POPLAP ANNIE
Vertaal deur
RIANA POPE
Smashwords Edition
Copyright 2012 Riana Pope
Smashwords Edition, License Notes
This ebook is licensed for your personal enjoyment only. This ebook may not be resold or given away to other people. If you would like to share this book with another person, please purchase an additional copy for each recipient. If you are reading this book and did not purchase it, or it was not purchased for your use only, then please return to Smashwords.com and purchase your own copy. Thank you for respecting the hard work of this author.
VOORWOORD
Poplap Annie is nie sommer net ’n gewone lappop nie. Sy kan sien, hoor, loop en lekker lag. Sy is lank, lank gelede in ’n ou trommel gevind en het een van Marie se liefling poppe geword. Poplap Annie is baie slim en deur haar ervarings leer sy die ander poppe lewenslessies wat tot vandag relevant is.
Dit was vir my lekker om hierdie boek te vertaal wat oorspronklik geskryf was deur Johnny Gruelle en ek vertrou dat klein kindertjies dit net so sal geniet.
INHOUDSOPGAWE
Poplap Annie leer ‘n Les
Poplap Annie en die Wasgoed
Poplap Annie en die Vlieër
Poplap Annie red Fifi
Poplap Annie en die Verwer
Poplap Annie se rit op die Rivier
Poplap Annie en die Vreemde Poppe
Poplap Annie en die Katjies
Poplap Annie en die Geskenk
Poplap Annie en die Hoenders
Poplap Annie en die Muis
Poplap Annie se nuwe Sussies
POPLAP ANNIE LEER ‘n LES
Op ‘n dag was al die poppe alleen. Hul mens-mamma, Marie, het hulle in die kamer neergesit en gesê dat hulle soet kinders moet wees terwyl sy weg is. Daar het hulle doodstil gesit en het nie ‘n vinger veroer totdat sy die kamer verlaat het nie. Die soldaatpoppie het sy kop gedraai en vir Poplap Annie gewink.
Hulle het gehoor hoe die voorste hekkie toegemaak was en het geweet dat hulle alleen in die huis was. Almal het vinnig opgespring.
“Laat ons nou lekker speel!” het die bliksoldaat uitgeroep. “Laat ons vir iets gaan soek om te eet!”
“Ja! Laat ons vir iets gaan soek om te eet!” het al die ander poppe ook uitgeroep.
“Toe Marie vanoggend met my gespeel het,” het Poplap Annie vertel, “het sy my verby ’n deur gedra aan die agterkant van die huis waar ek iets geruik het wat baie lekker moet proe!”
“Dan moet jy ons die pad aanwys Poplap Annie!” het die Franse poppie gesê.
“Ek dink ons moet vir Poplap Annie aanstel as die leier op hierdie ekspedisie!” het die Indiaanse pop gesê.
Al die ander poppe het hul handjies geklap en uitgeroep, “Hoeraa! Poplap Annie sal ons leier wees.”
Poplap Annie was baie trots op haarself om die vertroue en liefde van al die ander poppe te ontvang en het gesê dat sy bly sal wees om hul leier te wees.
“Volg my!” het sy almal geroep terwyl sy op haar sagte beentjies uitgehardloop het. Al die poppe het haar gevolg en hulle het deur die huis gehardloop tot by die deur van die spens.
“Dit is die plek!” het Poplap Annie bevestig en verseker, al die poppies het iets geruik wat baie lekker moes gesmaak het.
Maar nie een van die poppe was lank genoeg om die deur oop te maak nie, al het hulle gestoot en gestoot met al hul kragte, die deur het toe gebly.
Die poppe het gepraat en getrek en gestoot. Elke nou en dan het een van hulle omgeval en die ander het op haar getrap in ‘n poging om die deur oop te kry. Uiteindelik het Poplap Annie eenkant getree en op die vloer gaan sit.
Die ander poppe het opgemerk dat Poplap Annie op die vloer gaan sit het en sy het haar hande in haar wolhare gevryf - toe weet hulle dat sy aan ‘n plan probeer dink het.
“Sh! Sh!” het hulle vir mekaar gefluister en by haar gaan sit.
“Daar moet ‘n manier wees om in te gaan,” het Poplap Annie gesê. “Ek kan nie vandag helder dink nie, dit voel of my kop geskeur het.”
Die Franse pop het dadelik na Poplap Annie gegaan en haar kappie afgehaal. “Ja, daar is ‘n skeur in jou kop, Poplap Annie!” het sy gesê en ‘n speld van haar rompie afgehaal en Poplap Annie se kop vasgespeld. “Dit lyk nie juis netjies nie, want daar is nou ‘n paar plooie op jou kop!” het sy gesê.
“Ag dankie, dit is soveel beter!” het Poplap Annie bedank. “Nou kan ek weer helder dink.”
“Nou kan Poplap Annie baie helderder dink!” het al die poppe gelyk uitgeroep.
“My gedagtes het seker by die skeur uitgehardloop!” het Poplap Annie gesê.
“Hulle moes seker uitgehardloop het, arme Poplap Annie!” het almal beaam.
“Noudat ek weer helder kan dink,” het Poplap Annie voortgegaan, “dink ek die deur moet gesluit wees en as ons wil ingaan, moet ons dit eers oopsluit.”
“Dit sal maklik wees!” het die Hollandse pop gesê, wie “Mamma” sê wanneer hy vorentoe en agtertoe gebuig word. “Ons sal die brawe bliksoldaat vra om die sleutel uit die slot te skiet.”
“Ek kan dit maklik doen!” het die bliksoldaat beaam terwyl hy sy geweer gelig het.
“Ag, Poplap Annie!” het die Franse pop gegil, “moet asseblief nie dat hy skiet nie!”
“Nee!” het Poplap Annie saamgestem. “Ons moet aan ‘n stiller manier dink wat nie so baie geraas sal maak nie.”
Nadat sy vir ‘n lang oomblik hard gedink het, het Poplap Annie opgespring en gesê: “Ek het dit!” Sy het Jakkie Hop-Hop geneem tot by die deur en hy het op sy stokkie tot bo geklim en die deur oopgesluit.
Al die poppe het saam hard gestoot en die deur het oopgeswaai. Aarde! Wat ‘n warboel! Die poppe het sommer bo-oor mekaar geklim om by die lekkernye uit te kom. Hulle het die spens bestorm en in hul gretigheid het ’n beker room op die Franse pop se rokkie uitgestort.
Die Indiaanse pop het vars brood gevind wat hy sommer in die stroop gedruk het en het heerlik daaraan gesmul. ‘n Blik frambooskonfyt was omgestamp en die poppe het dit alles opge-eet totdat hulle gesigte daarvan pers was. Die bliksoldaat het drie keer van die rak afgeval en een van sy blikbene gebuig maar hy het weer net so vinnig opgeklouter.
Nog nooit het die poppe soveel opgewondenheid en pret gehad nie. Hulle het hulle knuppeldik ge-eet en toe hoor hulle hoe die hekkie oopmaak.
Hulle het nie tyd laat verlore gaan om mooi af te klim nie maar het gerol en gespring en so gou hulle kon na die kamer gehardloop en ‘n lang spoor agtergelaat vol broodkrummeltjies en konfyt. Net toe Marie by die kamer ingestap het, was almal sommer deurmekaar op die vloer.
“Dit is baie snaaks!” het Marie uitgeroep. “Hulle was almal op ‘n ry in die kamer gesit. Ek wonder of Fifi hulle deurmekaar gemaak het.” Toe sien sy Poplap Annie se gesig en het haar opgetel. “Griet Poplap Annie, jy is so taai! Ek dink jy is besmeer met stroop!” Sy het aan haar handjie gelek. “Ja! Dit is stroop! Skaam jou Poplap Annie! Jy was in die spens en al die ander poppe ook!” Daarna het sy Poplap Annie op die vloer neergesit en by die kamer uitgestap.
Marie het teruggekeer na die poppe met ‘n voorskoot en haar moue was opgerol. Sy het al die poppe wat taai was opgetel en in ‘n mandjie gesit en uitgedra tot onder die appelboom in die tuin. Daar het sy haar wasbalie gehad en die poppe een vir een geneem en geskrop met ‘n harde borsel; sy het hulle heen en weer in die seepwater getrek totdat almal weer skoon was. Nadat almal gewas was het sy hulle op die wasgoeddraad opgehang om droog te word in die son.
Daar het die poppe die hele dag gehang en in die windjie gewaai totdat hulle droog was.
“Ek dink sy het my gesig so hard geskrop dat sy my hele glimlag weggewas het!” het Poplap Annie gekla na ‘n uur van stilte.
“Nee, dit is darem nog daar!” het die bliksoldaat haar ingelig toe die wind hom omgeswaai het sodat hy haar gesig kon sien. “Maar ek dink nie my arms sal ooit weer kan werk sonder om hierdie gekraak te hoor nie, hulle voel of hulle nou vol roes is,” het hy almal ingelig.
Op daardie oomblik het die wind die klein Hollandse pop se waspen losgeruk en hy het op die gras neergeval met ‘n harde slag en toe hy omrol het hy gesê, “Mamma!” met ‘n baie hees stem.
Laat die middag het die agterdeur oopgegaan en Marie het uitgestap met ‘n tafel en stoele. Sy het al die poppe van die wasgoeddraad afgehaal en elkeen op ‘n stoel neergesit. Hulle het heerlike koue koeldrank gekry en klein “baba-happiekoekies” wat met baie suiker bestrooi was.
Na die lekker eet was al die poppe teruggeneem in die huis waar almal se hare mooi uitgeborsel was en sy het vir hulle skoon nagklere aangetrek. Marie het hulle in hul bedjies gesit en elkeen ‘n goeienag soentjie gegee en by die kamer uitgetrippel.
Al die poppe was so stil soos muisie vir ‘n rukkie. Poplap Annie het op haar opgestopte elmboog gerus en gesê: “Ek het aan iets gedink.”
“Sh!” het al die ander poppe mekaar probeer stilmaak, “Poplap Annie het aan iets gedink!”
“Ja,” het Poplap Annie gesê, “ek het gedink, Marie het vir ons lekker eetgoed onder die boom gegee om vir ons ‘n les te leer. Sy wou ons leer dat ons al die lekkernye kon gehad het wat ons wou, wanneer ons wou, as ons onsself net sou gedra het. Ons les was om nooit net te vat sonder om te vra nie. So, laat ons dit onthou en ons moet nooit weer iets doen om dié wat ons liefhet, ongelukkig te maak nie!”
“Laat ons dit onthou,” het al die ander poppe in een stem saamgestem.
Poplap Annie, met ‘n gelukkige glinster in haar ogies van blink knopies gemaak, het gemaklik in haar bed gelê met haar katoengevulde kop, gevul met gedagtes vol liefde en geluk.
* * *
POPLAP ANNIE EN DIE WASGOED
“Ag Diena! Hoe kon jy!”
Mamma het by die venster uitgekyk en gesien hoe Marie na Diena gehardloop het. Sy het iets uit haar hande geneem en toe met haar kop op haar arm, het sy bitterlik gehuil.
“Wat is verkeerd my liefie?” het Mamma gevra en by die deur uitgestap en langs die klein huilende figuurtjie gekniel.
Marie het Poplap Annie vir haar gewys. Maar dit was so ‘n komieklike Poplap Annie! Mamma het in haar enigheid gelag, ten spyte van haar simpatie vir die snaakse Poplap Annie.
Diena se groot oë het besorg gekyk want Marie het Poplap Annie uit haar hande gegryp toe sy uitgeroep het, “Ag Diena! Hoe kon jy?”
Diena kon nie eintlik verstaan het wat aangegaan het nie want sy was baie lief vir Marie en sy was nou ook ongelukkig.
Poplap Annie was glad nie ongelukkig nie en het geweet dat sy baie snaaks moes gelyk het en het wyd geglimlag. Sy het presies geweet hoe alles gebeur het en haar een blink knopiesoog het geflikker. Sy het onthou dat Marie kwaad was toe sy daardie oggend na die babakamer gegaan het om al die poppe aan te trek. Poplap Annie het gedink dat sy miskien met die verkeerde voet uit die bed geklim het want Marie het die hele tyd gemor toe sy die poppe aangetrek het.
Toe dit Poplap Annie se beurt was om aangetrek te word, was Marie woedend want sy het haar vinger geprik met die speld toe sy die Fransie pop aangetrek het. Marie het die dogtertjie wat langs hulle woon gehoor roep en sy het vinnig by die babakamer uitgehardloop en Poplap Annie sommer net eenkant gegooi. So het dit gebeur dat Poplap Annie in die wasgoedmandjie beland het, dubbel gevou in ‘n knoop.
‘n Rukkie daarna het Diena ingekom met arms vol klere wat sy bo-op Poplap Annie gesit het. Sy het die wasgoed uitgedra na die agterkant van die huis waar sy dit moes was. Al die klere is in die groot pot gegooi en met water bedek. Sy het die pot op die stoof gesit. Die water het begin warm word en Poplap Annie het gekriewel tussen al die klere totdat sy bo kon kom om by die pot uit te loer. Daar was so baie stoom dat sy nie veel kon sien nie en Diena kon haar ook nie gesien het nie.
Diena het ‘n ou besem gebruik en die klere in die pot geroer en arme Poplap Annie was rondgerol totdat alles behoorlik gekook het. Diena het die klere een vir een uitgehaal uit die pot en geskrop totdat sy uiteindelik op Poplap Annie afgekom het. Diena was onder die indruk dat Marie vir Poplap Annie in die wasgoedmandjie gesit het en daarom het sy haar geskrop. Met die geskrop het twee knope van Poplap Annie se rokkie losgekom asook haar een knopieogie.
Diena het Poplap Annie se twee beentjies in die rollers gedruk om haar uit te droog en het die slinger gedraai. Dit was baie harde werk om Poplap Annie deur die rollers te gekry het maar Diena was baie sterk. Natuurlik het dit toe gebeur! Poplap Annie het so plat soos ‘n pannekoek aan die anderkant uitgekom.
Dit was op daardie oomblik wat Marie teruggekom het en gesien het wat met Poplap Annie gebeur het.
“Ag Diena! Hoe kon jy!” Marie het bitterlik gehuil toe sy die plat Poplap Annie van die verbaasde Diena afgeneem het.
Mamma het Marie se handjie gevryf en getroos om op te hou om te huil. Diena het verduidelik dat sy die eerste keer vir Poplap Annie opgemerk het toe sy alles in die pot gesit het maar dit het net weer vir Marie aan die huil gesit.
“Dit was alles my skuld Mamma!” het sy gehuil. “Ek onthou nou dat ek Poplap Annie sommer eenkant gegooi het toe ek by die deur uitgehardloop het en sy moes toe in die wasgoedmandjie beland het! Ag, siestog!” en sy het Poplap Annie styf teen haar vasgedruk.
Mamma het nie vir Marie aangespreek dat sy stout was nie want sy het geweet dat Marie baie jammer was. Mamma het haar arms vertroostend om haar gesit en gesê:
“Kyk net na Poplap Annie, sy lyk nie ongelukkig nie!”
Marie het die trane uit hoog ogies gevee en na Poplap Annie gekyk wie so plat soos ‘n pannekoek was maar sy het ‘n groot glimlag op haar gesiggie gehad en Marie het lekker gelag. Mamma en Diena het ook saam gelag want Poplap Annie se glimlag was twee keer so breed as wat dit voorheen was.
“Laat ek net vir Juffrou Poplap weer gaan ophang in die helder sonskyn vir ‘n halwe uur,” het Diena gesê, “jy sal haar nie ken wanneer sy daar afkom nie!”
Poplap Annie was vasgepen aan die wasgoeddraad in die helder sonskyn waar sy heen en weer in die wind gewaai het en na die voëltjies se gesang geluister het.
Elke nou en dan het Diena uitgegaan en Poplap Annie gerol en gedraai totdat die sagte katoen weer hul ou vorm aangeneem het en haar arms en bene was weer mooi rond. Sy het haar die huis ingeneem en vir Marie en Mamma gewys hoe pragtig skoon en mooi sy weer geword het.
Marie het Poplap Annie dadelik teruggeneem na die babakamer en al die ander poppe vertel wat daardie dag gebeur het en hoe jammer sy was dat sy so kwaad en ongeduldig met hulle was toe sy hulle aangetrek het. Die poppe het niks teruggeantwoord nie. Hulle het Marie met liefdevolle oë aangekyk terwyl sy op haar rooi houtperdjie gesit het met Poplap Annie styf in haar arms.
Poplap Annie se een knopieoog het vir Marie geloer en op haar gesiggie was dieselfde ou glimlag van geluk en liefde.
* * *
POPLAP ANNIE EN DIE VLIEëR
Poplap Annie het alles aandagtig dopgehou. ‘n Hele klomp stokkies was vasgemaak met toutjies en oorgetrek met ‘n sagte lappie. Sy het gehoor hoe die seuns van die vlieër gepraat het. ‘n Lang stert was aan die vlieër vasgemaak en ‘n groot bol tou was aan die voorkant vasgemaak. Een van die seuns het die vlieër in die lug gehou en ‘n ander seun het weggestap terwyl hy die bol tou afgerol het.
Daar het ‘n ligte briesie gewaai en die seun met die bol tou het uitgeroep, “Laat haar gaan,” terwyl hy begin hardloop het. Marie het vir Poplap Annie in die lug gehou sodat sy mooi kon sien hoe die vlieër deur die lug gevlieg het.
Dit het pragtig hoog begin vlieg. Skielik het die vlieër snaakse draaie begin maak. Almal het raad begin uitdeel maar nadat dit ‘n paar keer hierdie en daardie kant gevlieg het, het dit uiteindelik op die grond geval.
“Dit het ‘n langer stert nodig,” het die een seun uitgeroep.
Die kinders het mekaar begin vra waar hulle nog ‘n stuk lap kon kry om aan die vlieër vas te maak.
“Laat ons vir Poplap Annie vasmaak!” het Marie voorgestel. “Ek dink sy sal dit geniet om daar bo in die lug rond te vlieg!”
Al die seuns het hartlik ingestem en Poplap Annie was aan die stert vasgemaak. Hierdie keer het die vlieër reguit die lug opgevlieg en bo gebly. Die seun met die bol tou het van die tou afgedraai en die vlieër en Poplap Annie het hoog in die
lug gevlieg. Poplap Annie het dit verskriklik geniet; sy kon myle ver sien en die kinders het so klein daar onder gelyk!
Skielik het daar ‘n sterk wind gekom en arme Poplap Annie het woes geswaai en sy kon die harde gewaai van die wind hoor. Sy het gevoel hoe die lap waarmee sy vasgemaak was begin skeur het. Met elke rukwind het die skeur al hoe groter geword.
Marie het Poplap Annie dopgehou wat hoog oor die velde gevlieg het en gewonder of sy dit geniet het. Sy het gewens dat sy ook kon saamgegaan het. Na vyf of tien minute se gekyk het Marie rusteloos begin raak want vlieërs was maar vervelig om die hele tyd dop te hou. Sy het gedink dat dit baie meer pret was om teepartytjies onder die appelboom te hou.
“Sal jy asseblief die vlieër afbring?” het sy die een seun gevra. “Ek wil vir Poplap Annie terugkry.”
“Los haar om daar bo rond te vlieg!” het die seun geantwoord. “Ons sal haar later huistoe bring wanneer ons klaar gespeel het. Ons wil nog tou gaan haal om haar hoër te laat vlieg.”
Marie het nie daarvan gehou om Poplap Annie by die seuns agter te laat nie en sy het besluit om op die gras te sit en te wag totdat hulle haar afbring. Terwyl Marie Poplap Annie dopgehou het waar sy net ‘n dotjie in die lug was, het sy nie besef dat die lap waarmee Poplap Annie vasgemaak was, besig was om te skeur nie.
Skielik het die lap middeldeur geskeur en Poplap Annie het in die wind weggevlieg. Marie het dadelik opgespring, te verbaas om enigiets te sê. Die vlieër wat nou sonder Poplap Annie was, het dartelend na die grond afgepyl.
“Ons sal haar vir jou gaan haal,” het van die seuns geskree toe hulle gesien het hoe ongelukkig Marie was en hulle het dadelik in die rigting gehardloop waar Poplap Annie geval het. Marie en die ander dogtertjies het saam gehardloop. Hulle het gehardloop en gehardloop totdat hulle by die gebreekte vlieër gekom het maar Poplap Annie was nêrens te vinde nie.
“Sy moes in jou erf geval het,” het ‘n seun vir Marie gesê, “want die vlieër was regoor julle erf toe die pop geval het!”
Marie was ontroosbaar. Sy het huistoe gegaan en op haar bed gaan lê. Mamma het saam met die ander kinders gegaan om vir Poplap Annie te soek, maar hulle kon haar nêrens vind nie.
Daardie aand het Pappa ook uitgegaan om vir Poplap Annie te soek maar selfs hy kon haar nie vind nie. Marie het skaars aan haar kos geproe en nie Mamma of Pappa kon haar troos nie. Die ander poppe in die babakamer was vergete en hulle was nie in hul bedjies gesit nie want Marie het huilend op haar bed gelê.
Uitgeput het sy later daardie aand ‘n gebedjie vir Poplap Annie opgesê en toe aan die slaap geraak. Sy het gedroom dat feetjies gekom het en Poplap Annie na feetjieland geneem het om vir almal daar te gaan kuier en dat hulle haar later huistoe gebring het. Sy het huilend wakker geword en natuurlik het Mamma reguit na haar gegaan. Mamma het haar getroos en gesê dat Pappa ‘n beloning sou uitreik aan dié een wat Poplap Annie sou terugbring.
“Dit was alles my skuld Mamma!” het Marie troosteloos gesnik. “Ek moes nie vir die seuns gesê het dat hulle Poplap Annie aan die stert kon vasbind nie! Maar ek weet net dat die feetjies haar sal terugstuur huistoe.”
Mamma het haar styf vasgehou en getroos alhoewel sy self nie geglo het dat Poplap Annie ooit weer gevind sou word nie.
Nou, waar dink julle was Poplap Annie al hierdie tyd?
Poplap Annie is deur die wind gedra en sy het in die vurk van die groot ou boom geval by Marie se huis. Toe sy hard geland het met haar gesiggie na bo, het twee voëltjies wat daar ‘n nes gehad het, verskrik weggevlieg. Die voëltjies het na ‘n rukkie teruggekeer en met haar geraas omdat sy so naby aan hulle nessie was, maar sy het nie beweeg nie en net vir hulle geglimlag. Hulle het later stil geword en nader gegaan om ondersoek in te stel.
Die Mamma voëltjie het die Pappa voëltjie geroep en gesê: “Kyk net hierdie sagte wol! Ons kan dit in ons nessie gebruik.” Hulle het nader na Poplap Annie gehop en haar gevra of hulle van haar wol mag kry om hulle nessie daarmee uit te voer. Poplap Annie het vir hulle geglimlag. Die twee voëltjies het aan Poplap Annie se wolhare geruk en getrek totdat hulle genoeg gehad het om in hul nessie te sit.
Die nag het aangebreek en die voëltjies het hul aandliedjie vir haar gesing. Poplap Annie het daardie nag na al die blink sterre gekyk totdat hulle in die oggendlig verdwyn het. Die voëltjies het nog van haar sagte wolhare geneem en sy het effens los gewikkel uit die takke. Sy kon afkyk en sien dat sy vasgevang was in die boom in haar eie tuin!
Voor ontbyt het Marie opgestaan om self vir Poplap Annie te gaan soek. Sy het haar gevind en dit het so gebeur:
Mamma voëltjie het Marie gereeld gesien waar sy met Poplap Annie in die tuin gespeel het en sy het begin roep: “Hierso! Hierso!” en Pappa voëltjie het ook begin roep: “Hierbo! Hierbo!” Marie het opgekyk na die voëltjies en toe ontdek dat Poplap Annie in die vurk van die boom vasgeval het.
Marie was so bly en so opgewonde en het dadelik uitgeroep: “Daar is Poplap Annie!”
Mamma en Pappa het dadelik uitgehardloop en Poplap Annie in die boom gesien. Pappa het ‘n lang stok gaan haal en Poplap Annie losgewikkel totdat sy in Marie se arms geval het. Marie het haar styf teen haar vasgedruk en gesê: “Jy sal nooit weer saam met ‘n vlieër hoog in die lug gaan vlieg nie, want ek het so
verlore sonder jou gevoel. Ek sal nooit weer toelaat dat jy van my weggeneem word nie.”
Poplap Annie het saam met Marie die huis ingegaan en Mamma en Pappa het vir mekaar geglimlag toe hulle om die deur geloer het. Poplap Annie se mondjie was goudgeel van die lekker eier wat Marie met ‘n gelukkige hart vir haar gevoer het.
* * *
POPLAP ANNIE RED FIFI
Dit was amper middernag en al die poppe het geslaap behalwe Poplap Annie.
Poplap Annie het gelê en na die dak gestaar met haar knopieogies. Elke nou en dan het sy haar handjie deur haar wolhare gestoot. Sy het gedink.
Nadat sy vir ‘n lang tyd gelê en gedink het, het sy haar gelig en op haar elmboog gestut en gesê, “Ek het alles uitgedink.”
Al die ander poppe het mekaar wakker geskud en gesê: “Luister! Poplap Annie het alles uitgedink.”
“Vertel ons waaraan jy gedink het, liewe Poplap Annie,” het die bliksoldaatjie gevra. “Ons hoop dit was wonderlike gedagtes.”
“Nee, dit was nie lekker gedagtes nie!” het Poplap Annie geantwoord toe sy ‘n traantjie uit haar knopieogies gevee het. “Jy het nie vir Fifi die hele dag gesien nie, het jy?”
“Nee, nie van vroegoggend af nie,” het die Franse pop geantwoord.
“Dit het my bekommer,” het Poplap Annie gesê, “en as my kop nie vol nuwe wit katoen gevul was nie, is ek seker sou dit baie seer van bekommernis gewees het! Toe Marie my vandag na die gastekamer geneem het, het sy gehuil en ek het gehoor wat haar Mamma gesê het: ‘Ons sal hom vind! Hy sal binnekort huistoe kom.’ Ek het geweet dat hulle van Fifi gepraat het, hy moet verlore wees.”
Die bliksoldaatjie het vinnig uit die bedjie gespring en na Fifi se mandjie gegaan, sy voetstappe het weerklink op die vloer. “Hy is nie hier nie,” het hy almal ingelig.
“Toe ek in die vensterbank gesit het vroeër vandag,” het die Indiaanse pop vertel, “het ek vir Fifi gesien wat met ‘n gelerige, vuilerige, hondjie gespeel het op die grasperk en hulle het deur die gat wat in die muur is, gehardloop!”
“Dit was Priscilla se hondjie!” het die Franse pop hulle ingelig.
“Ek weet Marie se hartjie is baie seer oor Fifi,” het die Hollandse pop gesê, “want ek was in die eetkamer met aandete en ek het gehoor toe haar Pappa vir haar gesê het om haar kos te eet. Hy het gesê dat hy vir Fifi sal gaan soek, maar ek het hiervan vergeet totdat julle daaroor begin praat het.”
“Dit is die moeilikheid met ons almal, behalwe met Poplap Annie,” het die klein poppie opgemerk met ‘n skril stemmetjie, “sy moet vir ons almal dink!”
“Ek dink dit sal ‘n goeie plan wees vir ons om ons liefde vir Marie te wys as ons vir Fifi probeer vind!” het Poplap Annie aan almal gesê.
“Dit is ‘n goeie plan, Poplap Annie!” het almal saamgestem. “Vertel vir ons hoe ons moet maak.”
“Wel, eerste, laat ons almal uitspring tot op die gras en sien of ons die honde kan
opspoor,” het Poplap Annie gesê.
“Ek kan hulle maklik opspoor!” het die Indiaanse pop trots verklaar, “want Indiane kan enigiets opspoor!”
“Laat ons dan geen tyd mors om verder te gesels nie!” het Poplap Annie verklaar en het van die bed afgespring en is deur die ander gevolg.
Die babakamer se venster was oop en die poppe het mekaar gehelp om uit te klim en af te spring tot op die sagte gras. Gelukkig het niemand seer gekry of iets gebreek nie. Die Indiaanse pop het by die gat in die muur die twee honde se spore herken en die poppe het almal in ‘n ry hom gevolg totdat hulle by Pieter se huis gekom het.
Pieter was baie verbaas toe hy die ry poppe in hul wit nagklere gesien het wat reguit na sy hondehok gestap het. Hy het ‘n lekker hondehok onder die druiweprieel gehad.
“Kom binne,” het Pieter hulle ingenooi toe hy hulle erken het. Almal het gaan sit en Poplap Annie het hom die hele storie vertel.
“Dit het my ook bekommer,” het Pieter hulle ingelig, “maar ek kon nie jul mensmaatjie Marie vertel het waar Fifi is nie want sy verstaan nie hondetaal nie. Want julle sien,” het Pieter voortgegaan, “Fifi en ek het heerlik saam gespeel in die park toe ‘n groot man met ‘n snaakse ding aan die punt van ‘n stok na ons gehardloop het. Ons het vir hom geblaf en Fifi het gedog dat hy met ons wou speel. Hy het te na aan die man gekom en weet julle, daardie slegte man het Fifi in daai ding gevang en hom na ‘n vangwa geneem waar hy saam met baie ander honde toegesluit was!”
“Dit was die Hondevanger!” het Poplap Annie geskok uitgeroep.
“Ja!” het Pieter beaam terwyl hy ‘n traan weggevee het. “Dit was die Hondevanger! Ek het agter die vangwa aangehardloop vir ‘n hele ent en het gesien waar hy al die honde in ‘n draadhok toegesluit het sodat hulle nie kon ontsnap nie.”
“Dan ken jy die pad soontoe?” het Poplap Annie gevra.
“Ja, ek kan dit maklik vind,” het Pieter geantwoord.
“Kom, wys vir ons die pad!” het Poplap Annie bly uitgeroep, “want ons moet vir Fifi gaan haal.”
Pieter het die voortou geneem en oor strate en tussen lane gehardloop met die poppe wat hom gevolg het. Dit het baie snaaks gelyk. Eenkeer het ‘n vreemde hond agter hulle aangeblaf maar Pieter het hom gou op sy plek gesit en hy het na sy eie huis teruggekeer.
Uiteindelik het hulle by die Hondevanger se hokke uitgekom. Van die honde het geblaf, ander het gehuil.
Daar kry hulle toe vir Fifi, vol modder en sy pragtige rooi strik het op die grond gesleep. Griet, was hy nou bly om al die poppe en Pieter se gesien het! Die ander honde het nuuskierig aan die poppe geruik.
“Ons gaan probeer om jou vry te laat,” het Poplap Annie gesê, en al die honde het opgewonde begin blaf. Poplap Annie, die ander poppe en Pieter het na die hek gegaan. Die hek se knip was te hoog vir Poplap Annie om te bereik maar Pieter het haar in sy mond vasgehou en op sy agterbene gaan staan sodat sy dit kon oopmaak.
Sy het die knip gelig maar die honde was so opgewonde om te ontsnap dat hulle teen die hek gestoot en gespring het. Die hek het oopgevlieg en arme Poplap Annie en Pieter was tot binne die modderpoel gestamp. Nog nooit was daar soveel blaffende blydskap in die omgewing gehoor soos die honde uitgehardloop het nie.
Fifi het opgestaan uit die modder waar die groot honde hom omgestamp het en het Poplap Annie gehelp om regop te kom. Fifi, Pieter en al die poppe het agter die ander honde gehardloop en was net betyds om die hoek toe die Hondevanger by sy huis uitgestorm het om te kom kyk wat die lawaai veroorsaak het. Hy het geskok gaan stilstaan toe hy die klomp poppe in hul wit nagklere gesien het wat in die pad afgehardloop het, want hy kon nie verstaan wat dit was nie.
Die poppe het Pieter hartlik bedank vir sy hulp en hulle het saam met Fifi huistoe gehardloop want die son was gereed om sy verskyning te maak. Hulle het by hulle eie huis aangekom en ’n ou stoel gevind in die erf wat hulle met moeite na die venster gesleep het. Daar het hulle mekaar gehelp om terug te klim deur die venster tot in die babakamer.
Fifi was baie dankbaar teenoor Poplap Annie en die ander poppe en voordat hy in sy mandjie geklim het, het hy elkeen ‘n lekkie op die wang gegee. Die poppe het gehaas om in hul bedjies te klim en die komberse oor hulle te trek want hulle was baie moeg. Maar net voordat almal aan die slaap wou raak het Poplap Annie haarself gelig en gesê: “As my arms en bene nie so vol mooi wit katoen gestop was nie, is ek seker sou hulle gepyn het. Maar omdat hulle so sag opgestop is, voel ek geen pyn nie en ek weet hoe gelukkig Marie gaan wees wanneer sy môre vir Fifi in sy eie klein mandjie gaan vind, veilig en gelukkig by die huis.”
Al die ander poppe was aan die slaap en Poplap Annie het haarself toegetrek en so lekker gelag dat sy twee steke losgetrek het aan die agterkant van haar kop.
* * *
POPLAP ANNIE EN DIE VERWER
Dit het tyd geword om die huis goed skoon te maak en Mamma het besluit dat die babakamer weer geverf moet word en nuwe muurpapier moet opgeplak word. Dit was die rede waarom al die poppe almal op ‘n bondel op een van die rakke gepak was.
Mamma wou eers die poppe netjies in hul beddens gesit het maar omdat die verwers weer die volgende oggend sou kom, het sy besluit om hul beddens in die kas te bêre.
So het dit gebeur dat die beddens opmekaar gepak was in die kas en die poppe was op die boonste rak gepak. Toe dit daardie aand stil was het Poplap Annie wat heel onder gepak was, saggies die ander gevra of hulle sal omgee om ‘n bietjie op te skuif.
“Die katoen in my lyfie word so plat soos ‘n pannekoek gedruk!” het sy gekla. Die bliksoldaatjie se voet het swaar op haar gesiggie gerus maar sy het geduldig met ’n glimlag gewag.
Die poppe het stadig begin beweeg totdat Poplap Annie vry was om regop te sit.
“Ag dankie, dit is baie beter!” het sy verlig gesê en haar arms en bene reguit gemaak om van al die kinkels ontslae te raak.
“Wel, ons sal bly wees wanneer die oggend aanbreek!” het sy gesê, “want ek weet dat Marie ons buitetoe sal neem om met ons onder die boom te speel.” So het die poppe lekker gesels tot die oggend toe die verwers werktoe gekom het.
Een van die verwers was ‘n jong man en het vir Poplap Annie raakgesien en haar van die rak afgehaal.
“Kyk net na hierdie lappop Jim,” het hy aan een van die ander verwers gesê, “sy is so oulik,” en hy het met haar rondgedans terwyl hy ‘n vrolike deuntjie gefluit het. Poplap Annie het al die aandag baie geniet. Die ander poppe het net voor hulle uitgestaar want hulle kon nooit toelaat dat ‘n groot man mag uitvind dat poppe regtig lewendig is nie.
“Jy moet haar terugsit op die rak,” het die ander man gesê, “die dogtertjie sal vir jou baie kwaad word want verseker is sy baie lief vir daardie lappop, meer as vir die ander!”
Maar die jongman het Poplap Annie in verskeie knope gedraai en gelag en gelag terwyl sy vinnig losgedraai het. Uiteindelik het hy haar hoog in die lug gegooi en gevang. Dit was vir Poplap Annie baie lekker terwyl sy so in die lug gevlieg het en die ander poppe vir haar geglimlag het, want as Poplap Annie gelukkig was, was al die ander poppe ook gelukkig.
Maar die jongman het haar eenkeer te veel in die lug gegooi want hy het haar mis gevang en toe sy afgekom het, het sy kop eerste, binne in die verfblik geval.
“Ek het jou gewaarsku,” het die ouer verwer die jongman ingelig, “en nou is jy in groot moeilikheid!”
“O aarde! Ek het nie bedoel dat dit moes gebeur het nie!” het die jongman gesê, “wat kan ek nou met haar doen?”
“Jy beter haar terugsit op die rak,” het die man gesê.
Poplap Annie was vol verf teruggesit op die rak en die verf het oor haar kop geloop tot op haar pragtige rokkie.
Na ontbyt het Marie by die babakamer gaan inloer en toe sy gesien het hoe vol verf Poplap Annie was, het sy begin huil. Die jongman was baie jammer en het aan haar verduidelik hoe dit gebeur het.
“As jy my sal toelaat,” het hy gevra, “sal ek haar huistoe neem en vanaand skoonmaak en weer môre terugbring.”
So is Poplap Annie in koerantpapier toegedraai en is daardie aand weggeneem. Al die poppe was baie ongelukkig om sonder haar te wees.
“Arme Poplap Annie! Ek kon gehuil het toe ek haar so vol verf gesien het!” het die Franse pop treurig gesê.
“Sy het glad nie soos ons eie ou Poplap Annie gelyk nie!” het die bliksoldaat beaam en die trane weggevee sodat dit nie oor sy arms en bene moes vloei en dit later sal roes nie.
“Die verf het haar pragtige glimlag heeltemal toegemaak en haar neus en ek kon nie die lag in haar knoopogies gesien het nie,” het die Indiaanse pop gehuil.
Die poppe het daardie hele aand met mekaar gepraat maar toe die verwers weer opgedaag het, was hulle doodstil. Die tweede dag het die jongman Poplap Annie teruggebring en hulle kon nie wag vir die aand om aan te breek nie sodat hulle haar kon sien en met haar kon gesels nie.
Uiteindelik het die verwers klaar gemaak en was die huis weer stil en Marie het Poplap Annie weer op die rak by die ander poppe gesit.
“Vertel ons wat met jou gebeur het Poplap Annie!” het die poppe almal gelyk gevra.
“O, ek is so bly dat ek in die verf geval het!” het Poplap Annie begin en elke pop ‘n warm drukkie gegee. “Ek het die heerlikste tyd gehad. Die verwer het my na sy huis geneem en sy Mamma vertel wat gebeur het en sy was baie jammer vir my. Sy het ’n lappie geneem en my knopiesogies skoongemaak; toe het ek gesien hoe pragtig sy was. Sy het ander goed gevat en al die verf van my gesig afgewas.
“Maar julle weet,” het Poplap Annie voortgegaan, “die verf het by my wolhare ingetrek en die katoen in my lyfie taai gemaak sodat ek nie helder kon dink nie. Al my klere was vol verf. Die gawe vrou het al my hare afgehaal en die steke op my kop losgemaak en al die taai katoen uitgehaal. Dit was so ’n lekker verligting maar dit baie snaaks gevoel want my gedagtes was die hele wêreld vol.
“Sy het my in haar naaldwerkmandjie daardie aand gelos en die volgende oggend op ’n wasgoedlyn gaan hang nadat sy al die verf uitgewas het. Terwyl ek aan die draad gehang het, wat dink julle het gebeur?”
“Ons sal nooit kan raai nie!” het al die poppe uitgeroep.
“Wel, ‘n oulike voëltjie het gekom en het genoeg katoen uitgehaal vir haar nessie!”
“Ag, dit is te fraai!” het die poppe saamgestem.
“Ja, dit was,” het Poplap Annie gesê, “dit het my baie bly gemaak. Die gawe vrou het my weer kom haal en huistoe geneem en met nuwe wit katoen opgestop. Sy het my arms en bene ook gevul en alles toegewerk en nuwe wolhare op my kop gesit, en - en - en dit is ‘n geheim!” het Poplap Annie hakkelend gesê.
“Ag, asseblief, vertel ons wat die geheim is!” het die poppe gesmeek en het nader na Poplap Annie geskuif. “Wel, ek weet julle sal niemand vertel wat nie graag wil weet nie, so ek sal vir julle die geheim vertel en ook waarom my glimlag soveel groter is,” het sy gesê.
Die poppe het almal saamgestem dat Poplap Annie se glimlig ’n bietjie wyer was.
“Toe die gawe dame die nuwe wit katoen in my lyfie gedruk het,” het Poplap Annie vertel, “het sy na haar kas gegaan en met ‘n papiersak teruggekom. Sy het so tien of vyftien klein hartjies uitgehaal wat boodskappies opgehad het en gesoek totdat sy ‘n oulike klein rooi hartjie gevind het. Sy het die rooi hartjie binne in my vasgewerk saam met die katoen! Dit is die geheim en dit is waarom
ek so gelukkig is. Voel net hier,” het Poplap Annie gesê. Al die poppe het haar pragtige nuwe hartjie gevoel en was saam met haar baie bly.
Nadat almal mekaar ‘n goeie nagrus toegewens en gesoen het, het hulle in hul bedjies gelê en die bliksoldaat het gevra: “Het jy ‘n kans gehad om te sien wat die boodskap was wat op jou hartjie was Poplap Annie?”
“O ja,” het sy geantwoord, “ek is so gelukkig dat ek vergeet het om vir julle te vertel. In pragtige blou letters het daar gestaan: “Ek is lief vir jou.”
* * *
POPLAP ANNIE SE RIT OP DIE RIVIER
Marie het ‘n teepartytjie buite onder die prieel gehad en natuurlik was al die poppe uitgenooi. Poplap Annie, die bliksoldaat, die Indiese pop en so ook al die ander - ook die vier klein poppies. Na ‘n lieflike teepartytjie met lekker gemmerkoekies en melk, was die poppe slaperig. So egter het Marie gedink. Sy het al die poppe in die huis geneem behalwe Poplap Annie, vir hul middagslapie. Marie het Poplap Annie gevra om buite vir haar te wag.
Omdat daar niks was om te doen nie, het Poplap Annie vir Marie gewag om terug te kom. Sy het die miere dopgehou wat die koekiekrummels weggedra het wat Marie vir hulle gestrooi het. Skielik het sy die getrippel van die klein hondjie agter haar gehoor. Dit was Fifi.
Die klein hondjie het na Poplap Annie gehardloop en sy koppie skeef getrek toe hy vir haar gekyk het. Hy het sy voorste beentjies uitgestrek en vir haar geblaf. Poplap Annie het probeer om ernstig vir hom te kyk maar sy kon nie die wye glimlag wegsteek wat op haar gesiggie geverf was nie.
“O, jy wil speel, wil jy nie?” het die klein hondjie geblaf terwyl hy vorentoe en agtertoe gespring het. Hoe meer Poplap Annie vir hom geglimlag het, hoe lewendiger het Fifi geword totdat hy haar rok beetgekry het en haar rondgesleep het. Dit was lekker plesier vir die hondjie maar Poplap Annie het dit nie geniet nie. Sy het geskop en gewikkel so hard sy kon maar die hondjie het gedink dat sy saamgespeel het. Hy het by die voorste tuinhekkie uitgehardloop, af in die paadjie, oor die veld en elke nou en dan het hy stilgestaan en gemaak of hy baie kwaad was. Hy het haar woes rondgeskud en hoog in die lug gegooi waar sy twee of drie keer bollemakiesie gemaak het voordat sy op die grond geval het.
Teen hierdie tyd het haar voorskot losgekom en haar wolhare het begin lostrek. Fifi het naby die stroompie gespeel en ‘n ander hondjie het oor die brug gehardloop om saam met hulle te speel. “Wat het jy hier Fifi?” het die hondjie gevra.
“Dit is Poplap Annie,” het Fifi geantwoord. “Ons twee speel lekker saam.”
Fifi het regtig geglo dat Poplap Annie dit geniet om so in die lug gegooi te word maar natuurlik het sy dit nie geniet nie. Gelukkig het die speletjie nie lank gehou nie. Toe Poplap Annie weer op die grond geland het, het die ander hondjie Poplap Annie se rokkie gehap en oor die brug met haar gehardloop met Fifi wat blaffend agterna gekom het.
In die middel van die brug het Fifi hulle ingehaal en die twee het haar elkeen aan ‘n arm beetgehad en getrek. Soos hulle geruk en getrek het, het arme Poplap Annie oor die kant van die brug in die water geval.
Die twee klein hondjies was baie verbaas. Fifi het dadelik berou gehad want hy het onthou hoe goed Poplap Annie vir hom was om hom van die Hondevanger te bevry. Poplap Annie het saam met die stroompie afgevloei en al wat Fifi kon doen was om saam te hardloop en te blaf.
Nou, jy sou gedink het dat Poplap Annie sou sink, maar nee, sy het nie, want sy was opgestop met nuwe wit katoen en die water het nog nie deur gesypel nie.
Na ‘n rukkie het Fifi en die ander vreemde hondjie moeg geword om saam met die stroompie af te hardloop en die vreemde hondjie het besluit om huistoe te gaan. Hy het sy stert vrolik oor sy rug gegooi en flink huistoe gehardloop. Fifi egter het met ‘n baie seer hart huistoe gestap. Hy was baie ongelukkig om te dink dat hy die oorsaak was dat Poplap Annie verdrink het.
Maar Poplap Annie het nie verdrink nie. Sy het in die water aan die slaap geraak want die stadige stroompie het haar aan die slaap gesus, net soos Marie altyd met haar gedoen het.
Sy het saam met die stroompie afgevloei en rustig geslaap totdat sy skielik by ’n poeletjie gekom het waar sy vas teen ‘n groot rots gebots het.
Poplap Annie het probeer om op die rots te klim maar teen die tyd was sy sopnat en was sy so swaar dat sy dit nie kon regkry nie. Sy moes gedwonge daar gebly het totdat Marie of Pappa haar kom haal het.
Hulle was in elk geval reeds op soek na haar. Hulle het haar voorskoot in die paadjie opgetel waar Fifi en die vreemde hondjie haar rond geruk het. Hulle het al langs die stroompie gestap totdat hulle haar gevind het.
Nadat Pappa haar uit die water gehaal het, het Marie haar so hard teen haar gedruk dat die water haar eie rokkie nat gemaak het. Maar Marie was so bly dat hulle Poplap Annie gevind het dat sy glad nie omgegee het nie. Sy het vinnig huistoe gegaan en het al die nat klere uitgetrek en Poplap Annie op ’n klein rooi stoeltjie gesit voor die warm oonddeur. Sy het al haar ander poppe gaan haal en vir hulle ’n storie gelees terwyl Poplap Annie droog geword het.
Toe Poplap Annie behoorlik droog was het Mamma gedink dat haar koek ook klaar gebak het in die oond en sy het vir Marie ‘n groot stuk sjokoladekoek afgesny.
Daardie aand toe almal geslaap het, het Poplap Annie haarself opgelig en vir die poppe wat nog nie geslaap het nie, gesê: “Ek is só gelukkig dat ek nie kan slaap nie. Weet julle, ek glo dat toe ek daar in die water gelê het, het my hartjie gesmelt en het my hele lyfie gevul en dit is waarom ek nie vir Fifi kwaad is omdat hy so rof met my gespeel het nie!”
Al die poppe was saam met haar gelukkig want geluk is ‘n maklike iets om aan mense te toon vir wie jy lief is.
* * *
POPLAP ANNIE EN DIE VREEMDE POPPE
Poplap Annie het gelê presies net soos Marie haar daar gelaat het - met haar arms wyd oopgesprei en haar beentjies sommer so in die lug. Haar wolhare het oor haar gesiggie gehang en het een van haar knopieogies toegemaak. Poplap Annie het geen teken getoon dat sy iets gehoor het nie maar het daar gelê en glimlaggend na die dak gestaar. Miskien het sy geweet dat wat die nuwe poppe gesê het waar kon wees. Maar soms kan die waarheid baie seer maak en dit kan die rede wees waarom Poplap Annie so stil daar bly lê het.
“Het jy al ooit so ‘n lomp kreatuur gesien!”
“Ek dink sy het knopies vir ogies!”
“En wolhare!”
“Genade, het jy al ooit sulke voete gesien!”
Die Hollandse pop het van die poppe se bankie afgerol en “Mamma” gesê in sy hees stem. Hy was baie verbaas om te hoor dat iemand só praat van hul geliefde Poplap Annie - liewe Poplap Annie, sy met die soet hartjie vir wie al die poppe so baie lief is.
Oom Chris was ook baie verbaas en het aanstoot geneem. Hy het na die twee nuwe poppe gestap en het vierkantig in hul oë gekyk maar kon aan niks dink om vir hulle te sê nie en het aan sy snor getrek.
Marie het daardie oggend die twee nuwe poppe gekry. Hulle het in die pos gekom wat deur haar tante vir haar gestuur was. Sy het hulle Annabel en Tommie genoem, die name van haar tante en oom.
Annabel en Tommie was pragtige poppe en moes vreeslik baie geld gekos het want hulle was baie mooi aangetrek en het ook regte egte hare gehad! Annabel se hare was ‘n mooi rooi kleur en Tommie het blonde hare gehad. Annabel se rokkie was van sagte sy en kant gemaak en sy het die mooiste hoed met lang linte gehad wat onder haar ken in ‘n strik vasgemaak was. Tommie het ‘n donker fluweel uitrusting met ‘n kant kraag gehad. Hulle altwee het swart skoene en kort kousies gedra.
Hulle het op die twee rooi popstoeltjies gesit waar Marie hulle geplaas het en hulle kon na al die ander poppe kyk. Toe Oom Chris voor hulle gaan staan het en aan sy snor getrek het, het hulle vir hom gelag. “Ha-ha! Hy het gate in sy knieë!”
Dit was waar. Oom Chris se klere, knieë en sy Skotse rompie was deur die motte gevreet. Hy het ‘n Skotse rompie gedra want hy was ‘n Skotse pop.
Oom Chris het geruk want hy was so seergemaak en kon aan niks gedink het om vir hulle te sê nie. Hy het na Poplap Annie gestap en langs haar gaan sit en haar wolhare uit haar gesiggie gevee.
Die bliksoldaat het opgestaan en ook langs hulle gaan sit. “Moet jou nie bekommer wat hulle sê nie Poplap Annie!” het hy haar vertroos. “Hulle ken jou nie soos ons jou ken nie.”
“Ons wil haar ook nie ken nie!” het Annabel gesê terwyl sy oor haar rokkie gestreel het. “Sy lyk net soos ‘n voëlverskrikker!”
“En die bliksoldaat is gemaak met ‘n blikoopmaker!” het Tommie gelag.
“Julle behoort julle te skaam!” het die Franse pop gesê toe sy voor die twee nuwe poppe gaan staan het. “Julle sal jammer wees as julle so voortgaan om met ons almal te spot en so neerhalend van ons te praat. Ons is almal baie gelukkig hier en deel in mekaar se ondervindings en geluk.”
Daardie aand het Marie nie vir die twee nuwe poppe nagklere aangetrek nie want sy het dit nog nie gehad nie. Sy het hulle in die rooi stoeltjies gelos sodat hulle nie hul mooi klere kreukel nie. “Ek sal môre vir julle nagklere maak,” het sy vir hulle gesê toe sy hulle goeie nag gesoen het. Sy het toe na Poplap Annie gestap en vir haar ‘n lekker warm drukkie gegee. “Kyk mooi na al my kinders Poplap Annie!” het sy gevra toe sy uitstap.
Annabel en Tommie het vir mekaar gefluister, “Miskien het ons te haastig geoordeel,” het Annabel gesê. “Hierdie Poplap Annie is seker Marie en die ander poppe se gunsteling!”
“Daar moet ‘n rede wees!” het Tommie geantwoord, “ek begin jammer te voel
dat ons so lelik van haar gepraat het. Dit is seker nie hulle skuld dat hulle so lyk nie.”
Annabel en Tommie was baie moeg na hul lang reis en gou het hulle aan die slaap geraak en van al die ander poppe vergeet.
Nadat hulle vas aan die slaap was het Poplap Annie saggies uit haar bedjie geklim en die bliksoldaat en Oom Chris wakker gemaak en die drie van hulle het ligvoet na die twee pragtige nuwe poppe gegaan. Hulle het hulle versigtig opgetel om hulle nie wakker te maak nie en na Poplap Annie se bedjie geneem. Poplap Annie het hulle mooi toegemaak met die kombersie en toe op die harde vloer langs hulle gaan lê. Die bliksoldaat en Oom Chris het vir Poplap Annie gesê om in hul bedjie te gaan lê want hulle twee deel een bedjie maar sy het geweier.
“Ek is vol wit katoen opgestop en die harde vloer pla my nie!” het sy gesê.
Die volgende oggend het Annabel en Tommie wakker geword en hulself in Poplap Annie se bed gevind. Hulle het na mekaar gestaar en baie skuldig gevoel want beide het besef dat Poplap Annie haar bed vir hulle beskikbaar gemaak het.
Poplap Annie het uitgestrek op die harde vloer gelê met haar arms en bene sommer in enige rigting.
“Kyk hoe mooi en eerlik lyk sy!” het Annabel gesê, “dit moet haar knopiesogies wees!”
“Hoe pragtig het haar wolhare in krulle op haar gesiggie geval!” het Tommie gesê, “ek het nie gisteraand gesien hoe mooi haar gesiggie is nie.”
“Die ander het haar baie, baie lief!” het Annabel verklaar. “Dit moet wees omdat sy so dierbaar is.”
Beide poppe het stilgebly en diep gedink. “Hoe voel jy?” het Tommie later gevra.
“Ek is baie skaam en jammer!” het Annabel geantwoord, “en jy Tommie?”
“Wanneer Poplap Annie wakker word gaan ek aan haar erken dat ek skaam is oor wat ek gesê het en gaan haar vra om my te vergewe as sy kan,” het Tommie geantwoord.
“Hoe meer ek na haar kyk, hoe meer hou ek van haar,” het Annabel gesê.
“Ek gaan vir haar ’n soentjie gee,” het Tommie gesê.
“Jy gaan haar wakker maak,” het Annabel gewaarsku maar Tommie het uit sy bedjie geklim en na Poplap Annie gestap en op haar geverfde wangetjie ‘n soentjie gegee en haar wolhare uit haar gesiggie gevee. Annabel het ook uitgeklim en haar ‘n soentjie gegee.
Tommie en Annabel het Poplap Annie saggies opgetel en na haar eie bedjie gedra en mooi toegemaak en teruggestap na die rooi stoeltjies en daar gaan sit.
Na ‘n rukkie het Annabel saggies vir Tommie gesê: “Ek voel soveel beter en gelukkiger nou!”
“Ek ook,” het Tommie beaam. “Dit is asof ‘n helder sonskyn die donker kamer ingekom het en ek gaan probeer om dit so te hou!”
Fifi, wie nuuskierig na die gesprek geluister het in sy mandjie met een oor regop in die lug, het sy stert met blydskap gewaai.
Poplap Annie het stil in haar bedjie gelê en glimlaggend na die dak gestaar. Haar soet hartjie met die woorde “Ek is lief vir jou” het gebons van geluk want sy was nooit aan die slaap nie en het alles gehoor.
* * *
POPLAP ANNIE EN DIE KATJIES
Poplap Annie was die hele dag weg. Marie het daardie oggend baie vroeg gekom en al die poppe aangetrek en in die babakamer gesit. Van die poppe het in die klein rooi stoeltjies om die tafeltjie gesit. Daar was niks om te eet nie behalwe die hoender, ‘n gebakte eier en ‘n appel wat alles van plastiek gemaak was. Die klein teepotjie was ook leeg maar Marie het hulle gevra om hul ete te geniet terwyl sy weg was.
Die Franse pop het op die bankie gesit en Oom Chris by die klavier. Marie het Poplap Annie opgetel en saamgedra toe sy uitgegaan het met instruksies aan die poppe om “soet kinders te wees terwyl Mamma weg is!”
Nadat die deur toegemaak was het die bliksoldaat vir die Hollandse pop gewink en die nagemaakte hoender vir die klein poppies gegee. “Geniet van hierdie lekker hoender,” het hy gesê.
“Moet ek vir hulle musiek maak?” het Oom Chris gevra.
Al die poppe het lekker gelag want Oom Chris kon geen noot speel nie. Poplap Annie was die enigste pop wat lesse geneem het en sy kon die Sarie-Maré met een hand speel. Eintlik het Marie amper Poplap Annie se een hand verwoes soos sy haar probeer leer het om te speel.
“Speel iets opgewek!” het die Franse pop gevra en gegiggel - Oom Chris het begin om hard op die agt klaviernote te druk en die geraas kon tot by die trappe gehoor word.
So vinnig soos blits het al die poppe na hulle plekke gehaas want hulle wou nie gehad het dat mense moes uitvind dat hulle kon rondbeweeg het nie. Gelukkig was dit net Fifi wat met sy neus die deur oopgestoot het en hulle nuuskierig bekyk het. Al die poppe om die tafeltjie het stil na die nagemaakte kos gestaar en Oom Chris het met sy arm op die klaviernote gerus. Fifi het die deur oopgestoot en met ‘n waaiende stert ingestap. Hy het na die tafeltjie gestap en gesnuif in die hoop dat Marie dalk regte kos vir die poppe gegee het.
“Waar is Poplap Annie?” het Fifi gevra nadat hy agtergekom het dat daar geen kos te ete was nie.
“Marie het haar gevat en hulle is êrens heen,” het al die poppe in een stem geantwoord.
“Ek het iets gevind wat ek vir Poplap Annie moet vertel!” het Fifi gesê terwyl hy sy oor gekrap het.
“Is dit ‘n geheim?” het die klein poppies gevra.
“Geheim, niks!” het Fifi vies geantwoord, “dit is katjies!”
“Ag hoe oulik!” het al die poppe saamgestem, “regte egte katjies?”
“Regte, egte, katjies!” het Fifi geantwoord, “drie klein katjies, buite in die skuur!”
”Ag hoe wens ek dat Poplap Annie hier was,” het die Franse pop gesê, “sy sou geweet het wat om met hulle te doen!”
“Dit is presies waarom ek haar wou sien,” het Fifi geantwoord en het met sy stert op die vloer geklap. “Ek het nie geweet dat daar enige katjies in die skuur was nie want ek het vir muise gejag en toe skielik het Mamma Kat voor my ingespring met sulke vlammende groen oë! Ek sê julle, ek was soos blits daaruit!”
“Maar hoe het jy toe geweet dat daar enige klein katjies was?” het Oom Chris gevra.
“Ek het buite die skuur gewag totdat Mamma Kat huistoe gestap het. Ek het toe weer ingegaan want ek het geweet dat daar iets daar binne moes wees anders sou sy my nie so bespring het nie. Ons is altyd vriendelik teenoor mekaar, julle weet” het Fifi vertel, “en wat was my verbasing toe ek die drie klein katjies daar gevind het in die ou mandjie, doer agter in ‘n donker hoek!”
“Gaan haal hulle Fifi en bring hulle hierheen sodat ons hulle kan sien,” het die bliksoldaat gevra.
“O nee, nie ek nie!” het Fifi geantwoord, “as ek sulke blikklere soos jy aangehad het sou ek dit dalk gewaag het, maar julle weet hoe katte kan krap as hulle kwaad word.”
“Dan sal ons vir Poplap Annie daarvan vertel wanneer sy terugkom,” het die Franse pop aanbeveel. Fifi het by die deur uitgestap om met die bure se hond te gaan speel.
Later daardie aand toe Poplap Annie weer in haar bedjie gesit was kon die ander poppe skaars wag dat Marie moet klaarmaak om almal se nagklere aan te trek en hulle alleen te laat vir die aand. Hulle het Poplap Annie alles van die katjies vertel.
Poplap Annie het uit haar bedjie gespring en na Fifi se mandjie gegaan maar hy
was nie daar nie. Poplap Annie het toe voorgestel dat al die poppe na die skuur moet gaan om na die katjies te gaan kyk. Dit het hulle maklik gedoen want die venster was oop en dit was net een trappie af tot op die grond. By die skuur het hulle Fifi ontmoet wie deur ‘n groot gat geloer het.
“Ek was bang dat iets hulle dalk kon gepla het,” het hy almal ingelig, “want Mamma Kat is ‘n uur gelede hier weg.”
Al die poppe, met Poplap Annie voor, het deur die gat gekruip en na die mandjie gehardloop. Net toe Poplap Annie een van die katjies wou optel was daar skielik ‘n gehuil en ‘n gekef en Fifi het deur die gat gehardloop met Mamma Kat kort op sy hakke. Nadat Mamma Kat vir Fifi heen en weer deur die skuur gejaag het, het hy uiteindelik weer by die gat uitgehardloop; Mamma Kat het na die mandjie gestap en al die poppe daar gesien.
“Ek is verbaas Mamma Kat,” het Poplap Annie gesê, “Fifi het jou kindertjies opgepas toe jy vir ‘n volle uur weg was. Hy sal hulle geen skade aandoen nie!”
“Dan is ek jammer,” het Mamma Kat berouvol gesê.
“Jy moet vir Fifi vertrou Mamma Kat,” het Poplap Annie vir haar gesê, “want hy is baie lief vir jou en enigiemand wat vir jou baie lief is, kan vertrou word.”
“Is dit so!” het Mamma Kat gelag, “katte is baie lief vir muise en ek wens die muise het ons meer vertrou!”
Al die poppe het lekker vir die grappie gelag.
“Het jy vir die mense in die groot huis van jou oulike katjies vertel?” wou Poplap Annie weet.
“O, aarde nee!” het Mamma Kat benoud uitgeroep. “By die laaste plek waar ek gebly het, het die mense daar van die klein katjies uitgevind en hulle het almal verdwyn. Ek gaan hierdie katjies ‘n geheim hou!”
“Maar die mense wat in hierdie groot huis bly is liewe mense en hulle sal baie lief word vir jou klein katjies!” het die poppe haar ingelig.
“Kom, dan neem ons hulle dadelik na die babakamer,” het Poplap Annie gevra, “dan kan Marie hulle môreoggend daar vind.”
“Ja, wonderlik!” het al die poppe bly uitgeroep. “Kom Mamma Kat, Poplap Annie weet alles want sy is opgestop met mooi, skoon, wit katoen en sy is baie slim!”
Na baie oortuiging het Mamma Kat uiteindelik ingestem. Poplap Annie het twee van die klein katjies geneem en Mamma Kat het die ander een in haar bek gedra. Poplap Annie wou haar bedjie vir die klein katjies aanbied maar Fifi wie graag sy liefde vir Mamma Kat wou toon, het aangedring dat die klein katjies in sy sagte mandjie moes bly.
Die poppe kon skaars daardie aand slaap; hulle kon nie wag om Marie se reaksie die volgende oggend te sien wanneer sy inkom nie. Poplap Annie het glad niks geslaap nie want Fifi het saam met haar in haar bedjie geslaap en hy het die hele nag vir haar gefluister.
Die volgende oggend toe Marie by die babakamer ingekom het, was die katjies die eerste ding wat sy raakgesien het. Sy het met groot blydskap uitgeroep en hulle dadelik opgetel om vir Mamma en Pappa te wys. Mamma Kat het agter haar aangeloop met haar rug kromgetrek van trots en hard gespin terwyl sy haarself teen elke deur en stoel gevryf het.
Mamma en Pappa het ingestem dat die klein katjies in die babakamer mag bly. Marie het hulle teruggeneem na Fifi se mandjie en het in haar feetjieboek vir nuwe name gesoek. Uiteindelik het sy op die nuwe name besluit; Prins Sjarmant vir die wit katjie, Cinderella vir die bruin katjie en Goue Prinses vir die katjie met die geel strepe. So het dit gebeur dat die drie katjies in die babakamer gebly het.
Alles het presies gebeur net soos Poplap Annie dit voorspel het, want haar kop was opgestop met skoon wit katoen en sy kon baie wyse besluite geneem het. Mamma Kat het uitgevind dat Fifi inderdaad ‘n goeie vriend was. Sy het geleer om hom te vertrou, so baie dat sy selfs toegelaat het dat hy vir haar mag gehelp het om die kleintjies se gesiggies skoon te lek.
* * *
POPLAP ANNIE EN DIE GESKENK
Al die poppe was warm toegemaak in hul beddens en alles was stil in die groot huis. Elke nou en dan het Fifi sy een oor opgelig en een oog ‘n bietjie oopgemaak want sy hondeinstink het hom vertel dat iets gaan gebeur. Uiteindelik het hy altwee sy oë oopgemaak, in die lug gesnuif, uit sy mandjie geklim en homself geskud. Hy het reguit na die babakamer gegaan en sy koue neus teen Poplap Annie se nek gedruk. Sy het wakker geword.
“O, dit is jy Fifi!” het sy verbaas gesê, “ek het gedroom dat die bliksoldaat ‘n ysie teen my nek gehou het!”
“Ek kan nie slaap nie,” het Fifi vir haar gesê, “ek kan aanvoel dat iets gaan gebeur!”
“Jy het te veel bene ge-eet Fifi en dit is wat jou so wakker hou,” het Poplap Annie geantwoord.
“Nee, dit is nie dit nie. Ek het nie bene ge-eet nie, die laaste keer was Sondag toe die mense beesvleis ge-eet het. Dit is nie dit nie. Luister Poplap Annie!”
Poplap Annie het stil gelê en geluister. Daar was ‘n sagte geluid en dit het geklink soos iemand was saggies sing.
“Wat was dit?” het Fifi gevra.
“Sh!” het Poplap Annie hom stilgemaak, “dit is musiek.”
Dit was musiek, die mooiste musiek wat Poplap Annie nog ooit gehoor het. Dit het harder geword maar was nog steeds ver. Poplap Annie en Fifi kon die musiek gehoor het en dit het soos duisende stemme geklink wat saam gesing het.
“Moet asseblief nie huil nie Fifi.” Poplap Annie het haar twee armpies om hom gesit. Fifi “sing” gewoonlik saam wanneer hy musiek hoor. Maar hy het nie hierdie keer nie, hy was vol wonder want dit het gevoel of iets wonderliks gaan gebeur. Skielik het Poplap Annie regop gesit in haar bedjie. Die kamer was gevul met ‘n vreemde, pragtige skynsel en die musiek het by die venster van die babakamer ingevloei.
Poplap Annie het uit haar bedjie gespring en oor die vloer gehardloop met die beddegoed wat agterna gesleep het. Fifi was kort op haar hakke en saam het hulle by die venter uitgekyk na die blommetuin.
Daar tussen die blomme was honderde klein goedjies, sommige het op klein rooi instrumente gespeel terwyl die ander gesing het. Dit was die vreemde musiek wat Poplap Annie en Fifi wakker gemaak het.
“Dit is feetjies!” het Poplap Annie verbaas uitgeroep, “Fifi gaan gou terug na jou mandjie! Hulle is oppad hierheen!” Poplap Annie het self teruggegaan na haar eie bedjie. Fifi het drie spronge gegee en hy was in sy eie mandjie en het gemaak of hy slaap, maar sy een swart ogie was halfpad oop. Poplap Annie het haar kombersie tot onder haar ken getrek sodat sy met haar knopiesogies na die venster kon kyk.
Klein feetjies het vladderend ingestroom en pragtig gesing met blink silwer vlerkies. Hulle het ‘n klein bondeltjie gedra. ‘n Pragtige lig het uit die bondeltjie gestroom en dit het soos sonskyn en maanskyn gemeng, vir Fifi en Poplap Annie gelyk. Dit was ‘n sagte lig, soos wat feetjies altyd het.
Poplap Annie het alles stil dopgehou maar haar hartjie het gebons van vreugde want sy het ‘n klein sagte pienk voetjie by die bondeltjie sien uitsteek. Al die feetjies het deur die kamer gevlieg, by die deur uit met hul bondeltjie en Poplap Annie en Fifi het na hul musiek geluister. Later het hulle teruggekom sonder die bondeltjie en het weer by die venster uitgevlieg. Poplap Annie en Fifi het weer na die venster gehardloop en gesien hoe die feetjies op die blomme gedans het. Die lig van die bondeltjie het nog in hul kamer flou geskyn en ‘n vreemde lieflike geur het in die lug gehang.
Nadat die feetjies se musiek opgehou het en hulle weggevlieg het, het Poplap Annie en Fifi teruggekeer bedtoe en alles oordink.
Later die oggend het ou Mnr Son oor die tuin se muur geloer en al die ander poppe het wakker geword maar Poplap Annie en Fifi het nog nie die raaisel opgelos nie.
“Wat is dit Poplap Annie?” het die bliksoldaat en Oom Chris gevra.
Voordat Poplap Annie kon antwoord het Marie die kamer ingestorm. Sy het al die poppe opgetel en by die gang afgehardloop met Fifi langs haar, al blaffend.
“Bly stil!” het Marie vir Fifi beveel, “hy slaap en jy sal hom wakker maak!”
Mamma het Marie gehelp om die poppe in ‘n sirkel om die bedjie te pak sodat almal na die nuwe bondeltjie kon kyk. Mamma het die sagte kombersie weggetrek en die poppe het ‘n klein, pienk soos koraal, sagte klein gesiggie gesien met ‘n klein pienk neusie en ‘n kaal koppie.
Toe al die poppies weer alleen in die babakamer was, kon hulle nie uitgepraat raak oor die nuwe klein mensie nie.
“’n Oulike klein baba-boetie vir ons Marie!” het Oom Chris gesê.
“’n Pragtige bondeltjie liefde en feetjie sonskyn vir almal in die huis!” het Poplap Annie uitgeroep en na die klein klaviertjie gestap en die Sarie-Maré met haar een handjie vir hulle getokkel.
* * *
POPLAP ANNIE EN DIE HOENDERS
Mamma het vir Marie huistoe geroep en Poplap Annie was agtergelaat op die heining van die hoenderhok. “Jy moet hier stilsit en nie beweeg nie,” het Marie vir haar instruksies gegee, “as jy roer mag jy dalk afval en jouself seermaak.”
Poplap Annie het doodstil gesit, presies soos Marie gevra het maar sy het vir die hoenders geglimlag want sy het al baie afgeval en nog nooit seer gekry nie. Sy was te lekker opgestop met wit sagte katoen. Daar het sy bly sit totdat ‘n klein heuningby-voëltjie naby haar verby gevlieg het oppad na die blomme. Sy het haar kop gedraai om vir hom te kyk en oeps! toe verloor sy haar balans! Daar val sy af tot onder tussen die hoenders!
Die hoenders het verskrik in alle rigting gevlug behalwe die ou haan, Mnr Yster! Hy het sy nekvere geskud en sy kop tot naby die grond gebring en kwaai na Poplap Annie gekyk. Maar Poplap Annie het glimlaggend na Mnr Yster gestaar en haar handjie deur haar wolhare getrek, want sy was nie vir hom bang nie.
Iets baie snaaks het toe gebeur. Die ou haan het in die lug gespring en sy pote uitgeskiet en arme ou Poplap Annie het gerol en gerol. Toe sy uiteindelik opgehou rol het, het sy met haar voorskoot hom probeer wegjaag maar dit het Mnr Yster net meer kwaad gemaak.
Twee ou henne het die petalje dopgehou en die een ou hen het voor Mnr Yster gaan staan en die ander ou hen het Poplap Annie aan haar voorskoot beetgekry en na ‘n veilige plek in die hoenderhok weggesleep.
Dit was donker binne en Poplap Annie het nie geweet wat aangaan toe hulle haar na die nessies gesleep het nie. Gelukkig kon sy regop gaan sit het en kon met haar knopiesogies die vorm van die ou hen voor haar sien.
“Griet! Dit is die hardste wat ek in ‘n lang tyd gewerk het!” het die ou hen gesê toe sy haar asem teruggekry het. “Ek was bang dat Mnr Yster jou rok en voorskoot uitmekaar wou skeur.”
“Dit was ‘n snaakse speletjie wat hy wou gespeel het Mev Hen,” het Poplap Annie gesê.
Die ou hen het gelag, “Genade nee! Hy het nie gespeel nie, hy het met jou baklei!”
“Baklei?” het Poplap Annie verbaas uitgeroep.
“O ja, werklik!” het die ou hen beaam, “ou Mnr Yster, die haan, het gedink dat jy van die hoenderkuikens wou beseer en daarom wou hy met jou veg.”
“Ek is so jammer dat ek binne in die hoenderhok geval het, ek sal nooit enigeen beseer nie,” het Poplap Annie verduidelik.
“As ons vir jou ‘n geheim vertel, moet jy belowe dat jy nie vir Marie daarvan sal vertel nie,” het die ou henne vir haar gevra.
“Ek belowe!” het Poplap Annie geantwoord.
Die twee ou henne het Poplap Annie dieper die hoenderhok ingeneem, daar ver na agter. Daar was ‘n groot doos en die ou henne het hul nessies daar gebou en elke hen het tien eiers gehad.
“As jou mense dit moet uitvind, sal hulle die eiers wegneem,” het die henne haar ingelig, “en dan het ons geen kinders om groot te maak nie.”
Poplap Annie het saggies aan die eiers geraak, hulle was nog warm.
“Ons het nou-net van ons nessies opgestaan toe jy in die hok geval het,” het die twee verduidelik.
“Maar hoe kan die eiers groei as julle bo-op hulle sit?” wou Poplap Annie weet. “Wanneer Fifi op die blomme en plante gaan sit, vrek alles.”
“Eiers is anders,” het die een hen verduidelik, “om die eiers behoorlik te laat uitbroei, moet ons vir drie weke op hulle sit en nie toelaat dat hulle koud kry nie.”
“En aan die einde van die drie weke, sal die eiers ontkiem?” het Poplap Annie gevra.
“Jy dink nou seker aan plante,” het die een hen gelag. “Hierdie eiers broei uit na drie weke, hulle ontkiem nie, dan het ons oulike sagte geel kuikentjies, soos sagte ronde balletjies wat ons dan onder ons vlerke kan hou en liefhê.”
“Sit julle al lank op hierdie eiers?” wou Poplap Annie weet.
“Nie een van ons twee het die tyd dopgehou nie,” het die een hen geantwoord, “so, ons weet nie! Jy sien ons verlaat nooit ons nessies nie, net elke nou en dan sal ons gaan eet en water drink. Dit is waarom ons nie weet of dit dag of nag is nie.”
“Ons wou gaan water drink het toe jy in die hok geval het,” het die een hen vertel, “nou sal ons weer op die eiers moet gaan sit om hulle warm te maak.”
Die twee ou henne het hulle vere gesprei en hulself gemaklik op die nessies gemaak.
“Wanneer julle hulle goed opgewarm het sal ek op hulle sit sodat julle kan gaan eet en water drink,” het Poplap Annie aangebied. Die twee henne het gou afgespring om hulle kos te gaan eet en Poplap Annie het rustig op die nessies vir hulle gewag.
Skielik het sy ‘n geluid onder haar gehoor. “Ek hoop dit is nie ‘n muis nie!” het sy gedink toe sy iets voel beweeg het. “Ek wens die ou henne wil nou terugkom.”
Die ou henne het teruggekom en toe hulle die angstige gesiggie gesien het, dadelik gevra, “wat is fout?’
Poplap Annie het opgespring en gesien dat daar ‘n paar klein donsige oulike baba kuikentjies uitgebroei het, rond soos klein goue balletjies.
“Tjirp! Tjirp! Tjirp!” het hulle uitgeroep.
“Baba kuikentjies!” Poplap Annie het afgebuk en enetjie opgetel en gesê: “Hulle soek hulle Mamma!”
Die twee ou henne het met blink gelukkige oë op hul nessies geklim en hul sagte vere versprei. “Die ander sal nou-nou uitbroei!” het hulle saamgestem.
’n Paar dae het Poplap Annie die ou henne gehelp om hul kuikens uit te broei en net toe almal uitgebroei was, het Marie ingekom en rondgekyk.
“Hoe op aarde het jy hier gekom Poplap Annie?” het sy uitgeroep. “Ek het orals vir jou gesoek! Het die hoenders jou hierheen gesleep?”
Die twee ou henne het saggies met hul kuikens gepraat en Marie het hulle gehoor. Sy het die doos weggeskuif en ‘n gil van blydskap gegee.
“Ag julle oulike hennetjies!” het sy vreugdevol uitgeroep, “julle het julle nessies hier kom wegsteek en nou het julle een, twee, drie, vier - twintig kuikentjies!” Soos Marie hulle getel het, het sy hulle een vir een in haar voorskoot gesit met Poplap Annie heelbo.
“Kom my ou hennetjies!” het sy geroep en uitgestap met die twee ou henne wat haar gevolg het.
Marie het vir Pappa geroep en Pappa het twee dromme geneem en ‘n veilige huisie vir die families gebou. Al die poppe was baie opgewonde toe hulle die storie van Poplap Annie se avontuur gehoor het en hulle hoef nie te lank gewag het voor Poplap Annie hulle daarheen geneem het om die nuwe kuikens te sien nie.
* * *
POPLAP ANNIE EN DIE MUIS
Nettie was ‘n nuwe waspop en net soos Hennie, die Hollandse pop, kon sy “Mamma” sê as sy vorentoe en agtertoe gebuig word. Sy het lieflike bruin krulle gehad wat van regte hare gemaak was. Dit kon gekam, gevleg of gekrul word en Poplap Annie was baie trots toe Nettie by hulle kom bly het.
Maar Poplap Annie was baie kwaad. Sy het twee steke losgetrek op haar kop toe sy haar hande geneem het om haar gesig in ‘n frons te trek. Wanneer sy laat los het, het haar gesiggie weer met ‘n glimlag gestraal.
Enigiemand sou kwaad gewees het want iets ernstig het met Nettie gebeur.
Iemand het daardie aand by die babakamer ingekom toe al die poppe geslaap het en aan Nettie se pragtige wasgesiggie gebyt - en nou is al haar mooi weg!
“Dit is nou regtig skade!” het Poplap Annie jammerlik uitgeroep en haar arms om Nettie gesit.
“Iets moes dit gedoen het,” het die Franse pop kwaai gesê en haar voet hard op die vloer gestamp.
“As ek daardie dief kan vang, sal ek - sal ek, wel, ek weet nie wat ek met hom sal doen nie!” het die bliksoldaat boos gesê.
“Hier is die gat waardeur hy gekom het!” het Oom Chris uitgewys, “kom kyk!”
Oom Chris het voor ‘n gat gekniel en al die ander poppe het gaan kyk.
“Dit moet die plek wees!” het Poplap Annie gesê, “ons sal die gat toemaak met iets sodat hy nie weer kan inkom nie!”
Al die poppe het begin soek en lappe en papier gebring en in die gat gedruk.
“Ek het gedog ek het iets gehoor,” het een van die klein poppies gesê, “julle weet dat ek vir ‘n ekstra stukkie pastei gisteraand gevra het en dit het my die hele nag wakker gehou.”
Terwyl die poppe gepraat het, het Marie met Nettie by die trappe afgehardloop en vir Pappa en Mamma vertel. Hulle het opgekom en rondgesoek en op die muisgat afgekom.
“Ag waarom het hy nie eerder aan my gevreet nie?” het Poplap Annie gevra toe sy Marie se ongelukkige gesiggie gesien het.
“Pappa sal vir Nettie gou dorptoe neem waar hulle haar in ‘n japtrap kan regmaak en sy sal weer splinternuut wees,” het Mamma getroos. Nettie was in sagte papier toegedraai en weggeneem.
Later in die dag het Marie al springend by die babakamer ingekom met ‘n lekker verrassing vir die poppe. Dit was ‘n oulike klein katjie. Sy het die katjie aan almal voorgestel.
“Haar naam is Voete, want sy het vier klein wit voetjies!” het Marie verduidelik.
Voete, die gelukkige klein katjie het heerlik met die klein poppies gespeel. Sy het oor hulle gespring, agter stoelpote weggekruip en hulle bekruip asof hulle klein muisies was. Die klein poppies het al die aandag baie geniet.
Wanneer Marie nie in die babakamer is nie het Poplap Annie met Voete gespeel. Hulle het rondgerol op die vloer, Voete het haar voorste pote om Poplap Annie se nek gesit en haar met sy agterpote geskop. Sy het haar rug krom getrek en gemaak of sy kwaad was en skuins na haar getrippel. Dan het sy haar bespring en hulle het gerol en gerol.
Voete het daardie aand in die babakamer geslaap en het baie na haar Mamma verlang want sy was nog nooit so lank weg van haar Mamma nie. Sy het bo-op Poplap Annie gelê maar kon nie slaap nie. Poplap Annie was bly dat Voete by haar geslaap het, al was sy swaar en toe Voete vir haar Mamma gehuil het, het Poplap Annie haar getroos totdat sy aan die slaap geraak het.
‘n Paar dae later het Nettie huistoe gekom. Sy het ‘n nuwe laag was oor haar gesig gekry en was weer net so mooi soos voorheen. Teen hierdie tyd was Voete deel van die familie en het nie meer saans vir haar Mamma gehuil nie. Die poppe het haar van die muis in die hoek vertel en hoe sy Nettie se wasgesiggie ge-eet het. Voete het belowe om saans met een oog oop te slaap.
Later daardie aand toe Voete die enigste een was wat nie geslaap het nie, het ‘n klein muisie by die gat uitgeloer. Voete het vinnig opgespring, teen die klein klaviertjie gebots wat al die poppe wakker gemaak het. Hulle het vinnig na Voete gehardloop wat grommend met die klein muisie in sy bek gesit het.
Die arme muisie het so gepiep en Poplap Annie het nie daarvan gehou nie maar sy wou ook nie gehad het dat Nettie se gesiggie weer weggevreet moet word nie. Sy het vir die klein muisie gesê:
“Jy moes van beter geweet het as om hierheen te kom met Voete in die babakamer. Waarom gaan woon jy nie in die skuur waar jy niks kan verwoes nie?”
“Ek het dit nie geweet nie!” het die klein muisie bang gesê, “dit is die eerste keer dat ek hier inkom!”
“Is jy nie die muis wat Nettie se gesiggie so gevreet het nie?” wou Poplap Annie weet.
“Nee!” het die muisie geantwoord. “Ek het vir die ander muise kom kuier en hier by julle beland omdat ek agter die broodkrummels aangeloop het. Ek het drie baba muisies by my huis in die skuur. Ek het nog nooit iemand se wasgesig gevreet nie!”
“Is jy ‘n Mamma Muis?” wou Oom Chris weet.
“Ja,” het die klein muisie geantwoord, “en as hierdie kat my sal laat gaan, sal ek reguit na my huis hardloop waar my kinders is en ek sal nooit weer terugkom nie.”
“Laat haar gaan Voete!” het die poppe uitgeroep, “sy het drie klein baba muisies by die huis! Asseblief, laat haar gaan!”
“O nee!” het Voete gegrom, “hierdie is die eerste muis wat ek nog ooit gevang
het en ek sal haar opeet!” Arme Mamma Muis het hard gepleit.
“As jy nie vir Mamma Muis laat gaan nie, sal ek nooit weer met jou speel nie Voete!” het Poplap Annie kwaai gesê.
“Poplap Annie sal nie weer met Voete speel nie!” het al die poppe gesing maar Voete het net gegrom. Die poppe het almal eenkant gaan staan en Poplap Annie en Oom Chris het vir mekaar gefluister.
Terwyl hulle so gefluister het, het Voete die arme Mamma Muis ‘n entjie laat hardloop en haar dan weer tussen sy pote gevang. So het sy aangehou speel totdat Mamma Muis so moeg was dat sy skaars kon beweeg.
Poplap Annie kon skaars haar trane terughou toe sy gesien het hoe Mamma Muis gesukkel het om tot by die gat te hardloop. Uit desperaatheid het sy haar sagte arms om Voete se nek gegooi en uitgeroep: “Hardloop Mamma Muis, hardloop vinnig!”
Oom Chris het Mamma Muis deur die gat gedruk en sy was weg.
Poplap Annie het haar arms om Voete se nek losgemaak en Voete was boosaardig kwaad. Sy het haar ore plat getrek en vir Poplap Annie met haar naels gekrap. Maar Poplap Annie het net vir haar geglimlag. Dit het haar nie seer gemaak nie want sy was gewoond daaraan om met ‘n naald en gare vasgewerk te word, en as dit nie seermaak nie sal die naels van ‘n kat haar ook nie seermaak nie.
Uiteindelik het Voete begin skuldig voel en het by die gat gaan lê en gehoop dat die muis weer sal terugkom, maar die muis het nooit weer gekom nie. Sy was in die skuur en het haar kinders gewaarsku teen katte.
Poplap Annie en al die ander poppe het weer gaan slaap en net toe Poplap Annie aan die slaap wou raak, het sy gevoel hoe iets op haar spring. Dit was Voete. Sy het ‘n warm pienk tongetjie gevoel wat haar wange gelek het. Poplap Annie het gelukkig geglimlag want Voete het opgekrul bo-op haar gaan lê en het homself aan die slaap gespin. Sy het toe geweet dat sy vergewe was om Mamma Muis te gered het en sy het vreedsaam aan die slaap geraak en lekker drome gedroom.
* * *
POPLAP ANNIE SE NUWE SUSSIES
Marie was besig met haar teepartytjie in die babakamer toe haar Pappa haar geroep het. Sy het al die poppe net so gelos wat om die klein tafeltjie gesit het en het vinnig by die trappe afgehardloop met Poplap Annie in haar arms.
Mamma, Pappa en ‘n vreemde Oom het in die sitkamer met mekaar gepraat en Pappa het haar aan die vreemdeling voorgestel.
Die vreemde man was groot en sterk met vriendelike oë en ‘n wye glimlag, net soos Poplap Annie.
Hy het Marie op sy skoot laat sit en het sy vingers deur haar hare getrek en Poplap Annie het dadelik van die vreemde man gehou.
“Ek het twee klein dogtertjies,” het hy vir Marie vertel. “Hulle name is Linda en Diana. Ons was op die strand en hulle het op die sand gespeel en hulle het Frikkie in die sand toegemaak. Frikkie is Diana se seuns-pop. Hulle het gespeel dat hulle vir Frikkie bad en het hom toe in die sand toegemaak, net soos die ander mense ook doen. Nadat hulle hom toegemaak het, het hulle hul grawe en emmertjies geneem en verder op die strand geloop en heeltemal van Frikkie vergeet.
Toe dit tyd vir ons geword het om huistoe te gaan, het Linda en Diana van Frikkie onthou. Hulle het teruggehardloop om hom te gaan haal maar die see het opgestoot en Frikkie was diep, diep, onder die water begrawe en hulle kon hom nie vind nie. Linda en Diana was baie hartseer en hulle het heelpad huistoe net van Frikkie gepraat.”
“Dit is jammer dat hulle van Frikkie vergeet het,” het Marie gesê.
“Ja dit is!” het die nuwe vriend geantwoord terwyl hy Poplap Annie op Marie se knieë laat dans het.
“Maar dit het alles goed uitgewerk want weet jy wat met Frikkie gebeur het?”
“Nee, wat het met Frikkie gebeur?” het Marie gevra.
“Wel, aan die begin toe Frikkie toegemaak was onder die sand, het hy dit baie geniet. Hy het nie omgegee toe die see opgestoot het nie want hy het geglo dat Linda en Diana sal terugkom om hom te kom haal. Later het Frikkie gevoel hoe die sand bo-op hom begin beweeg het, asof iemand besig was om hom uit te grawe. Gou was sy kop skoon en hy kon deur die groen water sien, en wat dink jy het hy gesien? Die water-feetjies het hom uitgegrawe!
“Nadat hy heeltemal uitgegrawe was, het die water-feetjies met hom verder geswem tot by die onderstroom-feetjies. Hulle het met Frikkie geswem tot by die brander-feetjies. Hulle het met Frikkie geswem tot by die druppel-feetjies wie hom na die wind-feetjies geneem het.”
“En toe? Wat het die wind-feetjies gedoen?” het Marie met opgehoue asem gevra.
“Die wind-feetjies het Frikkie gedra tot in die tuin waar Linda en Diana hom gevind het. Daar was niks fout met hom na hierdie heerlike ondervinding nie!”
“Frikkie het dit alles seker baie geniet en jou klein dogtertjies was ook seker baie bly toe hulle hom gevind het!” het Marie bly uitgeroep. “Poplap Annie was eenkeer hoog in die lug toe sy aan ‘n vlieër se stert vasgebind was. Sy het losgekom en geval en was ook verlore. Nou is ek baie versigtig met haar!”
“Sal jy toelaat dat ek vir Poplap Annie vir ’n paar dae huistoe neem?” het die nuwe vriend gevra.
Marie het stil gebly. Sy het van die vreemde vriend gehou maar sy wou nie graag vir Poplap Annie weer verloor nie.
“Ek belowe om goed vir haar te sorg en sal haar na ‘n week weer terugbring. Sal jy toelaat dat sy saam met my mag gaan?”
Marie het heelwat later ingestem en die vreemde vriend het haar styf vasgehou toe hy vertrek het.
“Ons is so alleen sonder Poplap Annie!” het die poppe daardie aand en die ander aande gekla.
“Ons verlang na haar groot geverfde glimlag en haar vrolikheid!” het hulle gesê.
Die week het baie stadig verby gesleep ...
Maar aarde! Wat ‘n vrolike klomp was hulle nie weer toe Poplap Annie die eerste aand teruggekom het nie! Al die poppe was so angstig om vir haar ‘n drukkie te gee dat hulle skaars kon wag dat Marie hulle alleen moet laat.
Nadat hulle almal haar amper met liefde plat gedruk het, het sy hulle gevra: “Wel, wat het julle die hele tyd gedoen? Vertel my alles!”
“Ag, ons het net die gewone teepartytjies gehad en speletjies gespeel,” het die bliksoldaat vertel. “Vertel ons eerder van jou Poplap Annie, ons het so na jou verlang!”
“Ja! Vertel ons waar jy was en wat jy alles gedoen het Poplap Annie!” het al die poppe gelyk gevra.
Poplap Annie het toe opgemerk dat een van die klein poppies se handjie verlore was.
“Hoe het dit gebeur?” het sy gevra en die klein poppie opgetel.
“Ek het van die tafel afgeval en vasgehaak aan die bliksoldaat toe ons gespeel het. Maar moet jou nie oor so iets klein bekommer nie Poplap Annie,” het die klein poppie geantwoord, “vertel ons van jouself. Het jy dit geniet?”
“Ek gaan niks vertel voordat ons nie eers jou hand reggemaak het nie,” het Poplap Annie ingelig.
Die Indiaanse pop het ‘n bottel gom gebring en Poplap Annie het gevra waar die verlore handjie was.
“In my sak,” het die klein poppie geantwoord.
Poplap Annie het die klein poppie se hand weer vasgegom en ‘n lappie omgedraai totdat die gom droog geword het. Daarna het sy hulle hierdie storie vertel:
“Julle sal almal gelukkig voel nadat julle hierdie storie gehoor het. Dit het my so gelukkig gemaak dat ek amper uit my nate gebars het!”
Al die poppe het op die vloer gaan sit en die bliksoldaat het sy arm oor haar skouer gesit.
“Wel, eerste, toe ek weggegaan het,” het Poplap Annie begin, “was ek stewig in die vreemde vriend se arms vasgehou. Dit was ‘n bietjie ongemaklik, maar ek het nie omgegee nie. Ek dink ek het aan die slaap geraak want toe ek wakker geword het, het die vreemde vriend my op sy knieë laat dans. ‘Wat dink julle van haar?’ het hy vir drie ander mans gevra wat langs hom gesit het.
“Ek het nie baie belang gestel waaroor hulle gepraat het nie want ek het by die venster uitgekyk. Ons het in ‘n trein gery en die aarde het verby gevlieg. Hy het my toe weer styf onder sy arm gedruk.
“Baie later het ek wakker geword in ‘n skoon verligte kamer waar daar baie, baie meisies was wat almal wit voorskote gedra het.
“Die vreemde vriend het my vir ‘n ander man gewys. Die meisies het al my klere uitgetrek, my nate los gemaak en die katoen alles uitgehaal. En wat dink julle het toe gebeur? Hulle ontdek toe my pragtige soet hartjie wat nie gesmelt het soos en gedink het nie. Hulle het my op die tafel neergesit en al om my buitekant gemerk met ‘n potlood op ‘n nuwe skoon wit lap. Die meisies het my weer opgestop, toegewerk en aangetrek.
“Ek het in die skoon wit kamer vir drie dae en drie nagte gebly en gesien hoe my sussies groei uit die lap en hulle het ander poppe wat net soos ek lyk, gemaak!”
“Jou SUSSIES!” het die poppe verbaas uitgeroep, “wat bedoel jy Poplap Annie?”
“Ek bedoel,” het Poplap Annie verduidelik, “die vreemde vriend het my by Marie geleen sodat hulle patrone van my kon maak. Voordat ek uit die groot skoon wit kamer gegaan het, het ek gesien dat daar honderde lappoppe soos ek was, julle sou ons nie uitmekaar geken het nie!”
“Ons sou jou erken het met jou mooi groot glimlag!” het die Franse pop uitgeroep.
“Maar al my sussies het almal dieselfde glimlag soos ek gekry!” het Poplap Annie gelag.
“En wat van die knopiesogies?” wou die ander poppe weet.
“Ja, hulle het ook knopiesogies gekry!” het Poplap Annie vertel.
“Maar ek sou jou met jou rokkie erken het, Poplap Annie,” het die Franse pop gesê. “Jou rokkie is vyftig jaar oud! Ek sou jou daaraan uitgeken het.”
“Maar my nuwe sussies se rokke is almal presies soos myne want die vreemde
vriend het dit spesiaal so laak maak om soos myne te lyk.”
“Ek weet hoe ek jou sou uitgeken het tussen al die ander lappoppe, al het julle almal presies dieselfde gelyk,” het die Indiaanse pop gesê nadat hy vir ‘n lang tyd gedink het.
“Hoe?” het Poplap Annie gevra en lekker gelag.
“Om aan jou soet hartjie te vat! As ‘n pop ‘n soet hartjie het, dan is dit jy Poplap Annie!”
Poplap Annie het heerlik gelag, “ek is so bly dat julle my liefhet, maar ek is seker dat julle my nie tussen al my nuwe sussies sal uitken nie, behalwe as ek ouer word, want elke nuwe lappop het elkeen ‘n soet hartjie gekry, en op die hartjie is die woorde: ‘Ek is lief vir jou’ net soos op my eie hartjie.”
“Is daar nou honderde en honderde nuwe lappoppe?” het die klein poppies gevra.
“Honderde en honderde en almal se name is Poplap Annie,” het Poplap Annie geantwoord.
“Wel nou is ons baie gelukkig en trots op jou! Want waarookal ’n nuwe Poplap Annie sal wees, sal saam met haar liefde en geluk wees!”
* * *