers als wandelende reclameborden”, de Volkskrant 12 Augustus 2008 p. 4). Dis ’n uur of agt, hy is goed op dreef. Wanneer hy die mikrofoon in my hand sien, lig hy sy pet, knipoog asof hy verwag om my daar te sien. Die omstanders is oor die algemeen ouer mense, outochtone uit op ’n aandwandeling (die jongeres glasig met oorfone in hulle ore, hulle hoor niks behalwe hulle eie kopgefemel nie). Die lied hieronder is die eerste stuk waarby ek naby genoeg aan hom kan kom vir ’n opname. Hy kondig die voordrag aan as ’n “overture”, maak ’n buiging na die gehoor. ’n Nogal literêre teks, vind ek, maar op die wysie van ’n smartlap. My eerste aantekening op my klapbordskryfblok: ’n Man wat van homself durf verskil.
Transkripsie: Opname sneeuslaper, bandindeks 1-3.
Ag, ek is bloot skulpgeruis wat treurnis in my gleuwe berg ’n glimtor uit ’n swart kombuis wat sagkens mompel in die kerk
En niemand wat van buite sien wie ek dan, so die sterre wil, moet wees drie duiwels in my binneste wat my steeds die swartboek van die swerfkuns lees
Oorsomerd in ’n saal van spieëls oorwinterd in ’n klambo sneeu ’n parkbank of ’n smal wit steeg my paskwille u ontwille bly immer legio
Wie my soek die waag ’n kans wie my vind is blind daarvoor van nokkapok tot beukebrons stort ek woordjenewer op my spoor
Memo 2
Bogenoemde word voorgedra volgens die konvensies van ’n Lieder-uitvoering. Vernaam staan hy daar in die late lig, knik na my asof ek sy begeleier is. ’n Imponerende gestalte, in die son en skaduwemeling lyk sy hare lewendig, ’n nuwe dier, soos my oorlede pa sou sê. Wie is hierdie man? Weer die samesweerderige oogkontak. Moet ek weg? wonder ek, maar ek is al byna sy toneelbediende. Wat is hierdie meester se ambag, sy kaakstand snoek, sy mondstand tulp? ’n Verbasend nootvaste bariton, in ieder geval. Na afloop, algemene akklammasie, kleingeld klaterend in sy skoen, die omstanders roep om meer. Ek probeer my beter posisioneer met my bandopnemer. Ek let op sy skoene dra die merk Mercurius.
Transkripsie: Opname sneeuslaper, bandindeks 4 Kyk wie gooi iets in die hiel van Augustus! Silwer onder die voet-vlerk! Nee godalmagtig, dit verdien meer, meneer, as ’n skubbetjie, dink u ek is ’n aap wat goedkoop klokkies lui? Een hele oggend sit ek en foeker hier onder die beuk op my bankie om vir u ’n Vondelparkse aandlied te fabriseer en u kan nie dieper in u buidel tas as na ’n spyker nie? En moedervanjesus wat vir ’n pieremegoggel het ons hier wat haar mikrofoon voor my neus hou asof dit ’n angelier is van blou fluweel? ’n Hulpverleenster van die Heilsleër? Waar is die hoedjie van gods lugwaardin? As ek u was het ek nie so gekyk na ’n clochard in ’n park op ’n someraand nie, dis soek vir die opdoen van iets engs in die kut, parlez-vous français? Skenk my dan ’n silwerling s’il vous plaît en ek vertel u van ’n weergalose winter.
Memo 3 Die atmosfeer daar onder die boom in die soel someraand prikkel my huid. Dis ’n smal wand wat ons skei, dink ek. Sy toon en aanpak laat my naamlik aan my pa dink, die provokasie van die toehoorder. Klantebinding, het hy dit altyd genoem wanneer hy ons met so ’n raaisel of ’n liedjie na sy stoel gelok het, veral ek moes liegemaak word, beduus soos ek was. Maar met “Boom staan in die aarde en bloei so skoon, o boom” kon hy my altyd onder my klip uitkry.
Ek laat sien die swerwer my identifikasiekaart van die Dienst O&S, hy spel my naam sorgvuldig uit, tik met sy vinger teen sy slaap. Ek vra of ek ’n onderhoud met hom kan voer, benadruk dat dit sonder vergoeding sal wees. Ek lees die vertroulikheidsooreenkoms vir hom voor. Niks wat hy sê, sal op enige manier gebruik word buite die bestek van die ondersoek om nie, en sy identiteit word beskerm. Ons teken dit al twee, hy met ’n swierige krabbel. Die omstanders trek hulle terug, enkeles bly hang binne hoorafstand. Hy bekyk my van kop tot toon terwyl ek my missie verduidelik. ’n Vreemde duiseling oorval my soos toe ek as klein kind agter my pa se rug deur ’n laning populiere gefiets het, die slagskaduwees flikkerend op my ooglede.
Transkripsie: Opname sneeuslaper, bandindeks 5 O sy kwinkeleer so lief in die parkse crepuscule, die laaste lewerik. Wil sy regtig met hierdie fluoressente dwalm aanappel? U is van die stadswelsyn, mevrou? Wat sê u? Kom tog nader, tjienkerientjee, ek is hardhorend. U is van die diens wat jaarliks buiteslapers tel? Sy kyk my aan! Og, wat ’n kennersoog wat op my rus! Diva van die doolkoppe in die katakombes van die Krijtberg, slaapmeter van die buiteliggers in die Heiligeweg! Of miskien die favoriete assistent van Dominee Visser van Rotterdam, die nomadepastoraat van die Pauluskerk? Hy sal sukkel sonder sy armetierige skapies, behoeftig na ’n troostende hand. Die stomme stotteraar, uitgeturf uit sy gemeente deur ’n stelletjie burorotte, met byende opstand van sy bedelkudde, bid jou aan, nou wag mens vir die opera in drie aktes met ’n koor van vagante. Die Goeie Man van Rotterdam. Asof één gebarende graftak met ’n gat in sy lyf nie genoeg is daar op die voorstrand nie. Gij burgers, aanschouw hoe vlieg Gods trekswaels deur my pens!
Memo 4 Die verwysing na Zadkine se standbeeld is ter wille van my, voel ek. Imponeergedrag, skryf ek op my klembord, plus ’n lys vrae. Histrioniese persoonlikheidstoornis? Manies-depressiewe toestand? Besope? Nie een ongewoon by swerwers nie. Maar hierdie man lyk nie gestoord nie. Wel woedend, miskien met ’n paar kappe in, oewerloos geskif, ’n vertroueswendelaar. Dis hoe ek hom plaas. My plasing verdamp onder sy blik, ’n
innemende laggende blik wat sy sardoniese toon weerspreek. Wie is die man? Ek wend my oë af, stel die kontroles van my bandmasjien in. My oorlede broer, Willem, die skrywer, het altyd beweer ek is eintlik ’n voyeur nes hy, maar dat ek dit aanbied as noodleniging met wetenskaplike onderbou. “Erg bedenklik, my geleerde suster, as jy gehoor gee aan die hulpeloses maar heimlik teer op hulle ontboeseminge, solank jy maar nie ryk word daarvan nie.” Dis hoekom hy liewer ’n digter as ’n romansier wil wees, het Willem altyd gesê, dan sal hy in plaas van aas op ander mense tot selfondervraging beperk wees. Na die oorlye van my vader het ek Willem meer gereeld begin besoek, die eerste keer dat ons eintlik met mekaar begin praat het nadat hy uit die huis is, hy was soveel ouer as ek, miskien nog meer van ’n rara avis as ek. Nou het die dood hom uiteindelik verlos van sy karakters, verlos van sy gesukkel om sy onversadigbare ego te kamoefleer, soos wat hy altyd gewens het, ses voet onder die sooie van Zorgvlied, uiteindelik onskuldige beendere. Maar wie moet nou die stories opteken? Ek is geen skrywer nie, ek is ’n daklosedeskundige, net soos u, maar is daar ooit wetenskap sonder belang, professor? En wat is die verlies van geliefdes anders as ’n slepende belang in die hart van die nagelatene? Koninkryke kan jy daarop vestig, terraria van herinnering. Is dit waarom ek daar onder die iep by die blink swerwer alles neerpen wat by my opkom? My pa het soggens sy adres wat ek op ’n papiertjie getik het in sy hempsak gesteek en straataf verdwyn, tot hy laatmiddag deur die blommeman huis toe gebring is op ’n bakfiets. Die blommeman, die visboer, die mevrou van die banketsaak. Met ’n sonneblom, ’n haring, ’n warm brood wat hulle hom gegee het, en wat hy my met albei hande kom aanpresenteer het. Dan het hy vertel van sy avonture, van die vreemdelinge met wie hy gepraat het. Soms had hy dit oor vreemde figure wat hom agtervolg. Toe het ek vir hom plek gekry in ’n versorgingsoord. Daar het hy voortdurend weggeloop tot hulle hom toegesluit het, soggens in ’n saal vol verbysterdes, die res van die dag in ’n karige kamertjie met diefwering voor die venster. Met my vraelys en my mikrofoon langs my gespreksgenoot, dwarrel hierdie beelde soos swerfsade uit my op, word ingetrek in sy sog, ’n skip wat langs my heen vaar. Ek voel die soutsproei op my gesig. Ek vee oor my mond voordat ek
die volgende vraag vra.
Transkripsie: Opname sneeuslaper, bandindeks 6 Waar ek vandáán kom, wil u eerste weet, mevrou? Leer julle nie meer die kuns van die respekvolle nadervlug daar in julle lieweherehoge-skool nie? “Waar” ’n swerwer “vandaan” kom, het u dit gehoor, beste toehoorders? Wáárvandáán! Vandáánheid is van iemand wie se bed op één plek staan, beste dame, maar ek lê buite, ek kom uit ’n komkommer, en ek waai waar ek wil, en ek ken al die gate, die somerhuisies en die kortverblywe, hierdie parkbank is my Xanadu, maar eintlik is ek ’n man van sneeu, ek drink my eie dors, met ’n mierikswortel vir ’n neus en drie kastanjeknope op my buik, ’n wrede opslag van verbeelding in my bors.
Memo 5 Smiddags, as ek op besoek gekom het, het Vader slapend voor die sneeuende televisie in sy kamer gesit, sneeu binne, sneeu buite, sy laaste Desember, en om vyfuur het ’n verpleegster gekom en ’n entjie met hom geloop in die binnehof. Is die wêreld nog daarbuite? het hy gevra, hier kan ek nie verdwaal nie. Die laaste middag het hy ’n takkie huls afgepluk en in die knoopsgat van haar uniform gesteek, het sy my vertel, haar hand geskud en gesê, prettige Kerst en dankie vir die wandeling en hy is gereed nou vir die skutkolk. Sy het gedink dit is deel van sy spraakverwarring.
Transkripsie: Opname sneeuslaper, bandindeks 7-9 Mevrou, laat ek dit so stel: vanuit my drastoel bekyk ek oor die jare my gevolg, hulle wat my deur ’n loep bespied asof ek ’n barbaar is met my klokwerk in ’n koker. Agtien jaar al is ek ’n boemelaar en in die oë van my medemens ’n onderwerp, ’n skilderagtigheid, ’n sendingveld, ’n ondersoekgebied, ritselende nagvuil waarteen jy met jou skoenpunt skop, maar niemand het my nog ooit gewoon gevra, man, hoe het jy so in jou moer gegaan nie.
Is dit nie waarin u moet belangstel nie? Maar waar ek vandáán kom, wil u weet! Die glimtor in die swart kombuis! Waar ek vandáán kom, is my moer, mevrou. En ek is ook daarheen op weg. En u, mevrou? Of is u smetteloos ontvang? Ag, kyk nie so versteld nie, ek is van wêreldrampe alleen maar seremoniemeester. Kom, sit u hand op u skaamheuwel en aanskou die aand, soos ’n duif daal sy neer op die nes van die wêreld, soos ’n papawer neig sy haar kop na die einder. My tortel wat my dae vasbind in haar klein swart nekdoek, my papawer wat my woorde in haar skedel droog soos fyn swart sand. Ek is haweloos, ek rig op die Hondster, ek eet gruttesop. Het u vir my ’n euro? Sal ek my paling in u portemonnee bring om daar ’n glimlag te verwek? Kyk, mevrou, hoe staan die wandelaars weer nader, u sorg dat ek toehoorders het in hierdie skemer stilte, seerowers by die laaste goudboei anderkant die breekwater.
Memo 6 Ek ignoreer die toespelings. My houding soos voorgeskryf is empaties maar afstandelik, met refleksie van gevoel, en ruimte vir willekeurige inligting ten einde koherensie en mentale status van die ondervraagde vas te stel. Hoe meer ek luister na sy “obdachlosem Unsinn”, soos hy dit noem, hoe meer kom ek agter dat hy goed op die hoogte is van die beleid aangaande dakloses, hy weet van die voorgestelde gratis verblyf in skeepscontainers en van wegsanering van marginales uit die middestad. As in Amsterdam ’n swerwer bevrore aangetref word in ’n steeg, vertel hy my, “begrawe hulle hom kiertsregop in ’n kis van eko-vriendelike karton met ’n nikkelplaatjie aan sy toon”. ’n Vlooimark van gesegdes sou dit wees vir Willem, skryf ek op my klapbord. Dit was in ieder geval hoe sy huis gelyk het aan die einde, ’n vlooimark. Daarmee sou ék geen raad geweet het nie. Nou broei ou Kippelstein daarop, sy vriend wat hy aangewys het as literêre eksekuteur. Soms bel hy my op om te kom help. Maar dit is altyd dieselfde verhaal, “Die klokkemaker”, wat hy wil hê ek moet vir hom voorlees. Hy dink dit handel oor hom, maar is te bang om self te kyk. Willem se stories gaan alleen oor Willem, wil ek hom vertel, maar die ou kêrel kyk so melankolies, waarom sou ek hom van sy illusies beroof?
Transkripsie: Opname sneeuslaper, bandindeks 10 Ja, mevrou, ek “beskik oor ’n identiteitsdokument”, watter nare woord, waarom moet u u ondersoek in sulke koue ganskaktaal opskryf? Ek “beskik” ook oor ’n “persoonsnommer”, jaseker, ek staan ingeskryf by die gemeente as nagswerwer, as “sorgwekkende sorgvermyder”, want niemand mag in hierdie land van bed na pisbak beweeg sonder nommer, naam of kategorie nie. U mag my weeg na hartelus, in my balle ’n klein ons kwak wat u kan afneem vir ’n telling van my vrugbaarheid, en met u er van my neusgeut tot my oorlel meet om my basterweelde vas te stel. My posbus? By De Veste in die hal, Querido se nagverblyf. En nee, ek dra nie my papiere by my nie, waar ek vandaan kom, steel die dievegges die brood uit jou bek, ek hou dit in veilige bewaring in my kluis, my papiere en my goud en my goedertierenheid. My volle voorname? My agternaam? Gedoop? Ag, moet my nie laat lag nie, in my ravot my name soos die varke van Gadara. Arturo Rosenblut, Gaspard de la Nuit, Lothario Senzatetto, Kardinaal Stefaneschi, Woyzek as u wil, of Casimir von Slippenbach, ek is aan my eie ongelykheid op elke punt gelyk, die hondeman van Sinope, my lamp is in my broek, twee blou besse bengel aan die handvat, wil u dit sien? U sê nee dankie? Dan lig ek maar my pet. Daaronder sit eweseer twee lobbe, bomzis en bomzas met ’n lugdraad deur my fontanel vir opvangs geruisvry uit die hel. Eintlik wil ek u vertel hoe ek in my moer gegaan het laasjaar in die bibberling.
Memo 7 By tye praat hy Rotwelsch of Bargoens, of die een of ander landelike of koloniale dialek, soms ’n vername Nederlands, alles deurspek met obskure verwysings, met klokslag die belofte van ’n “sneeustorie”, ’n “winterverhaal” wat hy wil vertel, maar eers ’n psalm, om my “te lubriseer”, een van die vele waarmee hy gedurende die onderhoud vorendag kom. Hy “bloemlees sy skedelpan” vir my, sê hy. Uiteraard met die oog op ’n bydrae in sy skoen, “por Dios”. Die wysie van die psalm kom my bekend voor. Is dit wat die opsigter by die tehuis geneurie het in die stoor, toe ek my pa se tas gaan afhaal het? Hy het met
sy sleutelbos rinkelend aan sy broekriem voor my uitgeloop in die gangetjies, rakke tot teenaan die dak, sakke en tasse van alle groottes en kleure. Tot dusver kon ons die oorledenes se goed hier hou vir ’n paar jaar, mevrou, het hy gesê, sommige naasbestaandes het tyd nodig voordat hulle dit kan afhaal. Sommige kom nooit. Nou lewer ons dit na drie maande af by liefdadigheidsorganisasies. Maar ons het ’n agterstand, soos u kan sien. Hy had ’n lys van my pa se laaste besittings wat ek moes kontroleer aan die inhoud van die tas. Ek het die knippe oopgedruk en weer toegedruk. Laat maar, het ek gesê, dit maak tog nie meer saak nie.
Transkripsie: Opname sneeuslaper, bandindeks 11
Ons gaan soos ingekeerdes Stil deur ’n vreemde oord Uitskot van die wêreld Ongesien en ongehoord Maar wil iemand ons betrag Dan hoor hy hoe ons sing Van wonderlike dinge Ons weet wat op ons wag.
Memo 8 Die psalm kom in ’n stentoriese tremolo. Hy sing met opgehewe hoof, asof na ’n hoë preekstoel, ’n ou weerlose wysie wat opklink tussen die late merelklanke. Daar hang ’n stilte as hy klaar is. Sonder om my aan te raak gaan sy hand langs my rug. Eendag, beloof hy, sal iemand my “frêle scapulas” oopblaai om
engelevlerke daar aan te naai en dan is daar ten minste murg van waarheid in my rugstring. Wat hom oorgekom het, wil niemand glo nie, sê hy, my vas in die oë kykend, en ek is tog by hom op die bankie hier omdat ek wil gló in iets? Ek dink: ek kan die onderhoud opskort, my bandopnemer wegpak en gewoon met hom gesels. ’n Ontmoeting op ’n parkbank, dit gebeur tog by tyd en wyle met ’n mens? Die vrae wat ek wil vra, staan nie op my lys nie. Wie is die vagrant se moeder? byvoorbeeld. Dat hy van haar moet wegkom? Na haar moet soek sy lewe lank? Ek probeer my Wieldiagram Kommunikasie invul: woordeskat, artikulasie, koherensie, konneksie. Hy kry die maksimum aantal punte, die wiel is nie daarvoor ontwerp nie, hy druk met sy wysvinger op die soliede pienk sirkel, maak ’n geluid soos van ’n slagyster wat toeklap.
Transkripsie: Opname sneeuslaper, bandindeks 12 Kom, kom, mevrou, vergeet nou maar u diagram, halsreikend wag die rose, hulle pienk is meer betroubaar as u viltstift. Ek sal my sneeustorie mooi vir u verpak. Die verpakking is alles, nie waar nie? Die proloog, die eerste sin, die uitstel van die einde, en klaps, die sprenkel om u enkel. Ek weet, dis hoe ek my geld verdien, met spannende verhale, miskien gee u my iets in ruil, ’n snuif in u nek, ’n leidraad tot u tabernakel? Sy glimlag? Sy vind dit vermaaklik? ’n Koningin wat haar die baard laat trek deur ’n nar met ’n donkielul in sy pantalon? Kyk, sy maak haar reg om my te dokumenteer, my dokumentrise, sy vou haar bene, sy wil haar vrywaar teen die rose dildo van my denke.
Memo 9 Ek probeer ’n glimlag onderdruk. Asof dit die teken is waarop hy wag, bied hy sy hand aan vir my om te skud. ’n Sagte hand, ’n warm hand vir ’n buiteslaper. Hy noem my ’n “verjaarde ekster op sy skroothoop”, belowe my sy sage sal ’n hele hoofstuk in my proefskrif wees (wanneer het ek hom daarvan vertel? Of is dit deel van sy swendelary?), en ook nog “kommentare en glosse en ’n jare lange gekwetter in my sorgskool of asiel of toring van maatskaplik verantwoorde
ondersoek” of wat de fok ek my “dak-drukgroep” ook noem. Fok die dak, die hemel is my herder, roep hy met sy arms wyd oop in die lug. “Not to autumn will I yield, not to winter even.” Waar sou hy daaraan kom? Hy spreek met my af: ek het my vraelys en hy het sy verhaal, ek wil die algemene en hy wil die besondere, ek soek die syfers en hy soek die samehang. Sou ons so kan kwit speel? vra hy, ek mag ’n vraag vra en ’n bruikbare antwoord van hom kry, en dan mag hy ’n stuk van sy storie vertel. Tussen u inkwisisie en my vervolgverhaal, sê hy, laat ons om die beurt ’n wind en ’n sterretjie. En dan het ons ’n konsert op die parkbank vir Madonna, daklose en aandhenne, vir hom is dit genoeg, hy kan met min mense op sy vlak praat, sê hy. (Volgens die ensiklopedie is dit ’n verwysing na die Pleiades, die henne van Freya, nie die eerste verwysing na Skandinawië nie, miskien was hy daar op sy omswerwinge?) Ek kyk na sy profiel, verdrietige mond, verbete ken. Is dit die soort vreemdeling wat my pa sou ontmoet het op sy ommegang deur die stad? En waarvan hy my elke keer in my studeerkamer kom vertel het asof hy daarmee wou sê, gaan uit en leer ken jouself, lewenservaring staan nie in die boeke nie. Eers na sy dood kon ek die opdrag begin uitvoer, alleen uitgaan in die stad, op ’n Vrydagaand, en leer speel met wat oor my pad kom.
Transkripsie: Opname sneeuslaper, bandindeks 13 Wat is die probleme wat ek as onbehuisde daagliks ondervind, vra u? Om ’n plek te vind om te ontlas, mevrou, dit is lastig vir ’n woninglose. Deodatus, my kompater van Schiermonnikeoog, verkies die Openbare Biblioteek, hy sê die heilige halle van die boek laat sy maag fantasties werk. Ek verkies die trein van Amsterdam na Sloterdijk. Ek kak by voorkeur swart. Uit my swart slaap onder my swart karton ontwaak ek en skud my soos ’n swart hond uit my swart drome en begeef my na die stasie. Ek groet my broers wat swaai met hulle swart koerant, ’n sagte stoel, Kasparus, ’n goeie dagbegin, roep hulle, ons ken mekaar se gevrete, ons weet hoe ons lyk as ons moet skyt. Ek gooi ’n kwartjie in die hoed van die sigeuner en hy speel vir my ’n poeptaptoe op sy trompet. ’n Sperwer in my jas verdronke in my baard, stap ek as eerste reguit in die
tweede klas se klein stink plee, die raampie oop vir agtergrondsgedruis, ek lig die klep, laat val my broek en skik my boude op die bril. En open my, ahaa, nog voor die fluitjie blaas. Hoor my fantasie, mevrou: my derm is in ’n derm en my bolus in ’n bolus. Want elke oggend vreet die trein sy asiers, bebotter met verwagting, en skyt hulle deur die spuigate op grys perronne uit, die dikke ikke filosowe van ons vaderland in hul vloedgeute van wysheid. Die geel trein op sy reguit spoor hul vaste deurgang, soos dit myne was. Ja, ja, ek is ’n belese man, mevrou, dit hoor u goed. Ek is ’n student van die honde. Binne-in die druk kanaal sit ek homunculus karpunculus en draai my klein swart daklosedrol saamgestel uit reste van patatkrame. Van Amsterdam tot Sloterdijk lê die kakvoor van Kasparus die patatvos. My afsetgebied sou hul kon saamskraap en bemark as ghwano vir aanwending op aarbeie. Ja, waarom nie op die voorblad van de Volkskrant, ek, minister sonder kamer met die groenste eko-voetspoor nie? O, die peristalsis van die trein, mevrou, sissend floep die deure dig, en dan die eerste pols, die uitskuur in die dag van staal op staal, en daar sit ek terwyl hoor en sien om my vergaan en ontspan my sluitspier, starend na my stewelpunte, oorwegend my bestaan. My kakstoel is my bidstoel, dit is korrek, madame, die setel vir matins, daar prewel ek my swart gebed in die wierookwalm van my aars, en sing my dagprelude, totaal deurgod van genot.
En wat jy weet is wat jy nie weet nie. En wat jy besit is wat jy nie het nie. En waar jy is, is nie waar jy is nie.
Memo 10 Toe ek klein was, het my vader vir my ’n swaai gebou in die agterplaas van rooi en geel pale, met kettings en ’n gladde plankie vir ’n sitplek. Hy het gedink ek kort asem, beweging, sorgeloosheid. Omdat ek nie ’n ma gehad het nie, was hy
angstig om my reg groot te maak. Speel tussen die wolke, kind, leer van hulle. ’n Paar jaar nadat ek hom gaan haal het om by my te kom woon in die stad, het hy my een oggend aan ontbyt gevra of ek die kleure van die swaai se pale kan onthou. Ek het gevra of hy onthou wat hy altyd vir my gesê het oor die wolke en wat hy daarmee bedoel het. Ek het die nattigheid in sy oog gemerk, die huiwering om sy mond, dat hy vyf teelepels suiker in sy tee roer, die koerant agter die deur aan die vadoekhaak probeer ophang. Ek het gedink dis een van sy Zengrappies. Tot hy met slapenstyd die volgende aand voor my kom staan met sy pajama in ’n pakkie opgevou in sy hande en my vra wat hy nou weer daarmee moes doen. Ek het hom dit help aantrek. Jy is weer by die wolke, Pa, het ek gefluister toe ek die deken optrek oor sy bors, en hy het gesê, liewer daar as teen die klippe, kind. In die maande voordat hy na die tehuis toe is, het ons dikwels saam met hom in my stukkie tuin agter die huis gesit met ons grys koppe, syne witter as my en Willem s’n en soos toe ons klein was die wolke uitgeken: seemeeu, teepot, pioenroos, galjoen. Hy het nog altyd vreemder dinge gesien as ons, en nog altyd meer woorde geken, broccoli romanesco, guilloche, grimmelkop. Kon die swerwer aanvoel dat ek aan ander dinge dink? Hierdie man met die tong van ’n struikrower? Soms vra hy om sy opmerkings weer te hoor, hy wil sy “rede-rykery” verbeter, take two, take three, take four, tot ek kapsie maak, ek het slegs drie bandjies.
Transkripsie: Opname sneeuslaper, bandindeks 14 Tevrede so? Kan u my antwoorde gebruik? En nou is dit my beurt, mevrou. Laat ek u eers agtergrond gee oor my kliënte. Vir die wetenskaplike is ek probleemgebied, vir stadsaneerders ’n grafiek. Ek sit vir skilders, staan vir nabootsers, dwarrel soos iepesaad voor besems, ek verstop my in lampe vir snuffelhonde, ek hys my balle op vir die mensvretermarters van rampokkers, ek laat my lig skyn vir die here, ek steun die jenewerstoker op die Overtoom, ek is ’n ornament met uitlaatgas, ’n pispaal vir poedels, ’n werkgewer van spoorwegpoetsers, ’n bron waaruit oneindig onsin wel, soos droombehang, soos ’n lint uit die mond van die engele, skei ek die opgeefsels af van my verlede. Ek is die mantel van die mis, die snik in die swanehals, die kind in die draaibank
van ouerlike misverstand. Maar ek onderwerp my nie, ek improviseer my gesig, ek is koning van die newelinge, konsertmeester van sneeu. Die winter seën my dikwels uit onverwagse hoeke. In die somer vertel ek dit in anderman se boeke.
Memo 11 Uit die hoek van my oog sien ek hy kyk my ondersoekend aan. Ek hou my lakoniek, welwetende dat ek deur weerhouding van nuuskierigheid die verteller aanspoor. Hy speel saam, bly ’n lang ruk stil, haal ’n peer uit sy plastieksak en ’n mes uit sy broeksak en begin dit skil, ’n dun spiraal wat hy versigtig in sy skoot inmekaar laat krul. ’n Peer van lug, sien? sê hy en trek die skil ’n entjie op met die mespunt voor hy dit weer laat terugkrink. Hy sny ’n wang daarvan af en bied dit my aan maar ek wys dit, soos die reëlboek sê, vriendelik van die hand. As ek ’n peer eet saam met jou, dink ek, gaan ek jou alles wil vertel van die vrugteboorde van my jeug.
Transkripsie: Opname sneeuslaper, bandindeks 15 Byvoorbeeld, mevrou, voorlaaswinter was ek die vonds van ’n student uit die derde wêreld. So een met ’n onderbaadjie en vlinderdas, met koorsige oë, verdwaald in die stad, met sy voorkop teen die glas van winkels en sy klein swart notaboek waarin hy skryf oor straatkeie, smagtend na openbaring, hangend oor die water waar die baggerbote in die droesems dreg. Tafels, stoele, fietse, kopbene, looprame, alles wat druipend hang in daardie kaktusklou, teken hy op soos skatte van Atlantis. En toe, asof gestuur deur Orfeus, swem daar ’n swaan deur die opgehaalde bodemslym en wat doen die jonge? Hy straal asof hy God aanskou. Toe volg ek hom na sy woonplek op die Geldersekade en ek hou hom dop. ’n Afloerder van niks! Nee, nie ék nie, mevrou, hý! Voor sy raam ure aaneen kyk hy met ’n operaverkyker na die hyskrane van Liebherr, die fasade van die biblioteek, die weerkaatsings van die gewels en elke keer as daar ’n swaan verbykom, blaas hy ’n vaal kol op die ruit en skryf daarin lorem ipsum! En vee dit dood met sy mou en staan met sy voorkop teen die raam soos ’n engel met ’n strikdas geverf op loodglas. En dit is van een van hierdie soort dat ek u wil vertel, mevrou, Hulle is almagtige aalmoesgewers, hierdie plekhouers van niks, hulle sal hulle siel verkoop vir insig
in hulle eie verlorenheid. En dis wat ek vir hulle moontlik maak. Hulle is die mense wat my help aan ’n dag se eerlike werk. Vir hul fantasieë van selfonthegting speel ek, die gesiglose, die spieël. Ja, u lag, ek word my hele lewe lank reeds ontgin deur smartvrate.’n Ellendige soos ek, opgeneem, afgeneem, geregistreer, vasgelê, behoort kommissie te kry vir my bydrae tot die Ryksprentekabinet en dergelike kamers vol kultuurskatte. Maar ek kry nie eers ’n afdak nie! Wat anders kon ek doen as my ten einde laaste wreek? Namens al die ellendiges wat deur die eeue model moes staan vir die artistieke afskeidings van narsiste op staatsubsidie? En hoe doen ek dit presies? Ek maak my tuiste aan die oorkant van hierdie student met verkyker se woning, in ’n portiek, en, ja, ek verskýn aan hom, mevrou. Ek hou my in die skadu, en bereken die moment, en tree aan in die voetlig van sy aandag. Ek maak gebare. Ek prewel na die lugte. Ek praat met die swane. Ek word ’n magiër so na sy sin. Binne twee minute staan hy onderaan die trap, gereed vir sy meander die dieptes in. En ek lei hom deur die stad op roetes van niks, ek gooi brood op die water, hy dink ek is ’n towenaar, bid jou aan. Drie dae later kom trek hy aan my mou en nooi my uit om by hom te kom loseer, en ek weet solank ek swyg, is ek so veilig soos ’n sjah. Ek voed sy sprokieshonger en hy bedien my uit sy grandiose hart. Pampoensop en gebraaide kip het hy voor my aangesig berei, my skurwe plekke afgeskrop en my geklee in wit klere asof ek ’n prins is van Mauritanië. Maar maak geen fout nie, mevrou, mens word moeg van koning speel vir so ’n slaaf, na drie maande het ek hom verlaat, die snufhoofd, hy’t verdwyn vir ’n paar maande, maar nou’s hy terug, ek sien hom soms, hy het een van ons geword, praat met swane, hou in die oosterdok tussen die bouwketen, maar hy herken my nie sonder my touleer en my jas wat donse lek nie. Ek het lankal ’n ander vermomming. Nou dra ek ’n bril sonder glase en speel die gewese akteur en kyk my nie so aan nie, mevrou, ook u het ’n afgrond in u agterplaas.
Memo 12 Is dit ’n waarskuwing, hoe dit kastig afgeloop het met die student? Is dit waarop hy uit is? Om my ’n les te leer? Bamboggers, het my pa sulke tipes genoem, maar self het hy vir my en Willem
toe ons jonk was uit sy duimgesuigde stories uit die koerant voorgelees met sy oë wat kamtig gly oor die reëls. Dit is waar Willem aan sy opvattings gekom het. Aan ’n blote verhaal is daar geen plesier nie, het hy beweer, dis die glipraam van die aanbod wat tel, en die verskole tersydes. Handelinge en gebeure moet herhaal wees, of omgekeerd of geminiaturiseerd, of verlangsaamd, of versnel binne-in die omlysting van die verhaal. Die skrywer moet afgebeeld wees in die vertellerkarakter in die verhaal, wat weer ’n verhaal vertel van iemand wat ’n verhaal vertel, ensovoorts. Of andersom. Die ontwerp van die kader is die waagstuk. Wie vertel wat vir wie, wanneer, waar, waarom, en veral hoe, dis die punt, ’n roman is daarom altyd ten minste twee romans, liefs ’n verhaal in ’n verhaal in ’n verhaal, die inwerkingstelling van ’n onafsienbare regressie, met die einde ingesluk deur die begin. Niemand moet hulle vir een oomblik waan op vaste grond nie, dit moet werk soos ’n Klein-bottel in die wiskunde. My lewe lank was ek half gefassineer, half in opstand teen dié kapsones. Moes altyd oorgehaal word om mee te doen aan ligsinnigheid, ’n voorskootkind, ’n aan-die-kantmaker, ernstig-besorgd, en veral versigtig vir hansworse. Maar wat is dit wat op hierdie someraand teen my skorte klop? Op my maag, met my wang teen die grond, het my pa my leer terugklop vir toktokkies, met ’n klippie op die hardgebakte klei, versigtig in die ritme, met die regte stiltes tussenin, tot hy in die oog kom, die blink swart klopkewer, marsjerend met sy haakpote teen die horison van gras.
Transkripsie: Opname sneeuslaper, bandindeks 16 Ontlasting afgemerk, mevrou? Reg, u tweede vraag, probleme waarmee ’n daklose daagliks worstel: U vra waar ek snags slaap? O, wat ’n wondersoete ding, die slaap. Ook dit het ek probeer deurvors. Want ek is die agterryer van onse liewe heer op solder, daardie ou fokker so verveeld met sy perfekte maaksels. ’n Hele sewende dag lank moes hy slaap om uit te dink hoe hy homself verder gaan vermaak, die eerste slaper van die heelal, en uit sy kelder van alleswetendheid droom hy toe die sondeval om hom mee besig te hou, en voilà, die wêreld vol barokke onheil, donder en blitse, oorloë en gekruisigdes wat hy heen en weer katrol wyl sy gevleuelde castrati sing oor die onverleplike rose van Jerusalem.
Waarom ek soveel ure slaap, mevrou, dit wil u weet? Ons is gloei-wurms van niemand se bedoeling, daarom moet ons slaap en slaap, onder die swart papawer van die nag. Daar was ’n tyd toe ek dit wou pluk, die nag op ’n harige stingel in ’n glas water, ’n kelk van newels wat ek wou ontleed, soet wit wei van verwondering wat ek wou drink toe ek nog ’n belangrikmaker was van woorde. Nou drink ek jenewer, ten minste gee dit egte hoofpyn. Ek is ’n ruwe slaper, ja, ek soek ’n hoek, ek soek ’n trap, ek soek ’n sak, ek soek ’n swart plek om dig en swart te slaap, of ’n steeg om wit in weg te waai. Dat ek ooit gedink het daar is tekens en betekenis, maar daar is niks behalwe sugte, krete, kloppings, mate van ’n wals, flakkeringe van ’n kers, ’n dans van skadupoppe onder brûe, waaroor die soliederes met vaste tred na hul bestemminge marsjeer. Blind van doelgerigtheid is die meeste van my medemense. Maar u het by my neergestryk, u soek verposing by ’n brandspinozer wat u dink u kan befiets? Ag, raak tog aan my skouer, sodat ek kan voel ek leef, mevrou. Twee blou oë wat van sigself nog niks begryp nie, ag, as ek maar vroue kon bemin, maar nou is ek die hekwagter van my eie ewige vertrek. U skryf dit op? U vind dit mooi? Nee, as ek die burgemeester was, vra u, wat sou ek doen met die slaapnood van die swerwer? Ag, daardie keurige skutgans met sy ketting in die stadhuis, hy sou ons kon aanwend as stadsmonumente, soos Fabiola in die tagtigs, en die kyk-geld uitgee op ’n rondgaande swerwersmanikuur. Wat ek sou voorstel aangaande slaap vir haweloses? Wel, stel u voor, mevrou, ’n soort menslike kroketmuur op die Centraal Station, met slaapkluise waarin verlooptes ’n munt kan werp vir rus, ’n broeikas vir clochards, met kykgate vir die toeris, ’n loerskou sonder weerga, my kop ’n visblik waarin swart sardyne op die maat van Mozartminuette swem. Liewer dit as De Haven waar jy saans ’n skoolseun word met blou pajamas en ’n potjie veerbal speel met toesig, onder neon in die rekreasiesaal, tussen ficusse van plastiek. Varsgeskropte Wodans met sjampoebaarde, en rakette, spane waarmee hul in verlore Vikingreise roei. Kippesoep klotsend in hulle ruige rondlooppense. Slaap? Ag, as ek moeg is, slaap ek, mevrou, skryf dit maar op, in die reën, in die son, in die sneeu. Van sneeu wil ek u vertel, en wat met my gebeur het in die Witte Hartensteeg.
Memo 13, 13 Julie 2008 Vandag het ek vir die eerste keer ná die ontmoeting by die deur uitgegaan, heeltemal vermom as tassevrou, pruik en vodde kompleet. ’n Onopgemerkte soeker. Hoeveel keer het ek nou al die opnames beluister? Die suisende pouses waar my stem wegval, is hinderlik, ek sou weer wou hoor hoe ek met hom gepraat het. Wou ek regtig dié nag sy storie aanhoor? Dit kon my nie skeel nie. Toe het dit gegaan, soos nou nog, om die vind van die muntstuk in die gedig van MacNeice. Wie sou nie, soos hy skryf, die verlore munt wou soek nie, professor? Sy oë op drif in myne, sy tale in my aangeslaan, vergete dinge opdoemend uit die newels. Was my lewe nie ook ’n soort Witte Hartensteeg nie? Die eindelose boeke, die eindelose studie, om die tyd van my af te byt, myself ’n rede te gee. Klopje, het Willem my soms genoem, en ek het altyd gedink dat dit met die klopkewerspel uit ons kindertyd te make gehad het, tot Kippelstein my by sy begrafnis vertel het dat dit die naam was van ’n soort begyntjie wat buite ’n klooster gewoon het. Maar op hierdie parkbank het die tyd gevlieg. In die boom bokant ons het swerms parkiete rondgeswier voor hulle op stellasie gaan, ’n bloedrooi sonsondergang, iets vrugtigs in die lug, ’n rolskaatser met liggies op sy hiele het verbygeswier, daar het ’n ritme gekom in ons herhalings, omkerings, versnellings, vertragings, asof ons musiek met mekaar uitgewissel het, met as baspedaal die herinneringe aan my vader. Hy wat oplaas gras geëet het in ’n groenstrook, met ’n servet om sy nek, gras en poedinkies van griesmeel. Waar is my bril, waar is my pet, vra hy ’n honderd keer, wyl hy fietsry op die gruispad na Koringberg. Hulle moet hom stut onder die douche, sy juffertjes in het groen, hy kon nie verstaan waarom ek my lewe lank ’n alleenloper was nie. Die verslete gees daar in sy traliekou, my ou vaar wat vra ek moet sy hande vat en wys, hy het vergeet hoe mens dit doen, hoe mens nou weer ’n haas van skadu maak soos wat hy dit vir my gemaak het toe ek klein was by die kers … En toe hy genoeg daarvan gehad het, kyk hy my aan en wys na die diefwering, soek die woord, vind dit nie, en sê: epithalamium. Dit is ’n heleboel om ’n woord te laat beteken, het ek gesê. Iets het geflikker in sy oog voor hy geantwoord het: as ek ’n woord so hard laat werk, betaal ek dit altyd ekstra.
Die tassevrou se kinderboek. Alice in Wonderland, waar het ek dit al die jare weggestop? “Alicia in terra mirabilis”, my pa het my stukkies in Latyn help vertaal toe ek dertien was.
Transkripsie: Opname sneeuslaper, bandindeks 17 U het nog soveel vrae? Oor my inkomste, oor my vriende, oor my skoene, oor my hemp en broek, u klap die sweep in die saagselring, dis die sirkus van die donkermaan, o somernag waarin ons weef aan ons behang, die vorser en haar voorligter by ’n lantern van verlange. Luister! Ek was in my moer, mevrou, laas winter, het heeltemal genoeg gehad, in die Witte Hartensteeg geslaap, myself verpak met koerante, kiste, strooi en planke, my eie Betlehem, my eie wyse man. Bedags het ek gaan plasma skenk om aan die poen te kom, en myself dan met my dik sout bloed in ’n kokon begrawe in die sneeu, vieruur smiddags duik ek onder in die doolhof van die nag met my knapsak brood en melk, waad ek onder gragte en hou geselskap met my voorgangers, spoke van die goue eeu, met pepersnuffelaars, met daardie sakkeroller wat dokter Tulp gedissekteer het, en met die watertrappers van die sluis, martelare van Hollands rykdom, terwyl die skepe vol kaneel fluitblaas in die dok. In my hut hou ek ’n dagboek wat ek met koue balpuntink in ’n klein kol flitslig skryf, slaap dan verstild daar in my tent van oliekleed en oopgesnyde dose waaruit ek soggens onwilliglik ontwaak, ’n springhaas wat voor die verbaasde oë van die stroper sy ore oplig van onder die kapok en halfverkluim ’n poot vryf oor sy neus. En ja, ek sien die vraag op u gesig, wie was my agtervolger hierdie keer? Hy het gedink ek sien hom nie, ’n man wat kamtig mossies kosgee aan sy raam drie hoog, bo my in die steeg, maar ek kon sy blik voel op my blaaie en die skote hoor van sy kamera, ’n fotograaf, ek kon hom my naam sien sê, wolkies wasem voor sy mond: “Die sneeuslaper”. ’n Titel was ek skielik! Onderskrif van ’n prentjiesmaker! Buit van ’n ligdief! Hy was die laaste strooi, mevrou, die laaste rower wat ek sou gedoog. Pesbeheerders, psigiaters, predikers, polisie, hulle almal het ek al oor my heen gehad en hier was wragtig iemand wat my aan my dood wou ontruk, die bederwer van ’n vasbeslote Lasarus, ek was op weg na die vergetelheid en hy, die stommerik met sy fotolense, wou my parool verleng in die land van die pannekoek-vreters.
En weet u wat ek toe doen, mevrou? Ek het om die hoek gaan staan en hóm afgeloer, die gek wat my my einde wou ontneem en dit syne maak, as fotostrip. Let op wat hy gedoen het, mevrou, my hut se boumateriaal, wat ek elke oggend opgevou het op ’n stapel op my bakfiets, het hy stuk vir stuk afgepak daar in die sneeu en elke ding weer oopgevou. Asof dit Persiese tapyte was, geweefde lappe van ’n tentpaleis. ’n Meetlat het hy uitgehaal en alles haarfyn opgeskryf, my planke, die kiste van my kop- en voetenent, my seile en plastiek, my stukke spons en goiingsak, my koerante en my rafels, my kabels en my toue, ’n inventaris van elke laaste stuk gemors. En toe het hy my dagboek uitgegrawe en gelees en elke bladsy vasgelê op film. Kliek, kliek, kliek vir sy microfiche, die vuilgoed. En toe als versigtig teruggepak presies soos hy dit gekry het, Theodorus Popsnor, asof ’n landloper te dof sal wees om te sien daar is vliegkak op sy brood.
Memo 14 ’n Fabel spesiaal vir my bedoel? Hy aai oor my opname-apparaat asof dit ’n kat is. Wat maak ’n bandopnemer anders as ’n kamera? Hy onderbreek sy storie met weloorwoë pouses, hand oor hand haal hy my binne. Deur ’n spieël in ’n raaisel, van aangesig tot aangesig, deur die dal van doodskaduwee, na waters waar rus is. Dis wat my pa vir die koeie gefluister het as hy hulle verlos het en ek op die stalmuur, die reuk van bloed en wonderwerke in my neus, en daardie murmeling wat van hom uitgegaan het waar hy daar gekniel het, verbandlose flarde maar met klank gebind,’n babbeling, onafgebroke, sy mou tot in sy oksel opgestroop, alles wat hom ingeval het, sy hele kinderyd, sy pa se koringmeul, sy pa se oorpak, die wit meel wat hy as kind sawens daaruit help klop het, sy moeder se vrygewigheid, een lang musikale offer van gedenking by daardie koei, aaiend oor haar flank, fluisterend by die oorsprong van die wêreld, kom klein karringmelk, kom, klein bloekomblom. Eli eli lamai sabagtane.
Transkripsie: Opname sneeuslaper, bandindeks 18 U volgende vraag, mevrou? Miskien verveel ek u met my verhaal? U kyk na my broek, my overhemd. U vra waar ek my klere kry? Partykeer by die winkel van
die Volksverbond in die Scheepvaartbuurt. Soms ’n wassery waar skoon en anonieme klere soos leeggeloopte mummies in plastiekverpakkings slink, na drie maande gee hulle dit aan hulpbehoewendes, dan loop ek in ’n broek uit De Pijp en ’n hemp van Oud-Zuid en sien hoe vergeetagtiges hul goed aan my herken. Ek is ’n wandelende kapstok van die stad, mevrou, ek slyt my dae in die afgelegde velle van Ouroboros Amsterdam. U lees my spierwit jek? De Gouden Tulp, dit is tog meegenomen, niet? My dienslivrei: ek adverteer al jare, petrol sonder lood, seiljagvaarte aan die Côte d’Azur, koek, spek, kakaopoeder van Droste. In Los Angeles adverteer die hobo’s Weighless for Jesus. Geen beter skutkleur vir ’n man soos ek, onder my advertensiejas draai ek my spieëltjie vir die lewerikke,’n speelding wat u sal bekoor, mevrou, ooit daarvan gehoor?
Memo 15 ’n Vrou wat speelgoed kort? ’n Vrou wat bekoring mis, herbetowering behoef? Soms, die laaste tyd, droom ek van my pa se mondharmonika. Hulle het dit afgeneem in die tehuis. Snags as hy wakker word, het hy daarop gespeel, het die matrone my vertel, Die blou Donau, en Blijf bij mij, Heer, en En ik ben met Catootje naar de botermarkt geweest. Ook sy knipmes waarmee hy elke dag ’n merkie in die deurraam gemaak het, om te tel wanneer ek weer sou kom, het hulle weggevat. Die rooi Switserse weermagmes, die silwer mondharmonika,’n klein draadtang wat aan sy pa behoort het en wat hy opsluit wou saamneem die dag toe ek hom na die plek geneem het, dit alles oplaas weer in ’n tas gepak saam met sy klere. Daar was ’n lys wat ek moes teken. Hoed, serp, kamerjas, sewe wit sakdoeke. Ek het die tas tuis onder die trap in die opslag geberg. As ek snags na bo gaan, loop ek op ’n hoë brug, oor ’n rivier vol wolkweerkaatsings, ek klamp my aan die reling, ek hou my oë op die overloop en ek kyk nie af nie. As ek deesdae nie kan slaap nie, speur ek deur die bandopnames vir leidrade, die bandopnemer staan langs my bed, ek kan die speelknop met toe oë indruk. Ek kom dinge op die spoor deur die sangerigheid waarmee hy sommige woorde uitspreek, “léwerik”, byvoorbeeld. ’n Lang dalende toon en dan drie stoppe van lippe en tong en sagte verhemelte. Twee lewerikke, het hy ons ’n keer genoem,
stygend wyl die aand verdiep, nadromend in die laaste lig. Lewerkie, het my pa dit uitgespreek, as hy een sien op die land. Met sy hande het hy die opvlug nagemaak, jodelend, met my aan sy broekspyp, my kop wat skaars uitsteek bo die swiepende koringhalms, my oë opgeskroef teen die son om die tuimeling te volg, die onvermoeide kwinkelering.
Transkripsie: Opname sneeuslaper, bandindeks 19 Soos die laaste centaur op aarde, het ek my plek gekies, mevrou, die Witte Hartensteeg, agter die P.C. Hooftstraat, onbewoond, haas onbetree, my kleingemaak, my opgerol, die donker dae voor die Kerst gekies sodat ek nie sou stink voordat ek gevind word nie, die smalle weg, die donker daling, geen teater, geen tamtam, net my eie hart en asem, my eie trapgat na die onderwêreld, monddood in die pakys met my flitslig, die suising van die stad al sagter, pagter van my eie nesgeritsel. Maar toe wil iemand skielik ’n kunswerk maak van my. Wil my beter rangskik as wat ek self gedoen het, ’n model met ’n verdwynpunt vir ’n ander een se oog, nog ’n kunstenaar wat nie die moed het om homself in sy eie binnekamer te kannibaliseer nie, maar ’n ander se ellende gebruik vir sy eksperimente in selfinsig. U dink ek lieg, mevrou, wil u regtig die afloop hoor, of sal ek nog ’n liedjie vir u bandopnemer sing daar onder die brug waar dit so fraai weerklink? Jesusbloede het my nooit gefaal?
Memo 16 Soms wieg hy liggies agtertoe en vorentoe op maat van sy sinne, soos ’n sjamaan by ’n geboorte, asof hy vir die aankomeling die deurgang na die wêreld wil help soek. Is dit ek wat hy voor hom uitstoot in die bek van die skag, agter wie hy die luik vergrendel? Ek klamp my aan my vraelys, soos iemand wat na gras en takke gryp terwyl sy val. Soms in die tehuis het ek ure lank by my vader gesit, agter hom op sy bed en hom gewieg soos ’n groot grys kind, met my kop teen sy rug en hom moed probeer inblaas, die goue beelde van sy vaderskap, die bos geel en blou
blomlupine waarmee hy voetstampend van die lande af opdaag by die agterdeur.
Transkripsie: Opname sneeuslaper, bandindeks 20 Of ek al in die tronk was? Opgepak vir misdaad? Spesiegetrou is ek, mevrou, ’n aartsoortreder. Oortreding van slaapverbod, bedelverbod, dykverbod, doelloos slenter op ’n openbare weg, noem maar op, partykeer skryf ek mensverbod op my maag en dan kyk almal anderpad. Soms speel ek ’n epileptiese aanval in Dikker en Thijs. Wonderlik, al die sjieke liede met handevol salm en gevulde artisjokke en daar gooi ek ’n grand mal met ’n bek vol skuimbadborrels op die vloer. Hulle dump die gravat lax en quiche met Franse truffels en spaander huis toe om beskuit met sjokoladesuiker te eet uit skaamte oor hulle rykdom terwyl ek die sloppe van die vloer af lek. Maar die daad waarmee ek halt wou roep aan al die moeitevolle kleinkuns, die swart gat in my lewe, daarvoor is ek nooit vervolg nie, nee. Hy, die fotograaf, het gedink dat hy die een is wat my raam, maar dit was ék wat my lis soos ’n stok in sy hol deur sy nekgat tot in sy kopbeen gedruk het, en van hom my marionet gemaak het. Dit is wat “halsmisdaad” beteken, mevrou, maar dit staan nie in die wetboek nie. Smiddags klokslag vieruur het ek in die steeg verskyn waar hy my ingewag het aan sy raam. Hier kom sy onderwerp, het hy gedink, maar hy was myne al die tyd! Wil u weet wat ek gedoen het? Dit was soos ’n reguit lyntjie kokaïene, hoor. ’n Wenk aan nageslagte. Don’t fuck with hobo’s, they will make you sniff them!
Memo 17 Hy het te na aan my gesit en baie sag gepraat, met sy hande alles uitgespeel wat hy vertel het, asof hy my dirigeer. In die park se lamplig het sy oë geglim, maar daar was niemand behalwe ons in die roostuin nie. ’n Windjie in die iep. Was ek in enkele ure opgesuig in iemand anders se verbeelding? Oopgebreek en oorgelewer? Op die drumpel was ek voor ’n parallelle wêreld. Ek het die aanklamplampie op my klapbord aangesit om myself te staal, maar hy het dit sonder ’n woord by my gevat en afgeskakel. Ek was bewus van fietsligte, veraf gelag van late piekniekmakers, dagmense wat nog nie wou huis toe gaan nie, hier en daar ’n kind se dobberende papierlantern, sigaretaanstekers wat flikker.
En ek was terug, terug op daardie landerye waar my vader oor Paasnaweek met ’n koplamp gesoek het na die weggegooide tweeling-lammers, en hulle onder die sterre aangedra het na die werf, ’n sikloop met die spierwit mekkerende reddelinge in sy arms, die hoefies bengelend teen sy blou oorpak.
Transkripsie: Opname sneeuslaper, bandindeks 21 Ek het by my binnekoms in die steeg altyd mooi stadig gestap, luister goed, mevrou, op die maatslag van ’n requiem, diep spore in die sneeu gelaat, sodat hy goed kon foto’s maak,en toe het ek my skuilplek begin bou. Met ’n stuk ysterplaat die sneeu uit my slaapkol weggeskraap. Kliek. Oor die lengte van die bedding ’n tou op die grond gelê, die grondseil daaroor oopgesprei. Kliek, kliek. Daarop die vier planke teenaan mekaar, aan beide punte met hoepels aanmekaargeslaan. Dit was die basis van my bed. Die stukke spons daarbo-op, my matras. Kliek, hy ruil sy batterye om. Die goiingsakke op die spons, as dekens. Kliek. Die houtkiste met die oop kante na binne oor die voet- en koppenente geskuif, die planke weerskante in die bodems van die kiste, my skryfblok en flits, die pakkie strooi en rafels as ’n kopkussing, die koerante, plastieksakke in stapels rondom my matras geplaas, die kartonne oopgesprei, reg om oor my te trek. Kliek, kliek, kliek. En dan het ek hom ’n profielportret gegun. Kliek, klaks, glimlaggend na die hemele. Hoeveel foto’s was dit al? Toe die moment waarop hy wag, my verdwyntruuk, die haas deur die bol van die keil die ewigheid in. Met ’n flits van tande het ek weggeduik, kop en voete in die kiste, en met plukke bloedrooi handskoenwerk die rommel oor die noktou en oor my kop- en voetenent getrek. En daarna het ek blind die rolplastiek gegryp en eers die een en dan die ander met ’n pluk bo die kasarm opgeswiep, waar ek geweet het hul soos opgehysde spinnakers vir ’n oomblik in die lug sou hang asof aan maste, voordat hulle neersyg om my skuiling te bestryk, ’n sloep onder ’n dekseil, my kopkant beurend teen die sneeu soos ’n boeg. Na ’n uur het ek gehoor hoe hy sy venster toemaak, maar deur die skrewe kon ek sien hoe hy nog aanhou foto’s neem. En dan het ek met my toortslig in my boek geskryf, nie meer myne nie, maar sý gedagtes. Waaraan dink fotograwe, mevrou, as hulle foto’s van ons maak? Ek het geweet hy sou van naderby kom loer. Ek het hom hoor kom, van die
Hobbemastraat se kant af, hom hoor nadersluip. Sy kamera sien flits. Het hy sy oor teenaan die wand gedruk? Ek het doodstil daar gelê. ’n Gloeikool uit die haard van Hephaistos. En na ’n ruk was hy weg, ek het gehoor hoe knars hy agtertoe, en vee sy spore uit. Vergeefs, vergeefs! Net sowel ’n bloedspoor vir ’n vos!
Memo 18 Hoe moet ek vannag huis toe om te gaan slaap, het ek my afgevra. Ek sou na die Westerstraat wou gaan waar Willem se lig nog sou brand, of na die tehuis,’n klippie teen die ruit wou gooi, word wakker, Pa, ek het ’n snaakse storie by ’n vreemde man gehoor. Maar hulle was nie een meer daar nie. In stilte het hy nog ’n peer geskil, my weer die eerste stuk aangebied. Ek het my kop geskud. Hy het sy skouers opgehaal. Toe hy dit op had, het hy sy fles uitgehaal en dit na my uitgehou, “’n slukkie uit die platvink”? Eet en drink met hierdie swerwer sou die einde beteken van ’n geloofwaardige rapportage. Ek het my personeelkaart van die Dienst O&S losgeknip van my kraag. Weer die amper-aanraking van sy hand op my rug, soos die snoet van iets, palingsag. Ek het die mikrofoon tussen ons op die bank bo-op die bandopnemer gesit. Hoe hy sy uitkering aanvul, wou ek weet. Gemaak geduldig het hy vertel hoe hy die siekte van Tourette nageboots het op die blommemark, tifuspokketeringkont met ’n gerbera agter sy oor vir die toeriste. Maar dit was oumanstruuks. Op sy jongdag was hy wild, het hy vertel, het homself midde op die dag “beroer” voor swoele parfuumadvertensies by die tramhalte op die Leidseplein, voor omstanders gedebatteer met sy leefbroers, oor die dood, oor die staat, oor werk, oor rus. “Ons was brawe honde, ’n blye trop sinisteres met die wapen van die bye op ons bors”, die sielemakers van die stad wat tans saam met hoere en als wat in die kantlyn leef, geruim word. Stel u voor, mevrou, het hy gesê, die onversoete huweliksbed van burgers wat nou sonder die hollewaaitjies hul eie vrou moet omdraai as hul wil owerspel pleeg. Ek het gevra hoe hy sonder huis geraak het. Hy het geswyg. Na ’n lang ruk het hy hakies in die lug geteken. Op ’n Saterdagoggend weggestuur met ’n briefie vriendskap en ’n stuk gevulde koek, het hy gesê, en van toe af was die “winterlig
sy voorland”. Hy het ’n pakkie tabak uitgehaal en ’n sigaret gerol, dit aangesteek, my ’n trek aangebied wat ek van die hand gewys het. Of die blosende appeltjie agtergelaat aan die boonste tak gereed was om gepluk te word, het hy my gevra. Hy het die bandopnemer en mikrofoon opgetel, dit op sy skoot geneem en nader aan my geskuif.
Transkripsie: Opname sneeuslaper, bandindeks 22 Ek het briefies vir hom in die straat laat val, mevrou, wat hy opgeraap het asof dit garing was van Ariadne. My beste klas van onsin, onder twee voet sneeu snags vir hom gekomponeer, oor die koning wat nie kon onthou wat hy gedroom het nie, en dit soggens van sy slaaf wou weet. Sal ek ’n stukkie vir u resiteer?
Heelnag by die sponde van mon maistre waak ek Francois Lapin, Valet de Chambre, et Horloger Extraordinaire de son Majesté, en wen die vere van die staanklok, tralalie tralalei versit per uur emaljehande op die vlak gelaat van die verskiet hou die voetlog van sy movemente in my silwer perkamente soos hy omdraai in sy bed, en hang my kop en skouers,
sneeutente oor sy asemstote soos hul gaan en kom taraboemdery bombom.
En soggens in sy slaaphemp op die chaise longue van die lig roep die koning: klein konyndom wakkerslaaf, vertel my, as jy jou lewe liefhet, wat het ek gedroom, ek kan dit nie onthou.
En dan wiggel ek vir hom die log van ure waarop sy kootjies teen mekaar getwiek het, hy gepoep en rondgehiert het in sy bed en sy adelryke tortel opgeveer het in sy mik en uit die tekens van sy lyf spin ek vir hom gepaste hersenskimme dis te ver om te loop dis te na om te ry en daardie klas van ding.
Schon gut, Rote Roermund, roep die koning dan algou,
Stromkarlen von Unten jy is my hongerblom en ek behoort aan jou.
En dan sit hy ’n suikerklontjie op my tong, op my lal, in die middel van my lalie, in die spoelgeut van gelieg. Tralalie, tralala! bomdabarie bombom.
Hoe beval dit u, mevrou? Net een reël op ’n slag op ’n opgevoude velletjie. En dan kyk ek vanagter boomstamme hoe hy die stukke van die staaltjie stront aanmekaarlas om sin daaruit te probeer maak. Sliep slop laat agtervolg ek my deur die smeltys oor die Museumplein na die Spiegelgracht waar ek my opstel voor die étalage van die antikwaar om hom dop te hou in die weerkaatsing. ’n Wedersydse loerparty, met daarby nog die klokkemaker wat wonder waarom ek so staar na sy miroir aux alouettes. En heeltyd word ek afgeneem van agter, deur daardie plurk, kliks-klaks met sy kamera.
Memo 19 Sou dit ou Kippelstein, Willem se vriend, se winkel wees? Dit was nie ’n goeie oomblik om te vra nie. Hy het teruggeleun, weg van my af, en sag gelag, sy vingers deur sy hare getrek,’n flard in Engels gesing, oor Wanderlust, iets van die goue paviljoene van ’n tuin, van iemand verskuild in ’n bloeiende boomgaard … ’n roep na haar, by die tuinhek, in die verbygaan, en weg is sy gesig. Daar was ’n pruimboom in die tuin van my jeug, ’n boom wat elke lente spierwit
oortrek was van die bloeisels, soos ’n bruid, het my pa gesê. In die vroegsomer, as die pruime begin set het, was hy met die kan op sy rug aan die spuit teen die kodlingmotte, en in die somer as die boom oortrek was van vrugte het hy vir ons die vrugtedons afgevryf aan sy mou om die donker rooipers skil te laat sien. Twee peerbome was daar ook, almal langslewendes uit ’n vroeër boord. Een winter het ’n stormwind al drie bome omgewaai en my pa het die hout laat opsaag vir die kaggel. Hoe het die stompies daardie winter gegloei, die pruimboom s’n dieprooi, met klein blou vlammetjies, die peerboomhout, wat traer gebrand het, met helder geel hande. As jy my vir jou vuur gaan splyt, wou ek vir die swerwer sê, as dit is waaroor jou verhaal gaan, oor hoe jy mense verteer deur wie jy jou belaag voel, dan sal ek soos pruimhout brand, al jou taal wat in my vesels ingetrek het, sal jy sien brand, jou onmoontlike verhaal sal jy hoor eggo, ’n koffer vol springende knallende kole. Maar hoe kon ek so iets sê?
Transkripsie: Opname sneeuslaper, bandindeks 23 En as u vrae gedaan is, wat gaan u vervolgens met my doen, mevrou? My laat aankeer deur die polisie? Wat sal ek moreoggend by die gaarkeuken aan my kompaters kan vertel? ’n Sheherazade met die duisend en een vrae? Waar kak jy waar slaap jy wat eet jy? Hulle sal sê, fok Sprinkaan, kan jy nie iets beters uitdink nie? Vriende? Natuurlik het ek vriende, mevrou, u wil weet hoevéél, nie wié nie, dis duidelik, so tel maar self. Daar is die reedsgemelde Deodatus, deskundig oor die kleinhuisie van die bib, ons lees daar saam koerant, Mink wat muise in ’n bottel vang en Gwendolyn met die saksofoon, en donker Keetman wat my soms ’n naggie onderkome gee, en Smoel en Krokodil wat dan en wan hier uitslaan uit Antwerpen, en die Smarag van Jacobsdal met die onverskrokke kwas, Vis, die landelike edelvrou, elke dag ’n ander burg, Pi, die kokosglanser, Berthe, voorheen van die klooster wat my woord vir woord verdra en Portegees, die afgebeulde wat my aan kartondose help, en o en ag, die kleine Wilhelmina van my hart met die traan wat aan haar tepel hang, ja, drosters kan heel goed bemin as iemand maar vir hulle sing. Hoeveel kere ek hulle sien? Om die dag, om die
week, dié wat ek die liefste het om die ses maande, met geneentheid moet jy suinig werk sodat dit langer hou. En mag ek u voortaan as vriendin beskou, die goeie knol van Troje, waar woon u, mag ek vra? Is u ’n welbehuisde daklosebesoeker? Het u kantoor ’n koelkas en ’n rekenaar? ’n Private telefoon? Want sien, dis een ding wat ek kort, ’n gratis telefoon om af en toe vandaan te bel, as ek ’n bed bestel byvoorbeeld in De Veste. Mens kan nie ’n kans vat nie, jy moet vooraf reserveer. Jy is geen gas nie, maar kliënt. Al is jy hoe ver in jou moer, dan is jy nog ’n in-jou-moer-kliënt. Die dae is vir goed verby dat daar met strooi ’n plek gedek word aan die tafel vir die onverwagte vreemdeling.
Memo 20 Hy het vir my ’n plek gedek, en gang op gang voor my aangesig berei, en ek sit verbysterd deur die aanbod, onnosel met die eetgerei. Willem het altyd verduidelik dat hy goed kan skryf as hy afgelei word deur iets, dat ’n alte direkte fokus op die storie dit doodmaak, dus het hy gedrink, gerook, alles van die Magnificat van Bach tot Ummagumma van Pink Floyd gedraai om as’t ware die storie skelm met die ander hand geskryf te kry. My pa het gedink Willem maak berge van molshope, sy verhale te gewrog gevind. Storiesvertel gaan oor samesyn en oor plesier verskaf, dit moet wees soos kamermusiek, het hy gesê, ’n gemeenskapspraktyk, dit hoef geen imponerende konsert van ’n virtuoos te wees nie, dis eerder soos sosiale massering, dit los nie enige ernstige probleme op nie, maar dit vryf winde uit, en deur die gevryf en gedruk bloei ander dinge op wat niks met die verhaal te maak het nie. Willem het gedink my pa is outyds. Wat sou hulle dink as hulle hierdie toneel van my en die swerwer moes gadeslaan? My broer agter sy verkyker, my vader agter die besneeude spar? Hoe sou hulle my sien? ’n Vreemde late blom. Wat sou hulle my aanraai in hierdie situasie? Hom vra of hy wil saamkom huis toe? Die koffer onder die trap uithaal en dit vir hom gee? Sewe sakdoeke en ’n mondharmonika?
Transkripsie: Opname sneeuslaper, bandindeks 24
Hoe lank het ek die fotograaf aan ’n lyntjie gehou? ’n Week, tien dae, tot ek gesien het dat hy gestrik was. Ek het hom moeg geloop deur die stad, sy sakke peulend van my nonsensvodjies. Tot in die universiteit het ek hom gevolg waar hy naslaanwerke raadpleeg, my gedig wou hy ontsyfer, asof dit geheimskrif was. Sien jy, sê ek vir Deodatus, daar is ’n man wat dink hy kan met ’n naald ’n djin uitpeuter wat opgekrul lê in ’n botteltjie, maar sy dae is getel. Toe laat hy op ’n dag ’n offerande by my bakfiets, wyn, ’n stokbrood, en ’n stuk geel kaas, terwyl ek eerder sin had in ’n bakkie warm snert, maar dit kry jy van ’n kiekiesmaker wat stuit op ’n clochard, hy sit hom in ’n clichédoos, dieet en al. Hy wou seker hê ek moet op my knieë val en hom dank vir kaas en naak vir hom poseer. Powere gevurkte dier, ek kon die onderskrif al sien. U kyk so raar, mevrou, maar laat ek u vertel, in dieselfde sak met stokbrood kry ek van my weldoener batterye vir my flits, twaalf nuwe potlode en ’n skryfblok van die Hema. ’n Heldetoerusting, al wat my nog gekort het, was die mantel der onsigbaarheid. Tja, dis hoe ver hy gegaan het met sy naastediens. En my notaboek? Dié het hy vir homself gehou, mevrou, en ook my balpuntpen. Die sot, hy dag hy gaan my nonsens klaarskryf: in mý boek voor sý radiator met tjello cantilena en ’n lekkerbek van Albert Heijn. Maar toe verdwyn ek. En ek los sy sak met broederlike gawes onaangeraak daar in die sneeu. En ek gaan wag om die hoek van die Witte Hartensteeg.
Memo 21 Het ek my verbeel of het daar ’n kilte in sy stem gekruip? Was hy kwaad omdat ek nie wou ingee nie, al sou ek nie presies weet waaraan of hoe nie? Ek het my bene hoër opgetrek daar op die parkbank en my arms stywer om my knieë geslaan. Soos ek altyd gemaak het by Willem op sy rusbank as hy my sy nuutste gruwelikheid voorlees, soos by my pa in sy laaste kamer in die tehuis, op sy bed, terwyl hy by die raam uitstaar na die vallende sneeu, al sy woorde vergete, my broer, my vader, hulle woorde soos wolke, soos rose.
Ek was skielik honger, ’n brandgevoel in my maag. De uil die op de peerboom zat. Dis die laaste ding wat ek vir Pa gesing het. Oi oi oi dis ’n rietdakhuis. Hy het my aangekyk en gevra waar ek vandaan kom en wat my naam is.
Transkripsie: opname sneeuslaper, bandindeks 25 U is die eerste mens vir wie ek my verhaal vertel, mevrou, en u wil weet, vlak voor die klimaks, hoeveel keer per week ek warm eet? Nog nooit in my godganse lewe, moet ek sê, het ek iemand gekry wat so steevast weier om te vra: En toe? Wat gebeur toe? Vertel verder, asseblief! nie. Waar het u dit afgeleer, mevrou, deur watter aanval van hardlywigheid? Ewentwel, u is die herderin van u eie saligheid, soos hy, die klootzak; ek kon voorspel wat hy sou doen as ek verdwyn. Hy was erger as ’n junk met ’n kalkoen. Die sot het elke oggend na my leë slaapplek staan en staar asof hy ’n kristalbal aan die lees was. Ek het hom dopgehou uit die riool. En oplaas, ja, daar was ek getuie van, presies soos ek bereken het, het hy ten einde raad vir hom daar op my plek ’n hut gebou. Met mý materiaal! En homself begrawe met die sak vol kos en skryfgoed. Met mý flits! In mý steeg! In mý naam! Maar hy kon homself nie warm hou met skrywe nie, helaas, sy storie was te dun, ’n joernalis was hy, u sien. Sy medium was kameraflits en nuus, nie die los warm tong in die slukgang waaraan die digkuns hang nie. Ek het ingebreek in sý appartement op drie hoog en daar gebly die nag teen vyf en twintig grade, sy kameras in die douche kapotgeslaan, sy filmpies verskeur, in sy koffiepot gepis, teen die noen in die steeg afgekyk, en daar lê hy – onder my hoop gemors met ’n stywe arm wat uit die sneeu steek, ’n vel papier geklem in sy verkluimde vuis. Nee, mevrou, wil u nou weg? Vir wat? Het u genoeg gehoor? Ek het dit by my, hier in my agtersak, sy laaste woord, die einde van my koningsprokie deur ’n dooie man voltooi, die swakste einde wat mens kan bedink, nie naastenby die moeite werd om jouself lewend voor te begrawe nie. Hier, lees dit self. U kyk versteld? Kom maar, Helena van die somernag, heeltyd het jy hier gesit en
skielik kry jy koue voete? Kom ek sit jou klapbordlampie aan, gelukkig is jy ’n wyse maagd met goed gevulde batterye.
Memo 22 Daar was niks geskryf op daardie vel papier nie, altans nie wat ek kon uitmaak nie, alleen ’n fyn reëlmatige kabbeling van potloodmerke in reëls wat aan die een kant afbuig soos ’n waterval. Ek het daarna gekyk en dit vir hom teruggegee, ’n rekwisiet, soos die pere, die heupfles, die bedelskoen. My bandopnemer het begin piep, ’n aanduiding dat daar slegs weinig opnametyd was. Hy het my vertel wat kwansuis op die vel papier gestaan het, die einde wat die joernalis geskryf het vir die sprokie van die koning en die kamerslaaf. Volgens die fotograaf het die koning weer een oggend wakker geword uit ’n droom. Dit was die eerste keer in sy lewe dat hy dit kon onthou. Hy het die slaaf geroep en hom die droom vertel, so vervelig, en so langdradig dat die arme kêrel wat soos gebruiklik die hele nag by hom gewaak het, amper aan die slaap geraak het op die chaise longue. Maar hy was dankbaar genoeg dat die droom ten minste hierdie keer deur die dromer self vertel kon word. Van toe af was die probleem opgelos en hulle kon gewoon verder lewe, elkeen in sy eie rol. Die koning het elke oggend sy kroon opgesit en sy troon bestyg en wette gemaak, en die kamerslaaf het sy heer se neushare gepluk, die bed opgemaak, die nagstoel uitgegooi en die horlosies opgewen en dan was sy werk gedoen vir die dag. Smiddae kon hy in die skadu by die ander slawe sit en liedere sing oor verre geliefdes en verlore vaderlande.
Memo 23 Dit was lank na middernag toe die derde bandjie vol was. Ek het die ondervraagde bedank vir sy samewerking, vir sy tyd, vir sy moeite. Daar was niemand meer in die park nie, en ek was bang dat hy die bandopnemer sou afvat en die materiaal sou vernietig net soos hy met die fotograaf s’n gedoen het. As hy uitbundig was in sy welkomswoorde was hy melankolies by die afskeid, kennelik onbehaag deur die afloop. Kan jy glo, het hy gevra, dat ’n
storievoltooier so ’n onhandige koning en sy manmoedige slaaf wil help deur hulle van mekaar te knip, die vreemde band tussen hulle uit te stryk, en van elk ’n staatsportret te maak? Heerser, dienaar? Vrede, orde? Fluit, fluit, my storie is uit? Daar was ’n lang stilte. Ek het gedink aan die dag toe ek die laaste keer in my pa se kamer in die tehuis gekom het. Hy het op een of ander manier daarin geslaag om sy hande deur die diefwering te kry en die vensters oop te stoot. Hy was in sy stoel wat hy teenaan die vensterbank getrek het, ’n sneeudraende wind het die kamer binnegewaai, daaragter die swart gestalte van ’n spar, met ’n wit pak sneeu op elke arm. Ek het die yskristalle van sy gesig gevee, ’n glimlag op sy mond ontdek, geweet dit was oor die oopkry van die raam, ’n vergenoegdheid dat hy self daarvoor kon sorg dat wat dit ook al was, en hoe dit ook al sou aankom, hy dit sonder tussenskot of hapering, voor ’n oop venster, reg in die bringwind kon tegemoetkyk. Langs my het die sneeuslaper ’n paar keer keelskoongemaak, ’n paar keer begin aan ’n sin. Wil jy, sal jy, kan jy, maar hy kon nie verder kom nie. Hy het voor my kom staan, sy hande weerskante van my gesig gehou, maar sonder om aan my te raak. Ek kon die hitte van sy palms op my wange voel, die reuk van pere in my neus, sy groot donker lyf het my gesig versper, die gespe van sy broekriem glimmend voor my oë. Ek kon voel dat hy na my afkyk, ek wou nie opkyk nie. Hy het weer gaan sit. Na ’n ruk het hy op ’n saaklike toon begin, aangevoer dat dit natuurlik eintlik alles anders was, dat hy die fotograaf op die nippertjie onder die sneeu uitgegrawe gekry het en mond-tot-mond- asemhaling toegepas het en ’n ambulans gebel het op die man se selfoon, waarna die arme kêrel deur reddingswerkers weggeneem is, en dat die fotograaf ná sy ontslag uit die hospitaal ’n persverklaring uitgereik het waarin hy die hulp, nee, die les, van ’n swerwer aan ’n onverstandige toeris geloof het en hom in dank ’n groot som geld geskenk het vir sy moeite, hy het die knipsel nog in sy kluis by De Veste, hy sal my dit laat sien, as ek saam met hom wil stap. Toe dit blyk dat ek daadwerklik op my eie sou weggaan, het hy my aangekyk en met gebare asof hy water teen my voorkop sprinkel my allerhande name toegedig, “roosje sonder heupvet”, “ongeverfde takelbalk”, “blinde kaneelduiker”, “tremulante groen-zoeter”. Hy sou agter my aangaan, het hy gesê, waar ek my ooit sou bevind en ek moenie vir my hou of ek ’n “foksterriër in ’n
spoetnik” is nie. Hy het my ’n ent agternageloop, en geroep dat hy nooit weer aan enige dakloseondersoek sou meedoen nie. Dat die medewerkers swak opgeleide amateurs was wat nooit debriefing wou verskaf nadat hulle, soos hy dit genoem het, die agtertande van Gargantua in sy grot kom trek het nie. Wat so ’n reus nodig het, het hy geroep, met sy hand op sy bors onder die stadsmaagd by die ingang van die Vondelpark, is ’n dansmaat eerder as ’n vertroulikheidsooreenkoms, want daarvan, het hy gesê, klop geen bal nie, al wat ek in ieder geval wou hê, was verskonings om van hom, soos wat hy was en is en sal wees, ontslae te raak, en dat wat hy my vertel het minder werd was as “hars en varkhaar”, maar dat dit sy enigste troos was, nee, ammunisie in sy stryd teen die burokratiese vyande van “charismatiese mega-fauna” waartoe hy, saam met die olifant, die pandabeer en die Bengaalse tier behoort.
Addendum 19 Oktober 2008 Op ’n ingewing het ek gister na die stadsargief gegaan. Dit was meteen ook ’n ervaring van die hoë drumpel wat hierdie institusies opwerp voor eksentriekelinge. Ek was naamlik in my tassevroumondering, en is toegang geweier, maar had gelukkig my studentekaart en my identifikasie van die Dienst O&S by my. Koverte operatie, het ek gesê en my hoed en pruik afgehaal, waarna die argivaris my toe verder vriendelik die weg gewys het. ’n Willekeurige greep in fotomateriaal van die afgelope jaar se tentoonstellings het, tot my verbystering, onomstootlike bewysmateriaal opgelewer. ’n Groep foto’s getitel “Die Slaper in die Sneeu, ’n foto-essay” deur ’n anonieme persoon of persone werksaam onder die naam “Brewwe Ligmomente” en uitgestal in Maart vanjaar. Tussen gister en vandag kon ek hierdie organisasie in geen enkele lys van fotostudio’s opspoor nie. Die foto’s bevat aanwysbare besonderhede van die Schapenburgerpad, en abstrakte foto’s van ’n hoop ondergesneeude verpakkingsmateriaal, maar in die warreling van lig- en skaduvlakke kon ek geen menslike figuur onderskei nie. U begryp die probleem, indien die ondervraagde die waarheid vertel het, is dit onmoontlik dat hierdie foto’s kan bestaan. Hy het die kameras stukkend geslaan en die filmpies vernietig. Die enigste ander verklaring is dat die sneeuslaper nie is wie hy sê hy is nie, maar sélf die fotograaf is … of was …
Maar wie was dan die slagoffer? As daar een was … of is? Die s van lykhuise is wat ek vervolgens wil nagaan. Miskien sou ek met ’n dekbrief van u namens die Dienst O&S toegang kon verkry tot rekords van onopgeklaarde sterftes in die stad tydens die gemelde periode?
Naskrif En na alles, bedink ek my, is dit nie waar die raaisel lê nie. Alles tot dusver was voorbereiding, soveel is duidelik. Ek het selfs ondertussen my pa se goed uitgesleep onder die trap. Soos elke dag sedert die voorval het ek na my ontdekking in die argief teruggegaan na daardie parkbank in die roostuin, ’n peer geskil, ’n vingerhoed jenewer gedrink en ’n mondvol note op die mondharmonika geblaas. Ek is ’n vrou wat in gereedheid gebring is. Die einde is in my. Ek is die slot. Vir my, die groenzoeter, staan die koffer nou oop.
Die vriend
’n Lesing
Meneer die voorsitter, lede van die lesingkomitee,[2] Tot gisteraand toe was die titel van die lesing wat ek vandag hier sou aanbied: “Mimesis, poësis, parodie – die verantwoordelikheid van die verbeelding en die grense van fotografie in roerige tye”. Maar vanoggend vroeg toe ek hierdie kissie (tel die kissie op die tafeltjie en sit dit regop neer) wou terugneem na die antieksaak Meulendijks en Schuil op die Kerkstraat – antiekliefhebbers in Amsterdam sal weet dat die heer Schuil die versameling van Kippelstein en Zoon op die Spiegelgracht oorgeneem het – het ek besef dat dit nie vir my gaan oor die politiek van representasie nie, maar oor iets veel belangrikers. Ek wil daarom geen beskoulike toespraak lewer nie, en nog minder ’n vakkundige betoog. Ek wil u vertel wat gebeur het met my en my vriend die fotograaf Peter Schreuder (raak aan die kissie). En ek wil u laat sien wat hierin is voor ek dit gaan terugbesorg waar dit geen verdere skade kan veroorsaak nie. Dat ek vandag na fotografie sal verwys en nie na literatuur nie, is ’n verdere afwyking van die gebruiklike kader, maar dit het ook bepaalde redes. Die van u wat bekend is met die Suid-Afrikaanse fotografietoneel sal weet dat Peter Schreuder sedert die sewentigerjare bekendheid verwerf het as fotograaf van Suid-Afrikaanse toestande. Sy laaste werk was portrette van misdadigers op die Kaapse Vlakte in 2007. ’n Enkeling onder u sou moontlik opgemerk het dat hy daarna heeltemal uit die openbare oog verdwyn het en geen nuwe foto’s gepubliseer het nie. Wel, dames en here: onder die vyeboom agter in my tuin sit al twee jaar lank dagin daguit my vriend Schreuder. Sy kameras het hy vernietig. Die swart doek wat hy altyd oor die driepoot gegooi het, lê in ’n bondeltjie in my agterkamer se kas. Hy maak nie meer sy oë oop nie. Hy kan, of wil nie, met my praat nie, maar antwoord slegs op die voëls. Ek vra hom dikwels: kan jy my vergewe? Ek raak
aan sy skouer, en sê: ek is jammer. Ek weet nie of hy my kan hoor nie. Hy is nie meer van hierdie wêreld nie. Ek het Schreuder in die vroeë sewentigs op universiteit leer ken; ’n mislukte ekonomiestudent, wat jare lank bly rondhang het op die dorp, ’n assistent by die kunsdepartement, ’n handlanger in die biblioteek. Almal het hom “Meneer Schreuder” genoem, spottenderwys, want hy was die teenoorgestelde van meneer-agtigheid: geen snor, geen kerk, geen party, ’n niemandskêrel. Dat hy sy graad nie klaargemaak het nie, was nie sy grootste tekortkoming nie, wel dat hy, weens ligte epilepsie, vrygestel was van diensplig. ’n Man wat nie kon sê dat hy in die weermag was nie, u sien, was in daardie dae in Suid-Afrika in sekere kringe so goed as dood. Schreuder het gelewe van foto’s neem by gradeplegtighede. Maar Stellenbosch, soos u weet, is eintlik ’n plek waar plattelandse meisies kom man vang – troues bied vandag nog die mees lukratiewe geleenthede vir ’n dorpsfotograaf. Maar vrome bruidjies teen agtergronde van kerktorings en Bolandse berge was nie Schreuder se eintlike onderwerp nie. Die paar keer dat ek hom gesien het waar hy bruidspare in plooi getrek het, was hy stram en afgetrokke, sy foto’s wat die koerante gehaal het, onnoemenswaardig. Ek het hom in die geheim agtervolg op sy ware fotografiese verkennings, en was eers tevrede wanneer ek hom kon sien oorgaan tot wat ek genoem het sy “Schreudermodus”. Dan was sy bewegings soepel en onvoorspelbaar, ’n wendbare, swenkende soek en mik en skiet, asof hy, te midde van die roetines van elke dag, deelnemer was aan ’n stoet van mirakels. Altyd in die kantlyn, van die optog, die fees, die vergadering, het hy beweeg met sy driepootkamera, ’n medestander met wie hy onder ’n swart doek versmelt het, om as tweekoppige vyfpotige wese klikkend en flitsend, die lens te rig op ’n druppende geut, ’n gevalle sakdoek, ’n posbus in die slagskadu van ’n lamppaal – asof hierdie alledaagse dinge oorgiet was met die lig van openbaring. Sou u nie ook nuuskierig gewees het oor so ’n figuur in ’n netjiese burgerlike nes soos Stellenbosch nie? Net twee feite kon ek wys word uit my gevis na Schreuder. Sy pa en ma was musiekterapeute by die Skool vir Blindes in Worcester, en hy het ’n blinde tweelingsuster gehad, ’n sangeres met, soos vertel is, ’n wonderskone sopraanstem. Sou dit die rede wees, het ek gewonder, waarom hy ’n fotograaf geword het? Om twee keer te sien? Om te kompenseer vir sy suster se gebrek?
Waarom het jy hom nie self daaroor uitgevra nie? sou u kon vra, en u sou gelyk hê; alles kon soveel anders gewees het as ek die belangstellende medemenslike weg gevolg het. Maar ek was versigtig, dames en here. Ek was maar drie en twintig, en die man was uitheems bleek, sy blik verdoold, sy gelaat dikwels oorhuiwer deur melankolie. Hy was lank en skraal, die regterskouer effens te hoog aangeset, ’n oneffenheid in sy tred. Aan sy regterindeksvinger het hy ’n ring met ’n lapis lazulisteen gedra – ’n gelukbringer vir die druk van die sluiterknop. Teen sulke verkeerd beringde hinkende mans het gereformeerde ouers hulle dogters ernstig gewaarsku in daardie tyd. Ek het hom om my eie redes ervaar as ’n teenstander. In dié tyd was ek naamlik ’n pasgebore filosofiestudentjie, vir die eerste keer uitgerus met die analitiese instrumentaria van die marxisme. Oor kunstenaarsaffektasies en dergelike bowebouverskynsels kon mens nie agterdogtig genoeg wees nie, het ek geglo. Dit was dus teen my beterwete dat ek altyd met Schreuder ’n praatjie gemaak het as ek hom toevallig teëgekom het, of voorgegee het dat ek hom toevallig teëgekom het. Uit skuldgevoel oor my voyeurisme, of uit jammerhartigheid omdat hy ’n eenling was, het ek hom dan aangespreek met die een of ander verskoning. Dit was nooit ’n vlot gesprek nie. Schreuder het naamlik gestotter. As hy iets wou sê, moes hy eers ’n diep asemteug neem en dan ’n paar sagte vinnige sinne afsteek, waarna hy altyd ’n stafie sesamsaad uit sy sak gehaal het en in sy mond gestop het. Ek moes ongemaklik naby aan hom staan om te hoor wat hy sê, en spekulasies aanhoor waarvan die nut my net soveel ontsnap het as wat die inhoud my gefassineer het: die funksie van die Middeleeuse allegorie, die struktuur van ’n fuga. Na so ’n ontmoeting was ek ’n paar dae lank ligtelik van slag, ook omdat ek geweet het dat ek twee dae later later ’n geskenk van hom sou ontvang op die voorstoep van my koshuis: oor die kerklike onderdrukking in 1830 van die Europese Gilde van Begrafnisvioliste of oor die aankoms van die eerste mossie in Suid-Afrika in 1936 in die bagasie van ’n Engelse reisiger. Obskure tweedehandse boekies was dit, vol klein diggeskrewe annotasies in sy handskrif. Partykeer was daar ’n bossie angeliere of vilette, ’n pot heuning in die graat. Altyd ’n kaartjie: Beste mejuffrou Van Niekerk, baie dankie vir die gesprek. En dan, sonder enige konteks of verduideliking, die titel van ’n musiekstuk van Tallis of ’n verwysing na detail op ’n skildery: die gekruisigde op die luit in die Tuin der aardse luste. Etlike kere ’n gedig van Emily Dickinson uitgeskryf agter
op een van sy foto’s:
At half-past three a single bird Unto a silent sky Propounded but a single term Of cautious melody.
At half-past four, experiment Had subjugated test, And lo! her silver principle Supplanted all the rest.
At half-past seven, element Nor implement was seen, And place was where the presence was, Circumference between.
Ek het indertyd nie veel aandag bestee aan hierdie gawes nie, dames en here, en tog het ek niks daarvan weggegooi nie, ek het die Schreuderiana in ’n spesiale laai bewaar. Die versameling het jare later ’n naslaanbron geword waarin ek nog steeds leerstof vind vir my skryfstudente wat so weinig nuuskierig en so traag van begrip is. (Stempouse) Maar dit is ek wat traag was en so weinig begryp het, onverskillig
oor hierdie gebare van vriendskap (sluit die kissie oop, en sit dit plat neer). Waarom, sou u kon vra, was ek dan so ongeërg? Ek was hard aan die studeer, ek was aktief in die linkse studentepolitiek, had dit druk as hoofredakteur van die studente-koerant. Ek het geen tyd vir ’n drop-out met ’n kamera om sy nek nie, het ek myself vertel. Daaroor moes hy onder geen misverstand verkeer nie. Meer as sy leeftyd en beroep was dit ’n gevoel van asimmetrie wat my met my praktiese ingesteldheid ongemaklik laat voel het in sy nabyheid. Vleer, het ek my betrap dat ek dink, weerwolf, sesamsaaier. Daar is neerhalend gelag eendag by ’n studentefees waar hy aan die werk was toe ’n gerf swartwit foto’s uit sy tas gegly het uit ’n oop koevert en onder die voete van die dansendes beland het: ’n Jurk opwaaiend oor die agterwiel van ’n fiets, ’n katjiepiering onder ’n stolp, twee jonkmanshande wat ’n veter knoop, ’n klip in ’n stroom, ’n boek getitel Huisvlyt, vasgehou voor ’n meisie se bors. Skaduwees van blare op ’n witgekalkte muur. Verleë oor die gesmaal van my medestudente, het ek hom die foto’s help optel en terugsit in die koevert. Ek kon nie die opskrif voorop miskyk nie. “Op spaliere van die vergetelheid – 1975”. En daaronder ’n adres in Miniseriestraat waar ek geweet het dat hy by ou mevrou Gershater, een van die laaste Joodse inwoners van Stellenbosch, in kamers gewoon het. Ek het sy oog gevang. Dis pragtige foto’s, meneer Schreuder, het ek gesê, dink jy ek kan ’n keer kom kyk hoe jy hulle ontwikkel? Hy het sy asem skerp ingetrek, ’n sesamstafie in sy mond gestop. Dit het ’n nag geduur voordat ek begryp het dat “pragtig” nie die regte woord was nie. Ek het wakker gelê oor die foto’s: ’n Halwe meisie op ’n fiets, ’n gesiglose veterstrikker, ’n vlytige maagd minus kop. ’n Klip in die water, skaduwees op ’n muur, ’n blom agter glas. Nietighede. Waarom het dit my ontstem? Gelukkig, beste toehoorders, dat mens in jou jeugdige onskuld nie altyd weet waarin jy jou begewe nie, waarteen jy kan bekostig om jou te verset nie (kyk na die kissie). Nie lank na die slapelose nag nie, het ek hom, alle innerlike waarskuwings ten spyt, gaan opsoek in sy woonplek in Mini-seriestraat. Die straatnommer was ek
kwyt, maar toe ek by die laaste voordeur in die straat ’n reuk van kruidnaels kry, het ek om die huis geloop, oor ’n bedding vilette geleun en by ’n sydeur aangeklop. Dit het ’n ruk geduur voor daar oopgemaak is. En daar was Schreuder met sy deurmekaar hare en diepgesete oë, geklee in ’n verslete kamerjas, die moue opgestroop oor sy bloubeaarde voorarms. Walgvogel, het ek gedink, gotiese grilbal, maar ek het my verman. Ek het gewonder of ek kan kom kyk hoe jy jou foto’s ontwikkel, het ek gesê, en toe hy bly knipper na my in die teenlig, bygevoeg, ontwikkeling, dit lyk my ’n toweragtige tegniek. Wat is begeerte sonder tegniek, het hy gesê. Ek het opgelet hoe vol sy mond is, hoe wild sy donker hare gekrul het om sy ore. Begeerte na wat? het ek gevra. Dit was uit voor ek kon keer. Kom b-binne, het hy gesê, en ek was in, óór die bedding villette, óór die deurmat, óór die drempel, in die vreemdruikende, met musiek gevulde skemer van Schreuder se woning, waarvan die vloerplanke effens meegegee het onder my voete. Ek het die middag deurgebring in ’n ouderwetse linnekas op pote ingerig as donkerkamer, soloviool van Bach uit ’n kassetspeler in die een hoek. Vooroorgebuig langs my het Schreuder met ’n tang die velle uit die bakke met oplossing gelig en aan die wasgoedlyne bo ons koppe opgehang: ’n snit van ’n lelie, ’n knie in ’n skoolkortbroek. Elke tweede, derde ontwikkeling het hy opgeskeur en in ’n oorvol swart sak geprop. Na ’n ruk het hy beduie dat ek iets vir hom kon vashou, aangee, weggooi, ophang, ’n rimpel op ’n dam, ’n voorkop bo ’n wasbak, ’n sleutel in ’n piering, ’n boek halfoop op ’n vrou se skoot. Daar in die skommelende vogtige ruimte, waar nie een van ons tydens die twee en ’n halwe uur ’n woord gepraat het nie, het hy my tot medepligtige gemaak. Die nabyheid van ons liggame in die wiegende, krakende kas – aan ’n ark het dit my laat dink – die rooi lig, die gebare, die viool, die geluide van onderdompeling, die opdoemende beelde, die foto’s druppend om my skouers in ’n glansende palpiterende dimensie, het my benou en opgerui. Sou ek lewend daaruit kom? Toe ons klaar was, het ek om myself te verweer, ’n sigaret opgesteek en ’n eksemplaar van die studentekoerant en ’n bottel St Augustine, my eerste geskenk aan hom, uit my tas gehaal. Hy het ’n blik op die koerant gewerp en die bottel
oopgemaak. Ons het die wyn gedrink uit koeldrankglase, teenoor mekaar in twee ou leunstoele. Goed, verduidelik, het ek gevra, my stem so saaklik as moontlik, die tegniek en die e … begeerte. Hy het na my gekyk, maar sonder om my blik te ontmoet, sy oë dolend, asof hy ’n vangriem om my kop wou gooi. Hy het sy asem ingetrek, sy gesig afgewend, ek moes vorentoe leun in my stoel om te kon hoor. Ek wil dinge vang, nee, nie vang nie, los … Verlos? het ek gevra. Uit hulle oml-l-l-ynings, ja. Hy het steeds vinniger gepraat, deur diep asemteue heen, so sag dat ek nog meer vorentoe moes sit om te hoor. Ek het die gevoel gekry dat hy my wil verorber. Kannibaal, het ek gedink, maar nie vir lank nie, want die gehakkel was in Schreudermodus, ritmies, soos ’n stuk musiek. Hy wou met sy foto’s die dinge grýp, nie soos hulle wás nie, maar soos wat hulle wórd, deur wind, deur aanraking, deur die wellus van molekules. Hy wou hulle vang, maar sonder besering, in ysters van lig en skaduwee, nee, hy wou hulle op ontglipping betrap, hy wou sý verlange op hulle lóslaat, nog anders, hy wou aan hulle déélneem, in één asem, in één lig. Hy wou die voorhoof, die lelie, die water vaslê, maar nie in hulle verkluistering in huid, of rimpel of silhoeët nie, hy wou die dinge, nee, die gebruiklike persépsie van die dinge, die kyker sélf, die óóg, sy éie oog, bevry uit ’n staat van enantiomorfose. Uit ’n staat van wát? het ek gevra, maar hy het dit nie eens gehoor nie. Hy het vinnig gedrink. So naby was sy gesig aan myne dat ek sy gloed op my wang kon voel. Hy was ’n fotograaf van spasmas en skynsels en metamorfoses, het hy gesê, hy wou die fokop en die jagsheid van vervlieting laat sien. Hy het geglo in die sjrrr en drrr van dinge, en hy wou hulle hiert en vort en vibrasie afneem, hulle rafel en wreef, hulle faliekante faldera, verstaan ek? hulle fermént. Gesondheid, het ek gesê, en gewonder of hy my wou verlei. Ons koeldrankglase
was leeg. Hy het hulle weer vol geskink, ’n pakkie Sezamki uit sy kamerjas se sak gehaal en vir my aangebied. Toe maak hy ’n gebaar met al twee hande, asof hy ’n hefboom insteek in ’n gat en iets versigtig daarmee uitwrik. Koevoet? het ek aangebied met ’n mond vol soet sesamsaad. Uitk-k-oevoet, het hy gesê, die oë van die bunkervolk wat die dinge definieer, ’n skoen ’n skoen, ’n mond ’n mond, ’n vink ’n vink, leksikograwe, beeldaanbidders, hier- en daarwysers, almal onder die heerskappy van U-u-ubu. Ubu? het ek gevra. Die woord het bly hang. Dit het donker geword in Schreuder se agterkamer, dit was tyd om te gaan. Was daar ’n glimlag om sy mond? Kyk nou die klomp progs, het hy aangegaan, slaapwandelaars, presies soos die regse zombies in die kabinet. Hy het my koerant op die vloer oopgeblaai waarin ek foto’s van die opstande in Soweto gebruik het by my hoofartikels. Met ’n pokergesig het hy aangegaan. Ek het gesweer ek kon sy ore sien roer onder sy lokke. Hierdie fotograwe, het hy gesê, vir hulle is revolusie ’n manifes geklem in ’n opgehewe vuis. En dit terwyl die aarde kook van binne en die jare van lig om ons ore stroom. Die revolusie is maar één pendulumswaai, as mense dit maar wil begryp, het Schreuder gesê en sy lang arms stadig voor my heen en weer beweeg. Wou hy my hipnotiseer? het ek gewonder. In roerige tye moet mens die m-m-m-áán afneem, het Schreuder gesug. Die vilette het begin geur deur die raam, ek het opgestaan. Hy het my aangekyk. Politiek is muurpapier, het hy gesê, en die koerant eenkant toe gestoot met ’n lang voet en ’n plaerige lag. So is dit wel genoeg, het ek geroep, en dames en here, daar maak ek my rug styf, en steek vir hom ’n preek af, ja ek, voorbarige japsnoet, sê vir droomoog Schreuder: daar is nie plek vir jou soort in ons land nie, Peter. Word wakker, jy is in Afrika, in Suid-Afrika. Hier gaan dit nie om die bevryding van vinke uit hulle buitelyne nie, maar om die bevryding van onderdruktes uit ’n ondemokratiese bestel. Jy beskik oor die vaardighede om die hele wêreld te mobiliseer vir die
stryd, en jy vergooi jouself aan lelies en rimpels! Maak dan ten minste nuttige foto’s, en stel jou werk diensbaar aan iets groter as jyself. En toe steek ek my hand uit en sê, baie dankie dat jy my van ontwikkeling geleer het, ontwikkel nou net nog jou maatskaplike verantwoordelikheid. Hy het weggekyk, sy kop hoog. Hy het opgestaan en die deur vir my oopgemaak. Ek het huis toe gegaan en “enantiomorf” gaan opsoek. ’n Term uit die mineralogie vir een van ’n paar kristalle wat struktureel spieëlbeelde is van mekaar. Ek het die boek teruggesit op die rak. Enantiomorfose, krismisrose, het ek gedink, los die man, Van Niekerk, hy is bad news. Twee weke daarna het ek ’n uitnodiging van Schreuder gekry om saam met hom Worcester toe te gaan vir ’n musiekkonsert by die Skool vir Blindes. Hy het die program ingesluit. Duette uit die kantates van Bach, uitgevoer deur Philip Schreuder senior, kontratenoor, en Elizabeth Schreuder, sopraan. Vader en dogter, dus. Ek was verbaas oor die toon van die uitnodiging, asof daar niks gebeur het nie, die groet was hartlik: Ek hoop jy kan saamgaan. Vriendelik, die vinkbevryder. Ag vink jouself, het ek gedink, met jou blinde Bach en jou singende gesusterte, die Von Trapps van die Hexrivier, no doubt. Ek het nie geantwoord op die uitnodiging nie. Kort daarna is daar ’n klankkasset afgelewer by die koshuis, vergesel van die gebruiklike poskaart. Beste Van, jammer jy kon nie saamgaan nie. Dit was ’n besondere uitvoering. Hier is vir jou ’n opname. Ek gaan my fortuin soek in Johannesburg. Ek kan hierdie dorp nie langer uitstaan nie. Dankie vir jou belangstelling in my werk, dit beteken vir my meer as wat jy dink. Ek sal in verbinding bly. Jou vriend, Peter. Ek het my vererg dat hy my skielik “Van” genoem het, my bynaam in die strugglekringe. Ek het die kasset in ’n doos met Schreuder-prullaria gestop. “Vriend”, het ek gedink, jy is van ’n ander planeet as ek. Mag jy jou fortuin drie keer oor vind. Mý heil het ek kom soek aan die Universiteit van Amsterdam waar ek filosofie gaan studeer het. Ek het gou vergeet van Peter Schreuder en sy onmoontlike
begeertes. Elke dag, in die Nederland van die tagtigerjare, het ek bevestiging gekry vir my idees oor die verantwoordelikheid van die kunstenaar en die diensbaarheid van die kuns. Ek was veral beïndruk deur die demonstrasie van Nederlandse literatuurteoretici, kompleet met ratels en potdeksels, voor Atheneum, die dag toe V.S. Naipaul in Amsterdam kom boeke teken het. Dit is hoe intellektuele uit hulle ivoor-toring moet klim, het ek huis toe geskryf. Dit was in hierdie studieperiode, tydens ’n tussentydse besoek aan Suid-Afrika in 1982, dat ek Schreuder se eerste oorsig-tentoonstelling gesien het. “Spieël van Suid-Afrika”. Die titel was ’n toespeling op die propagandafilm met dieselfde titel wat mens in die sestigerjare as voorprogram in alle bioskope gesien het: weermagpelotonne en ministersvroue met ornate hoedens by parlementopeninge. Schreuder het ’n ander spieël voorgehou. Sy eertydse foto’s, die fietser, die veterknoper, die huisvlytstudent, was in een blok teen ’n muur gegroepeer soos die een helfte van ’n diptiek. Daarteenoor, op die ander muur, detailopnames uit die parallelle wêreld van swart mense: die rok en die fiets, die hande en die skoen, die oefeningboekie vasgehou teen ’n swart meisie se bors. Uit die roes aan die naaf, die afgetrapte hak, die verbleikte rok, het die kontradiksies duideliker gespreek as uit enige van die linksjoernalistieke rapportage-foto’s van die tagtigs. Schreuder het alles raakgesien: politici verstyf in heersersturgor, wit proletariërs tussen motorwrakke en yskaste, trekarbeiders in komberse, wagtend op apartheidsperronne, swart mans nakend onder die meetlatte van myndokters, townshipkindertjies naak tussen die honde en pappotte, wit skoolseuns in skooluniforms, verbroeder in vrees en meerderwaardigheid. Al die bekende Schreuder-kwaliteite, die aankondigende ligval, die onverwagse hoek, die fokus op detail, was aanwesig, maar hierdie estetiserende trekkies kon mens nou ignoreer. Die katjiepiering onder die stolp, die klip en die maan het goddank nie meer deel gevorm van die ensemble nie en die vergetelheid het nie meer gespeel in die verhaal nie. Hier was die aktuele politieke ontwikkelinge in Suid-Afrika in ryk sprekende beelde. Die Afrikanernasionalistiese regeringsmedia het Schreuder uitgemaak as landsverraaier. Die African National Congress aan die ander kant, het hom vrygeskeld van die kulturele boikot, hy was vry om sy werk uit te stal in Europa. Ek het ’n brief van gelukwensing geskryf, en dit by die galery afgegee. Ten minste, het ek geskryf, kon ek, in my onnosele voortvarendheid van tien jaar gelede, jou talent mobiliseer vir ’n goeie saak. Beskeidenheid, soos u kan sien, was nie my sterkste eienskap nie. As naskrif het
ek bygevoeg dat as ek die volgende jaar permanent terugkom na Suid-Afrika hy ’n glas St Augustine by my moet kom drink. Met my adres in Onderpapegaaiberg en albei my telefoonnommers. Ek sou na die maan moes gekyk het voor ek dit opgeskryf het. Maar ek het nie, ek was blind vir die lig van die neweson. Peter Schreuder, het ek gemeen, was onder beheer, of liewer sy effek op my, of in my. Was dit in dié tyd dat ek toevallig in die koerant gelees het dat sy ouers en suster omgekom het in ’n motorongeluk? ’n Foto by die begrafnis, Schreuder met sy palms oop uitgestrek na die oop graf asof hy iets aangee, iets ontvang. Het ek ’n kaartjie gestuur? Ek kan nie onthou nie. In die negentigerjare, tydens die liberalisering van die land, het Schreuder die ontwikkeling van die informele ekonomie gedokumenteer in ’n tentoonstelling getitel “Mobile Contractors”. Orals langs die snelweë het mens die advertensies van die nuwe entrepreneurs gesien, krom en skeef geskryf op ’n stuk hardboard of karton en vasgebind aan ’n lamppaal of gestut teen ’n hopie klippe. Simon Mhlobe, Painter. Cut throat price, I do not mess, plus ’n Vodacom-nommer. Easyboy Manto private contractor for your dirty jobs big and small, ’n MTNnommer in geel bordkryt. Schreuder het die mobielnommers gebel en die klein sakemanne gaan fotografeer waar hulle in verslete klere sitkamers geverf en kombuisvloere geteël het in ryk wit huise. Ek het die projek aan my skryfstudente voorgehou: so moet julle te werk gaan, het ek gesê, julle is die dokumenteerders, die getuies, die gewete, die res is tydmors en ydelheid. 1994 tot 2004, die dekade waarin die Nuwe Suid-Afrika toegetree het tot die globale ekonomie, was die jare van Schreuder se internasionale sukses, ook hier in Nederland. Hy het die een prys na die ander gewen en sy vroëer werk is heruitgegee. In glanstydskrifte soos The New Statesman het sy portrette van die nuwe Suid-Afrikaanse magshebbers en swart ekonomies bemagtigdes verskyn. Hoewel hy gereeld vir my ’n poskaart gestuur het wanneer ek ’n roman gepubliseer het, en my altyd op my verjaarsdag gebel het, het ek nie gedink ek sal hom ooit weer sien nie. Ek het vermoed dat hy hom soos baie ander suksesvolle Suid-Afrikaanse kunstenaars in die buiteland sou vestig. Daar was genoeg probleme in die multikulturele samelewings van Europa om opnuut vir homself ’n loopbaan as kritiese fotograaf uit te kerf.
Maar toe op ’n aand, dit was al sterk skemer, in die najaar van 2006 is daar ’n klop aan my voordeur en daar staan Schreuder, met sy hoë skouer in ’n kakiebosonderbaadjie en sy kamera om sy nek met sy hand uitgesteek na my deur die veiligheidshek. Nie om dit te skud nie, maar ’n ander, dringender gebaar. Ek het ’n situasie hier, het hy gesê, en met sy kop beduie na ’n viertrekvoertuig in die straat. Ek was uit die veld geslaan. Jy is die enigste mens hier wat my sal kan help, het hy gesê. Ek het verby hom probeer kyk om te sien wie in die motor was. Twee persone van wie een uitgeklim het, ’n swart man in ’n sekuriteitsuniform. Hy het ’n koffer en nog twee kleiner tasse uit die kattebak gehaal. My lyfwag, het hy gesê, en die man nadergewink. Marshall Ngcuka, het hy hom voorgestel, ’n groot kêrel, in ’n loodvaste baadjie en stewels, met ’n rewolwer in sy heupkoker. Marshall het iemand wat my mobiel wou steel per ongeluk raakgeskiet. ’n Opslagkoeël, vleiswond in die kuit. En ek is gebyt. Weer het hy sy hand uitgesteek, die palm was blou opgeswel, twee gate onder die kneukels. Mensdierbyt, het hy gegryns, ek wou nie die foon los nie. Die dief is in die jeep, hy bloei, maar ek wil nie sukkel met hospitale en polisie nie. Kan ons ’n paar dae by jou bly, asseblief? Wat anders kon ek doen as help, dames en here? Schreuder was doodsbleek daar by die hek. Hy het gelyk of hy enige oomblik sou ineenstort. Agter hom het die lyfwag ’n jong swart seun regop gehou, ’n bloedspoor op die tuinpad agter hom. Julle kan die garage en ’n buitetoilet kry, het ek gesê, julle sal op die vloer moet slaap. Ek moes die verhaal uit hulle trek, daar aan my kombuistafel waar ek vir hulle almal soet tee, whiskey en paracetemol ingegee het, die fotograaf, die lyfwag en die grypdief. Die ongeluk, so het ek gehoor, het plaasgevind in Khayelitsha waar
Schreuder besig was om foto’s te neem vir sy nuwe projek, portrette van misdadigers op parool, afgeneem tussen hulle eie mense, slagoffers inkluis, in die kamer, in die straat waar hulle die misdaad gepleeg het. Ek het gekyk na die gesigte om my tafel. Schreuder nou grys en geboë, die lyfwag te groot vir my kombuisstoel, die sakkeroller ’n seun van skaars sestien. Schreuder het diep asemgehaal. Die afspraak met die seun, Mandla, was dat sy wond versorg sou word, hy ’n bed en kos sou kry tot hy weer op die been is, ’n stel nuwe klere en skoene om mee huis toe te gaan en ’n betaling van dertig rand ’n uur vir ses uur per dag. Betaling vir wat? het ek gevra. Marshall het gesnork. Vir sit, het Schreuder gesê, ’n vorsende blik op die seun se gesig. Sit? het ek gevra. Vir foto’s, het Schreuder gesê, vir portrette, vir close-ups van my persoonlike rower. As deel van my komende tentoonstelling “Op parool”. My leg is hurting, het Mandla gesê. Ek het my veearts laat kom, ’n dorpswendelaar wat enigiets vir mens gedoen het as jy hom maar goed betaal het. Schreuder het ’n tetanusinspuiting en antiretrovirale medisyne gekry, die mobiel-dief pynstillers en ’n verband om sy wond, en die lyfwag tablette vir sy slapeloosheid. Die daaropvolgende twee weke het ek gasvrou gespeel vir my drie besoekers. Met my mond vol water het ek staan en uie skil in die kombuis, so much for l’art engagé, het ek gedink. Die garage was Schreuder se laboratorium. ’n Donkerkamer was nie meer nodig nie, omdat hy die meeste van sy foto’s digitaal ontwikkel het op sy skootrekenaar. Maar die duisternis was oral, die garage in chaos, ’n gevaarlike kwarantyngebied met ’n vierkoppige besetting: die skutter, die ongeval, die fotograaf en ek, die dienende, sy dit teësinnige, Martha. Schreuder het elke klein beweging van sy aanvaller gefotografeer. In die beknopte hool tussen twee wasgoedlyne, by die ruisende gaslamp, het hy sy
swenkdans rondom die prisonier uitgevoer. Marshall het Mandla geklap toe die seun een van sy sigarette gevat het sonder om te vra. Schreuder het foto’s geneem. Die veearts het Mandla se wond kom verbind, Schreuder het foto’s geneem. Mandla het op ’n kruk geleun gestaan en urineer in die buitetoilet, Schreuder het foto’s geneem, onophoudelik. Jy is myne, het ek hom vir die seun hoor sê, ek bewaar jou ingang en jou uitgang, elke roersel van jou gemoed sal ek vaslê, elke plan wat in jou daag. Mandla het geprotesteer, dis nie hoe hy die ooreenkoms verstaan het nie. Peter en Marshall het rusie gekry oor waakbeurte, almal het te min of te veel geslaap, die garagedak het begin lek in die winterstorms. Tussen alles deur het Schreuder lang spanningsvolle sessies in my skemer voorhuis gehou met Tony Morton, die reproduksietegnikus van die komende tentoonstelling. My huis het vol proewe gehang van “Op Parool”, teen die mure, teen die boekrakke en toegetrekte gordyne, ’n skare van misdadige gesigte. Tussendeur het Schreuder my getreiter, steeds meer onverstaanbaar, sy gehakkel erger as ooit, sy oë vir lang tye gesluit, kamtig om hulle te laat rus. Om die wêreld te sien soos ’n hond of ’n gans, het hy gesê, sal ’n verlossing wees vir elke fotograaf, geen menslike verwarring meer, alleen ’n wonderlike verligting. Na twee weke het ek genoeg gehad. Die bure het begin kla oor die skreeuende rusies in my jaart. Ek het Marshall aangesê om die garage op te ruim en die seun terug te vat na die township. Vir Schreuder het ek ’n hotel gevind in die Kaap, digby die galery waar sy tentoonstelling sou open. Die sleutels van die garage het ek met uitgestrekte hand teruggevra. Dit was nie die einde van die katastrofe nie. Op die openingsaand van “Op parool” het een van die bendelede wat Schreuder in Mitchells Plain gefotografeer het, by die galery opgedaag met sy prokureur en ’n reuse-geldeis as skadevergoeding vir naamskending. Die uitstalling self is swak ontvang, die koerant-opskrifte verdoemend: “Rassisme en stereotipering in Schreuder se nuwe werk” en “Peter Schreuder in ongenade”. Die pynlikste kommentaar was in die kunstydskrif Art South Africa van die hand van sy kollega-fotograaf Jonathan Silberfuss: “Shameless pictorial exploitation of the subaltern – Schreuder regresses to the cliché of the highway robber”. Twee dae na die opening was Peter terug op my voorstoep, iemand het sy Jeep se bande in die straat voor die galery stukkend gesny. Hy was so ontsteld dat ek nie anders kon as om hom in te nooi nie. Ek het hom met ’n kalmeermiddel en ’n warmwatersak in die bed gestop en in my studeerkamer gaan sit om my opsies te oorweeg.
Of liewer om sý opsies te oorweeg. Sy opsies as fotograaf, begryp u? Want dit was die vraag: Op watter onderwerp sou my vriend hom na hierdie skandaal met enige behoud van sy professionele integriteit volgende kon rig? Die onderwerp wat ek sou voorstel, moes so ver van my bed af wees as moontlik. Ek wou geen oomblik langer in die geselskap van hierdie albatros uit my jeug wees nie. Ek sou hom direk die volgende oggend lughawe toe vat en hom op ’n vliegtuig sit na die beroemde Mkuzi-wildevoëlreservaat waar talle skaars en bedreigde spesies nog te sien was. Ek het ’n luukse lodge vir hom bespreek en dit vooruitbetaal vir ’n maand. Wat meer kon ek aan sy saligheid doen? Terwyl hy geslaap het, het ek webwerwe oor voëlgedrag besoek, en vir hom ’n koevert met drukstukke voorberei, obskure inligting wat ek gedink het hom sou interesseer. In die motor op weg na die lughawe die volgende dag het ek vir hom ’n preek afgesteek, my tweede aan hom. Met my oë op die pad, oorreding in my stem, het ek gesê: jy is oud, jy is moeg. Jy is die belangrikste fotograaf van jou generasie, jy het groot artistieke en persoonlike risiko’s geneem, jy het die hoogste sport bereik in jou werk. Maar mens moet weet wanneer om terug te staan. Dit is tyd om te rus, nie op te hou werk nie, maar af te skaal, sonder enige verlies aan betekenis of belang. Dink daaraan: die mens is besig om die aarde te vernietig. Daar is te min fotograwe van jou kaliber wat werk in die natuurfotografie. Laat rus jou oë, ontspan in die buitelug, neem die tyd, die nerina trogon wag op jou, die groot blou reier, die troupant, die vurkstert-drongo. Miskien is ons die laaste mense wat die voëls nog sal meemaak in die wildernis. Sal ek hom hierdie wending kan inpraat? Hy het voor hom sit en staar, sy gelaat abstrak. Sou dit wees hoe ’n aanval van petit mal daar uitsien? het ek gewonder. Kom nou, moenie so verpiep lyk nie, het ek gesê, dis geen doodsvonnis nie. Regimes die kom en regimes die gaan, die despote sal altyd met ons wees, die armes ook, die jaloerse kritici en die stupid joernaliste, maar nie die voëls nie. Neem foto’s vir voël-kalenders. Gaan deel dit uit by arm skole, hou daarby ’n groen praatjie. Laat die WWF jou borg, met jou status sal jy maklik subsidie kry. So doen jy nog iets vir jou land op jou oudag. Verklein die bestek, dit is tyd vir inkeer. Split the lark, het ek gesê, sy eie geliefkoosde aanhaling uit Emily
Dickinson: Split the lark, and you’ll find the music. Terloops, en nou het ek verleiding in my stem gelê, weet jy wat ’n lewerikspieël is? Ek het met opset nie na hom gekyk nie, sy blik op my gevoel, die eerste reaksie wat hy getoon het tydens sy gedwonge reis na die lughawe. Ek kon uit die hoek van my oog sien dat hy nog nooit van so iets gehoor het nie. Bingo! het ek gedink, die eerste keer in my lewe dat ék jóú nuuskierig het. Ek het hom die koevert laat oopmaak met die uitdrukke van artikels wat ek gekry het op die webtuiste van ene Herman Arentsen van Volendam, die outeur van die enigste boek oor die geskiedenis en konstruksie van die lewerikspieël.[3] Iets om te lees in jou boomhuis in Mkuzi, het ek gesê. Met dié leesstof, sy e-ticket en ’n bottel St Augustine het ek hom afgelaai by die drop-off zone. Afgehandel en aan die kant, het ek gedink toe ek wegry. (Stempouse) Ek loop die verhaal vooruit, dames en here, maar weet enig-iemand hier wat ’n lewerikspieël is? (Stempouse) Sal ek u dit laat sien? (In doodse stilte word hier die onderdele inmekaar gepas en die lewerikspieël opgestel, versigtig om dit nie aan die draai te maak nie. Hervat met ’n lugtige pokerface.) Wat u hier sien, dames en here, is ’n tradisionele jagterslok-middel vir voëls, wydverbreid vanaf die sewentiende eeu in die suidelike lande van Europa en in Engeland.[4] Dié van u wat onwel word van draaiende speekwiele en lanings vol slagskaduwees, moet nou miskien die oë sluit en verder net luister.
Schreuder het veel langer weggebly as die maand wat ek vir hom bespreek het in die voëlreservaat. Pas ’n halfjaar later was hy weer op my stoep, dié keer met ’n B3-grootte-kartonlêer vol foto’s en koorsige oë. Nie wat ’n mens sal noem ’n safarifotograaf terug van sabbatsverlof nie. Ek was bang vir ’n tweede besetting van my garage. Ek is op pad landuit, het ek gelieg, daar kom huurders in my huis. Uitstekend, het hy gesê, die foto’s sal dan nie in jou pad wees nie, dis in elk geval niks, ek wou dit net hier kom neersit, as ek mag, ek het my plek verkoop, ek kan dit nie langer uithou op hierdie kontinent nie, ek is ook op pad. Schreuder het gegroet en weggery sonder om weer na my te kyk waar ek op die voorstoep bly staan het met die lêer in my arms. Ek het nie na die inhoud gekyk nie, dit in die kas gaan stop waar ek al sy rommel oor die jare gebêre het, geïrriteerd met die kasdeur wat nie wou toe nie. Ek moes eers die hele Schreuder-santekraam uitpak en orden. Sou dit die aanraking van al die verdronge geskenke gewees het wat my ’n ongemaklike voorgevoel gegee het? Dit was nie lank voor ek Schreuder se eerste missief uit Europa gekry het nie – ’n digbeskrewe lugposbrief uit Amsterdam.
Beste M.
Ek agtervolg ’n swerwer wat elke nag onder die sneeu slaap in die steeg agter my appartement. Hy dink ek neem foto’s van hom, maar ek mik in die lug. Hy gooi vir my briefies neer in die straat, onontsyferbaar, ek volg hom elke dag na’n antiekwinkel op die Spiegelgracht waar hy ure lank staar na iets in die étalage. Vandag die eerste keer nader gegaan om te sien wat dit in godsnaam kan wees – jy sal dit nie glo nie, ’n lewerikspieël! Ek het dit herken van daardie drukstukke wat jy my destyds gegee het op pad na die fameuse “voëlkuur” wat jy vir my uitgedink het. Ek het dit dadelik gekoop, ’n Robillardmodel uit 1890 gemonteer in ’n houtkissie uitgevoer met vilt. Die handelaar wis te vertel dat Charcot ’n saal vol mense gehipnotiseer het met ’n soortgelyke apparaat. In Frankryk, sê hy, verwys miroir aux alouettes na ’n politikus wat die volk verlei met valse beloftes. Ek maak die lokglas tot my wapenskild. Want wat doen ek anders as die kykers
verlei met valse beelde? Terloops, het jy miskien al na die lêer met voëlfoto’s gekyk wat ek daar by jou gelos het? Daarin illustreer ek my nuutste insig, eintlik my oudste insig, nou meer radikaal as ooit. Nou ja, die krokusse blom op die plantsoene, ek wil die alwetierra gaan uitprobeer. Dis Maltees vir lewerikspieël. Sal jou laat weet as dit werk! Ek hoop om van jou te hoor.
Jou bondgenoot,
Die heer Smeltwater
Ek het die brief twee keer gelees.Waarom moes hy elke suggestie van my altyd tot sulke uiterstes dryf, ver buite my bedoeling om? Waarom, trouens, het hy hom elke keer so hart en siel onderwerp aan my voorskrifte, net om hulle tot die absurde te oordryf? In die tuin het ’n tortelduif skril gekoer. Ek het die brief boop die lêer in die kas gesit en ’n tuingraaf gepak om my irritasie te gaan afwerk in die spinasiebedding. Die volgende skrywe het ’n maand later gekom, ’n poskaart.
Jisja ou Van,
Dis heerlike lente, die winter’s verby, en ek sit in ’n weiland by Oudekerk. My kameras in die Vecht gedoop, my lugfoto’s van die sneeuslaper na die stadsargief gepos. Herr Gott sei Dank, my laaste misdaad. Maar die Robillard, o die Robillard werk! Nie net vir lewerikke nie, die meeste klein geveerdes val
daarvoor. Hulle val uit die lug, bly ’n paar minute lam, ek hou hulle warm op my skoot tot hulle bykom en wegvlieg. Die mooiste is, ek val self vir die ding. Pallaksch! Soms ’n halfuur lank. En ontwaak soos ek was voor ek iemand geword het. Glad en dig, vlakgekiel, op die eindelose rivier van my jeug, een kleine schip dat zijn witte zeil doet lichten. Hoe gaan dit met Peng daar in Onderpapegaaiberg? Antwoord jy dan nooit?
Jou agterryer
Scardinelli.
Peng? Scardinelli? Speleoloog, het ek gedink. Met die poskaart in my hand het ek voor die venster na die tuin bly staar. Meimaand. Die lug was in beroering. ’n Klein storting geel blaartjies uit die sering. Kan dit wees dat Schreuder my iets aan die verstand wou bring? Maar wie sou vir ’n vriend soveel oorhê dat hy vir dié doel, met sy eie werk, met sy lewe self, soveel risiko’s wou neem? Ek het gaan sit om vir hom ’n brief te skryf, maar dit het telkens ontaard in betigtiging en selfregverdiging, en dit was nie wat ek wou sê nie. ’n Maand na die poskaart kry ek ’n telefoonoproep uit die buiteland, van die Immigratie- en Naturalisatiedienst. Amptenaar Johan Moens was formeel, ja, hy bel insake ene Peter Schreuder, welbekend as fotograaf in Nederland, wat my naam opgegee het. Schreuder is in ’n verwarde toestand op ’n landweg buite Amsterdam opgepik en medies gestabiliseer in ’n opvanghuis vir illegale vreemdelinge. Sy visum het twee weke vantevore reeds verval, hy word met ’n spesiale reisvergunning met al sy bagasie, waaronder etlike waterbeskadigde kameras en ’n voëllokapparaat in ’n houtkissie, gedeporteer na Suid-Afrika. Hier is vlugnommer en aankomstyd, ek kan hom die volgende oggend op die lughawe in Kaapstad afhaal, ’n amptenaar van die Suid-Afrikaanse Departement Binnelandse Sake en ’n afgevaardigde van die Nederlandse konsulaat sal op die lughawe wees met papiere wat ek moet teken om ontvangs te erken van ’n VONDEL, A/O-3: volwasse vondeling, niet-delinquent, illegaal, ’n buitelander, afhanklik en ontoerekeningsvatbaar gradering 3. As ek enige besware het, beveel hy aan dat ek regshulp kry.
Wat makeer hom? wou ek weet. U vind die psigiatriese verslag in die gedeporteerde se binnebaadjiesak, het Moens gesê. Het Schreuder geglimlag toe ek by die lughawe my hand voor sy bors insteek om die koevert uit te haal, warm van sy liggaamshitte, verkreukeld van die reis? Dit het gevoel soos brood wat terugkom op die water. Dat hy aan epilepsie ly, het ek al geweet, meerdere persoonlikheidstoornis word vermoed deur die dokters wat hom ondersoek het. Die aanbeveling in die verslag was dat hy versorg word in ’n stabiele omgewing met seroquel agter die hand vir as hy sou amok maak. Maar Schreuder is nie meervoudig nie, dames en here, hy is enkeld, ’n onbewerkte blok en hy maak nie amok nie. Hy beweeg sonder dat hy weet waarheen, hy sit sonder dat hy weet waar hy sit, hy is kalm en rustig en dein mee met die stroom. ’n Groot grys kind in my tuin, met sy gesig na die hemele, rustig ademend, sy liggaam uitgedroogde hout, sy hart uitgedoofde as, ’n glimlag sonder ’n gesig. Die spesialiste vind geen neurologiese afwyking nie. ’n Frats van breinstilstand, noem hulle dit. Hy is soos hy is, maar hy is weg. Hy maak nie sy mond oop nie. Hy verseg. Hy sluit sy oë, asof hy bang is hy lek uit by sy openinge. Wel, nou is ek die lek. Ek wat die verhaal hier kom vertel het, en hom agtergelaat het by ’n verpleegster en ’n huishulp, sonder sy speelding. (Kyk na die lewerikspieël) Vandat ek Schreuder gaan haal het op die lughawe het hy vasgeklou hieraan (raak aan lewerikspieël), hy het dit onophoudelik aan die draai gemaak, snags moes dit saam met hom bed toe. Ek moes die kop vassit met ’n klem om enige verdere skade te voorkom, ’n verdwaasde man was genoeg, ek wou nie ook nog met ’n jaart vol verlamde voëltjies sit nie. Maar waarom die verknogtheid? Sou dit ’n soort transisionele objek wees, soos die kombersie waaraan ’n kleuter onafskeidbaar geheg is, iets wat instaan vir die verlies van die oorspronklike objek? Maar watter transisie sou hier ter sprake wees, en watter verlies? As daar ’n antwoord is, het ek gedink, sou dit te vinde wees in sy nalatenskap. Die afgelope twee jaar het ek gereeld sy fotoboeke met hom deurgeblaai, langs hom, op sy bed voordat ek hom toedek vir die nag. Ek het sy hande op die gladde bladsye gesit. Hier is jou werk, het ek gesê, dit het jy vermag, jou
vaderland, soos niemand dit gesien het voor jou nie. Maar die deure het toe gebly. Dit was ek wat moes oopgaan. Vir my was daar die briewe, poskaarte, foto’s, gedroogde vilette, ’n flessie sandsuiker heuning, ’n klankkasset, die klein vriendskapsmuseum waarvan ek die kurator geword het daar in sy agterkamer. Soggens wanneer ek vir hom koffie neem in die bed, het ek alles afgestof, en die items een vir een in sy hande gesit, sy woorde aan my vir hom teruggelees, en onderlangs sy gesig dopgehou vir ’n teken, maar meer as die glimlag het ek nooit gekry nie. Dit was vir myself dat ek in die spieël moes gaan kyk. ’n Maand gelede het ek die eerste keer die groot B3-lêer van sy eertydse Natalse voëlsafari uit die kas gehaal. Het ek regtig gedink dat dit vol perfek omlynde hoëresolusie-kleurfoto’s sou wees van jangroentjies? Ek het vioolmusiek opgesit vir die okkasie en langs Schreuder op die kant van sy bed die kartonbuiteblad oopgeblaai. Takkies, lower, klippe. Alles swartwit, leeg en kaal. Waar is die voëls, Schreuder? het ek gevra. Wou hy iets sê? In die skreef tussen sy ooglede het ek blinkigheid gesien. Ek het teruggeblaai en van voor af begin, en toe het ek gesien: Die mik van ’n raasblaar, berei vir ’n papegaai, sewe kepe in die sandsteen om die raaf te ontvang, ’n strelitzia, met die vlagstok in die gleufwerk gereed vir die suikervoël. En daar was skoorstene en telefoonpale gespan in verwagting, en riete en gras in beroering van vertrek, ’n opstel in afwesigheid, vol stootwind en glipstroom, en die speling van verlewendigde lig. Ek het voor Schreuder gaan staan en sy hande geneem. Lig en droog was hulle. Van wie was die sug, van my of van hom? Sal hy nog leef as ek teruggaan? Sal ek nog tyd hê om te verwerk wat ek op daardie oomblik begin verstaan het? Ryke stof. Die kuur van die voëls, die sjrrr en die drrr, die deelneem aan die ontglipping, in één asem, in één lig, die verlossing van alles uit hulle buitelyne, die negatiewe weg. Hoe kon ek so dom wees? Met my bevrydingspolitiek en my natuurbewaring wat ek onder sy neus bly druk het as die enigste waardevolle agendas? Miskien was dit toe dat ek besluit het dat ek die hele droewige sage eendag vir iemand moet vertel. Schreuder se loopbaan het ek help maak, maar sy lewe het ek, nou ja, byna vernietig. Ek het berou. Nie dat hy dit van pas sou vind nie. Daar is ook iets om te vier, sou hy dalk sê, vir soverre mens kan vier dat jy op die valreep iets kon voel van die afgrond, en belangriker nog, van weerloosheid, van jou onmag voor die oorrompelende so-syn van die dinge.
Dit is wat hy miskien sou sê, en dan nie so dom-nadruklik nie. Hy sou dit sê in sy Schreuderiaanse stamelspraak, sy onthegte orfiese taal. En ek sou daar my lering uit moes trek, die leer van die misterieuse oppervlakke van die dinge, die afgrondelikheid van die bestaan waarvoor nie alleen die fotograaf nie, maar ook die skrywer, die uiteindelike verantwoordelikheid dra. Maar sou dit die hele storie wees? Ek dink nie so nie. Die afgrond was veel nader, dit was ekself, my afgrondelike onvermoë tot kameraadskap, tot bondgenootskap met ’n vrygewige, vertrouende siel. Het ek op dié manier my kans gemis? Ek weet nie, ek probeer daarvoor vergoed. Saam met die seuns van die huishulp en die verpleegster het ek ’n tuin om hom aangelê, vilette, angeliere, ’n byekorf, ’n klein suurlemoenboord agter die huis. Nou in die vroeë somer is die tuin, om die bard aan te haal, “soos ’n kind wat verse opsê”, geurend van bloeisels en heuning. Elke oggend neem ek hom na sy sitplek onder die vyeboom. Hy eet of drink nie veel nie, selfs nie sy sesamstafies nie. Die mossies pik dit op tussen sy voete. Met sy leë glimlaggende gesig bepaal hy die ritme van die huishouding. Om hom heen doen ons ons werk: ons lees vir hom, ons maak tuin, maak die huis skoon, doen die inkopies. Omdat hy so ’n stilte is in ons midde praat ons ander ook nie veel nie. Soms betrap een van die seuns my dat ek stil sit by die gedig wat ek probeer skryf, met geslote oë, luisterend na die gedruis op die paaie alom, na die klik en borrel van my ingewande, die suising soms hoorbaar van die kosmos. Toe nou, sê hulle dan, aan die werk, want die nag kom nader. As die janfrederik in die skemer begin sing, en ek hoor Schreuder buite antwoord, sy kop gehef, sy lippe getuit in fluitstand, dan gaan staan ek langs sy stoel en dreun ’n begeleidinkie. Die voël, die augur en die domp. ’n Roeper, ’n respondent en ’n getuie. In die boonste die helder swewende krepaskulêre voël-gesang, dan ’n eggo in ’n dowwer menstimbre, en heel onder ’n late verwonderde baspedaal. Dis ’n fragiele refrein met variasie, “Ein Hauch um nichts. Ein Wehn im Gott. Ein Wind.” Op sulke momente dink ek aan die konsert van Bachkantates op Worcester waarna Schreuder my meer as dertig jaar gelede uitgenooi het om sy familie te ontmoet. Ek verbeel my ons aand-gesang daar in die tuin as ’n afklanking van die duette wat sy pa en sy blinde suster gesing het. Die kasset van daardie uitvoering van die Skool vir Blindes op Worcester het ek vandag saamgebring, beste toehoorders, ’n besonderse opname inderdaad, wat
ek dikwels saam met die oorlewende beluister, noudat die uitvoerders almal reeds dood is, die dogter, die vader, die moeder op die bas. Die dooies wat die aarde sterk. Pas in hierdie dubbele wêreld word die stemme ewig en mild. Ek laat u tot slot ’n fragment hoor.
(Speel die musiek, uit die kantate Wer da gläubet und getauft wird, die koraal (duet), “Herr Gott Vater, mein starker Held”. Maak die lewerikspieël aan die draai, een keer regs, een keer links, weer regs, los dit, draai dit weer by die laaste maat. Stop dit as die sang ophou, pak dit in en maak die kis se deksel toe om presies saam te val met die eind-akkoord van die begeleiding.)
Erkennings
Reëls en fragmente uit die werk van die volgende digters is soms met en soms sonder verwysing opgeneem in die teks: Joseph von Eichendorff, Emily Dickinson, Jalāl ad-Dīn Mu¯hammad Rūmī, Rainer Maria Rilke, Louis MacNeice (vertaling van “Conversation” uit Collected Poems, Faber & Faber, 2007), Albert Verwey, T.S. Eliot, R.L. Stevenson, Paul van Ostaijen en Paul Celan. In “Die slagwerker” kom ’n gedeelte voor van ’n strofe uit die vyftiendeeeuse Maltese teks “Il Cantilena” deur Pietro Caxaru.
Dankie aan die volgende persone wat hierdie verhale tydens die skryfproses gelees het en wat waardevolle kommentaar gelewer het: Henda Strydom, Ena Jansen, Louise Viljoen, Hettie Scholtz, Alida Potgieter, Madri Victor, Rosemarie Buikema en die gesin Naudé. Dankie aan Annette Portegies van Querido vir haar advies en ondersteuning tydens die besondere trajek van die boek se Nederlandse uitgawe. Dankie ook aan Herman Arentsen vir sy inligting oor lewerikspieëls. Die professorale intreerede, “Die swanefluisteraar”, word met vriendelike vergunning van die Universiteit van Stellenbosch ingesluit.
Die Einde
[1] In Engels praat mens van ’n inaugurele rede, van die Latyn inaugurare, om iemand seremonieel te bevestig in ’n amp op grond van die lees van tekens. ’n Ougur is ’n dolosgooier of ’n wiggelaar wat die toekoms voorspel, iemand wat die lot aflees aan tekens: aan wolke of die vlug van voëls, aan dierelewers of eierdooiers of beentjies en kutteltjies en tande. ’n Intreerede kan dus gesien word as ’n waarsêery op grond van voorbodes.
[2] Hierdie lesing is oorspronklik gehou op 15 Oktober in Leiden as die Albert Verweygedenklesing. Die 15de Oktober is op die Katolieke heilige kalender die fees van Sint Theresa, en op die ornitologiese kalender is dit ’n dag midde-in die migrasie van die lewerikke. A Santa Teresa, allodole a distesa sê die Italiaanse jagters: Op Santa Teresa word onophoudelik lewerikke gesien, en op Malta lui dit: Il-kewba ta’ Santa Tereża, ġġib magħhal-alwett, l-ekri u gġasafar ohra tal għana wat beteken: Die ster van Sint Theresa bring lewerikke en sysies en ander sangvoëls. Arentsen en Fenech: 2004. 26-27.
[3] Arentsen, H. F. Fenech, Natalino: Lark Mirrors. Folk Art From The Past. Uitgegee deur die outeurs, 2004.
[4] Die lewerikspieël is vanaf die derde eeu voor Christus gebruik om voëls na nette of skutters te lok en is tot onlangs, sy dit onwettig, aangetref in die jag op klein voëltjies op Malta. Dit bestaan uit ’n houtbalkie ingelê met spieëltjies. Hierdie houtbalkie is gemonteer op ’n metaalstang, wat glad draai in ’n houtpen wat mens in die grond kan inkap. Die balkie word met ’n toutjie of ’n klokwerkmeganisme in beweging gebring. Die voëls kom in groot getalle daarop af en val asof gehipnotiseerd uit die lug en kan maklik neergeskiet of gevang word. Daar word baie redes gegee waarom lewerikke hierdie draaiende spieël aanloklik sou vind; hulle sou dink dat dit water is, of die son, of ’n swerm vreemde lewerikke, of ’n nuwe aarde en ’n nuwe hemel. Arentsen en Fenech: 2004. 21-25.
Human & Rousseau, ’n druknaam van NB-Uitgewers, ’n afdeling van Media24 Boeke (Edms) Bpk, Heerengracht 40, Kaapstad, 8001 Posbus 5050, Kaapstad, 8000, Suid-Afrika www.humanrousseau.com
Kopiereg © Marlene van Niekerk 2009 Nederlandse uitgawe deur Em. Querido’s Uitgeverij BV 2009
Alle regte voorbehou.
Geen gedeelte van hierdie elektroniese boek mag sonder die skriftelike verlof van die uitgewer gereproduseer of in enige vorm of deur enige elektroniese of meganiese middel weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, skyf- of bandopname, of deur enige ander stelsel vir inligtingsbewaring of -ontsluiting.
E-boekontwerp: Trace Digital Services
Ook beskikbaar in druk: Eerste uitgawe, eerste druk 2009
ISBN: 978-0-7981-5181-8
Epub-uitgawe: Eerste uitgawe in 2012 ISBN: 978-0-7981-5347-8 (epub)
Mobi-uitgawe: Eerste uitgawe in 2013 ISBN: 978-0-7981-6118-3 (mobi)